Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 September 2015

Ek glo in die opstanding!

Empty tomb

Ek het gehoor hoe ‘n radio-omroeper vir Prof. Julian Müller van Tukkies vra of hy in Jesus se opstanding glo. Sy antwoord was: ‘Ek sê elke Sondag met groot vrymoedigheid die apostoliese geloofsbelydenis op: “Ek glo...in Jesus Christus...wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is...wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode...” Wat hy nié gesê het nie, is dat hy nie in Jesus se liggaamlike opstanding glo nie. Soos ander liberale teoloë glo hy dat Jesus in sy hart opgestaan het.

 

Volgens Paulus is iemand wat Jesus se liggaamlike opstanding ontken, glad nie eers ‘n Christen nie (1 Korintiërs 15:2, 14, 17). In 1 Korintiërs 15:1-11 bespreek hy Jesus se kruisdood vir ons sondes, sy begrafnis, en sy opstanding as die hart van die Christelike geloof.

 

Die kerk (v.1-2)

Waldo kry lewe deur sy ouers se liefde vir mekaar. Sy ma dra hom vir nege maande. Van sy geboorte af totdat hy die huis verlaat, koester en versorg sy ouers hom. Op ‘n dag draai hy om en sê hulle is nie sy ouers nie. So ontken hy nie net sy ouers nie, maar sy eie bestaan. En so is dit met Jesus se opstanding: daardeur lewe ons. ‘n Christen wat Jesus se opstanding ontken, ontken basies sy eie lewe en redding (v.14, 17).

 

As bewys van die opstanding, herinner Paulus die Korintiërs aan sy evangelie van die kruis en die opstanding (v.1, 2 Timoteus 2:8). Enige ander evangelie was nie net ‘n vals evangelie nie, maar geen evangelie nie (Galasiërs 1:6-9). Die Korintiërs het hierdie evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding in hulle harte ontvang, en is daardeur verander (v.1). Hulle het vasgestaan op hierdie rots (v.1, Romeine 5:2, 1 Petrus 5:12). God was besig om hulle deur hierdie evangelie te red (v.2). Die Griekse teks gebruik ‘n voortdurende tydsvorm en sê nie net dat God hulle gered het nie, maar dat Hy besig was om hulle te red. Hulle siele was nog nie volmaak nie, en hulle liggame was nog nie verlos nie (1 Johannes 3:2, Romeine 8:23). God red almal wat hierdie evangelie tot die einde toe vashou (v.2, Hebreërs 3:14). Almal wat nie volhard nie, het verniet geglo (v.2). Hulle geloof is vals soos die duiwel s’n (Jakobus 2:19). Die Korintiërs se opgestane siele was ‘n bewys van Jesus se opgestane liggaam (Efesiërs 2:1, 5).

 

Die Skrif (v.3-4)

Stuart Olyott vertel hoe God hom gered het toe hy uitvind dat Jesaja 53 700 v.C. geskryf is. Jesaja se akkurate profesie het hom oortuig dat dit waar is. Dis wat Paulus bedoel as hy sê dat Jesus se kruisdood en opstanding volgens die Skrifte is (v.3-4, vgl. Romeine 1:2, 3:21, Lukas 24:25-27, 44-47).

 

Volgens Paulus is niks belangriker as die evangelie nie (v.3). Daarom moet die Korintiërs daaraan vashou. Die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding kom nie uit Paulus se verbeelding nie – dit kom direk van God af (v.3, 11:23, Galasiërs 1:11-12). Paulus het dit eenvoudig soos ‘n getroue ambassadeur of posman afgelewer. Wat is die inhoud van die evangelie?

 

[1] Christus het vir ons sondes gesterf volgens die Skrifte (v.3).

  • Christus beteken Messias of Gesalfde.
  • Jesus het vir ons gesterf. Hy het dus ‘n plaasvervangende soendood gesterf en ons straf gedra (Jesaja 53:4-6, 10, Romeine 3:25). Jesus het nie net gesterf om ‘n voorbeeld van opoffering daar te stel nie.
  • Jesus het vir ons gesterf – vir sy kerk, sy skape, sy vriende (Johannes 10:11, 15:13, Handelinge 20:28, Efesiërs 5:25).
  • Jesus het vir ons sondes gesterf: al ons sonde van die verlede, die hede, en die toekoms. Hy het gesterf vir ons sondige natuur, asook vir ons sondige woorde, denke, en dade.
  • Jesus het vir ons gesterf volgens die Skrifte. Verskeie Ou Testament tekste het sy soendood voorspel (Genesis 3:15, Jesaja 53, Eksodus 12, Genesis 22, Daniël 9:24, 26, Sagaria 3:9, Psalm 22, 69, die Ou Testament offers). Die evangelie was nie ‘n plan-B nie, maar was nog altyd deel van God se raadsplan (Handelinge 2:23).

[2] Hy is begrawe (v.4).

  • Jesus se begrafnis het gewys dat Hy regtig dood was (Johannes 19:38-42). Die water en bloed uit sy sy het dit ook gewys (Johannes 19:33-35). As jy sy begrafnis ontken, kan jy ook sy opstanding ontken.
  • Dit is presies wat die Moslems doen. Hulle sê dat Jesus nie regtig dood was nie. Party glo Judas het in sy plek gesterf. Die Qur’an sê: ‘That they said (in boast), ‘We killed Christ Jesus the son of Mary, the Messenger of Allah’; – but they killed him not, nor crucified him. Only a likeness of that was shown to them. And those who differ therein are full of doubts, with no (certain) knowledge. But only conjecture to follow, for of a surety they killed him not: – Nay, Allah raised him up unto Himself’ (Sura 4:157-158).

 

[3] Jesus is opgewek op die derde dag volgens die Skrifte (v.4).

  • Hy is opgewek deur die Vader (Handelinge 2:24, 3:15, Romeine 6:4).
  • Hy is opgewek op die derde dag. Dit bewys Hy was regtig dood en nie maar net bewusteloos nie.
  • Hy is opgewek volgens die Skrifte (sien Psalm 16:10, Handelinge 2:25-32, Jesaja 53:10-12, Matteus 12:40).

 

Die ooggetuies (v.5-7)

In 2014 het die Oscar Pistorius saak opspraak gemaak. Die hof en die publiek was onseker en kon nie met 100% sekerheid sê dit was kwaadwillige moord nie. Gestel daar was 500 + ooggetuies wat een vir een noukeurig ondervra is, en almal dieselfde storie gegee het. Die hof sou onmoontlik kon sê dat almal lieg. Kan dit wees dat 500+ getuies oor Jesus opstanding gelieg het? Dit is baie onwaarskynlik.

 

Die graf was leeg. Jesus het aan baie mense verskyn. Alhoewel Jesus eerste aan die vroue verskyn het, noem Paulus dit nie, omdat hy meerendeels van die amptelike getuies praat (vgl. Handelinge 1:8, 21-22, 10:40-41).

 

[i] Jesus het aan Cefas of Petrus verskyn (v.5, Johannes 1:43, Lukas 24:34). Petrus was die leier, maar Jesus het ook aan hom verskyn omdat Petrus Hom verloën het. Jesus wou Hom gerusstel en vergewe.

 

[ii] Jesus het aan die twaalf verskyn (v.5, Johannes 20:19-29). Judas en Tomas was nie daar nie, maar ‘die twaalf’ is ‘n generiese term (byna soos ons kan praat van die Springbok vyftiental – selfs as iemand ‘n geelkaart gekry het, en daar net veertien spelers op die veld is).

 

[iii] Jesus het gelyk verskyn aan meer as 500 (v.6). Party van hulle het al geslaap. Paulus verwys na die dood as slaap. Hierdeur impliseer hy dat hulle weer sal wakker word – op die laaste dag. Die meeste van hulle het egter nog gelewe en kon ondervra word (v.6).

 

[iv] Jesus het aan Jakobus verskyn (v.7). Paulus verwys waarskynlik na Jesus se halfbroer (Matteus 13:55). Voor Jesus se opstanding het Jakobus nie in Hom geglo nie (Markus 3:21, 31-35, Johannes 7:5). Ná hierdie verskyning het hy geglo (Handelinge 1:14). Hy het later die leier van die kerk in Jerusalem geword (Handelinge 12:17, 15:13, 21:18, Galasiërs 1:19, 2:9). Dis hý wat die Jakobus-brief geskryf het (Jakobus 1:1).

 

[v] Jesus het aan al die apostels verskyn (v.7). Paulus verwys seker hier na Jesus se verskyning net voor sy hemelvaart (Handelinge 1:4-11).

 

Paulus (v.8-10)

‘n Man in Nelspruit het vir my vertel dat Jesus in sy stiltetyd aan hom verskyn het. Ek dink dat hy en ander wat so sê ego-sentries is. Paulus het gesê dat hy die laaste een is aan wie Jesus verskyn het (v.8). Maar hoekom glo ons nie Paulus was mal nie? Die rede is omdat hy een oomblik vir Jesus gehaat en Hom vervolg het, en Hom die volgende oomblik liefgehad en sy lieflike Naam verkondig het. Almal het geweet sy ervaring was eg. “hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei. En hulle het God verheerlik in my.” (Galasiërs 1:23-24). Die skielike en radikale verandering in sy lewe het gewys hy was nie dronk toe hy gesê het hy’t vir Jesus gesien nie.

 

Jesus het heel laaste aan Paulus verskyn (v.8, 9:1). Hy was soos ‘n miskraam of ‘n aborsie (v.8, Gk.): hy was dood en het toe nuwe lewe gekry! Kan ‘n dooie Verlosser geestelike lewe in ‘n sondaar se hart gee? Die opgestane Jesus het vir Paulus op die Damaskuspad gered (Handelinge 9).

 

Paulus het God se kerk vervolg (Handelinge 26:9-11). Daarom was hy die minste van die apostels, onwaardig om ‘n apostel te wees (v.9, vgl. Efesiërs 3:8, 1 Timoteus 1:15). Sy redding en apostelskap was pure genade (v.10). Hierdie genade aan hom was nie tevergeefs nie: hy het dit spandeer om oral te vertel hoe wonderlik Jesus is (v.10). Dis byna soos ‘n kind wat sakgeld by sy pa kry, en dit gebruik om ‘n geskenk vir sy pa te koop.[1]

 

Paulus het harder gewerk as die res van die apostels (v.10). Hy het in ‘n kort tyd meer bereik (Romeine 15:17-19), en het meer lyding verduur (2 Korintiërs 11:23). Paulus is nie arrogant nie, maar sê dat hy dit deur die genade van God gedoen het (v.10, 1:31, 4:7, Kolossense 1:29, 2 Korintiërs 3:5). Hy klink omtrent soos Charles Spurgeon. Hy het partykeer 18 ure per dag gewerk. Toe David Livingstone vir hom vra hoe hy dit regkry om twee mense se werk te doen, het hy gesê: ‘You have forgotten there are two of us!’[2] As God vir ‘n ‘miskraam’ soveel lewe en krag kan gee, kan Hy sekerlik dooies ook opwek.

 

Die apostels se prediking (v.11)

My oom het ‘n goeie algemene kennis. Toe hy in Engeland gebly het, was daar ‘n inbel program. Die omroeper het gevra wie ‘n beter veelsydige krieketspeler is tussen Andy Flinthoff van Engeland en Jacques Kallis van Suid-Afrika. Natuurlik het die Engelse ingebel en gesê dis Flinthoff. My oom het ingebel, die statistiek vir die omroeper gelees, en gesê dis Kallis. ‘Tipies Suid-Afrikaner!’ het die omroeper gesê.

 

Paulus was nie iemand op die buitewyke wat sy eie idees gepreek het nie. Die ‘statistiek’ het gewys dat al die apostels hierdie opstandingsboodskap gepreek het (v.11, 3-4). En dit was hierdie evangelie wat die Korintiërs se lewens verander het (v.11, 3-4).

 

Hoe moet ons vandag se teks toepas? Staan vas as ateïste, liberale teoloë, en Moslems Jesus se opstanding aanval (v.1). Deur die eeue het baie mense sy opstanding aangeval, maar nog niemand kon dit verkeerd bewys nie. Volgens liberale teoloë het diewe sy liggaam gesteel. Maar die wagte, die verseëlde graf (Matteus 27:62-66), en die netjiese-gevoude grafklere (Johannes 20:6-7) bewys dat dit nie diewe kon wees nie. Ander sê dat honde sy liggaam opgeëet het. Maar sy begrafnis (Matteus 27:57-61) bewys hierdie teorie verkeerd. In die Bybel was dit vervloekte mense wie se lyke deur honde geëet is (1 Konings 14:11, 2 Konings 9:35-37).

 

Liberale teoloë – net soos die Ou Apostels – sê dat Jesus in ons harte opgestaan het. Maar daar was getuies wat Hom gesien en aan Hom geraak het; Hy het voor hulle oë geëet (1 Johannes 1:3, Johannes 20:27, Lukas 24:36-43).

 

En wat van die leë graf: hoekom kon niemand tóé of nóú navore kom met sy liggaam om evangeliese Christene stil te maak nie? Hulle sê dat die dissipels sy liggaam gesteel het (Matteus 28:11-15). Maar die dissipels het nie geglo toe die vroue vir hulle gesê het Hy’t opgestaan nie (Lukas 24:11, 22-24). Die vroue self het graf toe gegaan om sy lyk te versorg – hulle het nie ‘n leë graf verwag nie (Lukas 24:1, Johannes 20:13).

 

Ateïste sê dat die opstanding nie wetenskaplik bewys kan word nie (so asof evolusie kan). Maar kan jy wetenskaplik bewys dat Julius Caesar bestaan het? Hoe? Jy kan nie. Die getuienis van ander bevestig die geskiedenis.

 

Wat dan van die ooggetuies wat die opgestane Jesus gesien het? Kan dit gebeur dat 500 ooggetuies halusineer (v.6)? Die moontlikheid is skraal. Maar selfs as dit was, sit ons nog met ander getuies en verskynings (v.5, 7, Handelinge 1:3). Dit is onmoontlik dat soveel verskillende mense op verskillende tye en plekke almal gehipnotiseer was. As hierdie mense die storie opgemaak het, sou iemand se gewete hom gepla het; êrens sou iemand homself vasgelieg het. Hoekom sou talle Christene in die geskiedenis gesterf het vir iets wat hulle geweet het ‘n leuen is?

 

Ateïste, liberale teoloë, en Moslems sê: ‘Die Skrif se getuienis is nie waar nie –die dokumente is vervals.’ Ons antwoord: Josefus het ‘n kort tydjie na Jesus geleef. Hy het ‘n geskiedenis van die Jode geskryf. Vandag is daar nege Griekse manuskripte wat 900-1100 jaar ná Josefus oorgeskryf is. Tog glo ons dís eg. Daar is meer as 5000 Griekse manuskripte van die Nuwe Testament. In 1934 het C.H. Roberts ‘n fragment uit Johannes-evangelie ontdek. Dit is tussen 100-150 n.C. oorgeskryf; ‘n paar dekades nadat Johannes geskryf het.[3]

 

Moenie val asof Moslems, liberale professors, en National Geographic ‘bewys’ het dat die Nuwe Testament manuskripte vervals is nie. Ons kant van die skaal weeg baie swaarder. Buitendien het ons nie slim professors nodig om die opstanding te bewys nie. Die evangelie en die Bybel is genoeg: dit is die krag van God (Romeine 1:16, Hebreërs 4:12).

 

Ateïste en liberale teoloë sê: ‘Die misterie kultusse praat van gode wat sterf en weer opstaan. Christene kry hulle idees oor die opstanding hiér.’ Ek antwoord: Geen heidense god het vir ander gesterf, vir hulle sondes gesterf, eens en vir altyd gesterf, vrywillig gesterf, of in oorwinning gesterf nie. Daar is geen bewyse dat enige van die misterie godsdienste se gode opgestaan het soos Jesus nie.[4]

 

Ateïste sê Christene glo in die opstanding omdat hulle wil. Wat ek tot nou toe gesê het bewys dat die opstanding op feite gebasseer is. Buitendien sny die argument beide kante toe. Christene kan ook sê dat ateïste God se bestaan ontken, omdat hulle nie in Hom wíl glo nie.

 

Geloof in die evangelie van die kruis en opstanding is nie ‘n blinde sprong in die donker nie. Ons sê nie: ‘Ons hoop maar dis waar!’ nie. Die Christelike geloof is gebasseer op geskiedkundige feite (v.3-4). Hou op om die opstanding te verwerp, omdat jy soos ‘n skaap volg wat ander oor Jesus sê. Ondersoek dit vir jouself. Lees die vier Evangelies en jy sal sien dis waar.

 

Die wêreld ontken nie die opstanding omdat die feite ontbreek nie. Hulle weet as hulle dit erken, moet hulle hul sonde los en die knie buig voor Jesus. Los jou sonde. Glo dat Jesus vir sondaars gekruisig is en dat Hy opgestaan het uit die dood. Glo sy beloftes dat Hy dié red wat hulle bekeer, in Hom hoop, en op Hom vertrou.

 

Hoekom moet jy vasstaan m.b.t. die opstanding? Die hemel en die hel is op die spel. As jy die opstanding verwerp, sal jy in jou sondes sterf (v.2, 17).

 

Soos Paulus, het Ferdie Mulder in 2001-2006 by TUKS gestry vir die waarheid van Jesus se liggaamlike opstanding. Hy het geweier om die dosente te glo wat dit ontken het (v.12). Hy het die prys betaal en is in 2006 geskors.

 

Daar is dominees en kerke in Kempton Park wat die opstanding ontken. Dalk werk sommige van hulle lidmate saam met jou. Of hulle kinders is saam met jou kinders op skool. Mag die Heilige Gees 1 Korintiërs 15:1-11 in jou hart vas sement, sodat jy nie saam met hulle verwar word nie. Mag jy vreesloos van die opgestane Jesus getuig.

[1] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.694

[2] John Piper se audio-biografie oor die lewe van Charles Spurgeon. Lees dit by www.desiringGod.org

[3] Lee Strobel, The Case for Christ, pp.77-80

[4] Ronald Nash, www.equip.org/PDF/DB109.pdf, pp.6-8

Kategorieë