Coram Deo Cover Image

Coming soon...

7 April 2017

Die toekoms van Suid-Afrika

Faded South African flag

Wanneer mense depressief is, sien hulle nie die goeie dinge wat om hulle gebeur nie. Alles wat gebeur sien hulle deur die morbiede swart lense van hulle depressie.  En as ons nie versigtig is nie, kan dieselfde met ons gebeur.

 

Elke dag sê die media vir ons hoe sleg dit in ons land gaan: stakings, misdaad, korrupte leiers en meer.  Ek ontken nie dat dinge onderstebo is nie, maar ons moet ook weet dat daar by die Here hoop is.  Wat in Jes.1 vir Israel gegeld het, is ook op ons van toepassing.

 

Morele verval (v.1-9)

‘n Vriend van my het laas naweek vir my ‘n boek persent gegee. Die titel is The State of Africa deur Martin Meredith.  Dit handel oor wat in elke Afrika staat gebeur het nadat dit onafhanlikheid verkry het:  diktators, siekte, korrupsie, ekonomiese verval, droogte, verwoesting en dood was die gevolg.

 

Hoekom? Dit het te doen met godsdiens.  Is die morele, ekonomiese, mediese, politieke, sosiale en opvoedkundige verval van soveel lande wat Jesus Christus en die evangelie ignoreer toevallig?  Is dit toevallig dat die lande wat deur ateïstiese kommunisme gedryf word, gevou het?  Hoekom gaan die lande waar Islam regeer tot niet?  En hoekom is daar soveel misdaad in die lande waarin Afrika-godsdienste die oorhand het?  Hoekom kan hulle ekonomies net nie op hulle voete kom nie; hoekom moet hulle bakhand staan vir westerse hulp?  Vergelyk dit ‘n bietjie met lande wat oor die afgelope eeu of meer ‘n sterk Christelike invloed gehad het:  op byna elke vlak floreer hulle.

 

Dus is daar ‘n duidelike verband tussen ‘n land se godsdiens en haar voorspoed. Jes.1 wys dit vir ons.  Hierdie boek is ‘n profesie van Jesaja, die seun van Amos (v.1, nie die profeet Amos nie).  God het dit meer as sewe eeue v.C. in visioene aan hom geopenbaar, gedurende die koningskap van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia (v.1, vgl. 2 Kron.26-32).  Die profesie handel oor die streek van Juda en haar hoofstad Jerusalem in die hede, nabye- en verre toekoms onder die Messias (v.1, hfst.1-39, 40-66).

 

Rakende die huidige Jerusalem het God hemel en aarde as getuies in sy hof ingeroep om teen hulle te getuig (v.2, Dt.4:26, 30:19, 32:1). As Vader van sy volk het Hy hulle opgevoed, maar t.s.v. sy goedheid het hulle soos rebelse kinders dwarsgetrek (v.2, Dt.32:6, 10, 15).  Hulle het God nie geken nie, en was daarom erger as redelose osse en donkies wat darem hulle eienaars ken (v.3, vgl. Jer.8:7).

 

Hulle was oorlaai met sonde; hulle het die Here se verbond versaak, die Heilige van Israel verag, en hulle van Hom vervreem (v.4, Esg.14:5). Die nageslag van Abraham het ‘n nageslag van boosaards geword; God se kinders was kinders wat korrup gehandel het (v.4, 2).

 

As hulle hiermee aangehou het, sou die Here hulle erger gestraf het (v.5, 9:13). Is dit wat hulle wou gehad het as Hy hulle reeds van kop tot tone met sy tugroede gewond het (v.5-6)?  As hulle maar net na die Here toe gedraai het, sou Hy die wonde van hulle sonde met die olie en verbande van sy vergifnis genees het (v.6, 61:1, Ps.147:3, Jer.8:21-22).

 

Maar hulle het nie, en daarom het die land in puin gelê (v.7). Vreemde nasies het dit verwoes en met vuur verbrand (v.7, 6:11, Dt.28:33, 51-52).  Israel was so weerloos soos ‘n sekuriteitshut in ‘n wingerd of ‘n komkommerland, soos ‘n stad wat omsingel word (v.8).  As God nie in sy almag en genade ingetree het en ‘n oorblyfsel gelos het nie, sou Israel en Jerusalem soos Sodom en Gomorra gewees het wat nie meer bestaan nie (v.9, Rm.9:27-29).

 

Ons land is op dieselfde pad. Soos die res van die wêreld het ons teen God en sy Woord gerebelleer.

 

  • Ou mense word brutaal vermoor.
  • Op 11 en 12 jarige ouderdom is kinders seksueel aktief, raak hulle swanger, word hulle dronk en gebruik hulle dwelms.
  • Ongebore babas word in groot getalle afgemaai soos koring en geslag soos skape.
  • Om saam te bly en homoseksueel te wees word nie net verdra nie, maar is hoog mode.
  • Skoliere en studente se rebellie en sonde word deur die wet beskerm; ‘n mens kan byna sê dat hulle die land regeer (3:4, 12).
  • Ons wys ‘n vinger na die korrupsie van ons president en ministers, maar die gemiddelde besigheidsman is net so skelm soos hulle.

 

Dit is God se genade dat ons nie verder heen is as wat ons is nie (v.9). Ons het nie net ekonomiese rommelstatus bereik nie, maar het ook geestelik en moreel geflop.  En as ons nie drasties optree en ons tot die Here wend nie, gaan Hy die bankskroef stywer draai.

 

Godsdienstige verval (v.10-20)

Vir baie jare het die deursnee Afrikaner op Sondae kerk toe gegaan om die Here te aanbid; dit was deel van ons kultuur. In die week het ons egter nie soos Christene gelewe nie – ons was skynheilig.

 

Baie predikante was geldgierig en het hulle gesag misbruik. Hulle het die Woord aan ander verkondig terwyl hulle self nie weergebore was nie.  Talle ouderlinge het egbreuk gepleeg en te veel gedrink.

 

Diakens het gevloek en onder-die-belt grappe vertel. Ongelowiges kon nie die verskil sien tussen hulle en dié wat elke Sondag kerk toe gaan nie.  Baie Afrikaners het God met hulle lippe aanbid, maar hulle harte was ver van Hom af (Mt.15:8).

 

Jerusalem was so. Sy en haar leiers het soos Sodom en Gomorra gelewe (v.10, 3:9, Jer.23:14, Op.11:18), sodat die Here haar byna soos hulle verwoes het (v.9).  Tot nou toe het hulle nie na God se Woord en sy wet geluister nie; maar nou moes hulle hulle ore gespits het (v.10).  Wat het die Here vir hulle gesê?

 

Hy het geen plesier gehad in die hoeveelheid, verskeidenheid en kwaliteit van die offers wat hulle vir Hom gebring het nie (v.11, Lv.3:16-17). Alhoewel hulle dit volgens die wet gedoen het, het hulle dit nie met ‘n opregte hart gedoen nie (1 Sm.15:22, Ps.51:18-19, Sp.15:8, 21:3, Hos.6:6, Mg.6:6-8, Mal.1:10).

 

Hulle was Sabbat-soekers en Maandag-vloekers, en daarom het Hy hulle aanbidding gehaat (v.13-14, hfst.58, Jer.7:9-11). Dit was vir Hom soos ‘n klomp beeste wat die voorhowe van sy tempel vertrap (v.12).  Daarom het hulle offers en Feeste niks vir Hom beteken nie, maar was dit vir Hom ‘n swaar las; ook hulle geurige wierook offers het Hom gewalg (v.13-14).

 

Selfs toe hulle gereeld gebid het en hulle hande na Hom toe uitgestrek het, het Hy sy gesig van hulle af weggedraai (v.15, kontr. Nm.6:25). Hy het dit gehaat dat hulle die vermetelheid het om in die week moorde te pleeg, en dan op die Sabbat hulle bebloede hande in gebed na Hom toe uit te strek (v.15, vgl. 1 Tm.2:8).

 

Hulle moes deur berou en bekering hulle bloedbevlekte hande en harte gereinig het (v.16, Ps.24:4, Jk.4:8). Hulle moes die smerige klere van hulle boosheid uitgetrek het, en die skoon klere van reg en geregtigheid aangetrek het (v.16-17, Ef.4:22-24, Jk.1:27).  Hulle kon dit egter nie self gedoen het nie (Jer.2:22), maar moes na die Here toe gekom het (v.18).  Hy was bereid om die saak met hulle uit te praat en die diep rooi vlekke van sonde uit die klere van hulle lewens te was, sodat hulle wit geword het soos sneeu en soos wol (v.18, 15, Ps.51:9).

 

As hulle gewillig en gehoorsaam was, sou hulle die goeie oes van die Beloofde Land geëet het (v.19). Maar as hulle in rebellie volhard het, sou die vyand se swaard hulle soos brood geëet het (v.20).  God het gespreek en daarom sou dit so gebeur het (v.20, Nm.23:19).

 

Ons moenie soos Israel godsdienstig wees sonder dat ons gered is nie. Moenie die Here aanbid terwyl jou hande met die bloed van jou naaste bevlek is nie.  Dalk het jy nie ‘n moord gepleeg nie, maar in jou hart, gedagtes en lewe is daar haat, rassisme, onvergewensgesindheid, bitterheid, onenigheid, egskeiding en bakleiery.

 

Dit geld ook vir ander sondes. Dit help nie dat ons op 22 April vir misdadigers en ons korrupte regering wil bid, terwyl ons dieselfde sondes as hulle doen nie (v.15).  As dinge in Suid-Afrika gaan regkom moet dit nie by die regering begin nie, maar by die kerk.  Verder gaan dit ook nie by ‘n lofprysingsdiens begin nie, maar by ‘n biduur waar ons op ons gesigte voor die Here is en ons sonde bely.

 

En dan moet ons dit nie net bely nie, maar laat staan. Ons moenie meer vir Jesus op dieselfde vlak as die vals gode van die wêreld plaas, asof alle paaie na die hemel toe lei nie.  Ons moenie meer dink dat die Bybel ‘n oudmodiese boek is, en dat sy lering oor die skepping, die rol van mans en vroue in die huwelik, homoseksualiteit, en dissipline in die huis nie meer relevant is nie.  Ons moet in geloof en bekering na die gekruisigde en opgestane Christus toe draai, sodat Hy die diep skandvlekke van ons sonde kan wegwas met sy bloed (v.18, Op.7:14).

 

Sosiale verval (v.21-31)

A.g.v. die mens se sondige hart het Facebook, Twitter en ander sosiale platvorms meer skade gedoen as goed. Ons is meer effektief en kan vinniger kommunikeer as in die verlede, maar in ons menseverhoudings het ons ook oppervlakkiger geword.  Hieroor sê David Wells:

 

‘have you noticed that while everyone is speaking, no one is really listening?... And while we are surfing the Internet, e-mailing, watching television or playing video games, we are doing it all alone. We are wired, but we are also more lonely and have fewer confidants than ever before... we are in touch with everyone potentially, but we know and are known by almost no one in particular.’[1]

 

Maar selfs as daar nie sosiale media was nie, sou die mens se bose hart aan ander maniere gedink het om op ‘n sosiale vlak te sondig. Dit wys v.21 e.v. vir ons.

 

Jerusalem was ‘n tragedie. In die verlede was sy getrou en regverdig, maar nou het sy nie vir God of mense omgegee nie, en was sy vol van moord en geestelike prostitusie (v.21, Esg.16, 23, Jk.4:4).  In die verlede was sy soos pure silwer en goeie wyn, maar nou het haar silwer dros geword en was haar wyn gemeng met water (v.22, Jer.6:30, Esg.22:18).  Sy het slegte leiers gehad:  rebelle en die vriende van skelms (v.23).  Hulle was korrup en het vir ‘n ‘omkoopgeldjie’ die gereg verdraai (v.23).  Die arm weduwee en weeskind wat nie ‘n omkoopgeskenk kon gee nie, is eenvoudig nie gehelp nie (v.23).

 

As gevolg daarvan het die hemelse Regter, die verhewe Here van die leërskare, die Magtige van Israel, ‘n uitspraak gemaak (v.24). Hy het sy swaard geslyp; Hy was gereed om wraak te neem en die tornado van sy toorn oor sy vyande te laat woed (v.24, Dt.32:41).  Hy sou sy hand teen hulle gedraai het (v.25, Ps.81:15).  Soos dros uit silwer, sou Hy die goddelose uit Jerusalem verwyder het; met die koeksoda van sy oordele sou Hy Jerusalem blink gemaak het (v.25, 22).

 

En as Hy dit klaar gedoen het, sou Hy die goeie regters en raadgewers in Jerusalem herstel het (v.26, Jer.33:7). Deur geregtigheid en bekering sou sy weer die getroue en regverdige stad gewees het (v.26-27).  Dié wat hulle nie bekeer het nie maar die Here versaak het, sou Hy met die vuur en hamer van sy toorn gebreek het en verswelg het (v.28).

 

Die afgode met wie hulle onder terpentynbome en in tuine gehoereer het, het hulle in die skande gesteek en kon hulle nie teen die Here se toorn help nie (v.29, 57:5, 65:3, 66:17, Jer.2:20, 3:6, Hos.4:13, 19). Hulle sou nou soos ‘n tuin sonder water en ‘n boom in die winter gewees het (v.30, Jer.17:8).  Dié wat ander gode aanbid, word soos hulle (Ps.115:8).

 

Voorheen was hulle soos sterk bome, maar nou sou hulle soos vlas gewees het wat vlam vat as daar ‘n vonkie is (v.31, Am.2:9). Die Here sou hulle en hulle gode in die ewige vuur van die hel vernietig het (v.31, 30:33, 66:24, Mk.9:44, 46, 48).

 

Suid-Afrika is in baie opsigte soos Jerusalem. Ons leiers is ook korrup:  hulle is kop-in-een-mus met skelms en aanvaar omkoopgeskenke.  Ons aanbid miskien nie beelde van goud en silwer nie, maar afgodery is aan die orde van die dag.  Ons roem in ons voorspoed en rykdom, en werk van vroeg tot laat om meer te kry.

 

Ons sit ons kinders in naskole en spandeer nie tyd met hulle nie, omdat ons soos mal hase jaag om ryker te word. Ons sê dat ons nie geld het nie, terwyl die waarheid is dat ons nie ons hoë lewenstandaard kan handhaaf as ons gewone ure moet werk nie.

 

Die afgod van geld het baie ander sondes tot gevolg gehad (1 Tm.6:10). Miskien is diefstal, bedrog, korrupsie en die aanbidding van werk die mees algemeen, maar dit is verseker nie die enigstes nie.  Die hele dwelmbedryf en haar twee stiefsusters genaamd prostitusie en mensehandel gaan oor geld.  Hollywood en die bose dinge wat hulle vir ons wys gaan oor geld.

 

Die nasionale lotery en die dobbel industrie gaan oor geld. Die ontheiliging van die Here se dag gaan oor langer besigheidsure, meer kliënte en meer geld.  Die ‘Word of Faith’ beweging se vals evangelie van voorspoed en gesondheid gaan oor geld.  Die lys is lank.  Is dit nie tragies dat hierdie mense alles gaan verloor wanneer hulle doodgaan, en dan vir ewig arm gaan wees in die hel nie?

 

Maar ten spyte van die verval in ons land, het ons ‘n boodskap van liefde, hoop en vergifnis om te verkondig. Ja, Suid-Afrika is soos ‘n bus wat sonder remme teen ‘n steil afdraende afry.  Maar is dit vir die Here onmoontlik om hierdie bus te stop?  Is dit vir Hom onmoontlik om ‘n magtige herlewing te stuur?  In die 1700’s het Hy dit deur George Whitefield en John Wesley gedoen toe Engeland erger was (glo dit of nie!) as wat Suid-Afrika nou is.  Martyn Lloyd-Jones het gesê:  ‘When you look back [in history] you will see that people have said, “This is the end.”  Then a revival has come.’[2]

 

[1] David Wells, The Courage to be Protestant, p.31

[2] Martyn Lloyd-Jones, The Life of Joy and Peace, p.157

Kategorieë