Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 July 2016

Die wêreld se haat vir Jesus

Hate

Hoekom is dit dat mense wat in die filmbedryf werk nie Vishnu, Krishna, Buddha, Allah, Mohammed of ander godsdienstige karakters se name as ‘n vloekwoord gebruik nie? Hoekom gebruik hulle Jesus se Naam; hoekom laster hulle Hom?  Is dit nie juis omdat Hý die ware God is, en omdat hulle Hom haat nie?  In Jh.7:1-24 het ons ‘n illustrasie van hoe die wêreld vir Jesus haat.

 

Jesus en sy broers (v.1-9)

Ek onthou ‘n paar gevalle waar ek iemand se sonde vir hulle uitgewys het, en hulle woedend was. Die een persoon het die fokus van homself probeer afkry deur te sê dat dit ander mense se skuld is.  By ‘n ander geleentheid het die man die situasie probeer omswaai deur op mý sonde te fokus.  In nog ‘n geval het die persoon my van ‘n kant af ingeklim en iets gesê soos:  ‘Wie gee vir jou die reg om mý te oordeel?’  Ek self het al in die strik getrap en kwaad geword toe iemand my sonde uitgewys het.  Jesus sê dat dit ‘n kenmerk van die wêreld is (v.7).  Dit is omdat Hy hulle sonde uitgewys het wat hulle Hom wou doodmaak.

 

Die gebeure in hfst.6 het net voor die Paasfees plaasgevind (6:4). Hfst.7 het ongeveer ses maande later, tydens die Huttefees plaasgevind (v.2).  Gedurende hierdie Fees moes die volk die eerste oes van hulle wingerde en olyfboorde vir die Here gebring het (Eks.22:16, Dt.16:13).  Om hierdie rede is dit ook die Fees van Insameling genoem (Eks.34:22).  Dit is gehou van die 15de tot die 21ste dag van die sewende maand (Lv.23:34).  Die volk moes takke afgesny het om hutte of tente mee te bou; hulle moes tydens die sewe dae van die Fees in hierdie hutte gebly het (Lv.23:42).  So het hulle onthou dat hulle vir 40 jaar in die woestyn in hutte gebly het, en dat God vir hulle gesorg het (Lv.23:43).

 

Jesus was nog in Galilea (v.1, 6:1). Die Jode in Judea wou Hom doodmaak, en daarom wou Hy nie onnodiglik daar gewees het nie (v.1, 5:1, 18, 8:37, 40, 59, 11:53).  Sy broers het egter vir Hom gesê om na die Fees toe te gaan.  Hulle het seker geweet dat baie van sy dissipels in Galilea Hom verlaat het (6:66).  ‘Hoekom wil jy in die platteland rondhang as daar duisende mense by die Fees gaan wees?  Jy kan mos dáár jou wonderwerke doen, sodat jou dissipels dit kan sien en in jou kan glo.  Iemand wat beroemd wil wees kan nie in ‘n afgeleë hoekie werk nie.  Gaan dan na die Fees in Jerusalem toe, sodat jy jouself vir die wêreld kan wys.’ (v.3-4).

 

Dit is min of meer wat Jesus se broers vir Hom gesê het. Soos die res, het hulle ‘n politieke en wonderwerkende Messias verwag.  Dit is erg genoeg dat die Jode Hom verwerp het.  Maar dit is tragies dat sy eie familie nie geglo het dat Hy die Seun van God is nie, en dat hulle gedink het Hy is mal (v.5, Mt.13:57, Mk.3:21).  Eers ná sy opstanding het hulle in Hom geglo (Hd.1:14).  Hulle name was Jakobus, Josef, Simon en Judas (Mt.13:55).  Jakobus het die brief geskryf wat sy naam dra, terwyl Judas die brief geskryf het wat sý naam dra (Jk.1:1, Jud.1).  Jakobus het ook ‘n apostel en die leier van die kerk in Jerusalem geword (Hd.15:13, 21:18, 1 Kor.15:7, Gal.1:19, 2:9).

 

Jesus het vir sy broers gesê dat sy tyd nog nie gekom het om na die Fees toe te gaan nie, maar dat hulle enige tyd kon gaan (v.6). As Hy aan die begin van die Fees in Jerusalem opgedaag het, sou die Jode Hom doodgemaak het (v.1).  Omdat dit nog nie sy bepaalde tyd was om te sterf nie, sou Hy nie saam met sy broers na die Fees toe opgegaan het nie (v.8).  Bowenal sou Hy nie gegaan het met die doel wat sy broers in gedagte gehad het nie, nl. om Homself vir die wêreld te wys (v.8, 4).  Dit sou Hy eers by die volgende Paasfees gedoen het (12:32).  Wat hierdie Fees betref het, sou Jesus nie dadelik gegaan het nie (v.9).  Hy sou in die geheim gegaan het en eers halfpad deur die Fees in Jerusalem opgedaag het (v.10, 14).

 

Omdat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie (v.5), was hulle deel van die wêreld, en daarom kon hulle openlik na die Fees toe gegaan het. Die wêreld het hulle nie gehaat soos wat hulle vir Jesus gehaat het nie (v.7, 15:19, 23-24).  En hoekom het hulle Hom gehaat?  Omdat Hy deur sy lewe en lering vir hulle gewys het dat hulle harte en werke boos is (v.7, 2:13-17, 3:19-20, 4:18, 48, 5:14, 40, 44, 6:26).  Die ongelowige wêreld het nie daarvan gehou dat Jesus hulle harte blootgelê het, en sy vinger op ‘n rou senuwee gelê het nie – daarom het hulle Hom gehaat en wou hulle Hom doodmaak (2:18, 5:16, 18, 6:41, 60-61, 7:1).

 

Toets jouself om te sien of jy soos Jesus se broers en die wêreld is. As jy dit nie doen nie sal jy dínk jy is godsdienstig, terwyl jy eintlik baie ver van die waarheid af is.  Jy is nie noodwendig gered, omdat jy glo Jesus kan wonderwerke doen, omdat jy gesien het hoe jou ma van kanker genees word, of omdat die Here vir jou ‘n goeie werk gegee het nie.  Jesus se broers het geweet Hy kan wonderwerke doen (v.3), en tog het hulle nie in Hom geglo nie (v.5).  Jesus wil hê jy moet in sy Persoon glo, en nie net in wat Hy vir jou kan doen nie.

 

Hy wil ook hê dat jy tussen Hom en die wêreld moet kies. As die wêreld jou liefhet; as almal by jou skool, universiteit en werk van jou hou; dan wys dit dat jy een van hulle is (v.7, 15:19, Lk.6:26).  Hoe lyk dit met jou:  aan wie se kant is jy?  Natuurlik is daar mense wat aggressief is teen Jesus; mense wat uitgesproke is dat hulle Hom haat.  Die Jode in v.1 was so.  Ateïste en Moslems is so.

 

Maar dan is daar mense soos Jesus se broers. Hulle val Hom nie aan nie, maar hulle glo ook nie in Hom nie (v.5).  Dit is nie dat hulle bewustelik aan Hom dink as hulle aardsvyand nie, maar hulle stel ook nie regtig in Hom belang nie.  Hulle het nie ‘n liefde vir die evangelie, die Bybel, gebed, en die liggaam van Christus nie.  Hulle glo dat hulle goed genoeg is sonder Hom.  Volgens Jesus is hulle deel van die wêreld wat Hom haat (v.7), want as jy nie vir Jesus is nie, is jy teen Hom (Mt.12:30).

 

Miskien sê jy: ‘Ek haat nie vir Jesus nie.  Ek lees darem gereeld my Bybel, bid elke aand, en gaan elke Sondag kerk toe.’  Dit insigself beteken nie dat jy Hom liefhet nie.  Die Fariseërs was ook baie godsdienstig, en tog het hulle Hom gehaat.  Vra eerder vir jouself wat jy met sy Woord doen?  Gehoorsaam jy dit, selfs wanneer dit jou dwars in die krop steek?  Vermy jy preke wat jou sonde uitwys?  Sal jy dit verkies om deel te wees van ‘n gemeente wat nie kerktug toepas nie?  Voel jy ongemaklik as jy rondom mense is wat heilig lewe?  Haat jy dit as die Here jou sonde aan die lig bring (v.7)?  Moet jy altyd eers uitgevang word voordat jy vergifnis vra?

 

Om vir Jesus te haat en nie in Hom te glo nie is baie ernstig. Mense gaan hel toe omdat hulle dit doen.  Tog is dit nie die onvergeeflike sonde nie.  Ek het reeds vir jou gewys dat Jesus se broers later tot bekering gekom het (v.5, Hd.1:14).  Het jy familie, vriende en kollegas wat nie in die Here glo nie; mense wat Hom haat?  Bid vir hulle bekering, want by die Here is niks onmoontlik nie (Mt.19:25-26, Lk.1:37).  ‘n Tannie in Nelspruit se broer het baie gedrink.  Vir jare het hulle gebid dat hy tot bekering moet kom, maar niks het gebeur nie.  ‘n Jaar of twee gelede het die Here hom van sy sonde oortuig en tot bekering gebring.  Hy is nogsteeds in die kerk waar hy saam met ander gelowiges die Here dien.

 

Jesus en die Jode (v.10-24)

Moderne Ortodokse Jode sê dat Jesus ‘n bedrieër is. In hulle geskrifte staan dit ook so dat Hy mense mislei het.[1]  Ook in Jesus se dag het baie mense dít geglo (v.12).

 

Jesus het nie saam met ‘n groep na Jerusalem toe gereis nie, maar het ‘n paar dae nadat die Fees begin het in die geheim opgegaan (v.10). Die Jode wat Hom wou doodmaak het na Hom gevra en gewonder waar Hy is (v.11, 1, 11:56-57).  Die mense het onderlangs in fluisterstemme oor Hom verskil (v.12, 40-43, 6:52).  Party het gesê dat Hy ‘n goeie man is, maar niks meer nie (v.12).  Die res het gesê dat Hy die volk mislei (v.47, Lk.23:2, 5).  Tog het niemand openlik van Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Joodse leiers (v.13, 9:22, 12:42, 19:38, 20:19).

 

Teen die middel van die Fees het Jesus die mense in die tempel gaan leer (v.14). Deur sy lering het Hy gewys dat Hy die Messias is, omdat die Ou Testament voorspel het dat die Messias die volk sou leer (Dt.18:15, 18, Jes.50:4, 61:1-2).  Die Jode was verbaas oor sy lering en kennis van die Ou Testament (v.15, Lk.2:47, 4:22, Ps.119:99).  Hy was maar 32 jaar oud.  Hy het geen formele opleiding gehad nie (v.15).  Hy het nie gesê:  ‘Rabbi so-en-so sê’ nie, maar ‘Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle’.  Daar was gesag in sy lering (Mt.7:28-29).  Hulle het nie vir ‘n oomblik daaraan gedink dat Hy die Messias en die Seun van God is nie.

 

Jesus het geweet dat hulle oor sy lering praat. Hier is mý poging om te verduidelik wat Hy in v.16 gesê het:  ‘Wil julle weet waar my woorde vandaan kom?  Nee, Ek het nie in die geheim by een of ander rabbi vir aandklasse gegaan nie.  Wat ek geleer het, het my Vader vir my gesê.  Ek kom van die Vader af; Hý het My gestuur.  Ek is die openbaring van God (1:18).  Alles wat Ek sê het Ek by Hóm gehoor (12:49-50).  As julle My en my lering verwerp, verwerp julle die Vader (Lk.10:16).’

 

Dié wat bereid en gewillig was om God se wil te doen, sou geweet het dat Jesus en sy lering van God af kom (v.17, 8:43, Ps.25:9, Dn.12:10). Hulle sou gou gehoor het dat sy lering met die Ou Testament ooreenstem, en dat Hy nie ‘n vals profeet is nie.  ‘n Vals messias wat nie met God se gesag praat nie, soek sy eie eer (v.18).  Hy wil hê mense moet dink Hy is slim en oorspronklik.  Jesus het nie die eer en applous van mense gesoek nie (v.16, 5:41).  Al wat vir Hom belangrik was, was dat Hy sy Vader se woorde moes verkondig, sodat Hý daardeur verheerlik kon word (v.16, 16:14).  Omdat Jesus God se woorde verkondig het, was dit ‘n leuen om te sê dat Hy die volk mislei het (v.12).  Daar was nie ‘n druppel valsheid in sy bloed nie (v.18, 17:17, Ps.119:160, 1 Pt.2:22).

 

Dieselfde kon nie van die Jode gesê word nie. Alhoewel hulle die wet van Moses gehad het, het hulle dit nie gedoen nie.  Hulle het die sesde gebod oortree en beplan om vir Jesus dood te maak (v.19, 1, 7, Eks.20:13).  Hulle het teen Hom gelaster en gesê dat Hy ‘n demoon het (v.20, 8:48, 52, 10:20, Mk.3:22).  Hoe erg dít nie:  om te sê dat die Seun van God ‘n demoon het!?  Hulle het gesê dat hulle Hom nie wou doodmaak nie.  Maar uit v.1, 21, 25, 5:18, 1-17 is dit duidelik dat die Jode Hom wóú doodmaak, omdat Hy iemand op die Sabbat genees het.

 

Dit is ironies, want volgens Lv.12:3 het die wet gesê dat seuntjies op die agtste dag besny moet word (nie dat Moses dit ingestel het nie – God dit al in Gn.17:10 ingestel). Indien die agtste dag op die Sabbat geval het, het hulle die kind besny (v.22).  In hulle oë was dit nie verkeerd om op die Sabbat ‘n baba seuntjie te opereer, sodat hulle ‘n deel van sy liggaam kon ‘regmaak’ nie (v.23).  Maar dit was verkeerd toe Jesus ‘n man se hele liggaam genees het (v.23).  Het Jesus nie juis die Sabbat onderhou deur sy naaste lief te hê, en vir ‘n siek man rus te gee van sy ongemak en pyn nie?

 

Jesus het vir hulle gesê om nie op grond van die uiterlike te oordeel nie (v.24, 8:15). Hulle kon nie na sy uiterlike mens gekyk het, en daardeur aangeneem het dat Hy nie die Messias is nie (2 Kor.5:16).  Sy lering en werke het mos gewys dat Hy nie net ‘n gewone mens is nie, maar dat Hy van God af kom.

 

Jy kan nie maak dat mense vir Jesus lief is nie, maar jy kan hulle monde stilmaak deur vir hulle wys dat Hy die Seun van God is. Selfs al oortuig jy hulle nie, kan jy ten minste verhoed dat jou kinders en swakker gelowiges deur die wêreld se argumente oortuig word.  As jy die Bybel se lering oor Jesus ken kan jy ook jouself beskerm, sodat jy nie struikel nie.  Jy sal vir mense kan sê dat Hy die Seun van God is.  As jy dit gedurig oordink sal dit soos ‘n vuur in jou brand, sodat jy nie skaam is om dit vir ander te vertel nie (v.13).

 

Om rotsvas te glo dat Jesus die Seun van God is, moet jy die Bybel reg benader (v.16-18). Dit is immers die Bybel wat vir ons die waarheid van Jesus leer.  Dit is nie toevallig dat die geloofsbelydenis begin deur te sê wat ons oor die Bybel glo nie, want as ons dáár verkeerd trap, dan is dít wat ons oor die Seun van God glo ook daarmee heen.  As ons nie die Bybel glo nie, dan is elke mens se opinie oor Jesus ewe geldig.  Vir sommige is Hy maar net ‘n goeie mens, terwyl Hy vir ander ‘n bedrieër is (v.12).

 

Om te weet wie Jesus regtig is, móét jy glo dat die Bybel nie maar net die woorde van mense is nie, maar die Woord van God (v.16, 1 Ts.2:13). Elke woord is deur die Heilige Gees geïnspireer, en is daarom ook foutloos en onfeilbaar (2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  As ons dít nie aanvaar nie, sal ons ook nie bely dat Jesus die Seun van God is nie, omdat die Bybel hierdie dinge oor Hom sê.  As jy die lering van Jesus verwerp, dan verwerp jy Hóm (v.16, 1 Ts.4:8).

 

‘n Predikant het vir my vertel hoe hy met eks-kommuniste die evangelie gedeel het. Na vele pogings het hulle nie daarin belanggestel nie.  Hy het ‘n ouer predikant gebel om raad te vra.  Die ouer man het vir hom gesê dat ‘n mens met kommuniste oor die gesag van die Bybel moet praat.  ‘Jy moet vir hulle wys dat dit die Woord van God is.  Daarná kan jy vir hulle sê dat Jesus volgens die Skrifte vir ons sonde gesterf het, en dat Hy volgens die Skrifte op die derde dag uit die dood opgestaan het.’  Die predikant het sy ouer kollega se raad gevolg.  Binne ‘n paar weke het die kommuniste tot bekering gekom.

 

Om die waarheid oor Jesus te glo moet jy nie net bely dat sy lering van God af kom nie (v.16); jy moet bereid wees om dit te doen (v.17).  Lees die Bybel met die oortuiging dat elke woord waar is, en kom ook met ‘n gewillige hart om te doen wat jy daarin leer (v.17).  As jy gereed is om die Here se woorde te doen, sal Hy jou verstand oopmaak om te besef dat Jesus regtig van God af kom (v.17).

 

Dit help nie dat jy in teorie die Bybel se lering oor Jesus aanvaar, as jy dit nie ook in die praktyk doen nie. Moenie sê dat sy woorde van God af kom (v.16), terwyl jy nie bereid is om dit te doen nie (v.17).  In effek glo jy dan nie dat Jesus die Seun van God is nie.  Hoekom noem jy Hom ‘Here, Here,’ maar jy doen nie wat Hy sê nie (Lk.6:46)?

 

Moet dan nie meer op ‘n uiterlike vlak na Jesus kyk nie (v.24). Bid dat die Here jou geestelike oë sal oopmaak, sodat jy dieper kan sien, en sodat jy die evangelie kan verstaan (2 Kor.4:4, 6).  Selfs as jy ‘n Christen is, moet jy nie net van Hom in die Bybel lees, sonder dat jy Hom in sy heerlikheid as die Seun van God sien nie.  Bid dat die Heilige Gees jou oë sal oopmaak om die wonders van Jesus te sien, en oordink dan die Bybel totdat jy Hom sien en Hy vir jou ‘n werklikheid word (Ps.119:18, Ef.1:17-19, 3:16-19).

 

Toe ek ‘n student was, het ek en my broer eenkeer van Pretoria af Kempton toe gery. ‘n Man het verby ons gejaag en ons verskriklik gevloek.  Ons het nie ‘n idee gehad hoekom hy dit gedoen het nie.  Dit het ons ook nie in die nag wakker gehou nie.  By ‘n ander geleentheid het iemand wat naby aan my was my sleggesê.  Dit het my vir maande gepla.

 

Dit is baie erg dat Jesus se eie volk Hom verwerp het, en dat sy familie nie in Hom geglo het nie. Dit sal soos ‘n dolk in sy hart steek as sy eie kinders teen Hom sondig deur in Hom te twyfel.  Moet dit nie aan Hom doen nie.

 

[1] b. Sanh.43a aangehaal in Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.452

Kategorieë