Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Image result for shaking hands in covenant

Josua 24:1-28

Ek is nie ’n groot voorstaander van altar calls nie. Buiten dat dit nie in die Bybel voorkom nie, het baie van dié wat navore kom ’n vals bekering. Dit is ook so dat party van hulle gedurig uitkom en dink dat hulle van voor af tot bekering moet kom.

En tog dink ek dat daar ’n tyd en ’n plek is vir gelowiges om hulleself opnuut aan die Here toe te wy. Vandag is so ’n geleentheid. Ek is besorg oor baie van ons mense. Dit is asof die grendelstaat ons van mekaar vervreem het. Ek wonder of almal van ons die Here nog getrou dien. My vrou het vroeër hierdie week op Facebook gesê: ‘The danger of missing church, is that soon you will not miss it.’

Ek weet dat ons vir ’n goeie 6 weke nie bymekaar kón wees nie, maar daar wás wel huisgroepe en aanlyn bidure. En selfs noudat ons ons eredienste hervat, is daar sommige wat net nie belangstel nie. Ek weet dat party van ons mense weens siekte, geslote tehuise, die Covid-risiko vir ou mense, of vir ’n ander goeie rede nie hier kán wees nie. Maar dan moet jy asseblief konsekwent wees en nie sê dat dit riksant is, terwyl dit nie vir jou ’n probleem is om te kuier, of by ’n restaurant te wees nie. Dit is nie asof jou risko vir Covid groter is as jy ’n Bybel vashou, terwyl ’n braaitang, of ’n pizza stuk jou immuun maak nie. Moet dan nie dat Covid vir jou ’n verskoning word om die Here te dien en betrokke te wees in die gemeente nie.

Sommige sal sê: ‘Darem het ek die dienste aanlyn gevolg.’ Daarmee het ek nie ’n probleem nie, solank jy ook aanlyn braai, inkopies doen, by ’n restaurant eet, kuier en tevrede is met ’n aanlyn dominee wanneer jy siek is.

Natuurlik geld hierdie hernude toewyding nie net vir dié wat Heb. 10:25 oortree en met opset van die gemeente se samekomste af wegbly nie. Dit is immers moontlik om by die eredienste te wees en selfs betrokke te wees, terwyl jou hart ver van die Here af is. Dus is hierdie boodskap ook vir jóú. Eintlik is dit vir almal, omdat niemand kan sê: ‘Ek is oor die wenstreep’ nie. Almal van ons moet saam met Paulus sê:

Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom.” (Fil. 3:12-14).1

 Onthou dat elkeen wat tot die einde toe volhard, gered sal word (Matt. 10:22). Laat ons daarom ons toewyding aan die Here hernu (Gen. 35, 1Sam. 7, Neh. 9-10, Esra 10, Ps. 51, Joh. 21, 2Kor. 7, 2Tim. 1:6, Op. 2-3). Hernu dit soos party mense hulle huweliksbeloftes hernu. Doen dit, of jy nou vir ’n week, ’n maand, of selfs ’n paar jaar van die Here afvallig was. “Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne. Hy moet na die Here terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees, en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik.” (Jes. 55:6-7).

 

1. Wat het God gedoen? (v.1-13)

Twee van my vriende wat onder die Tsongas werk, sê: ‘Die nommer 1 probleem in die Tsonga kultuur is vaderlose huise. Baie van die ander probleme spruit hieruit voort.’ Toe ek saam met een van dié vriende deur ’n rommel-besaaide gebied gery het, toe sê hy: ‘Dít is die gevolg van vaderlose huise.’ Hy het bedoel dat pa’s afwesig is en dat hulle nie hulle kinders leer om hardwerkend en netjies te wees nie. Hierdie selfde vriend het vir my gesê: ‘Nie een van die kinders in ons gemeente het ’n pa nie.’

              As gevolg van die hoë egskeidingsyfer en werkverslawing, is dit tot ’n mate so in ons kultuur. In sommige gevalle ís daar ’n pa, maar as dit by geestelike sake kom, is hy afwesig en los hy dit vir die ma om leiding te neem. Maar volgens die Bybel is dit onderstebo. D.A. Carson sê dat die evangelisering van mans ’n groter invloed op die gesin het as die evangelisering van vroue en kinders. As ’n vrou, of kind tot bekering kom, het dit in baie gevalle nie ’n invloed op die pa nie. Maar as die pa tot bekering kom, is dit gewoonlik nie lank voor die res van die gesin óók tot bekering kom nie (sien Hand. 11:14, 16:31, 34, 18:8)

         Ek sal later meer hieroor sê. Vir nou is dit genoeg om op te let dat Josua die volk se leiers vergader het om hulleself aan die Here te wy (v.1). As die geestelike leiers die Here dien, help dit gewoonlik ook hulle gesinne (v.15).

              Josua het die leiers by Sigem vergader waar Abraham die eerste keer in die Beloofde Land aangekom het en waar die Here die Land aan sy nageslag belowe het (Gen. 12:6-7). Segem is tussen berg Ebal en berg Gerisim waar Josua die Israeliete gelei het om hulle verbond met God te hernu (Jos. 8:30-35). Omdat Hy vir hulle gesê het wat die Here sê, moes hulle luister (v.2). En omdat ek vandag God se Woord vir jou bring, moet jy luister. As die dinge wat ek sê nie uit die Bybel kom nie, kan jy dit weggooi. Maar wee jou as dit God se Woord is en jy dit ignoreer.

***

Josua het die volk herinner dat hulle voorvaders 600 jaar vroeër anderkant die Eufraatrivier gewoon het en afgode gedien het (v.2). Omdat die Here Abraham gekies het, het Hy hom daar gaan uitred (v.3, Neh. 9:7). Hy het hom ’n groot nageslag belowe (v.3). Aanvanklik het dit met een kind begin wat gebore is toe Abraham 100 was en Sara 90 (v.3, Gen. 21). Presies 60 jaar later toe groei dit met twee kleinkinders, nadat Isak se vrou Rebekka vir 20 jaar onvrugbaar was (v.4, Gen. 25). Daarna het dit verder gegroei, maar nog steeds het Israel nie die Land gekry nie. God het vir Esau se nageslag ’n land gegee (Deut. 2:5), maar die Israeliete moes nog 400 jaar in Egipte wag voordat God die tien plae gestuur het en hulle deur Moses en Aäron uit Farao se mag gered het en na die Beloofde Land toe gelei het (v.5, Eks. 3-13).

         Maar selfs dít het tyd gevat. God het eers sy volk deur die Rooi See gelei en die Egiptenare verdrink (v.6-7, Eks. 14). Daarna het Hy hulle vir 40 jaar deur die woestyn gelei (v.7, Eks.-Deut.). Toe hulle by die Beloofde Land aankom, het God die Amoriete oorwin (v.8). Die Amoriete was reuse wat so lank soos sederbome was en so sterk soos eikebome (Num. 13:32-33, Deut. 3:11, Amos 2:9).

         God het die Israeliete ook teen Balak, die koning van Moab beskerm toe hy ’n towenaar genaamd Bileam gehuur het om hulle te vervloek (v.9). God het die vloek in ’n seën verander (v.10, Num. 22-24, Gen. 12:3).

         Hierna het God die Jordaanrivier oopgemaak en sy volk deurgelei (v.11, Jos. 3). Hy het Jerigo in hulle hand gegee en toe die res van die Land om sodoende sy belofte aan Abraham te vervul (v.11, Jos. 6-22). Hy het die nasies uitgedryf deur perdebye te stuur, sodat selfs die magtige Sihon van die Amoriete en die reuse koning Og van Basan nie kon staande bly nie (v.12, Eks. 23:28, Num. 21:21-35, Deut. 3:11, 7:20). Die Israeliete het nie hierdie konings, of enige ander konings met die swaard, of die boog oorwin nie, maar die Here het hulle verslaan (v.12, Ps. 44:4). So het Hy aan hulle ’n land van melk en heuing gegee: stede waar hulle net kon intrek en plase waar hulle net kon pluk en eet (v.13, Deut. 6:3, 10-11).

         Kan jy sien dat die Here dwarsdeur v.1-13 die inisiatief geneem het? Hý is die Een wat kies, red, voorsien, beskerm, en oorwin. Hoekom aanvaar ons dan ’n weergawe van Christenskap wat fokus op wat ons vir die Here doen, of wat sê dat óns Hóm gesoek het? Het jy vergeet dat Jesus verlore sondaars kom soek het (Luk. 19:10); dat Hy ons eerste gekies het en nie andersom nie (Joh. 15:16); dat Hy vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8); dat God jou gekies het voor jy gebore is (Rom. 9:11); dat Hy die swakkes gekies het sodat niemand mag roem nie (1Kor. 1:26-31); dat God jou voor die skepping gekies het (Ef. 1:4-5); dat jy uit genade alleen gered is deur die geloof en nie deur jou goeie werke nie (Ef. 2:8-9)?

Het jy vergeet hoe diep jy in jou sonde was toe die Here jou kom uithaal het? Het jy vergeet hoe die duiwel jou in sy net vasgehou het en jy nie kon uitkom nie; hoe die Here vir jou ’n weg oopgemaak het net soos Hy die Rooi See vir die Israeliete oopgemaak het? Het jy vergeet hoe jy selfs ná jou redding genoeg sonde gedoen het, sodat die Here vir jou kon sê: ‘Ek is klaar met jou’? Het jy vergeet hoe Hy vir jou gesorg het en omgegee het, en hoe Hy hulp gestuur het selfs toe jy Hom nie erken het nie (Eks. 16-17)? Dalk beskou jy sy sorg as ’n bewys dat jou sonde Hom nie pla nie, maar eintlik het Hy liefde aan jou bewys, sodat jy sou terugdraai na Hóm toe (Rom. 2:4). En het jy vergeet dat Hy jou al teen gevare beskerm het waarvan jy nie eers bewus was nie (v.9-10)? Hoe kan jy dan nié op v.14-33 ag slaan en jou toewyding hernu nie?

 

2. Wat moet jy doen? (v.14-28)

Soms sal jy ’n Engelse prediker hoor sê: ‘When you see the word therefore in the Bible, you should ask: what is the therefore there for?’ ’n Mens sien dit byvoorbeeld in Ef. 4:1 en Rom. 12:1. Paulus gebruik die woord ‘daarom’ na ’n klomp hoofstukke van lering. Dit is asof hy wil sê: ‘Hier is hoe God jou gered het. Daarom moet jy nou as volg lewe…’

             Dieselfde gebeur in Jos. 24:14. Dit is asof Josua wil sê: ‘Omdat die Here v.1-13 gedoen het, is dit net logies dat ons v.14 e.v. sal doen. En wat is dit? Vrees die Here en dien Hom met opregtheid en getrouheid (v.14). Om Hom te vrees, beteken dat jy ontsag vir Hom het, dat jy Hom respekteer, dat jy Hom liefhet, dat jy Hom gehoorsaam, dat jy Hom aanbid (Deut. 10:12-13, Ps. 2:11, Heb. 10:31). As jy Hom nie op hierdie maniere vrees nie, sal jy nie jou toewyding aan Hom hernu nie. Of jy sál jou toewyding hernu, maar dit nie opreg doen nie (v.14). Jy sal eerder voorgee dat jy jou toewyding hernu, omdat jy voel skuldig, omdat jy gesien wil word, omdat jy wil toegee aan groepsdruk, of omdat jy die hel vrees.

             En dan sal jy ook nie getrou wees nie (v.14), maar jy sal vir ’n ruk jou sokkies optrek en weer terugval. Jou liefde sal so wisselvallig soos in ’n tienerverhouding wees—dit sal gou verdwyn (Hos. 6:4, Gal. 1:6). Jesus sal aan die agterspeen suig en ’n vyfde wiel aan die wa wees. Jy sal tussen Jesus, die Woord, en die kerk aan een kant, en sport, familie, TV, tuinwerk, laat slaap, ontspanning, en die mall aan die anderkant kies soos jy in die oggend kies watter klere jy wil aantrek. Jy sal soos die hoender wees wat maar net eiers bygedra het en nie soos die vark wat sy totale self gegee het nie. Jesus sal met ander woorde net déél van jou lewe wees en nie jou hele lewe nie (Fil. 1:21).

        Wat Josua vir die Israeliete gesê het, sê die Here vir jou: ‘Los jou afgode, sonde, en die wêreld wat jy voor jou bekering gedien het, en dien die Here alleen’ (v.14, 2, Eseg. 20:7-8). As dit vir jou ’n straf is om die Here te dien, kies asseblief jou afgod (v.15, Eseg. 20:39). Die Here gaan nie toelaat dat jy jou hart tussen Hom, jou afgode, jou sonde, en die wêreld verdeel nie (v.15, 1Kon. 18:21, 2Kon. 17:33, 41).’

        Die punt is dat die Here absolute lojaliteit van jou vereis. By Hom is dit alles, of niks. As jy die hemel wil hê én nog na die wêreld verlang, moet jy liewer nie vir Jesus volg nie (Luk. 9:62). Wees dus met jou hart en siel ’n dissipel van Jesus, of draai jou rug op Hom en leef dan vir die duiwel en die wêreld. Wees deel van sy liggaam, of bedank asseblief uit die kerk.

        Ek hoop jy kry die boodskap: volg Josua se voorbeeld en hernu jou toewyding aan die Here. Laat die pa’s hulle gesinne hierin lei (v.15, Gen. 18:19, Ef. 6:4). Moet dit nie aan jou vrou oorlaat, of dat jou kinders self in die Here moet groei en by die kerk moet uitkom, omdat jý dit nie doen nie.

***

Toe Josua hierdie dinge vir die volk sê, toe antwoord hulle: “Nooit sal ons die Here verlaat deur ander gode te dien nie; want die Here ons God, Hy is die Een wat ons en ons voorouers uit Egipteland, uit die plek van slawerny, laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens van mag gedoen het. Hy het ons bewaar op die hele pad waarlangs ons gegaan het, en onder al die volke waar ons deurgetrek het. Die Here het al die volke voor ons uitgedryf en die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien, want Hy is ons God.” (v.16-18).

        Die les is dit: as die Here praat, moet jy reageer. As jy dit nie doen nie, sal die oortuiging gou afweer en sal jy bly soos jy is. Omdat mense emosionele wipplanke is, het Josua nie ’n altar call gedoen nie. Hy het nie dadelik aan die volk se reaksie gebyt nie, maar het gesê: “Julle sal nie in staat wees om die Here te dien nie, want Hy is ’n heilige God, Hy is ’n besitlike God, Hy sal nie julle oortreding en sondes vergewe nie.” Jesus het basies dieselfde gesê (Luk. 9:57-62) en wil dus hê dat jy die koste moet bereken (Luk. 14:26-33). Hy wil hê dat jy v.19 moet verstaan: God is heilig en jaloers soos ’n man wat nie sy vrou met ander mans deel nie (Jak. 4:4-5). Daarom is dit geen ligte saak om te sê: ‘Ek wil myself opnuut aan die Here toewy nie.’

             As jy jou tot Hom bekeer, sal Hy jou vergewe. Maar as jy die implikasies van ’n hernude toewyding aan Hom verstaan en dán jou rug op Hom keer, sondig jy met ’n hoë hand (Num. 15:30) en val jy in die kategorie van die mense in Heb. 6:4-6: “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak.”

        En as jy dit doen, sal die Here jou, na al die goeie wat jy uit sy hand ontvang het, tot ’n einde bring en vernietig (v.20). Moet dan nie roem as jy op die oomblik geestelik sterk is nie, maar dank eerder die Here, bly getrou, vrees Hom, en volhard. Verstaan asseblief dat die Here jou woorde teen jou sal gebruik as jy jou toewyding hernu en daarna weer jou belofte breek (v.21-22, Pred. 5:4, Matt. 12:36-37).

        Verwyder dan jou afgode. Soos Josua geweet het dat daar afgode onder die volk is (v.23, 14, Gen. 35:2, 4, Rigt. 10:16, 1Sam. 7:3), sien die Here die afgode in ons gemeente en harte; daardie dinge wat ons lewens oorheers en ons verhouding met Hom benadeel. ‘Los daardie dinge,’ sê die Here.

        ‘Ek het al probeer, maar ek kry dit nie reg nie,’ sê iemand. Maar as die Heilige Gees vir jou ’n nuwe hart gee, kán jy verander en sal jy ook wil (v.23, Eseg. 36:25-27). Vra dan eers die Gees om jou te wederbaar en glo die evangelie van Jesus Christus voor jy net sê dat jy jou toewyding aan die Here hernu. Anders maak jy dalk ’n belofte wat jy nie kan nakom nie net soos wat die Israeliete dit in Eks. 19:8, 24:3, 7 gedoen het en kort daarna hulle belofte gebreek het (vgl. Eks. 32:1-35).

        Wees eerder soos iemand wat trou sweer voor die kansel en sy belofte nakom totdat hy sterf (v.24, 31). Deur Jesus kán jy jou belofte nakom. Dit is nie ’n verbond soos Josua s’n waar hy offers moes bring en die volk sekere reëls moes nakom nie (v.25). Dit is eerder ’n verbond waarin Jesus plegtig belowe het om in ons plek voor die Vader te staan. Hy het ons van die perfekte rekord voorsien wat ons nodig het om voor die Vader te staan, en het Homself ook vir ons wetsoortreding geoffer (v.25). Hy het sy wet op ons harte geskryf en ons die Gees in ons binneste gegee, sodat ons die wet kán en wíl nakom (v.25, Heb. 8:10). En soos Josua het Jesus hierdie dinge in ’n boek vasgelê, sodat ons sy wil kan ken (v.26). Hierdie boek word vandag die getuienis dat jy jou toewyding aan die Here hernu (of nie), net soos wat Josua ’n klip as getuienis onder die boom gesit het waar God eeue tevore die belofte van die Land aan Abraham gemaak het (v.26-27, Gen. 12:6).

        En soos Josua elke leier van die volk na sy deel van Beloofde Land toe gestuur het (v.28), wil ek jou vandag huistoe stuur nadat jy by die nagmaal die geleentheid gehad het om jouself opnuut aan die Here toe te wy. Vra die Here vir krag om jou te bekeer, sodat jy waarlik bekeerd is (Klaagl. 5:21, 2Tim. 2:25-26). Bely jou sonde en sê vir die Here dat jy jou eerste liefde wil herwin (1Joh. 1:9, Op. 2:4-5). Dink mooi terwyl jy dit doen, omdat die Here dit in ’n baie ernstige lig beskou.


1  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.