Coram Deo Cover Image

Coming soon...

15 July 2017

Die nuwe hemel en aarde

New heavens and earth

Natasha woon in ‘n baie arm gedeelte van Rusland.  Sy was nog nooit buite haar land se grense nie, en kan ook nie ‘n woord Engels praat nie.  Op ‘n dag toe ontmoet sy vir Pete, ‘n Amerikaner wat vir vyf jaar in Rusland gewerk het.  Hy kon vlot Russies praat.  Hulle het vriende geraak en uiteindelik met mekaar getrou.

 

A.g.v. Natasha se huwelik met Pete, het sy maklik Amerikaanse burgerskap verkry.  Sy kon egter nie die taal praat nie, en moes aan die kultuur gewoond raak.  Maar na tien jaar in die land kon sy vlot Engels praat, en het sy die kultuur aangeleer.  Wat sy aanvanklik net in teorie gehad het, het sy nou in die praktyk geniet.

 

En so is dit ook met die nuwe hemel en aarde.  Daar is ‘n sekere sin waarin ons reeds in die nuwe skepping deel.  Maar in ‘n ander sin sal ons eers die volheid daarvan geniet wanneer Jesus kom.  Dit is wat Johannes in Op.21:1-8 vir ons wil leer.

 

Die nuwe skepping (v.1)

Om een of ander rede het mense die idee dat God se kinders vir ewig in lugkastele gaan woon, gaan rond sweef, op wolke gaan sit, en op goue harpe gaan speel.  Is dit enige wonder dat baie mense nie ‘n begeerte het om daar te wees nie?

 

Die waarheid is eerder dat Jesus die hemelruim met sy sterre en planete, en die aarde met sy bome, berge, riviere, blomme, watervalle, diere, ens. gaan nuut maak.  Dit is o.a. hoe ons v.1 moet verstaan.

 

Johannes het ‘n nuwe hemel en aarde gesien; die eerste hemel en aarde het voor die Here weggevlug (v.1, 20:11).  Hy het dit gebrand en uit die rou materiaal die nuwe hemel en aarde geskep (2 Pt.3:10, 12-13).  Dit is dus nie soos die eerste skepping uit niks gemaak nie (Rm.4:17, Heb.11:3).

 

Soos Hy ons liggame uit die graf uit sal opwek, sal Hy ook die huidige hemel en aarde ‘opwek of wederbaar’ (Mt.19:28).  Alhoewel die nuwe hemel en aarde eers by die wederkoms vervul sal word (v.1), het dit reeds in saadvorm by Jesus se kruisdood begin.  Ons ervaar alreeds iets hiervan wanneer wedergeboorte in ons harte plaasvind:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel” (2 Kor.5:17a).

 

Maar die evangelie stop nie by die redding van sondaars nie.  Omdat Adam se sonde die skepping beïnvloed het (Gn.3:14, 17-18, Rm.8:19-22), sal Jesus die hemel en aarde van Gn.1:1 nuut maak (v.1, Hd.3:21, Kol.1:20).  Die see van die eerste skepping wat mense se dood veroorsaak het (20:13), sal nie meer bestaan nie (v.1).  Maar dit beteken nie dat daar nie ‘n nuwe, skadelose see sal wees nie.

 

Die nuwe Jerusalem (v.2-3)

Elke jaar is daar ‘n Baptiste Paaskonferensie op Cornelia, ‘n klein dorpie in die Vrystaat.  Daar is goeie prediking en heerlike samesang.  Een van die liede wat gesing word, gaan oor die Nuwe Jerusalem.  Dit is ‘n pragtige lied, maar daar is een sin in die lied wat nie Bybels is nie:  ‘Jerusalem, ewig daarbo.’

 

Volgens Op.21:2 sal die Nuwe Jerusalem nie vir ewig daarbo wees nie, maar sal dit na die aarde toe neerdaal.  Die stad verwys natuurlik na die mure, geboue, paleise, poorte en strate (v.9-27, Jh.14:2-3, Heb.11:10, 16, 13:14), maar dit verwys eintlik meer na die inwoners.  Ons is tog die hemelse Jerusalem en die bruid van die Lam (v.2, 9, 19:7-8, Ef.5:31-32, Heb.12:22).

 

Volgens v.2 en 9-27, sal die Nuwe Jerusalem – die huidige hemel – van God af na die aarde toe neerdaal, en die hoofstad van die nuwe aarde wees.  Die stad se hemelse afkoms beteken ook dat ons siele eendag saam met Jesus na die aarde toe sal terugkeer (v.2, Kol.3:4, 1 Ts.3:13, 4:14).  As Hy klaar ons liggame uit die graf uit opgewek en verheerlik het, sal Hy ons siele daarmee verenig (1 Kor.15, 1 Ts.4:13-18).

 

Omdat ons in ‘n sekere sin die Nuwe Jerusalem is, impliseer v.2 ook dat die kerk ‘n hemelse oorsprong het, en dat sy van God af kom.  Ons uitverkiesing, verlossing, wedergeboorte, roeping, regverdiging, heiligmaking, verheerliking kom van God af; ons is burgers van die hemelse Jerusalem (Jh.3:3, 5, Rm.8:29-30, Gal.4:26, Fil.3:20).

 

Volgens Johannes het die Nuwe Jerusalem gelyk soos ‘n bruid wat mooi gemaak is vir haar man (v.2, Jes.61:10).  Jesus het m.a.w. die stad voorberei (Jh.14:2-3).  Deur sy kruisdood, wedergeboorte en die Woord, het Hy ons ook vir Homself voorberei (19:7-8, Ef.5:25-27).

 

God het met ‘n harde stem uitgeroep dat Hy sy tabernakel onder ons opgeslaan het (v.3, Lv.26:11-12).  Dit het begin toe Jesus as mens in Betlehem gebore is (Jh.1:14, Gk.).  Toe Hy na die hemel toe opgevaar het, het Hy persoonlik deur die Heilige Gees in ons harte kom woon (v.3, Mt.28:20, Jh.14:21, 23).

 

Wanneer ‘n gelowige sterf en hemel toe gaan, en wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal sy teenwoordigheid tasbaar wees; Hy sal sy tabernakel oor die persoon sprei en hom veilig hou (v.3, 7:15).  Hy sal die Here van aangesig tot aangesig sien (v.3, 22:4, Mt.5:8, 1 Jh.3:2).

 

Die gemeenskap en die verbond wat in Gn.3 verbreek is, sal heeltemal herstel word (v.3).  Dit het reeds by Jesus se kruisdood begin (Jer.31:33, 2 Kor.6:18, Heb.8:10), maar sal in die hemel en op die nuwe aarde finaal vervul wees (v.3).  Ons – die Jode en heidene wat in Jesus glo – sal sy volk wees, en Hy sal ons God wees (v.3, 5:9, Tit.2:14, 1 Pt.2:9)

 

Die nuwe lewe (v.4-8)

Eric Clapton sing ‘n bekende liedjie waarin hy sê dat daar nie trane in die hemel is nie.  Ek wil nie graag my teologie by hom leer nie, maar ek moet sê dat hy op hierdie punt reg is.  In die hemel en op die nuwe aarde, sal God die trane van sy kinders se oë afvee (v.4, 7:17, Jes.25:8, kontr. Op.5:4).  Hy sal ook die dinge wat hierdie trane veroorsaak het, wegvat:  dood, droefheid, pyn, ens. (v.4).

 

Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus die dood oorwin, sodat die dood vir God se kinders skadeloos is (Jh.11:25-26, Fil.1:21, 23).  En tog sal die vervloeking van Gn.2:17, 3:19 eers finaal verdwyn wanneer Jesus ons liggame uit die dood uit opwek (v.4, 20:14, Jes.25:8, 1 Kor.15:26, 55).

 

Alhoewel ons nie op begrafnisse treur soos ongelowiges wat geen hoop het nie (1 Ts.4:13), treur ons nogsteeds.  Maar wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal ons glad nie treur nie (v.4).  Ons sal ook geen emosionele of fisiese pyn ervaar nie (v.4, kontr. Gn.3:16-19).

 

Jesus het by sy eerste koms en deur wedergeboorte gewys dat Hy die ou dinge kan omkeer om nuut te word (Jh.2-3, 6, 9, 11, 20; 2 Kor.5:17).  By die wederkoms sal Hy dit finaal doen wanneer Hy vir ons onsterflike liggame gee en alles nuut maak (v.1, 4-5, 1 Kor.15).  As dit vir jou onmoontlik klink, kan jy weet dat dit so seker en betroubaar is soos die Bybel self (v.5).

 

Wanneer God dinge op hierdie manier nuut maak, is sy verlossingswerk voltooi (v.6).  Hy is die Alfa en die Omega[1], die Begin en die Einde (v.6, 1:8, 22:13).  Die skepping het in Gn.1 by Hom begin, en in Op.21 het Hy dit nuut gemaak; ons verlossing het voor die skepping in sy gedagtes begin, en sal op die nuwe aarde in Hom vervul word (Rm.8:29-30, Ef.1:3-14, Fil.1:6).

 

Om die lewende water van hierdie verlossing te geniet, hoef jy nie geld vir die kerk te gee of godsdienstige rituele te beoefen nie.  Dit is heetemal gratis en verniet.  Ontvang dit met die leë hande van geloof (v.6, 22:17, Jes.55:1, Jh.4:14, 6:35, 7:37-39).  As jy in die hemel en daarna op die nuwe aarde is, sal jy vir ewig in perfekte gemeenskap met Jesus lewe, en só uit die fontein van die lewe drink (v.6).

 

Hierdie geskenk is vir dié wat tot die einde toe volhard, en só die oorwinning behaal (v.6-7).  Húlle sal nou en vir ewig erfgename en kinders van God wees (v.7, 3, Rm.8:15-17, 2 Kor.6:18).

 

Deur hulle geloof in die Oorwinnaar (Jh.19:30, 2 Tm.1:10, Heb.2:14-15), sal hulle die volgende dinge oorwin:

 

  • Die wêreld (1 Jh.5:4-5).
  • Vervolging (2:10-11, Rm.8:37, 35).
  • Vals lering (2:17, 15, 1 Jh.4:4).
  • Die duiwel (12:11, 15:2).
  • Afvalligheid (2:7, 4).
  • Sonde (v.7-8, 3:4-5).
  • Geestelike louheid (3:21, 15-16).
  • Die dood (1 Kor.15:57, 54-55).
  • Die hel (v.7-8).

 

Daar sal mense wees wat nié oorwin het nie, maar deur die sonde oorwin is (v.8, Gal.5:19-21, 1 Kor.6:9-10).  Hulle lewens het o.a. só gelyk:

 

[1] Vreesagtiges of bangbroeke; mense wat te skaam was om vir Jesus te volg; ‘people pleasers’ wat sonde gedoen het, omdat hulle bang was mense hou nie van hulle nie.

 

[2] Trouelose of ongelowige mense.  Hulle het nie in Jesus geglo nie, en was ook nie lojaal aan die Here, sy Woord en sy liggaam nie.

 

[3] Gruwelike mense wat gruwelike dinge gedoen het.  Die dinge wat hulle gedoen het is so gruwelik, dat jy dit nie in ordentlike geselskap kan noem nie.

 

[4] Moordenaars.  Hulle het ander se lewens geneem, ongebore babas vermoor, en gedurig daaraan gedink om hulle eie lewens te neem.  As hulle dit nie gedoen het nie, het bitterheid en onvergewensgesindheid hulle gedagtes gevul.

 

[5] Hoereerders.  Die Griekse woord [pornos] praat van mense wat seksueel losbandig was: seks voor die huwelik, egbreuk, homoseksualiteit, bestialiteit, pornografie, kindermolestering, prostitusie, wellus, ens. (Mt.5:27-30, 1 Kor.6:9-10, Heb.13:4).

 

[6] Towenaars van enige soort:  dié wat hulle sterretekens in die Huisgenoot gevolg het, en op Jakaranda FM ingebel het om met die dooies te praat, asook dié wat in Satanisme betrokke was (Dt.18:9-14, Hd.19:19, Gal.5:20).

 

[7] Afgodsdienaars.  Sommige het voor beelde van hout, klip en metaal gebuig, terwyl ander ‘n obsessie gehad het hulle liggame, geld, plesier, kos, drank, ens. (Kol.3:5).

 

[8] Leuenaars.  Hierdie is mense wat die waarheid verdraai het, hulle beloftes gebreek het, oordryf het, oneerlik, onbetroubaar en skelm was.  Hulle het ander bedrieg en dubbele lewens gelei.

 

Almal wat soos die bg. mense in hulle sonde wil lewe, sal vir ewig in die poel van swawel en vuur wees – dit is die tweede dood (v.8, 14:10-11, 20:10, 14-15).

 

Die eerste agt verse van Op.21 is gegee om ons aan te spoor en te waarsku.  ‘Bly weg van die hel af, en sorg dat jy eendag op die nuwe aarde sal lewe,’ is wat dit sê.  Natuurlik moet jy nie net eendag in die nuwe skepping deel nie, maar in hierdie lewe al.

 

Het jy al iets hiervan ervaar?  Ek vra nie of jy die sondaarsgebed opgesê het, op ‘n uitnodiging gereageer het, of jou hart vir die Here gegee het nie.  My vraag is of jy ‘n nuwe skepping is?  Is jy ‘n nuwe mens?  Het die Here jou lewe van binne af getransformeer?  Of is jy nog net dieselfde as in die verlede, sodat die dinge wat in v.8 gelys word deel van jou lewe is?

 

Hoekom kom jy nie met ‘n berouvolle hart van geloof na die Here toe nie?  Bely jou sonde, vra vir die Here om jou te vergewe, en drink deur die Woord en gebed uit die fontein van lewende water (v.6).

 

As jy reeds tot bekering gekom het, het ek twee dinge om vir jou te sê.  Eerstens wil ek sê dat jy soos ‘n burger van die hemel moet lewe.  Moenie só lewe dat ongelowiges niks met die Here te doen wil hê nie.  Dit geld vir jou huwelik, ouerskap, taalgebruik, hoe jy jou werk en skoolwerk doen, jou verhouding met dié wat oor jou aangestel is, jou gesindheid, jou maniere op die pad, en meer.

 

Tweedens is dit belangrik om nie te dink dat jy alreeds op die nuwe aarde is, sodat jy verwag dat jou geliefdes altyd gesond moet wees, en nie sal doodgaan nie.  Moenie vir die charismate luister wat dink dat hulle deur hulle woorde gesondheid, lewe en rykdom kan ‘spreek’ nie.  Geen mens se woorde kan die nuwe hemel en aarde skep nie; Jesus alleen kan.

 

Wag daarom vir Hom soos wat ‘n hond vir sy meester wag.  Terwyl jy wag moet jy nie passief wees soos ‘n hond wat in sy hok lê en slaap nie.  Wees aktief en gereed soos ‘n hond wat langs die heining staan en blaf.  Dien die Here, volhard, leef in gemeenskap met Hom, en deel die evangelie met ander.  Op dié manier kan jy solank ‘n voorsmakie van die nuwe hemel en aarde geniet.

 

[1] Die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet.

Kategorieë