Oorvloedige genade

overflowing-water

Toe ek klein was, was daar ‘n advertensie met kinders wat tussen ‘n klomp Smarties speel. Aan die einde van die advertensie het hulle ‘Wotalotigot!’ geskreeu. Ek het gewens ek kon so ‘n oorvloed van Smarties hê. ‘n Paar jaar voor dit het Walt Disney se ‘Scrooge McDuck’ van ‘n duikplank af in ‘n kamer vol goue muntstukke ingeduik en daarin geswem. Hy het oorvloedige rykdom gehad.

God se genade is oorvloediger as die rykdom en lekkergoed wat ek sopas beskryf het. Sy genade balanseer nie net ons sonde uit nie, maar is oorweldigend meer. Dit is wat Paulus in Rom. 5:12-21 vir ons leer.

 

  1. Die gevolge van Adam se sonde (v.12-14)

Die meeste mense ken die geskiedenis van Adam en Eva. Hulle was die eerste mense op aarde. Hulle het in die tuin van Eden gewoon en was perfek. Maar toe die duiwel hulle versoek toe sondig hulle. Hulle moes uit die tuin uitgaan. Hulle sonde het die dood en baie hartseer in die wêreld ingebring.

Nie almal glo hierdie storie nie. Een van my dosente op Sem het gesê dat dit ‘n mite is. Evolusioniste glo ook nie dat ons van Adam af kom nie. Die Bybel leer egter vir ons dat Adam en Eva historiese figure was en dat hulle regtig bestaan het (bv. 1Kron. 1:1, Luk. 3:38). Indien Adam ‘n fiktiewe karakter was beteken dit dat die sondeval ‘n storie is, dat sonde en die dood normaal is, dat Jesus en sy verlossing onnodig is, en dat Rom. 5 onsin is. Ons moet eerder soos Paulus aanvaar dat Adam en Jesus regtig bestaan het.

Voordat Adam op die aarde gesondig het, het Satan in die hemel gesondig (Jes. 14, Eseg. 28, 1Tim. 3:6). Hy het Eva versoek om van die verbode vrugte te eet. Adam het gestaan en toekyk en daarna saam met haar geëet (Gen. 3:1-7). As die eerste mens en hoof van die mensdom (Adam beteken mens of mensdom) verteenwoordig hy ons almal. Sy sonde het ons besmet net soos wat ‘n boom se slegte wortels verotte takke kweek. Ons het in Adam gesondig (v.12), net soos wat Levi aan Melgisedek tiendes betaal het toe hy nog in Abraham se lendene was (Heb. 7:9-10). Adam se sonde was ons s’n, net soos wat Agan se sonde as Israel s’n beskou is (Jos. 7:11, 20). Adam se skulde word aan ons toegereken net soos wat ons saam met die Jode en Romeine verantwoordelik is vir Jesus se kruisdood. Dit is asof ons self die hamer en spykers gevat om Hom te kruisig (Heb. 6:6).

Die fisiese, geestelike en ewige dood wat vir Adam gegeld het, het na sy hele nageslag toe versprei (v.12, Gen. 2:16-17, 3:19, 21, 5:5). Miskien dink jy dat die sonde en dood wat ons by Adam geërf het [erfsonde] onregverdig is. Maar wie is jy om met God teë te praat en te besluit wat regverdig is of nie? Buitendien sondig jy ook en verdien jy die dood (v.12, 3:23, 6:23). As jy dink dat dit onregverdig is dat Adam se sonde aan ons toegereken word, moet jy ook sê dat dit onregverdig is dat Jesus se geregtigheid aan ons toegereken word.

Dalk glo jy soos Pelagius (360-420 n.C.) dat daar nie regtig so iets soos erfsonde is nie. Pelagius het geglo dat die mens by geboorte so sondeloos is soos Adam. Hy het dus nie ‘n sondige natuur nie, maar het Adam se slegte voorbeeld gevolg en daardeur ‘n sondaar geword [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 1997), 247-248].

Om so te glo is verkeerd. Erfsonde bestaan regtig. Hoekom anders het die mense wat tussen Adam en Moses geleef het sonde gedoen en gesterf (v.13-14)? Hulle het mos nie ‘n gebod oortree soos Adam, of die wet gebreek soos die mense wat na Moses gelewe het nie (v.13-14)? Die feite is dat hulle in Adam sonde gedoen en gesterf het (v.14). Soos wat Jesus se gehoorsaamheid ons red, verdoem Adam se sonde ons (v.14).

Wat beteken erfsonde prakties? As dit net ons verkeerde dade was wat sonde is, kon jy jouself deur jou wilskrag verander. Partykeer kry ongelowiges dit reg om op te hou drink, dwelms te gebruik, ens. Maar ons probleme is dieper as dit. Adam se ongehoorsaamheid het sondeskuld, ‘n sondige natuur, en dood vir sy nageslag gebring (v.12-14, Ps. 51:7, 58:4, Ef. 2:1-3). Dit kan jy so min omkeer soos wat ‘n Etiopiër sy vel kan verander of ‘n luiperd sy kolle (Jer. 13:23). Iemand moet die skuld betaal, die dood omkeer, en jou van binne af nuut maak. Jy kan dit nie deur jou eie wilskrag doen nie. Net die Here kan dit doen. Daarom benodig jy Jesus se kruisdood en die Heilige Gees.

Dalk dink jy jy is nie so erg nie, maar die erfsonde in jou is soos die modder op die rivierbodem. Die water lyk skoon, totdat die duiwel jou versoek en dit omroer. Jou erfsonde is soos ‘n leeu wat slaap. Die duiwel se versoeking maak dit wakker, sodat dit brul en jou verskeur. Dit is soos ‘n see wat kalm lyk, totdat die winde van versoeking waai. Dit is soos kole onder die as. Die bries van versoeking verander hierdie kole in ‘n vuur van skandelike luste [Illustrasies verkry uit Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 145-146, 148]. Thomas Watson sê: ‘Who would have thought to have found adultery in David, and drunkeness in Noah, and cursing in Job? If God leave a man to himself, how suddenly and scandalously may original sin [Afr. erfsonde] break forth in the holiest men on earth!’ [Ibid., 146].

Sonder die oorvloedige genade van God, sal jy wegsink in die diepste en donkerste put van sonde en die hel. Daarom benodig jy v.15-21.

 

  1. Die gevolge van Jesus se genade (v.15-21)

“Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.” (Luk. 7:47). Deur die jare het ek hierdie vers oor en oor in my bediening gesien: mense wat besef dat hulle sonde baie erg is, het die Here baie lief. Dié wat dink dat hulle nie so sleg is nie, het Hom minder lief, skeep Hom af, en sien Hom as ‘n opsie. Hulle verbly hulle nie in sy oorvloedige genade soos wat Paulus dit gedoen het nie.

Net soos wat Jesus ander mense verteenwoordig, het Adam dit gedoen (v.14). Maar daar is ook groot verskille tussen Adam en Jesus (v.15). Wat is hierdie verskille?

[1] Adam se een sonde was niks anders as rebellie en ‘n minagting van God nie. Dit het veroordeling en verdoemenis gebring vir sy nageslag (v.16). Maar na hope en hope sonde oor duisende jare, vergeld die Here ons met verlossing, vergifnis, versoening, wedergeboorte, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, verheerliking en ‘n nuwe liggaam (v.16). As dít nie genade is nie, weet ek nie wat is nie.

[2] A.g.v. Adam se ongehoorsaamheid het sonde soos ‘n tirran oor ons geheers en ons graf toe gesleep (v.17). Jesus het egter hierdie sonde en dood oorweldig soos wat ‘n leeu mannetjie ‘n hiëna se nek breek en hom doodbyt (v.17). Christus het sy oorvloedige genade en geregtigheid as ‘n gratis geskenk aan ons gegee (v.17). In Hom heers ons oor die sonde en die dood (v.17, Joh. 11:25-26, 2Tim. 2:12, Op. 3:21, 5:10, 20:6).

[3] “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe.” (v.18). Paulus het nie in universialisme geglo, asof almal uiteindelik gered sal word nie (vgl. 2:1-16). Wat beteken ‘alle mense’ in v.18 dan?

Adam se een sonde het tot veroordeling gelei vir elkeen wat een is met hom (v.18). Jesus se een gehoorsame daad aan kruis het gelei tot ‘n regverdige rekord en die ewige lewe vir almal wat een is met Hóm (v.18).

Jesus het ook baie mense in ‘n regte stand voor God gebring (v.19, 14, Ps. 22:28, Jes. 53:11, Op. 7:9). Ons kan nie deur die wet reg wees met God nie (v.20). Die wet wys eerder vir ons hoe sondig ons is. Hoe meer wette daar is, hoe meer oortree ons dit (v.20, 3:20, 4:15, 7:7-11, 1Kor. 15:56, Gal. 3:19). Maar waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer geword om ons sonde te bedek (v.20, 15).

Genade betaal nie net ons skuld af nie, maar maak ons ryk (v.20). Dit was nie net ons vuil klere nie, maar maak ons nuwe mense met nuwe klere. Die genade van die kruis is nie net-net genoeg om ons sonde te vergewe nie, maar is meer as die hele mensdom se sonde. Jesus het nie net herstel wat Adam verloor het nie, maar gee aan ons baie meer. Adam kon sonde doen, sterf en het ‘n stoflike liggaam gehad. In die hemel is daar geen kans om sonde te doen of te sterf nie. Ons sal ook nie ‘n stoflike liggaam soos Adam s’n nie, maar ‘n verheerlikte liggaam. Dit is meer as net genade; dit is oorvloedige genade.

 

Marvelous grace of our loving Lord,

grace that exceeds our sin and our guilt,

yonder on Calvary’s mount outpoured,

there where the blood of the Lamb was spilt.

Grace, grace, God’s grace,

grace that will pardon and cleanse within;

grace, grace, God’s grace,

grace that is greater than all our sin.

-Julia H. Johnstone-

 

What riches of kindness He lavished on us

His blood was the payment His life was the cost

We stood ’neath a debt we could never afford

Our sins they are many, His mercy is more

-Matt Papa & Matt Boswell-

 

Richard Sibbes (1577-1635) het gesê: ‘…there is more mercy in Christ than sin in us…’ [Richard Sibbes, Puritan Paperbacks: The Bruised Reed (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998 [1630]), 13]. Hy het maar net herhaal wat Paulus gesê het: “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (v.20). Ons sien dit bv. in die lewe van William Thomas of Staffordshire Bill. Hy was ‘n baie slegte man – so sleg dat die ander ongelowiges nie met hom wou meng nie.

Een Sondagmiddag was hy uit oudergewoonte besig om in die Working Men’s Club te drink. Terwyl hy homself dronk drink hoor hy hoe twee mans aan die tafel langs syne gsels. Hy het die naam van die plaaslike sendingbewing gehoor, die woord ‘prediker’, en toe ‘n sin wat sy lewe verander het. Die een man het vir die ander een gesê: ‘Yes, I was there last Sunday night and that preacher said nobody was hopeless – he said there was hope for everybody.’ William Thomas het nie omgegee vir die res van die gesprek nie. Hy het vir homself gesê: ‘If there’s hope for everybody, there’s hope for me – I’ll go to that chapel myself and see what that man says.’

Hy het twee keer buite die gebou gaan staan, maar nie die moed gehad om in te gaan nie. Die derde week toe sien iemand hom buite staan. ‘Kom in,’ het die persoon gesê. Hy het ingegaan, die evangelie gehoor, dit verstaan, geglo, en die vrede van God in sy hart ervaar. Die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword. William Thomas se gesig het sommer verander. Almal het dit opgemerk. Hy was elke Sondagoggend en aand by die kerk. Hy was ook op Sondae, Maandae en Woensdae by die gemeente se byeenkomste [Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1982), 222-224].

Daar is hoop vir jou kind of familielid wat ver van die Here af is. Daar is hoop vir die Christen wat afgedwaal het. Daar is hoop vir jou, al is jou sonde baie groot. Bid en glo dat die Here jou sal antwoord.

Die sonde en die dood het oor ons geheers (v.21). Ons kon dit nie oorwin nie. Maar deur Jesus se dood en opstanding kan ons dit oorwin, en heers die genade van God in ons (v.21, 6:14). God gee sy Seun se regverdige rekord en die ewige lewe vir ons (v.21).

Is jy nog een met Adam en sy sonde? As dit die geval is sal jy drie dode sterf: ‘n geestelike dood, ‘n liggaamlike dood, en ‘n ewige dood in die hel. Het jy jou al van jou sonde bekeer en glo jy in Jesus? In daardie geval het jy die volheid van God se lewe in jou. Jy lewe geestelik, sal na die dood in die hemel lewe, en sal ‘n onsterflike liggaam kry wanneer Jesus weer kom.

Die oorvloedige genade van God sal nie dadelik al jou probleme wegvat nie. Maar dit sal jou sonde wegvat, jou reg maak met God, die dood oorwin, en vir jou ‘n plek gereed kry in die hemel. Dit sal jou dra en selfs heuning laat proe wanneer die bye van beproewing jou steek (8:28, 37, 2Kor. 12:7-10).

 

Amazing grace! how sweet the sound,

That saved a wretch like me!

I once was lost, but now am found,

Was blind, but now I see.

Through many dangers, toils and snares

I have already come.

‘Tis grace that brought us safe thus far

And grace will lead me home.

-John Newton-

Hoe weet jy jy gaan hemel toe?

Cross of love

Wanneer ek evangelisasie doen is my eerste vraag altyd: gaan jy hemel as jy doodgaan? Die meeste mense sê ja. My volgende vraag is: hoe weet jy jy gaan hemel toe? Toe oom Andries Rossouw in ons gemeente hierdie week oorlede is, toe vra ek dit vir die verpleegster by sy huis. Sy het soos baie mense gesê sy weet nie.

Ander mense is seker dat hulle hemel toe gaan. Hulle dink so omdat hulle die wet probeer nakom of so iets. Min mense glo dat hulle hemel toe gaan omdat God iets gedoen het. Volgens Rom. 5:5b-11 het Paulus hom berus in God se liefde wat Hy deur Jesus se kruisdood bewys het. Hy het geweet hy gaan hemel toe a.g.v. dit wat Jesus gedoen het, en nie a.g.v. homself nie.

 

  1. God se liefde wys dit (v.5b-8)

 

[a] Die ervaring van God se liefde (v.5b)

In die 17de eeu het Izaac Walton oor Richard Sibbes gesê: ‘Heaven was in him, before he was in heaven’ [Joel R. Beeke & Randall. J. Pederson, Meet the Puritans (Grand Rapids: Reformation Heritage Books, 2006), 535]. Die hoop van die hemel beskaam nie (v.5a). Ons hoop om by die Here te wees sal nie in stukkies breek nie. Hoe weet ons dit? Die liefde van God wat ons deur sy Gees in ons harte ervaar is ‘n klein voorsmakie van die hemel (v.5b).

Ons ervaar hierdie liefde veral wanneer ons swaarkry (v.3). Dit vul ons harte en loop oor soos wyn (v.5b, Ps. 23:5, Tit. 3:5-6). As jy dit eers gesmaak het, soek jy die pure en volle liefde van die hemel. Die Heilige Gees waarborg dat jy dit eendag sal kry (2Kor. 1:22, 5:5, Ef. 1:13-14, 4:30).

Die wêreld soek liefde, maar bly leeg. Hulle is opsoek na liefde en skryf alewig nuwe liefdesliedjies. Voel jy miskien leeg? Is jy opsoek na liefde? Ontvang dit deur die Gees en vra Hom om dit vir jou te gee (Gal. 5:22, Ef. 3:16-19). Om die Gees te ontvang moet jy Jesus hê (8:9). En om Jesus te hê moet jy in Hom glo, jou bekeer, en sy verlossing pleit totdat Hy jou antwoord (Joh. 1:12).

Onthou dat die ervaring van liefde fluktueer. Jy kan dus nie jou sekerheid van liefde en die hemel op jou emosies bou nie. Soek eerder na die objektiewe bewyse van God se liefde in die kruis.

 

[b] Die bewys van God se liefde (v.6-8)

Ek onthou twee gevalle waar mense my aangeval het, en toe gesê het dat hulle my liefhet. My reaksie was: ‘Ek glo julle nie. Julle dade bewys die teendeel.’ Ek is seker dat ek dit ook al met ander gedoen het.

Die Here  nie net dat Hy ons liefhet nie; Hy wys dit (v.6-8, Spr. 20:6, 1Joh. 3:18). Hy het sy liefde in die dood van sy Seun gewys (v.6-8, Joh. 3:16, Gal. 2:20, 1Joh. 3:16). Die Heilige Gees dra hierdie liefde aan ons oor (v.5b).

Jesus het nie vir juwele, regverdige en goeie mense, sy beste vriende gesterf nie (v.7, 3:10-12). Hy het vir mense gesterf wat swak was weens die sonde, die dood, en die hel (v.6, Ef. 2:1-3). Hy het vir die goddelose gesterf: vir mense wat sonder God is en glad nie soos Hy nie (v.6). Hy het vir sondaars gesterf wat in rebellie teen Hom lewe (v.8, 3:23). Hy het vir sy vyande gesterf (v.10). Dít is liefde (v.6, 8).

Jesus het op die regte tyd vir ons gesterf (v.6). Wat beteken dit? Hy het gesterf toe die maat van ons sondes vol geword het, toe God se raadsplan dit bepaal het, toe die Paasfees gehou is, en toe Dan. 9:24-27 se profesie vervul moes word (v.6, Joh. 2:4, 7:30, 8:20, 12:23, 27, 13:1, 17:1, Gal. 4:4).

Soos wat ‘n lam in ‘n mens se plek geoffer is, het Jesus in ons plek gesterf. Soos wat Jesus en Barabbas plekke geruil het, het Jesus in ons plek gesterf. Hy het as ons plaasvervanger gesterf (v.6, 8, Jes. 53:4-6). Hy het sy siel, lewensbloed, en laaste asem gewilliglik gegee (Joh. 10:18). Hy het die eensame verlatenheid van die hel beleef toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het (Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13). Dít is liefde.

Liefde is meer as net opoffering. Jy kan opoffer sonder om lief te hê (1Kor. 13:3). Liefde is ‘n absolute toewyding. Dit soek ander se belang, begeer hulle voordeel, en neem stappe om dit te bereik. Jesus het dit gedoen.

Maar ons moenie dink dat Hy gemaak het dat God ons liefhet nie. God het ons liefgehad nog voordat Jesus aan die kruis gesterf het. Hy het ons liefgehad met ‘n ewige liefde (Jer. 31:3). Sy liefde is so groot soos Hy self (1Joh. 4:8). Die kruis is eerder die uitdrukking van sy liefde (v.8, Joh. 3:16, 1Joh. 4:10).

 

This must be a cross of love

for God to bruise His only Son.

Jesus, what a sacrifice to reach us.

It had to be a cross of love.

-Steve Green & Twila Paris-

 

Die Gees stuur hierdie liefde na ons harte toe soos strale uit die son (v.5b). Soek daarom die son van liefde in Jesus se kruisdood voordat jy die strale van ervaring deur die Heilige Gees soek. Sien rooi ligte as die kruis nie meer vir jou belangrik is nie.

Is Jesus se kruisdood nog deel van jou gebede? Is dit sentraal in jou gedagtes? Herdenk jy dit gereeld in die nagmaal? Kom jy gereeld na die kruis toe om jou sondes te bely? Praat jy gereeld oor die kruis met ongelowiges as jy die evangelie met hulle deel? Leer jy dit vir jou kinders en kleinkinders? Preek jou ds. gereeld daaroor?

Vra vergifnis as jy nie gereeld aan die kruis dink nie. Begeer dit meer. Kom na die kruis toe wanneer jou sonde pla. Kyk meer na die kruis as na jou sonde (v.6-8). Soek dit as jy God se liefde betwyfel. Daardeur sal jy weet dat God jou liefhet en dat jy hemel toe gaan.

 

  1. God se groter werke wys dit (v.9-11)

Het jy al ooit gehoor van ‘n a fortiori argument? Rom. 8:32 gee vir ons ‘n voorbeeld hiervan: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”

As God die groot ding vir ons gedoen het, sal Hy sekerlik ook die kleiner ding doen. Dit is wat ek met God se ‘groter werke’ bedoel. Wat is die groter werke waarop die kleiner werke outomaties volg?

 

[a] Regverdigmaking (v.9)

Aan die kruis het Jesus jou skuld betaal en ‘n oneindige bedrag in jou rekening inbetaal (v.9, 2Kor. 5:21). Maar jy kry eers die kaart om die voordele daarvan te trek wanneer jy in Hom glo (v.1, Fil. 3:9).

 Deur Jesus se kruisdood weet jy jy gaan hemel toe. Sal Jesus jou straf dra, die duur prys vir jou sonde betaal, en jou dan hel toe stuur? Nee (v.9). As Hy jou van God se toorn gered het deur die kruis, sal Hy jou daarvan red op die oordeelsdag (v.9, 2:5, 8:1, 1Tess. 1:10).

Die kruis verseker dus ‘n volkome en finale redding vir God se volk, sy kerk, en sy skape (Matt. 1:21, Joh. 6:37, 10:11, 11:51-52, Hand. 20:28, Ef. 5:25, Tit. 2:14). Hoe weet jy jy is een van sy skape?

As jy ‘n skaap is sal jy Jesus en sy kruisdood liefhê (1Kor. 2:2, Gal. 6:14). Jy sal die sonde haat wat sy kruisdood veroorsaak het. Jy sal jou bekeer en wens om nie sonde te doen nie. Jy sal ‘n sondelose hemel begeer. Enige vorm van ‘Christenskap’ waarin Jesus se kruisdood nie alles en sentraal is nie, is geen Christenskap nie.

 

[b] Versoening (v.10-11)

Die HAT se nie-godsdienstige definisie vir versoening klink so: ‘Herstel van vrede of vriendskap; vredemaking.’ Wat is betekenis van versoening in die konteks van Rom. 5?

God het ons geskep. Ons haat Hom egter, lewe teen Hom vir onsself en ons sonde, en is Hom vyandig gesind. Hy sê nie vir ons: ‘Smile, Jesus loves you!’ nie, maar haat ons sonde, is kwaad vir ons, is ons Vyand, en is aktief teen ons (v.10, Ps. 7:12, Jak. 4:4).

Aan die kruis het Jesus egter die straf vir ons sonde gedra, sy Vader se toorn bedaar, die vriendskap tussen ons herstel, en vrede gemaak (v.10, 1, 3:25, 2Kor. 5:18-19, Kol. 1:21-22). God is nie meer kwaad vir ons nie, maar is met ons versoen en ons met Hom.

En sal Hy versoening bewerk met sy vyande en dan sy vriende vergeet (v.10)? Sal Hy versoening bewerk deur sy dood, terwyl sy lewe niks beteken nie? Hy het ons gered deur sy lewe (v.10). Hy het hierdie lewe in ons gegee deur sy Gees. Hy lewe vir altyd om vir ons in te tree (8:34, Heb. 7:25). Hy sal ons tot die einde en uiterste toe red. Hy sal ons van die hel red vir hemel.

Klink dit goed? Dit raak nog beter (v.11). Jy is nie net met die Regter versoen maar moet die hof verlaat nie. Nee! Wees bly, wees bly, wees bly (v.11, 2-3)! Wees bly dat Hy jou aangeneem het, jou Vader is en jou Here Jesus Christus (v.11).

Verbly jou in Hom (v.11) al is jou omstandighede sleg. Oom Andries Rossouw is dood. Ons kerk word beproef. Ons land is korrup. Miskien is jy siek. Dalk is jou ouderdom vir jou ‘n beproewing. Jy is moeg, werkloos, jou emosies wankel en dit voel of die Here ver is. Maar t.s.v. al hierdie dinge kan jy jou in die Here verbly.

God en die liefde wat Hy aan die kruis bewys het is die rots wat die storms van beproewing deur die eeue weerstaan het. Ons blydskap in Hom en sy kruisdood help ons om bly te wees t.s.v. die beproewing wat ons moet deurmaak (v.3). Ons hoef nie te wag vir die hemel voordat ons bly is nie. Omdat ons met die Here versoen is, kan ons ons nou al in die Here verbly (v.11).

En tog weet ons dat ons blydskap nog nie volkome is soos oom Andries s’n in die hemel nie. Ons kyk terug na die fontein van die kruis vir ons blydskap en geniet die strome daarvan in die hede. Maar ons sien uit na ‘n wêreld vol liefde, blydskap, en vrede in die hemel. Vir nou is dit die belangrikste om soos Paulus, oom Andries Rossouw, en ander gelowiges seker te maak jy sal daar wees.

Die geseënde gevolge van ’n regte verhouding met God

Blood dripping from cross

Eendag was daar ‘n koning wat nie kon kinders hê nie. Hy het ‘n seun aangeneem. Al was die seun nie sy eie nie, het hy die respek en voorregte gekry wat die koning toekom.

So is dit met ons en God. Die Vader het ons sonde in Jesus se rekening inbetaal, en sy perfekte lewe in ons s’n. Almal wat glo ontvang die voordele van Jesus se perfekte lewe en kruisdood.

Deur Jesus beskou die Vader jou so onskuldig, heilig en regverdig soos sy eie Seun. Die geseënde gevolge wat vir Jesus geld, geld ook vir jou. Dit is wat ons in Rom. 5:1-5a leer. Wat is hierdie geseënde gevolge van ‘n regte verhouding met God?

 

  1. Vrede met God (v.1)

Reinhardt steel R100 000 by Niel. Na ‘n paar maande skep hy moed en gaan sien hy vir Niel om vrede te maak. Sy poging misluk, want solank as wat hy R100 000 skuld kan daar nie vrede wees nie. Hy moet eers sy skuld betaal.

Net so kan jy nie vrede met God hê solank as wat jy sondeskuld het nie. In sy genade het God ons sondeskuld deur Jesus se kruisdood betaal en vrede bewerk (v.1). Nou is Hy nie meer ons Vyand nie (v.10) en kan ons ‘n skoon gewete en ‘n rustige hart vol vrede hê.

Jy moet egter nie rus in die vrede wat jy in jou hart voel of nie voel nie. Party mense wat nie in Jesus glo nie en in sonde lewe, het ‘n gevoel van vrede in hulle harte. Dit is ‘n vals vrede.

Is jy dalk so? Ontvang God se vrede deur Jesus (v.1). Erken dat jy sleg en skynheilig is, en dat jy God se oordeel verdien. Vra sy vergifnis en verlaat jouself heeltemal op sy genade.

 

Upon a Life I have not lived,

Upon a Death I did not die,

Another’s Life; Another’s Death,

I stake my whole eternity.

-Horatius Bonar-

Maar wat as jy in Jesus glo en jou bekeer, maar nie vrede in jou hart het nie? Die belangrikste is dat jy deur Jesus se kruisdood vrede met God moet hê (v.1), al voel jy dit nie in jou hart nie. God is groter as jou hart en die emosies wat jy voel (1Joh. 3:19-20). ‘Your heart is not the compass Christ saileth by’ [Samuel Rutherford, Puritan Paperbacks: Letters of Samuel Rutherford (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973 [1664]), 87]. Glo daarom God se beloftes bo dit wat jy in jou hart voel of nie voel nie.

Maar dit beteken nie dat jy die gevoel van vrede heeltemal moet ignoreer nie. Soek dit, want as jy dit het sal dit jou baie droefheid, twyfel en angs spaar. Dit sal vir jou vrymoedigheid gee (1Joh. 3:21). Om hierdie gevoel van vrede te kry moet jy daarvoor bid. Jy moet ook beloftes soos Rom. 5:1 glo en oordink.

 

  1. Toegang tot God se genade (v.2a)

Het jy al in ‘n winkel die ‘Staff Only’ teken bo ‘n deur gesien? In die ou tyd was daar ‘n ‘God Only’ teken bo die ingang van God se troonkamer. In die Ou Testament kon slegs die hoëpriester een keer per jaar in die tabernakel of tempel se Allerheiligste – die troonkamer – ingaan (Heb. 9:7).

In die Nuwe Testament is dit anders. Deur geloof in Jesus het ons 24/7 toegang tot die skatkamer van God se onverdiende guns of genade (v.2a, Heb. 4:16, 10:19-22). Volgens die Griekse perfektum kan die deur nie weer toegaan nie, maar staan ons vas in hierdie genade (v.2a).

Hoe kan jy die skatte van hierdie genade geniet? Dit is nie genoeg om die Bybel te lees, die evangelie te hoor, geestelike gemeenskap te soek, te vas, te bid, lofliede te sing, te dien, gedoop te word, die nagmaal te vier of evangelisasie te doen nie.

‘n Ongelowige kan ook hierdie dinge doen, terwyl hy buite die skatkamer van God se genade staan. Om die skatte van genade te geniet moet jy glo terwyl jy die bg. dinge doen. Geloof is die sleutel wat die deur van genade oopsluit.

Wat en hoe moet jy glo? Glo dat God se beloftes waar is. Wanneer jy die Bybel lees en daarna luister, moet jy glo dat dit God se Woord is. Wys dat jy die Bybel glo deur dit te doen. Glo dat God jou gebede deur sy Seun sal hoor en beantwoord. Glo dat Jesus uit die graf uit opgestaan het en jy saam met Hom. Bely dit deur die doop van gelowiges. Glo dat sy dood jou kan red en vergewe. Bely dit in die nagmaal.

Glo dat God jou Vader is. Glo dat Jesus jou Verlosser en Here is. Glo dat die Heilige Gees in jou woon. Glo dat die kerk jou familie is. Glo dat Hy jou lofprysing ontvang en oor jou glimlag as jy uit jou hart uit sing. Glo dat Hy jou sal seën as jy tot sy eer ander gelowiges dien en die evangelie met ongelowiges deel.

As jy al hierdie dinge in die geloof doen, sal jy ervaar hoe God se genade soos ‘n standhoudende rivier na jou siel toe vloei. Jy sal waarlik ryk wees (Ef. 1:7, 2:7, 3:8). Paulus het dit verstaan en kon nooit ophou om verbaas te wees oor God se genade nie. Om hierdie rede groet hy die gelowiges aan die begin en die einde van al sy briewe met ‘genade’.

Uit 129 keer wat die woord ‘genade’ in die Nuwe Testament voorkom, is 86 daarvan in Paulus se briewe. En volgens v.2a is hierdie genade joune as jy in Jesus glo.

 

  1. Blydskap oor die hoop van die hemel (v.2b-5a)

Toe ons onlangs Pilansberg toe is, het my swaer en suster saamgegaan. ‘n Dag of wat voor ons vertrek het, toe raak hulle baba siek. Hulle het oorweeg om liewer nie saam te gaan nie. Toe my kinders dit hoor, toe sê hulle: ‘Ah! Ons hoop die baba word beter sodat hulle kan saamgaan.’ My kinders se hoop was eintlik maar ‘n onsekerheid. Met ‘hoop’ het hulle bedoel dat die familie miskien gaan saamkom, maar miskien nie.

Dit is nie wat ‘hoop’ in die Bybel beteken nie. Bybelse hoop is iets wat jy nie nou sien nie, maar wat verseker in die toekoms gaan gebeur (Heb. 11:1). Die hoop in v.2b verwys na die ewige heerlikheid van die hemel wat op ons wag. Dít is waaroor ons bly is (v.2b, 1Pet. 1:8).

In die hemel sal ons die helder en beeldskone glans van God se heerlikheid in sy Seun sien, weerspieël, bewonder en geniet (v.2b, Joh. 17:24, 2Tess. 1:10, Heb. 1:3). Dit is hoekom Hy ons geskep en gered het (Jes. 43:7, 21, 1Kor. 10:31, 2Kor. 3:18).

Maar hoe kan ons oor hierdie hoopvolle en heerlike toekoms juig as ons nog in die hede swaarkry? Paulus sê dat ons in ons lyding moet juig, en nie dat ons oor dit moet bly wees nie (v.3). Ons moet juig omdat ons weet dat ons lyding die saad is waaruit die boom van hoop groei (v.3-4). Ons moet juig omdat die gras van ons lewens groener word a.g.v. die vuur van lyding wat dit brand. Ons dra meer vrug wanneer God se skêr van lyding die takke van ons lewens snoei.

Ons moet juig omdat die Vader die Seun in ons plek gestraf en sy geregtigheid aan ons gegee het (v.1). Prakties beteken dit dat lyding nie God se straf oor ons is nie, maar dat dit eerder tot ons voordeel is (v.3-5, 8:1, 28). Oefening in lyding bou fiksheid en geestelike spiere om in die hemelse wedloop te volhard, net soos wat harde oefening dit vir jou liggaam doen (v.3).

As ons nie ly nie en alles altyd net goed gaan, sal ons terugsit, op onsself vertrou, gemaklik begin raak in die wêreld, en van die Here vergeet. Maar wanneer ons ly erken ons ons swakheid, roep ons tot die Here, verlang ons na die hemel, en keer ons terug na die regte pad toe (Heb. 12:5-11). Op hierdie manier kweek lyding volharding (v.3).

As jy dit onthou kan jy juig selfs wanneer jy swaarkry (v.3, Matt. 5:10-12, Hand. 5:40-41, 16:25, Fil. 4:4, Jak. 1:2-3). Maar as jy dit vergeet, dan sal jy jouself bejammer en swaarmoedig wees in jou lyding.

Die vuur van lyding is pynlik, maar dit toets jou soos goud en wys of jou geloof eg is of nie. As jy in lyding volhard kweek dit karakter (v.4). Hoe meer jy volhard, hoe sterker word jou karakter. Wat in die verlede ‘n enkele goeie daad was, word nou ‘n gewoonte en vorm uiteindelik deel van jou karakter.

As goeie karakter dan by lyding begin, moet ons nie so gou as moontlik van lyding ontslae wil raak nie. As ons dit doen, dan raak ons ontslae van God se staalwol waarmee hy die pot van ons lewens blink skuur.

Bybel lering is die onderwyser wat die teologie in jou kop sit. Maar lyding is die streng afrigter wat jou dril en help om die Bybel toe te pas en jou hart vas te sement. Volharding in lyding kweek karakter (v.4a). En as jou karakter soos Jesus s’n word, begeer jy nie net die hemel omdat jy lyding wil vryspring nie. Jy begeer dit eerder omdat jy soos Jesus en by Hom wil wees. Karakter kweek hoop (v.4b).

As jy die aarde meer begeer as die hemel, dan wys dit dat jou karakter nog onvolwasse is. Jy moet nog in die skool van lyding leer totdat jy soos Jesus is en by Hom wil wees. Elkeen wat hierdie hoop het, word nie teleurgestel nie. Jy sal nie skaam kry, sodat jy uiteindelik moet sê: ‘My hoop het nie gerealiseer nie. Dit was alles net ‘n leë droom. Ek het tevergeefs gely en volhard.’

Nee, “die hoop beskaam nie” (v.5). So seker as wat God getrou is sal jou hoop vir Jesus en die hemel bewaarheid word. As die hoop van die hemel niks anders as ‘n feëverhaal is nie, moet jy dit nou los en nie verder jou tyd daarmee mors nie. In daardie geval God ‘n onbetroubare legende en die Bybel ‘n storieboek.

As jy gered is sal jy dit nie doen nie, maar vashou aan die onwankelbare en onveranderlike Christus, die hoop van heerlikheid (Kol. 1:27, 1Tim. 1:1). Sonder Hom is elke resep om seën te ontvang leeg. Jy kan doelgerig lewe, Jabes se gebed opsê, goeie dinge oor jouself dink en spreek totdat jy blou is in die gesig: dit sal nie werk nie. Die seën van die Christelike lewe is in Jesus en Hom alleen (Ef. 1:3).

 

Ou Testamentiese Christenskap

Abraham-and-the-stars

‘n Man in Nelspruit het vir my gesê dat my 2000 jaar oue Christenskap ‘n baba is teen sy Hindoeïsme wat 3500 jaar oud is. Maar hy was verkeerd, want volgens Paulus het God selfs gelowiges in die Ou Testament regverdig verklaar deur geloof in die Messias wat sou kom.

Abraham en ander Ou Testamentiese gelowiges se godsdiens was dus nie Judaïsme nie, maar Christenskap. Die evangelie van Christenskap is so oud soos die sondeval (Gen. 3:15). Die wet en die profete het dit voorspel en daarvan getuig (Rom. 1:2, 3:21). Ons het dus ‘n baie ryk erfenis.

‘Maar wat maak dit saak of die evangelie oud is?’ wonder iemand. Dit maak baie saak. Dit beskerm ons o.a. teen die dwaling wat sê dat die Jode gered kan word sonder geloof in Jesus, omdat God hulle kamtig in die Ou Testament deur die Tien Gebooie gered het. Per implikasie hoef jy dan nie die evangelie met die Jode te deel nie.

‘n Ou evangelie beskerm ons verder teen die dwaling wat sê ons moet terugkeer na die sg. Ou Testamentiese godsdiens van redding deur geloof plus die onderhouding van die Sewendedag Sabbat, die Ou Testament Feeste, die voedselwette, ens.

Maar Rom. 4:1-8 wys dat God selfs Ou Testament gelowiges gered het deur geloof sonder werke (vgl. 3:28). Ons sien dit o.a. in die lewe van twee karakters uit die Ou Testament.

1. Abraham (v.1-5)
As jy in ‘n debat jou opponent se sterkste argument kan afskiet, sal die res van sy argumente soos dominoes val. Paulus het die Jode se sterkste argument teen hulle gebruik en sodoende gemaak dat die res van hulle argumente platval. Hy het gewys dat Abraham uit wie hulle afstam, gered is deur geloof sonder werke (v.1-5). As Abraham deur sy werke reg was voor God kon hy roem en homself op die skouer klop (v.2).

Maar God sal dit nie toelaat nie (3:27, Ef. 2:9). Volgens die Skrif het Hy Abraham deur die geloof geregverdig (v.3, Gen. 15:6). In die konteks van Gen. 15 het God ‘n nageslag soveel soos die sterre aan Abraham belowe. Al was hy te oud om kinders te hê het hy God geglo. God het sy geloof tot geregtigheid gereken (v.3). Wat beteken dit?

Dit beteken nie dat geloof Abraham se bydrae was waardeur hy die hemel verdien het nie, want anders is daar geen verskil tussen geloof en werke nie (kontra v.4). Dit beteken ook geloof die regverdige daad was waarvolgens die Here Abraham gered het nie. In v.5 sê Paulus immers dat God die goddelose regverdig.

Dit beteken eerder dat God die voordele van die komende Messias se lewe en kruisdood in Abraham se rekening inbetaal het. Geloof was die strooitjie waardeur hy die lewende water gedrink het, die drip waardeur hy die medisyne van verlossing ontvang het. Geloof was m.a.w. die kanaal waardeur Abraham God se geregtigheid ontvang het (vgl. Fil. 3:9).

Prakties beteken dit jy moenie kyk hoe groot jou geloof is nie. Om in jouself te kyk vir die oplossing is ‘n kenmerk van elke vals godsdiens op aarde. Ware godsdiens kyk weg van hom- of haarself na Christus. Kyk daarom deur geloof na Hom. Ontvang Hom en sy geregtigheid deur die geloof. Glo dat sy kruisdood voldoende is om jou van God se toorn te red en jou sonde weg te was.

Abraham was so. As God hom deur sy werke gered het, dan is verlossing nie ‘n geskenk nie maar ‘n salaris (v.4, 11:6). Dan het Abraham die hemel verdien en is dit iets wat God hom skuld (v.4). Verlossing is dan ook nie iets wat God doen nie, maar iets wat jy vir jouself doen.

Nee, verlossing is ‘n geskenk wat God gee as jy besef dat jy goddeloos is en Jesus se lewe en kruisdood nodig het om reg te wees met Hom (v.5, 5:6). Eers dán sal God jou geloof tot geregtigheid reken en Jesus se lewe en kruisdood aanvaar asof jý perfek gelewe het en vir jou eie sonde betaal het (v.5).

Die meeste mense aanvaar dit nie, maar wil in hulleself roem en sê dat húlle iets bygedra het tot hulle redding (v.2). Die Bybel noem dit selfregverdigheid. Jesus haat dit en spreek Hom harder daarteen uit as teen prostitusie. Let gerus op hoe Hy die Fariseërs aangevat het, maar genadig was met prostitute en tollenaars.

As jy dus soos die Fariseërs op jou werke en godsdienstige pogings steun, sal God jou dubbel vergeld (Matt. 23). Jy het immers geweet wat reg is, maar jou halfgebakte geregtigheid bo God se volmaakte geregtigheid in Christus verkies (Luk. 12:47-48, 18:9-12).

Maar as jy jou sonde bely, in Jesus glo en erken dat jy goddeloos is, sal God jou met onmiddellike effek vergewe en Jesus se lewe en kruisdood in jou plek aanvaar (v.5, 2Kor. 5:19, 21). Soos met Abraham sal Hy jou geloof tot geregtigheid reken (v.5).

2. Dawid (v.6-8)
Jy het egbreuk gepleeg. Niemand weet daarvan nie. Jy probeer dit al vir ‘n jaar wegsteek. Dit eet jou op – jou gewete pla jou. Jy is bang mense sal uitvind. Jy soek vrede en doen nóg sonde om van jou egbreuk te vergeet, maar dit help nie. Dit maak net dinge erger. Jy weet wat jy móét doen, maar is bang.

Jy weet seker wie ek sopas beskryf het? Dawid. Dit was eers toe hy sy sonde openlik bely wat God hom geseën het en hy weer blydskap en vrede ervaar het. Hy het besef dat hy nie deur sy werke God se guns kan wen nie, en dat dit ook nie sy sonde kan uitbalanseer nie. Toe hy besef dat sy geregtigheid nie voor God tel nie, het hy die geregtigheid van God gesoek. Hy het die seën daarvan sonder sy goeie werke deur die geloof ontvang (v.6).

Blydskap oor hierdie seën is duidelik sigbaar by nuwe bekeerlinge wie se sonde vergewe is en wie se gewete skoon is (Hand. 8:39, 1Joh. 2:12). Dit voel vir hulle of ‘n berg van hulle skouers af is.

Dit is wat John Bunyan wou illustreer toe hy in Pilgrim’s Progress vertel hoe Christen se sondelas by die kruis van sy skouers afgeval het. Dit is ook wat my swaer vir my gesê het toe hy tot bekering kom. En dit is die punt as Paulus Dawid (Ps. 32:1-2) in v.7-8 aanhaal. Toe Dawid sy sonde wegsteek, het hy geen vrede en seën gehad nie. Hy het dit eers gekry toe hy sy sonde bely en God hom vergewe (v.7).

Dit geld ook vir ons. As jy jou sonde wegsteek sal God jou nie vergewe nie (Spr. 28:13, 1Joh. 1:8-10). Eers as Hy jou sonde vergewe en nie toereken nie, sal jy sy vreugde en seën geniet (v.8). Dit geld nie net vir ongelowiges wat hulle bekeer nie, maar vir gelowiges wat soos Dawid afdwaal en terugkeer. God sal jou herstel en met blydskap vul (Ps. 51:10, 14).

God sal jou sondige hart en rekord skoon was. A.g.v. die kruis sal Hy die sonde nie teen jou hou nie, maar jou vergewe. Dit maak nie saak hoe groot jou sonde is nie: as jy in Jesus glo sal God dit bedek (1Kor. 6:11, 9-10).

The deepest sin can’t rise above
Calvary’s love.
-Steve Green-

His blood can make
the foulest clean.
-Charles Wesley-

The vilest offender who truly believes,
that moment from Jesus a pardon receives.
-Fanny Crosby-

Dink bv. aan die dief wat langs Jesus aan die kruis was: Jesus het hom onmiddellik vergewe. Dit is ook waar van Paulus toe hy op die Damaskuspad tot bekering kom. Ek dink ook aan George Müller wat voor sy bekering geld gesteel het, ‘n dronkaard was, losbandig gelewe het, leuens vertel het, bedrog gepleeg het en mense gekul het [The Autobiography of George Müller (Whitaker House: New Kensington, 1985), 10-21]. Net so kan die Here jou in ‘n oomblik red, vergewe en nuut maak.

Bring daarom die sonde wat jou gewete pla en jou lewe misrabel maak na Hom toe: die bitterheid, navolgling van vals lering, biddeloosheid, dronkenskap, pornografie, seksuele immoraliteit, angs, vrees, egskeiding, woede, jaloesie, hoogmoed, oneerlikheid, diefstal, leuens, disrespek vir jou ouers, onbetrokkenheid in jou kinders se lewens, versaking van jou lewensmaat, verslawing, luiheid, murmurering, ens.

Kom vandag na Jesus toe. Hy sal al jou sonde bedek en jou skoon was met sy bloed (v.7, Jes. 1:18, 1Joh. 1:7). Dit geld vir die diepste sonde in jou verlede, jou hart, jou begeertes, jou natuur, jou denke, ens. Jy sal nie meer in die rooi wees nie – God sal jou skuld geheel en al afskryf. Daar is geen fynskrif of ander voorwaardes nie. Ontvang eenvoudig God se vergifnis en geregtigheid as ‘n gratis geskenk van sy genade.

As jy dit doen sal jy besef dat Ou Testamentiese Christenskap nie ‘n fossiel van die ou tyd is nie. Dit is nie iets wat saam met die dinosourusse uitgesterf het nie. Dit is ook nie iets wat net in die hemel leef waar Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Moses, Elia, ens. by Jesus is nie (Matt. 8:11, 17:3, 22:32, Luk. 16:23). Dit is vandag nog so lewend soos wat dit in hulle tyd was.

Dit is soos die coelacanth. Mense glo dat hierdie vis 70 miljoen jaar gelede uitgesterf het (nie dat ek in miljoene jare glo nie). Maar in 1938 het hulle ‘n lewende coelacanth teen die kus van Suid-Afrika naby Oos-London gevind.

Soos die coelacanth is Christenskap (wat al van Genesis af kom) ‘alive and well’. Christene is egter nie soos hierdie vis waarvan daar net ‘n paar honderd oor is nie. Trouens, dit is stadig maar seker besig om uit te brei. Voor die wederkoms sal die godsdiens van Abraham die wêreld oorneem: “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes. 11:9).

Wat doen die Here vir jou en wat moet jy vir Hom doen?

God has not forgotten you

Nick is 4 jaar oud. Sy pa is $50 biljoen sterk. Hy is bly dat sy pa so goed vir hom sorg. Om dankie te sê breek hy sy spaarvarkie oop, en gee hy al sy geld – $150 – vir sy pa.

Om die Here te dank vir alles wat hy vir jou doen is so. Wat sal jy vir Hom gee: geld? Dit kom in elk geval van Hom af (1Kron. 29:14). Wat van geskenke? Hy het dit vir jou gegee (Jak. 1:17). Dalk jou diens? Dit is uit Hom (1Kor. 4:7). Wat van jou lewe? Hy het dit vir jou gegee (Hand. 17:25). Sê eerder net dankie, prys Hom en geniet Hom. Dit sal Hom verheerlik. Dit is wat Jes. 44:21-28 vir ons leer.

1. Wat moet jy vir die Here doen? (v.21-23)

[a] Onthou Hom (v.21)
Het jy al ooit jou kinders getugtig en gevra: ‘Hoekom het jy dit gedoen?’ Wat antwoord hulle? ‘Ek het vergeet.’ Maar jy het twee dae gelede vir hulle gesê om dit nie te doen nie.

Ons is soos kinders en vergeet maklik (Ps. 106:4, 13, 21, 45, 2Pet. 1:12-15). Daarom moes die Here sy volk herinner dat afgodery dwaas is, en dat Hy die ware God is (v.6-20, 21). Hy het hulle uit Egipte gered om sy kneg te wees (v.21). Die mens vorm afgode (v.12-13), maar die Here het sy volk gevorm (v.21).

God vergeet nie soos ons nie, maar sal sy volk nog in die toekoms onthou (v.21, 49:15, Ps. 105:8, Rom. 11:28-29). Dit geld vir elkeen wat glo. Sal die Here ‘n mossie onthou en van jou vergeet (Luk. 12:6-7)?

Hy onthou jou gebede. Hy onthou jou wanneer jy bang is. Hy onthou as jy deur beproewings gaan. Hy vergeet jou nie wanneer jy sonde doen nie, maar tugtig jou sodat jy na Hom toe sal terugkeer. Hy sal jou ook op jou sterfbed onthou (Luk. 23:42-43).

Soos wat die Here jou onthou moet jy Hom onthou en gehoorsaam. As jy Hom vrees sal Hy jou naam in die boek van herinnering skryf (v.21, Mal. 3:16). Hy sal jou m.a.w. onthou.

Onthou ook die Here wanneer jy die nagmaal gebruik: ‘doen dit tot my gedagtenis’ (1Kor. 11:24-25). As jy vir geen rede van die nagmaal af wegbly nie, sal jy die Here vergeet. Doen eerder goed, dien die Here, en vra Hom om jou te onthou (Neh. 13:14, 31, Heb. 6:10).

[b] Keer terug na Hom toe (v.22)
Het jy jouself al ooit geflous deur warm aan te trek as jy ‘n miswolk in die oggend sien? Teen 10:00 vrek jy as die miswolk in die son se hitte verdamp. So het God Israel se sonde uitgewis: soos ‘n wolk of miswolk voor die son (v.22). Jesaja het God se verlossing en gewillige vergifnis as motivering vir die afvallige volk gebruik om hulle te bekeer (v.22).

Sal die Here jou terugneem en vergewe? Jesus het gesterf om jou sonde onder sy voete te vertrap, in die diepste see te gooi, en van jou af weg te vat so ver soos die ooste en die weste van mekaar verwyder is (Miga 7:19, Ps. 103:12). Die Here onthou ons, maar Hy onthou nie ons sonde teen ons nie (v.21-22, 43:25).

God het die inisiatief geneem om ons te vergewe. Hy het ons lief. Hy het sy lewe vir ons gegee. Hierdie dinge wys dat Hy meer as bereid is om jou te vergewe (v.22, Rom. 5:8). God sal jou vergewe as jy na Hom toe terugkeer (Luk. 24:47, 1Joh. 1:9). En tog baseer Hy nie sy vergifnis op jou bekering nie, maar op Jesus se kruisdood (v.22, Ef. 1:7, 1Joh. 1:7).

Geen god kan verlos en vergewe soos Hy nie (v.22, 17, 20). Jy hoef nie te vrees of skaam te voel om terug te keer nie. Kom vrymoedig en bely jou sonde, al is dit ook hoe groot. As God die moord op sy Seun kan vergewe, kan Hy enige sonde vergewe (Luk. 23:34, 1Tim. 1:15).

Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n afvallige man wat so vergewe is. Hy was ‘n toegewyde Christen, maar het met ‘n slegte vrou deurmekaar geraak. Hy het sy vrou gelos, die huis onder haar uitverkoop, en die geld gemors. Toe die geld op is, toe die los die slegte vrou hom.

Hy was baie depressief en het geglo dat selfmoord die enigste uitweg is. Hy het na Westminster brug toe geloop en besluit om in die Teemsrivier te spring. Toe hy by die brug kom toe slaan Big Ben 18:30. ‘Martyn Lloyd-Jones will now be just entering his pulpit for his evening service,’ het hy vir homself gesê. Hy het besluit om nog een keer na hom te luister voordat hy sy lewe beëindig.

Hy was binne 6 minute by Westminster Chapel. Toe hy by die kerk instap toe hoor hy hoe Lloyd-Jones hierdie woorde bid: ‘God have mercy upon the backslider.’ Die Here het die man onmiddellik herstel en vergewe. Hy het later ‘n ouderling in ‘n gemeente in Londen geword, en vir ‘n aantal jare getrou gedien. Daarna het hy in oorwinning gesterf en is hy hemel toe [Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers (Grand Rapids: Zondervan Publishing House, 1971), 302-303].

God is bekend vir sy genade aan afvalliges: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” (42:3).

[c] Sing tot Hom (v.23)
‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê dat dit ‘n probleem is as mense na die kerk toe kom maar nie sing nie. Volgens hom is dít erger as iemand wat ‘n minder belangrike leerstelling verkeerd glo. ‘Dit is ‘n geestelike probleem,’ het hy gesê.

Ek is geneig om saam met hom te stem. Die hele skepping (bome ook, vgl. v.13-14!) sing omdat God dit gedoen het: Hy het sy volk verlos (v.23, Ps. 22:32, 148:1-14, Joh. 19:30, Op. 5:9-14). En kan die verlostes dan stilbly en Hom nié prys nie (v.23, Ef. 1:6, 12, 14)?

Moet asb. nie prewel wanneer jy die Here prys nie. Moenie stilbly as ons sing nie. Vra ook die Here se hulp dat jy nie dagdroom as ons sing nie. Sing uit jou hart en met blydskap tot die Here (Ps. 95:1-2). Gebruik alles wat jy het om Hom te prys (Ps. 150).

Pasop ook vir ‘n verkeerde gesindheid wat sê: ‘Ek sing nie saam as dit Engels is nie… Ek sing nie as dit ‘n ou lied is nie… Ek sing nie as ons nuwe liede sing nie… ens.’ Sing asb. saam as die lied Bybels is en die wysie nie afbreek doen aan die woorde nie. God juig en sing oor jou (Sef. 3:17). En sal jy dit nie oor Hom doen nie (Sef. 3:14)?

2. Wat doen die Here vir jou? (v.24-28)

[a] Hy het jou en alles geskep (v.24)
Ek verpes ‘n sentimentele, mens-gesentreerde, oppervlakkige, Facebook Christenskap waarin die mens die belangrikste is. God het alles tot sý eer en vir sý plesier geskep (Ps. 19:2, Op. 4:11). En tog vergeet Hy ons nie, maar het Hy alles geskep sodat ons dit kan geniet. “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” (Ps. 115:16).

Hy het Israel in die moederskoot gevorm (v.24, kontra v.12-13). Hy het ook die hemel, die aarde en alles in die skepping gevorm (v.24, 42:5, 40:22). Hy het voor Gen. 1:1 bestaan en dus sonder die hulp van ‘n engel, afgod of mens geskep (v.24).

Soos die Here Israel geskep het (v.24), het Hy jou in die moederskoot gevorm (Ps. 139:13). Hy het jou vir Homself geskep, maar a.g.v. jou en my sonde leef ons vir onsself en nie tot sy eer nie (Rom. 3:23). As Hy wou kon Hy ons afskryf. Hy het egter ‘n plan gemaak om ons te red. Deur sy lewe en kruisdood het Hy die straf gevat wat ons verdien, en die rekord voorsien wat ons kort (2Kor. 5:21).

Hy wederbaar ons, stel ons instaat om te glo en ons te bekeer, verklaar ons onskuldig en regverdig, vergewe ons, neem ons aan, maak ons heilig, en kry die hemel vir ons gereed. Jy behoort dus twee keer aan die Here: deur skepping en verlossing. Kan jy dan nog vir jou sonde en jouself lewe?

Nog ‘n woord van toepassing: sal jy vir ‘n polieke party stem wat geen respek toon vir die lewe wat God in die moederskoot vorm nie, maar dit deur aborsie beëindig? Op grond van die Skrif wil ek jou aanmoedig om nie vir sulke partye te stem nie. “[Moenie] met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” (1Tim. 5:22).

[b] Hy verkleineer waarsêers (v.25)
Toe ek ‘n student was het ‘n charismaat geprofeteer dat ons gemeente binne twee jaar sou verdubbel. Twee jaar later het die kerk geskeur. God verneder sulke mense deurdat hulle voorspellings nie uitkom nie (v.25). Die Here wil wys dat Hy en nie hulle nie, die toekoms beheer (43:22-23). Hy wys dat hierdie sg. wyse manne se kennis niks is nie (v.25, 1Kor. 1:19-20).

Moet dan nie wysheid oor die toekoms by ‘n ongelowige berader, palmleser, jou sterretekens, ens. soek nie. Soek eerder wysheid in gebed en die Woord. Alle kennis en wysheid is immers verborge in God en sy Seun (8:19-20, Spr. 2:6, 1Kor. 1:24, 30, Kol. 2:3).

[c] Hy vervul sy Woord (v.26-28)
Die amptelike webblad van die Ahmadiyya Moslem gemeenskap glo dat die Koran akkuraat profesieë bevat. Maar wanneer jy dit lees is beide die profesieë en sg. vervullings vaag.

Die webtuiste haal bv. Sura 41:21 aan en sê dat dit vingerafdrukke voorspel: ‘Their skins will bear witness against them as to what they have been doing’. Hulle sê ook uit Sura 51:8 (eintlik 51:7) dat die Koran vliegtuie voorspel: ‘And by the heaven full of tracks’ [https://www.alislam.org/library/articles/fulfilled-prophecies-of-holy-quran/].

Die Bybel is nie vaag nie, maar voorspel en vervul dinge tot op die letter (v.26). Jesaja het bv. voorspel dat Israel ná die ballingskap weer in Jerusalem sou bly, asook dat die verwoeste stede van Juda herbou sal word (v.26).

Net soos wat God die Rooi See en Jordaan rivier opgedroog het toe Hy sy volk uit Egipte verlos en in die Beloofde Land inlei, sou Hy koning Kores van Persië stuur om Israel uit Babilon te bevry (v.27-28). God het Kores se naam en missie 150 jaar voor hy gebore is voorspel (v.28, vgl. 1Kon. 13:2)!

Kores was God se herder wat Israel uit Babilon bevry het, net soos wat Moses en Aäron die volk soos skape uit Egipte gelei het (v.28, Ps. 77:21). Volgens Jesaja sou Jerusalem en die tempelfondasie onder die bevel van Kores herbou word (v.28). Dit is 150 jaar na Jesaja in Esra en Nehemia se tyd vervul.

Sover ek kan sien is daar in hierdie verse drie lesse wat uitstaan:

  • Die Bybel is akkuraat en betroubaar (v.26, 28). God lieg nie, maar doen wat Hy belowe (Num. 23:19). Lees daarom jou Bybel sonder om te twyfel.
  • God beheer konings (v.28). “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spr. 21:1, vgl. Esra 1:1, 6:22, 7:27). Moenie vir Julius Malema vrees nie.
  • God beheer die geskiedenis om sy volk te bevoordeel, al lyk dit nie altyd so nie (v.28). Rom. 8:28 (‘Alles werk ten goede mee…’) geld nie net vir individuele gelowiges nie, maar vir die kerk in haar geheel.

Jesaja en die res van die Bybel fokus nie op wat jy vir die Here kan doen nie. Jy moet eers leer wat Hy vir jou gedoen het voordat jy daarop kan reageer. Dit is bv. wat Paulus in Romeine doen. Vir 11 hoofstukke wys hy wat God vir ons gedoen het. Eers in Rom. 12:1 sê hy hoe jy daarop moet reageer:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”

Drie besware teen Paulus se evangelie van GELOOF ALLEEN

Sola Fide

Regverdigmaking deur die geloof is ‘n groot term. Hoe verduidelik jy dit vir ‘n 6-jarige?

Toe John Piper se dogter 6 was het hy dit soos volg verduidelik. Iemand beroof ‘n bank. Die polisie vang twee verdagtes. Toe hulle in die hof verskyn, toe sê die publiek dat die eerste man nie skuldig is nie. ‘Ons het gesien dat hy nie die bank beroof het nie,’ het hulle gesê. Die regter verklaar dat hy onskuldig en regverdig is.

Oor die tweede man sê die publiek dat hulle gesien het hoe hy die bank beroof. ‘Hy is skuldig,’ sê hulle. Die regter verklaar die tweede man onskuldig en sê dat hy al die vryheid en voorregte geniet van iemand wat die landswette gehoorsaam [John Piper, Counted Righteous in Christ (Wheaton: Crossway Books, 2002), 28-30].

Hoe kan die regter dit doen? Is dit nie onreg nie. Die bank is syne. Hy het die tweede man se skade betaal en so die straf vir sy oortreding gedra. Hy het ook sy goeie en gehoorsame rekord aan die misdadiger toegereken.

Jesus is so en het ons straf aan die kruis gedra. Hy het ook sy goeie rekord vir ons gegee. Ons ontvang dit deur die geloof. Party mense wil nie hoor dat hulle geen aandeel het in hulle redding nie, en maak dus beswaar teen Paulus se evangelie van regverdigmaking deur die geloof alleen. Dit is die punt wat hy aanspreek in Rom. 3:27-31.

1. Dit impliseer dat ons goeie werke niks beteken nie (v.27-28)
Menno Simons (1496-1561) was ‘n Anabaptis tydens die Reformasie of Hervorming. Hy was sterk gekant teen Martin Luther se lering van regverdigmaking deur die geloof alleen. Hy het gesê dat dit sonde aanmoedig:

‘The Lutherans believe that faith alone saves, without any contribution from works. They emphasize this doctrine so much, it looks as if works were totally unnecessary… They start up a psalm, “The chain is broken, now we are free, praise the Lord!” while the beer and wine come running out of their drunken mouths and noses. Anyone who can simply recite this off by heart, no matter how sinfully he lives, is regarded as a good evangelical man and a brother!’ [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 2004), 282-283].

Na Simons se mening het mense meer sonde gedoen a.g.v. hierdie lering. Mense dink nog steeds so. ‘As ‘n mens hoor dat hy niks hoef te doen om reg te wees met God nie, sal hy sonde doen soos hy wil,’ is hoe hulle redeneer.

Ander dink weer dat genoeg goeie werke hulle sonde neutraliseer. Ek het eenkeer met so iemand gepraat. ‘Ek weet ek drink te veel,’ het hy gesê, ‘maar wat van al die goeie dinge wat ek vir mense doen wanneer ek nié dronk is nie.’

Ek het vir hom gesê dat sy goeie werke nie sy sonde uitkanseleer nie, net soos wat ‘n regter nie die moordenaar vrylaat omdat hy baie goeie dinge gedoen het nie. ‘n Honderd goeie dade kan nie die moordenaar se misdaad uitvee nie.

Goeie werke kan nie iemand se redding verdien nie. Verlossing kom deur Jesus wat die wet in ons plek gehou het, en ons straf aan die kruis gedra het (v.27, 2Kor. 5:21). Ons moet dit deur die geloof ontvang (v.28).

Party mense aanvaar dat redding deur geloof kom, maar wil hulle goeie dade byvoeg: die besnydenis, ‘n streng navolging van die Ou Testament feeste en voedselwette, die doop, die onderhouding van die Sewendedag Sabbat, tiendes, getroue kerkbywoning, boetedoening, ens.

Paulus sê egter dat redding deur die geloof alleen is sonder die werke van die wet (v.28). Hoekom wil mense buitendien hulle werke byvoeg as redding deur die geloof alleen is en niks kos nie?

Hulle is trots. Hulle wil nie erken dat hulle niks tot hulle redding kan bydra nie. Hulle wil hulle werke byvoeg en in hulleself roem. Maar by God kan jy nie roem nie (v.27, Ef. 2:8-9). Jy kan net in Jesus en sy kruisdood roem (1Kor. 1:31, 2:2, Gal. 6:14).

Jy kan nie eers in jou geloof roem asof dit jóú werk of bydrae is nie, want selfs dít kom van God af (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Iemand wat in sy geloof roem, is soos ‘n persoon wat in sy nuwe tuinslang roem en sê dat dit sy blomme laat groei het. Geloof is die tuinslang en nie die water nie. Roem daarom in Jesus en nie in jou geloof nie.

Moet ook nie geloof herdefinieer en sê dat dit net ‘n kopkennis van Jesus en die evangelie is nie. Die duiwels glo ook (Jak. 2:19). Geloof is meer as net ‘n kopkennis. Om te glo beteken dat jy die feite van die evangelie glo, die belofte van God se vergifnis glo, berou het oor jou sonde, jou daarvan bekeer, op Jesus vertrou en na Hom toe kom (Joh. 6:35). Geloof sluit nie goeie werke in nie, maar dit lei daartoe (v.28, Ef. 2:10, Jak. 2:14-26).

Enige ander ‘evangelie’ is vals en eindig in die hel (Gal. 1:8-9, 5:4). Soek daarom geloof, want as jy geloof het kry jy Jesus. In Hom kry jy die hemel en kan jy reg wees met God. Bid vir geloof en bekering, sodat jy Jesus se meriete en God se vergifnis kan kry. Saam met God se vergifnis kom ‘n skoon gewete, vrede, blydskap en rus. Moenie langer jou rus soek in bakleiery met ander, vlug vir jou probleme, slaap, drank, mense se applous, die wet, ens. nie.

Vind jou rus in Jesus: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:28-30).

2. Dit beteken dat die Jode nie spesiaal is nie (v.29-30)
Toe die land begin verander kon swart mense na die dorp swembad toe kom, en het hulle na ons skool toe gekom. Ons was arrogant en het gemaak of dit ons swembad en skool is.

Die Jode was so oor God en het gesê dat Hy net húlle s’n is (v.29). Paulus het egter gesê dat God die Jode en heidene gemaak het (v.29). Net soos wat Hy die Jode uit Egipte gered het, het Hy die heidene voor hulle gered: al die gelowiges van Adam af tot by Abraham, Rut, Ragab, ens. Is daar ‘n ander God as die heidene nie dieselfde Een het as die Jode nie? Nee. Daar is net een God (v.30, Deut. 6:4, Jes. 44:6).

Om reg te wees met God moet die Jode in Hom glo (v.30). Hulle kan nie reg wees met Hom deur die verbond, die wet of die besnydenis nie (v.30). Net so moet ook die heidene reg wees met God deur die geloof, al is hulle nie besny nie (v.30). “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.” (Gal. 6:15).

Stuart Olyott sê: ‘In God’s eyes you are no longer a Jew or a Gentile. You are either a saved sinner, or a lost one.’ [Stuart Olyott, The Gospel As It Really Is (Darlington: Evangelical Press, 1979), 34]. Die vraag wat jy jouself dan moet afvra, is of jy ‘n geredde of ‘n verlore sondaar is. Dit gaan nie daaroor of jy Afrikaans, konserwatief, in een van die susterskerke,  van kleins af ‘n Baptis, of jy gedoop is en of jy in tale praat nie.

Dit gaan nie eers daaroor of jy ‘n geestelike ervaring gehad het nie. Wat help jou ervaring jou as jy nie in Jesus alleen glo nie, as jy nog nie jou sonde gelos het nie, as jy nie reg is met God nie, as jy nie vergewe is nie, en as jy nie ‘n rein gewete het nie?

Die bg. redenasie geld ook vir die doop (of jy nou as grootmens of baba gedoop is). Jy is nie outomaties reg met God omdat jy gedoop is nie. Die evangelie van geloof alleen beteken dat die doop nie kan bydra tot jou redding nie.

‘n Vriend van my het met iemand gepraat wat glo dat jy gedoop moet wees om hemel toe te gaan. Hy het m.a.w. nie geglo in regverdigmaking deur die geloof alleen nie.

Kontrasteer dit met ‘n tannie in ons gemeente. ‘n Paar maande gelede het sy vir my gesê: ‘Hoe wéét jy jy is gered? Die enigste antwoord wat ons kan gee is dat Jesus vir ons gesterf het. Alles gaan net oor Jesus; dit is al.’

Dan is die bordjie wat ek by iemand se huis gesien het verkeerd: ‘Enter heaven by sanctification, not by justification.’ In Afrikaans: ‘Kom in die hemel deur heiligmaking en nie deur regverdigmaking nie.’

Heiligmaking volg op en vloei uit regverdigmaking. Maar niemand sal op die oordeelsdag regverdig verklaar word a.g.v. sy heiligmaking nie. In gewone Afrikaans: jy sal nie die oordeelsdag slaag omdat jy heilig genoeg was nie. Die redding wat jy hier en op die oordeelsdag geniet is uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen. Heiligmaking is die gevolg daarvan en nie die oorsaak nie.

Dadelik is daar ‘n beswaar…

3. Dit beteken dat die wet onnodig is (v.31)
Deur die geskiedenis het die kerk vergaderings oor verskillende leerstellings gehou. In 325 n.C. was daar ‘n baie belangrike vergadering in Nicea, en in 451 n.C. was daar nog ‘n belangrike een in Chalcedon. Daar was baie ander wat die geskiedenis verander het.

Tydens hierdie vergaderings het die gelowiges nie nuwe leerstellings uitgedink nie, maar bevestig wat ons nog altyd glo. Hulle het o.a. met kwessies soos Jesus se Godheid, die aard van sy menslike natuur, die Heilige Gees as God, ens. gestoei.

Die heel eerste van hierdie vergaderings is in Jerusalem gehou (Hand. 15). Daar het dit oor die evangelie gegaan. ‘Hoe kan ‘n mens reg wees met God?’ is die vraag wat hulle wou beantwoord. Red die Here ons deur die geloof alleen, of deur die geloof plus ons goeie werke? Die vergadering se slotsom was dat God ons deur die geloof alleen red sonder die werke van die wet. Dit is presies wat Paulus in boeke soos Romeine en Galasiërs leer.

Maar raak ons nie daardeur van die wet ontslae nie? Glad nie. Inteendeel, ons verhef en bevestig die wet (v.31). As God ons deur die wet red beteken dit dat Hy tevrede is met ons halwe en onvolmaakte pogings van gehoorsaamheid, en dan gooi Hy ook ‘n blinde oog vir ons oortreding van die wet.

Maar as Hy ons deur die geloof red, dan verhef Hy die wet (Jes. 42:21). Hoekom sê ek so? God vereis dat ons die wet 100% moet nakom, en vereis ook dat dié wat die wet oortree gestraf moet word (Gal. 3:10).

Jesus het die wet volmaak onderhou en die straf vir ons oortreding gedra. As jy in Jesus glo aanvaar God sý gehoorsaamheid en straf in jou plek. Op hierdie manier hou God die wet hoog, en maak Hy dit nie goedkoop soos die boodskap van redding deur goeie werke nie (v.31, 7:12).

Het die wet dan nog enige rol in die Nuwe Testament? Ja.

[a] Dit is ‘n spieël waarin jy jou vuil hart en lewe sien. Gebruik daarom die wet wanneer jy met mense oor Jesus praat. Solank as wat iemand glo dat hy skoon is, sal hy nie sy nood sien vir Jesus wat sy sonde moet wegwas nie.

[b] Dit is ‘n snoet of muilband [Eng. muzzle] wat mense se sonde terughou. Vat bv. ‘n land waarin die moordsyfer afneem wanneer die regering die doodstraf reg toepas.

[c] Dit is ‘n padkaart in die Christen se hart. Die Heilige Gees gebruik dit om te wys hoe jy God en jou naaste moet liefhê (8:4, 13:9-10, Matt. 22:37-40).

[d] Dit is ‘n teleskoop waardeur jy God se karakter sien. ‘Jy mag nie moord pleeg nie’ wys dat God lewe gee. ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie’ wys dat Hy rein is. ‘Eer jou ouers’ wys dat Hy ons Vader is. ‘Jy mag geen vals getuienis aflê nie’ wys dat Hy waarheid is.

Wat moet jy in die lig hiervan met die wet doen? Meet jouself daaraan. As jy afgode dien, God se Naam en dag minag, jou ouers nie eer nie, moord pleeg (selfs in jou hart), egbreuk pleeg, steel, leuens vertel en gierig is, is God se wet nie in jou nie (8:4). Jy is m.a.w. nie weergebore nie (Eseg. 36:25-27).

Wat moet jy hieraan doen? Moenie dink jy kan jou hart vir Jesus gee nie. Vra eerder dat Hy vir jou ‘n nuwe hart sal gee. Glo in Jesus en sy kruisdood vir sondaars. Bekeer jou, bely jou sonde en ontvang God se vergifnis.

As jy gered is moet jy die wet en Bybelse opdragte oordink om God beter te ken en jouself in die spieël te sien. Lees die wet, sodat jy kan weet wat die Here tevrede stel. Bid dat die Heilige Gees jou sal help om dit te doen. Doen wat die wet sê, omdat jy die Here wil verheerlik en nie omdat jy jouself wil regverdig nie.

Wys vandag se preek miskien dat jy nie gered is nie, dat jy in Jesus moet glo en dat jy jou moet bekeer? Wys dit dat jy afgedwaal het en na die Here toe moet terugkeer? Wys dit ‘n sonde uit wat jy moet bely? Wys dit dat jy jouself opnuut aan die Here moet toewy? Wys dit vir jou iets wat jy vir jouself of iemand anders moet bid? Wys dit iets waarvoor jy die Here moet dank en prys? Doen wat die Here vir jou wys.

Om net te dink jy moet beter doen is nie genoeg nie. Dit is selfs nie genoeg as jy probeer om te verander nie. As jy dit doen werk jy in jou eie krag, en sal dit vir een of twee weke hou en dan ophou. Maak eerder seker dat jy met die Here praat oor wat jy vandag gehoor het. As jy dit doen het ek my doel bereik.

‘The purpose of every sermon is to get the people in front of you to pray.’ (Stuart Olyott).

Mense se afgode en die God van die Bybel

True God and idols

Is dit moontlik dat ‘n nuwe Christen in China versoek kan word om voor ‘n afgodsbeeld te buig, hulp te vra, en dan later berou te hê? Nee? Wat van Christene in die weste wat versoek word om ‘n afgod te maak van geld, plesier, gemak, kos, ens.? Paulus praat in Kol. 3:5 van “gierigheid, wat afgodediens is”.

Paul Tripp vertel van ‘n ervaring wat hy in Indië gehad het. Hy het gesien hoe mense voor ‘n groot afgodsbeeld buig. Dit het hom ontstel. Hy het na sy kar toe gehardloop en vir die Here dankie gesê dat hy nie so is nie. Die oomblik toe hy dit sê, toe tref dit hom: ‘Jy is presies so.’ Hy het besef dat sy gode nie in die vorm van ‘n klip beeld is nie, maar dat hy ook versoek raak om afgode te maak.

Ek sê nie dat ons vir afgode lewe nie, maar die ou sondige natuur neig daarheen. Jes. 44:6-20 wys hoe dom afgode is, en leer ons om die ware God te aanbid.

1. Die enigste God (v.6-8)
Monoteïste [mono beteken een en theos God] glo dat daar een God is. Politeïste [polu beteken baie] glo dat daar baie gode is. Die Romeine was politeïste en het bv. geglo dat Neptunus die god van die see is, Mars die god van oorlog, Venus die godin van liefde en Jupiter die oppergod. In ons tyd is Hindoes politeïste en Christene monoteïste wat die ware God aanbid. Wie is hierdie God?

[a] Hy is die soewereine Here van die hemelse weermag, die Koning van Israel (v.6, 43:15). Volgens die Nuwe Testament is Jesus die Koning van Israel (Matt. 27:11, 42, Luk. 1:32, Joh. 1:50, Fil. 2:11). Hy is m.a.w. die God van Jes. 44:6.

Wat is die implikasie hiervan? Mense wat die Vader sonder die Seun aanbid, aanbid ‘n afgod (1Joh. 2:23, 5:20-21, Joh. 14:6). Dus aanbid die Jode, die Moslems en die Jehova’s Getuies ‘n afgod.

[b] Hy is die Verlosser van Israel (v.6, 43:1, 14). Hy het sy volk uit Egipte en Babilon verlos. Hy het ook as Verlosser na die wêreld toe gekom om sy volk en die nasies te verlos (Matt. 1:21, Luk. 2:11).

As Hy ons Verlosser is, moet ons nie dink dat Hy aan die kruis maar net ons redding moontlik gemaak het, en gehoop het iemand glo nie. Nee, Hy is ‘n Verlosser wat regtig verlos. Deur sy dood het Hy sy skape en kerk se redding suksesvol gekoop en bewerk (Joh. 10:11, Hand. 20:28). Ken jy ‘n ander god wat so kan verlos?

John Blanchard het ‘n storie in hierdie verband vertel. Een Goeie Vrydag het hy na ‘n ander dorp toe gery om te preek. Oppad het hy ‘n paar jong manne in hulle sokker klere opgelaai. Die gesprek het gou na geestelike dinge toe gedraai.

‘Weet julle watse dag dit is?’ het hy gevra. ‘Ja, dit is Goeie Vrydag,’ het hulle geantwoord.

Blanchard: Weet julle wat op Goeie Vrydag gebeur het?
Seuns: Ja, Jesus het aan die kruis gesterf.
Blanchard: Weet julle hoekom Hy aan die kruis gesterf het?
Seuns: Hy het gesterf sodat ons vry kan wees van ons sonde.
Blanchard: En… is julle?
Seuns: Stilte.

‘n Jaar later het Blanchard op Goeie Vrydag by dieselfde kerk gaan preek. Na die diens toe kom daar ‘n jong man na hom toe. ‘Onthou jy my?’ het hy gevra. Blanchard kon hom nie plaas nie. ‘Ek is een van die jong manne wat jy verlede jaar op Goeie Vrydag opgelaai het. Jou woorde het my gepla, en ek het kort daarna tot bekering gekom.’

Is Jesus jóú Verlosser; is jý van jou sonde verlos?

[c] Hy is God, die Eerste en die Laaste. Hy is die Eerste uit wie alles ontstaan het, en die Laaste vir wie alles bestaan (v.6, 41:4, 48:12, Rom. 11:36). Volgens Kol. 1:16, Op. 1:17, 2:8, 22:13 is Jesus die Eerste en die Laaste deur wie alles ontstaan het, en vir wie dit bestaan.

Jesus is m.a.w. die God van Jes. 44:6. Merk dit in jou Bybel, sodat jy nie verward raak wanneer die Jehova’s Getuies weer vir jou sê dat Jesus nie God is nie. Moenie aan Jesus se Godheid twyfel nie, maar aanbid Hom met vrymoedigheid.

[d] Daar is geen god buiten Hom nie (v.6, 8, 43:10b, 1Kor. 8:4-6). Ons glo in Een God en nie in drie gode soos wat die Moslems sê nie (v.6, 8). En tog glo ons nie soos Oneness Pentecostalism dat God net een Persoon is nie.

Volgens Matt. 3:16-17, 28:19 is God drie Persone: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. God is m.a.w. Een, maar ook Enig [Deut. 6:4, Heb. ‘echâd]. Die Vader is God (Ef. 4:6). Die Seun is God (Joh. 1:1, Rom. 9:5, Kol. 2:9, Heb. 1:8). Die Heilige Gees is God (Hand. 5:3-4, 1Kor. 2:10-11). En tog is daar net een God (v.6, 8).

Michael Reeves sê dat God voor die skepping eensaam sou wees as Hy net een Persoon was. Hy sou niemand gehad het om lief te hê voor die skepping nie. As Hy net een Persoon was, dan het Hy die wêreld geskep omdat Hy ons en die skepping nodig het, en omdat Hy liefde soek.

Maar as God nog altyd drie Persone was het Hy voor die skepping volmaakte liefde in die Drie-Eenheid geniet. Hy het vervulling in Homself beleef voordat Hy die wêreld gemaak het. Die liefde en lewe tussen die Vader, die Seun, en die Heilige Gees het oorgeloop toe God die wêreld maak. Hy het ons nie geskep, omdat Hy ons nodig gehad het of eensaam was nie, maar vir sy eie plesier en tot sy eer (Op. 4:11, King James Version).

Ons geniet die voordele van ‘n God wat nie die lewe uit jou suig nie, maar wat oorvloedig en uit liefde gee. In sy groot liefde gee Hy sonskyn, reën, familie, vriende, die huwelik, kos, werk, vakansie, speel, warm klere, diere, die see, sy Seun, die Heilige Gees, die Bybel, die kerk, ens.

Die Drie-Eenheid is dus nie net ‘n teorie wat niks verander nie. Dit verander alles. Die Heilige Gees kommunikeer die Vader en die Seun se liefde en lewe aan jou hart. Jy ontvang dit deur die geloof, en geniet dit deur die Woord, die gemeenskap van gelowiges en gebed (Joh. 14:23, 17:3, Rom. 5:5, Ef. 2:18, 3:16-19, 4:4-6, 2Pet. 1:4, 1Joh. 1:3).

[e] Niemand is soos die Here nie: Hy is uniek, heilig en een-van-’n-soort (v.7, 40:18, 25). Kan enige van die gode soos Hy ‘n volk van ouds af kies en red (v.7)? Kan hulle die toekoms voorspel (v.7, 41:22-23)? Laat hulle dit asb. wys (v.7). Israel kon getuig dat Jahwe dinge uit die ou dae voorspel en vervul het: Hy is die ware God (v.8, 43:10-12).

Omdat Hy die toekoms beheer hoef ons nie daaroor te stres nie (v.8, 46:10, Ps. 139:16, Matt. 6:34). God is ewig en buite tyd – jy nie. Jy kan nie in môre lewe en dit verander nie. Die Here kan, omdat Hy die toekoms beheer en bepaal. Glo en vertrou Hom dan vir die dag van môre.

God sal aan jou die krag gee om regte situasies in die hede te hanteer. Maar Hy sal jou nie die krag gee vir dinge wat jy in jou verbeelding oor die toekoms opmaak nie. Glo dus dat die Here vir jou genoeg krag sal gee vir vandag, en moenie in die toekoms lewe nie.

[f] Hy is die Enigste Rots (v.8, Deut. 32:4, 1Sam. 2:2, Ps. 18:3, 19:15, 62:3, 7-8). Hy is nie onbetroubaar soos die afgode nie, maar vaster as Ayers Rock in Australië wat 3.6 km x 2.4 km x 348 m is.

Jesus is hierdie Rots (8:14, 1Kor. 10:4, 1Pet. 2:8). Bou op Hom deurdat jy sy Woord gehoorsaam (Matt. 7:24). As jy dit doen sal dit jou help in ‘n land vol onsekerheid. Die ekonomie is onseker, asook die politieke situasie, jou werk, jou kinders se tersiêre opleiding, boere se plase, reën, ens. Maar die Here is ‘n hoë Rots wat jou uit die modderslyk red en jou voete op Hom plaas (Ps. 40:3, 61:3).

2. Mense se afgode (v.9-20)
Ek het eenkeer met ‘n man oor sy drank probleem gepraat. Hy het gesien hoe dit sy huwelik, kinders, familie en lewe opmors, maar het daarmee aangehou. Hy het besef dat dit ‘n probleem is, maar het gou bygevoeg: ‘Darem is ek nie verslaaf nie; ek is nie ‘n alkoholis nie.’

Sy afgod het hom mislei. So gebeur dit met enigiets waarvan ons ‘n afgod maak: jy wil dit beheer om jóú te dien, maar op die einde beheer dit jou. Dit is die punt van v.9-20: afgode kan jou nie red soos wat die Here kan nie, maar dit maak van jou ‘n slaaf.

Afgode en dié wat hulle maak is niks (v.9). Mense kan nie getuig van enige hulp of voordeel wat afgode vir hulle bring nie (v.9). Hulle is stom en staan beskaamd as jy hulle hieroor vra (v.9, 11). Die afgode is goed vir niks en in tye van nood laat hulle mense in die steek (v.10-11).

Dit kan nie anders nie, want die ambagsman wat hierdie god maak is net ‘n mens (v.11). Hy is ‘n ystersmid wat yster in die kole sit, met ‘n hamer en sy sterk arm op die aambeeld slaan en die god vorm (v.12). Hy raak moeg, honger, dors, flou, uitgeput, en sloof hom af om die god te maak (v.12, sien 40:28, 31!).

Die timmerman span ‘n lyn, merk met ‘n potlood, meet met ‘n passer, vorm die god en skaaf dit (v.13). Hy vorm ‘n god wat soos ‘n mens lyk en maak tot ‘n huisie vir hom (v.13, kontr. Deut. 4:12, 15-16, 2Kron. 2:6, Joh. 4:24, Hand. 17:28-29).

Hy plant ‘n seder, eik of sipres, en soek reën vir sy boom by die god wat hy wil maak (v.14)! Hy kap die boom af, gebruik ‘n stuk daarvan om ‘n lekker kaggel vuur te maak (Ah!), brood te bak en vleis te braai (v.15-17).

Hy vat die res om ‘n god te maak, buig voor dit, en vra dat die god hom moet red (v.15-17)! Afgodery maak ‘n mens blind en dom, sodat jy nie besef dat jy die gruwelike beeld se ‘tweeling’ tot as verbrand om kos te maak en hitte te kry nie (v.18-20)!

Afgodery bedrieg en mislei mense, sodat hulle nie kan sien dat die beeld in hulle regterhande hulle nie kan red nie, maar dat dit ‘n leuen is (v.20, 17, Jer. 17:9). Afgodery is m.a.w. baie subtiel en vang selfs Christene. Jy dink dat geld, pornografie, drank, pille, baie likes op Facebook, status, applous, kos, ens. jou gelukkig sal maak en dat jy dit kan beheer.

Maar op die einde bring dit hartseer en beheer dit jou. Vat bv. man wat vroue verafgod. Hy kyk pornografie vir sy eie plesier. Om te verhoed dat hy uitgevang word, kyk hy dit wanneer sy vrou slaap. Omdat hy laat wakker bly, is hy moeg by die werk en raak sy werk agter.

Hy voel ook skuldig en depressief, en drink dan anti-depressante om beter te voel. Hy kyk nog pornografie. Maar om dit net te sien is nie genoeg nie. Hy soek meer en flirt by die werk. Daarna soek hy meer. Uiteindelik raak hy betrokke in ‘n immorele verhouding.

Hy is bang dat sy vrou sal uitvind en lieg oor hoekom hy laat uitbly. Hy is bang sy sal uitvind hy lieg. Die stres maak dat hy fisies siek word. Hy verloor geld en tyd, omdat hy dokter toe moet gaan. Dit gebeur gereeld. Sy baas raak ongelukkig, omdat hy nie by die werk is nie.

Sy werk kom in die gedrang. Hy werk op ‘n kommissie basis, en verloor geld omdat hy gedurig a.g.v. siekte nie by die werk is nie. Hy vat geld uit die kleinkas en dink dat hy dit later sal terugsit. Sy baas vang hom uit en dank hom af. Hy lieg vir sy vrou oor wat by die werk gebeur het. Na ‘n paar maande kom die hele lelike storie uit. Sy lewe, huwelik en gesin val uitmekaar.

Afgode maak ‘n mens moeg en tap jou krag (v.12). Dit vang jou in ‘n strik waaruit die afgod jou nie kan red nie (v.20, 17, Spr. 5:22, Joh. 8:34). Die Here sal jou aan hierdie afgode oorgee as jy hulle bo Hom kies (v.18, 6:9-10, 2Tess. 2:11). Hy het jou lief en wil hê jy moet besef dat die afgod hartseer veroorsaak en jou nie kan help nie (Jer. 2:19). Sy doel is dat jy die afgod moet los en na Hom toe moet terugkeer.

Moenie soos ‘n man wees wat ek geken het nie. Toe hy uitgevang word is sy trots gewond en het hy sy lewe geneem. Vra eerder vir Jesus om jou van die eintlike probleem te red, nl. jouself. Dit is die senter van afgodery. As jy die ware God aanbid fokus jy op Hom, maar as jy afgode aanbid fokus jy op jouself.

Die wêreld hits dit aan en sê vir jou dat jý die belangrikste is (2Tim. 3:2). Vergeet jouself en volg vir Jesus (Luk. 9:23, 14:26). Net Hy kan jou oë oopmaak om deur die afgod se leë beloftes en leuens te sien; net Hy kan jou vrymaak (v.18, 20, 42:7, Joh. 8:32, 36, 2Kor. 4:4-6).

Maar wat van ‘n ongelowige wat dit regkry om ‘n afgod soos dwelms sonder Jesus se hulp te los? Ek ken ‘n ongelowige wat aan drank verslaaf was en opgehou het. Wat van sulke mense?

Hulle is nie vry van hulleself nie, maar het bloot die afgod verskuif. Dink bv. aan iemand wat dwelms los, en dan ‘n afgod van oefening en ‘n mooi liggaam maak. Net Jesus (deur sy kruisdood en opstanding) kan iemand vrymaak. Kom na Hom toe, erken met berou dat jy gesondig het, en roep uit dat Hy jou sal help. Dan sal ander mense ook sien dat jy jou soos die Tessalonisense “van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1Tess. 1:9).