Coram Deo Cover Image

Coming soon...

3 July 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Pornografie en Egbreuk

2Samuel 11

Ek het op Times Live se webtuiste gelees van ’n ander webtuiste wat ontwerp is vir mense wat ongelukkig getroud is, maar die negatiewe gevolge van egskeiding wil vryspring. Die webtuiste bied vir hulle die opsie van ’n geheime verhouding op die kantlyn.1

Die ergste van alles is dat sommige van hierdie mense in kerke sit. Ek weet dit, omdat ek oor die bestek van 20 jaar in die bediening gesien het hoe belydende Christene en selfs predikante pornografie kyk, egbreuk pleeg en skei.

Ons sien in 2Samuel 11 hoe Dawid wat ’n man na God se hart was (1Sam. 13:14, Hand. 13:22) egbreuk en moord gepleeg het. Laat niemand dan sê: ‘Ek sal dit nooit doen nie.’ Paulus waarsku: “Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!” (1Kor. 10:12).2

 

1. Dawid en Batseba (v.1-5)

Dit is maklik om ’n boompie uit te trek as dit klein is. As jy dit los dat dit groot word, is dit ’n ander storie. So is dit met egbreuk: roei dit uit voor dit by die daad kom (Jak. 1:14-15). Raak ontslae van die dinge wat tot egbreuk lei. 2Sam. 11:1-5 wys vir ons wat hierdie dinge is.

Dawid se sonde het by hoogmoed begin. Hy het selftevrede gevoel nadat God hom in hfst. 8, 10 oorwinning gegee het oor sy vyande. Hy het homself oortuig dat hy nie meer hoef te veg nie, maar dat hy sy weermag kan stuur (v.1).

Sodra jy vergeet dat die Here jou gebring het waar jy vandag is, sal jy jouself prys en Hom afskeep. Jy sal tot ’n val kom. “Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar ’n hooghartige gees.” (Spr. 16:18). “Maar Hy gee groter genade—daarom sê Hy: ‘God staan die hoogmoediges teen, maar aan die nederiges gee Hy genade.’” (Jak. 4:6).

Wyle Martin Holdt het vertel hoe verskeie predikante in sonde geval het, omdat hulle hoogmoedig was. Hulle het gedink dat hulle die Here nie nodig het nie en het hulle stiltetyd begin afskeep. In byna elke geval het dit tot egbreuk gelei.

***

Nog iets wat tot Dawid se val gelei het, is ledigheid. Hy het luilekker op sy bed gelê, terwyl sy weermag op die slagveld was (v.1-2). Dit is waar die probleme begin het. As jy niks het om te doen nie, sal die duiwel vir jou iets vind om te doen (v.1-2, 2Tess. 3:11, 1Tim. 5:13). Hou jouself dus besig met die regte dinge. Begin jou dag met die Here. Doen ’n vol dag se werk. Spandeer tyd met jou gesin. Dien ander mense. Slaap in die nag. As jy hard gewerk het deur die dag, sal jy in die aand moeg wees en nie tyd hê om te sondig nie.

***

Iets anders wat tot Dawid se val gelei het, is wellus. Hy het op die paleis se plat dak geloop, op die huise afgekyk en ’n aantreklike vrou gesien bad (v.2). Die Hebreeuse imperfektum dui aan dat hy haar nie net gesien het nie, maar gestaar het.

Om egbreuk te verhoed (Eks. 20:14), moet jy nee sê vir wellus, pornografie en selfbevrediging (Eks. 20:17, Matt. 5:27-30). Wellus kan jou nie versadig nie (Spr. 27:20, 30:15-16, Pred. 1:8, Joh. 4:18)—net die Here kan (Joh. 4:14, 6:35). Moenie toegee as pornografie plesier belowe nie. Kyk weg, draai weg en loop weg. Vermy die dinge wat jou tot wellus versoek en raak daarvan ontslae (Matt. 5:29-30, Rom. 13:14). Breek daardie slegte verhouding en los die vriende wat jou versoek (Gen. 39:10, Spr. 5:8, 13:20, 1Kor. 15:33). Moenie eers aan die persoon dink nie (Spr. 6:25, 7:25). Dink aan goeie en heilige dinge (Rom. 8:5-6, Fil. 4:8, Kol. 3:2).

Raak ontslae van geskenke, briewe of ander dinge wat jou aan die persoon herinner. Gooi die klere weg wat ander mense versoek (1Tim. 2:9). Ek onthou hoe my sussie dit na haar bekering gedoen het toe sy haar onbeskeie klere verbrand het.

Sny jou internet, selfoon of TV af as dit jou versoek. Smyt jou vieslike DVD’s, musiek en erotiese storieboeke in die asblik. Vermy plekke wat jou tot wellus versoek (byvoorbeeld die gym). Vra iemand van dieselfde geslag om jou aanspreeklik te hou (2Tim. 2:22, Heb. 3:13). Doen alles in jou vermoë om vir seksuele sonde te vlug, selfs al moet jy jou werk bedank en ’n ander werk soek (1Kor. 6:18). ‘Do whatever you must in order to win the battle with lust,’ het John Piper in ’n preek gesê.

Iemand sal sê: ‘Ek kan nie sonder ’n foon of die internet nie; ek kort dit om my werk te doen.’ Kry ’n foon sonder internet. Moenie ’n wagwoord op jou foon hê nie. Draai jou rekenaarskerm na die deur toe waar almal dit kan sien. Installeer covenant eyes op jou rekenaar en selfoon. Dit sal maak dat ander mense kan sien wat jy op die internet doen. Het jy verskonings vir hoekom jy dit nie kan doen nie? Is dit omdat jy nie regtig jou sonde wil los nie?

Selfs al wil jy dit los, benodig jy meer as praktiese strategieë en aanspreeklikheid om pornografie te wen. Jy kort ’n nuwe hart, omdat ’n slegte hart maniere sal vind om die voorsorg maatreëls te omseil. Vra die Here vir ’n nuwe hart wat sonde sal, wil en kan uitroei (Eseg. 36:26-27, Fil. 2:12-13). Gebruik die Bybel as jou swaard en bid vir die Here se hulp (Ps. 119:9-11, Ef. 6:17-18, Jak. 5:16). Memoriseer verse soos die volgende:

“Ek het ’n verbond met my oë gesluit—hoe sou ek dan aandag gee aan ’n jongmeisie?” (Job 31:1).

“Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna (die hel) gegooi word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland.” (Matt. 5:27-30).

Mense wat wellustig is of seksuele sonde pleeg, is ondankbaar. Hulle dank die Here nie genoeg vir hulle lewensmaats of dat hulle as enkel persone in sy diens kan staan nie (Ef. 5:3-4). ’n Ouer leraar het dit vir my gesê toe ek van my stryd met wellus praat. ‘I think your sin is that you are not thankful enough. When last did you thank God that you are a man and that you have normal passions?’ Geniet jou maat as jy getroud is (1Kor. 7:1-5). Trou as jy enkel is en van begeerte brand (1Kor. 7:8-9).

Wat as jy dié dinge probeer en weer in sonde val? Moet jouself nie bejammer nie, maar bely dadelik jou sonde (Spr. 24:16, Matt. 6:12, Jak. 4:8-10, 1Joh. 1:9). Bid daagliks vir beskerming (Matt. 6:13).

Dalk sê jy: ‘Ek het hierdie dinge probeer, maar dit werk nie.’ Jy gee te gou op. Glo die Here se beloftes en doen wat Hy sê:

“Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe ’n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.” (1Kor. 10:13).

“en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8:32, 36).

“Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God. Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van geregtigheid tot beskikking van God. Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.” (Rom. 6:11-14).

“Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie.” (Gal. 5:16).

“Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid, dat elkeen sal weet hoe om sy eie vrou op ’n heilige en eerbare wyse te verkry, nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, en dat hy nie sal oortree, en sy broer in dié saak bedrieg nie. Want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het: die Here vergeld al hierdie dinge. God het ons tog nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid.” (1Tess. 4:3-7).

“Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp” (Tit. 2:11-12).

As jy ’n kind van die Here is, is jy nie ’n hulpelose slaaf van sonde nie. John Piper het in ’n preek gesê dat niemand absoluut verslaaf is nie. Hy gebruik die voorbeeld van iemand wat voor ’n rekenaar sit om pornografie te kyk. Net voor hy die muis se knoppie druk, stap iemand met ’n geweer by die vertrek in. ‘As jy die knoppie druk, skiet ek jou dood,’ sê hy. Sal jy die knoppie druk?

Deur die Gees se hulp, kán jy nee sê vir sonde (Rom. 8:13). Tog sal jy dit net doen as jy besef hoe ernstig sonde is en dat dit jou sal doodmaak as jy dit nie eerste doodmaak nie. Moenie jou sonde verskoon en maak of dit nie so erg is nie. Ek weet van ’n student wat sy verslawing aan pornografie verskoon het deur te sê dat hy God se skepping geniet. Dit sal beter wees as jy die sonde ontmasker en dit sien vir wat dit regtig is. Die volgende voorbeelde illustreer my punt:

In ’n film genaamd The Power of the Air praat ’n sendeling uit Afrika met ’n Amerikaanse Christen. ‘Wat sal julle gemeente doen as ek Sondag daar preek en Jesus se Naam laster? Wat as ek dit vir ’n tweede en ’n derde keer doen? Wat as ek ’n jong paartjie vorentoe roep en hulle mekaar begin soen? Wat as hulle hulle klere begin uittrek? Sal die gemeente nie kwaad wees en my keer nie? Hoekom het baie van hulle dan nie ’n probleem gehad om 12 ure vroeër in die teater te sit en dieselfde dinge op ’n skerm te sien nie? En dan noem hulle dit vermaak!’

Douglas Wilson stel hom voor hoe ’n ongelowige paartjie ’n Christen paartjie na hulle huis toe nooi om te kyk hoe hulle seks het. Die Christen paartjie is geskok en sê dat hulle dit nie kan doen nie. Die ongelowige paartjie sê: ‘As julle nie na ons huis toe wil kom nie, kan ons dit vir julle opneem en kan julle later daarna kyk.’ Die Christen paartjie sê: ‘Ons kan dit nie doen nie, omdat dit teen ons Christelike waardes indruis.’ ‘Ons verstaan nie,’ sê die ongelowige paartjie. ‘Julle het ons laas naweek vir ’n film genooi waarin daar sekstonele was.’ Die gelowige paartjie verduidelik dat hulle nie gewone Christene is nie, maar ’n spesifieke soort: hulle is skynheiliges.3

***

Vra die Here om die boeie van pornografie in jou lewe te breek as dit vir jou ’n probleem is (Ps. 107:13-16). Vra ’n toegewyde gelowige om jou te help (Gal. 6:1). As jy nie ophou om pornografie te kyk nie, sal dit tot egbreuk lei. Ons sien dit by koning Dawid. Hy was wellustig toe hy die vrou sien bad en het probeer om uit te vind wie sy is. Haar naam was Batseba, die dogter van Eliam, die vrou van Uria die Hetiet (v.3, 23:34, 39). Dawid het haar laat haal en met haar geslaap (v.4). Dit was die reinigingstyd na haar maandstonde wat beteken dat sy kon swanger word (v.4, Lev. 15:19-24). Dit het inderdaad so gebeur (v.5).

Moenie dink jou sonde sal sonder gevolge wees nie. In Dawid se geval was die ongewenste swangerskap net die begin van sy probleme. In hfst. 12 het die Here die kind laat siek word en sterf (12:15, 19). Toe iemand in ons gemeente eenkeer in sonde geval het en hom nie wou bekeer nie, het sy kind in ’n motorongeluk beland. As jy teen die Here baklei, gaan jy verloor. R.C. Sproul sê: ‘There are no draws with God, no split decisions. When we wrestle with the Almighty, we lose. He is the undefeated champion of the universe.’4

God se dissipline is nie ’n grap nie. Draai om as jy op die verkeerde pad is. Die Here sal jou vergewe (Ps. 32). As jy egter op die weg van sonde volhard, sal die Here die bankskroef stywer draai (Spr. 15:10).

 

2. Dawid en Uria (v.6-25)

Toe ek in die laerskool was, het ’n ouer seun my teen die muur vasgedruk en probeer om sy welluste te bevredig. Na omrent 20 sekondes het hy teruggetree en gesê: ‘As jy vir iemand sê, maak ek jou dood.’ Dawid het so iets gedoen,maar in sy geval was dit meer as ’n dreigement. In ’n poging om sy sonde weg te steek, het hy Uria laat doodmaak. Dit het as volg gebeur:

Dawid het vir generaal Joab gevra om Uria na hom toe te stuur (v.6). Hy wou hê Uria moes huistoe gaan om met Batseba te slaap (v.8). Sodoende sou Uria gedink het die kind is syne. Dawid het vir Uria oor die oorlog gevra (v.8). Daarna het hy hom beveel om huistoe te gaan en sy voete te was (v.8). Hy het ’n geskenk agterna gestuur, sodat Uria niks sou vermoed nie (v.8). Uria het nie huistoe gegaan nie, maar by die paleis se deur geslaap (v.9). Dawid se knegte het hom hiervan vertel (v.10). Toe Dawid vir Uria hieroor vra, toe sê hy: “Die ark en Israel en Juda bly in tydelike skuilings, en my heer Joab en die dienaars van my heer kamp in die oop veld; kan ek dan na my huis gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? By u lewe, ja, so seker as wat u leef, sweer ek: So iets sal ek nie doen nie.” (v.11). Uria was ’n lojale soldaat. Hy was meer lojaal as Dawid wat op die slagveld moes wees!

Dawid het vir Uria in Jerusalem gehou. Hy het Uria vir ete genooi en hom dronk gemaak (v.12-13). Hy het gehoop dat Uria in sy besope toestand huistoe sou gaan om met sy vrou te slaap (v.13, vgl. Gen. 19:32-35). Uria het in die weermag se kwartiere geslaap (v.13). Weer het Dawid se plan ‘gebackfire’. Hy het besluit om Uria stilweg te laat verdwyn (v.14, 12:9). Omdat hy geweet het Joab sou ’n moord pleeg (3:26-27), het hy hom gevra om te help. Die teks sê: “In die oggend het Dawid vir Joab ’n brief geskryf en dit met Urija saamgestuur. Hy het in die brief geskryf: ‘Sit Urija in die voorste linie van die hewigste geveg. Val dan terug agter hom, sodat hy neergevel word en sterf.’” (v.14-15). Uria het nie geweet dat hy sy eie doodsvonnis in sy hand hou nie (v.14).

In ons tyd volg baie mense Dawid se voorbeeld: hulle straf iemand anders vir hulle sonde. Hulle drink ’n pil om die bevrugte eiersel dood te maak of hulle vra ’n dokter om die baba te vermoor (v.14-15).

***

Joab was gereed om Dawid se plan uit te voer. Hy het dit verbeter. Om te verhoed dat iemand snuf in die neus kry, het hy ’n paar soldate saam met Uria laat sterf (v.16-17). Joab het ’n boodskapper gestuur om die nuus aan Dawid oor te dra (v.18). Hy het gesê: “Wanneer jy klaar die hele verloop van die oorlog aan die koning oorgedra het, en die woede van die koning dalk opvlam en hy vir jou sê, ‘Waarom het julle so na aan die stad gegaan om te veg? Het julle nie geweet dat hulle van die muur af sou skiet nie? Wie het Abimeleg, seun van Jerubbeset, neergevel? Was dit nie ’n vrou wat ’n boonste maalklip van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so na aan die muur gekom?’ dan moet jy net sê, ‘U dienaar, Urija, die Hetiet, is ook dood.’” (v.19-21, vgl. Rigt. 9).

Die boodskapper het die nuus met Dawid gedeel (v.22) en gesê: “Omdat die manne die oorhand oor ons gekry het, het hulle na ons uitgekom in die veld. Ons het hulle egter teruggedryf tot by die ingang na die stadspoort. Toe het die boogskutters bo van die muur af op u dienaars geskiet, en van die koning se dienaars is dood. Ook u dienaar, Urija, die Hetiet, is dood.” (v.23-24).

Dawid was nie ontsteld nie, maar het gesê: “Jy moet vir Joab so sê, ‘Hierdie voorval moet jy nie as iets verkeerds beskou nie. Die swaard verteer immers nou so, en dan weer so. Verskerp jou stryd teen die stad en breek dit af.’ Praat hom so moed in.” (v.25). Nou was egter nie die tyd om vir Joab moed in te praat nie. Dawid moes oor sy eie sonde en Uria se dood treur. Hy moes treur oor die soldate wat gesterf het; oor hulle weduwees en vaderlose kinders.

Sonde is selfsugtig. Dit maak dat jy jouself eerste stel. Jy dink nie aan God se eer of ander mense se welvaart nie. Jy lewe vir die plesier van die oomblik en dink nie aan die pyn wat sal volg nie (Spr. 5-7). Jy dink nie aan die geld en tyd wat jy in die skeihof gaan mors nie. Jy dink nie aan die bakleiery en pyn wat egskeiding bring nie. Jy dink nie aan hoe jou eie en die ander persoon se kinders hulleself aan die slaap gaan huil nie. Jy dink nie aan hoe die kinders tussen jou en jou lewensmaat verdeel gaan wees nie. Hulle gaan ’n nuwe pa of ma kry as jy en jou lewensmaat skei en weer trou.

Die breër familie gaan teleurgesteld en kwaad wees. Die mense in die kerk gaan hartseer wees. Jy gaan die Heilige Gees bedroef. Jy gaan Jesus se Naam deur die modder sleep. Jou eie reputasie gaan beskadig word. Jy gaan ongelowiges van Jesus afsit. Satan gaan bly wees. Die hof sal sê dat jy jou huis en besittings met jou maat moet deel of dat jy onderhoud moet betaal. Jy sal ’n seksueel oordraagbare siekte kry of siek word van stres. Jou sonde sal voor die gemeente kom (1Kor. 5). Die ander persoon se lewensmaat en kinders sal jou haat en wraak neem. Jy sal jou gewete besoedel.

Erger as al hierdie dinge is dat jy in die hel sal beland as jy jou nie bekeer nie (Heb. 13:4, Op. 21:8). Sê dit vir jouself. Wees soos die vrou van wie Ralph Venning skryf. Toe ’n man vir haar sê hy sal enigiets doen as sy met hom slaap, toe sê sy: ‘Brand jou hand in die vuur.’ ‘Jy is onredelik,’ het hy geantwoord. ‘Dit is meer onredelik dat jy van my verwag om met jou te slaap en daarna in die hel te brand,’ het sy gesê.5

 

3. Dawid en die Here (v.26-27)

Jannie lieg aanhoudend vir sy ouers om ’n pakslae vry te spring. Hy sal nie vir altyd suksesvol wees nie. Wanneer hy groot word, sal hy hom in die gereg vasloop en tronk toe gaan.

Net so kon Dawid sy sonde vir mense wegsteek toe hy en Batseba na haar routydperk getrou het (v.26). Al het hy in v.25 vir Joab gesê: ‘Moenie dat dit verkeerd wees in jou oë nie,’ was dit verkeerd in die Here se oë (v.27). God het gesien wat Dawid doen. Hy sien ook wat ek en jy doen (Spr. 5:21, 15:3). Niemand sal wegkom met sonde nie, selfs al kom dit eers aan die lig as jy op jou sterfbed lê, nadat jy oorlede is, of op die oordeelsdag (Num. 32:23, Luk. 12:2-3). Twee bekende predikers se sonde het onlangs na hulle dood bekend geword. Dit het hulle reputasie beskadig en hulle name laat stink.

Dalk beleef jy ’n diep sondeoortuiging na vandag se preek. Jy besef dat jy op ’n verkeerde pad is. Die ergste is dat jy geweet het jy doen verkeerd. Hoe kan die Here jou ooit vergewe? As jy berou het wat tot bekering lei, sodat jy jou sonde haat, kwaad is vir jouself en bereid is om die gevolge te dra, sal die Here jou vergewe (Spr. 28:13, Joh. 8:11, 2Kor. 7:11).

Jy sal soos die gelowige wees wat in seksuele sonde geval het. Toe sy sonde uitkom, was hy nie net jammer oor die gevolge of skande daarvan nie. Hy het ware berou gehad en hom bekeer. Hy was bereid om die gevolge te dra en het sy beste probeer om sy huwelik te herstel. Deur die Here se genade het dit gebeur. Vandag is sy huwelik beter as wat dit in die verlede was. Waarlik: die Here se genade is groter as ons sonde (Rom. 5:20, 1Kor. 6:9-11).

Our sins they are many,

His mercy is more.6 

As jy op Jesus vertrou en Dawid se belydenis in Psalm 51 jou eie maak, sal die Here jou sonde vergewe:

1 Vir die musiekleier. ’n Psalm. Van Dawid.

2 Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het.

3 Wees my genadig, o God,

volgens u troue liefde;

wis my oortredings uit

volgens u groot ontferming.

4 Was my heeltemal skoon van my sondeskuld

en reinig my van my sonde

5 want ek is deeglik bewus

van my oortredings

en my sonde is voortdurend voor my.

6 Teen U, teen U alleen, het ek gesondig

en gedoen wat verkeerd is in u oë,

sodat U gelyk sal hê

as U uitspraak lewer,

volkome reg wanneer U oordeel.

7 Kyk, in sondeskuld is ek gebore,

sondig toe my moeder

met my swanger geraak het.

8 Kyk, getrouheid verwag u reeds

in die moederskoot,

in die verborgenheid leer U my wysheid.

9 Neem my sonde weg met marjolein

(hisop) sodat ek rein kan wees,

was my, dan sal ek witter as sneeu wees.

10 Laat my weer uitroepe

van vreugde en blydskap hoor;

laat die gebeente

wat U verbrysel het, juig.

11 Sluit u oë vir my sonde,

en al my sondeskuld, wis dit uit!

12 Skep ’n rein hart vir my, o God,

vernuwe ’n bestendige gees

in my binneste.

13 Moet my tog nie wegdryf

uit u teenwoordigheid nie;

en moet u Heilige Gees

nie van my wegneem nie.

14 Laat my weer die vreugde

oor u verlossing ervaar,

laat ’n gewillige gees my ondersteun.

15 Ek wil oortreders u paaie leer,

dat sondaars na U kan terugkeer.

16 Red my van bloedskuld, o God,

God wat my verlos, laat my tong

juig oor u geregtigheid.

17 My Heer, maak my lippe oop

en my mond sal u lof verkondig.

18 U vind immers geen vreugde

in slagoffers nie,

anders sou ek dit gee;

brandoffers aanvaar U nie.

19 Offers aan God is ’n gebroke gees,

’n gebroke en verpletterde hart

sal U, o God, nie minag nie.

20 Doen volgens u wil goed aan Sion,

herbou die mure van Jerusalem.

21 Dan sal U vreugde vind in offers van geregtigheid—

brandoffers en volledige offers—

Dan sal daar op u altaar

jong bulle geoffer word.


1  https://www.timeslive.co.za/sunday-times/lifestyle/2020-02-18-sa-has-18-women-to-every-1-man-on-cheating-site-ashley-madison/

2  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

3  Douglas Wilson, Reforming Marriage (Moscow, Idaho: Canon Press, 1995), 110

4  R.C. Sproul, The Holiness of God (Carol Stream, Illinois: Tyndale House Publishers, Inc., 1985, 1998), 168

5  Ralph Venning, The Sinfulness of Sin (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965, 1993 [1669]), 265-6

6  His Mercy is More. Written by Matt Papa, Matt Boswell. © 2016 Love Your Enemies Publishing, Dayspring Publishing, LLC ( A Division of Word Music Group, Inc.) CCLI #7065053

Kategorieë