Die Covid Entstof: Wat sou Jesus doen?

Romeine 15:1-7

Dit is ’n relevante vraag, veral omdat gelowiges aan beide kante van die debat staan en sterk daaroor voel. Op die einde maak dit egter nie saak wat jý dink nie, maar wat die Bybel sê. Daarom dat ek vra: wat sou Jesus doen? Rom. 15:1-7 leer vir ons wat Hy sou doen.

1. Hy sou ander verdra het (v.1)

Ek het onlangs ’n predikant hoor sê dat die entstof jou brein sal oorneem, sodat jy ’n robot word en die Antichris jou kan beheer. Hy het sy stelling op 2Tess. 2:4 gebaseer waar die Antichris in die tempel sit. Volgens hierdie prediker verwys Paulus hier na die tempel van die liggaam. Dit maak egter nie sin nie, want volgens 2Tess. 2:8 kom Jesus om die Antichris dood te maak. Dit sou beteken dat Jesus die entstof uit jou brein gaan verwyder, of dat Hy daardie deel van jou brein gaan doodmaak.

Dit is vreemd hoe maklik ons iets in die Bybel inlees as dit by ons interpretasie pas. Dit werk ook so met grys areas: dinge wat die Bybel nie beveel, of verbied nie. Hoe maklik wil ons van ’n gewetensaak ’n wet maak en dit op ander af forseer? Paulus sê ons moenie. Laat elkeen eerder sy eie gewete volg. Moenie ander veroordeel as hulle verstaan van ’n sekere grys area anders is as joune nie (Rom. 14). Die feit dat jou gewete iets toelaat, beteken nie almal moet soos jy dink nie. Wees eerder verdraagsaam teenoor dié wie se gewetens sensitiewer is as joune. Dit is hoe ek v.1 verstaan: “Ons wat sterk is in die geloof, is verplig om die swakhede te dra van diegene wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.”1

Die toepassings van hierdie vers is wyd, maar ek wil dit tot die Covid entstof beperk. Nêrens sê die Bybel dat die entstof die 666 is nie, terwyl ander sal sê dat die Bybel ook nie sê dit is nié die 666 nie. Die doel van hierdie preek is nie om jou siening te laat verander nie, maar om ’n beroep op jou te doen om ander te verdra wat nie jou standpunt huldig nie. Volgens Paulus rus die onus veral op dié wat ’n sterk gewete het. Hulle moet die swakkes verdra (v.1). Die Griekse woord [bastazō] beteken nie bloot dat jy met die swakkes opgeskeep moet sit, omdat jy niks aan die situasie kan doen nie. Die aktiewe werkwoord beteken eerder dat jy hierdie mense moet help (vgl. Gal. 6:1-2). As jy dus vir die tiende keer ’n video, of ’n stemboodskap oor die 666 kry, moet jy nie opvlieënd raak nie. Bid eerder dat God die persoon sal help om nie te vrees nie, maar om op Hom te vertrou. Reageer sagmoedig en stuur vir die persoon bemoedigende waarhede uit die Skrif. Vra of die persoon spesifieke gebedsversoeke het.

Dit sal nie help om kwaad te word, sodat jy sê: ‘Kan die persoon nie vir homself dink nie—hoekom glo hy sulke snert?’ Jou toorn sal nie die eenheid bevorder soos Ef. 4:3 beveel nie. Dit sal jou ook nie geestelik opbou, of die Here verheerlik nie, maar net die duiwel laat lekker kry en die wêreld laat lag dat Christene onder mekaar verdeeld is. Voordat jy dus die persoon met ’n swak gewete veroordeel, moet jy onthou dat daar ander grys areas is waaroor jý twyfel; dinge waaroor sterker Christene nie ’n gewetensbeswaar het nie. Soos hulle jóú verdra, moet jy dié verdra wat dink dat die Covid entstof sonde is. Om vir jouself en jou opinies te lewe, is onchristelik. ’n Definisie van ’n Christen is tog iemand wat homself verloën om Jesus te volg (Luk. 9:23). Laat ons dan nie lewe om onsself te behaag nie, maar laat ons ander bo onsself stel (Fil. 2:3-4).

2. Hy sou ander bo Homself gestel het (v.2-3)

Ek kry maklik koud. Toe ek eenjaar by ’n predikante konferensie was, moes ons 07:00 op ’n wintersoggend bymekaar kom vir gebed. Ek het gebibber van die koue. Toe ’n ouer leraar, kollega, en vriend my sien, toe gee hy my die kombers wat hy vir homself saamgebring het. Ek het geleer dit sy gewoonte is: om aan ander te doen wat hy aan homself gedoen wil hê. Dit is presies wat Jesus sou doen, nie waar nie?

Ons moet soos Hy wees en ons naaste behaag eerder as onsself (v.2). Dit beteken nie ons moet mensbehaers [Eng. people pleasers] wees nie. ’n Mensbehaer probeer mense tevrede stel, sodat hulle van hóm sal hou, terwyl die persoon wat v.2 gehoorsaam ánder mense se voordeel soek. Hy wil sy naaste liefhê soos homself (Luk. 10:27): gelowiges om hulle geestelik te bemoedig en op te bou (Rom. 14:19), en ongelowiges om hulle vir die Here te wen (1Kor. 9:19-23, 10:33).

Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het nie aan sy eie belange gedink nie, maar het sy lewe opgeoffer om God te behaag, om sý wil te doen, en om sy vyande te red (v.3, Joh. 6:38, Fil. 2:5-8). So het Hy Ps. 69:10 vervul: “Die beledigings van hulle wat U beledig, het My getref.” Jesus het mens geword om die bespotting te verduur wat teen die Vader gemik was. Aan die kruis het Hy die straf gedra wat ons moes kry, omdat ons God uitgetart het. Dit het Hy gedoen, sodat die Vader ons kan vergewe.

As Hy ons dan vrygekoop het en vir ons ’n voorbeeld gestel het, sal ons nie dieselfde as Hy doen en ander bo onsself stel nie (al het hulle ook ’n ander idee oor die entstof as jy)? Moenie dié wat die ‘conspiracy’ teorieë glo verag, of dié veroordeel wat besluit om wel die entstof te neem nie. Jy hoef nie altyd reg te wees, of die debat te wen nie.

Iemand sal sê: ‘Dit is nie dat ek ’n debat wil wen nie, maar ek wil mense teen die 666 waarsku.’ Maar as dit regtig so was, sou jy meer oor Jesus gepraat het as oor die 666. Jy sou gedurig evangelie-boodskappies vir mense aangestuur het eerder as boodskappe oor die 666. Iemand anders sal sê: ‘Ek probeer nie reg wees nie, maar ek wil hê mense moet die entstof kry, sodat hulle nie siek word nie.’ Maar as dit regtig so was, sou jy alles in jou vermoë gedoen het om die siekes se ongemak te verlig, hulle gereeld te besoek, en daagliks by die genadetroon vir hulle in te tree.

Vir my lyk dit eerder of mense wil sê: ‘Ek weet meer as jy en het ’n geheime kennis wat ander nie het nie. As jy wil, sal ek hierdie kennis met jou deel.’ Laat ons dit sommer reguit vir mekaar sê: ons is nie genoeg soos Jesus nie en daarom soek ons ons eie belang (1Kor. 13:5). Ons het baie sogenaamde kennis wat ons koppe laat swel, maar te min liefde wat ander opbou (1Kor. 8:1).

3. Hy sou op die Woord gefokus het (v.4)

Ek het eenkeer by ’n kamp gaan preek waar ’n jong man aanhoudend oor dieselfde ding gepraat het. ’n Ouer man by die kamp het vir my gesê: ‘Hy praat al vir maande daaroor en kan oor niks anders praat nie.’ Soos jy kan raai, was dit nie ’n belangrike Bybelse waarheid nie, maar ’n rantsaak. Hy wou onder andere bewys dat Christene nie Paasfees moet vier nie, omdat dit klaarblyklik ’n heidense afkoms het.2

Soos met hierdie jong man bestaan die gevaar dat ons meer navorsing oor die Covid entstof doen as wat ons die Bybel lees. Ons wy met ander woorde meer tyd aan grys areas waaroor die Here niks sê nie as aan die swart en wit waarhede van sy Woord. Om twis oor grys areas uit te skakel, moet ons ons neuse in die Bybel steek. God het waarhede soos Ps. 69:10 en die res van Skrif laat opteken, sodat ons daaruit kan leer (v.4). Bring daarom tyd in die Woord deur, sodat jy jouself en ander mense kan help. Om dit te doen, is tien keer beter as om vir ure videos te kyk en artikels te lees, omdat jy skietgoed soek wat sal bewys dat jý reg is en ander mense verkeerd.

Ek bedoel nie dat navorsing noodwendig verkeerd is nie. Maar moenie alles glo wat jy lees nie (Spr. 14:15). Moet ook nie net jou eie siening lees nie, maar luister na wat ánder toegewyde gelowiges sê. Bowenal moet jy seker maak dat jy nie meer tyd op jou foon deurbring as in die Woord en gebed nie. En as jy klaar die Skrif gelees het, gebruik asseblief jou foon om Bybelse waarhede met ander te deel eerder as wat jy jou sogenaamde ingeligte opinie oor die entstof met hulle deel (wat jou siening ook al mag wees).

‘Maar ons moet mense waarsku!’ sal iemand sê. ‘Die tegnologie is ryp vir die Nuwe Wêreldorde om in ’n oomblik tot stand te kom.’ Maar is die tegnologie nie ook ryp dat die evangelie vinniger as ooit kan versprei en daar ’n wêreldwye herlewing kan wees nie (vgl. Jes. 66:8)? As jy dít geglo het, sou jy die evangelie wyd en syd verkondig het en nie gedink het: ‘Almal moet weet wat ek oor die entstof glo’ nie. In baie gevalle stem dit mense negatief as hulle heeltyd in die wêreld en sy politiek moet vaskyk. Deel dan eerder die Skrif, omdat God dit gegee het om ons deur moeilike tye te laat volhard, asook om ons in sulke tye te bemoedig (v.4).

Hoe sal jy volhard en bemoedig word as jy gedurig oor jou siening van die entstof top en met ander daaroor stry? En waar sal jy hoop kry? Is dit nie deur die Skrifte wat ons hoop het nie (v.4)? Moet ons dan vir mense sê: ‘Die 666 kom!’? Of sal dit hulle meer help as ons sê: ‘Jesus kom! Hy sal dit wat krom is weer reguit maak en wat verkeerd is, reg maak! Bekeer jou en glo die evangelie!’?

4. Hy sou die eenheid bevorder het (v.5-6)

Predikers wat sê dat die entstof die 666 is, saai paniek. Dit opsigself laat my snuf in die neus kry. God is tog ’n God van volharding en bemoediging en nie ’n God van wanhoop en vrees nie (v.5, 2Tim. 1:7). Om hierdie rede glo ek dat meeste van die boodskappe oor die 666 nie van God af kom nie.

‘Maar die 666 is in die Bybel!’ sal iemand sê. Ja, maar dit is nie geskryf as ’n bangmaakstorie vir Christene wat alreeds moedeloos voel, omdat daar inperkings is en hulle ’n geliefde deur Covid verloor het nie. Dit staan eerder in die konteks van die res van Openbaring wat geskryf is om vervolgde Christene te bemoedig (vgl. v.5)! Om die waarheid te sê sou die eerste lesers nie die vaagste benul van entstowwe gehad het nie en sou hulle nie die 666 daarmee vereenselwig het nie. Moet ons regtig glo dat die 666 van Op. 13 net vir ons bedoel is en dat dit niks vir die eerste lesers beteken het nie? Of sê Johannes uitdruklik: ‘Dié wat wys is, kan die Antichris se naam uitwerk. As ek julle sy nommer gee, sal julle weet wie hy is’ (Op. 13:18)? Ek twyfel of enige van hulle by Covid-19 sou uitkom.

As jy wil, kan jy die skakel hieronder lees om te sien wat ek oor die 666 glo.3 Selfs al stem ons nie saam nie, wil ek jou ten minste vra om te glo dat die Here ons deur hierdie moeilike tyd sal dra en dat Hy sal sorg dat nie een van sy kinders verlore gaan nie, veral nie deur ’n entstof nie (Joh. 6:37, 39, 10:28-29, Rom. 8:38-39, Fil. 1:6, 2Tim. 4:18, 1Pet. 1:5).

Die Here wil nie hê jy moet bang wees nie. Hy wil ook nie hê dat gelowiges verdeeld moet wees oor die saak nie. Laat ons daarom vir die eenheid bid, dat daar harmonie kan wees soos met die note van ’n klavier (v.5). Ek bedoel nie dat almal dieselfde oor die entstof moet glo nie, maar dat ons mekaar met betrekking tot grys areas moet verdra en een moet wees oor die kernwaarhede van Jesus en die evangelie. ‘In essentials unity; in non-essentials liberty; in all things charity.’ As ons dít onthou, sal ons die Here uit een mond verheerlik (v.6). Kan jy sien hoe dit die klem sal verskuif van ek en jy wat reg wil wees na Gód wat verheerlik moet word?

5. Hy sou ander aanvaar het (v.7)

In die vroeë 1900’s het die fundamentalistiese beweging in die V.S.A. ontstaan. Hulle het teen die liberales gestry en gesê dat ons aan die fundamentele waarhede van die Bybel moet vashou. Soos die jare egter gevorder het, het sekere groepe al hoe meer waarhede by die lys begin voeg. Ewe skielik was die gebruik van ’n sekere Bybelvertaling of siening van die eindtyd fundamenteel. Gevolglik is daar vandag groepe in Amerika wat nie met ander gelowiges wil assosieer as hulle ’n ander vertaling as die King James Version gebruik, of premillennialisme (’n spesifieke siening oor die eindtyd) verwerp nie. Sommige van hulle sal so ver gaan as om te sê dat hierdie mense waarskynlik nie gered is nie.

Hierdie selfde naarheid kan gebeur as jy ’n obsessie met grys areas begin ontwikkel. Later verkies jy byvoorbeeld die geselskap van ongelowiges wat dieselfde as jy oor die entstof glo en vermy jy gelowiges wat van jou verskil. Op die einde trap jy in die strik om te sê dat dié wat jou siening huldig, gered is, terwyl jou opponente nie die Here ken nie. Ek het oor die afgelope maand met my eie ore gehoor hoe mense sê: ‘As jy die entstof vat, is jy nie ’n Christen nie,’ en: ‘Mense wat sê dat die entstof die 666 is, is nie gered nie.’

Laat ek dus saam met Paulus pleit dat ons mekaar met oop arms sal aanvaar en verwelkom, selfs al glo ons nie dieselfde oor die entstof nie (v.7). As Jesus sy vyande verwelkom het en as die Vader ons aangeneem het (v.7, Rom. 14:3), moet ons dit vir mekaar doen (v.7). Moet ons regtig gemeentes verdeel en vriende afskryf oor ’n botteljie deurskynende vloeistof? Moet ons nie deur ons gebede, die evangelie, ’n heilige lewenswandel, en God se Woord teen ons onsigbare vyand stry eerder as wat ons onder mekaar baklei nie?

Vergeet asseblief van jou opinie en streef daarna om die Here te verheerlik, veral deur jou eenheid met ander Christene (v.6-7, Joh. 13:34-35). Is dit nie waarvoor Jesus gebid het en een van die redes hoekom Hy gesterf het nie (Joh. 17:23, Ef. 2:16)? Ek hoop jy kan sien dat die eenheid van die gemeente nie vir God ’n bysaak is nie, maar dat dit vir Hom so belangrik is dat Hy dreig om mense te verwoes as hulle dit opbreek (1Kor. 3:16-17). Hy belowe ook wonderlike seën as ons die eenheid bewaar (Ps. 133). Sal jy hierdie eenheid koester soos jy dit met die 3106 karaat Cullinan diamant sou doen as dit joune was? Jesus sou en Hy het ook. Volg in sy voetspore. Rig jou oë op Hom en laat die entstof vir jou ’n bysaak wees.


1  Tensy anders vermeld, kom aanhalings uit die 2020-Vertaling van die Afrikaanse Bybel.

2  Sien gerus my artikel hieroor by https://baptistekerkkemptonpark.com/2018/07/29/paasfees-ishtar-en-eostre/

3  https://baptistekerkkemptonpark.com/2017/02/17/oor-die-vals-profeet-en-die-antichris-of-die-berugte-666/