Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 6:12-16

Die meeste jong predikante wil hulle geestelik held namaak en sy bediening soos ’n resep volg. Maar dit is ’n fout, omdat God nie net een persoonlikheidstipe, of bedieningstyl gebruik nie. Hy gebruik verskillende tipes mense en gebruik hulle verskillend. In Luk. 6:12-16 het ons ’n voorbeeld hiervan.

 

1. Hoe kies Hy hulle? (v.12)

Hoe kies ’n maatskappy, of besigheid leiers? Hulle voer onderhoude en kyk wie die beste kandidaat vir die werk is. Of hulle aanvaar omkoopgeld, trek toutjies vir hulle vriende, of werk volgens die kwota stelsel.

            Dit is nie hoe Jesus in die kerk werk nie. In v.12 het Hy deur die nag gebid voordat Hy leiers aangestel het. Hy het nie sommer enige leiers gesoek nie, maar dié wat die Vader wou hê. Hy wou leiers aanstel, omdat die werk baie geraak het (v.17-19). Hy wou ook leiers hê om die werk voort te sit as Hy na die Vader toe teruggekeer het.

            En moet ons nie dieselfde doen en bid dat God die regte leiers sal gee wat kan aangaan met die werk as ons nie meer hier is nie? Dit is wat wyle Martin Holdt gedoen het. Min of meer ’n jaar voor hy dood is, het hy vir 6, of 7 dae gevas en die Here vir ’n opvolger gevra. Toe die Here die regte man aanwys, het Martin sy bediening afgesluit en by ’n klein gemeente betrokke geraak. ’n Paar maande later het hy skielik siek geword en gesterf.

       Moses het ook hierdie patroon gevolg. Toe die Here hom sê dat hy nie die Beloofde Land kan ingaan nie, toe vra hy vir ’n nuwe leier. Die Here het Josua in sy plek aangestel (Num. 27:15-23).

            Die vroeë kerk het op dieselfde trant voortgegaan. In Hand. 13:2-3 was die kerk in Antiochië besig om te vas en te bid. Die Here het vir die leiers gesê om Paulus en Barnabas vir die sendingveld af te sonder. In Hand. 14:23 het Paulus en Barnabas ouderlinge vir die gemeentes van Galasië gekies. Dié het hulle met vas en gebed vir hulle dienswerk afgesonder.

            Vandag is daar min gemeentes wat hulle leiers op hierdie basis kies. Die meeste van hulle soek leiers wat as CEO’s kan funksioneer. Of hulle kies mense wat geld het en gewillig is. Of, as hulle Baptiste is, vra hulle die gemeente om leiers te nomineer en dan stem hulle oor die saak. In al hierdie prosesse is daar maar min gebed (kontra v.12). Dit was nie Jesus se patroon nie en is nie wat ons in die res van die Bybel vind nie. Die Bybel begin by gebed. Daarna moet ons uitkyk vir manne wat ’n goeie karakter het (1Tim. 3:1-7). Ons moet dit nie doen soos die meeste Baptistekerke waar die gemeente mense nomineer en instem nie. Hierdie is die patroon waarvolgens diakens gekies moet word (Hand. 6:1-7), maar waar dit by geestelike leiers kom, moet die ouderlinge hulle identifiseer en aanstel (v.12, Hand. 14:23, 1Tim. 4:14, 2Tim. 2:2, Tit. 1:5). Dit geld vir deeltydse ouderlinge wat nie deur die gemeente betaal word nie, asook vir voltydse en betaalde ouderlinge (met ander woorde, predikante). Dus is dit nie Bybels as ’n leraar ’n beroep na ’n nuwe gemeente aanvaar en dit dan aan ’n beroepskomitee, gemeentevergadering, of denominasionele struktuur oorlaat om iemand in sy plek te kies nie. Dit is nie wat Jesus, Moses, of Paulus gedoen het nie, maar hulle het mense in hulle plek aangestel. Dit is ook wat ’n leraar moet doen. Voor hy na ’n nuwe gemeente toe skuif, moet hy saam met sy mede-ouderlinge die regte opvolger soek. Hy moenie sê: ‘Ek voel dit is oneties as ek ’n sê het in wie my opvolger is.’ Nee! Hy het dan vir jare met die kudde gewerk. Hoe kan hy dan nou skouers optrek en sê: ‘Dit maak nie saak wie my opvolger is nie’? Wat as dit ’n wolf is wat die kudde verskeur?

            Ek vertrou jy kan sien dat ’n leraar eers die regte man in plek moet hê voor hy aanbeweeg na ’n nuwe gemeente toe. Die gemeente moenie vir maande soos skape sonder ’n herder wees nie (Num. 27:17). As die leraar vandag klaarmaak, moet sy opvolger more begin. As hy die kudde alleen los en dinge op ’n gemors uitloop, is hy medeverantwoordelik (vgl. 1Tim. 5:22).

 

2. Waarvoor kies Hy hulle? (v.13)

Die New Apostolic Reformation is ’n redelike nuwe beweging in die kerk. Hulle stel onder andere apostels aan in hulle gemeentes. Ook in Prosperity kerke is dit baie populêr om jouself ’n apostel te noem. Maar as hulle geweet het wat ’n apostel is, sou hulle die term nie so los gebruik het nie.

Wat is ’n apostel dan? In v.13 het Jesus die dissipels na Hom toe geroep en 12 van hulle as apostels gekies. Waar ’n dissipel [Gk. mathētēs] ’n leerling, of ’n student is, is ’n apostel [Gk. apostolos] iemand wat amptelik afgevaardig en gestuur is (vgl. Joh. 20:21). Jesus het die apostels eers tot redding verkies en daarna as leiers van die kerk (10:21-22, Joh. 13:18, 15:16, 19). Hulle was nie net leiers van ’n plaaslike gemeente nie, maar is gekies om die 12 leiers van God se nuwe Israel, die kerk, te wees. Hulle was die eerstes wat die evangelie gepreek het en die kerk se fondasie gelê het (Matt. 16:18, Ef. 2:20). Dit het hulle gedoen deur die Gees wat hulle gelei het om die Nuwe Testament te skryf (Joh. 14:26, 16:12-15, 1Tess. 2:13, 4:8, 15). Dit is ook hoe die vroeë kerk bepaal het of ’n boek deel van die Nuwe Testament is, of nie: is dit deur ’n apostel, of een van hulle helpers geskryf?1

Duidelik is die apostels dan nie maar net nog ’n groep waarvan enigiemand deel kan wees deurdat hy homself tot ’n apostel verklaar, sy amp koop, of deurdat die regte persoon hom die hande oplê nie. Eintlik is daar nie meer apostels nie. Toe Judas dood is, het Jesus iemand in sy plek aangestel (Hand. 1:15-26). Maar nadat Jesus vir Paulus gekies het, het Hy nie nóg apostels aangestel nie (1Kor. 15:8). Dus het geen prediker ná die apostels dieselfde gesag as hulle nie. Ignatius van Antiochië (35 n.C.-107 n.C.) het dit byvoorbeeld van homself gesê: ‘I do not, as Peter and Paul, issue commandments unto you. They were apostles; I am but a condemned man: they were free, while I am, even until now, a servant.’2

Moet dan nie jou ore uitleen vir dié wat hulleself apostels noem en sê dat hulle nuwe leringe van God ontvang nie. Ons plig is nie om ons eie woorde te preek nie, maar die woorde wat Jesus deur die apostels en profete gegee het, naamlik die Ou- en Nuwe Testamente (Hand. 2:42, 2Tim. 3:16). Jesus het ons nie geroep om stories te vertel, of motiverende toesprake te lewer nie, maar soos die apostels stuur Hy ons om sy Woord te verkondig. Die leraar wat nalaat om dit te doen, moet uit die kansel bly. Hy is nie werd om deur God gebruik te word, of jou Like op Facebook te kry nie, selfs al preek hy op TV en het hy duisende volgelinge.

 

3. Wie was hulle? (v.14-16)

Party mense wat beperkte gereedskap het, kan ’n ‘shifting’, of ’n hamer op vindingryke maniere gebruik.

Net so gebruik Jesus gebroke mense om wonders te verrig. Dit sê nie iets van die mense nie, maar van Jesus wat met hulle werk. Ons sien dit byvoorbeeld met die apostels. Wie was hulle?

 

Simon Petrus (v.14)

In Joh. 1:42 het Jesus sy naam van Simon na Petrus verander en in Matt. 16:18 het Hy dit bevestig. Petrus se naam [Gk. Petros] beteken ‘klip’. Mettertyd sou hy ’n onwankelbare rots en die leier van die apostels word. Daarom is sy naam altyd bo aan die lys van die apostels (v.14, Matt. 10:1-4, Mark. 3:13-19, Hand. 1:12-13). In Handelinge sien ons hom ook as die leier en segspersoon namens die apostels (Hand. 1:15, 2:14, 3:12, 4:8, 5:3, 29, 10:34, 11:4). Hy was een van die pilare van die vroeë kerk (Gal. 2:9).

Voor Jesus hom geroep het, was hy ’n lae klas, onopgevoede visserman (5:1-11, Hand. 4:13). Selfs na sy bekering was hy ’n impulsiewe, voor-op-die-wa, selfversekerde man wat altyd eerste gepraat het en verkeerde dinge gesê en gedoen het (Matt. 14:28, 15:15, 16:16, 22-23, 17:4, 18:21, 19:27, 26:33, 35, Mark. 11:21, Luk. 8:45, 12:41, Joh. 6:68, 13:6-8, 18:10-11, 15-18, 25-27, 21:20-21). Deur sy groot genade het Jesus hom verander in ’n sterk en toegewyde leier wat twee Bybelboeke (1 en 2 Petrus) geskryf het.

Op die einde het Petrus sy lewe vir Jesus gegee (Joh. 21:18-19). Blykbaar wou keiser Nero vir Petrus doodmaak.3 Toe die gelowiges dit hoor, het hulle by hom gepleit om te vlug. Toe hy by die stad se hekke kom en vir Jesus sien, toe vra hy: ‘Waar gaan U Here?’ Jesus het geantwoord: ‘Ek gaan om weer gekruisig te word.’ Petrus het verstaan dat hy moet terugkeer en sy lewe vir Jesus moet aflê. Hy het gevra dat hulle hom onderstebo moet kruisig, omdat hy nie waardig is om soos Jesus te sterf nie.4

 

Andreas (v.14)

Andreas was ’n visserman saam met sy broer Petrus (v.14, Matt. 4:18). Hy was ’n dissipel van Johannes die Doper. Hy het die eerste dissipel van Jesus geword toe Johannes die Doper Hom as die Lam van God uitwys (Joh. 1:35-40).

Andreas was altyd besig om individue na Jesus toe te bring: Petrus; die seuntjie met die 5 broodjies en 2 vissies; ’n sekere groep Grieke (Joh. 1:41-42, 6:8-9, 12:21-22). Volgens oorlewering het hy by die Swart See en in Oesbekistan baie mense vir Jesus gewen. Hy het aan ’n X-vormige kruis in Griekeland gesterf.5 Hierdie is dieselfde X wat ons op Skotland se vlag sien. Dit staan beter bekend as St. Andrew’s Cross.

 

Jakobus (v.14)

Jakobus en Johannes was broers; die seuns van Sebedeus en vissermanne saam met Petrus en Andreas (Matt. 4:21). Hulle was deel van die binnekring van Jesus se dissipels saam met Petrus (Mark. 5:37, 9:2, 14:33). Van al die dissipels was hulle die naaste aan Jesus.

Omdat die twee broers vuurvreters was, het Jesus hulle die seuns van donder genoem (Mark. 3:17). By een geleentheid wou hulle die Samaritane met vuur uit die hemel verbrand, omdat hulle nie vir Jesus verwelkom het nie (9:52-54). Hulle het ook gevra of hulle aan Jesus se linker- en regterhand kon sit in die Koninkryk (Mark. 10:35-37). As gevolg van hulle vurige persoonlikheid het Jakobus die eerste apostel-martelaar geword toe koning Herodes hom onthoof het (Hand. 12:2).

 

Johannes (v.14)

Johannes is die dissipel vir wie Jesus lief was (Joh. 13:23, 19:26, 20:2, 21:7, 20, 24). Dit is asof hy nie kon glo dat Jesus hóm liefhet nie, veral omdat hy so driftig en voortvarend was. Ons sien sy driftige gees toe hy op ’n stadium iemand wou keer wat demone uitgedryf het. ‘Dit is nie toelaatbaar nie!’ het hy gesê. ‘Jy is nie deel van ons groep nie!’ (sien 9:49-50).

Jesus het Johannes se vurige persoonlikheid gekanaliseer om ’n leier van leiers te word (Hand. 3:1, 4:13, 19, 8:14, Gal. 2:9). Hy het hom in die liefdevolle dissipel verander; die apostel wat Johannes Evangelie, 1-3 Johannes en Openbaring geskryf het. Johannes is later na die eiland Patmos toe verban (Op. 1:9) en weer vrygelaat. Volgens oorlewering het hy as ’n ou man gesterf toe hy 100 jaar oud was.6

 

Filippus (v.14)

Filippus was van Betsaida, die dorp waaruit Petrus en Andreas gekom het (Joh. 1:43-44). Hy was ’n logiese man, maar soms het sy logika in die pad van sy geloof gekom. Hy kon byvoorbeeld nie sien hoe Jesus sonder genoeg geld vir 5000 gesinne gaan kos gee nie (Joh. 6:5-7). Hy het ook Jesus se wonderwerke misgekyk en kon nie insien dat Hy God is wat die Vader aan ons openbaar nie (Joh 14:9-11). Daarom het hy gesê: ‘Wys ons die Vader en dit is genoeg’ (Joh. 14:8).

Maar Jesus het hom verander en gebruik om die evangelie te versprei. Op die einde het hy deur steniging, of kruisiging gesterf.7

 

Bartolomeus (v.14)

Die naam Bartolomeus beteken ‘seun van Tolmai’. Sy volle name was Natanael die seun van Tolmai. Ons sien in Joh. 1:45 hoe Filippus vir Natanael na toe Jesus gebring het. Natanael kon nie glo dat iets goed uit Nasaret kan kom nie (Joh. 1:46).

Maar ten spyte van sy vooroordeel het Jesus hom ’n Israeliet sonder bedrog genoem (Joh. 1:47). Hy het in Indië gepreek en Matteus Evangelie in een van die plaaslike dialekte vertaal. Hy het in Armenië gesterf nadat hulle hom met stokke geslaan het, gekruisig het, sy vel afgeskil het en hom onthoof het.8

 

Matteus (v.15)

Sy ander naam was Levi die seun van Alfeus (5:27, Matt. 9:9, Mark. 2:14). Hy was ’n tollenaar wat vir die Romeine gewerk het en sy volksgenote swaar belas het (5:27, Matt. 10:3). Maar Jesus het hom gered (5:27-32) en gebruik om een van die vier Evangelies te skryf. Hy het in Etiopië en Egipte gepreek waar koning Hirkanus hom met ’n hellebaard—’n byl met ’n spies se punt—deurboor.9

 

Tomas (v.15)

Hy was een van ’n tweeling (Joh. 11:6). Hy het ’n pessimistiese karakter gehad. Soos Eeyore het hy die donker in alles gesien. In dieselfde asem was hy ook baie lojaal. Ons lees byvoorbeeld in Joh. 11 dat die Jode vir Jesus wou stenig. Toe Hy dus planne gemaak het om na Jerusalem toe terug te keer, wou die dissipels Hom keer. Tomas het egter gesê: ‘Kom ons gaan saam met Jesus, sodat ons saam met Hom kan sterf.’ (Joh. 11:8, 13-16). Ook toe Jesus gesê het Hy gaan weg, wou Tomas saamgaan en het hy die pad daarheen gevra (Joh. 14:5).

Tomas het nou wel ná die opstanding getwyfel, maar Jesus het sy twyfel oorkom sodat hy Hom as sy Here en God aanbid het (Joh. 20:24-25, 28). In latere jare het Tomas vir hiérdie God in Persië en Indië gepreek, en uiteindelik ook vir hom gesterf nadat hy met ’n spies deurboor is.10

 

Jakobus seun van Alfeus (v.15)

Jakobus die seun van Alfeus (v.15); Matteus die seun van Alfeus (Mark. 2:14). Was hulle twee broers? Sommige kommentators meen dat Alfeus dieselfde persoon as Clopas, die man van Maria is (Joh. 19:25). In daardie geval is die Jakobus van v.15 jong, of klein Jakobus van wie ons in Mark. 15:40 lees. Volgens die geskiedenis is hy in Egipte gekruisig.11

 

Simon die Seloot (v.15)

Die Griekse woord zēlōtēs mag dalk Simon se ywer vir die wet beskryf (vgl. Num. 25:11, Hand. 21:20, Gal. 1:14). Maar meer waarskynlik beteken dit dat hy deel van die Selote was; ’n politieke groep wat die Romeine deur geweld uit Israel wou verdryf.12 As dit nie vir Jesus se genade was nie, sou Simon maklik vir Matteus die tollenaar met ’n mes gesteek het. Maar Jesus het hom verander en sy ywer vir die evangelie in Mauritanië en Groot Brittanje gebruik. Op die ou ent het hy vir ’n groter saak as politiek gesterf. Hy is vir Jesus en die evangelie gekruisig.13

 

Judas seun van Jakobus (v.16)

In Matt. 10:4 word hy Thaddeüs, of Lebbeüs genoem (Ou Vertaling). Waarskynlik was dit ’n bynaam wat sy ouers hom gegee het. Dit beteken ‘groot hart’, of ‘kind van ’n mens se hart’. Moontlik verwys dit na sy liefdevolle en sagmoedige karakter. Ons sien hierdie karaktertrek in Joh. 14:22 toe hy Jesus gevra het om Homself nie net aan die dissipels te openbaar nie, maar aan die wêreld. Ons sien hierdie selfde hart vir die wêreld toe hy die evangelie Turkye toe gevat het en daar met ’n knuppel, of ’n byl doodgemaak is.14

 

Judas Iskariot (v.16)

Iskariot beteken ‘man van Keriot’, ’n dorp sowat 16 km Suid van Hebron en Oos van die Dooie See (Jos. 15:25). Judas staan bekend as die verraaier, sodat niemand vandag sy kind Judas noem nie (v.16). Jesus het van die begin af geweet dat hy ’n duiwel is (Joh. 6:70-71). Hy het geld uit die dissipels se beursie gesteel en Jesus vir geld verraai (Joh. 12:4-6, Matt. 26:14-16). Hy het homself aan Satan oorgegee, sodat dié in hom ingevaar het (Luk. 22:3, Joh. 13:2, 27). Hy was so skynheilig dat nie een van die ander dissipels vermoed het hy is die verraaier nie (Joh. 13:21-30). Hy het Jesus op die laagste manier moontlik verraai, naamlik met ’n soen (Matt. 26:48-49). Toe Jesus ter dood veroordeel is, het sy gewete hom gepla. Hy het die geld teruggevat, maar sy bekering was nie opreg nie, omdat hy dit met nóg ’n sonde opgevolg het toe hy homself gaan hang het (Matt. 27:3-5). Blykbaar het die tou, of die tak gebreek en het hy hom te pletter geval, sodat hy oopgebars het en sy ingewande uitgepeul het (Hand. 1:18). Jesus het hom die seun van die verderf genoem en gesê dat dit beter sou wees as hy nie gebore is nie (Matt. 26:24, Joh. 17:12). Volgens Hand. 1:25 is hy hel toe.

Moet dan nie aanneem dat almal wat in ’n leiersposisie is, noodwendig gered is nie. Moet ook nie soos Judas wees en jou sonde probeer wegsteek nie. Bekeer jou tot die Here, sodat Hy jou kan vergewe, want as jy met jou sonde aanhou, sal jy saam met Judas in die hel beland.

Wees eerder soos die ander dissipels. Ja, hulle was onvolmaak, gebroke en niks spesiaal nie. En tog het Jesus hulle verander en gebruik om die wêreld om te keer (Hand. 17:6). Kan Hy dit vir jou doen? Kan Hy jóú so gebruik? Wat van die mense rondom jou: die Christen met die groot mond, of die een wat sukkel om voor ander te praat? Wat van die een wie se logika in die pad van sy geloof kom, of die een wat jou verkeerd opvryf? Net soos die Here jóú kan verander, kan Hy húlle verander. Laat ons daarom geduldig met mekaar werk en mekaar in liefde verdra. Dit is veral nodig, omdat ek die afgelope tyd gehoor het dat van ons mense onderlangs teen mekaar begin brom (kontra Jak. 5:9). Dit is nie die Here se wil dat sy troepe onder mekaar stry nie. Hy wil eerder hê dat ons—gebroke soos ons is—teen ’n gemeenskaplike vyand moet stry en die Koninkryk moet uitbrei.


1  Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 60-3 en John MacArthur & Richard Mayhue, Biblical Doctrine (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 124

2  Ignatius of Antioch, Letter to the Romans, ch.4. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0107.htm

3  Byna al die stories van hoe die apostels gesterf het, kom uit die geskiedenisboeke en nie uit die Bybel nie. Derhalwe is ons nie presies seker hoe dit gebeur het nie.

4  John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs (New Kensington, PA: Whitaker House, 1981), 12-3

5  Ibid., 7-9 en John MacArthur, Twelve Ordinary Men (Nashville: Thomas Nelson, 2002), 74

6  Foxe, ibid., 14

7  Ibid., 9

8  Ibid., 7

9  Ibid., 9

10  Ibid., 6

11  Ibid.

12  https://www.internationalstandardbible.com/Z/zealot-zealots.html EN https://www.internationalstandardbible.com/A/assassins.html

13  Foxe, ibid., 6-7

14  https://www.gotquestions.org/Thaddeus-in-the-Bible.html EN MacArthur, ibid., 180