Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 January 2013

Oor Bybelse besluitneming

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Woman at crossraods

Baie jong Christene vra:  “Wat is God se wil vir my lewe?”  Die Bybel antwoord:

  • Wees altyd bly, bid gedurig, en dank God in alles (1 Tessalonisense 5:16-18).
  • Leef heilig en moenie seksueel immoreel wees nie (1 Tessalonisense 4:3).
  • Glo in Jesus vir die ewige lewe (Johannes 6:40).
  • Doen goeie werk en moenie lui wees nie.  Werk asof jy vir die Here werk en nie vir mense nie (Efesiërs 6:6).
  • Deur jou heilige lewe moet jy ongelowiges se monde stilmaak as hulle wil slegpraat van Christene (1 Petrus 2:15).
  • Ly vir Jesus (1 Petrus 4:19).
  • Wees lief vir die Vader en vir die wêreld nie (1 Johannes 2:17, 15-16).
  • Die hele Skrif (Psalm 40:9, Nuwe Vertaling).

Nie almal wat hierdie dinge doen is besig om God se wil uit te voer nie.  Paulus praat in 1 Tessalonisense 5:18b van God se wil in Christus Jesus.  Ja, hy sê dit omdat Jesus die Vader se wil aan ons bekend maak.  Maar hy sê dit ook omdat ons net deur geloof in Christus die Vader se wil kan doen.  Enigiets anders is moralisme.  En dan is jy niks beter as 'n ongelowige nie.  Maar as jy hierdie dinge in geloof doen...

In Augustinus se woorde:  “Love God and do what you want.”  As jy God se wil uitvoer kan jy doen wat jy wil, want dan is jou wil een met syne (sien Johannes 7:17).  Wat doen jy as iemand anders, 'n stem, of iemand in 'n droom of visioen vir jou sê dat iets God se wil is vir jou lewe?  Hoe sal jy weet of dit reg is?  As die instruksie met die Bybel bots dan is dit nie die Heilige Gees nie; dis die vlees of die duiwel.  Moet dit nie volg nie.

“Maar wat as ek vrede het dat dit God se wil is?”  Vrede is nie alles nie.  Jona het vrede gehad toe hy van God af weghardloop sodat hy rustig geslaap het onder in die skip.  Moet ook nie dink dat 'n oop deur noodwendig aandui dat iets die Here se wil is nie.  Vir Jona het alles in plek geval – selfs in die wind het in die regte rigting gewaai.  Maar tog was hy buite die Here se wil.  Net as jy die Skrif gehoorsaam en die Heilige Gees se leiding volg (sy wil sal altyd inlyn wees met die Skrif) kan jy verseker weet dat jy die wil van die Here doen.  “Maar die Bybel sê nie vir my met wie ek moet trou of waar ek moet werk nie.”  Is jy seker?

Om goeie besluite te neem wat binne die wil van die Here is kan jy die volgende stappe volg:

  1. Bid en vra vir die Heilige Gees se leiding en insig.
  2. Lees wat die Bybel oor die betrokke onderwerp te sê het (hetsy werk, die huwelik, of watookal).
  3. Wat is jou motiewe?  Het jy sondige of heilige motiewe?
  4. Wat sal die gevolge van jou besluit wees?
  5. Vra vir ander volwasse Christene wat hulle in jou situasie sou doen (Spreuke 11:14, 15:22).
  6. Vra raad van die gesagsfigure in jou lewe (jou ouers, man, ouderlinge, baas, en ander).
  7. Het jy die tyd en geld om dit te doen?
  8. Sal jy geestelik groei of 'n slaaf van iets word as jy hierdie besluit neem? (1 Korintiërs 6:12).
  9. Sal jou besluit swakker Christene laat struikel? (1 Korintiërs 8:13).
  10. Bied hierdie vir jou 'n geleentheid om ander vir Jesus te wen? (1 Korintiërs 9:22).
  11. Sal jou besluit God verheerlik? (1 Korintiërs 10:31).
  12. Sou Jesus dit doen? (1 Johannes 2:6).

Gestel Karel wil graag trou.  Hoe kan hy die Here se wil ken?  Hy moet heel eerste nie die regte vrou soek nie, maar die regte man wees.  Met ander woorde hy moet God se wil, soos hierbo verduidelik, gehoorsaam.  En dan moet hy hierdie twaalf stappe volg.  Na deeglike gebed en studie sien hy dat ses van die elf ongetroude meisies by sy kerk Christene is.  Hy weet uit 1 Korintiërs 7:39, 2 Korintiërs 6:14 dat hy met 'n Christen moet trou.  Hy luister na sy dominee se preek oor Spreuke 31 en meet die ses meisies op.  Net drie meet op.  Hy stel nie regtig belang in Marie nie, maar hy dink nogal Sandra en Melinda is oulik.  Maar Sandra stel belang in iemand anders.  “Melinda is die een”, dink Karel.  Baie gou vind hy uit dat Melinda dieselfde dink oor hom.  Toe Karel ander volwasse Christene se raad vra was hulle positief.  Alles het in plek geval.  Hulle is gelukkig getroud.

En as jy jou gedagtes vul met die Bybel en so jou denke vernuwe, sal jy “kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Romeine 12:2).  Jy sal ook gelukkig wees soos Karel.

[/column]

Kategorieë