Die geseënde gevolge van ’n regte verhouding met God

Blood dripping from cross

Eendag was daar ‘n koning wat nie kon kinders hê nie. Hy het ‘n seun aangeneem. Al was die seun nie sy eie nie, het hy die respek en voorregte gekry wat die koning toekom.

So is dit met ons en God. Die Vader het ons sonde in Jesus se rekening inbetaal, en sy perfekte lewe in ons s’n. Almal wat glo ontvang die voordele van Jesus se perfekte lewe en kruisdood.

Deur Jesus beskou die Vader jou so onskuldig, heilig en regverdig soos sy eie Seun. Die geseënde gevolge wat vir Jesus geld, geld ook vir jou. Dit is wat ons in Rom. 5:1-5a leer. Wat is hierdie geseënde gevolge van ‘n regte verhouding met God?

 

  1. Vrede met God (v.1)

Reinhardt steel R100 000 by Niel. Na ‘n paar maande skep hy moed en gaan sien hy vir Niel om vrede te maak. Sy poging misluk, want solank as wat hy R100 000 skuld kan daar nie vrede wees nie. Hy moet eers sy skuld betaal.

Net so kan jy nie vrede met God hê solank as wat jy sondeskuld het nie. In sy genade het God ons sondeskuld deur Jesus se kruisdood betaal en vrede bewerk (v.1). Nou is Hy nie meer ons Vyand nie (v.10) en kan ons ‘n skoon gewete en ‘n rustige hart vol vrede hê.

Jy moet egter nie rus in die vrede wat jy in jou hart voel of nie voel nie. Party mense wat nie in Jesus glo nie en in sonde lewe, het ‘n gevoel van vrede in hulle harte. Dit is ‘n vals vrede.

Is jy dalk so? Ontvang God se vrede deur Jesus (v.1). Erken dat jy sleg en skynheilig is, en dat jy God se oordeel verdien. Vra sy vergifnis en verlaat jouself heeltemal op sy genade.

 

Upon a Life I have not lived,

Upon a Death I did not die,

Another’s Life; Another’s Death,

I stake my whole eternity.

-Horatius Bonar-

Maar wat as jy in Jesus glo en jou bekeer, maar nie vrede in jou hart het nie? Die belangrikste is dat jy deur Jesus se kruisdood vrede met God moet hê (v.1), al voel jy dit nie in jou hart nie. God is groter as jou hart en die emosies wat jy voel (1Joh. 3:19-20). ‘Your heart is not the compass Christ saileth by’ [Samuel Rutherford, Puritan Paperbacks: Letters of Samuel Rutherford (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973 [1664]), 87]. Glo daarom God se beloftes bo dit wat jy in jou hart voel of nie voel nie.

Maar dit beteken nie dat jy die gevoel van vrede heeltemal moet ignoreer nie. Soek dit, want as jy dit het sal dit jou baie droefheid, twyfel en angs spaar. Dit sal vir jou vrymoedigheid gee (1Joh. 3:21). Om hierdie gevoel van vrede te kry moet jy daarvoor bid. Jy moet ook beloftes soos Rom. 5:1 glo en oordink.

 

  1. Toegang tot God se genade (v.2a)

Het jy al in ‘n winkel die ‘Staff Only’ teken bo ‘n deur gesien? In die ou tyd was daar ‘n ‘God Only’ teken bo die ingang van God se troonkamer. In die Ou Testament kon slegs die hoëpriester een keer per jaar in die tabernakel of tempel se Allerheiligste – die troonkamer – ingaan (Heb. 9:7).

In die Nuwe Testament is dit anders. Deur geloof in Jesus het ons 24/7 toegang tot die skatkamer van God se onverdiende guns of genade (v.2a, Heb. 4:16, 10:19-22). Volgens die Griekse perfektum kan die deur nie weer toegaan nie, maar staan ons vas in hierdie genade (v.2a).

Hoe kan jy die skatte van hierdie genade geniet? Dit is nie genoeg om die Bybel te lees, die evangelie te hoor, geestelike gemeenskap te soek, te vas, te bid, lofliede te sing, te dien, gedoop te word, die nagmaal te vier of evangelisasie te doen nie.

‘n Ongelowige kan ook hierdie dinge doen, terwyl hy buite die skatkamer van God se genade staan. Om die skatte van genade te geniet moet jy glo terwyl jy die bg. dinge doen. Geloof is die sleutel wat die deur van genade oopsluit.

Wat en hoe moet jy glo? Glo dat God se beloftes waar is. Wanneer jy die Bybel lees en daarna luister, moet jy glo dat dit God se Woord is. Wys dat jy die Bybel glo deur dit te doen. Glo dat God jou gebede deur sy Seun sal hoor en beantwoord. Glo dat Jesus uit die graf uit opgestaan het en jy saam met Hom. Bely dit deur die doop van gelowiges. Glo dat sy dood jou kan red en vergewe. Bely dit in die nagmaal.

Glo dat God jou Vader is. Glo dat Jesus jou Verlosser en Here is. Glo dat die Heilige Gees in jou woon. Glo dat die kerk jou familie is. Glo dat Hy jou lofprysing ontvang en oor jou glimlag as jy uit jou hart uit sing. Glo dat Hy jou sal seën as jy tot sy eer ander gelowiges dien en die evangelie met ongelowiges deel.

As jy al hierdie dinge in die geloof doen, sal jy ervaar hoe God se genade soos ‘n standhoudende rivier na jou siel toe vloei. Jy sal waarlik ryk wees (Ef. 1:7, 2:7, 3:8). Paulus het dit verstaan en kon nooit ophou om verbaas te wees oor God se genade nie. Om hierdie rede groet hy die gelowiges aan die begin en die einde van al sy briewe met ‘genade’.

Uit 129 keer wat die woord ‘genade’ in die Nuwe Testament voorkom, is 86 daarvan in Paulus se briewe. En volgens v.2a is hierdie genade joune as jy in Jesus glo.

 

  1. Blydskap oor die hoop van die hemel (v.2b-5a)

Toe ons onlangs Pilansberg toe is, het my swaer en suster saamgegaan. ‘n Dag of wat voor ons vertrek het, toe raak hulle baba siek. Hulle het oorweeg om liewer nie saam te gaan nie. Toe my kinders dit hoor, toe sê hulle: ‘Ah! Ons hoop die baba word beter sodat hulle kan saamgaan.’ My kinders se hoop was eintlik maar ‘n onsekerheid. Met ‘hoop’ het hulle bedoel dat die familie miskien gaan saamkom, maar miskien nie.

Dit is nie wat ‘hoop’ in die Bybel beteken nie. Bybelse hoop is iets wat jy nie nou sien nie, maar wat verseker in die toekoms gaan gebeur (Heb. 11:1). Die hoop in v.2b verwys na die ewige heerlikheid van die hemel wat op ons wag. Dít is waaroor ons bly is (v.2b, 1Pet. 1:8).

In die hemel sal ons die helder en beeldskone glans van God se heerlikheid in sy Seun sien, weerspieël, bewonder en geniet (v.2b, Joh. 17:24, 2Tess. 1:10, Heb. 1:3). Dit is hoekom Hy ons geskep en gered het (Jes. 43:7, 21, 1Kor. 10:31, 2Kor. 3:18).

Maar hoe kan ons oor hierdie hoopvolle en heerlike toekoms juig as ons nog in die hede swaarkry? Paulus sê dat ons in ons lyding moet juig, en nie dat ons oor dit moet bly wees nie (v.3). Ons moet juig omdat ons weet dat ons lyding die saad is waaruit die boom van hoop groei (v.3-4). Ons moet juig omdat die gras van ons lewens groener word a.g.v. die vuur van lyding wat dit brand. Ons dra meer vrug wanneer God se skêr van lyding die takke van ons lewens snoei.

Ons moet juig omdat die Vader die Seun in ons plek gestraf en sy geregtigheid aan ons gegee het (v.1). Prakties beteken dit dat lyding nie God se straf oor ons is nie, maar dat dit eerder tot ons voordeel is (v.3-5, 8:1, 28). Oefening in lyding bou fiksheid en geestelike spiere om in die hemelse wedloop te volhard, net soos wat harde oefening dit vir jou liggaam doen (v.3).

As ons nie ly nie en alles altyd net goed gaan, sal ons terugsit, op onsself vertrou, gemaklik begin raak in die wêreld, en van die Here vergeet. Maar wanneer ons ly erken ons ons swakheid, roep ons tot die Here, verlang ons na die hemel, en keer ons terug na die regte pad toe (Heb. 12:5-11). Op hierdie manier kweek lyding volharding (v.3).

As jy dit onthou kan jy juig selfs wanneer jy swaarkry (v.3, Matt. 5:10-12, Hand. 5:40-41, 16:25, Fil. 4:4, Jak. 1:2-3). Maar as jy dit vergeet, dan sal jy jouself bejammer en swaarmoedig wees in jou lyding.

Die vuur van lyding is pynlik, maar dit toets jou soos goud en wys of jou geloof eg is of nie. As jy in lyding volhard kweek dit karakter (v.4). Hoe meer jy volhard, hoe sterker word jou karakter. Wat in die verlede ‘n enkele goeie daad was, word nou ‘n gewoonte en vorm uiteindelik deel van jou karakter.

As goeie karakter dan by lyding begin, moet ons nie so gou as moontlik van lyding ontslae wil raak nie. As ons dit doen, dan raak ons ontslae van God se staalwol waarmee hy die pot van ons lewens blink skuur.

Bybel lering is die onderwyser wat die teologie in jou kop sit. Maar lyding is die streng afrigter wat jou dril en help om die Bybel toe te pas en jou hart vas te sement. Volharding in lyding kweek karakter (v.4a). En as jou karakter soos Jesus s’n word, begeer jy nie net die hemel omdat jy lyding wil vryspring nie. Jy begeer dit eerder omdat jy soos Jesus en by Hom wil wees. Karakter kweek hoop (v.4b).

As jy die aarde meer begeer as die hemel, dan wys dit dat jou karakter nog onvolwasse is. Jy moet nog in die skool van lyding leer totdat jy soos Jesus is en by Hom wil wees. Elkeen wat hierdie hoop het, word nie teleurgestel nie. Jy sal nie skaam kry, sodat jy uiteindelik moet sê: ‘My hoop het nie gerealiseer nie. Dit was alles net ‘n leë droom. Ek het tevergeefs gely en volhard.’

Nee, “die hoop beskaam nie” (v.5). So seker as wat God getrou is sal jou hoop vir Jesus en die hemel bewaarheid word. As die hoop van die hemel niks anders as ‘n feëverhaal is nie, moet jy dit nou los en nie verder jou tyd daarmee mors nie. In daardie geval God ‘n onbetroubare legende en die Bybel ‘n storieboek.

As jy gered is sal jy dit nie doen nie, maar vashou aan die onwankelbare en onveranderlike Christus, die hoop van heerlikheid (Kol. 1:27, 1Tim. 1:1). Sonder Hom is elke resep om seën te ontvang leeg. Jy kan doelgerig lewe, Jabes se gebed opsê, goeie dinge oor jouself dink en spreek totdat jy blou is in die gesig: dit sal nie werk nie. Die seën van die Christelike lewe is in Jesus en Hom alleen (Ef. 1:3).

 

Wag op die Here

Hourglass

Ek het al voorheen verwys na twee karakters in John Bunyan se Pilgrim’s Progress:  Passion en Patience.  Passion wou dadelik al sy speelgoed hê.  Hy het dit gekry en vir Patience gelag, omdat hy niks gehad het nie.  Patience het geduldig gewag, omdat hy geweet het dat hy ‘n erfenis in die hemel het.  Kort voor lank was Patience se speelgoed gebreek en sy klere geskeur.  Hy het niks oorgehad nie.  Genesis 35:16-37:1 leer vir ons dieselfde les.

 

Jakob (hfst.35)

Toe Jakob klaar sy belofte nagekom het, het hy weggetrek uit Bet-el.  Naby Efrat (Betlehem) het Ragel in kraam gegaan.  God het haar gebed vir nog ‘n seun beantwoord (30:24).  Sy het moeilik geboorte gegee, en net voordat sy dood is, het sy die kind Ben-Oni genoem:  seun van my smarte (Benoni is na hóm vernoem).  Vir Jakob was hierdie kind spesiaal.  Van al sy kinders is net Benjamin in Kanaän gebore.  Benjamin is die naam wat Jakob hom gegee het.  Benjamin beteken ‘seun van my regterhand’.  Hy is ‘n tipe van Christus.  Jesus is ook by Betlehem gebore en is die Seun van sy Vader se regterhand (Matteus 2:1, Psalm 110:1).  Jakob het vir Ragel naby Betlehem begrawe (v.16-20).

 

Jakob het verder gereis tot by die Migdal-Eder (toring van Eder).  Hierdie was seker ‘n tipe wagtoring waaruit hulle veediewe kon raaksien.  Toe hulle daar gebly het, het Ruben met sy pa se byvrou geslaap.  Hy het dit gedoen omdat hy wellustig was, maar het ook probeer om só sy pa se hoofskap oor te neem – hy was immers die eersgeborene (v.21-22).  Soos in 34:5, 13 het Jakob sy hoofskap versuim en stilgebly.  Hy het eers op sy sterfbed die saak met Ruben opgeneem:  “Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!  Opbruising soos van waters—jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.” (49:3-4).  Hy het ook sy tweede en derde oudste seuns aangespreek, omdat hulle in 34:25-26 ‘n hele stad se mans uitgemoor het:  “Símeon en Levi is broers.  Hulle wapens is werktuie van geweld.  Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink.  Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard.  Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.” (49:5-7).  Die vierde oudste seun, Juda, het dus die belangrikste geword (49:8-12, 1 Kronieke 5:1-2).  So het God hulle sonde gebruik om sy planne te volbring, want uit Juda se nageslag moes die Messias gebore word.

 

Moses (die outeur) het eers nuus oor die jongste en oudste seun gegee, en daarna ‘n volledige lys van Jakob se twaalf seuns gegee:

 

“En die seuns van Jakob was twaalf.  Die seuns van Lea was:  Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Issaskar en Sébulon.  Die seuns van Ragel:  Josef en Benjamin.  En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel:  Dan en Náftali.  En die seuns van Silpa, die slavin van Lea:  Gad en Aser.  Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.” (v.22-26).

 

Jakob het Hebron toe getrek om sy pa te gaan sien (v.27, 13:18).  In 28:21 het God belowe om hom na sy pa se huis toe terug te bring, en in 31:18 was dit sy eie voorneme.  Isak was 180 toe hy dood is (v.28).  Sy twee seuns, Jakob en Esau, het hom begrawe (v.29, 25:9).  Hulle was 120 jaar oud (25:26).  Dit is ironies hoe begrafnisse dikwels vervreemde geliefdes met mekaar herenig.  Noudat Isak dood was, het Jakob oorgeneem as hoof van die aardsvaders.

 

Esau (hfst.36-37)

Hierdie hoofstuk wys op die verskille tussen Jakob en Esau.

 

Hulle vroue

[1] Esau het sy vroue by die Kanaäniete gekry (v.2-3).  Sy een vrou was Ismael se dogter.  Alhoewel die Horiete sy vyande was, het hy en sy seun Elifas met hulle dogters getrou (v.12, 20, 22, 25).

 

[2] Soos sy pa, het Jakob met familie getrou en sy vroue uit Haran gekry (hfst.24, 28:1).  Hy het nie, soos Esau, met die Kanaäniete ondertrou nie (34:9).

 

Hulle kinders

[1] Esau het vyf seuns en tien kleinseuns gehad (v.4-5, 9-13).  Elifas was die oudste en sý seun was Teman (v.10-11).  In Job 2:11 lees ons van Elifas die Temaniet.  Hy het dus van hier af gekom.  Us was ook ‘n inwoner van Seïr (v.28).  Volgens Job 1:1 was Job uit die land Us.  Amalek was ook een van Elifas se seuns (v.12).  Die Amalekiete het later vir Israel probleme veroorsaak (Eksodus 17).

 

[2] Jakob het twaalf seuns gehad en nog geen kleinseuns nie.  Sy nageslag moes baie vermeerder voordat hulle soos die sterre van die hemel en die stof van die aarde kon wees.  In hfst.35 het hy drie geliefdes aan die dood afgestaan:  Debora (sy ma se oppasser), Ragel (sy geliefde vrou), en Isak (sy pa).

 

Hulle lande

[1] Daar was te min weiding in Kanaän vir Jakob en Esau se baie vee (v.7, 13:6).  Esau het Seïr toe getrek.  Die Here het vir Seïr die Horiet voor Esau verdryf (Deuteronomium 2:22).  Hy het sy gesin in die land gevestig (v.6-8).  Esau het sy broer se juk afgegooi (27:40).  Die Here het hom laat trek, omdat Hy die land Kanaän aan Jakob belowe het.

 

[2] God het wel die land aan Jakob en sy nageslag belowe (35:12), maar hy was nog ‘n vreemdeling in die land (37:1).

 

Hulle konings

[1] Esau het stamhoofde gehad (v.15-19, 40-43).  Daar was ook reeds konings in Edom.  Daar was nie ‘n koninklike familie nie; die konings is deur stamhoofde ingestem (v.31-39).

 

[2] Al het God vir Jakob belowe dat konings uit hom sou voortkom (35:11), was daar nog geen koning in Israel nie (v.31).

 

Hulle nasies

[1] God het belowe dat Jakob en Esau twee nasies sou word (25:23).  Esau was reeds ‘n nasie:  Edom (v.43).  Edom het vir Israel gehaat (Obadja).

 

[2] Jakob was maar twaalf seuns en nog nie ‘n nasie nie (35:11, 22-26).  God het die Israeliete beveel om gaaf te wees met Edom (Deuteronomium 2:4-5, 23:7).

 

Soms lyk dit of Esau beter af is as Jakob, of die wêreld beter af is as God se kinders (Psalm 73):

 

  • Duisende mense daag op vir Michael Jackson se begrafnis. ‘n Paar hartseer gelowiges vergader om ‘n ou sendeling se graf. Niemand onthou die sendeling nie en daar is nie eers geld vir ‘n grafsteen nie.
  • ‘n Oneerlike Moslem-sakeman se besigheid gaan vooruit en hy word skatryk. Jy werk eerlik en probeer om die Here te verheerlik, maar jou besigheid sukkel.
  • Ons president en party parlementslede word ryk deur korrupsie. Twee vroue in ons gemeente sukkel om kop bo water te hou (Prosperity predikers is eenvoudig nie eerlik of realisties met die lewe nie!).
  • Benny Hinn en Joel Osteen het tienduisende mense in hulle kerke. Baie kerke wat die waarheid preek bestaan maar uit ‘n handjievol mense.
  • Die Mormone en Vatikaan het hope geld. Baie kerke wat ernstig is met die waarheid werk op ‘n stywe begroting.

 

Dit laat jou wonder of God sy kinders vergeet en verlaat het.  Dalk sê jy soos Asaf dat jy tevergeefs jou hart rein en jou hande skoon gehou het (Psalm 73:17).  Dis amper of die Here nie eers raaksien dat jy probeer om heilig te lewe nie.

 

Moenie so dink nie.  Jy mag dalk nie in hierdie wêreld voorspoedig wees nie.  Maar jy kan seker wees dat jy in die hemel voorspoedig sal wees – vir ewig.  Moenie soos Esau wees wat vir die hier-en-die-nou gelewe het nie (25:29-34, Hebreërs 12:16-17).  Onthou liewer wat die Bybel sê:

 

“En Hy sê vir almal:  As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.  Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?” (Lukas 9:23-25).

 

“Maar Abraham antwoord:  Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte.  En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.” (Lukas 16:25).

 

“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Korintiërs 4:16-18).

 

Soms lyk dit vir ons of die koninkryke van hierdie wêreld in beheer is.  Maar die Here sê:  “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.” (Obadja 21).  Ons het ‘n vaste hoop dat die Here eendag dinge gaan omkeer, sodat ons voorspoedig mag wees.  Hierdie hoop help ons om te volhard en geduldig te wag op die Here:  “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?  Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.” (Romeine 8:24-25).  Vir die gelowige is die lyding van hierdie wêreld die naaste wat hy aan die hel sal kom.  Vir die ongelowige is die vreugdes van hierdie wêreld die naaste wat hy aan die hemel sal kom.  Laat dít jou help om nie bitter te word, jouself te bejammer, te kla, selfmoord te oorweeg, of te wens jy’s dood wanneer ongelowiges voorspoed geniet, terwyl dit met jou sleg gaan nie.  Matthew Henry was reg:

 

“The children of this world have their all in hand, and nothing in hope (Luke 16:25); while the children of God have their all in hope, and next to nothing in hand.  But, all things considered, it is better to have Canaan in promise than Mount Seir in possession.”