Coram Deo Cover Image

Coming soon...

20 October 2018

Die Heilige Gees en sekerheid van redding

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Dove in sunlight

Romeine 8:9-17

Ons land se toekoms is onseker. Gaan hulle die plase vat? Sal daar ‘n oorlog uitbreek? Sal Christene vervolg word? In ‘n onsekere wêreld gee die Heilige Gees vir ons sekerheid. Dit is waaroor Rom. 8:9-17 gaan.

  1. Die Gees van sekerheid (v.9-13)

‘n Paar weke gelede het ‘n vrou van die versekering met ‘n groep predikant kom praat. Na sy gepraat het, het ‘n ouer dominee sy hand opgesteek en gesê: ‘Meer as een persoon van julle maatskappy het al ‘n waardasie kom gee om ons kerkgebou se dak te vervang. Hulle het nie geweet waarvan hulle praat nie. Ek vertrou julle glad nie.’

Voor jy ‘n belofte kan glo, moet jy weet of die persoon wat dit gemaak het betroubaar is. Jy moet eers die Gees van sekerheid ken voor jy die sekerheid van die Gees kan vertrou.

‘n Ware gelowige lewe nie volgens die sondige natuur nie, maar in die Gees soos wat ‘n vis in water leef (v.9). God is ons habitat; ons omgewing. Jy kan slegs weet dat jy in die Gees is as Hy in jou is (v.9, Joh. 14:17, 1Kor. 6:19).

Wie is hierdie Gees? Hy is die Gees van God en die Gees van Christus (v.9, vgl. Hand. 16:7, Gal. 4:6, Fil. 1:19). Wat leer ons uit hierdie sinonieme terme?

[a] Ons leer dat Jesus God is. Daar is tog nie twee Geeste nie, maar een (Ef. 4:4). Jesus en die Vader is Een en het dieselfde Gees (Joh. 10:30). Volgens Hand. 16:6-7 is die Gees van Jesus en die Heilige Gees een en dieselfde Gees.

[b] As die Vader en die Seun God is, is die Heilige Gees wat van hulle uitgaan ook God. Hy is deel van die Drie-Eenheid (Matt. 28:19, 1Kor. 12:4-6, 2Kor. 13:13, Ef. 1:3, 13, 3:14, 16-17, 19, 4:4-6, 1Pet. 1:2). Hy gaan uit van die Vader en die Seun (Joh. 14:16, 26, 15:26, 16:7, Hand. 2:33). Hy is een met die Vader en die Seun, en daarom ook volkome God. Die Bybel sê direk dat Hy God is (Hand. 5:3-4, 2Kor. 3:17-18, 2Tess. 3:5). Verder het Hy ook die eienskappe van God. Hy is:

Alomteenwoordig (Ps. 139:7-8).

Ewig (Heb. 9:14).

Alwetend (1Kor. 2:10-11).

Soewerein (1Kor. 12:11).

Heilig (1:4).

Goed (Ps. 143:10).

Roemryk (1Pet. 4:14).

Genadig (Heb. 10:29).

Waaragtig (Joh. 14:17).

Almagtig (v.11, 1:4, 15:19, Sag. 4:6, Hand. 10:38).

Hy doen die werke wat God doen. Om net drie voorbeelde uit te lig, sê die Bybel vir ons dat Hy geskep het (Gen. 1:2, Job 33:4, Ps. 104:30), dat Hy die nuwe geboorte skenk (Joh. 3:5, Tit. 3:5, 1Joh. 3:9), en dat Hy die Bybel geïnspireer het (2Pet. 1:19-21, 2Tim. 3:16).

Duidelik is die Heilige Gees nie maar net ‘n krag soos wat die Jehova’s Getuies sê nie. Hy is ‘n Persoon wat dink (1Kor. 2:10-11), bid (v.26-27), lering gee (Joh. 14:26), hartseer voel (Ef. 4:30), praat (Matt. 10:20, Joh. 16:13-15), besluite neem (1Kor. 12:11, Hand. 15:28) en liefhet (5:5, 15:30).

Hoe weet jy of hierdie Gees in jou woon? Jy sal die vrug van bekering dra: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22).

Sien jy die Gees se invloed in jou lewe, gedagtes, begeertes, emosies, woorde en dade? Nee? Dan behoort jy nie aan Jesus nie, al het jy ‘jou hart vir Hom gegee’, oor jou sonde gehuil, op ‘n ‘altar call’ gereageer, ‘n sondaarsgebed gebid of in tale gepraat. As die Gees nie in jou woon nie, beteken ‘n dag en datum van bekering, of jou doop en lidmaatskap niks.

Indien jy wel die vrug van bekeirng dra, kan jy verseker weet dat Jesus deur die Gees in jou woon (v.10, Joh. 14:17, 23, Gal. 2:20, Ef. 3:16-17). Jou liggaam sal nou wel sterf a.g.v. die effek van sondeval (v.10, Gen. 3:19). Maar vir jou is die dood nie ‘n straf nie (v.1); dit is ‘n oorgang na die hemel (Luk. 16:22, 23:43, 46, 2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23, Heb. 12:23). Jou siel kan nie sterf nie, omdat die Heilige Gees Jesus se Goddelike opstandingslewe (die ewige lewe) in jou geplant het (v.10, Joh. 11:25-26, 17:3, Ef. 2:5, 1Pet. 1:3, 2Pet. 1:4). Ons ontvang hierdie lewe a.g.v. Jesus se regverdige lewe en sy bloed wat ons sonde wegwas (v.10).

Maar die Gees gee nie net Jesus se lewe in jou siel nie; Hy sal dit ook in jou liggaam gee. Soos die Vader en die Seun, was die Gees werksaam in die opstanding van Jesus (v.11, 1:4, Joh. 10:18, Hand. 2:24, Gal. 1:1). By die wederkoms sal Hy ons liggame ook opwek (v.11, 23, 1Kor. 15). Die Heilige Gees wat in ons woon waarborg dat ons liggame eendag sal opstaan (2Kor. 5:5). Moet dan nie in jou siekte, pyn, bejaarde liggaam of op jou sterfbed wanhopig raak nie. Die Gees sal jou opwek en aan jou ‘n nuwe liggaam gee: ‘n verheerlikte, sterk, jong, onsterflike en sondelose liggaam wat vir ewig deur die Gees gelei word (1Kor. 15:42-44).

As die Heilige Gees in jou woon en jy aan Jesus behoort, skuld jy Hom jou lewe en skuld jy die vlees niks (v.12, 12:1). Die vlees sal vir jou sê: ‘Jy durf nie nee sê vir my nie. Jy kan nie help om sonde te begeer en te doen nie; jy moet vir my luister.’ Reageer soos volg: ‘Nee! Jesus het my skuld betaal, my met sy bloed gewas, aan my die rein kleed van sy geregtigheid gegee en vir my ‘n volmaakte rekord voorsien─ek skuld jou niks!’ (v.12, 2Kor. 5:21, Kol. 2:14, 1Joh. 1:7).

As jy na die vlees luister sal jy vir ewig sterf in die hel (v.13, 6, 6:23, Op. 21:8). Maak dus die sondige begeertes dood wat uiting vind in jou liggaam (v.13, 6:13, Kol. 3:5). Doen dit deur die Gees en nie in jou eie krag nie. Wat bedoel ek? Moenie sê: ‘Ek het gister besluit ek gaan nie meer vloek, drink, skinder, pornografie kyk, nors wees, myself ooreet, kla, my humeur verloor, ens.’ nie. Jou goeie voorneme sal ‘n dag, ‘n week, of ‘n maand hou, en dan sal jy terugval.

Lees en memoriseer eerder die Woord oor jou spesifieke sonde, en vra dat die Heilige Gees jou daaraan sal herinner as jy in die versoeking kom. Die Woord is die swaard van die Gees (Ef. 6:17). Bid in afhanklikheid van die Gees om jou sonde te oorwin (v.13, Ef. 6:18). Moenie met sonde speel nie; dit is dodelik (v.13). Maak dit dood sodat dit jou nie doodmaak nie. Sê nee. Veg. Vlug. Los dit. Maak ‘n skoon breek. Bekeer jou. Bely dit. Tree radikaal op, al moet jy ook jou vriende verloor, nie ‘n selfoon hê nie of jou stokperdjie opgee (Matt. 5:29-30).

Jaag Christus, ‘n heilige lewe en gehoorsaamheid na. As jy dit met jou hele hart soek, sal jy dit vind en vir ewig lewe (v.11). Jy sal vol sweet, modder en bloed deur die poorte van die hemel stap, maar jy sal nie spyt wees dat jy hard gestry het, pyn gely het, jou sonde gehaat het en vir Jesus gelewe het nie (2Tim. 4:7-8).

  1. Die sekerheid van die Gees (v.14-17)

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê: ‘As God net deur die Bybel met ons praat, dan wil ek nie ‘n Christen wees nie.’ Maar is dit nie hoe die Gees ons lei nie: in die waarheid van die Skrif (Joh. 16:13)? Ek bedoel nie dat jy koud en akademies moet wees, asof dit net jy en jou Bybel is nie. Die Gees leef immers in jou en brand die waarheid in jou hart in. Hy lei jou teen sonde om Christus te gehoorsaam (v.14, Gal. 5:18).

As die Gees jou so lei, dan weet jy jy is ‘n kind van God (v.14). Die Grieks sê letterlik dat jy ‘n ‘seun van God’ is, omdat seuns in daardie tyd die erfgename was (v.14, 17). God se Gees is nie die gees van die wêreld wat maak dat jy terugval en ‘n slaafse vrees vir die dood en die oordeelsdag het nie (v.15, 1Kor. 2:12, 2Tim. 1:7, Heb. 2:14-15, 1Joh. 4:17-18). Hy is eerder die Gees wat jou wederbaar, wat jou verseker dat jy die hemel sal erf, en wat jou verseël om te wys dat God jou as sy kind aanneem en jou Vader is (v.15-16, Joh. 1:12-13, 2Kor. 1:22, 5:5, Gal. 4:5-6, Ef. 1:13-14, 4:30, Tit. 3:5-6). Die Heilige Gees gee aan jou ‘n begeerte na God, sodat jy uitroep: “Abba, Vader!” (v.15, vgl. Gal. 4:6, 1Joh. 3:24, 4:13).

As jy die Here dus in jou hart begeer en wens dat Hy jou Vader is, dan is Hy waarskynlik jou Vader. Sonder die Gees wat in jou woon, sal jy immers nie omgee oor die Here of Hom begeer nie.

‘Abba’ is ‘n Aramese woord wat ‘n baba sê as hy die eerste keer ‘Pappa’ sê. Dit spreek van ‘n nabye en intieme verhouding; van ‘n kind wat weet dat sy pa groot en sterk is. Die woord ‘Vader’ wys dat ons Hom respekteer (Matt. 6:9).

 In die woorde ‘Abba, Vader,’ moet jy sien dat die Here goed, vol liefde, groot en sterk is. Praat in vertroue met Hom soos ‘n kind met sy pa. Stort jou hart uit net soos wat jy wil hê dat jou kind vrymoedig moet voel met jou. As jy gedurig oor jou redding twyfel, sal jy nie met vrymoedigheid bid nie. Alhoewel sekerheid van redding nie dieselfde is as redding nie, gee dit aan jou ‘n sekere vrymoedigheid in jou verhouding met God en in gebed (1Joh. 3:21-22). Vra daarom die Gees om vir jou te wys of jy ‘n kind van God is (v.16). Hoe doen Hy dit? Hy het die Bybel geïnspireer en wil hê dat jy jouself daaraan moet meet. Meet jouself bv. aan die drie toetse in 1Johannes.

[a] Glo jy in die Jesus van die Bybel? Hy is God, mens, het perfek gelewe, is in die plek van sondaars gestraf en het opgestaan uit die dood. As jy wil hê dat die twyfel in jou hart moet verdwyn, moet jy nie die sekerheid in jou eie hart soek nie. Kyk eerder na die Objek van sekerheid, naamlik na Jesus.

[b] Is jy lief vir ander Christene? Dit wys tog of hulle jou familie is of nie. Wil jy by hulle wees? Wil jy hulle dien en help? Of sê jy jy’s ‘n Christen, maar jy haat ‘n ander gelowige en is jaloers op hom of haar? Indien dit die geval is, lieg jy om te sê dat jy die Here liefhet en sy kind is (1Joh. 4:20).

[c] Haat jy jou sonde, is jy lief vir God se wet en gehoorsaam jy Hom? Treur en sug jy oor jou sonde? Wens jy om in die hemel by Jesus te wees waar daar geen sonde is nie?

Twyfel jy; is jy onseker? Is dit dalk omdat jy jou sekerheid op jouself bou, eerder as op Jesus en die kruis? Is dit omdat jou bekering nie so dramaties soos Paulus of iemand anders s’n was nie? Dit beteken nie jy is ongered nie. God is groter as jou gewete en die rustige gevoel in jou hart; Hy weet jy is sy kind (1Joh. 3:20).

Maar dalk is dit tog so dat jy ongered is. Jy moet besef dat jy hopeloos verlore is en dat Jesus en sy kruisdood jou enigste hoop is. Jy moet jou hele vertroue in Hom plaas. Sê dankie as jy gered is, aangesien jy die Here erf en alles wat syne is (v.17, Ps. 73:25-26, Matt. 25:34, Gal. 4:7, Ef. 1:14). Jy is ‘n mede-ergenaam van Christus (v.17). Hy erf alles (Heb. 1:2). Jy en Jesus is binne gemeenskap van goedere getroud en deel alles (v.17). Jy is nie ‘n 50% aandeelhouer in die Koninkryk nie, maar besit alles. Jesus deel alles met jou. Jy is nou wel nie God soos Hy nie, maar jy sal selfs saam met Hom op sy troon sit (Op. 3:21)!

Maar dit kom met ‘n prys. Jesus het gely en jy sal in sy voetspore volg (v.17, 1Pet. 2:21). Die pad na die troon en die kroon loop deur die kruis (Luk. 9:23, 2Tim. 2:12). Moenie dink dat jy jou beste lewe hier op aarde sal hê nie. Jy sal nie altyd voorspoed en gesondheid geniet soos die Prosperity Gospel sê nie. Soos Jesus is jy bestem vir lyding (Hand. 14:22, 1Tess. 3:3, 2Tim. 3:12, Heb. 12:2). Dietrich Bonhoeffer het gesê: ‘When Christ calls a man, he bids him come and die.’

Maar ons sal nie vir altyd ly nie (1Pet. 5:10). Wanneer Jesus terugkeer sal Hy ons opwek en ons liggame verheerlik (v.23, 30, Joh. 17:22, 1Joh. 3:2). Laat hierdie vooruitsig jou help om nie die handdoek in te gooi nie. Hiermee sal die Heilige Gees jou help. Hy is die onsigbare en stil Herder wat jou troos, aanmoedig, dra, leer, lei en langs jou inkom. Hy is soos die suurstof om jou: al is jy nie altyd bewus van Hom nie het Hy jou nog nie vir ‘n enkele oomblik verlaat nie.

[/column]

Kategorieë