Cyril Ramaphosa, Egipte en die Messias

Cyril Ramaphosa

In ‘n desperate poging om leiding te soek, het Cyril Ramaphosa en die land se top 6 regerings amptenare besluit om hulle voormalige leiers se grafte te besoek.  Die koerant artikel sê:  ‘Ramaphosa said the party’s officials did what Africans do in the face of misfortune.  “We go back to our ancestors to talk to them,” he said.’[1]

 

Op Dinsdag, 9 Jan. 2018 het Ramaphosa en sy amptenare Walter Benson Rubusana – een van die eerste ANC leiers – se graf besoek en vir leiding gevra.  Hulle beplan ook om Nelson Mandela se graf te besoek en wysheid te vra.[2]

 

Dit laat my dink aan Saul en Israel wat hekse en towenaars besoek het om die dooies se hulp te vra (1Sam. 28, Jes. 8:19).  Hulle het enigiets gedoen, behalwe om die Here se hulp te vra.  In Jes. 31-32 sien ons hoe God se volk selfs Egipte (die land waar hulle slawe was!) se hulp gevra het, en hoe Jesaja hulle beveel het om na die Messias toe te draai.

 

Egipte (hfst. 31)

Toe ek jonk was het my ma kasette van ‘n sanger genaamd Steve Green gekoop.  In een liedjie sing hy:

 

Some trust in chariots

We trust in the Name of the Lord our God.

Some trust in horses

We trust in the Name of the Lord our God

 

Ek het eers nie geweet dat dit uit Ps. 20:8 kom nie.  Ek het ook nie geweet dat dit in Jes. 31:1 staan nie.  Volgens Jesaja is dit ernstig dat Juda op Egipte se perde en strydwaens vertrou het, en nie op die Here nie (31:1, Jer. 17:5, vgl. 2Kron. 1:16-17).

 

Die Here is nie teen perde en strydwaens nie.  Die probleem was eerder dat Juda Deut. 17:16 oortree het, en weer na Egipte toe teruggekeer het om perde te koop.  Die probleem was dat hulle nie die Here geraadpleeg het nie, maar hulle vertroue in Egipte se mag gestel het (31:1).

 

“Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.  Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (Ps. 33:17-18).  “Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.  Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.” (Ps. 147:10-11).  “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.” (Spr. 21:31).

 

Het Juda dan vergeet hoe die Here Egipte se perde en strydwaens by die Rooi See vernietig het (Eks. 14-15)?  En het Cyril Ramaphosa en die ANC leiers vergeet dat Nelson Mandela in Desember 2013 begrawe is, en dat Walter Rubusana ook dood is?  Kan die dooies die lewendes help?

 

En wat van ons?  Maak ons te veel staat op wetenskap en tegnologie om ons te help nie?  Wie het die Here nodig as jy ‘n slimfoon en Google het?  Ons dink dat ons slim is, maar hoe help hierdie dinge jou as die dood aan jou deur kom klop, of as ‘n tragedie jou gesin tref?  Kan ons land se voormalige leiers en Google die Wes-Kaap se droogte breek?  Of sal ons in sulke tye na die Here toe draai, maar weer na ons sonde toe terugkeer sodra Hy ons gebede verhoor het?

 

Volgens 31:2 is die Here baie wys.  Hy het nie menslike planne nodig om Hom te help nie.  As Hy iets gesê het trek Hy nie sy woorde terug nie (31:2, Num. 23:19).  Hy het belowe om sy vyande te oordeel, en sou dus teen die boosaards (Juda) en hulle helpers (Egipte) opstaan (31:2).  Hulle kon Hom nie keer nie.  Egipte was mens en nie God nie; hulle perde was vlees en nie gees nie (32:3).  Met die beweging van sy hand kon Hy die helper (Egipte) en een wat gehelp word (Juda) wegvee (31:3).

 

Hy kan ons ook maklik met die asem van sy mond doodmaak (Jes. 11:4).  Hy hoef net te dink of ‘n woord te spreek om ons uit te wis.  Hy het die wind, die weer, die see, die hemel, die aarde en alles daarin tot sy beskikking.  Hoe kan ons dan teen Hom baklei?  Kan sy vyande met vliegtuie, helikopters, missiele en koeëls teen Hom veg?  Kan vlees teen ‘n Gees wen?

 

Dalk is jy nie soos ‘n ateïs wat die Here vloek en teen Hom baklei nie.  Maar twis ons nie soms met die Here, omdat Hy nie dinge op ons manier doen, of omdat ons nie sy weë verstaan nie?  Maar hoekom wil jy poog om teen Hom te baklei as jy nie kan wen nie?  Met verwysing na Jakob se stoei geveg met die Here, sê R.C. Sproul:  ‘There are no draws with God, no split decisions.  When we wrestle with the Almighty, we lose,  He is the undefeated champion of the universe.’[3]

 

Duidelik is dit baie beter dat God vir jou is, as wat Hy jou vyand is.  Dit is beter dat Hy aan jou kant is, as wat jy op Egipte of enigiemand anders se vleeslike arm vertrou (2Kron. 32:8).  Want “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31).

 

Die Here wou hê sy volk moet hierdie waarheid verstaan.  Hulle het nie Egipte se hulp nodig gehad nie.  Die Here was soos ‘n leeu wat ‘n skaap vang:  Hy was nie bang vir ‘n klomp Assiriese herders wat probeer het om Hom te verdryf nie (31:4).  Hy sou uit die hemel neerdaal om op berg Sion of die heuwel van Jerusalem teen Assirië te veg (31:4).  Soos ‘n voël oor haar nes fladder om haar kleintjies te beskerm, sou die Here van die Leërskare Jerusalem beskerm, verlos, spaar en red (31:5, Deut. 32:11).

 

God het hierdie dinge gesê om sy volk aan te spoor om van Egipte af weg te draai na Hom toe (31:6, 1-3).  Hulle moes ook nie meer op hulle goue en silwer gode vertrou nie, maar op Hom (31:6-7, 2:20, 30:22).  Hý sou die Assiriese koning deur die swaard laat val, en sy dapper jong soldate soos slawe laat werk (31:8, 37:36).  Die weermag wat soos ‘n rots onder die Assiriese koning gestaan het, het meegegee (31:9).  Die Engel van die Here het op een nag 185 000 van hulle doodgemaak (37:36).  Die offisiere het paniekbevange gevlug en hulle oorlogsbaniere net so agterlaat (31:9).  Die Here het Jerusalem soos ‘n vuuroond beskerm en haar vyande verteer (31:9, 30:33, 33:14, Ps. 21:10, Heb. 12:29).

 

Ek wonder wat die Here met Suid-Afrika gaan doen?  Hoe lank sal Hy uithou met leiers wat grafte besoek en vir die duiwel vra om hulle te help?  Hoe lank sal ons nog doof wees en nie ag gee op die droogte, misdaad en brande nie?  C.S. Lewis het gesê:  ‘God whispers to us in our pleasures, speaks in our conscience, but shouts in our pain: it is His megaphone to rouse a deaf world.’[4]

 

Maar laat ons nie te gou wees om vir Ramaphosa te kritiseer nie.  Hoe gereeld bid jy dat die Here ons land se leiers sal red (1Tim. 2:1-7)?  Glo jy dat Hy jou gebede kan beantwoord, of doen jy dit bloot as ‘n formaliteit?  En wat van jou:  is jý gered?  Vertrou jý op die Here, en nie op iets of iemand anders om jou te red nie?  Hoop jy bloot op die Here vir tydelike dinge, of vertrou jy dat Hy jou van jou sonde en sy ewige oordeel sal red?

 

Die Messias (hfst. 32)

Toe Robert Mugabe aan die einde van verlede jaar tot ‘n val gekom het, het die nuwe leier belowe om die land weer op sy voete te bring.  Dalk hoop party mense dat Cyril Ramaphosa dit vir óns land sal doen.  Maar uiteindelik sal geen land ware vrede geniet, totdat die Messias sy vyande onder sy voete het nie.

 

Die Here het die koning van Assirië oorwin om sy eie Koning daar te stel (32:1).  Volgens Salomo en Jesaja sal die Messias in geregtigheid heers, en sal daar geen meer korrupsie wees nie (32:1, Ps. 72:1-4).  Christus en die prinse wat onder Hom regeer (die apostels en gelowiges wat saam met Hom oor die aarde heers, vgl. Matt. 19:28, Op. 2:26-27, 5:10) sal reg doen (32:1).  Hulle sal ‘n skuilplek teen die wind, en ‘n skuiling teen die storm wees (4:6, 25:4-5).  Soos strome in die woestyn en die skaduwee van ‘n groot rots, sal hulle mense se siele verkwik en verfris (32:2).

 

Deur die heerskappy van die Messias raak Hy mense se oë, ore, harte en tonge aan (32:3-4).  Jesus se genesing van blindes, dowes en stommes, is ‘n illustrasie van die geestelike herstel wat Hy gebring het.  Hy maak hulle harte oop om die waarheid te verstaan (32:4, 6:9-10, Eseg. 36:26, 2Kor. 4:4, 6).

 

Het jy dit al gesien?  Of het jy die terme al honderde kere gehoor, maar jy weet nie wat dit beteken nie?  Jy dink dat jy gered is, maar het nog nooit ‘n geestelike ‘aha!’ oomblik gehad nie.  Jy het nog nie erken dat jy geestelik doof, blind, dood en stom is nie, maar dink dat alles tussen jou en die Here reg is, omdat jy ‘n krisis beleef het, en Hy jou uitgehelp het.

 

Die vraag is of jy die waarheid sien en die Here se stem in die Bybel hoor.  Is dit soos kleure in die lente en musiek in jou ore, of lees jy dit, maar jy verstaan nie eintlik wat dit sê nie?  Is jy opgewonde as jy die goeie nuus van Jesus hoor, of ‘tune’ jy uit omdat jy dit al soveel keer gehoor het?

 

Tydens Christus se heerskappy sal die dwase en skelms nie meer geprys word nie (32:5, 5:20).  Deur die swaard van die Gees sal Hy hulle sonde uitwys, en sal almal weet dat hulle dwaas en moreel onverantwoordelik is (32:5-6, Luk. 2:35, Heb. 4:12-13).  Hulle slegte woorde, bose dade, en onsensitiwiteit teenoor die armes, sal vir almal wys dat hulle harte sleg is (32:6-7, Matt. 21:12-13, 25:42-45, Mark. 12:40, 42, Joh. 12:6).  Net so sal die edel persoon se planne ook in sy edele dade gesien word (32:8).

 

Vir tyd en wyl was Jerusalem se vroue nie edel nie.  Hulle was gemaklik asof die Here se oordeel nie oppad was nie, en asof niks met Jerusalem kon fout gaan nie (32:9, Amos 6:1).  Soos Jacob Zuma het dit hulle nie gepla dat die wêreld om hulle vergaan nie – solank húlle luuks kon lewe (32:9, 3:16).

 

Jesaja het vir hulle gesê om nie meer terug te sit nie, maar om op te staan en na sy woorde te luister (32:9).  Oor ‘n jaar of so sou die druiwe- en vrugte oeste nie inkom nie (32:10).  Gevolglik sou hulle sidder en nie meer soos rykes kon wyn drink en vrugte eet nie (32:11).  Die vyand sou hulle mooi klere afskeur en hulle in rouklere na ‘n vreemde land toe wegvoer (32:11, 3:24, 20:2-3).  A.g.v. die vernielde lande en wingerde, sou hulle volgens die antieke rou gebruik op hulle borste slaan (32:12, Luk. 18:13, 23:48).

 

God het die vrugbare land vervloek en dit met dorings en distels besaai (32:13, 5:6, 7:23, Gen. 3:18).  Die stad en paleis wat eens vreugdevol was het nou soos ‘n grot leeg gestaan (32:13-14, Luk. 21:24).  Daar was niemand in die wagtoring om die stad te bewaak nie (32:14).  Dit het ‘n plek vir wilde donkies en skape geword (32:14).

 

Ons land is nog nie so erg nie, maar as ons met ons sonde aanhou sal dit binne 15 of 20 jaar soos Zimbabwe lyk.  Soos Jerusalem se vroue en die president s’n, leef ons luuks.  Ons kla dat hy geld steel, maar ons dink dat ons die reg het om nie met die armes te deel nie, omdat ons eerlik vir ons geld werk.

 

Gauteng is stink ryk.  Ons ry karre wat oor ‘n miljoen rand kos, maar trek ons neuse op as ons R5 vir die karwag moet gee.  Ons sê dat ons sukkel as ons nie elke dag vleis eet nie.  Ons het ‘n verdraaide definisie van wat dit beteken om te sukkel.  As ek die Woord van God reg lees behoort ons baie meer dankbaar en vrygewig te wees… BAIE meer.

 

As Christene behoort ons dit nie net te doen nie, maar is ons heeltemal bevoeg om anders as die wêreld te lewe.  Jesus het immers die Heilige Gees soos reën op ons uitgestort (32:15, Joël 2:28, Hand. 2, Tit. 3:5-6).  Die transformasie wat Hy bring is so groot soos ‘n woestyn wat in ‘n vrugteboord verander, en dan in ‘n woud (32:15, 29:17, 35:1-2).

 

Mense wat vloek verander in mense wie se harte en monde gewas is.  Mense wat lieg verander in mense wat die waarheid praat.  Mense wat rondslaap verander in mense wat rein is.  Mense wat hulleself bo ander verhef verander in mense wat ander dien.  Mense wat ander haat verander in mense wat ander liefhet.  Mense wat moord pleeg verander in mense wat ander se lewens beskut en bevorder.

 

Mense wat hulleself liefhet verander in mense wat God liefhet.  Mense wat afgode aanbid verander in mense wat die ware God aanbid.  Mense wat God se Naam vloek verander in mense wat Hom prys.  Mense wat ondankbaar is en kla verander in mense wat dankbaar is.  Mense wat steel verander in mense wat eerlik werk en uitdeel.

 

Vra maar vir enige ware Christen of dit so is.  Dít is wat ons nodig het as ons wil hê ons land moet verander.  Om dooie mense se grafte te besoek gaan nie help nie.  Ons het die Heilige Gees nodig.  Dán sal daar reg en geregtigheid in die ‘vrugteboord’ en die ‘woestyn’ wees (32:16).  Dán sal mense die vrug van die Gees dra en nie meer in sonde lewe nie (Gal. 5:22-23).

 

Om hierdie geregtigheid te kry moet ons in Jesus Christus glo (Fil. 3:9).  Daar is nie ‘n ander manier om ‘n skoon gewete en vrede met God te hê nie (32:17, Rom. 5:1, Kol. 1:20).  En as ons vrede met God het, kan daar vrede in ons harte en in die samelewing wees (32:17-18).  Dit sal nie die vals rus en vrede wees wat Suid-Afrika se rykes geniet (v.9), of die vrede wat politieke leiers en die Verenigde Nasies bring nie.  Dit sal die ware vrede wees wat deur Jesus Christus na ons toe kom.

 

In die kerk geniet ons reeds iets hiervan.  Alhoewel ons nog nie perfek is nie, roof, moor en verneuk ons mekaar nie soos in die wêreld nie.  Ons het mekaar lief en leef in vrede met mekaar.  As die geregtigheid en die vrede van Jes. 32:16-18 nie vir jou kosbaar is nie, moet jy wonder of die Heilige Gees van Jes. 32:15 in jou hart woon.

 

As jy nie regverdig is en in vrede wil lewe nie, sal die haelkorrels van God se oordeel jou soos klippe uit ‘n kettie tref (32:19).  Net soos Assirië (die woud van 10:18, 33-34) en Jerusalem tot ‘n val gekom het, sal die Here jou verneder (32:19).  As jy jou egter bekeer sal daar voorspoed en vrede wees, en sal jy die Here se seën geniet (32:20).  Jy sal wees soos iemand wat langs ‘n rivier saai (32:20).  Daar is genoeg water om jou koring nat te lei en ‘n goeie oes in te bring; daar is genoeg weiding om jou osse en donkies te voer, sodat hulle jou in die lande en op die dorsvloer kan help (32:20).

 

In elke opsig sal jy vrugbaar wees.  Ek bedoel nie dat jy nooit probleme sal hê, of dat jy ryk sal wees nie.  Ek bedoel eerder dat die Here alles wat in jou lewe gebeur – selfs die beproewings en probleme – soos kunsmis in jou hart sal inwerk, sodat jy suksesvol is (Rom. 8:28).

 

Jy sal soos die man wees waarvan ons in Ps. 1:3 lees:  “En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

 

God is die Vader wat jou liefhet.  Jesus is die Verlosser wat jou sonde vergewe en jou gewete skoon was.  Die Heilige Gees is die Trooster wat sy blydskap, liefde en vrede in jou hart uitstort.  As die Here jou deel is, is jy baie meer suksesvol as iemand wat die baas van ‘n maatskappy is en die nuwe Range Rover ry.  Daar is ook meer hoop vir jou as vir Cyril Ramaphosa en ons land se leiers wat langs ‘n graf vol dooie bene staan.

 

[1] https://www.pressreader.com/south-africa/the-mercury/20180110/281586650993316

[2] Ibid.

[3] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Inc., Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p. 168

[4] C.S. Lewis, The Problem of Pain, HarperSanFrancisco, San Francisco, 1940; repr., 2001, p. 17

Jerusalem se toekoms

Donald Trump Jerusalem

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het verlede week ‘n uitlating gemaak wat die wêreld op hol gejaag het.  Hy het gesê:  “I have determined that it is time to officially recognize Jerusalem as the capital of Israel.”[1]  Islam, Westerse lande en die liberale media is hoogs ontsteld.  Die Jode juig, maar hulle blydskap is polities gedrewe.  Talle Christene glo dat die Here deur Trump besig is om sekere profesieë te vervul.

 

Wat moet ons hiervan maak?  Dit is so dat die Here ‘n plan met die Jode het, maar ons moet ook die volgende dinge in gedagte hou:

 

[1] Ek weet van ‘n sendeling wat na verskillende lande toe reis en die Jode aanspoor om na Israel toe terug te keer, sodat die profesieë vervul kan word.  Maar geen mens kan die Here manipuleer om die profesieë te vervul nie.  Dan. 11:14 praat van mense wat optree om ‘n visioen te vervul, maar onsuksesvol is.

 

[2] Toe ‘n kollega van my in Israel was, het twee vroue in sy toergroep gesê dat die Jode God se uitverkore volk is.  ‘Al hierdie Jode gaan hel toe,’ het my kollega gesê.  Die vroue was geskok:  ‘Hoe kan jy dit sê?’  ‘Hulle ontken dan dat Jesus die Messias is,’ het my kollega geantwoord.

 

God se volk bestaan uit Jode en heidene wat in Jesus glo (Rom. 2:28-29, 9:6-8, Gal. 3:7, 14, 16, 29, 6:16, Ef. 2:11-22, 3:6, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).  Om deel te wees van God se volk, moet die Jode in Jesus glo.  Die Jode wat Hom verwerp is nie God se uitverkore volk nie, maar kinders van Satan (Joh. 8:44).

 

Hou asb. hierdie dinge in jou agterkop as ons Jes. 30:18-33 bestudeer.

 

Jerusalem se voorspoed (v.18-26)

Volgens Amerikaanse verhoog kunstenaars, Europese leiers, Moslems en Ortodokse priesters, het Donald Trump dinge in Jerusalem vererger.  Maar volgens v.18-26 wag daar ‘n toekoms van voorspoed op die Jode wat in Jesus glo.

 

Toe Israel se vyande haar uitgedun het (v.17), het die Here haar jammer gekry en besluit om haar te herstel (v.18).  Hy wag vir die regte oomblik om dit te doen, om sy vyande regverdig te straf en sy kinders genadig te wees (v.18-19).  Hierdie seën is nie vir almal nie, maar vir dié wat op die vervulling van sy beloftes wag en Hom aanroep (v.18-19).  Sodra hulle Hom aanroep sal Hy hulle hulpgeroep hoor en hulle genadig wees (v.19, 65:24, Luk. 18:7-8).  Hulle sal nie meer treur nie, maar bly wees (v.19).

 

In die verlede was benoudheid Juda se brood en angs haar water (v.20).  Maar in die toekoms sal sy voorspoedig wees en haar Leermeester[2] sien (v.20-26).  Dit is vervul toe Jesus aarde toe gekom het, en Juda haar Leermeester of Rabbi gesien het (v.20, Matt. 26:18, Mark. 13:1, Joh. 13:13, 20:16, 1Joh. 1:1).  Sy het Hom egter verwerp, sodat Hy Homself verberg het (v.20, Joh. 12:36).

 

In die toekoms sal Hy Homself weer aan haar bekend maak (v.20, 29:24, Rom. 11:26-27).  Deur sy Woord en Gees sal Hy haar op die regte pad lei (v.21, vgl. Ps. 119:105, Jer. 31:33, Joh. 14:26, 16:13-15).  So sal sy weet dat Hý die Here is; sy sal nie meer op afgode vertrou om haar te help nie (v.22, 2:20).

 

A.g.v. Israel se bekering sal sy materiële voorspoed geniet (v.23-26).  In die dag wat die Here sy volk seën en haar vyande laat val, sal Hy reën, goeie oeste, voer, weiding en waterstrome gee (v.23-25).  Hy sal die wonde van haar tugtiging genees (v.26, 1:5-6, 61:1-4, Ps. 147:3), die son en maan van sy guns oor haar vermenigvuldig (v.26, 60:19, Mal. 4:2, Luk. 1:78, Joh. 8:12).

 

Hoe moet ons Jesaja se woorde op onsself toepas?

 

[1] Wanneer dit met ons sleg gaan, betwyfel ons die Here se goedheid.  Maar volgens Jesaja ontferm Hy Hom oor ons, en is Hy gretig om aan ons goed te doen (v.18).  Wag dus geduldig op die Here totdat Hy jou help (v.18, 40:31, Ps. 123:2).  Glo dat sy beloftes waar is, en dat Hy nie van jou vergeet het nie (Ps. 27:14, 130:5).

 

[2] Moenie vergeet om vir die Jode te bid nie (Ps. 122:6, Rom. 10:1).  Bid dat die Here Homself aan hulle sal openbaar, dat hulle hulle sal bekeer, en dat Hy hulle sal vergewe (v.19-22).  Bid dit ook vir jouself as jy nog nie tot bekering gekom het nie.  Wat het jou sonde oor die afgelope paar jaar vir jou gedoen?  Niks; dit het net hartseer veroorsaak.  As jy egter na die Here toe draai, sal Hy die trane van jou oë afvee (v.19).

 

As jy sy Naam aanroep sal sy genade soos reën op jou val (v.19).  Hy sal jou hulpgeroep hoor en Jesus se soendood in jou plek aanvaar (v.19, Rom. 10:13).  Hy sal sy Gees stuur om jou op die regte pad te lei (v.21).

 

[3] Is daar dinge in jou lewe wat keer dat jy na die Here toe kom, dat jy Hom voluit dien of dat jy geestelik groei?  Dalk is dit voorspoed, sukses en vreugde.  Ironies kan dit jou nie gelukkig maak as jy dit verafgod nie.  Eers as jy jou daarvan bekeer en jou vreugde in die Here vind, sal jy ware voorspoed en sukses geniet (v.22, 23-26, Ps. 1:1-3, 37:4).

 

[4] Materiële rykdom moet nooit die trek pleister wees vir hoekom jy die Here dien nie, maar partykeer is dit die direkte gevolg daarvan.  Tydens ‘n herlewing geniet mense God se geestelike rykdom (Joh. 10:10, 2Kor. 8:9, Ef. 1:3).  Soms lei dit ook tot materiële voorspoed (v.23-26, Ps. 85:7, 12-13).  God seën die land met reën, en mense se werk etiek verander.  Hulle is nie meer lui of skelm nie, maar hardwerkend en eerlik.  Dit het ‘n positiewe effek op die ekonomie, sodat die land suksesvol is.

 

[5] Israel se ongehoorsaamheid het haar gebreek; God het haar met ‘n harde hou geslaan.  Deur Israel se geskiedenis het sy een ramp na die ander beleef.  In die boek Rigters het haar bure haar verniel, en in die profete se tyd het die Babiloniërs en Assiriërs dit gedoen.  Omtrent 160 jaar v.C. het Antiochus Epifanes der duisende Jode vermoor.  In 70 n.C. het die Romeine 1.1 miljoen van hulle uitgewis.  Die Moslems baklei al vir meer as 1000 jaar met hulle.  In die 20ste eeu het Adolf Hitler sowat 6 miljoen Jode doodgemaak.  In ooreenstemming met God se belofte in Deut. 4:27, 28:64, het Hy die Jode oor die hele aarde verstrooi.

 

Maar in die toekoms sal die Here hulle vergewe, herstel en hulle gebroke harte genees (v.26).  Dit het reeds in Hand. 2:5 e.v. begin, toe Jode uit elke nasie onder die hemel vir die Pinksterfees in Jerusalem was, en tot bekering gekom het.  Aan die einde van die dae sal God sy verbond met Abraham, Isak en Jakob onthou, die Jode red, en hulle terugbring na hulle land toe (Deut. 4:29-31, Rom. 11:25-29).

 

Wanneer dit gebeur sal groot getalle Indiërs, Chinese, Arabiere, Zoeloes, Afrikaners, Koreane, Skotte, Grieke, Duitsers, Russe, Vendas en mense uit alle nasies tot bekering kom.  Soos onder die Jode, sal daar ook onder die heidene ‘n herlewing wees (Eseg. 37:1-14, Rom. 11:12, 15).  ‘And Christ will have the prize for which he died:  An inheritance of nations.’[3]

 

Christus sal ‘n groot nageslag hê, voorspoedig wees, die moeitevolle arbeid van sy siel sien en versadig word, baie regverdig maak, nasies erf, die eindes van die aarde as sy besitting verkry, ‘n ontelbare menigte van volke wat Hom aanbid, konings wat Hom prys en bewonder (49:7, 53:10-12, Ps. 2:8, 22:28, 67:4-5, 72:10-11, 86:9, 138:4-5, Op. 7:9).  Hulle sal sy heerlikheid sien, ‘n heerlikheid wat helderder as sewe sonne skyn (v.26, 24:23, Joh. 17:24, Hand. 26:13, Op. 21:23, 22:5).

 

Jerusalem se vyande (v.27-33)

Hannes ry teen 280 km/h in sy BMW 760li oor ‘n spoedlokval.  Die jong verkeerskonstabel is so geskok dat hy sommer die verkeershoof bel.  Dié sê vir hom om die man te arresteer en na die naaste polisie stasie toe te vat.  Die verkeerskonstabel is so kwaad vir Hannes dat hy hom klap, sy BMW se leer banke stukkend sny, en die deur vol gate skiet.  Alhoewel die verkeershoof gesê het hy moet vir Hannes arresteer, het hy nie vir hom gesê om hom te mishandel of sy kar te verniel nie.  Nou sal die gereg nie net vir Hannes straf nie, maar ook die konstabel wat hom gearresteer het.

 

Die Here is so.  Hy het goddelose Jerusalem se vyande teen haar gestuur.  Maar Hy het nie vir hulle gesê om boos te wees nie.  Daarom het die Here besluit om nie net sy volk te straf nie, maar ook haar vyande.  Sy Naam en die volle openbaring daarvan in Christus sal van die hemel af teen hulle kom (v.27, Ps. 18:10-11).  In sy vurige toorn sal Hy soos swaar donderwolke teen hulle kom; “sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos ‘n verterende vuur” (v.27).  Hy sal hulle dus met die skerp swaard van sy Woord doodmaak en in die hel werp (v.27, 11:4, Heb. 4:12, Op. 19:15).

 

Die vloed van sy oordeel sal tot by hulle nekke kom, sodat hulle daarin verdrink (v.28, vgl. 8:8).  Met sy alsiende oë sal Hy die nasies se boosheid uitsif en hulle straf (v.28, Pred. 12:14, Matt. 3:12, Rom. 2:16).  Met ‘n toom in hulle kakebene sal Hy hulle na die plek van verwoesting toe lei (v.28, 37:29).  As dit gebeur sal God se volk ‘n lied sing (v.29).  Sy sal bly wees soos tydens die Pasga toe die Here haar uit Egiptiese slawerny verlos het (v.29).  Dit sal klink soos mense wat op fluite speel terwyl hulle op pad is na berg Sion toe om die Here, die Rots van Israel, te aanbid (v.29).

 

Jerusalem se vyande sal nie die musiek hoor nie, maar die Here se stem vol van majesteit (v.30).  Hulle sal sien hoe sy kragtige arm – die Messias (51:9, 52:10, 53:1) – neerdaal om hulle te oordeel (v.30).  Hulle sal sy vurige woede sien (v.30).  Dit sal so verwoestend wees soos ‘n verterende vuur, ‘n wolkbreek en ‘n haelstorm (v.30).

 

Die vrees wat die Assiriërs beetgepak het toe hulle die Here se stem hoor en sy roede voel, sal oor al God se vyande kom (v.31, hfst. 37).  Hy het hulle as ‘n roede teen die Jode gebruik (hfst. 10), maar eendag sal die tafels draai (v.32).  Elke hou wat Hy teen sy vyande (bv. Assirië) bestem het, sal onder die geklank van tamboeryne en liere op hulle val (v.32).  Dit is asof God se houe die drom is, terwyl sy volk die melodie maak.  God se volk sal juig, bly wees en feesvier wanneer die Here sy arm teen haar vyande uitstrek (v.32, Eks. 15:20-21).  Hy het Tofet vir hulle voorberei (v.33).  Wat beteken dit?

 

Tofet was ‘n plek in die Hinnom vallei buite Jerusalem.  Hier het mense hulle kinders vir Molog geoffer (2Kon. 23:10, Jer. 7:31).  Jesaja gebruik hierdie beeld om te sê dat God ‘n brandstapel vir die koning van Assirië gereed gekry het (v.33).

 

Alec Motyer sê dat die Assiriese koning wat op Jerusalem afgestorm het, as’t ware sy eie begrafnis brandstapel uitgeklim het.  Die Assiriërs het nie besef dat hulle vordering na Jerusalem die begrafnis stoet was wat hulle na die brandstapel toe gelei het nie.[4]

 

Natuurlik is v.33 ‘n voorskou van die hel, wat die bestemming van al God se vyande is (2Pet. 2:6, Jud. 7).  God self sal die brandstapel laai, sodat dit diep en wyd is (v.33).  Sy asem sal die stroom van swael wees wat dit aan die brand steek (v.33, Ps. 18:9).  Uit Jesus se lering weet ons dat hierdie vuur nie geblus sal word nie, maar dat dit vir ewig sal brand (Matt. 3:12, Mark. 9:43-48).  Johannes stel dit nog meer grafies:  “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie” (Op. 14:11).

 

Hoe kan jy hierdie oordeel vryspring?  Volgens sommige mense moet jy pro-Israel wees om hemel toe te gaan.  Natuurlik beteken dit ook dat jy aan Donald Trump se kant van die debat moet wees.  Dit is hoe hierdie mense Matt. 25:31-46 interpreteer:  as jy goed was vir die Jode (Jesus se broers, volgens hulle), was jy goed vir Jesus en gaan jy hemel toe.  As jy die Jode geïgnoreer het, het jy vir Jesus geïgnoreer en gaan jy hel toe.

 

Natuurlik moet ons alle mense liefhê (ook die Jode).  Maar hoe jy oor Israel en die eindtyd dink, bepaal nie of jy hemel toe gaan of nie.  As dit so was beteken dit dat sommige post- en amils hel toe gaan, net omdat hulle nie premil is nie.[5]  Ons weet dat dit nie waar is nie, maar dat Jesus, sy kruisdood, opstanding, en jou verhouding met Hom jou bestemming bepaal.  As jy in Hom glo om jou van jou sonde en God se vurige toorn te red, gaan jy hemel toe.  As jy Hom verwerp, met jou sonde aanhou, op jouself en jou eie pogings vertrou om in die hemel te kom, gaan jy hel toe – so eenvoudig soos dit.  Hoekom is dit so?

 

Toe Jesus in ons plek aan die kruis gehang het, het God se toorn en die stormwolke van sy oordeel teen Hom gekom (v.27).  “En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê…My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:45-46).  Dis asof die vuur van God se oordeel Hom verteer het, en Hy in die vloed van sy toorn verdrink het (v.27-28, 33).

 

God het Hom soos koring uitgesif en gestraf (v.28).  Soos jy ‘n perd met ‘n toom lei, het Hy sy Seun na die kruis toe gelei (v.28).  Daar het Hy “sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ‘n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.” (v.30).

 

Jesus was vreesbevange toe die Vader se roede Hom tref (v.31).  “Toe sê Hy vir hulle:  My siel is diep bedroef tot die dood toe… En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê:  My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil… En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” (Matt. 26:38-39, Luk. 22:44).

 

Iemand het gesê:  ‘Golgota is waar Jesus se liggaam gekruisig is; Getsemane is waar sy siel gekruisig is.’  Hoe moet ons dit verstaan dat die Vader sy sterk arm ontbloot het om teen sy eie Seun te veg (v.32)?  Steve Green en Twila Paris sing:

 

This must be a cross of love
for God to bruise His only Son.
Jesus, what a sacrifice to reach us.
It had to be a cross of love.[6]

 

Deur die Vader en die Seun se liefde in die Heilige Gees, kan jy die vuur van Jes. 30:33 vryspring.  Jerusalem sal dit ook vryspring as sy in geloof na die Messias toe draai, en dit haar berou dat sy Hom gekruisig het.  Jerusalem soos ons dit tans ken sal nie vir haar die belangrikste wees nie; sy sal op die hemelse Jerusalem fokus (Gal. 4:26, Heb. 11:10, 16, 12:22, 13:14, Op. 21).  Die waarheid van Isaac Watts se lied sal in haar hart weergalm:

 

We’re marching to Zion,
Beautiful, beautiful Zion;
We’re marching upward to Zion,
The beautiful city of God.[7]

 

[1] https://www.theguardian.com/us-news/2017/dec/06/donald-trump-us-jerusalem-israel-capital

[2] Die Ou Vertaling praat van leermeesters in die meervoud, maar een kommentator sê:  ‘The translation teachers is permissible, but the context requires the singular, which the form also allows, i.e. ‘your Teacher’, referring to the Lord as the law/instruction-giver (Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 250).  In Motyer se voetnota op hierdie bladsy, gee hy ‘n tegniese verduideliking van die Hebreeus.

[3] Keith Getty & Stuart Townend, O Church Arise, Copyright © 2005, Thankyou Music

[4] Motyer, Ibid., p. 251, 253

[5] Pre-, post- en amil is verskillende sienings oor die eindtyd.  Premils glo dat Israel ‘n spesiale plek in die toekoms het.  Sommige post- en amils glo dat baie Jode in die toekoms gered sal word, maar baie van hulle verwerp hierdie siening.

[6] Geskryf deur Bob Farrell en Greg Nelson

[7] Come, we that love the Lord deur Isaac Watts (1674-1748).  Die koortjie is blykbaar deur Robert Lowry (1826-1899) bygevoeg.

Moet Christene Kersfees vier?

Jesus or Santa

Toe ek op hoërskool was, was daar ‘n gesin in ons gemeente wat nie Kersfees gevier het nie.  ‘n Paar jaar gelede het iemand vir my gesê dat Kersfees van ‘n heidense feesdag af kom.  Omtrent ‘n maand terug het nóg iemand dit vir my gesê.  In die afgelope week het ‘n kollega my oor die saak genader, omdat iemand in sy gemeente hom hieroor aangevat het.

 

Die vraag is dan of Christene Kersfees moet vier?  Wat as hierdie mense reg is, en dit van ‘n heidense feesdag af kom – moet ons dit dan nog vier?  Mag ons dit vier, maar net nie op 25 Desember nie?  Indien ons dit wél mag vier, hoe moet ons dit doen?  Mag ons kersbome, liggies, geskenke en Kersvader hê?

 

Terme soos Kersfees, 25 Desember, kersboom en Kersvader kom nie direk in die Bybel voor nie, en daarom moet ons sekere Bybelse beginsels volg om tot ‘n besluit te kom.  Ek probeer nie om ‘n debat te wen nie, maar om te help dat jy met ‘n rein gewete oor die saak kan besluit.  Ek hoop ook om vir jou te wys dat die kwessie nie so swart en wit is soos party mense dink nie; dit is baie meer grys as wat ons bereid is om te erken.

 

Ek wil begin deur te wys hoekom Christene 25 Desember gekies het as die dag waarop hulle Jesus se geboorte vier.  Daarna wil ek Kersfees in 2017 bespreek, en Bybelse riglyne gebruik wat ons sal help om die saak reg toe te pas.

 

Hoekom 25 Desember?

Toe die kerk in die eerste paar eeue n.C. deur die Romeinse Ryk versprei het, het dit in twee groepe bestaan.  Ek bedoel nie dat dit verdeeld was nie, maar dat dit in sekere geografiese gebiede verdeel is.  Die kerk in Israel, Sirië, Egipte, Persië, Turkye (dit het uit verskeie provinsies bestaan) en Griekeland het in die ooste gelê, terwyl die kerk in Italië, Frankryk, Spanje, Brittanje en Noord-Afrika in die weste was.[1]  Een van my gunsteling geskiedkundiges (Nick Needham) reken dat die Westerse kerk in 336 n.C. begin het om Kersfees op 25 Desember te vier.  Volgens hom is hulle deur die heidene beïnvloed.  Omtrent 60 jaar voor hierdie datum (in 274 v.C.) het keiser Aurelianus ‘n tempel vir die son gebou.  Hy het ‘n fees ingestel om die son se geboorte te vier, en dit Natale Solis Invicti genoem:  die geboorte van die onoorwonne son.  Hierdie fees was baie dieselfde as Saturnalia wat voor dit gehou is.  Tydens die fees het mense kerse aangesteek en geskenke uitgedeel.[2]

 

Maar is dit ‘n feit dat Christene a.g.v. hierdie feeste begin het om Jesus se geboorte op 25 Desember te vier?  Nee.  Saturnalia is immers nie op 25 Desember gehou nie, maar op 17-23 Desember.[3]  Dit mag wees dat Solis Invicti op 25 Desember gehou is, maar volgens Williston Walker was die kerk se viering van Kersfees ‘n reaksie hierop.  Hulle wou wys dat Jesus die Son van Geregtigheid is wat aanbid moet word (Mal. 4:2).[4]

 

Volgens Alvin Schmidt het die kerk in Noord Afrika (veral in Egipte) 30 jaar voor Solis Invicti (243 v.C.) al Christus se geboorte op 25 Desember gevier.[5]  Dit is dan nie ‘n voldonge feit dat Kersdag uit Aurelianus se heidense fees uit ontstaan het nie.  Omtrent 70 jaar voor Solis Invicti, het Hippolytus van Rome (170-235 v.C.) gesê dat Jesus op 25 Desember gebore is.  Clement van Alexandrië (150-215 n.C.) het geglo dat Jesus naby aan hierdie datum op 6 Januarie gebore is.[6]

 

Dit is dan glad nie onmoontlik dat Jesus op of naby 25 Desember gebore is nie.[7]  Ons weet dat Jesus tussen 6 en 4 v.C. gebore is (die persone wat ons kalender ontwikkel het, het ‘n berekeningsfout gemaak).  Koning Herodes het op 12 April in die jaar 4 v.C. gesterf.  Josefus sê dat daar kort voor sy dood, op 13 Maart 4 v.C., ‘n maansverduistering was.[8]  Voor Herodes se dood is Maria ook saam met Jesus en Josef Egipte toe.  Ons moet nog plek los vir die 40 dae van Maria se reiniging na Jesus se geboorte (Lev. 12:1-4, Luk. 2:21-22), vir Herodes wat die babas onder 2 vermoor het en vir die wyse manne wat Jesus besoek het.  Altesaam kon hierdie dinge maklik 3 maande gevat het, wat ons terugvat na die einde van Desember toe.

 

Die Betlehem ster dui ook aan dat Jesus moontlik in Desember gebore is.  ‘n Christen wetenskaplike genaamd Johannes Kepler (1571-1630) het gesê dat die ster waarskynlik die oorvleueling van Jupiter en Saturnus was.  Hierdie oorvleueling gebeur elke 800 jaar.  Twee jaar voor Jesus se geboorte kon dit drie keer gesien word:  Mei, Oktober, en Desember (vgl. Matt. 2:7, 16).  Die jaar daarna kon Mars saam met die ander twee planete gesien word.  Kepler het dit ook in sy leeftyd gesien.

 

Tydens hierdie oorvleueling verskyn daar ‘n helder gekleurde ster tussen Jupiter en Saturnus (volgens Kepler se eie getuienis).  In die Chinese geskiedenis lees ons van so ‘n ster wat in Februarie van die jaar 4 v.C. in die noordelike hemel verskyn het.[9]  Dit mag miskien dieselfde ster wees wat die wyse manne gesien het.  Onthou asb. dat die wyse manne nie op die nag van Jesus se geboorte saam met die herders by die krippie was nie.  Volgens Matt. 2:11 was Jesus in ‘n huis toe die wyse manne Hom besoek het.  Dit is moontlik dat Hy naby aan 25 Desember gebore is, en dat die wyse manne Hom ‘n week of ‘n maand later gesien het.

 

‘n Algemene beswaar is dat Desember koud is die noordelike halfrond, en dat die herders nie op ‘n wintersnag buite in die veld sou wees nie.  James Kelso is ‘n argeoloog wat vir ‘n paar jaar in Israel gebly en gewerk het.  Volgens hom bly die skaapwagters juis in die veld, omdat Israel ‘n winter reënval het.  Terwyl die weiding groen is, wil hulle die maksimum voeding vir hulle skape kry.  Hy sê dat dit ‘n algemene gesig is om in dié tyd die herders met hulle skape in die veld te sien.[10]

 

William Hendriksen vertel van ‘n Nederlandse Nuwe Testament teoloog (Dr. Harry Mulder) wat op 16 Januarie 1967 die volgende brief geskryf het:  ‘During the brief Christmas vacation my wife and I traveled from Beirut…to Jerusalem. In this connection I can also answer your question regarding the presence of sheep around Bethlehem in the month of Desember…Right near us a few flocks of sheep were nestled.  Even the lambs were not lacking…It is therefore definitely not impossible that the Lord Jesus was born in December.’[11]

 

Alfred Edersheim gee nog vier punte om te wys dat Jesus op of naby 25 Desember gebore is.[12]  My punt is nie om oor ‘n datum te stry, of eers te sê dat 25 Desember noodwendig die presiese datum is nie.  Ek probeer eerder om te wys dat ons nie te maklik moet sê dat Kersdag op 25 Desember van ‘n heidense feesdag af kom nie.  Maar selfs as Kersdag ‘n reaksie op keiser Aurelianus se fees was, vier Christene dit nog steeds nie as ‘n aanbidding van die songod nie.  Ken jy Christene wat op 25 Desember die son aanbid?

 

As ons Kersfees moet vermy omdat die heidene op hierdie datum fees gevier het, moet ons op geen dag van die jaar fees vier nie, aangesien die heidene al ons weeksdae na hulle gode vernoem het.  Sunday en Monday gaan oor die aanbidding van die son en die maan.  Tuesday is afgelei van Tiwaz’s day, wat die Germaanse god van oorlog was.  Wodin (Wodin’s day of Wednesday) was hulle oppergod, Thor die god van donderweer (Thor’s day of Thursday), Freya die vrugbaarheidsgodin (Freya’s day of Friday), en Saeter die watergod (Saeter’s day of Saturday).[13]

 

Ek stem dus dat dit nie verkeerd is om op 25 Desember fees te vier en bly te wees dat Jesus aarde toe gekom het om ons te red nie.  Hóé ons dit doen is wat die verskil maak.

 

Wat van Kersfees in 2017?

Daar is ‘n Engelse gesegde wat sê:  ‘In essentials unity, in non-essentials liberty, in all things charity.’  Daar sit ‘n groot mate van waarheid hierin.  Ons moenie soos Tukkies se liberale professors die maagdelike geboorte ontken, of sê dat Jesus nie ten volle God en ten volle mens is nie.  Hierin moet ons een wees.  Ons mag egter oor dinge soos Kersfees verskil, maar ons moet dit in ‘n gesindheid van liefde doen.

 

Dit is die punt wat Paulus in Rom. 14 wil maak.  Hy gebruik wel sekere kossoorte en spesiale dae as voorbeelde, maar die beginsels wat hy in hierdie hoofstuk neerlê geld vir enige grys area (dinge wat nie swart en wit is nie, waaroor die Bybel nie eksplisiet praat nie).  Kersfees val in hierdie kategorie.  Die Bybel beveel ons nie om dit te vier nie, maar dit verbied ons ook nie.  Ons is dus vry om dit te vier… of nie.  “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk.  Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” (Rom. 14:5).

 

Besluit dan wat jy wil glo, en moet dit nie vier as jy onseker is nie (Rom. 14:23).  Moet ook nie met ander mense stry, hulle oordeel, op hulle neersien, of jou siening op hulle wil afdwing nie (Rom. 14:1-4).  Los jou broer as hy nie met jou saamstem nie; die Here sal hom help (Rom. 14:4).  Moenie die regter wil wees aan wie mense hulle standpunte moet verduidelik nie – los dit vir die Here (Rom. 14:10-12).  Sorg jý net dat jy Kersfees vier of vermy, omdat jy die Here wil eer (Rom. 14:6).

 

‘Maar moet Christene Kersfees vier as dinge soos kersbome, kersliggies, geskenke en Kersvader ‘n heidense afkoms het?’ wil iemand weet.  Nie almal stem saam oor waar hierdie dinge vandaan kom nie.  Volgens sommige het Martin Luther ‘n boom afgekap en dit met liggies versier, omdat hy die sterrehemel bo die dennebome vir sy kinders wou uitbeeld.

 

Ander dink weer dat Bonifacius dit in die 8ste eeu begin het.  Hy het blykbaar gesien hoe die heidene hulle kinders tydens die winter fees onder die eikebome offer.  Hy het vir hulle gesê om eerder ‘n denneboom af te kap, dit huis toe te vat en saam met hulle kinders fees te vier.[14]

 

Ander koppel dit aan heidense gebruike.  In 2006 het iemand Tiaan Gildenhuys se ‘Maak jou huis skoon’ DVD vir my geleen.  Daarin het hy gesê dat kersbome ‘n oortreding van Jer. 10:3-4 is, omdat Israel bome afgekap, en dit met goud en silwer versier het.  Maar as hy die konteks gelees het, sou hy gesien het dat dit nie oor kersbome gaan nie, maar oor afgode.  Nie Jeremia óf sy lesers het naastenby gedink dat dit oor kersbome gaan nie.  Ek weet ook nie van enige gelowiges wat op 25 Desember sy of haar kersboom aanbid nie.

 

Wat geskenke betref hoef ons nie te dink dat dit van die heidene afstam nie.  Soos die wyse manne geskenke vir Jesus gebring het, kan ons vir mekaar geskenke gee.  Dit verheerlik die Here as ons dit doen, want as ons met mekaar deel, deel ons ook met Jesus (Matt. 25:40, 35-39).  Ons moet egter versigtig wees dat ons nie net op Kersdag goed doen nie; ons moet aanhoudend met ander deel (Heb. 13:16).

 

Wat van Kersvader of Sinterklaas (‘Santa Claus’)?  Blykbaar kom dit van ‘n Christen in die vierde eeu wat Nicholas genoem is.  Hy was van Myra in Turkye.  Sy ouers het gesterf toe hy jonk was, en hy het ryk geërf.  Hy het sy rykdom gebruik om arm mense te help.  Hy is op 6 Desember 343 n.C. oorlede.[15]  Ander reken weer dat Kersvader van Nicholas van Sion af kom.  Hy het in die sesde eeu geleef, en elke jaar op 6 Desember vir kinders geskenke uitgedeel.[16]

 

Ek is nie seker wie reg is nie, maar in ons tyd is dit ‘n feit dat Kersvader die aandag van Jesus aftrek.  Kinders beskou hom as ‘n tipe god wat alles van hulle af weet:  ‘He sees you when you are sleeping, he knows when you’re awake, he knows when you’ve been bad or good, so be good for goodness sake.’[17]  Kersvader verdraai ook ons kinders se siening van God, omdat hulle volgens die legende goed genoeg moet wees om sy guns te verdien (kontra. Rom. 5:8).

 

Verder verwar dit hulle, omdat jy na 6 of 7 jaar vir hulle sê hy nie regtig bestaan nie.  En hoekom moet hulle jou dan glo as jy vir hulle sê dat Jesus regtig is?  Clint Archer skryf:  ‘I never want my children to have this existential monologue in junior high:  “Daddy told me about a six day creation, virgin birth, Easter Bunny, Santa Claus, angels, and fairies.  Then he said he was only joking about half the stuff.  I felt gullible for falling for it.  Mmm.  I wonder if my science teacher is right about Evolution?  What other nonsense has been fed to me as fact?”’[18]

 

Ek dink dit sal beter wees as ons heeltemal van Kersvader ontslae raak, sodat ons op Jesus kan fokus.  John Piper sê:  “Christmas is first Christ, second Christ, third Christ, and again and again Christ!”[19]  Moet dus nie vir jou kinders oor Kersvader jok nie, maar vertel eerder vir hulle hoe goed en vrygewig Jesus Christus is.

 

As jy Kersfees soos die wêreld vier sal jou kinders nie Jesus in jou sien nie, al jy ook vir hulle dat dit oor Hóm gaan.  Wat ek bedoel is dat jy nie aan die een kant ‘n erediens kan bywoon, terwyl jy aan die ander kant ‘n wilde partytjie hou, hope geld mors, en fokus op wat jy vir jouself kan kry nie.

 

Onthou eerder dat Kersfees – en eintlik jou hele lewe – oor Christus gaan.  “Want vir my is die lewe Christus” (Fil. 1:21).  Vir Christene is Kersfees net nóg ‘n geleentheid om die goeie nuus van Jesus Christus met mense te deel.  Dit maak jou nie meer of minder geestelik, omdat jy Kersfees vier of nie (1Kor. 8:8, Gal. 4:10, Kol. 2:16-17).  Eintlik is die vraag nie eers of jy Kersfees vier nie, maar of jy vir Jesus Christus ken?  Dit help nie dat jy Kersfees vier of vermy, as jy die res van die jaar in sonde lewe nie.  Jou standpunt oor Kersfees beteken niks as jy nie die evangelie verstaan nie.

 

Wat maak dit saak as jy die datum van Jesus se geboorte ken as jou sonde nie vergewe is nie?  Jou siening oor Kersfees maak nie ‘n verskil as jy nie die ware betekenis van Jesus se geboorte, lewe, kruisdood en opstanding verstaan nie.  Weet jy dat die Jesus die ware God is, dat Hy uit ‘n maagd gebore is, en dat Hy volkome mens geword het?  Weet jy dat Hy ‘n sondelose lewe gelei het?  Weet jy dat Hy op Golgota die straf vir sondaars gedra het?  Weet jy dat Hy gesterf het, begrawe is en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het?

 

Weet jy dat jou sonde Hom bedroef en dat jy sy ewige oordeel verdien?  Weet jy dat Hy jou sal vergewe as jy jou sonde haat, jou bekeer en op Hom vertrou om jou daarvan te red?  Nou waarvoor wag jy dan – wil jy Hom nie vandag vra om jou te red nie?  Jy sal nie spyt wees nie.  Die fees wat jy eendag in die hemel sal vier, sal beter wees as enige fees wat jy al ooit op die aarde gevier het (of jy nou in Kersfees glo of nie).

 

Jy sal agterkom dat Jesus se vleeswording in Betlehem maar net die agterdeur was om jou na beeldskone, asemrowende en ruim paleis van sy heerlikheid toe te lei.  Jy sal in groter verwondering oor sy heerlikheid wees, as wat die herders en engele dit op daardie eerste Kersfees nag was.  Dan sal jy nie omgee op watse dag Jesus gebore is nie.  Jy sal net bly wees dat God aarde toe gekom het om sondaars te red.  Saam die engele in Luk. 2:14 sal jy sê:

Eer aan God

in die hoogste hemele

en vrede op aarde,

in die mense ‘n welbehae!

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, Kaarte op openingsbladsye

[2] Ibid., p. 146, 181 en Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004, pp. 377-378

[3] Ibid.

[4] Williston Walker, A History of the Christian Church: 4th Edition, T&T Clark Ltd., Edinburgh: Scotland, 1919, 1986, p. 120

[5] Schmidt, Ibid.

[6] http://thecripplegate.com/is-christmas-rooted-in-paganism/

Robert T. Beckwith, Calendar and Chronology, Jewish and Christian: Biblical, Intertestamental and Patristic Studies, E.J. Brill, Leiden: The Netherlands, 1996, pp. 70-79; Susan K. Roll, Toward the Origins of Christmas, Kok Pharos Publishing House, The Netherlands, 1995; http://penelope.uchicago.edu/~grout/encyclopaedia_romana/calendar/invictus.html

[7] Alfred Edersheim, The Life and Times of Jesus the Messiah, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI: Christian Classics Ethereal Library, 1953, Appendix VII (On the date of the Nativity of our Lord), pp. 1527-1529

[8] Falvius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews, Book 17, 6:4 en voetnota, Kregel Publications, Grand Rapids: Michigan, 1960, p. 365

[9] Edersheim, Ibid., pp. 631-632

[10] James Kelso, An Archaeologist Looks At The Gospels, pp. 23-24 aangehaal in https://bible.org/article/should-christians-celebrate-christmas.  Sien ook Edersheim, p. 611 en voetnota 954

[11] Aangehaal in William Hendriksen, Matthew: New Testament Commentary, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971, p. 182

[12] Edersheim, pp. 1527-1529

[13] Needham, p. 288

[14] Schmidt, pp. 385-386

[15] https://calledconvictedconverted.com/2013/12/02/redeeming-santa-claus/

[16] Schmidt, p. 393

[17] Aangehaal in http://thecripplegate.com/christmas-confessions-why-lie-to-kids-about-santa-claus/

[18] Ibid.

[19] https://www.desiringgod.org/articles/how-we-see-christmas-symbols

Evolusie, rassisme en die beeld van God

Evolution and racism

Die rassehaat in ons land loop dik.  Tydens my verlof het ek baie daaroor gelees, gebid en dit met my vrou en kinders bespreek.  Elke nou en dan hoor ‘n mens van iemand wat a.g.v. rassistiese opmerkings in die moeilikheid beland.

 

Afrikaners dink dat dit eensydig is, terwyl die meeste Afrika stamme in die verlede onderdruk gevoel het.  Na hulle mening is kolonialisme en apartheid die twee groot sondebokke.

 

Dit het selfs in die kerk ‘n kwessie geraak.  Verlede jaar het ek ‘n e-pos ontvang waarin twee leraars mekaar oor die kwessie aangevat het.  ‘n Paar weke gelede het dit weer gebeur.  Ek glo dat ons op hierdie punt deur die wêreld beïnvloed is.

 

Rassisme kom uit ‘n evolusionistiese wêreld beskouing waarin die mens ‘n soort dier is.  Die meeste evolusioniste sal dit ontken, maar rassisme is heeltemal konsekwent met hulle beskouing van die mens.  Evolusioniste het nie rassisme uitgedink nie, maar hulle het verseker petrol op die vuur gegooi.

 

‘n Evolusionis van Harvard Universiteit het gesê dat rassisme geweldig toegeneem het toe die evolusie teorie in 1859 aanvaar is.[1]  Die subtitel van Charles Darwin se Origin of Species is, ‘The Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life’.  Volgens sy boek, The Descent of Man, het sommige rasse verder in die evolusie proses gevorder as ander.

 

Vir 150 jaar reeds het die evolusie teorie rassisme bevorder.  Mense het dit gebruik om volksmoorde te regverdig en die Australiese Aborignes soos diere te jag.  In Amerika en Europa het hulle swart mense in hokke gesit om deur die publiek aanskou te word (Ota Benga in 1906 en Sara Baartman in 1810).[2]

 

Christene het ook in die strik getrap en rassisme uit die Bybel probeer regverdig.  Dink maar aan die stigma van die NG-Kerk en apartheid.  ‘n Paar dekades later het ons besef dat hulle hopeloos verkeerd was.

 

In 1994 het baie geglo dat Nelson Mandela ‘n tipe messias is wat gekom het om versoening te bewerk.  Maar na byna 25 jaar is dit duidelik dat daar nie versoening is nie.  BEE, regstellende aksie, die kwota stelsel, plaasmoorde en optogte waarin mense swart klere dra, wys dat die probleme nie opgelos is nie.

 

As daar ooit ‘n oplossing kom, moet dit by die kerk begin.  Die wêreld kan eenvoudig nie hierdie probleme oplos nie.  Vir duisende jare reeds het hulle probeer om vrede tussen die Jode en haar bure, die Hutu en die Tutsi, die Afrikaner en Afrika stamme te bewerk.  Die Verenigde Nasies het al hulle neus in hierdie sake gesteek, maar hulle was onsuksesvol.

 

Net Jesus Christus kan hierdie probleem oplos (Ef. 2:11-22, Kol. 3:11, Op. 5:9).  Ons moet ons aan Hom, sy Woord en die evangelie onderwerp.  As ons dit doen, sal dit ‘n kragtige getuienis vir die wêreld wees.  As hulle sien dat Jode en Palestyne, of sg. blankes en swart mense een is in Christus, sal hulle hulle ore spits.  Jesus self het tog gesê dat mense in Hom sal glo as hulle sien dat ons een is en dat ons mekaar liefhet (Joh. 13:34-35, 17:21).

 

As ons egter in die rasse haat deel, sal die wêreld vir ons lag en sê dat ons soos hulle is.  En as ons soos die wêreld is, moet ons nie wonder hoekom mense nie in die evangelie belangstel nie.  ‘n Onheilige kerk sal nooit ‘n onheilige wêreld vir die Here wen nie.

 

As ons mense vir die Here wil wen, moet ons hulle liefhê.  En om hulle lief te hê moet ons hulle sien soos die Here hulle sien.  Hoe is dit?  Gen. 1:26-27 wys vir ons.

 

Wat God se beeld nié is nie

Tydens my verlof het ek ‘n boek oor die prosperity gospel gelees.  Meer as ooit is ek oortuig dat dit glad nie met Christenskap geassosieer moet word nie, maar dat dit kulties en okkulties.  M.b.t. die mens wat na God se beeld gemaak is, sê Kenneth Copeland en Benny Hinn bv. dat Adam ‘n presiese kopie of afdruksel van God was, in vorm en grootte.[3]  Hulle verkondig onbeskaamd dat die mens ‘n god is, en dat hy God se gelyke is.[4]  Copeland sê:  ‘Adam, in the Garden of Eden, was God manifested in the flesh’.[5]

 

Om só te sê is eintlik om God na óns beeld te maak.  En om God na ons beeld te maak is niks anders as afgodery nie (Hand. 17:29).  Ons is ook soms skuldig hieraan.  Ons sê dinge soos:  ‘Die God wat ék aanbid…’  Partykeer skep ons ‘n god wat nie sal omgee as ons net ‘n bietjie sonde doen nie.  Ons skep ‘n god wat nie omgee dat mense hel toe gaan nie, ‘n god wat niks in jou lewe kan doen tensy jy vir Hom toestemming gee nie, ‘n god wat nie in die wêreld kan werk tensy ons Hom toelaat nie, ‘n god wat sekere reëls moet volg wanneer Hy teen die duiwel veg, ‘n god wat daar is om óns te dien, om vir óns materiële voorspoed te gee.

 

Ons maak ook ‘n afgod van allerhande dinge in die skepping:  kos, geld, plesier, ons liggame, ander mense, ons troeteldiere, en meer.  As jy enige iemand anders as die Drie-Enige, almagtige, ewige, genadige, alomteenwoordige, regverdige, heilige, liefdevolle, perfekte, heerlike, onveranderlike, soewereine, ens. God aanbid, aanbid jy ‘n afgod.  Jy het probeer om die Here na jóú beeld te maak, en het vergeet dat jy na sý gemaak is (v.26-27).

 

God se beeld beteken nie dat Hy ‘n liggaam het nie.  Ja, Hy het by tye in die Ou Testament in ‘n menslike liggaam verskyn (bv. aan Abraham in Gen. 18).  Ons weet ook dat Christus in Betlehem as ‘n mens gebore is, en dat Hy vir ewig een sal wees (Luk. 24:36-43, 1Tim. 2:5).  Jesus Christus is een Persoon met twee nature:  Hy is volkome God en volkome mens.  Sy Goddelike natuur is nie sy menslike natuur nie en andersom.  Die punt wat ek wil maak, is dat Jesus in sy menslike natuur ‘n liggaam het, maar dat die Drie-Enige God in sy essensie ‘n onsigbare Gees is wat nie ‘n liggaam het soos ons nie (Deut. 4:12, 15-18, Joh. 4:24, 1Tim. 1:17).  Wat beteken dit dan dat God ons na sy beeld gemaak het?

 

Wat God se beeld beteken

Ek het vir baie jare gewonder wat dit beteken dat ons na God se beeld gemaak is.  Ek het ook maar gedink dat dit iets met ons liggame te doen het.  ‘n Sem student het eendag in die klas met my gestry en gesê dat God ‘n liggaam het.  ‘n Familie-lid het ook vir my gesê dat God ‘n liggaam het, en dat Hy ‘n DNA het.

 

Ek het hierbo gewys dat God ‘n Gees is, en dat Hy nie ‘n liggaam het nie.  As God ‘n liggaam het, is sy voet op een plek en sy hand op ‘n ander plek.  In daardie geval kan Hy nie oneindig, ewig en alomteenwoordig wees nie.  Wanneer die Bybel van God se hande, voete, oë, ens. praat, is dit om óns te help om iets van sy vermoëns te verstaan.  Teoloë noem dit antropomorfismes (anthropos = mens, morphe = vorm).

 

God se beeld beteken eerder dat ons iets van sy karakter reflekteer, weerspieël of weerkaats.  God het die plante, voëls, visse en diere volgens hulle soorte gemaak (v.11-12, 21, 24-25), maar die mens het Hy na sý beeld en gelykenis gemaak (v.26-27).  Die mens is nie volgens die diere se soorte gemaak nie; hy is nie ‘n soort dier wat ver in die proses van evolusie gevorder het nie.  Hy is uniek en anders as enige ander skepsel.  Hy is ten minste op die volgende maniere soos God en daarom anders as die res van die skepping.[6]

 

[1] Kommunikasie

Soos die Here in v.26, kan ons op ‘n diep vlak kommunikeer.  Selfs ‘n kind se kommunikasie is meer ingewikkeld as ‘n walvis s’n.  Walvisse kom nooit bymekaar om die tekort aan plankton of kril te bespreek nie.  Papegaaie kan honderde klanke naboots, maar hulle kan nie Chinese grammatika ontleed nie.

 

[2] Heerskappy

Soos God, heers mense oor die skepping (v.26, 28, Ps. 8:7-9).  Eintlik heers die mens as God se verteenwoordiger.  Hy is ‘n rentmeester van die skepping wat aan God behoort.

 

[3] Geestelikheid

Voëls sing omdat God hulle so gemaak het.  Hulle dink nie bewustelik aan sy goedheid en majesteit nie.  Maar wanneer ons sing doen ons dit bewustelik omdat ons dankbaar is, en omdat ons die Here liefhet.  Ons kan ook bid, die Woord inneem en dit gehoorsaam, ander dien, en ander gelowiges se geselskap geniet.  Het jy al ‘n trop beeste gesien wat dit doen?

 

[4] Moraliteit

God is die oorsprong van moraliteit.  Hy bepaal wat reg en verkeerd is, wat moreel en immoreel is.  Soos God, is die mens ‘n morele wese wat tussen reg en verkeerd kan onderskei.  Ons het ‘n gewete.  Diere kan uit instink of vrees reageer, maar hulle het nie ‘n gewete wat hulle wakker hou as hulle jou roosbome oopgegrawe het nie.  Hulle doen nie sonde nie, en streef ook nie daarna om heilig te wees nie.  Ons kan sonde haat en daarna streef om die Here meer te ken en heilig te wees (Ef. 4:24, Kol. 3:10).

 

[5] Intellek

Diere kan dink en slim toertjies doen, maar hulle kan nie diep redeneer of abstrak dink nie; hulle kan dink, maar hulle kan nie dink dat hulle dink nie.  As ek met my hond oor die Anglo-Boere Oorlog praat, kyk hy vir die gras.  Sjimpansees is intelligent, maar hulle kan nie ‘n matriek wiskunde vraestel skryf nie.

 

[6] Skeppingsvermoë

Ons kan nie uit niks skep soos God nie, maar ons het die vermoë om kreatief en skeppend te wees.  Wewers (‘n soort voël) kan mooi neste maak, maar kan nie op die vlak van ‘n argitek bou en beplan nie.  ‘n Wewer se nes 100 jaar gelede lyk nog steeds soos ‘n wewer se nes vandag – hulle vorder nie tegnologies nie.  Diere kan nie ingewikkelde rekenaars en enjins ontwerp en bou nie.

 

[7] Onsterflikheid

‘All dogs go to heaven’?  Ongelukkig nie.  Diere gaan nie hemel toe wanneer hulle sterf nie (God sal wel diere op die nuwe aarde skep).  Die mens bestaan nie van die ewige verlede af soos God nie, maar as ons liggame gesterf het sal ons siele vir ewig bestaan.  “[God] has put eternity into man’s heart” (Pred. 3:11, ESV).

 

[8] Emosie

Ons weet dat diere emosies het.  Kyk gerus na hoe jou hond sy stert waai en om jou enkels dans as jy ná ‘n vakansie by die huis kom.  Diere se emosies is egter nie so kompleks soos ons s’n nie.  Wayne Grudem sê:  ‘After watching my son’s baseball game, I can simultaneously feel sad that his team lost, happy that he played well, proud that he was a good sport, thankful to God for giving me a son and giving me the joy of watching him grow up, joyful because of the song of praise that has been echoeing in my mind all afternoon, and anxious because we are going to be late for dinner!’[7]

 

God se beeld, sonde en verlossing

Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle nie die beeld van God verloor nie.  Dit is egter beskadig.  Die spieël waarin God sy beeld gesien het, het in stukkies op die vloer geval.  God kan nog steeds dele van sy beeld in ongelowiges sien (Gen. 9:6, Jak. 3:9), maar dit is onduidelik.  ‘n Ongelowige kan bv. diep kommunikeer, maar sy kommunikasie is met vuil taal, leuens, murmurering, ens. besoedel.  ‘n Ongelowige kan tussen sonde en heiligheid onderskei, maar 9 uit 10 keer kies hy sonde.

 

Wanneer iemand tot bekering kom, tel God die spieël se stukke van die vloer af op.  Vir die res van jou lewe hier op aarde is die Here besig om die spieël aanmekaar te sit.  Stadig maar seker begin Hy weer sy beeld in jou sien.  Hy het jou gered om jou na sy beeld, na die beeld van sy Seun, te vorm (Rom. 8:29).  Sy beeld in jou word duideliker soos wat jy geestelik groei (2Kor. 3:18).  Wanneer Jesus kom sal die spieël herstel wees, sodat God weer sy volmaakte beeld in ons kan sien (1Kor. 15:49, 1Joh. 3:2).

 

God se beeld in die praktyk

Toe ek net in Kempton begin het, het ‘n besoeker na die preek vir een van ons lidmate gesê:  ‘So what?’  Sy bedoeling was dat ek die teks uitgelê het, maar dat ek dit nie toegepas het nie.  Dit was nie lekker om dit te hoor nie, maar hy was reg.  Dit help nie ons verstaan ‘n leerstelling (bv. God se beeld in ons), maar ons pas dit nie toe nie.  Hoe moet jy hierdie leerstelling in jou lewe toepas?

 

Verwerp die evolusie teorie wat sê dat die mens eintlik ‘n soort dier is, en dat daar nie ‘n verskil tussen mense en diere is nie.  Glo eerder dat God jou na sy beeld gemaak het, en dat jy nie soos die res van die skepping is nie.  Omdat mense dít verwerp en die evolusie teorie omhels, is bose dinge soos aborsie, genadedood, mensehandel, rassisme, moord, ens. aan die orde van die dag.  Hierdie sondes kom uit die mens se hart, maar soos ek hierbo gewys het, het evolusie dit aangevuur.

 

As evolusie waar is, maak dit nie saak of jy ‘n ongebore baba vermoor en of jy ‘n hoender se eier uit die nes vat nie.  Dit maak ook nie saak of jy ‘n gestremde mens deur sg. ‘genadedood’ vermoor, en of jy ‘n ou Labrador uitsit nie.  En wat maak dit saak of jy ‘n mens aan handelaars verkoop, en of jy ‘n perd verkoop?  As ‘survival of the fittest’ waar is, is mensehandel mos nie verkeerd nie?  En as die mens ‘n soort dier is, kan ons sê dat mense met donkerder (of ligter) velle meer waardevol is as ander, net soos wat ‘n sekere kleur Great Dane meer waardevol is as ander kleure.

 

Ek hoef nie vir jou te sê dat dit belaglik is om so te redeneer nie.  Volgens die Bybel is die mens nie ‘n soort dier nie, maar kom alle mense van Adam af en is hulle na God se beeld gemaak (v.26-27, Hand. 17:26).  Ek het reeds gewys dat daar verskillende soorte plante, voëls en diere is (v.11-12, 21-25).  Dit is egter nie waar dat daar verskillende soorte mense is nie.  Mense kom van verskillende lande af, praat verskillende tale, en is uit verskillende families of stamme.  Maar daar bestaan nie so iets soos verskillende rasse nie.  Daar is net een ras, en dit is die menslike ras.

 

Om dan ‘n mens te onderdruk omdat hy anders as jy lyk, is sonde en ‘n direkte aanval op God se beeld.  Moenie grappe oor iemand maak of hom spot, omdat hy anders as jy lyk nie (dit geld ook vir rassistiese grappe).  Moenie kras woorde van ander nasies gebruik, en dink jy is beter as hulle nie (Jak. 3:9).  Dit bedroef die Here as jy enige mens hanteer asof hy nie na God se beeld gemaak is nie.  Dit geld ook vir gestremde mense.  As ons regtig Gen. 1:26-27 glo, sal ons nie eers daaraan dink om ‘n baba te aborteer omdat hy moontlik ‘down sindroom’ is nie.

 

Jy kan nie ‘n mens soos ‘n plant of ‘n dier behandel nie.  Om vir ‘n hond en vir ‘n mens ‘voetsek’ te sê, is nie dieselfde nie.  Om meer om te gee oor die renoster probleem as oor die moord op ongebore babas, wys dat daar fout is in jou hart.  Jy is deurmekaar en onderstebo; jy moet jou bekeer.

 

As hierdie preek negatiewe gevoelens en woede in jou hart laat opvlam, moet jy dit as sonde bely.  Vra vir die Here om jou te vergewe dat jy sy beeld in ander mense haat.  Vra Hom om jou te help, sodat jy kan doen wat reg is.  Glo dat Jesus se kruisdood voldoende is om sy beeld in jou te herstel, en ook om jou te help om ander lief te hê wat nie soos jy lyk nie.  Moenie God se liefde herdefinieer nie, maar doen wat die barmhartige Samaritaan in Luk. 10 vir sy vyand, die Jood, gedoen het.

 

In die vroeë 1990’s het my predikant in Louis Trichardt dit gedoen.  Hy het besluit dat die kerk oop moet wees vir mense uit alle nasies, en het dit so geadverteer.  Mense het op die advertensie gereageer.  Party het na die kerk toe gekom en tot bekering gekom:  Engelse, Vendas, Afrikaners uit ‘n ‘kleurling’ en ‘blanke’ agtergrond, Russe, Bulgare, Finne, Indiërs en Britte.  Dit was wonderlik.

 

Ongelukkig het nie almal so gedink nie.  Sommige mense in die dorp het vir die predikant dreigbriewe geskryf en op die kerk se stoep gelos.  Hulle het die Vendas sleggesê, en het gesê dat hy hulle omhels het.

 

Ek hoop van harte dat die mense wat hierdie preek lees en hoor, nie so sal reageer nie, maar dat jy die Here sal prys, omdat Hy ons en alle mense na sy beeld gemaak het.

 

[1] Stephen Jay Gould, Ontogeny and Phylogeny, 1977 https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/did-darwin-promote-racism/

[2] Ibid.

https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/darwins-garden/

https://en.wikipedia.org/wiki/Sarah_Baartman

[3] Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson: Nashville, p. 2, 25

[4] Ibid.

[5] Ibid.

[6] Wayne Grudem se Systematic Theology het my baie gehelp in hierdie verband (pp. 442-450).

[7] Ibid., p. 447

‘n Toekoms van verwoesting en vrede

Knysna Fire

Toe ek 11 jaar oud was het ‘n meisie in my klas Pretoria toe getrek.  Ek het baie van haar gehou en in my bed gelê en huil toe sy weg is (‘whimp!’).  Op daardie stadium het dit vir my gevoel of dinge nooit weer sal beter word nie.

 

Ongelukkig is dit nie net 11 jariges wat so dink nie.  Selfs as volwassenes staar ons onsself blind teen die onmiddellike toekoms en mis ons God se beloftes oor die verre toekoms – ons sien nie die groter prentjie nie.  Wees daarom baie versigtig wanneer jy Jes.8:23-10:4 lees, veral as Knysna se vlamme om jou brand.

 

‘n Toekoms van vrede (8:23-9:6)

Een van my vriende het hierdie week gesien hoe ‘n klomp mense iemand aanrand.  Die man het blykbaar ‘n kind ontvoer, vermoor, en haar liggaamsdele aan ‘n toordokter verkoop.  Dit is die derde keer in twee weke wat mense sulke dinge vir my vertel, dinge wat eintlik te skandelik is om te noem (Ef.5:12).

 

In sulke tye wonder ‘n mens waarheen ons land oppad is – wat hou die toekoms in?  Glo dit of nie, maar volgens 8:23-9:6 sal Suid-Afrika en die wêreld uiteindelik ‘n vredevolle toekoms van reg en geregtigheid hê.

 

Toe Israel teen die Here gesondig het, het Hy haar in ‘n diep en benoude duisternis gedompel (8:22).  Van die twaalf stamme was Sebulon en Naftali die verste noord, en het hulle eerste deurgeloop toe die Siriërs en Assiriërs die land binnegeval het (8:23, 2 Kon.15:29, 2 Kron.16:4).  Die gebied was wes van die Jordaan rivier en die See van Galilea (8:23).  A.g.v. die Kanaäniete wat saam met die Israeliete daar gewoon het, is dit ook ‘Galilea van die heidene’ genoem (8:23, Rgt.1:30, 33).

 

Alhoewel Galilea eerste donker was, sou hulle in die laaste tyd[1] eerste die lig van God se heerlikheid in Jesus se Galilese bediening gesien het (8:23-9:1, Mt.4:12-17, Lk.1:78-79, Jh.8:12).  Ná die ballingskap het daar ‘n handjievol oorgebly, maar nou sou die Here sy volk vermenigvuldig het (9:2, 1:9, 26:15, Esg.36:37, 1 Pt.2:9, Hd.2:41, 47, 4:4, 5:14, 6:1, 7, 8:12, 9:31, 35, 42, 11:21, 12:24, 13:47-49, 14:1, 21, 27, 16:5, 31, 17:4, 12, 34, 18:8, 19:20, 28:24, Op.7:9).

 

Hulle sou so bly gewees het soos boere wat ‘n groot oes inbring en fees vier, soos ‘n weermag wat haar vyande oorwin en die buit verdeel (9:2, Hd.2:47, 8:8, 39, 11:23, 13:48, 52, 15:3, 16:31, Op.7:10).

 

Verder sou hulle bly gewees het, omdat God Assirië se swaar juk van hulle skouers afgehaal het; Hy het die stok gebreek wat hulle op die rug geslaan het (9:3, 10:5, 24, 27, 14:5, 25).  Hy het die vyand se juk gebreek soos wat Hy dit in Gideon se tyd met die Midianiete gedoen het (9:3, 10:26, Rgt.6-8).

 

Die volk was bly dat God haar vyande oorwin het (9:4).  Hulle sou nie meer klere en skoene aangetrek het om oorlog te maak nie, maar die Israeliete sou dit verbrand het (9:4, Esg.39:7).  Daar sou nie meer oorlog gewees het nie, maar vrede (2:4, Sg.9:10).

 

Die volk was ook bly dat God Immanuel gegee het om haar van haar sonde te red (9:5, 7:14, Mt.1:21).  Hy is as ‘n Kind gebore, maar was ook die Seun van God (9:5).  Die las wat Hy van die volk se skouers afgehaal het, het Hy as Koning op syne gedra (9:3, 5, 22:22, Mt.28:18, 1 Kor.15:25).

 

Jesaja beskryf sy Persoon en karakter soos volg:

 

[1] Hy is die Wonderbare Raadsman (9:5, 28:29, Rgt.13:18).  Hy het bonatuurlike wysheid om die volk te lei (vgl. 1 Kon.3:28).  Hy weet hoe om die regte woorde te sê wanneer ons dit nodig het (50:4).

 

[2] Hy is die Magtige God wat sy volk se vyande oorwin (9:5, Dt.10:17, Jer.32:18).

 

[3] Omdat Hy die ewige Vader openbaar en Een is met Hom, word Hy met Hom vereenselwig (9:5, Jh. 1:18, 10:30, 14:9).  Hy is ‘n goeie Vader vir sy kinders (9:5, 63:16, 64:8, Mal.2:10).

 

[4] Hy is die Vredevors, die oorsprong van alle vrede (9:5).  Deur sy kruisdood het Hy vir ons vrede met God gebring (Rm.5:1, Kol.1:20).

 

Namate die evangelie van vrede geleidelik oor die aarde versprei, sal die Seun van Dawid se heerskappy van vrede versprei en sonder einde wees (9:6, 6:3, 11:9, 2 Sm.7:14, Ps.72:19, 110:1, 132:11-12, 145:13, Dn.2:35, 44, Esg.47:1-5, Mt.6:10, 13:31-33, Lk.1:32-33, Op.11:15).  God se vrede, reg en geregtigheid sal die norm wees (9:6, 2:4, 11:6-9, Ps.72:7, Jer.23:5).

 

Dalk het dit in die lig van Israel se boosheid in 9:7-10:4 onmoontlik gelyk, en miskien lyk dit vir jou ook onmoontlik wanneer jy na die probleme om jou kyk:

 

  • Natuurrampe in die Kaap.
  • Korrupsie in die regering.
  • Grumoorde in ons land.
  • Grondeise in Zimbabwe.
  • Misdadigers wat nie ‘n gewete het nie.
  • Islamitiese terroriste in Engeland.
  • Skaamtelose homoseksualiteit in die NG-Kerk en in die samelewing.
  • Die toenemende rebelsheid van ons land se kinders, tieners en jongmense.
  • Wetteloosheid op die paaie.
  • Swak dienslewering en die luiheid van mense wat vir die staat werk.

 

En tog moet dit wat jy om jou sien nie jou teologie bepaal nie – die Bybel moet.  T.s.v. die boosheid van Suid-Afrika, Israel en die res van die wêreld, sal God se ywer daarvoor sorg dat Jesus se Koninkryk van vrede, reg en geregtigheid groei en gevestig word (9:6, Sg.8:6).  As die profesieë m.b.t. sy eerste koms vervul is (9:5), sal die profesieë m.b.t. die vervulling van sy Koninkryk vervul word (9:6).

 

Die vraag is nie of dit sal gebeur nie, maar of jy daarin sal deel?  Is jy nog in die duisternis van jou sonde, of het die lig van God se verlossing in jou hart geskyn (8:23-9:1, Ef.5:8, 14)?  Het jy al besef dat Jesus namens ons aan die kruis God se juk en roede op Homself geneem het, en dat dié wat in Hom glo van hulle sonde en God se oordeel bevry sal word (9:3, 53:4-6, 10, Mt.11:29-30, Jh.8:36, Gal.5:1)?

 

Of is die slawejuk en die roede van Satan, jou skuldige gewete en jou eie pogings om aanneemlik te wees voor God nog ‘n swaar las op jou skouers (9:3, Hd.15:10, Jh.8:36, Gal.5:1)?

 

Het jy al verstaan en ervaar dat Jesus vir jou sonde gebore is, en dat God Hom gegee het om vir jou te sterf (9:5)?  As jy in Hom glo om jou van jou sonde te red, sal jy persoonlik ervaar hoe Hy ook jou Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader en Vredevors is (9:5).

 

‘n Toekoms van verwoesting (9:7-10:4)

Op 2-5 September 1666 het die groot vuur in London 13 200 huise, 87 kerke, St. Paul’s Katedraal, en baie ander belangrike geboue afgebrand; 70 000 van die stad se 80 000 inwoners het hulle huise verloor.

 

Die vure wat tans in die Suid-Kaap woed rig ook geweldige skade aan.  Volgens sommige is dit een van die grootste rampe in ons land se geskiedenis.  In Jesaja se tyd het die Here ook sy volk met vuur en op ander maniere gestraf.

 

Voordat die Messias se heerskappy van vrede aangebreek het, het God gesê dat Hy die volk gaan oordeel (9:7).  Efraim en Samaria – Israel en haar hoofstad – sou geweet het dat God se dreigemente nie leeg is nie, maar dat Hy die hoogmoediges weerstaan (9:8, Jk.4:6).

 

Toe Samaria se moddersteen huise a.g.v. ‘n aardbewing inmekaar getuimel het (Am.1:1), het die hoogmoedige volk haar nie bekeer nie, maar besluit om dit met gekapte klip te vervang (9:9).  Gesogde sederbome sou die meer algemene wildevybome vervang het (9:9).  In die volk se gedagtes sou die toekoms dus beter gewees het as die hede.

 

Israel het veral so gedink omdat koning Resin van Sirië ingestem het om haar teen Assirië te beskerm.  Maar terwyl sy so selfversekerd was, het die koning van Assirië teen Resin opgestaan en hom doodgemaak (9:10, 2 Kon.16:9).  Israel het nie besef dat Sirië eintlik die heuning was wat die bye van Assirië na haar toe gelok het nie.

 

Soos Filistia in die weste, het Sirië in die ooste dus haar mond oopgemaak om vir Israel in te sluk (9:10, 2 Kon.16:6, 2 Kron.28:18).  A.g.v. die volk se hoogmoed, het God nie die uitgestrekte arm van sy toorn van haar af weggedraai nie (9:11, 16, 20, 10:4, 5:25).

 

Maar selfs toe Hy die volk getref het, het sy nie na Hom toe gedraai en om genade gesmeek nie (9:12).  Gevolglik het Hy die kop en die stert, die hoë palmbome en die lae riete – die belangrike politieke leiers en die vals profete – op een dag afgesny en tot ‘n val gebring (9:13-14, 19:15).  Dit was húlle wat die volk op ‘n dwaalspoor gelei het om haar in te sluk (9:15, 11).

 

Sterk jong manne, weduwees, weeskinders, almal het in woord en daad die leiers se slegte voorbeeld gevolg (9:16).  Daarom het die Here Hom nie oor hulle verbly of ontferm nie, en sou Hy die lot van hulle gestraf het (9:16).  Hy het geweier om die uitgestrekte arm van sy toorn terug te draai (9:16).

 

Die volk se boosheid was soos ‘n vuur wat in doringtakke en droë onkruid vlamvat, soos die dik rookwolke van Knysna se bosbrand (9:17).  God het vir Israel aan haar sonde oorgegee, sodat dit haar verteer het.  Die samelewing het homself vernietig (9:18, Mg.7:2).  Israel was die hout en God se toorn die skroeiende vuur wat haar gebrand het (9:18).

 

As deel van die volk se straf het sy honger gely (9:19, 8:21).  Nou was daar in een dorp vleis, en môre het hulle hulleself in ‘n ander dorp soos wilde diere aan die kos vergryp (9:19).  Daar was nie genoeg kos om hulle te versadig nie (9:19).  Die hongersnood het so erg geraak, dat mense hulle eie kinders geëet het (9:19, 49:26, Dt.28:52-57).

 

Josef se twee seuns, die stamme van Efraim en Manasse, het mekaar verslind; saam het hulle teen Juda geveg (9:20, 15, 11, 2 Kron.28:6-9, kontr. Jes.11:13).  As gevolg hiervan het God die uitgestrekte arm van sy toorn nie teruggedraai nie (9:20).

 

God het sy wee teen Israel uitgespreek omdat haar leiers die wet herskryf het om hulleself te bevoordeel (10:1).  Onder die nuwe grondwet was dit wettig om die armes te onderdruk (10:1-2).  Soos in Kommunistiese lande het hulle geen geregtigheid teen hulle klaers gekry nie, en is hulle van hulle regte ontneem (10:2).  Die land se leiers het weduwees se erfdeel by hulle weggevat en van weeskinders ‘n prooi gemaak (10:2).

 

Dus het die Here ‘n dag bepaal waarop húlle die prooi van die Assiriërs geword het (10:3).  Op dié dag sou daar vir hulle geen hulp gewees het nie (10:3).  Al wat vir hulle oorgebly het, was om saam met die ander gevangenes onder ‘n swaar juk te buig of om deur die swaard te val (10:4).  A.g.v. hulle wetteloosheid sou die Here nie die uitgestrekte arm van sy toorn teruggedraai het nie (10:4).

 

En totdat Suid-Afrika haar nie bekeer nie, sal die Here nie ophou om ons met sy kragtige hand te tref nie.  Sal ons ná die brande in Knysna nogsteeds nie na die Here toe draai nie (9:12)?

 

Sal droogte en verwoestende storms die Wes-Kaap teister, en swart mense nogsteeds die wit mense haat en andersom (9:11)?  En asof dit nie genoeg is nie, baklei God se kinders in hulle huwelike, gesinne, families en gemeentes met mekaar (9:19-20, Gal.5:15).  Hoe lank moet dit nóg aanhou voor ons vir die Here luister?

 

Hoe lank sal ons land aanhou om sonde ‘wettig’ te maak (10:1)?  Deur die wettiging van aborsie het die regering moord goedgekeur.  Dié wat vir húlle of vir die partye stem wat aborsie goedkeur, is saam skuldig – hulle hande is met bloed bevlek (1:15, 1 Tm.5:22).

 

Deur die president se veelwywery en die wettiging van homoseksualiteit (in ons land en in die kerk), het ons God se instelling van die huwelik goedkoop en belaglik gemaak.  Weet maar dat die Here ons hiervoor gaan oordeel, net soos wat Hy ons gaan oordeel omdat ons pornografie en prostitusie wettig verklaar het (10:1, Heb.13:4).

 

Ateïste probeer om God en die Bybel uit skole uit te verban; hulle wil hê dit moet teen die wet wees (10:1).  Sommige van hulle wil ook hê dat Sp.22:15, 29:15 en ander verse oor pak slae teen die wet moet wees.

 

Soos wat nie-blankes in die ou dae deur die apartheidsbeleid onderdruk is, probeer die huidige regering om die verdrukking van haar land se burgers wettig te maak.  Hulle het dit reeds tot ‘n mate deur die kwota sisteem reggekry.

 

Verder onderdruk hulle ook die volk deur onnodige belasting, sodat hulle hulle luukse karre kan ry en in hulle duur huise kan bly.  Nou probeer hulle nog om die wet te verander, sodat hulle mense se plase sonder vergoeding by hulle kan vat (10:1-2).

 

Die Here het die Israeliete gestraf toe hulle die bg. dinge gedoen het (9:7-10:4).  En dink ons dat ons daarmee gaan wegkom?

 

As ons ons bekeer, mag ons dalk nog ons huise in ‘n brand verloor.  Maar ons sal die vuur van God se oordeel in die hel vryspring en in Jesus se heerskappy van vrede deel.  Ons sal ‘n ewige toekoms van vrede hê, en nie ‘n toekoms van verwoesting nie.

 

[1] Die laaste tyd verwys nie net na die wederkoms nie, maar ook na Jesus se eerste koms (Heb.1:1, 9:26).

Donker dae

Lunar eclipse

Tussen 1347 en 1400 is ‘n derde van Europa se populasie uitgewis.  In sommige lande het die helfte van die bevolking gesterf.  Dit het gebeur deur ‘n siekte-plaag wat die Swart Dood genoem is.  Die Italiaanse digter Petrarch het die volgende oor die plaag geskryf:

 

‘Wanneer sal ons nageslag kan glo dat daar ‘n tyd was toe die land en die hele aarde byna sonder bewoners was?  Sal hulle kan glo dat dit gebeur het sonder vuur uit die hemel of op die aarde, en sonder enige oorlog of ‘n sigbare ramp?  Daar was leë huise, verlate stede, oorgroeide landerye, die aarde wat met lyke oordek was, en oral ‘n groot en skrikwekkende stilte.’[1]

 

Dit was donker dae.  In Jesaja se tyd het Israel en Juda ook sulke tye beleef.  So leer Jes.8 vir ons.

 

Die profesie (v.1-10)

‘n Paar maande gelede het my swaer en sy drie jarige seun iemand raakgeloop en aan die gesels geraak.  Die persoon het dinge gesê wat hy nie moes nie.  My swaer se seuntjie het opgekyk en hom aangespreek.

 

Partykeer gebruik die Here kinders om mense op hulle plek te sit.  Alhoewel dit nie heeltemal dieselfde was in Jes.8 nie, het die Here Jesaja se seuntjie gebruik om die volk aan te spreek.

 

Hy het vir Jesaja gesê om ‘n groot plakaat of tafel te vat en met ‘n mensegriffel daarop te skryf (v.1).  Die punt is dat dit sigbaar en in die volk se taal moes wees.  Hy moes die naam van sy seun wat in die toekoms gebore sou word, daarop geskryf het:  Mahêr-shâlâl-châsh-baz in Hebreeus, of Spoedige-buit-haastige-roof as dit vertaal word (v.1, 3).

 

Ek sal dit later verduidelik.  Vir nou kan ek sê dat die volk sekerlik gevra het hoekom Jesaja vir sy seun so ‘n snaakse naam gegee het.  Dit sou vir hom die geleentheid gegee het om die profesie te verduidelik.

 

Die twee getuies in v.2 (Uria die priester en Sagaria die seun van Jeberégja) het vir die volk bevestig dat Jesaja hierdie dinge voorspel het nog voordat dit plaasgevind het.[2]  Enige saak moes deur die getuienis van twee of drie persone bevestig word (Dt.19:15).

 

Jesaja het na sy vrou toe gegaan (v.3).  Omdat sy geboorte gegee het aan ‘n kind wat letterlik God se Woord aan die volk was, het hy haar ‘die profetes’ genoem (v.3).  Hierdie kind was die voorskou van ‘n ander Kind wat God se Woord aan die volk sou wees (Jh.1:14).

 

Die kind in v.3 se naam het beteken dat die koning van Assirië haastig oppad was om vir Samaria en Damaskus – Jerusalem se vyande in 7:1-9 – aan te val en hulle buit vir homself te neem.  Dit sou gebeur het nog voordat die kind oud genoeg was om ‘pa’ of ‘ma’ te sê (v.4, 7:16, 8-9).

 

Die Woord van die Here het weer na Jesaja toe gekom (v.5).  Hy was nie net teen Damaskus en Samaria nie, maar ook teen Jerusalem wat die hoofstad van Juda was (v.6-8).  Dit het gebeur omdat Jerusalem die rustige waters van Siloa verag het (v.6).  Wat beteken dit?

 

Siloa was ‘n fontein wat aan die suid-ooste kant van Jerusalem gevloei het.  Dit het van buite af na die bad van Siloam toe binne die stad gevloei (7:3-4, Jh.9:7).  Tydens oorloë het Jerusalem se vyande haar water toevoer afgesny.

 

Die Here sou Jerusalem en haar rustige waters teen koning Resin van Damaskus en koning Peka van Samaria beskerm het.  Koning Agas het dit egter nie geglo nie.  Hy het angstig geraak en self planne gemaak om die stad en haar water toevoer te beskerm (7:1-4).

 

Hy het Here geignoreer en só die rustige waters van Siloa verag; hy het vir die koning van Assirië gevra om hom te beskerm (v.6).  Hy was bly toe Assirië ingestem het om hom teen Resin en Peka die seun van Remalia te help (v.6).

 

Maar dit het nie vir lank gehou voordat die koning van Assirië ook teen Jerusalem gedraai het nie.  Omdat Agas en die volk die rustige waters van Siloa verag het, het die koning van Assirië soos ‘n magtige rivier teen Juda gekom (v.7).  Hy en sy weermag was soos die Eufraat rivier wat sy walle oorstroom, en soos ‘n vloed wat alles uit die pad uitvee en aanbeweeg (v.7-8).

 

Juda het byna verdrink, maar omdat Immanuel uit haar gebore moes word, het God gesorg dat sy kop bo water gehou het (v.8).  Maar dit beteken nie dat die verwoesting nie erg was nie.  Die Assiriërs was soos ‘n roofvoël wat sy vlerke oor die land gesprei het om sy prooi te vang (v.8, 36:1, Dt.28:49).

 

Juda moes egter besef het dat Assirië en die nasies God se instrumente was; op die einde sou Hy ook húlle magtige wapens gebreek, vernietig en verpletter het (v.9, Ps.46:10).  Hulle kon dus maar saam teen die Here en sy volk beraadslaag het – hulle planne sou nie uitgewerk het nie (v.10, 7:7, Ps.2).  Die Here was Immanuel in die midde van sy volk (v.10, Rm.8:31).

 

Die reaksie (v.11-22)

In die laat 1930’s het verskeie wêreld lande saamgespan om mekaar in die oorlog te help.  So was dit ook in Jesaja se tyd.  Ek het in Jes.7 gewys hoe Israel en Sirië hande gevat het om die wêreld se nuwe supermag (Assirië) teë te staan.

 

Jerusalem was nie bereid om hulle te help nie, en daarom het hulle teen haar geveg.  In haar benoudheid het sy nie in geloof en gebed na die Here toe gedraai nie, maar vir Assirië gevra om te help.  Assirië het gehelp, maar het uiteindelik ook teen Jerusalem gedraai.  Hierdie agtergrond sal ons help om Jes.8 beter te verstaan.

 

God het sy sterk hand op Jesaja geplaas en vir hom gesê om nie soos die volk te lewe nie (v.11).  Hy moes nie soos hulle bang gewees het vir die sameswering tussen Israel en Sirië (7:2), of betrokke geraak het in Agas se sameswering met Assirië nie.  Jesaja moes nie mense gevrees het nie, maar God; sy vrees vir God moes sy vrees vir mense verdryf het (v.12-13, vgl. 1 Pt.3:14-15).

 

Omdat God die Here van die Leërskare of die hemelse weermag was, kon Hy die volk teen enige aardse weermag beskerm het (v.13).  Die profeet moes Hom dus as die Heilige gevrees en geëer het (v.13, Lv.10:3, kontr. Nm.20:12).  Vir dié wat in Hom geglo het, sou Hy ‘n heiligdom gewees het (v.14, Esg.11:16).

 

Maar vir dié wat Hom verwerp het, was Hy soos ‘n klip waarteen mense hulleself stamp, soos ‘n rots waaroor hulle struikel en verpletter word (v.14-15, Mt.21:44, Lk.2:34, Rm.9:32-33, 1 Pt.2:8).  Hy was soos ‘n strik en ‘n net wat die Noordelike en Suidelike ryke van Israel soos ‘n wilde dier gevang het (v.14-15).

 

Een kommentator sê oor hierdie verse:  ‘It is as if a rock were put across a road to block the traveller from danger but, in carelessness or scorn, he refuses the warning and stumbles to his death… The same God in his unchanging nature is both sanctuary and snare; it depends on how people respond to his holiness.’[3]

 

Die Here het vir Jesaja gesê om die boekrol wat hy sopas geskryf het toe te bind, en met klei of was te verseël:  sy woorde was nie dadelik vir almal se ore bedoel nie, maar vir die dissipels s’n (v.16, Dn.12:4).  Vir die huis van Jakob (dit is Israel) was dit geseël (v.16); die gesig van God se guns het nie meer oor hulle geskyn nie (v.17, 54:8, Dt.31:17-18, Nm.6:25-26).  Terwyl dit so was, het Jesaja geduldig op die Here gewag en op Hom gehoop (v.17).

 

Jesaja en die twee seuns wat die Here vir hom gegee het (Heb.2:13) was tekens vir die volk (v.18, 1-4, 7:3, 20:1-6).  Volgens die betekenis van hulle name sou God die volk geoordeel het.

 

As God dan deur Jesaja gepraat het, was Israel en Juda dwaas om die dooies te raadpleeg en waarsêers te besoek (v.19, Dt.18:10-11).  Hulle woorde was so irriterend en onduidelik soos iemand wat piep en mompel (v.19).  Hoekom wou enigiemand buitendien vir die dooies iets gevra het, as hulle nie meer op die aarde gelewe het nie (v.19, 1 Sm.28)?

 

Dit sou beter gewees het om God en sy Woord te raadpleeg, die wet en die getuienis wat Hy deur Jesaja vir hulle gegee het (v.19-20, 16).  Die volk en die waarsêers wat nie volgens God se Woord gepraat het nie, het geen geestelike lig gehad nie (v.20, Ps.119:105).  Hulle het ook geen toekoms gehad nie; hulle sou nie die oggendlig gesien het nie (v.20).  Die son sou nie meer vir hulle opgekom het nie; hulle sou in duisternis gewees het (v.20, 22).

 

Hulle sou as gevangenes na ‘n ander land toe weggevoer word.  Oppad sou hulle honger en angstig deur die land getrek het (v.21).  In hulle toestand sou hulle die koning se naam en die Here s’n gevloek het (v.21).  Hulle sou na die hemel en die aarde toe gekyk het, maar daar sou vir hulle geen hulp gewees het nie (v.21-22).  ‘n Donker en angstige toekoms is al wat op hulle gewag het (v.22, 5:30).

 

Omdat hulle die werke van duisternis liefgehad het (v.19), het die Here hulle daaraan oorgegee (v.22, Mt.22:13).  En tog was daar vir hulle lig aan die einde van die tonnel (v.23).  Maar daarby sal ons volgende keer uitkom.

 

Wat wil die Here in hierdie hoofstuk vir ons sê?

 

[1] Soos in Jesaja se tyd, is God se Woord vrylik beskikbaar in ons land (v.1).  Daar is ‘n kerk op elke hoek, en meer as een Bybel in die meeste van ons se huise.  Byna elke Suid-Afrikaner het die Bybel in ‘n taal wat hy of sy kan verstaan, en dus kan ons nie die flou verskoning gebruik dat ons nie van Jesus geweet het nie.

 

Jesus het gesê:  “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word.  En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” (Lk.12:47-48).

 

Dit is bitter gevaarlik om baie van die Bybel te weet en dit nie te doen nie.  Maar dit is ook nie ‘n verskoning om nié te weet nie, veral nie as jy vrye toegang tot die evangelie, die Bybel en die kerk gehad het nie.

 

[2] Die vloed van God se oordeel waarin ons veronderstel was om te verdrink, het aan die kruis van Golgota oor Jesus gekom (v.7-8).  As jy jou van jou sonde bekeer en in Jesus glo om jou te red, sal jy nie onder die vloedwater van sy toorn sink nie, maar droog en veilig wees in die ark van sy genade.  Hy sal die vlerke van sy vergifnis oor jou sprei, sodat die roofvoël van sy oordeel jou nie vang nie (v.8, Mt.23:37).

 

[3] Vir God se kinders is Jesus Immanuel, God met ons (v.8, 10, 7:14, Mt.1:23, 28:20).  Ongeag van wat met jou gebeur, Hy is met jou.

 

[4] God is in beheer van mense wat bose planne teen jou maak en teen jou opstaan.  Hulle kan nie doen wat hulle wil nie.  Hy sal hulle slegte dade teen jou gebruik om sy goeie planne uit te voer, en sal hulle uiteindelik daarvoor oordeel (v.9-10).

 

[5] Moenie soos die deursnee Afrikaner bang wees vir ons land se toekoms nie.  Moenie bang wees vir die politieke samesweringe van mense wat ons wil beskadig nie (v.12, 7:2, Sp.29:25).  Moet ook nie na ‘n beter persoon of party kyk om ons land uit die gemors te red nie (v.12, 2 Kon.16:7-8).

 

Vrees en aanbid eerder die Here (v.13).  Fokus op jou verhouding met Hom en nie op die dinge wat Jacob Zuma en die regering aanvang nie.  Dra ons land se probleme aan die Here op (v.13, 1 Tm.2:1-2).  Lees en oordink die Bybel meer as wat jy die nuus volg.

 

[6] Laat die Here vir jou ‘n heiligdom wees en nie ‘n klip waaroor jy struikel nie (v.14-15).  Laat Hy deur jou stiltetyd en aanbidding saam met ander gelowiges vir jou ‘n tempel wees.  Hy moenie net ‘n tempel wees waarin jy van tyd tot tyd inkom nie, maar een waarin jy jou lewe deurbring.

 

Maak seker dat jy só lewe, en nie soos dié wat alewig die Bybel bevraagteken nie.  Ek verstaan dat gelowiges in sommige gevalle twyfel.  Ons moet egter nie ‘n rebelse hart en gesindheid hê, sodat die evangelie ons affronteer en ons God se Woord bevraagteken nie.  Buig eerder in onderdanige gehoorsaamheid voor God en sy Woord.  As jy dit nié doen nie, sal jy daaroor struikel en in die helse afgrond verdwyn (v.14-15).

 

[7] Soms is alles om jou donker en voel dit of die Here sy gesig vir jou wegsteek (v.17, 22).  Moenie soos die wêreld jou vuis teen die hemel lig en kwaad wees vir God nie, maar wag geduldig op die Here en glo dat Hy vir jou die uitkoms sal stuur (v.17, 21-22).

 

[8] Wanneer dit met jou sleg gaan moet jy nie na ongelowige boeke, beraders, toekomsvoorspellers en vriende toe hardloop nie (v.19, Ps.1:1).  Gaan na God en sy Woord toe; vind hulp in gebed en kry raad by dié wat jou uit die Bybel uit kan lei (v.19-20).

 

[9] Wanneer dit pik donker in jou lewe is, is alles nie verlore nie – daar is hoop (v.22-23, 50:10).

 

Donker dae hoef dus nie die permanente toestand te wees waarin ons lewe nie.  As Christene moet ons nie soos die depressiewe donkie (Eeyore) in Whinnie-the-Pooh wees en dink alles is donker nie.  Ja, ons moet realisties wees en erken dat dinge in ons land en wêreld onderstebo is.

 

Maar ons moet ook besef dat swart en grys nie die enigste kleur is waarmee God die skildery van die toekoms geverf het nie.  Laat ons dan hoopvol wees en saam met Salomo glo dat “die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe” (Sp.4:18).

 

[1] Vry vertaal uit N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, p.328

[2] Kort hierna het Uria die priester in koning Agas se voetspore gevolg en van die Here af weggedraai (2 Kon.16:10-16).

[3] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.94

Ons land en voorland

Riot

Vrydag se Beeld-opskrif het gesê het dat 2019 ‘n herhaling van 1994 gaan wees.  Maar die politieke doemprofete se voorspellings is net so onakkuraat soos die weerprofete s’n.  As jy ‘n akkurate voorspelling oor die mens se toekoms soek, moet jy na die Bybel toe gaan en hoofstukke soos Jes.3-4 bestudeer.

 

Ons land (hfst.3)

Volgens die Bybel is dit sonde om ‘n palmleser of sterrewiggelaar te besoek, omdat jy die toekoms wil ken.  Dit is egter nie verkeerd as jy die Bybel lees om te sien wat die toekoms inhou nie.  In Jes.3 kry ons ‘n goeie idee van wat op ons land wag indien ons ons nie bekeer nie.

 

A.g.v. Juda en Jerusalem se sonde (3:1), sou die Here haar nie meer met brood en water – die noodsaaklike – ondersteun het nie (3:1, Lv.26:26).  Hy sou alles van haar af weggevat het (3:2-3, 2 Kon.24:14):

 

  • Militêre beskutting:  helde, soldate en offisiere.
  • Nasionale en plaaslike leierskap:  regters, profete, ouderlinge, raadgewers en mense van aansien.
  • Goeie vakmanskap en betroubare dienslewering:  ambagsmanne.
  • Waarsêers en towenaars:  hoe het dit gebeur dat húlle leiers geword het?

 

As die Here Jerusalem se leiers na Babilon toe weggevoer het, sou Hy onervare kinders en jongmense oor hulle aangestel het (3:4, 1-3, Pd.10:16, Dn.2:21).  A.g.v. hulle onbekwame leierskap sou die mense mekaar onderdruk het (3:5, Mg.7:3-6).  Jong mense sou geen respek gehad het vir ou mense nie, en die uitvaagsels van die samelewing sou dié wat eerbaar was verag het (3:5, Lv.19:32).

 

Mense sou in bouvallige huise gebly het en nie kos of klere gehad het nie (3:6-7).  Hulle sou vir iemand met ‘n mooi kleed gevra het om oor die vervalle stad te heers (3:6).  Hy sou egter nie bereid gewees het om die volk se wonde te verbind nie (3:7, 1:6).  ‘Hoe moet ek die volk help as ek nie eers myself kan help nie?’ sal hy sê (3:7).

 

Waar het dinge skeefgeloop; hoekom het die land tot ‘n val gekom?  Dit is omdat hulle in woord en daad teen die Here gesondig het (3:8, Ps.73:9).  Hulle was nie eers skaam daaroor nie; hulle het dit nie eers probeer wegsteek nie, maar het die heerlike God verag, uitgedaag en getart (3:8-9, 65:3, kontr. Gn.3:7-10).  Soos Sodom het hulle hulle sonde openlik gevier en aangekondig (3:9).  Hiervoor sou die Here se wee of straf oor hulle gekom het (3:9).  Hulle eie boosheid het die straf oor hulle gebring (3:9, Rm.6:23).

 

Die regverdige sou die goeie vrugte van sy gehoorsame dade geniet het (3:10, Dt.28:1-14); die goddelose sou teëspoed en wee ervaar het (3:11, Dt.28:15-68).  Wat hy aan ander gedoen het, sou teruggekom het na hom toe (3:11).

 

Jerusalem was ‘n tragedie.  Kinders wat nog onder gesag moes wees het haar onderdruk, en vroue wat deur hulle mans gelei moes word het oor die stad geheers (3:12, 4, 1 Kon.21, Am.4:1).  Jerusalem en Juda het die man-vrou-kind verhouding op sy kop gekeer:  vroue en kinders het as’t ware die aanwysings wat langs die pad was ingesluk en die volk op ‘n dwaalspoor gelei (3:12).

 

As Regter was die Here gereed om Israel en die nasies te vonnis, omdat hulle op die verkeerde pad was (3:12-13).  Die ouderlinge en prinse se passiewe leierskap het dit veroorsaak, en daarom sou die Here hulle geoordeel het (3:14).  Teenstrydig met die wet het hulle die armes verdruk en niks vir hulle oorgelos nie (3:14-15, Lv.19:10).  Hulle het ook die geestelike wingerd van God afgemaai, vertrap en verbrysel  (3:15, 5:1-7, Ps.14:4).

 

En omdat Jerusalem se leiers so was, het haar dogters haar hoogmoedige voorbeeld nagevolg (3:16).  Om die aandag op hulleself te vestig en mans te verlei, het die vroue hulle nekke uitgestrek, hulle oë geflikker, getrippel, en die silwer ringe om hulle enkels laat klingel (3:16).

 

A.g.v. hulle hoogmoed sou die Here hulle koppe skurf laat word het, hulle skaamdele ontbloot het, en hulle versiesels weggevat het (3:17-23, 20:2-4, kontr. 3:9):  hulle

enkel- en armbande, die sonnetjie en maantjie oorbelle en hangertjies wat hulle vir die afgode gedra het (Gn.35:4, Eks.32:2-4, 33:5-6, Rgt.8:21, 26), kopbande, serpe, sluiers, linnegordels, mantels, feesklere, towermiddels, parfuumbotteltjies, seëlringe, neusringe (Gn.24:47, Esg.16:12), handsakkies, spieëltjies, mooi klere, tulbande en meer.

 

Hulle sou soos muf geruik het, en nie meer soos parfuum nie; die growwe tou van slawe sou die linne gordel om hulle heupe vervang het (3:24).  In plaas van mooi klere en lang hare, sou hulle rouklere en kaal koppe gehad het soos ‘n aasvoël (3:24, Klg.2:10, Mg.1:16).  Hulle goed versorgde velle sou gebrandmerk word soos ‘n slaaf s’n (Lv.19:28).

 

Wat die mans betref sou die dapperste onder hulle met die swaard getref word (3:25).  In die stadspoorte sou die leiers op die grond gesit en ween het (3:26, Job 2:13, Jer.14:2).  Dit is asof God die stad omgekeer en uitgeskud het (3:26).

 

Ses uit elke sewe vroue het ‘n weduwee geword (4:1, vgl. 13:12).  Hulle was so desperaat dat sewe van hulle een man gegryp het en vir hom gevra het om met hulle te trou (4:1).  ‘Ons sal vir onsself kos en klere voorsien,’ het hulle gesê.  ‘Trou net asb. met ons dat ons ‘n goeie reputasie kan hê’ (4:1).  Vir hulle was dit ‘n skande om nie getroud te wees nie, veral omdat hulle in die verlede so maklik die mans se aandag kon trek (4:1, 3:16, 18-23).

 

Suid-Afrika is goed oppad om soos Jerusalem geoordeel te word.  Ons doen immers dieselfde sondes as hulle.  Soos in Jerusalem is kinders en vroue in effek besig om die land te regeer (3:4-5, 12).

 

Jongmense se begeertes bepaal die modes, populêre musiekstyle, films, tegnologie, die sosiale media en vermaak.  Ons het vir kinders regte gegee wat verhoed dat hulle gedissiplineer kan word.  Studente bepaal hulle eie studiefooie (indien daar enigsins fooie is).  Ons gee toe aan hulle ‘demands’.  As ons dit nié doen nie, sal hulle kampusse afbrand en standbeelde vernietig.

 

Feminisme het veroorsaak dat mans nie hulle gesinne kan versorg nie, omdat die wet vereis dat vroue eerste die werk moet kry (3:12).  Ook in films is die pa gewoonlik ‘n geskeide idioot wat nie sy kind se hart kan wen nie, en is die ma ‘n regdenkende en suksesvolle besigheidsvrou.

 

Talle kerke het toegelaat dat die kind-vrou-man orde van die samelewing af deursyfer, sodat ons ons musiek- en preekstyle volgens die jongemense se voorkeure ingerig het.  Ons het toegelaat dat húlle besluit in watse die rigting die kerk moet beweeg.  Ons het 1 Tm.2:11-14 in die lig van ons kultuur geïnterpreteer en gesê dat vroue op die ‘kerkraad’ moet wees.

 

Omdat ons dan God se patroon in die huis, kerk en samelewing geïgnoreer het, het die land in wanorde verval (3:5).  Jongmense het geen respek vir gesag nie, en misdadigers is nie meer bang vir die polisie nie (3:5).  Hollywood en die gay gemeenskap het ons aangemoedig om nie skaam te wees nie, maar om ons sonde te paradeer (3:9).

 

Ons land se leiers onderdruk die armes (3:14-15).  Volgens die regering se sosialistiese en kommunistiese denke moet almal gelyk wees, maar soos in George Orwell se Animal Farm is die regering meer gelyk as die res:  die rykes word ryker en die armes bly arm.

 

Verder help die gratis RDP behuising en die sg. ‘government grants’ nie juis nie, omdat dit mense afhanklik maak van die regering en vir hulle leer om lui te wees.  Sonder dat die land se leiers dit besef (of dalk besef hulle dit), is hulle besig om te maak dat mense nie uit hulle armoede kan ontsnap nie.

 

Ons land het ook ‘n obsessie met die uiterlike; ‘n hoogmoed wat maak dat ons die aandag op ons liggame vestig (3:16-23):  kort kortbroeke, stywe gymklere, oop swemklere, half naakte vroue wat hamburgers, parfuum, horlosies, sonbrille, karre, juwele, en byna enigiets onder die son adverteer.  Ons dogters het model-tipe liggame, maar hulle weet nie hoe om ‘karakter’ te spel nie (1 Tm.2:9-10, 1 Pt.3:3-4, Sp.31:30).

 

Ek sou voorstel dat ons nie net kwaliteit tyd met ons kinders spandeer nie, maar kwantiteit tyd.  Hoe gaan ons hulle beïnvloed as pa en ma vir 10 ure van die dag by die werk is, as ons nie tyd met hulle spandeer nie, as ons nie daar is om vir hulle die Bybel te leer, met hulle te speel, hulle lief te hê, na hulle te luister, en hulle te dissiplineer nie?

 

Ons voorland (hfst.4)

In Kenia se droë seisoen is die veldbrande en vulkaniese aktiwiteit so erg, dat selfs die grond swart is.  Maar as die reën kom verander die Serengeti vlakte in ‘n sebra en wildebees paradys:  uit die swart grond groei sappige groen gras met ‘n maksimum voedingswaarde.

 

So was dit ook op ‘n geestelike vlak in Jerusalem.  Toe die Here haar geoordeel het, was die dogters van Sion so onaantreklik soos gras wat gebrand het (3:16-24).  Maar uit die swartgebrande grond sou die groen Spruit van die Messias en sy heerlike skoonheid gekom het (4:2, 11:1, Jer.23:5-6, 33:15, Sg.3:8, 6:12).  Anders as die volk in 5:1-7, sou Hy goeie vrugte gedra het (4:2, 27:6, Jh.15:1-8).  Dié wat God se oordeel oorleef het sou nie in hulleself geroem het nie, maar in Hom (4:2, 3:5, 16-23, 2:11-22, 1 Kor.1:31).

 

Dis tog Hý wat besluit het om hulle vir Homself af te sonder (4:3).  Nog voordat Hy die wêreld gemaak het, het Hy hulle gekies om heilig te wees; Hy het hulle name in sy Boek geskryf, sodat hulle in die Nuwe Jerusalem kon ingaan (4:3, Ps.87:5-6, Lk.10:20, Rm.9:23, Gal.4:26, Ef.1:4, Fil.3:20, 4:3, Heb.12:23, Op.21:27, 13:8).

 

Maar om afgesonder te wees vir die hemelse Jerusalem, moes die vuur van God se Gees eers die dros van Jerusalem se sonde weggebrand het (4:4, 3:16-23, 1:15, 18, 25, 33:14, Esg.36:25, Mal.3:2-3, Mt.3:11-12).  Dit het gebeur toe Jesus aan die kruis gesterf het.  Dit gebeur ook wanneer iemand tot bekering kom.  En laastens sal dit gebeur wanneer God op die laaste dag mense met hulle sonde uit sy heilige teenwoordig uit verwyder.

 

As Hy dit klaar gedoen het, sal Hy vir ewig soos ‘n helder wolk van vuur by ons wees in die heerlike beskutting van die Nuwe Jerusalem (4:5, Eks.13:21-22, Ps.105:39, Op.21:3).  Sy teenwoordigheid sal ons beskerm soos wat ‘n afdak ons teen die son en reën beskerm (4:6, 25:4-5, Ps.27:5, 91:1, 4, 121:5-6, Sp.18:10, Op.7:15-16).

 

Dalk wonder jy hoekom ons in die Nuwe Jerusalem die Here se beskerming nodig het?  Waarteen moet Hy ons beskerm as Hy aan die kruis en op die oordeelsdag ons sonde, die duiwel en die wêreld oorwin het (4:4, hfst.3)?

 

Hy moet ons teen Homself beskerm.  Ons vergeet partykeer dat God gevaarlik is.  Om vir ewig in sy heerlike en heilige teenwoordigheid te bestaan, het ons ‘n Middelaar nodig (1 Tm.2:5).  Ja, selfs in die hemel het ons genade nodig.

 

Dit is nie dat Hy ons nie daar wil hê nie.  Hy wil ons juis daar hê, en daarom het Hy vir Jesus gestuur om ons van ons sonde te reinig, sodat ons in sy teenwoordigheid kan inkom (4:4).  God het mens geword, sodat ons sy heerlikheid kan sien sonder om dood te gaan (Jh.1:14, Eks.33:20, 23).  In die hemel sal Hy ons toelaat om ‘n voller openbaring van sy heerlikheid sien, te geniet en te ervaar (Jh.17:24).

 

Maar selfs in ‘n sondelose hemel waar ons perfek is, is ons nogsteeds skepsels wat nie die kapasiteit het om sy volle heerlikheid te aanskou nie (6:1-2).  Daarom moet die Messias ons met sy teenwoordigheid bedek, soos wat die wolkkolom die Israeliete in die woestyn beskerm het (4:5-6).

 

Die verskil is natuurlik dat ons nie soos hulle op ‘n afstand sal moet bly, sodat ons nie in God se heerlike teenwoordigheid kan inkom nie (Eks.40:35).  Nee, deur die Heilige Gees sal die Vader en die Seun in hulle skoonheid, heerlikheid, voorsiening, verhewenheid, lofwaardigheid, vriendskap, heiligheid, liefde, genade, beskutting, alomteenwoordigheid en almag, nader aan jou wees as wat jy aan jouself is.  As die Vader en die Seun op aarde reeds deur die Heilige Gees in ons harte woon (Jh.14:23), hoe naby sal die Drie-Enige God in die hemel nie aan ons wees nie?

 

Het jy al ooit tydens ‘n biduur, erediens, Bybelstudie, in die skepping of in jou stiltetyd die Here se nabyheid ervaar en geniet?  Ek onthou een stiltetyd waarin die ervaring van God se liefde my hart laat smelt het.  Dit was so soet in my siel soos suiker in warm water.  Dit het my hart oorweldig soos ‘n vertrek met 10 of 20 vensters waardeur die lig inkom.  Dit was te veel om te hanteer.

 

Hoe sal dit dan nie in die hemel wees, wanneer ons die heerlike, heilige, ewige en almagtige God van aangesig tot aangesig sien nie?  Volgens Paulus sal jy in verwondering wees (2 Ts.1:10).  Jou mond sal oophang; jy sal met jou gesig op die grond val en die Here aanbid.

 

As ons ons bekeer en op die gekruisigde en opgestane Christus vertrou om ons van ons sonde te red, sal dít ons voorland wees.  Maar as ons dit nié doen nie, dan wag daar donker dae op ons.