Coram Deo Cover Image

Coming soon...

7 February 2018

Henog se profesie oor vals profete en die wederkoms

Second Coming clouds

Oor die Kersseisoen het ons weekliks mense vir ete gehad of by iemand anders se huis gaan eet.  Maar ‘n maand van vleis, gebakte aartappels, vleis, drie soorte groente, vleis, ‘n verskeidenheid van slaaie, vleis, paptert, vleis, knoffelbrood, vleis, roomys en warm poeding, vleis... is vir my te veel.  My dubbel ken, maag en gewete het swaar gevoel.  Ek het vir my vrou gesê dat ek daarna uitsien om weer spaghetti en maalvleis te eet.

 

Partykeer kan ‘n mens geestelik so voel - veral as jy vir 6 weke in ‘n ry boodskappe oor vals lering hoor.  Maar ek wil jou vra om vas te byt.  Hopelik is ons binne die volgende 3 weke klaar en sal ons met Romeine begin.  Vandag wil ek by Jud. 14-15 stilstaan.

 

  1. Die profesie is waar (v.14a)

Een keer in ‘n blou maan ontmoet ek iemand wat wonder hoekom die boek Henog nie in die Bybel is nie.  Omdat Judas dit in v.14-15 aanhaal, het sommige kerkvaders gesê dat die boek Henog die Woord van God is.[1]  Vandag glo die Etiopiese Ortodokse Tewahedo Kerk, die Mormone en sommige vêr regse Afrikaners dit.[2]

 

Volgens sommige in die vroeë kerk wys Judas se aanhaling van Henog dat sy brief ook nie geïnspireer is nie.[3]  Ek weet nie van mense in ons tyd wat dit glo nie, maar is seker dat daar so iemand is.  ‘n Derde groep het gesê dat Judas in die Bybel moet wees, maar Henog nie.[4]  Vandag glo alle Christene ter wêreld dit.

 

Maar wat beteken dit dan dat Judas uit 1Henog 1:9 aanhaal; hoe moet ons dit verstaan?

 

In die eerste plek moet ons sê dat daar regtig so iemand soos Henog was.  As ons Henog en Adam inreken, was hy die sewende geslag van Adam af (v.14a, Gen. 5).  Hy het die Here tevrede gestel, in ‘n nabye verhouding met Hom gelewe, en soos Elia hemel toe gegaan sonder dat hy dood is (Gen. 5:21-24, Heb. 11:5).

 

Tweedens moet jy weet dat 1Henog nie deur Henog geskryf is nie.  Dit is tussen die 3de eeu v.C. en die 1ste eeu n.C. deur verskillende mense geskryf.[5]  Ons beskou dit dus nie as die Gees-geïnspireerde woorde van ‘n belangrike profeet nie.

 

Derdens is dit belangrik om te onthou dat Paulus by drie geleenthede uit buite-Bybelse geskrifte uit aanhaal: Hand. 17:28, 1Kor. 15:33, Tit. 1:12.  Dit beteken nie dat hy hierdie geskrifte as geïnspireer beskou nie, maar dat hulle iets gesê het wat waar is.

 

Wanneer die Nuwe Testament skrywers uit die Ou Testament aanhaal, sê hulle: ‘Soos geskrywe is... die Skrif sê,’ of so iets.  Judas gebruik nie hierdie formule wanneer hy uit die boek Henog aanhaal nie.  Hy glo dus dat hierdie profesie waar is, maar dink nie dat die hele boek geïnspireer is nie.

 

Henog se profesie begin deur te sê dat die Here met tienduisend van sy heiliges gekom het (v.14a).  Sy gebruik van die verledetyd [Gk.] wys dat die profesie seker is.  Dit is soos Jes. 53 wat 700 v.C. sê dat Jesus vir ons sonde gesterf het.  Teoloë noem dit ‘n profetiese verledetyd.  Dit is asof dit reeds gebeur het.

 

Henog se profesie is eerste tydens die vloed vervul toe God die goddelose wêreld geoordeel het (v.14-15, 2Pet. 2:5).  Hy het egter ‘n voller vervulling daarvan in die wederkoms gesien.  Dit is ook hoe Judas dit in v.14-15 gebruik (vgl. Matt. 24:36-39, 2Pet. 3:4-7).

 

Hoe moet ons v.14a op onsself toepas?  Henog was die sewende geslag van Adam af; sy bloedlyn het deur Set teruggeloop na Adam toe (Gen. 5).  Lameg was die sewende geslag van Adam af deur Kain (Gen. 4:15-18).  Lameg en Henog het dus in dieselfde tyd gelewe.

 

Toe Lameg op die aarde was, het mense losbandig gelewe en nie die Here gedien nie (Gen. 4:19-26).  Henog was een van die min mense wat die Here gedien het.  In sy agterkleinseun Noag se tyd was dinge so erg, dat Noag die enigste man op aarde was wat die Here gedien het (Gen. 6:5-13).  Niemand hoef dus te wonder hoekom Henog die vloed voorspel het nie (v.14-15).

 

Die punt wat ek wil maak is dat dit moontlik is om in ‘n goddelose samelewing, kultuur, skool, huwelik, familie en werkplek toegewyd aan die Here te lewe.  Natuurlik moet jy nie ‘n goddelose omgewing kies nie, maar as jy teen jou sin in so ‘n situasie beland moet jy nie sê: ‘Ek kan nie help om sonde te doen nie; as jy in my situasie was sou jy dieselfde gedoen het,’ nie.

 

Dit is nie jou omstandighede wat maak dat jy sonde doen nie, maar jou hart (Matt. 15:19).  Die probleem is dat jy nie toegewyd is soos Henog nie.  Bely jou sonde, bekeer jou, en vra dat die Here jou sal help om toegewyd te wees.

 

Dit kan net gebeur as jy gedurig in gebed met die Here praat, erns maak om nie net die Bybel te ken nie maar te doen, en op ‘n gereelde basis met ander gelowiges ontmoet en saam met hulle die Here aanbid.  As jy waarlik gered is sal jy die begeerte hê om jouself aan die Here toe te wy, en sug omdat jy dit nie so goed regkry soos wat jy graag wil nie.

 

  1. Die profesie is skrikwekkend (v.14b-15)

Wat bedoel ek as ek sê dat daar op Black Friday duisende mense in die land se winkels was?  Ek bedoel nie dat daar net een of twee duisend mense was nie, maar dat daar te veel was om te tel.  Ek gebruik dit om ‘n onbepaalde hoeveelheid mee uit te druk.

 

So was dit in die Bybel met tienduisend.  Volgens v.14b het die Here met sy tienduisende heiliges gekom.  Die heiliges verwys na gelowiges en engele (v.14b, 3, Deut. 33:2, Ps. 68:18, Dan. 7:10, 1Kor. 1:2, Heb. 12:22, Op. 5:11).  Wanneer Jesus weer kom sal hulle saam met Hom na die aarde toe terugkeer (v.14b, Matt. 25:31, 1Tess. 3:13, 4:14, 2Tess. 1:7).

 

Dit sal ‘n skrikwekkende gesig wees wanneer Jesus in vuur en vlam kom om die goddelose te oordeel (v.15, Matt. 25:41, 2Pet. 3:7).  Volgens 1Kor. 6:2-3 sal ons Hom hiermee help, en volgens Matt. 13:41-42, 49-50 sal die heilige engele die goddelose in die hel gooi.  In v.15 praat Judas vier keer van die goddelose.  In die konteks verwys dit na die goddelose vals leraars (v.4, 18), maar ons kan sy woorde op alle ongelowiges toepas.

 

In die res van die Skrif verwys goddelose mense na dié wat God se wet oortree (1Tim. 1:9):

 

[1] Na mense wat seks, geld, ander mense, hulle verslawings, ens. aanbid; wat God se Woord verwerp en hulle eie godsdiens opmaak.

 

[2] Na mense wat die Bybel opsy skuif om God te aanbid soos húlle wil.

 

[3] Na mense wat die Here se Naam met hulle lippe en lewens misbruik.

 

[4] Na mense wat nie met ander gelowiges wil saamkom om God te aanbid nie.

 

[5] Na mense wat ongehoorsaam en disrespekvol is met hulle ouers.

 

[6] Na mense wat ander haat, afbreek en doodmaak.
[7] Na mense wat die huwelik ontheilig, wellustig is en seksueel losbandig lewe.

 

[8] Na mense wat oneerlik is en steel.

 

[9] Na mense wat leuens vertel en hulle beloftes breek.

 

[10] Na mense wat geldgierig, ontevrede, materialisties en jaloers is.

 

Die Here sal al hierdie mense oordeel - nie een van hulle sal wegkom nie (v.15).  Die wet sal hulle monde toestop (Rom. 3:19).  Hulle sal nie kan sê dat die Here onregverdig is, of dat Hy hulle te swaar oordeel nie.  Omdat hulle goddeloos was sal hulle erken dat hulle die Here se straf verdien, al haat hulle Hom ook terwyl hulle dit sê.

 

Die vals leraars wat ander op ‘n dwaalspoor na die hel toe gelei het, sal strenger geoordeel word (v.15, Matt. 23:2-3, 15, Luk. 12:47-48, Jak. 3:1).  Soos met elke ongelowige sal die Here hierdie vals leraars se goddelose woorde en dade voor die wêreld uitblaker (v.15, Luk. 12:2-3).  Almal sal weet watse bose dinge hulle teen die Here gesê en gedoen het (v.15).

 

Hoe moet ons hierop reageer?  Moenie vir jouself sê dat jy hemel toe gaan as jy ‘n goddeloos is nie.  As jy in ongehoorsaamheid lewe wil ek jou vra om nie soos die man te wees wat seksueel losbandig was, en vir my gesê het hy is nie goddeloos nie.  As jy in sonde lewe is jy goddeloos.  Totdat jy dit nie erken nie, sal die Here jou nie vergewe nie.

 

Maar as jy jou verlore toestand erken is daar vir jou hoop (Spr. 28:13).  Jesus het immers aan die kruis gesterf om goddelose mense van hulle sonde en God se oordeel te red (Rom. 5:6).  As jy in Jesus glo sal die Vader sy dood in jou plek aanvaar en sy perfekte rekord van onskuld aan jou toereken (Rom. 4:5).  Deur die Heilige Gees sal Hy jou verander en in staat stel om soos Henog te lewe: Godvresend te midde van ‘n goddelose samelewing (Tit. 2:11-12, 1Joh. 5:4-5).

 

Indien jy dink dat dit onmoontlik is, moet jy onthou dat Henog nie altyd die Here gevolg het nie.  Volgens Gen. 5:21-22 het hy die Here begin volg toe hy 65 was.  Wat het gebeur?

 

Sy kind is gebore: Metusalag.  Hoekom het dit hom verander?  Volgens sommige beteken Metusalag ‘man van die spies’.  Ander reken egter dat dit die volgende beteken: ‘wanneer hy sterf sal dit gestuur word’.[6]  As jy tyd het om die sommetjie te maak, sal jy sien dat God die vloed gestuur het in die jaar wat Metusalag dood is (vgl. Gen. 5:21-32, 7:6).

 

Dit blyk dus dat Metusalag se geboorte ‘n profesie aan Henog was.  Toe hy gebore is het Henog geleer dat die Here die wêreld gaan oordeel.  Dit het so hom geskud dat hy hom bekeer en vir die volgende 300 jaar met die Here gewandel het (Gen. 5:22, Heb. 11:5).  En kan die Here jóú nie verander nie, al was jy tot nou toe die goddeloosste mens in jou familie, vriendekring, skool, werkplek of dorp (sien 1Tim. 1:15)?

 

Dien jy die Here?  Pasop dat jy nie die ketters se dwaling volg en na jou ou lewe van goddeloosheid toe terugkeer nie.  Dit is immers wat vals lering in jou lewe sal meebring.  Soos ek reeds in hierdie reeks gesê het, kan vals lering nie goddeloosheid teenwerk nie maar lei dit daartoe.  Hoe gebeur dit?

 

Daar is twee soorte vals leraars.  Een groep sal vir jou sê om ‘n stel reëls te volg sodat jy vir die Here aanneemlik kan wees.  Hulle weet nie hoe die wet werk nie.  Die wet is soos ‘n spieël wat vir jou wys hoe vuil jou gesig is, maar dit kan nie jou gesig was nie (1Tim. 1:8-11).  Vals leraars weet dit nie, en sê vir mense om hulleself met die spieël te was (Kol. 2:16-17, 21-23).  Dit werk nie.  Hoe meer wette jy vir jouself maak, hoe meer wil die ou sondige begeertes in jou dit oortree (Rom. 7).

 

Die ander groep verkondig Joseph Prince se hiper- of goedkoop genade, en gooi die wet by die venster uit.[7]  Volgens hulle hoef jy nie eers jou sonde te bely nie, omdat God dit reeds deur Jesus se kruisdood vergewe het.  Jy is klaar in die fontein van Golgota gewas en hoef nooit weer in die spieël te kyk nie.  Hulle vergeet blykbaar dat mense wat met sandale op stof paadjies loop se voete vuil word, al het hulle reeds gebad.  So iemand moet dus deur die dag nog sy voete was (Joh. 13, Matt. 6:12, 1Joh. 1:7, 9).

 

Mense wat hiper-genade predikers volg dink dat heiligmaking nie 2Pet. 1:5 se moeite verg nie, maar dat dit passief is: Let go and let God.  Hulle verstaan nie dat God vir sy kinders die vermoë en wilskrag gee, sodat húlle met toewyding kan werk om heilig te wees nie (Fil. 2:12-13, Kol. 3).

 

Uiteindelik sal hierdie mense se sg. ‘genade’ daartoe lei dat hulle in losbandigheid verval - iets waaroor hulle gewetens hulle kamtig nie hoef te pla nie (v.4, Gal. 5:13, 1Pet. 2:16).

 

Wil jy toegewyd wees soos Henog?  Moenie wetties wees nie (Gal. 5:18), maar moet ook nie die wet weggooi nie (Rom. 8:4, Gal. 5:23).  Maak in die eerste plek seker dat jy weergebore is, omdat jy nie sonder die Heilige Gees toegewyd kan wees nie.

 

Daarna moet jy die Skrif biddend oordink en jou hart daarmee vul.  Onderwerp jou aan die Gees en vra dat Hy jou in die waarheid van die Woord sal lei (Ef. 5:18, Kol. 3:16, Joh. 16:13).  Gehoorsaam wat Hy jou in die Bybel leer.

 

Sê ‘nee’ vir die goddeloosheid van vals leraars en die wêreld; vlug daarvoor sodat jy nie saam met die wêreld geoordeel word nie (v.14-15, Op. 18:4).  Wees gereed vir die wederkoms.  Moenie dat Jesus jou op heterdaad betrap waar jy goddelose dinge dink, begeer, beplan, kyk, hoor, doen en sê nie (v.15, Matt. 24:42-51, 1Joh. 2:28).

 

Moenie soos iemand wees wat skaam kry wanneer gaste onverwags by sy huis opdaag en sien hoe deurmekaar dit is nie.  Wees eerder soos iemand wat geweet het hulle kom, en gister al die huis opgeruim het.

 

[1] Bv. [1] Tertullian, On the Apparel of Women: Book I, 3:1-3. [2] Origen, De Principiis IV. [3] Irenaeus, The Proof of the Apostolic Preaching. [4] Epistle of Pseudo-Barnabas, 4:3, 16:5-6. [5] Clement of Alexandria, Fragments: Comments on the Epistle of Jude

[2] http://www.ethiopianorthodox.org/english/canonical/books.html

https://www.lds.org/ensign/1975/10/a-strange-thing-in-the-land-the-return-of-the-book-of-enoch-part-1?lang=eng

Vêr regse groepe het die boek Henog in ‘n geskrif wat hulle Die Boek van Herinnering noem.

[3] In die 4de eeu het mense soos Didimus en Hiëronimus [Eng. Jerome] gesê dat hulle Judas as die Woord van God aanvaar, maar dat baie mense dit op grond van Judas se aanhaling van buite-Bybelse geskrifte verwerp (uit Didimus se epistula judae enarratio en De Viris Illustribus van Hiëronimus).

[4] Augustine, The City of God: Book XV, 23:4, Book XVIII, 38

[5] Gene L. Green, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: Jude and 2 Peter, Baker Academic, Grand Rapids: Michigan, 2008, p. 27 n. 23

[6] https://creation.com/biblical-chronogenealogies en Andy McIntosh, Genesis for Today, Day One Publications, Leominster: England, 1997, 2001, 2006, pp. 152, 160

[7] https://au.thegospelcoalition.org/article/the-hypergrace-of-joseph-prince-a-review-of-destined-to-reign/

Kategorieë