Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 March 2021

Familie, Huisgesin en Huwelik: Die Man se Rol

Efesiërs 5:25-33a

Die man se rol is eenvoudig: hy moet sy vrou liefhê. Die vraag is hóé, veral as mans wat hulle vroue slaan en verneuk, sê: ‘Ek het haar lief.’ Johannes sê: “Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid.” (1Joh. 3:18).1 Hoe moet ’n man sy vrou so liefhê?

1. Volg Jesus se voorbeeld (v.25-27)

’n Paar jaar gelede was ek deel van ’n komitee van predikante wat met ’n ander leraar moes praat, omdat hy besig was om te skei. Toe ons hom vra hoekom hy van sy vrou skei, toe sê hy: ‘Want ek is nie meer lief vir haar nie.’ Hy het geen begrip gehad van die liefde waarvan ons in v.25 lees nie. Die Griekse woord vir liefde [agapaō] staan in ’n voortdurende tydsvorm wat beteken jy moet aanhou om jou vrou lief te hê. Jy stop nie na 20 jaar, omdat sy plooie en grys hare het nie.

            Die Griekse woord vir liefhê staan ook in die imperatief wat beteken dat dit ’n opdrag is. Die implikasie is dat liefde nie bloot ’n emosie is nie, maar ’n daad wat jy kies om uit te voer, of nie. Om dus te sê: ‘Ek en my vrou skei, want ek het haar nie meer lief nie,’ is om te sê: ‘Ek sal nie doen wat v.25 sê nie, al sê die Here ek moet.’

            Die wêreld verstaan nie liefde nie. Hulle dink dit is iets wat met jou gebeur, terwyl die Bybel dit sien as iets wat jy doen. In baie gevalle volg die emosie van liefde as jy dade van liefde begin doen. Dit werk soos in die storie van die man wat van sy vrou wou skei en ’n prokureur gaan sien het. Die gesprek het as volg gegaan:

‘Hoekom wil jy jou vrou skei?’

‘Want ek het haar nie meer lief nie.’

‘Ek sê jou wat: kom ons ruk die mat onder haar uit. Spandeer die volgende drie maande om haar soos ’n koningin te behandel. Wees gaaf met haar, koop vir haar geskenke, help haar in die huis, dra haar op die hande, hanteer haar met respek, praat saggies met haar, en doen wat jy kan om dit vir haar lekker te maak. As sy dan begin dink daar is hoop, skei jy haar en los jy haar met niks. Hoe klink dit?’

Die man het die prokureur se raad gevolg en na drie maande teruggekom en gesê:

                    ‘Ek wil nie meer skei nie.’

                    ‘Hoekom nie?’

                    ‘Want ek het weer lief geraak vir my vrou.’

Hierdie is beginsel wat ons Joh. 13:17 kry: as jy doen wat reg is, sal jy gelukkig wees. So, voel jy koud teenoor jou vrou? Doen v.25 en tree liefdevol op. Doen dit, selfs al is daar niks in jou vrou wat jou aantrek nie. Doen dit om die Here te behaag. As jy dit met hierdie motief doen, sal jy dit regkry om aan te hou as jou vrou nie dadelik positief reageer nie. En as jy aanhou, sal die emosie van liefde volg. Die kanse is ook goed dat jou vrou op die einde reg sal reageer.

            Dalk sê jy: ‘Die vroumens maak my lewe nag en verdien nie my liefde nie!’ Maar onthou jy dat jy dit met God gedoen het en dat Hy jou ten spyte daarvan liefgehad het: “God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom. 5:8)?

            Doen dieselfde vir jou vrou (v.25). Skryf vyftig maniere neer hoe jy haar kan liefhê. Voeg weekliks by jou lys en doen elke dag twee van die items. Moenie die dinge kies waarvan jý hou nie, maar kies die dinge wat jou vrou sal laat weet jy is lief vir haar. Moet byvoorbeeld nie vir haar roomys koop as sy nie daarvan hou nie. Maak eerder die stukkende kasdeur reg waaroor sy jou al maande vra. Gebruik 1Kor. 13:4-7 as ’n riglyn van hoe jy jou vrou kan liefhê:

“Liefde bly geduldig,

liefde gee om,

liefde is nie jaloers nie,

spog nie,

en is nie verwaand nie.

Liefde tree nie onbehoorlik op nie,

jaag nie eiebelang na nie,

is nie liggeraak nie.

Dit hou nie boek van die kwaad nie,

is nie bly oor onreg nie,

maar is saam bly oor die waarheid.

Dit bedek alles,

glo alles,

hoop alles,

verduur alles.” 

Vul jou hart met hierdie waarhede en vra die Gees om jou te help om dit toe te pas. Die man wat homself met die Woord deurweek en op die Gees vertrou, is die man wat sy vrou sal liefhê soos Jesus die kerk liefhet (v.18, 25, Kol. 3:16, 19).

            Kan jy sien dat ’n goeie huwelik nie begin by die dinge wat jy vir jou vrou doen nie, maar by ’n gesonde verhouding met Jesus? Hoe kan jy jou liefhê soos Jesus liefhet, as jy Hom nie ken nie? Wil jy ’n man na God se hart wees en jou vrou liefhê soos Jesus die kerk liefhet (v.25)? Wees dan gereeld in die Woord en gebed. Wees ook betrokke in die kerk. Gebruik gereeld die nagmaal, sodat jy kan sien hoe Jesus die kerk liefhet en sy lewe vir haar afgelê het (v.25, Hand. 20:28). En as jy dit verstaan, sal jy nie vir jou vrou wag om eerste dinge reg te maak nie. Soos Jesus sal jý die eerste stap neem om dinge reg te maak, selfs al is sy die een wat verkeerd was.

            Hoe lyk dit manne: is daar dinge wat krap? Wees soos Jesus en spreek die probleem aan (v.25). Moenie ’n minuut langer wag nie, maar doen dit voor jy gaan slaap (4:26-27). Wees nederig as jy met jou vrou praat. Moet haar nie wil ‘fix’, sodat jy al háár foute uitwys nie. Bely liewer jou eie sonde en vra die Here om jou te verander. As jou vrou teen jou gesondig het, vergewe haar soos die Here jóú vergewe het (4:32, Matt. 6:12, 14-15, 18:21-35). Doen dit volkome soos Jesus vir jou gedoen het (Joh. 19:30, Heb. 10:17, 1Joh. 1:7). Moenie aan dinge van die verlede vashou wat jy nie wil vergewe nie—vergewe (v.25-26)!

***

God het die wêreld liefgehad (Joh. 3:16), maar Hy het ook ’n spesiale liefde vir sy bruid (v.25). So moet ’n Christen man sy vrou spesiaal liefhê. Wys jou optrede dat jou vrou vir jou nommer 1 is? Of spandeer jy meer tyd, aandag, liefde, en geld aan jou kinders, jou vriende, jag, sport, die kerk, jou stokperdjie, kollegas, werk, TV, die internet, jou familie, ontspanning, ensovoorts? Stel jy uit as jou vrou jou vra om die stoof reg te maak, maar as iemand anders se vrou jou dieselfde guns vra, spring jy dadelik? In daardie geval is jy nie soos Jesus wat sy bruid bo almal liefhet nie (v.25).

            Om jou vrou lief te hê soos Jesus die kerk liefhet, moet jy haar leer ken (1Pet. 3:7). Sit die idoot-boks (die TV) af en gesels met jou vrou. Vat haar vir koffie en vra haar vrae, sodat jy haar weer kan leer ken. Koop geskenkies, stuur boodskappe deur die dag, troos haar as sy hartseer is, hou haar vas. Wees soos die Here en dat jy vir haar lief is (v.25, Jer. 31:3). Gee haar jou volle aandag as sy haar hart met jou deel. Deel ook jou hart met háár soos Jesus sy hart met ons deel (Joh. 15:15). Moenie ’n toe boek wees nie, maar praat met jou vrou.

            Dit is sommer nonsens dat mans met ander vroue kuier, hulle vir koffie vat, vir hulle geskenkies koop, en die held probeer wees wat hulle krisisse oplos. Doen dit vir jou eie vrou en maak opofferings vir háár (v.25, 2, Gal. 2:20). Dit is wat Jesus gedoen het: Hy het nie sy eie belange gesoek nie, maar die kerk s’n (v.25). Om soos Hy te wees, moet jy jou vrou se belange bo jou eie stel (Fil. 2:3-4). Doen wat sý wil, selfs al is dit nie jou belangstelling nie (byvoorbeeld om saam met haar Mr. Price Home, of kwekery toe te gaan).

            Moenie net vir haar geld gee, of baie ure werk om kos op die tafel te sit, en dink jy is besig om op te offer nie. Dit is moontlik om dié dinge te doen, terwyl jy jou vrou afskeep. Om soos Jesus te wees, moet jy jouself, jou tyd, en jou aandag vir jou vrou gee (v.25). ’n Man wat verlief is, sê maklik dat hy ’n berg sal klim, of ’n oseaan vir sy geliefde sal swem. Maar as hy met haar trou, kan hy nie eers die TV afsit en Pick n Pay toe vir haar ry nie.

            As jy soos Jesus wil wees, moet jy bereid wees om jou lewe vir jou af te lê om haar te beskerm (v.25). “Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê.” (1Joh. 3:16). ’n Vriend van my was bereid om dit vir sy vrou te doen. Toe rowers in hulle huis inkom en sy vrou wou seermaak, toe slaan hy hulle met ’n stoel. Hy het ook die rower se geweer gegryp en met hom baklei.

            ’n Man wat sy vrou liefhet, sal haar egter nie net fisies beskerm nie, maar selfs teen haar eie kinders as hulle met haar terugpraat. Ook as mense haar kritiseer, of van haar skinder, sal haar man nie sê: ‘Sorteer julle eie issues uit!’ nie (vgl. Gen. 16:4-6). Nee, maar hy sal haar beskerm teen die mense wat haar afbreek. En as sý verkeerd is, sal jy haar op ’n mooi manier reghelp en teen die sonde beskerm.

            Dit is wat Jesus vir die kerk gedoen het. Hy het gesterf om haar te heilig en vir Homself af te sonder (v.26). Wees soos Jesus: moenie net jou vrou se sonde verdoem nie, maar help haar om te verander. Hoe moet jy dit doen? Jesus het sy bruid met die Woord gewas (v.26). Paulus verwys hier na ’n geestelike wassing waardeur Jesus ons van ons sonde reinig sodra ons weergebore word (Eseg. 36:25-27, Joh. 3:5, 1Kor. 6:11, Tit. 3:5). Die doop beeld dit uit as ons tot die Here roep om ons van ’n skuldige gewete te reinig (Hand. 10:44, 47-48, 22:16, Rom. 10:9, 1Pet. 3:21). Daarna reinig Jesus ons al hoe meer van ons sonde namate ons sy Woord hoor en doen wat Hy sê (v.26, Joh. 15:3, 17:17). Dit doen Hy, sodat Hy ons op die oordeelsdag as ’n rein, glansryke, en volmaakte bruid voor Hom kan stel (v.27, Matt. 13:43, Kol. 1:22, 1Joh. 3:2, Op. 7:14).

            Baie mans het nie hulle vroue só lief nie. Hulle wil hê dat hulle vroue uiterlik mooi moet wees en sê gedurig: ‘Verloor gewig!’ Maar hulle doen niks vir haar innerlike skoonheid nie (1Pet. 3:3-4). Hulle doen nie moeite om die Woord te ken, sodat hulle hulle vroue kan lei nie (v.26). Hulle lees nie die Woord saam met hulle vroue, sodat sy kan groei nie (v.26). Hulle stuur haar alleen kerk toe en sit nie saam met haar onder die Woord nie (v.26). Hulle kan nie die vrae wat sy hulle uit die Bybel het, antwoord nie (1Kor. 14:34-35).

            En dan verwag sulke mans mooi vroue met ’n goeie karakter, maar self doen hulle niks om hierdie skoonheid te kweek nie (v.26). Eintlik besoedel party van hulle hulle huwelike, omdat hulle met ander vroue flirt en na pornografie kyk. Hulle is nie soos Jesus nie.

 

2. Dink aan hoe jy jouself liefhet (v.28-33a)

Volgens die wêreld is ’n lae selfbeeld een van ons grootste probleme. Maar volgens die Bybel het ons onsself te véél lief (2Tim. 3:2). Eintlik is ’n lae selfbeeld ’n verskuilde vorm hoogmoed. Dit is asof die persoon sê: ‘Hoekom sien ander my nie raak nie? Hoekom sien niemand hoe spesiaal ek is nie?’

            Wanneer Paulus dus vir ’n man sê om sy vrou soos homself lief te hê, of dat die man wat sy vrou liefhet homself liefhet, bedoel hy nie dat jy jouself meer moet liefhê nie. Sy punt is eerder dat jy jou vrou só moet liefhê, dat jy vir haar sal doen wat jy vir jou eie liggaam doen (v.28, 33a, Matt. 7:12). Dit beteken dat jy vir haar kos voorsien; dat jy haar dokter toe vat as sy siek is, of as haar veranderende hormone vel probleme veroorsaak. Jy werk geduldig met haar as sy jou hulp vra om gewig te verloor. Jy koop wat sy nodig het om haarself mooi te maak. Jy help haar om die huis op te ruim, skottelgoed te was, die bed op te maak, en die kinders op te pas, sodat sy kan rus. Jy oorlaai haar nie deur elke naweek gaste te nooi nie. En as jy wel die slag gaste het, kuier jy nie so dat sy alleen in die kombuis moet werk nie.

            Om jou vrou lief te hê soos jy jouself liefhet, kan jy haar gerus ’n bietjie sakgeld gee. Tree ook namens haar in en sit jou voet neer as sy haarself by die kerk, of by die werk oorlaai. ’n Man wat sy vrou só liefhet, is soos iemand wat ’n vrugteboom water gee, bemes, en snoei: hy sal die goeie vrugte pluk (v.28). Maar as hy sy vrou afskeep, skiet hy homself in die voet. Hy benadeel homself, omdat hy ’n perd opsaal wat hom gaan afgooi: sy huwelik gaan sink. As jy jou lewe haat, skeep jou vrou af en baklei met haar (v.29). Hoekom sal jy jou eie liggaam haat (v.29)? Is dit nie beter dat jy dit voed en versorg nie? En moet jy jou vrou nie soos jou eie liggaam hanteer nie, siende dat julle een is (v.32)? Sorg asseblief dat jy jou vrou voed en koester en nie koes en voeter nie (v.29)! Voed haar fisies en geestelik. Bêre selfs iets vir die toekoms, sodat sy versorg sal wees as jy gesterf het.

       Koester haar deur skoon en netjies vir haar te wees; deur drukkies vir haar te gee, haar hand vas te hou, langs haar te sit, die kar se deur oop te maak, en haar te komplementeer: “...haar man, hy besing haar lof: ‘Baie vroue het hulle knap gedra,

maar jy, jy oortref hulle almal.’” (Spr. 31:28-29). Hanteer jou vrou soos ’n waardevolle item: pas haar op, werk saggies met haar, praat mooi met haar (1Pet. 3:7), praat goed van haar agter haar rug, moet haar nie verkleineer nie (veral nie voor ander nie), sê asseblief en dankie, vra haar insette en raad. Hanteer haar met respek. Moenie van die sitkamer af skreeu dat sy die baba moet vat nie, maar lig jou agterstewe en help haar! Om die woorde van ’n leraar in Jeffreysbaai te gebruik: ‘You married a princess, but you treat her like a hag [Afr. heks]!’ Moet jou vrou nie soos ’n man hanteer nie, maar koester haar soos Jesus sy liggaam, die kerk koester (v.29-30, 1:23, 4:16, 1Kor. 6:15). Doen dit, omdat jy en jou vrou een is (v.31, Gen. 2:24).

Moenie dat sy bedreig voel, omdat jy jou ouers bo haar stel en na hulle kyk vir leiding nie (v.31). Stel haar eerste en leef as ’n eenheid met haar (v.31). Deel alles met haar en moet niks terughou nie—ook nie jou liggaam nie (v.31, 1Kor. 6:16, 7:3-4).

Volgens Paulus is hierdie eenheid ’n geheimenis (v.32). In die Bybel is ’n geheimenis iets wat in die Ou Testament onduidelik was, maar wat God in die Nuwe Tesament bekendgemaak het (1:9, 3:3-6, 9, 6:19). Die huwelik is so. In die Ou Testament het ons dit hoofsaaklik as die verhouding tussen ’n man en sy vrou gesien (Gen. 2:24). Maar volgens die Nuwe Testament is die huwelik tussen ’n man en sy vrou net ’n prentjie van Jesus se verhouding met die kerk (v.31-32, 1Kor. 6:17).         Prakties beteken dit jou eerste plig as jy huweliksprobleme het, is nie om vir berading te gaan, ’n huwelikseminaar by te woon, of Christelike boeke oor die huwelik te raadpleeg nie. Jou eerste plig is eerder om in ’n regte verhouding met God te staan deur bekering en geloof in sy Seun. Leer Hom beter ken deur sy Woord, gebed, en ’n gesonde toewyding aan die kerk. Hierdie dinge is nodig, want as jou verhouding met die Here gesond is, sal jy jou vrou liefhê soos jy jouself liefhet (Matt. 22:37-39). Maar as jou verhouding met jou vrou nie reg is nie, blok dit die kanaal tussen jou en die Here (1Pet. 3:7).

Sien jy die bose kringloop? Baie mans se huwelike val uitmekaar, omdat hulle nie reg is met die Here nie. En omdat hulle nie reg is met die Here nie, is daar geen bron waaruit hulle kan tap om hulle vroue lief te hê nie. So draai hulle huwelik dan in ’n afwaartse spiraal, totdat dit uitmekaar val.

Manne: maak dinge reg met die Here en met jou vrou. Bely jou sonde en word vergewe. Vra die Here se leiding en krag om te verander. Moenie ’n verwronge beeld van Jesus se verhouding met die kerk vir die wêreld wys nie, maar wees lief vir jou vrou sodat mense jou oor Jesus sal uitvra.

’n Vrou in Nelspruit het my van ’n Amerikaanse sendeling vertel wat sy vrou só liefgehad het. Toe die sendeling en sy vrou een Sondag van die kerk af kom, het sy die oond aan vergeet en die vleis verkool. Sy het onmiddellik verskoning gevra, maar haar man het haar gerusgestel: ‘Moenie bekommerd wees nie my vrou. Dit is glad nie ’n probleem nie.’ Die vrou wat my die storie vertel het, was baie beïndruk toe sy sien hoe die sendeling sy vrou hanteer. Sy was verbaas dat hy haar nie berispe het nie.

In ’n wêreld soos ons s’n móét so iemand ’n indruk maak, omdat die meeste mans hulle vroue boelie, verkleineer, ignoreer, en grappe oor hulle maak. Laat ons dan liewer soos die sendeling wees en stroom op swem. Laat ons ons vroue liefhê soos Christus die kerk liefhet.


1  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

Kategorieë