Coram Deo Cover Image

Coming soon...

28 May 2021

Die gevare van ’n kritiese gees

Lukas 6:37-42

’n Voedselkritikus is iemand wat die voorkoms, tekstuur en smaak van kos evalueer en in ’n tydskrif of koerant daaroor skryf. So iemand sal as ’n gewone kliënt by ’n restaurant opdaag en dit op grond van hulle diens en die ete gradeer (soos in Walt Disney se tekenprent Ratatouille).

Dit is nie probleem as jy ’n bord kos so evalueer nie, maar om mense se karakter uitmekaar te trek, is sonde. Ek onthou hoe die Here my hieroor moes aanspreek toe ek nog in Nelspruit gebly het. Ek het ’n kritiese gees gehad en die verkeerde in alles gesien. Ek het ’n lys van die foute in ons gemeente gemaak en dit met my senior leraar gaan deel. ’n Jaar later moes ek my sonde bely en my van my kritiese gees bekeer.

’n Kritiese gees is lelik en kan groot skade doen. Ek ken ’n man met ’n kritiese gees wat verskeie gemeentes verdeel het. As hy in ’n gemeente ingekom het, het hy baie gou ’n Bybelstudie by sy huis begin. By die Bybelstudie sou hy die lidmate teen die leraar opsweep deur op sy foute te fokus. Stadiger maar seker het hy mense oorgehaal en hulle teen die leiers gedraai.

Laat ons daarom op Jesus se lering ag gee en ons harte ondersoek om te sien of daar nie miskien ’n kritiese gees in ons skuil nie.

 

1. Jy benadeel jouself (v.37-38)

’n Paar jaar gelede het Larry King ’n onderhoud met Joel Osteen gevoer. Hy het hom gevra of Moslems, Hindoes, Jode en ateïste gered is. Osteen het probeer om die vraag te vermy en gesê: ‘I don’t know. I can’t judge people’s hearts. I’ll let God be the judge of that.’1

         In 2013 het Pous Francis gesê: ‘If a person is gay and seeks God and has good will, who am I to judge?’2

         Beide voorbeelde is gebou op ’n verkeerde verstaan van Jesus se woorde. Jesus bedoel nie dat jy nie mag sê as iets verkeerd is nie. God het ons die oordeelsvermoë gegee om te weet as iets reg of verkeerd, waar of vals, goed of sleg is (v.43-45, Matt. 7:6, 15-20). Die Here wil nie hê jy moet naïef wees nie. Hy wil hê jy moet kan onderskei en reg kan oordeel (Joh. 7:24).

         Moet dan nie soos sommige mense hierdie verse wil gebruik om jou sonde te verskoon en te sê niemand mag jou oordeel nie. Moet dit nie gebruik om te sê dat ’n gemeente nie dissipline mag toepas, omdat hulle daardeur mense se sonde oordeel nie (Matt. 18:15-17, 1Kor. 5:2-5, 12-13). As jy so redeneer, mag die regering ook nie God se oordeel oor misdadigers uitvoer nie (Rom. 13:4).

     Duidelik is Jesus nie daarteen dat ons God se Woord as maatstaf gebruik om ’n oordeel uit te spreek nie. Ons mag byvoorbeeld sê: ‘Om te leuens te vertel is sonde en as jy jou nie daarvan bekeer nie gaan jy hel toe’ (Op. 21:8).

     Wat ons nié moet doen nie is om mense se motiewe te oordeel, aangesien ons nie hulle harte ken nie (1Kor. 4:5). Dit is ook verkeerd om mekaar oor grys areas te oordeel; oor dinge wat die Bybel nie beveel of verbied nie (Rom. 14:13). Laat ons dan nie soos een man sê nie: ‘My vrou rook en daarom kan sy onmoontlik ’n Christen wees.’ Of soos ’n ander man: ‘Mense wat rook sondig openlik en skaamteloos—hulle kan eenvoudig nie Christene wees nie.’

     Alhoewel ons nie mense so moet oordeel nie, mag en moet ons hulle woorde en dade beoordeel. Hoe sal jy weet as iemand ’n goeie of ’n slegte voorbeeld stel as jy nie oordeel nie? Dit is juis omdat mense nie oordeelkundig is nie dat ons samelewing in so ’n gemors is. Mense noem goed sleg en sleg goed (Jes. 5:20).

***

Wat bedoel Jesus as Hy sê jy mag nie oordeel (v.37)? Hy bedoel dat jy nie ’n kritiese gees moet hê wat fout vind met alles nie. Moenie mense met ’n valkoog dophou om te sien of hulle verkeerd doen nie. Moenie ’n selfaangestelde klaskaptein wees aan wie almal moet antwoord nie. Moenie alewig wil veroordeel en mense tot die hel wil verdoem nie.

     Wees liewer die evangelis wat die goeie nuus met sondaars deel, of die vriend wat mense help om hulle sonde te oorwin. Moenie klippe optel om mense te stenig nie. Moenie sê: ‘Ek kan nie glo hy sou so iets doen nie. Toe ek jonk was sou ek nie gedroom het om dit te doen nie.’ Onthou liewer dat jy ook op ’n tyd verlore was en uit genade gered is. Wees daarom genadig met die sondaar. Ek bedoel nie jy moet sê: ‘Dit is nie ’n probleem dat jy sonde doen nie.’ Wat jy liewer moet sê, is: ‘Gaan heen en sondig nie meer’ (Joh. 8:1-11).

     Doen dieselfde met ’n broer wat verkeerde lering verkondig. As iemand se lering blatant teen die evangelie indruis, moet jy dit verdoem en mense daarteen waarsku. Maar as ’n toegewyde gelowige iets soos heiligmaking misverstaan, moet jy hom nie as ’n ketter bestempel nie. Moet byvoorbeeld nie vir John Wesley en Bushiri onder dieselfde kam skeer nie. Om mense teen Bushiri se vals evangelie te waarsku is reg. Maar om John Wesley heeltemal af te skryf omdat hy heiligmaking verkeerd verstaan, is onbybels.

     Iemand wat hiperkrities is, is soos die duiwel wat mense aankla (Open. 12:10). ’n Kritiese gees is ook ’n teken van ’n hoogmoedige hart. Dit wys dat jy jouself beter as ander beskou. Jy sien jouself as die standaard en besef nie eers dat jy op ’n dwaalweg is nie. J.C. Ryle sê: ‘There is no surer mark of backsliding and falling off in grace than an increasing disposition to find fault, pick holes and see weak points in others.’3

         Jy benadeel jouself as jy ’n kritiese gees het. As jy ander verdoem en veroordeel, sal die Here jou verdoem en veroordeel (v.37). Hoe kan dit anders wees as jy almal om jou se foute raaksien, maar nie jou eie nie? Jy sien jouself nie as ’n hopelose sondaar wat Jesus nodig het nie, maar jy verhef jouself as regter oor almal (Jak. 4:11-12). Omdat jy nie jou eie sonde sien nie, buig jy nie nederig voor Jesus nie en sal God jou veroordeel (v.37).

     Hoe oorkom mens ’n kritiese gees? Vra die Here om dit in jou uit te wys. Vra Hom en ander om vergifnis as jy skuldig is. Vergewe ook die mense wat teen jou gesondig het eerder as wat jy ’n hiperkritiese gees teenoor hulle openbaar (v.37). Vergewe net soos wat jy wil hê die Here jou moet vergewe (v.37, Matt. 6:12, 14-15, Mark. 11:25). Onthou: jou sonde teen die Here is baie meer en groter as ander mense se sonde teen jou. Moet dan nie sê: ‘Ek sal vergewe, maar ek kan nie vergeet nie.’ Dan het jy nie vergewe nie. Ek bedoel nie jy moet vir skokterapie gaan om te vergeet wat die persoon aan jou gedoen het nie, maar jy moet kies om soos die Here te vergewe. Hy herinner jou nie aan wat jy gedoen het nie. Hy broei nie daaroor nie en raak nie bitter nie. Hy blaker dit nie uit op Facebook nie. Hy gaan nie rond om van jou te skinder nie. Doen jy dan dieselfde vir ander.

     Die persoon wat vergewe, doen so met die besef dat hy ’n sondaar is. Daarom kom hy na die Here toe vir vergifnis. Dit is hoekom die een wat vergewe, self ook vergewe word (v.37). Maar om ’n kritiese gees te oorkom, moet jy meer doen as net vergewe. Jy moet gee (v.38). Doen goed en help die persoon teenoor wie jy krities is. As jy dit doen, sal die Here jou beloon. Wat jy vir jou vyand gee, sal die Here veelvoudig teruggee: “...’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee...” (v.38, vgl. Spr. 19:17). Die Griekse woord vir skoot [kolpos] verwys na die vou in iemand se kleed wat as ’n sak gebruik is. Mense kon byvoorbeeld koring daarin dra. Die beeld in v.38 is van iemand wat nog koring indruk en dit skud om plek te maak. Uiteindelik word dit so vol dat dit oorloop.

     As jou hand toe is, kan die Here dit nie vul nie. Gee daarom met ’n oop hand sodat die Here jou kan beloon (v.38, Spr. 11:24). Hy sal jou oorvloediglik seën, sodat jy weer vir ander kan gee (2Kor. 9:8-11). Dit geld vir jou persoonlike- en die gemeente se finansies (Spr. 3:9-10, 2Kor. 9:6), maar in die konteks gaan dit oor hulp aan ’n vyand in nood (v.27-36, Rom. 12:20). Moenie rondgaan en kritiek uitdeel nie, maar deel goeie dinge met dié wat jou irriteer. Moet dit nie doen om jou gewete te sus nie, want anders sal jy met ’n teelepel gee. Gee met ’n skopgraaf, sodat die Here dieselfde vir jou kan doen (v.38).

 

2. Jy benadeel jouself en ander (v.39-42)

In die 1990’s was daar ’n Rolo advertensie van ’n seuntjie wat die dieretuin besoek. Hy het sy laaste Rolo vir ’n klein olifant aangebied. Toe die olifantjie dit met sy slurp wou vat, toe druk die seuntjie dit in sy mond. Die seuntjie het groot geword en na ’n parade toe gegaan. ’n Olifant het verbyloop en hom met die slurp geslaan. Dit was dieselfde olifant wat hy jare tevore by die dieretuin geterg het.

Humor help ons om dinge beter te onthou. In die verse voor ons gebruik Jesus twee humoristiese beelde wat sy lering onvergeetlik maak.

 

[a] Twee blindes wat in ’n sloot val

’n Mens kan byna sien hoe een blinde aanbied om die ander te help. Die leier trap mis, val in ’n sloot en die ander een kom agterna (v.39, Matt. 15:14).

So is jy as jy ’n kritiese gees het en gedurig fout soek by ander: jy is blind en sien nie jou eie sonde nie. Jy is nie gekwalifiseer om ander te help om hulle sonde te oorkom nie.

’n Hiperkritiese persoon het gewoonlik nie ’n leerbare gees nie. Hy sien homself as God se gesalfde leermeester wat ander moet reg wys. Die nederige persoon daarenteen verhef homself nie bo ander nie, maar sit soos ’n kind aan Jesus se voete. Hy leer by dié wat soos Jesus is en op die einde word hy self soos Jesus, sodat hy sondaars met deernis kan behandel en hulle kan help om vry te kom (v.40).

So, voordat jy iemand kritiseer of hulle aanspreek: bid vir ’n paar dae en vra die Here om jou hart te reinig. Ondersoek jouself en bely alle sonde wat daar mag wees (Ps. 139:23-24). Vra jouself wat die motief om die persoon aan te spreek. Hoekom wil jy dit doen? Wees eerlik met jouself. Maak seker dat jy nie dieselfde dinge doen wat jy in die ander persoon sien nie. Anders is jy soos ’n ouer wat sy kind pak gee omdat hy vloek, terwyl hy dieselfde doen.

 

[b] Die balk en die splinter

Daar staan iemand met ’n splinter in sy oog (v.41). Hy sukkel om dit uit te kry. Iemand anders kom en sê: ‘Ek is ’n professionele splinter-uithaler. Trek jou oog oop, sodat ek sien wat aangaan.’ Maar hy sien nie mooi nie, omdat daar ’n massiewe dakbalk in sy oog is.

So is die mens wat ’n kritiese gees het. Hy is skynheilig, omdat hy self vol sonde is, maar dit wegsteek deurdat hy ander kritiseer en op húlle sonde fokus. Ek het dit onlangs gesien. ’n Man het afgegaan oor iemand anders se sonde. Hy was woedend. ’n Dag later toe vind ek uit dat hy skuldig is aan die einste sonde waarvan hy die ander persoon beskuldig het.

’n Vriend van my het ’n soortgelyke ervaring gehad. ’n Man het gekla dat sy vrou ontrou is en moontlik ’n buite-egtelike verhouding het. Kort daarna toe kom dit uit dat hý met ander vrouens lol. Toe my vriend hom daaroor konfronteer, was hy stomgeslaan.

’n Hiperkritiese persoon is skuldig aan ’n dubbel sonde. Hy breek ander af en ignoreer die sonde in sy eie lewe. Totdat so iemand nie sy eie hart ondersoek eerder as om ander te beskuldig nie, is daar vir hom min hoop.

Vra jouself die vraag of jy ’n balk in jou oog het. Het jy ’n kritiese gees? Indien wel, moet jy dit uithaal. Jesus bedoel nie dat jy nie mense se sonde moet aanspreek nie, maar dat jy eers die balk uit jou eie oog moet haal, sodat jy mooi kan sien om ander te help (v.42, Matt. 7:1-5). As die balk uit is, kan jy met die regte gesindheid help, naamlik om die persoon te herstel, omdat jý weet hoe dit voel om vergewe en herstel te word (Gal. 6:1-2).

As almal van ons dit doen, sal daar vergifnis, versoening, eenheid, genesing en herstel wees. Dit is wat Mark, Donna en hulle gemeente ervaar het. Vir byna ses maande was daar spanning tussen Mark en die ouderlinge. Hulle het hom nie ondersteun nie en het sy bekwaamheid as leraar bevraagteken. Hulle het van hóm geskinder en hy van húlle. Hy was bitter en het sy vrou vergiftig om bitter te wees.

Op versoek van die ouderlinge het Ken Sande se Peacemaker Ministries die gemeente besoek. Die ouderlinge was jammer oor wat hulle teen Mark gedoen het, maar hy kon hulle nie vergewe nie. Hulle het by ’n gemeentevergadering opgestaan en hulle sonde teen Mark bely. Mark was kwaad en wou hulle terugkry.

Maar toe staan Donna op en toe bely sy haar sonde. Mark se hart het gesmelt. Hy het opgestaan en uit ’n opregte hart sy sonde bely. Toe hy klaar gepraat het, het nog mense uit die gemeente opgestaan om hulle bitterheid en sonde te bely. Die belydenis het vir 45 minute lank aangehou. Die Here het die gemeente se eenheid herstel en versoening gebring.4

Is jy in jou eie lewe bewus van sonde wat jy moet bely en laat staan? Moet jy jou van ’n kritiese gees bekeer? Moet jy ’n broer of suster in liefde reghelp en ’n splinter uit hulle oog uithaal? Waarvoor wag jy? Doen wat reg is en dan sal die Here jou seën.


1  https://www.youtube.com/watch?v=YVvvEDSZuZw

2  https://www.bbc.com/news/world-europe-23489702

3  J.C. Ryle, Holiness (Darlington, England: Evangelical Press, 1979 [1879]), 87

4  Ken Sande, The Peacemaker: Third Edition (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 2004) 75-8

Kategorieë