Lewe voor Pinkster

Vatican Pope Doves

In Rom. 7:14-26 praat Paulus van ‘n man wat reg wíl doen, maar nie die vermoë het nie en aanhoudend misluk. Wie beskryf Paulus hier? Ek glo hy beskryf Ou Testament gelowiges wat geleef het voor Jesus die Gees uitgestort het op Pinkster, terwyl hy in Rom. 8 ‘n Nuwe Testament gelowige se lewe beskryf, noudat die Gees uitgestort is en permanent in ons woon.

Ek het nie Rom. 7 so verstaan voor ek dit hierdie week bestudeer het nie, maar van die sienings wat ek oorweeg het, maak dit nou vir my die meeste sin. Wat is die verskillende sienings? Daar is basies twee groepe.

[A] Rom. 7 beskryf ‘n gelowige wat teen die sonde stry. Geen ongelowige begeer gehoorsaamheid en haat die sonde nie (v.15, 18, 19). Hy is lief vir sy sonde en geniet dit. Geen ongelowige sê dat daar niks goed in hom is nie (v.18). Hy dink eerder dat hy nie so sleg is nie. Geen ongelowige kan sê dat hy God se wet in sy hart liefhet nie (v.22). Hy haat dit en wil dit nie doen nie (8:7-8). Geen ongelowige wil vry wees van die liggaam wat sonde doen nie (v.24). Hy sal sonde doen, al is dit sy laaste dag op aarde (Jes. 22:13). Geen ongelowige dank en prys God deur Jesus Christus nie (v.25). Hy roem in homself en dink hy het nie die Here nodig nie.

[B] Rom. 7 beskryf ‘n ongelowige wat nog vas is in sonde. Geen gelowige kan beskryf word as vleeslik of verkoop onder die sonde nie (v.14). Hy is vry en nie meer onder die sonde nie (6:14, 18, 22, 8:2). Geen gelowige is magteloos om reg te doen nie (v.18). Deur die Gees se krag kán hy reg lewe (8:4, 13). Geen gelowige hou aan met sonde nie (v.19, 1Joh. 3:6, 9). Geen gelowige is ‘n slaaf in die tronk van sy sonde nie (v.23, 26). Geen gelowige leef sonder die Heilige Gees soos die man in hierdie verse nie. Hy wandel eerder in die Gees (Gal. 5:16, 25).

Onder die bg. twee groepe is daar variasies. Hier is ‘n paar.

  • Die man in Rom. 7 is elke Christen wat tot in die graf teen sy sonde sal stry. Hy beleef ‘n spanning in sy hart. Hy is nie wie hy was nie, maar hy is ook nog nie wie hy wil wees nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n vleeslike Christen wat nog nie met die Gees gedoop is om in die oorwinning van Rom. 8 te lewe nie.
  • Die man in Rom. 7 is iemand onder sonde-oortuiging. Sy gewete is ontwaak, maar hy is nog nie weer gebore nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n nuwe Christen wat nog nie die lewe van oorwinning deur die Gees verstaan nie. Hy wil nog deur die wet geheilig word.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n ongelowige Jood. Hy wil deur die wet gered word, maar misluk a.g.v. die sonde in hom.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n gelowige Jood voor Pinkster. Hy is lief vir die wet en wil dit doen, maar sy sonde keer hom. Na Jesus se kruisdood, opstanding, en die uitstorting van die Heilige Gees, lei die Gees hom om die wet gehoorsaam (8:1-4).

Soos reeds gesê glo ek nou dat die laaste siening Rom. 7 die beste opsom. Ek is oortuig dat Rom. 8 alle gelowiges na Pinkster beskryf.

 

  1. Onvermoë (v.14-20)

Sowat 10 jaar gelede het iemand my ‘n boek geleen met die titel, Let go and let God. Ek het die idee gekry van ‘n passiewe heiligmaking waarin jy net bid, wag en nie veel meer doen nie. As jy aktief optree doen jy dit immers ‘in die vlees’. Dit is Keswick-teologie waarin die Gees jou eensklaps verander en jy nie weer met hierdie of daardie spesifieke sonde sukkel nie.

Maar te veel tekste wys dat jy jou moet bekeer, die Here gehoorsaam, in goeie dade volhard, jouself moet dissiplineer, hard teen die sonde moet stry, en tree vir tree moet groei. Dit gebeur soms dat ‘n Christen sekere sondes in ‘n oogwink los. Dalk gebeur dit met die persoon se bekering of daarna. Maar dit is nie so vir almal of altyd so met elke sonde nie. Jy kan nie sê dat iemand wat hard teen ‘n sekere sonde stry ongered is, ‘n klas 2 Christen wat nie met die Gees gedoop is nie, ‘n Christen wat nog in Rom. 7 lewe i.p.v. in Rom. 8, of ‘n vleeslike Christen wat nog nie in oorwinning lewe nie. Dit mag wees dat die persoon wat teen sy sonde stry meer volwasse is as jy, want hoe nader ‘n gelowige aan die lig kom, hoe meer raak hy bewus van hoe vuil sy hart is, en hoe harder stry hy.

Maar aan die ander kant kan jy nooit jou sonde verskoon en sê: ‘Ek kan dit nie help nie en het nie die vermoë om reg te doen nie.’ Die onvermoë in v.14-20 is die onvermoë van ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, en nie van ‘n Nuwe Testament gelowige ná Pinkster nie. Dit beteken egter nie dat die wet is sleg nie. Dit is heilig, regverdig, goed, geestelik en van God af (v.12, 14, 16).

In die Ou Testament wou die vlees die wet breek en was mense as slawe verkoop onder die sonde (v.14, Gal. 3:22-23). In die Nuwe Testament is Christene nie onder die wet en die sonde nie, en gee die Gees aan ons die vermoë om reg te doen (v.14, 6:14, 7:4, 6, 8:4).

Onder die wet en voor Pinkster het Ou Testament gelowiges dieselfde begeerte gehad as ons om reg te doen, maar nie dieselfde vermoë nie (v.15, 18, 19). Dit is nie dat hulle boos was en die wet wou breek nie, maar die sonde in hulle harte het hulle verhinder (v.17, 20). Die Gees het nog nie permanent in hulle gewoon om hulle te help nie. Volgens Rom. 7-8 maak die Gees ‘n opmerklike verskil.

Jy kan nie onvermoë pleit soos die gelowiges in v.14-20 wat voor die kruis en Pinkster geleef het nie. Jy kan nie leef soos die dissipels in Hand. 19:1-7 wat nog nie die krag van die kruis en die Heilige Gees ervaar het nie. Ja, jy stry nog met die sonde, maar deur die Gees kán jy reg doen en dit oorwin (Gal. 5:16-26, kontra v.15, 19).

Jy is vry van slawerny aan sonde en die wet (v.14, 6:22). Nou het jy die vermoë om met die Gees se hulp sondige gewoontes soos ‘n kort humeur, ooreet, wellus en verslawing uit te gooi, soos wat Nehemia Tobia se meubels uit die tempel gesmyt het (v.18, 8:13). Die Gees verander jou hart in ‘n aanneemlike woning vir Jesus (Ef. 3:16-17). Met Jesus en die Gees in jou, het jy meer voorregte as gelowiges wat onder die wet en voor Pinkster geleef het. Dus kan jy met God wandel soos Henog en Noag, opreg wees soos Daniël en Job, lojaal soos Rut en Maria Magdalena, toegewyd soos Dawid, doelgerig soos Nehemia en vol van die Woord soos Esra. Jesus het gesê:

“Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” (Matt. 11:11).

Wat het Hy bedoel? Omdat hy Jesus se voorloper was, was Johannes die Doper die grootste van die Ou Testament profete (al is sy storie in die Nuwe Testament opgeteken). Maar ons leef na die kruis en Pinkster, en is dus meer bevoorreg as hy. Daarom kan jy wees soos ander gelowiges wat dieselfde Gees as jy het: Paulus vir wie Jesus alles was, Johannes wat Hom liefgehad het, Lidia wat ‘n oop hart gehad het, Stefanus wat vol was van geloof en die Heilige Gees, Timoteus wat ‘n goeie karakter gehad het.

Jy kan so biddend wees soos David Brainerd en Martin Holdt, so heilig soos Robert Murray M’Cheyne, so God-gesentreerd soos Jonathan Edwards en Martyn Lloyd-Jones, so lief vir verlorenes soos George Whitefield, Charles Spurgeon, Seth Meyers en Shaun Havenga. Jy kan so getrou wees soos oom Andries Rossouw, oom Malvin en tannie Ronell O’Donovan. Jy kan so vrolik wees soos tannie Gwen Bruwer, Heilet van den Berg, tannie Wilna Fourie, Ansi van der Westhuizen en Soné van der Westhuizen.

Jy kan so lief wees vir mense soos Jaco van Wyk, tannie Anna Engelbrecht, tannie Nellie Nel en Jannie Vosloo. Jy kan so ywerig wees om te leer soos oom Mike Fourie en Rex Jefferies. Jy kan so behulpsaam wees soos Van Zyl de Villiers en tannie Babs Grové. Jy kan so gasvry wees soos Koos en Gerdha van der Westhuizen. Jy kan so georden wees soos Jenna O’Donovan. Jy kan so wys wees soos Roelf Power, Deirdrè Jefferies, tannie Etrechia de Villiers en tannie Bessie van Rooyen. Ek kan aanhou, maar ek is seker jy kry die punt.

Met die Heilige Gees in jou sal jy op die einde soos Jesus wees (2Kor. 3:18, 1Joh. 3:2). Dit is tog waarvoor die Here jou gemaak het (Rom. 8:29).

 

  1. Oorlog (v.21-26)

Enige Christen wat sê dat hy nie in sy hart teen sonde stry nie lieg, of het laasweek tot bekering gekom. Tog glo ek nie dat dít die stryd is wat Paulus in Rom. 7 beskryf nie. Soos reeds gesê gaan dit hier oor iemand wat reg wíl doen, maar ‘n slaaf is onder die wet. Al persoon wat in hierdie kategorie val is ‘n gelowige wat voor die kruis en Pinkster geleef het. Hy is lief vir die wet en wíl reg doen, maar daar is ‘n beginsel in hom wat sê dat die sonde naby lê, dat dit sy liggaam gyselaar [Eng. hostage] hou en keer dat hy die heilige begeertes binne hom uitvoer (v.21-23, Ps. 1:2, 19:11, 112:1, 119:14, 16, 24, 35, 47-48, 70, 77, 97, 143, 174).

Dit frustreer hom: hy sien dat hy ‘n ellendige, verwronge en gebroke mens is (v.24). Hy wil vry wees van hierdie sterflike liggaam wat sonde doen (v.24). Wie kan hom vry maak? Volgens Paulus kan net Jesus hierdie frustrasie oplos (v.25). Deur sy kruisdood het Hy die sondige liggaam tot niet gemaak (6:6). Nou kan ons in ons liggame reg doen en die sonde oorwin (6:6, 13-14). Die Heilige Gees help ons om dit reg te kry (1Kor. 6:19-20).

Wanneer Jesus weer kom sal die Gees ook ons liggame opwek en dit nuut maak (8:11, 23). Hy sal vir ewig in ons woon, sodat ons nooit weer sonde doen nie. Dit is wat 1Kor. 15:44 met die ‘geestelike liggaam’ bedoel [Gk. pneumatikos, vgl. Gal. 6:1].

Ter opsomming sê Paulus in v.26 (v.25 in Engels): ‘Ou Testament gelowiges dien die wet in hulle gemoed, maar die sonde in hulle harte oortree dit.’ So eindig Rom. 7 dan sonder ‘n oplossing van hoe om die sonde te oorwin. Daar is ‘n flikkering van hoop in v.6 en 25, maar Paulus brei nie hierop uit nie. Sy punt in Rom. 7 is om te sê dat jy nie die sonde kan oorwin deur die wet te hou nie. Daar is iets (of eerder, Iemand) sterker as dit nodig: die Heilige Gees.

Maar daarvoor moet jy wag tot ons in hfst. 8 kom. Vir nou moet jy sorg dat jy nie lewe soos ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, asof daar geen kruis, opstanding en Pinkster is nie. Jy kan nie leef asof die Gees nie uitgestort is, en asof die keuse tussen sonde en gehoorsaamheid ewe sterk is nie.

Nee! Daar is nuwe beginsel wat in jou werk. Jy is ‘n nuwe mens. Die ou dinge is verby (2Kor. 5:17). Vir die gelowige is sonde nie deel van wie jy is nie. Dit is nié meer normaal, menslik of iets wat jy nie kan help nie. Dit is abnormaal. Gehoorsaamheid is normaal. Jy het nie net die Woord in jou hart lief, sonder dat jy die vermoë het om te doen wat jy in die prediking of in jou stiltetyd leer nie (v.22-23). Deur die krag van die Heilige Gees kan jy doen wat die Here sê.

Ja, die stryd teen sonde is hard. Maar die Gees in jou is sterker en heeltemal bevoeg, sodat jy jou sonde kan oorwin (8:13). Moenie kerm en kla dat jy nie jou sonde kan wen nie. Vertrou op die Heilige Gees en veg! Gee jouself hart en siel aan Jesus Christus. Leef in konstante gemeenskap met Hom deur geloof in sy Woord, deur gebed en deur die kerk. Jy kan onmoontlik dieselfde bly na dit. Kan jy vol wees van die Heilige Gees en nié verander nie?

Voor Pinkster was Petrus so bang soos ‘n hoender. Maar toe Pinkster aanbreek en die Gees hom vul, was hy so dapper soos ‘n leeu. En kan die Heilige Gees jou nie help teen hierdie of daardie sonde wat jou al vir jare onderkry nie? Luister: sonde kan nie wen nie. Soms wond dit jou in ‘n veldslag, maar die uitkoms is alreeds bepaal deur Jesus wat dit deur sy kruisdood oorwin het.

Ons misverstaan die Christelike lewe as ons sê dat die Here jou uit Egiptiese slawerny verlos het, jou nou in die woestyn lei waar sonde nog die oorhand kry, jou deur die Jordaan van die dood lei, en dat jy vir die Beloofde Land moet wag. Eintlik werk dit anders. Die Here het jou uit Egipte en die woestyn gebring. Jy het reeds die ewige lewe. Jy is tans in die Beloofde Land waar die Heilige Gees jou help om die vyand te verdryf. Wanneer jy finaal oorwin het, sal jy die ewige rus van die Beloofde Land geniet.

Ja, jy is nog nie in die hemel nie. Maar jy nie leef ook nie soos die Ou Testament gelowiges voor Pinkster nie. Jy leef nie meer in Rom. 7 nie. In die volgende preek sal ek jou wys dat Rom. 8 nie vir super-geestelike Christene is nie, maar dat dit die normale Christelike lewe beskryf. Rom. 8 is nie die uitsondering nie, maar die reël.

Wat wettiesisme so gevaarlik maak

Will work for salvation

Wat is wettiesisme? Dit is nie wanneer iemand sê hy kyk nie lelike films nie, hou by die spoedgrens, of gebruik nie alkohol nie. Dit gaan eerder oor iemand wat dink dat hy die hemel verdien, omdat hy die wet na die beste van sy vermoeë gehoorsaam.

Dit is soos iemand wat eenkeer vir my gesê het: ‘Ek wil die Tien Gebooie op my muur plak en dit elke dag lees, sodat ek my sonde kan oorwin.’ Dit is soos die Hebrew Roots Movement wat glo dat geloof in Jesus nie genoeg is vir redding nie. Volgens hulle moet jy die Ou Testamentiese wet volg en God se Hebreeuse name sê.

Maar God het nie die wet gegee dat dit jou kan red nie. Die wet se effek op die sondige begeertes in jou hart, keer dat dit gebeur. Rom. 7:7-13 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

  1. Dit maak sonde wakker (v.7-9)

Het jy al ooit No Rules skaatsplanke of klere gesien? Die naam laat my aan rebelse jongmense dink. Dit laat my aan ‘n seun dink wat saam met my op skool was. Hy het eendag vir die onderwyser gesê: ‘Rules are there to be broken.’

Party mense wat Rom. 7 lees, dink so oor die wet: ‘Ons het vir die wet gesterf. Die wet maak sonde wakker en bring die dood. Die wet is sleg. Om ‘n Christen te wees gaan oor ‘n verhouding met Jesus en nie oor die wet nie. Ons moet wegdoen met die wet.’ (v.7).

‘Nee!’ sê Paulus (v.7). ‘Die wet is nie sonde nie, maar wys wat sonde is en maak dit wakker’ (v.7, 3:20). Vat die tiende gebod as ‘n voorbeeld. As die wet nie gesê het: ‘Jy mag nie begeer,’ sou Paulus dit nie persoonlik so sterk ervaar het nie (v.7, Eks. 20:17). Maar toe hy die gebod oordink en besef wat dit beteken, toe kom sy sondige begeertes daarteen in opstand (v.8). Skielik het hy allerhande begeertes beleef, selfs dinge wat hy nie voorheen oorweeg het nie. Dit sou dalk dinge insluit soos:

  • Ontevredenheid en ondankbaarheidmet wat die Here hom gee.
  • Jaloesie oor ‘n ander man se lewensmaat, huis, salarisen
  • Dagdromeryoor hoe hy in die kollig is en almal hom prys.
  • Die verheffing van homself en ander dinge bo God (Kol. 3:5).

Die fout lê nie by die wet nie, maar by die sondige begeertes in ons harte. En tog is dit die wet wat die sonde in ons wakker maak en dinge in ons uitwys wat ons nie voorheen gesien het nie. Het jy al ooit gesê: ‘Ek kan nie glo dat ek dit gedoen het nie; dit is net nie ek nie’? Die waarheid is dat daar begeertes in jou hart wegkruip, en dat dit sigbaar word en in opstand kom sodra die wet sê: ‘Jy mag nie!’

Sedert die sondeval wil ons die wet oortree. ‘n Tweejarige kind sien bv. nie die muurprop in sy ouma se huis nie. Sy ma sê: ‘Jy mag nie daaraan vat nie!’ Skielik wil hy daaraan vat. As ‘n pa vir sy tiener sê: ‘Jy moet teen 22:00 by die huis wees,’ daag hy sy pa uit, wil hy weet hoekom, en sê hy dat dit ‘n dom reël is. Hy is bang vir die gevolge en is 22:00 by die huis, maar in sy hart is hy opstandig.

Soos Adam en Eva begeer ons verbode vrugte. Ons wil dit hê net omdat ons dit mag hê nie. Vat Augustinus (354-430 n.C.) as ‘n voorbeeld. Toe hy 16 was, toe steel hy en sy vriende een aand die buurman se pere. Toe hulle die boom skud het hope pere afgeval. Die pere het nie lekker gelyk of geproe nie. Nie een van die seuns was arm of honger nie. Hulle het die pere gehap en vir die varke gegooi.

Hoekom het hulle dit dan gesteel? Augustinus sê: ‘I did not care to enjoy what I stole but took pleasure in the theft and in sin itself… this we liked to do only because it was disliked by others.’ Hulle het m.a.w. gesteel, omdat hulle nie mag nie. Die verbod het die begeerte vir diefstal in hulle wakker gemaak (v.8). Sonder die wet lê sonde doodstil in ons harte (v.8). Vir ander mense lyk jou lewe skoon en dalk kom jy self nie eers agter wat in jou hart skuil nie. Van buite af lyk jou lewe soos die dun lagie skoon water op ‘n stagnante poel. Sodra ‘n paar stuitige jong olifant bulle egter in die poel instorm, word die modder wat op die bodem lê sigbaar.

Die wet is so en laat die modder van sonde wat in jou hart is opwel (v.8, 5). Die oplossing om jou lewe te verander is nie om die wet noukeurig te probeer nakom nie. Die wet sal die einste sonde wat jy wil oorwin in jou wakker maak (v.8).

Beteken dit dat ons moet sê: ‘Ons moenie ons kinders teen seks buite die huwelik en dwelms waarsku nie, want anders plant dit idees in hulle koppe… Soos in Nederland moet ons dwelms wettig maak, want dan sal mense dit nie misbruik nie… As jy jou kinders te veel van die Bybel leer, sal hulle dit haat… Moenie reëls en dissipline vir jou kinders gee nie, want anders sal hulle rebels raak… Moenie oor sonde preek nie, want dit laat mense net skuldig voel en maak hulle opstandig’?

Nee. Om die wet te verwyder vat nie jou sonde weg nie, maar laat dit net op die bodem van jou hart gaan lê. Die probleem is nie die wet nie, maar die sonde wat soos ‘n dormante of rustende saad in jou hart lê. Sodra die wet naby kom, is dit soos water op die saad en word die sonde wakker. Om die sonde weg te kry moet jy nie die wet hou of dit wegvat nie, maar in Jesus glo en die Heilige Gees in jou hê (wag vir hfst. 8!).

Dalk sê jy: ‘Ek is nie so sleg nie en het nie Jesus of die Gees nodig nie. My omstandighede en ander mense beïnvloed my negatief. As my omstandighede verander en ek nie slegte mense om my het nie, is my lewe so onskuldig soos Adam s’n voor die verbod en die sondeval’ (v.9).

Jy mislei jouself en ken nie jou eie hart nie. Jy sê jy pleeg nie moord nie. Maar haat jy iemand of is jy bitter en kwaad? Wens jy die persoon dood of jy wil jy hom uit jou lewe hê? Jy sê jy pleeg nie egbreuk nie. Maar is jou oë en gedagtes rein? Is jy wellustig? Jy sê jy steel nie. Maar is jy materialisties en geldgierig? Is jy jaloers op ander? Wil jy iets op ‘n onwettige manier kry? Jy sê jy stel ander se belange bo jou eie. Maar voel jy seergemaak en bejammer jy jouself as niemand jou nie bedank nie? Of voel jy goed oor jouself as mense jou moeite raaksien en dankie sê? Wens jy dat hulle jou voor almal moet bedank? Wens jy in die geheim vir betaling, en as jy dit kry sê jy: ‘Nee, ek doen dit uit liefde!’?

Die wet sny jou hart oop, onbloot jou motiewe, wys dat jy skuldig is, en gee jou die doodstraf soos vir Adam (v.9). Dit prik jou gewete en laat jou skuldig voel. Maar al voel jy sleg vat dit nie die sonde in jou weg nie. Trouens, dit maak dit wakker. Waar die wet ‘n ongelowige aanspreek, wonder hy nie hoe hy sy sonde kan los nie. Hy voel eerder verleë dat sy sonde uitgekom het. Hy beplan op nuwe maniere om die wet te oortree sonder dat iemand sy sonde uitvang.

Wat moet jy met die skuldgevoelens doen? Moenie na die wet toe draai nie, want dit sal net wys hoe skuldig jy is en jou slegter laat voel. Maar jy moet ook nie die skuldgevoelens onderdruk nie. Dit help nie jy drink pille, misbruik drank of dwelms, slaap, verloor gewig, koop nuwe klere of kry ‘n haarsny om van jou sonde te vergeet en beter te voel nie.

Skuldgevoelens is net die simptoom en nie die oorsaak nie. Deel met die skuld self, sodat die skuldgevoelens outomaties saam met dit verdwyn. Hoe deel ‘n mens met die skuld? Jy kan nie en jy hoef ook nie. Jesus het dit klaar gedoen. Hy het aan die kruis gesterf asof Hý skuldig is, maar eintlik het Hy óns sondeskuld betaal (Kol. 2:14). As jy jou bekeer en in Hom glo, sal God die Vader sy dood in jou plek aanvaar. Hy sal jou skuld afskryf en jou van ‘n skuldige gewete reinig (Kol. 2:14, Heb. 9:14, 10:22).

 

  1. Dit maak jou dood (v.10-13)

Wettiesisme is soos die drank advertensie wat ek langs die pad gesien het. Langs die drankbottel staan daar: ‘This is living.’ Die drank belowe ‘n goeie lewe en plesier, maar op die einde maak dit jou dood. En die wet belowe in Lev. 18:5: “Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe.” Maar die wet lei tot die dood vir elkeen wat daardeur wil lewe (v.10). Lieg wet dan?

Nee. Dit belowe lewe vir dié wat dit gehoorsaam. As jy nié gehoorsaam is nie, straf dit jou met die dood (v.10, 6:23, Deut. 30:17-18). Eintlik is dit die sonde wat jou bedrieg en sê: ‘As jy jou beste doen kan jy die wet nakom en lewe’ (v.11). Maar sodra jy dit probeer doen, gryp die sonde sy kans om die wet te oortree (v.11, 8). Die wet wat lewe belowe, maak jou dood omdat jy dit oortree het (v.11).

Maar moet asb. nie foutiewelik aflei dat die wet sonde is nie (v.7). Die wet is heilig, regverdig en goed (v.12, Ps. 19:8-10, 119:137). Jy kan mos nie sê dat die wet sleg is, omdat dit die misdadiger in die tronk sit of hom aan die galg hang nie. Enige goeie wet sal die misdadiger straf. Die probleem lê nie by die wet wat die sondaar vonnis en hom die doodstraf toedien nie. Die probleem lê by die sondaar wat die wet oortree en die dood verdien (v.13).

Hoe kan ons sonde nié die dood verdien as dit die goeie wet misbruik om ons dood te maak nie (v.13)? Dit is soos ‘n man wat sy vrou doodmaak met die sterk pille wat sy vir hom koop om sy tandpyn weg te vat. Hy misbruik iets wat goed is om haar dood te maak. Die probleem is nie die pille nie, maar die man se verdraaide hart wat dit misbruik om sy vrou dood te maak.

Dit is ook die geval met die wet en sonde: die probleem lê nie by die wet nie, maar by die sonde (v.13). Dan is oplossing nie om te sê: ‘Die wet is sonde; laat ons daarvan ontslae raak’ nie (v.7). Die oplossing is ook nie om wetties te wees en harder te probeer om die wet na te kom nie. Jy kan dit nie regkry nie, omdat die sonde jou keer.

Die oplossing is Jesus en die Heilige Gees. Jesus het die wet perfek namens ons onderhou en ons sonde weggevat aan die kruis. Deur die geloof ontvang jy sy wetsgehoorsame rekord en die Heilige Gees wat jou in staat stel om wet te gehoorsaam (hfst. 8).

Maar selfs met die Heilige Gees in jou, sal jou vlees jou versoek om te dink die Here aanvaar jou omdat jy die wet hou. As jy reg doen sal jy versoek word om in jouself te roem. As jy verkeerd doen sal jy versoek raak om hopeloos te voel. Jy voel bv. goed, geniet jou Bybelstudie, bid lekker en is opgewonde oor die kerk, omdat jy in die week die wet gehou het. Maar jy vermy die kerk, vergeet van jou Bybel en bid nie, omdat jy in die week die wet oortree het.

Dit is so dat ons sonde die Here bedroef, maar dit is verkeerd om te dink jy moet eers vir ‘n dag of twee die wet gehoorsaam voor jy weer voor Hom kan kom. Dit is verkeerd as jy dink: ‘Ek moet myself eers vir ‘n week kasty, boete doen en die Here se guns terugwen voor ek kan bid, my Bybel kan lees, kerk toe kan kom en die nagmaal kan gebruik.’

Die regte ding is om in gebed na jou Vader toe te kom. Erken dat jy niks kan doen om sy guns te wen nie. Bely dat Jesus en sy kruisdood jou enigste hoop is om vergewe en herstel te word. Vra dat die Heilige Gees jou sal help om die wet uit te voer. Vra dat Hy jou sal help om suiwer motiewe sal hê, naamlik om God te verheerlik en nie bloot om goed te voel oor jouself nie.

 Niks maak wettiesisme dood soos die evangelie van genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen nie. Die evangelie is vir wettiesisme wat suurlemoen, heuning, appelasyn en rooipeper is vir verkoue: dit verdryf dit heeltemal.

Christene en die wet

Law and gospel

Mense glo verskillend oor die Ou Testament wet.

[a] Die Hebrew Roots Movement (HRM) glo dat ons weer Joods moet word en die wet van Moses noukeurig moet nakom. Volgens hulle moet ons die Sewendedag Sabbat, die Ou Testament Feeste en die voedselwette nakom. Ek het onlangs met iemand gepraat wat dit so wil hê, en wat ook glo dat mense weer besny moet word.

Mense wat so glo verstaan nie die evangelie nie. Paulus sê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal. 5:4). ‘n Vriend van my moes onlangs paaie skei van iemand wat wil terugkeer na die wet toe.

[b] Die Sewendedag Adventiste glo in sommige opsigte dieselfde as HRM, maar fokus op die Saterdag-Sabbat. Volgens hulle geloofsbelydenis kan jy nie in die hemel kom as jy die Here op ‘n Sondag aanbid nie. Met verwysing na die Sabbat het ‘n Adventis op my blog gesê: ‘Ek hoop jou oë gaan oop voor dit te laat is.’

Dit mag wees dat daar ware Christene onder die Adventiste is (soos onder die Katolieke). Maar in haar geheel is die Adventiste ‘n kultus wat die wet by die evangelie wil voeg. Paulus het hierdie dwaling in sy brief aan die Galasiërs aangespreek.

[c] Libertyne glo dat ons onder die genade is, en dat ons daarom kan lewe soos ons wil. Calvyn het met die Libertyne gesukkel. Hierdie mense is nie Christene nie (Rom. 6:1-2). Die drie groepe wat volg is Christene.

[d] Een van die predikante na wie ek opkyk glo in theonomy. Volgens hierdie mense moet elke samelewing die Ou Testamentiese wette volg. Ons hoef nie die wette te volg wat deur Jesus vervul is nie (bv. die Ou Testament Feeste).

[e] Die New Covenant siening van die wet glo dat ons glad nie meer onder die Ou Testament wet is nie. Nie eers die Tien Gebooie geld vir ons nie. Ons is onder ‘n strenger wet, naamlik die wet van Christus in die Nuwe Tsetament (bv. Matt. 5-7, 1Kor. 9:19-21). Jesus se wet is ‘n wet van liefde (Matt. 22:37-39). Twee van my kollegas het eenkeer hieroor koppe gestamp.

[f] Laastens is daar die Gereformeerde siening van die wet. Hierdie mense verdeel die wet in drie dele: die seremoniële wet (die offers), die siviele wet (die wette waardeur Israel se leiers die land regeer het) en die morele wet (die Tien Gebooie). Volgens Gereformeerde Christene geld net die lg. deel van die wet vir vandag (die morele wet), aangesien Jesus die eerste twee dele vervul het.

‘Maar wat van die Sabbat?’ mag jy miskien wonder. ‘Dit is tog deel van die Tien Gebooie. Hoekom hou ons dit op ‘n Sondag en nie meer op die sewende dag nie?’ Gereformeerdes sal sê dat die Sabbat in die rus van verlossing vervul is (Matt. 11:28, Heb. 4:8-10, Op. 14:13). Ons vier die rus van verlossing op die dag van Jesus se opstanding, nl. die Sondag.

Ek gaan nie hierdie sienings in detail bespreek nie, maar sal uiteindelik tot ‘n slotsom kom oor die Christen se verhouding tot die wet. Rom. 7:1-6 sal ons help om dit te doen. In die weke wat kom sal ek die res van die hoofstuk bespreek en ‘n finale gevolgtrekking bereik.

 

  1. Die illustrasie (v.1-3)

Enigiemand weet dat die wet nie dooie mense vervolg nie. Die wet is slegs bindend as jy lewe (v.1). Gestel bv. dat die polisie iemand jaag wat 240 km/h oor ‘n spoedlokval ry. Die polisie is kwaad en is van plan om die man toe te sluit. Hy ry egter in ‘n boom vas en sterf. Hulle kan hom nie straf nie.

Paulus illustreer dit in v.2-3. So lank as wat sy lewe is Karla deur die huwelikswet aan Gert verbind: ‘Until death do us part’ (v.2). God het dit so bepaal (Matt. 19:5-6). Gert se dood bevry Karla van die huwelikswet wat haar aan hom verbind: sy is vry om weer te trou (v.2, 1Kor. 7:39, 1Tim. 5:14). Maar as sy by Jan intrek of met hom trou terwyl Gert nog lewe, pleeg sy egbreuk (v.3, Matt. 5:32, Luk. 16:18). As Gert doodgaan kan sy met Jan trou en pleeg sy nie egbreuk nie (v.3).

 

  1. Die toepassing (v.4-6)

Ons was getroud met die wet wat, a.g.v. ons sonde, vereis het dat ons moet sterf (v.8:2). Ons het gesterf toe Jesus se liggaam aan die kruis die gesterf het (v.4). Nou is ons vry van die wet (v.4). Die wet kan ons nie meer vir ons sonde straf nie: Jesus het die straf aan die kruis gedra (Kol. 2:14).

Ons het saam met Jesus opgestaan en kan nooit weer sterf nie, maar lewe vir altyd in ‘n nuwe huwelik met Hom (v.4, 6:9). Ons is vrugbaar in hierdie nuwe huwelik: ons dra die vrug van die Gees en van bekering (v.4, Matt. 3:8, Gal. 5:22, Ef. 5:9). Ons dra vrug vir God en tot sy eer (v.4, Joh. 15:8, Fil. 1:11). Onder wet kon jy nie goeie vrugte dra nie, omdat die wet vrot vrugte in jou lewe uitgewys het. Wat bedoel ek? ‘n Illustrasie sal help.

Wat sal gebeur as ek vra dat jy vir die res van die erediens nie na die orrel in die hoek moet kyk nie? Onmiddellik wil jy vir die orrel kyk. Voor ek dit gesê het, het jy geen begeerte gehad om vir die orrel te kyk nie. Maar toe ek dit sê, toe wil jy kyk.

Sonde is so: sodra daar ‘n wet is wil jy dit ootree (v.5). Dit is wat Paulus in 1Kor. 15:56 bedoel as hy sê dat sonde sy krag uit die wet kry. Wat ‘n vonk vir biskruit is, is die wet vir jou sondige begeertes (v.5). Jou sondige begeertes lê in jou hart soos stof op die vloer: jou lewe lyk skoon totdat die wet met sy besem in jou hart vee. Die wet maak die sondige begeertes wat rustig slaap, wakker (v.5, 7-13). Jou begeertes vind uiting in jou liggaam en dra die vrot vrugte van sonde (v.5, 6:13). Soos die giftige appel in Sneeuwitjie lei hierdie vrot vrugte tot die dood (v.5, 6:23).

Moet daarom nie ‘n klomp reëls wil volg om jou sondige begeertes dood te maak nie; dit sal nie werk nie. Kom ek gebruik diëte as ‘n voorbeeld. In die meeste mense se geval werk dit nie. Jy besluit: ‘Ek moet minder eet.’ Skielik is dit al wat jy wil doen. Jy eet skelm. Jy eet selfs dinge wat jy nie gewoonlik sou eet nie. Jy sal enigiets eet. En selfs as jy een van die rare soort mense is wat die dieet regkry, verskuif jy net jou obsessie: jy het nie meer ‘n obsessie met kos nie, maar met jou maer liggaam.

Die oplossing vir ooreet en enige ander sonde is nie om meer wette te maak nie. Reëls kan nie die vlees keer nie (Kol. 2:21, 23). Iets sterker is nodig. Ek sal in hfst. 8 hierop uitbrei, maar wil solank jou aptyt wek (‘pun intended!’).

Eerstens moet jy vir die wet sterf, sodat dit nie meer die mag het om jou in die tronk te hou en met die dood te straf nie (v.4, Gal. 3:22-23). Sterf vir die wet deur bekering en geloof in die kruisdood van Jesus waar Hy namens jou vir die wet gesterf het (v.4). Lewe as ‘n nuwe mens op ‘n nuwe manier deur die Gees, en nie op die ou manier deur die letter van die wet wat op kliptafels geskryf is nie (v.6).

A.g.v. jou sondige begeertes kan jy nie in jou eie krag die wet wat op kliptafels geskryf is nakom, of dit met die regte motiewe doen nie. Jy doen dit vir jouself, sodat jy beter kan voel en lyk. Maar deur die Gees se krag kan jy jouself beheer en nuut lewe vir God (v.6, Gal. 5:22). Deur Hom kan jy ook die regte fokus hê wanneer jy gehoorsaam is, nl. om Jesus te behaag en te verheerlik.

Prakties is die oplossing nie om meer reëls maak nie, maar om baie te bid oor die probleem en die Gees se hulp vra om tekste oor jou spesifieke probleem te memoriseer en te gehoorsaam. As jy gestruikel het kan jy jou sonde bely en weer die Gees se hulp vra.

As jy jou probleem deur wet wil oplos, sal jy hopeloos misluk. Jy sal die hele tyd dink die Here is kwaad vir jou. Jy sal angstig wees, omdat jy dit nie regkry om die wet te hou nie. Jy sal bang wees dat jy die hemel gaan mis. Jy sal onseker wees oor jou redding. Jy sal in ‘n gat van depressie beland as jy faal. Jy sal hoogmoedig wees, omdat jy beter vaar as ander. Soos die skynheilige Fariseërs sal jy reg lewe voor ander, maar in die geheim sonde doen.

Die wet wat op kliptafels geskryf is maak dood; die Gees maak lewend (2Kor. 3:6). Deur die Gees kan jy in vryheid lewe en sal jou hart vol blydskap en vrede wees. Jy sal reg doen uit ‘n gewillige hart van liefde (Joh. 14:15). Jy sal seker wees van God se liefde en van ‘n plek in die hemel deur Jesus se kruisdood. Jy sal dankbaar wees. Jy sal nederig wees. Jy weet immers dat jy niks verdien nie, en dat jy alles uit genade ontvang het.

Moet daarom nie op die wet fokus nie, maar word gevul met die Heilige Gees deurdat jy baie bid en gehoorsaam is aan die Skrif wat deur Hom geïnspireer is (Luk. 11:13, Ef. 5:18, Kol. 3:16).

‘Maar gooi ons dan nie die wet weg nie?’ ‘n Vrou het so gedink toe sy uitvind dat ons nie elke Sondag die wet voorlees soos in haar kerk nie. Maar ons gooi nie die wet weg nie. Die Heilige Gees lei ons immers nie teen die wet te lewe nie, maar in ooreenstemming daarmee (8:4, Gal. 5:23). Hy doen wat die wet a.g.v. ons sondige begeertes nie kon doen nie: Hy gee nuwe lewe, maak ons heilig en gee ons die krag om sonde te oorwin (v.6, 8:13, Gal. 5:18, 1Kor. 6:11, Joh. 3:3, 5, Tit. 3:5).

Run, John, run, the law commands

But gives him neither feet nor hands,

Far better news the gospel brings:

It bids him fly and gives him wings

Maak dan staat op die Gees om reg te lewe, en nie op die wet nie. Die wet kan jou nie regverdig maak of heilig maak nie; net die Gees kan. Die implikasie is nie dat die wet sleg is nie (v.12), maar eerder dat ons sondige begeertes ons keer om die wet uit te voer. Jesus het met ons sondige begeertes afgereken, sodat ons nou deur die Heilige Gees reg kan lewe.

Beteken dit dat Hy ons terugneem na die wet toe? Jesus vat ons nie terug na die skadubeelde van die Saterdag-Sabbat, die besnydenis, die offers, die voedselwette of die feeste toe nie (Kol. 2:16-17, Heb. 10, ens.). In die Nuwe Testament wys Hy vir ons watse Ou Testament wette hulle volheid in Hom vind, en watse wette ons deur die krag van die Heilige Gees moet uitvoer. Ons offer bv. nie meer diere nie, maar is nog steeds lief vir ons naaste deurdat ons sy lewe, besittings, reinheid en reputasie respekteer (13:9-10).

Dit is hoe ek die wet verstaan. Ek het nog baie om te leer, maar weet vir ‘n feit dat die wet nie ons harte kan verander nie en dat dit geensins bydra tot ons redding nie. Jesus is genoeg. As jy die wet wil byvoeg is jy soos Christen in John Bunyan se Pilgrim’s Progress.

Oppad na die smal hek wat na die hemelse stad toe lei, het ene mnr. Wêreldwys hom voorgekeer en gesê hy ken ‘n kortpad. Hy het hom na ‘n dorp genaamd Wetties agter berg Sinaï toe gestuur. Toe Christen by die berg kom was daar ‘n aardbewing, weerlig, donderweer, vuur en rook. Hy was bang hy gaan dood. Evangelis het hom voorgekeer, berispe en na die smal hek toe gestuur. Toe hy uiteindelik by die kruis kom het sy sondelas afgeval.

Hoekom wil jy by Sinaï vashak as God jou by ‘n kruis op ‘n heuwel buite Jerusalem kan vergewe?

Geestelike verslawing

Drugs on Bible

Ons dink aan verslawing as drank, dwelms, sigarette en pornografie. Maar volgens Rom. 6:15-23 is alle mense verslaaf: of jy is ‘n slaaf van sonde, of jy is ‘n slaaf van God. Om te weet wie se slaaf jy is, kan jy die volgende twee vrae beantwoord.

 

  1. Wie is jou meester? (v.15-19)

Stuart Olyott gebruik ‘n illustrasie om hierdie verse te verduidelik. Verbeel jou jy lewe in die 1ste eeu n.C. Jy gaan slawemark toe. Jy wil weet of ‘n sekere slaaf te koop is, maar hy sê vir jou dat hy reeds aan iemand behoort. ‘Wie is jou meester?’ vra jy. Hy wys na ‘n sekere persoon. Hoe weet jy of hy die waarheid praat? Staan eenkant en hou hom dop. Kyk na wie hy luister. Jy sal gou agterkom wie sy meester is.

Wie gehoorsaam jy? Sê jy: ‘Ek leef nou wel in sonde, maar ek is ‘n Christen. God se genade is groot; Hy sal my vergewe. Ek is mos nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. Jesus het my straf gedra, en daarom kan die wet my nie straf nie. Selfs al sondig ek vrees ek nie die hel nie. Ek weet ek gaan hemel toe (v.14-15).’

Nee (v.15)! Jy mislei jouself oor die hemel (1Kor. 6:9-10). Jy verander God se genade in ‘n lisensie om sonde te doen (Jud. 4). God se genade is nie net gegee sodat jy die straf kan vryspring nie, maar sodat jy die sonde self kan vryspring. Jy is onkundig en verstaan nie genade of die Christelike geloof nie (v.16, 3). Jou gebrekkige kennis lei tot ‘n verkeerde lewe (v.15-16). Weet jy nie dat jy ‘n slaaf is van die een aan wie jy jouself en jou liggaam wy om dit te gehoorsaam nie (v.16, 13, 12:1)?

Sê jy dalk: ‘As ek dan ‘n slaaf is kan ek nie my dade help nie’? Jou slawerny verskoon nie jou sonde nie. Jy is nou wel ‘n slaaf, maar jy gee jouself ook gewilliglik (v.16). Dit is waar dat die sonde jou dwing, maar jy wil dit so hê. As jy gered is beveel Jesus jou, maar het jy Hom lief en wil jy gehoorsaam wees (Eks. 21:5-6, Ps. 40:6, 8). ‘Behold I sit, in willing bonds, beneath Thy feet.’ (Isaac Watts).

Wie is dan jou meester? Nie die een van wie jy  dat hy jou meester is nie, maar die een wie se bevele jy uitvoer. Moet dan nie sê dat Jesus jou Meester is as jy vir die sonde luister nie (Luk. 6:46). Maar moet ook nie mismoedig wees en sê: ‘Ek twyfel oor my redding,’ as jy Jesus se opdragte gehoorsaam nie. Jy is syne en Hy is jou Meester.

Dit is dan die twee meesters: sonde, onreinheid en wetteloosheid aan die een kant (v.16, 17, 19, 20), of gehoorsaamheid, geregtigheid en God aan die ander kant (v.16, 18, 19, 22). Jy kan nie beide dien nie (Matt. 6:24). Wie is die meester in jou lewe? Jy kan nie gered wees en nog dieselfde lewe as voor jou bekering nie. Dan is die sonde nog jou baas en is jy sy slaaf. Jy sal vir ewig in die hel sterf (v.16, Op. 21:8).

Gehoorsaam eerder die Here (v.16). Wat beveel Hy jou? Glo in sy Seun (Joh. 3:36, 1Joh. 3:23). Bekeer jou (Mark. 1:15, Hand. 17:30). Wees lief vir die Here, jou naaste en gehoorsaam die Bybel (Matt. 22:37-39, Joh. 14:15). Dit sal lei tot geregtigheid (v.16). Hierdie geregtigheid verwys nie na ‘n regte stand voor God nie, aangesien ons dit ontvang deur die geloof alleen (3:28). Dit verwys eerder na ‘n regverdige karakter. Hoe meer jy die Here gehoorsaam, hoe meer word jy regverdig in jou karakter (v.16).

Prys die Here dat jy sy slaaf is, en dat Hy jou van jou ou meester (sonde) bevry het (v.17). Gehoorsaam Hom uit die hart en met suiwer motiewe (v.17). Gehoorsaam Hom innerlik in jou begeertes en nie net uiterlik soos die Fariseërs, terwyl jy skynheilig, korrup en pervers is nie (v.17, Matt. 23). Gehoorsaam Hom met jou hele hart (v.17, Ps. 119:34b). Wys jou geloof deur ‘n gehoorsame lewe (v.17, 1:5, 16:26, Jak. 2:14-26).

Wees gehoorsaam aan die voorbeeld van die leer wat aan ons oorgelewer is (v.17). Wy jouself aan die absolute standaard van Jesus en die apostels se lering in die Bybel (v.17, Matt. 28:19-20, Hand. 2:42, 2Tess. 2:15, 3:6, 1Tim. 1:11, 4:6, 11, 13, 16, 6:3, 2Tim. 1:13, 3:6, 4:2, Tit. 1:9, Heb. 2:3). Moenie Bybel-leerstelling afmaak soos ‘n tannie wat vir my vriend gesê het: ‘Ek soek nie lering nie; hierdie is nie ‘n skool nie.’ Dit wys dat verse soos Rom. 6:17 vir haar onbelangrik is.

Sit jouself eerder in ‘n posisie om die Bybel te leer. Moenie tevrede wees met vlak, sentimentele prediking sonder inhoud nie. Soek eerder lerende, eksposerende, teologiese en praktiese preke (2Tim. 4:2). Stuart Olyott sê: ‘…if you are going to a church where everything is feeling and atmosphere, but very, very little biblical truth is going into your head, you are in the wrong church. In the spiritual life, in order to grow you have to know!’

Dit geld ook vir jou stiltetyd. Dagstukkies is nie verkeerd nie, maar jy kan nie net dagstukkies en ‘n kort gebedjie hê nie. Bid, bepeins en bestudeer die Bybel. Lees ook goeie boeke met suiwer teologie. Moet egter nie daar stop nie, maar doen wat jy leer (v.17, Jak. 1:22, Matt. 7:24-27). ‘n Gehoorsame lewe wys dat jy ‘n slaaf van geregtigheid is, en dat jy vry is van die ou meester (v.18, 8:2, Joh. 8:32, 34, 36).

Soos enige goeie prediker met sy gehoor of soos ‘n pa met sy kind, het Paulus ‘n illustrasie gebruik sodat ons kan verstaan (v.19, Gal. 3:15). A.g.v. ons swak vlees kan ons nie diep en abstrakte waarhede verstaan nie, en benodig ons illustrasies (v.19). Die Romeine het Paulus se illustrasie verstaan.

‘n Slaaf is sy meester se eiendom en nie vry om te doen wat hy wil nie. Ons is so. Ons was eens slawe van onreinheid (v.19). Ons gedagtes was so onrein soos ‘n rioolplaas. Dit het gelei tot ‘n onrein woordeskat, asook tot onrein grappe, kyke en dade. Ons het vir allerhande onreinheid geleef (Ef. 4:19).

Ons was ook wetteloos (v.19). Ons het geleef asof daar geen wet of morele standaarde is nie. Hoe meer ons die wet gebreek het, hoe meer sonde was daar op ons rekords en hoe meer wou ons die wet breek (v.19).

 As slawe kan ons onsself nie rein maak of die wet gehoorsaam nie (v.19). Jesus het ons van die straf van die wet, onreinheid en die mag van die sonde gered. As nuwe mense kan ons nou rein wees en die wet uitvoer (v.19, Tit. 2:12). Moet dan nie sê: ‘Ek kan nie my verslawing aan sonde breek nie.’ Deur die kruis en die Heilige Gees kan jy!

Jesus het ons vrygekoop en maak ons slawe van die geregtigheid. Glo in Hom en leef regverdig deur die Heilige Gees se leiding in die Skrif. Hoe meer jy dit doen, hoe heiliger word jy: afgesonder van die sonde vir God (v.19). As jy ‘n Christen is begeer jy heiligheid. As dit jou nie aantrek nie wys dit dat jy tevrede is met jou ou meester.

 

  1. Wat is die gevolge? (v.20-23)

Martyn Lloyd-Jones het gesê: ‘I am not afraid of being charged, as I frequently am, of trying to frighten you, for I am definitely trying to do so. If the wondrous love of God in Christ Jesus and the hope of glory is not sufficient to attract you, then, such is the value I attach to the worth of your soul, I will do my utmost to alarm you with a sight of the terrors of Hell.’

Soms gebruik God die stok van die hel om die donkie te vorentoe te dryf, maar Hy hou ook die wortel van beloning voor sy neus. Dit is Paulus metode in v.20-23. Slawe van sonde is vry van die geregtigheid (v.20). Wat beteken dit? ‘n Illustrasie sal help.

‘n Man in die tronk sê: ‘Ek leef nie soos die meeste mense buite die tronk onder die wet nie, en is dus vry.’ Duidelik weet hy nie wat vryheid beteken nie. Ongelowiges is so en sê: ‘Ek hoef my nie aan die Bybel te onderwerp soos Christene nie. Ek kan lewe soos ek wil en is vry.’ Maar sy lewe van sonde wys dat hy ‘n slaaf is. Sy wil en begeertes is gebonde. Hy kan nie reg doen nie (v.20, 8:7-8). Wys my asb. die ongelowige wat ‘n konstante lewe van geregtigheid leef. As jy ‘n ongelowige is daag ek jou uit: doen dit asb. Jy kan nie.

Wat is die gevolge van jou sg. ‘vryheid’ van God se wet? Skande: dinge waaroor elke Christen hom nou skaam en jammer is hy het dit gedoen (v.21, Ef. 5:12). Die uiteinde daarvan is die ewige dood (v.21, 16, 23, 1:32, 5:12, 8:6, 13, Spr. 16:25). Sonde belowe blydskap en vryheid (v.20-21), maar eindig in skande en die ewige dood (v.21, 23). Dit is hoe die sonde jou vir jou dienste vergeld. Daar is niks goed daarin om die sonde te dien nie: net die dood (v.23).

‘Maar nou!’ Jesus maak ons vry van die sonde (v.22). Dit lê in die verlede.

To all who are tortured and ravaged by sin

The frail and the wounded about to give in

There’s news of release and captivity’s end

We’ve been set free, come and see

Oh sleeper awake, come out of the night

Throw open the door and step into the light

For sin is undone and the wrong is made right

We’ve been set free, come and see

Come and see, the power of sin has been broken

The gates of your prisons stand open,

come and see

Arise, believe, for the power at work

both to rescue and save

Is the power that raised

Jesus Christ from the grave

We’ve been set free, come and see

I, too, lived in slavery, unmercifully bound

Battered and broken I finally knelt down

And there in obedience freedom was found,

I’ve been set free

And now through the dungeons

of darkness and night

I run in the freedom of liberty’s light

And shout to the captives,

‘Oh prisoner take flight

We’ve been set free, come and see’

If the enemy’s holding a knife to your chest

Demanding you give up or die

In Christ crucified you’ve already died

And now you are free.

-Steve Green-

Ons is nou slawe van God (v.22). Hy het ons gekoop om syne te wees (1Kor. 6:19-20, 1Pet. 1:17-19). Hy is ‘n sagmoedige en goeie Meester (Matt. 11:28-30). Wat is sy beloning? Hy reinig ons van die vuilheid van die sonde en maak ons heilig (v.22). Hoe maak Hy jou heilig?

Moenie op jouself steun om reg te lewe en dink jy heilig sal word as jy sekere reëls volg nie (Kol. 2:16-23). Maar moet ook nie passief wag dat jy heilig word en sê: ‘Let go and let God!’ nie. Kry die balans. God gee aan ons die gewilligheid en krag om heilig te lewe (v.22, Fil. 2:13), maar Hy gaan nie vir jou gehoorsaam wees nie: jy moet dit doen (v.19, Fil. 2:12).

Wat is die uiteinde van ‘n heilige lewe? Die ewige lewe (v.22). Daarsonder sal jy nie die Here sien nie (Heb. 12:14). Baie van my lesers gaan ‘n skok kry as Jesus vir hulle sê dat hulle nie in die hemel sal ingaan nie, omdat hulle onheilig was (Matt. 7:21-23).

En tog moet jy nie daaruit aflei dat jy die hemel verdien deur ‘n heilige lewe nie. ‘n Mens word gered uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen sonder goeie werke (3:24, 28, Ef. 2:8-9). En tog is heiligmaking die bewys van redding. Dit is die vrug wat uit die wortels van regverdigmaking groei. Dit is nie die vrug wat lewe gee nie, maar die wortels. En tog kan jy nie sê jy het die wortels van regverdigmaking, as die boom van jou lewe vol van die dorings van sonde is en nie die vrug van heiligmaking dra nie.

Volgens Jesus sal jy die boom aan sy vrugte ken. Hoe lyk die vrug van jou lewe (nie net waar ander mense jou sien nie, maar in die geheim waar net jy en die Here sien)? Hoe lyk jou motiewe: soek jy God se eer, of wil jy goed lyk en goed voel oor jouself? Doen jy goed omdat jy God se guns en ‘n plek in die hemel wil wen? Gehoorsaam jy uit vrees? Of doen jy reg uit pure liefde vir God en jou naaste?

‘n Heilige lewe wys dat jy reeds reg is met God. Maar dit kyk ook vorentoe na die hemel waar jy volmaak heilig sal wees (Heb. 12:23). Die Bybel noem dit verheerliking (8:30). Dit is die ewige lewe van v.22. Hoe kry jy dit? Dit is gratis. Jy kan dit nie verdien soos die dood nie (v.23). Maak eenvoudig die hand van geloof oop en ontvang dit. Hoe? Glo in Jesus. Wat moet jy glo? Glo dat Hy Christus Jesus ons Here is. Kom ons breek dit op.

Christus: Glo dat Hy die gesalfde Seun van God is.

Jesus: Glo dat Hy die Verlosser is wat gesterf het om ons van sonde en God se oordeel te red.

Ons: Glo dat Hy ons as sy kinders aanneem en ons Here is.

Here: Glo dat Hy die Meester is en jy die slaaf. Buig die knie voor Hom en gehoorsaam Hom.

As jy dit glo verklaar Hy dat jy vry is en nie meer ‘n slaaf van die sonde nie. Hy sal jou onmiddellik die ewige lewe gee. Jy kry dit nie eers as jy in die hemel is nie (v.22, Matt. 25:46), maar kan nou al Christus se oorvloedige opstandingslewe geniet (Joh. 4:14, 6:47, 10:10, 17:3).

Hierdie lewe is in Christus Jesus ons Here, aangesien Hy die ewige lewe is (v.23, Joh. 1:4, 1Joh. 1:1-2, 5:20, 11-12). Jy kan dit net deur Hom en geloof in Hom kry (Joh. 3:16), en nie deur die wet, jou eie pogings, Allah, Vishnu, Boeddha, ‘n ander Jesus, die voorvaders, ens. nie (Joh. 14:6, Hand. 4:12).

Moet dan nie rus tot jy Jesus het nie. Net dan kan jy seker wees jy het die lewe en is nie meer ‘n slaaf van die sonde en die dood nie, maar van God, gehoorsaamheid en geregtigheid.

Jy hoef nie soos my eks-buurman te wees nie. Toe my vriend hom kerk toe nooi, toe wys hy na die drankbottel en sê: ‘Daar is my baas.’ As jy in Jesus glo kan jy met vrymoedigheid sê dat sonde nie jou baas is nie. Jy kan na die hemel toe wys en sê: ‘Daar is my Baas.’

Hoe om jou sonde te oorwin

Sniper aiming

Iets is fout as die bg. onderwerp jou nie trek nie. Hoekom sal jy nié die sonde wil oorwin nie? Is dit omdat dat jy liewer is vir jou sonde as vir Jesus? In daardie geval is jy nog ongered, of het jy baie ver van die Here afgedwaal.

Maar indien die onderwerp jou trek, beteken dit nie noodwendig dat dinge reg is tussen jou en die Here nie. Party mense wil hulle sonde oorwin, omdat dit hulle skuldig laat voel, omdat hulle nie van die slegte gevolge hou nie, of omdat dit hulle laat skaam voel. Ware gelowiges wil hulle sonde oorwin, omdat hulle dit haat, omdat dit nie reg is nie, en omdat dit God nie verheerlik nie. As jy in die laaste kategorie val, is Rom. 6:6-14 vir jou.

 

  1. Dink reg (v.6-11)

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê: ‘As die sang tydens die erediens lekker was, gee ek nie om oor die preek nie.’ Dit is die nuwe Christenskap: skakel jou brein af, sodat jy ‘n lekker gevoel kan hê. Maar volgens die Nuwe Testament moet Christene hulle breins gebruik. Ons moet dink en toeneem in kennis (12:2, 8:5-6, Luk. 10:27, 24:45, Ef. 4:23, Fil. 4:8, Kol. 1:9-10, 3:2, 2Tim. 2:7, Heb. 8:10, 1Pet. 1:13, 2Pet. 3:18). Jy moet die waarheid verstaan, voordat jy reg kan voel en lewe (v.3, 6, 9, 16).

Dit is egter meer as ‘n intellektuele kennis. Dit is eerder iets wat jy weet, omdat jy dit eerstehands ervaar het. Jy moet dus nie net die feite ken nie, maar ‘n persoonlike kennis en ervaring van Jesus hê. Wat moet jy van Hom en sy waarheid weet om die sonde te oorwin?

Die ou sondige mens van hfst. 5 het 2000 jaar gelede saam met Jesus aan die kruis gesterf (v.6, Gal. 2:20, 6:14). Deur Jesus se kruisdood het ons die sondige vlees of die liggaam van die sonde afgesterf (v.6, vgl. 7:25, 8:13). Ons is nie meer slawe van die wrede meester genaamd sonde nie (v.6). Jesus het ons sondeskuld betaal. Die sonde kan ons dus nie meer beskuldig of aankla nie (v.7). Ons het saam met Hom gesterf: die wet kan ons nie meer straf nie (v.7). Waar het jy al ooit gesien dat ‘n dooie man tronk toe gaan?

Maar ons bly nie dood nie. Ons het opgestaan saam met Jesus (v.8). Ons het geestelik opgestaan, maar in die toekoms sal ons liggame opgewek word (8:11, Ef. 2:5). Ons kan tog nie saam met Jesus sterf en nie ook saam met Hom opstaan nie? As ons saam met Hom sterf maar nie opstaan nie, beteken dit dat Hy ook nie opgestaan het nie. Ons weet dat Hy opgestaan het en dat Hy nie soos Lasarus weer sal sterf nie (v.9, Hand. 13:34, Op. 1:18). Die dood het geen mag oor Hom nie, aangesien Hy opgestaan en die dood oorwin het (v.9).

Jesus het eens en vir altyd vir ons sonde gesterf (v.10, Heb. 7:27, 9:26). Hy kan nie twee keer daarvoor gestraf word nie (v.9-10). Verder moet ons onthou dat Jesus self geen sonde het nie, en dat Hy daarom nie die dood verdien nie (v.9-10). Die opgestane Christus leef vir sy Vader en tot sy eer (v.10).

Ons moet dieselfde doen. Moenie vra: ‘Hoe kan hierdie geld, besigheid, transaksie of werk mý bevoordeel? Hoe kan hierdie man, vrou, familielid, vriend, kollega, kompetisie, gesprek, of nuwe kar mý goed laat lyk? Hoe sal hierdie kos, seks, drank, erediens en stiltetyd mý beter laat voel?’ nie. Vra eerder hoe jy die Here in hierdie dinge kan dank en verheerlik (v.10-11, 1Kor. 10:31, Ef. 5:20). Hoe kan jy ander mense daardeur bevoordeel (Fil. 2:3-4)?

As jy lewe om God te verheerlik en ander te dien, sal jy jouself ook bevoordeel. Maar as dit jou doel is om jouself te bevoordeel, sal dit jou niks baat nie. “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” (Matt. 16:25).

Jy kan egter nie vir die Here lewe as jy nie eers vir die sonde gesterf het nie (v.10). Hoe kan jy vir die sonde sterf? Glo in Jesus sodat God sý lewe, kruisdood en opstanding as joune reken (v.6). Het jy alreeds in Jesus geglo, jou bekeer en dit in die doop bely, maar dit voel vir jou of die sonde jou onderkry? Onthou jou identiteit in Christus, voordat jy 5 of 10 stappe probeer volg om die sonde te oorwin. Sê vir jouself dat jy saam met met Christus gesterf het, en dat jy saam met Hom opgestaan het om tot God se eer te leef (v.10-11).

Sê vir die sonde: ‘Nee! Jesus het vir die sonde gesterf en ek saam met Hom. Hy het opgestaan uit die dood en ek saam met Hom. Ek lewe nie meer vir die sonde nie, maar vir ‘n nuwe Meester (God). Ek skuld jou niks en hoef nie vir jou te luister nie. Jy is nie my baas nie. Ek sal nie doen wat jy sê nie!’ (v.6-7, 9, 11, 14). Ek sal in hfst. 8 verduidelik hoe die Heilige Gees ons help om nee te sê vir sonde, en ja vir gehoorsaamheid.

Rom. 6 wys ook dat jy nie jou redding kan verloor nie. As jy saam met Jesus gesterf het, lewe jy ook saam met Hom (v.8). Net soos wat Hy van die dood na die lewe oorgegaan het en nooit weer kan sterf nie, is dit met jou (v.8-9, Joh. 5:24, 1Joh. 3:14). As jy die ewige lewe ontvang en weer sterf, beteken dit dat Jesus weer kan sterf. Of dit beteken dat jy nie saam met Jesus gesterf het en opgestaan het nie. Duidelik het jy nog nie die ewige lewe ontvang nie.

‘Maar sal ‘n mens nie in sonde lewe as hy glo jy kan nie jou redding verloor nie?’ wil iemand weet. Nee. As jy in sonde lewe het jy nie saam met Christus gesterf en opgestaan nie (v.1-11). Die feit dat jy nie jou redding kan verloor nie, is nie ‘n lisense om sonde te doen nie. Dit is eerder ‘n troos dat Jesus jou nie sal verlaat nie en dat die sonde jou nie kan oorwin nie. As jy jou sekerheid van redding ‘n lisensie vir sonde maak, is jy nie dood vir die sonde nie maar lewe jy nog daarin en gaan jy hel toe (v.1-2).

 

  1. Doen reg (v.12-14)

Gestel die junior Valke rugbyspan speel teen ‘n ander span. Hulle dink dat dit ‘n klub span is. Hulle dink ook dat dit ‘n vriendelike wedstryd is. Hulle weet nie dat dit Australië se o/20 span is, en dat die keurders uitkyk vir spelers om vir die junior bokke te speel nie. Hulle onkunde beteken dat hulle nie hulle beste doen en harde rugby speel nie.

Dink reg sodat jy reg kan doen. Jy is dood vir die sonde en lewend vir God (v.11). Onthou dit sodat jy reg kan doen, en sodat jy teen die sonde kan veg en vir die Here kan lewe (v.12-14). Moenie dink: ‘Ek kan nie die sonde wen nie. Ek kan nie my vuil taal, wellus, bitterheid, dronkenskap los nie. Ek kan nie help dat ek hierdie sondes doen nie. Ek is maar net mens. Dit is normaal dat ek sonde doen. Almal maak foute.’

Moenie so redeneer nie. Dit is abnormaal vir die nuwe mens om sonde te doen. Sonde is deel van die ou mens. Jy is ‘n nuwe mens in Christus. Die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword (2Kor. 5:17). Moet dus nie toelaat dat die sonde en sy begeertes oor jou liggaam heers nie (v.12). Hoe kan jy dit regkry om ‘nee’ te sê? Hoe kan jy die baas wees en sonde die slaaf?

Moenie net jou sondige dade wil stop nie, maar sê nee vir die sondige begeertes wat hierdie dade veroorsaak (v.12, Jak. 1:14-15). Stry teen sonde in jou gedagtes en begeertes. Moenie plek maak daarvoor nie. Moet dit nie koester nie. Bid en memoriseer verse teen bitterheid, woede, geldgierigheid, jaloesie, hoogmoed, wellus, selfsug, ens. Vul jou gedagtes met heilige dinge (Fil. 4:8). Bid en dink daaroor totdat jy dit begeer. Hierdie heilige begeertes sal jou sondige begeertes oorheers soos wat miljoene liters skoon water vuil water uitstoot.

Sit hierdie heilige gedagtes en begeertes om in dade. Moenie jou liggaam beskikbaar stel vir die sonde nie (v.13). Weerhou jou oë daarvan om na sondige dinge te kyk, jou ore daarvan om na skinderstories te luister, jou hande daarvan om te steel, jou tong daarvan om lelik te praat en leuens te vertel. Raak ontslae van enigiets wat jou tot sonde versoek (v.13, 13:14). Moenie in die ou meester (sonde) se erf speel nie. Hy is sterker as wat jy dink. Vermy hom soos die pes. As jy hom nie vermy nie, sal hy jou met ‘n soen verraai. Hy sal vir jou sê dat hy jou liefhet, maar jou dan met ‘n mes in die rug steek.

Gebruik eerder jou liggaam om die Here te dien en goed te doen (v.13, 12:1). Gebruik jou oë om ander se nood raak te sien, jou voete om hulle te besoek, jou ore om na hulle hulpgeroep en probleme te luister, jou hande om hulle te help en met hulle te deel. Wat kan jy vandag, môre of in die week doen om die Here te verheerlik? Jy hoef nie eers vreeslik hard te dink nie, omdat God die goeie werke vir jou sal uitsit (Ef. 2:10). Jy moet dit net raaksien en doen. Vra dat Hy jou oë sal oopmaak om dit te sien en te doen.

Lewe soos iemand wat dood is vir die sonde en lewend vir God (v.13). Die sonde kan nie meer soos ‘n tirran oor jou heers nie: jy is immers nie meer onder die wet nie, maar onder die genade (v.14, Ps. 19:14, 119:133). Wat beteken dit? Die wet het vereis dat ons vir ons sonde moet sterf. Jesus het namens ons die straf gedra aan die kruis. Die wet kan ons dus nie meer straf nie. Die Heilige Gees het ook God se wet op ons harte geskryf, en stel ons deur sy genade in staat om dit te gehoorsaam en nee te sê vir die sonde (v.14). God se genade het kom doen wat die wet nie kon nie, naamlik om die mag van sonde te breek (v.14).

Heers die sonde nog oor jou? Probeer jy om dit te wen, maar jy het eenvoudig nie die krag nie en misluk elke keer? As dit so is ken jy nie God se verlossing en genade nie. Lewe jy gehoorsaam, maar dit voel of daar een spesifieke sonde is wat jou onderkry? Die sonde kan nie wen nie. Deur Jesus se kruisdood, opstanding, genade en die Heilige Gees kan jy die sonde oorwin (v.14, 8:13, 1Joh. 3:8).

He breaks the power of cancelled sin,

He sets the prisoner free.

His blood can make the foulest clean,

His blood availed for me.

-Charles Wesley-

Aan die kruis het Jesus die buffel van sonde ‘n doodskoot gegee. Soos ‘n gekweste buffel wil sonde ‘n laaste poging aanwend om jou te vernietig. Maar hy kan nie wen nie. Deur geloof in Jesus en die krag van die Heilige Gees sal die buffel van sonde dood voor jou voete neerval as jy hemel toe gaan. Jou sonde sal soos Goliat by Dawid se voete lê.

Maak die beste van jou beproewing

Blacksmith

Stuart Olyott het eenkeer in ‘n preek gesê: ‘Dit is nie beproewing wat jou heilig maak nie, maar jou reaksie daarop.’ Ons moet reg reageer op ons beproewings en dit nie mors nie. Toe ek eenkeer deur ‘n beproewing gaan, toe vra ek ‘n vriend om vir my te bid. Sy reaksie het my gehelp: ‘I want to encourage you not to waste this time of discouragement. The Puritans used to say that it was common sense to put the seal of the wax on when it was soft. You are tender right now. The wound is open… I want to encourage you to seek what the Lord can teach you in this time, while the wound is open.’

Toe John Piper jare gelede kanker kry, toe skryf hy ‘n boekie met die titel: ‘Don’t waste your cancer.’ Hy wou sy kanker gebruik om die Here te dien en te verheerlik. Ons moet so wees. Moenie heel eerste bid dat die Here die beproewing sal wegvat nie, maar dat jy daaruit sal leer. Anders is jou beproewing so sinneloos soos Israel s’n in Jes. 48.

 

  1. Skynheiligheid (v.1-2)

Het jy al ouers ontmoet wat vier of vyf keer dieselfde ding vir hulle kinders sê, omdat hulle nie luister nie? Omdat Israel nie wou hoor nie (v.8), moes die Here vier keer vir hulle sê om te luister (v.1, 12, 14, 16). Israel het gesê dat hulle God se volk is, en dat hulle uit Jakob ontspring het soos wat ‘n rivier uit ‘n fontein ontspring (v.1, Ps. 68:27). Hulle het by die God van Israel gesweer en gesê dat Hy húlle God is (v.1, Deut. 6:13, 10:20).

Maar hulle het dit nie opreg en in waarheid bedoel nie (v.1). Hulle het m.a.w. by Hom gesweer, terwyl hulle leuens vertel (Lev. 19:12, Matt. 23:16-22). Hulle het bely dat hulle Hom ken, maar hulle het Hom nie in hulle harte liefgehad nie (29:13). Hul het geroem dat hulle van die heilige stad (Jerusalem) af kom, en dat hulle op die God van Israel, die Here van die leërskare, steun (v.2). Hulle het gedink dat hierdie dinge outomaties vir hulle seën bring. Is dit enige wonder dat die Here hulle getugtig het?

Ons moenie soos hulle wees nie. Moenie in jou Baptiste, Dopper of enige ander identiteit roem, en dink dat die Here jou daarvoor sal seën as jy in die week in sonde leef nie. Moenie soos Israel die Here se Naam bely, terwyl jy ongehoorsaam lewe nie (Luk. 6:46, Tit. 1:16). Lei eerder ‘n lewe wat by jou Christelike getuienis pas (Ef. 4:1, Fil. 1:27, Kol. 1:10). Hoe mense jou by die kerk, die werk, die braai en in jou familie sien, moet met mekaar ooreenstem en ‘n geheelbeeld vorm.

 

  1. Hardkoppigheid (v.3-8)

Rifrûe is bekend vir hulle hardkoppigheid. Hulle luister vir hulleself. My rifrug luister net as dit hom pas. God het geweet dat Israel so is. Hulle was hardkoppig in Egipte, in die woestyn, in die tyd van die Rigters en Israel se konings, en met die profete. Hulle het onbuigbare en harde nekke gehad soos yster; hulle voorkoppe was soos brons sodat hulle nie van gedagte wou verander nie (v.4, Deut. 9:24, Eseg. 3:7, Hand. 7:51).

Daarom het die Here lank voor die tyd gesê dat Hy sy volk gaan bevry en nuwe dinge gaan doen. Hy het dit vooraf gesê, sodat Israel dit kon sien, hoor en die Here erken. Hy wou nie hê dat hulle moes sê hulle het dit lankal geweet, of dat hulle afgode hierdie verlossing bewerk het nie (v.5-8, Eks. 10:4). Die afgode kon nie die toekoms voorspel en dit uitvoer soos die Here nie (v.3, 41:22-23).

Maar t.s.v. die Here se voorspellings het Israel rebels gebly. Hulle ore was nie oop vir die Here nie (v.8). Hulle was ontrou en rebels soos voor hulle geboorte (v.8, Gen. 25:22, 26, Ps. 51:7, 58:4). Dit is tragies as ons soos hulle is en die beproewing nie help nie. Die beproewing is ‘n vuuroond, maar as jou hart hard is bak die beproewing jou harder.

Bid dat die Here jou hart van klip sal uithaal en vir jou ‘n hart van vlees sal gee wat sensitief is vir Hom (Eseg. 36:26). Bid vir ‘n hart wat gewillig is om te verander; ‘n hart wat sag is sodat die Here dit kan vorm. Bid vir oop ore, sodat jy kan hoor wat Hy jou wil leer (v.8, Ps. 119:71).

 

  1. Beheerstheid (v.9-11)

Wanneer ‘n pa met sy 5-jarige seuntjie stoei, hou hy terug sodat hy nie die kind seermaak nie. Die Here is so. Hy het sy krag beheer en nie vir Israel volgens haar rebelsheid gestraf nie (v.8-9). Tot sy eer het Hy die volk gered. Omdat Hy wou hê dat sy Hom moet prys en dat die nasies Hom nie moet belaster nie, het Hy haar nie afgesny nie (v.9, 11, Eks. 20:7, Eseg. 36:20-23, Matt. 6:9, Rom. 2:24).

God het sy volk uit die smeltkroes van ellende in Egipte gered (Deut. 4:20). As Hy haar soos silwer in die smeltkroes gelos het om die onsuiwerhede weg te brand, sou sy verwoes gewees het omdat sy byna nét uit onsuiwerhede bestaan het (v.10, 1:22). God se tugtiging in Babilon was ook nie genoeg om Israel se onsuiwerhede weg te vat nie (v.10, Jer. 6:29-30). Die Here moes haar weer suiwer.

Die Here doen dit met ons ook. Dit is genade, want as Hy ons in een sessie moes suiwer het Hy ons a.g.v. die sonde in ons harte weggebrand. Die Here tugtig ons nie na verdienste nie (Ps. 103:10, 130:3). Prys Hom daarvoor! Hy tugtig ons om Homself te verheerlik. Sy eer moet ook ons doel wees wanneer Hy ons tugtig (v.11).

Moenie geld, jou goeie planne, die feit dat jy koel kop gebly het, die internet, jou intellek, ander mense, of enige afgod prys as jy deur die beproewing gekom het nie. Gee aan God alleen die eer: Soli Deo Gloria (v.11). Vra jouself hoe jy Hom kan verheerlik in jou beproewing, en nie net hoe jy gou uit dit kan kom nie (v.11). Dink meer aan die heerlikheid van God as aan jou eie gemak (v.11).

 

  1. Liefde (v.12-16)

‘n Man wat aan dwelms verslaaf was het vir my gesê dat sy ma hom nooit weggegooi het nie, maar dat sy hom altyd versorg het. Israel was so. Selfs toe sy opgemors het, het die Here weer met haar gepraat en haar daaraan herinner dat sy aan Hom behoort (v.12). Die God wat haar geroep het is die Eerste uit wie alles ontstaan het, die Laaste vir wie alles bestaan (v.12, 41:4, 44:6, Op. 1:8, 17, 2:8, 22:13). Hy het die fondasie van die aarde gelê, die hemel uitgesprei, en hou alles deur sy mag in stand (v.13, 40:12, 22, 42:5, Job 38:4-7, Kol. 1:17, Heb. 1:3). Soos wat die skepping na God luister, moes Israel na Hom luister (v.14). Wat het Hy vir haar gesê?

Anders as die afgode kon die Here sy volk uit Babilon vrylaat (v.14). Hy het sy volk liefgehad en Babilon om hulle ontwil gestraf (v.14, Deut. 7:7-8). Hy het vir Kores geroep en gemaak dat hy suksesvol teen Babilon veg (v.15, 45:1-2, 46:11). Soos die Here duidelik deur Moses en die profete gepraat het, het Hy die volk duidelik van Kores vertel (v.16, 45:19). In die Nuwe Testament het Hy die Messias en die Heilige Gees gestuur om duidelik met die volk te praat (v.16, Joh. 1:1, 14, 18, 16:13). Die Drie-Enige God het met sy volk gepraat (v.16).

Hoe help v.12-16 jou in beproewing?

[a] Die ewige, Drie-Enige Skeppergod is vir jou in beproewing (Rom. 8:31). Dalk voel jy soos Job en dink jy dat Hy teen jou is, maar Hy is lief vir jou (v.14). As jy aan sy liefde twyfel, dink aan die kruis (Rom. 8:32, 1Joh. 4:10).

[b] Die Here sal jou red van die vyand wat jou onderdruk (v.14). Satan sal nie vir altyd die oorhand hê nie. “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.” (Rom. 16:20).

[c] Moenie die Bybel afskeep in jou beproewing nie. Volhard in jou stiltetyd en luister na wat die Here vir jou sê (v.16). Lees en bid veral die Psalms.

 

  1. Boosheid (v.17-22)

Waaraan dink jy as jy die woord ‘boosheid’ hoor? Verkragting, moord, seksuele losbandigheid, dronkenskap, vuil taal? In v.17-22 gaan boosheid oor Israel wat haar voordele misbruik het en nie ná die tugtiging teruggekeer het na God toe nie. Hy het haar verlos, is die Heilige van Israel en haar God, het haar geleer om voordeel te trek uit die Woord en ‘n persoonlike verhouding met Hom, en het haar op die regte pad gelei (v.17, 30:21, Ps. 25:12, 119:105).

Maar sy het nie geluister nie. Sy het die Here se gebooie geïgnoreer en sy vrede en geregtigheid wat so aanhoudend is soos ‘n rivier en die golwe van die see, verbeur (v.18). Verder het Israel ook die Here seën verbeur. Hy het haar nageslag uitgedun, sodat sy nie soos die sand van die see was nie (v.19, Gen. 13:16, 22:17).

Die Here het egter ‘n oorblyfsel uit Babilon laat terugkeer, aan haar groot blydskap gegee, en gesê dat sy dit aan die nasies moet verkondig (v.20). Hy het ook vir die volk voorsien soos Hy met die uittog uit Egipte water uit die rots voorsien het (v.21, Eks. 17:1-7). Maar Israel het die Here se goedheid verag en boos gebly (v.22). ‘Leaving Babylon, the people do not escape from their own character… To come home to Canaan is not to come back to God.’ [Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester: Inter-Varsity Press, 1993), 382].

Die vraag wat jy jouself dus in beproewing moet vra, is of jy jou sonde gelos het om terug te keer na die Here toe? Het jy jou opnuut aan Hom toegewy? Het jy Hom vir Jesus se kruisdood gedank, omdat daar by Hom oorvloedige genade is? As jy met jou sonde aanhou en nie deur Jesus se kruisdood vergifnis ontvang nie, sal jy nooit vrede hê nie (v.22, 57:21).

As die beproewing jou nie verander nie beteken dit so min soos Israel se 70 jaar in Babilon: hulle was so ongehoorsaam, boos, hardkoppig en onveranderd soos voorheen (v.22, 18, 45:25). Met dit in gedagte het ‘n sendeling eenkeer vir my gesê: ‘Learn your lessons wel, want as jy dit nie leer nie sal die Here jou daardeur vat totdat jy jou les geleer het.’

Jy sal soos ‘n perd wees wat ‘n stang in sy bek moet kry om naby die Here te bly (Ps. 32:9). Moenie so wees nie. Dit is baie beter om Petrus se raad te volg: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1Pet. 5:6-7).

 

Dodelike sondes

Deadly sins

Evagrius Ponticus (345-399 n.C.) was ‘n gelowige wat in Egipte in die woestyn gelewe het. Hy het gesê dat daar sewe dodelike sondes is waaruit die res vloei: hoogmoed, gierigheid, wellus, jaloesie, vraatsug [Eng. gluttony], toorn en luiheid. Een van sy leerlinge, John Cassian (360-435 n.C.) het Ponticus se idee populêr gemaak. Pous Gregorius die Grote het dit in die jaar 590 n.C. vereenvoudig en vasgestel. Thomas Aquinas (1225-1274 n.C.) het Gregorius se lys van sondes verdedig. In 2003 het Magnum ‘n reeks roomyse met die naam ‘Seven Deadly Sins’ uitgebring.

In Spr. 6:16-19 gee Salomo ‘n lys van sewe ander sondes wat die Here haat. Dit beteken nie dat Hy nie elke sonde haat, of dat net party van hulle dodelik is nie. Alle sonde is dodelik (Rom. 6:23). Maar partykeer som ‘n lys van sondes die res op. Daar is ook partykeer sekere sondes wat ‘n wesenlike probleem in ‘n volk of individu se lewe is. Jes. 47 lig vyf sondes uit wat Babilon se dood veroorsaak het.

 

  1. Hoogmoed (v.1-5)

Weet jou kinders wie Rudolph Valentino, Leslie Howard en Gene Kelly is? Waarskynlik nie. Hulle was akteurs in 1920’s, 30’s en 40’s. Toe hulle geleef het was hulle populêr, maar vandag weet die meeste mense nie wie hulle is nie.

Babilon was so. Sy het as die wêreld se supermag op die troon gesit, maar die Here het haar troon weggevat, haar tot in die stof verneder, en haar troon vir Persië gegee (v.1). Sy het gegaan van koningin tot slavin wat koring maal by die meulsteun (v.2). God het haar sluier afgehaal en haar koningin-rok uitgetrek. Sy moes haar rok optel om as gevangene deur die rivier te trek (v.2). Sy was naak en het skaam gekry toe almal vir haar staar (v.3).

God het wraak oor haar geneem en niemand gespaar nie. Dit het Hy gedoen omdat Hy heilig is en Babilon se trots haat (v.3-4). Hy het Babilon gestraf, omdat sy aan Israel – sy oogappel – gevat het (v.4, Ps. 17:8, 105:15, Sag. 2:8). Omdat Hy die Here van die Leërskare is kon Babilon Hom nie keer nie (v.4). Sy het in stilte in die duisternis van die hel neergedaal (v.5). Die beeldskone koningin van die aarde sou nou net ‘n skim in die doderyk wees (v.5).

Dit is hoe die Here oor hoogmoed voel. Hy haat dit en elke uitdrukking daarvan in ons lewens.

  • Die selfbejammering omdat niemand jou raaksien nie.
  • Wanneer jy alewig oor jouself praat: jou prestasiesen probleme. Ons erken en prys nie die Here nie, maar vat die eer vir onsself. Martyn Lloyd-Jones het gesê dat sondebelydenis by party mense ‘n vorm van ‘uitstalling’ is. Hulle sal selfs hulle sondes voor ander bely, solank as wat hulle oor hulleself kan praat.
  • Dagdromery oor hoe ons populêr en in die kollig
  • ‘n Gejaag na geld, duur goed, ‘n mooi lyfen nuwe klere om die aandag op onsself te vestig.
  • Wanneer jy jou ore ekstra spits as jy hoor hoe iemand jou naam noem.
  • Die begeerte om altyd eerste te wil weesen te wen – ook op die
  • Bakleieryas mense nie dinge doen soos jy wil hê nie.
  • Stres oor wat ander van jou dink.
  • Ongeskiktheid, omdat jy nie omgee wat ander van jou dink ‘Hulle kan by mýaanpas,’ is wat jy vir jouself sê.
  • ‘n Gevoel van skaamtevir Jesus en die
  • Selfregverdigheid. Jy erken nie as jy verkeerd is nie, en sê ook nooit jammer Jy blameer jou omstandighede of ander mensevir jou probleme.
  • Biddeloosheid. Jy vertrou nie die Here vir jou problemenie, maar dink dat jy dit self kan
  • Murmurering oor jou Jy dink jy verdien beter. Dankbaarheid is nie deel van jou lewe nie. Jy dink dat die goeie dinge wat met jou gebeur jou toekom.
  • ‘n Begeerte om bekend te staan as iemand wat nederigis.

 

Hoogmoed het die duiwel die duiwel gemaak. Hoogmoed het hom tot ‘n val gebring (1Tim. 3:6). As jy hoogmoedig is, is jy soos hy. En as jy soos hy is sal die Here jou tot in die stof in verneder; as jy nederig is sal Hy jou uit die stof optel en tot die troon verhef (v.1, 1Sam. 2:8, Ps. 113:7-8, 147:6, Luk. 1:52). Verneder jouself dus voor die Here, sodat Hy jou kan verhoog op die regte tyd (Jak. 4:10, 1Pet. 5:6).

Hoe moet jy jouself verneder? Dink aan hoe groot die Here is en hoe sondig jy is. Die kruis sal dit vir jou wys. Bely jou hoogmoed en bid vir nederigheid. Dank die Here gereeld en erken dat jy nie sy goedheid verdien nie. Dink daaraan dat die Here die hoogmoedige weerstaan. Vermy hoogmoedige mense en maak vriende met nederiges (Spr. 13:20). Beskou jou beproewing, mense se kritiek, leuens wat teen jou vertel word, Satan se aanvalle, jou mislukkings en jou eie sonde as God se manier om jou te verneder (2Kor. 12:7).

 

  1. Ongenaakbaarheid (v.6)

Toe ek op Sem was het rowers die ou tannie oorkant die pad met ‘n geweer geslaan. As ons nie daar aangekom het nie, het hulle haar dalk doodgemaak. Rowers het ‘n tannie wat in ons gemeente was se suster vermoor. Ou mense in ons land word wreedaardig op hulle plase vermoor. ‘n Dronk motoris het sy humeur verloor en ‘n ou man wat in my skoonma se kerk was geslaan. Die oom is hospitaal toe en het twee of drie later gesterf.

Die Babiloniërs was soos hierdie mense. God het hulle teen Israel gestuur om hulle vir hulle afgodery te straf (v.6). Maar in sy toorn het Hy barmhartigheid onthou (Hab. 3:2). Die Babiloniërs was egter ongenaakbaar en het selfs op die ou mense ‘n swaar juk geplaas (v.6). Die Here is meer genadig as mense (2Sam. 24:14).

Hoe tree jy op teenoor ou mense: jou oupa en ouma, jou bejaarde ouers, ou mense in die kerk, ens.? Irriteer hulle jou? Praat jy hard met hulle – is jy ongeskik? Is jy genadeloos omdat hulle stadig, oud en vergeetagtig is? Ignoreer jy hulle? Maak jy hulle miskien fisies seer, soos ‘n jong lafhart wat op RSG ingebel het: ‘Die mense moet asb. vir my bid; ek slaan my ma verskriklik’?

As jy hierdie dinge doen sal die Here jou vergeld (v.3b). Daar sal nie genade wees vir jou nie: “Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie” (Jak. 2:13).

 

  1. Kortsigtigheid (v.7-8a)

Hansie en Grietjie het by ‘n huis gekom wat van lekkergoed gemaak is. Die heks het dit gedoen om kinders uit te vang. Jy is kortsigtig as jy net die lekkergoed sien, en nie ook die pot waarin sy kinders kook en eet nie.

Babilon was kortsigtig. Sy het dink dat sy vir altyd as koningin sou sit, en dat sy kan doen wat sy wil (v.7). Sy het gedink die Here sal haar nie oordeel nie (v.7). Sy het vir die hier en nou gelewe, vir die wellus en die plesier (v.8a). Moenie soos Babilon vir die plesiere en welluste van die oomblik lewe nie: populariteit, wêreldse rykdom, sukses, seks, drank, en alles wat jou hart begeer (v.7-8, 2Tim. 3:4). Geniet wat die Here jou gee, maar dink ook aan die toekoms:

[a] As jy vir die wêreld lewe en die plesiere wat God jou gee aanbid en bo Hom stel, sal jy hel toe gaan (v.7, Pred. 11:9, Mark. 8:35-36, 1Joh. 2:15-17).

[b] As jy modderwater-plesiere van die wêreld vir die ewige plesiere van Jesus Christus verruil, sal jy hemel toe gaan (Jer. 2:13, Joh. 4:14).

Sien die tydelike wêreld in die lig van die ewigheid hierna. Bid saam met Jonathan Edwards: ‘Oh God, stamp eternity on my eyeballs!’

 

  1. Selfgenoegsaamheid (v.8b-10)

Die HAT se definisie van selfgenoegsaamheid sê: ‘Tevrede met homself; wat geen ander, niks anders nodig het nie.’ Eintlik is dit maar ‘n vorm van hoogmoed. Dit is soos ‘n kind wat dink hy kan self ‘n hoë druk tuinslang vashou. Eers as hy homself natspuit en huil, vra hy vir hulp.

Babilon het glad nie eers hulp gevra nie, maar was selfgenoegsaam totdat die skip gesink en onder die water verdwyn het. Sy moes na die Here luister, maar het veilig gevoel asof niemand haar van die troon kon afskuif nie (v.8).

Ons land se leiers is so. Hulle sit veilig agter hulle rykdom, duur karre en groot huise. “Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos ‘n steil muur in sy verbeelding.” (Spr. 18:11). Hulle dink dat niks hulle kan stuit nie. Sommige mense voel geestelik selfgenoegsaam omdat hulle gedoop is, of omdat hulle op die lederol van ‘n kerk is (Amos 6:1). Moet egter nie veilig voel omdat jy uiterlik met die kerk assosieer nie. Net in Jesus is jy veilig. Moenie genoegsaam voel in jouself nie, maar in Hom.

God ken ons gedagtes (Ps. 139:1-4). Hy weet dat Babilon in haar hart teen Hom gepraat het (v.8, 10). Sy het gesê: “Dit is ek en niemand anders nie!” (v.8, 10). Haar bedoeling was: ‘EK IS en daar is niemand anders nie.’ Sy het God se Naam van haarself gebruik (Eks. 3:14-15). Dit is arrogant. Sy het gedink dat sy ‘n selfgemaakte koninkryk is. Sy het gedink dat daar niemand buiten haar is nie (v.8, 10, kontra 45:5). Sy het haarself bo die Here verhef.

Ateïste dink so: ‘Daar is niemand buiten die mens nie; daar is geen God nie.’ Misdadigers dink so: ‘Niemand anders se lewens tel nie; net myne.’ Alle sondaars dink so: ‘Ek gee om vir niemand anders nie. Solank ék my sin kry, gee ek nie om of God se eer in die proses skade ly en mense seerkry nie.’

Vergeet van jouself. Klim van jou troon af. Sien jouself in die lig van wie God is. Doen wat Jesus in Luk. 9:23 gesê het: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”

Babilon het verder gesê: ‘Ek sal nie ‘n weduwee wees en my kinders verloor nie’ (v.8). Maar sy het beide op een dag en binne ‘n oomblik verloor (v.9, Op. 18:7-8). Soos ‘n vrou wat haar man verloor, het sy haar stabiele hede verloor. Soos ‘n ma wat haar kinders verloor, het sy alle hoop op die toekoms verloor. Babilon het in een nag tot ‘n val gekom (Dan. 5:28, 30).

Onthou asb. dat jy, soos Job, alles in ‘n oomblik kan verloor (Job 1). Moet daarom nie selfgenoegsaam wees en sê: ‘Alles gaan goed; wat kan nou verkeerd loop?’ nie. Toe Dawid so dink het dinge skeef geloop: “Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie. HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg—ek het verskrik geword!” (Ps. 30:7-8).

Erken dat alles wat jy het van God af kom. Sonder Hom is jy niks, het jy niks, en kan jy niks doen nie (Joh. 15:5, Hand. 17:25, 28, 1Kor. 4:7).

 

  1. Towery (v.9-15)

‘n Spiritiste Medium in die suide van Wallis het gesien hoe mense na Martyn Lloyd-Jones se kerk toe gaan. Sy het gaan inloer en tot bekering gekom. Sy het later vir iemand gesê: ‘The moment I entered your chapel and sat down on a seat amongst the people, I was conscious of a supernatural power. I was conscious of the same sort of supernatural power as I was accustomed to in our spiritist meetings, but there was one big difference; I had a feeling that the power in your chapel was a clean power.’ [Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1982), 221].

God se krag is nie net skoon nie, maar baie groter as die krag van Satan se towery. Babilon se towery kon nie die tragedie keer toe God koning Kores van Persië teen haar stuur nie (v.9, vgl. 1Sam. 28). Babilon het gedink dat haar onsigbare mag en geheime kennis van die toekoms die vyand sou keer en haar beskerm (v.10-11). Maar God wat alles sien het Kores so onverwags soos ‘n vrag bakstene op Babilon laat afkom (v.10-11). Haar towery kon haar nie help nie. Die Here was sarkasties hieroor en het gesê:

‘Staan vas in jou towery. Dit sal jou help soos in jou kinderdae. Dit is mos BAIE suksesvol. Dit sal Kores keer en hom skrik maak! (v.12). Luister Babilon: jou towery put jou uit. Jy hardloop van een towenaar na die volgende. Jy weet nie wie reg is en wie se raad om te volg nie. Laat die towenaars jou van Kores red. Dalk kan die sterre in die hemel en die maan jou help: lunartics! (v.13). 

 ‘Jou towenaars help nie, maar is petrol op die vuur. Dit is verseker nie ‘n snoesige kaggelvuur nie, maar die vuur van God se toorn wat jou soos stoppels sal verteer (v.14, Heb. 12:29). Waar is jou towenaars nou? Elkeen hardloop na sy huis toe en kan jou nie help nie. Van jongs af mors hulle jou tyd en geld. Hulle kan jou nie uit God se hand red nie (v.15).’

Moet daarom nie op towery vertrou nie. Voorvadergeeste en toordokters kan nie die mense in Afrika-kulture teen armoede, siekte, probleme en die dood beskerm nie (v.9-11). Net so kan mense se sg. mag om lewe en dood te spreek, professionele bevryders, en olyfolie op jou deurkosyne jou nie teen beproewings, skelms, demone en siektes beskerm nie. Om so te dink is bygelowig. Vra eerder die soewereine God om jou te beskerm. Glo dat Hy selfs die slegte dinge in jou lewe tot jou voordeel kan uitwerk (Rom. 8:28).

Bly weg van towery, kommunikasie met die dooies, palmlesers, mediums, en die navolging van jou sterretekens in die Huisgenoot of die koerant (v.13, Deut. 18:9-14). Jy sal rondhardloop van een persoon of plek na die volgende toe, omdat hulle jou nie kan red nie. Jy sal jouself uitput, jou geld mors, en in die hel beland (v.13-15, Gal. 5:20-21, Op. 21:8).

Vind eerder rus, hulp en verlossing in Jesus en die Bybel (8:19-20, Matt. 11:28). In sy dood het Hy die dodelike sondes doodgemaak. Aan die kruis het Hy ons sondige rekords tot niet gemaak. As jy in Hom glo en jou bekeer, sal Hy jou sonde in die diepste see gooi, dit van jou verwyder so ver soos die ooste van die weste af is, en dit uitvee soos ‘n miswolk.

Nou en dan sal hierdie sonde nog kop uitsteek soos ‘n ou 1c in ‘n winkel se til. Maar deur die proses van heiligmaking is Jesus besig om ons te reinig. As jy eendag jou asem uitblaas sal daar nie ‘n enkele sonde oor wees nie, maar sal dit saam met jou liggaam in die graf lê. As Jesus weer kom sal Hy jou liggaam opwek, maar sal jou sonde dood bly en nooit weer lewe nie.