Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 May 2015

Christene se vuil wasgoed in die hof

Dirty laundry

Om iemand se ‘vuil wasgoed uit te hang’ beteken dat jy hulle skandes voor almal noem.  Ongelowiges hou daarvan om dit te doen, asook om te kyk hoe ánder dit doen.  Jy kan byna sien hoe hulle hul kampstoele uitpak soos by ‘n krieketwedstryd, om te kyk hoe Saartjie haar man se vuil wasgoed op die draad hang.  Hierdie tipe optrede hoort nie by Christene nie.  Dit is Paulus se punt in 1 Korintiërs 6:1-11.

Dis onnodig (v.1-6)

Robin Stransham-Ford is in September 2013 met terminale prostaat kanker gediagnoseer.  Die afgelope week het hy die hof se toestemming gevra dat sy dokter hom kan help om sy lewe te beeïndig.  Die hof het sy versoek toegestaan.  Hy is egter dood voordat hy die uitslag gehoor het.

Die wêreld se moraliteit verskil van die Bybel s’n.  Jesus se kerk het die Woord en die Gees, en kan dus beter oor morele sake oordeel as die wêreld.  As ons dan bekwaam genoeg is om ons eie sake te hanteer, durf ons nie ‘n mede-gelowige hof toe sleep nie; ons moet hom eerder voor die kerk bring (v.1, Matteus 18:17).

As gelowiges oor die wêreld en bose engele sal oordeel (Daniël 7:22), is ons mos instaat om in hierdie lewe oor ‘klein’ kerksake te oordeel, of hoe (v.2-3, 5:12)?  Dit is onnodig om die kerk se sake voor wêreldse regters te bring (v.4).  Christene in Korinte het daarin geroem dat hulle wys is (4:10).  Maar wat het van hulle ‘wysheid’ geword in dié saak?  Paulus het gesê dis ‘n skande dat hulle nie wys genoeg was om die twis in hulle midde op te los nie, en dat hulle die saak in wêreldse howe moes uitbaklei (v.5).  Is dit reg dat broers mekaar dagvaar; dat broers onenig is, sodat Jesus se Naam deur die wêreld belaster word (v.6, Johannes 13:34-35)?

Volgens v.1-6 moet ons sake teen ander gelowiges in die kerk oplos, en nie in die hof nie.  Dis nie dat Paulus teen die regering, wetgewing, regters, of howe is nie (Romeine 13:1-7).  Sy punt is egter dat ons nie ander Christene voor die hof moet daag nie.

Wat moet jy doen as ‘n mede-gelowige met jou kontrak breek, nie sy skuld of huurgeld betaal nie, jou slaan, jou seksueel teister, jou kul met ‘n dud produk?  Moenie dadelik vir jou baas, die hoof, die unie, die beheerliggaam, die departement, of die arbeidshof sê nie.  Probeer dit eers in die kerk uitsorteer.  Praat alleen met die persoon.  As hy nie luister nie, kan jy een of twee ander gelowiges saamvat om hom te probeer oorreed.  As hy nogsteeds nie luister nie, moet die leiers dit vir die kerk sê.  As hy nie vir die kerk wil luister nie, moet hy uit die gemeente verwyder word – beskou hom as ‘n ongelowige (Matteus 18:15-17).

As die kerk hom as ‘n ongelowige beskou, kan jy hom hof toe vat.  Óf jy kan besluit om onreg te ly soos v.7 sê.  Jy kan byvoorbeeld besluit om die R10 000 wat hy jou skuld, af te skryf en die hele aangeleentheid aan die Here oor te laat:  “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.” (Psalm 37:5-6).

Is die persoon wat jou te na gekom het ‘n gelowige van ‘n ander gemeente?  Gaan sê vir sy kerk se leiers wat gebeur het.  As hulle niks daaraan wil doen nie, kan jy vir jou eie kerk vra om te help.  Indien die persoon vir niemand wil luister nie en met sy sonde voortgaan, kan jy hom as ‘n ongelowige beskou (Matteus 18:17b).  Daarna kan jy hom hof toe vat, want nou is dit nie twee gelowiges wat voor die hof verskyn nie, maar ‘n gelowige en ‘n ongelowige.  Dieselfde reël geld vir ‘n gelowige in jou eie gemeente.

Wat as ‘n ander Christen ‘n kriminele daad (bv. verkragting) teen jou gepleeg het?  Die kerk moet so iemand dadelik as ‘n ongelowige bestempel en van die gemeente afsny (hfst.5).  Rapporteer dit dan ook dadelik by die polisie en vat die ‘ongelowige’ hof toe.

Hoekom moet ons nie dadelik hof toe gaan met kerksake nie?  Die teks maak duidelik dat die kerk bekwaam genoeg is om die saak op te los.  Buitendien ly Jesus en die kerk se Naam skade as jy ander Christene se vuil wasgoed in die hof uithang.

Dis onchristelik (v.7-8)

Jare gelede het ‘n man vir wyle Martin Holdt sleg te na gekom.  Dit was so erg dat ‘n prokureur in die kerk gesê het hy kan die man kaal uittrek.  Sy vrou het egter vir hom gesê:  ‘Martin, if you do that you are ungodly!’  Sy was reg (v.7-8).

Volgens Paulus maak dit nie saak wie die hofsaak wen nie.  As jy enigsins ‘n ander gelowige dagvaar, het jy klaar verloor:  jou geloofwaardigheid as ‘n Christen (v.7).  Die persoon wat oortree en die een wat hom hof toe sleep is ewe skuldig (v.8).  Dit is beter dat jy onreg ly as wat jy onreg pleeg (v.7-8).

Jesus het gesê:  “Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.  En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry.” (Matteus 5:39-40).  Jesus het sy eie lering toegepas:  “wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23).  Om jou broer te dagvaar is eenvoudig onchristelik.

Moet dan nie jou broer voor die hof daag nie.  Hier wil ek klem lê op een saak:  egskeiding.  Hoeveel Christene wat in die skeihof staan dink aan 1 Korintiërs 6:1-8?  Daar is twee Bybelse gronde vir egskeiding:  seksuele sonde en die ongelowige wat die huwelik versaak (7:15, Matteus 19:9).  In geval nr. 1 gee God vir die persoon toestemming om te skei.  In geval nr. 2 vat die ongelowige jóú hof toe.  Christene het nie die reg om vir ander gevalle in die skeihof te staan nie.  Jou huwelik mag moeilik wees, maar as jy die Here vertrou sal Hy vir jou die krag en genade gee om staande te bly (1 Petrus 3:1-7).

Hoekom moet ons mekaar nie dagvaar nie?  Dit is veel beter om te glo dat God in beheer is van die sonde wat ander teen jou pleeg, as om jou broer te dagvaar en geestelik skade te ly.[1]

Dis onvanpas (v.9-11)

Koos is 32 jaar oud en bly nog by sy ma.  Sy ma sit sy klere uit vir die volgende dag en pak vir hom broodjies werk toe.  Hy vra vir sy laatlam sussie om ‘n meisie se nommer te kry en vir haar te sê hy stel belang in haar.  Oor naweke sny sy pa die gras en sy ma was die vloere, terwyl hy op sy rekenaar speel.  Hy weet nie eers hoe om ‘n eier te bak nie.  Sy ma moet hom by die werk aflaai, want hy het nie ‘n lisensie nie.  Sy ma maak sy bed op en gooi die vuil wasgoed wat onder sy bed lê, in die was.

Sulke optrede verwag jy van ‘n 7-jarige; nie van ‘n volwasse man nie.  Net so verwag ons ‘n sondige leefwyse van ongelowiges, en nie van Christene nie.  Moenie jou broers se vuil wasgoed in hof uithang nie, en moet dit ook nie onder die bed inskop nie.  Los dit eerder op deur kerktug.

Jy kan jouself maklik mislei om te dink jy kan in sonde voortleef, en nogsteeds hemel toe gaan.  Moet jouself nie só mislei nie!  Die onregverdiges sal nie die koninkryk van God erf nie.  ‘n ‘Onregverdige’ verwys na iemand wie se lewe gekenmerk word deur seks voor die huwelik, afgodery (enigiets wat vir jou belangriker is as Jesus), egbreuk, homoseksualiteit[2], diefstal, gierigheid, dronkenskap, verbale mishandeling, indirekte diefstal – met ander woorde om mense in te doen of uit te buit (v.9-10).  Verskeie tekste sê dat sulke mense nie in die hemel sal wees nie:

“En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” (Galasiërs 5:19-21).

“Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.” (Efesiërs 5:5).

“Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” (Openbaring 21:8).

“Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.” (Openbaring 22:15).

Voor hulle bekering was baie van die Korintiërs so (v.11).  Dieelfde is waar van ons.  Die Bybel beskryf ons vorige lewe so:

  • Ons het afgode gedien (12:2).
  • Ons het gedink en gedoen wat ons wil en die wêreld gevolg (Efesiërs 2:2-3).
  • Ons het korrupte en perverse begeertes gehad (Efesiërs 4:22).
  • Ons het dinge in die geheim gedoen, en het gedink niemand sal uitvind nie (5:8).
  • Ons het rondgeslaap, ander se goed begeer, vuil gedagtes gehad, geld gejaag, ‘n kort humeur gehad, bose planne uitgedink, geskinder, gevloek (Kolossense 3:7).
  • Ons was dwaas, ongehoorsaam, verslaaf, jaloers, en het mekaar gehaat (Titus 3:3).

Maar nou is ons harte gewas, en ons het dit uitgebeeld in die doop (v.11, vgl. Titus 3:5, Efesiërs 5:26, Hebreërs 10:22, Handelinge 22:16).  God het ons vir Homself afgesonder (geheilig) en geregverdig.  Dit het Hy deur die Heilige Gees gedoen op grond van Jesus se lewe, kruisdood en opstanding (v.11).  Daarom pas nie die dagvaardiging óf die sonde wat voor die hof kom, by ‘n Christen nie.  Jy is skoongewas:  leef so.

Moenie teen jou broer sondig nie.  Moenie aan jou eie plesier dink en sy of haar maagdelikheid steel nie.  Moenie egbreuk pleeg en jou huweliksmaat se hart breek nie.  Moenie vieslike homoseksuele gemeenskap begeer nie.  Moenie jou broer se besittings steel nie.  Moenie jaloers wees, sodat jy ‘n ander Christen se goed begeer nie.  Moenie dronk word, sodat jou huweliksmaat en kinders bang word of skaam kry nie.  Moenie ander Christene se reputasie beskadig, omdat jy van hulle slegpraat nie.  Moenie jou broer kul of uitbuit as hy iets by jou koop nie.  Moenie die naasteliefde op enige ander wyse nalaat nie.

Hoekom moet jy nie teen jou broer sondig nie?  As jy so leef sal jy nié hemel toe gaan nie.  Jy flous jouself as jy so leef en dink jy ken die Here.  Is jy gewas?  Leef dan so.  As jy nié so lewe nie is daar nog hoop dat jy gered kan word.  Volgens v.11 was sommige van die Korintiërs so.  Ja, selfs dronklappe en homoseksueles kán verander!  God haat jou sonde en sal dit oordeel.  Solank as wat jy dit ontken of verskoon is daar nie hoop nie.  Jesus het die straf vir jou sonde op Homself geneem aan die kruis.  Hy is begrawe en het uit die dood uit opgestaan.  As jy dít glo, jou sonde haat, en op Hom vertrou, sal Hy jou red.  In jou eie krag kan jy nie jou sonde los nie.  Net Jesus en sy Gees kan jou hart verander (v.11).

In die onlangse twee uitgawes van ons plaaslike koerant (die Kempton Express), het verskillende vroue briewe teen kerke en predikante geskryf.  Beide vroue het ander se vuil wasgoed vir die wêreld uitgehang.  Hulle bely dat hulle Christene is.  Dit is jammer dat hulle nie 1 Korintiërs 6 gevolg het nie; dat hulle nie die predikant gaan sien het, die leiers ingeroep het, en die saak voor die kerk gebring het nie.  As dít nie gewerk het nie, is dit jammer dat hulle God, die Bybel, alle predikante en kerke onder dieselfde kam skeer.  Dit is jammer dat hulle nie maar die onreg verdra het nie (v.7).

Die feit dat hulle 1 Korintiërs 6 minag laat ‘n mens wonder of hulle regtig Christene is.  Toe Moreleta NG-Kerk ‘n paar jaar gelede ‘n homoseksuele musikant uit die kerk verwyder het, het hy hulle voor die hof gedaag.  Martin Holdt het toe ‘n brief in Die Beeld geskryf en gesê dat ‘n ware Christen nie sy neus sou optrek vir 1 Korintiërs 6:1-11 nie.

[1] Dié insig het ek gerkry uit John MacArthur se Study Bible

[2] Die Griekse woorde wat hier gebruik word beteken letterlik ‘sag’ en ‘manlike bed’.  Dit verwys na die twee partye wat die ‘manlike’ en ‘vroulike’ rol in die homoseksuele verhouding inneem.

Kategorieë