Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 July 2017

Die Perfekte Regering

Perfect government

Die Perfekte Regering?  Dit klink soos een of ander Utopia, soos iets wat nie bestaan nie.  Maar dit bestaan.  ‘Waar?’ wil iemand weet.  Dit bestaan nie in Amerika, in die ANC, of in ons land se vorige regering nie – alles behalwe.  Dit bestaan in die Messias en sy ewige Koninkryk.  Jes.11-12 beskryf dit vir ons.

 

Haar Koning (11:1-5)

Onkunde oor die geskiedenis veroorsaak soms dat ons dink geen era in die verlede was so erg soos ons s’n nie.  Ons maak of die regering van ons kinderjare nie korrup was nie, en of hulle nie die armes onderdruk het nie.

 

Maar daar bestaan nie so iets soos ‘n perfekte regering nie.  Die enigste perfekte regering is Jesus s’n, omdat net Hý die perfekte Koning is.  Dit is waaroor 11:1-5 gaan.

 

As God die boom van Assirië afgekap het, sou dit nie weer gespruit of gegroei het nie (10:34).  Maar met Israel was dit anders.  Die Messias sou soos ‘n groen takkie uit die stomp van Isai en Dawid gespruit het (11:1, 6:13, 9:5, Mt.1:1-16, Hd.13:22-23).  Hy sou ‘n groot tak geword het wat die vrug van baie bekeerlinge gedra het (11:1, 4:2).

 

Om Hom vir sy Koninklike taak te bekragtig, sou die Gees van die Here op Hom gerus het en Hom nie verlaat het, soos Hy dit met Simson en Saul gedoen het nie (11:2, Rgt.16:20, 1 Sm.16:13-14, Mt.3:16-17, Jh.1:33).

 

Die Gees het Hom met wysheid en insig gevul, sodat Hy reg kon regeer (11:2).  Hy het Hom met raad en sterkte gevul, sodat Hy nie raadgewers en ‘n weermag nodig gehad het nie (11:2).  Deur die Gees in Hom, het Hy ‘n intieme kennis van God gehad (11:2).  Om die Vader te vrees en sy wil uit te voer was vir Hom vreugde (11:2-3).

 

Hy het nie soos ander konings op grond van die uiterlike geoordeel nie (11:3, Jh.7:24).  Met sy bonatuurlike wysheid het Hy mense se harte geken, en kon Hy hulle regverdig oordeel (11:2-4, Jh.2:24-25, Heb.4:12-13).  Hy het nie die armes onderdruk nie, maar het aan hulle geregtigheid verskaf (11:4, 10:2, Ps.72:2, 4).

 

Hy het ook die sagmoediges met bilikheid geoordeel (11:4, Mt.5:5).  Met woorde van oordeel het Hy die goddelose doodgemaak, met die roede van sy mond en die asem van sy lippe (11:4, Ps.2:9, 2 Ts.2:8, Op.19:15).  Hy het geregtigheid en getrouheid soos ‘n gordel aangetrek (11:5, Ef.6:14).

 

Om hierdie verse reg toe te pas, moet ons die eerste lesers se situasie verstaan.  Die volk en haar leiers het in sonde gelewe, en daarom het die Here belowe om haar te oordeel (hfst.1-10).  Dit was in die midde van sulke dreigemente wat Jes.11-12 aan die volk geprofeteer is.

 

In ons land gaan dinge nie veel beter nie:  Suid-Afrika se burgers en leiers is ewe korrup.  Die probleme wat ons beleef kan direk na ons sonde toe teruggelei word.  Die Here se hand rus swaar op ons.  En tog is alles nie verlore nie.  God het immers nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om ons te veroordeel nie, maar sodat mense deur Hom gered kan word (Jh.3:17).

 

Met die Messias se eerste koms was sy Koninkryk tot die Jode beperk, maar binne drie dekades daarna het dit die buitewyke van die antieke wêreld bereik (Rm.16:26, Kol.1:6, 23).  Daarna het dit na al die kontinente toe versprei, en vandag is dit in die meeste lande op aarde.  Daar is nog volke wat onbereik is, maar in die toekoms sal ook húlle in die Koninkryk inkom (Ps.72:8).

 

Moenie nalaat om hiervoor te bid en vir mense van die Koning te vertel nie (Mt.6:10).  Sê vir hulle dat hulle Hom persoonlik kan ken.  As hulle in Hom glo en vertrou dat sy kruisdood en opstanding voldoende is om hulle te red, sal Hy hulle aanneem en erfgename van die Koninkryk maak.  As hulle hulle sonde los en na Hom toe draai, sal Hy dit nie teen hulle hou nie maar hulle vergewe.  As hulle egter kies om met hulle sonde aan te hou, sal hulle die skrikwekkende gevolge moet dra (11:4b).

 

Haar vrede (11:6-9)

Toe ek ‘n student was het een van my dosente gesê dat die ‘leeu en die lam’ nie net oor die hemel gaan nie.  Ek het altyd gewonder wat hy bedoel.  Nou weet ek.

 

Die uitbreiding van die Messias se Koninkryk sal ook die diereryk beïnvloed.  Die wolf sal saam met die lam wees, die luiperd sal langs ‘n jong bokkie lê, leeus, kalwers en vetgemaakte vee sal saam wees, en volgens die opdrag in Gn.1:28 en Ps.8:7-9 sal ‘n kind hulle lei (11:6).

 

‘n Koei en ‘n beer sal saam wei; hulle kleintjies sal nuwe instinkte hê en saam in die gras lê (11:7).  Soos panda bere en vrugte vlêrmuise, sal leeus hulle skerp tande gebruik om plante te eet (11:7, Gn.1:30).  Babas en kleuters sal by ‘n giftige slang se nes speel en nie gepik word nie (11:8).  Slange sal nie meer ‘n bedreiging wees vir mense nie (Gn.3:15).

 

Mense en diere sal nogsteeds doodgaan (65:20, Rm.8:19-22).  Die Here sal egter hulle instinkte verander na wat dit voor die vloed was, sodat hulle mekaar nie meer sal doodmaak nie (11:6-9, Gn.9:2-3).  Dit sal gebeur omdat die ware kennis van God die aarde sal vul soos wat water die seebodem vul (11:9).  Die Here se heilige berg sal nie tot Jerusalem beperk wees nie; dit sal die hele aarde vul (11:9, Dn.2:35, Jh.4:20-24, Heb.12:22).

 

Jes.11:6-8 moet in die toekoms vervul word, en tog sal dit nie gebeur as ons op ons agterstewe sit en daarvoor wag nie.  Dit is nie dat ons die Koninkryk moet inbring nie, maar volgens 12:4-5 en Mt.6:10 sal die Here dit deur ons prediking en gebede doen.  Christus se Koninkryk sal kom deur die kennis van die Here wat oor die hele aarde versprei (11:9).

 

In ons evangelie-prediking moet ons vir mense sê dat die Koning oppad is, en dat Hy vir ewig sy Koninkryk op die aarde gaan vestig.  Dié mense wat hulle bekeer sal vergewe word, terwyl die rebelle in sy Koninkryk in die helse vuur gegooi sal word (Mt.13:41-42).

 

Dit is hartseer dat ons nie eintlik die evangelie van die Koninkryk met die nasies deel nie (en ek sluit myself hierby in).  Ons stuur elke maand ‘n paar rand vir sendelinge, en verwag dat húlle dit moet doen.

 

Maar hoeveel buitelanders is daar in ons dorpe en stede?  Met die lughawe naby ons, is Kempton Park multi-kultureel – die wêreld het na óns toe gekom.  Ons het die gulde geleentheid om deur plaaslike evangelisasie die evangelie van die Koninkryk na die nasies toe te vat.  Met die internet en sosiale media, kan ons deur die druk van ‘n knoppie die wêreld bereik.  Mag die Here ons traagheid vergewe en ons help om nie die groot opdrag van Mt.28:18-20 te ignoreer nie.

 

Haar mense (11:10-16)

Toe George Whitefield gepreek het, het mense in hulle tienduisende opgedaag om na hom te luister.  Die kerkgeboue waarin Spurgeon gepreek het was te klein – hy het soms vir sy lidmate gevra om by die huis te bly, sodat ander ook ‘n geleentheid kon kry om na die Woord te luister.

 

Diep in my hart begeer ek dat dit by ons moet gebeur.  Ek besef dat ek nie George Whitefield of Charles Spurgeon is nie, en dat hulle unieke gawes gehad het.  Maar sonder bekerings kan my siel nie rus nie, en joune moet ook nie.  Bid daarvoor en smag daarna.

 

Tydens die wêreldwye herlewing van 11:9, sal die nasies na die Messias vra (11:10, 2:3).  Hy sal in hulle midde rus en vir hulle rus gee (11:10, Ps.132:8, 14, Mt.11:28-30, Heb.4).  Hulle sal sy heerlikheid sien en sy teenwoordigheid begeer (11:10, 6:3, Ps.72:19, Hab.2:4).  Hulle sal daarna uitsien om saam met ander gelowiges die Here te aanbid (11:10, Ps.122:1, Sg.8:20-23).

 

Hulle sal besef dat Hy nie net ‘n mens uit die nageslag van Isai is nie, maar ook die God wat vir Isai gemaak het, die Spruit en die Wortel van Isai (11:1, 10, Mt.22:41-45, Op.22:16).  Hy sal ook ‘n banier oor al die nasies wees om te wys dat hulle deur Hom gered kan word (11:10, Jh.3:14-15, 12:32, Rm.15:12).

 

Soos Hy sy hand uitgestrek het om Israel deur die Rooi See te lei, sal Hy vir ‘n tweede keer sy hand uitstrek en die banier van die Koninkryk waai om die uitverkorene Jode en heidene uit die vier hoeke van die aarde te versamel (11:11-12, 19:23-25, 24:15, 27:13, 42:4, 45:14, 66:19, Jer.49:39, Mt.24:31, Lk.13:29, Jh.11:51-52, Hd.1:8, Rm.11:25-26).

 

Die noordelike en suidelike koninkryke van Israel sal mekaar nie meer haat of teen mekaar baklei nie, maar soos een man teen die Here se vyande veg (11:13-14, 4, Esg.37:16-24).  Wie is hierdie vyande?  Die nasies in v.14 bestaan nie meer nie, en is dus generiese name vir die Here se vyande.  Jesaja het dit so gebruik, omdat sy lesers hiermee bekend was.

 

Die nasies wat hulle aan die Here onderwerp, sal genade vind (11:14).  Na die oorlog in 11:14, sal daar nie meer oorlog wees nie, maar vrede (11:9, 2:4).  Met ‘n sterk hand sal God sy volk uit die nasies terugbring, net soos Hy hulle in die verlede uit Egipte en Assirië verlos het (11:15-16, 11).

 

Al glo jy nie presies soos ek oor die eindtyd nie, moet daar ten minste in jou hart die begeerte wees dat mense tot bekering sal kom.  En as jy bereid is om te glo dat daar in die toekoms baie mense tot bekering sal kom, sal jy daarna smag en met versugtig daarvoor bid (11:10-11, 35:10).

 

Die hoop sal soos ‘n vuur in jou hart brand.  Jy sal in jou geestesoog sien hoe baie nasies na die Here toe draai.  In vergelyking met die vervulling van Jesaja se profesie, sal die openingseremonie van die Olimpiese spele soos ‘n laerskool konsert lyk.

 

As jy hierdie hoop het, sal dit jou uitkyk op die probleme in ons land en wêreld verander, en jou help om te sien dat die oplossing nie polities of ekonomies is nie, maar geestelik.  Die oplossing se Naam is Jesus.

 

Haar blydskap (12:1-6)

Deur die geskiedenis was die Jode bekend vir hulle opstandigheid.  In die Ou Testament het hulle in die woestyn gerebelleer, en toe die Messias aarde toe gekom het, het hulle Hom vermoor.  Vandag nog is hulle daarvoor bekend dat hulle teen die Moslems veg.  Maar in die toekoms sal dit verander.

 

In die dag van Christus se Koninkryk, sal Israel dankbaar wees dat Hy sy toorn weggedraai het om hulle te troos (12:1, 10:4, Rm.3:25).  Hulle sal Hom prys dat Hy hulle verlos het, en nie meer bang wees dat Hy hulle gaan oordeel nie; hulle sal op Hom vertrou (12:2).

 

Soos in Eks.15:2 by die Rooi See, sal hulle erken dat die Here hulle lied, sterkte en verlossing is (12:2, Ps.118:14).  Met harte vol van blydskap sal hulle die leë emmer van geloof na die Messias toe bring om die lewende water van verlossing by Hom te kry (12:3, Jh.4:13-14, 7:37-39).

 

Met lofliede van blydskap en dank, sal hulle die Here se Naam aanroep (12:4-6, Gn.12:8, Eks.15:1).  Hulle sal sy heerlike Naam en dade onder die nasies bekend maak, en verkondig dat Hy – die Heilige van Israel – verhewe is in hulle midde (12:4-6, Ps.105:1).  En wanneer die Jode dít doen, sal al die nasies in die Messias glo (12:4-5, 11:9-11, Rm.11:12, 15).

 

Vandag is baie nasies en individue anti-semities:  hulle haat die Jode.  Oorkant die lughawe is daar ‘n advertensiebord wat sê:  Boycott Apartheid Israel.  Op ‘n ander advertensiebord in Edenvale sê Nelson Mandela dat ons die Palestyne se vryheid moet soek.  Die logiese implikasie is dat ons teen Israel moet wees.

 

My punt is nie dat ons vir Israel op ‘n politieke vlak moet ondersteun nie, maar eerder dat ons hulle nie moet haat nie.  Ons moenie soos baie mense in die kerk se geskiedenis téén hulle wees nie.  Aan die ander kant moet ons nie maak of hulle God se onskuldige witbroodjies is nie.  Hulle het die Messias verwerp en gekruisig, en daarom het die Here hulle aan hulle ongeloof oorgegee en hulle verhard.

 

Die Bybelse reaksie is nie om hulle te haat nie, maar om vir hulle bekering te bid, en die goeie nuus van Jesus met hulle deel as jy die geleentheid kry.  Ons moet glo dat die Here ons gebede sal verhoor en hulle tot bekering sal lei (Jes.12, Rm.11).

 

Maar selfs as die Jode en die nasies die Here dien, sal die wêreld nog nie perfek wees nie.  Sy heerskappy is perfek, maar om ‘n volmaakte wêreld te hê moet Hy weer kom en alles nuut maak, sodat daar glad nie meer sonde en dood is nie.  “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” (Kol.1:27).

Kategorieë