‘n Goeie toekoms vir Christene

Field of flowers

Die meeste mense stem nie saam met my tema nie, en dink dat daar ‘n donker toekoms vir Christene voorlê.  Hulle herinner ons op Facebook en Whatsapp dat die aardbewings, droogtes, vloede, toenemende vals lering, afvalligheid, vervolging en oorloë die vervulling van tekste soos Matt. 24, 2Tess. 2 en die boek Openbaring is.

 

Maar soos ek hierdie tekste verstaan, is dit hoofsaaklik in die eerste eeu vervul.  Jesus het bv. gesê dat die gebeure van Matt. 24 in die eerste eeu sou plaasvind: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” (Mat 24:34).  Ek weet dat hierdie stelling baie vrae onbeantwoord laat, en daarom beplan ek om oor ‘n paar weke deur Matt. 24 te preek.

 

Volgens Paulus het die Tessalonisense geweet wie of wat dit is wat die man van wetteloosheid terughou (2Tess. 2:6).  Ons kan dus ten minste sê dat hierdie vers in die eerste eeu vervul is.  As ek Matt. 24 klaar gepreek het, sal ek 2Tess. 2 preek en poog om die onduidelikhede op te klaar.

 

M.b.t. Openbaring het die verdrukking in Johannes se tyd plaasgevind (Op. 1:9, 2:9-10, 22, 3:10).  Die eerste lesers het bv. geweet wie die 666 is: hulle het sy naam geken en moes net sy nommer uitwerk (Op. 13:18).  Weereens weet ek dat dit nie al jou vrae beantwoord nie.  Daarvoor kan jy die skakels hieronder besoek of hfst. 15 en 24 in my boek, Openbaring: Gister en Vandag lees.[1]

 

Ek probeer nie sê dat daar nie ‘n wederkoms is nie, maar dat ek nie soos talle mense glo daar sal êrens in die toekoms ‘n groot verdrukking wees nie.  Die feit dat dinge op die oomblik sleg lyk, beteken nie dat die Here se hande afgekap is nie.

 

Vir Jesaja het die onmiddellike toekoms bleek gelyk, maar in Jes. 35 leer ons dat daar in die verre toekoms mooi dinge voorlê.  Dele van Jes. 35 verwys na Jesus se eerste koms, dele na sy tweede koms, en dele na die tydperk tussen twee komste.  Kom ek wys dit vir jou.

 

  1. Heerlikheid (v.1-2)

Die meeste Suid-Afrikaners weet van Namakwaland: die plek waar geel, oranje, wit, pienk, pers en ander kleure blomme in die woestyn groei.  Dit is blykbaar iets om te sien.  Jesaja het iets soortgelyk voorspel.  Daar is egter ‘n dieper betekenis aan sy woorde.

 

Die Here sal sy volk se vyande oordeel (Jes. 34), maar háár seën (Jes. 35).  Edom sal ‘n woestyn wees (34:9-15), maar Israel se woestyn sal blom (35:1).  Jakob se nageslag sal voorspoedig wees, terwyl die Here Esau s’n sal oordeel.  “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” (Rom. 9:13).

 

Die volk wat eens soos ‘n dorre woestyn was, sal bly wees wanneer die Here se oorvloedige reën daarop val (v.1).  Sy sal wees soos ‘n woestyn wat met pers krokusblomme[2] bloei: dit sal soos ‘n dik pers mat op die woestyn vloer lê (v.1).  Die woestyn sal met groot blydskap jubel en sing (v.2).

 

God sal aan die woestyn die heerlikheid van die pragtige Libanon woud met sy indrukwekkende sederbome gee (v.2).  Dit sal so majestieus soos berg Karmel teen die see wees, soos groen weivelde in die Saron vlakte (v.2, 65:10, 1Kron. 5:16, 27:29, Jer. 50:19, kontr. Jes. 33:9).  God se volk sal sy heerlike majesteit in die herstelde skepping sien (v.2).

 

Wat beteken hierdie verse?  Wanneer Jesus kom sal Hy die skepping nuut maak (Rom. 8:19-22).  Die nuwe skepping begin egter wanneer iemand weergebore word (2Kor. 5:17).  Die lewe in sy hart is so heerlik en oorvloedig soos ‘n woestyn wat blom (v.1-2, Joh. 10:10).  Alhoewel hy nie Christus se heerlikheid met sy oë sien nie (v.2, 40:5, Joh. 1:14), sien hy dit met die oë van geloof (2Kor. 4:6).  In die hemel en by die wederkoms sal hy die volheid daarvan sien (v.2, Joh. 17:24, 2Tess. 1:10).

 

Mense wat in sonde lewe kan dit nie sien nie (Rom. 3:23).  Hulle is soos ‘n versiende persoon wat na ‘n kleurvolle skoenlapper kyk en sê dat dit lelik is.  As hulle egter na die Here toe draai, sal Hy die sluier wat hulle verblind wegvat sodat hulle mooi kan sien (2Kor. 3:16).

 

Het jy al iets van Christus se heerlike majesteit gesien, of sê jy ‘ja’ maar eintlik weet jy nie waarvan ek praat nie?  As jy dit gesien het sal jy dit weet.  Dit sal wees soos om op ‘n warm dag in ‘n waterval poel te lê, die gesing van voëls in ‘n reënwoud te hoor, Namakwaland se blomme te sien, ‘n ligte seebries op jou vel te voel, en jou gunsteling nagereg te eet.

 

Die sleutel wat hierdie heerlike skatkis vir jou sal oopmaak is Jesus se kruisdood.  Geloof en bekering is die hand wat die sleutel optel en die deur oopsluit.  Dalk sal Jesus se heerlikheid eers net deur die skrefie skyn.

 

Maar as jy aanhoudend met die Here praat, die Woord leer en uitleef, Hom saam met ander gelowiges aanbid en die nagmaal gebruik, sal sy heerlikheid soos die oggendson op jou skyn (Mal. 4:2).  Soos wat jy groei sal die son al hoe helderder skyn, totdat dit by Jesus se wederkoms so helder soos sewe sonne skyn (Spr. 4:18, Jes. 30:26, 2Kor. 3:18, Op. 21:23).

 

En sal hierdie vooruitsig jou nie help om die Here meer lief te hê en meer na Hom te verlang nie: “[Jesus Christus] vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1Pet. 1:8)?

 

  1. Verligting (v.3-4)

Harry is 10-jaar oud.  Kapers het hom ontvoer.  Hulle gebruik hom as ‘n slaaf op hulle suikerplantasies.  Wanneer hy in die dag werk is daar ‘n man wat hom oppas.  In die aand sluit hulle hom in ‘n hoek toe.  Hy kry ‘n sny brood en ‘n koppie water voor hy gaan slaap.  Hy bid baie dat die Here iemand sal stuur om hom te help.

 

Op ‘n dag toe hoor Harry se bedroefde pa dat sy seun nog lewe, en dat hy as ‘n slaaf op hierdie plantasies werk.  Hy het ‘n kaartjie geboek, na die vreemde land toe gevlieg, en met die polisie se hulp die skelms uitgehaal.  Harry kon sy vreugde nie inhou toe hy sy pa sien nie.  Die verligting was so groot soos om ‘n sak sement vir 10 km te dra en dan neer te sit.

 

So sou dit met God se volk wees.  Omdat die Here oppad was, het Hy vir hulle gesê om hulle slap hande op te tel en hulle lam knieë te versterk (v.3-4).  So moes hulle mekaar moed inpraat, eerder as om angstig en verskrik te wees (v.4).  Hulle moes na die Here kyk wat op die water loop en nie na die golwe nie, na die Here en nie na hulle omstandighede nie, na die toekoms en nie na die hede nie.

 

Die Here sou met wraak kom om hulle van die vyand se mag te bevry en aan hulle verligting te skenk (v.4, 40:10).  Hy het dit deur sy kruisdood gedoen (Kol. 2:15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8), en sal dit finaal by die wederkoms doen (Jud. 15, 2Tess. 1:6-9, Op. 20:10-15).

 

Soos wat Jesus se eerste koms vir Simeon en Anna ‘n verligting was (Luk. 2:25-38), moet die vooruitsig na sy wederkoms vir jou ‘n verligting wees.  Dit moet jou help wanneer jy wil uitsak en nie meer met die wedloop wil aanhou nie, wanneer jy nie meer lus is om te bid, die Bybel te lees en kerk toe te kom nie.

 

Dit moet jou help wanneer jy soos Demas die Here wil los om na die wêreld toe terug te keer, omdat jy soos Adam en Eva dink dat die Here goeie dinge van jou af wil weghou (Gen. 3:1-6, 2Tim. 4:10).  Dit moet jou help om te sien dat die wêreld se plesiere leeg is, en dat jy niks goed kan hê sonder die Here nie (Ps. 16:2, 73:25).

 

Dit moet jou help wanneer die las vir jou te swaar raak en jy wil opgee.  Dit moet jou help wanneer die Christelike lewe moeilik raak, wanneer kollegas en kinders by die skool jou uitskuif omdat jy die Here dien.  Dit moet toegewyde predikante en sendelinge help as hulle die bediening wil los omdat dit te hard is.

 

Jesus en die wenpaal van sy wederkoms sal vir jou ‘n tweede asem wees wat jou help om verder te hardloop (v.3-4, Heb. 12:1-2).  “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:12-14).

 

  1. Wonderwerke (v.5-7)

‘n Ateïs het my eenkeer oor wonderwerke gevra.  Ek het gesê dat die wonderwerke wat Prosperity predikers doen geen wonderwerke is nie.  ‘Yes!’ het hy gesê: ‘Uiteindelik is daar iemand wat dit besef.’

 

Maar hy het nie klaar geluister nie, en was teleurgesteld toe ek sê dat ek wel in wonderwerke glo.  Die feit dat ek die Prosperity Gospel se sg. wonderwerke verwerp, beteken nie dat ek die Messias s’n verwerp nie.

 

Omtrent 700 jaar voor Jesus aarde toe gekom het, het Jesaja sy wonderwerke voorspel: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.  Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (v.5-6, vgl. Matt. 9:27-33, 12:22, Mark. 2:1-12, 7:31-37, Joh. 5, 9, Hand. 3:1-10).

 

Johannes noem hierdie wonderwerke tekens (bv. Joh. 2:11)Waarvan is dit ‘n teken; waarheen wys dit?

 

  • Dit wys dat Jesus die Messias en God van Jes. 35 is (vgl. Luk. 4:18-19, 7:18-22).
  • Dit is ‘n illustrasie van iets groter, bv. dat Jesus gekom het om mense se geestelike oë te open (Joh. 9, 2Kor. 4:4, 6).
  • Dit is ‘n voorskou van ‘n verheerlikte liggaam wat ons by die wederkoms ontvang. As die Here ons liggame klaar opgewek het, sal gelowiges wat doof, blind, lam, stom, ens. was, vir altyd genees wees.

 

Die rede hoekom die lamme soos ‘n takbok spring en die stomme sing, is omdat die Messias se Gees hulle verander het (v.6).  Hulle was eens soos ‘n dor woestyn waar jakkalse gelê het, maar toe Hy sy Gees op hulle uitstort het hulle soos ‘n woestyn vol water geword (v.6-7, 29:17, 32:15, 44:3-4).  God het hulle na liggaam en siel getransformeer (Joh. 3:3, 5, 7:37-39, Tit. 3:5-6).

 

Dit is ook waar van ons.  Wanneer die Here jou wederbaar is jy nie die persoon wat jy voorheen was nie.  Almal om jou kan dit sien.  Jou optrede, gesprekke, wêreldbeskouing, begeertes, gesindheid, vriendekring, verhoudings, prioriteite, belangstellings, tydverdryf – alles het verander.  Jy is letterlik ‘n nuwe mens.

 

Maar jy is nog nie volmaak nie; jy doen nog sonde.  Jou liggaam is ook ver van volmaak af.  Eers as jy doodgaan sal jou siel volmaak wees (Heb. 12:23), en wanneer Jesus weer kom sal jy ‘n nuwe liggaam kry (1Kor. 15:51-52, 1Joh. 3:2).

 

Dit sal nie splinternuut wees in dié sin dat dit ‘n ander liggaam is nie.  Soos met Jesus, sal die liggaam wat begrawe is die een wees wat uit die graf uit opstaan (Joh. 5:28-29, 20:24-27, 1Kor. 15:35-44).  Die Here sal m.a.w. die liggaam wat jy nou het opwek en verheerlik.

 

Hierdie verheerliking beteken dat jou liggaam in ‘n ander sin heeltemal nuut sal wees.  Jou nuwe liggaam sal vir ewig beeldskoon, jonk, sterk, energiek, gesond, onsterflik en onder die leiding van God se Gees wees (1Kor. 15:42-44).  Die verskil tussen jou huidige liggaam en die een wat jy dán sal hê, is so groot soos die verskil tussen ‘n woestyn en ‘n weiveld vol blomme (v.5-7).

 

  1. Verlossing (v.8-10)

In Suid-Afrika weet ons hoe dit voel om op ‘n pad vol slaggate te ry.  Is dit nie lekker om op ‘n pad te ry as dit nuut geteer is nie?  Jesaja sê dat die Christelike lewe so is, en noem dit die hoofweg van heiligheid (v.8).  God het dit gemaak vir dié wat heilig is, en sal nie toelaat dat onheilige mense met hulle busse en sleepwaens vol sonde daarop ry nie (v.8, 52:1, Op. 21:27).

 

Maar as hulle hulle sonde los en daarop loop, sal die Here hulle beskerm sodat hulle nie wegval nie (v.8).  As jy op die hoofweg van heiligheid bly is jy veilig, omdat leeus en ander roofdiere in die woestyn ronddwaal en nie op die hoofweg kom nie (v.9).  Vermy dus die woestyn van sonde en bly op die hoofweg van heiligheid.  So sal die Here jou van leeus red en veilig in sy hemelse Koninkryk uitbring (2Tim. 4:17-18, 1Pet. 5:8-10).

 

Alvorens jy op die hoofweg van heiligheid kan loop moet jy verlos word (v.9-10).  Omdat Jesus die Weg is, moet jy eers in Hom glo (Joh. 14:6).  Volgens 1Pet. 1:18-19 het Hy sy lewe gegee om ons uit die slawerny van sonde te bevry.  Noudat ons vry is – Jode en heidene wat in Jesus glo – kan ons na die hemelse Sion of Jerusalem toe terugkeer (v.10, 2:2-3, Op. 21:24, 26).

 

Omdat ons dankbaar is, sing ons terwyl ons dit doen (v.6, 10, 51:11, Ps. 105:43).  God se oordeel hang nie meer soos ‘n swaard bo ons koppe nie, maar Hy het die parfuum van sy verlossing oor ons uitgestort.  Ons sing omdat ons dit nie kan inhou nie (v.10, Kol. 3:16).  Soos ‘n blikkie Coke wat geskud word, loop dit vanself oor (v.10).

 

In die hemel en op die nuwe aarde sal hierdie blydskap voortduur (v.10).  Dit kan nie anders nie, omdat die dinge wat droefheid, gesug en trane veroorsaak het weg is (v.10, 65:19, Op. 21:4).  As dít nie ‘n blink toekoms is nie, weet ek nie wat is nie.

 

Ek is optimisties oor die toekoms en verwag selfs ‘n tydperk van seën nog voor die Here kom.  In ‘n preek oor Ps. 86:9 het Charles Spurgeon gesê: ‘David was not a believer in the theory that the world will grow worse and worse…’[3]

 

Ek stem saam met John Owen as hy sê: ‘The gospel shall be victorious.  This greatly comforts and refreshes me.’[4]  ‘n Puritein genaamd Thomas Goodwin het gesê: ‘There will come a time when the generality of mankind, both Jew and Gentile, shall come to Jesus Christ.’[5]

 

Ek sien uit na die dag wanneer “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (11:9), na die dag wanneer die Messias “sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Ps. 72:8).

 

Natuurlik is dit heeltemal moontlik dat daar tye van vervolging voor die herlewing sal wees.  Buitendien kyk ek nie na die sg. goue era as die finale hoop waarna ons uitsien nie.  As jy vir my vra wat die Christen se hoop is, sal ek nie my eindtyd siening op jou afdwing nie.  Ek sal Jesus en die wederkoms vir jou voorhou: “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” (Kol. 1:27).  Dít is tog die goeie toekoms waarna ons uitsien.

 

[1] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2017/02/17/oor-die-vals-profeet-en-die-antichris-of-die-berugte-666/

https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2016/09/24/die-goeie-effek-van-die-groot-verdrukking/

[2] Die Ou Vertaling praat van ‘n narsingblom.

[3] Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971, p. xiv

[4] Ibid., p. xii

[5] Ibid.

Jy móét weergebore word

Reborn

Van die heel begin af was die waarheid van wedergeboorte die fondasie van George Whitefield se prediking. Tydens sy bediening was geen preek meer populêr as hierdie een nie: The Nature and Necessity of our new birth in Christ Jesus.  As jy in 1739 vir iemand in Engeland gevra het:  ‘Wat glo George Whitefield en die Metodiste?’, sou hy gesê het:  ‘Almal moet weergebore word.’[1]  Dít was Jesus se sentrale boodskap aan Nikodemus in Jh.3:1-10.

 

Wie moet weergebore word? (v.1-2, 7, 9-10)

‘n Bejaarde predikant het ons vertel van ‘n man en vrou wat vir huweliksberading in sy studeerkamer gesit het. Na ‘n deeglike gesprek met hulle, het hy vir die man gesê:  ‘Weet jy wat is jou probleem?  Jy het nie ‘n idee van wat dit beteken om weergebore te wees nie.’  Die man was woedend en het vir hom gesê:  ‘Hoe durf jy so met my praat?  Ek is al vir 35 jaar lank ‘n Baptis!’

 

My vriend is ‘n predikant, en het saam met twee ander predikante gaan koffie drink. Hulle het geglo dat gedoopte babas deel van God se uitverkore volk is.  Toe hulle moes besluit wát om op die Katkesasie kamp te preek, het my vriend voorgestel dat hulle oor wedergeboorte preek.  Hulle het hom aangekyk asof hy van ‘n ander planeet af kom.  Hulle gesigsuitdrukking het dit alles gesê:  ‘Dit is mos nie nodig dat verbondskinders weergebore word nie.’

 

Ek het eenkeer met ‘n man die evangelie gedeel. Toe ek hom oor sy redding vra was hy baie kwaad.  ‘Ek was vir baie jare ‘n ouderling in die NG-Kerk,’ het hy gesê.  Hy het homself oortuig dat ouderlinge nie ongered kan wees nie.

 

By ‘n ander geleentheid het ek die evangelie met iemand in die straat gedeel. Ek het vir die vrou gevra of sy hemel toe gaan.  ‘Ja,’ het sy gesê.  ‘Hoekom sê jy so?’ het ek gevra.  ‘Want ek is weergebore,’ was haar antwoord.  ‘Hoe weet jy jy is weergebore?’ het ek gevra.  Haar antwoord was tipies van baie mense s’n:  ‘Want ek is gedoop.’

 

Nikodemus het soos hierdie mense gedink. Maar tot sy ontnugtering het Jesus vir hom gewys dat selfs hý weergebore moet word.

 

Tydens die Paasfees in Jersualem (2:13, 23), het ‘n Fariseër na Jesus toe gekom (v.1). Soos die meeste Fariseërs was Nikodemus godsdienstig en teologies konserwatief (Hd.23:8), maar ongered (v.3, 7, Mt.23).  Hy het gehoop om deur sy dade in die hemel te kom.  Hy was op die Joodse Raad of Sanhedrin; ‘n gerespekteerde en gesiene man; ‘n leier van leiers (v.1).

 

Nikodemus het in die nag na Jesus toe gekom (v.2). Was hy bang die ander Fariseërs sien hom (12:42-43, 19:38-39, Rgt.6:27)?  Is hier dalk simboliek van iemand wat uit die donker van sonde na die Lig van die wêreld toe gekom het (v.19-21, 8:12, vgl. 7:50-51, 19:39)?

 

Nikodemus het uit Jesus se lering geweet dat Hy ‘n Rabbi is (v.2, 1:39). Uit sy tekens het hy en ander geweet dat Jesus van God af kom (v.2, 2:23, 5:36, 20:30-31, Hd.2:22, 10:38).  Maar ten spyte van sy godsdienstige CV, was hy so ongered soos ‘n klip en moes hy weergebore word (v.3, 7).  Dit het nie net vir hóm gegeld nie (v.7).  Om die Koninkryk van God in te gaan moes die Joodse volk en haar leiers weergebore word (v.7).  Dit is nie ‘n opsie nie:  jy móét weergebore word (v.7).

 

Nikodemus kon nie verstaan hoekom God se uitverkore volk weergebore moes word nie (v.9). In sy brein was daar nie ‘n kategorie vir hierdie waarheid nie.  Hy kon dit nie verstaan nie, en het aanhoudend gevra:  ‘Hoe kan ‘n mens… Hoe kan dit wees?’ (v.4, 9).  Dit was skandelik dat dié leermeester in Israel nie die eerste dinge van redding verstaan het nie (v.10).  Hoe kon hy ander leer as hy self nie wedergeboorte verstaan of ervaar het nie (v.10, 9:30)?

 

Jy moet weergebore word, want niks anders sal jou in die hemel bring nie (v.3). Wat vir Nikodemus geld, geld vir ons.  Nikodemus was ‘n Jood.  Hy was besny.  Hy was ‘n godsdienstige leier.  Maar hy was nie weergebore nie.  Iemand is nie outomaties oppad hemel toe omdat hy ‘n ds., ouderling, diaken, of Sondagskool onderwyser is nie.  Jesus gee nie om of jy in ‘n Afrikaanse of Christelike huis gebore is, ‘n meestersgraad in teologie het, ‘n Bybelkursus geloop het, gedoop is, voorgestel en aangeneem is, vas, bid, jou Bybel lees, kerk bywoon, of gereeld jou tiende gee nie.  JY MOET WEERGEBORE WORD!

 

Moenie gerus voel omdat jy of jou geliefdes ‘n dag en datum het, of omdat julle op ‘n uitnodiging gereageer het, ‘n gebed opgesê het, of ‘n kaartjie ingevul het nie. Natuurlik kan mense so tot bekering kom.  Wedergeboorte is egter nie dieselfde as om jou hand op te steek, of ‘n gebed agter iemand aan te sê nie.  Iemand kan weergebore wees sonder dat hy ‘n dag en ‘n datum het.  Jy hoef nie eers die regte woorde te ken nie.  Wat saakmaak is dat die Heilige Gees in jou hart werk.

 

Stuart Olyott vertel van ‘n Indiaan wat in die 1600’s onder John Eliot se bediening tot bekering gekom het. Die Indiaan het gedink God is Engels.  Hy kon net ‘n paar woorde in Engels sê.  Die Gees het deur een van Eliot se preke in sy hart gewerk.  Hy was oortuig van sy sonde en het uitgeroep:  God!  One, two, three, four, five, six, seven, eight, nine, ten!’  Sy woorde was hopeloos verkeerd, maar dit was duidelik dat die Heilige Gees in sy hart gewerk het.

 

As jou hart en lewe nie verander het nie, is jy nie weergebore nie – al het jy ook tien keer ‘jou hart vir die Here gegee’. Soos Nikodemus en die res van Israel, móét jy weergebore word.

 

Wat is wedergeboorte? (v.3-8)

Vrydag het my seun 8 geword. Hoe het hy in die wêreld ingekom?  Watse aandeel het hy in sy konsepsie, ontwikkeling, en geboorte gehad?  Watse aandeel het ‘n Christen in sy geestelike geboorte?  Hoe kan iemand wat morsdood in die graf van sy sonde lê (Ef.2:1), op ‘n dag besluit om homself te laat lewe?

 

Wat het gebeur toe Elisma en haar tweeling sussie die evangelie gehoor het? Hulle sit al vir 20 jaar lank elke Sondag in die kerk, en het dit seker al ‘n duisend keer gehoor.  Hoekom het Elisma ‘n diep oortuiging en berou oor haar sonde gehad, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma die evangelie geglo, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma haar sonde gelos, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma skielik ‘n belangstelling in Bybelstudie en gebed begin ontwikkel, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma begin om goeie werke te doen, en haar sussie nie?  Hoekom was Jesus skielik vir Elisma, die wonderlikste en lieflikste Persoon in die wêreld, maar nie vir haar sussie nie?  Hoekom het Elisma soveel blydskap gekry sodat sy lofliede wou sing, maar haar sussie het nie?

 

Volgens Charles Finney is dit omdat Elisma ‘n besluit geneem het, en haar sussie nie. Vir Finney was wedergeboorte nie ‘n soewereine werk van God nie.  Die Heilige Gees het eenvoudig die prediker bygestaan om die sondaar te oortuig, sodat hy sy eie hart kon verander.  Volgens Finney was die Heilige Gees se werk ‘n reaksie op die sondaar s’n.  As die sondaar nie ‘n besluit geneem het nie, was die Heilige Gees magteloos.[2]

 

Maar volgens v.3-8 het die Heilige Gees nuwe lewe in Elisma se hart ingeblaas. Soos Lidia in Hd.16:14, kon Elisma die evangelie glo, omdat God haar hart geopen het om dit te verstaan.  Jesus het gesê:  “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Jh.6:44).  Jh.1:13 sê dat Elisma “nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.”

 

Jesus het Nikodemus se hart geken (2:24-25) en geweet hy is nie weergebore nie (v.3). Om in wondertekens te glo help net mooi niks, as jy nie ook glo in die Een van die wie die tekens getuig nie (v.2, 2:23, 20:30-31).  Om God se Koninkryk te sien, moes Nikodemus (asook die res van die Joodse volk) weergebore word (v.3).  Iemand wat nie weergebore is nie, bly geestelik dood en blind (v.3, Ef.2:1, 1 Kor.2:14).

 

Nikodemus kon nie kop of stert uitmaak van Jesus se stelling nie. “Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word?  Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” het hy gevra (v.4).  In sý gedagtes, was die transformasie van ‘n mens se hart en persoonlikheid so onmoontlik soos om weer ‘n keer gebore te word.

 

Om Nikodemus te antwoord, het Jesus sy stelling anders verwoord. Jesus het verduidelik wat Hy bedoel.  Om weergebore te wees, is om gebore te wees uit water en die Gees (v.5).  Wat beteken dit?  Sommige dink dat Jesus sê:  ‘As jy nie fisies uit die vrugwater gebore word, en geestelik deur die Heilige Gees nie, kan jy nie die Koninkryk van God ingaan nie.’  Duidelik is dit nie wat Jesus bedoel nie.  Dis mos voor die hand liggend dat jy gebore moet wees, voordat jy weergebore kan wees.

 

Ander sê: ‘As jy nie met die Heilige Gees en met water gedoop word nie, kan jy nie God se Koninkryk ingaan nie.’  Alhoewel die waterdoop hierdie geestelike geboorte uitbeeld  (Hd.2:38), is dit nie wat Jesus hier sê nie.  Dit is eenvoudig nie waar dat net dié wat onderdompel is, hemel toe gaan nie.  Die waterdoop is nie ‘n vereiste vir redding nie (Ef.2:8-9), maar ‘n illustrasie daarvan.

 

Die geboorte uit water en die Gees is nie twee aksies nie, maar een. Die water is simbolies van die Heilige Gees se reinigingswerk in ons harte.  Om in God se teenwoordigheid in te kom moet die Heilige Gees jou eers in die ‘bad van wedergeboorte’ was.  Die Skrif sê immers dat God “ons gered [het] deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit.3:5).

 

In die Ou Testament staan daar: “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” (Esg.36:25-27).

 

Alle mense is met ‘n sondige natuur gebore (Ps.51:7, 58:4, Rm.5:12). Niemand is van geboorte af gered nie:  “Wat uit die vlees gebore is, is vlees” (v.6, vgl. 6:63).  Om gered te word moet jy ‘n geestelike geboorte ondergaan:  “wat uit die Gees gebore is, is gees.” (v.6, vgl. 1:13).  Daar is nie ‘n ander manier om gered te word nie.  Anders gestel:  ‘There is no evolution from flesh to Spirit.’[3]

 

Hoe vind wedergeboorte plaas? En wat is die mens se aandeel daarin?  Die mens moet in geloof reageer, maar het nie ‘n vinger in hierdie pasty nie.  Wedergeboorte is ‘n soewereine werk van God se Gees (v.8).  So min soos wat ‘n baba besluit om gebore te word, so min besluit ‘n sondaar om weergebore te word.  Die Gees se werk in wedergeboorte is soos die gewaai van die wind (v.8).  Jy kan nie die wind beheer of manupileer nie – dit waai waar dit wil en sal nie vir jou luister nie (v.8).  Jy kan dit hoor en die effek daarvan sien, maar die wind self is onsigbaar (v.8).  Jy weet nie waar dit ‘n uur gelede was, en waarheen dit oppad is nie (v.8).

 

En so is dit met wedergeboorte: jy kan die effek van die Gees se werk in mense se veranderde lewens sien, maar Hy self is so onsigbaar soos die wind (v.8).  Hy is soewerein en sal nie toelaat dat iemand Hom manupileer nie.  Hy red wie Hy wil, wanneer Hy wil, waar Hy wil, en soos Hy wil (v.8).

 

Glo in wedergeboorte soos wat God dit in v.3-8 verduidelik. Iemand wat verkeerd glo sal verkeerd doen.  Om weergebore te word móét jy die evangelie hoor (v.15-16, 1 Pt.1:23, 25).  En tog is dit nie jou goeie argumente of gunsteling Bybelvers wat die sondaar oortuig nie.  As jy elke dag die evangelie met hom deel en God vernuwe nie sy hart nie, sal dit vir hom klink of jy Hongaars praat (v.3, 5, 1 Pt.1:3).  Geen sondaar kan sy eie hart verander nie.  Net God kan maak dat iemand ‘n nuwe skepping is (2 Kor.5:17).

 

As jy dít onthou, sal dit jou help om nie moedeloos te word wanneer jy die evangelie met iemand deel, en hulle dit nie insien nie. Jou beste argumente is so oneffektief soos ‘n ‘pea shooter’ teen ‘n tank.  Dit gaan iets bonatuurlik neem om die persoon se hart te bereik.  Daarom maak jy nie staat op jou slim redenasies nie, maar jy bid en vra dat Gód die persoon se oë moet oopmaak (2 Kor.4:4, 6).  Selfs terwyl jy dink daar is geen hoop nie, is God dalk onsigbaar besig om in die persoon se hart te werk (v.8).

 

Ek het al mense gehoor sê: ‘Die Heilige Gees is ‘n gentleman, en sal Homself nooit op iemand afdwing nie.  Hy sal nooit teen die sondaar se wil ingaan nie.’  Dit is ‘n mooi cliche, maar dis nie in die Bybel nie.  Ek wonder wat Paulus daarvan sou sê?  God het nie net teen Paulus se wil ingegaan nie – Hy het sy wil verander en gemaak dat hy gewillig is.  As die Heilige Gees besluit om iemand te wederbaar, kan mense en duiwels hulle bes probeer; niemand sal Hom keer nie.

 

As wedergeboorte dan ‘n soewereine werk van die Heilige Gees is, kan ons Hom nie manupileer nie. Jy kan nie van iemand ‘n Christen maak, omdat jy hom met sagte agtergrond musiek gelei het om die sondaarsgebed te bid nie.  Niemand kan met 24/7 gebed, ‘n groot wit tent, en ‘altar calls’ ‘n herlewing skep nie.  As die Heilige Gees vandag 800 mense wil red, dan doen hy dit.  As Hy volgende Sondag afwesig is, sal almal aan die slaap raak – selfs al preek Paulus of Charles Spurgeon.  By ‘n konferensie in 2004 het die spreker gevra:  ‘Het jy al George Whitefield se preke gelees?  Daar is niks spesiaal daaraan nie.  Hoekom het so baie mense dan onder sy preke tot bekering gekom?  Wat het die verskil gemaak?  Die Heilige Gees.’

 

‘n Bekende storie vertel van ‘n prediker wat byna in elke preek gesê het: ‘You must be born again.’  Toe iemand vir hom vra hoekom hy dit so gereeld sê, was sy antwoord:  ‘Because, you must be born again.’

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.1, p.345

[2] Iain Murray, Revival and Revivalism, pp.245-246, 250

[3] Hoskyns aangehaal in Leon Morris, The New International Commentary on the New Testament: The Gospel according to John, p.219