Coram Deo Cover Image

Coming soon...

15 March 2019

Ek glo in die kerk

Image result for people in church

Romeine 12:3-5

Dalk maak my tema jou die hoenders in. ‘Ek glo in Jesus en nie in die kerk nie,’ sê jy. Maar wie is die Jesus in wie jy glo? Is Hy nie die Hoof van die kerk nie? In die Bybel lees ek van die kerk as “die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef. 1:23). Jesus het ons nie nodig nie, en tog wil Hy nie sonder ons wees nie. Hy het die kerk so liefgehad dat Hy sy lewe daarvoor afgelê het (Hand. 20:28, Ef. 5:25). En wil jy maak asof die kerk ‘n opsie is?

Dit is hoe baie mense deesdae met die kerk omgaan. As hulle baba kry, trou, of doodgaan, is die kerk goed genoeg. Maar vir die res voel hulle ‘n veer vir die kerk. ‘Solank ek ‘n persoonlike verhouding met Jesus het, maak dit nie saak wat my verhouding met die kerk is nie,’ sê hulle. Maar om so te redeneer is onbybels en vreemd aan die Nuwe Testament, waar die eerste Christene hulle lewe aan die kerk gewy het (Hand. 2:42). Wat John MacArthur van die kerk sê, was ook hulle belewenis:

‘The church is your nation. The church is your country. The church is your state. The church is your city. The church is your tribe. The church is your ethnicity. The church is your family... The church is heaven on earth. It’s going to be a heavenly experience brought down to earth.’ [https://www.gty.org/library/sermons-library/81-8/your-responsibility-to-the-church-part-1].

Mense wat nie toegewyd is aan die kerk nie, laat groot vraagtekens oor hulle toewyding aan Christus. Hoe kan jy sê jy is toegewyd aan die Hoof as jy nie tyd het vir sy liggaam nie? Volgens Paulus in Rom. 12:3-5, sal elke ware gelowige deel wees van ‘n gemeente en sy gawe gebruik om dit op te bou.

 

  1. Dink reg oor jou gawe (v.3)

Ons dink aan ‘n Christen as iemand wat in Jesus glo, goed lewe en elke dag sy Bybel lees en bid (al is hy nie deel van ‘n gemeente nie). Maar wat sou jy doen as jy in Paulus se tyd gelewe het? Hoe leer ‘n mens die Woord in ‘n wêreld waar niemand sy eie Bybel besit nie? Hoe oorleef jy sonder die kerk in wêreld waar Christene vervolg word?

Om die Here se wil te ken, die evangelie uit te leef, ‘n aanneemlike offer vir die Here te wees,  anders as die wêreld lewe, moet jy deel wees van die kerk. Om m.a.w. v.1-2 reg te doen, moet jy v.3-5 doen. Die opdragte wat Paulus hier aan die kerk gee, is nie sy eie idee nie. Hy sê dit volgens die genade wat hy ontvang het om ‘n apostel te wees (v.3, 1:5, 1Kor. 15:10). Ons het dus nie ‘n keuse of ons v.3-5 wil gehoorsaam of nie. As jy Jesus jou Here noem, móét jy doen wat Hy in v.3-5 sê.

Voordat Paulus in v.6-8 die gawes lys, wys hy hoe ons dit moet gebruik. In die eerste plek moet jy reg dink (v.2). Moenie meer van jouself dink as wat jy behoort nie (v.3, Gal. 6:3). Moet m.a.w. nie hoogmoedig wees en in jouself roem, asof jy beter is as ander nie. ‘n Bekende aanhaling van Amy Carmichael (1867-1961) lui: ‘Those who think too much of themselves don’t think enough.’

Vergeet dan van die wêreld wat sê jy moet ‘n fantastiese selfbeeld hê en jouself liefhê (kontra 2Tim. 3:2). Moenie dagdroom oor hoe mense om jou saamdrom en jou gelukwens of prys nie. Onthou dat jy stof en as is; afgeknyp van ‘n stukkie klei (Gen. 2:7, 3:19, 18:27, Job 33:6). In jouself is jy niks. Alles wat jy is en het, kom van die Here af; ook jou geestelike gawe (v.3-8, 11:36, 1Kor. 4:7).

Wat ek is, is net genade.

Wat ek het, is net geleen.

—Koos du Plessis—

Dink nugter oor jouself; wees beskeie (v.3). Moenie sê: ‘Hoekom sien niemand my raak nie. Ek lyk dalk soos ‘n stukkie steenkool, maar daar is ‘n diamant in my. Iemand moet dit net sien en my potensiaal ontdek.’ Selfbejammering is lelik en is ‘n subtiele vorm van hoogmoed. Waar grootpratery vir almal wys wie hy of sy is, roep selfbejammering uit: ‘Kan iemand asb. sien wie ék is?!’

Vergeet eerder heeltemal van jouself, fokus op die Here en dien ander. Dien volgens die gawe wat die Here jou gegee het (v.3). Moenie sê: ‘Ek is nie so begaafd soos hy of sy nie; ek het nie ‘n gawe nie.’ Jy hét ‘n gawe. Elke gelowige het een (v.3, 1Kor. 12:7). God gee dit volgens die maat van elkeen se geloof (v.3, vgl. Ef. 4:7). Wat beteken dit? God gee aan jou geloof om die Heilige Gees vir krag te vertrou, sodat jy jou gawe kan gebruik om die gemeente op te bou (v.3).

Wie besluit watse gawe jy kry? God. Hy deel dit uit soos Hy wil (v.3, 1Kor. 12:4-6, 11, 18). Hy het bv. gekies dat George Whitefield en Charles Spurgeon tienduisende mense moes bedien, maar het besluit dat ek en Piet-preek-nie-so-goed net 80 mense moet bedien. Hy kies dat Karen uitstekend is met ou mense en kinders, ‘n gawe het om by te dra, puik organiseer en die evangelie met sukses deel. Maar Hy besluit ook dat oom Jan net een gawe het, naamlik om getrou en met toewyding vir God se Koninkryk te bid.

Hoekom doen Hy dit so? Want Hy is soewerein, goed en wys. Hy weet wat Hy wil bereik en hoe Hy dit wil doen. Moet daarom nie jaloers wees as jy minder gawes het as iemand anders, of nie op die voorgrond is soos hulle nie. Dit is nie ‘n kompetisie nie. Ons werk vir dieselfde Koning en poog om dieselfde liggaam op te bou.

 

  1. Dink reg oor die kerk (v.4-5)

Paulus gebruik die illustrasie van ‘n menslike liggaam om te wys hoe die gemeente en geestelike gawes werk (v.4, 1Kor. 12:12, 14). Die mens se liggaam het baie dele: hande, bene, tone, oë, ‘n mond, ‘n nek, skouers, niere, ‘n hart, senuwees, are, ‘n geraamte, ens. (v.4). Die verskillende dele het nie dieselfde funksie nie (v.4). Jy het hande om mee te vat, en nie om mee te loop nie. Jy het ‘n neus om mee te ruik, en nie om mee te proe nie.

So is daar in die liggaam van Christus verskillende mense met verskillende gawes, maar ons is een liggaam (v.5). Wat beteken dit in die praktyk? ‘n Duim wat afgesny is en eenkant lê, beteken niks. Net so kan geen gelowige op sy eie funksioneer, of groei soos hy moet nie. Ons het mekaar nodig.

Daarom moet ons nie verdeeld wees nie. As jy met ‘n ander gelowige twis of rusie maak, is dit asof jy jou eie oog blou slaan met jou vuis: jy benadeel jouself (v.5, vgl. Ef. 4:25). As Hennie bv. kwaad is vir Marié, wil hy nie kerk toe kom nie. Hy mis uit op die prediking van God se Woord, die nagmaal, die gemeenskap van die gelowiges, die gebede en ander se gawes. Hy benadeel ook die gemeente, omdat hy nie hier is om sy gawe te gebruik en ander te dien nie.

Bewaar daarom die eenheid (Ef. 4:3). Hoe? Besef dat jy deel is van dieselfde liggaam, dat jy in dieselfde God glo, en dat jy op pad is na dieselfde hemel (Ef. 4:4-6). Wees ook nederig en stel ander bo jouself. Wees verdraagsaam, sagmoedig en geduldig met ander wat nie op elke punt met jou saamstem nie. Wees lief vir mekaar en wys dit op praktiese maniere (Ef. 4:2).

Volgens Paulus was die Christene in Rome een liggaam in Christus (v.5). Ek wil drie opmerkings hieroor maak:

[a] Alhoewel elke gemeente deel is van die groter kerk op aarde, is elke gemeente ook ten volle die liggaam van Christus en het ons al die nodige gawes om reg te funksioneer (v.4-5). Dit is nie asof óns gemeente die oog is, terwyl die Gereformeerdekerk in Geneve die voet is, en die Presbiteriaansekerk in Taipei die neus nie. Dit is ook nie so dat God die gawes eweredig in ‘n denominasie versprei, sodat óns gemeente die oog is, die Baptistekerk in Rietfontein die duim, die Baptistekerk in Parys die nek, ens. nie.

Kemptonpark Baptistekerk (soos elke ander gemeente op aarde) is ten volle die liggaam van Christus op haar eie. Alhoewel ons nie ‘n eiland is wat onsself van ander gelowiges afskei nie, glo ons nie in ‘n enkel leier soos die Katolieke, of in ‘n sinode waarin ‘n vergadering van predikante besluite neem waaraan elke gemeente haar moet onderwerp nie. Soos ons die Bybel verstaan is elke gemeente outonoom. Elke gemeente het m.a.w. haar eie leiers en neem haar eie besluite.

Ons werk op verskeie vlakke saam met ander gemeentes (bv. in die opleiding van predikante) en geniet gemeenskap met hulle, maar ons is nie aanspreeklik teenoor die ABK (die Afrikaanse Baptistekerke), die Uitvoerende Komitee of die President van die ABK nie. Onder Christus en sy Woord, is ons aanspreeklik teenoor mekaar en die ouderlinge van ons gemeente.

Soos reeds gesê, is dit goed om deel te wees van ‘n assosiasie. Maar as ons nié deel is nie en net op ‘n informele vlak met ander gemeentes skakel, is ons nie skielik ‘n liggaam sonder ‘n mond of hand nie. Volgens v.4-5 is ons nog steeds ten volle liggaam van Christus, vir elke goeie werk volkome toegerus.

[b] Ons is een liggaam in Christus (v.5). Hy is die Hoof (Ef. 1:22, 5:23, Kol. 1:18). Hy besluit wat hier gebeur. Hy maak sy wil bekend deur die leiers wat die Bybel onderrig (Jer. 3:15, 1Tim. 4:13-16, 2Tim. 4:2). As die ouderlinge die Bybel preek, moet jy gehoorsaam wees. As hulle dit nie doen nie, moet die res van die leiers en die gemeente hulle uit die kansel hou. As hulle hulle nie wil bekeer nie, moet ons hulle uit die gemeente verwyder.

[c] ‘Een liggaam in Christus’ beteken ook nét gelowiges mag deel wees van die kerk. Om ‘n lidmaat te wees, moet jy ‘n wedergebore Christen wees. Jy moet die evangelie glo soos dit in die Bybel staan en soos ‘n Christen lewe.

Dalk voel jy uitgesluit omdat jy nie deel van die gemeente is nie. Hoekom is jy nie deel nie? Is dit omdat jy jou nog nie van jou sonde bekeer het nie? Gaan jy uitstel totdat jy dood is? Los jou sonde. Vra die Here om jou te vergewe en sy Seun se lewe, kruisdood en opstanding in jou plek te aanvaar. Laat jou doop en word deel van die gemeente.

Staan jy op ‘n afstand, omdat jy dink lidmaatskap is onbelangrik? Dan het jy nie geluister wat ek die afgelope halfuur gesê het nie. Vra vergifnis dat jy ‘n lae siening het van die gemeente vir wie Jesus sy lewe afgelê het.

Staan jy nog buite, omdat jy nie weet hoe om deel te word van die gemeente nie?

  • Besoek ons eers vir ‘n paar maande. So kan ons jou leer ken en jy vir ons. Jy kan ook sien of ons aan die vereistes van die Bybelvoldoen.
  • As jy na ‘n paar maande nog besluit jy wil deel word, kan jy ‘n lidmaatskapvorm invul. Ons wil o.a. sien of jy die evangelie verstaan en of jy dit gehoorsaam.
  • As jy nog nie as ‘n gelowige gedoop isnie, vereis ons dat jy gedoop moet
  • Jy moet vir vyf weke ‘n lidmaatskapklas bywoon. So kry jy ‘n geur van wat ons gemeente glo en hoe ons funksioneer.
  • Jy moet onderneem om jou pligte as lidmaat van die gemeente na te kom (bv. om heilig te lewe, jou aan die kerk se dissipline te onderwerp, nie van die samekomste af weg te blynie, ens.).
  • Jy moet ons geloofsbelydenis onderskryf. As jy ooriets soos die liggaamlike opstanding van Jesus verskil, kan jy nie ‘n lidmaat wees nie. As jy egter oor iets soos die uitverkiesingsleer verskil, mag jy ‘n lidmaat wees. Jy moet egter instem om nie jou siening te propageer, die leierskap teë te gaan, of verdeeldheid te maak nie.
  • As jy die hele proses gevolghet, maar die ouderlinge onseker is oor iets, sal ons ‘n onderhoud met jou voer.
  • As ons tevrede is met alles, sal ons jou naam vir twee weke in die kerkafkondig. Indien niemand ‘n beswaar het nie, sal ons jou as ‘n lidmaat van die gemeente verwelkom.

Vir dié wat reeds lidmate is, is v.4-5 ook belangrik. Jy het die kerk nodig en die kerk het jou nodig. As jy ongereeld hier is, is die liggaam gebreklik. Dit is soos om sonder ‘n oor, skouer of maag te probeer funkioneer.

Dalk is jy gereeld hier, maar hou jy ‘n sitplek warm. Gebruik jou gawe. Raak betrokke. Dien. Hoe doen ‘n mens dit? Ek gaan volgende keer vir jou wys. Vir nou is dit genoeg om te sê dat jou toewyding aan die kerk belangrik is. As jy dink dat ek te veel van die kerk maak, kan jy gerus jou kop afsny, omdat ‘n hoof sonder ‘n liggaam blykbaar voldoende is.

Kategorieë