Coram Deo Cover Image

Coming soon...

29 December 2013

Die mens se beste vriend

Bride with dog

18 Ook het die HERE God gesê:  Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.  Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas. 19 En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem.  En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees. 20 So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.” (Genesis 2).

 

Jou huweliksmaat (v.18)?

Iemand het vir my vrou gesê:  ‘Daardie man het nie vriende nodig nie, want Jesus is sy vriend’.  Dis nie waar nie.  Dwarsdeur hoofstuk 1 het God gesê dat sy skepping goed was.  Maar in 2:18 sê Hy:  “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.”  Ons is na God se beeld gemaak.  Soos wat daar sosiale interkasie in die Drie-Eenheid is, moet dit ook in die mensdom wees (1:26, ons).  Die mens is geskep om 'n sosiale wese te wees.  Dit is nie God se wil dat jy nooit uit jou huis uitkom, niks vriende het, eensaam of individualisties is nie.  Jesus self het vriende (Johannes 15:15).  Sy wil is dat ons deel sal wees van 'n liggaam van gelowiges (1 Korintiërs 12:27).  God het veral die huwelik ingestel vir vriendskap en om eensaamheid te voorkom (v.18).  Dit is ook ingestel dat mense kinders kan hê (1:28), een kan wees (v.24), seksuele sonde kan voorkom (1 Korintiërs 7:2) en die verhouding tussen Jesus en sy kerk kan weerspieël (Efesiërs 5:22-25).  Moet dan nie van jou huweliksmaat sê:  ‘Ek het hom/haar nie nodig nie’.  In v.18 sê God dat jy 'n helper nodig het.  Mans en vroue het mekaar nodig.  Die Skrif sê:

 

“Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man.  Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.  Daarom moet die vrou ‘n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.  En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie.  Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.” (1 Korintiërs 11:8-12).

 

God het vir jou 'n huweliksmaat gegee om 'n sosiale, emosionele, intellektuele, geestelike, fisiese, seksuele helper te wees.  Hy het nie maar net enige helper vir Adam gemaak nie, maar een wat by hóm pas soos die regte sleutel vir 'n spesifieke slot.  Hier is 20 foute om te voorkom in jou soektog na die regte huweliksmaat; na die een wat by jóú pas.

 

[1] Moenie passief bid nie.  Moenie bid en dan rondsit nie.  Moenie verwag dat die regte een in jou skoot moet val nie.  Neem aksie en inisiatief:  ontmoet mense en maak vriende.

 

[2] Moenie op die verkeerde plekke soek nie.  As jy 'n toegewyde Christen maat soek gaan jy hom/haar nie by 'n klub of partytjie ontmoet nie.  Bid dat daar 'n goeie Christen man/vrou kerk toe sal kom.

 

[3] Moenie 'n persoon se voorkoms jou hoof fokus maak nie.  Karakter is belangriker as uiterlike skoonheid.  'n Mooi vrou sonder karakter is soos 'n goue ring in 'n vark se snoet.

 

[4] Moenie dink iemand is die ‘regte een’ net omdat julle dadelik ‘geclick’ het, omdat julle mekaar drie keer in 'n ry ‘toevallig’ raakgeloop het, omdat jy vlinders in jou maag gehad het, of omdat die Here in 'n droom vir jou gesê dis die regte een nie.  Neem jou besluite op grond van Bybelse lering oor die onderwerp, die persoon se karakter en ernstige gebed vir wysheid (Jakobus 1:5).

 

[5] Moenie met 'n ongelowige trou nie – al is die persoon hoe gaaf.  Die Bybel sê jy is “vry om te trou met wie [jy] wil, maar net in die Here.” (1 Korintiërs 7:39).  “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” (2 Korintiërs 6:14).

 

[6] Moenie tevrede wees as die persoon 'n vae Christen-getuienis het, of vae idees het oor Jesus, die evangelie of die Bybel nie.  Moenie dink so iemand is 'n Christen net omdat hy/sy gereeld kerk toe gaan nie.

 

[7] Moenie te haastig wees om te sê:  ‘Ek het my droom man/vrou ontmoet’ nie.  Jy het genoeg tyd nodig om die persoon goed te leer ken, om die vrug van ware bekering te sien.  Wat vir ouderlinge geld kan ook van toepassing gemaak word op die huwelik:  “Die sondes van sommige mense is baie duidelik en gaan voor hulle uit tot die oordeel, maar volg ander eers agterna.  Net so is ook die goeie werke baie duidelik, en ook die wat anders is, kan nie weggesteek word nie.” (1 Timoteus 5:24-25).  Wat sê ander volwasse gelowiges van die persoon (cf. Handelinge 16:2)?

 

[8] Moenie dink jy het alle wysheid nie.  Vra toewyde Christene vir raad.

 

[9] Moenie gou sê:  ‘Sy is 'n Spreuke 31 vrou’ nie.  Het jy Spreuke 31 mooi gelees?  Verstaan jy dit?  Weet jy hoe om dit op ons tyd toe te pas?  En wat van die res van die Skrif:  het jy dit deursoek?

 

[10] Moenie onrealisties wees in jou verwagting nie.  Moenie te streng of ‘picky’ wees in jou vereistes nie.  Natuurlik wil jy nie jou Bybelse waardes prysgee nie, maar jy moet ook buigsaam wees wanneer dit kom by dinge wat nie so belangrik is nie.

 

[11] Moenie van die persoon se ouers vergeet nie (sy is immers onder haar pa se hoofskap totdat jy met haar trou).  Jy moet die skoonfamilie mooi uitkyk (v.24).  Sal jy met sy/haar familie klaarkom as die romanse verby is?

 

[12] Moenie depressief raak terwyl jy vir die regte persoon wag nie.  Dien die Here met oorgawe:  “En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees.  Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag.  Daar is ook onderskeid tussen ‘n vrou en ‘n maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man sal behaag.  Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie, maar met die oog op ‘n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here.” (1 Korintiërs 7:32-35).

 

[13] Moenie jou reinheid verloor nie.  Dis nie nodig om saam met die persoon te bly om te sien of dit die regte een is nie.  As jy dít doen wys jy dat jy God nie eer of vertrou nie.

 

[14] Moenie te lank wag om te trou as jy die regte persoon ontmoet het nie.  Moet jy vir vier jaar verloof wees?  Hoekom wil jy met vuur speel en onnodig versoek word?  Trou:  “maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.” (1 Korintiërs 7:9).

 

[15] Moenie twyfel as die persoon inpas by wat God se Woord oor 'n goeie lewensmaat sê nie.  As jy die regte een ontmoet het, moet jy 'n besluit neem en dit deur voer.  Moenie uitmaak en opmaak, uitmaak en opmaak, uitmaak en opmaak nie.

 

[16] Moenie stadig en slap wees om te ‘commit’ nie.  Party mense is bang om hulleself te verbind, omdat hulle bang is hulle mis die eintlike een wat hulle ‘bedoel’ is.  Dit is 'n teken van hoogmoed; van iemand wat dink hy verdien beter.  As die persoon aan die Bybelse kriteria voldoen, is dit ‘regte een’.

 

[17] Moenie eers alles wil hê voordat jy trou nie ('n TV, 'n sitkamer stel, 'n nuwe kar).

 

[18] Moenie trou as jy geen blyplek of besittings het nie.  Die Bybel sê:  “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige.” (1 Timoteus 5:8).

 

[19] Moenie te veel maak van die romanse nie.  Dit verblind jou sodat jy dink hierdie is die regte persoon.  As julle nie beste vriende is nie gaan die huwelik nie lank hou nie.  God het vir Eva gemaak om 'n vriend te wees vir Adam (v.18).  Jou huweliksmaat moet jou beste vriend/vriendin wees.

 

[20] Moenie bitter, kwaad of gefrustreerd voel teenoor die Here nie.  Hy sal sorg dat jy die regte persoon op die regte tyd ontmoet.  Doen alles wat jy moet, en wag dan geduldig op die Here.

 

Jou hond (v.19-20)?

Die diere, soos die mens, is uit die grond gemaak (v.19).  Die verskil tussen Adam en die diere is dat God self die lewensasem in Adam se neus geblaas het (v.7).  Adam en Eva is na God se beeld gemaak – die diere nie (1:26).  Geen dier kon dus 'n gepaste helper gewees het vir Adam nie (v.20).  Die feit dat Adam vir die diere name gegee het wys dat hy na God se beeld gemaak is, en dat hy gesag oor hulle gehad het (v.19, cf. 1:5 waar God name gegee het).

 

Party mense wonder:  Hoe kon Adam binne 24 uur vir 2 tot 5 miljoen spesies name gegee het?  Hy het nie.  Adam het nie name vir elke sub-spesie gegee nie, maar net vir die soorte (v.19-20, cf. 1:24-25).  Verder sien ons dat Adam net vir vee, voëls en wilde diere name gegee het.  Hy het nie vir die seediere en kruipende diere name gegee nie.  Kruipende diere sou onder andere insekste, arachnida, reptiele en amfibieë insluit.  Dit verminder die spesies van 2 miljoen na 11 000.  Natuurlik het daar baie sub-spesies na Genesis 2 ontstaan.  Adam sou net die proto-tipes (genus) voor hom gehad het.  Heel moontlik was daar maar omtrent 2500 soorte diere voor hom.  As Adam elke 5 sekondes 'n naam gegee het, en elke uur 'n 5 minute breek gevat het, sou hy binne 3 1/4 ure vir die diere name kon gee.  Die name wat hy gegee het sou 'n beskrywing van die dier gewees het (ons praat byvoorbeeld van 'n ‘suikerbekkie’, omdat die voël soet nektar uit blomme uitsuig).

 

Baie diere kan vir die mens 'n helper wees.  Perde kan 'n kar trek, osse kan ploeg, duiwe kan pos aflewer, honde kan jou huis oppas, jou sleë trek of dwelms uitsnuffel.  Maar geen dier kan 'n gepaste helper vir die mens wees nie.  Net die vrou is (soos haar man) na God se beeld gemaak, en daarom kon sy 'n gepaste helper vir Adam gewees het (dit wys weer dat evolusie nie met die Bybel kan strook nie, want evolusie sê dat mense en diere dieselfde soort is).  As diere dan nie 'n gepaste helper kan wees nie, moet ons hulle nie bo mense stel nie.  Christene behoort nie 'n slegte huwelik te hê, omdat hulle baklei oor hulle honde nie.  Dis verkeerd as 'n ou mens heeldag in 'n huis opgesluit sit met 'n hondjie, en ander mense vermy.  Dis verkeerd as 'n vrou weier om met 'n man te trou, omdat hy nie haar honde aanvaar nie (sy stel dus haar diere bo haar medemens).  Seksuele gemeenskap met diere is gruwelik en verkeerd.  'n Mens behoort nie duisende rande op jou hond te spandeer, terwyl jy niks met ander mense deel nie.  Party mense se honde is vir hulle te belangrik.  As jou kind die hond vryf en gebyt word, sal hulle met jou kind raas en nie met die hond nie.  Die mens se beste vriend is nie 'n hond of ander dier nie, maar ander mense en veral jou huweliksmaat.  Hier verwys ek natuurlik na menslike vriende en nie na God self nie.  Wanneer ons van jou heel eerste liefde praat, behoort dit niemand anders as Jesus te wees nie.  Selfs jou huweliksmaat mag nie vir jou belangriker wees as Jesus nie.  Help of verhinder jy jou maat om geestelik te groei, om Jesus lief te hê (1 Korintiërs 7:33, 34b)?  Was jou maat liewer vir Jesus, die Bybel, gebed, die kerk, goeie werke voordat hy/sy met jou getrou het?  Die Skrif sê dat God jou sal oordeel as jy een van sy kinders laat struikel (Matteus 18:6).  Bekeer jou van jou sonde.  Vertrou op Jesus wat die prys vir ons sondes betaal het aan die kruis.  Wees soos Akwila en Prisilla wat die Here saam gedien het as 'n span (Romeine 16:3).  Wees beste vriende wat mekaar help om die allerbeste Vriend lief te hê en te aanbid.

Kategorieë