Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

1Korintiërs 7:25-38

Die meeste getroudes (ek inkluis) verstaan nie die frustrasie en versoekings van enkellopendes nie. Hulle is dikwels eensaam. Hulle word versoek om na pornografie te kyk, of romanse en vroue tydskrifte te lees wat ’n mens seksueel opwek. Hulle word versoek om by iemand in te trek en seksueel losbandig te leef. Hulle vrees dat hulle biologiese klok sal uitloop en dat hulle nie kinders sal hê nie. Hulle word versoek om deur in vitro-bevrugting vir hulleself kinders te ‘maak’.

Hulle word versoek om God se goedheid en sy beloftes te betwyfel. ‘Hy sê dat nie goed is vir die mens om alleen te wees nie (Gen. 2:18). Hy sê ook dat Hy jou die begeertes van jou hart sal gee as jy jou in Hom verlustig (Ps. 37:4). Hoekom gebeur dit dan nie?’ Hulle wonder of God wys is: ‘Wat is sy doel met my enkelskap?’ Hulle voel bitter teenoor God. Hulle raak depressief, omdat hulle gedroom het hoe hulle op 30 hulle eie gesinne het (Spr. 13:20). Nou is hulle al verby 35 en daar is niks.

Hulle moet alleen groot lewensbesluite maak en moet dan al die verantwoordelikheid op hulleself neem. Hulle word versoek om jaloers te raak as hulle op Facebook sien hoe gelukkig getroude paartjies lyk. Daar is ook die versoeking om jaloers te wees as al hulle vriende rondom hulle trou en hulle alleen bly. Hulle voel in die pad en soos ’n vyfde wiel aan die wa as hulle by hulle getroude vriende kuier.

Hulle word versoek om ongesonde vriendskappe te koester. Ek verwys hier na gewone vriende wat emosioneel-afhanklik van mekaar raak, sodat hulle nie sonder mekaar kan lewe nie. Enkellopendes beleef ook die druk van ongelowige kollegas wat vir hulle sê: ‘Hoekom wil jy vir die huwelik wag om seks te hê? Adverteer jou skoonheid. Onbeskeie kleredrag is nie verkeerd as jy ongetroud is nie.’

Hulle raak versoek om die aandag van getroude mans, of vroue te geniet. Hulle word ook versoek om simpatiek te luister as ’n getroude persoon sy, of haar huweliksprobleme met hulle deel. Hulle kan maklik in ’n emosionele verbintenis met so iemand betrokke raak.

Daar is niemand met wie hulle hulle vreugdes en frustrasies kan deel as hulle na ’n dag se werk by die huis kom nie. Hulle word versoek om met die ongelowige te trou. Dit frustreer hulle dat selfs Christene maak asof iemand se identiteit in sy huwelikstatus lê eerder as in Christus. Baie mense dink daar is iets verkeerd met jou as jy teen 35 nog ongetroud is. Mense maak onsensitiewe opmerkings soos: ‘Eers as jy geleer het om tevrede te wees met jou enkselskap, sal die Here vir jou ’n lewensmaat stuur.’ So asof die mense wat dit sê nie tevredenheid hoef te leer nie.

Sommige enkellopendes wonder of die Here hulle dalk vir iets tugtig en dat dít die rede is hoekom hulle enkel is? Dan raak dit soms ook frustrerend as almal alewig besig is om jou ’n lewensmaat te soek en dink dat dit opwindend is om op ’n blind date te gaan. Min weet hulle dat dit al die 25ste blind date vir die jaar is.

As ’n mens hierdie dinge hoor, kan jy verstaan dat enkellopendes soms hoogs gefrustreerd voel. Vaughan Roberts sê byvoorbeeld: ‘One man was so fed up with being asked “Are you still single?” that he began to respond, “Are you still married?”’1 Dit laat my ook dink aan die storie van die enkellopende wat by elke troue moes hoor: ‘You’re next!’ Toe daar weer ’n begrafnis was, toe sê hy vir hierdie selfde mense: ‘You’re next!’

Om enkel te wees is nie ’n vervloeking nie. Volgens Paulus is daar goeie redes vir hoekom mense enkel is. Dit is nodig vir enkel mense om dit te hoor, maar ook vir getroudes, sodat ons die enkellopendes beter kan verstaan, sensitief kan wees, hulle kan bemoedig en reg vir hulle kan bid.

 

1. Verdrukking (v.25-28)

’n Man in ons gemeente het onlangs vertel van iemand wat vir ’n jaar getroud was en toe twee gelede aan Covid gesterf het. Om dieselfde rede sê Paulus dat enkelskap goed is, veral in die huidige omstandighede (v.26, 8, vgl. Jer. 16:1-4). Dalk het hy na die hongersnood in keiser Claudius se tyd verwys (Hand. 11:28), of na die vervolging wat onder keiser Nero uitgebreek het.

         Paulus se raad oor enkelskap was nou wel nie in direkte opdrag van die Here nie, maar die Heilige Gees het hom met wysheid gevul en daarom was sy woorde oor enkellopendes, of maagde betroubaar (v.25, 40, 4:2). Dit is veral toepaslik vir gelowiges in vervolgde lande soos Iran. ’n Mens kan immers makliker vlug as jy enkel is. Of as hulle jou vang, stel jy nie jou gesin se lewe in gevaar nie en stres jy nie oor hoe hulle sonder jou sal oorleef nie. Ek kan dit nie beter as J.B. Lightfoot sê nie: ‘A man who is a hero in himself becomes a coward when he thinks of his widowed wife and his orphaned children.’2 In die konteks van ’n ernstige pandemie, of oorlog is enkelskap beter. Leon Morris het gesê: ‘When high seas are raging it is no time for changing ships.’3 Derhalwe het Paulus in die konteks van vervolging gesê:

‘Is jy deur die huwelik aan iemand verbind [Gk. deō soos in v.39, Rom. 7:2]? Moenie skei omdat die omstandighede moeilik is nie (moenie skei soos baie mense tydens Covid en as gevolg van die swak ekonomie doen nie). Bly juis getroud om jou maat by te staan. Is jy reeds geskei en vry van die huweliksband (vgl. v.15, 39)? Moenie ’n vrou soek nie, aangesien die dood in sulke moeilike omstandighede skielik kom (v.27).’

Dink dan mooi voordat jy trou, want volgens die Bybel moet jy getroud bly, selfs al raak die omstandighede moeilik (v.27, 10-11). Ons weet dat God twee toegewings gemaak het vir egskeiding: as daar seksuele sonde was (Matt. 19:9), of as die ongelowige wil skei (1Kor. 7:15). Maar selfs al val jy in daardie kategorie, is dit in moeilike omstandighede wenslik om nie weer te trou nie (v.27). Indien jy egter besluit om weer te trou, is dit nie sonde nie (v.28).

En tog moet jy verstaan dat dit moeilik sal wees, nie alleen oor die vervolging nie, maar as gevolg van die uitdagings wat daar in ’n post-sondeval huwelik en wêreld is (v.28). Dit is nie maklik vir twee mense uit verskilende agtergronde om skielik alles te moet deel en die hele dag in mekaar se gesigte te moet vaskyk nie. Dit raak nóg moeiliker as jy vir baie jare enkel was en verantwoordbaar teenoor niemand nie; as jy kon kom en gaan soos jy wou. As jy getroud is moet jy rondom iemand anders se dagboek werk en die persoon se voor- en afkeure in ag neem.

Moet daarom nie dink: ‘Die huwelik sal al my probleme oplos’ nie. Moenie sê: ‘As ek ’n lewensmaat het, sal ek gelukkiger wees. Dit sal wees soos in die Christelike romanse wat ek lees en soos in die romantiese komedies waarna ek kyk.’ Om getroud te wees het unieke uitdagings wat die enkellopende lewe nie het. Baie getroudes vind dit veral moeilik in die begin jare van hulle huwelik.

Ek onthou my vrou se eerste Kersfees. Sy het oorweldig gevoel toe my ouers, my broer en my twee susters ons huis oorval. Ek onthou ook hoe ek en my vrou gesukkel het om op Kersdag bymekaar se families aan te pas. As Kersfees by haar familie was, moes almal die hele dag bymekaar wees om te kuier. Toe ek dus in die begin nie saam gekuier het nie maar op die bed gaan lê het om my nuwe boek te lees, toe dink die skoonfamilie ek is kwaad vir hulle. Kersfees by my familie het anders gewerk. Almal was nie heeltyd bymekaar nie. Twee mense het ’n frisbee gegooi. Een het op die bed gaan lê. ’n Paar het lego gebou, of kaart gespeel. Twee het om die kombuistafel gesit en kuier. Toe my vrou dus alleen in die sitkamer sit, toe wonder sy of haar skoonfamilie van haar hou.

Om getroud te wees, is nie altyd maanskyn en rose nie, veral nie as daar kinders is nie. Kinders bring ’n hele klomp nuwe uitdagings en hoe ouer hulle raak, hoe swaarder raak hulle laste vir jou en vir hulle. Dit is die tipe dinge waarteen Paulus die Korintiërs (en ons) wou beskerm (v.28).

 

2. Verganklikheid (v.29-31)

Baie feëverhale eindig met dié reëltjie: ‘And they lived happily ever after.’ Sommige mense leef asof die wêreld en sy dinge—ook die huwelik—vir ewig sal aanhou. Maar volgens Paulus moet ons nie so lewe nie. Jou tyd in hierdie wêreld is min, veral as die vervolging nader kom, of as Covid reeds baie van jou vriende, familie, en die gemeente raak (v.29, 26, Jak. 4:14, 1Pet. 1:24). Daarom kan jy nie vir die huwelik lewe nie, maar moet jy onthou dat jou lewensmaat in ’n oomblik weggevat kan word (v.29). Maar selfs as dit gebeur, moet jy nie hopeloos treur nie, want as Jesus kom sal Hy die trane van ons oë afvee (v.30, Op. 21:4).

      Moet ook nie jou vreugde in die wêreld vind, of vir jou werk en besittings lewe nie, omdat jy alles sal verloor as jy die dag sterf (v.30, 1Tim. 6:7). Die wêreld en alles daarin sal verbygaan (v.31, Joh. 2:15-17). Dit geld ook vir die huwelik: as Jesus weer kom, sal dit verbygaan (Matt. 22:30). Fokus dus op die ware huwelik tussen Jesus en sy kerk eerder as wat jy ’n afgod maak van die huwelik tussen ’n man en ’n vrou. As jy die huwelik verafgod, sal jy dink daar is iets fout met enkellopendes, dat hulle seker uit ’n gebroke ouerhuis kom, of dat hulle die hoogste doel in die lewe gemis het, naamlik om getroud te wees. Maar volgens die Bybel is dit verkeerd, omdat die mens se hoogste doel nie is om getroud te wees nie, maar om God te verheerlik (Jes. 43:7, 21, 1Kor. 10:31). Die enkellopende wat dít doen, is beter af as die getroude persoon wat dit nié doen nie (of andersom).

               Om tot verheerliking van God te lewe kan slegs gebeur deur Jesus wat in sý enkelskap tot die Vader se eer gelewe het en aan die kruis gesterf het, omdat ons nie die Vader verheerlik het nie. Om God te verheerlik gebeur verder deurdat jy in ’n verhouding met Hom lewe. Sodoende sal sy Gees jou verander om ook in jou enkelskap soos Jesus te wees. En as jy dit doen, sal jy nie depressief en bitter voel dat jy ongetroud is nie. Eintlik sal jy nie eers daaraan dink nie, omdat jy sal wil weet hoe jy die Vader kan verheerlik.

 

3. Verdeelde aandag (v.32-35)

ADHD verwys onder meer na iemand wat nie vir lank op een ding kan fokus, of konsentreer nie. Baie mense het geestelike ADHD: hulle verdeel hulle aandag tussen Jesus en die dinge van hierdie lewe; dinge soos die huwelik (Ps. 86:11, Luk. 14:20). Dit is wat Paulus wou verhoed (v.32, 35) en daarom het hy gesê dat enkellope Christene voorregte het wat getroude mense nie het nie (v.32-34). Enkel gelowiges (geskei, of verloof) wil weet hoe hulle die Here kan dien en behaag; hoe hulle rein en heilig kan wees in liggaam en gees (v.32, 34). Getroude Christene moet hulle aandag tussen hulle lewensmaats en die Here verdeel (v.33-34). ’n Christen man wil byvoorbeeld geld gee vir sendelinge, maar hy wil ook sy huis mooi maak vir sy vrou (v.33). ’n Christen vrou wil ’n Bybelstudie bywoon, maar haar man sê dat hy haar nooit sien nie en dat hy tyd met haar wil spandeer. Hy wil ook hê dat sy kinders vroeg in die bed moet wees (v.34). Daarom vra hy sy vrou om liewer by die huis te bly.

              Sien jy dus dat die enkellopende man, of vrou meer tyd aan die Here kan wy en dat hulle Hom hulle onverdeelde aandag kan gee (v.32, 34)? Moet dan nie jou enkelskap as ’n straf sien nie, maar as ’n geleentheid om jouself aan die Here te wy (v.32, 34). Jy het voorregte wat getroude mense nie het nie. Jy kan dinge doen sonder dat jy ’n huweliksmaat in die saak hoef te ken. Jy kan byvoorbeeld op ’n korttermyn uitreik gaan, of sendingwerk doen (Matt. 19:12). Jy kan tot laat in die aand aan ’n Christelike boek lees. Jy kan ekstra tyd in die Woord, vas en gebed deurbring (1Tim. 5:5). Jy kan die hele Saterdag uitsit om ou mense te besoek, of by ’n kinderhuis te help. Jy kan baie geld vir sendelinge gee. Jy kan soos die enkellopende teoloog wees (F.F. Bruce) wat sonder matte in sy huis gelewe het, omdat hy die geld vir sending wou gee (Hand. 16:14-15). Jy tot laat by die Bybelstudie bly. Jy kan weduwees na jou huis toe nooi vir ete. Jy kan jou familie, vriende en die gemeente se kinders vir ’n melkskommel vat.

              Wy jouself op dié maniere aan die Here eerder as wat jy die hele Saterdag in die mall rondloop, romanse lees, flieks kyk, ’n loopbaan jaag om geld te maak, of oefen om jouself uiterlik mooi te maak (1Tim. 2:9-10, 1Pet. 3:3-4).

         Moenie sug as Gen. 2:18 vir jou nie in die huwelik gebeur nie. Geniet dit in ’n gemeente waar jy deel kan wees van ’n geestelike huisgesin (Hand. 2:42, 1Tim. 3:15, 5:1-2). Dit beteken nie jy mag nie ’n lewensmaat soek nie. Die enkellopende wat egter bogenoemde waarhede ontdek het, geniet ’n mate van vervulling wat baie getroude mense nie ken nie (v.35). Vat byvoorbeeld een van my vriende wat tot op 40-jarige ouderdom enkel was. Na sy bekering in sy vroeë twintigs het hy alles in die stryd gewerp om die Here te dien.

 

4. Selfbeheersing (v.36-38)

Ek ken ’n man wie se dogter graag wou trou. Toe ’n sekere jongman sy dogter se hand in die huwelik kom vra het, toe sê hy: ‘Nee. Sy moet eers klaar studeer.’ Gedurende daardie jaar het die man se dogter swanger geword.

            Hoe pas dit by v.36-38? Volgens sommige vertalings moet die maagd se pa nie sy dogter keer om te trou as sy die begeerte het nie. Volgens ander vertalings moet ’n man wat verloof is nie sy troudag uitstel as hy sterk seksuele drange het nie. Beide vertalings is moontlik uit die Grieks. Ek wil egter die tweede opsie oorweeg en in ’n volgende preek sal ek die pa se rol in sy dogter se huwelik bespreek.

             Laat ek dan begin deur vir die verloofdes te sê: moenie vir jare lank verloof wees as jou seksuele drange sterk is nie—trou (v.9, 36). Voddie Baucham het gesê dat hy op 19-jarige ouderdom getrou het, omdat hy nie in seksuele sonde wou val nie. Volgens hom het die Bybel se sterkste (Simson), toegewydste (Dawid), en slimste (Salomo) mans vir seksuele versoeking geval. En hoekom moes hy in dieselfde strik trap?

             Moenie soos die wêreld se mans die voordele van die huwelik soek, terwyl jy ook enkel wil wees as dit jou pas nie. God is nie tevrede as jy die huwelik goedkoop ag en maak asof saambly net so goed is soos om te trou nie. Om seks buite die huwelik te beoefen, is strafbaar met die hel (1Kor. 6:9-10, Heb. 13:4, Op. 21:8).

             As jy jouself kán beheer en tevrede is om enkel te wees, is dit ook reg (v.37). Maar speel dan oop kaarte met die man, of meisie wat in jou belangstel. Sê vir hulle waar hulle met jou staan, sodat hulle kan aanbeweeg en met iemand anders kan trou as hulle wil.

             Maar wat as jy graag wíl trou, as jy ’n sterk seksuele begeerte het en vir ’n lewensmaat bid, maar nie een kry nie? Dan is dit God se wil vir jou op die oomblik (v.7). Sien sy soewereine hand daarin. Sê wat my enkellopende vriend gesê het toe hy op sy bed lê en wonder hoekom hy op 38 nog enkel is: ‘Ah! Ek weet hoekom ek nog enkel is! Want God is soewerein.’ Dank die Here vir jou enkelskap. Dien Hom terwyl jy enkel is. Glo dat Hy alles—ook jou lewe as iemand wat enkel is—tot jou voordeel sal uitwerk en dat Hy jou daardeur meer soos Jesus sal maak (Rom. 8:28-29). Vra sy hulp om seksuele sonde en wellus te oorkom en glo dat dit moontlik is. My vriend wat vir 40 jaar enkel was, het onlangs vir my gesê: ‘Dit ís moontlik vir iemand wat enkellopend is om seksuele versoekings te oorkom.’

        As die Here jou die geleentheid gee om met ’n gelowige te trou en dit jou begeerte is, trou (v.38-39). Maar as jy vir die redes in v.26, 28, 32 nie wil trou, is dit ook reg (v.38). Volgens die Bybel is beide die huwelik en enkelskap goed (v.7, 38, Gen. 1:31, 2:18, Spr. 18:22). ’n Betroubare vriend het onlangs die boek Not Yet Married van Marshall Segal aanbeveel. Kry dit gratis op Desiring God se webtuiste en lees dit om jou enkelskap beter te verstaan.4 Kyk ook uit vir my preke oor seksuele reinheid en hoe om die regte lewensmaat kies. Laasgenoemde preek sal jou veral help as jy graag wil trou.

             As jy getroud is: bid vir die enkellopendes in ons gemeente en sê vir hulle dat jy vir hulle bid. Moenie net vir hulle vir ’n lewensmaat bid nie, maar bid vir die unieke versoekings en uitdagings wat hulle ervaar. Bid dat hulle vergenoegd sal wees in hulle enkelskap en dat hulle ’n ywer sal hê om die Here te dien. Nooi hulle gereeld na jou huis toe vir ’n kuier, of vir ete. Moet dit nie doen met die doel om hulle aan iemand voor te stel wat ’n swak toewyding aan die Here het nie. Doen dit eenvoudig om ’n vriend vir hulle te wees, om geestelike gesprekke te hê, en om hulle op te bou.

             Wyle Irving Steggles van Birchleigh Baptist Church het dit beter verstaan as ek. Hy was enkellopend. Toe hy hoor dat ons ’n braai vir die enkellopendes in ons gemeente reël, toe sê hy: ‘I hope it’s not a matchmaking opportunity.’ Ek verstaan nou wat hy bedoel het, omdat enkellopendes op hulle verhouding met die Here moet fokus. Hulle het nie getroude mense nodig om te maak asof enkelskap ’n probleem is wat net opgelos kan word as iemand ’n ring aan jou vinger sit nie.


1  https://www.thegospelcoalition.org/article/four-things-god-says-singles/

2  J.B. Lightfoot, Notes on Epistles of St. Paul (Macmillan, 1904). Aangehaal in ibid., 115

3  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1985 [1958]), 113

4  https://www.desiringgod.org/books/not-yet-married