God se oplossing vir die wêreld se probleme

Suffering-Servant

My vrou moes my al terughou en vir my sê dat ek nie die wêreld se probleme kan oplos nie.  Sy is reg.  Maar die Messias kan.  As armoede die wêreld se grootste probleem was kon ons vir Jeff Bezos, Bill Gates en Mark Zuckerberg vra om dit op te los.  Maar daar is groter probleme as dit, en daarom het ons Jes. 42:1-17 se Messias nodig.  Wie is Hy?  Jesaja beskryf Hom as…

 

  1. Die begeerlike Messias (v.1a)

Wat maak jou die blyste en begeer jy die meeste?  Vir God is dit die Messias (v.1a, Spr. 8:30, Matt. 3:17, 17:5).  Soos die bruidegom in Hoogl. 5:10, 16 is Hy “uitnemender as tien duisend… geheel en al die lieflikheid self.”  Hy is die Messias van Ps. 45:3 wat veel skoner is as die mensekinders.

 

Sy lieflikheid word daarin gesien dat Hy ‘n nederige dienskneg is wat Hom vir 33 jaar aan die Vader onderwerp het en sy lewe vir ons gegee het (Fil. 2:6-8, Joh. 10:17-18).  Dit is ook hoekom die Vader Hom gekies het (v.1a).

 

In ons geval het Hy ons nie gekies omdat Hy iets in ons gesien het nie (Rom. 9:11, 1Kor. 1:26-29).  Maar in die Messias se geval het die Vader Hom gekies omdat Hy so begeerlik is (v.1a).  En sal ons nie begeer “om die lieflikheid van die HERE te aanskou” nie (Ps. 27:4)?

 

As jy Christus begeer sal jy jou wellus vir die wêreld oorkom en sal dit vir jou soos flou Ricoffy wees, nadat jy die ryk aroma van ‘n duursame filter koffie geniet het.  Om Christus te begeer moet jy in Hom glo en oor Hom nadink (2Kor. 4:6).  Peins bv. oor Jes. 33:17: “Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou”.

 

Dink daaraan dat Christus mooier is as ‘n diamant wat in die son glinster, as ‘n reënboog voor stormwolke, as ‘n sonsondergang in die berge, as gekleurde voëls, visse, skoenlappers en blomme.

 

  1. Die gesalfde Messias (v.1b)

‘n Pleonasme is as iemand bv. van ‘n ronde sirkel praat.  Dit is verkeerd om so te praat, omdat die woord sirkel ‘n ronde objek veronderstel.  ‘n Mens kry tog nie ‘n vierkantige sirkel nie.

 

‘Gesalfde Messias’ is ‘n pleonasme.  Messias beteken immers ‘gesalfde’.  Ek gebruik dit egter so om by die ritme van my hoofpunte in te pas.  Toe Jesus gedoop is het sy Vader die Heilige Gees op Hom gelê en Hom as die Messias of Christus gesalf (v.1b, 11:2, 61:1, Matt. 3:16, Heb. 1:9).

 

Die Gees het Hom vir sy taak as die gesalfde Priester, Profeet en Koning bekragtig (Hand. 10:38).  As Priester het Hy Homself vir ons geoffer, as Profeet het Hy God se wil aan ons bekend gemaak, en as Koning vertrap Hy ons vyande.

 

Kan Hy die wêreld se probleme oplos?  Kan Hy jou sonde vergewe en jou help om dit te oorkom?  Kan Hy jou met jou persoonlike probleme help?  Kan Hy jou gebede verhoor?  Kan Hy die Vader se wil aan jou openbaar m.b.t. die kwessie wat jou verwar?  Kan Hy die duiwel verdryf?

 

  1. Die regverdige Messias (v.1c)

Ons regering, land en wêreld is vol ongeregtigheid: korrupsie, diefstal, oneerlikheid, onderdrukking, moord.  Ons benodig ‘n Messias wat reg en geregtigheid vir die nasies sal bring (v.1c, 2:4).  As jy in sonde lewe soos die wêreld sal sy geregtigheid jou benadeel en sal jy hel toe gaan.  En vir Hom om so te doen is reg.

 

Maar as jy op Hom en sy kruisdood vir sondaars vertrou en jou bekeer, sal sy geregtigheid jou bevoordeel en sal jy vir ewig op die nuwe aarde lewe “waarin geregtigheid woon.” (2Pet. 3:13).  Wat kies jy?

 

  1. Die sagmoedige Messias (v.2-3a)

Mense sal enigiets gebruik om hulleself voorop te stel.  In die verkeer sal hulle op ander se sterte ry om hulle te domineer.  Op Facebook sal hulle hulleself adverteer en vir almal sê dat hulle hier is.

 

Die Messias is nie so nie.  Toe Hy op aarde was het Hy nie geskreeu om mense te domineer of hard uitgeroep om aandag te trek nie (v.2).  Hy het saggies gewerk om stukkende en gewonde sondaars te help, te vergewe en te herstel (v.3, Matt. 11:28-30, 12:18-21).

 

Dit is wat Hy met ons gedoen het.  En dan raak ons ongeduldig met ons lewensmaats, kinders en ander mense as hulle nie dadelik verander nie.  “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1Tess. 5:14, vgl. Kol. 3:12-13).

 

  1. Die getroue Messias (v.3c)

Het jy al belowe om iets te doen, êrens te wees, vir iemand te bid, of gesê jy sal terugkom na iemand toe, en dit dan nie gedoen nie?  Die Messias is nie so nie, maar is betroubaar.  In getrouheid aan die Vader, sy volk en sy verbond sal Hy sorg dat geregtigheid geskied en sal Hy die mense wat sy kinders seermaak soos ‘n kers uitdoof (v.3, 43:17).

 

Ek was al dikwels ontrou aan die Messias; Hy was nog nooit ontrou aan my nie.  Selfs toe ek ontrou was, was Hy daar om my te help en terug te bring na die Vader toe: “u trou is groot.” (Klaagl. 3:23).

 

  1. Die volhardende Messias (v.4)

Ek ken ‘n Christen wie se man haar gelos het.  Sy is kwaad vir die Here en het opgehou kerk toe gaan.  Gelukkig gee die Here nie op nie.  As ons soos ‘n geknakte riet en smeulende kerspit is (v.3), is die Messias nie so nie (v.4).  In sy poging om geregtigheid op die aarde te vestig raak Hy nie moeg of uitgeput nie (v.4).  Hy is immers nie net ‘n mens nie, maar God (40:28, 30).

 

Op die oomblik lyk dit nie of geregtigheid seëvier nie, maar die Messias “moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.” (1Kor. 15:25).  As sy Woord na die eilande of eindes van die aarde toe versprei en hulle leer om dit te doen, sal geregtigheid seëvier (v.4, 2:3, 11:9-11, 60:9, Matt. 28:19-20).  So het die Puriteine geglo: ‘the isles of the sea would one day be Christ’s!’[1]

 

Laat dit jou aanspoor om vir sending en herlewing te bid.  Dit is tog hoe Jesus ons geleer het: “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10).  Namate die Koninkryk deur die evangelie versprei sal mense God se wil op die aarde doen soos die engele dit in die hemel doen.  Geregtigheid sal m.a.w. seëvier (v.4).

 

  1. Die geroepe Messias (v.5-6b)

Baie teologiese kolleges het ‘n hoë uitval syfer.  Van die mans wat saam met my studeer het, het ‘n goeie 40 of 50% hulle studies gelos, nooit in die bediening ingegaan nie, of binne die eerste tien jaar uitgeval.

 

Die Messias het nie uitgeval nie, maar is geroep deur die God wat alles gemaak het, dit onderhou en aan ons lewe gee (v.5, Gen. 2:7, Hand. 17:25).  Hy is die Here wat die Messias vir hierdie taak geroep het (v.6a), en sou daarom sy hand vat en Hom bewaar (v.6b).

 

In Christus het Hy jou ook geroep, vat Hy jou hand en bewaar Hy jou (41:8, 13, Joh. 10:28-29, Rom. 8:29-30).  Hy beskerm jou teen gevare waarvan jy nie eers bewus is nie.  Dit sal Hy doen totdat jy veilig in die hemel is (2Tim. 4:18).

 

  1. Die reddende Messias (v.6c-7)

‘n Verbond is sterker as ‘n belofte.  Dit word met bloed verseël om te sê: ‘As Ek my Woord nie hou nie sal Ek sterf.’  God het die Messias as ‘n verbond aan sy volk gegee (49:8), maar ook aan die nasies (v.6, Matt. 1:21, Joh. 11:50-52).  Hy het sy bloed gestort om die verbond te verseël (Luk. 22:20).  In die verbond belowe Hy om sy uitverkorenes te red.  Hy sal suksesvol wees.

 

Hy is God se lig om die nasies deur die evangelie uit die duisternis van hulle geestelike blindheid en onkunde te bevry (v.6-7, 49:6, Luk. 2:32, Joh. 8:12, 9:39-41, Hand. 13:47, 26:18, Ef. 4:18).  Hy red mense wat geboei in die donker tronksel van hulle sonde en die dood sit (v.7, 61:1, Luk. 1:79, 4:18-19, Kol. 1:12-13).

 

Is jy nog in die bande van sonde?  Vra vir Christus om jou te red.  Hy is sterk genoeg om die tralies oop te buig, die boeie te breek en jou te bevry:  “Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek…Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.” (Ps. 107:14, 16).  “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36).

 

  1. Die heerlike Messias (v.8)

Toe my kinders klein was het hulle vir my gevra: ‘Wat is God se Naam?’  ‘EK IS wat EK IS’ het ek geantwoord.  Dit is hoe Hy Homself in Eks. 3:14-15 aan Moses geopenbaar het.  Sy Naam staan vir alles wat Hy is.

 

Hy deel nie sy lof en heerlike karakter of Naam met ander gode nie (v.8, 48:11).  Hy deel dit net met die Messias, omdat hulle een is (Joh. 5:23, 10:30, 17:1, 5, Heb. 1:3).

 

As ons dit net kan onthou en besef dat ons niks is nie, sal 95% van ons verhoudingsprobleme vanself regkom (Jak. 4:1-2).  “[Christus] moet meer word, maar ek minder.” (Joh. 3:30).  Ek het onlangs ‘n aanhaling gelees wat sê: ‘Nederigheid is nie om minder aan of van onsself te dink nie, maar om meer aan Christus en ander te dink.’

 

  1. Die beloofde Messias (v.9)

Palmlesers kan vir jou sê hoeveel broers en susters jy het, waar hulle bly, en wat hulle name is.  Hoe weet hulle dit?  Demone sê vir hulle.  Dit is nie indrukwekkend nie.

 

God is indrukwekkend.  Die dinge wat Hy oor koning Kores voorspel het, het gebeur (v.9).  Die dinge wat Hy oor die Messias voorspel het, het ook gebeur (v.9).  Sy akkurate voorspellings wys dat Hy die ware God is (v.9, 41:22-24, Joh. 13:19).

 

Daar is nog profesieë wat vervul moet word.  Die feit dat die wederkoms bv. lank vat beteken nie dit gaan nie gebeur nie.  God het die Messias se eerste koms 4000 vroeër belowe (Gen. 3:15).  Dit het lank gevat, maar is vervul (v.9).  Ons wag nou al 2000 jaar vir Jesus se wederkoms.  Ek weet nie hoe lank dit nog gaan vat nie, maar die Here sal dit vervul.

 

  1. Die lofwaardige Messias (v.10-12)

Die appel val nie ver van die boom af nie: dit beteken dat Jannie baie na sy pa aard of lyk.  In die Messias se geval is Hy presies soos die Vader (Joh. 14:9).  Wie dus die Vader prys, prys ook die Seun (Op. 5:11-14).

 

Ons moet Hom vir sy skepping prys (v.5).  Maar ons moet Hom ook met ‘n nuwe lied vir sy nuwe skepping of verlossing prys (v.9-10, 2Kor. 5:17, Op. 5:9).  Hy het die eindes van die aarde verlos: die mense teen die kus, op die eilande, in die woestyn (v.10-12, 4).

 

Hy het mense in die dorpies van Kedar verlos (v.11).  Kedar is Ismael se tweede oudste seun uit wie die Arabiere afstam (Gen. 25:13).  Ja, baie Moslems sal tot bekering kom (v.11, 60:7)!

 

Sela, ‘n rotsgebied in Edom (16:1) sal die Here prys en sy lof van ‘n berg af roep sodat almal dit kan hoor (v.11, 40:9).  Oral sal mense Hom verheerlik en sy lof besing (v.10-12): “Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!” (Ps. 113:3, vgl. Mal. 1:11).

 

Jes. 42:10-12 is reeds besig om vervul te word.  Daar is Christene in Siberië, Nieu-Seeland, Indonesië, Indië, Madagaskar, Israel, Turkye, Namibië, Noorweë, Nigerië, Spanje, Ierland, Ysland, Amerika, Peru, en so te sê elke land op aarde.

 

“laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps. 72:19).  “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Hab. 2:14).  Moenie net vir jou en jou geliefdes bid nie.  Bid dat hele nasies (ook ons s’n!) die Messias sal prys (v.10-12).

 

  1. Die verwoestende Messias (v.13-15)

‘n Leeu wyfie kan haar kleintjies saggies in haar bek dra.  Maar sy kan ook jou nek breek.  Net so praat en werk die Messias saggies met die geknakte riet (v.2-3), maar skreeu en storm Hy soos ‘n sterk en dapper krygsman teen sy vyande (v.13, 59:17, Eks. 15:3, Jos. 5:13-15, Ps. 2:2, 9, 45:3-5, 78:65, 110:1-2, 5-6, Op. 19:11-16).

 

Hy het hulle vir duisende jare kans gegee om hulle te bekeer (v.14, Eks. 34:6, Hand. 14:16, 17:30, Rom. 3:25).  En moet Hy ‘n blinde oog gooi as hulle ná die Messias se koms nog met hulle sonde aanhou?  Nee.  Hy sal soos ‘n swanger vrou teen hulle hyg en uitroep (v.14).  Hy sal hulle soos berge platvee en soos water in die woestyn opdroog (v.15, 41:15, 40:4, 2:14, 17).

 

En “ hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Heb. 2:3)?  “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:29).

 

Sal jy wegkom as jy die evangelie geken en nogtans met jou sonde aangehou het?  Verseker nie.  Die Messias sal jou nek breek en jou verwoes.  ‘n Puritein het gesê: ‘sinners bring judgment in thinking sins are small, or that God is not angry with them.’[2]  Bekeer jou, sodat die Messias jou kan vergewe en saggies met jou kan werk (v.4).

 

  1. Die leidende Messias (v.16)

Ly met ‘n lang ‘y’ beteken om swaar te kry.  Lei met ‘n ‘e-i’ beteken om voor te loop en die pad aan te dui.  Jesaja verwys hier na lei met ‘n ‘e-i’.

 

Soos iemand wat ‘n blinde aan die arm lei, skyn die Messias sy lig, laat Hy dié wat geestelik blind is sien, en lei Hy hulle op die nuwe weg van verlossing (v.16, 6-7, 35:5, 8).  Hy maak die ongelyke paaie gelyk (v.16, 40:4).

 

Maar selfs nadat die Messias hierdie dinge gedoen het verlaat Hy ons nie, en lei Hy ons nog steeds (v.16).  Hy is ons Messias en Herder, en nie ‘n hulpelose afgod nie (v.16).  As jy Hom vra sal Hy jou na ‘n plek van blydskap, vrede, ‘n stil gewete, genade, liefde, aanvaarding en vervulling toe lei.

 

As jy soek wat die Messias jou kan gee sal jy dit nie kry nie.  Maar as jy Hóm soek sal jy sy geskenke en veel meer kry, want as jy Jesus het het jy alles (Luk. 11:9-13, Ef. 1:3, 3:20).

 

  1. Die betroubare Messias (v.17)

Ek het al by tye nie my tuin natgemaak nie, omdat dit gelyk het of dit gaan reën.  Die weervoorspelling het selfs gesê dit gaan reën, maar dan gebeur dit nie.  Net so sal dié wat op yster beelde vertrou en sê dat hulle gode is, beskaamd staan (v.17).

 

Afgode kan jou nie help nie.  Net die Messias kan, omdat net Hý 100% betroubaar is (Spr. 20:6).  Dit is dus onchristelik om jou volle vertroue op iets of iemand anders te stel, hetsy die ds., dokter, berader, medisyne, geld, ‘n familielid, vriend, kollega, die party vir wie jy stem, Amerika, jou intellek, opleiding, krag, ervaring, ‘n boek, of wat ook al.

 

Net die Messias is waardig van jou volle toewyding en vertroue.  Gee dit vir Hom en glo dat Hy nie net jou persoonlike probleme kan oplos nie, maar die wêreld s’n.  Hy kan dit nie speel-speel oplos soos Superman of ‘n verliefde man wat belowe om berge vir sy meisie te versit nie; Hy kan dit regtig doen.

 

[1] Iain Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1971), 180

[2] Arthur Bennett, The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1975), 69

Tekens van die einde

The end is near

Ek het ‘n DVD gekyk waarin die prediker foto’s van hedendaagse oorloë, hongersnode, aardbewings, pessiektes, ens. wys en vir die mense sê dat dit Matt. 24:4-14 vervul.  Maar is dit wat Jesus in hierdie verse bedoel het?  Kom ons bekyk die teks, konteks en historiese agtergrond van nader.

 

  1. Vals messiase en profete (v.4-5, 11)

Alhoewel daar vandag nog vals messiase en profete is, het Jesus hier van die eerste eeu gepraat.  Hoe weet ons dit?  Volgens Luk. 21:6-7 was hierdie dinge voorlopers van die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 70 n.C.

 

Verder het Jesus in v.34 gesê: “hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”  Hy het ook in v.4, 6, 9 vir die dissipels gesê dat húlle hierdie dinge sou deurmaak.

 

Baie tekste in die Nuwe Testament bevestig v.4-5, 11, en wys dat daar in die eerste eeu vals messiase en profete was (Hand. 13:6, 20:29-30, 2Kor. 11:13, Gal. 2:4, 1Tim. 4:1-2, 2Pet. 2:1-2, 1Joh. 2:18, 4:1, Op. 2:2).  Josefus (37-100 n.C.) beaam dat daar baie vals profete in hierdie tyd aktief was.[1]

 

Jesus gaan so ver as om te sê dat die vals messiase hulleself die God van Eks. 3:14 (EK IS) sou noem: ‘Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek!’ (Mark. 13:6, Gk. egō eimi beteken ‘EK IS’].

 

Dit het inderdaad gebeur.  In Hand. 8:9-11 praat Lukas van Simon die towenaar wat mense mislei het.  Baie van die vroeë kerkvaders het gesê dat hy homself as God, die Messias, die Woord van God, die Trooster, die Almagtige, die Seun van God en die skepper van die engele beskou het.[2]

 

Daar was ook ‘n sekere Dositheus wat gesê het dat hy die Messias en Profeet van Deut. 18:18 is.[3]  Blykbaar was hy Simon die Towenaar se leermeester.[4]

 

  1. Oorloë (v.6-7)

Daar was nog altyd oorloë in die geskiedenis.  Maar persoonlik dink ek nie dat die twee Wêreld Oorloë van die 20ste eeu ‘n vervulling van Matt. 24:6-7 is nie.  Die oorloë in hierdie verse sou voor die verwoesting van die Jerusalem-tempel in 70 n.C. plaasvind (v.2-3).  Kom ek skets vir jou die agtergrond.

 

Tussen 17 v.C. en die middel van die eerste eeu n.C., het die Romeinse Ryk ‘n tyd van vrede beleef.  Hulle het dit die Pax Romana genoem.[5]  Maar in 68-69 n.C. was daar groot onstuimighede.

 

Binne ‘n jaar was daar vier Romeinse keisers.[6]  Dinge het so erg geraak dat die Ryk amper tot ‘n val gekom het.[7]  Die Romeinse geskiedkundige Tacitus (55-117 n.C.) sê dat verskeie provinsies in opstand was en van die Ryk probeer wegbreek het.[8]

 

Dwarsoor die Ryk was daar oorloë waarin koninkryke en nasies teen mekaar geveg het: Germanië (Duitsland), Thracië (op die grens van Bulgarye, Griekeland en Turkye), Noord-Afrika, Gallië (Frankryk), Brittanje, Armenië, Judea en meer (v.6-7).[9]

 

Volgens God se soewereine raadsplan móés hierdie dinge gebeur, maar dit was nog nie die einde van die tempel met sy priesters en offersisteem nie (v.6).  Die dissipels moes hulle dus nie hieroor ontstel nie (v.6).

 

  1. Hongersnode en pessiektes (v.7)

Net soos wat iemand se skaduwee hom volg, volg hongersnood op oorloë, en pessiektes op hongersnood (v.7, Luk. 21:11).  Tydens Claudius (41-54 n.C.) se heerskappy was daar ‘n wêreldwye hongersnood (Hand. 11:28).

 

Verskeie antieke skrywers beskryf sulke hongersnode.[10]  In Jerusalem het mense bv. van die honger gesterf.[11]  Tydens die Joodse oorlog is mense oopgesny en het hulle hulle arms in mekaar se kele afgedruk om kos te kry; ma’s het hulle eie kinders geëet.[12]  So is die vervloeking van Deut. 28:52-61 vervul.

 

Maar dit was nie net die Jode wat van die honger en pessiektes gesterf het nie.  Volgens Suetonius (70-160 n.C.) het 30 000 mense gedurende een herfsseisoen a.g.v. ‘n pessiekte in Rome gesterf.[13]  Tacitus vertel hoe die bevolking byna uitgesterf het: ‘The houses were full of corpses, and the streets of funerals.’[14]

 

  1. Aardbewings (v.7-8)

Die aardbewings gedurende hierdie tyd was so erg, wyd-verspreid en aanhoudend, dat Charles John Ellicott in die 1800’s gesê het: ‘Daar was seker nog nooit ‘n periode in die wêreld se geskiedenis wat so deur aardbewings gekenmerk is, soos die tyd tussen Jesus se kruisdood en die verwoesting van Jerusalem nie.’[15]

 

Antieke skrywers praat van aardbewings in Kreta, Rome, Apamea, Frigië, Smirna, Milete, Chios, Samos, Laodisea, Hiërapolis, Kolosse, Campanië, Rome, Judea, Pompeii, Asië (Wes-Turkye), Agaje, Sirië en Macedonië.[16]  Daar was ook geweldige skuddings tydens die heerskappye van keisers Caligula (37-41 n.C.) en Claudius (41-54 n.C.).[17]

 

Maar volgens v.8 was hierdie dinge nie die eintlike tekens van die einde nie, maar die geboorte pyne wat op beter dinge sou uitloop.  Met die verwoesting van die tempel sou die baba (die kerk) van die ma (Israel) geskei word.

 

Die Christelike geloof sou nie meer met Judaïsme verwar word nie.  Met die verwoesting van die Jerusalemse tempel het die ou verbond finaal tot ‘n einde gekom, en sou die nuwe verbond en tempel soos ‘n paal bo water uitstaan (Heb. 8:13, 10:9).  Ek sal hierop uitbrei as ek by die toepassing kom.

 

  1. Vervolging (v.9-10)

Tussen 64 en 68 n.C. het keiser Nero die Christene vervolg.[18]  Hy het gesê dat hulle die mensdom haat.  Hy het sommige van hulle laat kruisig, terwyl hy ander in dierevelle toegewerk en vir die honde gegooi het.  Hy het party van hulle met pik gesmeer en aan die brand gesteek om sy gaste te vermaak.[19]

 

Jesus het dit voorspel: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.” (v.9).

 

In 10:18 en Mark. 13:9 sê Jesus dat hulle in die sinagoges geslaan sal word.  Dit impliseer dat hulle nie net deur die Romeine vervolg sou word nie, maar ook deur die Jode.

 

Baie tekste in die Nuwe Testament wys dat die Jode en heidene God se kinders vervolg het (23:34, Hand. 4:3, 5:40, 7:54-8:3, 9:1, 12:1-2, 14:5, 19, 16:22-24, 21:30-31, 1Tess. 2:14-16, 2Tim. 2:9, Op. 1:9, 2:9-10, 3:13, ens.).  Sommige belydende Christene het onder die druk toegegee en vir Jesus verloën (v.10, Hand. 20:29-30, 2Tim. 1:15).  Party van hulle het hulle familie en vriende aan die vervolgers oorgelewer (v.10, 10:21, Mark. 13:12, Luk. 21:16-17).  Tacitus sê: ‘Nero het belydende Christene gearresteer, en deur húlle inligting baie ander veroordeel.’[20]

 

  1. Afvalligheid (v.12-13)

Josefus vertel hoe die Jode barbaars geraak het.  Hulle het hulleself aan rowery, moorde, homoseksuele dade, wetteloosheid, wanorde, en die ergste denkbare booshede oorgegee.

 

Hulle het mense se huise geplunder, hulle met die swaard deurboor, vroue verkrag, en hulleself met vroulike grimering en klere versier.[21]  Sulke booshede het ook in die res van die wêreld plaasgevind.[22]

 

Die toenemende goddeloosheid het gemaak dat belydende Christene daaraan gewoond raak, en in hulle liefde vir die Here verkoel (v.12, 2Tim. 3:1-9, Op. 2:4).  Hulle vrees vir vervolging sou ook daartoe lei dat hulle nie meer so vurig vir die Here getuig het nie, maar Hom verloën het (v.10, 12).

 

Dié wat dit gedoen het, het gewys dat hulle nie aan Jesus behoort het nie (Heb. 3:14, 1Joh. 2:19).  “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (v.13, vgl. 10:22, Luk. 21:19).

 

  1. Die evangelie aan die nasies (v.14)

In 2005 het ‘n ouer leraar vir my gesê dat v.14 in die eerste eeu vervul is.  Ek het met hom gestry, maar het intussen besef dat hy reg was.  Die vers sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” (v.14).

 

Die Griekse woord vir wêreld [oikoumenē] verwys soms na die Romeinse Ryk, en nie na die hele planeet nie.  Die volgende verse wys dit.  “En in daardie dae het daar ‘n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld [Gk. oikoumenē] ingeskryf moes word.” (Luk. 2:1).

 

“Agabus het…deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld [Gk. oikoumenē] sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.” (Hand. 11:18).

 

“ons het gevind dat hierdie man [Paulus] ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld [Gk. oikoumenē] en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners” (Hand. 24:5).

 

Volgens Jesus moes die nasies wat in v.9 die dissipels gehaat het, die evangelie hoor [v.14, Gk. ethnos].  In die konteks verwys die nasies nie na Paraguay en Japan nie, maar na al die nasies van die Romeinse Ryk.

 

  • “En daar het in Jerusalem Jode gewoon…uit elke nasie wat onder die hemel is.” (Hand. 2:5).
  • Ek dank my God “dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.” (Rom. 1:8).
  • “Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.” (Rom. 10:18).
  • 16:26 sê dat die evangelie “bekend gemaak is onder al die heidene [Gk. ethnos]…”
  • 1:5-6 sê dat “die evangelie…die hele wêreld bereik het”. Paulus sê ook dat “die evangelie…verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel” (Kol. 1:23).

 

‘As die evangelie die nasies van die antieke wêreld bereik het sal die einde kom,’ is wat Jesus in v.14 bedoel het.  Die einde verwys na die einde van die tempel of die Ou Testamentiese era.  Dit gaan nie hier oor die einde van die wêreld nie.

 

Hoe moet ons Matt. 24:4-14 op onsself toepas?

 

[a] Moenie bang wees as jy van vals messiase, oorloë, pessiektes, ens. hoor nie.  Volgens Jesus is hierdie dinge nie tekens van die einde nie – wat jou siening van die einde ook al is – maar van die begin (v.8).

 

[b] Ek het hierbo gesê dat v.4-14 die geboortepyne is, en dat dit op beter dinge sou uitloop.  Hoe het dit gebeur?  Toe die Jode die evangelie verwerp, het die heidene dit ontvang en tot bekering gekom (Luk. 20:16, Hand. 13:46-49, 18:5-8, 28:28).

 

“[Deur die Jode se] val het die saligheid tot die heidene gekom” (Rom. 11:11).  Paulus het die bal aan die rol gesit, en reeds in die 2de eeu n.C. kon Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) vir ‘n Jood sê: ‘there is not one single race of men, whether barbarians, or Greeks, or whatever they may be called…among whom prayers and giving of thanks are not offered through the name of the crucified Jesus.’[23]

 

‘n Paar dekades na hom het die kerkvader Tertullianus (c. 160-225 n.C.) vir die heidene gesê: ‘We are but of yesterday, and yet we already fill your cities, islands, camps, your palace, senate and forum; we have left to you only your temples’.[24]

 

Teen die einde van die 2de eeu en die middel van die 3de eeu n.C. was die kerk gevestig in Noord-Afrika, die suide van Spanje, Italië, Frankryk, Brittanje, Persië (Irak en Iran), Armenië en Indië.  In 325 n.C. het die helfte van die mense in Wes-Turkye, Armenië en Thracië die Christelike geloof bely.

 

In Sirië, Egipte, Griekeland, die sentrale deel van Noord-Afrika, Spanje, Rome en die suide van Italië, het Christenskap die dominante godsdiens geword.  Tussen die 4de en 6de eeu het Patrick en Columba die evangelie aan die Iere en Skotte verkondig.

 

Na ‘n tyd van geestelike duisternis, het die hervormers die suiwer evangelie in Europa verkondig.  Baie mense het tot bekering gekom.[25]  In die 15de en 16de eeu het die kerk vervolging beleef, maar het die Puriteine mense met die evangelie beïnvloed.

 

Die 1700’s en 1800’s was ‘n tyd van herlewings.  Met enkele onderbrekings het dit vir omtrent 100 jaar aangehou.[26]  A.g.v. die herlewings het die moderne sending beweging in die laat 1700’s onder William Carey ontstaan.  Baie sendelinge het gevolg, sodat die evangelie vandag in die meeste lande op aarde verkondig word.

 

En dan praat ek nie eers van die ooste nie.  Ek weet so te niks van die Here se werk in ‘n land soos China nie.  Ek is seker dat daar wonderlike stories oor die verspreiding van die evangelie is.

 

Maar die taak is nog nie voltooi nie.  Die nasies in Paulus se tyd het nou wel die evangelie gehoor (v.14), maar in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag moet ons dit aan die res van die wêreld verkondig (28:19).

 

[c] Soos die mense in v.12 kan ons maklik aan die samelewing se sonde gewoond raak: moord, aborsie, oneerlikheid, korrupsie, disrespek vir gesag, seks voor die huwelik, homoseksualiteit, ens.  Moenie toelaat dat die wêreld jou infiltreer, sodat jy dit bo Jesus kies nie (v.12, Rom. 12:2, 2Tim. 4:10, Jak. 4:4, 1Joh. 2:15).  Vermy en bestraf dit liewer (Ef. 5:11).

 

[d] Dit is maklik om te sê dat jy ‘n Christen is as dinge met jou goed gaan.  Maar sal jy die evangelie glo as die regering ‘n geweer teen jou kop druk en sê jy moet die Here verloën (v.10)?

 

Sal jy in Jesus glo totdat jy jou asem uitblaas (v.13)?  Jy kan dit nie bekostig om terug te sit omdat v.4-14 al gebeur het nie.  Is jy gereed om die Here te ontmoet (24:42-51, 25:13)?

 

Sal jy by Hom wees as jy hierdie week geskiet word of ‘n hartaanval kry?  Sal jy die oordeelsdag slaag as Hy kom en die nasies voor sy hof daag (25:31-46)?

 

Dit is tog wat saak maak.  Die Here gaan nie vir jou vra of jy John MacArthur, R.C. Sproul of William Hendriksen se siening van Matt. 24 gevolg het nie.  ‘Het jy jou van jou sonde bekeer en in my Seun geglo?’ is die vraag wat Hy aan jou gaan stel.

 

[1] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book 6, ch. 5, par. 2-3; Book 2, ch. 13, par. 5.  Sien ook The Antiquities of the Jews, Book 20, ch. 8, par. 6. deur dieselfde outeur.

[2] Justin Martyr (100-165 n.C.), First Apology, 26.  Hippolytus (170-235 n.C.), On the End of the World, 9.  Jerome (347-420 n.C.), aangehaal in Marcellus Kik, An Eschatology of Victory, P&R Publishing, Phillipsburg: New Jersey, 1971, p. 92.  Ireneus (130-202 n.C.), aangehaal in Kik, Ibid.

[3] Kenneth Gentry, Perilous Times, Covenant Media Press, Texarkana: AR, 1999, p. 47

[4] Ibid., p. 47 n. 36

[5] Ibid., p. 48

[6] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Sctoland, 1973, p. 852

[7] Gentry, p. 48

[8] Ibid., p. 49 n. 44

[9] Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope, P&R Publishing, Phillipsburg: New Jersey, 1999, p. 112

[10] Gentry, pp. 49-50

[11] Antiquities, Book 20, ch. 2, par. 5

[12] Wars, Book 5, ch. 10, par. 2-5

[13] Gentry, p. 50

[14] Annals of Tacitus, ch. 16, par. 13, aangehaal in Ibid.

[15] Aangehaal en vry vertaal uit Gentry, Ibid.

[16] Mathison, Ibid.; Gentry, Ibid.; Wars, Book 4, ch. 4, par. 5

[17] Gentry, Ibid.

[18] Gentry, p. 52

[19] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, Thomas Nelson, Nashville, 1997, 2013, pp. 344, 346

[20] Vry vertaal uit Gentry, p. 53

[21] Wars, Book 4, ch. 3, par. 2; ch. 6, par. 3; ch. 9, par. 10

[22] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004

[23] Tertullian, Diologue with Trypho, ch. 117

[24] John Jefferson Davis, Christ’s Victorious Kingdom: Postmillennialism Reconsidered, Audubon Press, Laurel: MS, 2006 (1986, Baker Book House Company), p. 68

[25] Ibid., pp. 67-69, 72, 76-79

[26] [a] Iain Murray, Revival & Revivalism, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1994.  [b] Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971.  [c] Iain Murray, Jonathan Edwards, A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1987.  [d] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970.

Christelike prioriteite

Christian priorities

Het jy ‘n Christelike held, iemand wie se lewe vir jou ‘n voorbeeld is?  Pasop.  Moet hulle nie verafgod asof hulle onfeilbaar is nie.  Ek ken iemand wat die kinderdoop so verdedig.  ‘Jonathan Edwards het dit geglo, en hy kan tog nie verkeerd wees nie,’ het die persoon gesê.  Hy het gemaak asof Jonathan Edwards die Bybel is.

 

Dalk roem jy daarin dat jy geen helde het nie.  In daardie geval mag dit wees dat jy jouself verafgod, so asof jy nie iets by ander kan leer nie.  Ek ken mense wat dink dat hulle nie Christelike leraars of boeke nodig het nie: ‘Ek het nie menslike wysheid nodig nie, maar kry my lering direk uit die Bybel.’

 

Ek het nie ‘n probleem as die Heilige Gees hierdie mense in die waarheid van die Bybel lei nie.  Waarmee ek ‘n probleem het is die volgende: ‘It seems odd, that certain men who talk much of what the Holy Spirit reveals to themselves, should think so little of what he has revealed to others’ (Charles Spurgeon).[1]

 

As Christene moet ons ‘n balans handhaaf.  Leer by ander gelowiges en volg hulle voorbeeld.  Maar doen dit in soverre hulle die Here volg en by die Bybel bly.

 

  • “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1Kor. 11:1).
  • “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.” (Fil. 3:17).
  • “En julle het navolgers van ons geword en van die Here” (1Tess. 1:6).
  • “Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolginge, lyding” (2Tim. 3:10-11).
  • “[wees] navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.” (Heb. 6:12).
  • “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” (Heb. 13:7).

 

Vandag wil ek jou uit Rom. 1:8-15 uit aanspoor om Paulus se prioriteite jóúne te maak.  Wat was sy prioriteite?

 

  1. Gebed (v.8-10)

Oor die afgelope 16 jaar het wyle dr. Martin Holdt se voorbeeld vir my geleer dat gebed ‘n baie belangrike deel van die Christelike lewe is.  Ek het by verskeie van sy vriende gehoor dat hy soggens tussen 02:30 en 03:00 opgestaan het om te bid.

 

By ‘n manne byeenkoms het hy gesê dat ‘n predikant elke dag vir al sy lidmate en besoekers by naam moet bid.  ‘Maar jý doen dit seker nie,’ het iemand gereageer.  ‘Jy het meer as 500!’  ‘My gewoonte is om 7 uit 7 dae vir hulle te bid,’ het hy gesê.  ‘Dit is hoekom ek so vroeg moet opstaan.’

 

Dit lyk of dit dieselfde vir Paulus was.  As ons v.8-10 van nader bekyk sal ons sien hoe hy gebid het.

 

‘n Prioriteit

Paulus sê dat hy in die ‘eerste plek’ vir die Romeine gebid het (v.8).  Dit was nie bloot die ‘eerste ding’ i.t.v. volgorde nie, maar i.t.v. prioriteit.  Niks was m.a.w. vir hom belangriker nie (vgl. 1Tim. 2:1).  Is dit enige wonder dat feitlik elkeen van sy briewe met gebed begin?

 

Hoe belangrik is gebed in jou lewe?  Gee jy 3 minute uit jou dag vir die Here?  Bid jy net as jy die Here nodig het?  Of is gebed ‘n sentrale deel van jou Christelike lewe?

 

Hoe belangrik is dit in ons gemeente?  Op ‘n Sondagoggend is daar 3 mense wat saam bid.  Voor die aanddiens is ons omtrent 7 of 8 mense.  Op Woensdae bid die vroue saam.  Tydens die aanddiens verdeel ons in groepies om saam te bid.

 

Ek dink egter dat elke gemeente en individu beter kan doen.  Gebruik die Onse Vader in Matt. 6:9-13 as riglyn.  Moet dit nie slaafs opsê nie, maar gebruik dit as die patroon waarvolgens jy bid.  Neem jou voor om ten minste een van die gemeente se bidure by te woon.

 

Danksegging

Paulus begin sy gebed met danksegging (v.8).  Hy was dankbaar dat die Romeine se geloof in die wêreld verkondig is (v.8).  Almal het gehoor dat dat die evangelie die hoofstad bereik het (16:19, 29, Kol. 1:6, 23).

 

Paulus begin die meeste van sy briewe met danksegging (1Kor. 1:4, Ef. 1:16, Fil. 1:3, Kol. 1:3, 1Tess. 1:2, 2Tess. 1:3, 2:13, 2Tim. 1:3, Filem. 4).  Syne is ‘n goeie voorbeeld om te volg.  Dank die Here vir soveel dinge as moontlik (Ef. 5:20, Kol. 3:17, 1Tess. 5:18).  Dink aan wat Hy gister vir jou gedoen het, en moenie gewone dinge soos warm water en elektrisiteit vanselfsprekend neem nie.

 

‘n Verhouding

Gebed was nie vir Paulus ‘n moeitevolle plig nie, maar ‘n verhouding.  Daarom praat hy van ‘my God’ (v.8).  As jy nie gered is nie sal gebed vir jou ‘n straf wees.  Jy sal nie op jou eie of saam met ander mense wíl bid nie.

 

Maar as die Here jou gered het sal gebed ‘n belangrike deel van jou verhouding met Hom wees.  Ja dit sal harde werk wees, maar jy sal ook tye van wonderlike gemeenskap geniet.

 

Die Middelaar

Niemand kan uit homself na die heilige God toe kom nie (Jer. 30:21b).  Jy het ‘n Middelaar nodig.  Om jou na God toe te bring moet die Middelaar God wees.  En om God se verlossing op ‘grondvlak’ na jou toe te bring moet Hy mens wees.

 

Jesus is die enigste Een wat kwalifiseer (1Tim. 2:5): daarom het Paulus deur Hóm gebid (v.8).  Daar is nie ‘n ander manier om na God toe te kom nie (Joh. 14:6).  Dit is hoekom die Here nie ongelowiges se gebede verhoor nie: hulle dink dat Jesus se kruisdood nie nodig is nie, en dat hulle op hulle eie meriete na God toe kan kom.

 

Dit is ook hoekom Hy gelowiges se gebede verhoor: Jesus het die prys vir hulle sonde betaal en bid gedurig vir hulle.  Die Vader sal nooit sy Seun se gebede en offer weier nie.

 

As jy in Jesus glo kan jy met groot vrymoedigheid bid en weet dat die Vader jou sal verhoor (Heb. 4:16, 10:22).  Hy verhoor jou op grond van Jesus en nie op grond van hoe goed jy bid nie.  Prakties beteken dit dat Paulus en die predikant nie ‘n beter kans as jy het om verhoor te word nie.

 

Voorbidding

Paulus sê vir die gelowiges in Rome dat hy vir hulle dank (v.8).  Dit is belangrik dat ons vir ander Christene moet bid (Ef. 6:18, 1Tim. 2:1).  Moenie dwaas wees en dink dat jy alleen kan staan nie.  Moet ook nie so hoogmoedig wees dat jy nalaat om vir hulp te vra nie.

 

Vra ander mense om vir jou te bid, en maak ook seker dat jy hulle in jou gebede onthou.  ‘n Puritein genaamd Thomas Brooks het gesê: ‘let not others suffer by your neglect of private prayer!’[2]  Kom in die gewoonte om elke dag ‘n bladsy of twee in die gemeenteboekie deur te bid.

 

Getrouheid

Paulus het nie soos party mense gesê: ‘Ek bid vir julle,’ en dit nie gedoen nie.  Hy roep die Here tot getuie dat hy regtig vir die Romeine bid (v.9).  Deur die Heilige Gees wat in sý gees werk, het hy die Here gedien en homself daaraan gewy om die evangelie van Jesus Christus met mense te deel (v.9).  Dit is waarvoor hy gelewe het.

 

Hoekom sou hy dan in so ‘n groot taak getrou wees, maar nie getrou vir die Romeine bid nie?  “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou” (Luk. 16:10).

 

Is jy getrou in gebed?  Nee?  Bely jou biddeloosheid en sonder daagliks vir jouself ‘n tyd af waarin jy met die Here praat.  Indien jy wel getrou is, wil ek jou uitdaag om meer tyd in gebed deur te bring.  Dalk wil jy jou gebedstyd verleng óf ‘n ekstra geleentheid afsonder om met die Here te praat.

 

Volharding

Al het Paulus nie die Romeine ontmoet nie (v.13), het hy hulle name gedurig in gebed voor die Here gebring (v.9-10).  Hy het dit ook vir ander gelowiges gedoen (Ef. 1:16, Fil. 1:4, Kol. 1:9, 1Tess. 1:2, 2Tim. 1:3).

 

Dalk het jy moedeloos geword en staan jy op die punt om op te hou bid.  Moenie (v.9-10, 12:12, Ef. 6:18, Kol. 4:2, 1Tess. 5:17).  Jesus het gesê “dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie” (Luk. 18:1).

 

God se wil

Paulus wou graag Rome toe gaan, maar dit sou slegs gebeur as dit die Here se wil was (v.10, Jak. 4:15).  Sommige mense dink dat dit sonde is om so te bid.  Benny Hinn sê bv.: ‘Never, ever, ever go to the Lord and say: “If it be thy will…” Don’t allow such faith-destroying words to be spoken from your mouth.’[3]

 

Natuurlik hoef jy nie so te bid as jy God aan sy beloftes herinner nie (Jes. 62:6-7).  Jy hoef bv. nie te bid om meer soos Jesus te wees as dit die Here se wil is nie.  Dit ís sy wil (Rom. 8:29).

 

Maar as iets nie in die Bybel staan nie, is dit heeltemal reg om soos Jesus in Getsemane te bid: “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39).

 

As jy dit vergeet sal jy arrogant bid en dink dat jy vir die Here eise kan stel.  Jy sal soos sommige politieke partye wees: ‘We demand…!’

 

Die inhoud

Paulus wou graag die Romeine sien om hulle geestelik op te bou, die evangelie te preek en dissipels te maak (v.10-15).  Sy gebede was dus nie op materiële dinge gefokus nie, maar op geestelike dinge.

 

Bid jy so, of fokus jy hoofsaaklik op jou werk, geld, gesondheid en jou kinders se skoolwerk?  Dit is nie verkeerd om hiervoor te bid nie, maar leer by Paulus om vir dinge te bid wat ewigheidswaarde het.  Ek wil voorstel dat jy elke dag een van Paulus se gebede bid.  Jy sal dit aan die begin van sy briewe kry.

 

  1. 2. Gemeenskap (v.11-12)

Ek het laasjaar ‘n preek van John MacArthur geluister waarin hy sê: ‘The church is my life, has been my life, will be my life forever, because we’re all going to be together in glory.’[4]

 

Ek voel dieselfde.  Ek is nie net deel van die kerk omdat ek die ds. is nie.  Ek wíl hier wees en sal elke geleentheid gebruik om die Here saam met ander gelowiges te aanbid, sy Woord te hoor, te bid en Jesus se dood in die nagmaal te herdenk.

 

Dit is hoe dit vir Paulus was.  Hy wou graag by die Romeine wees en het sy gawe gebruik om hulle siele te versterk (v.11-12).  Hy wou ook hê dat hulle sý geloof moes opbou (v.12).  Hy was nie ‘n hoogmoedige apostel wat gedink het hy het hulle nie nodig nie, maar het geweet dat hulle geloof en gawes hom kan opbou (v.12, 12:3-8).

 

Elke predikant en lidmaat moet hierna luister.  Predikante moet erken dat hulle die gemeente se geestelike opbouing nodig het, terwyl lidmate nie onder die illusie moet verkeer dat die ds. ‘n super mens is wat nie ander mense se bediening nodig het nie.

 

Die plek waar hy hierdie opbouing moet kry is primêr in die gemeente en nie by predikante konferensies nie.  Jou leraar het net soveel bediening nodig soos jy.  Almal van ons het die gemeenskap van gelowiges nodig.  Ons moet gereeld vergader en mekaar in die geloof opbou (Hand. 2:42, Heb. 10:24-25).

 

  1. 3. Evangelisasie (v.13-15)

George Whitefield was een van die grootste evangeliste in die geskiedenis.  Hy het sommige weke meer gepreek as wat hy geslaap het.[5]  Paulus was ‘n groter evangelis as hy.  Deur die Gees se werk in hom het hy binne 30 jaar die Romeinse Ryk op sy kop gekeer.

 

Hy wou bitter graag die hoofstad besoek, maar is verhinder (v.13, 15:22-23).  Wat het gebeur?  Dalk is hy verhinder toe keiser Claudius die Jode uit Rome verban het (Hand. 18:2)?  Hoe dit ook al sy, die Here het ‘n stok in die speke gesteek sodat hy Romeine kon skryf!

 

Hoekom wou Paulus so graag die Romeine besoek?  Ek het reeds gesê dat Hy hulle geestelik wou versterk (v.11-12).  Maar hy wou ook die evangelie in Rome preek en ‘n oes van bekeerlinge inbring (v.13, Matt. 9:37-38, Joh. 4:35-38).

 

Van daar af wou hy die evangelie op plekke verkondig waar die Naam van Jesus nog nie gehoor is nie (15:20-21).  Hy het o.a. beplan om Spanje te besoek (15:24, 28).

 

Hy was die apostel na die heidene (v.5, 11:13), en is daarom deur Jesus verplig om die evangelie aan Grieke en barbare, wyse en ongeleerde mense te verkondig (v.14, Hand. 9:15, 22:21, 26:16-18).

 

Omdat Grieks die Ryk se amptelike taal was, het enige ander taal vir hulle so geklink: bar-bar-bar-bar-bar.  Gevolglik het die Grieke enige nie-Griekse heiden ‘n barbaar genoem (bv. Hand. 28:2, 1Kor. 14:11).  Hulle het nie bedoel dat alle nie-Grieke half-geklee en onbeskaafd is nie.  Hulle het wel mense wat nie in die Griekse kultuur geskool is nie as onwys beskou (v.14).

 

Maar volgens Paulus was die evangelie nie tot ‘n sekere groep beperk nie.  Dit was vir Grieke sowel as nie-Grieke, vir dié wat Griekse wysheid geleer het sowel as vir hulle wat dit nie geken het nie (v.14).  Volgens v.16 was dit ook vir Jode.  Kortom kan ons sê dat dit vir almal was.

 

Vandag is dit nóg so, en daarom moet jy die evangelie deel met die man wat in jou tuin werk, maar ook met die ingenieur wat saam met jou werk.  Moenie bang wees vir iemand ryk of geleerd is nie (v.14): hulle het ook die Here nodig.

 

Deel die goeie nuus met Indiërs, Afrikaners en Zoeloes.  Sê vir hulle dat God heilig is, dat hulle gesondig het en sy straf verdien.  Sê vir hulle dat Jesus God is, en dat Hy mens geword het om die straf vir ons sonde te dra.

 

Sê vir hulle dat Hy begrawe is en dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Sê vir hulle dat hulle hulle sonde moet los en op Jesus moet vertrou om hulle van God se oordeel te red.  Sê vir hulle dat sy vergifnis en verlossing vry is.

 

Almal moet die evangelie hoor.  Die soewereine Here van hemel en aarde beveel jou om dit te doen (Matt. 28:19-20).  Soos Paulus het jy nie ‘n keuse in die saak nie: jy is onder verpligting (v.14, 1Kor. 9:16).  Dalk roep die Here jou selfs om jou werk te los en ‘n sendeling of evangelis te word.

 

Dalk is dit nie jou gawe nie, maar jy is gereed om een tot een of in ‘n klein groepie met nuwe bekeerlinge – mans, vroue of kinders – te werk.  Jy is gereed om die basiese waarhede van die Christelike geloof met hulle te deel.

 

Dit is wat Paulus in v.15 bedoel het: hy wou ongelowiges tot ‘n kennis van die waarheid bring (v.13-14), maar hy wou ook vir gelowiges sê om Jesus se bevele uit te voer (v.15, Matt. 28:19).

 

Mense sê gewoonlik dat hulle nie die tyd het om die bg. dinge te doen nie.  Maar toe jy sonde wou doen het jy die tyd gehad.  En as jy met vakansie wil gaan kan jy vroeg opstaan.  As Paulus se prioriteite joune is sal jy die tyd maak om die dinge te doen waarvan ek hierbo gepraat het.

 

[1] Aangehaal in Michael Haykin, Rediscovering the Church Fathers, Crossway, Wheaton: Illinois, 2011, p. 14

[2] Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2006 (1665), p. 186

[3] Aangehaal in Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson, Nashville: Tennessee, 2009, p. 275

[4] https://www.gty.org/library/sermons-library/81-8/your-responsibility-to-the-church-part-1

[5] https://www.desiringgod.org/messages/i-will-not-be-a-velvet-mouthed-preacher

Die winter van God se oordeel

Biting winter

John Bunyan het gesê dat daar sekere plekke in die wêreld is waar die bome nie vrugte dra nie, omdat daar geen winter is nie.  Net so sien ons in Jes.17-19 hoe God die winter van sy oordeel oor die nasies gestuur het om hulle voor te berei vir die lente van sy seëninge.

 

Sirië (hfst.17)

‘n Oom in ons gemeente het my vertel hoe die bokke in Zimbabwe tussen die bouvallige huise rondloop.  Sirië se hoofstad Damaskus was so:  die Here het dit in bourommel verander (17:1).  Deur die koning van Assirië het Hy die land tot by Aroër in die suide getref het, sodat dit verlate was en mense se kleinvee rustig daar gewei het (17:2).

 

Efraim of Israel het voorheen op Damaskus gesteun om haar teen Assirië te help (Jes.7).  Toe Assirië haar egter verower het (2 Kon.16:9), kon Israel nie meer by haar geskuil het nie (17:3).  En tog was dit nie klaarpraat met haar nie:  in die toekoms sou sy so heerlik soos Israel gewees het (17:3).

 

Maar voordat die Here vir Israel verheerlik het, het Hy haar verneder en sy voorspoedige volk uitgeteer (17:4, 1 Sm.4:21).  Israel sou gewees het soos ‘n kaalgestroopte koringland in die Refaim vallei suid van Jerusalem, soos enkele olywe op ‘n olyfboom nadat dit goed geskud is (17:5-6).

 

God se tugtiging het daartoe gelei dat hulle nie meer op hulle handgemaakte gode vertrou het nie, maar op die Heilige van Israel (17:7-8, Mg.5:12-13).  In die verlede het hulle die Rots van hulle verlossing en beskutting vergeet om op die ‘ingevoerde stiggies’ van Damaskus te vertrou (17:10).

 

Die vestings van Israel se stede het hulle nie beskerm nie; dit het leeg geraak soos toe Josua die Kanaäniete verdryf het (17:9).  Die ‘ingevoerde wingerd’ van Damaskus het hulle ook nie gehelp nie; dit het vinniger gevrek as wat dit opgekom het, sodat Israel pyn en smart beleef het (17:11).

 

En tog het die Here haar teen die dreunende golwe van Assirië en die nasies beskerm (17:12-13).  Toe Hy hulle gestraf het, het hulle soos die Rooi See gevlug, en was hulle soos kaf en stof wat deur ‘n stormwind weggewaai word (17:13, Ps.1:4, 83:14).  Hy het dié wat sy volk geroof en geplunder het in die nag getref, sodat hulle nie die son sien opkom het nie (17:14, 37:36).

 

Vertrou op die Here as jy in die moeilikheid is.  Lê jou sorge in gebed aan sy voete neer, en vra vir ander gelowiges om saam te bid.  Ondersoek die Skrif om te sien wat dit oor jou situasie sê.  Vra ander gelowiges vir hulp as jy nie weet waar om te begin nie.

 

Moenie op jouself, jou vermoeëns, jou salaris, die dr., die ds., of iemand anders vertrou om jou lewe te verander nie.  Ek weet dat die Here soms middele gebruik om ons te help, maar jy kan nie jou absolute vertroue daarin stel en van die Here vergeet nie (17:7-10).  As die Here jou nie help nie, kan niemand anders dit doen nie (Ps.127:1-2).

 

Etiopië (hfst.18)

In 715 v.C. het die Etiopiese koning Piankhi Egipte verower, en die Vyf-en-twintigste Dinastie gevestig.[1]  Kus of Etiopië van ouds het van die horing van Afrika, deur Soedan tot in Egipte gestrek.  Omdat die Nylrivier daardeur gevloei het en daar baie insekte met gonsende vlerke was, het Jesaja dit as die land van riviere en vlerkgegons beskryf (18:1-2).

 

Toe Assirië teen Juda geveg het, het Etiopië boodskappers in gevlegde en geseëlde papirus bootjies teen die Nylrivier opgestuur (18:2).  ‘Ons sal julle beskerm,’ het hulle gesê.  Jesaja het vir hulle gesê om na hulle land toe terug te keer, die land van lang mense met gladde velle (18:2).

 

Alhoewel hulle die gevreesde en magtige Etiopië was, het die Here nie hulle hulp nodig gehad nie:  Hy sou self sy volk se vyande oorwin het (18:2-6).  God se oorwinning sou so duidelik vir die nasies gewees het soos ‘n banier op ‘n berg, of soos iemand wat hard op ‘n trompet blaas (18:3).

 

God het vir Jesaja gesê:  ‘Ek sal in die hemel sit en so stil soos hitte, dou en die seisoene teen Assirië werk.’ (18:4, 37:36).  Assirië het gedink dat die tyd ryp is om Jerusalem soos druiwe af te snoei.  God het hulle egter voorgespring en Assirië se takke afgekap (18:5).  Daar was so baie lyke dat roofvoëls dit in die somer gevreet het, en wilde diere in die winter (18:6, 37:36).

 

Duidelik het die Here nie Etiopië se hulp nodig gehad nie.  Hulle het sý hulp nodig gehad.  In die toekoms sou die gevreesde Etiopiërs na die hemelse berg Sion toe gekom het om vir God geskenke te bring en Hom te aanbid (18:7).  Dit het begin toe die Etiopiër in Hd.8 tot bekering gekom het.  Deur die kerk se geskiedenis was daar ware gelowiges in Etiopië.  Vandag is daar byna 20 miljoen evangeliese Christene.  In die toekoms sal die land in sy geheel na die Here toe draai (18:7, 2:3, 11:10, Ps.68:32).

 

Dit maak my hoopvol vir Etiopië en die res van ‘donker’ Afrika.  ‘n Zulu petrol joggie het twee weke gelede vir my gevra hoekom ons nie van swart mense in die Bybel lees nie.  Ons doen!  Volgens Nm.12:1 het Moses ná Sippora met ‘n Etiopiër getrou.  ‘n Etiopiër genaamd Ebed-Meleg het vir Jeremia gehelp en ook in die God van Israel geglo (Jer.38:7-13, 39:16-18).

 

Dit is waarskynlik dat die bruid in Hooglied swart was (Hgl.1:5-6).  Simon van Cirene het van Afrika af gekom en was swart (Mk.15:21).[2]  Die Etiopiër wat in Hd.8 in Christus geglo het was swart.  So het die evangelie Afrika bereik voordat dit enige ander kontinent bereik het.  Simeon Niger wat saam met Paulus ‘n leier in Antiochië was, was swart (Hd.13:1).

 

Ja, Afrika is vasgevang in ‘n net van sonde en die gevolge daarvan:  voorvader aanbidding, toordokters, ‘prosperity’ predikers, poligamie, VIGS, korrupsie, misdaad, luiheid, werkloosheid, armoede, diktators, dwelm- en mense handel, en meer.  Maar volgens Jes.18:7 en soortgelyke tekste, sal dit in die toekoms verander.  Die meeste mense sal nie meer soos die Rastafarians glo dat Etiopië se Haile Selassie die Messias, die Leeu van Juda, of die vleesgeworde God is nie.  Hulle sal eerder soos die Etiopiër in Hd.8 bely dat Jesus die Messias is.  Ons moet die Here hiervoor prys en hard stry om die oorblyfsels van rassisme uit ons harte uit te verwyder.

 

Egipte (hfst.19)

Suid-Afrika se gemiddelde reënval is omtrent 450 mm per jaar.  Egipte se gemiddelde jaarlikse reënval is tussen 20 en 200 mm teen die kus, en 0 mm in die res van die land.  Hulle is dus heeltemal afhanklik van die Nylrivier.  Hierdie inligting sal jou help om ‘n groot gedeelte van hfst.19 te verstaan.

 

Die Here het spoedig op ‘n wolk gery om vir Egipte te oordeel (19:1, Ps.104:3).  In Eks.7-12 het Hy die gode van Egipte d.m.v. die tien plae geoordeel (Eks.12:12).  Toe Hy dus weer teen Egipte gekom het, het die mense en gode Hom gevrees (19:1, vgl. 1 Sm.5:2-4).

 

Hy het gemaak dat die Egiptenare teen mekaar baklei (19:2).  Die mense het vir hulle gode en towenaars raad gevra, maar niemand kon hulle help nie (19:3, vgl. 8:19).  Uiteindelik het die Here ‘n streng meester oor hulle geplaas, die konings van Assirië en Babilon (20:4, Jer.46:26).

 

God het ook die Nylrivier opgedroog, en so die land se water voorraad uitgeput (19:5).  Die opdroogte vertakkings en kanale, vrot riete, en walle wat deur wind erosie weggevreet is, het Egipte se landbou, visserye, klere bedryf en ekomomie op sy kop gekeer (19:6-10).  Die boere was depressief, die rykes verpletter, en dié wat vir hulle gewerk het werkloos (19:9-10).

 

Die regering was stomgeslaan; die wysste ministers se raad was dwaas (19:11).  Die land van wyse raadgewers (1 Kor.4:30) kon nie die tekens van die tye gelees het om te sien dat dit Gód was wat hulle gestraf het nie (19:12).  Die seuns van antieke konings (die prinse van die hoofstad Soan en die vorige hoofstad Memfis of Nof) het hulleself en die volk mislei (19:11, 13).

 

Met hulle slegte raad het die hoekstene of grootkoppe van Egipte die land laat slinger soos ‘n dronk man wat in sy eie uitbraaksel gly (19:13-14).  God het vir ‘n bose gees toestemming gegee om hulle so te verwar (19:14, 1 Sm.18:10, 1 Kon.22:20-23, 2 Ts.2:11).  Die leiers was die hoë palmbome en die kop, en die volk die lae riete en die stert (19:15).  Nie een van hulle kon egter iets gedoen het om die land te red nie (19:15).

 

In die toekoms sal God sy vuis oor Egipte swaai, en sal hulle soos vroue bewe (19:16).  Hulle sal bang wees vir Juda, en nie andersom nie (19:17).  Hulle sal dink dat die Here téén hulle is, terwyl hulle vrees eintlik die begin van ‘n ware verhouding met Hom is (19:17, Sp.1:7).

 

Ons moet dus nie moedeloos raak wanneer ons sien dat Egipte huidiglik deur Islam oorheers word nie.  In die eerste paar eeue n.C., het ‘n klomp van die kerk se grootste leiers van Egipte af gekom.  In die toekoms sal hulle weer na die Here toe draai.  Vyf van die land se stede – o.a. een wat sterk onder die invloed van afgodery was – sal die taal van Kanaän praat en hulle trou aan die Here sweer (19:18).

 

Uiteindelik sal dit die hele bevolking beïnvloed, en tot by die land se grense uitbrei (19:19, vgl. Gn.28:13, 18).  Mense wat in die land inkom sal weet dat Egipte nie meer afgode aanbid nie, en dat God sy Seun gestuur het om hulle van die vlees, die duiwel en die wêreld te verlos (19:20, 3).

 

God sal Homself aan die Egiptenare bekend maak, en hulle sal Hom ken en aanbid (19:21, 11:9, Heb.8:11).  As hulle sonde doen sal Hy hulle tugtig, en as hulle weer na Hom toe draai sal Hy hulle vergewe (19:22, Heb.12:5-11).  Hulle geloof sal na ander dele van die wêreld toe versprei, sodat hulle saam met die Assiriërs van Iran die ware God sal aanbid (19:23, 2:2-4).

 

Soos met Israel, sal Egipte en Iran ook die Here dien (19:24).  Israel se bekering in die toekoms sal seën vir die wêreld beteken, sodat die nasies na Christus toe draai (19:24, Gn.12:3, Jh.3:17, Rm.11:12, 15).  Israel, Egipte, Assirië, en die res van die nasies wat in Jesus glo, sal sy volk, die werk van sy hande, en sy erfdeel wees (19:25, Ef.1:18, 2:10-22, Tit.2:14, 1 Pet.2:9-10).

 

Ek wil nie die arme perd holrug ry nie, maar ek kan nie vir jou sê hoe hierdie waarheid oor die afgelope 18 maande my gebedslewe beïnvloed het nie.  Dit het my gehelp om groot gebede vir die wêreld te bid, en om nie by my eie lewe en my probleme vas te hak nie.  Dit het my gehelp om hoopvol te wees dat God dinge in Suid-Afrika kan omkeer.

 

As die Here wil, kan Hy bose stede soos Kempton Park, Tembisa, Johannesburg, Soweto, Kaapstad, en ander stede in ons land na Hom toe draai (19:18, Hd.8:8, 9:35, 13:44).  Vir Hom is dit geen moeite om ‘n hele land na Hom toe te trek nie (19:19, Ps.22:28, 86:9, Mt.19:25-26).  Net soos Hy ons in die verlede gebruik het om die res van Afrika en die wêreld met die rykdom van goud en diamante te seën, kan Hy ons gebruik om hulle met die skatte van Jesus, die Bybel en die evangelie te seën.

 

Om dan met dringendheid vir die nasies te bid, sendelinge uit te stuur, en die evangelie met ons landsgenote deel, moet hoog op die lys van ons gemeente se prioriteite wees.  Uit ervaring kan ek sê dat dit nie sonder deeglike beplanning gaan gebeur nie.  Terwyl die winter van God se oordeel in ons land en wêreld byt, moet ons konkrete stappe neem om die grond voor te berei vir die lente.  Natuurlik moet ons nie nét bid nie, maar gebed is verseker die beste plek om te begin.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.161

[2] Moslems het Noord-Afrika ‘n paar eeue na Christus geïnfiltreer.  Moderne Libiërs kom van Arabië af, maar dié wat in Jesus se tyd gelewe het was swart.

’n Afspraak met die Messias

Woman at the well

Toe ek op hoërskool was het my ma vir my geleer om God save the Queen op die klavier te speel.  Toe ons eenkeer by my ouma-hulle gaan kuier het, het ek voor die klavier gaan sit om die Britse volkslied te speel.  My oupa was onsteld en het vir my gesê:  ‘Daardie mense het ons voorvaders doodgemaak – hoe kan jy hulle volkslied speel?’  Ek het nie verstaan hoekom dit hom so ontstel het nie… totdat ek in Desember ‘n boek oor die Anglo-Boere oorlog gelees het, en vroeër vanjaar ‘n dokumentêr daaroor gekyk het.  Op dieselfde manier moet jy in die annale van die geskiedenis gaan delf om die haat tussen die Jode en die Samaritane te verstaan.

 

Kort nadat Salomo dood is, het Israel in twee geskeur (1 Kon.11-12). Jerusalem was die hoofstad van die suidelike ryk, terwyl Samaria die hoofstad van die noordelike ryk geword het.  In 722 v.C. is Samaria verwoes, en het die Assiriërs die mense van die noordelike ryk gevange geneem en in hulle stede laat woon (2 Kon.17:6, Es.4:9-10).  Die armste mense het in die land agtergebly (2 Kron.30:5, 10-11, 18, 34:6).

 

Die koning van Assirië het toe mense uit verskillende wêreldstede gebring om in die stede van Samaria te woon (2 Kon.17:24). Omdat hulle afgode aanbid het, het die Here leeus gestuur om hulle dood te maak.  Die koning van Assirië het toe ‘n Israelitiese priester na Samaria toe teruggestuur om vir die mense te leer hoe hulle die Here moet vrees.  Hulle het hulle afgodery met Jahwe-aanbidding vermeng, en dit so vir die volgende geslagte geleer (2 Kon.17:25-41).  Uiteindelik het hulle van hulle afgode ontslae geraak, maar hulle aanbidding was nie suiwer nie.

 

In 586 v.C. het koning Nebukadnessar van Babilon Jerusalem en die tempel verwoes. Hy het die Jode na sy land toe weggevoer.  In 538 v.C. het koning Kores van Persië hulle vrygelaat en toestemming gegee dat hulle die tempel in Jerusalem kon herbou (2 Kron.36).  Toe hulle besig was met die werk, het die Samaritane gekom en aangebied om te help, maar die Jode wou nie hulle hulp aanvaar het nie (Es.4:1-3).  Die Samaritane het toe probeer om te keer dat hulle die tempel herbou (Es.4:1-6, Neh.4:1-2).

 

In 409 v.C. is ‘n sekere Manasse (die hoëpriester se broer) deur Nehemia weggejaag omdat hy met Sanballat – die goewerneur van Samaria – se dogter getrou het (Neh.13:28). Manasse het na die Samaritane toe gegaan en met Darius Nothus se toestemming op berg Gerisim ‘n tempel vir hulle gebou.[1]  Manasse het toe die hoëpriester van hierdie tempel geword.  In 128 v.C. het Johannes Hirkanus – ‘n Jood – die Samaritane se tempel verwoes.  Êrens tussen 6-9 n.C. het die Samaritane die Jerusalemse tempel ontheilig deur menslike beendere daarin te strooi.[2]

 

Toe Jesus dus sy bediening begin het, was daar ‘n diep-gesetelde haat tussen hierdie twee groepe (Jh.8:48, Lk.9:52-53). En as ons dít verstaan, kry Jh.4:1-42 vir ons nuwe betekenis.  Vir ‘n Joodse Messias om die Samaritane te verlos, was waarlik ‘n groot ding.

 

Martyn Lloyd-Jones vertel die storie van ‘n sekere man in Wallis wat uit ‘n lewe van sonde gered is, en ‘n toegewyde Christen geword het. As gevolg van verskeie redes het hy ná sy bekering van sy gesin af weggeloop en egbreuk gepleeg.  Buiten vir sy seksuele sonde, het hy ook die huis onder sy vrou uit verkoop en die geld gemors.  Toe sy geld klaar was het die ander vrou hom gelos.  Hy was so misrabel dat hy besluit het om selfmoord te pleeg.  Toe hy oppad was om in die river te spring, het hy gehoor hoe Big Ben 18:30 slaan.  Skielik het daar ‘n gedagte deur sy kop gegaan:  ‘Lloyd-Jones gaan seker nou in die kansel instap.’

 

Hy het besluit om nog een keer na Lloyd-Jones te gaan luister. ‘Daarna sal ek myself doodmaak,’ het hy gedink.  Toe hy by Westminster Chapel inloop, was Lloyd-Jones besig om te bid.  Die eerste woorde wat hy gehoor het was:  ‘God have mercy upon the backslider.’  Sy verhouding met die Here is daar en dan herstel.  In die jare wat gevolg het, het hy ‘n ouderling geword.  Tot en met sy dood het hy die Here getrou gedien.[3]  Soos wat die Here daardie dag ‘n afspraak met hom gehad het, het hy in Jh.4:1-42 ‘n afspraak gehad met ‘n sekere Samaritaanse vrou en met die inwoners van Sigar.  En miskien het Hy vandag ‘n afspraak met jou.

 

Die Samaritaanse vrou (v.1-26)

 

[1] Die Lewende Water

Ek ken ‘n man wat hom voor sy bekering na allerhande godsdienste toe gewend het. Maar dit was eers toe hy die Here Jesus ontmoet het, wat sy hart rus gevind het.  ‘n Ander man het gehoop dat geld die leemte in sy hart sou vul.  Hy het op ‘n tyd sewe ingevoerde karre besit.  Onder hulle het hy ‘n Rolls Royce, ‘n Ford Mustang, en ‘n Cadillac gehad.  ‘Ek weet hoe dit voel om my voet op ‘n Ferrari en ‘n Lamborghini se pedaal neer te sit,’ het hy gesê.  Maar ten spyte van al sy rykdom was hy leeg.

 

Noudat hy tot bekering gekom het, het die Here sy siel versadig. Hy ry ‘n ou Toyota bakkie met 900 000 km op die klok.  Iemand het vir hom gesê dat Toyata vir hom ‘n nuwe bakkie sal gee as hy 1 miljoen km slaan, maar hy stel nie belang nie.  ‘As ek ‘n nuwe bakkie kry sal dit my aandag van die Here aftrek,’ het hy gesê.

 

Augustinus het in die vierde eeu geleef. Voor sy bekering was hy seksueel losbandig.  Hy het vir jare gesukkel om sy verslawing te oorkom, maar toe die Here sy sielsdors geles het, het hy vrygeraak.  Verlede Vrydag het ons by die beradingklas na ‘n CD oor dwelms geluister.  ‘n Jong man het vertel hoe hy verskillende soorte dwelms gebruik het om geluk te probeer vind.  ‘Ek het leeg gebly,’ het hy gesê.  Iemand wat een keer die lewende water gesmaak het, wil nie meer uit die wêreld se vuil toiletbak drink nie.  En dit is presies wat met die Samaritaanse vrou gebeur het.

 

Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels gedoop het as Johannes (v.1). Maar hulle het nie heeltemal reg gehoor nie, omdat Jesus nie self die mense gedoop het nie – sy dissipels het (v.2).  Hy wou nie gehad het mense moes sê:  ‘Ek is deur Jesus gedoop, terwyl jy maar net deur Andreas gedoop is’ nie.  Jesus het dadelik uit Judea vertrek om terug te gaan Galilea toe (v.3, 2:12-13, 3:22).  Dit was die Vader se wil dat Hy op ‘n sekere tyd, plek, en manier moes sterf, en as Hy langer in Judea gebly het sou die Jode Hom gestenig het (8:59).

 

Oppad Galilea toe moes Hy deur Samaria gaan, soos wat ‘n mens oppad Zimbabwe toe deur Limpopo moet reis (v.4). Jesus moes egter ook deur Samaria gereis het, omdat Hy ‘n Goddelike afspraak gehad het met ‘n sekere Samaritaanse vrou.  Sigar was die naam van die dorpie waar Hy stilgehou het (v.5).  Dit was naby die stuk grond wat Jakob vir sy geliefde en gunsteling seun Josef gegee het (v.5, Gn.33:19, 48:22, Jos.24:32).  In die Ou Testament was die plek se naam Sigem (Rgt.9:7).

 

Buite die dorp was daar ‘n put waaruit Jakob, sy gesin en sy vee gedrink het (v.6). Twee duisend jaar ná hom, het die Samaritane nogsteeds die put se vars vloeiende water gedrink.  Die put bestaan vandag nog.  Jesus het die 40+ km afgelê en was moeg, honger, en dors toe Hy teen 18:00 in Sigar aangeland het (v.6-8, Gn.24:11).  Dit dui vir ons aan dat Hy volkome mens was (19:28, Mt.8:24, 4:2, 21:18, Hb.4:15).

 

‘n Sekere Samaritaanse vrou het na die put toe gekom om water te skep (v.7). Die dissipels het dorp toe gegaan om kos te koop (v.8), en kon daarom nie volgens die gebruik vir hulle Rabbi water geskep het nie.  Gevolglik het Jesus die vrou vir ‘n bietjie water gevra (v.7).  Sy was verbaas, omdat geen Rabbi in die openbaar met ‘n vrou sou praat nie, en omdat Jode en Samaritane mekaar gehaat het (v.9).  Soos wat blankes in die verlede vir hulle bediendes blik borde gegee het om uit te eet, sou die Jode en Samaritane nie hulle breekware met mekaar gedeel het nie (v.9, vgl. Mk.7:3-4).

 

Jesus het in effek vir die vrou gesê: ‘As jy geweet het watse groot geskenk God vir jou wil gee, en dat dit die Messias is wat vir jou water vra, sou jy vir Hóm gevra het om die lewende water vir jou te gee.’ (v.10, 7:37-39, Jes.12:3).  Die vrou het glad nie geestelike dinge verstaan nie.  ‘Jy het nie eers ‘n emmer of ‘n tou nie, en die put is meer as 40 meter diep – waar sal jy hierdie lewende water kry?’ het sy gevra (v.11).  ‘Jy is tog nie belangriker as Jakob wat die put vir ons gegee het en self ook daaruit gedrink het nie, is jy?’ (v.12, 1:52, 8:53).

 

Jesus het in geen onduidelike terme vir haar gesê dat Hy wél groter is as Jakob nie. Dié wat uit Jakob se put gedrink het, sou weer dors geword het (v.13).  Dié wat egter van Jesus se lewende water gedrink het, sou nooit weer dors gekry het nie (v.14, 6:35).  Christus se lewende water sou soos ‘n fontein in sy siel opborrel (v.14, 10:10).

 

Die vrou wou graag van hierdie water gehad het, maar het nogsteeds nie Jesus se aanbod verstaan nie (v.15). Sy het nie aan haar siel gedink nie, maar aan die ongerief daarvan om elke dag 800 meter te loop om water te skep.  As Jesus haar die moeite kon spaar sou dit gaaf gewees het (v.15).  Vir haar was Jesus en sy lewende water nie ‘n noodsaaklikheid nie, maar ‘n kruk om die lewe geriefliker te maak – soos die Engelse sê, ‘a nice to have’.

 

Jesus wou ‘n lewende voorbeeld gegee het van wat Hy bedoel, en het vir haar gesê sy moet haar man gaan roep (v.16). Hy wou die dors in haar aanwakker, en het vir haar gewys dat sy tot nou toe sonder sukses die leemte in haar hart met mans probeer vul het.  Sy moes besef het dat sy verlore was, en dat sy ‘n Verlosser nodig het.  Maar sy het nie saamgespeel nie en het probeer om die onderwerp dood te praat.  ‘Ek het nie ‘n man nie,’ het sy gesê (v.17).  Jesus het geweet dat sy ‘n halwe waarheid praat, en het vir haar gesê:  ‘Ja, ek weet jy het nie ‘n man nie.  Jy het al vyf gehad, en bly nou saam met ‘n sesde een.  En om saam te bly is nie dieselfde as om getroud te wees nie.’ (v.17-18).

 

Die les vir ons is duidelik: drink uit die fontein van lewende water.  As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig dors wees in die hel (Lk.16:24).  Elke mens (selfs die ateïs) probeer om die leemte in sy siel met iets te vul.  In ‘n poging om sy dors te les, gryp hy na iets wat hy kan aanbid.  Paulus sê dat alle vorme van gierigheid afgodery is (Kol.3:5).  Sommige mense aanbid geld (Mt.6:24), terwyl ander kos aanbid (Fil.3:20).  Ander aanbid hulleself, hulle liggame, plesier, nuwe goed, helde, slaap, ontspanning, sport, TV, Facebook, YouTube, tegnologie, kennis, die natuur, stokperdjies, mense se goedkeuring, pille, drank, sjokolade, werk, musiek, enigiets – die lys is oneindig.  Ons probeer ons dors met hierdie dinge te les, en hoop dat die afgode ons begeerte sal vervul.

 

Maar dan gebeur die teenoorgestelde: jy word ‘n slaaf van die dinge wat jy aanbid, sodat jy uiteindelik nie meer ‘nee’ kan sê nie.  Jy kom agter dat die afgod ‘n harde meester is wat baie vereis en nooit iets teruggee nie.  Die dwelms wat jy gebruik, die nuwe goed wat jy koop, en die plesiertjies wat jy geniet versadig jou nie finaal nie.  Dit wat vir jou lekker gelyk het trek jou kaal uit en los jou met niks.  Dit vernietig jou gesondheid, jou verhoudings, jou finansies, en uiteindelik ook jou ewige siel.  Maar jy besef dit nie, totdat dit te laat is.

 

En wanneer jy met jou hande in jou hare sit, dan fluister die afgod met sy stink asem in jou oor: ‘Ek weet jy het tot nou toe nie sukses gehad nie, maar dalk moet jy nog net één keer probeer.  Ek is seker jy sal hiérdie keer gelukkig wees.  Een man is nie genoeg nie; vyf mans behoort die ding te doen (v.18).’  Die afgod fop jou, sodat jy weer in die strik trap.  Jy kom nie agter dat Pd.1:8 waar is nie:  “die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.”

 

Net Jesus kan die leemte in jou siel vul en jou dors les (v.14). Wanneer sal jy agterkom dat jou gunsteling sonde jou nie gelukkig kan maak nie?  Los die gekraakte drinkbakke van die wêreld – dit kan nie water hou nie (Jer.2:13).  Kom deur geloof en gebed na Jesus toe, en drink gratis uit Golgota se ewige fontein.  Moenie net jou lippe natmaak nie, maar hou aan drink totdat jou siel versadig is met Christus wat jou na die hemel se waterfonteine toe sal lei (Op.7:17).

 

Dalk hét jy al van hierdie water geproe. Jy het dit so geniet dat jy gedurig met die emmer van gebed kom skep het.  Maar intussen het jy van die Herder af weggedwaal om weer uit die stilstaande waterpoele van jou sonde te drink.  Dit het jou siek gemaak.  Dit is glad nie ‘n oordrywing om te sê dat jy maande of jare laas die soetheid van ‘n verhouding met die Here geniet het nie.  Jou dae van vrede en blydskap in Jesus is ‘n vae herinnering, sodat jy saam met Dawid bid om dit weer te ervaar (Ps.51:14).

 

Hoekom kom jy nie vandag terug na die Here toe nie? Hy sal jou met sy hele hart terug ontvang, en is meer as bereid om jou te vergewe.  “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader… Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jk.4:8, 10).  Kom was jou vermoeide siel in die fontein van sy bloed, en drink uit die koel vars strome van sy plesier; die helder waterstrome van Jesus en sy Woord (Ps.36:9).

 

There is a fountain filled with blood

 drawn from Emmanuel’s veins;

 and sinners plunged beneath that flood

 lose all their guilty stains.

The dying thief rejoiced to see

 that fountain in his day;

 and there may I, though vile as he,

 wash all my sins away.

E’er since, by faith, I saw the stream

 thy flowing wounds supply,

 redeeming love has been my theme,

 and shall be till I die.

–William Cowper–

 

[2] Ware aanbidding

Omtrent twee weke gelede het ‘n onbekende man by my vriende gehoor dat ek deel was van ‘n veldtog teen aborsie. Hy het my nommer gekry en vir my ‘n Whatsapp gestuur.  ‘Aborsie is gebou op die fondasie van evolusie,’ het hy gesê.  Na my mening is dit presies reg.  Iemand wat glo dat mense en lemoene uit dieselfde poel ontstaan het, behoort ook te glo dat aborsie heeltemal aanvaarbaar is.  Die manier waarop ‘n mens lewe is ‘n direkte uitvloeisel van wat hy glo.

 

Die Samaritaanse vrou se verkeerde idees oor God daartoe gelei dat sy ‘n afgod gemaak het van seks (v.22). Tog het sy probeer om haar sonde te verskoon.  Toe Jesus sy vinger op die rou senuwee van haar sonde gelê het, het sy die onderwerp verander en oor godsdiens gepraat.  Sy wou vir die ‘profeet’ gewys het dat sy nie só sleg was nie, en dat sy darem godsdienstig was (v.19-20).

 

‘Ons en ons voorvaders het die Here op hierdie berg aanbid,’ het sy gesê (v.20). ‘Berg Gerisim is die plek waar Abraham, Jakob, en die Israeliete vir God aanbid het (Gn.12:6-7, 33:18, 20, Dt.11:29, 27:12, Jos.8:33).  Maar volgens julle Jode is Jerusalem die plek wat God vir Homself uitgekies het (v.20, Dt.12:5, 11, 14, 18, 21, 26, 2 Kron.6:6, 7:12, Ps.132:13).  Wie is reg?’ het sy gevra.

 

Natuurlik het sy verwag dat Jesus ‘Jerusalem’ gaan sê. Maar Hy het nie.  ‘Dit is nie soseer die plek van aanbidding wat belangrik is nie.  Die vraag is eerder of jy die Here reg aanbid.  Die Samaritane aanbid verkeerd.  Julle glo nie die hele Ou Testament nie (hulle ‘Bybel’ het net uit die eerste vyf boeke bestaan), en daarom weet julle nie mooi wie of wat julle aanbid nie (v.22, 2 Kon.17:28-34).  Die Messias is ‘n Jood en daarom is verlossing uit die Jode (v.22, Mt.1:21, 2:4-5, Rm.9:5, 11:26, Jes.2:3).  Hy het egter gekom om mense uit alle nasies te verlos (v.42), sodat hulle die Vader in gees en in waarheid kan aanbid (v.23-24, Fil.3:3).  M.a.w. God wil nie hê dat mense Hom moet aanbid soos wat húlle wil nie, maar soos wat Hy in sy Woord voorskryf – in waarheid.  Hulle moet dit egter nie met ‘n koue hart doen wat net uiterlik by die reëls hou nie.  Hulle moet Hom met ‘n opregte hart aanbid – in gees.  God self is ‘n onsigbare en alomteenwoordige Gees, en daarom kan sy kinders op enige plek vergader om Hom te aanbid (v.24, 22, 1 Kor.3:16, Sef.2:11, Mal.1:11, 1 Tm.2:8).’  Die Jerusalemse tempel sou buitendien in 70 n.C. verwoes word.

 

Die vrou het nogsteeds nie toegegee nie en het gesê: ‘Ek weet dat die Messias kom.  Wanneer hy kom sal hy vir ons alles sê; hy sal besluit wie reg is tussen die Jode en die Samaritane’ (v.25).  Die Samaritane se onvolledige Ou Testament het gemaak dat hulle ‘n Messias verwag het wat niks meer was as ‘n leermeester nie, die Taheb, soos wat hulle hom genoem het (Dt.18:18).  Op grond van Nm.24:7 het hulle ook geglo dat daar water uit die Messias se emmers sou vloei.[4]  Êrens moes die vrou twee en twee bymekaar gesit het toe Jesus van Homself gepraat het as die lewende water (v.14).  In v.26 het Jesus dit reguit gesê:  ‘Die Messias van wie jy praat staan voor jou.’ (vgl. 9:35-37).  Hy was meer as net ‘n gewone leermeester; Hy was EK IS – die God van Eks.3:14 (v.26).

 

Aanbid die Here in gees en in waarheid. As jy dit nie doen nie, sal die afgode wat in die hoeke van jou hart wegkruip baie gou in jou lewe sigbaar word.  Om die Here reg te aanbid moet jy die hele Skrif in oënskou neem, en nie soos die Samaritane net aan jou gunsteling gedeeltes vashou nie.  Maak dan seker dat jy nie net die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke lees nie.  Hoe kan jy die Here reg aanbid as jy nie weet wat die hele Bybel oor Hom sê nie?

 

Sien daarom sy heiligheid in Levitikus en sy liefde in Hosea; sy voortreflikheid in Hebreërs en sy geregtigheid in Romeine. Wat leer Esegiël, Jona en Openbaring oor God?  Iemand wat die hele Skrif se lering oor God in ag neem, sal saam met die Westminster Kategisme moet bely:  ‘God is ‘n Gees – oneindig, ewig, en onveranderlik in sy wese, wysheid, almag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid.’

 

Om die Here reg te aanbid moet jy Hom nie net in waarheid aanbid nie, maar ook in gees.  Voordat jy lees moet jy bid dat die Here jou oë sal oopmaak (Ps.119:18).  Bely jou sonde, sodat dit nie in jou pad staan om Hom te ken nie (1 Pt.2:1-2).  Die Samaritaanse vrou kon nie die Here in gees en waarheid aanbid het, totdat sy nie eers haar sonde laat staan het nie.  Is daar ‘n sonde wat jy moet laat staan, sodat jy die Here opreg en in waarheid kan aanbid?

 

Die dissipels (v.27-38)

Van alle sendelinge wat in Suider-Afrika gewerk het, is David Livingstone seker die bekendste. In sy leeftyd en vir ‘n paar dekades daarna het geen sendeling vir soveel swart mense gepreek soos hy nie.[5]  En tog het hy nie regtig vrug op sy arbeid gesien nie.  Hy was egter oortuig dat die Here sy beloftes sou vervul, en dat Christenskap sal triomfeer.  “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  “En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps.72:19).  Vir my lyk Jesus in v.35-38 juis dít vir sy dissipels gesê het.

 

Die dissipels het van die dorp af teruggekom net toe Jesus vir die vrou gesê het Hy is die Messias (v.26-27). Hulle was verbaas dat Hy met ‘n vrou gepraat het, en tog het nie een van hulle gevra:  ‘Wat soek jy?’ of ‘Hoekom praat U met haar?’ nie (v.27).  Die vrou het omgedraai en haar waterkruik daar gelos sodat Jesus kon drink (v.28, 7).  Haar aksie het uitgebeeld dat Jesus haar dors geles het.

 

Toe sy in die dorp aangekom het, het sy vir die mense van Jesus vertel (v.29). Sy wat voorheen ‘n uitgeworpene was het nie omgegee wat die mense dink nie – sy kon dit nie meer inhou nie, en moes eenvoudig vir hulle vertel het van die man wat haar hart en lewe geken het (v.29).  ‘Kan hy dalk die Christus wees?’ het sy gevra (v.29).  ‘Iemand wat vir ons alles kan vertel móét mos die Messias wees, nie waar nie?’ (v.25, 1:48-51).  Die mense het na die put toe geloop (v.30).  As hierdie vrou nie bang was om openlik oor skandelike lewe te praat nie, moes daar iets in Jesus gewees het, en die Samaritane wou geweet het wat dit was.

 

Terwyl die dorpsmense die 800 meter afgelê het, het die dissipels daarop aangedring dat Jesus iets moet eet (v.31). Hy wou egter nie, en het gesê dat Hy kos het waarvan hulle nie weet nie (v.32, 14).  Net soos wat die vrou nie sy les oor geestelike water verstaan het nie (v.15), het die dissipels nie geweet dat Hy van geestelike kos praat nie – hulle het gedink dat iemand anders vir Hom kos gebring het (v.33).  Jesus het dit toe duidelik gemaak:  ‘Om my Vader se wil te doen is die kos wat My versadig’ (v.34, 6:38, 17:4, 19:30, Job 23:12).

 

En wat was die Vader se wil? Dat Hy mense van hulle sonde moes red en in die hemel moes inbring, net soos wat ‘n boer die oes in sy skure inbring (v.35).  Die boer weet dat daar ná die saaityd min of meer vier maande moet verloop voordat hy die oes kan inbring (v.35).  Maar die geestelike oes wat deur Johannes die Doper en die Ou Testament profete gesaai is, was alreeds ryp; die dissipels kon dit net afpluk en inbring (v.35, 37-38).

 

Die Samaritane die Messias se koms verwag (v.25) en was gereed om Hom te ontvang (v.30). Dit is nie net dat mense in die toekoms tot bekering sou kom nie, maar Jesus was alreeds besig om mense te red en vrug vir die ewige lewe in te samel (v.36).  Dié wat saai sowel as hulle wat oes, sou saam bly gewees het oor die mense tot bekering kom (v.36-37, 1 Kor.3:7).  In Am.9:3 staan daar:  “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.”

 

Wanneer gelowiges siek is, beproef word, of oud raak, wonder hulle soms hoekom hulle nog op die aarde is. Volgens die Bybel het die Here ons hier gelos om dissipels te maak (Mt.28:19-20).  ‘n Gelowige wat nie hiermee besig is nie, is ongehoorsaam.  Dit beteken nie dat elke gelowige sy werk moet bedank om ‘n sendeling, predikant of straatevangelis te word nie.  Dit beteken wel dat jy die evangelie moet leef en verkondig aan die mense met wie jy in aanraking kom.

 

Vertel dit vir jou kinders en kleinkinders; deel dit met jou gesin en familie; moenie skaam wees om vir jou vriende, kollegas en bure te vertel nie. Nooi hulle saam met jou kerk toe.  Moenie moed opgee as hulle ‘nee’ sê, of as hulle die evangelie verwerp nie.  Hou aan, “want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal.6:9).  Moenie dink dat die Here jou arbeid misgekyk het, of dat Hy van jou gebede vergeet het nie.  Die Here sal iemand stuur om te oes waar jy gesaai het, sodat julle saam bly kan wees (v.36-38).

 

Op die oomblik sien ons nie baie bekerings nie, maar ek glo dat die Here een van die dae iets gaan doen. Dalk is ons in die hemel wanneer dit gebeur, maar ek kan nie glo dat die Here ons sal stuur om te saai as daar nie ook ‘n oes sal wees nie.  Op grond van Jesus se eie woorde glo ek dat dit ‘n groot oes gaan wees.  Die Bybel sê vir my dat die Here se Koninkryk sal wees soos ‘n berg wat die hele aarde vul, en soos ‘n mosterd saadjie wat groei om die grootste plant in die tuin te wees (Dn.2:35, 44, Mt.13:31-32).  Christus se Koninkryk sal strek van see tot see (Ps.72:8, Sg.9:10).  Hy sal oor die hele aarde regeer.  Die Vader sal nasies as sy erfdeel gee, en hulle sal Hom aanbid (Ps.2:8, 72:11).

 

Die bekerings waarna ons nou smag sal in daardie dag soveel wees soos die sand van die see. Petrus het van hierdie tye geprofeteer (Hd.3:19).  Jode en heidene sal by die miljoene tot bekering kom (Rm.11:15, 25-27), sodat die grootste herlewings in die kerk se geskiedenis nie naastenby daarmee vergelyk kan word nie; dit sal wees soos ‘n skare op Loftus teen Indië se bevolking.  “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie!  Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie!  Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.” (Jes.54:1).

 

Die Samaritane (v.39-42)

Het jy al ooit ‘n gewone persoon ontmoet, om na ‘n paar maande agter te kom dat hy of sy welbekend is? Ek het eenkeer so iets ervaar.  Die persoon het vir my dood normaal gelyk.  Met die verloop van tyd het ek in internasionale Christelike tydskrifte van hom gelees.  Outeurs wie se boeke ek op my rak het, het van hom gepraat.  By ‘n predikante byeenkoms waar hy teenwoordig was, het sy selfoon gelui.  ‘Verskoon my broers,’ het hy gesê, ‘Dit is mnr. Mbeki.’  Ek weet tot vandag toe nie of hy ‘n grap gemaak het nie, maar vir my het hy ernstig gelyk.  Alhoewel Jesus volkome mens was, het die Samaritane agtergekom dat Hy nie maar net enigiemand is nie, maar die Verlosser van die wêreld (v.42).

 

In ooreenstemming met Jesus se opmerking oor die groot oes (v.35), het baie van die Samaritane in Hom geglo (v.39).  Dit het hulle verstom dat hierdie vreemdeling die losbandige vrou se geheime lewe geken het (v.39).  Hulle was nie soos die Jode wat maar net agter sy wonderwerke aangekom het nie, maar hulle het na Hom toe gekom en daarop aangedring [Gk., v.31] dat Hy by hulle moes bly (v.40, 30).  Hulle wou meer van Hom geweet het en by Hom geleer het.  Die feit dat hulle vir ‘n Jood gevra het om daar te bly wys dat hulle regtig geglo het Hy is die Een.  Jesus het vir twee dae daar gebly (v.40).  Gedurende hierdie tyd het baie van hulle geglo toe hulle sy Woord gehoor het (v.41, kontr. 3:11, 32, 1:11).  Hulle het geweet dat Hy inderdaad die Messias is van wie Moses gepraat het (v.25, Dt.18:15, 18).

 

Die vrou was reg om te sê dat Jesus alles weet. Nou het die Samaritane dit self uit sy mond uit gehoor (v.42).  Skielik het hulle besef dat Hy nie maar net ‘n gewone profeet of leermeester is nie (v.19, 25), maar dat Hy die Verlosser van die wêreld is (v.42).  Alhoewel Hy ‘n Jood was, het Hy nie net vir die Jode gekom nie (v.22).  Hy het ook gekom om die Samaritane te red (v.42, 3:16, 1 Jh.4:14).  Jesus het gekom om vername en godsdienstige Joodse mans te red (hfst.3), maar ook om lae klas en losbandige Samaritaanse vroue te red (hfst.4).

 

Maak seker dat jy persoonlik ervaar dat Jesus die Verlosser van die wêreld is. Dit sal tragies wees as jy dit uit die Bybel uit geweet het, maar verlore gaan omdat jy nie self daardie verlossing gesmaak het nie.  Die transformasie in ander mense harte en lewens behoort vir jou te wys dat Jesus regtig die Verlosser van die wêreld is (v.39, 42).  Vra dat Hy ook na jou hart toe sal kom (v.40).  Wees soos die Samaritane wat vir twee dae na sy Woord geluister het (v.40-41).  Sonder tyd af om die Bybel te lees (begin by Johannes); bid dat die Here jou oë sal oopmaak om te sien dat Jesus nie maar net die Verlosser van die wêreld is nie, maar dat Hy ook jóú Verlosser is.  Wanneer jy hierdie verlossing in jou siel ervaar het, sal jy besef dat Jesus in ‘n klas van sy eie is.  Hy alleen is die Verlosser van die wêreld en deel nie hierdie titel met Mohammed, Buddha of enigiemand anders nie.

 

Ons lewe in ‘n wêreld waar mense afsprake maak en kanseleer. Partykeer verhoed omstandige dat hulle die afspraak kan nakom.  As dit ‘n moeilike afspraak is, ignoreer of vermy mense jou oproepe.  Met Jesus is dit anders.  As Hy ‘n Goddelike afspraak met iemand gemaak het, kan hulle nie weghardloop of die afspraak kanseleer nie.  Hy sal sy raadsplan uitvoer en persoonlik met hulle ontmoet.

[1] Andrew Robert Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, ‘Samaria’ en James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, ‘Samaritans’

[2] A.B. du Toit, Handleiding by die Nuwe Testament II, p.511

[3] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.302-303

[4] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.439

[5] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.181-183

’n Militêre basis vir God se soldate

Soldier reading Bible

Het jy al plaasboere ontmoet wat so ver van die dorp af bly, dat hulle net een keer per maand kan inry? Hulle kan nie gou dorp toe skiet vir brood of melk nie, en daarom is hulle yskaste so groot soos ‘n inloop kluis.  Hulle koop ‘n maand of twee se voorraad van alles.  In God se Koninkryk werk dit soms so.  Soos soldate is die sendelinge besig om in die veld te baklei, maar dikwels het hulle geen basis wat vir hulle vars voorraad stuur nie.  Ek praat hier van kerke wat hulle plig versuim en nie sendelinge ondersteun nie.  3 Jh.1-15 spreek hierdie probleem aan.

 

Gaius (v.1-8)

Die leierskap van ‘n klein gemeente in Engeland het vir Charles Spurgeon gevra om vir hulle ‘n predikant te stuur. Maar die salaris wat hulle aangebied het was so klein dat Spurgeon vir hulle geskryf het:  ‘The only individual I know, who could exist on such a stipend [salary], is the angel Gabriel.  He would need neither cash nor clothes; and he could come down from heaven every Sunday morning, and go back at night, so I advise you to invite him.’[1]

 

Ek weet van ‘n gemeente wat ‘n paar jaar gelede vir hulle assosiasie gevra het om vir hulle ‘n predikant te stuur. Hulle was bereid om hom R2000 per maand te betaal, maar hy moes vir sy eie vervoer, brandstof, en verblyf sorg.  Die Bybel is nie tevrede hiermee nie, “want die arbeider is sy loon werd.” (Lk.10:7).  Gaius was ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens sendelinge en ander Christelike werkers behoort te ondersteun.

 

As geestelike leier en ou man, het Johannes van homself gepraat as ‘die ouderling’ (v.1, 2 Jh.1, 1 Pt.5:1). Hy het sy brief aan Gaius gerig (v.1).  Soos wat John ‘n algemene naam is in die Engelssprekende wêreld, was Gaius algemeen in Johannes se leefwêreld.  Die Gaius van ons teks het onder Johannes se bediening tot bekering gekom (v.3-4, vgl. 1 Kor.4:14-15) en moenie verwar word met die Gaius wat onder Paulus tot bekering gekom het, en deur hom gedoop is nie (1 Kor.1:14).  Daar is meer as een Gaius in die Nuwe Testament.

 

Johannes en Gaius het dieselfde waarheid liefgehad, en daarom het Johannes ook vir Gaius self liefgehad (v.1-2, 5, 11, 2 Jh.1-2, 1 Jh.3:18). Johannes het by die broers gehoor dat Gaius sy lewe volgens die waarheid ingerig het, en dat dit geestelik met hom goed gegaan het (v.2-3).  Sy bede was dat Gaius se liggaam so gesond sou wees soos sy siel, en dat hy in elke opsig voorspoedig sou wees (v.2, 1 Ts.5:23-24).  Niks kon vir Johannes groter vreugde gebring het as om te hoor dat sy geestelike kinders volgens die waarheid lewe nie (v.4).  Hy het vir Gaius geprys omdat sy geloof prakties was en hy vreemde sendelinge in sy huis verwelkom het (v.5, Hb.13:2, Rm.12:13, 1 Pt.4:9).

 

Die sendelinge het na hulle tuisgemeente toe teruggekeer en vir die gelowiges van Gaius se liefde vertel (v.6). Hulle het intussen na Gaius toe teruggekeer om Johannes se brief vir hom te vat.  Johannes het gevra dat hy die goeie werk moes volhou en die sendelinge op hulle reis moes voorthelp (v.6).  Hy moes meer as net ‘n halwe bruinbrood en ‘n homp kaas vir hulle gegee het; hy moes hulle gehelp het asof dit Jesus was wat by sy huis oornag het (v.6, Mt.10:40, 25:35, 40).  Hy moes hulle reiskoste betaal het, en genoeg geld in hulle sakke gesit het vir padkos.

 

Die sendelinge het nie vir hulleself rondgereis nie, maar om die Here se Naam in die wêreld te verkondig (v.7). Hulle het nie soos Katolieke monnike uit die dertiende eeu, aan ongelowiges se deure geklop en gevra vir geld nie (v.7).[2]  Omdat hulle dan geen ander bron van inkomste gehad het nie, was dit die kerk se plig en nie die wêreld s’n nie, om hulle te ondersteun (v.7-8).  Dié wat dít gedoen het sou mede-werkers en vennote van die waarheid gewees het; deur hulle geldelike bydrae het hulle gehelp om die evangelie te versprei (v.8, kontr. 2 Jh.11).

 

Sendelinge en ander Christelike werkers moenie geldgierig wees nie (v.7, 1 Tm.3:3, 6:9-10), maar moet ook nie op die veld wonder of die basis vir hulle geld en kos gaan stuur nie. Volgens v.8 het ons ‘n verantwoordelikheid om vir hulle te sorg.

 

In 2007 het SASOL my broer en sy vrou vir twee maande Amerika toe gestuur vir opleiding en alles betaal: vliegtuig kaartjies, verblyf, etes, lesings, boeke, internet en meer.  Maar as die kerk haar beste soldate (sendelinge) op die veld uitstuur, verwag ons hulle moet vir geld bedel, self hulle reiskoste dek, en tevrede wees met tweedehandse klere en uitgedrukte teesakkies.  Om hulle só te ondersteun is nie waardig van die Here nie, en dra nie sy goedkeuring weg nie (v.6).

 

Dit is hartseer as die wêreld beter vir haar mense sorg as wat die kerk dit doen. Ons sê te maklik:  ‘Daar is nie geld nie.’  Waar is ons geloof?  Behoort Amerika se dollars en Engeland se ponde nie aan die Here nie?  “Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare.” (Hag.2:8).  Die wêreld en alles daarin behoort mos aan die Here (Ps.24:1, 50:10-12).  Dit is nie reg om van die basis af vir die soldate te radio:  ‘Vertrou die Here – Hy sal vir julle voorsien!’ nie.  Hoekom vertrou die basis nie die Here om vars voorraad te voorsien, sodat ons dit vir die sendelinge op die veld kan stuur nie (Fil.4:14-19)?

 

Onthou asseblief dat sendelinge nie toeriste is wat met ‘n lang oorsese vakansie is nie. Hulle is soldate wat die Here se Naam en Koninkryk onder die heidene moet bevorder (v.7).  Hulle is Christene wat die luuksheid van hulle eie land prysgegee het om die evangelie in Suid-Soedan of Peru te verkondig.  Dit is die kerk se plig om ‘n militêre basis te wees wat vir die soldate kos, water, ammunisie, wapens, en troepe sal stuur.  Op hierdie manier is ons mede-werkers van die waarheid (v.8).

 

As die sendelinge gewond is en na die basis toe terugkeer, moet ons dit vir hulle so gerieflik as moontlik maak. Ons moet hulle in ons huise verwelkom, sorg dat hulle vervoer het, hulle vir ete nooi, saam met hulle die Bybel lees en bid, en meer (v.5-6).  As ons nié die Here se soldate ondersteun nie, is ons botweg ongehoorsaam.  Iemand het gesê:  ‘Jy kan ‘n sendeling wees, jy kan ‘n sendeling uitstuur en ondersteun, of jy kan ongehoorsaam wees.’

 

Diotrefes (v.9-10)

Ek weet van ‘n kerk waar een man die kitaar slaan. Almal in die kerk is bang vir hom.  Hy het sy aanhangers en draai die gemeente om sy pinkie.  Hy is veglustig en emosioneel so onstabiel soos die See van Galilea.  Niemand in die gemeente weet wat in die kerk se bankrekening aangaan nie, want in sy gedagtes behoort die geld en geboue aan hom.  Hy is die moderne eweknie van Diotrefes.  Die Here wou gehad het dat die kerk ‘n militêre basis vir sy soldate moes wees (v.5-8), maar Diotrefes het ingesluip en die basis gekaap (v.9-10).

 

Johannes het gesê dat hy iets vir die kerk geskryf het, maar dat Diotrefes dit nie aanvaar het nie (v.9). Hy het waarskynlik die brief van die gemeente af weerhou en dit opgeskeur (v.9).  Hy was hoogmoedig, arrogant en vir homself die belangrikste (v.9, kontr. 1 Kor.13:5, Mt.20:25-28).  Hy het geweier om Johannes se apostoliese gesag te aanvaar (v.9).  Daardeur het hy gewys dat hy nie ‘n ware gelowige is nie (1 Jh.4:6).

 

Johannes het gesê dat hy by sy volgende besoek Diotrefes se sonde aan die lig sou bring (v.10). Diotrefes het bose leuens oor hom en sy spanmaats versprei (v.10).  Hy wou nie gehad het dat die gemeente Johannes se leierskap bo sy eie moes erken nie, en daarom het hy geweier om enigiemand wat van Johannes af gekom het in die gemeente te verwelkom (v.10).  Sy obsessie met homself het gemaak dat hy mense manupileer.  As iemand vir Johannes wou luister om die sendelinge te verwelkom (v.5-8), het hy hulle uit die gemeente verwyder (v.10, Jh.9:34).

 

Ek het eenkeer van ‘n man gehoor wat glo sendelinge gaan nie hemel toe nie. Moet jou nie te veel steur aan wat mense, soos Diotrefes, oor sendelinge te sê het nie (v.9-10). God sê ons moet hulle ondersteun en verwelkom (v.5-8).  Vir my is dit rede genoeg om gehoorsaam te wees.

 

Ek glo nie iemand in ons gemeente is soos Diotrefes wat teen die sendelinge was nie. Dit is egter moontlik dat ons ons skouers kan optrek en apaties staan.  Ons stel nie belang in wat op die veld gebeur nie.  Ons jaag hulle nie weg nie, maar nooi hulle ook nie uit om ons te besoek nie.  Ons gee nie om of hulle genoeg geld het nie, en bid nie getrou vir hulle nie.  As hulle vir ons ‘n nuusbrief stuur, lees ons dit nie.  Ek moet bely dat my eie hart in baie opsigte koud is, en dat ek self skuldig staan.  Ons moenie wag dat die Here vir ons ‘n hart gee vir sending nie.  Begin eenvoudig om te gee en jou hart sal volg, “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Mt.6:21).

 

Demetrius (v.11-12)

Mense is soos skape: as een iets doen is daar ander wat volg.  Jy het seker al gesien hoe skoolkinders deur fases gaan:  eers koop almal gekleurde rekkies, dan versamel hulle sticky’s, en daarna koop hulle albasters.  En so gaan dit.  Omdat dit so is, moet ons seker maak dat ons nie deur slegte mense beïnvloed word nie, maar dat ons die voorbeeld van goeie mense navolg (v.11).  Hierdie reël geld veral wanneer dit by die ondersteuning van sendelinge kom.

 

Ek het gehoor van ‘n Britste teoloog wat nie matte in sy huis gesit het nie, omdat hy die geld wou gebruik om sendelinge te ondersteun. Spurgeon het sy studente aangespoor om siele vir die Here te wen, en het geld uit die verkope van sy preke in Amerika gebruik om die werk te befonds.[3]  Sulke stories behoort ons aan te spoor om vir sending te gee.  Alhoewel ons teks nie sê wat Demetrius se goeie voorbeeld was nie, lyk dit uit die konteks of hy (anders as Diotrefes) ‘n regte ingesteldheid gehad het teenoor sendelinge.

 

Gaius moes nie toelaat dat Diotrefes se slegte voorbeeld hom beïnvloed nie, en moes eerder Demetrius se goeie voorbeeld nagevolg het (v.11, Ps.37:27, 1 Kor.4:16, 11:1, Fil.3:17). Mense wat soos Demetrius goed gedoen het, was van God af (v.11, 1 Jh.2:29).  Hierdie goedheid het nie uit hulle eie harte gekom nie (Rm.3:12, 7:18, Mt.19:17), maar was van God af (Ps.119:68).  Dié wat soos Diotrefes kwaad gedoen het, het nie die oë van geloof gehad om God te sien nie, en was ongered (v.11, 1 Jh.3:6).

 

Demetrius het waarskynlik hierdie brief vir Gaius afgelewer. Hy was betroubaar, en daarom kon Gaius gerus sy goeie voorbeeld nagevolg het (v.11).  Almal wat hom geken het, het van sy goeie karakter getuig (v.12, 1 Tm.3:7, Hd.16:2).  Omdat sy lewe met die Bybel ooreengestem het, het die waarheid sy betroubare karakter onderstreep (v.12).  Gaius kon met ‘n geruste hart Johannes se getuienis aangaande Demetrius geglo het (v.12, Jh.21:24).  Soos wat die Ou Testament vereis het, was daar drie getuies om Demetrius se goeie karakter te bevestig (v.12).

 

Volg die goeie voorbeeld van mense wat sendelinge ondersteun. Dink daaraan dat hierdie mense ‘n skat in die hemel het, terwyl dié wat alles in hulle sakke steek niks met hulle sal saamneem wanneer hulle doodgaan nie (Lk.12:33, Ps.49:17-18).  John D. Rockefeller was een van die rykste mense op aarde.  Toe hy dood is het iemand vir sy boekhouer gevra:  ‘Hoeveel het hy agtergelaat?’  Die klassieke antwoord was:  ‘Alles!’[4]  Toe wyle dr. Martin Holdt hemel toe is, was daar R50 in sy bankrekening.

 

Hoe bly sal jy nie op die oordeelsdag wees as daar honderde mense voor die Here staan, en Hy vir jou sê: ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg!  Deur jou gereelde bydrae het hierdie mense die evangelie gehoor en tot bekering gekom’?  Mense wat in oorvloed vir die Here se werk gee, is buitendien gelukkiger as iemand wat ‘n graansilo vol geld het:  “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (Hd.20:35).  God is die vrygewigste Persoon in die heelal (Jh.3:16, Ps.145:16).  Ons moet sy voorbeeld volg.

 

Die vriende (v.13-15)

Gedurende my eerste jaar van studies het die studente een aand vir ‘n predikant gaan kuier. Hy was moedeloos en wou die handdoek ingooi.  Ons besoek het hom bemoedig, sodat hy nie opgegee het nie.  Die Here weet wat ons nodig het.  Soms gebruik hy ‘n sms of ‘n woord van waardering, sodat jy moed skep en aanhou.  Om iemand soos Diotrefes in die gemeente te hê moes moeilik gewees het.  Ek is seker dat Johannes se brief vir Gaius gehelp het om moed te skep, en dat dit vir hom perspektief gegee het.

 

Johannes wou nóg geskryf het, maar sou eerder vir Gaius wou sien as om met pen en ink te skryf (v.13-14).  Om van aangesig tot aangesig te praat is baie lekkerder as om iemand se woorde in ‘n brief te lees (2 Jh.12).  Alhoewel ‘n brief nie die beste is nie, was dit vir Gaius so goed soos vars lug in sy longe.  Johannes het vir sy vriend vrede toegebid (v.15, Jh.14:27, 20:19).  Met Diotrefes in die gemeente het hy dit nodig gehad.  Omdat hy ‘n vyand gehad het, sou die nuus van sy vriende se groete vir hom gewees het soos yskoue water op ‘n bloedige dag in die Kalahari (v.15).  ‘Die vriende’ verwys natuurlik na mede-gelowiges (Jh.15:13-15).  Gaius moes ook die vriende in sý gemeente by die naam groet (v.15).  Johannes het nie net in die groep belanggestel nie, maar in elkeen persoonlik.

 

Natuurlik moet ons nie van die sendelinge vergeet nie, maar ons moenie so op die buiteland fokus dat ons die mense wat by die basis werk, afskeep nie. As jy die basis afskeep sal die soldate wat in die veld is ook daaronder gebuk gaan.

 

Dit moenie een persoon se taak wees om met die sendelinge kontak te hou nie. Verklaar jouself bereidwillig om te help, sodat ander kan rus en hulle batterye kan herlaai.  Ons moet vir mekaar bid dat ons nie verslap nie (v.15, 2).  Ons moet saamkom, sodat ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade (v.14, Hb.10:24-25).  Ons moet mekaar aan 1 Kor.15:58 herinner:  “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

 

Party koshuis kinders se huislike omstandighede is so sleg, dat hulle nie huistoe wil gaan nie.  Die koshuis lewe is moeilik, maar om by die huis te wees is erger.  Dit moenie so wees vir sendelinge nie.  Die sendingveld is moeilik genoeg.  As hulle na die basis toe terugkeer, moet dit vir hulle lekker wees.  As hulle ‘n paar maande later na die sendingveld toe terugkeer, moet hulle weggaan met die volle wete dat ons hulle finansieel en in gebed sal ondersteun.

 

[1] Autobiography: vol.2, p.108

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: part 2, pp.317-325

[3] Ibid, p.99

[4] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.17-18

Hoe om jou regte te gebruik

Human rights

In die Moslem-wêreld het vroue nie regte nie.  Sura 4:24 in die Qur’an sê:  ‘…As to those women on whose part ye fear disloyalty and ill-conduct, admonish them [first], [next], refuse to share their beds, [and last] beat them [lightly]…’

 

Die teenoorgestelde gebeur in die weste:  elkeen veg vir sy regte.  Baie mense staak vir meer geld.  Party beskou dit as hulle reg om gratis behuising te hê met elektrisiteit en lopende water.  In skole leer kinders dat hulle regte het:  hulle mag nie gedissiplineer word nie.  As jy net aan hulle raak, sal hulle jou by die onderwysdepartement aangee.  Selfs misdadigers het regte wat nie oortree mag word nie.

 

Die Bybel sien nie sonde oor omdat ons regte het nie.  ‘n Getroue Christen is selfs bereid om geldige regte prys te gee vir God se eer, gelowiges se geestelike welvaart, en ongelowiges se redding.  Dis Paulus se punt in 1 Korintiërs 9.

 

Paulus verdedig sy regte (v.1-14)

Ek weet van ‘n kerk met ‘n paar ryk mense wat ‘n leraar soek.  Die leraar moet sy eie huis en kar voorsien.  Die kerk sal vir hom ‘n salaris van R2000 per maand betaal.  Die Bybel sê egter dat evangelie-werkers die reg het om ordentlik betaal te word (v.1-14).

 

Paulus was ‘n ooggetuie van die opstanding (15:8, Handelinge 9).  Sy preke het bose sondaars in Korinte in nuwe mense verander (2 Korintiërs 3:2).  Dít bewys dat hy ‘n ware apostel was wat die ware evangelie verkondig het (v.1-3).

 

As apostel het hy net soos die ander apostels, Jesus se broers, en Petrus die reg gehad op ‘n padkos-toelaag, ‘n vrou as hulp, sendingreisgeld vir sy vrou, en ‘n salaris uit die gemeentes waar hy gepreek het (v.4-6, Lukas 10:7, 2 Tessalonisense 3:8-9).  Die soldaat kry ‘n salaris, die wynboer deel in die oes, en die herder drink van die bokke se melk (v.7).  Net so moet die Here se soldaat (2 Timoteus 2:3-4), kerkplanter (3:6-8), en geestelike herder (1 Petrus 5:2) betaal word.

 

Paulus sê hierdie dinge nie op menslike gesag nie.  God sê so.  In die Ou Testament het koringboere ‘n os gebruik om die meulsteen oor die koring te rol.  Die os se bek mag nie toegebind word nie.  Hy moet van die koring kan eet terwyl hy dit fyn maal (Deuteronomium 25:4).  Dié beginsel geld ook vir evangelie-predikers (v.9-10, 10:11, 1 Timoteus 5:18, Romeine 15:4, 27).  Paulus het die kerk in Korinte geplant.  As hy geestelik gesaai het, mag hy sekerlik geldelik maai en in die vrug deel (v.11-12a, 2 Timoteus 2:6).

 

Maar Paulus sou eerder sy reg op ‘n salaris prysgee, as om ‘n geleentheid vir evangelie te laat verbygaan (v.12b).  Niemand moet kan sê:  ‘Ons het nie die evangelie gehoor nie, want ons kon jou nie bekostig nie.’  Die priesters in die Ou Testament het uit die volk se tiendes en offers geleef en geëet (v.13, Deuteronomium 18:1, Numeri 18:21).  As Paulus wou, kon hy dieselfde gedoen het (v.14, Matteus 10:10).

 

Paulus begewe sy regte (v.15-27)

Ek ken ‘n predikant wat ryk geërf het en slim is met geld.  Hy het vir hom 4×4’s, sport karre, ‘n jaccuzi, ‘n toer motorfiets, en duur ‘speelgoed’ gekoop.  ‘Is dit sonde?  Het hy nie die reg om sy geld te gebruik soos hy wil nie?’ wonder iemand.  Die mense in sy gemeente kan nie so leef nie.  Daarom sou dit beter gewees het as hy, soos Paulus, sy regte prysgegee het (v.15-27).

 

Paulus het sy regte begewe.  Hy het – ook toe hy in Korinte was – tente gemaak vir ‘n inkomste (Handelinge 18:3).  Sy doel met v.1-14 was nie om vir geld te skimp nie (v.15a).  Hy sou sterf eerder as om die evangelie te verkoop (v.15b).  “Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedónië gekom het.  En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie, en ek sal my in ag neem.  So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Acháje my nie ontneem word nie.” (2 Korintiërs 11:9-10).  Jesus het gesê:  “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” (Matteus 10:8).

 

Moet hom nie misverstaan nie.  Paulus roem nie in sy amp of vaardigheid om te preek nie.  Om die evangelie te preek is sy plig (v.16).  Hiervoor het Jesus hom geroep (Handelinge 9:6, 15).  Soos die ander apostels en Jeremia, kon hy nie anders as om te preek nie (Handelinge 4:20, Jeremia 20:9).  As hy stilgebly het en nie gepreek het nie, sou die Here hom straf (v.16, Jakobus 3:1).  Paulus het nie self sy preekloopbaan gekies, met die doel om geldelike loon te kry nie (soos moderne Prosperity predikers).  God het vir Paulus geroep om ‘n rentmeester van die kosbare evangelie te wees.  Sy beloning was dus om die evangelie gratis en sonder betaling te preek (v.17-18).

 

Paulus het nie ‘n salaris getrek nie, en was dus vry van die houvas van enige kerk of individu (v.19, vgl. Spreuke 22:7).  Tog het hy homself ‘n dienaar van almal gemaak, sodat hy baie vir die evangelie kon wen (v.19).

 

[1] Hy was vry van die wet, maar het soos ‘n Jood geword om dié wat onder die wet is te wen (v.20).  Hy het nie geglo dat die besnydenis, offers, of die Nasireër-gelofte enigiets tot sy redding bydrae nie.  Tog sou hy dié praktyke beoefen om aanklank by die Jode te vind, sodat hulle ontvanklik sou wees vir die evangelie (Handelinge 16:3, 18:18, 21:26).

 

[2] Vir die heidene sonder die wet sou hy word soos een sonder die wet om hulle te wen (v.21, Galasiërs 2:3, 14).  Hy bedoel nie dat hy wetteloos sou word nie, want hy was immers onder die wet van Christus (Galasiërs 6:2):  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

 

[3] Vir die swakkes sou Paulus sy regte opgee, sodat hulle geestelik sterker kon word (v.22).  “Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.” (8:13).  “net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.” (10:33).

 

Paulus sou sy regte prysgee om mense vir die Here te wen.  Vir hom was die seën wat die evangelie bring (Efesiërs 1:3-14) belangriker as sy regte (v.22-23).

 

Die Korintiërs was bekend met die Isthmian spele wat elke paar jaar in hulle stad gehou is.  Paulus het dié beeld gebruik om te sê dat hulle moes hardloop om die prys te behaal:  ‘n ewige kroon en nie net ‘n blarekrans wat gou verlep nie (v.24-25, 2 Timoteus 4:8, Jakobus 1:12, 1 Petrus 5:4).  Om dit reg te kry moes hulle, soos goeie atlete, hulleself dissiplineer (v.25, 2 Timoteus 2:5).  Hulle moes nie net van sonde ontslae raak nie, maar ook van wettige plesiere wat hulle kon terughou (Hebreërs 12:1).

 

Goeie atlete het ‘n doel waarvoor hulle hardloop (v.26).  So moes die Korintiërs Jesus vooroë hou in die lewenswedloop (Hebreërs 12:2).  Hulle moes nie skadu-boksers wees nie, maar moes die teiken raak slaan (v.26).  So sou hulle enduit kon volhard soos Paulus (2 Timoteus 4:7).

 

Paulus het vir hulle ‘n voorbeeld gestel.  Hy het vir sy sondige vlees ‘n blou oog gegee, en was bereid om sy regte op te gee (v.27).  As hy dit nie gedoen het nie, sou sy vlees makliker die oorhand kon kry.  Hy sou dus makliker in sonde kon val en gediskwalifiseer word.  So sou hy sy wedloop in die evangelie-bediening moes opgee en sy hemelse beloning verloor (v.27, vgl. 3:15).

 

Begewe jou regte vir Jesus.  Wat is jou regte?  Jy het nie die reg om sonde te doen nie.  Jy is vry om die gawes te geniet wat God gee:  geld, kos, vakansies, die huwelik, wyn, sport, en baie meer (1 Timoteus 6:17).

 

Tog kan jy jou regte prysgee om ongelowiges te wen en swak gelowiges se groei te bevorder (v.19-23).  Hier is ‘n paar voorbeelde:

 

  • Ek ken verskeie sendelinge wat hulle gemaklike lewens in die weste gelos het vir ‘n ander kultuur in ‘n derde wêreld land.
  • Een vriend is bereid om Nike tekkies en teëlvloere prys te gee, omdat die mense onder wie hy werk dit nie kan bekostig nie.
  • Martyn Lloyd-Jones was die mediese-assistent vir koningin Elizabeth se geneesheer. Hy sou waarskynlik sy baas se opvolger wees. Hy het dit vir die evangelie-bediening verruil.
  • John Paton het ‘n groeiende bediening in Skotland gehad. Hy het dit agtergelaat om ‘n sendeling na die kannibale van die New Hebrides te word.
  • My vriend het sy groeiende besigheid en plaaslewe gelos om onder die plakkers te werk.
  • ‘n Bekende berader se vrou het haar familie in Amerika agtergelaat om in Suid-Afrika te kom werk. Haar buurvrou in Suid-Afrika het gevra: ‘Is jy nie lief vir jou kleinkinders nie? Hoe kan jy dit aan hulle doen?’ Haar antwoord was: ‘Ek is lief vir my kleinkinders, maar ek is liewer vir Jesus.’
  • ‘n Kollega het sy veearts kliniek gelos, sy huis en sy kar verkoop om teologie te studeer.
  • ‘n Afgetrede leraar het sy lewe lank die evangelie gratis verkondig. Hy was die predikant van verskeie kerke, maar het – uit eie keuse – nooit ‘n salaris gekry nie.
  • ‘n Vriend van my het sy werk by Edgars gelos om die evangelie met kinders te deel. Hy het nie ‘n vaste inkomste gekry nie.
  • ‘n Paar Suid-Afrikaanse predikante het geld Zambië toe gestuur om vir Conrad Mbewe ‘n kar te koop. Hy was dankbaar, maar het die geld teruggestuur. ‘Ek kan nie ‘n kar ry as die meeste van my lidmate loop of fietsry nie,’ het hy gesê.
  • Howell Harris het besluit om nie te trou nie, sodat hy vryer kon wees om op preektoere te gaan.
  • ‘n Amerikaanse paartjie in Johannesburg het gekies om in hierdie slegte land aan te bly, sodat hulle mense vir die Here kan wen.

 

Baie mense sal sê dis onverantwoordelik.  Ander sal sê om jou regte prys te gee is wetties (bv. as jy wyn opgee om ‘n swakker broer te wen).  Wees tog versigtig dat jy nie verwag dat almal dieselfde regte as jy moet prysgee nie.  Moet dit nie afdwing as ‘n reël nie.  Moenie dink dat iemand wat ‘n BMW ry, besluit om te trou, bier drink, of aanhou om in die sekulêre sektor te werk, minder geestelik is as jy nie.

 

Sal jy jou regte prysgee om ander te wen?  Sal jy vanjaar jou kersboom afslaan, ophou om alkohol te gebruik (8:13), of elke Sondag ‘n das dra as jy daareur jou broer kan wen?  Sal jy spek opgee om ‘n Moslem te wen?  Sal jy jou restaurant-ete met die direkteure prysgee om saam met die ‘tea lady’ toebroodjies te eet, sodat jy haar vir die Here kan wen?

 

Sal jy jou geselsies met mede-Afrikaners prysgee, sodat jy mense van ‘n ander taalgroep kan bevriend om hulle vir die Here te wen?  Sal jy ‘n kleiner kar koop, sodat jy die ekstra geld vir sending kan gee?  Sal jy jou vakansie opoffer om die evangelie in Mosambiek te preek?  Dalk is jy nie bereid om jou regte prys te gee nie.  Maar is dit regtig so erg as jy nie jou regte kan uitleef nie?

 

Hoekom moet jy bereid wees om jou regte prys te gee?  Selfverloëning is deel van wat dit beteken om Jesus te volg:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Lukas 9:23).  Jesus het sy regte – sy hemelse rykdom – prysgegee om ons te red (2 Korintiërs 8:9, Filippense 2:6-8).  En sal ons nie in sy voetspore volg nie?

 

‘n Klomp jare gelede was daar ‘n populêre lied wat die wêreld se idee oor mense regte opgesom het.  Die woorde het so gegaan:  ‘You’ve got to fight… for your right… to party!’  Ongelowiges sal vir hulle regte sterf.  Vir hulle gaan die lewe oor hulleself en hulle eie gemak.  Vir Christene gaan die lewe oor Jesus en liefde vir hulle naaste.  In watter kamp is jy?  Sal jy jou regte en lewe prysgee om Jesus te verheerlik deur ander vir Hom te wen?