Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Efesiërs 1:15-23

Gestel ’n kind staan voor die koning. Die koning sê hy kan vir enigiets vra. Hy vra vir ’n suigstokkie en ’n nuwe karretjie. Maar hoekom sou hy dit doen? Dit is omdat hy nie weet hy kan vir die koninkryk vra en selfs vra dat koning hom as sy kind sal aanneem nie.

Net so hak ons soms in ons gebede vas by klein dinge soos geld, gesondheid, werk, aardse sukses, of ons kinders se sport en eksamens. Die rede hoekom ons net hiervoor bid, is omdat ons nie weet wat die Here ons bied nie. Daarom leer die Here ons in Ef. 1:15-23 om vir groot dinge te bid.

 

1. Bid gedurig en met danksegging (v.15-16)

Enige kindjie benodig en vra sy ouers se hulp met alles: om te eet, te bad, toilet toe te gaan, sy skoene vas te maak, iets van die rak af te haal, aan te trek, oor die pad te loop en meer. Sy afhanklikheid wys dat hy ’n groot siening van sy ouers het.

         En om te wys dat jy ’n groot siening van God het, moet jy gedurig bid en sy hulp vra met alles. Paulus het gereeld gebid en die Here gereeld gedank, omdat Hy sy gebede beantwoord het (v.16, 1Kor. 1:4, Fil. 1:3, Kol. 1:3, 1Tess. 1:2, 2:13, 5:17, 18, 2Tess. 1:3, 2:13, 2Tim. 1:3, Filem. 4). In hierdie verse het hy die Here gedank dat Hy die Efesiërs gered het, dat hulle in Jesus geglo het, en dat hulle die heiliges liefgehad het om so hulle redding te bewys (v.15, 3-14, Joh. 13:34-35, 1Joh. 2:9-11, 3:14, 4:20-21).

         Danksegging is ’n kenmerk van groot gebede. Dit wys dat ons God se almag en goedheid erken en dat Hy ons gebede verhoor. Bid jý met danksegging? Ek bedoel nie dat jy ’n klomp versoeke bid en jou gebed afsluit met: ‘Ek bid dit met danksegging en in Jesus’ Naam’ nie. Ek bedoel eerder dat jy tyd afsonder om die Here te dank.

     Jy sal dit nie doen as jy ’n klein siening van God het en as jy dink dat jóú geld, kennis, talente, vernuf en kontakte jou behoeftes vervul het nie. Kry daarom ’n groot siening van God, sodat jy Hom alleen sal dank as Hy jou gebede verhoor. Hopelik sal jy voor die einde van die preek ’n groot siening van God hê.

     Om ’n groot siening van God te hê, sal ook help dat jy nie net vir jouself bid nie, maar vir ander (v.16, 6:18). Jy weet immers dat God so groot is dat Hy maklik almal se behoeftes kan vervul en dat Hy kan doen ver bo wat ons bid, of selfs dink (3:20).

 

2. Bid God-gesentreerd (v.17)

Jare gelede het ’n tannie my vertel van ’n vroue Bybelstudie wat sy bygewoon het. Blykbaar het een vrou gesê jy moet baie spesifiek bid. Jy moet byvoorbeeld nie net vra dat die Here vir jou ’n kar voorsien nie, maar jy moet vra dat Hy vir jou ’n blou Volkswagen Golf VII TSi sal gee.

         As ons sulke dinge hoor, sit dit ons af. Ons weet dat dit die lering van die vals Prosperity Gospel is. Maar is ons gebede nie ook soms mens-gesentreerd eerder as God-gesentreerd nie? Ons bid oor wat óns alles wil hê. Paulus het nie so gebid nie, maar het sy gebede op God gesentreer. Vir hom het dit oor die Drie-Eenheid gegaan. Hy het gebid tot die Vader aan wie die heerlikheid toekom (v.17, Matt. 6:9, Rom. 11:36b). Hy verwys na Hom as God, die Vader van ons Here Jesus Christus (v.17). Die feit dat Hy Jesus die Here noem, wys dat Jesus God is en gelyk met die Vader (Joh. 1:1, 10:30, Fil. 2:6, Heb. 1:3). Maar die feit dat die Vader die God van Jesus is, wys dat Jesus waarlik en volkome mens is (v.17, Joh. 20:17).

     Paulus het verder gebid dat die Vader ons ’n Gees van wysheid en openbaring sal gee om Hom te ken (v.17, Jes. 11:2). Sien jy die Drie-Eenheid in Paulus se gebed (v.17)? Hy verwys ook na die Drie-Eenheid in 2:18 waar ons tot die Vader bid, deur Jesus ons Middelaar, deur die Heilige Gees wat in ons werk om te bid.

     Begin jý jou gebede so: vol verwondering oor die groot God tot wie jy bid? Of val jy weg met jou versoeke, omdat jy God as een of ander Kersvader in die hemel sien? Ek bedoel nie dat God nie geskenke gee nie. Die punt is eerder dat jy nie vir suigstokkies moet vra as God jou ’n Koninkryk bied nie. Eintlik bied Hy jou meer as ’n Koninkryk; Hy bied jou Homself. Jy het Hom reeds deur sy Gees ontvang toe jy in Jesus geglo het (v.13), maar nou gee Hy jou ’n dieper kennis van Homself deur die Heilige Gees (v.17, 3:16-19, 5:18). Die rede hoekom Hy dit doen, is nie sodat jy teologies skerper kan wees om met ’n Jehova’s Getuie, of ’n Moslem oor God te stry nie. Hy doen dit eerder dat jy Hom persoonlik kan ken en sodat jy wysheid sal hê om reg te lewe (v.17). As jy hierdie wysheid het, sal jy byvoorbeeld vir sonde vlug, omdat jy weet God is heilig. Jy sal vreesloos wees, omdat jy weet Hy is altyd by jou. Jy sal gerus voel dat Hy jou deur jou krisis kan help, omdat jy weet Hy is almagtig.

 

3. Bid dat jy die hoop van die hemel sal verstaan (v.18a-b)

Jerry slaap op straat. Hy sê dat hy ’n paleis in Swede het en hy jok nie vir jou nie. Jy hoor hom egter nooit daarvan praat nie. Hy maak ook nie ’n plan om daar uit te kom nie, maar hy versamel ou stukke lap om sy tent aanmekaar te las.

         Baie Christene is soos Jerry: ons sê dat ons ’n huis in die hemel het, maar ons praat nie baie daaroor nie. Dit geniet nie baie aandag in ons gebede, gedagtes, lofliede, of preke nie. Is dit omdat ons ’n vae idee van die hemel het? Die meeste mense dink aan die hemel as ’n wit lig waar jy nie juis iets kan sien nie. Ons dink aan geeste wat rondsweef en vir ewig sing.

         Omdat mense verkeerd oor die hemel dink, bid Paulus dat die Efesiërs ’n duidelike idee daarvan sal hê en dat die Here hulle geestesoë sal open, sodat ’n hele nuwe wêreld vir hulle oopgaan (v.18, Ps. 119:18, 1Kor. 2:9-10). Hulle moet besef dat ons ’n nuwe hemel en aarde verwag waar alles goed en reg sal wees sonder enige sonde, siekte, hartseer, pyn, of dood (2Pet. 3:13, Op. 21:1, 4). Wanneer Jesus weer kom, sal Hy ons liggame opwek en dit verheerlik. Hy sal vir ons liggame gee wat nooit weer kan sonde doen, siek word, oud word, of sterf nie (1Kor. 15:35-58). Op die nuwe aarde sal ons werk, dien, eet, vriende maak, sing, en die Here in alles aanbid. Buiten dat Jesus en ander gelowiges daar sal wees, sal daar ook engele, bome, berge, riviere, voëls, diere en nog meer wees (Op. 21-22).

     Is dit iets waarna jy uitsien? Laat die wederkoms dan gereeld in jou gebede wees en vra die Heilige Gees om jou te help om die hoop van die hemel beter te verstaan (v.18). Dit sal help dat jy nie wanhopig voel in ’n wêreld vol lyding nie (v.18, Rom. 8:24). Dit sal ook help dat jy nie vir die tydelike te lewe nie, maar dat jy uitsien na Jesus se wederkoms en die nuwe aarde.

 

4. Bid dat jy God se rykdom in die kerk sal verstaan (v.18c)

In die westerse samelewing gaan alles oor die individu. Baie kerke het ook so geword—veral as gevolg van Covid—sodat die samekomste van die gelowiges vir mense onbelangrik is (Hand. 2:42, Heb. 10:24-25). Solank jy by jou huis die Bybel lees, bid en na die preke kyk, is die saak reg.

         Maar wat sou jy in die vroeë kerk gedoen het waar slegs die prediker ’n Bybel het? En hoe dink jy sal ’n huwelik werk as jy daarmee omgaan soos mense met die kerk omgaan en ’n aanlyn verhouding het?

         God wil hê dat jy sy rykdom in die kerk moet verstaan. Dit is nodig dat jy hiervoor bid (v.18c), sodat die Heilge Gees jou kan wys hoe baie gelowiges daar op die aarde, deur die geskiedenis en in die hemel is. Hy wil nie hê jy moet dink dat die kerk klein is, net omdat jy die enigste Christen by jou werk, in jou klas, of in jou familie is nie. Hy wil nie hê jy moet dink dat die kerk klein is, net omdat jou gemeente klein is en daar relatief min Christene in jou dorp, of land is nie. Sien eerder raak dat God miljoene mense aan sy Seun gegee het, dat die nasies Jesus se erfdeel is, en dat baie mense eendag in aanbidding voor Hom sal buig (v.18c, Gen. 12:3, Ps. 2:8, 22:28, 86:9, Dan. 7:13-14, Joh. 17:2, 6-7, Op. 5:9, 7:9-10).

 

5. Bid dat jy jou hulpbronne in Christus sal verstaan (v.19-23)

Party Christene is soos ’n boemelaar wat nie weet dat hy die erfgenaam van ’n R400 miljoen landgoed is nie. Ons voel radeloos en wil die handdoek ingooi, omdat ons nie besef hoe groot die krag is wat God in en deur ons werk nie. Hierdie is dieselfde krag waardeur God sy Seun uit die dood opgewek het en Hom tot die hoogste posisie verhef het (v.19-20). Deur dieselfde krag wek Hy ons op tot nuwe lewe (2:1, 5). Deur dieselfde krag kan ons die evangelie met mense deel, sodat hulle tot redding kom (3:7-9, Hand. 1:8, 26:18, Rom. 1:16, 1Kor. 1:18, 2:4-5). Deur dieselfde krag kan ons ons vrees vir evangelisasie en vervolging oorwin (2Tim. 1:7-8). Deur dieselfde krag kan ons die hoogste pieke van sy liefde uitklim en God dieper ervaar (3:16-20). Deur dieselfde krag kan ons Satan en sy versoekings oorwin (6:12, Luk. 10:19). Deur dieselfde krag kan ons in ’n hopelose wêreld hoop hê (Rom. 15:13). Deur dieselfde krag kan ons beproewings verduur en daaroor triomfeer (2Kor. 12:9, Fil. 4:13, Kol. 1:11). Deur dieselfde krag kan ons sonde konfronteer en kerkdissipline toepas (1Kor. 4:19-21, 5:4-5, 2Kor. 13:1-4). Deur dieselfde krag kan ons gelowiges dissipeleer, sodat hulle volwasse raak (Kol. 1:28-29). Deur dieselfde krag kan ons lewe soos God wil hê (2Pet. 1:3).

         Hoe kry ons hierdie krag? Hoofsaaklik deur gebed (v.16, 19, 3:20, Matt. 21:21-22, Joh. 14:12-14, Jak. 5:16). Biddende mense is sterk mense, omdat hulle nie op hulle eie hulpbronne vertrou nie, maar op die krag van God deur Christus. Hulle sien Jesus waar Hy as Koning aan die Vader se regterhand regeer (v.20, Ps. 110:1). Jesus het nog altyd as God regeer, maar na sy opstanding het die Vader Hom as mens verhef bo elke owerheid en mag; bo elke naam in die hemel, op die aarde, in die hel, in hierdie lewe, en in die volgende (v.21, 3:10, 4:10, 6:12, Ps. 89:28, Dan. 2, 7, Joh. 3:31, Kol. 1:17, 2:10, Heb. 1:4, 2:9, Op. 1:5, 11:15, 19:16). Die Vader het alles onder sy voete gesit en Hom as Hoof oor alles aangestel om namens die kerk en tot haar voordeel daaroor te regeer (v.22). Dit geld vir vervolging, Covid, wêreldpolitiek, versoekings, natuurrampe, oorloë, die dood—alles in die hemel en op aarde. Jesus werk absoluut alles tot die kerk se voordeel (Rom. 8:28).

         Sy soewereine hoofskap oor alles en alles onder sy voete beteken ook dat Islam, Kommunisme, Ateïsme, evolusie, Black Lives Matter, Hindoeïsme, Boeddhisme, Animisme, Judaïsme, die Kultusse, die Word of Faith beweging, Satan, demone, die dood en elke ander vyand voor Jesus sal buig. Party van hulle sal dit in hierdie lewe doen en vergewe word, terwyl ander dit op die oordeelsdag onder dwang sal doen en verpletter word (Ps. 2, Fil. 2:10-11). Hoe dit ook al sy: Jesus se voete sal op sy vyande se nekke wees (v.22, Ps. 110:1, 1Kor. 15:24-27, 1Pet. 3:22, vgl. Jos. 10:24-25, 1Kon. 5:3).

         Moet dan nie vir ’n oomblik dink dat Jesus die wêreld wíl red, maar nie kan nie. Soos Hy Kommunisme in ’n oomblik in Oos-Europa tot ’n val gebring het, kan Hy Islam, en elke ander vals godsdiens, filosofie en ideologie met ’n enkele woord laat val. Laat ons dit dan in ons gebede onthou, sodat ons met hierdie ingesteldheid teen die vyand bid en die evangelie deel om mense uit die duiwel se mag te bevry en sy bose werke te vernietig (2Kor. 10:3-5). As God vir ons is wie kan teen ons wees (Rom. 8:31)? Met Jesus aan ons kant kán die duiwel nie wen nie, maar is die oorwinning geklink. Jesus self sal ons help om die groot evangelisasie-opdrag suksesvol te voltooi (Matt. 28:18-20).

         ‘Maar hoekom gebeur dit dan nie en lyk dit of die duiwel die laaste lag het?’ wil iemand weet. Dit is nie die Here wat ons keer nie. Dit is ook nie dat die vyand sterker is as Hy nie. Die probleem is eerder ons selfversekerdheid, kleingeloof, biddeloosheid, traagheid in evangelisasie en onkunde oor die krag wat in ons werk (Matt. 17:20, Mark. 9:29). Laat ons dan ons ongehoorsaamheid bely en opnuut deur gebed na Hóm kyk wat die hemel en die aarde vul (v.23, 4:10, Kol. 3:11, Jer. 23:24). Laat ons Hom vra om ons met Homself te vul (3:16, 19). Dit gebeur nie hoofsaaklik waar jy op jou eie in jou kamer is nie, maar waar jy deel van ’n gemeente is (3:21). Jesus geniet dit om by die gemeente te wees. Hy is die Hoof van die gemeente, sy liggaam (v.22-23). Hy self verwys na die kerk as sy volheid (v.23). Dit beteken nie dat Hy ons nodig het nie (Hand. 17:25). En tog kies Hy om nie volledig sonder ons te wees nie net soos wat ’n Hoof nie volledig is sonder ’n liggaam nie (v.22-23, 4:15-16, 5:23, Kol. 1:18).

         In die lig hiervan gaan dit my verstand te bowe dat party Christene nie omgee of hulle betrokke is in ’n gemeente, of nie. Hulle bewonder Jesus nie as Hoof van die gemeente nie en verstaan nie die hulpbronne wat hulle in Hom het nie. Vir hulle is Hy nog steeds maar net liewe Jesus en daarom bly hulle gebede klein.

         Mag ek jou vra: hoe sien jý Jesus; hoe beskou jý Hom? Dit sal bepaal hoe groot jou gebede is; of jy vir die ewige dinge van sy Koninkryk bid, en of jy Hom vir suigstokkies vra.