Lewe voor Pinkster

Vatican Pope Doves

In Rom. 7:14-26 praat Paulus van ‘n man wat reg wíl doen, maar nie die vermoë het nie en aanhoudend misluk. Wie beskryf Paulus hier? Ek glo hy beskryf Ou Testament gelowiges wat geleef het voor Jesus die Gees uitgestort het op Pinkster, terwyl hy in Rom. 8 ‘n Nuwe Testament gelowige se lewe beskryf, noudat die Gees uitgestort is en permanent in ons woon.

Ek het nie Rom. 7 so verstaan voor ek dit hierdie week bestudeer het nie, maar van die sienings wat ek oorweeg het, maak dit nou vir my die meeste sin. Wat is die verskillende sienings? Daar is basies twee groepe.

[A] Rom. 7 beskryf ‘n gelowige wat teen die sonde stry. Geen ongelowige begeer gehoorsaamheid en haat die sonde nie (v.15, 18, 19). Hy is lief vir sy sonde en geniet dit. Geen ongelowige sê dat daar niks goed in hom is nie (v.18). Hy dink eerder dat hy nie so sleg is nie. Geen ongelowige kan sê dat hy God se wet in sy hart liefhet nie (v.22). Hy haat dit en wil dit nie doen nie (8:7-8). Geen ongelowige wil vry wees van die liggaam wat sonde doen nie (v.24). Hy sal sonde doen, al is dit sy laaste dag op aarde (Jes. 22:13). Geen ongelowige dank en prys God deur Jesus Christus nie (v.25). Hy roem in homself en dink hy het nie die Here nodig nie.

[B] Rom. 7 beskryf ‘n ongelowige wat nog vas is in sonde. Geen gelowige kan beskryf word as vleeslik of verkoop onder die sonde nie (v.14). Hy is vry en nie meer onder die sonde nie (6:14, 18, 22, 8:2). Geen gelowige is magteloos om reg te doen nie (v.18). Deur die Gees se krag kán hy reg lewe (8:4, 13). Geen gelowige hou aan met sonde nie (v.19, 1Joh. 3:6, 9). Geen gelowige is ‘n slaaf in die tronk van sy sonde nie (v.23, 26). Geen gelowige leef sonder die Heilige Gees soos die man in hierdie verse nie. Hy wandel eerder in die Gees (Gal. 5:16, 25).

Onder die bg. twee groepe is daar variasies. Hier is ‘n paar.

  • Die man in Rom. 7 is elke Christen wat tot in die graf teen sy sonde sal stry. Hy beleef ‘n spanning in sy hart. Hy is nie wie hy was nie, maar hy is ook nog nie wie hy wil wees nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n vleeslike Christen wat nog nie met die Gees gedoop is om in die oorwinning van Rom. 8 te lewe nie.
  • Die man in Rom. 7 is iemand onder sonde-oortuiging. Sy gewete is ontwaak, maar hy is nog nie weer gebore nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n nuwe Christen wat nog nie die lewe van oorwinning deur die Gees verstaan nie. Hy wil nog deur die wet geheilig word.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n ongelowige Jood. Hy wil deur die wet gered word, maar misluk a.g.v. die sonde in hom.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n gelowige Jood voor Pinkster. Hy is lief vir die wet en wil dit doen, maar sy sonde keer hom. Na Jesus se kruisdood, opstanding, en die uitstorting van die Heilige Gees, lei die Gees hom om die wet gehoorsaam (8:1-4).

Soos reeds gesê glo ek nou dat die laaste siening Rom. 7 die beste opsom. Ek is oortuig dat Rom. 8 alle gelowiges na Pinkster beskryf.

 

  1. Onvermoë (v.14-20)

Sowat 10 jaar gelede het iemand my ‘n boek geleen met die titel, Let go and let God. Ek het die idee gekry van ‘n passiewe heiligmaking waarin jy net bid, wag en nie veel meer doen nie. As jy aktief optree doen jy dit immers ‘in die vlees’. Dit is Keswick-teologie waarin die Gees jou eensklaps verander en jy nie weer met hierdie of daardie spesifieke sonde sukkel nie.

Maar te veel tekste wys dat jy jou moet bekeer, die Here gehoorsaam, in goeie dade volhard, jouself moet dissiplineer, hard teen die sonde moet stry, en tree vir tree moet groei. Dit gebeur soms dat ‘n Christen sekere sondes in ‘n oogwink los. Dalk gebeur dit met die persoon se bekering of daarna. Maar dit is nie so vir almal of altyd so met elke sonde nie. Jy kan nie sê dat iemand wat hard teen ‘n sekere sonde stry ongered is, ‘n klas 2 Christen wat nie met die Gees gedoop is nie, ‘n Christen wat nog in Rom. 7 lewe i.p.v. in Rom. 8, of ‘n vleeslike Christen wat nog nie in oorwinning lewe nie. Dit mag wees dat die persoon wat teen sy sonde stry meer volwasse is as jy, want hoe nader ‘n gelowige aan die lig kom, hoe meer raak hy bewus van hoe vuil sy hart is, en hoe harder stry hy.

Maar aan die ander kant kan jy nooit jou sonde verskoon en sê: ‘Ek kan dit nie help nie en het nie die vermoë om reg te doen nie.’ Die onvermoë in v.14-20 is die onvermoë van ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, en nie van ‘n Nuwe Testament gelowige ná Pinkster nie. Dit beteken egter nie dat die wet is sleg nie. Dit is heilig, regverdig, goed, geestelik en van God af (v.12, 14, 16).

In die Ou Testament wou die vlees die wet breek en was mense as slawe verkoop onder die sonde (v.14, Gal. 3:22-23). In die Nuwe Testament is Christene nie onder die wet en die sonde nie, en gee die Gees aan ons die vermoë om reg te doen (v.14, 6:14, 7:4, 6, 8:4).

Onder die wet en voor Pinkster het Ou Testament gelowiges dieselfde begeerte gehad as ons om reg te doen, maar nie dieselfde vermoë nie (v.15, 18, 19). Dit is nie dat hulle boos was en die wet wou breek nie, maar die sonde in hulle harte het hulle verhinder (v.17, 20). Die Gees het nog nie permanent in hulle gewoon om hulle te help nie. Volgens Rom. 7-8 maak die Gees ‘n opmerklike verskil.

Jy kan nie onvermoë pleit soos die gelowiges in v.14-20 wat voor die kruis en Pinkster geleef het nie. Jy kan nie leef soos die dissipels in Hand. 19:1-7 wat nog nie die krag van die kruis en die Heilige Gees ervaar het nie. Ja, jy stry nog met die sonde, maar deur die Gees kán jy reg doen en dit oorwin (Gal. 5:16-26, kontra v.15, 19).

Jy is vry van slawerny aan sonde en die wet (v.14, 6:22). Nou het jy die vermoë om met die Gees se hulp sondige gewoontes soos ‘n kort humeur, ooreet, wellus en verslawing uit te gooi, soos wat Nehemia Tobia se meubels uit die tempel gesmyt het (v.18, 8:13). Die Gees verander jou hart in ‘n aanneemlike woning vir Jesus (Ef. 3:16-17). Met Jesus en die Gees in jou, het jy meer voorregte as gelowiges wat onder die wet en voor Pinkster geleef het. Dus kan jy met God wandel soos Henog en Noag, opreg wees soos Daniël en Job, lojaal soos Rut en Maria Magdalena, toegewyd soos Dawid, doelgerig soos Nehemia en vol van die Woord soos Esra. Jesus het gesê:

“Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” (Matt. 11:11).

Wat het Hy bedoel? Omdat hy Jesus se voorloper was, was Johannes die Doper die grootste van die Ou Testament profete (al is sy storie in die Nuwe Testament opgeteken). Maar ons leef na die kruis en Pinkster, en is dus meer bevoorreg as hy. Daarom kan jy wees soos ander gelowiges wat dieselfde Gees as jy het: Paulus vir wie Jesus alles was, Johannes wat Hom liefgehad het, Lidia wat ‘n oop hart gehad het, Stefanus wat vol was van geloof en die Heilige Gees, Timoteus wat ‘n goeie karakter gehad het.

Jy kan so biddend wees soos David Brainerd en Martin Holdt, so heilig soos Robert Murray M’Cheyne, so God-gesentreerd soos Jonathan Edwards en Martyn Lloyd-Jones, so lief vir verlorenes soos George Whitefield, Charles Spurgeon, Seth Meyers en Shaun Havenga. Jy kan so getrou wees soos oom Andries Rossouw, oom Malvin en tannie Ronell O’Donovan. Jy kan so vrolik wees soos tannie Gwen Bruwer, Heilet van den Berg, tannie Wilna Fourie, Ansi van der Westhuizen en Soné van der Westhuizen.

Jy kan so lief wees vir mense soos Jaco van Wyk, tannie Anna Engelbrecht, tannie Nellie Nel en Jannie Vosloo. Jy kan so ywerig wees om te leer soos oom Mike Fourie en Rex Jefferies. Jy kan so behulpsaam wees soos Van Zyl de Villiers en tannie Babs Grové. Jy kan so gasvry wees soos Koos en Gerdha van der Westhuizen. Jy kan so georden wees soos Jenna O’Donovan. Jy kan so wys wees soos Roelf Power, Deirdrè Jefferies, tannie Etrechia de Villiers en tannie Bessie van Rooyen. Ek kan aanhou, maar ek is seker jy kry die punt.

Met die Heilige Gees in jou sal jy op die einde soos Jesus wees (2Kor. 3:18, 1Joh. 3:2). Dit is tog waarvoor die Here jou gemaak het (Rom. 8:29).

 

  1. Oorlog (v.21-26)

Enige Christen wat sê dat hy nie in sy hart teen sonde stry nie lieg, of het laasweek tot bekering gekom. Tog glo ek nie dat dít die stryd is wat Paulus in Rom. 7 beskryf nie. Soos reeds gesê gaan dit hier oor iemand wat reg wíl doen, maar ‘n slaaf is onder die wet. Al persoon wat in hierdie kategorie val is ‘n gelowige wat voor die kruis en Pinkster geleef het. Hy is lief vir die wet en wíl reg doen, maar daar is ‘n beginsel in hom wat sê dat die sonde naby lê, dat dit sy liggaam gyselaar [Eng. hostage] hou en keer dat hy die heilige begeertes binne hom uitvoer (v.21-23, Ps. 1:2, 19:11, 112:1, 119:14, 16, 24, 35, 47-48, 70, 77, 97, 143, 174).

Dit frustreer hom: hy sien dat hy ‘n ellendige, verwronge en gebroke mens is (v.24). Hy wil vry wees van hierdie sterflike liggaam wat sonde doen (v.24). Wie kan hom vry maak? Volgens Paulus kan net Jesus hierdie frustrasie oplos (v.25). Deur sy kruisdood het Hy die sondige liggaam tot niet gemaak (6:6). Nou kan ons in ons liggame reg doen en die sonde oorwin (6:6, 13-14). Die Heilige Gees help ons om dit reg te kry (1Kor. 6:19-20).

Wanneer Jesus weer kom sal die Gees ook ons liggame opwek en dit nuut maak (8:11, 23). Hy sal vir ewig in ons woon, sodat ons nooit weer sonde doen nie. Dit is wat 1Kor. 15:44 met die ‘geestelike liggaam’ bedoel [Gk. pneumatikos, vgl. Gal. 6:1].

Ter opsomming sê Paulus in v.26 (v.25 in Engels): ‘Ou Testament gelowiges dien die wet in hulle gemoed, maar die sonde in hulle harte oortree dit.’ So eindig Rom. 7 dan sonder ‘n oplossing van hoe om die sonde te oorwin. Daar is ‘n flikkering van hoop in v.6 en 25, maar Paulus brei nie hierop uit nie. Sy punt in Rom. 7 is om te sê dat jy nie die sonde kan oorwin deur die wet te hou nie. Daar is iets (of eerder, Iemand) sterker as dit nodig: die Heilige Gees.

Maar daarvoor moet jy wag tot ons in hfst. 8 kom. Vir nou moet jy sorg dat jy nie lewe soos ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, asof daar geen kruis, opstanding en Pinkster is nie. Jy kan nie leef asof die Gees nie uitgestort is, en asof die keuse tussen sonde en gehoorsaamheid ewe sterk is nie.

Nee! Daar is nuwe beginsel wat in jou werk. Jy is ‘n nuwe mens. Die ou dinge is verby (2Kor. 5:17). Vir die gelowige is sonde nie deel van wie jy is nie. Dit is nié meer normaal, menslik of iets wat jy nie kan help nie. Dit is abnormaal. Gehoorsaamheid is normaal. Jy het nie net die Woord in jou hart lief, sonder dat jy die vermoë het om te doen wat jy in die prediking of in jou stiltetyd leer nie (v.22-23). Deur die krag van die Heilige Gees kan jy doen wat die Here sê.

Ja, die stryd teen sonde is hard. Maar die Gees in jou is sterker en heeltemal bevoeg, sodat jy jou sonde kan oorwin (8:13). Moenie kerm en kla dat jy nie jou sonde kan wen nie. Vertrou op die Heilige Gees en veg! Gee jouself hart en siel aan Jesus Christus. Leef in konstante gemeenskap met Hom deur geloof in sy Woord, deur gebed en deur die kerk. Jy kan onmoontlik dieselfde bly na dit. Kan jy vol wees van die Heilige Gees en nié verander nie?

Voor Pinkster was Petrus so bang soos ‘n hoender. Maar toe Pinkster aanbreek en die Gees hom vul, was hy so dapper soos ‘n leeu. En kan die Heilige Gees jou nie help teen hierdie of daardie sonde wat jou al vir jare onderkry nie? Luister: sonde kan nie wen nie. Soms wond dit jou in ‘n veldslag, maar die uitkoms is alreeds bepaal deur Jesus wat dit deur sy kruisdood oorwin het.

Ons misverstaan die Christelike lewe as ons sê dat die Here jou uit Egiptiese slawerny verlos het, jou nou in die woestyn lei waar sonde nog die oorhand kry, jou deur die Jordaan van die dood lei, en dat jy vir die Beloofde Land moet wag. Eintlik werk dit anders. Die Here het jou uit Egipte en die woestyn gebring. Jy het reeds die ewige lewe. Jy is tans in die Beloofde Land waar die Heilige Gees jou help om die vyand te verdryf. Wanneer jy finaal oorwin het, sal jy die ewige rus van die Beloofde Land geniet.

Ja, jy is nog nie in die hemel nie. Maar jy nie leef ook nie soos die Ou Testament gelowiges voor Pinkster nie. Jy leef nie meer in Rom. 7 nie. In die volgende preek sal ek jou wys dat Rom. 8 nie vir super-geestelike Christene is nie, maar dat dit die normale Christelike lewe beskryf. Rom. 8 is nie die uitsondering nie, maar die reël.

Christene en die wet

Law and gospel

Mense glo verskillend oor die Ou Testament wet.

[a] Die Hebrew Roots Movement (HRM) glo dat ons weer Joods moet word en die wet van Moses noukeurig moet nakom. Volgens hulle moet ons die Sewendedag Sabbat, die Ou Testament Feeste en die voedselwette nakom. Ek het onlangs met iemand gepraat wat dit so wil hê, en wat ook glo dat mense weer besny moet word.

Mense wat so glo verstaan nie die evangelie nie. Paulus sê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal. 5:4). ‘n Vriend van my moes onlangs paaie skei van iemand wat wil terugkeer na die wet toe.

[b] Die Sewendedag Adventiste glo in sommige opsigte dieselfde as HRM, maar fokus op die Saterdag-Sabbat. Volgens hulle geloofsbelydenis kan jy nie in die hemel kom as jy die Here op ‘n Sondag aanbid nie. Met verwysing na die Sabbat het ‘n Adventis op my blog gesê: ‘Ek hoop jou oë gaan oop voor dit te laat is.’

Dit mag wees dat daar ware Christene onder die Adventiste is (soos onder die Katolieke). Maar in haar geheel is die Adventiste ‘n kultus wat die wet by die evangelie wil voeg. Paulus het hierdie dwaling in sy brief aan die Galasiërs aangespreek.

[c] Libertyne glo dat ons onder die genade is, en dat ons daarom kan lewe soos ons wil. Calvyn het met die Libertyne gesukkel. Hierdie mense is nie Christene nie (Rom. 6:1-2). Die drie groepe wat volg is Christene.

[d] Een van die predikante na wie ek opkyk glo in theonomy. Volgens hierdie mense moet elke samelewing die Ou Testamentiese wette volg. Ons hoef nie die wette te volg wat deur Jesus vervul is nie (bv. die Ou Testament Feeste).

[e] Die New Covenant siening van die wet glo dat ons glad nie meer onder die Ou Testament wet is nie. Nie eers die Tien Gebooie geld vir ons nie. Ons is onder ‘n strenger wet, naamlik die wet van Christus in die Nuwe Tsetament (bv. Matt. 5-7, 1Kor. 9:19-21). Jesus se wet is ‘n wet van liefde (Matt. 22:37-39). Twee van my kollegas het eenkeer hieroor koppe gestamp.

[f] Laastens is daar die Gereformeerde siening van die wet. Hierdie mense verdeel die wet in drie dele: die seremoniële wet (die offers), die siviele wet (die wette waardeur Israel se leiers die land regeer het) en die morele wet (die Tien Gebooie). Volgens Gereformeerde Christene geld net die lg. deel van die wet vir vandag (die morele wet), aangesien Jesus die eerste twee dele vervul het.

‘Maar wat van die Sabbat?’ mag jy miskien wonder. ‘Dit is tog deel van die Tien Gebooie. Hoekom hou ons dit op ‘n Sondag en nie meer op die sewende dag nie?’ Gereformeerdes sal sê dat die Sabbat in die rus van verlossing vervul is (Matt. 11:28, Heb. 4:8-10, Op. 14:13). Ons vier die rus van verlossing op die dag van Jesus se opstanding, nl. die Sondag.

Ek gaan nie hierdie sienings in detail bespreek nie, maar sal uiteindelik tot ‘n slotsom kom oor die Christen se verhouding tot die wet. Rom. 7:1-6 sal ons help om dit te doen. In die weke wat kom sal ek die res van die hoofstuk bespreek en ‘n finale gevolgtrekking bereik.

 

  1. Die illustrasie (v.1-3)

Enigiemand weet dat die wet nie dooie mense vervolg nie. Die wet is slegs bindend as jy lewe (v.1). Gestel bv. dat die polisie iemand jaag wat 240 km/h oor ‘n spoedlokval ry. Die polisie is kwaad en is van plan om die man toe te sluit. Hy ry egter in ‘n boom vas en sterf. Hulle kan hom nie straf nie.

Paulus illustreer dit in v.2-3. So lank as wat sy lewe is Karla deur die huwelikswet aan Gert verbind: ‘Until death do us part’ (v.2). God het dit so bepaal (Matt. 19:5-6). Gert se dood bevry Karla van die huwelikswet wat haar aan hom verbind: sy is vry om weer te trou (v.2, 1Kor. 7:39, 1Tim. 5:14). Maar as sy by Jan intrek of met hom trou terwyl Gert nog lewe, pleeg sy egbreuk (v.3, Matt. 5:32, Luk. 16:18). As Gert doodgaan kan sy met Jan trou en pleeg sy nie egbreuk nie (v.3).

 

  1. Die toepassing (v.4-6)

Ons was getroud met die wet wat, a.g.v. ons sonde, vereis het dat ons moet sterf (v.8:2). Ons het gesterf toe Jesus se liggaam aan die kruis die gesterf het (v.4). Nou is ons vry van die wet (v.4). Die wet kan ons nie meer vir ons sonde straf nie: Jesus het die straf aan die kruis gedra (Kol. 2:14).

Ons het saam met Jesus opgestaan en kan nooit weer sterf nie, maar lewe vir altyd in ‘n nuwe huwelik met Hom (v.4, 6:9). Ons is vrugbaar in hierdie nuwe huwelik: ons dra die vrug van die Gees en van bekering (v.4, Matt. 3:8, Gal. 5:22, Ef. 5:9). Ons dra vrug vir God en tot sy eer (v.4, Joh. 15:8, Fil. 1:11). Onder wet kon jy nie goeie vrugte dra nie, omdat die wet vrot vrugte in jou lewe uitgewys het. Wat bedoel ek? ‘n Illustrasie sal help.

Wat sal gebeur as ek vra dat jy vir die res van die erediens nie na die orrel in die hoek moet kyk nie? Onmiddellik wil jy vir die orrel kyk. Voor ek dit gesê het, het jy geen begeerte gehad om vir die orrel te kyk nie. Maar toe ek dit sê, toe wil jy kyk.

Sonde is so: sodra daar ‘n wet is wil jy dit ootree (v.5). Dit is wat Paulus in 1Kor. 15:56 bedoel as hy sê dat sonde sy krag uit die wet kry. Wat ‘n vonk vir biskruit is, is die wet vir jou sondige begeertes (v.5). Jou sondige begeertes lê in jou hart soos stof op die vloer: jou lewe lyk skoon totdat die wet met sy besem in jou hart vee. Die wet maak die sondige begeertes wat rustig slaap, wakker (v.5, 7-13). Jou begeertes vind uiting in jou liggaam en dra die vrot vrugte van sonde (v.5, 6:13). Soos die giftige appel in Sneeuwitjie lei hierdie vrot vrugte tot die dood (v.5, 6:23).

Moet daarom nie ‘n klomp reëls wil volg om jou sondige begeertes dood te maak nie; dit sal nie werk nie. Kom ek gebruik diëte as ‘n voorbeeld. In die meeste mense se geval werk dit nie. Jy besluit: ‘Ek moet minder eet.’ Skielik is dit al wat jy wil doen. Jy eet skelm. Jy eet selfs dinge wat jy nie gewoonlik sou eet nie. Jy sal enigiets eet. En selfs as jy een van die rare soort mense is wat die dieet regkry, verskuif jy net jou obsessie: jy het nie meer ‘n obsessie met kos nie, maar met jou maer liggaam.

Die oplossing vir ooreet en enige ander sonde is nie om meer wette te maak nie. Reëls kan nie die vlees keer nie (Kol. 2:21, 23). Iets sterker is nodig. Ek sal in hfst. 8 hierop uitbrei, maar wil solank jou aptyt wek (‘pun intended!’).

Eerstens moet jy vir die wet sterf, sodat dit nie meer die mag het om jou in die tronk te hou en met die dood te straf nie (v.4, Gal. 3:22-23). Sterf vir die wet deur bekering en geloof in die kruisdood van Jesus waar Hy namens jou vir die wet gesterf het (v.4). Lewe as ‘n nuwe mens op ‘n nuwe manier deur die Gees, en nie op die ou manier deur die letter van die wet wat op kliptafels geskryf is nie (v.6).

A.g.v. jou sondige begeertes kan jy nie in jou eie krag die wet wat op kliptafels geskryf is nakom, of dit met die regte motiewe doen nie. Jy doen dit vir jouself, sodat jy beter kan voel en lyk. Maar deur die Gees se krag kan jy jouself beheer en nuut lewe vir God (v.6, Gal. 5:22). Deur Hom kan jy ook die regte fokus hê wanneer jy gehoorsaam is, nl. om Jesus te behaag en te verheerlik.

Prakties is die oplossing nie om meer reëls maak nie, maar om baie te bid oor die probleem en die Gees se hulp vra om tekste oor jou spesifieke probleem te memoriseer en te gehoorsaam. As jy gestruikel het kan jy jou sonde bely en weer die Gees se hulp vra.

As jy jou probleem deur wet wil oplos, sal jy hopeloos misluk. Jy sal die hele tyd dink die Here is kwaad vir jou. Jy sal angstig wees, omdat jy dit nie regkry om die wet te hou nie. Jy sal bang wees dat jy die hemel gaan mis. Jy sal onseker wees oor jou redding. Jy sal in ‘n gat van depressie beland as jy faal. Jy sal hoogmoedig wees, omdat jy beter vaar as ander. Soos die skynheilige Fariseërs sal jy reg lewe voor ander, maar in die geheim sonde doen.

Die wet wat op kliptafels geskryf is maak dood; die Gees maak lewend (2Kor. 3:6). Deur die Gees kan jy in vryheid lewe en sal jou hart vol blydskap en vrede wees. Jy sal reg doen uit ‘n gewillige hart van liefde (Joh. 14:15). Jy sal seker wees van God se liefde en van ‘n plek in die hemel deur Jesus se kruisdood. Jy sal dankbaar wees. Jy sal nederig wees. Jy weet immers dat jy niks verdien nie, en dat jy alles uit genade ontvang het.

Moet daarom nie op die wet fokus nie, maar word gevul met die Heilige Gees deurdat jy baie bid en gehoorsaam is aan die Skrif wat deur Hom geïnspireer is (Luk. 11:13, Ef. 5:18, Kol. 3:16).

‘Maar gooi ons dan nie die wet weg nie?’ ‘n Vrou het so gedink toe sy uitvind dat ons nie elke Sondag die wet voorlees soos in haar kerk nie. Maar ons gooi nie die wet weg nie. Die Heilige Gees lei ons immers nie teen die wet te lewe nie, maar in ooreenstemming daarmee (8:4, Gal. 5:23). Hy doen wat die wet a.g.v. ons sondige begeertes nie kon doen nie: Hy gee nuwe lewe, maak ons heilig en gee ons die krag om sonde te oorwin (v.6, 8:13, Gal. 5:18, 1Kor. 6:11, Joh. 3:3, 5, Tit. 3:5).

Run, John, run, the law commands

But gives him neither feet nor hands,

Far better news the gospel brings:

It bids him fly and gives him wings

Maak dan staat op die Gees om reg te lewe, en nie op die wet nie. Die wet kan jou nie regverdig maak of heilig maak nie; net die Gees kan. Die implikasie is nie dat die wet sleg is nie (v.12), maar eerder dat ons sondige begeertes ons keer om die wet uit te voer. Jesus het met ons sondige begeertes afgereken, sodat ons nou deur die Heilige Gees reg kan lewe.

Beteken dit dat Hy ons terugneem na die wet toe? Jesus vat ons nie terug na die skadubeelde van die Saterdag-Sabbat, die besnydenis, die offers, die voedselwette of die feeste toe nie (Kol. 2:16-17, Heb. 10, ens.). In die Nuwe Testament wys Hy vir ons watse Ou Testament wette hulle volheid in Hom vind, en watse wette ons deur die krag van die Heilige Gees moet uitvoer. Ons offer bv. nie meer diere nie, maar is nog steeds lief vir ons naaste deurdat ons sy lewe, besittings, reinheid en reputasie respekteer (13:9-10).

Dit is hoe ek die wet verstaan. Ek het nog baie om te leer, maar weet vir ‘n feit dat die wet nie ons harte kan verander nie en dat dit geensins bydra tot ons redding nie. Jesus is genoeg. As jy die wet wil byvoeg is jy soos Christen in John Bunyan se Pilgrim’s Progress.

Oppad na die smal hek wat na die hemelse stad toe lei, het ene mnr. Wêreldwys hom voorgekeer en gesê hy ken ‘n kortpad. Hy het hom na ‘n dorp genaamd Wetties agter berg Sinaï toe gestuur. Toe Christen by die berg kom was daar ‘n aardbewing, weerlig, donderweer, vuur en rook. Hy was bang hy gaan dood. Evangelis het hom voorgekeer, berispe en na die smal hek toe gestuur. Toe hy uiteindelik by die kruis kom het sy sondelas afgeval.

Hoekom wil jy by Sinaï vashak as God jou by ‘n kruis op ‘n heuwel buite Jerusalem kan vergewe?

‘n Toekoms vir Israel

Pentecost cross

Anti-semitisme verwys na ‘n haat vir die Jode.  Ps. 83:5 praat daarvan: “Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.”

 

Martin Luther is daarvan beskuldig.  In die begin van sy bediening was hy gaaf met die Jode, maar later het hy oor hulle afskuwelike leuens geskryf.  Maar Luther was nie soos Hitler nie.  Selfs nadat hy teen die Jode geskryf het, het hy gebid dat hulle tot bekering kom.[1]

 

Jes. 42:18-44:5 beskryf die Jode se sonde, asook hulle bekering in die toekoms.  Daar is dus ‘n toekoms vir Israel.

 

  1. Straf (42:18-25)

Ek het WhatsApp ‘video clip’ gesien waarin ‘n sekuriteitswag voor ‘n blinde bedelaar staan.  Die bedelaar het ‘n sonbril op gehad.  Die wag het gemaak of hy na die bedelaar se gesig toe skop.  Die ‘blinde’ man het gekoes.  Duidelik was hy nie blind nie.

 

Israel was nie so nie, maar was regtig ‘n blinde en dowe kneg wat die waarheid nie gesien en verstaan het nie (42:18-19).  Hulle was doof en blind vir God en die Messias se lering en wonders (42:20, 6:9-10, Jer. 6:10, Matt. 13:13-15, Hand. 28:25-27).

 

Om dus net die Woord van God te verkondig is nie genoeg nie.  Ons moet bid dat God die mense wat geestelik blind en doof is sal laat sien en hoor.  Bid vir sulke mense in jou kerk, gesin, familie en werk.

 

Israel het God se wet ignoreer.  God het toe besluit om sy wet te verhef deur Israel aan haar vyande oor te gee.  Israel se vyande sou haar roof, plunder en in die tronk stop sonder dat daar enige uitkoms of hulp was (42:21-22, kontr. 42:7).

 

Maar God se straf het nie hulle ore oopgemaak om te besef dat die Here hulle vir hulle sonde straf nie (42:23-24).  Gevolglik het Hy sy toorngloed oor hulle uitgestort.  Hy het die Babiloniërs gestuur om teen Jerusalem te baklei en dit af te brand (42:25, 2Kon. 25:8-9).  Maar Israel het nog steeds nie God se tugtiging ter harte geneem nie; hulle het dit nie verstaan nie (42:25).

 

Die les is dat God se toorn en vrees vir straf nie mense se harte verander nie.  Ons het die Messias se genade nodig om te verander.  Hoe gebeur dit?  Jesus het God se wet volmaak nagekom en daarna die straf gekry asof Hy dit oortree het (2Kor. 5:21).  Jesus het God se toorngloed gedra, sodat ons nie hoef nie (43:25).  Op hierdie manier het God sy wet verhef en dit heerlik gemaak (42:21).

 

  1. Verlossing (43:1-21)

Jare gelede het ek Jes. 43:1-7 gepreek.  ‘n Vrou in die gemeente het later die preek notas gelees en grappenderwys gesê: ‘Jy preek nooit weer my gunsteling teks as ek nie by die kerk is nie.’  Jes. 43 is inderdaad baie mense se gunsteling hoofstuk.  Jy sal nou verstaan hoekom.

 

Aan die einde van hfst. 42 het die Here gesê dat Hy sy volk gaan straf.  In hfst. 43 het Hy belowe om hulle te herstel.  Hy het Israel geskep, geformeer, en uit Egipte en Babilon gered om syne te wees; Hy het hulle by die naam geroep, sodat dit onnodig was om te vrees (43:1).

 

Hierdie vers geld ook vir jou.  Die Here het jou geskep en herskep (Ps. 139:13, 2Kor. 5:17); Hy het jou by die naam geroep (Joh. 10:3); Hy het jou aangeneem om aan Hom te behoort (Rom. 8:15-16, Ef. 1:5, 1Joh. 3:1).

 

Die Here het verder belowe om sy volk deur water en vuur te beskerm, net soos wat Hy hulle deur die Rooi See en Jordaan rivier gelei het, en soos wat Hy Daniël se drie vriende in die vuuroond beskerm het (43:2, kontr. 42:25).

 

Die Here sal jou ook deur water en vuur lei (Ps. 66:12).  Let op dat Hy jou deur die water en vuur lei (43:2, Ps. 23:4).  Jy sal m.a.w. veilig anderkant uitkom.  Jy sal nie skroei of verdrink nie, net soos wat die brandende bos in Eks. 3 nie uitgebrand het nie.  Die Here sal die onsuiwerhede in jou lewe wegbrand, maar jý sal veilig wees (1Pet. 1:7).

 

Die God wat sy volk so gelei het is die Here.  Hy is die Heilige van Israel.  Hy is die Verlosser (43:3-4).  Hy het sy volk lief en hulle uitgekies (Deut. 7:7-8, Jer. 31:3).  Hy het gesê dat hulle hooggeag en kosbaar is (43:3-4).

 

Om sy volk uit ballingskap vry te laat het Hy Egipte, Etiopië en Seba in ruil vir hulle gegee (43:3-4).  Dit is asof Hy vir koning Kores van Persië gesê het: ‘Vat hierdie volke i.p.v. Israel en laat my volk gaan.’  Salomo het gesê: “Die goddelose is ‘n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue.” (Spr. 21:18).

 

Die Here voel dieselfde oor jou.  Hy het jou lief , ag jou hoog en maak jou sy spesiale eiendom (43:4, Joh. 3:16, Rom. 5:8, 1Joh. 3:16, 4:10).  Hy gee nie net volke in ruil vir jou nie, maar Homself!

 

Amazing love,

how can it be,

that Thou my God

shouldst die for me?

 

-Charles Wesley-

 

Omdat die Here sy volk so liefhet, was dit sinneloos om te vrees.  Die Here was met hulle.  Hy het uitverkore Israel se seuns en dogters uit die vier windstreke versamel, en doen dit ook met die uitverkore heidene (43:5-7, 11:11-12, Ps. 107:3, Matt. 24:31, Luk. 13:29, Joh. 11:51-52, 2Kor. 6:18, Op. 21:13, 24, 26).  Soos wat Hy Israel tot sy eer geskep en verlos het, doen Hy met ons (43:7, 1, 1Kor. 10:31, Ef. 1:6, 12, 14).  Dit is ons lewensdoel.  Vervul jy dit; verheerlik jy die Here?

 

Die Here het sy blinde en dowe volk genees (43:8, 42:18-20), sodat die nasies sou erken dat Hý dit gedoen het.  Die gode kan dit nie doen nie.  Hulle ken nie eers die verlede nie (43:9, 41:22).

 

Israel kon egter getuig dat die Here die toekoms akkuraat voorspel en dat Hy die Here is: EK IS wat EK IS (43:10).  Hy het voor die gode bestaan.  Hy is nie (soos hulle) gevorm nie.  Hy is ewig, die Begin en die Einde (43:10, 41:4, 10).  Hy is die Enigste Verlosser (43:11, Joh. 14:6, Hand. 4:12).

 

Hy het Israel se verlossing voorspel en dit daarna aan die nasies verkondig (43:12).  Geen afgod het hulle gered het nie.  Toe Israel in Egipte was het God die Egiptenare se gode 10-0 gewen (43:12, Eks. 12:12).  Israel kon daarvan getuig dat Hy God is, dat Hy dit vir ewig sal wees, en dat niemand sy soewereine hand kan keer nie (43:12-13, 14:27, Deut. 32:39, Dan. 4:35).

 

Jes. 43:13 is ‘n troos vir Christene: “niemand red uit my hand nie”.  Niemand kan ons uit God se hand ruk nie (Joh. 10:28-29).  Vir ongelowiges is dit ‘n verskrikking: “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb. 10:31).

 

God se hand was teen Babilon.  Hy het koning Kores gestuur om hulle plat te vee.  Die skepe waarin hulle voorheen geroem het, het nou die vaartuie geword waarin hulle van Kores moes vlug (43:14, 47:1).

 

Die hand waardeur God die Babiloniërs geoordeel het, het vir Israel gered (43:14).  Dit het Hy gedoen om te wys dat Hy die Here, Heilige, Skepper en Koning van Israel is (43:15).  In Moses se tyd het Hy die volk deur die Rooi See gelei.  Hy het Egipte se weermag, perde, strydwaens oorwin en hulle soos ‘n kers uitgedoof (43:16-17, Eks. 14, kontr. 42:3).

 

Maar nou sou Hy ‘n nuwe verlossing bewerk wat groter is as Egipte s’n (43:18, Jer. 16:14-15).  Hierdie verlossing was ook groter as Israel se bevryding uit Babilon.  Die Here sou sy volk uit die hele aarde red (43:5-6).  Hierdie nuwe skepping sal wees soos waterstrome en ‘n hoofweg in die woestyn (43:19-20, 35:6-8, 40:3, 41:17-18, 44:3, 2Kor. 5:17).  Water is ‘n bron van lewe vir mense en diere (43:20).  Jesaja beskryf m.a.w. ‘n Nuwe Eksodus waarin God vir sy volk water in die woestyn gee (Eks. 15, 17, Num. 20).

 

Jesaja praat waarskynlik van geestelike water wat ons deur Jesus Christus en die Heilige Gees het (44:3, Joh. 7:37-39).  Ons ontvang hierdie lewende water deur die geloof, en geniet dit deur die Woord, die gemeenskap van gelowiges en gebed.

 

Die rede hoekom God hierdie lewe en verlossing aan sy uitverkorenes gee, is sodat hulle Hom kan prys (43:21, 7).  “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1Pet. 2:9).  Sonder dit sal jy nooit vervulling beleef of ware geluk hê nie.

 

  1. Sonde (43:22-28)

‘n Pa betaal sy seun skoolfondse, kos en klere.  Die seun is egter ondankbaar en rebels; hy gee nie om nie.  Israel was so met die Here.  Nadat Hy hulle uit Egipte en Babilon verlos het en wonderlike beloftes aan hulle gegee het, het hulle Hom nie aangeroep nie.  Hulle was moeg vir die Here en het dit nie die moeite werd geag om Hom te dien nie (43:22).

 

Die Here het hulle nie met offers, wierook en die vet van diere vermoei toe hulle in Babilon was nie (43:23-24, Miga 6:3).  Vir baie jare het hulle geen offers vir die Here gebring nie.  Hy het dit ook nie vereis nie, omdat die tempel woes gelê het en hulle in Babilon was.

 

Maar hulle het Hom met hulle sonde vermoei (43:24, Mal. 2:17).  Natuurlik het ons Hom die swaartste vermoei en belas toe Hy ons sonde gedra het aan die kruis.  Tog het Hy belowe om ons te vergewe en nie meer aan ons sonde te dink nie (43:24-25, 44:22, Ps. 79:9, Heb. 10:17).  Dit het Hy tot sy eer gedoen (43:25).

 

Hy wou nie hê dat Israel haarself moet verdedig nie, maar sy moes kom en die saak met Hom uitmaak (43:25-26, 1:18).  Sy wou egter nie, sodat Hy haar moes tugtig voordat Hy haar kon vergewe (43:27-28).

 

Israel se eerste vader (Adam, Abraham of Jakob?) en middelaars (die priesters en profete volgens Jer. 2:8) het teen die Here oortree (43:27).  Daarom het Hy besluit om sy volk en haar prinse deur die Babiloniërs te oordeel, en die tempel te vernietig (43:28).

 

Hoe moet jy hierop reageer?  Die Here vermoei ons nie; sy juk is sag, sy las lig, en sy gebooie nie te swaar om te onderhou nie (Matt. 11:30, 1Joh. 5:3).  Moet daarom nie moeg word om Hom te dien nie.  Moenie uit die pastorale bediening of sendingveld bedank nie.  Moenie ophou om in die gemeente te dien nie.

 

“Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (1Kor. 15:58).

 

Wy jouself aan die Here (Rom. 12:1).  Moet Hom nie met jou sonde vermoei nie.  Natuurlik kan jy dit bring om vergewe te word.  Maar moenie daarmee aanhou en Hom vermoei nie.  Bely dit en bekeer jou (43:24-26).

 

  1. Pinkster (44:1-5)

Christene verskil oor Pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees.

 

[1] Die Keswick beweging glo dat sommige Christene met die Gees gedoop word, maar nie almal nie.  Hulle soek ‘n tweede genadewerk en glo dat jy ‘n vlak spring waarin jy ‘n hoër pad met die Here stap.

 

As jy jou sonde bely, baie bid, jou bekeer en heilig lewe, sal jy herlewing ervaar.  As jy die ‘vuur’ in jou hart verloor, is dit omdat jy sonde gedoen en die Heilige Gees bedroef het.

 

[2] Pinksterkerke glo ook in ‘n aparte doping met die Gees.  Volgens hulle is tale die bewys dat jy met die Gees gedoop is.  Mense wat dit beleef, het ‘n dieper ervaring met die Here as ‘gewone’ Christene.

 

[3] Gereformeerde Christene glo dat elke gelowige by sy of haar bekering met die Heilige Gees gedoop word, en dan nie weer nie.  Ons moenie meer soek nie, maar besef dat die Here reeds die volheid van die Gees vir ons gegee het.  Jy moenie meer van die Gees kry nie, maar Hy moet meer van jou kry: jy moet jou meer en meer aan Hom onderwerp.

 

[4] Ou skool gereformeerdes glo dat elke gelowige by sy of haar bekering met die Heilige Gees gedoop word (Rom. 8:9, 1Kor. 12:13).  Hulle glo egter dat die doping met die Heilige Gees weer en weer kan plaasvind.  Hulle wys o.a. daarop dat die groep wat in Hand. 2:4 met die Gees gevul is, weer in Hand. 4:31 gevul is.

 

Hulle glo dat elke gelowige die volle Heilige Gees het, maar glo dat jy ‘n groter mate van sy liefde en krag kan ervaar (Ef. 3:16-19).  Ons is dus nie soos ‘n glas wat half vol is en dan voller word nie, maar soos ‘n klein ballon wat vol van lug is maar voller kan word.  Ons kapasiteit om God te beleef en te geniet vergroot m.a.w. (Ps. 119:32).

 

Hierdie siening glo nie dat doping met die Gees noodwendig na ‘n sg. ‘hoër’ lewe lei nie, aangesien die Korintiërs met die Gees gedoop is, maar in sonde gelewe het (1Kor. 12:13, vgl. die res van die brief).

 

Volgens hierdie siening is doping met die Heilige Gees gelyk aan herlewing.  Ons moet baie bid, ons sonde bely, ons bekeer en heilig lewe.  Maar omdat die Gees soewerein is, kan ons nie hierdeur waarborg dat Hy ‘n herlewing sal stuur nie (Joh. 3:8).

 

Soms verloor ons hierdie vervulling omdat ons sonde die Gees bedroef en uitblus (Ef. 4:30, 1Tess. 5:19).  Maar dit is nie altyd die geval nie.  Partykeer verloor ons die vuur, omdat die Gees in sy soewereiniteit besluit het om dit so te doen.[2]

 

Ek glo die lg. siening en beskou Jes. 44:1-5 so.  God het belowe om sy uitverkore volk te herstel (44:1).  Hy het hulle geskep, in die moederskoot gevorm en hulle gehelp (44:2).  Daarom moes hulle nie vrees nie (44:2).  Hy sou die bedrieglike volk (Jakob) in ‘n opregte een (Jesurun) verander (44:2, Deut. 33:5).

 

Hy sou hulle herstel deur die Gees soos waterstrome in die woestyn te stuur (44:3, 43:19-20, 32:15).  Op Pinkster het die Gees lewe aan Israel se dor nageslag kom gee (44:3, 59:21, Hand. 2:17, 33, 38-39).

 

Die Gees se lewe is ook vir die heidene en die Jode se nageslag in die toekoms (Hand. 2:39, Gal. 3:7, 14, Eseg. 36:25-27, 37:1-14, Rom. 11).  Die Jode se nageslag sal soos wilgers op ‘n grasperk langs ‘n rivier wees (44:5, 41:18-19, 60:21, 61:3, Ps. 1:3).

 

Hulle sal die Here aanroep en bely dat Hy hulle gekoop het om syne te wees (44:5).  Hulle sal dit simbolies op hulle hande skryf om Hom in al hulle dade te onthou (44:5, Deut. 6:8).  Die heidene sal hulleself ook God se volk noem (44:5, 14:1, Sag. 2:11, Rom. 2:28-29, Gal. 3:29).

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas?  Pinkster is meer as bloot ‘n gebeurtenis in die verlede: dit het ‘n deurlopende effek in ons lewens.  Soek en bid daarom vir ‘n vars uitstorting van die Heilige Gees.  Bid dit vir jou gemeente, dorp, land, die Jode en die wêreld.  Of is herlewing iets van die verlede omdat Suid-Afrika te sleg is (asof ons herlewing kan verdien!)?

 

Maar voordat jy die Gees en ‘n herlewing vir ons land soek, moet jy dit vir jouself soek.  Hoe doen jy dit?  Soek Jesus, want waar Jesus gaan is Heilige Gees.  Die Gees het immers gekom om Hom te verheerlik (Joh. 16:14).

 

As jy ‘n ongelowige is moet jy jou bekeer en in Jesus glo.  Vra dat die Heilige Gees na jou hart toe sal kom om aan jou die ewige lewe te gee (Tit. 3:5-6).  As jy ‘n gelowige is moet jy jou van alle sonde bekeer, gehoorsaam wees en ernstig bid (Joh. 14:23, Hand. 4:31, Ef. 1:17).  In dit alles moet jy vir Jesus soek en nie net ‘n lekker gevoel nie.  Bid en glo dat Hy jou sal antwoord (44:1-5, Luk. 11:9-13).

 

As jy nie hierdie volheid van God (Ef. 3:19) begeer nie is daar fout.  Dalk het jy afgedwaal.  Miskien het jy geen geestelike lewe in jou nie.  Vra die Here om jou hart hiervoor oop te maak.  As jy eers hierdie water geproe het sal jy niks anders wil hê nie (Joh. 4:13-14).  Dan sal jy dit ook nie net vir jouself bid nie, maar vir ander.

 

Jy sal jy ook vir die Jode bid.  En wanneer die Here jou gebed verhoor sal jy sien dat Israel se voordeel joune is: “En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!… Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?” (Rom. 11:12, 15).

 

Dit sal wees soos toe F.B. Meyer vir die Here gevra het: ‘Hoekom groei Martyn Lloyd-Jones se gemeente en myne nie?’  Die Here het hom gelei om te bid dat Lloyd-Jones nog meer seën sal ontvang.  Toe hy hiervoor bid, toe groei sy eie gemeente.  “En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.” (Job 42:10).

 

[1] https://www.ligonier.org/blog/was-martin-luther-guilty-anti-semitism/

[2] Iain Murray, Pentecost – Today? (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1998)

Die soort gebed wat beantwoord word

Praying hands on Bible

Hoe moet dit wees om ‘n knievervanging te kry omdat jy so baie gebid het, en nie a.g.v. ou ‘n rugby besering of ‘slytasie’ nie?  John Welch het so baie gebid dat sy knieë so hard soos ‘n bees se horings was.[1]  Op Martin Holdt se begrafnis het sy dogter gesê dat daar eelte op haar pa se elmboë en knieë was omdat hy so baie gebid het.

 

Volgens oorlewering het Jakobus so baie gebid dat sy knieë so hard soos ‘n kameel s’n was.[2]  In hierdie kort brief maak hy drie keer melding van gebed (1:5-8, 4:2-3, 5:13-20).  Vandag wil ek op Jak. 5:13-16a fokus en in die volgende preek op v.16b-20.

 

  1. As jy ly (v.13a)

As ek reg onthou het Joel Beeke die volgende storie vertel.  ‘n Eeu of wat gelede het ‘n klomp predikante van hulle goeie vroue gepraat.  Een van hulle het ‘n slegte vrou gehad en kon nie saam praat nie, maar het gesê dat dit hom dryf om sewe keer ‘n dag te bid.

 

As jy ly moet jy nie oor jou omstandighede kla nie, maar bid (v.13).  Sê vir die Here as iemand jou sleg behandel, as jou baas jou nie betaal nie, of as jy deur ‘n ander beproewing gaan (1:1-2, 2:5-6, 5:1-11).  Hy weet al klaar (Matt. 6:8), maar wil hê dat jy vir Hom moet sê.

 

Prys die Here in jou beproewing (1:2, Hand. 16:25); dank Hom dat dit nie langer sal duur as wat Hy beskik het nie en dat Hy dit vir jou voordeel sal uitwerk (Job 23:14, Rom. 8:28, 1Tess. 5:18).  Bid vir wysheid om jou lyding reg te hanteer (1:5), bely alle sonde wat die Here vir jou uitwys (v.16a), bid vir krag om staande te bly, en vra die Here om jou uit te help.

 

  1. As jy bly is (v.13b)

Dit klink voor die hand liggend dat mense die Here sal prys as dinge met hulle goed gaan en hulle bly is, maar dit is nie altyd so nie.  Party mense bid as hulle ly (v.13a), maar prys hulleself, hulle geld, die dokter, Donald Trump, die DA, of iemand anders as dit met hulle goed gaan.

 

Dit is nie hoe die Here dit wil hê nie: “Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.” (v.13b).  Erken dat die goeie dinge in jou lewe van God af kom (1:17, 1Kor. 4:7).  Laat daar ‘n lied in jou hart wees, en maak seker dat dit nie Hansie Slim of een van Kurt Darren se liedjies is nie.  Prys die Here as Hy vir jou werk gee, jou rug beter maak of jou kind red.

 

  1. As jy siek is (v.14-15a)

Ons het al ‘n paar keer hierdie verse in ons gemeente toegepas; ek het ook al gesien hoe ander gemeentes dit doen.  Dit het egter net in twee gevalle gewerk.  Hoekom?

 

Ons en die ander gemeentes het die verse verkeerd verstaan en toegepas.  Hoe so?  Ons het dit op siek ongelowiges toegepas en op enige siek gelowige.  Die ander gemeentes het die siek mense tydens die erediens vorentoe geroep, hulle met olie gesalf en vir hulle gebid.

 

Natuurlik kan ‘n mens vir siek ongelowiges en enige siek gelowige bid.  Dit is ook nie verkeerd om tydens die erediens vir siek mense te bid nie.  Maar dit is nie wat Jakobus bedoel nie.  Hier gaan dit spesifiek oor ‘n gelowige wat siek is, en nie oor ongelowiges wat die kerk besoek nie: “Is daar iemand siek onder julle?” (v.14).

 

Verder gaan dit nie oor enige siek gelowige nie.  Die Griekse woorde in v.14-15 [astheneō en kamnō] praat van iemand wat fisies en emosioneel uitgeput is.  Die persoon kan nie kerk toe kom nie, en vra daarom dat die ouderlinge na hom toe kom (v.14).  Hy vra húlle om te bid, omdat hy nie eers die krag het om dít te doen nie (v.14).  Die feit dat hulle oor hom bid (v.14) en die Here hom oprig (v.15), impliseer dat hy plat op sy rug lê en nie kan opstaan nie.  Jak. 5:14-15 geld dus nie vir ‘n siek gelowige wat self sy inkopies kan doen en kerk toe kom nie, maar vir een wat bedlêend is.

 

Hy moet die ouderlinge laat roep en nie net die predikant nie (v.14).  ‘n Diaken kan vir die siek persoon medisyne of kos vat (Hand. 6:1-7), maar die ouderlinge is herders wat sy na siel moet omsien en vir hom moet bid (v.14, Eseg. 34:4, 1Pet. 5:1-3).

 

Die siek persoon se behoefte om die ouderlinge te sien moet van sy kant af kom (v.14).  Dit wys dat hy God se Woord glo en gesond wil word.  As die ouderlinge by die sieke se huis of hospitaal bed aankom, moet hulle vir hom bid en hom met olie salf (v.14).  Wat is die doel van die olie?

 

Omdat olyfolie in die Bybel se tyd as medisyne gebruik is (Jes. 1:6, Luk. 10:34), dink party mense Jakobus bedoel die siek persoon moet sy pille drink.  Medisyne is God se geskenk aan ons en werk nie teen gebed nie, maar saam met dit (2Kon. 20:1-7).

 

Moet dan nie dink dat dokters, hospitale en medisyne ongeestelik is nie.  Maar aan die ander kant moet jy nie van een dokter na die volgende toe spring en elke liewe medisyne onder die son probeer terwyl jy v.14-15 ignoreer nie.  Sonder Jesus is jou huisdokter, snydokter en medisyne ‘n nul op ‘n kontrak; dit beteken niks (2Kron. 16:12, Luk. 8:43).

 

En tog is ek nie oortuig dat die olyfolie in v.14 van medisyne praat nie, aangesien Jakobus geweet het dat dit nie vir elke siekte werk nie.  Wat my betref het die olie ‘n simboliese betekenis soos in Mark. 6:13 toe die apostels mense met olie gesalf en hulle genees het.

 

Die olie wys dat God die sieke vir spesiale genade, gebed en guns afsonder.  Ons glo nie dat die krag in die olie lê nie, net soos wat ons nie glo dat die modder of spoeg in Joh. 9:6 die blinde man laat sien het nie.  Die krag lê in die Here wat ons gebede verhoor.

 

Dit is hoekom die ouderlinge nie net die sieke salf nie, maar dit in die Naam van die Here (as sy verteenwoordigers) doen (v.14).  Dit is asof Hy self by die persoon se bed is om hom te genees (Hy is inderdaad!).

 

Die ouderlinge moet glo dat Hy die sieke sal, kan en wil genees.  As hulle aan sy getrouheid, gewilligheid en krag twyfel, moet hulle nie iets verwag nie (1:6-7).  Maar as hulle die gebed van geloof bid sal die Here die sieke genees (v.15).

 

Wat is die gebed van geloof?  Dit gaan nie oor hoe groot jou geloof is nie, maar oor hoe groot die God is in wie jy glo.  Glo jy dat Hy groot, almagtig, goed en getrou is?  Glo jy dat Hy jou gebede kan en sal beantwoord?

 

Om met geloof te bid beteken dat jy sonder twyfel weet die Here gaan jou beantwoord.  Jy weet m.a.w. vooraf dat Hy jou gebed verhoor het en dat jy sal ontvang waarvoor jy vra: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mark. 11:24).  Dit is wat dit beteken om volgens God se wil en in sy Naam te bid: jy vra omdat Hy iets belowe het (Joh. 14:13-14, 15:7, 16, 16:23-24, 1Joh. 5:14-15).

 

Jy kan uit die Bybel weet as die Here iets belowe het, maar hoe weet jy of Hy vir jou iets gaan gee wat nie in die Bybel staan nie?  Hy belowe tog nie dat Jan gesond gaan word nie?  In Stuart Olyott se boek Something Must Be Known and Felt, wys hy hoe ‘n mens God se wil in sulke gevalle kan ken.

 

[Verskoon asb. dat ek illustrasies uit my persoonlike ervaring gebruik, maar as ek gelykenisse vertel sal party mense dink dat hierdie dinge nie regtig gebeur nie.  Ek is ‘n streep teoloog of ‘cessationist’ wat glo dat gawes soos profesie na die tyd van die apostels uitgesterf het.

 

En tog het ou skool streep teoloë soos Charles Spurgeon nie soos vandag s’n geglo dat die Heilige Gees ons nooit op subjektiewe maniere lei nie (sien b-e hieronder).[3]  Waar die Heilige Gees ons egter subjektief lei moet ons dit aan die objektiewe waarheid van die Woord meet.  As die ‘gees’ wat ons lei met die Bybel bots, is dit nie die Heilige Gees nie maar ‘n vals gees.  Die subjektiewe leiding van die Gees kan nooit die Bybel vervang nie].

 

[a] Die Heilige Gees herinner jou aan Bybelse beloftes waarvan jy skoon vergeet het.  Bring hierdie beloftes in gebed na die Here toe: “Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy…” (Jes. 62:6-7).  Vra die Heilige Gees om jou aan die Woord te herinner wanneer jy bid, en strek deur gebed die hand geloof uit om aan God se getrouheid, gewilligheid en krag vas te hou.

 

[b] Soms sal die Here ‘n persoon, behoefte of saak op jou hart lê.  Dit sal so swaar op jou weeg dat jy nie anders kan as om daarvoor te bid nie.  Ek het ‘n berading-kursus geloop en R1000 nodig gehad vir boeke.  Ek het vir niemand gesê nie, maar die saak voor die Here gelê.

 

‘n Ruk later toe kom daar ‘n vreemdeling by die kerk aan (dit was ‘n weeksdag).  Dit was iemand wat my by ‘n begrafnis hoor preek het.  ‘Ek glo die Here wil hê ek moet hierdie koevert vir jou gee,’ het sy gesê.  Daar was R1000 in.  As dit nie die Here was wat dit op haar hart gelê het nie, wie was dit?

 

[c] Die Here bring nuwe gedagtes na jou toe.  Ek was eendag besig om te bid toe ek skielik aan ‘n tannie in ons gemeente gedink.  Ek het vir haar gebid.  ‘n Dag of wat later toe bel sy my.  Toe ek vir haar gebid het, het sy ‘n krisis beleef.  Die Here het dit opgelos.

 

[d] God se voorsienigheid (wat die wêreld ‘geluk’ noem) bevestig soms dat jy vir iets of iemand moet bid.  Op een of ander manier kom jy by Kallie uit toe jy vir Hannes bel.  Jy het drie jaar laas met hom gepraat en vind uit dat hy jóú wou bel, maar nie jou nommer gehad het nie.  Hy vertel jou van sy situasie.  Jy bid vir hom en hoor later dat die Here sy krisis opgelos het.

 

[e] Partykeer gebeur iets buitengewoon waarvoor jy nie gesoek het nie.  Op Saterdagnag 12 April 1856 het Spurgeon erg met sy preek gesukkel.  Hy het die Here vir lig gevra, maar niks het gebeur nie.

 

Sy vrou het voorgestel dat hy gaan slaap en baie vroeg opstaan.  Hy het haar gevra om hom wakker te maak.  Êrens na middernag het hy in sy slaap gepraat.  Mev. Spurgeon het wakker geword en gehoor dat haar man sy teks in sy slaap preek.  Sy kon dit nie neerskryf nie, en het die belangrike punte oor en oor vir haarself gesê.  Toe hy wakker word het sy hom vertel wat gebeur het.  Hulle het die Here saam gedank.[4]

 

Die Here gee nie nuwe openbarings nie (Op. 22:18-19), maar dit is ‘n feit dat Hy soms op buitengewone maniere ons gebede beantwoord en selfs in ons slaap (of op ander vreemde maniere) vir ons wys waarvoor ons moet bid.

 

Iemand in ons gemeente het onlangs so iets met my gedeel.  Ek het my verstom oor hoe die Here ons in ons slaap troos, bemoedig, waarsku en leer.  Die Woord van God kom inderdaad in die dag en in die nag na ons toe (Ps. 16:7, Spr. 6:21-22).

 

Ons moet egter nie die buitengewone najaag nie, en dit altyd aan God se Woord en volwasse gelowiges toets (Spr. 11:14, Hand. 16:9-10, 2Pet. 1:18-19).  As jy weet dat dit die Here se wil is, kan jy met vrymoedigheid daarvoor bid.  As jy onseker is kan jy Hom vra om sy wil vir jou te wys, sodat jy daarvolgens kan bid en seker kan wees van ‘n antwoord.

 

Dít is die gebed van geloof waarvan Jakobus in v.15 praat.  Waarvoor het jy geloof?  Glo jy dat die Here vir jou die nodige R500 sal gee?  Bid dan daarvoor.  Glo jy dat Hy iemand sal stuur om jou ou tent vir hierdie bedrag te koop?  Bid daarvoor.  Om volgens jou geloof te bid en ‘n antwoord te verwag is heeltemal Bybels (Matt. 9:28-29, 20:32-34).  In die ou dae het mense soos John Welsh, George Müller en Hudson Taylor het dit persoonlik ervaar.[5]

 

Jy moet egter eers reddende geloof hê voordat jy die gebed van geloof kan bid (Heb. 11:6).  Hoe kry jy dit?  Jy moet besef dat jy verlore is.  Jou luiheid, selfliefde, ondankbaarheid, murmurering, selfbejammering, kort humeur, oneerlikheid, onbetroubaarheid, ongeduld, hoogmoed en ander sondes staan die Here nie aan nie; Hy haat dit.

 

Eers as jy reddende geloof het kan jy in ‘n regte verhouding met Hom staan.  Vra Hom daarvoor; Hy sal dit vir jou gee (Ef. 2:8, Fil. 1:29).  Jy sal weet as jy dit het: jy sal glo dat Hy sy Seun gestuur het om jou te red, jy sal glo dat Jesus die ware God is wat mens geword het, dat Hy ten volle God en mens is, dat Hy aan die kruis die straf vir ons sonde gedra het, dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Jy sal in Hom glo om jou van jou sonde en God se oordeel te red, en jouself aan Hom toevertrou.

 

Om die gebed van geloof te bid moet jy jou hart met die Bybel vul en dit glo.  Hoe meer jy die Skrif ken, hoe meer beloftes het jy om aan vas te hou en hoe meer waarhede is daar waaraan die Heilige Gees jou kan herinner.  Om jou geloof te versterk moet jy ook baie bid.  ‘n Christen wat baie bid sal meer antwoorde sien as iemand wat gebed afskeep (4:2).  En as jy gereeld antwoorde sien sal die Here jou geloof versterk sodat jy nog méér bid.

 

Waar die ouderlinge só bid sal die Here die sieke genees (v.15).  Hy sal hom red van die siekbed waaraan hy ‘vasgeketting’ is; Hy sal hom laat opstaan sodat hy vrylik kan rondloop (v.15).  Moenie kleingelowig en biddeloos wees soos die dissipels nie (Matt. 17:20-21), maar glo dit.

 

  1. As jy gesondig het (v.15b-16a)

Charismatiese predikers sê te maklik vir siek mense dat hulle gesondig het.  Maar die meeste konserwatiewe predikers sê dit nooit.  Die Bybel sê nie dat siekte altyd deur sonde veroorsaak word nie (Job 2:3, 7, 10, Joh. 9:1-3), maar soms is dit die oorsaak (Ps. 38:4, Joh. 5:14, 1Kor. 11:30).

 

In sulke gevalle moet God die persoon vergewe voordat hy genees kan word (v.15b, Mark. 2:1-12).  Om genees te word moet die sieke sy sonde bely (v.16a).  Hy moet dit nie aan die gemeente of ouderlinge bely nie (ons is nie Katolieke nie), maar aan die Here en die persoon teen wie hy oortree het.

 

Om te bely [Gk. exomologeō] beteken letterlik om saam te stem met wat die Here sê.  Moenie jou kort humeur versag en sê dat jy ongelukkig is nie.  Moenie sê dat jou verslawing ‘n siekte is nie.  Moet jou bitterheid regverdig nie.  Moenie jou omstandighede of ander mense vir jou woede blameer nie.  Moenie maak of jou onreinheid nie so erg is nie: ‘Dis nie asof ek…’  Moenie van jou leuens sê: ‘Jammer, ek het dit nie bedoel nie.’  Moenie jou geskinder wegpraat en sê: ‘AS ek iets gedoen het om jou seer te maak is ek jammer’ nie.

 

Bybelse belydenis sê nie ‘ek is jammer’ en loop weg nie.  Dit vra vir vergifnis en wag vir ‘n reaksie.  As jy vir vergifnis vra plaas jy die skuld op jouself en fokus jy nie op die ander persoon se sonde nie.  Dus moet jy ook spesifiek wees: sê wat jy gedoen het en waarvoor jy jammer is.  Erken dat jou sonde die persoon seergemaak het.  Wees gereed om te verander en die negatiewe gevolge van jou sonde te dra (dit wys dat jy regtig berou het).

 

As jy klaar met die persoon reggemaak het, moet jy dinge met die Here regmaak (Matt. 5:23-24).  Opregte belydenis is een van die gebede wat beantwoord word; die Here sal jou vergewe (v.15-16a, 1Joh. 1:9).  As jy die slagoffer van iemand se sonde is, moet jy die Here vra om die persoon te vergewe (v.16a, Gen. 20:7, Job 42:8, 10, Hand. 7:60, 2Tim. 4:16).

 

Dalk moet jy dit vandag doen?  Of miskien moet jy vir iemand vergifnis vra?  Moenie uitstel nie, maar vra die Here om jou te help.  As jy dit gedoen het sal jy die vryheid ervaar van iemand wat vir 8 km in die berge gaan stap het en sy rugsak neersit.  Jy sal weet dat beantwoorde gebed nie maar net ‘n teorie nie, maar ‘n werklikheid.

 

[1] John Howie, The Scots Worthies, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1995 (1870), p. 138

[2] John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, Whitaker House, New Kensington: PA, 1981, p. 10

[3] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1973, pp. 59-60.  Wayne Grudem (Ed.), Are Miraculous Gifts for Today? – Four Views, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1996, pp. 201-203

[4] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1962, pp. 419-420

[5] Bestel gerus hulle biografieë by Good Neighbours in Randburg of Augustine Bookroom in Pretoria.  Ek lees op die oomblik The Autobiography of George Müller (Whitaker House, New Kensington: PA, 1985) en put baie seën daaruit.

Leer ons bid

Prayer in group

Ek is die Here ewig dankbaar vir Martin Holdt se invloed op my lewe.  Dit was veral sy gebedslewe wat my beïnvloed het.  As gevolg daarvan was gebed van die begin van my bediening af vir my sentraal.

 

Maar omtrent ‘n maand gelede toe lees ek ‘n boek wat my gebedslewe op sy kop gekeer het.  Dit het vir my gevoel of ek weer in gr. 1 is.  Die boek se titel is Something Must Be Known and Felt deur Stuart Olyott.  Dit het my so geskud dat ek besluit het om oor die onderwerp te preek.  Ek glo dat Luk. 11:1-13 ‘n goeie plek is om te begin.

 

  1. Jesus se voorbeeld (v.1)

Kinders leer nie net uit hulle ouers se bevele nie, maar uit hulle voorbeeld.  So is dit ook met ons en Jesus.  In v.1 het die dissipels uit sy voorbeeld geleer.

 

Hulle het gesien dat Hy op ‘n sekere plek bid (v.1).  Hy het dit baie gedoen (3:21, 4:42, 5:16, 6:12, 9:18, 29, 22:32, 41-44, 23:34).  Dit het gemaak dat een van hulle vra Hy moet hulle leer soos wat Johannes die Doper sý dissipels geleer het (v.1).

 

‘n Paar lesse staan uit in hierdie vers.

 

[a] Ons moet Jesus se voorbeeld volg en in gebed lewe.  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1Joh. 2:6).

 

[b] Jesus het op ‘n sekere plek gebid.  Lukas noem nie die plek nie.  Jy kan dus op enige plek bid en verhoor word.  Daar bestaan nie so iets soos ‘heilige plekke’ waar jy ‘n groter kans het om verhoor te word nie.

 

Maar alhoewel Lukas nie die plek aandui nie, sê hy dat dit op ‘n sekere plek was.  Dit is dan goed om vir jou ‘n spesifieke plek te kry waar jy kan bid.  Dit help dat jy in die stemming van gebed kom, net soos wat jy in ‘n werkstemming is wanneer jy by die kantoor instap, of in ‘n stemming van rus is as jy jou skoene uitskop en op die rusbank sit.  Om ‘n sekere plek te kry help ook dat jou aandag nie dwaal as alles rondom jou nuut is nie.

 

[c] Een van die dissipels het vir Jesus gevra om hulle te leer.  Hy het ‘n leerbare gesindheid gehad.  Wees soos hy en vra die Here om jou te leer.  Bid gedurig.  Bid saam met ander gelowiges.  Maak ‘n studie van Jesus se gebedslewe en sy lering oor gebed.

 

Lees goeie boeke oor gebed op jou knieë: With Christ in the School of Prayer deur Andrew Murray, George Müller se autobiografie, The Hidden Life of Prayer deur David McIntyre, The Diary & Journal of David Brainerd deur Jonathan Edwards, E.M. Bounds se boeke oor gebed.

 

[d] Jesus het die dissipels geleer bid.  Waar is die teologiese kolleges wat dit doen, en nie net hulle predikante leer om te preek nie?  Maak jou stem dik hieroor as jy die geleentheid kry.

 

  1. Jesus se model (v.2-4)

Toe ek klein was het skole, Sondagskole en kerke die Onse Vader opgesê.  Maar Jesus het dit juis nié gegee dat ons dit moet opsê nie (Matt. 6:7, 9).  Hy het dit as ‘n model of riglyn gegee.  Maar voordat ek die gebed vir jou uitlê wil ek ses ander punte maak.

 

[a] Jesus aangeneem dat sy dissipels sal bid: ‘Wanneer julle bid…’ (v.2).  Nie almal wat bid is dissipels nie, maar alle ware dissipels bid (Hand. 9:11).  As gebed nie ‘n belangrike deel van jou lewe is nie, is die kans goed dat jy nie ‘n dissipel is nie.

 

[b] Jesus het hierdie gebed by ‘n vorige geleentheid vir die dissipels geleer (Matt. 6:9-13).  Die feit dat Hy dit weer leer beklemtoon dat daar nie ‘n beter model is nie.  Ek gebruik dit al vir 51/2 jaar en kan van groot seën getuig.  Ek wil jou sterk aanmoedig om hierdie model te gebruik.

 

[c] Voordat jy bid moet jy stil word.  Dink daaraan dat jy deur Jesus Christus God se kind is en Hy jou Vader (v.2, Joh. 20:17, Gal. 3:26, 4:4-7).  Omdat Hy jou Vader is, is gebed nie ‘n godsdienstige aktiwiteit nie maar ‘n persoonlike verhouding.  Bid daarom met vrymoedigheid soos ‘n kind wat vir sy pa iets vra.  Omdat Hy jou Vader in die hemel is (Matt. 6:9), kan jy weet dat Hy die mag het om jou te help.

 

[d] Dit is nie verkeerd om tot Jesus en die Heilige Gees te bid nie (Hand. 7:59), maar gewoonlik bid ons tot die Vader, deur die Seun, in die krag van die Heilige Gees (v.2, Ef. 2:18).

 

[e] Bid vir ander gelowiges en nie net vir jouself nie.  Jesus praat tog van ons Vader, ons daaglikse brood, ons sondes en ons versoekings (v.2-4).

 

[f] Kry jou prioriteite reg.  Bid vir God se Naam, Koninkryk en wil (v.2), voordat jy vir jou behoeftes, sonde en beskerming bid (v.3-4).  As jy eers op God fokus sal jy jou probleme in perspektief sien.

 

Kom ons bestudeer die gebed self.

 

Laat u Naam geheilig word (v.2)

Bid dat mense God se Naam sal eerbiedig, respekteer en hoog hou.  As Christene moet ons so lewe dat ons nie God se goeie reputasie, Naam en karakter deur die modder sleep nie (Rom. 2:24).

 

Laat u Koninkryk kom (v.2).

Bid vir die volheid daarvan by die wederkoms (1Kor. 15:24, 28), asook dat mense deur wedergeboorte in die Koninkryk sal inkom (Joh. 3:3, 5, Kol. 1:13).  Bid dat Satan se koninkryk veld sal verloor en dat God se Koninkryk deur sending, evangelisasie en prediking veld sal wen.

 

Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde (Matt. 6:10)

Namate God se Koninkryk versprei sal mense sy wil leer en dit uitvoer (Matt. 28:19-20).  Bid in die eerste plek dat ons God se wil in die Bybel sal ken.  Bid ook vir die krag en gewilligheid om dit uit te voer (Fil. 2:13).  Bid dat ons dit soos die engele in die hemel sal doen: gedryf deur liefde, om God te verheerlik, volkome en met volharding.

 

Gee ons elke dag ons daaglikse brood (v.3)

Bely elke dag dat jy die Here nodig het, net soos wat die Israeliete Hom elke dag vir vars manna moes vertrou (Eks. 16).  Bid dat Hy vandag vir jou sal gee wat nodig is en moenie oor môre bekommer nie (Matt. 6:34).

 

Bid vir reën sodat ons ons nodige kos kan kry.  Bid en deel met dié wat arm is, veral met ander Christene: ‘ons…brood’ (v.3, Gal. 6:9).  Onthou asb. dat die Here brood belowe en nie koek nie: bid dus vir jou behoeftes en nie vir luukshede nie.  Soms gee die Here vir ons luukshede, maar dit is nie wat Hy hier belowe nie.

 

En vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is (v.4)

Die voegwoord ‘en’ koppel v.3 en 4 aan mekaar: net soos wat jy elke dag vir jou behoeftes bid, moet jy elke dag jou sonde bely.  ‘Maar hoekom moet ek my sonde bely as Jesus klaar vir alles betaal het aan die kruis?’ wil iemand weet.

 

Deur Jesus se volmaakte lewe en kruisdood het Hy Peet se sondeskuld betaal en sy oneindige rykdom in Peet se lewensrekening inbetaal.  Die ‘geld’ het egter eers losgekom toe Peet tot bekering kom.

 

Noudat Peet gered is kan sy sonde nie maak dat God hom weggooi nie.  Maar dit kan sy verhouding met die Bankbestuurder, wat sy Vader is, vertroebel.  Om dinge reg te stel moet Peet sy sonde bely (v.4, 1Joh. 1:9).  En wat vir Peet geld, geld vir elke gelowige.

 

Wanneer Peet bid moet hy seker maak dat hy ander vergewe, net soos wat die Bankbestuurder sy skuld afgeskryf en betaal het (v.4, Matt. 18:21-35, Mark. 11:25, Kol. 3:13).  Die les is dat jou verhouding met God nie kan reg wees as jou verhouding met ander mense nie reg is nie (Matt. 6:15, 1Pet. 3:7).

 

En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose (v.4, Matt. 6:13)

Jy moet jou sonde bely, maar dit is beter om nie te sondig nie.  Alhoewel God niemand versoek nie (Jak. 1:13), moet jy bid dat Hy jou nie in ‘n situasie sal laat beland waar die duiwel jou versoek nie (22:40, Matt. 4:1).  Maar omdat Hy jou wil sterker maak, gee Hy soms vir die duiwel toestemming om jou te versoek.  Vir sulke gevalle moet jy bid dat Hy jou sal help om die duiwel se strikke te ontduik (Matt. 6:13, 1Kor. 10:13).

 

  1. Jesus se illustrasies (v.5-13)

Klim asb. saam met my in ‘n tyd masjien.  Ons is oppad Israel toe in die eerste eeu n.C.  ‘n Vriend daag teen middernag onverwags by jou huis op (v.5).  Hy is moeg en honger, maar jy het niks om vir hom te gee nie (v.6).  Maar jy het ‘n plan.

 

Jy hardloop gou na jou ander vriend se huis toe.  ‘Vriend, vriend!’ roep jy met ‘n harde fluister stem.  Hy word wakker en loer by die venster uit.  ‘Dis middernag!’ sê hy.  Hy en sy kinders is al van 20:00 af vas en slaap in sy een slaapkamer huis (v.7).  ‘Ek kan nie nou opstaan om jou te help nie,’ sê hy (v.7).

 

Jy verduidelik die situasie en sê: ‘Kan ek asb. drie brode leen’ (v.5, 3).  Uiteindelik staan hy op om jou te help.  Hy doen dit nie omdat jy sy vriend is nie, maar omdat jy nie skaam was om aan te hou vra nie (v.8).

 

Jesus se punt is dat God beter as jou vriend is.  Hy is die Vriend wat nader is as ‘n broer en noem jou ook sý vriend (Spr. 18:24, Joh. 15:13-15, Jak. 2:23).  Jy kan enige tyd vir hulp vra, al is dit ook in die middel van die nag.  God slaap nie (Ps. 121:4), en daarom is jy nooit onwelkom nie.  Moenie dink dat jy Hom pla nie.  By Hom is daar nie so iets soos ‘n ongeleë tyd nie; die deur is altyd oop (Heb. 10:20, 22).

 

Omdat hierdie dinge so is kan jy met vrymoedigheid bid.  God wil hê dat jy in gebed moet volhard (v.8, Gen. 32), maar sy vuis is nie so toe dat jy dit moet oop forseer nie.  Omdat Hy jou Vader is gee Hy graag.  Al wat jy moet doen is vra (v.9).  Is dit nie hoekom Stefan en Riana se dinge nie uitwerk nie: in plaas daarvan dat hulle oor hulle situasie bid, stres en baklei hulle daaroor (Jak. 4:2)?

 

Jesus sê verder dat ons soos Michelle moet wees wat haar diamantring verloor het en dit soek (v.9).  As jy die Here soek sal jy Hom vind (Deut. 4:29, Jer. 29:13, Dan. 9:3).  ‘Soek’ impliseer dat jy nie haastig moet bid nie, maar tyd moet neem.

 

Dalk sê jy dat jy nie tyd het nie, maar ek glo jou nie.  Jy het dan tyd vir jou slimfoon, Facebook, YouTube, Twitter, Whatsapp, laat werk, laat slaap, braai saam met jou vriende, stokperdjies en meer.  Kan jy nie bid terwyl jy vir ‘n uur of meer in die verkeer sit nie?  En kan jy nie met die Here praat wanneer jy met jou hond gaan stap nie?

 

Jesus sê ook dat jy moet klop, en dat God vir jou die deur sal oopmaak (v.9).  Moet m.a.w. nie ophou totdat die Here jou hoor nie; volhard in gebed (v.8, Rom. 12:12, Kol. 4:2).

 

Hoekom moet jy so vra, soek en klop?  Is dit nie omdat Jesus jou van ‘n antwoord verseker nie: “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (v.10)?

 

Omdat Dawid weet die Here gaan sy gebede beantwoord bid hy meer (Ps. 17:6, 86:7).  Met ons moet dit dieselfde wees: bid omdat die Here ‘n antwoord belowe.  Herinner Hom aan sy beloftes (Jes. 62:6-7).

 

Let asb. op dat God se belofte van ‘n antwoord vir elke gelowige bedoel is (v.10).  Moenie dink dat die Here net predikante of super geestelike Christene se gebede verhoor, terwyl hy Hilda gewone-Christen se gebede ignoreer nie.  God se antwoorde is vir kinders, ou mense en siek mense wat in Jesus glo.  Niemand word uitgesluit nie.

 

Jesus het nog ‘n gelykenis vertel.  Gestel Wim vra sy pa vir ‘n plat brood met meel bo-op.  Sal sy pa vir hom ‘n ligte bruin plat klip met wit stof daarop gee (Matt. 7:9)?  As hy sy pa vir ‘n paling vra, sal hy vir hom ‘n slang gee (v.11)?  Of as hy vir ‘n gekookte en afgedopte kwartel eier vra, sal sy pa vir hom ‘n wit opgekrulde skerpioen gee (v.12)?  Natuurlik nie.

 

Net so sal die Here nie vir jou iets gee om jou uit te vang, seer te maak of te benadeel nie.  Nee, Hy sal presies gee waarvoor jy vra: ‘n brood, vis, ‘n eier of iets anders.  Moet dan nie sy gewilligheid betwyfel nie.

 

In uitsonderlike gevalle sê Hy vir ons ‘nee’, maar dit is die uitsondering.  Soms verhoed ons sonde of selfsugtige motiewe dat Hy ons antwoord, en partykeer sê hy ‘nee’ omdat Hy iets beter in gedagte het (Ps. 66:18, 2Kor. 12:7-10, Jak. 4:3).  En dan sê Hy ook partykeer vir ons om te wag.

 

Die reël is egter dat Hy gee waarvoor ons vra.  Indien jy gewoonlik nie kry waarvoor jy vra nie, is dit moontlik dat God nie jou Vader is nie (1Pet. 3:12).  Jy moet bid dat Hy jou deur Jesus Christus sal aanneem om sy kind te wees.  Die een belofte wat Hy aan ongelowiges maak is om hulle te red as hulle in sy Seun glo.  Dit sal die eerste antwoord op jou gebed wees, maar verseker nie die laaste nie.  Voortaan sal jy gereeld sien hoe God jou gebede beantwoord.

 

Die feit dat God ons Vader is impliseer dat Hy in sy kinders se behoeftes sal voorsien.  Ek wat ‘n sondige pa is weet hoe om goeie dinge vir my kinders te gee (v.13).  Hoeveel te meer sal ons volmaakte hemelse Vader nie goeie dinge vir sy kinders gee nie (Matt. 7:11, Jak. 1:17)?

 

Moet dan nie agterdogtig wees en dink dat die Here jou nie wil of sal help nie.  Hy wil en Hy sal.  Glo dit en moenie sy goedheid in twyfel trek nie.  Moenie dink dat jy ‘n beter ouer is as God nie.

 

As jy dapperheid, troos, bemoediging, krag, wysheid, kos, geld, werk of iets anders nodig het, sal die Heilige Gees wat van die Vader af kom gee wat jy nodig het (v.13).  God gee dus nie net die gawe waarvoor jy bid nie, maar die Gewer self.

 

Wat my betref is dit die klimaks van gebed: om nie maar net te bid asof God ver weg in die hemel is nie, maar om Hom in jou hart te ervaar.  Dit is wat Paulus vir die Efesiërs gebid het, en is my gereelde gebed vir ons gemeente:

 

“dat [God] aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” (Ef. 3:16-19).

 

Biddeloosheid maak dat ons dit mis.  Dwarsdeur die geskiedenis het biddende gelowiges hierdie volheid ervaar.  Buiten vir predikers en sendelinge soos David Brainerd, Howell Harris, D.L. Moody, Christmas Evans en Hudson Taylor wat dit beleef het, het ‘gewone’ Christene dit ook gesmaak.  Een voorbeeld is genoeg om my punt te bewys.

 

In die 1830’s het ‘n Skotse prediker genaamd Alexander Moody Stuart weekliks saam met ‘n ander gelowige gebid.  Die man was ‘n ploeër.  Een aand toe hulle klaar gebid het, toe lyk dit vir Stuart of die ploeër bleek is en wil omkap.  Die man wou nie daaroor praat nie en het homself so gou as moontlik verskoon.

 

Twee dae later het Stuart hom in die lande gesien en oor sy gesondheid gevra.  Die man wou nie sê wat gebeur het nie, maar het toe daarmee uitgekom: ‘When we were on our knees I was so filled with a sense of the love of God, that the joy was too much for me; it was all that I was able to bear, and it was with a struggle that I did not sink under it.’[1]

 

En sal ons nie saam met Paulus hiervoor bid in die wete dat ons Vader in die hemel ons sal antwoord nie: “…hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (v.13)?

 

[1] Iain Murray, Pentecost – Today?, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1998, pp. 97-98

Hoe om die duiwel te ontwyk

Blocking flaming arrows

Twee jaar gelede het ek my rifrug hondeskool toe gevat.  In sy eksamen moes hy o.a. ‘n speelding vir my bring.  Hy het daarmee weggehardloop.  Van daar af was dit vir hom ‘n speletjie.

 

Hy bring nie ‘n tennisbal terug nie, maar dink dat hy daarmee moet weghardloop en dat ons hom moet vang.  Hy is so rats soos ‘n Springbok senter wat sy opponente ontduik: ons kan hom nie gevang kry nie.

 

Gelowiges moet so wees en die duiwel se strikke deur vals leraars ontduik.  Jud. 17-25 sê vir ons hoe.

 

  1. Onthou die voorspellings (v.17-19)

Waldo is ‘n mediese student in die Kaap.  Voor sy finale eksamen sê die dosent dat hy baie vrae oor die mens se senuweestelsel gaan vra.  Toe die dosent dit sê het Waldo nie geluister nie, maar aan sy meisie gedink.  Die vraestel het hom omkant gevang, sodat hy die jaar moes oordoen.

 

Moenie dat die duiwel jou omkant vang nie.  Jesus en die apostels het hierdie ketters se dwaling voorspel (v.17, Matt. 7:15-20, 24:24, Hand. 20:29-30, 2Tess. 2:9-12, 1Tim. 4:1-3, 2Tim. 4:3-4, 2Pet. 2:1-3:7, 1Joh. 2:18).  Hulle is so glad soos ‘n paling en so skelm soos ‘n jakkals: hulle wen mense se guns en maak vriende met almal.

 

Wat hulle sê klink in die begin vreemd, maar as hulle dit genoeg sê en ‘n paar Bybeltekste aanhaal, val dit sag op die oor.  Hulle oortuig eers een persoon, dan nog een, en dan ‘n hele gesin.  Hulle hou aan totdat hulle ‘n klomp gesinne oorgehaal het.  Hulle doen dit om ryk te word (v.11, 16).

 

Hulle leef wellustig en goddeloos (v.18, 4, 7-8, 15-16), maar spot as jy met hulle oor die hel praat (v.18).  Hulle beklemtoon God se liefde en praat asof Hy hulle nie sal oordeel nie (2Pet. 3:2-4).

 

Hierdie goddelose vals leraars was in Judas se tyd al aktief.  Judas beskryf dit as ‘die laaste tyd’.  Dit verwys na die tydperk voor die verwoesting van die tempel in 70 n.C. (Hand. 2:17, 1Kor. 10:11, 2Tim. 3:1-5, Heb. 1:1, 9:26, Jak. 5:3, 1Pet. 1:20, 1Joh. 2:18).[1]

 

Soos in Judas se tyd is daar vandag nog baie vals leraars.  “Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.” (v.19).  Vals leraars roem daarin dat hulle die Gees het, maar hulle wêreldse lewens en die verdeeldheid wat hulle veroorsaak wys dat hulle ongered en sonder die Gees is (v.19, Rom. 8:9, Gal. 5:19-21, 1Joh. 2:15-19).

 

Moet dan nie dink dat iemand met die Gees gevul is omdat hy dinamies en emosioneel is, omdat jy hoendervleis kry wanneer hy preek, of omdat hy sê die Here praat met hom in drome nie (v.8).  Kyk eerder na die vrug van sy lewe (v.19, Gal. 5:22).

 

  1. 2. Bly in God se liefde (v.20-21)

Wanneer die see verdamp vorm dit wolke wat na die binneland toe waai.  Daar word dit soos reuse gieters uitgegooi.  Dit loop na die riviere toe en beland weer in die see.  God is soos ‘n oseaan van liefde.  Deur Jesus en die Heilige Gees vul Hy ons met sy liefde (Rom. 5:5, Ef. 3:16-19).  Die strome van jou liefde wat na Hom toe vloei is ‘n reaksie op sy liefde vir jou (1Joh. 4:19).

 

Volgens Judas is ons God se geliefdes en moet ons in sy liefde bly (v.1, 3, 17, 20-21).  Hy sal ons daarin bewaar (v.1, 24), maar ons moet self ook daarin bly (v.21a).  Hy maak ons gewillig en bekwaam, maar ons moet gehoorsaam wees (Fil. 2:12-13).  Wat beteken dit om jouself in die liefde van God te bewaar?

 

Dit beteken eerstens om bewus te wees van God se liefde.  Verder beteken dit dat jy sal aanhou om die Here lief te hê.  Om in sy liefde te bly moet jy Hom gehoorsaam (Joh. 14:15, 21, 15:9-10).  Om dit verder op te breek kan ons v.20-21 soos volg opsom:

 

Hoofwerkwoord: Bewaar jouself in God se liefde (v.21).  Doen dit…

 

[a] Terwyl jy jouself in die geloof opbou (v.20a)

Hoe doen ‘n mens dit?  Ten eerste moet jy aan die Christelike geloof vashou (v.3).  Jy moet glo dat die Bybel die Woord van God is (2Tim. 3:16).  Jy moet in die Drie-Enige God glo: die Vader, die Seun en die Heilige Gees is drie Persone, maar dieselfde God (Matt. 28:19).

 

Jy moet glo dat Jesus volkome God is, en dat Hy mens geword het (Joh. 1:1, 14).  Jy moet glo dat Jesus sondeloos is, dat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars, en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood (2Kor. 5:21, Jes. 53:4-6, 1Kor. 15:1-19).  Jy moet glo dat Jesus weer sal kom om die wêreld te oordeel (1Tess. 4:13-18, Op. 20:11-15).

 

Jy moet glo dat jy nie deur jou goeie werke gered kan word nie, maar dat God die enigste Een is wat jou kan red (Ef. 2:8-9).  Om sy verlossing te ontvang moet jy jou bekeer en op Jesus alleen vertrou om jou te red (Mark. 1:15).

 

As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig in die hel wees (Matt. 13:41-42, Joh. 3:16, 36).  Maar as jy in Hom glo, sal jy vir ewig in sy lieflike teenwoordigheid lewe (Matt. 13:43, 25:34).

 

Dít is die geloof waarin jy jouself moet opbou (v.20a, 3).  Daarvoor het jy die gemeente nodig: die gereelde prediking van God se Woord, ander se geestelike gawes en gebede, die nagmaal (Hand. 2:42, 20:32, 1Kor. 14;12, 26, Ef. 4:11-12).

 

Baie mense dink dat hulle die Here op hulle eie kan aanbid, en dat hulle nie die gemeente nodig het nie.  Ek wonder wat hulle in die vroeë kerk sou doen as daar net een gemeente in die dorp was en niemand sy eie Bybel gehad het nie?

 

Die ‘Jesus’ wat hierdie mense aanbid is nie die Jesus van die Bybel nie, aangesien die Jesus van die Bybel ‘n liggaam het.  Iemand wat ontrou is aan die liggaam is ontrou aan die Hoof.  Geen gelowige kan sonder die gemeente groei soos hy moet nie.

 

Hy stel homself ook in gevaar, en is soos ‘n jong olifant wat op sy eie ronddwaal.  Sonder die liggaam is Hy meer kwesbaar vir vals lering (Ef. 4:14, 11-13).

 

[b] Terwyl jy in die Heilige Gees bid (v.20b)

Wat beteken dit?  Wanneer God se Gees jou wederbaar woon Hy in jou (kontr. v.19), en help hy jou om te bid (v.20b).  Hy gee aan jou die begeerte om te bid (Ef. 2:18).  Hy leer jou om volgens God se wil te bid (Rom. 8:26-27).  Hy help jou om die Gees-geïnspireerde woorde van die Bybel in jou hart te bêre en daarvolgens te bid (Ef. 6:17-18).

 

Om jouself in God se liefde te bewaar (v.21) móét jy in die Heilige Gees bid (v.20b).  Die punt is dus dat ware gelowiges ‘n gesonde gebedslewe handhaaf.  Ek het lank terug in ‘n preek gehoor hoe John Piper sê: ‘If you do not love prayer, you do not love God.’

 

Ongelowiges is soos die Fariseërs wat elegant voor ander kan bid, maar nie ‘n persoonlike gebedslewe het nie.  Ander ongelowiges bid by hulle huise, maar doen dit uit vrees.  Hulle hoop dat dit hulle kanse om hemel toe te gaan sal verbeter.

 

Net ware gelowiges het ‘n lewende verhouding met die Here.  Gebed is deel van hulle normale lewens (Hand. 9:11, Ef. 1:16, 3:14, Fil. 1:3-4, Kol. 1:3, 9, ens.).

 

[c] Terwyl jy Jesus se barmhartigheid verwag (v.21b)

As jy weet dat daar spoedkameras en padblokkades op die N3 is, ry jy versigtiger.  En as jy weet dat Jesus oppad is, leef jy versigtiger (v.21b, Tit. 2:12-13, 2Pet. 3:10-14, 1Joh. 3:2-3).

 

Toe God jou gered het, het jy barmhartigheid ontvang (1Tim. 1:13, 16, 1Pet. 2:10).  Daarna ontvang jy dit elke dag (v.2, Klaagl. 3:22-23).  Maar dit sal spesiaal aan jou geopenbaar word wanneer Jesus weer kom (v.21b).  Dan sal jy nie net die kraan oopmaak om dit te drink nie, maar in die kristalhelder rivier swem.

 

Om dan die duiwel en sy valsheid te ontwyk, moet jy aanhou om God lief te hê (v.21a).  Om dit reg te kry moet jy saam met ander gelowiges in die Woord groei (v.20a), in gebed volhard (v.20b), en in die lig van Jesus se wederkoms lewe (v.21b).

 

  1. Wees barmhartig (v.22-23)

‘n Vriend van my vra dikwels vir mense: ‘Are you born again?’  ‘n Ander gelowige het hom onlangs hieroor aangespreek.  ‘Stop asking people that question; it is offensive,’ het hy gesê.

 

Maar om kos en komberse vir die armes te gee is nie die enigste manier om barmhartig te wees nie.  Volgens Jud. 22-23 is dit barmhartig om gelowiges te dissiplineer en die evangelie met ongelowiges te deel.  Soos wat die Here barmhartig is (v.21b), moet ons met ander wees (v.22-23).

 

[a] Wees barmhartig met dié wat deur vals lering verwar is en twyfel (v.22)

Doen wat ‘n vriend eenkeer vir my gesê het.  Ek was ongeduldig omdat mnr. en mev. X ‘n sekere waarheid nie kon insien nie.  ‘Jy moet onthou dat daar ‘n tyd was toe jy dit óók nie ingesien het nie, Ivor.  Wees geduldig met ander soos wat die Here met jóú is.’

 

[b] Wees barmhartig met dié wat in vals lering vasgevang is (v.23a)

Ek ken meer as een persoon wat na Prosperity Crusades toe gaan om mense teen hierdie vals ‘evangelie’ te waarsku.  Een van my vriende het al ‘n paar mense so vir die Here gewen.  Hy vrees nie om die vuuroond se deur oop te maak en mense uit die vlamme te red nie (v.23a, Gen. 19, Amos 4:11, Sag. 3:2, 1Kor. 3:15).

 

Volgens Calvyn help dit nie om jou vinger te wys wanneer jy mense teen vals lering waarsku nie – jy moet jou hand uitstrek en hulle uit die vuur ruk.[2]  Moenie bang wees om vir mense die waarheid te wys en hulle kerk toe te nooi nie.

 

As jy vals lering by die naam noem sal sommige sê dat jy liefdeloos is, maar volgens Judas is dit liefdevol en barmhartig.  ‘n Ou Skotse prediker het gesê: ‘They do not love you that do not warn you, poor hell-deserving sinners.  O! remember that love warns.’[3]

 

[c] Wees barmhartig met dié wat deur die vals leraars se sonde besmet is (v.23b)

Mense het eenkeer vir my gesê om nie kerktug toe te pas nie, omdat dit liefdeloos is.  Volgens Judas is dit barmhartig.  ‘As jy genoeg vir ander mense omgee sal jy dit doen,’ is in effek wat hy in v.23b sê.  Wees lief vir die sondaar en haat sy sonde.

 

Wees bang wanneer jy ingaan om hierdie mense te red.  Herinner hom daaraan dat die Here sondaars sal oordeel, en sê vir hom hoe erg die hel sal wees (v.23, 2Kor. 5:11).

 

Wees ook versigtig vir die vieslike dinge wat jy sal sien en hoor wanneer jy ingaan om die persoon te help (v.23).  Jy is soos iemand wat ‘n siek persoon se beddegoed vol dodelike en aansteeklike kieme moet was.  Vra die Here se beskerming voor jy dit doen.

 

  1. 4. Rus in God se bewaring (v.24-25)

Toe John Bunyan se Pilgrim na die hemelse stad toe reis, het hy deur die Vallei van Vernedering geloop.  Daar het hy vir Apollion (die draak) ontmoet.  In sy eie krag kon hy nie teen hom veg nie – hy het die Here se hulp en wapenrusting nodig gehad.

 

Net so het jy die Here se bewaring nodig om die duiwel te ontwyk en ander mense uit sy strik te bevry (v.24-25).  Jy kan dit nie in jou eie krag doen nie.  Maar as jy op die Here vertrou, sal Hy jou tot die einde toe bewaar sodat die duiwel jou nie kan wegsteel nie (Joh. 10:28-29, 17:12, Rom. 8:38-39, 2Tim. 4:17-18).

 

Die Here sal seker maak dat jy eendag sonder skuld voor Hom staan (v.24, Rom. 8:1, Ef. 5:27, Kol. 1:22, 28, Op. 14:5).  Alhoewel jy vir ‘n tyd lank deur dwaling mislei kan word, sal die Here sy kinders daaruit red en nie toelaat hulle finaal wegval nie (v.24, Matt. 24:24, Fil. 1:6).

 

Wanneer jy op die laaste dag voor die Here staan, sal dit nie soos die goddelose met vrees en bewing wees nie, maar met oorvloedige blydskap (v.24).  Deur die Here Jesus Christus sal jy die enigste God en Verlosser met jou oë sien (v.25).

 

Jy sal sy die heerlike glans, koninklike majesteit, soewereine heerskappy, en Goddelike mag sien (v.25).  Sodra dit gebeur sal jy weet dat dit nog altyd aan Hom behoort het, en dat dit vir ewig syne sal wees: Amen (v.25).

 

‘n Groot en akkurate siening van God is die fondasie waarop elke ander Bybelse waarheid gebou is.  As jy op hierdie punt reg is sal geen ketter jou uitvang nie, en sal jy die duiwel ontwyk.  Wie is die ware God?

 

  • Hy is ‘n volmaakte, onsigbare en oneindige Gees wat oral in sy volle wese teenwoordig is (Ps. 139:7-8, Jer. 23:24, Joh. 4:24, 1Tim. 1:17).
  • Hy is een God wat in drie Persone bestaan (Deut. 6:4, Matt. 3:16-17, 28:19, 1Kor. 8:4, 6).
  • Hy is onafhanklik en het nie die skepping nodig nie (Hand. 17:25).
  • Hy is onveranderlik en betroubaar (Mal. 3:6, 1Kor. 1:9). Sy Woord en karakter bly konstant.  As Hy iets gesê het sal Hy dit doen (Num. 23:19).
  • Hy is ewig en het geen begin of einde nie (Eks. 3:14, Ps. 90:2).
  • Hy weet alles gelyktydig en hoef nooit iets oor die verlede, hede, of toekoms te leer nie (Job 37:16, Ps. 139:1-4, Matt. 6:8, 1Joh. 3:20).
  • Hy is alwys en raak nooit gefrustreerd omdat Hy nie weet wat om te doen nie (Ps. 104:24, Rom. 11:33, 1Tim. 1:17).
  • Hy is liefdevol, goed, barmhartig, geduldig en genadig – dit is deel van wie Hy is (Eks. 34:6-7, Ps. 119:68, 1Joh. 4:8-10).
  • Hy is almagtig: niks is vir Hom onmoontlik of eers moeilik nie (Jer. 32:17, 27, Matt. 19:26, Luk. 1:37).
  • Hy is heilig, uniek, gans-anders, en ver verhewe bo die skepping (Jes. 6:3).
  • Hy is soewerein. Hy regeer oor alles en doen wat Hy wil (Ps. 103:19, 135:6).
  • Hy is regverdig en doen net wat reg is (Deut. 32:4). Hy is die definisie van wat reg en verkeerd is.
  • Hy is toornig, wat beteken dat Hy alle sonde haat (Rom. 1:18).
  • Hy is salig of vreugdevol in die hoogste sin van die woord (1Tim. 6:15).
  • Hy is pragtig en begeerlik, mooier as enigiets in die skepping (Ps. 27:4, Jes. 33:17).

 

Vir hierdie God om jou teen die duiwel te beskerm en veilig in die hemel te bring, is makliker as vir ‘n 60-voet beton muur om jou teen ‘n enkele waterdruppel te beskerm.

 

[1] Dit impliseer o.a. dat 1Johannes voor 70 n.C. geskryf is.  Die algemene siening is dat dit tussen 85 en 95 n.C. geskryf is, maar daar is genoegsame bewyse dat Johannes dit voor die verwoesting van die tempel geskryf het.  Sien bv. http://www.datingthenewtestament.com/John.htm EN John A.T. Robinson, Redating the New Testament, Wipf and Stock Publishers, Eugene: Oregon, 1976 [SCM Press], 2000, hfst. 9.  Robinson se boek is by die volgende skakel beskikbaar: http://web.archive.org/web/20071120235525/http:/www.preteristarchive.com/Books/1976_robinson_redating-testament.html

[2] Aangehaal in Michael Green, Tyndale New Testament Commentaries: 2Peter & Jude, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1968, p. 187

[3] Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne, The Banner of Truth Trust, London: England, 1961, p. 168

Cyril Ramaphosa, Egipte en die Messias

Cyril Ramaphosa

In ‘n desperate poging om leiding te soek, het Cyril Ramaphosa en die land se top 6 regerings amptenare besluit om hulle voormalige leiers se grafte te besoek.  Die koerant artikel sê:  ‘Ramaphosa said the party’s officials did what Africans do in the face of misfortune.  “We go back to our ancestors to talk to them,” he said.’[1]

 

Op Dinsdag, 9 Jan. 2018 het Ramaphosa en sy amptenare Walter Benson Rubusana – een van die eerste ANC leiers – se graf besoek en vir leiding gevra.  Hulle beplan ook om Nelson Mandela se graf te besoek en wysheid te vra.[2]

 

Dit laat my dink aan Saul en Israel wat hekse en towenaars besoek het om die dooies se hulp te vra (1Sam. 28, Jes. 8:19).  Hulle het enigiets gedoen, behalwe om die Here se hulp te vra.  In Jes. 31-32 sien ons hoe God se volk selfs Egipte (die land waar hulle slawe was!) se hulp gevra het, en hoe Jesaja hulle beveel het om na die Messias toe te draai.

 

Egipte (hfst. 31)

Toe ek jonk was het my ma kasette van ‘n sanger genaamd Steve Green gekoop.  In een liedjie sing hy:

 

Some trust in chariots

We trust in the Name of the Lord our God.

Some trust in horses

We trust in the Name of the Lord our God

 

Ek het eers nie geweet dat dit uit Ps. 20:8 kom nie.  Ek het ook nie geweet dat dit in Jes. 31:1 staan nie.  Volgens Jesaja is dit ernstig dat Juda op Egipte se perde en strydwaens vertrou het, en nie op die Here nie (31:1, Jer. 17:5, vgl. 2Kron. 1:16-17).

 

Die Here is nie teen perde en strydwaens nie.  Die probleem was eerder dat Juda Deut. 17:16 oortree het, en weer na Egipte toe teruggekeer het om perde te koop.  Die probleem was dat hulle nie die Here geraadpleeg het nie, maar hulle vertroue in Egipte se mag gestel het (31:1).

 

“Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.  Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (Ps. 33:17-18).  “Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.  Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.” (Ps. 147:10-11).  “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.” (Spr. 21:31).

 

Het Juda dan vergeet hoe die Here Egipte se perde en strydwaens by die Rooi See vernietig het (Eks. 14-15)?  En het Cyril Ramaphosa en die ANC leiers vergeet dat Nelson Mandela in Desember 2013 begrawe is, en dat Walter Rubusana ook dood is?  Kan die dooies die lewendes help?

 

En wat van ons?  Maak ons te veel staat op wetenskap en tegnologie om ons te help nie?  Wie het die Here nodig as jy ‘n slimfoon en Google het?  Ons dink dat ons slim is, maar hoe help hierdie dinge jou as die dood aan jou deur kom klop, of as ‘n tragedie jou gesin tref?  Kan ons land se voormalige leiers en Google die Wes-Kaap se droogte breek?  Of sal ons in sulke tye na die Here toe draai, maar weer na ons sonde toe terugkeer sodra Hy ons gebede verhoor het?

 

Volgens 31:2 is die Here baie wys.  Hy het nie menslike planne nodig om Hom te help nie.  As Hy iets gesê het trek Hy nie sy woorde terug nie (31:2, Num. 23:19).  Hy het belowe om sy vyande te oordeel, en sou dus teen die boosaards (Juda) en hulle helpers (Egipte) opstaan (31:2).  Hulle kon Hom nie keer nie.  Egipte was mens en nie God nie; hulle perde was vlees en nie gees nie (32:3).  Met die beweging van sy hand kon Hy die helper (Egipte) en een wat gehelp word (Juda) wegvee (31:3).

 

Hy kan ons ook maklik met die asem van sy mond doodmaak (Jes. 11:4).  Hy hoef net te dink of ‘n woord te spreek om ons uit te wis.  Hy het die wind, die weer, die see, die hemel, die aarde en alles daarin tot sy beskikking.  Hoe kan ons dan teen Hom baklei?  Kan sy vyande met vliegtuie, helikopters, missiele en koeëls teen Hom veg?  Kan vlees teen ‘n Gees wen?

 

Dalk is jy nie soos ‘n ateïs wat die Here vloek en teen Hom baklei nie.  Maar twis ons nie soms met die Here, omdat Hy nie dinge op ons manier doen, of omdat ons nie sy weë verstaan nie?  Maar hoekom wil jy poog om teen Hom te baklei as jy nie kan wen nie?  Met verwysing na Jakob se stoei geveg met die Here, sê R.C. Sproul:  ‘There are no draws with God, no split decisions.  When we wrestle with the Almighty, we lose,  He is the undefeated champion of the universe.’[3]

 

Duidelik is dit baie beter dat God vir jou is, as wat Hy jou vyand is.  Dit is beter dat Hy aan jou kant is, as wat jy op Egipte of enigiemand anders se vleeslike arm vertrou (2Kron. 32:8).  Want “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31).

 

Die Here wou hê sy volk moet hierdie waarheid verstaan.  Hulle het nie Egipte se hulp nodig gehad nie.  Die Here was soos ‘n leeu wat ‘n skaap vang:  Hy was nie bang vir ‘n klomp Assiriese herders wat probeer het om Hom te verdryf nie (31:4).  Hy sou uit die hemel neerdaal om op berg Sion of die heuwel van Jerusalem teen Assirië te veg (31:4).  Soos ‘n voël oor haar nes fladder om haar kleintjies te beskerm, sou die Here van die Leërskare Jerusalem beskerm, verlos, spaar en red (31:5, Deut. 32:11).

 

God het hierdie dinge gesê om sy volk aan te spoor om van Egipte af weg te draai na Hom toe (31:6, 1-3).  Hulle moes ook nie meer op hulle goue en silwer gode vertrou nie, maar op Hom (31:6-7, 2:20, 30:22).  Hý sou die Assiriese koning deur die swaard laat val, en sy dapper jong soldate soos slawe laat werk (31:8, 37:36).  Die weermag wat soos ‘n rots onder die Assiriese koning gestaan het, het meegegee (31:9).  Die Engel van die Here het op een nag 185 000 van hulle doodgemaak (37:36).  Die offisiere het paniekbevange gevlug en hulle oorlogsbaniere net so agterlaat (31:9).  Die Here het Jerusalem soos ‘n vuuroond beskerm en haar vyande verteer (31:9, 30:33, 33:14, Ps. 21:10, Heb. 12:29).

 

Ek wonder wat die Here met Suid-Afrika gaan doen?  Hoe lank sal Hy uithou met leiers wat grafte besoek en vir die duiwel vra om hulle te help?  Hoe lank sal ons nog doof wees en nie ag gee op die droogte, misdaad en brande nie?  C.S. Lewis het gesê:  ‘God whispers to us in our pleasures, speaks in our conscience, but shouts in our pain: it is His megaphone to rouse a deaf world.’[4]

 

Maar laat ons nie te gou wees om vir Ramaphosa te kritiseer nie.  Hoe gereeld bid jy dat die Here ons land se leiers sal red (1Tim. 2:1-7)?  Glo jy dat Hy jou gebede kan beantwoord, of doen jy dit bloot as ‘n formaliteit?  En wat van jou:  is jý gered?  Vertrou jý op die Here, en nie op iets of iemand anders om jou te red nie?  Hoop jy bloot op die Here vir tydelike dinge, of vertrou jy dat Hy jou van jou sonde en sy ewige oordeel sal red?

 

Die Messias (hfst. 32)

Toe Robert Mugabe aan die einde van verlede jaar tot ‘n val gekom het, het die nuwe leier belowe om die land weer op sy voete te bring.  Dalk hoop party mense dat Cyril Ramaphosa dit vir óns land sal doen.  Maar uiteindelik sal geen land ware vrede geniet, totdat die Messias sy vyande onder sy voete het nie.

 

Die Here het die koning van Assirië oorwin om sy eie Koning daar te stel (32:1).  Volgens Salomo en Jesaja sal die Messias in geregtigheid heers, en sal daar geen meer korrupsie wees nie (32:1, Ps. 72:1-4).  Christus en die prinse wat onder Hom regeer (die apostels en gelowiges wat saam met Hom oor die aarde heers, vgl. Matt. 19:28, Op. 2:26-27, 5:10) sal reg doen (32:1).  Hulle sal ‘n skuilplek teen die wind, en ‘n skuiling teen die storm wees (4:6, 25:4-5).  Soos strome in die woestyn en die skaduwee van ‘n groot rots, sal hulle mense se siele verkwik en verfris (32:2).

 

Deur die heerskappy van die Messias raak Hy mense se oë, ore, harte en tonge aan (32:3-4).  Jesus se genesing van blindes, dowes en stommes, is ‘n illustrasie van die geestelike herstel wat Hy gebring het.  Hy maak hulle harte oop om die waarheid te verstaan (32:4, 6:9-10, Eseg. 36:26, 2Kor. 4:4, 6).

 

Het jy dit al gesien?  Of het jy die terme al honderde kere gehoor, maar jy weet nie wat dit beteken nie?  Jy dink dat jy gered is, maar het nog nooit ‘n geestelike ‘aha!’ oomblik gehad nie.  Jy het nog nie erken dat jy geestelik doof, blind, dood en stom is nie, maar dink dat alles tussen jou en die Here reg is, omdat jy ‘n krisis beleef het, en Hy jou uitgehelp het.

 

Die vraag is of jy die waarheid sien en die Here se stem in die Bybel hoor.  Is dit soos kleure in die lente en musiek in jou ore, of lees jy dit, maar jy verstaan nie eintlik wat dit sê nie?  Is jy opgewonde as jy die goeie nuus van Jesus hoor, of ‘tune’ jy uit omdat jy dit al soveel keer gehoor het?

 

Tydens Christus se heerskappy sal die dwase en skelms nie meer geprys word nie (32:5, 5:20).  Deur die swaard van die Gees sal Hy hulle sonde uitwys, en sal almal weet dat hulle dwaas en moreel onverantwoordelik is (32:5-6, Luk. 2:35, Heb. 4:12-13).  Hulle slegte woorde, bose dade, en onsensitiwiteit teenoor die armes, sal vir almal wys dat hulle harte sleg is (32:6-7, Matt. 21:12-13, 25:42-45, Mark. 12:40, 42, Joh. 12:6).  Net so sal die edel persoon se planne ook in sy edele dade gesien word (32:8).

 

Vir tyd en wyl was Jerusalem se vroue nie edel nie.  Hulle was gemaklik asof die Here se oordeel nie oppad was nie, en asof niks met Jerusalem kon fout gaan nie (32:9, Amos 6:1).  Soos Jacob Zuma het dit hulle nie gepla dat die wêreld om hulle vergaan nie – solank húlle luuks kon lewe (32:9, 3:16).

 

Jesaja het vir hulle gesê om nie meer terug te sit nie, maar om op te staan en na sy woorde te luister (32:9).  Oor ‘n jaar of so sou die druiwe- en vrugte oeste nie inkom nie (32:10).  Gevolglik sou hulle sidder en nie meer soos rykes kon wyn drink en vrugte eet nie (32:11).  Die vyand sou hulle mooi klere afskeur en hulle in rouklere na ‘n vreemde land toe wegvoer (32:11, 3:24, 20:2-3).  A.g.v. die vernielde lande en wingerde, sou hulle volgens die antieke rou gebruik op hulle borste slaan (32:12, Luk. 18:13, 23:48).

 

God het die vrugbare land vervloek en dit met dorings en distels besaai (32:13, 5:6, 7:23, Gen. 3:18).  Die stad en paleis wat eens vreugdevol was het nou soos ‘n grot leeg gestaan (32:13-14, Luk. 21:24).  Daar was niemand in die wagtoring om die stad te bewaak nie (32:14).  Dit het ‘n plek vir wilde donkies en skape geword (32:14).

 

Ons land is nog nie so erg nie, maar as ons met ons sonde aanhou sal dit binne 15 of 20 jaar soos Zimbabwe lyk.  Soos Jerusalem se vroue en die president s’n, leef ons luuks.  Ons kla dat hy geld steel, maar ons dink dat ons die reg het om nie met die armes te deel nie, omdat ons eerlik vir ons geld werk.

 

Gauteng is stink ryk.  Ons ry karre wat oor ‘n miljoen rand kos, maar trek ons neuse op as ons R5 vir die karwag moet gee.  Ons sê dat ons sukkel as ons nie elke dag vleis eet nie.  Ons het ‘n verdraaide definisie van wat dit beteken om te sukkel.  As ek die Woord van God reg lees behoort ons baie meer dankbaar en vrygewig te wees… BAIE meer.

 

As Christene behoort ons dit nie net te doen nie, maar is ons heeltemal bevoeg om anders as die wêreld te lewe.  Jesus het immers die Heilige Gees soos reën op ons uitgestort (32:15, Joël 2:28, Hand. 2, Tit. 3:5-6).  Die transformasie wat Hy bring is so groot soos ‘n woestyn wat in ‘n vrugteboord verander, en dan in ‘n woud (32:15, 29:17, 35:1-2).

 

Mense wat vloek verander in mense wie se harte en monde gewas is.  Mense wat lieg verander in mense wat die waarheid praat.  Mense wat rondslaap verander in mense wat rein is.  Mense wat hulleself bo ander verhef verander in mense wat ander dien.  Mense wat ander haat verander in mense wat ander liefhet.  Mense wat moord pleeg verander in mense wat ander se lewens beskut en bevorder.

 

Mense wat hulleself liefhet verander in mense wat God liefhet.  Mense wat afgode aanbid verander in mense wat die ware God aanbid.  Mense wat God se Naam vloek verander in mense wat Hom prys.  Mense wat ondankbaar is en kla verander in mense wat dankbaar is.  Mense wat steel verander in mense wat eerlik werk en uitdeel.

 

Vra maar vir enige ware Christen of dit so is.  Dít is wat ons nodig het as ons wil hê ons land moet verander.  Om dooie mense se grafte te besoek gaan nie help nie.  Ons het die Heilige Gees nodig.  Dán sal daar reg en geregtigheid in die ‘vrugteboord’ en die ‘woestyn’ wees (32:16).  Dán sal mense die vrug van die Gees dra en nie meer in sonde lewe nie (Gal. 5:22-23).

 

Om hierdie geregtigheid te kry moet ons in Jesus Christus glo (Fil. 3:9).  Daar is nie ‘n ander manier om ‘n skoon gewete en vrede met God te hê nie (32:17, Rom. 5:1, Kol. 1:20).  En as ons vrede met God het, kan daar vrede in ons harte en in die samelewing wees (32:17-18).  Dit sal nie die vals rus en vrede wees wat Suid-Afrika se rykes geniet (v.9), of die vrede wat politieke leiers en die Verenigde Nasies bring nie.  Dit sal die ware vrede wees wat deur Jesus Christus na ons toe kom.

 

In die kerk geniet ons reeds iets hiervan.  Alhoewel ons nog nie perfek is nie, roof, moor en verneuk ons mekaar nie soos in die wêreld nie.  Ons het mekaar lief en leef in vrede met mekaar.  As die geregtigheid en die vrede van Jes. 32:16-18 nie vir jou kosbaar is nie, moet jy wonder of die Heilige Gees van Jes. 32:15 in jou hart woon.

 

As jy nie regverdig is en in vrede wil lewe nie, sal die haelkorrels van God se oordeel jou soos klippe uit ‘n kettie tref (32:19).  Net soos Assirië (die woud van 10:18, 33-34) en Jerusalem tot ‘n val gekom het, sal die Here jou verneder (32:19).  As jy jou egter bekeer sal daar voorspoed en vrede wees, en sal jy die Here se seën geniet (32:20).  Jy sal wees soos iemand wat langs ‘n rivier saai (32:20).  Daar is genoeg water om jou koring nat te lei en ‘n goeie oes in te bring; daar is genoeg weiding om jou osse en donkies te voer, sodat hulle jou in die lande en op die dorsvloer kan help (32:20).

 

In elke opsig sal jy vrugbaar wees.  Ek bedoel nie dat jy nooit probleme sal hê, of dat jy ryk sal wees nie.  Ek bedoel eerder dat die Here alles wat in jou lewe gebeur – selfs die beproewings en probleme – soos kunsmis in jou hart sal inwerk, sodat jy suksesvol is (Rom. 8:28).

 

Jy sal soos die man wees waarvan ons in Ps. 1:3 lees:  “En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

 

God is die Vader wat jou liefhet.  Jesus is die Verlosser wat jou sonde vergewe en jou gewete skoon was.  Die Heilige Gees is die Trooster wat sy blydskap, liefde en vrede in jou hart uitstort.  As die Here jou deel is, is jy baie meer suksesvol as iemand wat die baas van ‘n maatskappy is en die nuwe Range Rover ry.  Daar is ook meer hoop vir jou as vir Cyril Ramaphosa en ons land se leiers wat langs ‘n graf vol dooie bene staan.

 

[1] https://www.pressreader.com/south-africa/the-mercury/20180110/281586650993316

[2] Ibid.

[3] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Inc., Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p. 168

[4] C.S. Lewis, The Problem of Pain, HarperSanFrancisco, San Francisco, 1940; repr., 2001, p. 17