Jou oupa se God

Grandfather's God

Ek bedoel nie dat almal se oupas die Here gedien het nie. Ek probeer eerder om die moderne sentimentele god met die God van jou oupa se tyd te kontrasteer. Die god van ons dag kan net iets doen as ons ‘lewe spreek’ of vir Hom toestemming gee. Maar in jou oupa se tyd was die mens niks sonder Here nie en kon ons niks doen nie. God was soewerein en het gedoen wat Hy wou.

Ek glo nie dieselfde as John Wesley oor die uitverkiesing nie. Maar Wesley se hoë siening van God maak dat mense in my kamp (Calviniste) respek het vir hom. Spurgeon het bv. gesê dat as twee apostels by die groep gevoeg moes word, John Wesley ongetwyfeld een van hulle sou wees [Randy Alcorn, hand in Hand (Colorado Springs: Multnomah Books, 2014), 189-190]. Volgens Iain Murray kan ons baie by John Wesley leer. [Iain Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), 135-165. Sien ook Wesley and the Men who Followed (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2003) deur dieselfde outeur]. T.s.v. die verskille tussen hulle, was George Whitefield en John Wesley goeie vriende.

Calviniste en Arminiane verskil al vir eeue, maar beide groepe het respek vir mense soos D.L. Moody, Charles Spurgeon en A.W. Tozer. Hoekom is dit so? Dit is omdat hierdie mense, t.s.v. hulle teologiese verskille, die Here liefgehad het en ‘n hoë siening van Hom gehad het. Dit is wat ek bedoel met ‘jou oupa se God’. Ek praat van die God van Jes. 46:8-13.

 

  1. Die enigste God (v.8-9)

Ek het onlangs van ‘n kerk gehoor waar die ds. soos volg gebid het: ‘Ons moeder wat in die hemel is…’ Toe iemand daarop reageer, toe sê die kerk: ‘Elkeen moet doen soos hy gemaklik voel.’ Maar dit is postmodernisme, waarin elkeen vir hom- of haarself kan kies wat waar is. Daar bestaan dus nie so iets soos absolute waarheid nie.

As ons ‘n stap verder gaan kom ons by godsdienstige pluralisme, waarin alle paaie na die hemel toe lei (in teenstelling met Joh. 14:6, Hand. 4:12). Hierdie mense sal sê: ‘As Islam of die voorvader geeste vir jou werk, is dit so goed soos Jesus en die godsdiens van Bybel.’

Jesaja verskil. Israel moes weet en verstaan dat die afgode dood is (v.1-2, 6-7). Die God van die Bybel is uniek en die enigste God (v.5, 8-9, hfst. 45, Deut. 6:4, 1Kor. 8:4-6). Israel moes in hierdie waarheid vasstaan en nie wankel nie (v.8).

Hulle moes hulleself aan God en sy werke in die verlede herinner: die tien plae, die Rooi See, sy voorsiening in die woestyn, die Tien Gebooie, die tabernakel, die Jordaan rivier, die Beloofde Land, die Rigters, die konings, die profete, ens. (v.8-9). Deur dit te doen sou hulle nie na ander gode toe draai en teen die Here oortree nie (v.8).

Jy moet dieselfde doen en aan die Here se werke in jou lewe dink: jou redding, God se antwoorde op gebed, sy ingrype in krisisse, ens. Dink aan sy werk in jou gesin, die gemeente en die kerkgeskiedenis. Dit sal jou help met die probleme wat jy tans beleef, asook met die probleme wat jy in die toekoms gaan teëkom (2Kor. 1:10).

 

His love, in time past,

Forbids me to think

He’ll leave me at last

In trouble to sink

-John Newton-

  1. Die soewereine God (v.10-11)

Ek was op ‘n kamp waar die spreker gesê het dat hy vir ons gaan bid om in tale te praat. Hy het Luk. 11:13 gebruik om sy praktyk te regverdig: “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”

Maar die vers gaan nie eers oor die gawe van tale nie. Ons maak soms met die Bybel soos wat Snoopy en Charlie Brown met hulle legkaart toe hulle daarop spring om te maak dat die stukke pas: ons verdraai tekste, sodat dit by ons teologie pas.

Sê asb. vir my as ek Jes. 46 en ander Bybeltekste verdraai. Maar as ek dit nie verdraai nie moet jy jou aan die Skrif onderwerp (al stem my interpretasie nie ooreen met wat jy voorheen geglo het nie).

Anders as die gode van silwer en goud, kondig die Here die einde aan van die begin af, van ouds af, van die ewige verlede af (v.10, 41:22-23). Hy spreek van dinge wat nie bestaan nie nog voordat dit gebeur. Hy praat nie net nie, maar doen. Hy het bv. volgens sy raadsplan vir Kores soos ‘n arend uit die ooste geroep om vir Babilon te vang en Israel vry te laat (v.10-11, 44:28, 45:1-4, 13, Eseg. 17).

Daar bestaan dus nie so iets soos blinde geluk of toeval nie. Die outeur van The Secret (Rhonda Byrne) laat dit klink of die heelal alles bepaal. Party Christene leef asof die duiwel alle lyding veroorsaak. Ander dink weer dat ons vrye wil alles bepaal. Hulle sê dat God vooruit gesien het wat ons sal kies en dat Hy daarby inpas.

Maar volgens v.10 en die res van die Bybel sal God se raad vasstaan en doen Hy wat Hy wil (Ps. 115:3). Geen mens, duiwel of iets anders kan sy planne keer nie. Hy maak nie ‘n plan B nie. Hy herbereken nie soos jou GPS nie. As Hy iets wil doen voer Hy dit uit (v.10, 14:24, 27, Job 42:2, Dan. 4:35).

 

[a] Hy beheer die geskiedenis (v.11, Jes. 45, Luk. 2:1-7).

[b] Hy besluit wat met die nasies gebeur, waar hulle bly en vir hoe lank hulle bestaan (Job 12:23, Ps. 33:10-11, Hand. 17:26).

[c] Hy stel konings aan en af, en beïnvloed hulle besluite (Spr. 21:1, Dan. 2:21).

[d] Hy bestuur alledaagse gebeure soos ‘n mossie wat op die grond val of ‘n haar wat van jou kop af val (Matt. 10:29-30).

[e] Hy beheer sg. geluk: ‘n swerfkoeël wat iemand tref of ‘n dobbelsteen wat op 3 val (1Kon. 22:23, 34, Spr. 16:33).

[f] Hy is soewerein oor elke skepsel (Ps. 135:6, Kol. 1:17, Heb. 1:3).

  • Hy besluit bv. waar beeste loop (1Sam. 6).
  • Hy het die vis, die wurm, die son en die plant in Jona beheer.
  • In Matt. 17 het Hy gemaak dat daar ‘n muntstuk in die vis se mond is.
  • In 1Kon. 17 het Hy die kraaie beveel om vir Elia kos te vat.
  • In 2Kon. 17 het Hy leeus gestuur om mense te vang, en in Dan. 6 het Hy die leeus verbied om vir Daniël te byt.
  • In 2Kon. 2 het Hy bere gestuur om rebelse kinders te verskeur.
  • In 2Kon. 9 het Hy honde gestuur om Isebel se lyk te eet.
  • Volgens Ps. 148:8 voer vuur, hael, sneeu, miswolke en stormwinde sy bevele uit.

[g] Hy is soewerein oor die moederskoot. Hy besluit of en wanneer ‘n vrou kinders kry of nie (Gen. 29:31, 30:2, 22, 1Sam. 1:6, 11, 20, 2:21).

[h] Hy bepaal die tyd en plek van jou geboorte, die detail van jou lewe, hoe lank jy lewe, asook hoe en wanneer jy doodgaan (Deut. 32:39, 1Sam. 2:6, Job 14:5, Ps. 139:16, Spr. 16:1, 9, 19:21, 20:24, Pred. 3:1-8, Jer 15:2-3, Jak. 4:13-15, Op. 1:18).

[i] Hy besluit wanneer jy siek of gesond is, en watse siekte jy kry (Eks. 4:11, Deut. 32:39).

[j] Hy besluit wie ryk en arm is (1Sam. 2:7).

[k] Hy stuur rampe oor ‘n stad, gebied of land (45:7, Eks. 7-12, Klaagl. 3:37-38, Amos 3:6).

[l] Hy is soewerein oor Satan en demone, sodat hulle nie kan doen wat hulle wil nie (Job 1:12, 2:6, Matt. 4:10-11, 8:31-32).

[m] Hy is soewerein oor alles (Ps. 103:19, Ef. 1:11, Rom. 11:36).

 

There’s not a sparrow or a worm

Overlooked in His decrees;

He raises monarchs to a throne,

Or sinks with equal ease.

-Isaac Watts-

Laat hierdie waarheid jou help en aan jou vrede gee in beproewing. Die Here het Kores beheer en hom vir Israel se beswil gestuur (v.10-11, 3-4).

Dit geld nie net vir Israel nie, maar vir almal wat Hom liefhet en volgens sy besluit geroep is (Rom. 8:28). Moet dan nie jou beproewings of die toekoms vrees nie, maar vertrou die Here. Moet ook nie bygelowig wees asof die uil op jou dak, die swart kat in jou erf, of die halsnoer om jou nek goeie of slegte geluk bring nie. Die Here beheer alles. Vertrou Hom en bid tot Hom.

God se soewereiniteit moet jou ook help om nie bitter te raak as iemand jou lelik kritiseer of sleg behandel nie. Selfs sonde is binne die Here se raadsplan. Jesus, Josef en Dawid het dit geweet en kon daarom hulle vyande vergewe (Gen. 45:5, 8, 50:15-21, Ps. 105:17, Hand. 2:23, Hand. 4:27-28, Luk. 23:34, 2Sam. 16:10-11, 19:18-23).

Maar maak dit nie dat God die outeur van sonde is nie? Nee. Randy Alcorn sê: ‘God isn’t the author of evil, but He is the author of a story that includes evil’ [Ibid., 43]. Vat bv. Shakespeare se toneel MacBeth. In die toneel vermoor MacBeth vir king Duncan. Het Shakespeare king Duncan se dood veroorsaak? Ja. Maar het Shakespeare king Duncan vermoor? Nee, MacBeth het [Wayne Grudem, Systematic Theology (Nottingham: Inter-Varsity Press, 1994, 2007), 322]. Net so speel sonde ‘n rol in God se plan, maar Hy is nie die Een wat sonde doen nie.

‘Maar as God alles bepaal is die mens ‘n robot,’ sê iemand. Dis nie waar nie. God se beheer en die mens se besluite is eerder soos man wat ‘n visbak van die sitkamer na die kombuis toe dra, terwyl die visse swem waar hulle wil. Die visse is onder die man se beheer, maar swem nog steeds waar hulle wil [Alcorn, Ibid., 178].

Net so sondig die ongelowige deur sy eie wil, maar voer hy terselfdertyd God se raadsplan uit. En as die gelowige kies wat goed is, maak God hom gewillig (Fil. 2:12-13).

God vervul sy raadsplan deur jou en my aksies. Ons kan dus nie passief terugsit en sê: ‘God sal sy planne uitvoer, of ek nou bid, besluite neem en ‘n aktiewe rol speel of nie.’ Die waarheid is eerder dat God jou beskerm deurdat jy jou traliehek sluit en jou sitplekgordel vasmaak [Ibid., 160].

Vermy daarom alle sonde. Neem besluite, bid, tree aktief op en doen wat God in die Bybel sê. Doen hierdie dinge al weet jy nie hoe God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid saamwerk nie. Los dit vir Hom om te verstaan.

 

  1. Die reddende God (v.12-13)

Hettie is in 1999 gebore. Die evangelie wat sy in die kerk hoor klink so: Jesus is lief vir jou en het vir jou gesterf. Hy het ‘n goeie plan vir jou lewe. Moenie sonde kies nie, maar gee jou hart vir Jesus en lewe vir Hom.

Hettie se oupa is in 1930 gebore. Die evangelie wat hy gehoor het klink so: A.g.v. die mens se sonde is sy hart hard en luister hy nie na God se wet nie (v.12). Ons is ver van God se geregtigheid af (v.12, Rom. 3:23).

God is genadig en het deur Jesus se lewe en kruisdood die geregtigheid voorsien wat ons nodig het om voor Hom te staan (v.13, 2Kor. 5:21). Ons ontvang hierdie geregtigheid deur die geloof (Rom. 1:17, Rom. 3:21-4:25, Fil. 3:9).

God verklaar ons regverdig, maar skryf ook die wet op ons harte en stel ons in staat om dit te doen. Sy geregtigheid is naby ons: op ons rekord en in ons harte (v.13, Rom. 10:5-10). Die Heilige Gees maak dat ons in realiteit regverdig word volgens die geregtigheid wat ons reeds in die hemel op ons rekords het. Ons lewe hierdie geregtigheid uit in die kerk waar die Heilige Gees ons lei om ons aan die Bybel te onderwerp.

Die evangelie wat Hettie hoor hang af en wag vir die sondaar om sy hart vir Jesus te gee. Die Bybelse evangelie wat Hettie se oupa gehoor het wag nie vir ons om iets te doen nie. God neem die iniasitief. Hy vertoef nie. Hy het bv. vir Kores gestuur om Israel te bevry (v.13). Dit was maar net ‘n voorskou van sy plan om die Messias te stuur om vir sy volk se sondes te sterf (Matt. 1:21).

Vra jy vir verlossing, maar die Here vat lank? Vra jy vir vergifnis, maar jy voel nie anders nie? God sal nie vertoef nie (v.13). Hy sal binnekort kom om jou te red. Is jy ‘n gelowige wat vra hoe lank die beproewing nog sal aanhou (Ps. 6:4)? Hoe lank sal dit voel of die Here my vergeet het en Homself vir my wegsteek (Ps. 13:2, 89:47)?

Hoe lank sal ek worstel en dit lyk of die vyand wen (Ps. 13:3, 35:17)? Hoe lank sal God stil wees en ons gebede onbeantwoord laat (Ps. 74:9, 80:5)? Hoe lank sal mense sy Naam laster en Hy hulle nie straf nie (Ps. 74:9-10)? Hoe lank sal Hy nog kwaad wees en ons tugtig (Ps. 79:5)? Hoe lank sal ons in ‘n wêreld lewe waar ons geliefdes sterf (Ps. 90:13)? Hoe lank sal goddelose mense God se kinders onderdruk (Ps. 94:3, 119:84)?

God sal nie meer lank vat nie, maar jou binnekort help (v.13, Luk. 18:7-8). Bid dat Hy gou sal terugkeer om ons uit hierdie wêreld te red: “Maranáta!” (1Kor. 16:22).

God het belowe om sy verlossing na Jerusalem of Sion toe te stuur (v.13). Hy het dit vervul toe Hy vir Kores stuur om Jerusalem te laat herbou (44:28, 45:13). Hy het dit finaal vervul deur Jesus wat in Jerusalem gesterf het, die Gees uitgestort het in Jerusalem en die evangelie laat versprei het vanuit Jerusalem. Dit is verder vervul in die kerk wat die Nuwe Jerusalem is, en die Nuwe Jerusalem wat uit die hemel sal neerdaal wanneer Jesus weer kom.

Die evangelie van Hettie se kerk laat haar nie aan God se verlossing in die ou- en Nuwe Jerusalem dink nie. Haar kerk fokus byna uitsluitlik op materiële voorspoed in die hier en nou. Haar godsdiens draai om die mens en is anders as haar oupa s’n.

Die evangelie wat haar oupa geglo het gaan nie oor wat ons vir die Here kan doen nie. Dit het eerder gegaan oor God wat sy volk verlos om sý heerlikheid te wys (v.13, Matt. 5:16, Rom. 8:18, Ef. 1:6, 12, 14, 2Tess. 1:10, 1Pet. 2:9, 12). Dit het alles oor Hom gegaan en nie oor die mens nie. Hettie se oupa het geglo dat ons maar net die bevoorregtes is wat God se heerlikheid kan sien en dit vir ewig geniet.

Vergeet van die hulpelose god van Hettie se kerk, die god van populêre outeurs vir wie alles oor die mens gaan. Keer terug na jou oupa se God toe; die God van ons vaders; die God van Abraham, Isak, Jakob.

“So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel…” (Jer. 6:16).

Donald Trump: die Here se herder

Donald Trump with shepherds crook

In die Ou Testament het Egipte se Farao’s en die konings van Babilon geglo hulle is gode. In die vorige eeu het mense Adolf Hitler, Haile Selassie en ander diktators as messiase beskou. Volgens die media dink Julius Malema dat hy die messias van ons tyd is wat Suid-Afrika gaan red. In Noord-Korea dink Kim Jong-un se mense dat hy ‘n god is.

Is dit dan nie lasterend as my tema impliseer dat Donald Trump die Here se herder is nie? My punt is nie spesifiek dat Donald Trump die Here se herder is nie. Ek gebruik hom eerder as ‘n voorbeeld om te wys dat konings partykeer optree om die kerk te bevoordeel. En dit is daardie opsig wat hulle sy herders is. So leer Jes. 44:28 vir ons: “…Kores…is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag…” Dit is ook waaroor Jes. 45:1-13 gaan.

1. Kores en die nasies (v.1-8)
Keiser Konstantyn was die Here se herder in die 4de eeu n.C. Kort nadat hy oor ‘n deel van die Romeinse Ryk begin regeer het, het hy wette gemaak om die kerk te beskerm.

Op ‘n soortgelyke wyse was Kores die Here se herder. God het hom 150 jaar voor sy geboorte gekies. Hy was die gesalfde in God se regterhand (v.1, vgl. 1Sam. 24:6). Hy het God se volk uit Babilon bevry en die tempel in Jerusalem laat herbou (v.4, 13, 44:28).

Hy was ‘n voorskou van die Gesalfde of Messias aan God se regterhand (Ps. 110:1). Tydens die Messias se 33 jaar op aarde het God sy regterhand vasgehou om sy taak te volbring (Ps. 16:8).

God hou ook jou regterhand as jy in Jesus glo (41:13, Ps. 121:5). Hy hou dit wanneer jy beproef word, of as jy onseker, verward, angstig, bang, rigtingloos, hartseer, ens. is.

God het die nasies voor Kores oorwin en konings se gordels losgemaak sodat Kores oor hulle regeer het (v.1, 22:21, Job 12:21). Hy het stadshekke en paleisdeure oopgemaak sodat Kores maklik kon ingaan (v.1). Hy het voor Kores uitgetrek en die hoogtes (nasies en konings) voor hom gelyk gemaak (v.2, 2:14).

Ook in hierdie verband was Kores ‘n prentjie van God wat besig is om die Messias se vyande onder sy voete te plaas (Ps. 2:8-12, 110:1). Jesus sal regeer totdat al sy vyande onder sy voete is (1Kor. 15:25). Al lyk dit dus of die kerk verloor, sal dit op die einde triomfeer.

God sal die deure open en hindernisse verwyder, sodat lande soos Noord-Korea en Soedan nie vir altyd die evangelie sal kan uithou nie (v.1-2, Sag. 4:6-7, Mark. 11:23, Op. 3:7-8). ISIS sal nie die laaste lag hê nie, en die 10/40 venster sal nie vir altyd onder Islamitiese bewind wees nie. Dit behoort aan Jesus. Hy het die sterk man (Satan) gebind en sal terugvat wat die Vader aan Hom gegee het (Matt. 12:29, 28:18, Ps. 2:8). Koperdeure en ystertralies kan Hom nie keer nie (v.2, Ps. 107:16, Matt. 16:18).

God het verder vir Kores die skatte gegee wat die Babiloniërs en ander nasies in donker en geheime plekke weggesteek het (v.3). Deur hierdie voorspellings het Kores geweet dat die Here hom by die naam geroep het om sý taak uit te voer (v.3-5, 41:22-23). God het sy naam gekies en hom tot Israel se voordeel geroep (v.4, 1). God het vir Kores geken, al het Kores Hom nie geken nie (v.4-5).

Net so ken die Here jou. Hy het jou gekies en jou voor die skepping en jou geboorte liefgehad (Gal. 1:15, Ef. 1:4, 2Tim. 1:9). Moet dan nie sy liefde betwyfel wanneer dit met jou sleg gaan nie. Hy het jou van die ewige verlede af liefgehad (Jer. 31:3).

Hy is die soewereine Here, EK IS WAT EK IS, onafhanklik, onveranderlik, en ewig (v.5). Kores moes Israel vrylaat sodat die nasies van oos tot wes kon weet Hy is die enigste God (v.5-6, 22, Ps. 113:3, Mal. 1:11, Op. 5:9, 7:9). Hy het lig en donker geskep, voorspoed en teëspoed (v.7). Hy het alles gemaak (v.7).

Dit beteken dat terminale kanker, die brand in Knysna, ‘n kind wat verdrink, die droogte in die Kaap, ‘n leeu wat ‘n mens vang nie buite sy beheer is nie (v.7, Deut. 28:23-24, Job 1-2, Ps. 148:8, 2Kon. 17:25, Klaagl. 3:37-38, Amos 3:6).

Maar wat van Satan en sonde? God het nie boosheid geskep soos wat ‘n Hindoe in Nelspruit vir my gesê het toe hy Jes. 45:7 lees nie. En tog gebruik die Here die duiwel en sonde om sy goeie planne uit te voer (Gen. 50:20, Hand. 2:23). As ek dit nie mis het nie was dit Walter Kaiser wat gesê het: ‘God uses sin sinlessly.’

Wat moet jou reaksie hierop wees? Moenie die Here beskuldig en Hom die outeur van sonde maak as jý self gekies het om te sondig nie (Jak. 1:13). Vrees Hom eerder wat alles beheer. Rus in Hom en weet jy is in goeie hande.

Hy is God wat sy geregtigheid en verlossing soos reën uit die hemel stuur, sodat dit goeie vrug voortbring soos die aarde ná ‘n lekker reënbui (v.8, 55:10-11, Hos. 10:12). Dit is gedeeltelik vervul toe God Kores gestuur het om die volk te bevry. Uiteindelik word dit egter in die Messias vervul:

  • Hy het uit die hemel gekom om ons te red (v.8).
  • Hy het die Heilige Gees uit die hemel gestuur om ons te wederbaar en goeie vrug in ons lewens voort te bring (v.8).
  • Hy sal weer uit die hemel kom om ‘n nuwe hemel en aarde te skep waarin geregtigheid woon (v.8).

Het jy deel hieraan? Is jy van jou sonde en God se oordeel gered? Is jy ‘n nuwe mens, anders as voorheen (v.8, 2Kor. 5:17)? Dra jy die goeie vrug van bekering (v.8, Joh. 15:1-8, Gal. 5:22, Fil. 1:11)?

2. Die pottebakker en die ouer (v.9-13)
George Müller het vir weeskinders gesorg en die Here vertrou om vir hom geld te voorsien. Soms het hy groot bedrae gekry. Maar by tye het die Here bietjie vir bietjie voorsien. Hy het die Here vir beide geprys en dit as sý voorsiening beskou.

Israel het nie. Toe hulle uit Egipte trek toe gebruik die Here vir Moses en toe red Hy hulle deur die tien plae en die Rooi See wat oopgaan. Maar toe Hy hulle uit Babilon red toe gebruik hy die heidense Kores sonder enige wonderwerke. Om hierdie rede het hulle teen die Here gekla.

Maar wie is die pot om vir die Pottebakker te sê dat Hy verkeerd werk (v.9, 64:8, Gen. 2:7, Job 33:6, Ps. 2:9, Pred. 6:10, Jer. 18:1-6, 2Kor. 4:7)? En sal ‘n ongebore kind vir sy pa sê hoe en wat hy moet verwek (v.10)? Sal ‘n kind vir sy ma sê óf en wanneer sy swanger moet raak, en wat die kind se geslag moet wees (v.10)?

Net so kon Israel nie vir die Here voorskryf wat Hy met die werk van sy hande mag en nie mag doen (v.11). God het Kores, Israel en die mensdom gevorm, verwek en gebaar, en daarom kon Hy met hulle doen wat Hy wou (v.9-10).

Vir Israel wat die toekoms wou beheer het God gesê: ‘Wil julle nie asb. vir my sê wat Ek moet doen nie? Ek weet immers nie hoe nie, aangesien Ek maar net die mens, die heelal en die sterre geskep het (v.11-12, 40:22, 26, 42:5, Gen. 1-2, Ps. 147:4)!’

‘Basta!’ is wat my oom sou sê. God het alles geskep en beheer die geskiedenis. Hy het nie verkeerd gedoen om die heidense Kores op te wek nie (v.13). Hy het Kores se weë gelyk gemaak om Jerusalem te herbou en die Jode vry te laat (v.13, 2, 44:28). Kores het nie beloning of betaling gesoek nie (v.13), maar die Here van hemelse weermag het dit vir hom gegee (43:3-4).

Die Here is ook soewerein oor jou lewe. Jy het nie self gekies om te lewe nie. God het besluit. Hy het jou geslag, asook die dag en plek van jou geboorte gekies. Hy het ook voor jou geboorte gekies om jou te red; Hy het jou gekies nog voordat jy Hom gekies het (Joh. 1:12-13, 15:16, Hand. 13:48, Rom. 9:11-13). Soos die pottebakker en die ouer het die Here nie jou toestemming nodig gehad om jou nuut te maak en te red nie. Dit gaan oor die pottebakker en ouers se besluit, en nie oor die kleipot en kind wat gebore word nie (v.9-11, Rom. 9:14-18). Wat beteken dit prakties?

God kan maak wat Hy wil, soos Hy wil. Hy het alles geskep en kan ook met ons doen wat Hy wil. Dit is niks van jou besigheid as Hy Kores kies om Israel te bevry, of as Hy Jakob kies en nie vir Esau nie (v.9-11). Moet Hom dan nie bevraagteken nie:

“Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rom. 9:20-21).

Buig eerder nederig en vra dat Hy jou genadig moet wees. Bid vir jou geliefdes, jouself, jou kinders en glo dat God net sal doen wat reg, goed, heilig, wys en regverdig is (Matt. 7:11, 11:25-27, Rom. 8:28). As jy nie voor sy soewereine wil buig nie, sal jy sleg daarvan afkom. Jy kan nie teen die Here stoei en wen nie (v.9a).

Moenie sy soewereiniteit uit die hand verwerp omdat dit logies vir jou nie sin maak nie, omdat jy dit nie met die mens se verantwoordelikheid kan versoen nie, omdat dit nie pas by hoe jy God sien nie, of omdat dit vir jou lyk of dit met ander tekste bots nie.

Wees eerder soos wyle dr. Martin Holdt. Hy het teen die soewereiniteit van God geskop, maar na ‘n worstelstryd het hy vir sy vrou gesê: ‘Ek het besluit om God se soewereiniteit in Rom. 9 te aanvaar soos dit is.’

Sy vrou het die vleismes laat val. ‘Maar wat van my pa?’ het sy gesê. ‘As dit van jou pa afhang is daar geen hoop nie, maar as dit van die Here afhang is daar hoop,’ het hy haar geantwoord.

God se soewereiniteit raak alles. Hy is soewerein oor nasies en die breë stroke van die geskiedenis, maar ook oor individue en spesifieke gebeure soos Kores wat God se volk bevry, Donald Trump wat in Amerika regeer, Cyril Ramaphosa wat die president van Suid-Afrika is, en die daaglikse gebeure in jou en my lewe.

Buig onder hierdie God se kragtige hand en sê dankie dat Hy jóú God is: “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.” (Ps. 33:12).

Wat doen die Here vir jou en wat moet jy vir Hom doen?

God has not forgotten you

Nick is 4 jaar oud. Sy pa is $50 biljoen sterk. Hy is bly dat sy pa so goed vir hom sorg. Om dankie te sê breek hy sy spaarvarkie oop, en gee hy al sy geld – $150 – vir sy pa.

Om die Here te dank vir alles wat hy vir jou doen is so. Wat sal jy vir Hom gee: geld? Dit kom in elk geval van Hom af (1Kron. 29:14). Wat van geskenke? Hy het dit vir jou gegee (Jak. 1:17). Dalk jou diens? Dit is uit Hom (1Kor. 4:7). Wat van jou lewe? Hy het dit vir jou gegee (Hand. 17:25). Sê eerder net dankie, prys Hom en geniet Hom. Dit sal Hom verheerlik. Dit is wat Jes. 44:21-28 vir ons leer.

1. Wat moet jy vir die Here doen? (v.21-23)

[a] Onthou Hom (v.21)
Het jy al ooit jou kinders getugtig en gevra: ‘Hoekom het jy dit gedoen?’ Wat antwoord hulle? ‘Ek het vergeet.’ Maar jy het twee dae gelede vir hulle gesê om dit nie te doen nie.

Ons is soos kinders en vergeet maklik (Ps. 106:4, 13, 21, 45, 2Pet. 1:12-15). Daarom moes die Here sy volk herinner dat afgodery dwaas is, en dat Hy die ware God is (v.6-20, 21). Hy het hulle uit Egipte gered om sy kneg te wees (v.21). Die mens vorm afgode (v.12-13), maar die Here het sy volk gevorm (v.21).

God vergeet nie soos ons nie, maar sal sy volk nog in die toekoms onthou (v.21, 49:15, Ps. 105:8, Rom. 11:28-29). Dit geld vir elkeen wat glo. Sal die Here ‘n mossie onthou en van jou vergeet (Luk. 12:6-7)?

Hy onthou jou gebede. Hy onthou jou wanneer jy bang is. Hy onthou as jy deur beproewings gaan. Hy vergeet jou nie wanneer jy sonde doen nie, maar tugtig jou sodat jy na Hom toe sal terugkeer. Hy sal jou ook op jou sterfbed onthou (Luk. 23:42-43).

Soos wat die Here jou onthou moet jy Hom onthou en gehoorsaam. As jy Hom vrees sal Hy jou naam in die boek van herinnering skryf (v.21, Mal. 3:16). Hy sal jou m.a.w. onthou.

Onthou ook die Here wanneer jy die nagmaal gebruik: ‘doen dit tot my gedagtenis’ (1Kor. 11:24-25). As jy vir geen rede van die nagmaal af wegbly nie, sal jy die Here vergeet. Doen eerder goed, dien die Here, en vra Hom om jou te onthou (Neh. 13:14, 31, Heb. 6:10).

[b] Keer terug na Hom toe (v.22)
Het jy jouself al ooit geflous deur warm aan te trek as jy ‘n miswolk in die oggend sien? Teen 10:00 vrek jy as die miswolk in die son se hitte verdamp. So het God Israel se sonde uitgewis: soos ‘n wolk of miswolk voor die son (v.22). Jesaja het God se verlossing en gewillige vergifnis as motivering vir die afvallige volk gebruik om hulle te bekeer (v.22).

Sal die Here jou terugneem en vergewe? Jesus het gesterf om jou sonde onder sy voete te vertrap, in die diepste see te gooi, en van jou af weg te vat so ver soos die ooste en die weste van mekaar verwyder is (Miga 7:19, Ps. 103:12). Die Here onthou ons, maar Hy onthou nie ons sonde teen ons nie (v.21-22, 43:25).

God het die inisiatief geneem om ons te vergewe. Hy het ons lief. Hy het sy lewe vir ons gegee. Hierdie dinge wys dat Hy meer as bereid is om jou te vergewe (v.22, Rom. 5:8). God sal jou vergewe as jy na Hom toe terugkeer (Luk. 24:47, 1Joh. 1:9). En tog baseer Hy nie sy vergifnis op jou bekering nie, maar op Jesus se kruisdood (v.22, Ef. 1:7, 1Joh. 1:7).

Geen god kan verlos en vergewe soos Hy nie (v.22, 17, 20). Jy hoef nie te vrees of skaam te voel om terug te keer nie. Kom vrymoedig en bely jou sonde, al is dit ook hoe groot. As God die moord op sy Seun kan vergewe, kan Hy enige sonde vergewe (Luk. 23:34, 1Tim. 1:15).

Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n afvallige man wat so vergewe is. Hy was ‘n toegewyde Christen, maar het met ‘n slegte vrou deurmekaar geraak. Hy het sy vrou gelos, die huis onder haar uitverkoop, en die geld gemors. Toe die geld op is, toe die los die slegte vrou hom.

Hy was baie depressief en het geglo dat selfmoord die enigste uitweg is. Hy het na Westminster brug toe geloop en besluit om in die Teemsrivier te spring. Toe hy by die brug kom toe slaan Big Ben 18:30. ‘Martyn Lloyd-Jones will now be just entering his pulpit for his evening service,’ het hy vir homself gesê. Hy het besluit om nog een keer na hom te luister voordat hy sy lewe beëindig.

Hy was binne 6 minute by Westminster Chapel. Toe hy by die kerk instap toe hoor hy hoe Lloyd-Jones hierdie woorde bid: ‘God have mercy upon the backslider.’ Die Here het die man onmiddellik herstel en vergewe. Hy het later ‘n ouderling in ‘n gemeente in Londen geword, en vir ‘n aantal jare getrou gedien. Daarna het hy in oorwinning gesterf en is hy hemel toe [Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers (Grand Rapids: Zondervan Publishing House, 1971), 302-303].

God is bekend vir sy genade aan afvalliges: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” (42:3).

[c] Sing tot Hom (v.23)
‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê dat dit ‘n probleem is as mense na die kerk toe kom maar nie sing nie. Volgens hom is dít erger as iemand wat ‘n minder belangrike leerstelling verkeerd glo. ‘Dit is ‘n geestelike probleem,’ het hy gesê.

Ek is geneig om saam met hom te stem. Die hele skepping (bome ook, vgl. v.13-14!) sing omdat God dit gedoen het: Hy het sy volk verlos (v.23, Ps. 22:32, 148:1-14, Joh. 19:30, Op. 5:9-14). En kan die verlostes dan stilbly en Hom nié prys nie (v.23, Ef. 1:6, 12, 14)?

Moet asb. nie prewel wanneer jy die Here prys nie. Moenie stilbly as ons sing nie. Vra ook die Here se hulp dat jy nie dagdroom as ons sing nie. Sing uit jou hart en met blydskap tot die Here (Ps. 95:1-2). Gebruik alles wat jy het om Hom te prys (Ps. 150).

Pasop ook vir ‘n verkeerde gesindheid wat sê: ‘Ek sing nie saam as dit Engels is nie… Ek sing nie as dit ‘n ou lied is nie… Ek sing nie as ons nuwe liede sing nie… ens.’ Sing asb. saam as die lied Bybels is en die wysie nie afbreek doen aan die woorde nie. God juig en sing oor jou (Sef. 3:17). En sal jy dit nie oor Hom doen nie (Sef. 3:14)?

2. Wat doen die Here vir jou? (v.24-28)

[a] Hy het jou en alles geskep (v.24)
Ek verpes ‘n sentimentele, mens-gesentreerde, oppervlakkige, Facebook Christenskap waarin die mens die belangrikste is. God het alles tot sý eer en vir sý plesier geskep (Ps. 19:2, Op. 4:11). En tog vergeet Hy ons nie, maar het Hy alles geskep sodat ons dit kan geniet. “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” (Ps. 115:16).

Hy het Israel in die moederskoot gevorm (v.24, kontra v.12-13). Hy het ook die hemel, die aarde en alles in die skepping gevorm (v.24, 42:5, 40:22). Hy het voor Gen. 1:1 bestaan en dus sonder die hulp van ‘n engel, afgod of mens geskep (v.24).

Soos die Here Israel geskep het (v.24), het Hy jou in die moederskoot gevorm (Ps. 139:13). Hy het jou vir Homself geskep, maar a.g.v. jou en my sonde leef ons vir onsself en nie tot sy eer nie (Rom. 3:23). As Hy wou kon Hy ons afskryf. Hy het egter ‘n plan gemaak om ons te red. Deur sy lewe en kruisdood het Hy die straf gevat wat ons verdien, en die rekord voorsien wat ons kort (2Kor. 5:21).

Hy wederbaar ons, stel ons instaat om te glo en ons te bekeer, verklaar ons onskuldig en regverdig, vergewe ons, neem ons aan, maak ons heilig, en kry die hemel vir ons gereed. Jy behoort dus twee keer aan die Here: deur skepping en verlossing. Kan jy dan nog vir jou sonde en jouself lewe?

Nog ‘n woord van toepassing: sal jy vir ‘n polieke party stem wat geen respek toon vir die lewe wat God in die moederskoot vorm nie, maar dit deur aborsie beëindig? Op grond van die Skrif wil ek jou aanmoedig om nie vir sulke partye te stem nie. “[Moenie] met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” (1Tim. 5:22).

[b] Hy verkleineer waarsêers (v.25)
Toe ek ‘n student was het ‘n charismaat geprofeteer dat ons gemeente binne twee jaar sou verdubbel. Twee jaar later het die kerk geskeur. God verneder sulke mense deurdat hulle voorspellings nie uitkom nie (v.25). Die Here wil wys dat Hy en nie hulle nie, die toekoms beheer (43:22-23). Hy wys dat hierdie sg. wyse manne se kennis niks is nie (v.25, 1Kor. 1:19-20).

Moet dan nie wysheid oor die toekoms by ‘n ongelowige berader, palmleser, jou sterretekens, ens. soek nie. Soek eerder wysheid in gebed en die Woord. Alle kennis en wysheid is immers verborge in God en sy Seun (8:19-20, Spr. 2:6, 1Kor. 1:24, 30, Kol. 2:3).

[c] Hy vervul sy Woord (v.26-28)
Die amptelike webblad van die Ahmadiyya Moslem gemeenskap glo dat die Koran akkuraat profesieë bevat. Maar wanneer jy dit lees is beide die profesieë en sg. vervullings vaag.

Die webtuiste haal bv. Sura 41:21 aan en sê dat dit vingerafdrukke voorspel: ‘Their skins will bear witness against them as to what they have been doing’. Hulle sê ook uit Sura 51:8 (eintlik 51:7) dat die Koran vliegtuie voorspel: ‘And by the heaven full of tracks’ [https://www.alislam.org/library/articles/fulfilled-prophecies-of-holy-quran/].

Die Bybel is nie vaag nie, maar voorspel en vervul dinge tot op die letter (v.26). Jesaja het bv. voorspel dat Israel ná die ballingskap weer in Jerusalem sou bly, asook dat die verwoeste stede van Juda herbou sal word (v.26).

Net soos wat God die Rooi See en Jordaan rivier opgedroog het toe Hy sy volk uit Egipte verlos en in die Beloofde Land inlei, sou Hy koning Kores van Persië stuur om Israel uit Babilon te bevry (v.27-28). God het Kores se naam en missie 150 jaar voor hy gebore is voorspel (v.28, vgl. 1Kon. 13:2)!

Kores was God se herder wat Israel uit Babilon bevry het, net soos wat Moses en Aäron die volk soos skape uit Egipte gelei het (v.28, Ps. 77:21). Volgens Jesaja sou Jerusalem en die tempelfondasie onder die bevel van Kores herbou word (v.28). Dit is 150 jaar na Jesaja in Esra en Nehemia se tyd vervul.

Sover ek kan sien is daar in hierdie verse drie lesse wat uitstaan:

  • Die Bybel is akkuraat en betroubaar (v.26, 28). God lieg nie, maar doen wat Hy belowe (Num. 23:19). Lees daarom jou Bybel sonder om te twyfel.
  • God beheer konings (v.28). “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spr. 21:1, vgl. Esra 1:1, 6:22, 7:27). Moenie vir Julius Malema vrees nie.
  • God beheer die geskiedenis om sy volk te bevoordeel, al lyk dit nie altyd so nie (v.28). Rom. 8:28 (‘Alles werk ten goede mee…’) geld nie net vir individuele gelowiges nie, maar vir die kerk in haar geheel.

Jesaja en die res van die Bybel fokus nie op wat jy vir die Here kan doen nie. Jy moet eers leer wat Hy vir jou gedoen het voordat jy daarop kan reageer. Dit is bv. wat Paulus in Romeine doen. Vir 11 hoofstukke wys hy wat God vir ons gedoen het. Eers in Rom. 12:1 sê hy hoe jy daarop moet reageer:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”

Hoekom Jesus beter is as die ander gode

Jesus among other gods

My tema impliseer dat daar ander gode is, maar dit is nie wat ek bedoel nie.  Volgens die Bybel is daar net een God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Deut. 6:4, Matt. 3:16-17, 28:19, Joh. 1:1, Ef. 4:4-6, 1Kor. 8:4-6, Jak. 2:19).  Buiten Hom is daar geen ander God nie (Jes. 45:5-6, 14, 18, 21-22).  Derhalwe kan Hy ook doen wat geen ander god kan nie, en is Hy beter as hulle.  Jes. 41 wys vir ons hoe die Here se dade groter is as die ander gode s’n.

 

  1. Hy beheer die nasies (v.1-7)

Die ANC glo dat die voorvaders ons land se toekoms beheer, maar volgens die Bybel beheer God die nasies en beveel Hy hulle in v.1 om stil te wees in sy hof (Ps. 46:11, Hab. 2:20, Sag. 2:13).

 

Die Here het sy volk versterk (40:29, 31), maar die nasies moet hulleself versterk voordat hulle in sy hof verskyn (v.1).  Laat hulle nader kom, praat, hulle saak voor die Here stel, en vir hulleself oordeel of Hy die ware God is (v.1).

 

Toe die nasies hulle saak gestel het toe kom hulle onder kruisverhoor (v.2).  Hier is wat die Here hulle gevra het:

 

  • Wie het koning Kores van Persië uit die ooste opgewek (v.2, 44:28)?
  • Wie het hom gestuur om te oorwin met elke tree wat hy gee (v.2)?
  • Wie het die nasies voor hom platgevee en in sy hand oorgegee (v.2)?
  • Wie het konings onder sy voete vertrap (v.2, Jos. 10:24, 1Kon. 5:3)?
  • Wie het hom gehelp om die nasies en haar konings soos stof te maak met sy swaard, soos wind-verwaaide stoppels met sy boog (v.2, 40:24)?
  • Wie het gemaak dat hy veilig is terwyl hy sy vyande verjaag (v.3)?
  • Wie het gemaak dat hy so vinnig oor die aarde beweeg dat sy voete nie grondvat nie (v.3, vgl. Dan. 8:5)?[1]
  • Wie het al hierdie dinge gedoen (v.4)?
  • Wie het van die begin af die geslagte of nasies van die aarde in die lewe geroep (v.1, Hand. 17:26)?

 

‘Ek, Ek, Ek, Ek…’ sê die Here dwarsdeur die hoofstuk.  “Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (v.4).  Israel en die nasies moet weet dat Hy en nie die afgode nie, die ware God is wat nasies en konings beheer (v.2-4, 40:15, 17, 23).

 

Hy is die Eerste wat voor die begin bestaan het (Gen. 1:1), en wat tot op die laaste dieselfde sal bly (v.4).  Hy is die Eerste uit wie alles ontstaan het, die Laaste tot wie se eer dit bestaan (v.4, 44:6, 48:12, Joh. 1:2-3, Kol. 1:16, Op. 1:8, 17, 2:8, 22:13).  “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 11:36).

 

Hoe het die nasies en eilande hierop gereageer?  Hulle was bang en het gebewe (v.5).  Maar in plaas daarvan dat hulle na die Here toe draai (v.1), het hulle mekaar moed ingepraat om gode te maak wat hulle kamtig teen die koning van Persië sou beskerm (v.5-7).  Maar watse soort god is dit wat deur mense hande gemaak word en dan nog deur hulle versterk moet word (v.7, Jer. 10:4)?

 

Ek vertrou eerder op die Here wat konings en nasies beheer.  Hy het die presidente van ons land aangestel en weer uit die amp verwyder (Dan. 2:21, Rom. 13:1).  Hy lei hulle om goed te doen en laat toe dat hulle kwaad doen (Esra 1:1, 6:22, 7:27, Spr. 21:1, Joh. 19:10-11).

 

Die Here veroorsaak nie sonde nie, maar is soewerein oor presidente en konings se sondige keuses (Hand. 4:27-28).  Dit geld o.a. vir absurde wette wat sonde goedpraat, bv. gay huwelike in Australië, grondgrype sonder vergoeding in Suid-Afrika, geslagsverwarring in Kanada, ens.

 

God is in beheer selfs wanneer ‘n baba ontvoer word, ‘n leeu sy eienaar byt, of as demone mense met vals lering vang (Gen. 45:5, 8, 50:20, Ps. 105:17, 2Kon. 17:25, 1Kon. 22:20-23, 2Tess. 2:11).

 

Dit beteken nie dat die Here sonde goedkeur nie.  Inteendeel, Hy haat dit.  Maar Hy is in beheer daarvan.  En as jy aan hierdie God behoort en Hom liefhet sal Hy maak dat die grootste tragedie tot jou voordeel uitwerk (Rom. 8:28).  Is dit nie wat deur Jesus se kruisdood gebeur het toe Hy vir ons lewe en verlossing gebring het nie?

 

  1. Hy red sondaars (v.8-20)

Mense in kultusse en ander godsdienste moet hulleself red.  Hulle god is nie sterk genoeg om dit te doen nie.  Hulle moet sekere reëls nakom en rituele beoefen.  En selfs as hulle dit gedoen het is dit waarskynlik nie genoeg nie; die ‘god’ sal besluit of dit voldoende is of nie.

 

Met die Here werk dit anders.  Hy red sondaars wat niks kan doen om hulleself te red nie; alles moet van Hom af kom.  Dit is wat Hy met Israel gedoen het.  Hy het sy vriend Abraham en dié se nageslag gekies om aan Hom te behoort (v.8, 2Kron. 20:7, Jak. 2:23, Deut. 7:7-8).

 

Hy het hulle aan die eindes van die aarde gaan haal: Mesopotamië, Egipte en Babilon (v.9, 43:5-6, Jos. 24:2-3, Hand. 7:2).  Hy het hulle nie geheel en al verwerp nie, en sal hulle daarom weer in die toekoms na Hom toe bring (v.9, Rom. 11:28-29).

 

Israel het nie rede gehad om bang te wees en angstig rond te kyk vir ander gode se hulp nie (v.10, 5).  Die Here sou hulle met sy kragtige regterhand red, help, versterk en ondersteun (v.10, 40:29, 31, Ps. 46:2).

 

Die vyande wat kwaad was en teen hulle baklei het sou misluk en in die skande kom (v.11-12).  Die Here sou hulle van die aardbol af verwyder en maak dat hulle niks is nie (v.11-12, 40:17, 23, Ps. 37:10, 36).  Dit was onnodig vir God se volk om bang te wees, aangesien die Verlosser en Heilige van Israel soos ‘n Vader langs die klein ‘wurmpie’ gestaan het om sy hand vas te hou en hom te help (v.13-14).

 

In Christus geld die bg. beloftes ook vir ons (2Kor. 1:20): ons is die Here se diensknegte (v.8, 1Pet. 2:16).  Hy het ons uitverkies (v.8, Ef. 1:4-5, 2Tess. 2:13).  Ons is die nageslag van Abraham (v.8, Gal. 3:7, 29).  Ons is sy vriende (v.8, Joh. 15:13-15).  Hy het ons by die eindes van die aarde kom roep (v.9, Hand. 1:8).  Hy sal ons nooit verwerp nie (Joh. 6:37, 10:27-28).

 

Moet dan nie bang wees nie… moenie bang wees nie… moenie bang wees nie (v.10, 13, 14).  Hoekom nie?  Nie omdat God die beproewing kan wegvat of keer dat jy daardeur gaan nie, maar omdat Hy met jou is en jou nie sal verlaat nie (v.10, 13, 14, 43:2, Ps. 23:4, Matt. 1:23, 28:20, Heb. 13:5).

 

Jy hoef nie angstig rond te kyk vir ander hulp nie (v.10, 5-7).  Sonder die Here kan geen politieke party, berader, geld of enigiets anders jou help nie.  Kyk daarom deur geloof, die Woord en gebed na die Here toe (v.10, 5-7).

 

As jy by die Here skuil kan niemand jou seermaak nie (v.11-12, Sag. 2:8, Rom. 8:31).  Die Here sal sy kinders se vyande vernietig.  Waar is die Babiloniërs, Amalekiete, Filistyne en ander nasies wat teen die Here se kinders baklei het?  Waar is die Romeinse Ryk wat hulle vervolg het?

 

Net soos wat die Here van Griekse mitologie ontslae geraak het, sal Hy Islam, evolusie en die res van die kerk se vyande onder sy voete vertrap (Ps. 110:1, 1Kor. 15:25).  “Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie” (v.12).

 

Vir iemand om God se kinders seer te maak is soos vir ‘n boelie om jou te klap terwyl jy langs jou pa staan en sy hand vashou (v.13).  Eintlik is dit erger, omdat ons Verlosser die Heilige van Israel is (v.14).

 

Dalk voel jy so klein en hulpeloos soos ‘n wurm.  Onthou asb. dat dit vir die Here maklik is om ‘n wurm in ‘n skerp, nuwe dorsslee met baie tande te verander.

 

Hy het dit met Israel gedoen en deur hulle die nasies soos berge en heuwels afgemaai, fyngemaal, uitgewan, en in die stormwind van sy toorn verstrooi (v.14-16, 2, 2:14, 40:4, 12, 24, Ps. 1:4, Jer. 51:2, Miga 4:13, Sag. 4:7).  Hieroor het Israel hulle in die Here verbly, en nie in die nasies se gode geroem nie (v.16).

 

Jesaja wissel nou ratte, maar eintlik wys hy nog steeds hoe die Here sy volk verlos.  Hy gebruik simboliese taal om die nuwe verbond en Israel se toekoms mee uit te beeld.  Die belofte is vir dié wat arm van gees is (v.17, Matt. 5:3).  Hulle besef dat hulle niks het om God se verlossing te koop nie, maar dat alles van Hom van kom.

 

Hulle het ‘n dors na die vars water van Christus en sy verlossing (v.17, Ps. 42:2, 63:2, Matt. 5:6, Joh. 4:14, 7:37-39).  Die Here verhoor hulle en gee dit in oorvloed (v.17-18).  Deur die Gees wat Hy op hulle uitstort verander Hy sy volk se dor lewe in ‘n water paradys vol koeltebome (v.18-19, 12:3, 32:15, 35:6-7, 44:3, 55:13, 60:21, 61:3, Ps. 92:13-15, 1:3, vgl. Eks. 15:27, 17:1-7).

 

Wanneer die nasies hierdie nuwe skepping sien sal hulle weet dat die Here God is, omdat net Hy die transformasie van ‘n veranderde en nuwe lewe kan meebring (v.20, 2Kor. 5:17).  Die nasies se gode kan dit nie doen nie.  Wys vir my die ongelowige wat nie net uiterlik goed lyk nie, maar totaal en al van binne af getransformeer is.

 

Drie maande gelede het ‘n jong man vir my gevra of die Here iemand hel toe sal stuur as hy reg lewe maar nie in Jesus glo nie.  My antwoord was tweeledig.  Eerstens oortree so iemand die grootste gebod wat sê dat jy die Here met jou hele wese moet liefhê.  Tweedens is dit nie moontlik om reg te lewe as jy nie in Jesus glo nie, omdat Hy jou deur die Heilige Gees in staat moet stel om reg te lewe.

 

Juis om hierdie rede is mense wat ander gode aanbid geldgierig, oneerlik, hoogmoedig, immoreel, losbandig, skelm, bitter, vreesagtig, kwaad, ens.  As jou hart so leweloos soos ‘n woestyn is en jou lewe nie anders as die wêreld s’n lyk nie, is dit omdat jy nie weergebore is nie (al sê jy ook dat jy die Here ken).

 

Vra die Here om die dor woestyn van jou lewe in ‘n paradys te verander.  Vertrou dat Jesus jou deur sy Gees sal nuut maak as jy in Hom en sy kruisdood vir sondaars glo.  Sien die liefde van Een wat:

 

  • Angs beleef het sodat jy kan bly wees,
  • Uitgewerp is sodat Hy jou kan inbring,
  • As ‘n vyand vertrap is sodat jy as ‘n vriend verwelkom kan word,
  • Aan die hel oorgelewer is sodat jy die hemel kan erf,
  • Naak was sodat jy geklee kan word,
  • Gewond is sodat jy genees kan word,
  • Dors was sodat jy kan drink,
  • Gepynig is sodat jy getroos kan word,
  • Tot skande gemaak is sodat jy sy heerlikheid in besit kan neem,
  • In duisternis gehang het sodat jy God se lig kan sien,
  • Getreur het sodat jou trane afgevee kan word,
  • Gekreun het sodat jy vir ewig mag sing,
  • Pyn verduur het sodat jy gesondheid kan geniet,
  • ‘n Doringkroon gedra het sodat jy ‘n heerlike kroon kan hê,
  • Sy hoof laat hang het sodat jy joune kan oplig,
  • Sy oë in die dood gesluit het sodat jy joune in die hemel kan open,
  • Sy asem uitgeblaas het sodat jy vir ewig kan lewe.[2]

 

  1. Hy beheer die geskiedenis (v.21-29)

Het jy al gehoor hoe mense dit in Engels sê: ‘History is His Story’?  Dit is waar, omdat God in die geskiedenis besig is om sy planne uit te werk.  Dit is waaroor Hy die gode in v.21-29 aanvat.  Na aanleiding van v.1-20 daag die Koning van Israel die nasies voor sy hof om aan Hom te bewys dat hulle gode gode is (v.20, 1).

 

‘Laat julle gode vir ons sê wat in die toekoms gaan gebeur,’ het Hy gesê (v.22).  ‘Kom klip-gesig, voorspel asb. die toekoms (v.22).  Of dalk wil jy ons van die verlede vertel, sodat mense daaruit kan leer en nie in die toekoms dieselfde foute sal maak nie (v.22)?  Wat lê vir ons voor: wil jy ons nie asb. van môre vertel nie (v.23)?  As jy die toekoms kan voorspel sal almal weet dat jy die God is wat dit beheer (v.23, 48:5-8).

 

‘Hoekom doen jy nie iets goed soos om mense te verlos, of skade soos om ‘n nasie te oordeel nie (v.23, 45:7)?  Wys asb. jou mag, sodat almal vreesbevange kan wees (v.23).  Verbaas ons; almal wil tog sien dat jy ‘n god is (v.23).

 

‘Nes Ek gedink het: jy en jou makkers is niks!  Julle werk bestaan ook nie en is minder as niks (v.24).  Die een wat besluit om julle te aanbid is afskuwelik; afgodery is haatlik (v.24)!’

 

God is anders as die gode.  Hy voorspel nie net die toekoms nie; Hy beheer dit (46:10, Ef. 1:11).  In 539 v.C. het koning Kores van Persië se weermag van die noorde en ooste af op die Babiloniërs afgekom en hulle soos klei vertrap (v.25).

 

In dieselfde jaar het Kores volgens Jesaja se voorspelling die Here se Naam aangeroep (v.25).  Hy het in Jahwe se Naam die Jode vrygelaat en hulle na Jerusalem toe terugstuur (Esra 1:1-4).  God het hierdie dinge meer as 150 jaar vroeër deur Jesaja voorspel.

 

Kan enige van die gode dit doen?  Laat hulle dit wys sodat ons kan weet dat hulle gode is (v.26, 47:13).  Ons wag… geen antwoord nie… stilte… (v.26, 28).  Die gode bestaan nie en is ‘n illusie (v.29).  Soos Willards se Cheese Curls is hulle so leeg soos wind (v.29).  Maar die Here bestaan en het vooraf die goeie nuus van Kores se koms deur Jesaja voorspel (v.27).

 

Hy het honderde ander gebeure voorspel wat tot op die letter vervul is.  Ek wil op die Messiaanse voorspellings fokus (iets wat een van my dosente op Sem ontken het).  Die Ou Testament het o.a. voorspel:

 

  • Die Messias sal in Betlehem, uit ‘n maagd, uit die stam van Juda en uit die geslag van Dawid gebore word (Miga 5:1, Jes. 7:14, Gen. 49:10, Ps. 132:11).
  • Hy sal in die Galilea-streek preek (Jes. 8:23-9:1).
  • Hy sal op ‘n donkie in Jerusalem inry (Sag. 9:9).
  • Een van sy vriende sal Hom verraai (Ps. 41:10).
  • Hy sal onskuldig wees en stilbly by sy verhoor (Jes. 53:7-9).
  • Hy sal gegesel word (Jes. 50:6, 53:5).
  • Hy sal tussen misdadigers gekruisig word en vir sy vyande bid (Ps. 22:17, Jes. 53:12).
  • Hy sal sê: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Ps. 22:2). Sy vyande sal sê: ‘Laat die Here Hom red as Hy ‘n behae in Hom het!’ (Ps. 22:8-9).
  • Hy sal dors word aan die kruis (Ps. 22:16, 69:4). Sy vyande sal vir Hom asyn gee om te drink (Ps. 69:22).  Hulle sal sy klere verdeel, lootjies trek vir sy kleed en ‘n spies in sy sy steek (Ps. 22:19, Sag. 12:10).
  • Hy sal in ryk man se graf begrawe word (Jes. 53:9).
  • Hy sal uit die dood uit opstaan (Jes. 53:10).

 

Die Nuwe Testament wys vir ons dat hierdie dinge so gebeur het.  God beheer die geskiedenis.  Hy doen dit nie net op ‘n groot skaal nie, maar stel belang in die detail van jou persoonlike lewe en geskiedenis:

 

“U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al… in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Ps. 139:2-4, 16).

 

In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia moes Shasta ‘n gevaarlike reis deur die woestyn aanpak om betyds by ‘n sekere koning Lune uit te kom.  Gedurende die reis het hy vir ‘n nag tussen die grafte geslaap, was hy bang vir jakkalse en het ‘n leeu hom gejaag.  As baba het iemand hom in ‘n boot naby die water se kant gekry.

 

Toe Aslan die leeu vir Shasta ontmoet, toe sê hy vir hom: ‘Ek was die kat wat jou rustig laat voel het tussen die grafte.  Ek was die leeu wat die jakkalse verdryf het sodat jy rustig kon slaap.  Ek was die leeu wat jou gejaag het en die perd bang gemaak het, sodat hy vinniger kon hardloop en jy betyds by koning Lune kon uitkom.  En ek was die leeu wat die boot gestoot het toe jy as kind byna gesterf het, sodat ‘n man wat teen middernag buite gesit het jou kon ontvang.’[3]

 

Wanneer jy eendag in die hemel is sal Jesus vir jou soortgelyke dinge sê, en sal jy weet dat Hy jou nooit verlaat het nie.  Dan sal dit weereens vir jou duidelik word dat Hy beter is as die ander gode.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester: England, Inter-Varsity Press, 1993), 310

[2] Vry vertaal en aangepas uit Arthur Bennett, The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1975), 42

[3] Vry vertaal uit C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and His Boy (New York: NY, HarperCollins Publishers, 1954), 281

Leer uit ander mense se foute

Learn from mistakes of others 1

Ek het eenkeer vir ‘n ouer Christen gevra hoekom hy so baie in geskiedenis belangstel.  ‘Dit help o.a. dat ek nie die foute herhaal wat ander mense gemaak het nie,’ het hy gesê.  Hy het m.a.w. uit ander mense se foute geleer.

 

Volgens Rom. 15:4, 1Kor. 10:11 is dit ‘n Bybelse beginsel.  Paulus sê: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe… Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons…”

 

Vandag wil ek hierdie beginsel gebruik om uit koning Hiskia se foute te leer.  Maak asb. jou Bybel oop by Jes. 38-39.

 

  1. Hiskia se siekte (38:1-8, 21-22)

‘n Oom wat ek geken het, het eenkeer in die hospitaal beland.  Terwyl hy daar gelê het, het hy van koning Hiskia se siekte gelees: “In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.” (38:1).

 

Op grond hiervan het hy gedink hy gaan nie gesond word nie.  Toe hy dit vir sy vrou sê was sy glad nie beïndruk nie.  Hiskia was ook nie bly toe Jesaja die nuus met hom deel nie.  Hoe sal jý voel as iemand vir jou sê om jou familie bymekaar te roep, en vir hulle opdrag te gee oor wat hulle met jou geld en besittings moet doen as jy weg is?

 

Toe Hiskia die slegte nuus hoor het hy sy gesig na die muur toe gedraai en gebid (38:2).  Hy het bitterlik gehuil en by die Here gepleit om sy lewe te spaar (38:3).  Ons sal later sien hoekom hy bang was en nie soos Paulus uitgesien het om by die Here te wees nie.

 

Hiskia het die Here aan sy opregte lewe herinner (38:3).  Hy het inderdaad reg gelewe (2Kon 18:3, 5-6, 2Kron. 31:20-21), maar het ook ernstige foute begaan soos om Egipte se hulp bo die Here s’n te kies (Jes. 30-31).

 

Hiskia was dus verkeerd om te dink dat die Here hom op grond van sy goeie lewe moet verhoor.  Nogtans het die Here sy trane gesien en sy gebed verhoor.  Jesaja was nog nie behoorlik deur die voorhof van die paleis nie, toe die Here hom met hierdie woorde na Hiskia toe terugstuur (38:4, 2Kon. 20:4):

 

“Gaan sê vir Hiskía: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg” (38:5).  Hiskia was bly toe die Here sy lewe spaar, maar dit het nadelige gevolge gehad.  Sy seun Manasse is kort hierna gebore, en was die slegste koning wat Jerusalem ooit gehad het (2Kron. 32:33-33:1).

 

Die Here het verder belowe om vir Hiskia en Jerusalem uit Assirië se hand te red (38:6).  Saam met 38:1 (“in dié dae”) dui hierdie vers aan dat Hiskia se siekte vóór Assirië se aanval op Jerusalem gebeur het.  Dit is asof Jesaja Assirië se aanval in hfst. 36-37 beskryf, en dan in hfst. 38-39 sê: ‘Kom ek wys vir jou hoekom dit gebeur het.’  Ek sal later hierop uitbrei.

 

Hiskia wou nie ongelowig wees soos sy pa Agas nie, en het daarom vir ‘n teken gevra (vgl. 7:10-14).  ‘Wat is die teken dat die Here my sal genees en dat ek Hom op die derde dag in die tempel sal aanbid?’ het hy gevra (38:22, 2Kon. 20:5, 8).

 

‘Moet die Here die skaduwee op jou pa se sonhorlosie tien trappies vorentoe, of tien trappies agtertoe beweeg?’ het Jesaja gevra (2Kon. 20:9).  ‘Agtertoe asb.,’ het Hiskia gesê (2Kon. 20:10).    Toe Jesaja die Here aanroep het dit so gebeur (37:8, 2Kon. 20:11).

 

Het die aarde agtertoe gedraai, of het die Here die lig gemanipuleer en die skaduwee terug geskuif?  Die teks sê nie vir ons nie.  Hiskia het wel besef dat die Here wat die son beheer (Jos. 10:12-13), hom van sy siekte kon genees.

 

God het hom nie deur ‘n wonderwerk genees nie, maar het deur Jesaja gesê hulle moet medisyne gebruik (38:21).  Hulle het ‘n vyekoek op sy sweer gesit.  Die sweer het waarskynlik ‘n dodelike infeksie veroorsaak.  Gedroogte vye is baie goed om swere te behandel, en help vir meer as 40 ander siektes (kyk gerus op die internet).

 

  1. Hiskia se psalm (38:9-20)

Partykeer raak Christene teleurgesteld, omdat die Bybel nie met die realiteit strook nie.  As jy só voel, moet jy een van twee dinge doen.

 

[1] Lees Prediker.  Salomo het met dieselfde vrae as jy gesukkel.  Jy sal gou agterkom dat die Bybel nie lugkastele bou nie, maar dat dit met die harde realiteit te doen het.

 

[2] Onthou dat die Bybel-skrywers soms hulle persoonlike omstandighede beskryf.  Dit beteken nie noodwendig dat jy dinge soos hulle gaan ervaar nie.  As Dawid bv. in Ps. 103:3 sê dat die Here al sy siektes genees het, bedoel hy nie dat die Here alle gelowige se siektes gaan genees nie (sien bv. 2Kon. 13:14, 20).

 

Hou dit asb. in gedagte wanneer jy Hiskia se psalm lees.  Hy probeer nie om ‘n teologie van lewe na die dood te formuleer nie, maar beskryf sy persoonlike omstandighede (38:9).  Hy het gedink dat die Here hom in die middel van sy lewensjare vir die doderyk bestem het (38:10).

 

‘Ek sal nie meer die Here, sy werk en ander mense in die land van die lewendes sien nie,’ het hy gesê (38:11).  ‘Soos ‘n herder sy tent afslaan, sal die Here my lewe afslaan; soos ‘n wewer sy materiaal afsny en oprol, sal Hy my lewe kortknip en oprol (38:12, Job 7:6).  So gou soos wat die dag in nag verander, sal die Here my lewe beëindig (38:12-13).

 

‘Ek het probeer om in die nag kalm te bly, maar dit het nie gehelp nie.  Die Here was soos ‘n leeu wat my bene breek (38:13).  Daar was nie ‘n kans dat ek hierdie siekte sou oorleef nie.  Ek kon skaars praat en het nie eers die krag gehad om op te kyk nie (38:14).  Ek het soos ‘n swaeltjie of kraanvoël getjirp, en soos ‘n duif gekerm (38:14).  “Kan die Here nie my genesing waarborg nie?” het ek gewonder (38:14, 7-8).

 

‘Hy het!  Hy het!  Die Here het my van my bitter siekte genees.  Voortaan sal ek versigtig lewe en nie weer sonde doen, sodat die Here my daarvoor moet tugtig nie (38:15, 17).  Ek het my les geleer, en glo dat ander ook daaruit sal leer om nie die weg van sonde te kies nie (38:16).

 

‘Diep in my hart weet ek dat die Here hierdie bitter siekte gestuur het om my te bevoordeel (38:17).  In sy groot liefde het Hy my van die graf of kuil van verwoesting gered (38:17).  Hy het die sonde wat sy tugtiging oor my gebring het agter Hom gesit (38:17, Ps. 103:12, Miga 7:19).

 

‘As ek gesterf het sonder dat my sonde vergewe is (38:17), sou ek hel toe gaan waar die dooies nie die Here prys of dank nie, en waar daar vir hulle geen hoop is om uit te kom nie (38:18).  Die Here het my sonde vergewe en my laat lewe, en daarom prys ek Hom saam met die lewendes (38:19)!

 

‘Ek sal God se getrouheid aan die volgende geslag verkondig (38:19, Gen. 18:19, Deut. 6:7, Ps. 78:1-8).  As ons die Here met snarespel in die tempel prys, sal almal weet dat Hy my genees en van die dood gered het (38:20).

 

  1. Hiskia se sonde (39:1-8)

‘n Bietjie agtergrond sal ons help om Jes. 39 beter te verstaan.  Soos ek in die vorige preke gewys het, was Assirië die wêreld se supermag.  Babilon wou egter die titel oorneem, en daarom het koning Merodag Baladan teen die Assiriërs gerebelleer.

 

In 721 v.C. het hy homself die koning van Babilon gemaak.  In 709 v.C. het koning Sargon van Assirië hom gevange geneem.  Toe Sargon in 705 v.C. oorlede is, het Merodag Baladan weer teen Assirië gerebelleer en sy koningskap opgeneem.

 

In 703 v.C. het hy ‘n veldslag teen die Assiriërs gewen.  Met ‘n paar helpers kon hy die Assiriërs finaal van die tafel afvee.  Terwyl hy sy planne gemaak het, het hy gehoor dat Hiskia siek was, gesond geword het, en dat die skaduwee op die sonhorlosie tien trappies agtertoe beweeg het (39:1, 38:8, 2Kron. 32:31).

 

Dit was die kans waarvoor hy gewag het.  Hy het afgevaardigdes met geskenke Jerusalem toe gestuur (39:1).  Hy het ook briewe geskryf waarin hy vir Hiskia gevra het om saam met hom teen die Assiriërs te veg (39:1).[1]

 

Die Here dit gebruik om te wys hoeveel hoogmoed daar in Hiskia se hart is (2Kron. 32:25, 31).  Hiskia was bly dat iemand hom teen die Assiriërs kon help (39:2).  Hy het met sy rykdom en voorraad gespog, so asof hy gesê het: ‘Ek is heeltemal daartoe in staat om jou teen die Assiriërs te help’ (39:2, 2Kron. 32:27-30).

 

Hiskia het nie erken dat die Here was wat Hom ryk gemaak het nie (2Kor. 32:29).  Hy het nie vertel hoe die Here hom genees het nie.  Hy het nie gesê dat die Here daartoe in staat is om tyd terug te draai nie.

 

Hiskia het nie in die Here geroem nie, maar in homself.  Jesaja het hom hieroor uitgevra.  Hy het met trots vertel hoe hy al sy rykdom vir die Babiloniërs gewys het (39:3-4).

 

‘Jou rykdom beteken niks nie Hiskia!’ het Jesaja hom bestraf.  ‘Eendag sal die Babiloniërs jou skatte na hulle eie land toe wegvoer.  Hulle sal jou nageslag wegvoer en hulle amptenare in die koning van Babilon se paleis maak’ (39:5-7, 2Kon. 24:12-13, 25:6-7, 13-17, Dan. 1:2-3, 7).

 

Dit het nie eers vir Hiskia gepla nie.  Hy was net dankbaar dat dit in die toekoms gelê het, en dat daar in sy tyd vrede sou wees (39:8).

 

Wat leer hierdie twee hoofstukke vir ons?

 

[1] Soos met Hiskia is die dag van jou dood en die res van jou lewe in God se raadsplan (38:5, 46:10, Job 14:5, Ps. 139:16, Spr. 16:1, 9, 19:21, 20:24, Pred. 3:1-8, Jer. 10:23, Ef. 1:11, Jak. 4:13-15).

 

Beteken dit jy moenie bid nie, omdat die Here buitendien sy planne in jou lewe gaan vervul?  Nee.  Die Here bepaal nie net die einddoel nie, maar ook die middele.  Hy het besluit om sy planne deur gebed in jou lewe te vervul.

 

Toe Daniël bv. in Jer. 29 lees dat Juda vir 70 jaar in Babilon sou wees, het hy nie gesê: ‘Die Here het dit bepaal, en daarom hoef ek nie te bid nie.’  Hy het eerder gesê:  ‘Omdat die Here dit bepaal het, gaan ek bid en vra dat Hy sy planne volbring’ (sien Dan. 9).

 

Dít is hoe jy moet redeneer.  God se soewereiniteit moet jou nie minder laat bid nie, maar meer.  As jy nié bid nie, skiet jy jouself in die voet: “julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4:2).

 

[2] Hiskia het gedink dat die Here hom op grond van sy goeie lewe sal verhoor (38:3).  Maar t.s.v. sy verkeerde idee het die Here hom verhoor (38:4-6).  Die Here word nie beperk omdat jy verkeerd bid nie (38:3).  Hy antwoord jou tog nie op grond van jou elegante woorde nie, maar op grond van Jesus wat vir jou gesterf het, sy getrouheid aan Homself en sy beloftes, en sy goedheid aan dié wat in Hom glo.

 

[3] Nog voordat Assirië in hfst. 36-37 teen Jerusalem geveg het, het die Here belowe om die stad te beskerm (38:6).  Maar ten spyte daarvan was Hiskia benoud (37:1, 3).

 

Is ons nie ook so nie?  Die Here belowe om in jou behoeftes te voorsien, en sê vir jou om nie angstig te wees nie (Matt. 6:25-34).  Jy werk hard en mors nie jou geld nie, maar sodra daar ‘n nood ontstaan wat jy nie voorsien het nie raak jy angstig.  Moenie so wees nie, maar glo die Here se beloftes en herinner Hom daaraan (Jes. 62:6-7).

 

[4] As die Here wil, kan Hy ons op buitengewone maniere help.  Ons moet egter nie verwag dat dit altyd so moet gebeur nie.  As ons alewig ‘n wonderwerk soek, sal ons nalaat om die Here te dank as Hy besluit om ons op gewone maniere te help.

 

Ons sal bv. vir almal vertel dat die beste dokter in die land aan ons gewerk het, en dat dít die rede is hoekom ons lewe om die storie te vertel.  Maar sonder die Here kon die dokter jou nie help nie (2Kron. 16:12, Luk. 8:43).

 

Gód is immers die een wat sekere middels in die skepping gegee het, sodat ons daardeur genees kan word (38:21).  Hý gee aan mense die wysheid om medisyne in die regte mates en kombinasies af te meet en te meng.  Laat ons dus baie versigtig wees om vir Hóm die krediet te gee as ons gesond word, of as Hy ander krisisse in ons lewens oplos.

 

Omdat dit God is wat ons genees, moet ons nie aan medisyne verslaaf raak of daarby sweer nie.  Aan die ander kant moet ons onthou dat medisyne God se gawe aan ons is.  Ons moet dus nie soos sommige mense weier om dit te gebruik, omdat ons kamtig op die Here vertrou om ons te genees nie.  Dit is nie meer geestelik om sonder medisyne genees te word, as om ‘n pil vir jou rugpyn te drink nie.

 

[5] As jy ‘n gelowige is, is elke beproewing tot jou voordeel (38:17).  Jy sien dit nie nou raak nie, maar later sal die Here vir jou wys dat Hy besig was om jou meer soos Jesus te maak (Ps. 119:67, 71, 75, Rom. 8:28-29, Heb. 12:10-11).  ‘The providence of God is like a Hebrew word – it can only be read backwards.’ (John Flavel).[2]

 

[6] Hiskia het geglo dat sy siekte die direkte gevolg van ‘n persoonlike sonde is (38:17).  Maar dit beteken nie dat almal a.g.v. ‘n persoonlike sonde siek is (Job 1-31, Joh. 9:1-3), of dat almal wat gesond is reg lewe nie.

 

Dit is nie verkeerd om te wonder of jy a.g.v. ‘n persoonlike sonde siek is nie (1Kor. 11:30).  Maar jy moet jouself ook nie kasty om die sonde te vind wat jou siekte veroorsaak het nie.  Rus eenvoudig in die Here se algenoegsame genade (2Kor. 12:7-10).

 

[7] As jy die Here ken en jou sonde vergewe is, hoef jy nie die dood te vrees nie (38:18, Joh. 11:25-26, 1Kor. 15:55, Fil. 1:21, Heb. 2:14-15).  Soos met Paulus, Lasarus en die dief aan die kruis, is die dood die swart perd voor die goue koets wat jou na Jesus toe vat (Luk. 16:22, 23:43, 46, 2Kor. 5:8, Fil. 1:23).  Wanneer Jesus weer kom sal Hy jou liggaam uit die dood uit opwek (1Kor. 15:35-58, 1Tess. 4:13-18).

 

[8] Hiskia het in homself geroem (39:2).  Dit was ook die rede hoekom God die Assiriërs teen hom gestuur het (2Kron. 32:25).  Toe hy en die volk hulle voor die Here verneder, het dinge vir hulle reg geloop (37:1, 14-20, 2Kron. 32:26).

 

Roem dus in die Here en nie in jouself nie (Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:31, 2Kor. 10:17).  As jy hoogmoedig is, is jy soos die duiwel en sal die Here jou aktief teenstaan; as jy nederig is, is jy soos Jesus en sal God jou genadig wees (Jak. 4:6).

 

Onthou ook dat alles wat ek en jy het van die Here af kom, en dat ons nie in onsself kan roem nie (1Kor. 4:7).  ‘n Jong predikant het eenkeer vir Martyn Lloyd-Jones gevra om te bid dat hy nie hoogmoedig word nie.  ‘Wat het jy om oor hoogmoedig te wees?’ het Lloyd-Jones hom geantwoord.

 

[9] My vrou het ‘n gawe.  Sy kan kyk hoe iemand teëls lê of iets mooi van draad maak, en dit dan self regkry.  Net so moet ons Jes. 38-39 fyn dophou en uit Hiskia se foute leer.

 

[1] [1] Falvius Jospehus, The Antiquities of the Jews, Book 10, ch. 2, par. 2.  [2] D. Guthrie & J.A. Motyer, New Bible Commentary: Third Edition, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1970, p. 364.  [3] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, pp. 291, 296

[2] Ek is nie presies seker waar hierdie aanhaling vandaan kom nie, maar reken dat dit uit Flavel se boek, The Mystery of Providence (Banner of Truth) uit kom.

Die Koning van die engele

Christ's two crowns

Reeds in die 2de eeu n.C. het Christene Bybelse simbole soos ‘n herder, brood, ‘n duif, ens. op hulle was seëls en klei breekware gebruik.  In die 4de eeu het hulle hulle kerkgeboue met hierdie en ander simbole versier.  Party Christene was sterk hierteen gekant, maar vir ander was dit nie ‘n probleem nie.  Epifanius van Salamis (315-403 n.C.) het vurig baklei en gesê dat hulle hierdie kunswerke moet uitgooi.  Omdat hy egter in die minderheid was, het die debat doodgeloop.[1]

 

In die 8ste en 9de eeu n.C. het dit ‘n tweede asem gekry, sodat die Oostelike kerk byna geskeur het.  Baie mense het voor die kunswerke gebuig, dit gesoen, voor dit gebid of kerse voor dit aangesteek.  Volgens hulle het hulle nie die kunswerke aanbid nie, maar respek betoon aan die engel of afgestorwe gelowige wat daarin uitgebeeld is.

 

‘n Groep gelowiges het gesê dat hierdie mense die tweede gebod oortree.  In reaksie hierop het hulle gesê dat God sy volk verbied het om voor drie dimensionele beelde te buig, en dat dit nie verkeerd is as hulle voor twee dimensionele prente buig nie.  ‘Maar al sou ons ook drie dimensionele beelde maak, wys dinge soos die koper slang en die gerubs op die ark dat dit nie verkeerd is om voor dit te buig nie,’ het hulle gesê.  ‘Die prente help ook die mense wat nie kan lees nie.’[2]

 

Ek het nie ‘n probleem as iemand vir Dawid of die engel by Jesus se graf teken nie.  Maar om voor hierdie prente te buig, dit te soen of voor dit te bid is iets anders, omdat sulke respek die Here alleen toekom.  Kan jy jou indink dat ‘n engel voor ‘n prent van Adam of Petrus buig en dit soen?  Die Engele weet dat hulle net voor Een moet buig, en dit is die Here.  Hy is die Koning van wie die ou lied sê:  ‘Come and behold Him, born the King of angels.’  Dit is o.a. waaroor Heb. 1:6b gaan.

 

Sy realm

In Griekse en Romeinse mitologie het elke god oor ‘n sekere gebied of realm geheers.  Daar was ‘n god van die hemel, die see, oorlog, landbou, liefde, ens.  In Christenskap is dit nie so nie.  Ons God heers oor elke realm (Ps. 103:19, 135:6).  Dit is wat in Heb. 1:6 met ‘wêreld’ bedoel word.

 

[1] Toe die Vader die Seun 2000 jaar gelede in die wêreld inbring (v.6, 10:5), het die engele Hom aanbid en gedien:  Matt. 4:11, 26:53, 28:2-3, Luk. 2:13-14, 22:43, Hand. 1:9-11, 1Tim. 3:16.

 

[2] Toe Jesus ná die hemelvaart in die toekomstige wêreld inkom (v.6, 2:5), het die engele Hom aanbid:  Ps. 24:9, 110:1, Ef. 1:20-22, 1Pet. 3:22.

 

[3] Wanneer Hy eendag na die wêreld toe terugkeer (v.6, 9:28), sal al die engele sy heerlikheid aanskou:  Matt. 25:31, 2Tess. 1:7, 10.

 

Toe Jesus in Betlehem gebore is was Hy in sy menslike natuur vir ‘n kort tydjie minder as die engele (Heb. 2:9).  Na sy hemelvaart het Hy egter die heerlikheid ontvang wat Hy voor Gen. 1 en sy geboorte by die Vader gehad het (Joh. 14:28, 17:5, Fil. 2:6-11).  Volgens Ef. 1:22 het die Vader “alle dinge onder sy voete onderwerp”.  “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde,” het Hy in Matt. 28:18 vir sy dissipels gesê.  Wat in Dan. 4:35 vir die Vader geld, geld ook vir Hom:  “na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde”.

 

Die huidige aarde, die hemel, en die nuwe aarde is dan die realm waar Jesus Christus regeer.  Hy is dus nie net die Koning van die engele nie, maar van alles en almal.  ‘There is not a square inch in the whole domain of our human existence over which Christ, who is Sovereign over all, does not cry, “Mine!”’ (Abraham Kuyper).[3]

 

Wat beteken sy soewereine heerskappy prakties vir ons?

 

[1] Jesus Christus het vir Robert Mugabe en Jacob Zuma aangestel en afgedank (Dan. 2:21).  Alle konings en leiers kry hulle gesag by Hom (Rom. 13:1).  Hy is die Koning van die konings en die Here van die Here (Op. 19:16).  Praat met Hóm oor die politiek eerder as om daaroor te kla (1Tim. 2:1-2).

 

[2] Die huidige droogte in die Wes-Kaap en die brande wat vroeër vanjaar in Knysna gewoed het, is onder sy beheer (Deut. 28:23-24, Job 5:10, Ps. 148:8, Jer. 14:22).  Hy beheer ook siklone, tsunami’s, sneeustortings, donderstorms, vloede, aardbewings en alle natuur rampe (Gen. 7, 1Sam. 12:18, Job 37:3-6, Ps. 83:16, 107:23-30, 147:16-18, Jes. 29:6, Jona 1).

 

Omdat dit so is, moet ons nie oor die droogte murmureer, of Christus se goedheid bevraagteken nie.  Ons moet Hom eerder vrees en ons van ons sonde bekeer.  Sy beheer oor die natuur beteken logies dat die natuur Hóm nie beheer nie.  Die implikasie is dat Hy vir die Wes-Kaap reën kan gee, al is dit nie nou hulle seisoen vir reën nie.  En sal ons nie hiervoor bid nie?

 

Maar wat as die Here besluit om nie reën te stuur nie?  Ek ken ‘n predikant in Zimbabwe wat R500 per maand verdien.  Hy sorg vir 7 weeskinders en het nie eers genoeg geld om brood te koop nie.  Al wat hulle elke dag eet is pap.  Omdat hulle nie lopende water het nie, het ‘n paar gelowiges geld bygedra om vir hulle ‘n boorgat te sink.  Hulle het 60 meter geboor en nie water gekry nie.

 

In reaksie het hy die volgende sms getik:  ‘A man’s life does not consist of the abundance of the things which he possesses.  Jesus is enough… If Jesus has given me repentance toward God, then I believe that is all that matters.  Yes, the Lord is all I will think about, and I will help my wife not to be distracted.’

 

Dit moet ook ons gesindheid wees indien die Here besluit om nie dadelik ons gebede vir reën in die Wes-Kaap te beantwoord nie:  “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” (Hab. 3:17-18).  “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (Job 1:21).

 

[3] Die duiwel en sy demone kan nie ‘n vinger verroer sonder Jesus se toestemming nie; Hý besluit wat hulle mag doen, en vir hoe lank hulle dit mag doen (Job 1:12, 2:6, Matt. 8:31-32, Mark. 1:25-26).  Moet dan nie soos party mense sê dat die duiwel los is wanneer jy finansieel sukkel, siek word, ‘n rebelse kind het, iemand aan die dood afstaan, ‘n miskraam het, ens. nie.  Wanneer sulke dinge gebeur is die duiwel nie ewe skielik in beheer nie – Jesus is.  Bring daarom jou bekommernisse na Hom toe, want Hy sorg vir jou (1Pet. 5:7).

 

[4] Die dood is nie ‘n persoon met ‘n swart kappie en ‘n sekel-maaier in sy hand, wat ter enige tyd kan besluit om jou dood te maak nie.  Jesus is in beheer van die dood, en sal besluit wanneer jy doodgaan (Job 14:5, Op. 1:18).  As jy ongered is moet jy bang wees, omdat daar iets erger as die dood is:  die tweede dood of die hel.  As jy met jou sonde aanhou sal dit jou ewige bestemming wees (Op. 21:8).

 

Maar as jy in Jesus glo is die dood ‘n lelike vissersboot wat jou na ‘n pragtige Paradys toe neem (Luk. 23:43, Fil. 1:21, 23).  Terwyl jy in die boot is sal Jesus by jou wees en jou hand vashou – jy hoef nie te vrees nie (Ps. 23:4, Heb. 2:14-15).  Die dood kan jou so min skade doen soos ‘n goeie nagrus, ‘n leeu in jou droom, of ‘n by wat nie ‘n angel het nie (1Tess. 4:13-14, 1Kor. 15:55).

 

As jy hard en lank genoeg dink, sal jy sien dat Christus se soewereine heerskappy praktiese gevolge vir elke area van jou lewe het.  Dit geld vir terminale siektes soos kanker, slapeloosheid, pyn, tragedies wat oor jou pad kom en meer.  Niks, maar niks, is buite sy beheer nie.  Omdat dit so is, kan jy Hom met jou lewe vertrou:  jy is in veilige hande.

 

Sy dienaars

Roy besit een van die grootste plase in Amerika.  Hy het meer as 3000 mense wat vir hom werk.  Sy laagste vlak werkers verdien R35 000 per maand, terwyl sy voormanne vir meer as R150 000 per maand werk.  Wat is die eerste ding wat jy wil weet as jy dit hoor?  Hoe baie geld het Roy?

 

Dit is presies so met Jesus en die engele:  as ek jou eers van húlle vertel het, sal jy wil weet hoe wonderlik hulle Koning is.  Engele is onsigbare geeste (Kol. 1:16, Heb. 1:14, vgl. Luk. 24:39).  Hulle kan in ‘n liggaam verskyn (Gen. 19:1, Matt. 28:2-3, Heb. 13:2), maar is nie grootmense of babas met vlerke soos in Michelangelo se kunswerke nie.

 

Hulle is baie sterker as mense (2Pet. 2:11).  Hulle is ook sterker as die duiwel en sy magte (Op. 12:7-9).  Dawid beskryf hulle as kragtige helde (Ps. 103:20), en volgens 2Tess. 1:7 is hulle magtig.  God het slegs twee engele gebruik om Sodom en Gomorra te verwoes (Gen. 19:13).  Onder God se bevel kan hulle d.m.v. rampe en plae ‘n populasie uitwis (Op. 7:1, 16:1-21).

 

Hoeveel engele is daar onder Jesus se mag?  As ons ‘n groot getal wil uitdruk, sê ons bv. dat daar op 23 Desember der duisende mense op Durban se strand was.  Die Bybelskrywers doen dit ook, maar vir hulle is tienduisend die syfer wat ‘n onbepaalde getal uitdruk [Gk. murias].  Volgens Deut. 33:2, Ps. 68:18, Dan. 7:10, Heb. 12:22 en Op. 5:11 is die engele duisende maal duisende, tienduisende maal tienduisende.  Die engele is meer as wat enige van ons kan tel.

 

Volgens Heb. 1:6[4] aanbid hierdie magdom van heerlike en magtige hemelwesens die Here (vgl. Ps. 103:20-21, 148:2, Op. 5:11-12, 7:11).  Buiten vir die feit dat dit iets van Jesus se soewereine heerskappy oor die engele sê, is daar ten minste nog twee maniere waarop ons hierdie waarhede moet toepas.[5]

 

[1] Omdat Jesus vir die engele sentraal is, moet ons ons ore toedruk vir mense wat dinge by engele hoor waarin Jesus nie die middelpunt is nie.  Wat moet jy bv. doen as ‘n kollega vir jou sê dat ‘n engel wonderlike dinge in sy drome met hom deel?  Of wat as ‘n charismatiese familielid jou saam met hom kerk toe nooi, en iemand tydens die erediens so iets sê?  Hoe weet jy of hierdie mense die waarheid praat of nie?

 

In die eerste plek moet jy onthou dat God nie meer indirek met ons praat soos in die Ou Testament nie (God sê vir die engel, die engel sê vir Moses, Moses sê vir die volk).  Volgens Heb. 1:1 praat Hy direk met ons deur die geïnspireerde Woord van sy Seun.

 

Verder moet jy ook luister of Jesus en die evangelie die middelpunt van hierdie mense se woorde is.  ‘n Engel wat van God af kom, sal nie dinge sê waarin Jesus en die evangelie nie sentraal is nie.  In Gal. 1:8-9 sê Paulus:  “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

 

Dit is interessant dat beide Islam en die Mormone ontstaan het, nadat ‘n engel kamtig aan Mohammed en Joseph Smith verskyn het.  Nie een van die godsdienste wat uit hierdie visioene ontstaan het, aanbid die ware Jesus soos wat die engele in Heb. 1:6 dit doen nie.  Ons kan daarom met sekerheid sê dat die ‘engele’ in hierdie visioene eintlik gevalle engele of demone was.  “En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.” (2Kor. 11:14).  “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1Tim. 4:1).

 

[2] Die feit dat die engele vir Jesus aanbid, wys dat hulle skepsels is soos ons.  Gevolglik moet ons hulle nie aanbid of vir hulle vra om ons te help nie (Kol. 2:18, Op. 19:10, 22:8-9).  Ons moet eerder saam met hulle vir Jesus aanbid (v.6).  “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word?  Wie is soos die HERE onder die hemelinge[?]” (Ps. 89:7).

 

Laat die engele se aanbidding in Heb. 1:6 en die res van die Bybel jou aanspoor om die Here meer te aanbid.  Onthou ook asb. dat hulle jóú aanbidding dophou, en dat dit hulle bly of hartseer maak.  Volgens Heb. 12:22 (sien die konteks) aanbid ons die Here saam met tienduisende engele.

 

Ef. 3:10 sê dat die engele deur óns iets van die evangelie leer.  Volgens 1Kor. 11:10 en 1Tim. 5:21 sien hulle of ons reg optree in die kerk of nie.  As jy jou bekeer en soos hulle die Here aanbid (Heb. 1:6), sal hulle fees vier en bly wees (Luk. 15:10).  Op God se bevel sal hulle jou help en teen gevare beskerm (Gen. 19:15-16, 2Kon. 6:17, Ps. 91:11-12, Dan. 6:23, Matt. 18:10, Hand. 5:19-20, 12:7-10, Heb. 1:14).  Maar as jy met jou sonde aanhou, sal Jesus vir hulle sê om jou dood te maak en in die hel te werp (2Kron. 32:21, Hand. 12:23, Matt. 13:39-42, Op. 14:10).

 

Buig eerder saam met die engele voor Jesus Christus, die Koning van die engele.  As jy dit nie nou wil doen nie, sal jy dit buitendien moet doen wanneer Jesus kom.  Volgens Paulus “het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” (Fil. 2:10-11).

 

‘n Oom in Nelspruit het hierdie vers vir ‘n Jehova’s Getuie aangehaal en gesê dat hy eendag in aanbidding voor Jesus sal moet buig.  ‘I will not bow in worship to Jesus Christ,’ het die Jehova’s Getuie gesê.  ‘You will bow,’ het die oom hom geantwoord, ‘even if He has to break your knees.’  Die oom was reg.  Dit kan tog nie anders nie, omdat Jesus Christus die Koning van die engele, van mense en van die hele skepping is.

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997, 2002, pp. 185-187

[2] Ibid., Part 2, pp. 92-100

[3] Aangehaal in John Piper & Justin Taylor, Red., Sex and the Supremacy of Christ, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2005, p. 41

[4] Volgens die Hebreeuse teks van Ps. 97:7 moet al die gode die Here aanbid, maar volgens die Griekse vertaling van die Ou Testament (die LXX) moet al die engele dit doen.  Heb. 1:6 word uit die Grieks uit aangehaal.  Sommige dink dat Heb. 1:6 uit die Griekse vertaling van Deut. 32:43 aangehaal word, maar dit is onwaarskynlik.  As jy die Hebreeus lees, sal jy geen verband tussen hierdie vers en Heb. 1:6 sien nie.

[5] Wayne Grudem se Systematic Theology het my gehelp (Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1994, 2007, pp. 406-407).

God se byl

Axe

Jy ken seker die storie van Thor se hamer?  In Noorse mitologie was Thor die god wat met donderweer geassosieer is.  Die naam Donderdag of Thursday is van hierdie naam afgelei (Thor’s Day).  Sy hamer se naam is Mjölnir, en is veronderstel om een van die magtigste wapens op aarde te wees.  Die ou Noorweërs het gesê dat die berge kon platslaan.  Ons weet natuurlik dat Thor nie regtig bestaan het nie, en dat dit ‘n mite is.  Die God van Israel en sy byl is egter nie mite; Jes.10:5-34 praat daarvan.

 

Die val van Assirië (v.5-19)

God was kwaad oor goddelose Israel se sonde, en het vir Assirië as sy staf en roede gebruik om haar te slaan (v.5-6, 9:16).  Hy het nie maar net die Assiriërs toegelaat om vir Israel aan te val nie, maar het hulle beveel soos wat Hy die sneeu en die wind beveel (v.6, vgl. Hab.1:6).  Hy het vir hulle gesê om sy volk dood te maak, om hulle te plunder, en om hulle soos modder in die strate te vertrap (v.6, 8:1-4).

 

Assirië se motief was egter nie om die Here se heilige en regverdige oordele uit te voer nie, maar om sy eie mag te toon en om absoluut te verwoes (v.7).  Sy motief was sondig (v.7), terwyl die Here s’n heilig was (v.5-6).

 

Dit is byna soos ‘n ma wat haar vierjarige dogter met ‘n boodskap na haar boeties toe stuur:  ‘Gaan sê vir jou boeties ék sê hulle moenie so rof met jou speel nie.’  Met die gesag van ‘n grootmens gaan sy na haar boeties toe.  Sy steek vir hulle tong uit en sê:  ‘Mamma sê julle moet dadelik ophou om so rof met my te speel, anders gaan sy julle pak gee!’  Die ma se intensie verskil heeltemal van haar dogter s’n.  So was dit ook met God en Assirië (v.5-7).

 

Assirië was arrogant en het nie erken dat sy mag van die Here af kom nie.  Hy het in homself geroem (v.9-11):  ‘Wanneer ek ‘n nasie oorwin, word hulle koning ‘n leier in my weermag.  Ek het ook die groot stede wat in die strook langs die Middellandse See lê, platgevee.  Van noord tot suid was dit Karkemis, Arpad, Kalno, Hamat, Damaskus en Samaria.  Dit is net logies dat Jerusalem die volgende groot stad in my visier is.  Toe ek my hand uitgestrek het om die nasies vir myself te vat, het nie een van hulle gode my gekeer nie.  Hoe gaan Jerusalem en haar gode my dan keer?’

 

Die onsigbare God van Israel en Juda sou hom gekeer het (2 Kon.19:17-19).  As die Here klaar sy volk getugtig het, sou Hy die arrogante koning van Assirië vir die trots in sy hart en oë gestraf het (v.12, 37:37-38).  In sy arrogantheid het hy gesê:

 

‘Deur my sterk hand en wyse oorlogstrategie het ek al hierdie stede verower en hulle skatkamers geplunder.  Ek skuif lande se grense soos ek wil.  Ek is soos ‘n bul wat rooi sien:  ek bring konings op hulle knieë voor my; ek bring hulle van hulle trone af (v.13).  Ek is soos iemand wat ‘n verlate nes vol eiers kry – ek vat dit vir myself.  Die rykdom van die volke en van die hele aarde is myne.  Soos ‘n bang voël het niemand dit gewaag om ‘n vlerk te flap of te twiet nie’ (v.14).

 

God het vir die arrogante koning van Assirië gelag.  ‘Waar het jy al gesien dat ‘n byl of saag beter is as die een wat dit gebruik?  Sonder die houtkapper is die gereedskap nutteloos.  Tel die staf of roede die man op of andersom?  Die staf is van dooie hout gemaak en kan niks doen nie’ (v.15, 5).

 

Die Here van die Leërskare het besluit om die koning van Assirië en sy dapper soldate met ‘n verwoestende siekte te straf (v.16).  Só het Hy hom en sy heerlikheid in een nag vernietig (v.16-17, 37:36).  Assirië was die doringtakke en die onkruid; God was die vuur wat hulle verteer het (v.16-17, Heb.12:29).

 

God het die Assiriërs gebruik om sy volk soos ‘n woud aan die brand te steek (9:17-18).  Nou het Hy húlle soos ‘n woud aan die brand gesteek (v.16-18).  Hy sou hulle liggaam en siel verwoes het soos wat siekte ‘n mens se liggaam uitteer (v.18, Mt.10:28).  As God klaar die Assiriërs vernietig het, sou hulle soos ‘n woud gewees het waarvan die bome afgekap is.  Die soldate in sy weermag sou m.a.w. so min gewees het, dat ‘n kind hulle kon tel (v.19).

 

Om v.5-19 reg toe te pas, moet ons verstaan dat dit oor God se soewereiniteit gaan, en dat Hy oor alles en almal regeer (Ps.103:19).  Hy is soewerein oor bose nasies en hulle konings (v.5-6).  Dit is Hy wat konings aanstel en hulle weer afsit (Dn.2:21).  Al dink ‘n regering of ‘n leier dat hulle in beheer is, is God die Een wat hulle aangestel het (v.5-15, Rm.13:1).  Die mag wat hulle het kom van Hóm af (Jh.19:11).

 

Ons hoef dus nie bang te wees wanneer sekere leiers in ons land arrogant is en praat asof húlle in beheer is nie.  Ons moenie die toekoms vrees nie, maar op die Here vertrou.  Hy is by magte om mense se bose dade te gebruik om sy goeie planne uit te werk (v.5-7, Gn.45:5, 8, 50:20, Ps.105:17, Hd.2:23, 4:27-28).

 

Dit geld ook op ‘n individuele vlak.  Die Here is soewerein as Sarel sy vrou sleg behandel, of as Alicia van haar man skinder.  Hy is soewerein as Gert rebels is en sy ouers se hart breek.  Hy is soewerein as Retha se vyand ‘n leuen oor haar vertel, of as Pieter se kollegas hom kritiseer.

 

Soos met Israel, gebruik Hy mense om ons te verneder en na Hom toe te draai.  Ondersoek daarom jou eie hart om te sien of dinge in jou lewe reg is.  Indien nie, moet jy dit regstel.  Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  Lê stil onder die Here se swaar hand, en wag totdat Hy jou op die regte tyd verhoog (1 Pt.5:6).  Probeer om nie bitter te raak nie, maar gee aanhoudend jou probleem in gebed vir die Here (1 Pt.5:7).

 

Die punt wat ek wil maak is nie dat die Here kop in een mus is met die mense wat teen jou sondig nie.  Sy intensies met jou beproewing is goed, terwyl die mense wat Hy gebruik slegte motiewe het (v.5-7).  Die troos lê egter daarin dat selfs slegte mense nie kan doen wat hulle wil nie.  Die Here sal hulle gebruik om sý planne uit te voer (v.5-15).  En aan die einde van alles sal Hy hulle oordeel vir wat hulle aan sy kinders gedoen het (v.16-19).  Laat ons dan leer om deur geloof en gebed ons probleme in sý bekwame hande te los.

 

Die bekering van Israel (v.20-34)

Het jy al ooit ‘n plant in jou tuin gehad wat jy nie kon uitroei nie?  Sodra jy dink jy het dit uitgeroei, kom dit weer op.  Dit is asof jy dit net nie kan uitroei nie.  Maar as jy hard probeer sal jy dit regkry.

 

Met God se kinders is dit anders.  Al staan al die magte van die hel teen God se kinders op, kan hulle ons nie uitroei nie.  So was dit in v.20-34 met God se volk.

 

Ons onthou uit hfst.7 hoe die konings van Israel en Sirië vir Jerusalem aangeval het.  Jerusalem het vir Assirië gevra om te help, maar op die ou end toe draai hy om en toe veg hy téén haar (1 Kon.16:7, 2 Kron.28:20).

 

Maar in die toekoms sou dit nie so gewees het nie.  Die oorblyfsel van Israel sou nie meer op die koning van Assirië vertrou het nie, maar op die Here (v.20, vgl. die betekenis van Sjear Ja-sjub in 7:3).  Met ‘n opregte hart en in waarheid sou hulle op die Heilige van Israel gesteun het (v.20).

 

Na Israel se ballingskap sou die oorblyfsel van die volk nie net na die land toe teruggekeer het nie, maar na die Here toe (v.21).  Hulle sou dus tot bekering gekom het en in die magtige God van Jakob geglo het (v.21, 9:5).

 

Volgens God se belofte aan Abraham was Israel soos die sand van die see, maar nou het hulle as ‘n oorblyfsel teruggekeer (v.22, Gn.22:17).  Volgens die Here se raadsplan het Hy die volk verwoes en uitgeroei (v.22).  Dit het Hy gedoen omdat Hy vol van geregtigheid was, en die volk vol van sonde (v.22).  Sy besluit om hulle uit te roei was heeltemal heilig en regverdig (v.22).  Sy oordele het nie net vir Israel gegeld nie; die ander nasies sou ook deurgeloop het (v.23).

 

God het die Assiriërs gebruik om vir Samaria te straf.  Hulle sou egter nie suksesvol gewees het teen Jerusalem nie; dit was onnodig dat sy die roede van Assirië gevrees het soos wat sy dit in Moses se tyd onder die Egiptenare gedoen het (v.24, 2 Kon.19:6, Eks.2:11, 23).

 

‘n Kort tydjie na Assirië se aanval op Jerusalem, het die Here hom vernietig (v.25).  So het die eens magtige wêreldryk tot ‘n val gekom, sodat daar vandag minder Assiriërs is as Afrikaners.  Soos wat hy ‘n roede teen Israel was (v.24), sou die Here ‘n sweep teen hom gewees het (v.26, 37:36-38).  God sou hom getref het soos wat Hy in Gideon se tyd die Midianiete getref het (v.26, 9:3, Rgt.7:25).  Die Here sou sy staf oor Assirië gelig het soos Hy dit by die Rooi See oor Egipte gelig het (v.26).

 

Daarna sou Assirië se slawejuk nie meer op Jerusalem se nek en skouers gewees het nie (v.27, 9:3, 2 Kon.18:14, Nah.1:13).  Wat beteken v.27 as dit sê dat die juk a.g.v. die vettigheid vernietig sal word?  Die Hebreeuse woord [shemen] verwys na die salfolie waarmee Israel se konings gesalf is.  Die juk sou dus gebreek word, omdat God ‘n verbond met Dawid en sy nageslag gemaak het (2 Sm.7:14).  Assirië kon dit daarom nie regkry om vir Israel te sink nie.

 

Hy het wel die kleiner dorpies in Juda vernietig, en was van daar af oppad om teen Jerusalem te veg (v.28-32).  Die dorpies wat gelys word is ‘n paar kilometer van Jerusalem af.  Hulle was bang en het na Jerusalem toe gevlug.  Die Assiriërs was oppad om teen Juda se hoofstad (Jerusalem) te veg.  Hulle het egter 2 km van Jerusalem af by ‘n dorp genaamd Nob gehalt (v.32).  Assirië het sy vuis vir Jerusalem gewys, maar God het hom gekeer om teen haar te veg (v.32).

 

Assirië was ‘n byl in die Here se hand (v.15).  Die Here het egter die situasie omgekeer en met almagtige houe die reuse en hoogmoedige boom van Assirië afgekap (v.33, 2:11-13, 17).  Met ‘n geweldige slag sou die boom aarde toe gekom het (Esg.31, 17:24, Dn.4).  Met sy byl het God die boom en die hele bos se takke afgekap (v.34, 18, kontr. v.15).  Babilon was die nuwe byl wat Hy gebruik het om hierdie majestieuse en magtige seder van Lebanon – Assirië – af te kap (v.34, Esg.31).

 

Hoe moet ons hierdie gedeelte toepas?  Vandag is daar bittermin Jode wat in die sterke God van v.21 en 9:5 glo (Rm.9:27-28, 11:5), maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rm.11:25-26).  Onthou dat die Jode se bekering groot seën vir die wêreld sal beteken, en dat baie heidene as gevolg daarvan gered sal word (Rm.11:12, 15).

 

Moet dan nie nalaat om vir hulle bekering te bid nie.  ‘n Skotse prediker in die 1600’s het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[1]  Ek bedoel nie dat ons nie ernstig vir die redding van al die nasies moet bid nie, maar eerder dat ons nie van Israel moet vergeet nie.

 

Nog ‘n les is dat ons nie die vyand hoef te vrees nie (v.24).  Hy mag miskien sterker as ons wees, maar Hy is nie sterker as die Here nie.  God sal hom met ‘n almagtige slag tref en finaal tot ‘n einde bring.

 

Wat Hy in v.24-34 met die Assiriërs gedoen het, sal Hy met elke arrogante regering doen.  Soos groot bome sal Hy hulle afkap.  Die boom van sy Koninkryk sal die grootste wees (Dn.2, Mt.13:31-32).  En wat Hy met die Koninkryke van hierdie wêreld gedoen het, sal Hy ook met Satan en die koninkryk van duisternis doen.

 

Dit help nie dat enige vyand sy of haar vuis teen Jesus en sy kerk lig nie (v.32, Mt.16:18).  Jy kan dan moed skep en weet dat die Here nooit een van sy kinders sal laat val nie.  Niks kan ons van sy liefde skei nie, en niemand kan ons uit sy hand uit ruk nie (Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  Hy het die goeie werk van verlossing in jou begin, en sal dit voltooi tot op die dag wanneer Jesus terugkeer (Fil.1:6).

 

As God aan jou kant is, is sy byl nie gevaarlik nie.  Ek bedoel nie dat dit nooit met jou sal sleg gaan nie, maar dat Hy selfs die beproewing waardeur jy op die oomblik gaan tot jou voordeel sal gebruik.  Sy byl sal vir jou ‘n operasiemes wees wat die kanker van sonde uitsny, en nie ‘n voorwerp van verwoesting nie.

 

[1] Robert Leighton aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.75