Die Opstandingslewe

Efesiërs 2:1-10

Die proses van hoe reën vorm—die hidrologiese siklus—is wonderlik en meer kompleks as wat ons dink.1 Ons ken die basiese en weet dat water verdamp en in gas verander as die son daarop skyn. Daarna kondenseer dit: die mikroskopiese waterdruppels begin aan mekaar vassit om wolke te vorm. Die druppels smelt dan met ander druppels saam om groter druppels te vorm, en op die einde het jy reënwolke.

Maar eintlik stel ons nie net daarin belang om te weet hoe reën vorm nie. Ons soek eerder die reën self, omdat dit ons van drinkwater en voedsel voorsien.

Net so is dit wonderlik om te weet dat Jesus uit die dood opgestaan het. Maar ons wil meer as dit weet. Ons wil weet hoe sy opstanding ons lewens verander.

 

1. Hoekom het jy dit nodig? (v.1-3)

Elri kry gereeld hoofpyne. Sy dink nie veel daarvan nie en drink ’n Panado. As sy maar net geweet het dat sy ’n gewas op die brein het, sou sy haar dokter gaan sien het vir ’n operasie.

       Geestelik is daar baie mense soos Elri. Hulle dink dat hulle sonde nie so erg is nie. En omdat hulle dit afmaak, dink hulle om beter te probeer lewe, is genoeg. Hulle besef nie hoe diep die probleem is nie en daarom kyk hulle nie na Jesus vir die oplossing nie. Maar mag ek jou asseblief wys hoe diep die probleem is, sodat jy kan weet hoekom ons Jesus se opstandingslewe benodig?

    Alhoewel ons fisies lewe (v.3), was ons geestelik dood in ons sonde (v.1). Ons het nie ’n begeerte na God, of geestelike dinge gehad nie, en het dit ook nie verstaan nie (Rom. 3:10-12, 1Kor. 2:14). As gevolg van hierdie doodsheid, kon ons nie uit onsself na God kom nie. Baie Christene besef dit nie, maar dink dat ons God uit ons vrye wil gekies het. Hulle weet nie dat selfs ons wil geestelik dood was en onder die mag van sonde (v.1). Derhalwe moes God ons kies, roep en vrymaak, sodat ons op sy roepstem kon reageer om Hóm te kies (Joh. 6:44, 15:16, Hand. 13:48, Ef. 1:4, 1Joh. 4:19). As Hý nie die inisiatief geneem het nie, was daar vir ons geen hoop nie (v.1, Rom. 8:7-8).

       Ons het dag na dag in die sonde gewandel; dit was ons leefstyl (v.2). Ons het dit gedoen, omdat dit ons natuur was en omdat almal rondom ons dit gedoen het (v.1-3). Min het ons geweet dat ons deur die duiwel bedwelm word. Satan is die prins en leier van die bose magte in die lug (v.2, 6:12). Hy is ’n bose gees wat die wêreld beïnvloed om in sonde te lewe en op ’n sekere manier te dink (v.2, 2Kor. 4:4, 1Joh. 5:19). Hy hou mense in sy greep deurdat hy hulle met dinge versoek wat hulle sondige begeertes wil hê (v.1-3). Hierdie mense is die seuns van ongehoorsaamheid: kinders van hulle eie sonde en Adam s’n (v.1-2, Rom. 5:12).

       Almal van ons het op ’n tyd soos hulle gelewe (v.3, Rom. 3:23). Ons het die sonde begeer soos wat ’n donkiehings vir ’n merrie lus (v.3). Ons gedagtes was een sonde-massa (v.3). Ons het nie teruggehou nie, maar het ons gedagtes en begeertes uitgevoer (v.3, 4:19). Ons het gekyk, gedink, gesê en gedoen wat ons wil. Ons het volgens ons emosies en vir die oomblik gelewe. Ons was slawe van ons eie sonde en wou dit so hê (v.2-3).

       Omdat ons dan kinders van ongehoorsaamheid was (v.2), het ons kinders van God se wraak, of toorn geword (v.3). Dit is asof sonde ons ma was en die hel ons pa. God was gereed om ons te straf; nie net vir wat ons gedoen het nie, maar omdat ons in die diepte van ons menswees rebels was. Soos ’n leeu wat van nature doodmaak, was ons van nature vol sonde (v.1, 3). Dit was deel van wie ons was en is by ons ingebore (Ps. 51:7, 58:4). Gevolglik is ons nie sondaars omdat ons sonde dóén nie, maar doen ons sonde omdat ons sondaars ís. Ons sondige gedagtes, woorde en dade het uit ons korrupte natuur gespruit. Dit is waar van die ganse mensdom (v.3).

***

Kan jy sien hoe diep die probleem werklik is en dat jy nie kan sê: ‘Ek het gekies om my hart vir Jesus te gee—van vandag af gaan ek ’n beter mens wees en gaan ek soos Jesus lewe’? Kan jy sien hoekom rituele soos die doop jou nie God se kind kan maak nie?

       Om ’n Moslem, Hindoe, of Boeddhis te word, is maklik: jy neem ’n besluit. Selfs as jy ’n Jehova’s Getuie, Katoliek, of Mormoon wil word, moet jy net hulle lering aanvaar, dit toepas en gedoop word. Om egter ’n Christen te word, verg ’n bonatuurlike werk van God. Buiten dat Jesus vir ons sonde aan die kruis moes sterf, moet God jou geestelik opwek en moet sy Gees jou van binne af nuut maak (v.5, Eseg. 36:26, Joh. 1:12-13, Tit. 3:5). En as Hy jou nuutgemaak het, leef jy nie meer vir die sonde nie (v.1-3, 1Kor. 6:9-11). Jy loop nie meer agter die massas aan nie en laat jou nie deur die duiwel beheer nie (v.2, 1Joh. 2:15-16).

    Is dit waar van jou? Of noem jy jouself ’n Christen, terwyl jy nog in die greep van sonde is: diefstal, dronkenskap, leuens, geskinder, seksuele losbandigheid, woede en ander sondes? Indien wel, benodig jy Jesus se opstandingslewe.

 

2. Waar kry ’n mens dit? (v.4-6)

In Kemptonpark sien ’n mens min sterre, omdat die stad se ligte dit uitblok. As jy baie sterre wil sien, moet jy Sutherland toe gaan. Hoe donkerder die nag, hoe meer sterre sal jy sien.

    Net so skyn God se genade helder teen die donker agtergrond van ons sonde (v.4-6, 1-3). Deur hierdie einste genade verkry ons die opstandingslewe. Ons verdien dit nie, maar na sy groot liefde verryk God ons daarmee uit die skatkamers van sy barmhartigheid (v.4). Duidelik red Hy ons nie as gevolg van wie óns is nie, maar as gevolg van wie Hý is.

       Die rykdom van sy barmhartigheid beteken ook dat Hy ons nie net verdra nie, maar dat Hy ons met sy hele hart red. Hy het ons liefgehad nog voor Hy die wêreld gemaak het (1:4-5, Jer. 31:3). Sy liefde vir ons kon nie groter wees nie (v.4). Hy het ons liefgehad toe ons geestelik dood was—vyande wat teen Hom gesondig het en Hom gehaat het (v.5, 1, Rom. 5:8). In sy groot liefde, het Hy sonde, die duiwel en die wêreld se mag oor ons verbreek en ons lewend gemaak in Christus (v.5). Die feit dat Hy ons lewend gemaak het, beteken weereens dat ons nie die eerste skuif gemaak het nie. God het nie op jou en my besluit gereageer nie, maar ons het op sý besluit gereageer. Hy het ons geestelike laat lewe (v.5), sodat ons die evangelie kon glo (v.8). Dus het ons geglo omdat ons weergebore is en nie andersom nie. Ja, geloof is iets wat jý moet doen. Maar weergeboorte is iets wat God in jou doen. Dit is ’n wonderwerk waardeur die Here jou lewend maak saam met Christus (v.5-6). En omdat jy in Christus is, lewe Hy in jou en jy in Hom (Gal. 2:20). Daarom sit jy ook in ’n sekere sin reeds in die hemele saam met Hom (v.6, Kol. 3:3).

       Prakties beteken dit jy kan nie jou redding verloor nie. Jy kan tog nie in die hemele in Christus wees en skielik jou plek verloor nie. Jy kan nie geestelik lewend gemaak word en weer sterf nie. God het jou die ewige lewe gegee. As jy dit verloor, was dit in die eerste plek nie ewig nie. Volgens die Bybel kan geen Christen sy redding verloor nie (1:13-14, Joh. 6:37, 39, 10:28-29, Rom. 8:29-30, 38-39, Fil. 1:6). As jy dan in Christus is, is jy veilig.

 

3. Hoekom gee God dit? (v.7)

Toe ons verlede jaar met verlof was, toe oorlaai ’n broer en suster ons met geskenke. Dit is nie dat enige van ons verjaar het nie. Hulle het dit gedoen net omdat hulle kon.

    So gee die Here ons sy opstandingslewe net omdat Hy kan. En dit is maar net die begin. Hy gee ons hierdie lewe in Christus, sodat ons by Hom in die hemel kan wees en Hy ons vir ewig die rykdom van sy genade kan wys (v.7). Ons geniet reeds sy ryke genade (1:3, 7-8), maar eendag sal Hy ons nuwe dimensies wys waarvan ons nie geweet het nie (v.7). Anders as met ’n aardse koning (1Kon. 10, Jes. 39:4), is daar geen einde aan God se skatte nie (v.7). Dit beteken dat die hemel nooit vervelig sal raak nie, omdat jy nooit die einde van God se grootheid, genade, wysheid en krag sal sien nie (v.7, Ps. 145:3, 147:4-5, Rom. 11:33). God se rykdom is ’n piek wat jy nie kan uitklim nie; ’n bodem waaraan jy nie kan raak nie; ’n myn wat jy nie kan uitput nie. Soos die eeue en millennia in die nuwe wêreld ontvou, sal jy meer van God se genade leer ken (v.7). Jou verwondering sal vir ewig toeneem. Joh. 1:16 sal vir jou ’n nuwe betekenis aanneem: “Uit sy volheid het ons almal genade ontvang—ja, genade op genade.”2

    Dalk wonder jy hoekom ons God se genade benodig as ons in hemel is, veral as ons nie meer sal sondig nie. Maar genade is nie net vir sondaars nie. God se genade verwys na sy onverdiende guns. Dit beteken dat die sonskyn, reën, vars vrugte en vriendskap wat Adam en Eva in die tuin van Eden geniet het, deel van God se onverdiende guns, of genade oor hulle was.

       Net so sal ons in die hemel God se genade geniet. Ons sal dit nie kry omdat ons iets verdien nie, maar omdat Hý goed is (v.7). Ons sal dit in Christus ontvang (v.7). Selfs wanneer ons dan in die hemel is, sal ons Jesus nodig hê en sal die Vader ons om sý ontwil guns bewys. Laat ons dan nie ophou om die Vader vir sy Seun te dank nie. Laat ons nou al begin om sy lieflike Naam te prys. As jy Jesus se gesig sien, sal die Vader se genade jou so oorweldig dat jy Hom vir ewig kán, sál en wíl aanbid.

 

4. Hoe kry ’n mens dit? (v.8-9)

Daar is iets in ons wat maak dat ons met agterdog kyk na ’n item wat gratis geadverteer word. Soms is dit ook trots. Ons wil nie sê: ‘Ek het dit nie verdien nie.’

       So is dit ook met redding: ons wil kan sê dat ons dit verdien het. Maar ons het nie. Omdat ons sondaars is, verdien ons die hel. Dus is verlossing uit genade alleen, deur geloof alleen (v.8). Ons het dit verkry deur Jesus wat die wet in ons plek onderhou het, wat vir ons sonde gekruisig is, wat begrawe is en op die derde dag opgestaan het uit die dood. Ons het hierdie verlossing verkry toe ons die Vader vertrou het om sy Seun se lewe en dood in ons plek te aanvaar.

       Omdat verlossing dan gratis is, hoef jy nie iets te doen om dit te verdien nie. Jesus het dit klaar vír jou verdien. Aanvaar dit eenvoudig met ’n oop hand en sê vir die Here dankie. As jy jou verlossing kon verdien, sou jy in jouself geroem het en nie in die Here nie (v.9). Maar volgens die Bybel is verlossing uit God alleen. Selfs geloof is ’n gawe van God (v.8, Hand. 18:27, Fil. 1:29). God het ons in staat gestel om te kán glo.

***

Soos jy kan sien, kom jou en my redding geheel en al van God af (Joh. 3:27, 1Kor. 4:7, Jak. 1:17). Redding is nie ’n spanpoging waarin God ’n reddingsboei uitgooi en jy dit vasgryp nie. Die waarheid is eerder dat jy verdrink het en op die seebodem beland het. Jesus het ingeduik, jou uitgehaal en jou nuwe lewe kom gee. Toe jy jou oë oopmaak en Hom sien, toe kon jy nie anders as om in Hom te glo en Hom te aanbid nie.

       Voel jy so oor Jesus? Of roem jy nog in jou eie goedheid, terwyl jy diep binne jou weet dat jy ’n skirminkel is?

 

5. Hoe kan jy dit uiken? (v.10)

Kallie het nie op ’n plaas grootgeword nie en weet niks van vrugtebome nie. Hy kan egter ’n appelboom aan die vrugte uitken.

         Net so kan ’n mens deur iemand se goeie werke, of vrugte sien of Jesus se opstandingslewe in hom is (v.10). Ek probeer nie sê ons moet goeie werke doen om gered te word nie (v.9). Maar as jy waarlik gered is, sal jy goeie werke doen (v.10). Dit is tog waarvoor die Here jou gered het, nie waar nie—sodat jy soos Jesus kan wees en goeie vrugte kan dra om die Vader te verheerlik (Joh. 15:8, 1Joh. 2:6)? Net soos wat jy voorheen in sonde gewandel het (v.2), sal jy nou in goeie werke wandel (v.10). Goeie werke eerder as sonde sal jou lewe kenmerk. Die rede hiervoor is dat die Here jou ’n nuwe skepping kom maak het (v.10, 2Kor. 5:17). Hy het jou in staat gestel en gewillig gemaak om goed te doen (Fil. 2:13).

     Toets jouself: wat wíl jy doen—goeie werke, of sonde? Kry jy dit reg om konstant ’n goeie lewe te lei? Hoe jy hierdie vraag antwoord, sal wys of jy gered is, of nie. En as jy gered is, hoef jy nie eers die goeie werke uit te dink nie. Vra die Here om jou die goeie werke te wys wat Hy vir jou voorberei het en doen dit (v.10). Is dit in jou geval dat jy moet kos maak, of skoolwerk doen? Doen dit dan. Dalk beteken dit jy moet met jou kinders speel, met jou huweliksmaat gesels, ’n geut skoonmaak, iemand se kar insleep, ’n ou mens besoek, ’n vriend se verjaarsdag onthou, of jou vyand vergewe.

         As jou aanhoudend en in elke area van jou lewe goed doen, sal ongelowiges dit sien en jou Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matt. 5:16). Goeie werke is veral indrukwekkend as jy dit vir jou vyande doen. Die wêreld kan dit nie verstaan nie. Maar ons weet wat die geheim is: Jesus se opstandingslewe in ons. Hierdie is ’n lewe voller as enigiets wat die wêreld ons kan bied (Joh. 10:10). Dit is nie soos ’n dam wat vol word en sy walle oorstroom nie, maar is soos ’n standhoudende fontein binne-in ons.


1  https://www.desiringgod.org/articles/the-great-work-of-god-rain

2  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.