Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 May 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Eenheid en Verdeeldheid

Kolossense 3:5-15

Een van my kollegas was jare gelede by John MacArthur se kerk in Los Angeles. By een van die dienste het die gemeente ’n dissipline saak gehad. ’n Sekere gesin het aanhoudend baklei, rusie veroorsaak, geskinder en verdeeldheid gebring. Die leiers het ’n foto van hulle op die skerm gewys en die gemeente teen hulle gewaarsku.

Verdeeldheid in gesinne en families het by die sondeval begin. Direk nadat Adam en Eva gesondig het, was hulle verdeeld en het hulle hulle naaktheid vir mekaar weggesteek. In Gen. 4 het Kain vir Abel doodgemaak. Ismael het sy boetie Isak afgeknou. Jakob het vir Esau bedrieg, sodat Esau hom wou doodmaak. Hulle het vir 20 jaar nie met mekaar gepraat nie. Jakob en Laban het koppe gestamp. Ragel en haar sussie Lea was jaloers op mekaar. Josef se boeties was jaloers op hom en het hom aan Ismaelitiese slawehandelaars verkoop. En dit is maar net die boek Genesis!

Vandag nog is huisgesinne en families verdeeld. Ek was by ’n begrafnis waar ’n vrou my vertel het dat sy en haar broer al vir jare nie met mekaar praat nie. Sy het gehuil toe sy dit sê. Toe haar broer nader staan, toe stel sy haarself aan hom voor. ‘Hello ___. My naam is ___. Ek is jou sussie,’ het sy gesê. Dit was ’n ongemaklike situasie.

Ek weet van ’n predikant en sy vrou wat verdeeld is. Hy is nog steeds in die bediening, maar ek weet dat hy en sy vrou nie goed klaarkom nie. Ek weet nie hoekom hy in die bediening bly as hy en sy vrou koud teenoor mekaar is nie. In Jesus kan daar mos versoening wees. Ek weet van ’n paartjie wat vir 5 jaar geskei was, tot bekering gekom het, en weer met mekaar getrou het. Ek ken ook ’n man en sy vrou wat baie erg met mekaar baklei het. Berading het nie gehelp nie. Maar toe die Here ingryp, het Hy hulle verander. Vandag is die man baie lief vir sy vrou en doen hy moeite om te wys dat hy haar liefhet.

Hoe kan ’n mens soos hierdie man wees, sodat daar eenheid in jou huwelik, gesin en familie is?

 

1. Raak ontslae van die dinge wat verdeeldheid veroorsaak (v.5-11)

Ek het eenkeer ’n man en vrou beraad wat ernstige probleme in hulle huwelik ontwikkel het. Alhoewel daar nie fisiese egbreuk betrokke was nie, was die sonde erger as pornografie. Daar was egter ware berou, bekering en vergifnis. Beide partye het hulle beste gedoen om aan hulle huwelik te werk. Die Here se genade oor hulle was groot, sodat Hy hulle huwelik herstel het. Eintlik het Hy dit beter gemaak as wat dit voorheen was.

     Om ’n huwelik soos hulle s’n te hê, moet jy doen wat hulle gedoen het en jou sonde doodmaak (v.5). Tree radikaal daarteen op. Kap jou hand af en pluk jou oog uit (Matt. 5:29-30). Raak ontslae van die dinge wat jou pootjie. Vra die Gees se hulp om dit reg te kry: “...Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef.” (Rom. 8:13).1 Maak jou sonde dood, omdat dit deel van die ou, aardse natuur is en jy ’n burger van die hemel is (v.1-4).

         Wat is die sonde wat jy moet doodmaak? Jy moet alle sonde doodmaak, maar in Kol. 3 begin Paulus by seksuele sonde wat jy deur jou oë, gedagtes, begeertes en dade doen (v.5, Rom. 1:24, 26, 1Tess. 4:5, 7). Volgens die Bybel begin seksuele sonde by die begeertes. Omdat dit so is, moet jy dáár die stryd wen. Bid vir ’n oorweldigende begeerte na God en soek Hom in sy Woord. As jy Hom gevind het, sal jou vervulling in Hom die brandende lus vir sonde blus (Joh. 4:14). Dit sal ook die vertroue en eenheid in jou verhoudings herstel.

Om die eenheid te bevorder, moet jy ook gierigheid doodmaak (v.5, Eks. 20:17). Dit versteur die eenheid as jy ontevrede is met jou lewensmaat, kinders, huis, ou geld en besittings; as jy rondkyk vir iets beter. In wese is dit afgodery, omdat jy ander begeertes in God se plek stel en omdat dit jou oorheers (v.5). As jy ’n obsessie met enigiets anders as die Here ontwikkel, sal jy ook jou gesin begin afskeep en dan breek dit die eenheid. ’n Mens sien dit byvoorbeeld as ’n vrou die heeltyd by haar honde wil wees en haar man afskeep. Of wat van ’n man wat gedurig by die sportklub uithang en sy gesin afskeep?

As jy gierig is en jou met afgode ophou, moet jy jou tot die Here bekeer en Hom begin aanbid. Doen dit op jou eie, saam met jou gesin en saam met die gemeente. Eers as jou verhouding met die Here reg is, sal jy jou naaste liefhê soos jouself. As jou verhouding met die Here nié reg is nie maar jy met jou sonde aanhou, sal sy toorn oor jou kom (v.6, 2Tess. 1:7-9). Vlug daarom deur geloof na die kruis waar Jesus die straf vir ons sonde gedra het (Rom. 8:1, 2Kor. 5:21, 1Tess. 1:10). As jy dit reeds gedoen het, moet jy as ’n geredde mens lewe. Moenie die verlede saam met jou dra nie. Dalk is seksuele sonde deel van jou verlede. Moenie meer daarin lewe nie, maar sit dit agter jou (v.7-8).

Dit geld nie net vir die sonde van v.5 nie, maar ook vir sondige emosies en woorde wat die eenheid verbreek (v.8). Raak ontslae van diep gesetelde woede wat vir maande en jare binne jou gis (v.8, Gk. orgē). Dit sal verhoudings opbreek. Draai ook jou rug op woede uitbarstings (Gk. thumos) en boosheid (Gk. kakia). As jy soos ’n drukpot is wat stoom afblaas, sal jy uiteindelik mense begin slegsê, hulle belaster, of hulle vloek (v.8). Dit pas egter nie by ’n Christen nie en skep ’n atmosfeer waar eenheid nie kan floreer nie. Bely jou sonde as jy hieraan skuldig is en vra die Here om jou te help om dit te oorkom. Dit kan gedoen word.

Ek het ’n oom geken wat ’n verskriklike humeur gehad het. Voor hy hemel toe is, het die Here hom gehelp om dit te oorkom. Toe ’n kar eendag teen ’n vet spoed oor ’n stopstraat ry, het die oom heeltemal kalm gebly. Hy het geweet dat hy dood sou wees as die kar hom getref het, maar hy was rustig.

Nog ’n sonde wat verhoudings verbreek, is leuens. Lê dit af, omdat jy die ou mens met sy gewoontes afgesterf het (v.9). As jy jou nie bekeer nie maar aanhoudend leuens vertel, verbreek jy die eenheid. Kyk maar net hoe Jakob en Laban se leuens hulle verhouding verbreek het (Gen. 27-31).

Sulke dinge gebeur vandag nog. Dink gerus aan ’n pa wat sy woord breek en nie by sy kind se sportbyeenkoms, of prysuitdeling opdaag nie. Of dink aan ’n vrou wat haar man se sonde opblaas en daaroor lieg. ‘Hy slaan my!’ sê sy, terwyl hy net met haar geraas het. Of wat van ’n man wat voorgee dat hy ’n engel is, terwyl hy by die huis ’n duiwel is?

Mense wat so optree, verbreek die eenheid en wys dat hulle kinders van Satan is. Die duiwel is immers ’n leuenaar en die vader daarvan (Joh. 8:44). Bekeer jou daarom van alle leuens en praat die waarheid (Ef. 4:25). Leef as iemand wat die ou mens afgesterf het soos jy deur die doop bely het (v.9, 2:12). Leer ook die Here deur sy Woord ken, sodat jy na die beeld van jou Skepper vernuwe kan word om soos Jesus te wees (v.10, Rom. 8:29, 2Kor. 3:18, 2Pet. 3:18).

As Jesus vir jou en jou familie alles is en Hy julle lewens vul, sal julle een wees en sal nie eers uiterlike verskille julle verdeel nie (v.11, Gal. 3:28). Jy sal nie omgee dat jou skoonseun Engels is, of dat jou seun met ’n Duitser getroud is nie. Jy sal nie omgee dat jou swaer arm is, dat jou broer se kind aangeneem is, of dat jou seun slote grawe vir ’n lewe nie. As jou familie die Here Jesus ken en Hom liefhet, maak uiterlike verskille nie saak nie. In Christus is julle een (v.11).

As jou familie nié die Here ken nie, is daar ’n sekere mate van verdeeldheid (Matt. 10:34-36). Maar jy kan nog steeds ’n natuurlike liefde vir hulle hê, sodat jy gaaf is, die evangelie met hulle deel en vir hulle bid. As hulle egter die Here ken, is dit ’n bonus.

Wat die gevolgtrekking? Om familie-eenheid te hê, moet jy nie in die eerste plek vir gesinsberading gaan nie, maar jou bekeer en in Jesus glo.

 

2. Doen dinge wat die eenheid bevorder (v.12-15)

Ek was onlangs by ’n tannie se begrafnis waar haar dogter ’n storie van haar ma vertel het. Toe die dogter jonk was, het haar ma blykbaar vir haar gesê: ‘Onthou: jy is ’n Van Rooyen—gedra jou as sulks!’

Geestelik werk dit dieselfde: jy is ’n kind van die Here—gedra jou as sulks! God het jou voor die skepping gekies, jou vir homself afgesonder en jou as sy eie liefgehad (v.12, Jer. 31:3, Ef. 1:4-5, Rom. 8:29, 1Tess. 2:13). Doen daarom wat Hy sê: trek die vuil klere van jou sonde uit en vervang dit met die skoon klere van gehoorsaamheid (v.12). Beklee jou met meegevoel vir ander; met ’n deernis wat jy tot binne-in jou ingewande voel [v.12, Gk. splanchna oiktirmou]. Voel dit veral as ander mense swaarkry, sodat jy Jesus se ontferming kan wys (Fil. 1:8, 1Joh. 3:17). Moenie byvoorbeeld nie afsydig wees en versuim om jou suster te bel as haar kind vir ’n groot operasie gaan nie. Moenie anderpad kyk as jou ouers finansieel sukkel nie. Moenie sonder natuurlike liefde wees nie, maar wees barmhartig en help hulle.

Wees ook goedhartig en bruikbaar vir die goeie dinge wat ander mense benodig [v.12, Gk. chrēstotēs]. Soms benodig hulle net ’n drukkie, ’n glimlag, of ’n hand op die skouer. Gee dit vir hulle.

Wees nederig (v.12). Moenie te veel van jouself dink nie [Gk. tapeinophrosune]. Sien jouself in die lig van ’n groot God. Sien jouself as ’n sondaar wat die straf verdien wat Jesus gekry het. Onthou dat alles wat jy het genade is (Joh. 3:27, 30, 1Kor. 4:7, Ef. 2:9). Dit sal jou help om nederig te wees, sodat jy ander bo jouself kan stel en daar eenheid is (v.12, Fil. 2:3-4).

As jy sê: ‘Ek het nou genoeg vir ander gedoen en gaan ’n bietjie aan myself dink,’ sal jy verdeeldheid veroorsaak. As jy hoogmoedig is, kan daar nie eenheid wees nie (Spr. 13:10). Wys my ’n verdeelde gesin en ek wys jou ’n hoogmoedige gesin waar elkeen net aan homself dink en nie ander in ag neem nie.

Om die eenheid verder te bevorder, moet jy sagmoedig wees (v.12). Die Griekse woord [prautēs] verwys na ’n sagmoedige krag. Jy gebruik met ander woorde jou krag om mense te bevoordeel en nie om hulle seer te maak nie. ’n Sagmoedige mens se hele houding is kalm en rustig. In sy, of haar teenwoordigheid voel almal rustig en sterf rusie ’n natuurlike dood.

Rusie sterf ook waar mense geduldig is met mekaar (v.12). Die Griekse woord [makrothumia] verwys letterlik na ’n lang humeur; na iemand wat stadig is om kwaad te word (Jak. 1:19). God se genade is genoeg om jou te help as jy ’n woelige tweejarige, moeilike tiener, of ongeredde lewensmaat het. Jy kan geduldig wees, omdat jy besef dat die Here hierdie dinge in jou lewe los om jou karakter te vorm en jou soos Jesus te maak.

As jy opvlieënd en geïrriteerd raak, sê jy nie: ‘Jammer, maar dit is omdat my omstandighede moeilik is nie.’ Jy verskoon nie jou sonde nie, maar jy neem volle verantwoordelikheid, vra vergifnis en vertrou die Here om jou te help om geduldig te wees. Jy vra sy hulp om ander te verdra en te vergewe as hulle teen jou gesondig het, net soos Hy daagliks met jou doen (v.13). Jy onthou dat jy baie meer teen Hóm gesondig het as wat ander teen jou sondig, en daarom vind jy dit in jou hart om te vergewe (v.13, Matt. 18:21-35).

Hoe baie huwelike, gesinne en families breek op, omdat mense nie wil vergewe nie? Hulle hou wrokke en is bitter oor dinge wat 15, of selfs 20 jaar gelede gebeur het. In sommige gevalle maak dit hulle siek (Spr. 14:30). Maar die Here wil hê ons moet vergewe soos Hy ons vergewe het (v.13). Jesus het sy lewe vir ons afgelê, sodat die Vader ons kan vergewe en Hy die sonde aan ons nie sou toereken nie (1:14, 2:13-14). En sal ons mekaar nie vergewe nie (v.13)? Ek bedoel nie dat jy die ander persoon se sonde moet goedkeur nie. Maar jy moet kies om nie sy, of haar sonde teen hulle te hou nie. Jy moet dit nie vir jouself, vir ander mense, of vir die persoon ophaal nie, net soos die Here nie jou sonde teen jou hou nie, maar dit van jou verwyder so ver soos die ooste van die weste, en dit in die diepste see gooi (Ps. 103:12, Miga 7:19, Heb. 10:17).

Mag ek jou vra: is daar iemand in jou gesin, of familie wat jy moet vergewe; iemand met wie jy die saak moet uitpraat; iemand vir wie jy vergifnis moet vra? Moenie uitstel nie, maar doen dit gou, sodat die Here jou ook kan vergewe (Matt. 5:23-25, 6:12, 14-15).

Bo dit alles moet jy jou met liefde beklee (v.14, 1Kor. 13:13). Moenie net dat jy jou vrou liefhet soos sommige mans al vir my gesê het nadat hulle egbreuk gepleeg het en hulle vroue geslaan het nie. Wys jou liefde deur jou dade (1Joh. 3:18). As almal dit doen, sal gesinne een wees. Liefde bind tog mense en elke goeie kwaliteit saam (v.14, 1Kor. 13:4-7). Dit maak dat ons nie net die ander kwaliteite as ons plig uitvoer nie, maar dat ons dit uit die hart doen. Moenie wag dat jy ’n gevoel van liefde kry voor jy dit doen nie, maar bid daarvoor en begin doen wat die Here in v.14 sê. Moet dit nie net doen aan dié mense wat dit terug doen nie, maar doen dit vir die man wat jou nie liefhet nie, vir die vrou wat jou nie respekteer nie, vir die kind wat rebels is, vir die broer wat jy nie kan verdra nie en vir jou skoonfamilie (Matt. 5:44, 46-47). Doen dit deur praktiese dade van omgee en vertrou die Here vir die uitkoms.

Om eenheid te hê moet jy ook seker maak dat Jesus se vrede in jou hart en gedagtes die fluitjie blaas (v.15). Paulus verwys nie bloot hier na ’n gevoel van vrede nie, maar na die vrede tussen jou en ander mense. Sodra jy dus in jou hart kwaad word, of verdeeld is met ander, moet as’t ware hoor hoe Jesus die fluitjie blaas en sê: ‘Dit is nie toelaatbaar nie! Laat vaar daardie gedagte! Gaan maak reg met die persoon met wie jy baklei het! Vergewe die een wat teen jou gesondig het! Bely die gevoel van geïrriteerdheid en raak daarvan ontslae!’

Jy kán in vrede met ander lewe, omdat Jesus daarvoor gesterf het (Ef. 2:14-18). Hy roep jou om vrede met ander te hê en om deel van dieselfde liggaam te wees (v.15). Om dan met medegelowiges te baklei, is soos as jou hand met jou oog baklei, of as jou tande jou arm byt. Jy baklei teen die lede van jou eie liggaam en dus sal jy jouself vernietig.

As jou familie nie Christene is nie, baklei jy nog steeds teen jou eie vlees en bloed. En sal dit sal jou nie benadeel nie?

Uit my ervaring in die bediening weet ek dat daar heelwat mense is wat na vanaand se boodskap voor die Here moet kom. Jy moet jou familie vergewe en met hulle regmaak. Die ding wat sal keer dat jy dit doen, is aaklige hoogmoed, sodat jy nie wil erken jy was verkeerd nie. Of dalk verhinder vrees jou. Jy is bang dat die ander persoon nie sý, of haar sonde sal erken nie. Maar wat het dit met jou te doen? Die Here sê vir jóú om te vergewe en dinge reg te maak. As die ander persoon nie sy deel wil doen nie, sal die Here met hom afreken. Doen jy net wat reg is. As jy dit nie kan regkry sonder om dinge te vererger nie, wees nederig genoeg om jou geestelike leiers om hulp te vra, of om ’n Bybelse berader te sien.

En dan moet jy ook dankbaar wees (v.15, 17). Ondankbare mense kla en baklei oor alles. Hulle is ontevrede met alles en soek iets beter. Hulle doen dit omdat hulle hoogmoedig is en dink dat hulle beter verdien. Selfs as hulle goeie dinge kry, dink hulle hulle verdien dit. Daarom laat hulle na om dankie te sê. En wie wil rondom iemand wees wat die hele tyd kla en fout vind met alles? Dit is baie lekkerder om met dankbare mense te werk. Jy wil sommer meer vir hulle doen as hulle vir die kleinste dingetjies dankbaar is.

Om dankbaarheid te oefen, moet jy by gebed begin. Moenie die klein bewyse van God se guns miskyk nie, maak sê dankie. Sodoende oefen jy jouself om te sien as mense klein dinge vir jou doen en dankbaar te wees. En waar dít gebeur en jy die res van bogenoemde kwaliteite toepas, sal daar eenheid wees. Dan sal jy soos een van my vriende wees wat eensgesind met sy vrou en sy kinders saamlewe. Of jy sal soos sy vrou wees wat gereeld met haar skoonma praat—sommer net om te hoor hoe dit met haar gaan.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

Kategorieë