Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 March 2014

Goddelike genesing: wie is op die verhoog?

Benny HinnHandelinge 3:1-10

Die Jode het drie gebedstye per dag gehad:  09:00, 12:00 en 15:00 (Psalm 55:18).  Petrus en Johannes is net voor 15:00 tempel toe vir gebed (v.1).  'n Verlamde man word deur sy vriende by die Skoonpoort neergelê.  Alfred Edersheim beskryf hierdie poort soos volg:

‘[This gate] formed the principal entrance into the Temple.  The ascent to it was from the terrace by twelve easy steps.  The gate itself was made of dazzling Corinthian brass, most richly ornamented; and so massive were its double doors that it needed the united strength of twenty men to open and close them’ (Temple, p.17).

Heidene sowel as vroue kon deur hierdie poort gaan.  Die meeste verkeer was by hierdie hek.  Die verlamde bedelaar was slim om hier te sit.  Hy het geweet dat hy op godsdienstige mense se gewetens kon teer.  Hulle het immers geglo:  ‘almsgiving delivers from death and keeps you from going into the Darkness’ (Tobit 4:10).  Hulle het vir armes gegee in die hoop dat ander hulle sou raaksien en prys (cf. Matteus 6:2).  Maar vandag sou hierdie man nie geld kry nie.  Hy sou 'n baie groter skat ontvang.

1. Genesing (v.3-8)

Die Griekse teks dui aan dat die man van die moederskoot af verlam was.  Hy was nou al oor 40 (4:22).  Toe hy die apostels sien het hy aangehou vra vir geld (Gk. imperfektum).  Hy het vrymoedigheid gehad om te vra, maar wou hulle nie in die oë kyk nie.  Hy was seker maar skaam:  “Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.” (Spreuke 18:23).

Petrus gee nie die geld waarvoor hy hoop nie.  Hy stel nie belang in 'n sosiale evangelie wat mense se honger stil, maar nie vir hulle die evangelie gee nie.  Petrus gee vir die man Jesus.  Die man glo dat Jesus lewe en die Messias is (v.6, 16).  Die man word dadelik gesond.  Hy spring op, huppel en loop sonder fisioterapie of rehabilitasie (v.7-8).  Die man besef dat dit nie eintlik Petrus is wat hom genees het nie, en daarom prys hy die Here (v.8).  Die Ou Testament het voorspel dat lammes sal loop wanneer die Messias sy Koninkryk vestig:  “dáár sal [hulle] sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God... Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok” (Jesaja 35:2, 6).  Een van die bewyse dat Jesus die Messias is, is dat kreupeles loop (Matteus 11:5).  Die tong wat 'n rukkie gelede vir geld gevra het (v.3), prys nou die Here (v.8).

Die genesings wat in die Bybel plaasvind wys dat Jesus sterk is; dit plaas Hom op die verhoog.  Die moderne ‘gawe van genesing’ is kragteloos en belaglik; dit plaas mense in die kollig.  Let op die verskil tussen Bybelse- en moderne genesings:

  • Die verlamde man is onverwags genees (v.1-2).  Moderne geloofsgenesers kondig aan dat hulle mense gaan genees.
  • 'n Mens kon duidelik sien dat die man in Handelinge 3 verlam is (v.2).  Vandag se geloofsgenesers kan nie veel meer as hoofpyne en maagswere genees nie (en wie kan sien of hulle dit regtig doen?).
  • Vir die apostels het dit nie oor geld gegaan nie; hulle het niks gehad nie (v.6).  Vandag se gurus genees teen 'n prys:  hoe meer jy gee, hoe beter die kans dat jy gesond word.
  • Die genesing in Handelinge 3 kon maklik bewys word.  Lukas, die outeur van Handelinge, was 'n mediese dokter.  Die feit dat hy hierdie genesing opgeteken het wys dat dit medies bewys kon word.  Ook die skare het dit erken (v.10).  Selfs die kerk se vyande kon dit nie ontken nie (4:16).  Vandag se genesings is bitter moeilik om te bewys.
  • Die verlamde man het dadelik gesond geword (v.7).  Vandag vind genesings oor 'n lang tydperk plaas.
  • Die verlamde man se genesing was volkome (v.7-8).  Siek mense wat vandag ‘genees’ word loop nogsteeds effens mank.
  • Die verlamde man se genesing was permanent (4:22).  Hoeveel mense sterf later van die eindste siekte waarvan hulle ‘genees’ is?

Goddelike genesing is nie kanker wat in resessie is nie, maar 'n terminale gewas wat oornag verdwyn.  Ek glo dat die Here nogsteeds gebede vir Goddelike genesing beantwoord.  Maar nadat die apostels gesterf het, het geen mens meer die gawe van genesing nie.  Hierdie gawe is gegee om te wys dat die apostels se prediking eg was.  Toe die Nuwe Testament klaar geskryf is, het die noodsaaklikheid vir hierdie gawe verdwyn.

Hebreërs 2:3-4 sê dat die evangelie “eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?”

Nader aan die einde van die apostels se bediening het selfs húlle opgehou om mense te genees.  Paulus sê vir Timoteus om wyn te drink vir die kieme in sy maag (1 Timoteus 5:23).  Paulus is by Trofimus, en tog los hy hom siek agter in Miletus (2 Timoteus 4:20).  Epafroditus se siekte het amper op die dood uitgeloop (Filippus 2:27, 30).  Hoekom het Paulus hom nie genees nie?

Dalk verskil jy.  Laat ek jou dan net dít vra:  Kan jy vir my uit die Bybel bewys dat ons dieselfde kragtige werke kan doen as die apostels?  Wat maak jy met die geskiedenis:  vir 1900 na Christus is daar geen voorbeeld van die Bybelse gawe van genesing in die kerk nie?  Eers in die begin van die 1900’s het die Pinkster-beweging die gawe weer begin beoefen, en soos hierbo gesien kom hulle ‘gawe’ nie ooreen met die Bybelse gawe nie.  Kan jy vir my 'n geval bring wat medies bewys kan word (ek praat nie van antwoorde op gebed nie, maar van 'n persoon wat die gawe van genesing het)?  As mense regtig nog die gawe van genesing het, behoort hulle hul groot wit tente af te slaan.  Laat hulle in hospitale ingaan en siek mense genees.  Laat hulle van die verhoog afklim en Jesus op die verhoog plaas.

2. Bevestiging (v.9-10)

Die skare het erken dat die verlamde man genees was (v.9-10, 4:21).  Petrus het vir Jesus op die verhoog geplaas en nie homself nie (v.12-16, 4:10).  Dalk wonder jy:  ‘Sal God mý genees om sy Seun se Naam te verhef; om te wys dat Jesus op die verhoog is’?  Miskien.  Maar dalk wil Hy Jesus verhef deur jou nié te genees nie.  Hy sal sy Seun verhef wanneer jy siek in die bed lê en geduldig is, liefdevol is, ander siek mense bemoedig, die evangelie deel met ongelowiges, verlang om hemel toe te gaan, volhard in gebed, vashou in die geloof, die Here loof vir sy goedheid, 'n nederige hart het wat ander se hulp en gebede vra, dankbaar is en nie murmureer nie, die Here vertrou, jouself ondersoek en afstand doen van die sonde wat jy daar vind, geen vrees vir die dood het nie.

Moderne geloofsgenesers sê dat siekte 'n bewys is dat jy gesondig het.  Maar dis nie waar dat siekte altyd 'n bewys van een of ander sonde is nie.  Baie keer bring God siekte om sy Naam te verheerlik; om te wys dat Jesus op die verhoog is:  “En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af.  En sy dissipels vra Hom en sê:  Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?  Jesus antwoord:  Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Johannes 9:2-3).

Wanneer Jesus weer kom sal God jou liggaam volkome gesond maak.  Jy sal 'n nuwe liggaam ontvang.  Dan sal Jesus op die verhoog wees.  Sy heerlikheid sal in jou skyn (2 Tessalonisense 1:10).  Moenie soos 'n kind wees wat 'n handvol 5 sente kies bo 'n Kruger-Rand nie.  Moenie silwer en goud kies bo Jesus nie.  Jesus se liefde is meer werd as die lewe self (Psalm 63:4).  Gee alles wat jy het om hierdie skat te kry (Matteus 13:44), en jy sal smaak en sien dat die Here goed is (Psalm 34:9).

Kategorieë