Coram Deo Cover Image

Coming soon...

19 June 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Finansies

Verskeie Tekste

In 90% van egskeidings in die VSA speel geld ’n prominente rol.1 Maar as elke lid van ’n gesin die Bybel se lering oor geld verstaan, sal rusie daaroor nie ’n kwessie wees nie. Wat leer die Bybel ons oor geld?

 

1. Alles wat jy het behoort aan die Here

Die gemiddelde Christen dink dat een tiende van sy inkomste aan die Here behoort, terwyl die res syne is om te spandeer soos hy wil. Die waarheid is dat alles wat ons het aan die Here behoort (1Kron. 29:11, 14, Ps. 24:1, 50:10-11, Hag. 2:8, 1Kor. 4:7). God gee ons die vermoë om ryk te word (Deut. 8:17-18, 1Sam. 2:7, 1Kron. 29:12). Ons is maar net rentmeesters wat die Here se eiendom moet bestuur (Matt. 25:14-30, Luk. 16:1-10). Waar getroudes dit vergeet, baklei hulle oor ‘mý geld’ en ‘jóú geld’. Hulle vergeet dat hulle een is (Gen. 2:24) en maak meer van ’n stuk papier as van ’n mens wat na God se beeld gemaak is.

Wil jy rusie oor geld vermy? Onthou dat alles wat jy het die Here s’n is. Daarom moet jy jou geld gebruik soos Hý sê en nie soos jý wil nie.

 

2. Geld is nie alles nie

In die vroeë 2000’s het ’n bejaarde vrou vir my gesê: ‘Money talks. You have to have money.’ Dit is hoe die wêreld dink. Volgens die Bybel is geld nie alles nie. Daar is baie dinge wat geld nie kan koop nie:

  • Die Woord van God in jou lewe (Ps. 19:11, 119:72).
  • ’n Gunstige uitspraak op die oordeelsdag (Spr. 11:4).
  • Vrede in jou gesin (Spr. 15:16-17, 17:1).
  • ’n Regverdige lewe (Spr. 16:8).
  • Wysheid (Spr. 16:16).
  • Integriteit, ’n goeie reputasie en guns (Spr. 19:1, 22:1, 28:6).
  • Ware vriende wat nie agter jou geld aan is nie (Spr. 19:4, 6-7).
  • Kennis (Spr. 20:15).
  • Vervulling (Pred. 5:9).
  • ’n Goeie nagrus (Pred. 5:11).
  • Die ewige lewe (Matt. 16:26, Luk. 12:16-21).
  • Goeie gesondheid (Luk. 8:43).
  • Vergifnis en verlossing (1Pet. 1:18-19).

Moenie meer van geld en besittings maak as wat jy moet nie. As jy dit verafgod (Matt. 6:24), sal dit jou lewe, jou verhouding met die Here, jou huwelik en jou gesin verwoes. Geld is ’n goeie slaaf, maar ’n slegte meester. Moenie toelaat dat dit in jou hart kom nie. Dit is nie die moeite werd om jou huwelik en huisgesin op te breek vir iets wat op die ashoop gaan beland nie. Randy Alcorn stel voor dat jy die ashoop besoek. Daar sal jy stukkende kers- en verjaarsdag geskenke sien: ou rekenaars, speelgoed, meubels en meer. Dit is hartseer dat vriendskappe en huwelike hieroor beeïndig is.2

As jy vir geld lewe, sal jy misrabel wees op jou sterfbed. Dalk sal jy baie geld hê, maar die kanse is goed dat jy ’n mislukte huwelik sal hê en kinders wat van jou vervreem is. Is dit nie beter dat jy minder geld het met ’n lewensmaat en kinders aan jou sy nie? Sal dit nie nóg beter wees as jy weet dat julle mekaar in die hemel gaan sien nie?

 

3. Waak teen die gevare van geld

Mense sê: ‘Geld is die wortel van alle euwels.’ Dit is eenvoudig nie waar nie, omdat geld ’n gawe van God is (Spr. 10:22, 1Tim. 6:17). Baie toegewyde gelowiges in die Bybel was ryk: Abraham, Isak, Job, Dawid, die vroue in Luk. 8:1-3, Josef van Arimatea, Lidia wat persstof verkoop het en meer.

Dit is die liefde vir geld wat sonde is en baie ander sondes tot gevolg het (1Tim. 6:9-10). Geldgierigheid lei byvoorbeeld daartoe dat mense dobbel. Salomo waarsku: “...wie vinnig ryk wil word, sal nie ongestraf bly nie.” (Spr. 28:20).3 Ek ken ’n man wat by meer as een geleentheid sy salaris uitgedobbel het. Dit het probleme in sy huwelik veroorsaak. Uiteindelik is hy geskei.

In hulle liefde vir geld is daar mense wat oneerlike besigheid bedryf. Salomo sê: “Wie onregverdige wins maak, stort sy huis in die ongeluk, maar hy wat omkoopgeskenke haat, sal leef.” (Spr. 15:27). Ek ken iemand wat oor ’n periode van ’n paar jaar geld by die werk gesteel het. Op die einde het hy sy huis en sy werk verloor. Dit het probleme in sy huwelik veroorsaak.

Ander geldgieriges bring te veel tyd by die werk deur en skeep hulle gesinne af. Een so man het sy huwelik verwoes. Ongelukkig het hy eers na sy egskeiding tot bekering gekom.

Dan is daar ook mense wat bo hulle vermoëns leef. Hulle sukkel finansieel, maar leef asof hulle ryk is (Spr. 12:9, 13:7). ’n Vriend het my van so iemand vertel. Die man het baie skuld gehad, maar het duur motorfietse en karre gery.

Die oplossing teen geldgierigheid is om te onthou dat jy nie ’n sent saamvat as jy die dag sterf nie (Ps. 49:18, Spr. 11:7, 1Tim. 6:7). Hoekom jouself afsloof? Gebruik eerder jou geld om jou gesin te versorg, die armes te help en die evangelie te bevorder, sodat jy daardeur skatte in die hemel opgaar (Matt. 6:19-20, Luk. 12:33, Fil. 4:17, 1Tim. 6:18-19). Die Here maak jou nie ryk, sodat jy meer vir jouself kan hê en luukser kan lewe nie, maar sodat jy meer kan gee (2Kor. 9:9-11). John Piper sê: ‘God doesn’t prosper a man’s business so he can move from a Ford to a Cadillac. God prospers a business so that thousands of unreached peoples can be reached with the gospel. He prospers a business so that 20 percent of the world’s population can move a step back from the precipice of starvation.’4

Buiten dat jy nie geldgierig moet wees nie, moet jy nie anstig wees oor geld nie. Dit is sonde, omdat Jesus dit verbied (Matt. 6:25-34). As jy angstig is oor geld, kyk jy naderhand na die bank vir ’n lening eerder as na die Here. Jy maak skuld wat jy nie kan bekostig nie en word ’n slaaf van die mense by wie jy leen (Spr. 22:7, 1Kor. 7:23). As jy dan R5000 persent kry, is dit nie joune nie maar moet jy dit vir die bank gee.

Hoe oorkom ’n mens hierdie euwel? Moenie borg staan en belowe om mense se skuld te betaal nie (Spr. 6:1-5, 11:15, 17:18, 22:26-27). Ek ken ’n ouer man wat dit gedoen het. Dit het hom finansieel gesink. Hy het later ’n artikel geskryf om ander teen dieselfde fout te waarsku. ’n Jaar of wat na ek sy artikel gelees het, toe sê iemand dat hy ’n kar wil koop. Hy het my gevra om borg te staan. Ek het die Bybelse lering onthou en hom weggewys.

Dalk het jy reeds hierdie fout gemaak of is jy vir ’n ander rede in die skuld. Probeer om dit so gou as moontlik terug te betaal (Rom. 13:6-7). Sluit alle rekeninge, sny jou kredietkaart op en moenie weer skuld maak nie (Rom. 13:8). Sê ook dankie vir wat jy het eerder as wat jy ontevrede raak en skuld maak (Fil. 4:11-12). Met die Here se hulp kán jy met minder klaarkom en weet dat Hy vir jou sal sorg (Fil. 4:13, 1Tim. 6:8, Heb. 13:5).

 

4. Begroot

Ek het ’n prediker hoor sê: ‘Wanneer mense met huweliksprobleme na my toe kom, vra ek om hulle begroting te sien. Hoe iemand sy geld spandeer, sal vir jou wys wat in sy hart is. Jesus het gesê: “Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matt. 6:21).’

Wat wys jou begroting van jou hart? Waarop spandeer jy jou geld? Die Here wil hê dat jy jou begroting volgens die Bybel moet aanpas:

[a] Sorg vir jou gesin en vir familielede wat regtig sukkel (Matt. 15:5-7, 1Tim. 5:4, 8, 16). Moenie dié wat lui is of hulle geld op sonde mors, help nie (Spr. 29:3, 2Tess. 3:10).

[b] Dra by vir die Here se werk, sodat jou geestelike leiers, sendelinge en arm gelowiges kan lewe (Hand. 11:29, 1Kor. 9:7-11, 13-14, Gal. 6:6, 10, Fil. 4:15-16, 1Tim. 5:17-18). Hiervoor sal die Here jou beloon (Spr. 3:9-10, 11:24-25, 14:21, 19:17, 22:9, 28:27, Mal. 3:10, Matt. 6:33, Luk. 6:38, 2Kor. 9:6, Fil. 4:19). Moenie sê: ‘Ek kan nie bekostig om te gee’ en dan R2000 op jou kind se tekkies spandeer, R1500 per maand op selfone uitgee en DSTV koop nie. 

[c] Betaal die res van jou uitgawes: skuld, die huur of verband op jou huis, water en ligte, jou kar se paaiement, brandstof, skoolfondse, medies, beleggings, buitemuurse aktiwiteite, sakgeld, selfone, internet, gasvryheid, verjaarsdae, ensovoorts.

Beplan hoe jy jou geld gaan gebruik deur ’n maandelikse begroting op te trek. Jesus leer ons dié beginsel in Luk. 14:28-30: “Want wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? Sodat dit nie gebeur dat, as hy die fondament lê en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, met hom begin spot en sê, ‘Hierdie man het begin bou, maar kon nie klaarmaak nie.’”

 ’n Begroting sal jou help om te sien hoe jy jou geld spandeer en waar jy kan spaar. Ek ken ’n gesin wie se begroting nie wou klop nie. Êrens het hulle geld verloor. Toe hulle begin om strokies te hou, toe sien hulle dat die man elke etenstyd vir hom ’n sjokolade by die winkel langs sy werk koop. Sonder om dit te besef, het hy elke maand R1500 se lekkergoed gekoop.
Iemand wat sy geldsake deeglik uitlê, kom verder. Salomo sê:
“Die planne van ’n vlytige strek net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, ervaar net gebrek.” (Spr. 21:5). As jy jou begroting uitwerk, sal jy nie meer uitgee as wat inkom nie. Indien jou uitgawes jou inkomste oorskry, moet jy aan jou begroting sny of jou inkomste vermeerder. Om dit reg te kry, kan jy hierdie wenke volg:5

  • Kyk of daar iets onnodig in jou begroting is (byvoorbeeld jou kinders se musiekles). Koop jy dalk onnodige luukshede soos Coke? “Wie van plesier hou, se voorland is gebrek; wie van wyn en salfolie hou, sal nie ryk word nie.” (Spr. 21:17). Mors jy geld op drank, tabak en ander dinge wat jou tot sonde versoek (Spr. 23:20-21)?
  • Is daar iets soos koffie waarvan jy minder kan koop?
  • Kan jy by ’n goedkoper winkel koop (by Shoprite eerder as by Pick n Pay)?
  • Kan jy ’n goedkoper item van iets koop: Checkers se rys eerder as Tastic?
  • Kan jy jou eie groente plant eerder as om dit te koop?
  • Kan jy self jou huis skoonmaak, in die tuin werk en jou kar regmaak, sodat jy nie iemand hoef te betaal nie?
  • Kan jy ’n sekere item saam met iemand koop (jy kan en jou vriend kan byvoorbeeld ’n grassnyer saam koop).
  • Kan jy ekstra werk doen wat jou nie van die Here, jou gesin en die kerk sal wegvat nie?
  • Bid oor jou omstandighede en praat mooi met jou baas oor ’n verhoging. Maak seker dat jy ’n lojale en harde werker is, sodat jy ’n verhoging verdien.
  • Dalk kan jou gesinslede help om ekstra geld in te bring. Jou vrou kan byvoorbeeld klere maak of bak (Spr. 31:13-19, 24). As jou kinders oud genoeg is, kan hulle as kelners werk.
  • Is daar items in jou huis wat jy nie gebruik nie en kan verkoop? Ek en my vrou het ’n paar jaar gelede ’n ekstra yskas en vrieskas verkoop.
  • Soek werk ’n wat beter betaal.
  • Ken jy Christene wat goed met hulle geld werk? Vra hulle vir raad.
  • Bid jy gereeld oor jou finansies? Indien nie, moet jy begin en die Here vertrou om jou te antwoord (Matt. 6:11, Jak. 1:5, 5:16).

Ons Vader hoor as sy kinders tot Hom bid (Matt. 7:7-11). Hy beloon ook harde werk en deeglike beplanning (Spr. 14:23, 16:3).

 

5. Werk as ’n span

Jay Adams vertel van ’n paartjie wat vir berading gekom het. Die vrou was bitter teen haar man. Sy het hom daarvan beskuldig dat hy geld steel. ‘Hy werk oortyd, maar ek sien nooit die ekstra geld nie,’ het sy gesê. Toe die berader hom daaroor uitvra, toe haal hy sy beursie uit. Hy het die geld uit ’n geheime ritssluiter gehaal, dit op die tafel gegooi en gesê: ‘Dit is nog die hele tyd hier. Ek het dit vir ons huweliksherdenking gespaar.’6

Dit is nie verkeerd dat die man iets vir sy vrou wou doen nie. Die probleem is dat hulle swak gekommunikeer het en mekaar nie vertrou het nie.

Wees oop met jou maat oor wat in julle begroting aangaan. Moenie geld vir mekaar wegsteek nie. Moenie jou pinkode geheim hou nie. Moenie groot transaksies doen voor julle dit nie bespreek het nie. Werk as ’n span (Gen. 2:18). Onthou dat julle een is en dat die geld aan albei van julle behoort (Gen. 2:24). Julle moet saam besluit hoe julle julle geld wil gebruik.

Wat as julle nie saamstem nie? Wy julleself aan gebed en kyk wat die Bybel sê. Vra ’n volwasse Christen vir raad. As julle nog steeds nie saamstem nie, moet die man die finale besluit neem (Ef. 5:22-24). Die Here sal hom verantwoordelik hou as hy droogmaak. Hy sal nie sy verskonings aanvaar as hy sy vrou blameer nie (Gen. 3:9, 11-12, 17). Dit is soos as ’n matroos ’n skip op die rotse laat beland. Alhoewel hy skuldig is, sal die skip se eienaar die kaptein aanspreeklik hou. Net so is die man aanspreeklik as sy vrou die skip van hulle finansies laat sink.

Party mans sal sê: ‘Ek het vir my vrou gesê om nie die kaart links en regs te swipe nie, maar sy wou nie luister nie.’ Jy bly verantwoordelik. As jou vrou nie wil luister nie, moet jy Matt. 18:15-17 toepas: “As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. As hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke saak bevestig mag word. As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hy vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”

***

Het die Heilige Gees jou miskien vandag oortuig om jou ingesteldheid teenoor jou geldsake te verander? Voordat jy enigiets verander, moet jy jou prioriteite in orde kry: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:33). Hoe soek ’n mens die koninkryk van God en sy geregtigheid? Jy soek die Koning en die rykdom van die ewige lewe wat Hy belowe aan dié wat in Hom glo (Joh. 3:16, 2Kor. 8:9). Jy vertrou Hom as jou Verlosser en glo dat die Vader Jesus se gehoorsame lewe en kruisdood in jou plek sal aanvaar (2Kor. 5:21, Fil. 3:9). Jy erken Hom as jou Here en doen wat Hy vir jou sê, ook met betrekking tot jou geldsake. As jy nie hier die knie voor Hom buig nie, moet jy nie sê dat jy Hom in ander areas van jou lewe as Here erken nie (Luk. 6:46). ‘If Christ is not Lord of all, He is not Lord at all.’ Mag ek jou vra: wat sê jou begroting van wie die Here in jou lewe is? Is dit Jesus of is jy die meester van jou eie finansies?

In die begin van my bediening het een van ons tesouriere drooggemaak. Hy het vir ’n hele jaar nie belasting betaal nie. Toe ons ’n nuwe tesourier aanstel, het hy binne drie maande die gemors uitgesorteer. Hy was ’n uitstekende tesourier. ’n Mens kon hom in die vroeë oggendure wakker maak en oor die finansies vra. Alles was in orde en op sy plek.

Wil jy jou finansies so hê? Vra vir Jesus om die tesourier van jou huis te wees en gebruik jou geld soos Hy sê. Waar dit gebeur, sal bakleiery oor geld iets van die verlede wees.


1  Randy Alcorn, The Treasure Principle (Colorado Springs, CO: Multnomah Books, 2001), 52

2  Ibid., 49

3  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

4  John Piper, Desiring God (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 2003 [1986]), 198-9

5  Uit Wayne Mack, Strengthening Your Marriage (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1977, 1999), 106-9. Die voorbeelde is my eie.

6  Jay E. Adams, Christian Living in the Home (Nutley, New Jersey: Presbyterian and Reformed Publishing Company, 1972), 29

Kategorieë