Familie, Huisgesin en Huwelik: Die Vrou se Rol

Efesiërs 5:21-24 & 33b

Op 9 September 2009 het Freek Robinson ’n gesprek op RSG gehad met prof. Hansie Wolmarans, prof. Lilly Nortjé-Meyer en Gretha Wiid. Dit was oor die rol van mans en vroue in die huwelik. Wiid het die tradisionele siening gehuldig, naamlik dat ’n man die hoof van die huis is en dat sy vrou aan hom onderdanig moet wees. Die ander twee sprekers het haar siening as seksisties afgemaak. Ek het na ’n deel van die gesprek geluister en onthou hoe prof. Wolmarans gesê het ons moet afsien van die patriargale model van die huwelik waar die Bybel ’n man leer om sy vrou te domineer. Hy het gesê dat ons in ’n moderne kultuur leef waar mans en vroue gelyke rolle vervul.

Maar as hy reg is, is daar geen verskil tussen Jesus en die kerk op wie die model van die huwelik gebou is nie (Ef. 5:22-32). En dan kan Jesus net sowel die Bruid wees en die kerk die bruidegom.1 Gelyke rolle sou ook impliseer dat mans en vroue nie juis verskillend is nie. Maar dan kan ’n man maar sy vrou so rof hanteer soos hy ander mans hanteer. En dan kan sý in die aand opstaan om haar man teen indringers te beskerm, of kan sý die kar se deur vir hóm oopmaak as hulle die slag uitgaan.

Gelukkig is dit nie wat die Bybel leer nie. ’n Man en sy vrou het nou wel gelyke waarde voor God net soos wat ’n baas en sy werkernemers gelyke waarde in die samelewing het (Gen. 1:27, Gal. 3:28, 1Pet. 3:7). Maar alhoewel hulle gelyke waarde het, is die man die leier en moet sy vrou hom volg (Gen. 2:18, Ef. 5:21-33).

 

1. Vir wie is onderdanigheid?

Ek was by ’n troue waar die prediker op grond van Ef. 5:21 vir die paartjie gesê het dat hulle aan mekáár onderdanig moet wees. Maar is dit wat die teks sê? Nie eintlik nie. Vers 21 is eerder ’n algemene opskrif, terwyl v.22-24, 6:1-2, 5 uitspel wat Paulus hier bedoel: ‘Wees aan mekaar onderdanig; dit wil sê aan die gesag wat God oor jou aangestel het—vroue aan hulle mans, kinders aan hulle ouers, slawe aan hulle meesters.’

         As Paulus bedoel het dat ’n man ook aan sy vrou onderdanig moet wees, dan moet ons sy argument konsekwent deurvoer en sê dat ouers ook aan hulle kinders onderdanig moet wees en meesters aan hulle slawe (kontra 6:1-9). En as dít die geval is, sal jy ’n samlewing hê soos ons s’n waar studente en werknemers goed afbreek en aan die brand steek.

              Iemand sal sê: ‘Ek en my man deel die leierskap in die huis en óns is gelukkig getroud.’ Vir so ’n man wil ek sê: ‘As jy nie jou vrou kan lei en beskerm nie, is jy nie soos Jesus nie. Jy is nie die naam van ’n man werd nie. Trek asseblief jou broek uit en trek vir jou ’n rok aan!’

              In baie huwelike waar ’n vrou die leiding neem, staan haar man terug en raak hy passief. Dit is nie reg nie, maar dit sal die gevolg wees as ’n vrou die broek dra. Sy kla dat sy alles moet doen en dat haar man heeltyd voor die TV sit, of dat hy alewig by die werk, op die gholfbaan, by sy vriende, of by die kerk is. Maar soms gebeur dit, omdat ’n man nie in ’n huis wíl bly waar sy vrou vir hom sê wat hy moet doen nie (Spr. 19:13, 21:9, 19, 25:24, 27:13-16). Sy vrou kla as hy die leiding neem en uiteindelik omdat hy nié die leiding neem nie. Maar ironies genoeg is dit sý wat die leiding neem as sy gedurig neul: ‘Jy moet die leiding neem!’ Soos die gesegde lui: ‘Ek is die leier van ons huis, omdat my vrou gesê het ek kan die leier wees.’

              Sal dit nie beter wees as jy jou man se leierskap in die Here se hande los en vir hom bid nie? Moenie ’n buikspreker wees wat deur jou man praat nie. Moet byvoorbeeld nie vir jou man sê wat hy in ’n leiersvergadering, of vir sy familie moet sê nie, maar laat hý die leier wees. Dit geld ook as jy by mense kuier. Moenie vir hom sê: ‘Kom, ons moet ry!’ nie. Laat hý besluit wanneer die gesin moet ry. Ek probeer nie sê dat jy hom nie met die besluite, dissipline van julle kinders, finansies, ensovoorts moet help nie. Ek bedoel eerder dat hy die finale sê het.

              ‘Ja, maar wat as hy fout maak?’ Dan gaan praat jy eenkant en op ’n sagmoedige manier met hom. Moet hom nie beveel nie, maar maak ’n voorstel. As hy van jou verskil; los hom. Jy hoef hom nie te beheer nie. Vra die Here om met hom te werk. As hy die gesin verkeerd lei, sal die Here hom aanspreek.

 

2. Wat beteken onderdanigheid?

As kind het ek die teenoorgestelde gedoen van wat my ma my beveel het. As sy dus wou hê ek moet buite speel, het sy gesê: ‘Jy mág nie buite speel nie!’

Hierdie ongehoorsaamheid en rebellie is in elke mens se hart. Toe ek in 1995 op ’n skooltoer was, het ’n matriek seun die volgende gesprek met ’n onderwyser gehad:

‘Hoekom moet ons dit doen?’

‘Because those are the rules!’

‘But rules are there to be broken.’

‘Yes, and someone’s backside is there to be broken!’

As gevolg van die sondeval het die mens ’n weersin teen enige reëls en gesag. Soos Adam en Eva glo ons die duiwel wanneer hy sê: ‘Jy het nie ’n God oor jou nodig nie, maar jy kan jou eie God wees en self die reëls maak.’

Om hierdie selfde rede kom baie vroue in opstand teen die Bybelse konsep van onderdanigheid. Die meeste van hulle weet egter nie wat dit beteken nie. Die Griekse woord vir onderdanigheid [hupotassō] beteken letterlik om jouself onder iemand te plaas, of om die beheer aan ’n ander oor te gee. Dit is asof die vrou vir haar man sê: ‘Ek stel myself beskikbaar om jou te help en te ondersteun; om as ’n span met jou saam te werk. Ek besef dat God jóú die leier gemaak het. Ek aanvaar dit en sal jou leiding volg.’

Onderdanigheid is nie iets wat afgedwing word nie, maar dit is iets wat jy gee. Dit gaan meer oor ’n gesindheid as oor spesifieke dade. Daarom help dit byvoorbeeld nie jy doen wat jou man van jou vra as jy steun en sug terwyl jy dit doen nie. Onderdanigheid beteken dat jy jou man respekteer (v.33b). Dit sal onder andere beteken dat jy nie op sy kop sit, of vir sy leiersposisie kompeteer nie. Jy vertrou en volg eerder sy leierskap. Jy berispe en verkleineer hom nie voor die kinders, of voor ander mense nie. Jy hanteer hom nie soos een van die kinders nie (al tree hy partykeer so op):

‘Eet jou kos!’

‘Jy het genoeg geëet!’

‘Tel jou kouse op!’

‘Moenie só bestuur nie!’

Om hom te respekteer beteken ook dat jy sý raad bo jou ouers, of jou vriendinne s’n vra (1Kor. 14:34-35). Dit beteken dat jy nie die begroting oorskry as hy jou gevra het nie. Jy skinder en kla ook nie van hom by jou vriendinne nie. Jy was nie sy vuil wasgoed nie, en deel nie sy foute met almal nie. Jy probeer nie alewig om hom te verander nie. Jy los waarmee jy besig is en gee hom jou volle aandag as hy met jou gesels. Jy gee nie dadelik vir hom raad nie, maar luister eers klaar as hy sy hart met jou deel. Jy skreeu nie op hom nie, maar praat mooi en saggies met hom. Jy korregeer hom nie op alles wat hy sê nie: ‘Dit was nie ’n blou kar nie, maar ’n rooie… Dit was nie ’n Dinsdag nie, maar ’n Donderdag…’ As hy ’n storie probeer vertel, maak jy dit nie vir hom klaar nie.

Jy verdra sy swakpunte en komplementeer hom op sy sterkpunte. Jy sê dat jy jou liefhet en dat jy dankbaar is vir sy leiding. Jy doen dinge saam met hom selfs al is dit nie jou belangstelling nie. Jy sit by hom en hou sy hand vas. Jy waardeer as hy iets vir jou doen. Jy maak jouself mooi vir hom. Jy doen dinge waarvan hy hou soos byvoorbeeld om sy gunsteling kos te maak. Jy is bly as hy van die werk af kom.

 

3. Aan wie moet jy onderdanig wees?

Toe ek ’n student was, was een van die ander mans studente woedend toe die dames studente volgens hom nie hulle plek ken en sy opdragte uitvoer nie. Maar waar sê die Bybel dat ’n vrou aan elke man onderdanig moet wees? Dit sê eerder dat ’n vrou aan haar eie man onderdanig moet wees (v.22). In die praktyk beteken dit dat ’n vrou nie haar man se leiding moet bevraagteken, terwyl sy dadelik reageer as iemand anders se man haar iets vra nie. ‘Wees aan jou eie man onderdanig’ (v.22).

Dit beteken ook dat ’n ongetroude man nie moet dink sy meisie moet aan hom onderdanig wees nie (selfs al doen julle sonde deur as getroude mense saam te bly). Sy is nie jou vrou nie en daarom hoef sy nie jou leiding te volg nie. ‘Wees aan jou eie man onderdanig’ (v.22).

 

4. Hoekom moet jy onderdanig wees?

’n Man sien elke aand ’n klomp polisie beamptes buite sy huis. Hy dink dat hulle op hom spioeneer, maar die waarheid is dat hulle hom in die gevaarlike woonbuurt wil beskerm.

Net so dink party mense dat ’n vrou se onderdanigheid God se straf is na die sondeval. Hulle vergeet dat God die man van die begin af geskep het om sy vrou se leier te wees en dat sy haar man se helper is (Gen. 2:18, 1Tim. 2:12-13). Die sondeval het plaasgevind toe die mens hierdie rolle omkeer; toe Eva vir Adam gelei het en hy haar gevolg het (Gen. 3:6, 17).

Sommige haal Gen. 3:16 aan om te wys dat manlike leierskap ’n gevolg van die sondeval is: “Na jou man sal jou begeerte wees, maar hy sal oor jou heers.”2 Ons vind egter dieselfde woorde in Gen. 4:7: “…Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Sonde wou vir Kain domineer, maar hy moes terugveg en dit onderdruk. Net so sal ’n vrou haar man wil domineer, maar sal hy elke tree van die pad terugveg en haar met ’n ystervuis regeer. Dit is nie reg nie, maar dit is die gevolge van die sondeval. Eers as Jesus iemand red, herstel Hy die oorspronklike orde, sodat ’n man sy vrou liefdevol lei en sy hom met ’n blymoedige hart volg (v.22-25). Duidelik kom die man se leierskap dan van God af en spruit dit nie uit die Afrikaner-tradisie, of ’n anti-vroue kultuur nie (v.23, 1Kor. 11:3).

Op hierdie punt sal feministe sê dat die Griekse woord vir hoof [kephalē] nie leier beteken nie, maar oorsprong (soos in die Engelse woord ‘fountainhead’). Volgens hulle bedoel Paulus nie dat die man sy vrou se leier is nie, maar dat God haar uit die man gemaak het om hulle gelykheid te wys, asook dat daar geen verskil in hulle rolle is nie.

Hoe moet ons hierop reageer? Nêrens in die Nuwe Testament, of die LXX (die Griekse vertaling van die Ou Testament ) beteken kephalē ooít oorsprong nie. Daar is wel ’n aantal tekste waar kephalē leier beteken.3 Dit is ook wat dit in Ef. 5 beteken. Ons weet dit, omdat ’n man sy vrou se hoof is soos Jesus die Hoof van die kerk is (v.23). Jesus is die brein wat die liggaam beheer (1:22-23, 4:15-16, Kol. 2:10, 19). Hy werk nooit téén sy eie liggaam nie, maar net tot haar voordeel. Ons sien dit onder andere daarin dat Hy vir haar gesterf het om haar te red (v.23, 25). Net so moet die man en sy vrou mekaar nie as vyande sien nie, maar as ’n span waar die man sy vrou lei en sy hom help.

Maar hoekom kan ’n man en sy vrou nie sáám die leiding neem nie? Een van my dosente het gesê dat hy én sy vrou die hoof van die huis is. Maar ’n liggaam met twee hoofde is ’n siamese tweeling en nie ’n gesonde mens nie. Dit sal so min werk soos as Jesus en ons die hoof van die kerk is.

Iemand sal sê: ‘Die man is nou wel die hoof, maar sy vrou is die nek wat hom beheer.’ Maar as dít waar is, moet ons ook sê dat die kerk die nek is wat vir Jesus beheer. Hoekom aanvaar jy nie liewer wat die Bybel sê nie, naamlik dat die man die hoof is wat sy vrou moet lei nie (v.23)?

Let asseblief op dat die vers nié sê die man moet die hoof wees nie, maar dat hy die hoof ís. Waar ’n man dus onbetrokke, of passief is, lei hy deur sy afwesigheid. Hy bly met ander woorde die leier. Daarom moet jy nie sê: ‘Ek wíl nie die leiding neem nie, maar omdat my man passief is, het ek nie ’n keuse nie.’ Jy dink verkeerd. As ouers hulle plig versaak, is dit nie die kind se plek om die leisels oor te neem nie. Net so gaan die Here jou nie vra: ‘Hoekom het jý nie die leiding geneem toe jou man sy plig versuim nie?’ Hy sal eerder sê: ‘Ek gaan jou man straf, omdat hy jou nie gelei het nie. En Ek gaan jou straf, omdat jy jou plig versaak het om jou man se rol oor te neem.’

‘Ja, maar as ek nie die leiding neem nie, sal niemand dit doen nie.’ Los die saak vir die Here en vervul jy net jou rol.

 

5. Hoe moet jy onderdanig wees?

Toe ek op skool was, toe slaan een seun ’n ander een deur die gesig. Die ander seun het nie teruggeslaan nie, maar het net vir hom gekyk. Watter een van die twee seuns was die sterkste? Die een wat nie teruggeslaan het nie.

Net so is onderdanigheid nie swakheid nie, maar krag onder beheer. Enige vrou kan ’n feminis wees en vir haar ‘regte’ opstaan. Net ’n Christen vrou kan met blydskap aan haar man onderdanig wees, omdat sy die Here wil eer.

Waar kry sy hierdie krag? Sy is vol van die Heilige Gees en van die Woord (v.18, Kol. 3:16, 18). God se Gees leer haar die Woord en lei haar om dit te gehoorsaam. So groei sy in ’n verhouding met Jesus en in haar onderdanigheid aan Hom (v.21-22). Uit hierdie verhouding leer sy wat Jesus wil hê, naamlik dat sy haar man moet respekteer (v.21-24, 33b). Omdat sy Hom tevrede wil stel, kan sy selfs onderdanig wees as haar man nie haar respek verdien nie. Sy doen dit immers in die eerste plek vir Jesus en nie vir haar man nie (v.21-22, vgl. 6:5, Kol. 3:23). Voor jy dan aan tien maniere probeer dink hoe jy aan jou man onderdanig kan wees, moet jy die Here ken en in ’n persoonlike verhouding met Hom leef (v.21-22). Eers as jy Hóm die nommer 1 verhouding bo jou man gemaak het, kan jy die regte vrou vir hom wees.

As onderdanigheid vir jou soos ’n berg voel wat jy nie kan klim nie, moet jy jouself vra hoe jy aan Jesus onderdanig is (v.22, 24). Doen jy dit uit dwang, of wíl jy Hom gehoorsaam? Indien dit jou begeerte is om Jesus te gehoorsaam, moet jy ook in die huwelik onderdanig wees—nie omdat jou man dit op jou afdwing nie, maar omdat jy die Here wil eer (v.21). As ongelowiges dit sien, sal hulle vra hoekom jy anders as feministe en selfs party Christen vroue is wat nié hulle mans respekteer nie (Tit. 2:5). Dit sal jou kans wees om die evangelie te deel.

***

Party Christen vroue sal hierdie boodskap hoor en saamstem. Daar is egter nog areas van hulle lewens waar hulle nie die leiding aan hulle mans wil oorgee nie (byvoorbeeld as dit by die opvoeding van hulle kinders, of die finansies kom). Sulke vroue dink dat hulle op sekere gebiede die leier is. Hulle is soos ’n Sersant-Majoor in die weermag. Alhoewel hy ’n onder-offisier is, is hy op die paradegrond en in die eetsaal die baas. Gedurende my skooljare het ek op ’n kadetkamp gehoor hoe ’n Sersant-Majoor ’n kaptein in die menasie, of eetsaal verskree: ‘Nie in my eetsaal nie kaptein; nie in my eetsaal nie!’

Volgens v.24 is jy nie ’n Sersant-Majoor nie, maar moet jy in alles aan jou man onderdanig wees. Jy kan hom in die verskeie areas help, maar hy bly die leier en het die finale sê (v.23). Dit beteken ook dat hy verantwoording moet doen as dinge skeefloop en hy ’n verkeerde besluit neem (Gen. 3:9-11). Moet dus nie oorgretig wil wees om die leiding te neem nie.

‘Maar wat as ek reeds misluk het en dalk selfs geskei is?’ Vra die Here en jou eks-man om vergifnis (al is hý die hoofoorsaak van julle egskeiding). Doen dieselfde as jy getroud is en vra die Here vir hulp om te verander.

‘Maar wat as ek ’n ongelowige man het wat my sleg behandel en my vra om saam met hom te sondig?’ Dan laat jy hom op ’n sagmoedige manier weet dat jy dit nie kan doen nie, omdat jy in die eerste plek aan die Here onderdanig moet wees (v.22, Hand. 4:19, 5:29). Neem jou voor om soos Emma te wees. Toe sy met Gordon getrou het, toe dink almal dat hulle ’n voorbeeldige huwelik gaan hê. Gordon was immers die predikant van ’n gemeente.

Ongelukkig het dinge nie so uitgewerk nie, want terwyl hulle op hulle wittebrood was, toe sê Gordan vir Emma dat hy haar nie liefhet nie. ‘Ek het net met jou getrou, omdat dit makliker vir ’n getroude leraar is om ’n werk te kry as vir een wat enkel is.’

Deur hulle veertig jaar van getroude lewe en ses kinders later het Gordon nie ’n poging aangewend om sy vrou lief te hê nie. Hy het openlik erken dat hy na die geboorte van hulle vierde kind ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Hy het egter daarop aangedring dat hulle getroud moes bly, omdat ’n egskeiding sy bediening sou ruïneer. Emma moes ’n kamer met haar dogters deel, terwyl die vier seuns in ’n kamer gebly het. Gordon het sy eie kamer gehad.

Emma het aan die Here vasgehou en nie toegelaat dat bitterheid haar hart oorneem nie. Al het Gordon nie haar respek verdien het nie, het sy geweet dat Jesus dit verdien. Daarom het sy aangehou om vir Gordon te bid en te vra dat die Here hom sal red.

Na veertig jaar van getroude lewe het Gordon en Emma se huwelik tot ’n einde gekom. In die jare daarna het Emma jaarliks vir Gordon verjaarsdagkaartjies gestuur. By tye het sy ook briewe geskryf en hom opgeroep tot bekering. Sy het van harte begeer dat Gordon die Here moet ken. Êrens in hierdie tyd het God se genade tot hom deurgebreek en het hy waarlik tot bekering gekom. Hy het sy sonde aan die Here en aan Emma bely. Emma het die Here se voorbeeld gevolg en vir Gordon vergewe. Hulle het nie weer met mekaar getrou nie, maar in die jare voor sy dood het Gordon se lewe drasties en dramaties verander. Vandag is beide Gordon en Emma by die Here.4

Ek wens Emma se situasie oor niemand nie. My wens is egter dat Christen vroue se sagmoedige en onderdanige optrede mense vir die Here sal wen en in sommige gevalle selfs hulle eie mans (1Pet. 3:1-6).


1  C.S. Lewis, God in the Dock (London: Collins, Fount Paperbacks, 1971, 1979), 90

2  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

3  Sien die volgende artikel deur Wayne Grudem: http://helpmewithbiblestudy.org/11Church/PublicWhichDefinitionCorrectKephale4.aspx

4  Dave Harvey, When Sinners Say “I Do” (Wapwallopen, Pennsylvania: Shepherd Press, 2007), 77-8, 94-6