Wat doen die Here vir jou en wat moet jy vir Hom doen?

God has not forgotten you

Nick is 4 jaar oud. Sy pa is $50 biljoen sterk. Hy is bly dat sy pa so goed vir hom sorg. Om dankie te sê breek hy sy spaarvarkie oop, en gee hy al sy geld – $150 – vir sy pa.

Om die Here te dank vir alles wat hy vir jou doen is so. Wat sal jy vir Hom gee: geld? Dit kom in elk geval van Hom af (1Kron. 29:14). Wat van geskenke? Hy het dit vir jou gegee (Jak. 1:17). Dalk jou diens? Dit is uit Hom (1Kor. 4:7). Wat van jou lewe? Hy het dit vir jou gegee (Hand. 17:25). Sê eerder net dankie, prys Hom en geniet Hom. Dit sal Hom verheerlik. Dit is wat Jes. 44:21-28 vir ons leer.

1. Wat moet jy vir die Here doen? (v.21-23)

[a] Onthou Hom (v.21)
Het jy al ooit jou kinders getugtig en gevra: ‘Hoekom het jy dit gedoen?’ Wat antwoord hulle? ‘Ek het vergeet.’ Maar jy het twee dae gelede vir hulle gesê om dit nie te doen nie.

Ons is soos kinders en vergeet maklik (Ps. 106:4, 13, 21, 45, 2Pet. 1:12-15). Daarom moes die Here sy volk herinner dat afgodery dwaas is, en dat Hy die ware God is (v.6-20, 21). Hy het hulle uit Egipte gered om sy kneg te wees (v.21). Die mens vorm afgode (v.12-13), maar die Here het sy volk gevorm (v.21).

God vergeet nie soos ons nie, maar sal sy volk nog in die toekoms onthou (v.21, 49:15, Ps. 105:8, Rom. 11:28-29). Dit geld vir elkeen wat glo. Sal die Here ‘n mossie onthou en van jou vergeet (Luk. 12:6-7)?

Hy onthou jou gebede. Hy onthou jou wanneer jy bang is. Hy onthou as jy deur beproewings gaan. Hy vergeet jou nie wanneer jy sonde doen nie, maar tugtig jou sodat jy na Hom toe sal terugkeer. Hy sal jou ook op jou sterfbed onthou (Luk. 23:42-43).

Soos wat die Here jou onthou moet jy Hom onthou en gehoorsaam. As jy Hom vrees sal Hy jou naam in die boek van herinnering skryf (v.21, Mal. 3:16). Hy sal jou m.a.w. onthou.

Onthou ook die Here wanneer jy die nagmaal gebruik: ‘doen dit tot my gedagtenis’ (1Kor. 11:24-25). As jy vir geen rede van die nagmaal af wegbly nie, sal jy die Here vergeet. Doen eerder goed, dien die Here, en vra Hom om jou te onthou (Neh. 13:14, 31, Heb. 6:10).

[b] Keer terug na Hom toe (v.22)
Het jy jouself al ooit geflous deur warm aan te trek as jy ‘n miswolk in die oggend sien? Teen 10:00 vrek jy as die miswolk in die son se hitte verdamp. So het God Israel se sonde uitgewis: soos ‘n wolk of miswolk voor die son (v.22). Jesaja het God se verlossing en gewillige vergifnis as motivering vir die afvallige volk gebruik om hulle te bekeer (v.22).

Sal die Here jou terugneem en vergewe? Jesus het gesterf om jou sonde onder sy voete te vertrap, in die diepste see te gooi, en van jou af weg te vat so ver soos die ooste en die weste van mekaar verwyder is (Miga 7:19, Ps. 103:12). Die Here onthou ons, maar Hy onthou nie ons sonde teen ons nie (v.21-22, 43:25).

God het die inisiatief geneem om ons te vergewe. Hy het ons lief. Hy het sy lewe vir ons gegee. Hierdie dinge wys dat Hy meer as bereid is om jou te vergewe (v.22, Rom. 5:8). God sal jou vergewe as jy na Hom toe terugkeer (Luk. 24:47, 1Joh. 1:9). En tog baseer Hy nie sy vergifnis op jou bekering nie, maar op Jesus se kruisdood (v.22, Ef. 1:7, 1Joh. 1:7).

Geen god kan verlos en vergewe soos Hy nie (v.22, 17, 20). Jy hoef nie te vrees of skaam te voel om terug te keer nie. Kom vrymoedig en bely jou sonde, al is dit ook hoe groot. As God die moord op sy Seun kan vergewe, kan Hy enige sonde vergewe (Luk. 23:34, 1Tim. 1:15).

Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n afvallige man wat so vergewe is. Hy was ‘n toegewyde Christen, maar het met ‘n slegte vrou deurmekaar geraak. Hy het sy vrou gelos, die huis onder haar uitverkoop, en die geld gemors. Toe die geld op is, toe die los die slegte vrou hom.

Hy was baie depressief en het geglo dat selfmoord die enigste uitweg is. Hy het na Westminster brug toe geloop en besluit om in die Teemsrivier te spring. Toe hy by die brug kom toe slaan Big Ben 18:30. ‘Martyn Lloyd-Jones will now be just entering his pulpit for his evening service,’ het hy vir homself gesê. Hy het besluit om nog een keer na hom te luister voordat hy sy lewe beëindig.

Hy was binne 6 minute by Westminster Chapel. Toe hy by die kerk instap toe hoor hy hoe Lloyd-Jones hierdie woorde bid: ‘God have mercy upon the backslider.’ Die Here het die man onmiddellik herstel en vergewe. Hy het later ‘n ouderling in ‘n gemeente in Londen geword, en vir ‘n aantal jare getrou gedien. Daarna het hy in oorwinning gesterf en is hy hemel toe [Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers (Grand Rapids: Zondervan Publishing House, 1971), 302-303].

God is bekend vir sy genade aan afvalliges: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” (42:3).

[c] Sing tot Hom (v.23)
‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê dat dit ‘n probleem is as mense na die kerk toe kom maar nie sing nie. Volgens hom is dít erger as iemand wat ‘n minder belangrike leerstelling verkeerd glo. ‘Dit is ‘n geestelike probleem,’ het hy gesê.

Ek is geneig om saam met hom te stem. Die hele skepping (bome ook, vgl. v.13-14!) sing omdat God dit gedoen het: Hy het sy volk verlos (v.23, Ps. 22:32, 148:1-14, Joh. 19:30, Op. 5:9-14). En kan die verlostes dan stilbly en Hom nié prys nie (v.23, Ef. 1:6, 12, 14)?

Moet asb. nie prewel wanneer jy die Here prys nie. Moenie stilbly as ons sing nie. Vra ook die Here se hulp dat jy nie dagdroom as ons sing nie. Sing uit jou hart en met blydskap tot die Here (Ps. 95:1-2). Gebruik alles wat jy het om Hom te prys (Ps. 150).

Pasop ook vir ‘n verkeerde gesindheid wat sê: ‘Ek sing nie saam as dit Engels is nie… Ek sing nie as dit ‘n ou lied is nie… Ek sing nie as ons nuwe liede sing nie… ens.’ Sing asb. saam as die lied Bybels is en die wysie nie afbreek doen aan die woorde nie. God juig en sing oor jou (Sef. 3:17). En sal jy dit nie oor Hom doen nie (Sef. 3:14)?

2. Wat doen die Here vir jou? (v.24-28)

[a] Hy het jou en alles geskep (v.24)
Ek verpes ‘n sentimentele, mens-gesentreerde, oppervlakkige, Facebook Christenskap waarin die mens die belangrikste is. God het alles tot sý eer en vir sý plesier geskep (Ps. 19:2, Op. 4:11). En tog vergeet Hy ons nie, maar het Hy alles geskep sodat ons dit kan geniet. “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” (Ps. 115:16).

Hy het Israel in die moederskoot gevorm (v.24, kontra v.12-13). Hy het ook die hemel, die aarde en alles in die skepping gevorm (v.24, 42:5, 40:22). Hy het voor Gen. 1:1 bestaan en dus sonder die hulp van ‘n engel, afgod of mens geskep (v.24).

Soos die Here Israel geskep het (v.24), het Hy jou in die moederskoot gevorm (Ps. 139:13). Hy het jou vir Homself geskep, maar a.g.v. jou en my sonde leef ons vir onsself en nie tot sy eer nie (Rom. 3:23). As Hy wou kon Hy ons afskryf. Hy het egter ‘n plan gemaak om ons te red. Deur sy lewe en kruisdood het Hy die straf gevat wat ons verdien, en die rekord voorsien wat ons kort (2Kor. 5:21).

Hy wederbaar ons, stel ons instaat om te glo en ons te bekeer, verklaar ons onskuldig en regverdig, vergewe ons, neem ons aan, maak ons heilig, en kry die hemel vir ons gereed. Jy behoort dus twee keer aan die Here: deur skepping en verlossing. Kan jy dan nog vir jou sonde en jouself lewe?

Nog ‘n woord van toepassing: sal jy vir ‘n polieke party stem wat geen respek toon vir die lewe wat God in die moederskoot vorm nie, maar dit deur aborsie beëindig? Op grond van die Skrif wil ek jou aanmoedig om nie vir sulke partye te stem nie. “[Moenie] met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” (1Tim. 5:22).

[b] Hy verkleineer waarsêers (v.25)
Toe ek ‘n student was het ‘n charismaat geprofeteer dat ons gemeente binne twee jaar sou verdubbel. Twee jaar later het die kerk geskeur. God verneder sulke mense deurdat hulle voorspellings nie uitkom nie (v.25). Die Here wil wys dat Hy en nie hulle nie, die toekoms beheer (43:22-23). Hy wys dat hierdie sg. wyse manne se kennis niks is nie (v.25, 1Kor. 1:19-20).

Moet dan nie wysheid oor die toekoms by ‘n ongelowige berader, palmleser, jou sterretekens, ens. soek nie. Soek eerder wysheid in gebed en die Woord. Alle kennis en wysheid is immers verborge in God en sy Seun (8:19-20, Spr. 2:6, 1Kor. 1:24, 30, Kol. 2:3).

[c] Hy vervul sy Woord (v.26-28)
Die amptelike webblad van die Ahmadiyya Moslem gemeenskap glo dat die Koran akkuraat profesieë bevat. Maar wanneer jy dit lees is beide die profesieë en sg. vervullings vaag.

Die webtuiste haal bv. Sura 41:21 aan en sê dat dit vingerafdrukke voorspel: ‘Their skins will bear witness against them as to what they have been doing’. Hulle sê ook uit Sura 51:8 (eintlik 51:7) dat die Koran vliegtuie voorspel: ‘And by the heaven full of tracks’ [https://www.alislam.org/library/articles/fulfilled-prophecies-of-holy-quran/].

Die Bybel is nie vaag nie, maar voorspel en vervul dinge tot op die letter (v.26). Jesaja het bv. voorspel dat Israel ná die ballingskap weer in Jerusalem sou bly, asook dat die verwoeste stede van Juda herbou sal word (v.26).

Net soos wat God die Rooi See en Jordaan rivier opgedroog het toe Hy sy volk uit Egipte verlos en in die Beloofde Land inlei, sou Hy koning Kores van Persië stuur om Israel uit Babilon te bevry (v.27-28). God het Kores se naam en missie 150 jaar voor hy gebore is voorspel (v.28, vgl. 1Kon. 13:2)!

Kores was God se herder wat Israel uit Babilon bevry het, net soos wat Moses en Aäron die volk soos skape uit Egipte gelei het (v.28, Ps. 77:21). Volgens Jesaja sou Jerusalem en die tempelfondasie onder die bevel van Kores herbou word (v.28). Dit is 150 jaar na Jesaja in Esra en Nehemia se tyd vervul.

Sover ek kan sien is daar in hierdie verse drie lesse wat uitstaan:

  • Die Bybel is akkuraat en betroubaar (v.26, 28). God lieg nie, maar doen wat Hy belowe (Num. 23:19). Lees daarom jou Bybel sonder om te twyfel.
  • God beheer konings (v.28). “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spr. 21:1, vgl. Esra 1:1, 6:22, 7:27). Moenie vir Julius Malema vrees nie.
  • God beheer die geskiedenis om sy volk te bevoordeel, al lyk dit nie altyd so nie (v.28). Rom. 8:28 (‘Alles werk ten goede mee…’) geld nie net vir individuele gelowiges nie, maar vir die kerk in haar geheel.

Jesaja en die res van die Bybel fokus nie op wat jy vir die Here kan doen nie. Jy moet eers leer wat Hy vir jou gedoen het voordat jy daarop kan reageer. Dit is bv. wat Paulus in Romeine doen. Vir 11 hoofstukke wys hy wat God vir ons gedoen het. Eers in Rom. 12:1 sê hy hoe jy daarop moet reageer:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”

God se oplossing vir die wêreld se probleme

Suffering-Servant

My vrou moes my al terughou en vir my sê dat ek nie die wêreld se probleme kan oplos nie.  Sy is reg.  Maar die Messias kan.  As armoede die wêreld se grootste probleem was kon ons vir Jeff Bezos, Bill Gates en Mark Zuckerberg vra om dit op te los.  Maar daar is groter probleme as dit, en daarom het ons Jes. 42:1-17 se Messias nodig.  Wie is Hy?  Jesaja beskryf Hom as…

 

  1. Die begeerlike Messias (v.1a)

Wat maak jou die blyste en begeer jy die meeste?  Vir God is dit die Messias (v.1a, Spr. 8:30, Matt. 3:17, 17:5).  Soos die bruidegom in Hoogl. 5:10, 16 is Hy “uitnemender as tien duisend… geheel en al die lieflikheid self.”  Hy is die Messias van Ps. 45:3 wat veel skoner is as die mensekinders.

 

Sy lieflikheid word daarin gesien dat Hy ‘n nederige dienskneg is wat Hom vir 33 jaar aan die Vader onderwerp het en sy lewe vir ons gegee het (Fil. 2:6-8, Joh. 10:17-18).  Dit is ook hoekom die Vader Hom gekies het (v.1a).

 

In ons geval het Hy ons nie gekies omdat Hy iets in ons gesien het nie (Rom. 9:11, 1Kor. 1:26-29).  Maar in die Messias se geval het die Vader Hom gekies omdat Hy so begeerlik is (v.1a).  En sal ons nie begeer “om die lieflikheid van die HERE te aanskou” nie (Ps. 27:4)?

 

As jy Christus begeer sal jy jou wellus vir die wêreld oorkom en sal dit vir jou soos flou Ricoffy wees, nadat jy die ryk aroma van ‘n duursame filter koffie geniet het.  Om Christus te begeer moet jy in Hom glo en oor Hom nadink (2Kor. 4:6).  Peins bv. oor Jes. 33:17: “Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou”.

 

Dink daaraan dat Christus mooier is as ‘n diamant wat in die son glinster, as ‘n reënboog voor stormwolke, as ‘n sonsondergang in die berge, as gekleurde voëls, visse, skoenlappers en blomme.

 

  1. Die gesalfde Messias (v.1b)

‘n Pleonasme is as iemand bv. van ‘n ronde sirkel praat.  Dit is verkeerd om so te praat, omdat die woord sirkel ‘n ronde objek veronderstel.  ‘n Mens kry tog nie ‘n vierkantige sirkel nie.

 

‘Gesalfde Messias’ is ‘n pleonasme.  Messias beteken immers ‘gesalfde’.  Ek gebruik dit egter so om by die ritme van my hoofpunte in te pas.  Toe Jesus gedoop is het sy Vader die Heilige Gees op Hom gelê en Hom as die Messias of Christus gesalf (v.1b, 11:2, 61:1, Matt. 3:16, Heb. 1:9).

 

Die Gees het Hom vir sy taak as die gesalfde Priester, Profeet en Koning bekragtig (Hand. 10:38).  As Priester het Hy Homself vir ons geoffer, as Profeet het Hy God se wil aan ons bekend gemaak, en as Koning vertrap Hy ons vyande.

 

Kan Hy die wêreld se probleme oplos?  Kan Hy jou sonde vergewe en jou help om dit te oorkom?  Kan Hy jou met jou persoonlike probleme help?  Kan Hy jou gebede verhoor?  Kan Hy die Vader se wil aan jou openbaar m.b.t. die kwessie wat jou verwar?  Kan Hy die duiwel verdryf?

 

  1. Die regverdige Messias (v.1c)

Ons regering, land en wêreld is vol ongeregtigheid: korrupsie, diefstal, oneerlikheid, onderdrukking, moord.  Ons benodig ‘n Messias wat reg en geregtigheid vir die nasies sal bring (v.1c, 2:4).  As jy in sonde lewe soos die wêreld sal sy geregtigheid jou benadeel en sal jy hel toe gaan.  En vir Hom om so te doen is reg.

 

Maar as jy op Hom en sy kruisdood vir sondaars vertrou en jou bekeer, sal sy geregtigheid jou bevoordeel en sal jy vir ewig op die nuwe aarde lewe “waarin geregtigheid woon.” (2Pet. 3:13).  Wat kies jy?

 

  1. Die sagmoedige Messias (v.2-3a)

Mense sal enigiets gebruik om hulleself voorop te stel.  In die verkeer sal hulle op ander se sterte ry om hulle te domineer.  Op Facebook sal hulle hulleself adverteer en vir almal sê dat hulle hier is.

 

Die Messias is nie so nie.  Toe Hy op aarde was het Hy nie geskreeu om mense te domineer of hard uitgeroep om aandag te trek nie (v.2).  Hy het saggies gewerk om stukkende en gewonde sondaars te help, te vergewe en te herstel (v.3, Matt. 11:28-30, 12:18-21).

 

Dit is wat Hy met ons gedoen het.  En dan raak ons ongeduldig met ons lewensmaats, kinders en ander mense as hulle nie dadelik verander nie.  “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1Tess. 5:14, vgl. Kol. 3:12-13).

 

  1. Die getroue Messias (v.3c)

Het jy al belowe om iets te doen, êrens te wees, vir iemand te bid, of gesê jy sal terugkom na iemand toe, en dit dan nie gedoen nie?  Die Messias is nie so nie, maar is betroubaar.  In getrouheid aan die Vader, sy volk en sy verbond sal Hy sorg dat geregtigheid geskied en sal Hy die mense wat sy kinders seermaak soos ‘n kers uitdoof (v.3, 43:17).

 

Ek was al dikwels ontrou aan die Messias; Hy was nog nooit ontrou aan my nie.  Selfs toe ek ontrou was, was Hy daar om my te help en terug te bring na die Vader toe: “u trou is groot.” (Klaagl. 3:23).

 

  1. Die volhardende Messias (v.4)

Ek ken ‘n Christen wie se man haar gelos het.  Sy is kwaad vir die Here en het opgehou kerk toe gaan.  Gelukkig gee die Here nie op nie.  As ons soos ‘n geknakte riet en smeulende kerspit is (v.3), is die Messias nie so nie (v.4).  In sy poging om geregtigheid op die aarde te vestig raak Hy nie moeg of uitgeput nie (v.4).  Hy is immers nie net ‘n mens nie, maar God (40:28, 30).

 

Op die oomblik lyk dit nie of geregtigheid seëvier nie, maar die Messias “moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.” (1Kor. 15:25).  As sy Woord na die eilande of eindes van die aarde toe versprei en hulle leer om dit te doen, sal geregtigheid seëvier (v.4, 2:3, 11:9-11, 60:9, Matt. 28:19-20).  So het die Puriteine geglo: ‘the isles of the sea would one day be Christ’s!’[1]

 

Laat dit jou aanspoor om vir sending en herlewing te bid.  Dit is tog hoe Jesus ons geleer het: “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10).  Namate die Koninkryk deur die evangelie versprei sal mense God se wil op die aarde doen soos die engele dit in die hemel doen.  Geregtigheid sal m.a.w. seëvier (v.4).

 

  1. Die geroepe Messias (v.5-6b)

Baie teologiese kolleges het ‘n hoë uitval syfer.  Van die mans wat saam met my studeer het, het ‘n goeie 40 of 50% hulle studies gelos, nooit in die bediening ingegaan nie, of binne die eerste tien jaar uitgeval.

 

Die Messias het nie uitgeval nie, maar is geroep deur die God wat alles gemaak het, dit onderhou en aan ons lewe gee (v.5, Gen. 2:7, Hand. 17:25).  Hy is die Here wat die Messias vir hierdie taak geroep het (v.6a), en sou daarom sy hand vat en Hom bewaar (v.6b).

 

In Christus het Hy jou ook geroep, vat Hy jou hand en bewaar Hy jou (41:8, 13, Joh. 10:28-29, Rom. 8:29-30).  Hy beskerm jou teen gevare waarvan jy nie eers bewus is nie.  Dit sal Hy doen totdat jy veilig in die hemel is (2Tim. 4:18).

 

  1. Die reddende Messias (v.6c-7)

‘n Verbond is sterker as ‘n belofte.  Dit word met bloed verseël om te sê: ‘As Ek my Woord nie hou nie sal Ek sterf.’  God het die Messias as ‘n verbond aan sy volk gegee (49:8), maar ook aan die nasies (v.6, Matt. 1:21, Joh. 11:50-52).  Hy het sy bloed gestort om die verbond te verseël (Luk. 22:20).  In die verbond belowe Hy om sy uitverkorenes te red.  Hy sal suksesvol wees.

 

Hy is God se lig om die nasies deur die evangelie uit die duisternis van hulle geestelike blindheid en onkunde te bevry (v.6-7, 49:6, Luk. 2:32, Joh. 8:12, 9:39-41, Hand. 13:47, 26:18, Ef. 4:18).  Hy red mense wat geboei in die donker tronksel van hulle sonde en die dood sit (v.7, 61:1, Luk. 1:79, 4:18-19, Kol. 1:12-13).

 

Is jy nog in die bande van sonde?  Vra vir Christus om jou te red.  Hy is sterk genoeg om die tralies oop te buig, die boeie te breek en jou te bevry:  “Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek…Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.” (Ps. 107:14, 16).  “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36).

 

  1. Die heerlike Messias (v.8)

Toe my kinders klein was het hulle vir my gevra: ‘Wat is God se Naam?’  ‘EK IS wat EK IS’ het ek geantwoord.  Dit is hoe Hy Homself in Eks. 3:14-15 aan Moses geopenbaar het.  Sy Naam staan vir alles wat Hy is.

 

Hy deel nie sy lof en heerlike karakter of Naam met ander gode nie (v.8, 48:11).  Hy deel dit net met die Messias, omdat hulle een is (Joh. 5:23, 10:30, 17:1, 5, Heb. 1:3).

 

As ons dit net kan onthou en besef dat ons niks is nie, sal 95% van ons verhoudingsprobleme vanself regkom (Jak. 4:1-2).  “[Christus] moet meer word, maar ek minder.” (Joh. 3:30).  Ek het onlangs ‘n aanhaling gelees wat sê: ‘Nederigheid is nie om minder aan of van onsself te dink nie, maar om meer aan Christus en ander te dink.’

 

  1. Die beloofde Messias (v.9)

Palmlesers kan vir jou sê hoeveel broers en susters jy het, waar hulle bly, en wat hulle name is.  Hoe weet hulle dit?  Demone sê vir hulle.  Dit is nie indrukwekkend nie.

 

God is indrukwekkend.  Die dinge wat Hy oor koning Kores voorspel het, het gebeur (v.9).  Die dinge wat Hy oor die Messias voorspel het, het ook gebeur (v.9).  Sy akkurate voorspellings wys dat Hy die ware God is (v.9, 41:22-24, Joh. 13:19).

 

Daar is nog profesieë wat vervul moet word.  Die feit dat die wederkoms bv. lank vat beteken nie dit gaan nie gebeur nie.  God het die Messias se eerste koms 4000 vroeër belowe (Gen. 3:15).  Dit het lank gevat, maar is vervul (v.9).  Ons wag nou al 2000 jaar vir Jesus se wederkoms.  Ek weet nie hoe lank dit nog gaan vat nie, maar die Here sal dit vervul.

 

  1. Die lofwaardige Messias (v.10-12)

Die appel val nie ver van die boom af nie: dit beteken dat Jannie baie na sy pa aard of lyk.  In die Messias se geval is Hy presies soos die Vader (Joh. 14:9).  Wie dus die Vader prys, prys ook die Seun (Op. 5:11-14).

 

Ons moet Hom vir sy skepping prys (v.5).  Maar ons moet Hom ook met ‘n nuwe lied vir sy nuwe skepping of verlossing prys (v.9-10, 2Kor. 5:17, Op. 5:9).  Hy het die eindes van die aarde verlos: die mense teen die kus, op die eilande, in die woestyn (v.10-12, 4).

 

Hy het mense in die dorpies van Kedar verlos (v.11).  Kedar is Ismael se tweede oudste seun uit wie die Arabiere afstam (Gen. 25:13).  Ja, baie Moslems sal tot bekering kom (v.11, 60:7)!

 

Sela, ‘n rotsgebied in Edom (16:1) sal die Here prys en sy lof van ‘n berg af roep sodat almal dit kan hoor (v.11, 40:9).  Oral sal mense Hom verheerlik en sy lof besing (v.10-12): “Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!” (Ps. 113:3, vgl. Mal. 1:11).

 

Jes. 42:10-12 is reeds besig om vervul te word.  Daar is Christene in Siberië, Nieu-Seeland, Indonesië, Indië, Madagaskar, Israel, Turkye, Namibië, Noorweë, Nigerië, Spanje, Ierland, Ysland, Amerika, Peru, en so te sê elke land op aarde.

 

“laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps. 72:19).  “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Hab. 2:14).  Moenie net vir jou en jou geliefdes bid nie.  Bid dat hele nasies (ook ons s’n!) die Messias sal prys (v.10-12).

 

  1. Die verwoestende Messias (v.13-15)

‘n Leeu wyfie kan haar kleintjies saggies in haar bek dra.  Maar sy kan ook jou nek breek.  Net so praat en werk die Messias saggies met die geknakte riet (v.2-3), maar skreeu en storm Hy soos ‘n sterk en dapper krygsman teen sy vyande (v.13, 59:17, Eks. 15:3, Jos. 5:13-15, Ps. 2:2, 9, 45:3-5, 78:65, 110:1-2, 5-6, Op. 19:11-16).

 

Hy het hulle vir duisende jare kans gegee om hulle te bekeer (v.14, Eks. 34:6, Hand. 14:16, 17:30, Rom. 3:25).  En moet Hy ‘n blinde oog gooi as hulle ná die Messias se koms nog met hulle sonde aanhou?  Nee.  Hy sal soos ‘n swanger vrou teen hulle hyg en uitroep (v.14).  Hy sal hulle soos berge platvee en soos water in die woestyn opdroog (v.15, 41:15, 40:4, 2:14, 17).

 

En “ hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Heb. 2:3)?  “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:29).

 

Sal jy wegkom as jy die evangelie geken en nogtans met jou sonde aangehou het?  Verseker nie.  Die Messias sal jou nek breek en jou verwoes.  ‘n Puritein het gesê: ‘sinners bring judgment in thinking sins are small, or that God is not angry with them.’[2]  Bekeer jou, sodat die Messias jou kan vergewe en saggies met jou kan werk (v.4).

 

  1. Die leidende Messias (v.16)

Ly met ‘n lang ‘y’ beteken om swaar te kry.  Lei met ‘n ‘e-i’ beteken om voor te loop en die pad aan te dui.  Jesaja verwys hier na lei met ‘n ‘e-i’.

 

Soos iemand wat ‘n blinde aan die arm lei, skyn die Messias sy lig, laat Hy dié wat geestelik blind is sien, en lei Hy hulle op die nuwe weg van verlossing (v.16, 6-7, 35:5, 8).  Hy maak die ongelyke paaie gelyk (v.16, 40:4).

 

Maar selfs nadat die Messias hierdie dinge gedoen het verlaat Hy ons nie, en lei Hy ons nog steeds (v.16).  Hy is ons Messias en Herder, en nie ‘n hulpelose afgod nie (v.16).  As jy Hom vra sal Hy jou na ‘n plek van blydskap, vrede, ‘n stil gewete, genade, liefde, aanvaarding en vervulling toe lei.

 

As jy soek wat die Messias jou kan gee sal jy dit nie kry nie.  Maar as jy Hóm soek sal jy sy geskenke en veel meer kry, want as jy Jesus het het jy alles (Luk. 11:9-13, Ef. 1:3, 3:20).

 

  1. Die betroubare Messias (v.17)

Ek het al by tye nie my tuin natgemaak nie, omdat dit gelyk het of dit gaan reën.  Die weervoorspelling het selfs gesê dit gaan reën, maar dan gebeur dit nie.  Net so sal dié wat op yster beelde vertrou en sê dat hulle gode is, beskaamd staan (v.17).

 

Afgode kan jou nie help nie.  Net die Messias kan, omdat net Hý 100% betroubaar is (Spr. 20:6).  Dit is dus onchristelik om jou volle vertroue op iets of iemand anders te stel, hetsy die ds., dokter, berader, medisyne, geld, ‘n familielid, vriend, kollega, die party vir wie jy stem, Amerika, jou intellek, opleiding, krag, ervaring, ‘n boek, of wat ook al.

 

Net die Messias is waardig van jou volle toewyding en vertroue.  Gee dit vir Hom en glo dat Hy nie net jou persoonlike probleme kan oplos nie, maar die wêreld s’n.  Hy kan dit nie speel-speel oplos soos Superman of ‘n verliefde man wat belowe om berge vir sy meisie te versit nie; Hy kan dit regtig doen.

 

[1] Iain Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1971), 180

[2] Arthur Bennett, The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1975), 69

‘n Man na God se hart

Man after God's own heart

Toe ek op hoërskool was moes jy rugby speel en ‘n meisie hê om ‘n man te wees.  As jy in die koor gesing het of tik geneem het, was jy ‘n sissie (die koor gedeelte het verander toe ek in gr. 10 kom).  As jy ‘n student op universiteit is moet jy immoreel wees en drink om ‘n man te wees.  As jy in die sekulêre sektor werk is die kar wat jy ry, op watse landgoed [Eng. estate] jy bly, hoeveel jy drink en of jy ‘n vakansie huis het, deel van wat dit beteken om ‘n man te wees.

 

Volgens die Bybel gaan manlikheid oor iemand se karakter, en nie oor hoe sterk, sportief, aantreklik, onemosioneel of macho jy is nie.  Dawid is ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om ‘n man te wees.  Volgens 1Sam. 13:14 en Hand. 13:22 was hy ‘n man na God se hart.  Sy naam kom meer as 1100 keer in die Bybel voor (meer as Moses en Abraham s’n saam).  Volgens Rom. 15:4 en 1Kor. 10:11 is dit opgeteken dat ons daaruit kan leer.

 

Wat is positiewe en negatiewe karaktertrekke uit Dawid se lewe, en wat moet ons daaruit leer?

 

Wees toegewyd

Het jy al die plakker gesien wat sê:  ‘Real men follow Jesus’?  Dis waar.  Dawid, die man na God se hart, het die Here gevolg en ‘n in noue verhouding met Hom geleef.  Sy toewyding het soos volg gelyk:

 

[1] Hy het in God geglo; hy is een van die Bybel se geloofshelde (Heb. 11:32).  Sy geloof was nie bloot ‘n intellektuele belydenis van God se bestaan nie, maar ‘n persoonlike verhouding met Hom.  Om in die volle sin van die woord man te wees, moet jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus hê.  Hy is immers die volmaakte Man na wie se beeld ons gevorm moet word (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18).  Hoe meet jy op?  Staan jy in ‘n lewende en persoonlike verhouding met Hom; is jy ‘n regte man?

 

[2] Hy was ‘n man van gebed.  Volgens Ps. 5:3-4 het hy elke oggend met die Here gepraat.  In tye van beproewing het hy drie keer per dag gebid (Ps. 55:18).  Die meeste van sy Psalms is gebede en sê vir ons hoe sy gebede geklink het.

 

  • Hy was dors vir God en het sy gedagtes met Hom gevul, totdat hy nie anders kon as om Hom te prys nie (Ps. 63:2-7). Lofprysing was deel van sy lewe (bv. Ps. 139, 145).  Uit 150 Psalms het hy 75 geskryf (vgl. die Psalms se opskrifte, Hand. 4:25 en Heb. 4:7).
  • Sonde belydenis was deel van sy gebede. Hy het egbreuk en moord gepleeg (2Sam. 11), en in sy militêre sukses geroem (2Sam. 24).  Maar hy het ook berou gehad, hom bekeer, die Here om vergifnis gesmeek, en die pynlike gevolge van sy sonde gedra (2Sam. 12, 24, Ps. 32, 38, 51).
  • Hy het die Here in sy gebede gedank (2Sam. 22, Ps. 23, 103). Hy was nie soos baie Suid-Afrikaners wat vir reën bid, maar nalaat om dankie te sê wanneer die Here hulle gebede beantwoord nie.
  • Hy het sy behoeftes voor die Here gebring en erken dat hy Hom nodig het (Ps. 141, 143). Hy was nie soos die wêreld wat dink dat dit ‘n teken van swakheid is om te erken jy het hulp nodig nie.  Voordat Dawid ‘n skuif gemaak het, het hy God se hulp gevra (1Sam. 23:2-4, 9-12, 30:7-8, 2Sam. 2:1, 5:19, 23-25).

 

Dawid was soos Jesus, Paulus en Martin Holdt wat baie gebid het.  Hy was nie soos baie mans wat sê dat hulle Christene is, maar nie eers 2 minute per dag bid nie.  Ek wil jou uitdaag om ‘n regte man te wees en meer te bid.  Vra die Here om jou met selfdissipline te help.  Jare gelede het iemand my met konstantheid gehelp.  ‘Selfs as jy verslaap het is dit beter om vir ‘n kort rukkie te bid as wat jy glad nie bid nie,’ is wat hy gesê het.  ‘En as jy konstantheid geleer het, kan jy aan die tyd werk.’

 

Bid soos Dawid.  Begin met lofprysing:  prys die Here vir wie Hy is.  Bely ook jou sonde.  Moenie dat dit soos vuil skottelgoed ophoop nie, maar bely dit elke dag (Matt. 6:12).  Sê dankie dat die Here jou gered het, asook vir wat Hy in jou lewe doen (sy daaglikse sorg, beskerming, genade, ens.).  Lê ook jou en ander mense se behoeftes aan sy voete neer.  Erken dat jy Hom nodig het, en dat jy nie sonder Hom kan lewe nie (Joh. 15:5, Hand. 17:25).

 

[3] Hy het die Woord liefgehad.  Ps. 19:8-15 wys dat dit sy lewe was.  Hy het dit nie net geken nie, maar gedoen (1 Kon. 3:14, Hand. 13:22).  Met sy hele hart was hy getrou, regverdig, opreg, en ‘n man van integriteit  (2Sam. 8:15, 1Kon. 3:6).  Sý lewe was die standaard waarvolgens God ander konings se gehoorsaamheid gemeet het (1Kon. 9:4, 11:4, 6, 34, 14:8, 15:3, 5, 11, 2Kon. 14:3, 16:2, 18:3, 22:2, 2Kron. 17:3).

 

Om soos Dawid te lewe moet jy daarna streef om die Skrif beter te ken en te doen.  Wees uiterlik netjies, maar werk ook daaraan om innerlik ‘n man van karakter te wees.  God kyk immers meer na die hart as na jou uiterlike voorkoms (1Sam. 16:7, 12, 18).  Koop vir jou ‘n ESV Study Bible, kry ‘n Bybellees program op die internet, en laai tonne van Stuart Olyott, John Piper, John MacArthur, R.C. Sproul, Voddie Baucham, D.A. Carson, Conrad Mbewe se preke af.  Maak ook seker dat jy goeie boeke lees:  Martyn-Lloyd Jones, Charles Spurgeon, Iain Murray, Randy Alcorn, Jerry Bridges, Paul Tripp en meer.

 

[4] Hy het God se huis en sy mense liefgehad.  Hy wou in die tempel wees om die Here saam met ander gelowiges te prys (Ps. 16:3, 23:6, 26:8, 27:4, 122:1).  A.g.v. sy groot liefde vir God se huis, het hy mildelik daartoe bygedra (1Kron. 22:14, 29:2, 4).

 

Is jy soos Dawid?  Is Christus en sy gemeente jou lewe?  Is jy gereeld by die gemeentelike samekomste, omdat jy die Here saam met jou broers en susters wil aanbid (Heb. 10:24-25)?  Gee jy vir God se werk en vir die uitbreiding van sy Koninkryk in Tembisa, Peru, Zimbabwe en op ander plekke?

 

Wees dapper

Wat is die verbod wat die meeste in die Bybel voorkom?  Moenie bang wees nie.  Wees dapper.  Om dapper te wees beteken nie dat daar geen vrese in jou lewe is nie, maar dat jy hulle oorkom.  Jy is nie so dom dat jy die gevaar uitsoek nie, maar wanneer dit oor jou pad kom vertrou jy die Here om jou te help.  Dit is wat dapperheid beteken.

 

Dawid was so:  “…’n dapper held en ‘n krysman… en die Here is met hom.” (1Sam. 16:18).  Toe almal Goliat gevrees het, het Dawid sy slingervel gevat en die gewapende reus doodgemaak (1Sam. 17:48-51).  Hy was dapper, omdat hy geweet het die Here is met hom (1Sam. 18:14, 28, 2Sam. 5:10, 8:6, 14).

 

As jy gered is en jou sonde vergewe is, is die Here met jou (Matt. 1:23, 28:20, Heb. 13:5).  Dus hoef jy nie bang te wees nie.  Met God se krag en die vlymskerp swaard van sy Woord, kan jy die sterkste vyande in jou lewe doodmaak:  onsekerheid oor jou en jou gesin se toekoms, vrees vir die dood, Satan se versoekings om onrein te wees, ongedissiplineerde gedagtes, sondige gewoontes soos dronkenskap en pornografie, ‘n los tong, finansiële stres, passiewe geestelike leierskap in jou huis, vrees vir verwerping, ens.

 

Dalk het die duiwel, jou eie sonde en jou omstandighede jou teen die grond geslaan.  Moenie bly lê, of in ‘n hoek sit en jouself bejammer nie.  Staan op.  Vra die Here om jou te help.  Tel jou swaard op en stry die goeie stryd.

 

  • “die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen. 4:7).
  • “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” (Rom. 12:11).
  • “Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” (1Kor. 9:26-27).
  • “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied.” (1Kor. 16:13-14).
  • “oefen jou in die godsaligheid” (1Tim. 4:7).
  • “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe…” (1Tim. 6:11-12).
  • “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:7).
  • “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2Tim. 4:7).
  • “onthou [julle] van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1Pet. 2:11).

 

Moenie soos ‘n bangbroek van jou moeilike omstandighede af wegvlug, of vir beter dae wag nie.  Wees ‘n man.  Staan op.  Ruk jouself reg.  Skud die stof van jou klere af.  Moenie bang wees vir ‘n bietjie seerkry nie.  As mans deur die geskiedenis vir hulle vryheid geveg het, kan jy sekerlik jou swaard optel en vir jou Koning, sy eer en sy Koninkryk veg.  As jy dapper is sal jy ander beïnvloed om in jou voetspore te volg (2Sam. 21:22, 23:8-39).

 

Wees sagmoedig

Dit is maklik om ander mense te beheer, maar moeilik om jouself te beheer.  ‘n Sagmoedige man is iemand wat geleer het om homself te beheer.  Sy sagmoedigheid is nie ‘n teken van swakheid nie, maar van sterkte.  Hy is soos ‘n olifant wat dik stompe met sy slurp kan optel, maar dit gebruik om ‘n fyn blaartjie te pluk; hy is soos ‘n gimnas wat sy krag beheer om stadig in ‘n Maltese kruis in te sak.

 

Jesus en Moses was so (Matt. 11:29, 12:20, 2Kor. 10:1, Num. 12:3).  Dawid ook.  Toe Simeï hom vloek en Saul hom vervolg, het hy hulle nie teruggekry nie.  Hy het dit in die Here se hande gelos om wraak te neem (1Sam. 24, 26, 2Sam. 16, Rom. 12:19).[1]

 

Ons moet so wees.  Wees sagmoedig met jou vrou en kinders (1Pet. 3:7, Ef. 5:25, 29, Kol. 3:19).  Moenie so streng wees dat jou vrou bang is om haar opinie te gee, of jou kinders vrees jy sal uitvind hulle het ‘n toets gedruip nie.  Dalk is jy té streng en moet jy leer om meer sagmoedig te wees.  As jou vrou of kinders gesondig het, moet jy hulle nie verkleineer nie maar met ‘n sagmoedige gesindheid reghelp, en onthou dat jy self ook God se genade nodig het (Gal. 6:1-2).

 

Wees nederig

In een van my vrou se beradingklasse het die dosent gesê:  ‘Mans, niks is belangriker in jou huwelik as nederigheid nie.’  Ons sien dit miskien nie in Dawid se huwelik nie, maar in sy lewe is dit duidelik sigbaar.  In 1Sam. 25:32, 34-35 het hy bv. ‘n vrou se raad gevolg en nie gedink hy weet alles nie.  Sommige mans dink dat dit benede hulle is om so iets te doen.  Maar die man wat homself verneder om sy vrou se insette te vra, is beter af as die man wat dink dat hy haar nie nodig het nie (Gen. 2:18).

 

Dawid was ook nederig genoeg om sy vyande lief te hê en te vergewe.  Hy het vir Simeï vergewe (2Sam. 16, 19).  Hy het getreur toe Saul en Absalom – sy vyande – dood is (2Sam. 1, 18).  Beide Abner en Isboset was aan Saul se kant.  Maar toe hulle dood is, was Dawid hartseer en het hy hulle moordenaars bestraf (2Sam. 3-4).

 

Sal Dawid sy vyande liefhê en vergewe, en kan jy nie eers met jou vrou oor die weg kom nie?  Dit wys iets van die hoogmoed wat daar nog in jou hart is.  Jy dink te veel van jouself.  As jy nederig was sou dit jou nie so gepla het dat mense nie volgens jóú pype dans nie.  Maar nou raak jy kwaad en baklei jy, omdat jy vir jouself te belangrik is (Jak. 4:1-2).  Jy kan dit nie glo dat jou vrou so arrogant is om jóú wil te kruis nie.  ‘Hoekom wil sy altyd dinge op háár manier gedoen hê?’ wonder jy.  Jy kom nie eers agter dat jy kwaad is, omdat sy nie dinge op jóú manier wil doen nie.

 

Dit sal help as jy jouself weer aan God se heiligheid meet, sodat jy kan sien jy is glad nie so belangrik soos wat jy dink nie.  ‘n Nederige man sal nie dink dat hy te goed is om ‘n ‘vrou se werk’ te doen nie.  Hy sal sy vrou help en die kind se doek ruil, skottelgoed was, die huis opruim, die kinders oppas, ‘n siek kind dokter, kruideniers koop, ens.  Om ‘n leier te wees moet jy nederig wees en soos Jesus dien (Matt. 20:25-28).

 

Iemand wat regtig nederig is sal dit nie agterkom nie, maar erken dat hy baie hoogmoedig is.  Omdat hy dit besef, sal hy soos Dawid wees toe hy in sy militêre sukses geroem het:  hy het hom bekeer en vir die Here gevra om hom te vergewe (2Sam. 24).

 

Wees rein

Toe ek laas week vir die vroue gepreek het, het ek my vrou iets oor die onderwerp gevra.  ‘Kyk op Cosmopolitan se webblad,’ het sy gesê.  ‘As jy die teenoorgestelde sê sal jy reg wees.’

 

Wanneer dit by seksuele reinheid kom is dit ook so.  Om te weet wat jy moet doen, moet jy 2Sam. 11 lees (Dawid se egbreuk met Batseba) en die teenoorgestelde doen.  Eintlik het Dawid se sonde nie hier begin nie.  Die Here het al in Deut. 17:17 gesê dat die koning nie baie vroue moet hê nie, maar Dawid was ongehoorsaam (2Sam. 3:2-5, 5:13-16).  Sy huwelike met al hierdie vroue het ook gemaak dat hy nie eintlik ‘n verhouding met sy kinders gehad het nie (bv. Amnon en Absalom).

 

Al was hy dan ‘n man na God se hart, is sy gesinslewe nie juis die beste voorbeeld om na te volg nie.  Sy sonde met Batseba moet veral vir ons ‘n waarskuwing wees.  Manne, ek weet dat dit partykeer ‘n stryd is om jou begeertes in toom te hou.  Maar jy is nie hulpeloos nie.  As jy volgende stappe toepas, kán jy rein wees.

 

[1] Glo dat Jesus se kruisdood en opstanding genoeg is om jou sonde te oorkom (1Kor. 6:11, 9-10, Tit. 2:11-12).  Moet dit nie net weet nie, maar glo in Hom.

 

[2] Aanvaar persoonlike verantwoordelikheid.  Moenie sê dat pornografie ‘n siekte in jou brein is nie.  As jy saam met jou meisie slaap, is dit nie omdat jy uit ‘n gebroke huisgesin kom nie.  Jy kan nie jou egbreuk of emosionele gehegtheid aan jou sekretaresse op jou vrou blameer nie.  Ek sê nie dat jou vrou onskuldig is nie, maar moenie soos Adam die skuld van jouself wil afskuif en dink jy gaan daarmee wegkom nie (Gen. 3:12).  Erken eerder saam met Dawid dat dit jou eie skuld is, en dat jy teen die Here gesondig het (Ps. 32, 51).  Totdat jy dít nie doen nie, kan jy nie vergewe word nie (1Joh. 1:9).

 

[3] Bid baie vir die Heilige Gees se hulp (Luk. 11:13, Rom. 8:13).

 

[4] Memoriseer gepaste Bybelverse en gebruik dit wanneer jy versoek word (Ps. 119:11, Ef. 6:17).  As jy jou gedagtes met goeie dinge vul, sal dit die vuil dinge uitsuiwer (Rom. 12:2, Fil. 4:8).

 

[5] Vra jou vrou en ‘n betroubare Christen-vriend om vir jou te bid en jou aanspreeklik te hou.

 

[6] Onthou dat jy saam met Christus begrawe is, en dat jy as ‘n nuwe mens saam met Hom opgewek is – jy hóéf nie te sondig nie (Rom. 6:3-4, 11-14, 2Kor. 5:17).

 

[7] Herinner jouself aan die erns van sonde en aan die rykdom van God se vergifnis as jy die nagmaal gebruik.

 

[8] Maak ‘n skoon breek in sondige verhoudings (Spr. 5:8).  Raak ontslae van jou TV, die internet, jou selfoon, ens. as dit jou versoek om onrein te wees (Matt. 5:28-29, Rom. 13:14).

 

[9] Onthou dat mense wat in seksuele sonde volhard, hel toe gaan (1Kor. 6:9-10, Op. 21:8).

 

[10] Moenie ledig wees nie – dit is hoe Dawid geval het (2Sam. 11:1-2).

 

[11] Neem Num. 32:23 en Luk. 12:2 ernstig op:  “…weet dan dat julle sonde julle sal uitvind … En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.”

 

[12] Trou as jy enkel is.  Dit sal nie al jou probleme oplos nie, maar dit is ‘n oplossing (1Kor. 7:2, 9, 1 Tess. 4:4).

 

[13] Werk hard aan jou huwelik.  Jou vrou is soos ‘n plant wat tyd en aandag nodig het.  As jy haar afskeep moet jy nie verbaas wees dat jou huwelik soos ‘n verlepte plant lyk nie.  “In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.” (Spr. 14:23).

 

Moet dan nie net dat jou vrou nr. 1 in jou lewe is nie; wys dit.  Hou op om jou kinders, vriende, familie, kerk, werk, en stokperdjies bo haar te stel.  Maak tyd om met haar te gesels en nie net om saam met haar te slaap nie.

 

[14] Moet jouself nie seksueel uithonger nie, maar geniet jou vrou as jy getroud is (1Kor. 7:3-5).

 

[15] Wellus is die saad waaruit die onkruid van egbreuk en pornografie groei (Matt. 5:27-28, Jak. 1:14-15).  Roei die saad uit en moenie net bossies uittrek nie.

 

[16] Lees The Purity Principle van Randy Alcorn.

 

[17] Vroue, help asb. julle broers in die Here.  Moenie so aantrek dat jy hulle versoek nie (Matt. 18:7, 1Tim. 2:9).

 

Ek glo jy het agtergekom dat Dawid ‘n goeie voorbeeld is, maar dat hy nie die perfekte voorbeeld is nie.  Hy is immers nie die Messias nie, maar ‘n sterflike mens soos ons (Hand. 2:29).  Die 15 helde wie se potlood sketse in my studeerkamer hang is ook nie volmaak nie.

 

Daar is net een volmaakte Verlosser en voorbeeld:  die seun van Dawid, Jesus Christus.  Behoort jy aan Hom?  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1Joh. 2:6).  Uiteindelik is Jesus, nie Dawid nie, die Man na God se hart:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  Luister na Hom!” (Matt. 17:5).

[1] Dawid het een keer besluit om wraak te neem.  Nadat hy goed was vir Nabal, het die dwaas hom kwaad aangedoen:  stank vir dank (1Sam. 25).  Dawid het besluit om hom dood te maak, maar terwyl hy oppad was het die Here Nabal se vrou na hom toe gestuur.  Sy het hom afgeraai en gesê dat die Here met Nabal sal afreken.  Dawid was dankbaar Abigail hom gekeer het.  Hy het haar raad gevolg en nié wraak geneem nie.  Tien dae later het die Here vir Nabal doodgemaak.

Hoekom sing Christene?

Singing 2

Wanneer party mense dronk is, sing hulle.  Die Engelse hou daarvan om te sing wanneer hulle by ‘n sokker wedstryd is.  In Zambië en in Wallis is sang deel van die kultuur.  Party mense sing omdat hulle van musiek hou.  Maar wanneer dit by die kerk kom, is dit anders.  Dit is nie die drank, kultuur, sport, of liefde vir musiek wat maak dat ons sing nie; daar is iets anders.  In Ps.100 sê die psalmis vir ons wat dit is.

 

Die Here is God (v.1-3)

Iemand het eenkeer vir my gesê dat die ‘joyful noise’ waarvan die Psalms praat, Christelike ‘heavy metal’ regverdig.  Maar het die psalmis regtig hieraan gedink toe hy dit geskryf het?  Het hy gedink aan mense met lang hare wat hulle koppe skud, aan iemand wat van ‘n verhoog af duik sodat ander hom kan vang, aan mense wat skreeu totdat hulle stemme seer raak, aan iemand wat sy instrument stukkend slaan, aan ‘n geraas wat nie soos musiek klink nie, maar soos mense wat in die myn werk?  Ek twyfel.  Waaroor gaan die ‘joyful noise’ in Ps.100 dan?

 

Hierdie Psalm is tydens die lof- of dankoffer gesing (v.1, 50:14, 116:17, Lv.22:29).  Die punt is nie dat ons die Here net by spesiale geleenthede moet dank nie.  Ons moet gedurig ‘n offer van lofprysing en danksegging vir die Here bring (50:23, Jon.2:9, Heb.13:15).  Dit beteken dat sang nie tot die erediens of die kampvuur beperk is nie.  Sing in jou stiltetyd.  Sing in jou hart en gedagtes, al is daar nie ‘n geluid in jou keel nie.  Sing saam met jou gesin as julle huisgodsdiens hou.  Sing saam met jou kinders of kleinkinders wanneer jy hulle in die bed sit.  Sit vir jou goeie Christelike musiek aan wanneer jy in die kar ry.  Om die Here só te prys is partykeer ‘n goeie teenvoeter vir depressie (Jes.61:3).

 

In v.1 sê die psalmis dat die hele aarde voor die Here moet juig.  Die ESV se ‘joyful noise’ het niks te doen met mense wat hard sing, maar nie nootvas is nie.  Volgens Ps.95:2-3 gaan dit oor mense wat met ‘n harde gejuig hulle Koning prys:  “Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig [‘joyful noise’]!  Want die HERE is ‘n grote God, ja, ‘n groot Koning bo al die gode.”

 

Prakties beteken dit dat ons nie moet mompel wanneer ons saamkom om die Here te prys nie.  Ons moet ons stemme verhef en uit volle bors sing.  Selfs al is jy nie musikaal nie, kan jy met groot volume vir die Here sing.  Vir God maak dit nie saak of jy goed kan sing of nie.  Hy wil hê jy moet in sy Seun glo, opreg wees, en Hom prys (v.1).  Om só te sing is belangriker as wat jy musikaal briljant is, maar jou hart is nie by Hom nie:  “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” (Mt.15:8).

 

Volgens v.1 moet al die nasies van die aarde só voor die Here juig en Hom prys (v.1, 66:1, 86:9, 113:3).  Ons moet Hom met blydskap dien en met lofgesange in sy teenwoordigheid inkom (v.2).  Ons doen dit nie asof Hy ons nodig het nie, maar ons voel bevoorreg dat Hy óns gekies het om voor Hom te staan en Hom te dien (Lk.17:10, Hd.17:25).

 

Ons dien ook met blydskap omdat God nie ‘n harde Meester is nie, maar ‘n goeie Een.  Hóé ons Hom dien moet dit reflekteer, hetsy deur lofliede of Christelike diensbaarheid (Heb.13:17, 1 Pt.5:2, kontr. Lk.10:40).  ‘Our happy God should be worshipped by a happy people’ (Charles Spurgeon).[1]

 

Om die Here reg te prys moet jy Hom ken (v.3).  Jy moet glo dat Hy alleen God is, en dat daar buiten Hom geen ander is nie (v.3, Dt.6:4, Jes.44:6, 1 Kor.8:4-6).  Hierdie kennis moenie net in jou kop wees nie (Jk.2:19), maar in jou hart.  Vir dit om te gebeur, moet jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus hê.  Jy moet glo dat Hy die ware God is wat mens geword het, dat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars, en dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood (Jh.17:3, 1 Kor.15:3-4).

 

As jy Hom só ken, moet jy die Bybel lees, oordink en gehoorsaam om Hom beter te ken (v.3, 2 Pt.1:3, 3:18).  Lofprysing is soos ‘n trampolien:  hoe dieper jy in die mat insak, hoe hoër trek jy in die lug op; hoe dieper jy God se Persoon, karakter, Woord en werke ken (v.3), hoe hoër sal jou lofprysing wees (v.1-2).

 

‘Hoekom moet ek die Here so prys?’ wil Arrie ateïs weet.  As Arrie die produk van evolusie was, kon hy die ‘Bing Bang’ geprys het.  Maar hy is nie.  Die Here het hom gemaak, en daarom moet hy Hóm prys (v.3).  Arrie se lewe behoort nie aan homself nie.  Hy kan nie sê:  ‘God kan nie in die Bybel vir my voorskryf hoe ek moet lewe nie.’

 

En as Arrie hierdie lofprysing aan die Here verskuldig is, hoeveel te meer geld dit nie vir ons nie?  God het ons geskep en verlos; Hy het ons sy kinders gemaak (v.3, Jes.43:1, Ef.2:10).  Daarom moet ons Hom dien, en mag ons nie slawe van mense se opinies, ander gode, kos, drank, geld, tabak, ons liggame, of enigiets anders wees nie.  Om vir onsself te lewe is nie ‘n opsie nie; ons behoort aan die Here (v.3, 1 Kor.6:19-20).

 

Deur die Here se getroue sorg en beskerming, wys Hy dat ons syne is (v.3).  Ons is soveel sy volk, soos wat Israel dit in die Ou Testament was (v.3, Tit.2:14, 1 Pt.2:9).  Soos ‘n Herder het Hy sy volk deur die woestyn gelei, en vandag nog is Hy die Herder wat geestelik en liggaamlik na ons omsien (v.3, 23:1-2, 77:21, 80:2, 95:7, Jh.10).

 

Glo jy dat Hy die enigste God is, en dat Hy jou gemaak het?  Glo jy dat Hy jou gered het, en dat jou verlossing geheel en al van Hom af kom?  Is Hy die Herder wat in jou behoeftes voorsien, wat jou troos as jy hartseer is, wat jou bemoedig en jou met die groen gras van die Woord voed, wat jou terugbring wanneer jy wegdwaal, wat jou optel wanneer jy moeg en uitgeput is, wat jou beskerm sodat die duiwel se brandende pyle jou nie kan doodmaak nie?  En sal jy Hom nie met lofgesange en met jou hele lewe prys nie (Ef.5:19, Rm.12:1)?

 

Die Here is goed (v.4-5)

Ek is nie ‘n aanhanger van ‘Disney Musicals’ nie.  Dit iriteer my as die karakter nie op sy fiets kan ry, geld kan trek, of ‘n vlieër kan vlieg sonder om te sing nie.  En tog irriteer dit my glad nie dat die Christelike lewe vol van musiek is nie.  Ek dink eerder dat dit abnormaal is om nié die Here met lofgesange te prys nie.

 

God se volk moes met danksegging deur sy poorte in die tempelhof ingegaan het (v.4).  Hulle moes bly gewees het vir nóg ‘n geleentheid om die Here te prys:  “Ek was bly toe hulle vir my gesê het:  Laat ons na die huis van die HERE gaan!” (122:1).

 

Óns vreugde moet  húlle s’n oortref, omdat ons nie net in die tempelhof ingaan nie.  Wanneer jy die Here prys en tot Hom bid, staan jy letterlik voor die Koning in sy troonkamer (Heb.4:16, 10:19-22).  Vir iemand wat elke dag in die tuig van hierdie wêreld moet lewe, en die golwe van beproewing in die gesig moet staar, is daar nie ‘n beter wegbreek plek as dit nie.  Doen daarom wat Jesus in Lk.5:16 gedoen het:  “Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.”

 

Maak ‘n groot ding van lofprysing en danksegging wanneer jy so stil raak.  Dink aan God se Naam, aan die openbaring van Homself in Christus, aan alles wat Hy is, aan sy Persoon en sy karakter (v.4).  Prys Hom dat Hy die fontein en bron van alle seën is (v.4).  Dink aan alles wat Hy in die afgelope 24 uur vir jou gedoen het, en dank Hom daarvoor.

 

God is goed en doen goed (Ps.119:68).  Moenie so in jou probleme vaskyk, dat jy nalaat om Hom hiervoor te dank nie (v.5).  Sien God se goedheid in sy Wese en in sy Persoon:  Hy was goed nog voordat Hy die wêreld gemaak het.  Hy het nie eers goed geword toe Hy vir óns goed was nie.

 

Sien ook sy goedheid in Jesus wat aan die kruis gesterf het, sodat jy die ewige lewe kan hê.  Sien sy goedheid in Jesus se opstanding en hemelvaart, en in die feit dat Hy aan die regterhand van God vir jou intree.  Sien sy goedheid daarin dat Hy jou gered het.  Sien sy goedheid in die Heilige Gees wat jou lei, leer, help en vertroos.

 

Sien sy goedheid in die Bybel wat in Afrikaans vertaal is.  Sien sy goedheid in die gawe van gebed.  Sien sy goedheid in die kerk, in ander gelowiges wat jou deur gebed en met hulle gawes ondersteun.  Sien sy goedheid in die doop en in die nagmaal wat jou daaraan herinner dat jy ‘n nuwe mens is, en dat jou sonde vergewe is.

 

Sien sy goedheid in die hemel wat vir jou voorberei word.  Sien sy goedheid in sy dissipline en in die beproewing wat Hy stuur om jou meer soos Jesus te maak.  Sien sy goedheid in sy beloftes.  Sien sy goedheid in die mense wat Hy oor jou pad stuur om jou te help.  Sien sy goedheid in die wonderlike wyse waarop Hy in jou materiële behoeftes voorsien.  Sien sy goedheid in die pragtige skepping wat Hy gegee het, sodat ons dit kan geniet.

 

Dank Hom ook vir sy goedertierenheid en troue liefde wat nie kan faal nie (v.5).  Die Hebreeuse woord chêsêd verwys na die spesiale verbondsliefde wat Hy vir sy uitverkore volk het:  “Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid [chêsêd].” (Jer.31:3).

 

In die Nuwe Testament het God sy spesiale verbondsliefde aan die kerk bewys:  “soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Ef.5:25).  Ons is die “uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes” (Kol.3:12).  Paulus sê dat ons “deur die Here bemin word” en dat God ons “van die begin af verkies het tot saligheid” (2 Ts.2:13).

 

Ons moet Hom vir sy uitverkiesing prys, en dankbaar wees dat niemand dit kan omkeer nie (v.5, Rm.8:29-30, 33, 38-39).  Wat Paulus in Rm.11:28-29 van die Jode gesê het, geld ook vir die kerk:  “wat die uitverkiesing betref [is hulle] bemindes …Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”

 

Voor jy die Here vir sy uitverkiesing kan prys, moet jy dit reg verstaan.  Moenie dink dat die nasies graag die Here wou ken, en dat Hy besluit het om net vir Israel te red nie.  Weet eerder dat Israel en die nasies Hom gehaat het, en dat Hy in sy groot liefde besluit het om nie vir Israel te oordeel nie.  Toe Hy aan die ander nasies hulle verdiende straf gegee het, het Hy vir Israel vergewe.

 

In die Nuwe Testament sien ons dat sy uitverkiesing nog wyer strek.  Alhoewel die hele wêreld Hom haat en niks met Hom te doen wil hê nie (Jh.7:7), het Hy in sy liefde besluit om nie vir Jan, Sarel, Karen, Alta, en miljoene ander sondaars hulle verdiende straf te gee nie.  Nog voor Hy die wêreld gemaak het, het Hy besluit om hulle te red en sy kinders te maak.

 

“soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus” (Ef.1:4-5).  Moenie God se uitverkiesing haat nie.  Wees eerder dankbaar dat Hy jou nie volgens verdienste gestraf het nie, maar besluit het om jou te red.

 

Ek was al dikwels ontrou, sodat ek van die Here af weggedwaal het.  Ek is seker dat jy dieselfde kan sê.  Maar deur al die geslagte heen was die Here nog nooit ontrou aan die verbond wat Hy met ons gemaak het nie (v.5).  Hy sal nie sy rug op jou draai of sy beloftes aan jou breek nie.  Ken jy iemand wat jou só sal liefhê, as jy Hom soos Petrus drie keer in die rug gesteek het?

 

Laat ons nie vergeet om die Here vir sy getroue verbondsliefde te prys nie:  “Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag.” (89:2).  Prys Hom dat sy liefde en getrouheid aan jou so hoog soos die hemel en die wolke is (36:6).  Dank die Here vir Klg.3:22-23:  “The steadfast love of the LORD never ceases; his mercies never come to an end; they are new every morning; great is your faithfulness.” (ESV).

 

As jy hierdie waarhede ter harte neem, sal jy sien dat jy baie meer rede het om die Here te dank as om te kla.  En as jy die Here aanhoudend dank, sal jy nie jaloers wees en bitter raak oor iemand anders se geld, lewensmaat, talente, ens. wat jy nié het nie.

 

‘n Dankbare hart sal jou ook help om nie hoogmoedig te raak en te dink dat jou rykdom, goeie huwelik, soet kinders, ens. van jóú af kom nie.  Jy sal nie in jouself roem nie, maar die Here se hand hierin raaksien en Hom prys:  “Want wie trek jou voor?  En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?  En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Kor.4:7).

 

Ek hoop van harte dat jy ten minste iets geleer het van hoekom Christene sing.  Die blydskap wat ons in Jesus het is groter as enige beproewing.  Dit is hoekom Paulus en Silas in die tronk gesing het (Hd.16:23-25).  Dit was die leer wat hulle gehelp het om uit die gat van moedeloosheid te klim, die flits wat hulle gehelp het om in die donker te sien.  ‘n Gelowige se blydskap in Jesus maak dat hy soos Amerika se Neger slawe is, en nie anders kán as om vir die Here te sing nie.

 

[1] Charles Spurgeon, The Treasury of David, note on Ps.100:1

Die ABC van gemeentesang

Congregational singing 2

In ons gemeente beklemtoon ons die suiwer prediking van God se Woord.  Daar is egter ‘n paar gebiede waarin ons sukkel.  Gemeentesang is een van hulle.  Van ons beste musikante het na ander dorpe toe verhuis.  Ons bekwame musiek leier van 13 jaar is op die oomblik buite aksie, en sal hopelik teen Augustus weer by die groep aansluit.

 

Ons maak ook nie die gebou vol nie.  In ‘n gebou wat 160 kan sit, is ons 75 mense in die oggend en 35 in die aand; met ‘n hoë plafon voel ons dit.  En dan het ons nuwe musikante wat nou eers vir ‘n paar maande saam speel.  Daar is nóg een of twee faktore wat maak dat ons sukkel.

 

Maar hierdie probleme is die nr.1 rede hoekom ons sukkel nie.  Ons het Bybelse instruksie nodig.  Wat sê die Bybel oor samesang en hoekom is dit belangrik?  Kol.3:16 sal ons help om hierdie en ander vrae te beantwoord.

 

Die liedboek van gemeentesang

Mense verskil oor gemeentesang.  In ons gemeente is daar party mense wat van Halleluja-liedjies hou, terwyl ander die nuwe liede verkies.  In ander kerke hou sommige mense van kitare, terwyl ander die orrel verkies.  Een gemeente is kontemporêr en ‘n ander een konserwatief.  Wat is die basis waarvolgens ons moet besluit wat reg is?

 

Die Woord van Christus moet die basis van ons gemeentesang vorm.  Die feit dat dit die Woord van Christus is, impliseer dat ons liede op Hom moet fokus; dit moet Christo-sentries wees.  As ‘n ongelowige by die erediens was en tydens die preek geslaap het, moes hy êrens in een van die liede die evangelie gehoor het.

 

Christo-sentriese gemeentesang impliseer verder dat ons liede nie op die mens, sy behoeftes en sy gevoelens fokus nie.  Die liedjie wat sê:  ‘You thought of me, above all,’ fokus op die mens en nie op Jesus nie.  Dit skep die idee dat Hy ons benodig, en dat Hy nie sonder ons kan lewe nie.

 

Christo-sentriese liede weet dat Jesus ‘n Liefdevolle en Getroue Vriend is, maar sing nie asof Hy ons ‘cool pal’ is nie; dit bewonder sy groot liefde, maar sing nie asof Hy ons meisie of kêrel is nie.

 

‘Die Woord van Christus’ impliseer dat die Bybel ons liede se inhoud moet bepaal (Ps.119:54).  Wat moet ons sing?

 

  • Ons moenie net die Psalms sing nie, maar ons moet dit ook nie afskeep nie.
  • Met lofgesange moet ons die Here vir sy Persoon, karakter en dade prys.
  • In plaas van vleeslike liede, moet ons geestelike liede

 

So sal ons sing wat die Here wil hê, en nie maar net liede wat ons lekker laat voel, of liede waarmee mense gemaklik is nie.  Ons moenie bloot die ou koortjies of Hillsong se nuutste treffer wil sing, omdat dit mooi instrumente het, of omdat die wysie ‘catchy’ is nie.  Die vraag moet altyd wees:  ‘Wat sê die Bybel?’

 

Die Bybel sê bv. nié dat Jesus die Heilige Gees se Seun is nie.  Dit was ‘n tikfout in een van ons liede:  ‘Kom O Skepper Gees… Leer my van u Seun…’  Die regte woorde moet wees:  ‘Leer my van die Seun…,’ en daarom het ons dit verander.

 

Die Here wil hê ons moet Hom in waarheid aanbid (v.16, Jh.4:24).  Om bloot te sê jy is opreg is nie genoeg nie.  Ussa was opreg, en tog het God hom laat sterf, omdat hy sy eie reëls gevolg het (2 Sm.6:5-7, 2 Kron.15:2, 15, Nm.4:15, 7:8-9).  Dít is hoe ernstig die Here is dat ons Hom volgens sy Woord moet aanbid.  Maar dis nie al nie.  God wil ook hê dat ons Hom in gees moet aanbid (Jh.4:24).  Hier is wat ek bedoel.

 

Die hart van gemeentesang

Jy ken seker die storie van die man wat Psalm 23 voorgedra het, en mense se applous gewen het?  Toe hy klaar was het hy die mense in die gehoor uitgedaag om dit beter as hy op te sê.

 

‘n Ou man het dit opgesê.  Toe hy klaar was het niemand applous gegee nie; almal het gehuil.  Mense het gevra wat die verskil was.  ‘Die kunstenaar ken die Psalm; die ou man ken die Herder,’ het iemand geantwoord.

 

Net so kan ons in gemeentesang met koue harte die Bybel se reëls volg:  ons kan die Here in waarheid aanbid, sonder dat ons Hom in gees aanbid; die Woord kan in ons koppe wees, sonder dat dit in ons harte is; ons kan die woorde met ons lippe sê, sonder dat dit ons siele raak (v.16, Jh.4:24).

 

As ons dan die Here met opregte wil prys, moet ons seker maak dat ons gered is.  Jy móét besef dat jy sonder Hom meer verlore is as iemand wat in digte mis in die berge verdwaal.  Jy moet op Jesus vertrou en besef dat net Hý jou van die ewige oordeel kan red.

 

Jy moet na Hom toe uitroep as die enigste hoop om vergewe te word.  Jy moet jouself aan Hom toevertrou en glo dat die Vader sý perfekte lewe, kruisdood en opstanding in jou plek sal aanvaar.  Jy moenie meer vir jouself lewe nie, maar vir Hom.

 

En as jy dít gedoen het, kan jou lofprysing vir Hom aanneemlik wees en kan jy Hom in gees en waarheid aanbid (v.16, 1-15, Jes.1:12-18, Mt.5:23-24, 1 Tm.2:8).  Om die Here in gees te aanbid, moet sý Gees jou hart vul.  Dit kan net gebeur as jy die Boek wat deur die Gees geïnspireer is, indrink soos wat ‘n dronkaard wyn drink:  jy moet baie daarvan inneem (v.16, Ef.5:18).

 

En as jy die Woord biddend in jou hart gebêre het, sal dit vanself in aanneemlike lofprysing soos heuning van jou lippe afdrup, want wat die hart van vol is loop die mond van oor (Mt.12:34).  Doen dan moeite om jou hart en lewe met God se Woord te vul:  luister na Bybelse lering en prediking; lees, bestudeer, bepeins, memoriseer en gehoorsaam die Woord van God (Ps.1:2, 119:11, 97).

 

As jy dít doen, sal die Woord ryklik in jou woon.  Dit sal jou hart, gesindheid, denke, woorde en dade oorheers en deurweek.  Die Heilige Gees sal jou hart in ‘n tuiste vir die Woord van God omskep.

 

Dít is waaroor Geesvervulde lofprysing gaan.  Dit begin nie wanneer jy by die erediens instap nie; jou hele lewe moet met die Woord gevul wees.  Maak veral seker dat jy voor die erediens ‘n tydjie afsonder om jou hart reg te kry.  Bely jou sonde, bid vir hulp om die Woord te verstaan, dank die Here vir sy goedheid.

 

Kom dan met ‘n dankbare hart vol van blydskap na die erediens toe:  “Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise!” (Ps.100:4, ESV).  Moenie onvoorbereid kom soos wat die populêre lied sê nie:  ‘Come, now is the time to worship… Come, just as you are to worship.’

 

Doen alles wat jy kan om die Here uit ‘n Geesvervulde hart te prys.  Sorg dat jy jou definisie van Geesvervulde lofprysing reg het.  Dit het niks te doen met ‘n klomp mense wat in brabbeltale praat, omval, hoendervleis kry, of ‘n ekstatiese ervaring het nie.

 

Om emosioneel te raak wanneer jy sing beteken ook nie outomaties dat die Heilige Gees teenwoordig is nie.  Mense raak emosioneel wanneer hulle die volkslied by ‘n rugby wedstryd sing, of as Bobby van Jaarsveld by ‘n musiek konsert vir hulle soene blaas.

 

Emosie op sy eie kan nooit vir jou ‘n geestelike ervaring gee nie.  Daarom sing ons nie vir 90 minute totdat ons ‘n emosionele ‘high’ bereik het nie.  Ons sing ook nie ‘n reëltjie met vyf woorde vyftien keer oor, totdat ons in ‘n beswyming ingaan en beheer verloor nie.

 

Kerke wat so aanbid fokus op hulleself en nie op die Here nie.  Dit is nie die Heilige Gees en sy waarheid wat hierdie mense help om hulle emosionele ‘high’ te bereik nie, maar die oorverdowende musiek, die eindelose herhaling, die gekleurde ligte, die rookmasjien, die massas wat om hulle skreeu, en die konsert wat op die verhoog aan die gang is.  Dit lyk meer na ‘n sekulêre rock konsert as na ‘n erediens.

 

Hierdie mense sou nooit so ‘vol van die gees’ gewees het as al die ligte aan was, as dinge ordelik geskied het, as die gemeente se stemme harder was as die dromme en die kitare, as hulle net vier liede gesing het, as elke lied net een keer gesing is, en as die liede se inhoud gelaai was met soliede teologie nie.  Dit wys vir ons dat hulle emosie vleeslik opgewek is.

 

Emosie moet eerder ons reaksie op die waarheid wees.  As die Gees ons harte vul en die Woord ryklik in ons woon (v.16, Ef.5:18), sal God-verheerlikende emosies in riviere van lof oor ons lippe vloei.  Ons harte sal met liefde vir Jesus brand (Lk.24:32).  Ons sal vol van dankbare blydskap wees en die Here met lofgesange prys (v.15-17).

 

Die skool van gemeentesang

‘n Tagtig jarige tannie in ons gemeente het vir my gesê dat sy Totius se beryming van die Psalms geleer het toe sy klein was.  ‘Ek onthou dit vandag nog,’ het sy gesê.  Ons onthou God se Woord makliker as ons dit sing (Dt.31:19, 22, 30, die Psalms).  Daarom moet ons mekaar met Bybelse lofliede onderrig en vermaan (v.16).

 

Die Bybelse woorde van hierdie liede sal vir ons wysheid gee en die waarheid in ons harte vas sement (v.16, 2:3).  Omdat ons die Bybel op hierdie manier leer, sal vals woorde vir jare lank in ons koppe vassit en ons op die verkeerde pad lei.  Sing daarom die waarheid om jouself en ander van die Here te leer, om jou en hulle aan te spoor om Hom beter te volg.

 

Om mekaar goed te onderrig, moet ons weet wat ons sing.  As daar ou woorde is, moet ons dit verduidelik of verander.  Ons liede moet eenvoudig wees, maar dit hoef nie oppervlakkig te wees nie.  Dit is bv. nie verkeerd om te sing:  ‘God is so goed, God is so goed, God is so goed, Hy’s so goed vir my’ nie.

 

Maar ons kan nie net sulke koortjies sing en verwag dat ons aanbidding die hoë pieke van ‘n geestelike Berg Everest sal bereik nie.  Daarom moet ons ook liede met Bybelse substansie sing.  Ons moet bv. sing:

 

In die hemel is die Heer,

en sy glans is soos kristal.

Hy’s die heilige van God,

en Hy heers oor die heelal.

Daar is mag in sy Woord,

soos die waters druis sy stem.

Soos die son op die see se blou,

so die rykdom van sy trou…

Miljoene in gereedheid,

span die eng’le om sy troon.

Verbysterend sy sieraad,

en die weelde van sy kroon…

 

Die skool van gemeentesang vorm tot ‘n groot mate die beeld wat ons van God het.  Daarom moet ons nie vir ons kinders lawwe liedjies oor God, Verlossing, en die res van die Bybel leer nie (bv. die Bybel-liedjies wat hulle op Veggie Tales leer).

 

Ons kan nie verwag dat hulle Jes.6 se heerlike beeld van God moet hê, as ons vir hulle liedjies leer soos die een wat my kinders by ‘n kamp geleer het nie:  ‘Ek spring soos popcorn as ek vir Jesus sing, popcorn sal ek vir Jesus spring, popcorn want ek is baie bly, Jesus het gekom vir jou en my…’

 

Die melodie van gemeentesang

Die meeste mense sal vir jou sê dat die melodie nie belangrik is nie, en dat dit die woorde is wat saakmaak.  Maar mense wat films maak sal vir jou sê dat die melodie baie belangrik is.  Jy kan spanning, blydskap, hartseer, vrees, kwaad, en ander emosies deur die melodie opwek.

 

Daarom moet ons seker maak dat die melodie, die ritme en die instrumente ons lofliede se woorde komplementeer.  Dit moenie die aandag van die woorde af wegvat of daarmee bots nie.  Ons moenie méér beïndruk wees met die wysie as met die God van wie ons sing nie.  En tog moet die musiek ook pragtig wees en iets wys van die God wat dit gemaak het.

 

Ons het ‘n oulike CD vir kinders wat vir hulle Bybelversies leer.  Maar daar is een lied waarvan ek nie hou nie, omdat die melodie die woorde weerspreek.  Die woorde is aangehaal uit die laaste deel van 2 Kor.9:7:  “God loves a cheerful giver.” (ESV).  Maar wanneer die kinders die liedjie sing, sê hulle:  ‘God loves a cheerful giver, ha-ha-ha-ha-ha…’

 

Die vers gaan glad nie oor iemand wat uit sy maag uit lag wanneer hy vir die Here se werk bydra nie.  Ek het nog nooit gesien dat iemand in ons gemeente dit doen nie, en dink dat hierdie liedjie se melodie met die woorde bots.

 

Wanneer ons saam sing kan ons ook nie ‘n opgeruimde melodie hê wanneer ons oor God se oordele sing, of wanneer ons ons sondes bely nie.  Maar ons kan ook nie ‘n droewige melodie hê as ons die Here vir sy wonderlike verlossing prys nie.  ‘Joy to the World’ moet daarom ‘n ‘Joy to the World’ tipe melodie hê.

 

Na my mening is daar ‘n paar skrywers wat hierdie kuns bemeester het.  As jy van ouer musiek hou, is niemand beter as Isaac Watts en Charles Wesley nie.  As jy hedendaagse gemeentesang verkies, is die Getty’s, Stuart Townend en Bob Kauflin goed.  Ek dink dat Hillsong en Jesus Culture nie die beginsels volg wat ek hierbo genoem het nie.[1]

 

As gelowiges vermy ons sekere style, omdat die wêreld dit gebruik om hulle immorele en goddelose agenda te dryf.  Heavy Metal word bv. gebruik om die werke van duisternis te propageer, en dus is dit nie genoeg om net die vieslike woorde te verander nie.  Die boodskap lê nie net in die woorde nie, maar in die styl.  ‘n Mens kan dus nie ‘n melodie gebruik wat die werke van die duisternis bevorder om Jesus se die lig mee te verkondig nie.  Dt.12:4, 30-31 sê dat ons nie die wêreld se metodes moet gebruik om die Here te aanbid nie.

 

‘Soos in die eerste duisend of meer jaar van die kerk se geskiedenis, behoort ons glad nie eers instrumente te gebruik nie,’ sal ‘n baie konserwatiewe gelowige vir jou sê.[2]  Persoonlik dink ek dat die vroeë kerk verkeerd was.

 

Volgens Paulus moet ons Psalms sing (v.16), en in Ef.5:19 sê hy dat ons dit met melodieë moet doen [Gk. psallō].  Die Griekse woord praat letterlik van iemand wat ‘n snaarinstrument pluk.  En as ons Psalms moet sing, sê Ps.150 dat ons die Here met allerhande instrumente moet prys.  Talle van die Psalms se opskrifte sê ook dat die lied met ‘n instrument begelei moet word.

 

Maar in dieselfde asem is dit nodig om te sê dat die instrumente nie die mense se stemme moet uitdoof nie.  Ons harte en stemme moet die hoof instrumente wees waarmee ons die Here loof en dank.

 

Die cresendo van gemeentesang

Cresendo beteken hoogtepunt of klimaks.  Volgens v.16 is God en sy heerlikheid die cresendo of klimaks van ons gemeentesang.  God het ons geskep en gered om Hom te verheerlik (Jes.43:7, 21, 1 Kor.10:31, 2 Kor.5:9, 15, Ef.1:6, 12, 14).

 

Dit is ook die rede hoekom ons nie soos Moslems, Hindoes en mense van ander godsdienste is nie – ons sing.  Dit kan nie anders nie.  God het ons oë oopgemaak om sy heerlikheid te sien; ons is bly dat Hy ons gered het.  Om dan nié die Here met lofliede te prys nie, is erger as moord en verkragting.

 

Gemeentesang is egter nie die enigste manier hoe ons die Here aanbid nie.  Ek ken ‘n ds. wat by ‘n ander gemeente gaan preek het.  Toe hulle klaar gesing het, het die musikante agter in die kerk op hulle steitjies gaan sit om te slaap.  Hy het voor die hele kerk vir hulle gesê:  ‘Gemeentesang is nie die enigste deel van aanbidding nie; Bybelse prediking is ook aanbidding – sit regop.’

 

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  ‘As die musiek goed was, gee ek nie om of die preek sleg is nie.’

 

Die ds. in die eerste storie was reg, en die vrou in die tweede een verkeerd.  Ons moet die ABC van gemeentesang ken, sodat ons die Here met opregte harte kan prys.  Ons moet egter nie dink dat gemeentesang die A-Z van aanbidding is nie.  Om die Here reg te aanbid moet jy jou lewe aan Hom toewy (v.17, Rm.12:1).

 

[1] Lees gerus die drie artikels oor ‘The Gospel According to Hillsong’ by http://www.gty.org

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.68-69; Part 2, pp.169-171; Part 3, pp.229-230.

Die hemel se volkslied

Hallelujah-Chorus

Die wêreld weet nie wat halleluja beteken nie.  Jare gelede was daar ‘n populêre lied wat gesê het:  ‘It’s raining men, hallelujah!’  In sommige kerke dink mense nie mooi voordat hulle ‘halleluja’ of ‘amen’ sê nie.  Ek het ‘n diens bygewoon waarin mense ‘amen!’ geroep het toe die spreker sê:  ‘Ons staan agter op ‘n trok in Rusland…’

 

Wanneer ek dan in hierdie preek die woord ‘halleluja’ gebruik, bedoel ek dit nie as ‘n cliché nie, maar gebruik ek dit soos wat Johannes dit in Op.19:1-10 gebruik het.

 

Die eerste halleluja (v.1-2)

Omdat die woord ‘halleluja’ so algemeen in ons musiek voorkom, dink ons nie altyd mooi wat ons sê wanneer ons dit sing nie.  Dit was nie die geval in Op.19 nie.

 

Johannes het iets gehoor wat geklink het soos die stem van ‘n baie groot menigte in die hemel (v.1, 5:11-14, 7:9, 11:15).  ‘Halleluja!’ het hulle uitgeroep (v.1).  Ek het vroeër in die reeks gesê dat ‘halleluja’ slegs hier in die Nuwe Testament voorkom, en dat dit letterlik ‘prys Jah(we)’ beteken.

 

Waarvoor het hulle die Here geprys?

 

[1] Die mens se verlossing kom geheel en al van die Here af (v.1, Rm.8:29-30, 11:36, Ef.2:8-9).  Die Here het ook sy bruid van die prostituut se onderdrukking verlos (18:20).

 

[2] Omdat verlossing van die Here af kom, het hulle gesê dat die heerlikheid aan Hom behoort en aan niemand anders nie:  Soli Deo Gloria (v.1, Jes.48:11).

 

[3] Hulle het Hom ook geprys dat Hy die mag gehad het om te skep, te onderhou, die geskiedenis te beheer, te verlos en te oordeel (v.1).

 

Die rede hoekom hulle Hom so geprys het, is omdat Hy waaragtig en regverdig was toe Hy die groot prostituut genaamd Babilon – dit is, Jerusalem – geoordeel het (v.2, hfst.17-18).[1]  Dit was immers a.g.v. háár geestelike egbreuk dat die land [Gk. ] in ‘n moeras van immoraliteit verval het (v.2).

 

Verder was dit ook sý wat die bloed van die Here se diensknegte vergiet het, en daarom het Hy wraak geneem en haar geoordeel (v.2, 18:20, 24, 16:6, Dt.32:35, 41, 43, Lk.11:47-51, vgl. 2 Kon.9:7).

 

Die tweede halleluja (v.3)

Robert Murray McCheyne was ‘n Skotse prediker in die 1800’s.  Op 9 Nov. 1834 het hy gehoor dat iemand wat baie verkeerde lering versprei het, gesterf het.  Hy was bly oor die nuus.[2]  Toe ek dit gelees het was ek aanvanklik geskok.  Maar as ek dit met Op.19 vergelyk, besef ek dat hy reg was.

 

Die groot menigte van v.1 het weer ‘halleluja!’ geroep (v.3).  Jerusalem was soos Sodom, en daarom het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.3, 11:8, 17:16, 18:8).  Die rook was ‘n voorsmakie van die ewige straf wat sy in die hel sou beleef het (v.3, 14:10-11, Jes.34:8-10, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

Hoe moet ons hierdie eerste drie verse toepas?  Soos die gelowiges in hierdie verse, sal jy ook die Here vir jou verlossing prys wanneer jy in die hemel is.  Jy sal geen krediet vir jouself neem, asof die bepalende besluit vir jou redding by jóú en jou vrye wil gelê het nie.  Jy sal verstaan dat Hý die Outeur en Voleinder van jou geloof is, dat Hý die goeie werk in jou begin en volbring het, en dat Hy jou gered het tot die lof van sý heerlikheid (Heb.12:2, Fil.1:6, Ef.1:6, 12, 14).

 

Jy sal Hom ook prys vir sy regverdige oordele oor OGOD en hulle ateïstiese ondersteuners, ISIS en ander Moslem-groepe, die Kommuniste, en die res van die kerk se vyande (v.2, Ps.58:11).  Jy sal bly wees dat jy nie self wraak geneem het nie, maar dat jy dit vir die regverdige God gelos het.  Jou lofprysing sal nie sadisties wees, sodat jy lekker kry oor jou vyande wat in die hel is nie.

 

Maar jy sal ook nie hartseer wees nie.  God se heilige grootheid, geregtigheid en almag sal so oorweldigend wees, dat dit alles oorskadu.  Jy sal sê dat dit goed en reg is dat Hy die kerk se vyande in die hel gewerp het.

 

Jy sal ook opnuut dankbaar wees dat Hy jou gered het, en dat jy nie saam met die goddelose in die hel is nie.  Jy sal besef dat jy die hel verdien het, en dat dit sy vrye genade is wat die verskil gemaak het.  Jy sal nie anders kan as om Hom vir ewig te prys in alles wat jy doen nie.

 

Die derde halleluja (v.4-5)

Ek het by twee geleenthede iemand in die hof gaan ondersteun.  By beide geleenthede het ‘n polisieman my aangespreek:  een keer omdat ek ‘n hoed op my kop gehad het, en die ander keer omdat ek teen die muur gestaan het.  En as die hof so ernstig was dat ek respek moes wys, hoeveel te meer is dit nie die geval in die hemel nie?

 

Die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens het voor die troon geval en die Here aanbid wat daarop gesit het.  Ek het in hfst.4 gewys dat die 24 ouderlinge ‘n rangorde van engele is, en dat die 4 lewende wesens gerubs is.[3]

 

Hulle het op hulle gesigte voor die troon geval en die Here aanbid (v.4).  Hulle ‘amen’ het die groot menigte van v.1-3 se ‘halleluja’ ge-eggo (v.4).  Dit is asof hulle gesê het:  ‘Dit ís so; ons stem saam dat die Here geprys moet word.’

 

Daar het ‘n stem van die troon af gekom:  “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” (v.5).  Die stem wat van die troon af gekom het was Jesus s’n.  In sy menslike natuur was die Vader ook sý God, en het Hy Hom geprys (Ps.115:1, Jh.20:17, Ef.1:3, 17, Heb.2:12).  Hy het vir God se knegte, vir die wat Hom vrees, gesê om Hom te prys (v.5, 1-10).  Dit het vir almal gegeld, klein en groot (v.5, 11:18).  Dit is tog hoekom Hy hulle gemaak het (Ps.148:2, 11-14, Jes.43:7, 21).

 

En as jy hiervoor geskep is sal jou siel nie rus, totdat jy dit doen nie.  Ek bedoel nie net dat jy ‘Jesus-liedjies’ moet sing nie, maar dat jy deur tydsame gebed en bepeinsing in ‘n verhouding met die Here moet leef.  As jy dit gereeld doen sal jy op een of ander stadium ‘n diep ervaring met die Here hê, sodat jy nie anders kan as om Hom te prys nie.

 

Eers dán sal jy besef dat ware lofprysing die hoogste piek is wat jy ooit in hierdie wêreld en in die volgende een sal bereik.  Ewe skielik sal die plesiere van hierdie wêreld vir jou leeg en hol wees.  Jy sal agterkom dat drank, vriende, jou huweliksmaat en kinders, seks, rykdom, nuwe goed, ‘n ander werk, lekker kos, populariteit en aansien, akademiese grade, jou net tydelik gelukkig kan maak.  Om ware vervulling, satisfaksie en versadiging te hê, moet jy die Here prys.  Dit kan nie anders nie, omdat Hy jou hiervoor gemaak het.

 

Die vierde halleluja (v.6-9)

Wanneer iemand in Johannes se tyd verloof geraak het, moes hy ‘n bruidsprys aan die bruid se pa betaal het.  Verlowing was meer bindend as wat dit vandag is; dit moes met ‘n amptelike skeibrief verbreek word (Mt.1:18-25).

 

As die man klaar verloof geraak het, het hy vir ‘n kort tydjie weggegaan om alles gereed te kry vir die troudag.  As dit gereed was, het hy sy bruid kom haal en haar na sy huis toe gevat.

 

Hulle het vir sewe dae fees gevier, en aan die einde daarvan beloftes uitgeruil.  Daarna het hy haar in sy huis ingebring.[4]  Dit sal help om hierdie agtergrond in gedagte te hou wanneer jy v.6-8 bestudeer.

 

Johannes het weer ‘n stem gehoor wat soos ‘n groot menigte klink, soos die gedreun van baie waters en soos die geluid van harde donderslae (v.6, 14:2).  Hulle het die Here met ‘n ‘halleluja’ geprys, omdat Hy as die Almagtige God regeer het (v.6).  Sy aardse Koninkryk het begin toe Jesus na die hemel toe opgevaar het en dit in sy Naam geregistreer is; dit sal oor die wêreld versprei en by die wederkoms vervul word (hfst.5, 11:15, 17, Ps.2:6-8, 110:1, Dn.2:35, 7:13-14, Mt.4:17, 6:10, 12:28, 28:18, Lk.10:9, 17:21).

 

Net so het Jesus se huwelik by sy eerste koms begin, en sal dit by die wederkoms vervul word (v.7, Mt.9:15).  Kom ek verduidelik dit so:

 

Omdat Israel aanhoudend in die Ou Testament egbreuk gepleeg het, het die Here haar met ‘n skeibrief weggestuur (Jer.3:1-8, Mt.19:9).  Hy het haar egter vergewe en teruggevat (Hosea).  Maar in 16:21 en 17:16 het Hy genoeg gehad, sodat Hy die prostituut gestenig en verbrand het (Dt.22:22, Lv.21:9).

 

Dit het in 70 n.C. gebeur toe Hy die tempel met sy priesters en offers verwoes het, en so die ou verbond met Israel finaal tot ‘n einde gebring het (Heb.8:13, 10:9).  Maar dit is nie asof sy huwelik misluk het nie.  God se ware bruid was nog altyd dié wat in Christus geglo het, en nie dié wat as Jode gebore is en besny is nie (Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 16, 29).

 

God het in 21:2, 9, Jes.54:5, 62:5 gesê dat die hemelse Jerusalem (die kerk volgens Gal.4:26) sy bruid is.  Deur sy dood het Hy die bruidsprys betaal, en toe sy in Hom geglo het, het Hy aan haar verloof geraak (Ef.5:22-33, 2 Kor.11:2).

 

Hy het opgevaar hemel toe om alles gereed te kry vir die troudag.  Sy het ook moeite gedoen om haarself gereed te kry, deurdat sy die blink wit trourok van haar heilige en gehoorsame dade aangetrek het (v.7-8, 3:4-5, 14:4, 1 Jh.3:3).  Deur sy kruisdood het Jesus hierdie fyn linne trourok vir haar gekoop (v.8, 7:14, Gn.3:21, Ps.132:9, Sp.31:22, Jes.61:10).

 

Die punt is dat die Here sy bruid instaatgestel het om goeie werke te doen, maar dat dit sý is wat dit moes doen (v.7-8, Ef.2:10).  God se bruid moes haarself vir die hemel voorberei, maar die Here sou gegee het wat nodig was om dit te doen (Fil.2:12-13).

 

Dit beteken nie dat sy vir die hemel moes wag om fees te vier nie.  Volgens die Bybel bestaan die fees ten minste uit drie disse, en is dit so te sê ‘n driegang maaltyd.

 

  • Wanneer iemand tot bekering kom, geniet sy in die Woord, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en gebed ‘n ete met die Here (3:20, Lk.10:39, 42, Hd.2:42, 1 Kor.5:8).
  • Wanneer ‘n Christen doodgaan, gaan sy dadelik hemel toe. Daar het sy ‘n voller ervaring van die feesmaal saam met Jesus (v.7, Mt.26:29, Jh.14:2-3, Fil.1:23).
  • Wanneer Jesus weer kom, sal sy vir ewig die finale dis van die feesmaal saam met Hom geniet (Jes.25:6).

 

Is dit enige wonder dat die bruid in v.7 bly was en die Here verheerlik het?  Is die bruid se blydskap joune?  Is jy reg om by die feesmaal aan te sit?  Is die klere van jou lewe rein?  Het jy dit wit gemaak in die bleikmiddel Jesus Christus se bloed, en hou jy dit so deur ‘n heilige lewe van gehoorsaamheid?

 

Jy kan ander mense flous, omdat jy elke Sondag in die kerk sit en godsdienstige dinge doen.  Maar jy kan nie die Koning flous nie – Hy sien dwarsdeur jou.  Hy weet of jy in die kerk, huis, huwelik, skool, werkplek, en vriendekring die wit klere van ‘n rein hart en ‘n heilige lewe aan het of nie (Mt.22:11-12).  As jy dit nie aan het nie, sal jy uit die kerkbanke uit hel toe gaan (Mt.22:13).

 

Sorg daarom dat jy voortdurend die wit klere van ‘n heilige lewe aan het.  Moet egter nie dink dat jy dit self so wit gekry het nie.  Jy weet goed dat Jesus hierdie wit klere vir jou gegee het.  As jy dit nog nie het nie, moet jy vir Hom vra om jou uit die modderpoel van jou sonde te red, jou in die fontein van sy bloed te was, en vir jou die wit klere van sy geregtigheid aan te trek.

 

Só kan jy weet dat Hy jou na die troue toe genooi het, en is jy baie geseënd (v.8-9).  Soos wat jy jóú huweliksmaat en gaste gekies het, het die Here sýne gekies.  Beskou dit dan as ‘n voorreg en nie as ‘n reg nie dat Hy jou gekies het om deel van sy bruid te wees, en dat Hy jou na die troue toe genooi het (v.9, Mt.22:14, Hd.13:48).[5]

 

Dank ook die Here dat hierdie nie maar net ‘n feëverhaal is soos Sneeuwitjie of Aspoestertjie nie.  Alles wat die engel vir Johannes gesê het is God se ware woorde (v.9).

 

Die laaste halleluja (v.10)

Omtrent 15 jaar gelede het ‘n vriend van my tot bekering gekom.  Hy het vir my gesê dat ek sy lewe gered het.  Ek het mooi aan hom verduidelik dat dit die Here was en nie ek nie.

 

Iets soortgelyk het in v.10 gebeur.  Johannes was so verwonderd dat hy probeer het om die engel te aanbid.  Hy het as’t ware voor die engel se voete geval en ‘halleluja’ gesê.

 

Die engel het hom dadelik gekeer en gesê dat hy God se slaaf is net soos Johannes en die profete wat van Jesus getuig het (v.10, 5, 22:8-9, Hd.10:25-26).  As Jesus dan die middelpunt van hulle boodskap was, moes Johannes Hóm aanbid het en nie die engel nie (v.10, Lk.24:25-27, 44-45, Jh.5:46).

 

Ons moet God alleen dien:  ons mag nie tot engele bid of hulle aanbid nie, hetsy gevalle engele of heilige engele (v.10, 22:8-9, Eks.20:3, Mt.4:9-10, Kol.2:18).  Ons mag ook nie ‘n ds. vir sy preke of bediening prys, asof hy die Here is wat hierdie dinge doen nie.  Verder mag geen ds. of lidmaat mense versoek om hulle te prys nie, maar moet Jesus die middelpunt van hulle boodskap en lewe wees (v.10).

 

Ten slotte moet ek sê dat enige siening oor Openbaring wat op die fyn besonderhede van die eindtyd fokus en nie op Jesus nie, glad nie oorweeg moet word nie.  ‘n Siening wat jou bang maak en jou nie dryf om ‘halleluja!’ te sê nie, eggo nie die hemel se volkslied nie en mis die punt.

 

[1] Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris vir ‘n bewys dat die prostituut of Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, p.194

[3] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel.  Daarin het ek gewys dat die lewende wesens ooreenstem met die gerubs in Esg.1, 10.  Ek het ook gewys dat die 24 ouderlinge op trone gesit het, en dat Paulus in Kol.1:16 van sommige hemelwesens as ‘trone’ praat.  Volgens party is die 24 ouderlinge ‘n voorstelling van al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente, en is die 4 lewende wesens simbolies van die hele skepping.  Ek huldig nie hierdie siening nie, omdat Johannes in Op.7:9, 11 tussen die 24 ouderlinge en die gelowiges in die hemel onderskei.

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.215

[5] Ek dink nie Johannes probeer om tussen die bruid en die genooide gaste te onderskei nie.  Christene is die bruid en die gaste wat na die troue toe genooi is, net soos wat Jesus in 7:17 die Lam en die Herder is.

Die goeie effek van die groot verdrukking

great-tribulation

Ná ‘n veldbrand groei die gras en plante beter. Dit wat verwoesting gebring het, het ook lewe gebring.  En dit is presies wat in Op.7:9-17 met die groot verdrukking gebeur het.

 

Lofprysing (v.9-12)

Wat is die meeste mense wat jy al bymekaar gesien het? Verlede Saterdag was ek saam met my gesin by ‘n vliegskou.  Ons het ‘n uur en ‘n half gevat om 10 kilometer te ry.  Daar was duisende karre.  Ons het omtrent ‘n kilometer geloop van die parkeer area af tot by die hek.  Die mense het soos miere gewemel.  Ek wil nie jok nie, maar ek is seker dat daar tussen 50 000 en 100 000 mense was.  In Op.7 het Johannes ‘n baie groter skare as dit gesien.

 

In v.4-8 het Johannes 144 000 verseëlde Jode op die aarde gesien. Daarna het hy ‘n ontelbare menigte uit elke stam en taal en volk en nasie in die hemel gesien (v.9, 5:9).  God het gesê dat Abraham se nageslag ‘n ontelbare massa soos die sand en die sterre sou wees (Gn.13:16, 15:5, 22:17).  Hy sou die vader van baie nasies gewees het (Gn.17:5).  In Op.7 het Johannes gewys dat mense uit alle nasies en nie net Jode nie, die ontelbare nageslag van Abraham is (Gal.3:7-8, 14, 16, 29, Hos.1:9-10, vgl. 1 Pt.2:9-10).

 

Die menigte het voor die troon en voor die Lam gestaan (v.9). Hulle het wit klere aangehad en palm takke in hulle hande.  Die wit klere het gewys dat hulle rein is (v.14), en die palmtakke herinner ons aan die Huttefees.  Toe die volk vir 40 jaar deur die woestyn getrek het, het hulle nie in huise gebly nie maar in tente.  God het vir hulle gesorg toe hulle pelgrims was oppad na die Beloofde Land toe.  Om dit te herdenk moes hulle jaarliks Jerusalem toe gekom het en tente van palms en ander bome se takke gebou het (Lv.23:40, 43, Neh.8:16).

 

In Op.7:9, 15 sien ons palmtakke en God wat sy tent oor die menigte oopspan. Die hemelse vervulling van die Huttefees was dus nie net vir Jode nie, maar vir God se kinders uit alle nasies.  Voor die Paasfees het die Jode ook palmtakke gewaai en vir Jesus geprys, maar vyf dae later het hulle vir sy bloed geroep (Jh.12:13).  In Op.7 het die geredde heidene palmtakke gevat en Hom met opregte harte geprys.  God het hulle veilig deur die wildernis van hierdie wêreld tot in die hemel gebring.  Hy is dan nie net die God van die Jode nie, maar die God van elke mens wat in Jesus glo; ons God (v.10).

 

Die groot menigte het hard uitgeroep dat die verlossing wat hulle ervaar het van God en van die Lam af kom (v.10, Jon.2:9, Ps.3:9). Hulle het geen krediet vir hulleself gevat, of gevra dat die eer tussen hulle en God gedeel moes word nie.  Hý het hulle gekies, vergewe en verseël (Ef.1:3-14).

 

Verlossing is dan nie ‘n spanpoging waarin die mens vir God help, waarin God dié help wat hulleself help, of waarin Hy vir ons ‘n hupstoot gee om onsself te red nie (sinergisme). Die Bybel wys vir ons dat die mens geen aandeel in sy redding het nie.  Verlossing is uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen (Ef.2:8-9).  Dit is God se werk van begin tot einde (Fil.1:6, monergisme), en daarom gee ons aan Hom alleen die eer (v.10).

 

Anders as die groot menigte, het die engele nie voor die troon gestaan nie, maar rondom (v.11, 9).  Hulle het ook rondom die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens gestaan (v.11, 4:4, 6).[1]  Hulle het in nederige aanbidding voor die Here neergeval en die groot menigte se lof ge-eggo (v.11).  Al het hulle nie soos die groot menigte God se verlossing ervaar nie (Heb.2:16), het hulle dit met ‘n ‘Amen!’ beaam (v.12, Lk.15:7, 10, Ef.3:10, 1 Pt.1:12).  Die engele het sewevoudige of volmaakte lof aan die Here toegeskryf (v.12, 5:12).  Waarvoor het hulle Hom geprys?

 

Hy is die bron en fontein van alle lof en seën. Die glansryke heerlikheid en eer is syne.  Hy is alwys; daar was nog nooit ‘n probleem wat Hy nie kon oplos nie.  Alle dank behoort aan Hom, omdat Hy so goed is.  Sy krag en sy mag het geen perke nie; Hy kan enigiets doen.  Hierdie dinge is so en sal vir ewig so wees – is dit nie juis wat hulle met ‘amen’ bedoel het nie (v.12)?

 

Hoeveel Christene was daar toe Jesus op die aarde was? In Jerusalem was daar omtrent 120 (Hd.1:15).  Altesaam was daar ‘n bietjie meer as 500 (1 Kor.15:6).  Hoeveel Christene was daar in die eerste paar weke, maande, jare en dekades nadat Jesus opgevaar het hemel toe?

 

[1] 3000 bekerings op een dag (Hd.2:41).

[2] Daaglikse bekerings (Hd.2:47).

[3] ‘n Somtotaal van 5000 mans (Hd.4:4).

[4] Bekerings meer as ooit (Hd.5:14).

[5] Die dissipels vermenigvuldig (Hd.6:7).

[6] Herlewing in Samaria (Hd.8:5-8, 12).

[7] Kerkgroei in Judea, Galilea en Samaria (Hd.9:31).

[8] Die bekering van twee hele dorpe (Hd.9:35).

[9] Baie Grieke word gered (Hd.11:21).

[10] Baie bekerings onder Barnabas in Siriese Antiochië (Hd.11:24).

[11] Die invloed van God se Woord neem toe (Hd.12:24).

[12] Massas bekerings onder Paulus in Psidiese Antiochië en die omliggende gebiede (Hd.13:43-44, 48-49).

[13] Groot getalle Jode in Ikonium kom tot bekering (Hd.14:1).

[14] Paulus maak baie dissipels in Listre (Hd.14:21).

[15] Die kerke groei elke dag (Hd.16:5).

[16] Baie Grieke in Tessalonika word gered (Hd.17:4).

[17] ‘n Klomp Jode en Grieke in Berea kom tot bekering (Hd.17:12).

[18] Talle Korintiërs word gered (Hd.18:8, 10).

[19] Die Woord van God neem met groot effek toe in Efese (Hd.19:20).

 

Handelinge praat hoofsaaklik van Petrus en Paulus se bedienings. Hoe groot word die getal as ons dink aan die ander apostels, dissipels en nuwe bekeerlinge wat die evangelie met mense gedeel het?  Wat nog te praat van die bekerings in die eerste drie eeue n.C., die reformasie in Europa, die prediking van die Puriteine in Engeland, die herlewing onder John Wesley en George Whitefield, die herlewings in Wallis en Amerika, die predikers in Skotland, die sending-beweging in die 1800’s, Spurgeon se prediking, duisende bekerings agter die ystergordyn, die hedendaagse verspreiding van die evangelie deur kerke, Christen-organisasies, boeke, tydskrifte, DVD’s, die internet, TV, radio, en ‘n duisend ander maniere.

 

Moses het van 2 of 3 miljoen Israeliete gesê dat hulle soos die sterre van die hemel was (Dt.1:10, 10:22). Wat sou hy van die getal bekeerlinge in Handelinge, of die ontelbare skare in die hemel gesê het (v.9)?  Wat sê jý daarvan?  Is jy een van hulle?  Prys jy die Here vir jou redding?  Robert Murray M’Cheyne het gesê:  ‘Heaven will be all praise.  If you cannot praise God, you will never be there.’[2]

 

Kan die Here jou verlos en sy lof nie jou mond vul nie?  As die engele wat nie sy verlossing ervaar het nie Hom daarvoor prys, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?  Hulle is rondom die troon (v.11); ons is voor die troon (v.9).  Hulle is sy diensknegte; ons is sy bruid, kinders, broers, vriende, kudde en liggaam.

 

Verlossing (v.13-14)

Populêre skrywers oor die eindtyd sê dat daar ‘n groot verdrukking van intense swaarkry in die toekoms sal wees. Hulle sê verder dat die Christene wat dán lewe nie deur hierdie verdrukking sal gaan nie, maar dat hulle voor die tyd weggeraap sal word.  Hulle basseer dit o.a. op Op.7:14.  Maar het jy opgelet dat die woord wegraping nie eers in Op.7 voorkom nie?  Dit lyk dan vir my na ‘n vooropgestelde idee wat in die teks ingelees word.

 

Een van die 24 ouderlinge (5:5) het vir Johannes gevra of hy weet wie die groot menigte in wit klere is, en of hy weet waar hulle vandaan kom (v.13). Johannes het vir die ouderling gesê:  ‘Jý weet my heer; wil jy nie asseblief vir my ook sê nie?’ (v.14).  Die ouderling het vir hom gesê dat die menigte uit die groot verdrukking uit gekom het.  Hoe moet ons sy woorde verstaan?

 

DIE groot verdrukking [Gk.] wys vir ons dat v.14 nie na swaarkry en vervolging in die algemeen verwys nie, maar na ‘n spesifieke verdrukking. Die res van Openbaring wys vir ons dat hierdie verdrukking nie in die verre toekoms gelê het nie, maar dat dit in die tyd van die eerste lesers plaasgevind het (1:9, 2:9-10, 22, 3:10-11).  Jesus wys dit ook en sê verder dat dit in Jerusalem – nie in Amerika nie! – plaasgevind het (Mt.24:21, 16, 1-3, 34).

 

Iemand maak beswaar: ‘Hoe kan jy sê dat die verdrukking in Mt.24:21 na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. verwys as Jesus self gesê het dat niks voor of na die verdrukking daarmee vergelyk kan word nie?’  In die konteks praat Jesus van Jerusalem:  daar was nog nooit so ‘n groot verdrukking in Jerusalem nie (nie die Babiloniërs of Antiochus Epifanes nie), en daar sou ook nooit weer so ‘n verdrukking teen haar gewees het nie (vgl. Esg.5:9, Dn.9:12, 12:1).  Dít is die verdrukking waarvan Johannes in v.14 praat.

 

Wat bedoel Johannes as hy sê dat die ontelbare menigte uit die verdrukking uit gekom het (v.14)? Ek dink nie dit hoef te beteken dat hulle in die verdrukking gesterf het nie.  Ek dink ook nie dit beteken dat hulle weggeraap is om die verdrukking vry te spring nie.

 

Na my mening het hulle uit die verdrukking uit gekom (v.14) in dieselfde sin as wat ‘n kind uit die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou gebore word. Die kind is a.g.v. die liefdesverhouding tussen sy ouers gebore.  En so is die groot menige van geredde heidene a.g.v. die groot verdrukking in 70 n.C. ‘gebore’.  God het die Jode geoordeel en van hulle af weggedraai na die heidene toe, sodat hulle en hulle redding uit die groot verdrukking uit gekom het (Mt.21:40-41, 43, 22:1-10, 10:5-6, 15:24, 28:19-20, Hd.13:45-49, 18:5-6, 8, 28:28, Rm.11:11, 25).

 

Die 144 000 Jode in v.4-8 was die eerste vrug van God se verlossing (14:3-4). Soos wat die eerste vrug aan die Here ‘n groot oes gewaarborg het (Sp.3:9-10), het die redding van die 144 000 Jode ‘n groot oes van bekeerlinge onder die heidene gewaarborg (v.9).  Deur geloof en bekering het hulle die klere van hulle lewens wit gemaak in die rooi bloed van die Lam (v.14, 3:4-5, 19:8, Jes.1:18, Sg.3:3-5, 1 Jh.1:7).

 

Die wit klere wys ook dat hulle priesters is, en daarom dien hulle in v.15 in die tempel. Om in Jesus se tyd ‘n priester te word moes iemand eers ‘n toets ondergaan het.  As hy nie deur sy geslagsregister kon bewys dat hy uit die lyn van priesters gekom het nie, is hy met swart geklee en kon hy nie gedien het nie.  As hy egter al die toetse geslaag het, het hy ‘n wit kleed ontvang en kon hy as ‘n priester gedien het.[3]

 

Veiligheid (v.15-17)

Ek glo dat die groot verdrukking vir Johannes in die nabye toekoms gelê het, maar dat dit vir ons in die verlede is. Dalk bekommer dit jou dat ek so dink.  Maar eintlik hoef jy nie bekommerd te wees nie, omdat die groot verdrukking nie die belangrikste kwessie in Op.7 is nie.  Daar is iets belangriker as dit:  is die klere van jou lewe wit gewas in die bloed van die Lam (v.14)?  Is Jesus die Middelaar wat tussen jou en die Vader staan (1 Tm.2:5)?  Is jou sonde vergewe?

 

Net dié wie se lewens in die bloed van die Lam gewas is, sal dit waag om in God se heilige teenwoordigheid in te kom om voor sy troon te staan (v.15, 22:14, Mt.22:11-12). As Hy jou sonde vergewe het hoef nie jy eers te wag totdat jy in die hemel is nie – jy kan elke dag deur gebed in sy troonkamer inkom (Heb.4:16).  Wanneer jy in die hemel is sal Hy vir jou die vreugde en krag gee om Hom dag en nag in sy tempel te dien.  Spurgeon het iets in die volgende lyn gesê:  ‘If God has called you to be his servant, why would you want to stoop so low as to become a king?’

 

As Jesus sy lewe of bloed vir jou gegee het (v.14) sal dit glad nie vir jou moeite wees om vir ewig jou diens aan Hom te gee nie (v.15). Dit sal vir jou ‘n voorreg wees om altyd in sy tempel te wees en om vir ewig in gemeenskap met Hom te lewe – Hy is immers die tempel (21:22).  Dit sal vir jou wees soos om in die teenwoordigheid van ‘n baie beroemde en gawe persoon te wees, om elke dag aan sy tafel te sit waar jy sy eindelose rykdom, wysheid, genade en vriendskap geniet.

 

Soos wat die tabernakel en die wolkkolom die volk in die Ou Testament beskerm het, sal God ons met sy eie teenwoordigheid in die hemel beskerm (v.15, Jes.4:5-6). Die Griekse teks sê letterlik dat Hy sy tent of tabernakel oor ons sal oopspan [v.15, Gk. skēnoō, 21:4, Jh.1:14].  Angus Buchan se tent kon 60 000 mense vat.  Omdat die Here oneindig is kan ‘n ontelbare menigte in sy tent skuil soos wat kuikens onder ‘n hen se vlerke wegkruip (v.15, 9, Jes.54:2, Ps.91:1, 4, Dt.32:11).

 

Sal dit nie wonderlik wees om in ‘n plek te bly waar jy nie onveilig voel nie, ‘n plek waar daar nie in die aand skelms in jou huis inkom nie, ‘n plek waar daar nie moordenaars en verkragters is nie, ‘n plek waar daar nie mense is wat jou kinders wil seermaak, molesteer of onvoer nie, ‘n plek waar daar nie gevaarlike diere is om jou te byt nie, ‘n plek waar die duiwel jou nie kan versoek nie, ‘n plek waar jy nie teen die sonde van jou eie hart moet stry nie?

 

Ek sien uit na ‘n plek waar niemand honger of dors is nie, omdat daar meer as genoeg is om te eet en te drink, ‘n plek waar daar nie droogtes en hittegolwe is nie, ‘n plek waar jy nie so erg brand dat jy velkanker kry nie, ‘n plek waar jy gemaklik onder God se skaduwee sit, ‘n plek waar die perfekte lig van God se heerlikheid vir ewig sal skyn (v.16, 21:23, Jes.49:10, Ps.121:5-6, kontr. 16:8-9).

 

In die hemel, soos op die aarde, sal die Lam jou Herder wees. Die Lam is jou Herder (v.17, Jh.10, Mt.2:6, Ps.23:2, Jes.49:10)!  Hy sal jou na strome van lewende water toe lei (v.17, 21:6, 22:17, Jh.4:14, 7:37-38, Ps.36:9-10).  Jy het dus nie net vir Jesus nodig om jou te red of om jou veilig in die hemel te bring nie;  jy het Hom ook nodig sodat jy vir ewig in die hemel kan voortlewe – jy sal Hom vir die res van jou ewige bestaan nodig hê (v.17).

 

In hierdie wêreld huil ouers oor hulle rebelse kinders. Mense huil oor die ontrouheid van hulle huweliksmaats, oor die dood van ‘n geliefde, oor fisiese en emosionele pyn, oor gebroke verhoudings, oor die sonde wat ander mense teen hulle pleeg, en oor baie ander dinge.  Sal dit nie lekker wees om in ‘n plek te bly waar die trane van die groot verdrukking gelei het tot die vreugde van verlossing, en waar God die trane uit ons oë en van ons wange afvee nie (v.17, 21:4, Jes.25:8)?

 

[1] Ons sien dan dat die 4 lewende wesens nie presies dieselfde is as engele nie, en dat die 24 ouderlinge nie die verloste menigte is nie.

[2] Sermons of M’Cheyne, p.21

[3] Alfred Edersheim, The Temple: Its Ministry and Services as They Were at the Time of Jesus Christ, Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Co., 1980, p.95 aangehaal in David Chilton, Days of Vengeance, p.96