Kom Jesus in 2018?

Second Coming cloud

‘n Paar jaar gelede was daar ‘n advertensiebord langs die R21 wat gesê het dat Jesus op 21 Mei 2011 sal terugkeer.  In 2012 het Hollywood die einde van die wêreld in Desember van dieselfde jaar voorspel.  Ek het ‘n DVD gekyk waarin iemand sê dat die groot verdrukking in 2013 sou begin, en dat Jesus in 2017 sou terugkeer.

 

Nie een van die bg. datums is vervul nie.  Ons weet ook nie of Jesus in 2018 sal kom nie.  Maar ons moet gereed wees.  So leer Matt. 24:36-51 vir ons.  Maar voordat ons daarby uitkom, moet ons v.32-35 bestudeer.

 

  1. Die vyeboom (v.32-35)

As ‘n vyeboom of ander bladwisselende bome se takke sag word en dit blare kry, weet jy dat die winter verby is en dit amper somer is (v.32, Luk. 21:29-30).  So was dit met die verwoesting van Jerusalem en die tempel: “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” (v.33).

 

‘Al hierdie dinge’ verwys na v.15-31 se groot verdrukking in 67-70 n.C. (v.1-3, 15-28, 23:36).  Die verdrukking het gewys dat Jesus voor tempel se deur staan, gereed om dit te verwoes (v.33, Jak. 5:9).  Toe dit gebeur het die winter van die Jode se vervolging op die kerk geëindig en het die somer aangebreek (v.32, Luk. 21:28, 1Tess. 2:14-16).

 

Deur die tekens van v.15-28 dop te hou, kon die dissipels die tyd van die tempel se verwoesting uitwerk (v.33).  Niemand weet egter wanneer Jesus weer kom nie (v.36).  Dit bevestig dat v.33 na die verwoesting van die tempel verwys, en nie na die wederkoms nie.

 

Jesus sê dit direk in v.34: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”  Al die dinge van v.1-33 het in die geslag na Jesus se hemelvaart gebeur (vgl. 10:23, 16:28).  Dit is wat ‘geslag’ in die res van Matteus beteken (11:16, 12:41, 42, 45, 23:36).  Omdat Jesus se woorde vaster as die hemel en aarde is, kon die dissipels dit glo (v.35, Jes. 40:8, Op. 21:1).

 

Wat ek in vorige preke gesê het sê ek weer: die Bybel is betroubaar.  As die voorspellings oor die verwoesting van die tempel in 70 n.C. vervul is, kan jy verseker weet dat die profesieë rakende die wederkoms vervul sal word.

 

Ek glo nie dat iemand in ons gemeente dit betwyfel nie, maar leef ons in die lig daarvan?  Hoeveel Christene het werklik ‘n verlange na Jesus se wederkoms?  Volgens Wayne Grudem wys die mate waarin jy na Jesus se koms verlang iets van jou geestelike toestand.[1]  As jy gereeld aan die wederkoms dink sal jy:

 

  • Nie aanhoudend uitstel om dinge met die Here reg te maak nie. Jy sal jouself nie rus gee, totdat jy weet jy is gered nie (2Pet. 3:9, 15).
  • Nie geestelik aan die slaap wees nie, maar waaksaam (v.42).
  • Jou sonde aflê en na Jesus toe kom om jou hart te reinig (Kol. 3:4-5, 1Joh. 3:2-3, 1:7, 9). Jy sal jou rug op die wêreld draai en heiligheid najaag (Tit. 2:12-13, 2Pet. 3:11).
  • In Christus bly en nie van Hom af wegdwaal nie (1Joh. 2:28).
  • Gebroke verhoudings regstel (2Pet. 3:14).
  • Nie kort paaie vat in die Here se werk nie (25:14-30, 1Kor. 3:12-15).
  • Nie ophou om in die gemeente dien nie, maar volhard (1Kor. 15:58).
  • Werk om die Here te behaag en nie om mense te beïndruk nie (2Tim. 4:1-2).
  • Vasbyt in beproewing en vervolging (Rom. 5:2-5, 8:24-25).

 

Geloof in Jesus se belofte van die wederkoms sal jou dapper maak en help om saam met Martin Luther te sê: ‘Christians must have the vision which enables them to disregard…the devil and the guns of the whole world, and to see Him who sits on high and says: “I am the One who spoke to you.”’[2]

 

  1. Die vloed (v.36-42)

Iemand het eenkeer vir my gesê dat Jesus Christus se onkunde oor die wederkoms wys Hy is nie God is nie.  Ek twyfel nie vir ‘n oomblik oor Jesus se Godheid nie, maar wat beteken hierdie vers?

 

Die voegwoord ‘maar’ wys dat v.36-51 oor die wederkoms gaan, terwyl v.1-35 oor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. gaan.  In v.36, 42, 50, 25:13 kontrasteer Jesus die ‘dag’ (ekv.) van sy wederkoms met die ‘dae’ (mv.) van die groot verdrukking in 67-70 n.C. (v.19, 22, 29).

 

Wanneer sal hierdie dag wees?  Niemand weet nie: nie die engele in die hemel nie, en ook nie die Seun nie (v.36, Mark. 13:32).  Net die Vader weet (v.36, Dan. 2:21, Hand. 1:6-7).  Natuurlik weet Jesus nou.  Toe Hy op aarde was het Hy nie opgehou om God te wees nie, maar die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee om in afhanklikheid van die Vader te leef (Joh. 6:38, Fil. 2:6-7).  Hy was bv. net op een plek op ‘n slag, terwyl Hy in sy Goddelike natuur oral is (Matt. 18:20, 28:20).  Sy kennis was beperk (v.36), terwyl Hy in sy Goddelike natuur alles weet (Joh. 2:24-25, 5:20, 16:30, 21:17).

 

Die wederkoms sal so onverwags soos Noag se vloed wees (v.37).  Voor die vloed het mense geëet, gedrink, getrou en hulle dogters in die huwelik uitgegee (v.38).  Selfs toe Noag in die ark was het mense nog nie besef dat die vloed oppad is nie (v.39).  Dit het onverwags soos ‘n luiperd of skerpskutter op hulle afgekom en hulle weggespoel (v.39).

 

So sal die wederkoms op ‘n doodgewone dag plaasvind (v.39): “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.  Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” (v.40-41).

 

Ek is nie seker dat ‘aangeneem’ die beste vertolking van die Grieks is nie [Gk. paralambanō].  ‘Aangeneem’ impliseer dat die gelowige gevat word, terwyl die ongelowige agterbly.  Maar tydens die vloed is die ongelowige gevat, terwyl Noag en sy gesin veilig in die ark was.

 

Wanneer Jesus weer kom sal God die ongelowige vat om geoordeel te word, en die gelowige los om saam met Jesus op die nuwe aarde te heers (v.40-41).  Omdat dit skielik sal gebeur moet ons gereed wees (v.42).  Ons moenie geestelik aan die slaap wees soos die gemeente in Sardis nie (v.42, Op. 3:2).  Jy weet nie wanneer die Here kom nie (v.42, 36).

 

Wat leer v.36-42 vir ons?

 

[a] God se geheime kennis van die wederkoms beteken dat ons nie moet probeer om dit uit te werk nie.  Mense wat dit doen is besig met diefstal, omdat hulle kennis probeer steel wat die Here nie aan hulle geopenbaar het nie (Deut. 29:29).  Moenie jou ore uitleen vir mense wat die presiese datum van Jesus se wederkoms probeer vasstel nie.

 

[b] Aan die anderkant moet jy dit nie ignoreer, omdat dit volgens jou nog ver in die toekoms lê nie.  As jy dit doen is jy soos die spotters in 2Pet. 3:4: “Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

 

Jesus se wederkoms sal so skielik en onverwags soos Noag se vloed wees (v.39).  Dink gereeld daaraan.  Om daagliks volgens Matt. 6:10 bid sal jou help: ‘laat u Koninkryk kom’.

 

[c] Jesus is onpartydig en onderskei nie tussen mans en vroue, ryk en arm nie (v.40-41, Rom. 2:11).  As sonde jou lewe opgesom het sal Hy jou oordeel; as jy jou bekeer het sal jy saam met Hom op die nuwe aarde woon.

 

[d] Wees waaksaam vir die duiwel se versoeking (1Pet. 5:8), maar wees meer waaksaam vir Jesus se wederkoms.  Jy weet nie wanneer Hy kom nie (v.42, 36)!  Dalk kom Hy terwyl jy die kerse op jou verjaarsdag koek uitblaas, of terwyl jy voor die kansel staan om ‘I do!’ te sê.

 

  1. Die dief (v.43-44)

As die baas van die huis weet hoe laat die dief gaan inbreek, sal hy hom met ‘n knuppel of ‘n geweer inwag (v.43).  Hoeveel te meer moet ons nie wakker wees nie, aangesien ons nié weet wanneer die Here kom nie (v.44, Mark. 13:35, 2Pet. 3:10)?  Ek sien twee lesse in hierdie verse.

 

[a] As iemand sy besittings beskerm, sal jy nie jou ewige siel beskerm nie?  Dit moet jou pla as jy geestelik lou is of handevat met die wêreld.  Waak oor jou verhouding met die Here.

 

[b] Jesus kom op ‘n uur wat jy dit nie verwag nie (v.44).  Moet dan nie sê dat die toenemende korrupsie en misdaad, aardbewings en droogtes ‘n bewys is dat die wederkoms naby is nie.  As jy so redeneer sal jy minder waaksaam wees as die misdaadsyfer afneem en die ekonomie optel.  Jy moet altyd gereed wees vir die wederkoms en nie net wanneer die wêreld in ‘n gemors is nie.

 

  1. Die dienskneg (v.45-51)

‘n Ryk man stel ‘n getroue en wyse slaaf aan oor sy huishouding (v.45, 7:24, 25:21).  Hy moet o.a. sorg dat die ander slawe se etes betyds reg is (v.45).  As die baas huis toe kom en sien dat die slaaf gehoorsaam is, sal hy hom oor al sy besittings aanstel (v.46-47, 25:21).

 

Maar wat as hy ‘n slegte slaaf is en sê: ‘My baas is al vir jare weg en sal nie binnekort terugkeer nie; ek kan doen wat ek wil’ (v.48, 25:5, 2Pet. 3:4)?  Die slaaf gee nie vir die ander hulle kos nie, maar slaan hulle en vat dit vir homself en sy dronk pelle (v.49).

 

Terwyl hy so te kere gaan daag sy baas onverwags by die huis op (v.50).  Hy kom wanneer die slaaf dit die minste verwag (v.50, 36).  Hy vat ‘n swaard en kap die slaaf in stukke soos ‘n bees [Gk. dichotomeō], soos toe Samuel vir Agag in stukke gekap het (v.51, 1Sam. 15:33, Luk. 19:27).  Hy gooi hom saam met die skynheiliges in die hel waar hy weens die pyn ween en op sy tande kners (v.51, 13:42, 50, 22:13, 25:30).

 

Ek wil ‘n paar toepassings maak.

 

[a] Wees ‘n getroue en wyse slaaf wat doen wat die Here vir jou sê (v.45).  Dit is al wat die Here van jou vra, naamlik dat jy gehoorsaam moet wees.  Sal Jesus jou op die dag van afrekening as ‘n getroue slaaf beloon (25:21, 23, Luk. 16:10)?  Het jy gedoen wat Hy vir jou gesê het: met jou huweliksmaat, kinders, gemeente, familie, vriende, kollegas, werk, geld, besittings, tyd, ens.?

 

[b] Toe die baas huis toe kom was die goeie slaaf besig om sy take uit te voer (v.46).  Wanneer Jesus kom hoef jy nie in die kerk te sit of besig te wees met jou stiltetyd nie.  Maar jy moet doen wat Hy jou beveel het, of dit nou skoolwerk is of iets anders (v.46).

 

As jy moet ophou waarmee jy besig is, is jy besig met die verkeerde dinge.  Spurgeon het gesê: ‘I think that watching for the Lord’s Second Coming means acting just as you would like to be acting if He were to come.’[3]

 

[c] As jy getrou is sal die Here jou oor al sy besittings aanstel (v.47).  Jy sal saam met Christus op sy troon sit en die Koninkryk erf (Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23, Op. 3:21).  ‘n Mens kan dit amper nie glo nie, maar dit is waar!

 

[d] Toe die slegte slaaf dink dat sy meester se koms vertraag is, het hy losbandig opgetree (v.48).  Maar die rede hoekom Jesus nog nie gekom het nie, is sodat ons ons kan bekeer en nie dat ons meer kan sondig nie (Rom. 2:4, 2Pet. 3:9, 15).

 

[e] Die slegte slaaf het hom ooreet en dronk geword (v.49).  Moenie net vir tydelike plesiere lewe nie, maar dink aan die ewige pyne van die hel en die ewige plesiere van die hemel.

 

Sal jy nou ‘n druppel plesier geniet en daarna in die oseaan van God se toorn swem?  Sal jy nie eerder ‘n druppel ongemak verduur om later vir ewig in die sonskyn van God se glimlag te lewe nie?

 

[f] Die slegte slaaf is saam met die skynheiliges gestraf (v.51).  Dit is nie net moordenaars en verkragters wat in die hel is nie, maar skynheilige mense wat op ‘n Sondag in die kerk sit en selfs aangestel is om ander te lei (v.49, 51, 23:15).  Eintlik sal die skynheilige mens ‘n swaarder straf ontvang as die prostituut en die dwelmverslaafde (Luk. 12:47-48).

 

[g] Die hel is ‘n plek waar mense huil en op hulle tande kners (v.51).  Mense brand in die vuur wat nooit geblus word nie (3:12, 25:41, Op. 14:10-11, 20:10).  Hulle ly en kou hulle tonge van pyn (Luk. 16:23-25, Op. 16:10).  Die wurms knaag vir ewig aan hulle (Mark. 9:48).

 

Dit is donker (Matt. 8:12).  God sal vir ewig hulle liggame en siele verwoes (10:28, 2Tess. 1:9).  Hulle word van sy heerlikheid geskei, en ervaar glad nie sy goedheid en liefde nie (2Tess. 1:9).  Hulle sal bewus wees van die hemel, maar nie daarin deel nie (Luk. 13:28, 16:23).

 

Die gekners van tande mag ook beteken dat hulle woedend is vir God en hom haat (v.51, Hand. 7:54, Op. 16:11).  Maar hulle verdien sy oordeel (v.48-49).  Wat van jou?  Kan jy met jou sonde aanhou en die hel vryspring?  Nee.  “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig” (2Kor. 5:11).  Moenie langer met jou sonde aanhou nie.  Kom terug na die Here toe as jy afgedwaal het.

 

Blaas die vuur van jou liefde aan as jy koud geraak het.  Word wakker as jy geestelik sluimer en nie meer teen sonde stry nie.  Dit geld ook vir jou diens: “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here” (Rom. 12:11).

 

Ons kan nie sê dat Jesus in 2018 kom nie.  Maar ons kan ook nie sê dat Hy nié hierdie jaar kom nie, al strook dit nie met jou eindtyd siening wat sê dat daar sekere tekens voor die wederkoms moet wees nie.[4]  Ons moet eerder soos my pa se buurman in Louis Trichardt wees.  Hy het gereeld na die wolke gekyk en gewonder of Jesus dalk op hierdie een kom?

 

[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1994, 2000, 2007, p. 1093

[2] Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971, p. 237

[3] Charles Spurgeon, The Second Coming of Christ, Whitaker House, Springdale: PA, 1996, p. 181

[4] Die meeste pre-, post- en amils verwag een of meer van die volgende tekens voor die wederkoms: die evangelisering van al die nasies, die Antichris, die bekering van die Jode, die duisendjarige vrederyk.  En tog glo hulle dat Jesus enige dag kan kom.  Hoe kan dit wees?  Ek is nie seker nie, maar beide Petrus en Paulus het verwag om dood te gaan en op dieselfde tyd uitgesien na die wederkoms (2Tim. 4:6-8, 2Pet. 2Pet. 1:14, 3:12).  Al kom Jesus nie in ons leeftyd nie, moet jy buitendien gereed wees omdat jy enige dag kan sterf.

God se hulp in jou krisis

Drowning man

In die mid-1700’s het Jonathan Edwards sy gemeente se verkeerde praktyke oor die nagmaal aangespreek.  Hy is van die gemeente afgesny.  ‘n Vriend van my het onlangs iets soortgelyk ervaar.  Dalk het so iets al met jou gebeur: jy doen wat jy dink reg is, en dan neem dinge ‘n wending vir die ergste?  Skielik beleef jy ‘n krisis, sodat jy nie weet waarheen nie.  Jy besef dat jy nie meer op jouself kan staatmaak nie.  Nou is dit net jy en die Here.  Hy is die enigste hulp in jou krisis.  En soos gewoonlik stel Hy nie teleur nie.  Dit is waaroor Jes. 33:1-12 gaan.

 

  1. Assirië se verraad (v.1)

Voor elke verkiesing is daar politieke werwing of ‘canvassing’.  Politieke partye maak die paaie reg, gee gratis hulp aan die armes en belowe om vir hulle huise te bou.  Wanneer die verkiesing egter verby is, vervul hulle nie hulle beloftes nie, en bly die mense so arm soos wat hulle voor die verkiesing was.

 

Dit is wat Assirië volgens 2Kon. 18:13-17 met Jerusalem gedoen het.  ‘As jy vir my 10 ton silwer en ‘n ton goud gee, sal ek jou nie aanval nie,’ het Sanherib van Assirië vir koning Hiskia van Juda gesê.

 

Hiskia het Sanherib se vereistes nagekom, maar nog steeds het Sanherib met ‘n weermag Jerusalem toe gekom.  Sy plan was om dit te verwoes soos hy die nasies verwoes het (v.1, 16:4, 36:10, 37:12).  Sanherib was ‘n troubreker en het vir Hiskia ‘n rat voor die oë gedraai (v.1).

 

Maar elke hond kry sy dag.  Êrens in die toekoms sou iemand met die Assiriërs trou breek en hulle verwoes (v.1).  Alec Motyer sê: ‘for every trickster there is a trickster to outdo him’.[1]

 

Kort na hierdie gebeure het die Here op een nag 185 000 Assiriërs doodgemaak (37:36).  Sanherib se eie seuns het hom doodgemaak (37:38).  Jare later het God die Babiloniërs gebruik om die Assiriese ryk tot ‘n val te bring.

 

Dalk het mense jou onregverdig behandel en, soos my vriend, afgeskryf.  As jou sonde dit verdien, is dit nie eerbaar nie (1Pe 4:15).  Maar as jy nie verkeerd was nie, sal die Here met jou vyande afreken (v.1).  Moet daarom nie mense terugkry nie, maar staan terug en laat ruimte vir die Here om wraak te neem (Rom. 12:19).  Hy weet hoe om dit te doen, en het nie jou of my hulp nodig nie.

 

  1. Jerusalem se gebed (v.2)

Een van ons lidmate het my Vrydag van ‘n ander lidmaat se moeilike omstandighede vertel.  ‘Dit gaan baie sleg met hom, maar wat sy verhouding met die Here betref gaan dit baie goed.’

 

Is dit nie hoe dit met Israel was nie: sodra hulle voorspoed beleef het, het hulle van die Here af weggedraai (Deut. 6:10-12, 28:47)?  Maar as die Here die bankskroef van hulle omstandighede stywer gedraai het, was hulle geestelik op ‘n goeie plek.  Dit is die les in v.2

 

In reaksie op Sanherib se aanval, het Jesaja, Hiskia en die volk in gebed na die Here toe gedraai.  “HERE, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid!” het hulle gebid (v.2).  Hulle het besef dat hulle ‘n dag op ‘n slag moes neem, en dat hulle elke dag op die Here moes staatmaak.

 

Soos reeds gesê besef ons dit nie altyd wanneer dit goed gaan nie.  Ons dink dat ons onsself kan help, en is soos ‘n stout kind wat nie sy pa se hand wil vashou om oor die besige pad te kom nie.  Ons steun op ons lewenservaring, geld, talente, dissipline, die internet, geleerdheid en nie op die Here nie.

 

Omdat ons op onsself staatmaak, bid ons nie soos ons moet nie.  Dit is hoekom die Here ons partykeer deur moeilike tye laat gaan, sodat ons op Hom kan vertrou en kan weet waar ons hulp vandaan kom.  As Hy dit nie doen nie, sal ons self oor die pad wil hardloop en raakgery word.  Ons sal onsself m.a.w. geestelik benadeel.

 

  1. God se reaksie (v.3-4)

‘n Bekende aanhaling oor gebed sê:  ‘When man works, man works; but when man prays, God works.’  Dit is wat ons in Jes. 30:2, 31:3, 33:3-4 sien.  Jerusalem wou self die krisis oplos, en het vir Egipte gevra om haar te help.  Sy was onsuksesvol.  Toe sy egter in gebed na die Here toe draai, het Hy eenvoudig opgestaan en soos donderweer gedreun om die Assiriërs te verjaag (v.3, 37:36-38, 1Sam. 7:10).

 

Net so is dit vir die Here kinderspeletjies om jou krisis op te los; NIKS is vir Hom onmoontlik of moeilik nie (2Kon. 3:18, Jer. 32:17, 27, Luk. 1:37, Ef. 3:20).  Volgens v.3-4 was die oorlog verby nog voordat dit begin het.  Soos wat sprinkane ‘n mielieland kaal stroop, het Jerusalem goud, silwer en allerhande buit by die vyand afgeneem (v.4).

 

Alhoewel dit vir die Here maklik is om jou omstandighede te verander, doen Hy dit nie altyd nie.  Indien Hy dinge onveranderd laat, is dit om jou meer soos Jesus te maak (Rom. 8:28-29).  Hy wil jou volharding leer… of sagmoedigheid, nederigheid, liefde, geloof, geduld, ens.

 

Uit eie ervaring weet ek dat dit nie maklik is nie, maar ongelukkig is daar nie ‘n ander manier om dit te leer nie.  ‘Swords get sharpened through heating and beating,’ het iemand eenkeer by ‘n konferensie gesê.

 

  1. Jerusalem se fondasie (v.5-6)

Vyf jarige Martin de Bruin se pa is besig om die kar se remme te vervang.  Terwyl hy besig is, wil Martin die wiel losmaak.  ‘Laat ek jou help,’ sê sy pa.  ‘Ek het nie pa se hulp nodig nie; ek kan dit self doen,’ antwoord hy.  Na 3 minute se gesukkel vra hy dat sy pa hom moet help.

 

Jerusalem was so, en het gedink dat sy nie die Here se hulp teen Assirië nodig het nie.  Kort voor lank het sy besef dat nie sy óf Egipte haar kan help nie.  Sy moes haarself verneder en na die Here toe draai.  Sy moes erken dat sy klein is, en dat Hy in die hoogste hemel verhef is (v.5, 2:11, 17).

 

In antwoord op haar gebede het die Here belowe om Jerusalem of Sion met reg en geregtigheid te vul (v.5).  Jerusalem sou nie meer ‘n stad vol ongeregtigheid wees nie.  In koning Hiskia en Josia se tyd het reg en geregtigheid geheers (2Kon. 18-20, 22-23).  Maar toe hulle oorlede is, het ongeregtigheid weer die oorhand gekry.

 

Volkome reg en geregtigheid kan net deur die Messias kom.  Hy het dit deur sy kruisdood verseker, maar sal dit by die wederkoms vervul (2Pet. 3:13).  Vir mense in ‘n land en wêreld soos ons s’n, is dit iets om na uit te sien.  Geen meer aborsie, moord, korrupsie, rowery, diefstal, rebelse jongmense, dronkenskap, rasse haat, seksuele losbandigheid, ens. nie.

 

Op die nuwe aarde sal mense in Jesus se oorvloedige liefde, blydskap en vrede lewe.  Ons sal altyd ander bo onsself stel.  My vriend sal nie weer deur ander Christene uitgeskuif word nie, en ons sal nie vir ‘n enkele sekonde bitter voel of met iemand baklei nie.

 

God is die Rots wat sal sorg dat sy volk in standvastige tye leef (v.6, 26:4).  Hy het dit in Hiskia en Jesaja se tyd gedoen (39:8), en sal dit in die toekoms herhaal (v.6).  Ons liefde vir die Here, menseverhoudings, die politiek, die ekonomie, die weer, die diereryk, en alles anders sal nie so onstabiel, wispelturig en wisselvallig wees soos nou nie.  Dit kán nie, omdat die Here self die fondasie van sy volk is (v.6).

 

Wanneer sal dit wees?  Premils glo dat dit na die wederkoms in die millennium sal wees.  Postmils dink dat dit êrens voor die wederkoms tydens ‘n goue era sal wees, en volgens amils sal dit op die nuwe aarde gebeur.  Hoe dit ook al sy, ons moet hiervoor bid: “laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10).

 

Ons hoef egter nie tot in die toekoms te wag voordat ons die rykdom van hierdie lewe kan smaak nie.  In Christus is die rykdom van God se verlossing, wysheid en kennis ons s’n (v.6, Joh. 10:10, 1Kor. 1:30, Kol. 2:3, 2Pet. 1:2).  Wat beteken dit in die praktyk?

 

God se oorvloedige verlossing beteken dat Hy jou tot die uiterste toe kan red.  Sy verlossing is m.a.w. nie tydelik nie.  Dit is nie net vir hierdie lewe bedoel nie.  Jy verloor dit nie as jy jou asem uitblaas nie.  As jy by die Here is, sal jy dit eers geniet.  Wanneer Jesus weer kom en jy jou nuwe liggaam het, sal die volheid van God se verlossing jou oorweldig soos ‘n vis wat uit ‘n seetenk in die oseaan vrygelaat word.

 

Maar die feit dat ons die rykdom van God se verlossing op die nuwe aarde sal geniet, beteken nie dat jy dit nie nou al kan geniet nie.  Wat ek bedoel is dat jy nie in hierdie wêreld misrabel hoef te wees, omdat jy eers op die nuwe aarde vreugde kan hê nie.  As jy in Jesus glo het jy reeds sy lewe in jou.  Dit beteken dat jy in die midde van die grootste krisis die Here se lewe, liefde en krag kan ervaar – sy oorvloedige verlossing.

 

Sy oorvloedige verlossing beteken verder dat dit nie opraak nie.  Hy kan m.a.w. nie op ‘n punt kom waar Hy vir iemand sal moet sê: ‘Ek weet jy het gevra Ek moet jou red, maar ongelukkig het die fontein van my verlossing opgedroog en kan Ek jou nie help nie.’

 

Ek het eenkeer met ‘n man gewerk wat gedink het sy sonde is te groot.  Hy het geglo dat die Here hom nie kan red nie.  Hy het gedink dat Jesus se kruisdood vir ander mense was, maar nie vir hom nie.

 

Ek het hom van die oorvloedige verlossing vertel wat van Golgota afstroom.  Hy moes leer dat daar genoeg verlossing is vir almal wat in berouvolle geloof na Jesus toe draai.  As jy vir die Here vra om jou te red, sal Hy jou nie wegwys nie.  “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Joh. 6:37).

 

Die oorvloed van God se verlossing beteken laastens dat die Here jou kan vergewe as jy vir baie jare met dieselfde sonde sukkel.  Ek bedoel nie dat jy met jou sonde moet aanhou nie (Rom. 6:1-2), maar sê dit as ‘n bemoediging vir die gelowige wat alweer in dieselfde strik getrap het, en depressief voel omdat hy dink die Here kan hom nie hiérdie keer vergewe nie.

 

God se verlossing is oorvloedig.  As jy jou sonde bely en jou daarvan bekeer, sal die Here jou vergewe… al is dit ook 70 x 7, so hoog soos Berg Everest, of so diep soos die Stille Oseaan (Matt. 18:21-35, Ef. 3:17-19, 1Joh. 1:9).

 

There is a fountain filled with blood

Drawn from Immanuel’s veins

And sinners plunged beneath that flood

Lose all their guilty stains

-William Cowper-

 

Omdat die Here ons God is, het ons ook ‘n oorvloed van wysheid en kennis (v.6).  In Hom maak al jou vrae oor God, jouself, die lewe, die dood, sonde en die ewigheid sin.

 

Waar kom God vandaan?  Waar het alles begin?  Hoe kan ons besluit wat reg en verkeerd is?  Wat is die doel van die lewe?  Wat is die sin daarvan om vir 70 of 80 jaar ‘n eindelose siklus te volg:  opstaan, werk, slaap, opstaan, werk, slaap… naweek… opstaan, werk, slaap… naweek… aftree, oud word, doodgaan?

 

Hoe het die dood in die wêreld ingekom, en wat gebeur wanneer iemand sterf?  Jesus is die bron van alle wysheid en kennis (v.6), en daarom kan net Hý hierdie vrae beantwoord.  Hy hét dit ook in die Bybel gedoen.

 

Deur Jerusalem se kennis van die Here (v.6b), sou hulle leer om Hom te vrees (v.6c).  Die vrees van die Here sou vir hulle ‘n skat wees (v.6c), want saam met dit kry ons baie ander voordele:

 

  • Kennis en wysheid (v.6, Spr. 1:7, 9:10, 15:33).
  • Haat vir sonde (Spr. 3:7, 8:13, 16:6).
  • Goeie gesondheid (Spr. 3:7-8).
  • ‘n Vol, gelukkige en lang lewe; beskerming teen die strikke wat tot die dood lei (Spr. 10:27, 14:27, 19:23, 22:4).
  • Sterk sekerheid en ‘n veilige vesting vir jou kinders (Spr. 14:26).
  • Rykdom en eer (Spr. 22:4).

 

  1. Jerusalem se krisis (v.7-9)

Ek ken ‘n sendeling wat in Etiopië gewerk het.  Hy het my vertel hoe die polisie sommer in die strate op mense losbrand.  In sulke plekke huil mense in die strate, en bly hulle liewer in hulle huise.

 

In Jerusalem was dit ook so.  Die boodskappers wat na die Assiriërs toe uitgegaan het om vrede te bewerk was onsuksesvol.  Die koning van Assirië het besluit om die stad aan te val en dit te vernietig.  Toe Hiskia se boodskappers na die stad toe terugkeer het hulle bitterlik gehuil (v.7, 36:22).  Jerusalem was in beroering, sodat selfs die dapperste helde in die strate geskreeu het (v.7).

 

Niemand het dit gewaag om op die hoofweë te reis nie (v.8).  Alles was verlate; Jerusalem was letterlik van die buitewêreld afgesny (v.8, vgl. Rigt. 5:6).  Assirië het haar vredesverbond met Jerusalem gebreek; sy was gereed om voor die voet dood te maak en die stad te vernietig (v.8, 1).

 

A.g.v. die Assiriërs het die land getreur en weggekwyn (v.9).  Om skanse te bou het hulle die Libanon woud en Basan – vandag se Golan hoogte in Sirië – se bome afgekap (v.9, 2:13).  Met duisende perde het hulle die Saron vlakte, Basan en berg Karmel se prentjiemooi-weivelde in ‘n woestyn verander (v.9, 1Kron. 5:16, 6:71, Jer. 50:19, Nah. 1:4).

 

Maar selfs in die ergste krisis kan die Here jou woestyn in ‘n paradys verander, jou trane in gejuig en jou geween in voete wat dans (35:1-2, Ps. 30:6, 12).  Soms beteken dit dat Hy jou omstandighede verander.  Maar partykeer verander Hy jóú, sodat jy in jou krisis ‘n vrede en blydskap ervaar wat jy nie kan beskryf nie (Hand. 16:25, Fil. 4:4, 7).

 

  1. God se toorn (v.10-12)

Partykeer kyk ek op my dag af stories saam met my vrou en kinders.  In een film was daar ‘n klein vroutjie wat in die biblioteek gewerk het.  Sy het kwaad geword as iemand in die biblioteek raas.

 

Toe een van die karakters dit hoor, toe sê hy:  ‘Who’s afraid of a little librarian?’  Toe die klein vroutjie agter die toonbank opstaan was sy glad nie so klein nie; sy was amper so hoog soos die dak.

 

Assirië het haarself verhef… totdat die Here van sy troon af opgestaan en Homself oor haar verhef het (v.10).  Toe dit gebeur was dit asof Assirië met strooi swanger was, stoppels gebaar het, en haarself met haar eie vurige asem aan die brand gesteek het (v.11).  Haar sonde het soos ‘n boemerang na haar toe teruggekom; sy het haarself vernietig (37:38).

 

Soos kalksteen het die Here haar tot poeier verbrand; soos doringtakke het Hy haar in vlamme laat opgaan (v.12).  Dit is nie net die lot van die Assiriërs nie, maar van Moslems, Kommuniste, ateïste en elke vyand wat God se kinders onderdruk: “wie julle aanraak, raak sy oogappel aan.” (Sag. 2:8).

 

Dit is hartseer om te sê, maar op die einde van die dag is dit nie God se kinders wat die krisis het nie.  Dit is dié wat op sy liefde spoeg en nie wil luister om hulle te bekeer en in Jesus te glo nie (Joh. 3:16, 36).  Hulle sal ‘n ewige krisis beleef, en die Here sal hulle nie help om daaruit te kom nie.  Hulle wou nie sy hulp hê toe hulle op die aarde was nie, en sal dit ook nie in die hel kry nie.  Hoekom nie?

 

C.S. Lewis het gesê: ‘Sin is man’s saying to God throughout life, “Go away and leave me alone.”  Hell is God’s finally saying to man, “You may have your wish.”  It is God’s leaving man to himself, as man has chosen.’[2]

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 263

[2] C.S. Lewis, The Problem of Pain, MacMillan, New York, 1962, p. 28 aangehaal in Millard J. Erickson, Christian Theology, Baker Book House, Grand Rapids: Michigan, 1983, p. 1240

Hoekom die Prosperity Gospel so gevaarlik is

Prosperity Gospel 2

In Walt Disney se film The Jungle Book, kyk ‘n luislang genaamd Kaa in Mowgli (die seuntjie) se oë om hom te betower.  Hy hipnotiseer en bedwelm hom, sodat hy aan die slaap raak.  Sy plan is natuurlik om vir Mowgli in te sluk.

 

Dit laat my aan die slinkse slang van Gen. 3 dink wat vir Eva versoek het.  Soos wat die duiwel ‘n slang se liggaam gebruik het, kom hy nog steeds in verskillende vorme na mense toe.  In Paulus se tyd (soos hy ook in ons tyd doen) het hy vals leraars gebruik om die gelowiges te versoek:

 

“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus… En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.” (2Kor. 11:3, 14).

 

Die duiwel se doel is nie bloot om jou te verwar nie, maar om seker te maak dat jy hel toe gaan.  Hy is soos Karla.  Sy wou pienk tekkies soos haar maatjie hê.  Toe haar ma nee sê, het sy haar maatjie se tekkies gesteel.  ‘As ék nie pienk tekkies mag kry nie, kan my maatjie dit ook nie hê nie,’ het sy gesê.

 

Dit is hoe die duiwel redeneer:  ‘As ek nie in die hemel mag wees nie, mag niemand daar wees nie.’  Hy haat die Here en almal wat na sy beeld gemaak is, en sal alles in sy vermoë doen om jou te vernietig.  Hy sal selfs mense gebruik om jou op die verkeerde pad te lei.

 

Natuurlik gebruik hy enige vals lering en nie net die Prosperity Gospel nie.  Ek wil egter op die Prosperity Gospel fokus, omdat soveel mense al onder die dryfsand van hulle lering verdwyn het.  Soos met ander vals leraars, staan Prosperity predikers by die smal hek, en sê hulle vir mense:  ‘Hierdie moeilike pad gaan nie hemel toe nie; die gemaklike pad van voorspoed en rykdom is die een wat hemel toe gaan.’ (sien Matt. 7:15, 13-14).

 

Maar as jy hulle raad volg sal die Here jou saam met hulle en die res van die goddeloses straf.  Dit is die punt wat Judas in v.5-7 wil maak.  Hy gebruik drie Ou Testament illustrasies om duidelik te maak dat God die rebelse sondaar sal oordeel.  Judas se lesers was hiermee bekend, maar a.g.v. die vals leraars wat in die kerk ingesluip het, moes hy hulle daaraan herinner (v.5).

 

Die Israeliete in die woestyn (v.5)

Magda werk vir haar pa.  Sy kry ‘n goeie salaris met baie voordele.  Haar pa het egter in die laaste ses maande agtergekom dat sy lui is.  Hy het haar al hieroor aangespreek, maar sy wend nie eers ‘n poging aan om te verander nie.

 

Toe sy een oggend by die werk aankom, toe sit daar drie mense buite haar pa se kantoor.  ‘Wat doen júlle hier?’ wou sy weet.  ‘Ons is hier vir ‘n onderhoud,’ het hulle geantwoord.  Later in die dag het Magda se pa vir haar gesê sy is afgedank.  Sy kon nie glo dat haar eie pa haar sou afdank nie; sy het dit glad nie verwag nie.

 

God se volk was so.  Jesus het hulle uit Egiptiese slawerny verlos en deur die woestyn gelei (v.5, 1Kor. 10:4).  Dit is Hý wat die Rooi See vir hulle oopgemaak het, hulle met die wolk- en vuurkolom gelei het, brood, vleis en water in die woestyn voorsien het, en die wet deur Moses gegee het.

 

Maar t.s.v. sy goedheid aan hulle, het hulle nie geglo dat Hy hulle in die Beloofde Land kon inneem nie (Num. 14).  Hulle het Hom nie as die ware God gevrees, geëer, liefgehad en gehoorsaam nie, maar teen Hom gemurmureer.  Hy het toe besluit om oor die volgende 38 jaar almal bo 20 in die woestyn dood te maak.

 

Die duur les was dat hulle nie sy genade vanselfsprekend moes neem, bloot omdat hulle die uitverkore volk van God was nie.  Net so moet ons nie aanneem dat iemand deur God gestuur is en hemel toe gaan, net omdat hy agter ‘n kansel staan en Bybelverse aanhaal, of omdat hy Christelike boeke skryf nie.

 

As God se uitverkore volk onder sy toorn gesterf het, sal die vals leraars en dié wat hulle volg nie ligter daarvan afkom nie.  In Matt. 7:21-23 sê Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

 

Moenie te seker wees dat Prosperity predikers soos T.D. Jakes, Joel Osteen, John Hagee, Benny Hinn en Kenneth Copeland die ware God en sy evangelie verkondig, net omdat hulle Jesus se Naam noem nie.

 

[1] T.D. Jakes ontken die Drie-Eenheid.  Hy glo in modalisme, naamlik dat God nie in drie Persone bestaan nie, maar in drie vorme: partykeer is Hy die Vader, op ander kere die Seun, en dan weer die Heilige Gees – Hy is nooit al drie gelyk nie.[1]  Maar volgens Matt. 28:19 is die een God (‘Naam’, ekv.) al drie Persone gelyk: die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

 

Jesus se doop in Matt. 3:16-17 wys dat God in drie Persone bestaan:  “En nadat Jesus [God die Seun] gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God [God die Heilige Gees] soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.  En daar kom ‘n stem [God die Vader] uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.”

 

[2] Joel Osteen het op Larry King live gesê dat Hindoes die Here liefhet, en dat hy nie verseker kan sê of Moslems, Jode en ateïste hemel toe gaan of nie.[2]

 

[3] John Hagee glo dat Jode wat die wet van Moses nakom gered is, al glo hulle nie dat Jesus die Messias is nie.  Volgens hom is dit ‘n mors van tyd om die evangelie met hulle te deel, aangesien hulle God se uitverkore volk is.[3]

 

[4] Benny Hinn het jare gelede gesê dat daar nege persone in die Drie-Eenheid is.[4]  Hy het erken dat hy verkeerd was,[5] maar glo nog steeds dat God nie eintlik groter is as ons nie, omdat ons ook gode is.[6]

 

[5] Kenneth Copeland glo dieselfde.[7]  In een preek sê hy:  ‘Adam was not subordinate [Afr. ondergeskik] to God… Adam, in the garden of Eden, was God manifested in the flesh.’[8]

 

Soos elke ander Prosperity prediker, belowe hierdie predikers materiële rykdom vir dié wat na Jesus toe kom.[9]  Maar volgens Luk. 9:23, 14:33 is dit nie Jesus se boodskap nie:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg… So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”

 

Duidelik is die Jesus van die Prosperity Gospel nie die Jesus van die Bybel nie, en is die sg. ‘evangelie’ wat hulle verkondig geen evangelie nie.  John Piper sê:  ‘I don’t know what you feel about the Prosperity Gospel… But I’ll tell you what I feel about it: hatred.  It is not the gospel, and it’s being exported from this country to Africa and Asia, selling a bill of goods to the poorest of the poor: “Believe this message, and your pigs won’t die and your wife won’t have miscarriages, and you’ll have rings on your fingers and coats on your back.”

 

‘That’s coming out of America (!) – the people that ought to be giving our money and our time and our lives, instead selling them a bunch of [trash] called gospel.

 

‘And here’s the reason it is so horrible.  When was the last time that any American, African, Asian ever said: “Jesus is all satisfying,” because you drove a BMW?  Never!  They’ll say:  “Did Jesus give you that?  Well, I’ll take Jesus.”  That’s idolatry; that’s not the gospel.’[10]

 

Laat ons dan nie die Prosperity Gospel in ons huise en gemeentes verwelkom nie, maar eerder die ware evangelie glo.  Om die evangelie te glo, beteken dat Jesus vir jou alles is.  Dit beteken dat jy nie meer jou sonde wil hê nie, omdat dit jou van Hom af weghou.  Dit beteken dat die goeie werke waarop jy voorheen staatgemaak het, vir jou so walglik is soos om in hondemis te trap.

 

Dit beteken dat jy Jesus vir jou genoeg is, en dat Hy nie een van vele opsies is nie.  Dit beteken dat jy op sy geregtigheid vertrou om vir jou ‘n perfekte rekord voor God te gee, en dat jy op sy kruisdood vertrou om jou sondige rekord skoon te was.  Dit beteken dat jy in sy opstanding glo, en dat jy ‘n verlange het om hierdie lewe in jou hart te ervaar.  Die vraag wat jy dan vir jouself moet vra is dit:  glo jy regtig in Jesus, of is jy soos die duiwel wat net die feite in jou kop glo?

 

Die gevalle engele (v.6)

Toe ek studeer het, het een professor gesê dat ons nie weet waar die duiwel vandaan kom, of hoe hy tot ‘n val gekom het nie.  Vir my lyk dit egter of die Bybel duidelik vir ons sê.

 

Toe God in Gen. 1:1 die hemel en die aarde gemaak het, het Hy ook die engele gemaak (Eks. 20:11, Kol. 1:16).  Soos die res van die skepping was hulle goed (Gen. 1:31).  Satan was een van hierdie engele (Eseg. 28:12b-14).[11]  Saam met die ander engele was hy bly toe God die wêreld vir Adam, Eva en hulle nageslag voorberei (Job 38:4-7).

 

Êrens tussen Gen. 2 en 3 het hy egter hoogmoedig geraak en wou hy homself bo die Here verhef.  Hy en sy makkers is saam uit die hemel geskop (Jes. 14:12-15, Eseg. 28:15-17a, 1Tim. 3:6).  Hulle het demone geword.

 

Uit Gen. 6 blyk dit dat ‘n klomp engele weer daarna teen die Here in opstand gekom het.  Hy het hulle ook geoordeel en uitgeskop.  Sover ek kan agterkom is dit waaroor Jud. 6 gaan.

 

Dieselfde Jesus wat die Israeliete in die woestyn gestraf het (v.5), het die ongehoorsame engele geoordeel (v.6).  Hulle het buite die gesag en perke beweeg wat Hy vir hulle gestel het (v.6).  Om Judas se woorde te verstaan moet ons Gen. 6:2 bestudeer:  “die seuns van God [het gesien] dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.”

 

Dit mag wees dat die seuns van God na hemelwesens verwys (soos in Job 1:6, 2:1, 38:7), maar volgens Matt. 22:30 trou engele nie.  Sommige dink dat die seuns van God na wellustige konings verwys wat vir hulleself baie vroue geneem het (1Kron. 28:6, 1Kon. 11:1-3).

 

Maar as ons Gen. 6:2 en Jud. 6 met mekaar vergelyk, lyk dit of ons die bg. twee interpretasies moet kombineer.  Die engele het hierdie konings tot wellus versoek.  Gevolglik het die Here hulle uit die hemel geskop, en het hulle gevalle engele of demone geword.  Volgens Judas het Jesus die engele met ewige boeie in die onderaardse duisternis gebind, en hou Hy hulle daar tot die finale oordeel (v.6, 2Pet. 2:4).

 

‘Moet daarom nie vir die vals leraars luister nie; hulle lering kom van die duiwel af.  As jy dit volg, sal jy saam met hulle en die gevalle engele in die hel wees.’  Dit is basies die punt wat Judas in v.6 vir sy lesers wil oordra.

 

Jy kan dit nie bekostig om met vals lering te speel nie.  Jou ewige siel is op die spel.  Moenie vir jouself sê:  ‘Alhoewel profeet so-en-so slegte dinge preek, sê hy ook baie goeie dinge.  Wanneer ek dus sy boeke lees en sy preke luister, sal ek die vis eet en die grate uitspoeg.’

 

Volgens v.6, 23 speel jy met vuur as jy dit doen (letterlik en figuurlik).  Die demone wat in Gen. 6:2 die konings versoek het, sit ook agter die vals leraars.  Wanneer iemand dan na vals lering luister, is daar demoniese magte aan die werk (1Kor. 10:19-20, 1Tim. 4:1-2).  Omdat hulle duisende jare meer ervaring as jy het, kan hulle jou maklik uitoorlê.  Jy gaan hulle nie met brute breinkrag of menslike logika in ‘n hoek in redeneer nie.

 

Vermy eerder hulle slinkse lering.  Bly weg van hulle preke en boeke af.  Lees die Bybel.  Vul jou hart en gedagtes met goeie Bybelse lering.  Ek het in die vorige preek ‘n paar goeie predikers en outeurs se name genoem.  Min moderne predikers is beter as John MacArthur, R.C. Sproul, Steve Lawson, John Piper en Voddie Baucham.  Jy kan hulle preke gratis van die internet aflaai.

 

Sodom en Gomorra (v.7)

Oor die afgelope paar jaar het die gay debat in die NG-Kerk opspraak in die media veroorsaak.  Maar eintlik behoort daar nie ‘n debat te wees nie, omdat Jud. 7 en soortgelyke tekste die kwessie duidelik maak:  homoseksualiteit is sonde.

 

Soos wat Jesus die rebelse Israeliete en gevalle engele geoordeel het (v.5-6), het Hy vir Sodom, Gomorra en die omliggende stede geoordeel (v.7, Gen.19).  Baie van die mense in hierdie stede was homoseksueel.  Sodom se mans was bv. so wellustig, dat hulle met Lot se twee gaste (engele wat as mans verskyn het) gemeenskap wou hê.

 

Volgens Judas het hierdie mense ‘n onnatuurlike begeerte gehad (v.7).  Van die begin af het God die mens man en vrou gemaak.  Vir ‘n man of vrou om dan met iemand van dieselfde geslag gemeenskap te soek, is haatlik, onnatuurlik, boos en pervers (Rom. 1:26-27).  Omdat Sodom, Gomorra en die omliggende stede dit begeer het, het Jesus hulle met vuur uit die hemel verwoes (Gen. 19:24, Deut. 29:23).

 

Toe Hy die stede klaar verwoes het, het hy die inwoners in die hel gegooi (v.7).  Die swael en vuur waarmee Hy die stede vernietig het, was maar net ‘n voorsmakie van die ewige vuur van die hel (Matt. 25:41, Mark. 9:48, Op. 20:10, 15).  Deur sy verwysing na die geskiedenis van Sodom en Gomorra, wil Judas vir sy lesers wys wat Jesus met die losbandige vals leraars en hulle volgelinge sal doen.

 

Ware gelowiges kan hulle natuurlik aan seksuele immoraliteit skuldig maak (soos koning Dawid).  Maar as seksuele losbandigheid ‘n leraar se leefstyl kenmerk, moet ons erken dat hy nie net ‘n gelowige is wat oor die tou getrap het nie – hy is ‘n vals leraar.

 

In die afgelope 10 tot 15 jaar het ons twee sulke gevalle in ons assosiasie van gemeentes gehad.  Dit het uitgekom dat twee van ons leraars al vir jare losbandige lewens lei.  Dit het op die lappe gekom en Jesus se Naam deur die modder gesleep.

 

In 2010, terwyl Benny Hinn besig was om van sy vrou te skei, het hy en Paula White drie nagte in ‘n vyfster hotel in Rome deurgebring.  Hinn het onder ‘n vals naam ingeboek.  Die National Enquirer het fotos geneem van hoe hulle by die hotel uitloop en hande vashou.  Beide van hulle het erken dat hulle ‘n verhouding gehad het, maar het gesê dat dit nie immoreel was nie.[12]

 

‘n Mens voel amper vuil as jy hierdie dinge sê.  Ek wil nie soos wêreldse tydskrifte en koerante wees wat dit geniet om in mense se persoonlike lewens in te meng en hulle skandes uit te blaker nie.

 

Maar ons kan dit ook nie onder die mat invee nie, veral nie as hulle hulleself evangelie-predikers noem nie.  Dit is nodig om hulle skandes uit te wys, sodat mense nie hulle lering sal volg en dink hulle bedienaars van Christus nie.  Almal moet weet dat hulle vals leraars is.  Jesus het van die vals leraars gesê dat jy hulle aan hulle vrugte sal ken (Matt. 7:20).

 

Dit is presies wat ons in hierdie mense se lewens sien.  Dat hulle vrugte dodelik giftig is, is nie maar net ‘n sprokies verhaal soos in Sneeuwitjie nie.  Dit is ‘n feit.  Daarom voel ek dit so dringend om jou teen hulle leuens te waarsku.

 

[1] http://thepottershouse.org/explore/belief-statement/ EN http://www.equip.org/article/concerns-about-the-teachings-of-t-d-jakes/

T.D. Jakes het blykbaar gesê dat hy nou in die Drie-Eenheid glo, maar in die geloofsbelydenis van hulle gemeente se webtuiste, staan dit steeds dat God in drie vorme bestaan.

[2] https://www.youtube.com/watch?v=pKF_QgNezBY

[3] http://www.equip.org/article/pastor-john-hagee/

[4] https://www.youtube.com/watch?v=beiSK3kxh4U

[5] John MacArthur, Strange Fire, Nelson Books, 2013, pp. 13, 268

[6] John MacArthur, Charismatic Chaos, Zondervan Publishing House, Grand Rapids: Michigan, 1992, p. 334 EN Praise-the-Lord: Praise-a-Thon, Trinity Broadcasting Network, 6 Nov. 1990 aangehaal in Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson, Nashville: Tennessee, 2009, p. 381 n. 53

[7] Strange Fire, p. 11

[8] Kenneth Copeland, Following the Faith of Abraham I (audio tape, side 1), aangehaal in Hanegraaff, Ibid., p. 375 n. 13

[9] Ek sal in die volgende preek hierop uitbrei.

 

[10] https://www.thegospelcoalition.org/article/story-behind-john-pipers-most-famous-attack-on-the-prosperity-gospel/

[11] Sy naam was natuurlik nie Satan toe hy ‘n goeie engel was nie.  Alhoewel Jes. 14 en Eseg. 28 van konings en prinse praat, verwys dit ook na die bose magte wat agter hulle staan (vgl. Dan. 10).

[12] Strange Fire, p. 64

Die nuwe hemel en aarde

New heavens and earth

Natasha woon in ‘n baie arm gedeelte van Rusland.  Sy was nog nooit buite haar land se grense nie, en kan ook nie ‘n woord Engels praat nie.  Op ‘n dag toe ontmoet sy vir Pete, ‘n Amerikaner wat vir vyf jaar in Rusland gewerk het.  Hy kon vlot Russies praat.  Hulle het vriende geraak en uiteindelik met mekaar getrou.

 

A.g.v. Natasha se huwelik met Pete, het sy maklik Amerikaanse burgerskap verkry.  Sy kon egter nie die taal praat nie, en moes aan die kultuur gewoond raak.  Maar na tien jaar in die land kon sy vlot Engels praat, en het sy die kultuur aangeleer.  Wat sy aanvanklik net in teorie gehad het, het sy nou in die praktyk geniet.

 

En so is dit ook met die nuwe hemel en aarde.  Daar is ‘n sekere sin waarin ons reeds in die nuwe skepping deel.  Maar in ‘n ander sin sal ons eers die volheid daarvan geniet wanneer Jesus kom.  Dit is wat Johannes in Op.21:1-8 vir ons wil leer.

 

Die nuwe skepping (v.1)

Om een of ander rede het mense die idee dat God se kinders vir ewig in lugkastele gaan woon, gaan rond sweef, op wolke gaan sit, en op goue harpe gaan speel.  Is dit enige wonder dat baie mense nie ‘n begeerte het om daar te wees nie?

 

Die waarheid is eerder dat Jesus die hemelruim met sy sterre en planete, en die aarde met sy bome, berge, riviere, blomme, watervalle, diere, ens. gaan nuut maak.  Dit is o.a. hoe ons v.1 moet verstaan.

 

Johannes het ‘n nuwe hemel en aarde gesien; die eerste hemel en aarde het voor die Here weggevlug (v.1, 20:11).  Hy het dit gebrand en uit die rou materiaal die nuwe hemel en aarde geskep (2 Pt.3:10, 12-13).  Dit is dus nie soos die eerste skepping uit niks gemaak nie (Rm.4:17, Heb.11:3).

 

Soos Hy ons liggame uit die graf uit sal opwek, sal Hy ook die huidige hemel en aarde ‘opwek of wederbaar’ (Mt.19:28).  Alhoewel die nuwe hemel en aarde eers by die wederkoms vervul sal word (v.1), het dit reeds in saadvorm by Jesus se kruisdood begin.  Ons ervaar alreeds iets hiervan wanneer wedergeboorte in ons harte plaasvind:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel” (2 Kor.5:17a).

 

Maar die evangelie stop nie by die redding van sondaars nie.  Omdat Adam se sonde die skepping beïnvloed het (Gn.3:14, 17-18, Rm.8:19-22), sal Jesus die hemel en aarde van Gn.1:1 nuut maak (v.1, Hd.3:21, Kol.1:20).  Die see van die eerste skepping wat mense se dood veroorsaak het (20:13), sal nie meer bestaan nie (v.1).  Maar dit beteken nie dat daar nie ‘n nuwe, skadelose see sal wees nie.

 

Die nuwe Jerusalem (v.2-3)

Elke jaar is daar ‘n Baptiste Paaskonferensie op Cornelia, ‘n klein dorpie in die Vrystaat.  Daar is goeie prediking en heerlike samesang.  Een van die liede wat gesing word, gaan oor die Nuwe Jerusalem.  Dit is ‘n pragtige lied, maar daar is een sin in die lied wat nie Bybels is nie:  ‘Jerusalem, ewig daarbo.’

 

Volgens Op.21:2 sal die Nuwe Jerusalem nie vir ewig daarbo wees nie, maar sal dit na die aarde toe neerdaal.  Die stad verwys natuurlik na die mure, geboue, paleise, poorte en strate (v.9-27, Jh.14:2-3, Heb.11:10, 16, 13:14), maar dit verwys eintlik meer na die inwoners.  Ons is tog die hemelse Jerusalem en die bruid van die Lam (v.2, 9, 19:7-8, Ef.5:31-32, Heb.12:22).

 

Volgens v.2 en 9-27, sal die Nuwe Jerusalem – die huidige hemel – van God af na die aarde toe neerdaal, en die hoofstad van die nuwe aarde wees.  Die stad se hemelse afkoms beteken ook dat ons siele eendag saam met Jesus na die aarde toe sal terugkeer (v.2, Kol.3:4, 1 Ts.3:13, 4:14).  As Hy klaar ons liggame uit die graf uit opgewek en verheerlik het, sal Hy ons siele daarmee verenig (1 Kor.15, 1 Ts.4:13-18).

 

Omdat ons in ‘n sekere sin die Nuwe Jerusalem is, impliseer v.2 ook dat die kerk ‘n hemelse oorsprong het, en dat sy van God af kom.  Ons uitverkiesing, verlossing, wedergeboorte, roeping, regverdiging, heiligmaking, verheerliking kom van God af; ons is burgers van die hemelse Jerusalem (Jh.3:3, 5, Rm.8:29-30, Gal.4:26, Fil.3:20).

 

Volgens Johannes het die Nuwe Jerusalem gelyk soos ‘n bruid wat mooi gemaak is vir haar man (v.2, Jes.61:10).  Jesus het m.a.w. die stad voorberei (Jh.14:2-3).  Deur sy kruisdood, wedergeboorte en die Woord, het Hy ons ook vir Homself voorberei (19:7-8, Ef.5:25-27).

 

God het met ‘n harde stem uitgeroep dat Hy sy tabernakel onder ons opgeslaan het (v.3, Lv.26:11-12).  Dit het begin toe Jesus as mens in Betlehem gebore is (Jh.1:14, Gk.).  Toe Hy na die hemel toe opgevaar het, het Hy persoonlik deur die Heilige Gees in ons harte kom woon (v.3, Mt.28:20, Jh.14:21, 23).

 

Wanneer ‘n gelowige sterf en hemel toe gaan, en wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal sy teenwoordigheid tasbaar wees; Hy sal sy tabernakel oor die persoon sprei en hom veilig hou (v.3, 7:15).  Hy sal die Here van aangesig tot aangesig sien (v.3, 22:4, Mt.5:8, 1 Jh.3:2).

 

Die gemeenskap en die verbond wat in Gn.3 verbreek is, sal heeltemal herstel word (v.3).  Dit het reeds by Jesus se kruisdood begin (Jer.31:33, 2 Kor.6:18, Heb.8:10), maar sal in die hemel en op die nuwe aarde finaal vervul wees (v.3).  Ons – die Jode en heidene wat in Jesus glo – sal sy volk wees, en Hy sal ons God wees (v.3, 5:9, Tit.2:14, 1 Pt.2:9)

 

Die nuwe lewe (v.4-8)

Eric Clapton sing ‘n bekende liedjie waarin hy sê dat daar nie trane in die hemel is nie.  Ek wil nie graag my teologie by hom leer nie, maar ek moet sê dat hy op hierdie punt reg is.  In die hemel en op die nuwe aarde, sal God die trane van sy kinders se oë afvee (v.4, 7:17, Jes.25:8, kontr. Op.5:4).  Hy sal ook die dinge wat hierdie trane veroorsaak het, wegvat:  dood, droefheid, pyn, ens. (v.4).

 

Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus die dood oorwin, sodat die dood vir God se kinders skadeloos is (Jh.11:25-26, Fil.1:21, 23).  En tog sal die vervloeking van Gn.2:17, 3:19 eers finaal verdwyn wanneer Jesus ons liggame uit die dood uit opwek (v.4, 20:14, Jes.25:8, 1 Kor.15:26, 55).

 

Alhoewel ons nie op begrafnisse treur soos ongelowiges wat geen hoop het nie (1 Ts.4:13), treur ons nogsteeds.  Maar wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer, sal ons glad nie treur nie (v.4).  Ons sal ook geen emosionele of fisiese pyn ervaar nie (v.4, kontr. Gn.3:16-19).

 

Jesus het by sy eerste koms en deur wedergeboorte gewys dat Hy die ou dinge kan omkeer om nuut te word (Jh.2-3, 6, 9, 11, 20; 2 Kor.5:17).  By die wederkoms sal Hy dit finaal doen wanneer Hy vir ons onsterflike liggame gee en alles nuut maak (v.1, 4-5, 1 Kor.15).  As dit vir jou onmoontlik klink, kan jy weet dat dit so seker en betroubaar is soos die Bybel self (v.5).

 

Wanneer God dinge op hierdie manier nuut maak, is sy verlossingswerk voltooi (v.6).  Hy is die Alfa en die Omega[1], die Begin en die Einde (v.6, 1:8, 22:13).  Die skepping het in Gn.1 by Hom begin, en in Op.21 het Hy dit nuut gemaak; ons verlossing het voor die skepping in sy gedagtes begin, en sal op die nuwe aarde in Hom vervul word (Rm.8:29-30, Ef.1:3-14, Fil.1:6).

 

Om die lewende water van hierdie verlossing te geniet, hoef jy nie geld vir die kerk te gee of godsdienstige rituele te beoefen nie.  Dit is heetemal gratis en verniet.  Ontvang dit met die leë hande van geloof (v.6, 22:17, Jes.55:1, Jh.4:14, 6:35, 7:37-39).  As jy in die hemel en daarna op die nuwe aarde is, sal jy vir ewig in perfekte gemeenskap met Jesus lewe, en só uit die fontein van die lewe drink (v.6).

 

Hierdie geskenk is vir dié wat tot die einde toe volhard, en só die oorwinning behaal (v.6-7).  Húlle sal nou en vir ewig erfgename en kinders van God wees (v.7, 3, Rm.8:15-17, 2 Kor.6:18).

 

Deur hulle geloof in die Oorwinnaar (Jh.19:30, 2 Tm.1:10, Heb.2:14-15), sal hulle die volgende dinge oorwin:

 

  • Die wêreld (1 Jh.5:4-5).
  • Vervolging (2:10-11, Rm.8:37, 35).
  • Vals lering (2:17, 15, 1 Jh.4:4).
  • Die duiwel (12:11, 15:2).
  • Afvalligheid (2:7, 4).
  • Sonde (v.7-8, 3:4-5).
  • Geestelike louheid (3:21, 15-16).
  • Die dood (1 Kor.15:57, 54-55).
  • Die hel (v.7-8).

 

Daar sal mense wees wat nié oorwin het nie, maar deur die sonde oorwin is (v.8, Gal.5:19-21, 1 Kor.6:9-10).  Hulle lewens het o.a. só gelyk:

 

[1] Vreesagtiges of bangbroeke; mense wat te skaam was om vir Jesus te volg; ‘people pleasers’ wat sonde gedoen het, omdat hulle bang was mense hou nie van hulle nie.

 

[2] Trouelose of ongelowige mense.  Hulle het nie in Jesus geglo nie, en was ook nie lojaal aan die Here, sy Woord en sy liggaam nie.

 

[3] Gruwelike mense wat gruwelike dinge gedoen het.  Die dinge wat hulle gedoen het is so gruwelik, dat jy dit nie in ordentlike geselskap kan noem nie.

 

[4] Moordenaars.  Hulle het ander se lewens geneem, ongebore babas vermoor, en gedurig daaraan gedink om hulle eie lewens te neem.  As hulle dit nie gedoen het nie, het bitterheid en onvergewensgesindheid hulle gedagtes gevul.

 

[5] Hoereerders.  Die Griekse woord [pornos] praat van mense wat seksueel losbandig was: seks voor die huwelik, egbreuk, homoseksualiteit, bestialiteit, pornografie, kindermolestering, prostitusie, wellus, ens. (Mt.5:27-30, 1 Kor.6:9-10, Heb.13:4).

 

[6] Towenaars van enige soort:  dié wat hulle sterretekens in die Huisgenoot gevolg het, en op Jakaranda FM ingebel het om met die dooies te praat, asook dié wat in Satanisme betrokke was (Dt.18:9-14, Hd.19:19, Gal.5:20).

 

[7] Afgodsdienaars.  Sommige het voor beelde van hout, klip en metaal gebuig, terwyl ander ‘n obsessie gehad het hulle liggame, geld, plesier, kos, drank, ens. (Kol.3:5).

 

[8] Leuenaars.  Hierdie is mense wat die waarheid verdraai het, hulle beloftes gebreek het, oordryf het, oneerlik, onbetroubaar en skelm was.  Hulle het ander bedrieg en dubbele lewens gelei.

 

Almal wat soos die bg. mense in hulle sonde wil lewe, sal vir ewig in die poel van swawel en vuur wees – dit is die tweede dood (v.8, 14:10-11, 20:10, 14-15).

 

Die eerste agt verse van Op.21 is gegee om ons aan te spoor en te waarsku.  ‘Bly weg van die hel af, en sorg dat jy eendag op die nuwe aarde sal lewe,’ is wat dit sê.  Natuurlik moet jy nie net eendag in die nuwe skepping deel nie, maar in hierdie lewe al.

 

Het jy al iets hiervan ervaar?  Ek vra nie of jy die sondaarsgebed opgesê het, op ‘n uitnodiging gereageer het, of jou hart vir die Here gegee het nie.  My vraag is of jy ‘n nuwe skepping is?  Is jy ‘n nuwe mens?  Het die Here jou lewe van binne af getransformeer?  Of is jy nog net dieselfde as in die verlede, sodat die dinge wat in v.8 gelys word deel van jou lewe is?

 

Hoekom kom jy nie met ‘n berouvolle hart van geloof na die Here toe nie?  Bely jou sonde, vra vir die Here om jou te vergewe, en drink deur die Woord en gebed uit die fontein van lewende water (v.6).

 

As jy reeds tot bekering gekom het, het ek twee dinge om vir jou te sê.  Eerstens wil ek sê dat jy soos ‘n burger van die hemel moet lewe.  Moenie só lewe dat ongelowiges niks met die Here te doen wil hê nie.  Dit geld vir jou huwelik, ouerskap, taalgebruik, hoe jy jou werk en skoolwerk doen, jou verhouding met dié wat oor jou aangestel is, jou gesindheid, jou maniere op die pad, en meer.

 

Tweedens is dit belangrik om nie te dink dat jy alreeds op die nuwe aarde is, sodat jy verwag dat jou geliefdes altyd gesond moet wees, en nie sal doodgaan nie.  Moenie vir die charismate luister wat dink dat hulle deur hulle woorde gesondheid, lewe en rykdom kan ‘spreek’ nie.  Geen mens se woorde kan die nuwe hemel en aarde skep nie; Jesus alleen kan.

 

Wag daarom vir Hom soos wat ‘n hond vir sy meester wag.  Terwyl jy wag moet jy nie passief wees soos ‘n hond wat in sy hok lê en slaap nie.  Wees aktief en gereed soos ‘n hond wat langs die heining staan en blaf.  Dien die Here, volhard, leef in gemeenskap met Hom, en deel die evangelie met ander.  Op dié manier kan jy solank ‘n voorsmakie van die nuwe hemel en aarde geniet.

 

[1] Die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet.

Die waarheid oor lewe na die dood

Stairway to heaven

Mense het verskillende idees oor wat met jou gebeur wanneer jy doodgaan. Omdat ek in Jesus glo en die Bybel as sy Woord aanvaar, gaan ek my nie steur aan wat Hindoes en Buddhiste oor reïnkarnasie, die Brahman en Nirvana sê nie.  Ons is bestem om een maal te sterf (Heb.9:27); ons bestaan nie in ‘n eindelose siklus van lewe en dood nie.

 

Ek gaan myself ook nie ophou met ateïste wat sê dat daar niks na die dood is nie. Diep in elke mens se hart het hy ‘n sin van die ewigheid:  “[God] has put eternity into man’s heart” (Pd.3:11, ESV).

 

Ek stel ook nie belang in ‘n Paradys met beeldskone maagde waarna miljoene Moslems uitsien nie. Volgens Mt.22:30 gaan ons nie in die hemel trou nie.  Ek het ook nie tyd vir die Katolieke se vagevuur, waarin die vlamme mense se sonde wegbrand, sodat hulle later hemel toe kan gaan nie.  Die plek waar jy is wanneer jy doodgaan is waar jy bly (Lk.16:26).

 

My kwessie is met dié wat sê dat hulle in Jesus en die Bybel glo, maar sy lering oor lewe na die dood verwerp. My kwessie is met dié wat in sieleslaap glo en dit verkondig.  Dit is immers húlle preke, seminare, boeke, tydskrif artikels en blog inskrywings wat God se kinders verwar.

 

In hierdie preek wil ek wys wat die Bybel te sê het oor lewe na die dood. Deur sy opstanding het ons reeds die ewige lewe in ons harte (Jh.6:47, 17:3), en sal ons dit eendag in ons liggame ontvang (1 Kor.15).

 

As jy in Jesus glo sal jy in alle ewigheid nie sterf nie, maar selfs na die dood saam met Hom lewe (Jh.11:25-26). Dit geld natuurlik vir ons siele voordat dit vir ons liggame geld; daar is talle Bybeltekste wat dit bewys.

 

Lewe na die dood in die Ou Testament

Ek het eenkeer ‘n preek gehoor waarin die man gesê het dat Abraham, Noag en ander Ou Testament gelowiges in limbo of die gevangenis van die doderyk was, en dat hulle ná Jesus se kruisdood bevry is. Maar nêrens in die Ou- of Nuwe Testament is daar ‘n teks wat dit sê nie.  Daar is meer genoeg bewyse dat Ou Testament gelowiges aan die einde van hulle aardse lewe hemel toe is.

 

Alhoewel Henog nie gesterf het nie, het God hom aan die einde van sy reis hemel toe gevat (Gn.5:24, Heb.11:5). Elia het ook nie gesterf nie en is met ‘n strydwa van vuur hemel toe (2 Kon.2:11).  In Lk.9:30-31 het hy saam met Moses (wat gesterf het) aan Jesus verskyn op die berg van verheerliking.  Volgens Lukas het hulle in heerlikheid verskyn:  hulle het uit die hemel uit gekom.

 

Toe Jakob sy asem uitgeblaas het, “is hy by sy volksgenote versamel” (Gn.49:33). Dit het gebeur ‘n paar maande voordat hy begrawe is (Gn.50).  Duidelik het sy siel nie in die graf geslaap nie, en beteken die vers dat hy hemel toe is.

 

Jesus het dit ook geglo. Toe die Sadduseërs Hom oor die opstanding probeer vastrek het, het Hy gesê:  “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie… En wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:  Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob?  God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.” (Mt.22:29, 31-32).

 

Die feit dat die Here nogsteeds hulle God was, beteken dat hulle by Hom in die hemel gelewe het. Hoeveel te meer sou Hy dan nie hulle liggame in die toekoms kon opwek nie?  Die Hebreërskrywer bevestig dat hulle pelgrims op die aarde was, en dat hulle oppad was na die hemelse stad toe (Heb.11:10, 13-16).

 

Vir die volle beloning van nuwe liggame en ‘n nuwe aarde moes hulle vir die wederkoms gewag het (Heb.11:39-40). Tot dan sou hulle saam met talle ander gelowiges van die hemelse pawiljoen af moes toekyk hoe dié wat nog op die aarde was hulle wedloop voltooi het (Heb.12:1).  Dié wat dit tot aan die einde volhard se geeste sal volmaak wees in die hemel (Heb.12:22-23).

 

Die Psalmdigters het ook geglo dat hulle na die dood in die hemel sou wees. Dawid het in Ps.23:4-6 gesê dat gelowiges deur die vallei van die dood sal gaan, en dat hulle daarna vir ewig in die Here se huis sal woon.

 

Ps.49 stel ‘n duidelike kontras tussen die dood van gelowiges en ongelowiges. Ongelowiges se siele daal na die doderyk toe neer (Ps.49:15, 20), terwyl God die psalmdigter se “siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal [hom] opneem.” (Ps.49:16).  Daar het jy dit:  ongelowiges daal neer, terwyl die Here gelowiges opneem.

 

Asaf het dit ook geglo. Toe hy ‘n groot krisis beleef het, het hy gesê:  “U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.  Wie het ek buiten U in die hemel?  Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (Ps.73:24-25).  Selfs as sy liggaam beswyk het, het hy ‘n erfenis in die hemel gehad (Ps.73:26).

 

In Pd.12:7 lees ons dat “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” Iemand het op ‘n video het gesê dat die gees in Pd.12:7 na die mens se asem verwys.  ‘Wanneer jy sterf blaas jy jou asem uit en slaap jou siel in die graf; jy gaan nie na die Here toe nie,’ het hy gesê.   ‘Dit is wat Pd.12:7 beteken.’

 

Maar as hy die hele gedeelte gelees het, sou hy in Pd.12:5 gesien het dat die persoon na sy ewige huis toe gaan.  Moet ons regtig glo dat die graf sy ewige huis is?  Of is dit die hemel vir dié wat die Here ken en Hom vrees (Pd.12:1, 13)?

 

Lewe na die dood in die Nuwe Testament

Satan en mense se sonde verblind hulle, sodat hulle nie die Bybel verstaan nie (2 Kor.3:14-15, 4:4). Die Jehova’s Getuies gebruik bv. Jh.1:1 (‘…en die Woord was God’) om te wys dat Jesus nie God is nie.

 

Net so is daar mense wat die glashelder Nuwe Testament tekste oor lewe na die dood gebruik om te sê dat daar geen lewe na die dood is nie. As jy egter die verse in hulle letterlike en normale konteks lees, sal jy sien dat hierdie mense die kat aan die stert beet het.

 

Ek het in ‘n vorige preek (‘Jesus se dood en joune’) gewys dat Lk.23:43 presies beteken wat dit sê, en dat die misdadiger aan die kruis dadelik hemel toe is toe hy gesterf het:  “En Jesus antwoord hom:  Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

 

Soek gerus die preek op vir ‘n breedvoerige verduideliking van die vers, asook vir ‘n weerlegging van die Sewendedag Adventiste se verkeerde interpretasie daarvan.

 

In Jesus se vertelling van die ryk man en Lasarus, het Lasarus by sy dood na ‘n plek van vertroosting toe gegaan waar Abraham is (Lk.16:22, 25, vgl. 13:28, 22:37-38). Toe die ryk man gesterf het en begrawe is, het hy na ‘n plek van pyniging toe gegaan (Lk.16:22-25).

 

Sommige mense sê dat hierdie ‘n gelykenis is, en dat ons nie ons teologie oor lewe na die dood hieruit moet neem nie. Maar let asseblief op dat Jesus sy lering teen die geldgierige Fariseërs gemik het (Lk.16:14, 1-13, 19).  As dit net ‘n storie was en daar geen pyniging na die dood is nie, sou Jesus se lering nie tande gehad het nie.  Die Fariseërs sou Hom uitgelag het, omdat daar nie lewe na die dood is nie, en omdat ons siele rustig in die graf sal slaap.

 

Jesus se gebruik van eiename soos Abraham en Lasarus dui aan dat sy lering nie net ‘n storie is nie, maar geskiedenis (Hy het nooit eiename in ‘n gelykenis gebruik nie). Maar al kon iemand ‘n saak uitmaak om te wys dat dit ‘n gelykenis is, moet ons nogsteeds vra of Jesus oor lewe na die dood sou gepraat het as dit nie so was nie?  Sou Hy sy hoorders mislei en verwar het as mense se siele eintlik in die graf slaap?  Sou Hy vals inligting in sy storie ingewerk het, soos om te sê dat daar mense in ‘n plek anderkant die graf is, terwyl hulle geliefdes nog op die aarde is (Lk.16:27-28)?  Wat is enigsins die punt van Lk.16:19-31 as daar nie ‘n hemel of hel is ná die dood nie?

 

Soos Jesus het Paulus ook geglo dat gelowiges ná die dood hemel toe gaan. Volgens hom was dié wat nog op die aarde gelewe het in die liggaam, en nie by die Here nie (2 Kor.5:6).  As iemand egter doodgaan en sy liggaam verlaat, is hy by die Here (2 Kor.5:8).  Daar is nie iets tussen-in nie.  As jy nie by Jesus in die hemel is nie, is jy in jou liggaam op die aarde en andersom.  Dit leer Paulus ook in Fil.1:22-23 vir ons:

 

“Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. Want ek word van weerskante gedring:  ek het ‘n verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste”.

 

Vir Paulus was dit beter om te sterf en na Jesus toe te gaan, as om in sy liggaam op die aarde te lewe. As sieleslaap waar is, sou Paulus verseker nie gesê het dat die dood beter is as die lewe nie, “want ‘n lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu.” (Pd.9:4).  Die dood is ‘n wins, omdat dit hom na Christus toe neem (Fil.1:21).  As dit hom in die graf gelos het, sou dit ‘n verlies gewees het.

 

In Op.6:9-11, 20:4 lees ons van die onthoofde martelare se siele wat in die hemel is.  Heb.12:23 praat van “die geeste van die volmaakte regverdiges” wat saam met Jesus en sy engele in die hemel is.  In Op.7:9-10 praat Johannes van gelowiges uit alle nasies wat in die hemel is.  Dit gebeur voor die wederkoms, die finale oordeel, die opstanding van die dooies, en die nuwe hemel en aarde (vgl. Op.20-22).

 

Ek het vroeër uit Lk.16:22-24 gewys dat ongelowiges dadelik na ‘n plek van pyniging toe gaan wanneer hulle doodgaan. Daar is ander verse in die Nuwe Testament wat dit bevestig.

 

In Jh.17:12 sê Jesus dat Judas die seun van die verderf is, en volgens Hd.1:18, 25 het hy gesterf en ná sy eie plek toe gegaan. As ons die twee verse saam lees is dit nie moeilik om te raai dat hierdie plek die hel is nie.  Dit is tog wat Jesus in Mt.26:24 bedoel het:  “…wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word!  Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.”

 

2 Pt.2:4, Jud.6 praat van gevalle engele wat in die duisternis van die hel vasgebind is met kettings. Soos hierdie engele is die goddelose ook alreeds in die hel.  2 Pt.2:9 in die ESV sê:  “the Lord knows how…to keep the unrighteous under punishment until the day of judgment”.  Jud.7 praat van die bewoners van Sodom, Gomorra en die omliggende stede wat huidiglik “die straf van die ewige vuur ondergaan.”

 

As ‘n misdadiger gevang word moet hy in die tronk sit, totdat sy saak voor die hof kom en hy gevonnis word. So is dit ook met die ongelowiges:  hulle gaan dadelik hel toe wanneer hulle sterf; hulle moet daar wag vir die oordeelsdag om voor God se hof te verskyn en gevonnis te word.

 

Elke ongelowige sal vir ewig gevonnis word (Mt.25:41, 46), maar Judas se straf sal bv. erger wees as keiser Augustus s’n, omdat hy van beter geweet het. Hy het meer lig gehad as die keiser, maar het dit verwerp.  Dit is presies wat verse soos Mt.11:20-24, Lk.12:47-48, 20:47, Jk.3:1, Op.20:12-13 vir ons leer.

 

Lewe na die dood en sieleslaap

‘n Vrou het my eenkeer kom sien oor ‘n artikel wat sy op die internet ontdek het. Die outeur het gesê dat gelowiges nie hemel toe gaan wanneer hulle sterf nie, maar dat hulle siele in die graf slaap.  Hy het ‘n paar tekste aangehaal om dit te ‘bewys’.  Die vrou was verward.  Ons het elke vers in sy konteks gelees en tot die volgende slotsom gekom:

 

[1] Ps.115:17 gaan nie oor sieleslaap nie: “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie”.  Die konteks gaan oor mense wat afgode aanbid, en so leweloos soos hulle gode word (Ps.115:4-8).  Húlle is dié wat in die doderyk neerdaal en nie die Here loof nie.

 

Wat God se kinders betref sê die Psalmdigter in die volgende vers:  “maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid.  Halleluja!” (Ps.115:18).  Wanneer ongelowiges doodgaan prys hulle nie die Here nie; gelowiges doen dit wel.

 

[2] Ps.146:4 gaan nie oor sieleslaap nie: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”  Die Psalmdigter se punt is dat ons nie op mense moet vertrou nie, omdat hulle toekomsplanne daarmee heen is wanneer hulle doodgaan (Ps.146:3-4).  Hy sê nie dat daar nie lewe na die dood is nie.

 

[3] Pd.9:5, 10 gaan nie oor sieleslaap nie: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet… Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”

 

Weer moet ons na die konteks kyk. Volgens Pd.9:6, 9 het die mense wat in die doderyk is nie meer deel aan die werk, kennis, wysheid of plesier wat onder die son plaasvind nie.  Salomo se punt is dat ons hard moet werk en beplan terwyl ons nog op die aarde is.

 

Sy punt is dieselfde as Jesus s’n in Jh.9:4: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.”  Niemand dink op grond van hierdie teks dat Jesus na sy dood nie meer kon werk nie.  Hoekom dink ons dit dan wanneer ons Pd.9 lees?

 

Dié wat gesterf het verloor nie hulle identiteit of persoonlikheid nie. Jy bly Joe van Jaarsveld as jy in die hemel is (Lk.16:23).  Jou siel raak ook nie onaktief nie.  Jy sal die Here saam met ‘n groot menigte van hemelwesens en gelowiges prys (Op.7:9-12).  Jy sal die Here se teenwoordigheid, liefde, troos, verkwikking en versorging geniet (Op.7:15-17).  Jy sal nie hartseer wees, pyn hê of sonde doen nie, maar volmaak wees (Op.7:17, Heb.12:23).

 

[4] Hd.7:60 en ander verse wat van gelowiges se dood as ‘slaap’ praat, beteken nie dat ons siele in die graf slaap nie: “En [Stefanus] het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep:  Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!  En met dié woorde het hy ontslaap.”

 

Volgens Hd.7:55-56 het Stefanus gesien hoe die hemel oopgaan; hy het God se heerlikheid gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Terwyl sy vyande hom gestenig het, het hy uitgeroep:  “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hd.7:59).  Stefanus het geglo dat hy oppad was na Jesus toe vir Wie hy nou-net gesien het.  Vir Stefanus was die dood so skadeloos soos slaap.

 

[5] 1 Ts.4:15 gaan nie oor sieleslaap nie. Paulus sê “dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.”

 

Dit is belangrik om te onderskei tussen wat met ‘n gelowige se liggaam gebeur wanneer hy doodgaan, en wat met sy siel gebeur.  En dit is Paulus se punt.  Dié wat nog by die wederkoms lewe se liggame sal nie voor hulle afgestorwe broers en susters s’n verheerlik word nie (1 Ts.4:16-17).

 

Dié wie gesterf het se siele is egter by die Here.  Wanneer Jesus kom sal hulle saam met Hom na die aarde toe terugkeer (1 Ts.3:13, 4:14, Kol.3:4).  Hy sal hulle liggame opwek en verheerlik, en hulle siele daarmee verenig (1 Ts.4:16, 1 Kor.15:35-55).

 

“Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde,” sê die apostel in 1 Ts.4:18. As die vorige verse oor sieleslaap gaan, kan ons nie vir Karen op haar sterfbed sê:  ‘Jy gaan vir Jesus in sy heerlikheid sien’ nie (Jh.17:24).  Ons sal eerder moet sê:  ‘Lekker slaap.’  En hoe bemoedig dít haar?

 

Sal dit haar nie meer help om die waarheid te hoor, dat elke gelowige by sy of haar dood hemel toe gaan nie? En omdat Jesus die dood oorwin het, hoef sy dit nie te vrees nie (1 Kor.15:55, Heb.2:14-15, Op.1:18).  Dit geld vir almal wat in Jesus glo.

 

As jy nog nie in Hom glo nie wil ek by jou aandring om dit vandag te doen. Jy sal nie spyt wees nie, maar sal wens dat jy dit al vroeër gedoen het.  En as jy die dag op jou sterfbed lê, sal jy saam met die Paulus kan sê:  “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (Fil.1:21).

Die breekpunt van God se toorn

Breaking point

Soms dink ons dat God se geduld nie grense het nie, maar dit het. In sommige gevalle gebeur dit dat mense Hom te ver druk en sy toorn breekpunt bereik.  Ons sien dit bv. toe Nadab en Abihu in die tabernakel gespeel het, en God vuur uit die hemel gestuur het om hulle dood te brand.  Ons sien dit toe Ussa aan die ark gevat het en onmiddellik gesterf het.  Ons sien dit toe Ananias en Saffira gelieg het, en die Here hulle doodgeslaan het.

God is ‘n baie liefdevolle en geduldige Vader, maar Hy is nie jou speelmaat nie. Die plae wat Hy in die Ou Testament oor Egipte gebring het, het Hy in Op.16 oor Israel en Jerusalem gebring.  In Op.8 het Hy hulle gedeeltelik gestraf, maar in hierdie hoofstuk sien ons hoe Hy hulle tot die uiterste toe geoordeel het.

Jerusalem het as’t ware die nuwe Egipte geword (11:8). God het toe vir die sewe engele gesê om die bakke van sy toorn oor haar uit te giet, soos wat Hy dit in die Ou Testament met die heidene gedoen het (v.1, Ps.79:3, 6, 10, 12, Jer.10:25).  Hy kon dit nie langer terughou nie:  die bakke het vol geword met die gebede van die gelowiges wat uitgeroep het dat Hy wraak sou neem oor hulle moordenaars (5:8, 6:9-11, 8:3-4).

In Op.16:1 was Hy gereed om sy toorn soos die bloed van die Ou Testamentiese offers uit te giet (vgl. 8:5, Lv.4:7). Die bakke se inhoud – die plae van God se toorn – sou Israel en haar sonde uit die land [Gk. ] uit verwyder.  Kom ons kyk met die mikroskoop van gebed en studie na die eerste vyf bakke.

Swere (v.2)

Iemand het my hond met ‘n gaspistool in die been geskiet. Dit het ‘n 20-sent grootte gat gelos.  Ek moes hom veearts toe vat sodat hulle dit kon toewerk.  Hoe moet dit wees om vyftig of ‘n honderd sulke oop wonde op jou liggaam te hê?

Die swere in v.2 herinner my aan Job s’n: dit was so pynlik dat hy dit met ‘n potskerf gekrap het (Job 2:7-8).  Dit het hard geword en weer oopgebreek.  Sy vel het swart geword en afgeval; daar was wurms in die swere.  Die inflammasie het sy bene soos vuur laat brand (Job 7:5, 30:30).  Uit 2 Kon.20:7, 1 leer ons dat hierdie swere dodelik was.  Hou dit asb. in gedagte wanneer jy v.2 lees.

Die eerste engel het sy bak op die land [Gk. ] uitgegiet (v.2).  Skadelike en pynlike swere het gekom oor die Jode wat saam met die wêreld agter die duiwel aangeloop het, oor dié wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het (v.2).[1]

Die Here het reeds in Dt.28:27, 35, 60-61 vir sy volk gesê dat Hy hulle met die swere van Egipte sou tref as hulle sy verbond gebreek het (vgl. Eks.9:8-12). In Op.16:2 het Hy sy belofte vervul:  dié wat die merk van die dier gehad het, het nou die merk van ongeneeslike swere gekry.

Bloed (v.3-7)

Die tweede en derde engele het hulle bakke op die see, riviere en waterfonteine uitgegiet, sodat dit in bloed verander het (v.3-4). Die see het soos die bloed van ‘n lyk geword, en soos met die eerste plaag in Egipte het die visse en waterdiere gevrek (v.3, Eks.7:19-21, kontr. 8:8-9).  Johannes wou weer gewys het dat Israel soos Egipte geword het (11:8), en dat God die lewe (water) van haar af weggevat het.

Josefus was ‘n Joodse geskiedkundige wat in die eerste eeu geleef het. Hy was nie ‘n gelowige nie, en tog stem sy rekord van die geskiedenis ooreen met dié van Openbaring.  Sonder dat Josefus dit geweet het, het hy die vervulling van v.3-4 in detail beskryf.

Hy vertel bv. hoe ‘n paar duisend Jode vir die Romeine gevlug het en in die See van Galilea gespring het. Sommige van hulle het verdrink, en ander is met pyle doodgeskiet.  Ander se koppe en hande is afgekap toe die Romeine hulle met bote agterna gesit het.  Party het tot by die kant geswem en is dáár doodgemaak.  Josefus sê:  ‘the lake [was] all bloody, and full of dead bodies, for not one of them escaped.’[2]

By ‘n ander geleentheid het die na Joppe toe gevlug, op skepe geklim en in die Middellandse See ingevaar. Die swart noorde wind het hulle skepe teen mekaar en teen die rotse stukkend geslaan.  Sommige het verdrink en ander het hulleself met hulle eie swaarde doodgemaak.

Weer sê Josefus: ‘the sea was bloody a long way, and the [coastal] parts were full of dead bodies; for the Romans came upon those that were carried to the shore, and destroyed them; and the number of the bodies that were thus thrown out of the sea was four thousand and two hundred’.[3]

Volgens Josefus het daar ook hope van die Jode se lyke in die Jordaanrivier gelê, sodat die water ondrinkbaar geword het[4] (vgl. 1 Kon.18:40).  Verder het die Jode se bloed soos riviere in Jerusalem se strate afgestroom.[5]  Daar was so baie bloed, ‘that the fire of many of the houses was quenched with these men’s blood.’[6]

Die buitekant van die tempel het oorgeloop met die bloed van 8500 lyke wat daar gelê het.[7]  Groot plasse bloed het soos mere in die binne- en buitehof van die tempel gelê.[8]

Dit het nie gebeur omdat die Here bloedlustig is nie, maar omdat Hy heilig en regverdig is, en omdat Hy sonde haat (v.5-6). Hy is ook die ewige God wat is en wat was (v.5, Eks.3:14), en dus het Hy nie oorhaastig opgetree het toe Hy sy Ou Testamentiese volk geoordeel het nie.

Vir honderde jare het hulle God se diensknegte – die heilige apostels, profete en die Messias – doodgemaak (v.6, 18:20, 24, 2 Kron.36:15-16, Lk.11:47-51, 13:34, Hd.7:52, 1 Ts.2:14-16). Hulle het bloed vergiet, en moes daarom volgens God se geregtigheid en hulle eie verdienste bloed gedrink het (v.6, 4).  Volgens God se belofte in Dt.28:53-57 en Jes.49:26 het dit gebeur toe die Romeine Jerusalem in 70 n.C. omsingel het:  die Jode het hulle eie kinders geëet.[9]

Die stemme wat onder die altaar was het die engel se woorde in v.5-6 ge-eggo: “Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.” (v.7).  In 6:9-11 het hulle gebid dat God Hom op hulle moordenaars sou wreek (6:9-11).  Omdat Hy Almagtig, getrou en regverdig was, kon Hy dit gedoen het (v.7, 19:2, Gn.18:25, 119:137, Rm.3:4).

Vuur (v.8-9)

A.g.v. ons familie se Britste, Amerikaanse en Franse voorsate, het ons baie ligte velle. Beide ek en my broer het al tydens ‘n vakansie so rooi soos tamaties gebrand.  Ek hoef seker nie vir jou te sê dat dit verskriklik seer is nie.  Hoe seer moes die sonbrand in v.8-9 dan nie gewees het nie?

Die vierde engel het sy bak oor die son uitgegiet (v.8). Die son wat gewoonlik lig, lewe en hitte gee, het die mense geskroei en hulle gebrand soos wat net vuur kan (v.8-9).  In die hemel kon hierdie plaag nie die gelowiges beskadig het nie (7:16), maar op die aarde het God se volk nie meer sy beskerming gehad nie (v.8, Ps.105:39, 91:1, 121:5-6).

A.g.v. die hitte het mense God se Naam gevloek en gelaster (v.9). Hulle het geweet dat dit Hý is wat die plae gestuur het (v.9).  Die doel was dat die mense hulle moes bekeer het en God met hulle lippe en lewens verheerlik het.

Maar soos Farao het hulle hulle harte verhard en dit nie gedoen nie (v.9, 7:13-14, 22, 8:15, 19, 32, 9:34-35, kontr. 11:13). Weereens het God se volk gewys dat hulle die nuwe Egipte is (11:8).  David Chilton sê:  ‘Israel has become an Egypt, hardening its heart; and, like Egypt, it will be destroyed.’[10]

Duisternis (v.10-11)

Êrens in elke mens se lewe is hy of sy bang vir die donker: ‘n mens kan nie sien of daar gevare in die skadus wegkruip nie.  Hoe erg moet dit dan wees om soos in v.10-11 vir ewig in die buitenste duisternis gewerp te word?

Die vyfde engel het sy bak oor die troon van die dier uitgegooi, sodat sy koninkryk in die duisternis gewerp is (v.10, kontr. 13:4). Ek het reeds in hfst.13 gewys dat die dier Nero en die Romeinse Ryk is, en dat die Jode Rome en haar keiser bo die Messias gekies het (Jh.19:15).  Sy was deel van die dier en sy Koninkryk, en sou daarom saam met hulle in die duisternis gewerp word (v.10, 2).

Weereens kan ons sê dat Israel soos die wêreld en Egipte geword het (11:8, Eks.10:21-29). Daardeur het sy die Here geterg, sodat sy toorn breekpunt bereik het.  Uiteindelik het Hy haar saam met Rome en haar boosaardige keisers in die duisternis van die hel gewerp (v.10-11, 14:10-11, 19:20, Mt.8:10-12).

Dit was so erg dat die mense soos my vriend gemaak het toe ‘n nagadder hom op sy hand gepik het. Om die pyn te versit, het hy sy kop teen ‘n muur geslaan.  Net so het dié wat in die duisternis van die hel gewerp is, hulle tonge gekou (v.10, Lk.16:24).  Dit is seer genoeg as jy per ongeluk jou tong raak byt terwyl jy eet, maar omdat die pyn van die hel so erg is, het hierdie mense hulle eie tonge gekou om die pyn te versit.

Hulle wou egter net van die pyn ontslae geraak het, en nie van dit wat die pyn veroorsaak het nie, nl. sonde. A.g.v. die pyn en swere het hulle die God van die hemel gevloek en gelaster (v.11).

Die feit dat hulle nog die swere van v.2 gehad het (v.11), impliseer dat die siekte en pyne wat ongelowiges op die aarde gehad het, hulle ook in die hel sal hê. As ongelowige Fanie dan met kanker doodgaan, sal dit hom verder teister in die hel.  Omdat ongelowiges selfs in die hel nie ophou om die Here te haat en Hom te laster nie, hou Hy aan om hulle te straf (v.11).

Moenie vir ‘n oomblik dink dat dié wat in die hel is graag by Christus in die hemel wil wees nie. Hulle haat Hom en sal eerder in die hel wees sonder Hom, as in die hemel saam met Hom; in die hel waar hulle hulle sonde kan hê, as in die hemel waar hulle daarmee moet ophou.  Ons speel nie met woorde wanneer ons sê dat hulle die hel vir hulleself gekies het, en dat hulle eerder daar wil wees as in die hemel nie.

Hoe moet ons Op.16 op onsself toepas? Omdat niemand van ons weet wanneer God se toorn breekpunt bereik nie, moet ons dit nie waag om sy geduld te toets nie.  Ons moenie ná vele waarskuwings aanhou om teen die Here te sondig nie.  God is geduldig sodat ons ons kan bekeer, en nie sodat ons verder kan sondig nie (Rm.2:4, 2 Pt.3:9, 15).  Hy sal nie vir ewig geduldig wees nie, en mag dalk op ‘n dag besluit om nie verder te praat nie, maar om op te tree.

Om die breekpunt van sy toorn te vermy, moet jy jou bekeer. Jy kan nie soos die Jode dat jy aan die Here behoort, terwyl jy in die week soos die wêreld lewe nie.  Dit geld vir jou gesinslewe, taalgebruik, humor, drinkgewoontes, gebruik van die internet, ontspanning, dit waarop jy jou tyd en geld deurbring, en meer.  As jy soos die wêreld wil lewe, sal jy saam met hulle gestraf word (v.2).

Moet asb. nie die Here se geduld toets as Hy al oor en oor vir jou gesê het om jou te bekeer nie. Die Here het ‘n groter verlange dat jy saam met Hom in die hemel moet wees as wat jy het (1 Tm.2:4).  Moet dan nie dom wees en die kans verbeur, omdat jy jou eie kop gevolg het en vir jouself gelewe het nie.  As jy eendag hel toe gaan is dit jou eie skuld.  Jy het geweet dat die probleme in jou lewe van die Here af kom, maar soos ‘n hardkoppige ateïs het jy het gekies om in jou sonde te volhard eerder as om jou te bekeer (v.9, 11).

Om dit te doen is heeltemal onnodig, veral as die Here tot die maksimum toe gegaan het om sondaars te red. Uit liefde vir sondaars het God die oorvol bakke van sy toorn oor sy geliefde Seun uitgestort, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v.1, Jh.3:16).

Jesus het ons so lief gehad dat Hy op Golgota die dood gesterf het wat sondaars soos ek en jy verdien. In die duisternis het Hy aan ‘n aaklige kruis gehang, sodat ons vir ewig in sy lig kan lewe (v.10, Mt.27:45, Kol.1:12-13).  Sy liggaam het ‘n see en riviere van bloed geword, sodat ons in die oseaan van sy liefde kan swem en kan drink uit die strome van lewende water wat daar in die hemel is (v.3-4, Esg.47:1-12, Jh.19:34, Op.22:1, 17).

Hoekom kom jy nie vandag na die Here toe nie? Hoekom steek jy nie beide hande uit om sy gratis verlossing te ontvang nie?  Moenie soos ‘n kind wees wat die wêreld se 10-sente van sonde kies, omdat dit volgens jou berekening swaarder weeg as die $900 triljoen tjek van die hemel nie.

Enigiemand met ‘n halwe brein weet mos dat dit beter is om in hierdie wêreld jou sonde te los en hemel toe te gaan, as om vir ewig jou tong te kou in die hel. En hoekom sal jý anders dink?

Is jy miskien gered? Vir jou wil ek twee dinge sê:

[1] Het ‘n familielid, vriend, kollega of iemand anders jou sleg en onregverdig behandel omdat jy ‘n gelowige is? Het jy dit in gebed met die Here gedeel, maar dit lyk of Hy nie omgee nie?  Moenie die gereg in jou eie hande neem nie; los dit vir die Here.  Op die regte tyd sal Hy hierdie mense oordeel (v.5-7).

[2] Moenie dink dat die pyn (hetsy emosioneel of fisies) en duisternis wat jy tans ervaar ‘n oordeel van die Here is, soos wat dit in Op.16 vir die ongelowige was nie. Wanneer die Here ons deur moeilike tye neem, is liefde altyd die dryfveer.  Hy sal jou beproewing soos staalwol gebruik om jou blink te skuur en om jou meer soos Jesus te maak (Rm.8:28, Heb.12:10-11).

Omdat jy altyd na die Here toe terugdraai en nie probeer om die liniaal van sy geduld met jou sonde te breek nie, het sy toorn vir jou nie ‘n breekpunt nie.

 

[1] Sien my preek, Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666), vir ‘n verduideliking van die merk van die dier.

[2] The Wars of the Jews, Book III, 10:9

[3] Ibid, 9:2-3

[4] Ibid, Book IV, 7:6

[5] Ibid, 1:10

[6] Ibid, Book V, 8:5

[7] Ibid, Book IV, 5:1

[8] Ibid, Book V, 1:3

[9] Ibid, Book VI, 3:3-4

[10] David Chilton, The Days of Vengeance, p.164

Maak seker van jou bestemming

heaven-and-hell

Hoeveel mense is daar nou in die hel wat hulleself oortuig het dat hulle nie daar sal wees nie?  Jy kan dit nie bekostig om te dagdroom wanneer jy hierdie preek lees of daarna luister nie.  Jy moet seker maak van jou bestemming.  Ek vertrou dat Op.14:1-13 jou hiermee sal help.

 

Die hemel (v.1-5, 12-13)

In 2003 het Rick Holland by ‘n konferensie gesê: ‘Why is it that everyone wants to go to heaven, but no one wants to die?’  Dit is immers deur die dood wat ons in die hemel kom (v.13, Lk.16:22, 23:43, 2 Kor.5:8, Fil.1:23).  Nie een van ons kan die dood vermy nie.  Maar ons kan keer dat ons in die hel beland, en seker maak dat ons hemel toe gaan.  In die verse wat volg sê Johannes vir ons iets van dié wat in die hemel is.

 

In teenstelling met die vals lam van 13:11, het die ware Lam van God op berg Sion, beter bekend as Jerusalem, gestaan (v.1, Ps.2:6, vgl. 1 Kon.8:1, Ps.135:21, Jes.40:9, Sef.3:16, Sg.9:9). Johannes het nie hier na die aardse Jerusalem verwys nie, maar na die hemelse een (hfst.21, Heb.12:22, Gal.4:25-26).

 

Die 144 000 verseëlde Jode van 7:1-8 het by Hom gestaan. Hulle het die oordele wat Hy in 70 n.C. oor afvallige Israel gebring het, oorleef (vgl. Esg.9:4-6).  God het hulle by Pella bewaar toe die Romeine Jerusalem vir 42 maande lank beleër het.[1]  Terwyl hulle nog op die aarde was, het hulle in die hemel se aanbidding gedeel (Ef.2:6, Kol.3:3, Heb.12:22-24).  Hoeveel te meer nie toe hulle gesterf het en hemel toe is nie?

 

Om te wys dat hulle aan die Here behoort, het die 144 000 gelowige Jode die Lam en die Vader se Naam op hulle voorkoppe gehad, net soos wat die rebelse Jode die dier se naam en nommer op húlle voorkoppe gehad het (v.1, 13:17, Eks.28:36-38, 2 Tm.2:19).

 

Johannes het ‘n stem in die hemel gehoor. Dit was soos die gedreun van ‘n groot watermassa en van donderweer (v.2, 19:6).  En tog was dit nie ‘n geraas nie, maar so musikaal soos harpe (v.2, 5:8, 15:2).  Die stemme het ‘n nuwe lied van God se verlossing gesing voor die troon en voor die 4 lewende wesens en die 24 ouderlinge wat die troon omring het (v.3, 5:9, vgl. Ps.33:2-3, 96:1-2, 98:1-2, 144:9, 149:1, 4, Jes.42:10).[2]  Net die 144 000 kon die lied geleer het, omdat net hulle van die Here se oordeel oor die aarde of die Beloofde Land [Gk. ] verlos is (v.3).  Geen ongelowige of engel het Christus se verlossing gesmaak nie, en daarom kon hulle nie die lied gesing het nie.

 

Die 144 000 Jode was geestelike maagde – ‘n rein bruid vir die Here – wat nie soos afvallige Israel met die wêreld gehoereer het nie (v.8, hfst.17, Jer.3, Esg.16, 23, Hosea, Jk.4:4, Jes.54:5, 62:4-5, 2 Kor.11:2, Ef.5:25-27).  Hulle het aan die waarheid behoort en nie leuens vertel soos die duiwel se kinders nie (v.5, 21:8, 22:15, Jh.1:48, 8:44, 14:6, 18:37, Ps.15:1-3, 32:2, Sef.3:16).  Hulle was nie sondeloos nie, maar die normale patroon van hulle lewens was onberispelik en opreg (v.5, Fil.2:15).

 

Hulle het die Lam gevolg in voorspoed en in teëspoed (Jh.10:27, 12:26, 1 Pt.2:21). Hy het hulle immers as die eerstevrug van die oes met sy bloed losgekoop (v.6, 5:9, Jk.1:1, 18).  Hulle sou nie saam met die res van die ‘oes’ (die afvallige Jode) geoordeel word nie (v.14-20).  Hulle sou eerder ‘n verdere ‘oes’ van bekerings onder die heidene verseker het (Sp.3:9-10, Jer.2:2-3, Hd.2:41, Rm.1:13, 11:16).

 

Hoe kan jy weet of jy tot bekering gekom het en oppad is hemel toe? Hoe kan jy weet dat die Here se Naam op jou voorkop is, en dat jy aan Hom behoort as dit nie ‘n sigbare merk is nie (v.1)?  Wat is die bewyse – nie die vereistes nie! – dat iemand waarlik tot bekering gekom het?

 

[1] Jy sal die Here prys vir jou verlossing (v.2-3). Iemand wat weet waarvan en waarvoor die Here hom gered het, kan nie anders as om Hom daarvoor te prys nie.  Jy sal Hom ook prys, omdat Hy alles gemaak het (v.7).

 

[2] Tensy jou gesondheid dit verhinder, sal jy nie ‘n ‘eenkant-Christen’ wees wat by die huis bly en jou eie ding doen nie. Jy sal eerder saam met ander gelowiges die Here wil prys (v.1-3).  Jy sal dit in die erediens wil doen, en ook in die hemel.

 

[3] Jy sal nie in jouself en jou goeie werke roem nie, maar in die Here en in die verlossing wat Hy aan die kruis bewerk het (v.3-4, 5:9, 1 Kor.1:31, 2:2, Gal.6:14, Ef.2:8-9, Fil.3:4-9).

 

[4] Jy sal vir die Here lewe en jou sonde haat, omdat jy ‘n rein bruid vir Hom wil wees (v.4, 8). Jy sal die waarheid praat en nie met jou lewe of lippe leuens vertel nie (v.5).  Jy sal opreg wees en só lewe dat mense nie ‘n vinger na jou kan wys nie (v.5).  Jy sal die Here se oordele vrees, sodat jy Hom verheerlik en jou bekeer (v.7).

 

[5] Jy sal die Lam oral volg – nie net hemel toe nie, maar ook na die kruis toe (v.4, Lk.9:23). Jy sal nie jou rug op die Here draai wanneer dit met jou sleg gaan nie.

 

[6] Jy sal nie jou arms vou en terugsit omdat die Here jou gered het nie, maar jy sal wil hê dat ander mense ook tot bekering moet kom (v.4). Om dit te verseker sal jy die evangelie met hulle deel (v.6, Rm.10:13-15, 1 Kor.9:19-22).

 

[7] Jy sal in die Here glo en Hom gehoorsaam, totdat jy doodgaan (v.12-13, Jh.14:15, Mt.10:22, Kol.1:23, Heb.3:14). Nie een van die verseëldes het hulle redding verloor nie (v.1-5, 7:1-8), en jy sal ook nie (Ef.1:13-14, Jh.10:28-29).

 

Sien jy hierdie bewyse van bekering in jou lewe? Indien wel, sal die dood jou nie na die rustelose vervloeking van die hel toe lei nie (v.10-11).  As jy in Jesus glo wanneer jy doodgaan, sal jy die ewige rus van die hemel ingaan en beloon word (v.12-13, Mt.25:21, 1 Kor.3:12-15, Heb.4:9-10).

 

Vir jou is die dood ‘n seën en ‘n wins, omdat dit jou na Christus toe lei (v.13, Fil.1:21). Die dood het nie meer ‘n angel om jou te steek, of tande om jou te byt nie (1 Kor.15:55, Heb.2:14-15).  Jy kan in vrede jou asem uitblaas, omdat Jesus die sleutels van die dood en die doderyk in sy hande het (1:18).  Hy sal jou deur die donker vallei van die dood vergesel (Ps.23:4).

 

Die hel (v.6-11)

Ek ken ‘n oom wat tot bekering gekom het, omdat hy gehoor het hoe erg die hel is. Natuurlik is dit nie die enigste rede hoekom ons hemel toe wil gaan nie.  Maar volgens Johannes is dit ‘n rede hoekom ons met vrees en eerbied op die evangelie moet reageer, hoekom ons ons sonde moet los, en hoekom ons tot die einde toe aan Jesus moet vashou (v.6-12).

 

In v.6 het Johannes ‘n engel bokant sy kop gesien. Hy het die ewige evangelie gebring, sodat God se boodskappers dit aan die bewoners van die land kon verkondig, asook aan elke stam, taal, volk en nasie (v.6).  So het die Here sy liefdevolle verlossing aan sondaars gebied, om hulle van die dier af weg te keer na Homself toe.

 

Sommige kommentators dink dat die evangelie in v.6 nie dieselfde is as die evangelie van verlossing in die res van die Nuwe Testament nie. Maar volgens Paulus is enigiemand wat ‘n ander evangelie bring onder God se vervloeking – al is dit ook ‘n engel uit die hemel (Gal.1:8-9).

 

Buitendien praat Johannes hier van ‘n ewige evangelie, een wat nie verander het of in die toekoms sál verander nie.  Dit is ook ‘n ewige evangelie wat handel oor God wat mense in die ewige verlede uitverkies het, sodat hulle in die ewige toekoms saam met Hom in die hemel kan woon (Rm.8:29-30, Tit.1:1-2).

 

In hierdie ewige evangelie is daar ook ‘n element van vrees. Omdat die Here se onmiddellike en toekomstige oordele oppad is, moes Jode en heidene Hom gevrees en verheerlik het; hulle moes Hom as die Skepper van alle dinge aanbid het (v.6-7).  As hulle hulle nie bekeer het nie maar aangehou het om die grimmige wyn van Babilon se geestelike losbandigheid te drink, sou hulle saam met Babilon tot ‘n val gekom het (v.8, vgl. Jer.51:7).

 

Wie is hierdie Babilon wat die nasies dronk gemaak het met die wyn van haar geestelike losbandigheid (v.8)? Soos Sodom en Egipte in 11:8, is Babilon heel moontlik ‘n skuilnaam vir Jerusalem wat geestelike egbreuk gepleeg het met die nasies (v.8, 18:3, Esg.16, 23, Hosea).

 

Dit lyk of Petrus dit ook so verstaan het. Volgens Hd.1-12 en Gal.1-2 het hy in Jerusalem gebly, en in 1 Pt.5:13 het hy namens die gemeente in ‘Babilon’ groete gestuur aan die verstrooide Jode (1 Pt.1:1).  Petrus en Johannes se gebruik van die naam ‘Babilon’ impliseer dat Jerusalem so sleg en goddeloos geword het soos Babilon in die Ou Testament.

 

In denke en dade was hulle lojaal aan die duiwel en die wêreld. Die dier se merk op hulle hande en voorkoppe, asook hulle aanbidding van die dier en sy beeld het dit bewys (v.9, kontr. die gelowige Jode in v.1).[3]  Omdat Jerusalem die wyn van geestelike egbreuk gedrink het (v.8), sou sy die sterk wyn van God se toorn gedrink het (v.10, 18:6, Job 21:20, Jes.51:17, Jer.25:15-29).

 

Natuurlik geld dit nie net vir die afvallige Jode nie, maar vir almal wat die Here Jesus verwerp en met hulle sonde aanhou. Laat ons met vrees en bewing dink oor wat Op.14 en die res van die Bybel oor die hel te sê het.

 

[1] Die hel is erg

God se engele sal die goddelose in die hel gooi, en die Lam sal teenwoordig wees om sy heilige en regverdige wraak oor hulle uit te oefen (v.10, Mt.13:41-42, 49-50). Volgens v.10 sal Hy die wyn van sy woede onverdund in die beker van sy toorn skink, en maak dat sy vyande dit drink.  ‘Onverdund’ impliseer dat hierdie wyn nie met die soet speserye van sy genade, hoop en liefde gemeng is soos wat dit op die aarde was nie (Ps.75:9, Mt.5:45).  Hy sal in sy toorn en wraak teenwoordig wees (v.10), maar in sy heerlike goedheid sal Hy afwesig wees (2 Ts.1:9).

 

Die hel is nie ‘n plek waar ongelowiges partytjie gaan hou nie. Dit is nie ‘n plek waaroor ‘n mens grappies maak nie.  Dit is nie ‘n plek waar die duiwel jou met ‘n drietand vurk gaan steek nie.  Dit is ‘n plek wat erger is as enige lyding wat jy op die aarde beleef het.  Dit is ‘n plek waar ongelowiges in die vuur sal brand en aan die swawel sal verstik (v.10, 21:8).  Dit is eensaam en donker (Mt.22:13, 2 Pt.2:4).  Dit is ‘n plek waar jy vir ewig sterf, maar nooit dood is nie (20:14, 21:8).  Dit is ‘n bodemlose afgrond (9:2).  Dit is ‘n plek waar die pyn so erg is, dat mense vir altyd sal huil, hulle tonge sal kou en op hulle tande sal kners (16:10, Mt.25:30).  Dit is ‘n plek van ewige verwoesting (Mt.10:28, 2 Ts.1:9).

 

Dit is ‘n plek waar die ongelowige se liggaam en gewete dag en nag geen rus het nie (nie eers vir 5 minute nie), omdat die wurm van God se oordeel vir ewig aan hom sal knaag (v.11, Mk.9:44). Dit is ‘n plek waar siekte, depressie, angs, vrees, demoniese aktiwiteit, en elke ander gevolg van die sondeval ongelowiges sal oorweldig (16:11, Dn.12:2, Jes.66:24, Mt.25:41).

 

Dit is ‘n plek waar mense bewus is van die hemel se vreugde, maar dit nie kan geniet nie (Lk.13:28, 16:23). Dit is nie dat hulle in die hemel wil wees nie:  hulle haat die Here en hou nie op om Hom vanuit die hel te laster nie (16:10-11).

 

[2] Die hel is ewig

Oor dié wat in die hel is sê v.11: “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie”.  Hulle sal brand, maar nie klaar brand nie (v.11, 19:3).  Die Bybel praat van ‘n ewige en onuitblusbare vuur (Mt.3:12, 25:41).  Die rook van Sodom en Edom (Gn.19:28, Jes.34:9-10) is maar net ‘n voorskou van die ewige vuur en rook van die hel (v.10-11, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

‘Maar is dit nie onregverdig om mense vir ewig te straf as hulle net vir ‘n leeftyd gesondig het nie?’ wonder iemand. ‘n Moordenaar kry lewenslange tronkstraf, al het dit hom net 15 sekondes geneem om die persoon dood te maak.  Uiteindelik gaan dit nie daaroor dat jy vir 70 jaar gesondig het nie, maar dat jy teen die ewige, heilige en regverdige God gesondig het.  Omdat Hy oneindig is, is die straf ook oneindig.  Mense wat in die hel is haat die Here, maar nie een van hulle sal sê:  ‘Ek word swaarder gestraf as wat ek verdien’ nie (vgl. Rm.3:19).

 

Buitendien hou dié wat in die hel is aan om teen die Here te sondig (16:10-11, 22:11, Mk.3:29). Dié wat sê dat die hel onregverdig is, verstaan nie hoe ernstig sonde is, of hoe heilig die Here is nie.  En om hierdie rede sê hulle dat ‘n God van liefde nie mense hel toe sal stuur nie.  Volgens hulle sal Hy ongelowiges uitwis, of uiteindelik sorg dat almal hemel toe gaan.  Maar hulle dink nie aan die implikasie van wat hulle sê nie.

 

As daar nie ‘n ewige hel nie…

 

  • Is daar ook nie ‘n ewige hemel nie (Mt.25:46).
  • Is Jesus se God-verlate kruisdood sinneloos (Mt.27:46).
  • Gee die Here nie om dat ongeregtigheid seëvier nie.
  • Hoef mense hulle nie te bekeer nie.
  • Hoef ons nie die evangelie met ongelowiges te deel nie.
  • Sal Satan en sy demone ook in die hemel wees (Mt.25:41).
  • Het Jesus gejok om te sê dit sou beter gewees het as Judas nie gebore is nie (Mt.26:24).
  • Maak Lk.16:26 nie sin wanneer dit sê dat niemand van die hel na die hemel toe kan oorgaan, of andersom nie.

 

Die hel is ewig en erg. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb.10:31). Treur daarom oor dié wat nie hulle sonde wil los nie (Esg.18:32, Lk.19:41-42, Rm.9:2). Probeer om hulle van die waarheid te oortuig (2 Kor.5:11). Sê vir hulle (of vir jouself as jy nog nie tot bekering gekom het nie):

‘Moenie dink jy kan met jou sonde aanhou en van die hel ontsnap nie (Mt.18:8-9). Ek pleit by jou om jou sonde te los. Los dit en kom deur geloof na Jesus toe. Hy het immers namens ons die bitter beker van God se toorn gedrink aan die kruis (Mk.14:36). Vlug na Jesus toe en vra Hom om jou van die toekomstige toorn te red (Mt.3:7, Rm.5:9, 1 Ts.1:10).’

Kan ek vir jou vra hoe dinge met jou staan? Waarheen is jy oppad as jy in 2017 moet doodgaan? Maak asseblief seker van jou bestemming.

 

[1] Doug van Meter, http://brackenhurstbaptist.co.za/the-144000-who-are-they/; Josephus, The Wars of the Jews, Book IV, ch.9:1-2; Eusebius of Caesarea, Ecclesiastical History, Book III, ch.5

[2] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel, vir meer inligting oor die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens.

[3] Vir meer oor die dier kan jy my twee preke oor Op.13 lees: Christene, keiser Nero en die ANC en Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).