Coram Deo Cover Image

Coming soon...

22 March 2019

Gebruik jou gawe

Image result for spiritual gifts

Romeine 12:6-8

In sommige kerke wil almal in tale praat, profeteer, of siek mense genees, en wil hulle nie hulle unieke gawes gebruik nie. In party tradisionele kerke beskou mense Christenskap as ‘n toeskouersport waarin hulle die dominee betaal om die werk te doen. Maar volgens Paulus is die gemeente ‘n liggaam en moet elkeen sy gawe gebruik. Wat is hierdie gawes en hoe moet ons dit gebruik? Rom. 12:6-8 sê vir ons.

 

  1. Die opdrag (v.6)

Toe ek 11 was, was daar ‘n identiese tweeling in my skool. Een van die onderwysers kon hulle nie uitmekaar ken nie. Toe hy die tweeling se 9-jarige boetie vra hoe hý hulle uitken, het hy gesê: ‘Een se kop lyk soos ‘n sokkerbôl en die ander een s’n soos ‘n rugbybôl.’

Net soos wat geen identiese tweeling op ‘n druppel na mekaar lyk nie, is daar nie twee gelowiges wat presies dieselfde gawe het nie: “...ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is” (v.6). Selfs waar twee lidmate bv. die gawe van barmhartigheid het, fokus een dalk op weduwees, terwyl die ander een op siek mense fokus.

Elke gemeente het ook nie presies dieselfde gawes nie. Die lys van gawes in 1Kor. 12, Ef. 4 en Rom. 12 verskil. Elke gemeente het unieke behoeftes. Die Here weet watse gawes ons op die oomblik nodig het en rus ons daarmee toe (1Kor. 12:18). Wat bedoel ek?

Op 25 Julie 1993 het vier gewapende mans by St. James Kerk in die Kaap ingestorm. Hulle het granate tussen die mense gegooi en met outomatiese gewere vuur oopgemaak: 11 mense is dood en 58 gewond. Ná die aanval het die gemeente die gawe van bemoediging, diensbaarheid en vrygewigheid meer nodig gehad as in die verlede.

Omdat elke gemeente unieke gawes het, moet jy nie sonder goeie rede na ‘n ander gemeente toe skuif nie. Jy moet slegs skuif as die kerk waar jy tans aanbid nie meer die Bybel preek of gehoorsaam nie. Maar as jy deel van ‘n goeie gemeente is, moet jy jou gawe dáár gebruik. Moenie in die kerkbank sit en onbetrokke wees nie. Moenie op die kantlyn staan en kritiseer nie. Gebruik jou gawe (v.6). Dit is hoekom die Here dit vir jou gegee het. As jy dit nie gebruik nie, kan die Here dit maklik van jou af wegneem (vgl. Matt. 25:28-29).

 

  1. Die gawes (v.7-8)

In v.7-8 noem Paulus sewe gawes. In 1Kor. 12 lys hy dertien gawes, en in Ef. 4:11 vyf. Sommige van die gawes in Rom. 12 oorvleuel met die gawes in 1Kor. 12 en Ef. 4:11. Elke gemeente het egter ook unieke gawes volgens haar unieke behoeftes gehad. Wat is die gawes in Rom. 12?

Profesie (v.7)

Profesie is om geïnspireerde woorde oor die verlede, die hede en die toekoms te spreek (2Sam. 23:2, Luk. 1:67-79, Hand. 15:32, 2Pet. 1:20-21). Vandag is daar baie mense wat hulleself profete noem. Hoe moet ons hulle meet?

Vra in die eerste plek wat hulle met ‘profesie’ bedoel. As hulle sê dat hulle nie geïnspireerde woorde soos die Ou- en Nuwe Testament profete spreek nie, is hulle nie die stof op ‘n profeet se sandale werd nie. As hulle egter sê dat hulle geïnspireerde woorde soos Jesaja spreek, moet ons sê dat hulle Deut. 4:2, 12:32, Spr. 30:6, Op. 22:18-19 oortree en by die Bybel voeg.

Hulle oortree ook 2Tim. 3:16-17 en 2Pet. 1:3 wat sê dat die Bybel genoegsaam is om God se wil te ken en te doen. Hulle maak asof die kerk vir 2000 jaar in die donker was, totdat húlle op die toneel verskyn het om ‘n nuwe openbaring te gee.

As die profeet iets sê wat reeds in die Bybel staan, moet ons vra hoekom hy dit as ‘n nuwe profesie beskou. En as hy iets sê wat nié met die Bybel ooreenstem nie, is dit vals en kom dit nie van God af nie. As hy sê dat sy profesie glad nie in die Bybel voorkom nie en dat hy die eerste een is wat dit ontvang het, sukkel ek om te sien hoe dit nie ‘n nuwe openbaring en ‘n oortreding van Op. 22:18-19 is nie.

Maar wat as sy profesie ‘n voorspelling oor die toekoms is? Ons kan dit mos nie aan die Bybel meet as iemand sê dat Suid-Afrika binne die volgende twee jaar ‘n landwye herlewing gaan sien nie. Ja, maar jy kan wag om te sien of die voorspelling waar word of nie (Deut. 18:21-22).

 ‘n Sendeling genaamd Richard Knill het die tienjarige Charles Spurgeon (1834-1892) op sy knie getel en voor getuies gesê: ‘This child will one day preach the gospel, and he will preach it to great multitudes. I am persuaded that he will preach in the chapel of Rowland Hill...’ [C.H. Spurgeon, Autobiography: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1962), 27-28].

Baie jare later moes Alexander Fletcher in Rowland Hill se kerk preek. Hy het egter siek geword en vir Spurgeon gevra om vir hom in te staan. Spurgeon het volgens mnr. Knill se woorde in Rowland Hill se kerk gepreek. Later het die leraar van ‘n gemeente in Wotton-under-Edge vir Spurgeon genooi om daar te preek. Dit was ook een van Rowland Hill se gemeentes. Richard Knill se woorde is vir ‘n tweede maal vervul.

Let op dat hierdie woorde nie vir die kerk in haar geheel bedoel was nie. God het dit vir 'n individu gegee. Dit is dus nie iets wat ons by die Bybel moet voeg nie (nie dat ons enigiets anders by God se Woord moet voeg nie). Nog 'n les uit Richard Knill se woorde, is dat ons nie moet val vir sg. profesieë wat vaag is en op ‘n honderd maniere vervul kan word nie. Dit moet noukeurig en spesifiek wees. Maar wat as die profesie oor die hede gaan en jy nie dit nie aan ‘n spesifieke uitkoms kan meet nie? Wat as iemand bv. sê: ‘Die Here sê jy moet jou werk los en Bloemfontein toe trek’?

In so ‘n geval kan jy die persoon ignoreer. Jy hoef nie Bloem toe te trek as jy nie wil nie. Iets is net sonde as jy die Bybel oortree (1Joh. 3:4). Iemand wat nie Bloem toe wil trek nie, oortree nie die Bybel nie. Buitendien hoef die Here nie deur profeet X vir jou te sê om Bloem toe te trek nie. As Hy wil hê jy moet trek, sal Hy self met jou werk.

Volgens Paulus moet die profete na die maat van die geloof profeteer. Wat beteken dit? Geen profesie mag bots met die Christelike geloof soos dit in die Bybel vervat is nie (vgl. Jud. 3).

Bediening (v.7)

Hierdie gawe laat my dink aan ‘n oom wat ek ken. Hy het ‘n hart vir arm mense sonder kos, water, klere of ‘n blyplek. Dit laat my dink aan ‘n tannie in ons gemeente wat graag ou en siek mense besoek.

Lering (v.7)

Hierdie gawe laat my dink aan John MacArthur. Hy ken die Bybel en het die vermoeë om dit op ‘n verstaanbare wyse vir mense te leer (Jer. 3:15, 1Tim. 4:13, 2Tim. 4:2). Dit laat my dink aan tannie Etrechia de Villiers wat die vroue Bybelstudie lei (Matt. 28:19).

Vermaning (v.8)

Hierdie gawe laat my dink aan ‘n oom wat jou vir koffie vat, jou bemoedig, jou mooi wys waar jy verkeerd is, en jou aanspoor om te doen wat reg is. Dit laat my dink aan my pa wat jou op so ‘n manier kan aanspreek, dat jy nie aanstoot neem nie maar dankie sê.

Is jou gawe bediening, lering, of vermaning? Gebruik dit “in die werk van bediening... in die lering... in die vermaning...” (v.7-8). Dit klink oorbodig om te sê: ‘Gebruik jou gawe van lering in die lering.’ Hoekom sê Paulus dit? Wat hy bedoel is dít: ‘Het jy die gawe van lering? Leer dan ander mense. Moenie rondsit nie, maar wees besig om mense te leer. Moet ook nie buite jou gawe beweeg nie. As jou gawe lering is, gebruik dit in die lering. Moenie jou tyd gee om kos te maak vir die sendingete nie. Mense wat daardie gawe het, kan dit doen.’

Uitdeel (v.8)

Almal moet vir die Here se werk bydra. Party mense het egter die gawe om uit te deel. Dit is nie noodwendig ryk mense nie (2Kor. 8:3-5). Dit is mense wat opreg uitdeel. Hulle gee nie soos die Fariseërs, of Ananias en Saffira, om gesien te word nie (Matt. 6:2-4, Hand. 5:1-2). Hulle gee met ‘n oop hand. Hulle is nie suinig nie. Ek dink hier aan verskeie mense in ons gemeente: Koos en Gerdha van der Westhuizen, die O’ Donovan’s, die Le Roux’s, die Lessings, die Van der Heyde’s, en meer.

’n Voorganger (v.8)

Hierdie gawe laat my dink aan my vriend, Paul Schlehlein. Hy lei sy gesin op só ‘n wyse dat sy vrou en kinders hom admireer (1Tim. 3:5, 12). Ek dink ook aan my vriend, Jannie Vosloo. Hy lei sy gemeente, weet hoe om standpunt in te neem, maar dien nederig eerder as om bevele te uit te roep (Matt. 20:25-28, 1Tess. 5:12, 1Tim. 3:4, 5:17).

Volgens Paulus moet ‘n voorganger met entoesiasme lei (v.8). As hy nie entoesiasties is nie, sal hy niemand aanspoor nie. Hy moet brandend wees vir die Here en sy saak (v.11).

Barmhartigheid (v.8)

Hierdie gawe laat my dink aan ‘n vrou in ons gemeente. Soos die barmhartige Samaritaan het sy tyd vir mense wat deur diep waters gaan. Mense met hierdie gawe besef dat die Here barmhartig was oor hulle, en is dus bereid om ander te help. Soms is dit ook iemand wat self in ‘n moeilike situasie was en verstaan wat ander deurmaak.

Volgens Paulus moet die barmhartige persoon blymoedig dien (v.8). Hy moenie kla oor hoe moeilik dit is om met mense te werk nie. Die broer of suster wat hy help is klaar mismoedig. Hoe gaan hy hulle help as hy self swaarmoedig is? Onthou asb. dat jy dit eintlik vir die Here doen; Hy sal jou beloon.

So, wat is jou gawe? Dalk is dit nie een van die gawes in v.6-8 nie. Kyk dan in 1Kor. 12 en Ef. 4:11 om te sien wat jou gawe is. Dalk is jy nie seker wat gawe is nie. Begin dan net êrens dien; die Here sal jou lei en vir jou wys wat jou gawe is. Dit sal iets wees wat jy geniet. Dit sal iets wees waarby ander gelowiges baat. Dit sal iets wees waarvan hulle sê: ‘Jy doen dit goed; dit is tot seën vir ons en bou ons op.’

Soms gebruik die Here ook mense se natuurlike talente om die gemeente op te bou. Werk jy goed met geld? Is jou eie finansies in orde? Werk jy met geld en syfers by jou werk? Die Here het hierdie talent vir jou gegee. En kan Hy dit nie in sy Koninkryk aanwend nie?

As jy nié jou gawe gebruik nie, is jy soos ek wat ‘n peperduur Waterman pen by ‘n vriend gekry het, maar dit nooit gebruik het nie.

Maar uiteindelik gaan dit nie oor die gawes nie. Dit gaan oor die Gewer van die gawes. Hý is die Een wat al die gawes het. Hy is ons Profeet, die Dienskneg van wie Jesaja praat, ons Leermeester, die Een wat ons met liefde vermaan, die Een wat Homself vir ons gegee het, die Koning wat ons met entoesiasme lei, en die Een wat barmhartig oor ons is.

En as Hy dit alles vir ons gegee het, sal jy ondankbaar wees soos die nege melaatses? Sal jy op ‘n Sondag kerk toe kom en van die geestelike vending masjien verwag om jou met goeie dinge te vul, terwyl jy nie ‘n vinger verroer om die gemeente op te bou met die gawe wat Here jou gegee het nie? Sal jy jou onbetrokkenheid verskoon deur te sê: ‘Darem is ek op ‘n Sondag in die kerk en is ek nie ‘n rower of ‘n verkragter nie’? Volgens Jak. 4:17 is dit nie net sonde as jy verkeerd doen nie, maar as jy nalaat wat reg is.

Luister: al is die mense in hierdie gemeente nie waardig van jou tyd, diens, geld, of gawes nie—die Here is. Wy jouself dan hart en siel aan Hom. Moenie net sê jy is weergebore, het jou bekeer, glo in Jesus, vertrou op sy kruisdood, en leef soos ‘n Christen nie. Wys dit. Wees lief vir die gemeente vir wie Jesus sy lewe afgelê het, en gebruik jou gawe om dit op te bou (Hand. 20:28).

Kategorieë