Coram Deo Cover Image

Coming soon...

21 March 2013

Die verhewe plek van vroue in die Christelike geloof

Woman at the cross

“En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het.  Onder hulle was daar Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van die seuns van Sebedéüs.”

(Matteus 27:55-56).

 

Florence Nightingale het haar lewe daaraan gewy om siek en gewonde soldate te verpleeg.  Perpetua was 'n vrou in die vroeë kerk wat haar lewe gegee het vir Jesus en sy evangelie.  Mary Slessor het die gevare van Wes-Afrika aangedurf vir die evangelie.

 

Daar is baie voorbeelde in die Skrif van dapper, getroue, en lojale vroue wat vir Jesus gevolg het.  In ons teks lees ons dat daar baie vroue by die kruis was (v.55).  Hierdie is vroue wat Jesus se opdrag ernstig opgeneem het:  “En Hy sê vir almal:  ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.’” (Lukas 9:23).

 

Jesus se ma het vir Hom gesorg by sy geboorte en tydens sy opvoeding.  Sy was ook hier by die kruis (Johannes 19:25-27).  Petrus se skoonma het vir Jesus bedien, nadat Hy haar gesond gemaak het (8:14-15).  Die prostituut in Lukas 7 het Jesus se voete gesalf en gesoen.  In Johannes 12:1-18 het Maria vir Jesus gesalf vir sy begrafnis.  Jesus vir Maria Magdalena gered, en sewe demone uit haar uit gedryf.  Saam met Joanna en Susanna het sy vir Jesus gevolg en gedien (Lukas 8:2-3).  Maria, die suster van Jesus se ma, was hier by die kruis (v.56, Johannes 19:25).  Johannes en Jakobus ma, Salome, het vir Jesus gedien (v.56, Markus 15:40).  Baie van hierdie vroue was ook by die leë graf.  Marta het vir Jesus liefgehad en Hom gedien (sien Johannes 11).  In Handelinge 9:39 lees ons van Dorkas wat die Here getrou gedien het.  Ook Lidia en Priscilla het vir Jesus liefgehad en Hom gedien (Handelinge 18, 16:15, 40).  In Romeine 16 praat Paulus van vroue wat die Here gedien het:  Febe, nóg 'n Maria, Trifena, Trifosa, Olimpas, Rufus se ma, en baie ander.  Paulus noem Euodia en Sintige mede-arbeiders in die evangelie (Filippense 4:2-3).  Loïs en Eunice was ook getrou aan die Here, en het vir Timoteus in sy weë opgevoed (2 Timoteus 1:5).

 

Buiten vir Jesus se ma, was Maria Magdalena (van die dorp Magdala) seker die bekendse van hierdie vroue.  Volgens Johannes 20 was sy die eerste ooggetuie van Jesus se opstanding.  Net soos 'n vrou (Eva) eerste gesondig het in 'n die tuin, het 'n vrou (Maria Magdalena) eerste die opgestane Verlosser gesien in 'n tuin (Johannes 20:11-18).

 

Die vroue het op 'n afstand gestaan (v.55).  'n Mens kry byna die idee dat dit te erg was vir hulle om te sien hoe hulle Here sterf, maar tog wou hulle Hom nie los nie.  Dit is ook so dat Jesus alleen moes ly, en daarom staan hulle ver weg.  Dalk staan hulle ook op 'n afstand, omdat vroue as niks beskou is deur die samelewing nie.  Of dalk selfs omdat hulle nie verder kon kyk na die skande van sy naaktheid nie (Johannes 19:23).  Tussen al hierdie vroue was daar maar een man daar – Johannes (sien Johannes 19:25-27).  Waar was die ander tien dissipels?

 

Vroue is dikwels meer toegewyd aan die Here as mans (nie dat dit so hóéf te wees nie).  In ons eie gemeente is daar 48 vroue en 31 mans.  Ons mans behoort ons te skaam.  Staan op vir die Here en sy eer!  Vroue en mans is een in die Here, en word op dieselfde wyse gered (Galasiërs 3:28).  Mans en vroue moet saamwerk in die Here.  Dit is nie nodig dat die een of die ander geslag meer toegewyd hoef te wees nie (al is dit dikwels die realiteit).

 

Maar daar is ook 'n ander les hier.  Die Jode in Jersualem het neergesien op Galileërs (sien Johannes 1:47, 7:52).  Boonop was vroue ook niks in die samelewing nie.  Maar hier sien ons dat die vroue van Galilea vir Jesus gevolg en bedien het (v.55-56).  Hulle bly by Hom tot die bittereinde toe.  Deur hierdie woorde in die Skrif op te teken, het God vroue verhef (sien ook Lukas 10:38-42, Johannes 4).

 

Mans (en vroue vir wie die handskoen pas):  moenie dislojaal wees soos wat die dissipels was nie.  Wees lojaal soos die vroue.  Dalk was jy op 'n tyd lojaal, maar jou lojaliteit het verflou.  Bely jou sonde, draai weg daarvan, en volg die voorbeeld van hierdie vroue.  Dalk is jy tans ontrou aan jou gemeente, die Woord van God, gebed, die Here Jesus Christus, en jou mede-gelowiges.  Hoekom wil jy langer so aanhou?  Hernu vandag jou toewyding aan Jesus.

Kategorieë