Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 6:1-11

As mens van die einde van ’n seisoen praat, bedoel jy die seisoen is verby. Maar as ’n man vir sy meisie sê: ‘Jy is my begin en my einde,’ bedoel hy sy is alles. Sy is die een vir wie hy lewe.

Net so bedoel ek met ‘die einde van die Sabbat’ dat die Ou Testamentiese Sabbat verby is, maar ook dat dit ’n einddoel het. Ek sal verduidelik soos wat ons aangaan.

 

1. In die koringlande (v.1-5)

Volgens ortodokse Jode mag jy geen ligte, of elektriese toestelle op die Sabbat aansit nie, behalwe as dit voor die tyd aan was. Volgens party van hulle is die rede hiervoor dat jy Eks. 35:3 oortree en vuur maak. Ander sal sê dat jy ’n elektriese stroom voltooi en daarom besig is om te bou. Nóg ander sal sê dat die toename in brandstof verbruik by die kragstasie beteken jy is besig om te kook. Die Jode het ook ’n Shabbat-hysbak wat outomaties op elke verdieping oopmaak, sodat jy nie hoef te werk deurdat jy ’n knoppie druk nie.1

       Dit is presies hoe die Jode in Jesus se tyd was. Hulle het allerhande interpretasies op die Ou Testamentiese Sabbatwet geplaas wat die dag ’n beslommernis gemaak het eerder as ’n vreugde. In v.1-11 sien ons dit in twee stories. Lukas begin die eerste storie as volg: “Op ’n keer het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet.” (v.1).2 In die Fariseërs se gedagtes was die dissipels besig om te oes toe hulle koring pluk. Hulle het die koring gedors toe hulle dit in hulle hande vryf, uitgewan toe hulle die kaf weggooi, en kos voorberei toe hulle dit eet.3 Leon Morris sê tong in die kies: ‘Vier verskillende oortredings van die sabbat in een mondvol!’4

As jy die Fariseërs moes vra waar hulle dit in die Skrif kry, sou hulle Deut. 23:25 aanhaal: “As jy in die staande graan van jou naaste kom, mag jy halfryp are met die hand pluk; maar ’n sekel mag jy nie in die staande graan van jou naaste swaai nie.” Eintlik het Jesus en sy dissipels juis hierdie wet nagekom toe hulle van die voorreg gebruik maak om hulle honger te stil (Matt. 12:1). Maar toe die Fariseërs dit sien, het hulle Jesus en sy dissipels bestraf (v.2, Matt. 12:2). Volgens Eks. 34:21 moet mens ook in ploegtyd en oestyd rus en mag jy glad nie op die Sabbat werk nie.

Jesus het sy opponente uit die Skrif geantwoord en nie uit ’n verdraaide interpretasie van die voorvaders nie. Hy het hulle aan Dawid in 1Sam. 21:1-6 herinner. Toe Dawid vir Saul gevlug het en by Agimeleg die priester in Nob aankom, was hy honger. Hy het vir brood gevra, maar daar was net die heilige toonbrode wat vir die priesters bedoel was (v.3-4). Lev. 24:5-9 vertel ons iets hiervan:

“Jy moet gesifte meel vat en daarmee twaalf ringbrode bak. Elke ringbrood moet twee tiendes van ’n efa meel bevat. Sit dit in twee rye, ses in ’n ry, op die rein tafel voor die Here neer. Sit by elke ry suiwer wierook; dit sal, as simboliese offer van die brood, ’n offergawe aan die Here wees. Gereeld, Sabbatdag ná Sabbatdag, moet Aäron dit namens die Israeliete voor die Here regsit as ’n ewige verbond. Dit kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op ’n heilige plek eet, want dit is ’n besonder heilige deel wat hy altyd moet kry uit die offergawes aan die Here.”

Dawid en sy manskappe kon net die brood eet as hulle nie met vroue geslaap het wat hulle seremonieel onrein sou maak nie (Lev. 15:18, 1Sam. 21:4-5). Omdat Dawid Agimeleg verseker het dat hulle rein was, het hy vir hom die toonbrode gegee. Die brode het gewys dat God vir sy volk sorg en dat Hy die Brood is wat hulle versadig (Eks. 16, Matt. 6:11, Joh. 6:35). In 1Sam. 21 het Hy vir Dawid en sy manskappe gesorg. Dawid het vir vyf gewone brode gevra, maar die Here het hom twaalf toonbrode gegee (1Sam. 21:3, 6).

Dieselfde God wat deur Agimeleg vir Dawid en sy manne gesorg het, het sy dissipels in Luk. 6 van koring voorsien. Hy is groter as die priester Agimeleg en het vir sy dissipels gesê dat hulle op die Sabbat koring mag pluk en eet (Matt. 12:6). Hy is die Here van die Sabbat en kan dit sê as Hy wil (v.5). Hý was immers met die skepping en het die Sabbat gemaak (Gen. 2:1-3, Joh. 1:1-3, Kol. 1:16). Daarom kon Hy ook besluit hoe mense die Sabbat moes deurbring.

Maar eintlik is dit nie die belangrikste les nie. Iemand wat op grond van hierdie verse ’n lysie wil maak van wat mens op die Sabbat mag doen en nie mag doen nie, is presies soos die Fariseërs en mis die punt. Lukas wil op die Here van die Sabbat fokus eerder as op die Sabbat self. Van die begin af was die Sabbat ’n skadubeeld van die rus van verlossing wat ons in Jesus het. In die Ou Testament was die Sabbat ’n geskenk, sodat die mens geestelik, fisies, intellektueel en emosioneel kon rus. Dit was ’n dag waarop jy jou kragte voor die nuwe werksweek kon herwin. Dit was nooit bedoel om ’n straf te wees nie. Die Sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie (Mark. 2:27).

God het die Sabbat ingestel om die mens te herinner dat Hy die skepping in ses dae voltooi het en op die sewende dag gerus het. Maar omdat Hy die eerste skepping vervloek het, het Jesus mens geword om ’n nuwe skepping te bring. Op die sewende dag (Sabbat) het Jesus in die graf gelê en op die eerste dag uit die dood opgestaan. So het Hy die nuwe skepping ingelei. Deur weergeboorte word ons deel van die nuwe skepping (2Kor. 5:17). Derhalwe vier ons nie meer God se voltooing van die ou skepping op die sewende dag nie. Ons vier eerder ons deelgenootskap in die nuwe skepping deur Jesus se opstanding op die eerste dag van die week. Dit is hoe die Ou Testament dit voorspel het en hoe Petrus dit in die Nuwe Testament verstaan. Toe Jesus gekruisig is, het die Jode Hom verwerp net soos wat bouers ’n klip weggooi (Ps. 118:22a). Toe Jesus egter op die eerste dag van die week opgestaan het, het Hy die hoeksteen geword (Ps. 118:22b, Hand. 4:10-11). Dít is die dag wat die Here gemaak het, die dag waarin ons moet bly wees (Ps. 118:24).

Dit is presies wat die vroeë kerk gedoen het toe hulle nie meer op die Sabbat vergader het nie, maar op die eerste dag van die week (Hand. 20:7, 1Kor.16:2). Op. 1:10 praat daarvan as die Here se Dag. Sommige sal sê dat dit nie Johannes se bedoeling is nie, maar dit is hoe Ignatius van Antiochië dit in die eerste eeu dit verstaan het (35-107 n.C.).5 Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) en Tertullianus (160-220 n.C.) het sy siening beaam en gesê dat die kerk nie meer die sewendedag Sabbat vier nie, maar die Here se Dag soos ingelei deur Jesus se opstanding uit die dood.6 Tertullianus het veral klem gelê op die feit dat Christene se aanbidding van Jesus op die Sondag niks te doen het met die aanbidding van die son nie (’n leuen waarvan die Sewendedag Adventiste, die Church of God, en die Hebrew Roots Movement ons nog steeds beskuldig).7

Vir ons gaan Sondag oor die opgestane Christus—die Son van Geregtigheid soos Mal. 4:2 Hom noem. Die Ou Testamentiese Sabbatsrus wys na Hom. Ons fokus nie op die skadubeeld nie, maar op die volheid wat ons in Christus het: “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ’n fees, ’n nuwemaansfees of ’n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ’n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.” (Kol. 2:16-17). Jesus gee ons die ware rus wat Israel nie in die Beloofde Land kon kry nie (Heb. 4:3, 8-10, vgl. Rigt. 3:11, 30, 5:31, 8:28). Ons sal dit ten volle geniet wanneer ons sterf en by Christus in die hemel is (Op. 14:13).

Is jy seker dat jy dit het? Het Jesus al die wroeging in jou siel kom stil maak? Het jy rus in Hom gevind? Of pla jou gewete jou nog, sodat jy wil weghardloop? Probeer jy dit deur jou godsdienstige werke stil maak, sodat jy van jou sonde kan vergeet?

Dit sal nie werk nie. Net deur Jesus kan jy rus kry. Volgens Matteus sê Jesus dit in die gedeelte net voor hierdie dispuut oor die Sabbat: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” (Matt. 11:28-30, vgl. 12:1-8).

Jesus se woorde geld nog steeds: ‘Kom na My toe.’ Al vereiste is dat jy moet erken jy is moeg en oorlaai, en dat jy Hom nodig het. Dit geld nie net as jy ongered is nie, maar ook as jy ’n gelowige is. Vir jou sê Hy: ‘Kom na My toe en Ek sal vir jou rus gee.’ “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1Pet. 5:7, Ou Vertaling).

 

2. In die sinagoge (v.6-11)

In ’n onderhoud met Iain Murray het John MacArthur iets in die volgende lyn gesê: ‘When I started out in the ministry I expected opposition. I expected to fight against false teaching. But I never dreamed that I would have to defend the gospel against evangelicals.’

Dit was nog altyd so dat die grootste teenkanting van godsdienstige mense af kom; van mense wat hulleself kinders van God noem. Vier keer in 5:27-6:11 was dit die godsdienstige leiers wat Jesus teëgestaan het. In die insident voor ons het Jesus in die sinagoge gepreek (v.6). ’n Man met dor, of droë [Gk. xeros] regterhand was daar (v.6). Die Fariseërs het Jesus met ’n valkoog dopgehou om te sien of Hy hom op die Sabbat sou genees (v.7, vgl. 11:54, 14:1, 20:20). Hulle het ’n rede gesoek om Hom aan te kla (v.7).

Wat ’n tragedie: hulle het gewéét Jesus kan mense genees, maar nog steeds het hulle nie geglo dat Hy van God af kom nie? ‘Hy kan tog nie die Messias wees as Hy ons reëls oortree nie!’ is die basiese idee.

Is dit nie hoe wettiese mense nog steeds is nie? En trap óns nie partykeer nog in dieselfde strik nie? Iemand in die kerkbank langs jou vind troos deur die Woord, of kom tot bekering, maar jy voel ’n veer. Jy sit met ’n kritiese gees, omdat die prediker oor die tyd gaan, of omdat hy nie in die wegraping glo nie. Of jy wag dat hy iets verkeerd moet sê, sodat jy hom na die diens ’n epos kan stuur.

Wettisisme is lelik, omdat jy meer oor jou eie reëls omgee—dalk sê jy dat dit God se reëls is, maar dit is nie—as oor mense wat na God se beeld gemaak is. Jy dat dit oor God se eer gaan, maar eintlik gaan dit oor jou eie eer. Jy dink jy is beter as ander en kyk neer op dié wat nie die reëls so goed soos jy nakom nie. En as gevolg van jou obsessie met reëls, het jy nie ’n idee wat ’n lewende en persoonlike verhouding met God beteken nie. Jou godsdiens is hoofsaaklik negatief en nie positief nie. Almal weet waartéén jy is, maar niemand weet waarvoor jy staan nie. Jy is vreugdeloos, hiper-krities en hard op ander mense (veral in jou familie). Jy kan nie genade wys betoon, omdat jy dit nog nooit ervaar het nie.

As dit jy is van wie ek hier praat, het jy nie die evangelie nodig nie, maar Jesus se uitleg van die wet. Jy roem daarin dat jy die wet nakom, maar wat van bitterheid, woede en wellus (Matt. 5:21-30)? Of wat van afgodery en gierigheid (18:22-23)? Hoe goed kom jy die wet na? Hou jy dit foutloos en volkome soos Gal. 3:10 sê? Dan is jy nie so goed soos jy voorgee nie en het jy Jesus se kruisdood en vergifnis nodig soos die res van ons. Wanneer sal jy jou trots sluk, erken dat jou hart vol sonde is en dat jy God se genade in Christus benodig? Hy ken jou gedagtes so goed soos Hy die Fariseërs s’n geken het (v.8, vgl. Joh. 2:24-25). Omdat Hy hulle planne teen Hom geken het, het Hy die man vorentoe geroep om hom voor almal te genees (v.8). Toe die man vorentoe kom, toe vra Jesus of dit toelaatbaar is om op die Sabbat te genees (v.8-9). Hy het gesê: “Ek vra julle, is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om ’n lewe te red, of dit ten gronde te laat gaan?” (v.9). Volgens Jesus was dit swart, of wit: as jy nie op die Sabbat mense help nie, benadeel jy hulle. As jy hulle nie deur die evangelie red nie, vernietig jy hulle. Om Jakobus aan te haal: “As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde.” (Jak. 4:17).

Jesus het die Fariseërs aangekyk en hulle ’n kans gegee om te antwoord, maar hulle het stilgebly (v.10, Mark. 3:4). Jesus het bedroef en kwaad geword oor hulle harde harte (Mark. 3:5). Om te wys dat Hy die Messias is, het Jesus die man aangesê om sy hand uit te steek (v.10). Die man het dit gedoen en dadelik gesond geword (v.10). Hierop het die Fariseërs gedoen wat Jesus gesê het ’n mens nié op die Sabbat, of enige ander dag moet doen nie. Hulle was buite hulleself van woede (v.11). Hulle het nie eers die wonderwerk raakgesien nie, maar planne gemaak om Jesus te vernietig (v.11, Mark. 3:6).

Kan jy sien hoe blind wettisisme ’n mens maak? Dit maak dat jy woedend word as iemand die goeie nuus met jou wil deel. Ek dink hier aan ’n man wat sy broer vir ’n paar maande uit sy lewe geskuif het toe laasgenoemde die evangelie met hom wou deel. Hy kon nie verstaan dat sy broer hom wou red en net die beste vir hom wou hê nie.

Ek het iets soortgelyk beleef toe ek ’n vrou oor haar sonde moes aanspreek. Omdat sy nie met my wou praat nie het ek ’n brief geskryf. Ek het my woorde mooi gekies en die brief afgesluit met die woorde: ‘Die genade van die Here Jesus Christus wees met jou.’ Dít was die sin wat haar woedend gemaak het, want hoe durf ek sê dat sy God se genade nodig het!

Het jý al so iets ervaar? Dalk wou jy die evangelie met iemand deel, maar hulle het jou afgesny en gesê: ‘Ek hét my kerk!’ Dalk het hulle jou selfs weggejaag soos iemand eenkeer met my gedoen het.

Dit is hoogmoed wat maak dat mense so optree. Hulle dink dat hulle nie só sleg is dat hulle Jesus se genade kort nie. En dan is ons terug by die probleem wat ek vroeër aangesny het. Ek weet nie wat ek verder moet sê nie. Dit help nie jy raak in ’n debat betrokke met sulke mense nie. Dit help byvoorbeeld nie as jy vir hulle wys dat ’n mens nie die sewendedag Sabbat hoef na te kom om gered te wees nie. Hulle kan dit nie insien nie, maar sal vir jou sê wat ’n Sewendedag Adventis vir my gesê het toe hy een van my preke oor die Sabbat gelees het: ‘Ek hoop jy sien die waarheid voor dit te laat is!’

Om wettiese mense vir die Here te wen is moeiliker as om moordenaars en prostitute te wen. En tog is dit wat by die mens onmoontlik is, by God moontlik (Matt. 19:26). Ek sê dit as ’n troos vir dié van julle wat sulke mense in jou familie, vriendekring, of by die werk het. Hulle is godsdienstige kerkmense, maar hulle is nie gered nie. Hou maar net aan om vir hulle te bid en wys Jesus se liefde op praktiese maniere. Hopelik sien hulle êrens die lig soos Paulus dit gesien het, of soos John Wesley dit gesien het nadat hy vir jare godsdienstig was en ook ’n sendeling.8


1  https://www.myjewishlearning.com/article/electricity-on-shabbat/

2  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

3  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 142

4  Vry vertaal uit ibid.

5  Ignatius of Antioch, Letter to the Magnesians, ch. 9. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0105.htm

6  Justin Martyr, First Apology, ch. 67. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0126.htm

7  Tertullian, Ad Nationes, 1:13 & Apology, 16. Onderskeidelik verkry by https://www.newadvent.org/fathers/03061.htm EN https://www.newadvent.org/fathers/0301.htm

8  Peter Hammond, Victorious Christians Who Changed the World (Cape Town: The Reformation Society, 2011), 285-90