Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 February 2019

Die ware rede hoekom mense verlore gaan

Image result for refusing to listen

Romeine 9:30-10:21

‘n Man het eenkeer in reaksie op een van my preke vir my ‘n e-pos gestuur. Hy het gesê dat mense nie op grond van hulle goeie werke hemel toe gaan nie. Ek het hom verseker dat ek hiermee saamstem.

Hy het verder gesê dat mense nie hel toe a.g.v. hulle sonde nie. Hiermee stem ek verseker nie saam nie. Volgens hierdie man se verstaan gaan sommige mense hemel toe omdat God hulle voor die skepping daarvoor gekies het. Hiermee stem ek saam. Maar hy het ook gesê dat sommige mense hel toe gaan, omdat God hulle daarvoor gekies het. Hiermee stem ek nie saam nie.

Volgens Rom. 9:30-10:21 en ander tekste is ongeloof en die sondes wat daaruit voortkom die ware rede hoekom mense verlore gaan (11:20, Mark. 16:16, Joh. 3:18, 8;24, 12:37, 16:9, Heb. 3:19). Geen sondaar kan die skuld op God pak en uitverkiesing blameer vir hoekom hy in die hel is nie. Hy moet eerder die blaam vierkantig voor sy eie deur lê en sê: ‘Ek wóú my nie bekeer en in Christus glo nie.’ [Dit ís so dat niemand in Jesus kan glo tensy die Here hom kies en daartoe in staat stel nie (Luk. 10:21-22, Joh. 6:44, 65, 10:27, 12:39-40, Hand. 13:48, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29, 1Tess. 1:4-5). Maar selfs al kón die sondaar in Jesus glo, wíl hy nie (Joh. 5:40). Daarom moet die Here nie net sy onvermoë oorkom nie, maar ook sy onwilligheid].

 

  1. Die beskrywing van Israel se ongeloof (9:30-10:4)

Van Gen. 3 af is daar ‘n streek in ons wat almal rondom ons wil blameer en nie verantwoordelikheid wil aanvaar vir ons dade nie: ‘Dit is die slang se skuld... dit is die vrou se skuld...’ Wie se skuld is dit dat min Jode in Paulus se tyd in die Messias geglo het (9:27-29)? God s’n, omdat Hy hulle nie gekies het nie? Of was dit hulle eie skuld, omdat hulle Christus se geregtigheid verwerp het en gedink het hulle kan deur die wet reg wees met God (9:31)? En moes God hulle drek-geregtigheid bo Jesus s’n aanvaar (Jes. 64:6, Fil. 3:4-9)?

Wat van die heidene: wie moet die lof kry dat hulle gered is? Húlle, omdat hulle die Here met hulle hele hart gesoek het? Nee. Aan God alleen die eer. Hy het húlle gesoek toe hulle Hóm nie gesoek het nie (9:30, 10:20). Hy het Homself in Christus aan hulle geopenbaar en aan hulle sy perfekte rekord deur die geloof gegee (9:30, 3:28, Fil. 3:9).

Ons kan wat ek sopas gesê het soos volg opsom: as die Koning jou in die paleis van die hemel inbring, is dit nie omdat jy dit verdien het nie. As jy egter in die tronk van die hel beland, is dit jou eie skuld. Die Jode het die hemel verloor, omdat hulle nie God se pad (naamlik, geloof in Christus) daarheen wou volg nie (9:32). Hulle het gedink dat die pad van goeie werke ook daarheen lei (9:32).

Die Evangelie was vir hulle ‘n struikelblok; dit het aanstoot gegee (9:32-33). Hulle wou nie hoor dat hulle te sleg is om die hemel te verdien nie. Hulle wou goed voel oor hulleself en het gedink dat hulle darem iets kon bydra om hemel toe te gaan. Die kruis was vir hulle afstootlik (9:32-33, 1Kor. 1:23, Gal. 5:11). Hulle kon nie verstaan hoe húlle—God se uitverkore volk wat die wet gehad het—‘n vervloekte en gekruisigde Messias nodig gehad het om hulle te red nie (Deut. 21:22-23).

Hulle het oor die kruis gestruikel soos iemand op ‘n bouperseel wat nie die eienaar se uitverkore hoeksteen wil gebruik nie, en daaroor struikel (9:32-33). Toe hulle die hoeksteen ignoreer en bo-oor Hom kyk om op die sand van hulle eie wetsonderhouding te bou, het hulle hulleself te pletter geval teen die vloer van die hel (9:32-33, Ps. 118:22, Jes. 8:14-15, 28:16, 1Pet. 2:6-8).

Die Jode en die heidene wat op die hoeksteen bou, sal hulle nie op die oordeelsdag vir Christus hoef te skaam nie (9:33). Die Rots van sy geregtigheid sal nie meegee onder hulle voete nie. Wanneer die storm van God se oordeel verby is, sal die Rots van sy perfekte geregtigheid vasstaan.

Bou jy daarop? Of bou jy op die verrotte fondasie van jou goeie werke en jou godsdienstige pogings? Om uit te vind kan jy jouself afvra:

  • Hoekom is ek seker ek gaan hemel toe?
  • Hoekom moet die Here my gebede beantwoord?

As jy staatmaak op jou opregtheid, jou ouers se geloof, jou doop, jou lidmaatskap, jou godsdiens, die bekeringsdatum wat agter in jou Bybel staan, of enigiets anders as Jesus, gaan jou fondasie vou. Los liewer jou selfgeregtigheid en ontvang Jesus s’n deur die geloof. Dit is wat Paulus vir die Jode gebid en begeer het (10:1). Uit ervaring het hy geweet hoe ywerig die Jode was vir die wet, maar hoe hulle nie verstaan het dat dit hulle nie kan red nie (10:2, Gal. 1:14).

Ywer sonder kennis is nie goed nie (Spr. 19:2). Om opreg te wees is nie genoeg nie. Om in die hemel te kom, moet jy weet wat Gód soek (10:3). Jy kan nie sý manier eenkant toe skuif en met groot ywer werk om op jou eie manier in die hemel te kom nie (10:3). Om reg te wees met God is dit Jesus of niks; geloof of niks. Dit is nie eers geloof plus iets anders nie; dit is Christus alleen. Hy is die einde van die wet tot geregtigheid vir dié wat glo (10:4). Hy het die wet onderhou namens dié wat glo en het dit ook op hulle harte geskryf, sodat hulle dit deur die Gees se krag kán en wíl doen (8:4, 2Kor. 5:21, Heb. 8:10).

Daarom hoef jy nie soos die Jode te dink: ‘Ek moet die wet doenn om reg te wees met God’ nie. Vertrou eerder op Jesus wat die wet namens jou gedoen het. Dit is die verskil tussen die ware evangelie en valse weergawes daarvan. Die vals weergawe sê: ‘Doen, doen, doen!’ Die ware evangelie sê: ‘Gedoen, gedoen, gedoen!’ (Joh. 19:30).

 

  1. Die oplossing vir Israel se ongeloof (10:5-17)

Die Engelse gesegde lui: ‘If at first you don’t succeed, try, try again.’ Dit is waar, maar geld nie vir die mens se poging om in die hemel te kom nie. Hiér kan jy nie volgens Nike se slagspreuk (Just do it!) lewe nie. As jy dit doen, gaan jy hel toe. Hoekom?

As jy deur die wet gered wil word, moet jy dit perfek nakom (10:5, Lev. 18:5, Matt. 19:17, Luk. 10:28). As jy dit selfs net op een punt oortree, is jy soos iemand wat een skakel van ‘n ketting knip of ‘n klein hoekie van ‘n venster breek: die ketting is gebreek en jy moet die hele ruit vervang. As jy een wet oortree, het jy die hele wet oortree en verdien jy die hel (Deut. 27:26, Gal. 3:10, Jak. 2:10).

Hoekom wil jy jouself uitput om reg te wees met God en in die hemel te kom, as Jesus reeds uit die hemel neergedaal het om aan die kruis te sterf en opgestaan het uit die dood (10:6-7, Deut. 30:11-13)? Hoekom verder soek as Jesus reeds alles vir ons gedoen het en jy dit eenvoudig deur die geloof moet ontvang? Is die evangelie nie reeds in die harte en monde van dié wat in Jesus glo nie (10:8, Deut. 30:14)? In 10:9-10 sê Paulus: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

Om te bely dat Jesus die Here is, is om te bely dat Hy jou Baas, Meester en Koning is. Daardeur bely jy ook dat Hy die Here en God van die Ou Testament is (vgl. 10:13). Moet Hom egter nie jou Here noem as jy nie bereid is om dit openlik deur die doop en evangelisasie te bely nie. Is jy te skaam om voor ander te sê dat jy ‘n Christen is en dat Jesus jou Here is? Dan sal Hy Hom eendag vir jóú skaam en sê: ‘Ek ken jou nie’ (Matt. 7:23, 10:33).

Jy moet Hom ook deur jou lewe bely. Dit help nie jy bely Hom openlik as die Here as jy nie doen wat Hy sê nie, maar lewe asof jy die here van jou eie lewe is. “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).

Hierdie belydenis moet uit die hart kom. Jy moet in jou diepste wese glo dat God Hom op uit die dood opgewek het (10:9, Hand. 2:24). As jy dit doen, sal God Jesus se lewe en dood aanvaar asof dit joune is, en sal jy gered word (10:9-10).

Paulus sê nie jy sal gered word as jy gedoop is, voor ander mense van Jesus getuig, en reg lewe nie. Hy bedoel eerder: as jy in jou hart glo dat God sy Seun uit die dood opgewek het, sal jy dit nie kan inhou nie: dit sal in jou woorde en dade sigbaar word. Wat sê jóú woorde en dade van wat jy in jou hart glo?

As jy regtig in Jesus glo, sal jy nie teleurgestel word soos dié wat deur die wet reg wil wees met God nie (10:11, 9:31, 33). Jy sal nie hoef te sê: ‘Ek glo in Jesus, maar Hy het sy belofte gebreek’ nie. Of: ‘My sonde is so sleg, Hy kán my nie red en vergewe nie.’ Jesus kan enigiemand red, of jy nou ‘n Jood of ‘n heiden is (10:11-12). Hy is die Here van almal en gee die rykdom van sy genade aan almal wat Hom aanroep (10:12, Hand. 10:36). As jy besef dat jy verlore is en desperaat uitroep vir redding, sal Hy jou red (10:13, Joël 2:32).

Moet daarom nie jou kop breek oor Rom. 9 en wonder of jy uitverkies is of nie. Roep eenvoudig tot Hom en sê: ‘Here, ek is ‘n verlore sondaar. Ek het geen hoop in myself nie. U is my enigste hoop. Ek glo dat Jesus se lewe en kruisdood voldoende is om my te red; hoor my asb.’ As jy dit uit ‘n hart vol geloof doen, sal Hy jou red (10:13).

Jy sal egter nie die Here aanroep as Hy nie iemand stuur om met jou te praat nie, as die persoon nie Christus aan jou verkondig nie, as jy dit nie hoor nie, en as jy nie in Hom glo nie (10:14-15, Joh. 9:36, Hand. 8:31, Tit. 1:3). Dit geld vir enigiemand. En dan wonder ons: hoekom groei die kerk nie; hoekom red die Here nie my geliefdes nie?

Bid ons vir sendelinge, predikante en evangeliste om uit te gaan? Is hulle bereid om oor berge en deur woestyne te loop om die evangelie by mense uit te kry (Jes. 52:7)? Preek hulle dit hard en duidelik? Bid ons dat die Here die hoorders se harte sal oopmaak om in Jesus te glo? Bid ons met die wete dat God soewerein is; dat net Hý die sleutel van Rom. 9 hou om mense se harte oop te maak?

Ek is nie oortuig dat ons dit regtig glo nie. As ons het, sou ons baie meer gebid het vir bekerings, herlewing, sending en die prediking van God se Woord. Ons sou ook meer evangelisasie gedoen het. Ons sal nie soos party mense glo: ‘My kinders is uitverkies en deel van die verbond’ nie. ‘Ek ek hoef nie die evangelie met hulle te deel nie.’ ‘n Studie van Rom. 9-10 sal ons leer om te sê: ‘God red sy uitverkorenes deur die geloof. Sonder geloof kán hulle nie gered word nie (10:17). As hulle verlore gaan, is dit nie Rom. 9 se skuld nie. Dit is hulle eie ongeloof wat maak dat hulle hulle ore toestop wanneer Jesus sê: ‘Bekeer julle en glo die evangelie!’ (10:16, Mark. 1:15, vgl. Hand. 17:30, 1Joh. 3:23).

 

  1. Die rede vir Israel se ongeloof (10:18-21)

Elke goeie debatvoerder of prokureur skiet sy opponent se argumente af, totdat sy opponent niks meer het om te sê nie. Dit is presies wat Paulus in 10:18-21 doen. Sy opponent sê: ‘Maar dalk het die Jode nie van Jesus gehoor nie, en is dít die rede hoekom hulle nie glo’ (10:18). ‘Dit is so nie,’ sê Paulus. ‘Uit die skepping weet alle mense God bestaan (10:18, Ps. 19:5). Hoeveel te meer het die Jode nie van Hom gehoor nie, aangesien hulle voorregte geniet soos die Messias wat ‘n Jood is (9:4-5)?’

‘Ja, maar dalk het hulle nie verstaan nie?’ sê die opponent weer (10:19). ‘O nee, hulle het heeltemal verstaan,’ sê Paulus. ‘Hulle het egter gekies om God jaloers te maak met hulle afgode. Daarom het Hy besluit om hulle jaloers te maak deur ‘n dwase volk te red wat Hom nie eers gesoek het nie (10:19-20, 9:25-26, 11:11, 14, Deut. 32:21, Jes. 65:1, Luk. 10:21-22, 1Pet. 2:9-10).’

‘Ja, maar gaan hulle nie miskien verlore omdat Gód hulle nie gekies het en ‘n kans gegee het om hulle te bekeer nie?’ wil die opponent weet. ‘Dit is glad nie die geval nie,’ sê Paulus. ‘God het die hele dag sy hand uitgehou sodat hulle na Hom toe kon terugkeer, maar hulle wou nie. Dít is dan die eintlike rede hoekom Israel en enigiemand anders verlore gaan: hulle is hardkoppig en wíl nie glo nie’ (10:21, Jes. 65:2).

Daarom is dit nie net onnodig nie, maar verkeerd as jy die blaam van die sondaar af na God toe skuif en sê: ‘Dit is Gód se skuld as mense hel toe gaan.’ As jy bedoel dit is sy skuld in dieselfde sin as wat dit die regter se skuld is dat die rower tronk toe gaan, is jy reg. Maar as jy bedoel dat die mens onskuldig is en dat hy hel toe gaan omdat God wreed is en hom vir die hel geskep het, is jy so verkeerd soos ‘n vis in die woestyn. As jy Rom. 9 versigtig saam met Rom. 10 lees, sal jy beaam wat Christene nog altyd bely het: ‘Ek is gered omdat die Vader my gekies het, die Seun vir my gesterf het, en die Heilige Gees my wederbaar het. Talle mense gaan egter verlore, omdat hulle nie in Jesus wíl glo nie. Hulle kies om eerder in hulle sonde te bly.’

Moet dan nie God se soewereine uitverkiesing in Rom. 9 teen die mens se verantwoordelikheid in Rom. 10 afspeel nie, maar glo beide. Rom. 9-10 werk soos ‘n meganiese horlosie se ratte: alhoewel dit vir jou lyk of die ratte teen mekaar werk, werk dit eintlik saam om die horlosie se wysers in die regte rigting te laat loop.

Kategorieë