Vyf kenmerke van die oordeelsdag

Judgement Day

Jason is 8-jaar oud.  Hy het laas week in sy bed gelê en wonder wat op die oordeelsdag gaan gebeur.  Wie gaan ons oordeel?  Gaan almal weet wat ons in die geheim gedoen het?  Sal Christene geoordeel word?  Wat van mense wat reg gedoen het, maar nie in Jesus geglo het nie?  En wat van mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie?  In Rom. 2:1-16 gee Paulus vyf kenmerke van die oordeelsdag waarin hy Jason se vrae beantwoord.

 

  1. Dit is onvermydelik (v.1-5)

Die bekendste preek wat nog ooit in Amerika gepreek is, is Sinners in the Hands of an Angry God deur Jonathan Edwards.  In die preek sê hy: ‘Almost every natural man [unbeliever] that hears of hell, flatters himself that he shall escape it’.[1]

 

Maar volgens Paulus sal selfs sg. ‘goeie’ of morele mense geoordeel word.  As Fanie by sy kerkvriende is oordeel hy die sondes wat in 1:18-32 gelys word.  Maar as hy alleen by die huis is doen hy dieselfde dinge (v.1, 3).

 

Voor sy vriende kla hy oor ons korrupte land en regering, maar in sy besigheid is hy oneerlik en kroek hy die belastingman.  Op die pad pla dit hom nie as hy ‘n omkoopgeldjie vir die verkeersbeampte gee nie.  En dan wil jy nie weet wat hy in die geheim op sy rekenaarskerm kyk nie.

 

En sal hy God se oordeel vryspring omdat hy ‘n kerkmens is?  Skryf dit op jou magie en vee dit met jou hempie af; vergeet dit (v.3).  Dit is heeltemal reg as God se oordeel soos ‘n rotsstorting of guillotine se lem op ongehoorsame Fanie val (v.2).

 

Maar soos baie ander mense dink hy nie so nie.  ‘Kyk dan hoe goed is die Here vir my,’ sê hy.  ‘Hoekom sal Hy dít doen as Hy beplan om my te oordeel?  Hy is ‘n God van liefde; sy genade is oneindig.  Ek glo dat Hy my op die oordeelsdag genadig sal wees.  Niemand is perfek nie, maar ek is verseker nie ‘n goddelose sondaar nie.’

 

Maar as Fanie mooi oor sy lewe dink sal hy besef dat hy wél ‘n goddelose sondaar is (v.1-3).  En as hy met ‘n ware Christen praat sal hy leer dat God goed, geduldig en genadig is sodat mense hulle kan bekeer, en nie sodat hulle nóg sonde kan doen nie (v.4, 2Pet. 3:9, 15).  Al rede hoekom Fanie nog nie in die hel is nie, is omdat God geduldig is (v.4).  Maar dit is ‘n dodelike fout om te dink dat sy geduld nie kan opraak nie.

 

Fanie gebruik nie die geleentheid om hom te bekeer nie, maar sê vir homself dat alles reg is.  ‘Die feit dat God my nie straf nie wys dat Hy nie omgee as ek ‘n paar randjies by my werkgewer of ouers steel nie,’ oortuig hy homself.

 

Hy het geen berou oor sy sonde nie, maar verhard sy hart (v.5).  As hy ‘n preek oor die oordeelsdag hoor sus hy homself aan die slaap en sê hy dat dit vir ander mense is, vir mense wat nie bid, die Bybel lees en kerk toe gaan nie.

 

As hy maar net geweet het dat hy met elke sonde besig is om die dam van God se toorn vol te maak, en dat die damwal eendag oor sy kop gaan bars (v.5).  Wanneer Jesus op swart stormwolke kom om die wêreld in geregtigheid te oordeel sal hy dit besef, maar dan sal dit te laat wees (v.5).

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer?  Moenie dink dat jy die oordeel sal vryspring omdat jy in ‘n Christelike huis groot geword het, tot in matriek in die Sondagskool was, voorgestel en aangeneem is, ‘n lidmaat van die kerk is, ‘n ouderling of predikant is, Afrikaans praat, ‘n sg. verbondskind is, in tale praat, op ‘n uitnodiging gereageer het, een of ander geestelike ervaring gehad het, opreg lewe, of ‘groot gedoop’ is nie.

 

Al hierdie dinge beteken niks as jy in sonde lewe nie (v.1-3).  Dalk dink jy dat jy later in jou lewe tot bekering kan kom.  Maar wat as die Here binne die volgende ses maande jou lewe neem?

 

Moenie God se geduld toets nie (v.4).  Indien jy jou verhard en met jou sonde aanhou sal God sy boog nóg ‘n sentimeter stywer span… en nóg een… en nóg een… en nóg een (v.5).  Hoe stywer Hy dit span, hoe dieper sal die pyl van sy toorn jou hart penetreer as Hy dit los (Ps. 7:12-14).

 

Moenie dom wees nie.  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2Kor. 6:2).  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Heb. 3:15).

 

  1. Dit is volgens ons werke (v.6-10)

Gestel jy het ‘n boom in jou erf wat sappige soet perskes dra.  Het dit ‘n perskeboom geword toe die perskes in Desember ryp word?  Of wys die lieflike geel vrugte dat dit ‘n perskeboom is?

 

Net so máák goeie werke jou nie ‘n Christen nie, maar wys dit dat jy een is (Jak. 2:14-26).  ‘n Persoon se dade wys wat in sy of haar hart is (Matt. 15:19).  Moet dus nie dink dat Paulus in v.6-10 sê dat ons volgens ons dade gered word nie (sien 3:28).  Die punt is eerder dat ons daarvolgens geoordeel word.

 

Volgens Paulus is daar twee soorte mense wat geoordeel word.  Die een soort hou dag na dag aan om goed te doen (v.7, Luk. 8:15).  Hy gee nie om oor mense se opinies nie en soek nie sy eie eer nie, maar doen alles om God te verheerlik (v.7).  Hy lewe nie vir hierdie wêreld nie, maar sy gedagtes is vol van die ewige lewe en die hemel (v.7).

 

Hy kry wat hy gesoek het: die volle rykdom van die ewige lewe (v.7, Joh. 17:3), die heerlikheid van die hemel (v.10), gelukwense, lof, beloning en eer (v.10), ewige vrede (v.10).

 

Die tweede soort is eiesinnig (v.8).  Hulle lewe vir hulleself en gee nie om dat hulle ongehoorsaam is aan die waarheid van God se Woord nie, solank húlle dit geniet (v.8).  Dit pla hulle ook nie dat hulle sonde ander mense benadeel nie (v.8).  Ongeregtigheid is die meester vir wie hulle lewe (v.8).

 

Vir hulle sal die oordeelsdag ‘n verskriklike dag wees, die donkerste dag in die geskiedenis, ‘n dag waarin God sy gloeiende toorn oor hulle sonde openbaar (v.8-9).  Hulle sal so verskrik wees soos ‘n vlakvark wat deur ‘n leeu getakel word (v.9).  ‘n Verdrukking en benoudheid wat hulle nog nooit beleef het nie sal hulle oorweldig (v.9).  Hulle het hulle boosheid en sonde geniet, maar nou sal hulle spyt wees.  Die sonde wat snaaks was toe hulle dit gedoen het sal nie meer snaaks wees nie.

 

Hoe moet ons hierdie verse op onsself toepas?

 

[a] God sal elkeen volgens sy werke vergeld (v.6).  Niemand sal dus die oordeelsdag mis omdat hy siek is nie.  Niemand kan vir jou instaan of namens jou geoordeel word nie.  God sal jou nie vir jou man, vrou, ouers of kinders se sonde oordeel nie.  Jou ma sal nie langs jou staan om jou hand vas te hou as dit jou beurt is om voor die Regter te staan nie.  Elkeen sal vir homself moet antwoord (Gal. 6:5).

 

[b] Omdat God ons volgens ons werke gaan oordeel, glo ek dat die mense wat as babas gesterf het die oordeel sal mis.  Alhoewel hulle ‘n sondige natuur het (Ps. 51:7), het hulle geen werke waarvolgens God hulle kan oordeel nie.  Ek glo dat Hy hulle in die hemel sal toelaat (vgl. Deut. 1:39, 2Sam. 12:22-23).  Let asb. op dat hulle nie hemel toe gaan omdat hulle goed gedoen het of dit verdien nie, maar omdat God genadig is.

 

[c] Wie ken jy wat volgens v.7 lewe?  Ek ken net Een en sy Naam is nie Ivor nie; sy Naam is Jesus.  Omdat net Hý so gelewe het, verdien net Hý die dinge waarvan ons in v.10 lees.  En tog gee Hy dit gratis aan dié wat hulle bekeer en in Hom glo.  Die vraag is of jy jou van jou sonde bekeer het en in Jesus glo om jou daarvan te red?

 

[d] As iemand se werke wys of hy regtig in Jesus glo of nie, beteken dit dat dit onmoontlik is om goed te wees sonder Hom.  Ongelowige Fanie se goeie werke is selfgesentreerd; hy het verkeerde motiewe (Matt. 6:1-2).  Net ‘n ware gelowige kan God se definisie van goedheid vervul en dit met suiwer motiewe doen.

 

Moet dus nie dink dat God onregverdig is om ‘goeie’ mense hel toe te stuur omdat hulle nie in Jesus glo nie.  Sonder Jesus kan jy nie goed wees nie.  “Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom. 3:12).

 

[e] As jy ongered is sal die oordeelsdag die ergste dag van jou lewe wees (v.8-9), maar as jy in Jesus glo sal sý heerlike beloning joune wees en sal jy vrede hê op die oordeelsdag (v.10, Jud. 24).  Jy hoef nie bang te wees nie.  Omdat Jesus in jou plek geoordeel is aan die kruis, sal God jou nie oordeel nie (Joh. 5:24, Rom. 8:1).

 

[f] As jy in sonde gelewe het sal God jou oordeel: klaar, finaal, punt (v.8-9).  Jy kan nie dán besluit om kante te ruil nie.  Besluit nóú wie jy wil dien: God of jou sonde.

 

  1. Dit is onpartydig (v.9-11)

In wêreldse howe kan ‘n mens die regter omkoop.  Hy trek jou m.a.w. voor omdat jy ryk is.  In die ou Suid-Afrika is mense voorgetrek omdat hulle wit is, en in die nuwe Suid-Afrika gebeur dit omdat hulle swart is.  Sommige kulture haat die rykes en bevoordeel die armes.

 

Met God is dit nie so nie.  Hy is onpartydig en trek niemand voor nie (v.11).  Die Jood wat Hom vrees en in sy Seun glo word aangeneem net soos die Griek wat dit doen (v.10, Hand. 10:34-35).  Maar die Jood wat Hom verwerp en in sonde lewe sal gestraf word net soos die Griek wat dit doen (v.9).

 

Die Jode kry nie voorkeur omdat hulle die wet ontvang het nie.  Net so bejammer God nie die Grieke omdat hulle sy wet nie in hulle besit gehad het nie.  Wat het die Jode met die wet gedoen?  En het die Grieke geen lig gehad om vir hulle te wys dat daar ‘n God in die hemel is nie?  Het hulle enigsins begeer om Hom te ken en het hulle die wet wat Hy op hulle harte geskryf het gehoorsaam?

 

Daar is een les wat uitstaan: niks in jou kan maak dat God jou voortrek of afkeur nie.  Hoe lyk jou lewensrekord?  Dit is die vraag.  As jy die Seun van God verwerp hoef ek jou nie daaroor te vra nie, aangesien jou rekord soos ‘n ink-bevlekte bladsy lyk.  Net as jy in Jesus glo is daar geen sonde op jou rekord nie, maar is dit perfek (2Kor. 5:21, Kol. 2:14).

 

  1. Dit is regverdig (v.12-15)

Ek het hierdie week iets geleer wat ek nie geweet het nie.  Kom ek stel dit vir jou in vraagvorm: wat is die basis waarvolgens God ons gaan oordeel?  Gaan Hy vir jou vra of jy Jesus aangeneem het of nie?  Nee.

 

Volgens v.12-15 is die wet die basis waarvolgens Hy jou gaan oordeel.  Natuurlik kom dit alles terug na Jesus toe, want as jy in Hom glo sal Hy jou sondige rekord met sý wetsgehoorsame rekord ruil en jou deur sy Gees in staat stel om Hom te gehoorsaam.

 

‘Maar wat van mense wat nie die wet gehad het nie?’ wil iemand weet.  ‘Hoe kan God hulle oordeel?’  Om hierdie vraag te beantwoord moet ons v.12-15 bestudeer.

 

Mense wat nie die wet van Moses gehad nie, sal nie daarvolgens geoordeel word nie (v.12).  Hulle sal volgens ‘n ander wet geoordeel word: die wet wat van geboorte af in hulle harte is (v.14-15).

 

Lank voor die sendelinge in 1956 Ecuador toe gekom het, het Mincaye se gewete hom gepla as hy egbreuk pleeg of steel, en goed gevoel as hy sy ouma help (v.14-15).  Maar omdat hy dit al so baie gedoen het, het dit hom nie meer gepla as hy ‘n spies deur iemand se maag steek nie.  Hy het sy gewete beskadig.  Maar ook hiervoor sal die Here hom verantwoordelik hou.

 

Die hoë bome en kleurvolle papegaaie het vir hom gewys dat daar ‘n God is, maar hy het besluit om die skepping te aanbid (1:18-25).  Op grond dan van sy gewete en die skepping is dit heeltemal regverdig dat God die naakte Auca oordeel en hom hel toe stuur.

 

Vir Abner ben Joseph en Bert Venter is daar ‘n ander maatstaf: die wet (v.12).  Beide van hulle het dit tot hulle beskikking gehad.  In ‘n sekere sin sal Mincaye se oordeel nie so streng wees soos hulle s’n nie.  Hulle het God se wet gehad en dit selfs vir ander geleer, maar nie daarvolgens gelewe nie (9:4-5, Amos 3:2, Matt. 11:20-24, Jak. 3:1).

 

Sal hulle dan die oordeel vryspring omdat hulle God se Woord in hulle besit gehad het as hulle dit nie ook gedoen het nie?  Verseker nie (v.13, Jak. 1:22).

 

‘Maar die sonde in my hart maak dat ek dit nie kan doen nie,’ sê iemand.  Ah, en dit is hoekom God jou hart moet verander!  As jy in Jesus glo en ‘n nuwe natuur het sal jy die vermoë hê om God se wet te gehoorsaam; jou geloof sal lei tot goeie werke (Rom. 8:4, Jak. 2:14-26).

 

Om v.12-15 toe te pas wil ek twee lesse uitlig.

 

[a] Mincaye gaan nie geoordeel word omdat hy nog nooit van Jesus gehoor het nie, maar omdat hy teen God se wet in sy hart gesondig het.  Onthou dit asb. wanneer jou ateïstiese familielid of kollega God valslik beskuldig en op sy geregtigheid spoeg.

 

[b] Suid-Afrikaners en ander nasies wat die Woord van God gehad het, maar nie gebruik het nie sal baie streng geoordeel word.  Bert Venter het meer as 20 kerke in sy woonbuurt gehad, maar het verkies om op ‘n Sondagoggend langs die rivier te sit.  Bert se broer was elke Sondag in die kerk, maar het nie gedoen wat hy hoor nie.  Hy het die Bybel geïgnoreer.

 

Nie een van hulle kan onkunde pleit as hulle voor die Regter staan nie.  Bert het elke geleentheid in die wêreld gehad om God se Woord te ken, maar ‘n dowe oor gegooi.  Bert se broer het die Woord gehoor en homself net so doof gehou.

 

“Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees” (3:19).

 

  1. Dit is deeglik (v.16)

Nou en dan sê ‘n jong Christen vir my dat ongelowige so-en-so ‘n goeie mens is.  ‘Hoe kan God hom dan hel toe stuur?’ wil hy of sy weet.  My antwoord hierop is dat ons nie mense se harte ken nie.

 

God gaan nie net mense se dade oordeel nie, maar hulle begeertes en motiewe (v.16, Pred. 12:14).  Hy ken elke mens se hart; daar is niks wat ons vir sy alsiende oë kan wegsteek nie (Ps. 139:1-2, Joh. 2:23-25, Heb. 4:12-13, Op. 2:23).

 

Wie gaan ons oordeel?  Jesus (v.16, Joh. 5:22, 27, Hand. 10:42, 17:31, 2Kor. 5:10).  So het Paulus dit in sy evangelie verkondig (v.16).  Hy het nie net vir mense gesê hoe om reg te wees met God nie, maar ook wat die gevolge sal wees indien hulle met hulle sonde aanhou (v.16).

 

Ek wil twee toepassings uit v.16 maak.  Ten eerste moet ons onthou dat Gód mense se motiewe gaan oordeel.  Ons kan die Bybel gebruik om mense se dade te beoordeel, maar ons kan nie hulle motiewe oordeel nie.

 

Jy weet nie wat in iemand se hart is nie, en kan daarom nie sê: ‘Jy het my nie gegroet nie, omdat jy my haat’ nie.  Is jy die alwetende God?  Los dit liewer vir Hom om mense se motiewe te oordeel (1Kor. 4:5).

 

Tweedens moet ons nie dink dat Jesus sag is nie.  As Hy op die oordeelsdag met sy vlammende oë deur jou kyk sal jy nie dink Hy is sag nie.  Moet Hom dus nie as ‘n sagte Verlosser beskou wat glimlag of ‘n traan pik oor jou sonde nie.  Hy gaan jou oordeel.

 

Jou enigste hoop is om deur geloof in Jesus se kruisdood te skuil, net soos wat Noag in die ark geskuil het, of soos wat seekoeie na hoër grond toe beweeg as hulle weet dat daar ‘n vloed oppad is.

 

[1] The Works of Jonathan Edwards: vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1974 (1834), p. 8

Die evangelie in ’n neutedop

nutshell

 

Paulus het ‘n paar boeke vol geskryf waarin hy die evangelie ontrafel het.  Die hele Romeine handel oor die teorie en praktyk van hierdie één onderwerp.  Ons moet egter nie net een aspek daarvan bestudeer nie, maar ook die geheelbeeld kry.  En dit gee Rm.1:17 vir ons.

 

God se geregtigheid

Wat is die geregtigheid van God waarvan Paulus in v.17 praat?  ‘n Mens kan skaars hierdie vraag beantwoord sonder om aan Martin Luther te dink.  Hy wou geweet het hoe hy, ‘n verlore sondaar, aanneemlik kan wees voor God.

 

Die geregtigheid van God in Rm.1:17 het hom mal gemaak.  Hy het gedink dit verwys na God se regverdige karakter waardeur Hy sondaars straf.  ‘Ek het die geregtigheid van God gehaat,’ het hy gesê.  ‘Ek was kwaad vir God.  Deur die mens se erfsonde is hy reeds vir ewig verlore.  Die Tien Gebooie verpletter ons.  En asof dit nie genoeg is nie, dreig die Here ons nog verder met sy geregtigheid en toorn wat in die evangelie geopenbaar word!’

 

Maar na ‘n lang gestoei het die Here sy oë oopgemaak om Paulus se woorde te verstaan:  God het sy geregtigheid as ‘n gratis geskenk belowe aan dié wat in sy Seun glo.  ‘Ek het gevoel dat ek opnuut gebore is, en dat ek deur die oop hekke van die paradys ingegaan het,’ het hy gesê.[1]

 

Maar op daardie stadium (1513) het Luther nog gedink dat regverdigmaking ‘n aksie van God is waardeur hy die sondaar se natuur verander (die Bybel noem dit wedergeboorte).  Hy het eers in 1518/19 besef dat regverdigmaking die aksie van God is waardeur Hy dié wat in Jesus glo, onskuldig en regverdig verklaar.[2]

 

Waar Adam en die res van die mensdom gefaal het, was Jesus Christus volmaak gehoorsaam aan die Vader.  Hy het ook die straf wat ons verdien het op Homself geneem aan die kruis.  Dié wat in Hom glo se sonde word uit die rekordboeke uit verwyder (Kol.2:14); God reken dan sy Seun se volmaakte geregtigheid aan hulle toe, asof dit húlle was wat die wet perfek gehoorsaam het (2 Kor.5:21).

 

Dít is die geregtigheid van God waarvan Paulus in v.17 praat.  En dit is hiérdie geregtigheid wat maak dat die evangelie nie net nuus is nie, maar goeie nuus.  Dit is die hartklop van die evangelie.  Elke ander godsdiens sê:  ‘Probeer net ‘n bietjie harder en hoop vir die beste.’  Die evangelie sê:  ‘Jy kan niks doen om jouself te red nie; God het alles gedoen.  Hy is jou enigste hoop om gered te word:  sý perfekte lewe, kruisdood en opstanding.’

 

Omdat Christus dan ons geregtigheid is (Jer.23:6, 33:16, 1 Kor.1:30), kan ons net aanneemlik wees voor God as Hý in ons plek staan.  Dus moet ons saam met Paulus en Luther begeer om “in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Fil.3:9).

 

Sonder hierdie geregtigheid is ons oppad hel toe en is daar vir ons geen hoop om in God se heilige teenwoordigheid in te kom nie.  Volgens 3:21 help dit nie eers jy onderhou die wet om God se guns te probeer wen nie:  “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet”.  Daar is net een manier om hierdie geregtigheid te kry.  En dit lei ons na die volgende punt toe.

 

Die sondaar se geloof

Ongelowiges het ‘n lae siening van God.  Hulle dink dat hulle Hom deur hulle onvolmaakte gehoorsaamheid tevrede kan stel.  Wanneer Hy hulle deur die wet van hulle sonde oortuig, probeer hulle om een of ander betaling te maak sodat Hy hulle sal vergewe.  Martin Luther en George Whitefield het dit gedoen.[3]

 

Beide van hulle het growwe klere gedra en hulleself in die winter laat koud kry, in die hoop dat hierdie kastyding die Here tevrede sou stel.  Beide van hulle het vir ure op die grond gelê en hulle sondes bely.  Beide van hulle het vir lang tye gevas, sodat hulle liggame swak geword het.

 

In ons kultuur is mense nie so fanaties nie.  En tog het ons ‘n manier ontwikkel waardeur ons probeer om onsself teen die blitsende pyle van God se wet te beskerm.  Wanneer die wet ons in ‘n hoek druk sê ons:  ‘Niemand is perfek nie; dit is maar net menslik om te sondig.’

 

Maar waar het God gesê dat Hy vir ons twee of drie gratis sondes gee?  En wie het gesê dat dit normaal is om te sondig?  Is dit nie abnormaal en die gevolg van die sondeval nie?  Of het die Here sy heilige standaard verlaag en sy volmaakte karakter gekompromeer om by ons aan te pas?

 

Om jou sonde te verskoon of dit met godsdienstige dade te probeer regmaak, gaan nie werk nie.  Daar moet ‘n ander oplossing wees.  En dit is die een wat Paulus in v.17 gee:  “uit geloof tot geloof”.  Dit beteken eenvoudig dat Christus se geregtigheid in die evangelie van begin tot einde deur die geloof verkry moet word.  En as gevolg hiervan kan alle godsdienste in twee kampe verdeel word:

 

[i] Dié waarin mense dink dat hulle in hulleself goed genoeg is om die Here se guns te wen.

 

Soos ‘n klein seuntjie wat dink dat hy nie sy pa se hulp nodig het om oor die straat te loop nie, dink hulle dat hulle nie Jesus se geregtigheid nodig het om voor God aanvaar te word nie.

 

“Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.” (10:3).

 

Hierdie mense vertrou op hulleself en hulle pogings om regverdig te wees voor God.  George Whitefield het gesê dat dit makliker is om met ‘n tou van sand na die maan toe te klim, as om deur jou goeie werke in die hemel te kom.[4]

 

[ii] Bybelse Christenskap waarin die mens homself as ‘n verlore sondaar beskou en geensins op sy goeie werke vertrou nie, maar op “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo” (3:22).

 

Die profeet se getuienis

Uit die apostel se aanhaling van Hab.2:4 leer ons dat die regverdige uit of deur die geloof sal lewe.  Maar vandag is daar mense wat dit nie verstaan nie.  Hulle sê dat geloof iets is wat ons tot ons redding bydra, die één ‘werk’ waardeur ons gered moet word.  Volgens hulle word ons nie deur ons geloof gered nie, maar op grond daarvan.  Die nuutse Afrikaanse Bybel vertaal dit ook so.

 

Maar geloof is nie die basis vir ons redding nie – Christus se lewe, kruisdood en opstanding is.  Geloof is maar net die kanaal waardeur ons hierdie geregtigheid van Christus ontvang (v.17).  Kom ek illustreer dit só:

 

Jy voel goor en maak ‘n afspraak by die dokter.  Hy sê vir jou dat jy terminaal siek is:  jy het net ‘n paar weke oor om te lewe.  Maar hy het ‘n vloeistof wat jou kan genees.  Vir die vloeistof om te werk moet hy dit direk in jou are inspuit.  Hy doen dit en jy word gesond.  Wat het jou genees:  die vloeistof of die inspuiting?  Die vloeistof natuurlik.  Maar hoe het hy die vloeistof in jou are gekry?  Deur middel van die inspuiting.

 

Net so is dit nie die inspuiting van geloof wat jou red nie, maar die vloeistof van genade.  Maar die enigste manier om die lewegewende vloeistof van genade te ontvang, is deur die inspuiting van geloof.  Jy kan dan nie sonder geloof gered word nie, maar dit is nie jou geloof wat jou red nie – dit is God se genade.

 

Dit was nog altyd die manier om gered te word, ook in die Ou Testament.  Eva, Moses, Rut en Dawid is nie deur hulle wetsonderhouding gered nie, maar deur hulle geloof in die Messias wat sou kom (vgl. Rm.4, Jes.53, Jer.23:5-6).  Hab.2:4 illustreer dit vir ons.

 

Die Here het vir Habbakuk gesê dat Hy vir Israel deur die Babiloniërs sou straf.  Dié wat hierdie waarskuwing geglo het en hulle bekeer het, sou gelewe het.

 

Net so waarsku die Here ons dat die finale oordeel oppad is.  Dié wat hulle bekeer en in Jesus glo, sal die ewige lewe ontvang (v.17, Jh.10:10, 17:3).

 

Die meeste Suid-Afrikaners het nog nooit hierdie lewe ontvang nie.  Ek twyfel ook nie vir ‘n oomblik dat sommige van hulle van tyd tot tyd in ons kerke sit nie.  Hulle het nog nooit die wonderlike waarheid van regverdigmaking deur die geloof verstaan, of die voordele wat daaruit voortspruit ervaar nie.

 

Hulle het nog nooit skuldig in die hof gestaan, en gesien hoe die Regter hulle boete betaal en hulle skuld afskryf nie.  Hulle het ook nog nooit gehoor dat Hy besluit het om hulle nie na die bouvallige huise van hulle sonde toe terug te stuur nie, maar dat Hy besluit het om hulle as sy kinders aan te neem, sodat die hemel met al sy skatte nou aan húlle behoort.

 

En hulle sal ook nie hierdie dinge verstaan, totdat hulle nie geloof verstaan nie.  Dit is tog deur geloof wat ons elke ander voorreg ontvang.  Daarom is dit baie belangrik om te verstaan hoe die Bybel geloof definieer.  As jy vir die deursnee Afrikaner vra wat geloof is, sal jy een van volgende antwoorde kry:

 

#1:  ‘Geloof is om te weet dat die Here daar is vir jou.  Hy help jou.  Bid daarom elke dag tot Hom, want sonder Hom kan jy nie deur die dag kom nie; sonder Hom kan jy nie lewe nie.’

 

Dit is ‘n tydelike geloof wat niks te doen het met reddende geloof nie.

 

#2:  ‘Geloof is iets wat jy moet uitspreek (‘positive confession’).  Jy moet genoeg geloof hê en in jou woorde glo.  Jy moet in jou geloof glo en nie twyfel nie.  As jy nie die geld of gesondheid kry waarvoor jy gebid het nie, is dit omdat jy nie genoeg geloof het nie.’

 

Hierdie is die Word of Faith beweging se vals geloof.  Dit is jammer dat baie mense dit met reddende geloof verwar.  Reddende geloof het niks te doen met hoe sterk of hoe swak jou geloof is nie.  Eintlik gaan dit nie eers oor jou geloof nie, maar oor die Een in wie jy glo.  Die Puritein,Thomas Watson, het gesê:  ‘A weak faith may receive a strong Christ… The promise [of salvation] is not made to strong faith, but to true [faith].’[5]

 

#3:  ‘Geloof is om te weet dat jy die potensiaal het om ‘n sukses van jou lewe te maak.  Glo daarom in jouself en die vermoeëns wat die Here jou gegee het.’

 

Te veel gelowiges weet nie hoe om te onderskei tussen die Bybel en die teorieë van moderne sielkunde nie.

 

#4:  ‘Geloof is ‘n risiko wat jy neem en ‘n sprong in die donker.  Ek sal eerder die kans vat en in Jesus glo as om uit te vind dat die hel regtig is, en dan vir ewig daar te moet brand.’

 

Iemand wat só praat wys dat hy nie reddende geloof verstaan nie.  Volgens die 1 Kor.15:1-19 en soortgelyke tekste rus ons geloof nie op die verrotte fondasie van ‘n onsekere hoop nie, maar op die historiese feite van Christus se ewige Godheid, sy vleeswording, sy kruisdood vir sondaars, sy begrafnis en sy liggaamlike opstanding.

 

“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop [nie ‘n onsekere hoop nie, maar ‘n vaste Bybelse hoop], ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb.11:1).

 

#5:  ‘Geloof is om vas te hou aan Jesus se kruisdood en opstanding, en om daarna te strewe om volgens die Bybel te lewe.’

 

Hierdie een is subtiel, maar dit is nie reddende geloof nie.  Dit is die leuen waarteen Paulus die Galasiërs gewaarsku het.  Hierdie mense sê dat geloof in Christus nie genoeg is nie (kontr. 3:28).  Hulle glo in redding deur geloof plus dinge soos kerkbywoning, tiendes, vas en gebed, Sabbatsonderhouding, hulp aan die armes, die navolging van ‘n sekere dieët, ens.  Hulle sê:  ‘As jy genoeg hiervan gedoen het, sal God jou sondige rekord skoonvee en jou regverdig maak (en ook hier is hulle definisie nie Bybels nie).’

 

#6:  ‘Geloof is om te weet dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het, aan die kruis gesterf het vir ons sondes, en opgestaan het uit die dood – niks meer nie en niks minder nie.’

 

Vir baie van ons mense klink dit reg, maar ons moet hulle help om nie hiervoor te val nie.  Satan en sy demone glo dit ook, en hulle is nie gered nie (Mk.1:24, 5:7, Jk.2:19).  Om gered te word kan jy nie minder as dit glo nie.  Maar reddende geloof stop nie by die feite nie.  Om bloot op ‘n ‘altar call’ te reageer of ‘n sondaarsgebed op te sê sonder dat jy jou bekeer het, is nie reddende geloof nie.

 

Vandag is daar mense wat nie bekering by hulle definisie van geloof wil insluit nie, omdat hulle dit as ‘werk’ beskou.  In sommige gevalle is dit ‘n poging om vir geliefdes te skerm wat hulle ‘harte vir die Here gegee het’, maar nie verander het nie.  Volgens hulle is dié mense vleeslike Christene wat vir Jesus as Verlosser aangeneem het, maar nog nie as Here nie.

 

Maar Jesus (wat die Verlosser en Here is!) het gesê dat jy die boom aan sy vrugte sal ken.  Dit wys dan vir ons dat mense wat in Jesus glo maar hulle nie bekeer het nie, nie werklik in Hom glo nie.  Geloof en bekering is kante van dieselfde munt (Hd.20:21).  Ons kan praat van ‘n berouvolle geloof en ‘n gelowige bekering.  Om van jou sonde af weg te draai is bekering, en om na Jesus toe te draai is geloof.[6]  Hierdie geloof en bekering sal altyd lei tot goeie werke (Jk.2:14-26, 2 Pt.1:5-7).  John Piper sê:  ‘It is faith alone which justifies, but the faith which justifies is not alone.’[7]

 

#7:  ‘Geloof is om met sekerheid te weet dat jy aan Jesus behoort en dat jy oppad is hemel toe.’

 

Hier gaan jy vir die enkele depressiewe Eeyore’s in jou gemeente moet wys dat sekerheid van geloof nie dieselfde is as geloof nie.  Dit is moontlik dat iemand ware geloof kan hê, sonder dat hy of sy sekerheid van geloof het.  Jy sal hierdie mense moet help om objektief te fokus en nie subjektief nie.  Ware geloof fokus op Christus, en nie op ‘n gevoel wat jy in jouself het nie.

 

#8:

 

  • Geloof, soos bekering (Hd.5:31, 11:18, 2 Tm.2:25), is iets wat net God vir jou kan gee (Ef.2:8-9, Fil.1:29). Dit is Hy wat jou instaatstel om te kan
  • Geloof beteken om glad nie op jouself of jou pogings staat te maak om aanneemlik te wees voor die Here nie; geloof vertrou volkome op Christus se Persoon, lewe, kruisdood en opstanding. Werke verhef die sondaar; geloof verhef vir Jesus (Ef.2:8-9).
  • Geloof hou nie op wanneer jy tot bekering gekom het nie, maar hou aan totdat jy die dag doodgaan (Mt.10:22, Lk.22:32, Hd.14:22, Kol.1:23).
  • As beproewing maak dat jy nie meer in Jesus glo nie, het jy in die eerste plek nie reddende geloof gehad nie (Heb.10:38-39, 1 Pt.1:5-7).

 

Hierdie laaste definisie van geloof is die regte een.  Die ware Christen bely dit, al kan hy dit nie noodwendig in soveel woorde sê, of al die verse onthou nie.  Ons kan nie bekostig om op hierdie punt te wankel nie.  As iemand sê dat jy op enige ander manier gered kan word, is hulle onder God se ewige vervloeking (Gal.1:8-9).

 

Jy kan nie jou vingers kruis en hoop dat mense op jou begrafnis sal sê:  ‘As daar nou een persoon was wat reguit hemel toe is, is dit sy’ nie.  As jy dít dink, vertrou jy op jouself en is jy oppad hel toe.

 

Wees eerder soos die siek vrou wat in die 1700’s gelewe het.  Martin Boos, ‘n Duitse Katoliek, het haar besoek en gesê:  ‘Ek is seker dat jy in vrede sal sterf; jy het so heilig gelewe.’  Sy het geantwoord:

 

‘As ek op my werke vertrou sal ek verseker verlore wees.  Ek vertrou op Jesus my Verlosser, en daarom kan ek in vrede sterf.  Hoe anders kan ek voor die hemelse Regbank staan, waar ek rekenskap van my woorde moet gee?  Watter een van ons dade sal nié te lig bevind word wanneer dit in God se skaal geweeg word nie?  Nee, as Christus nie vir my gesterf het nie, sou ek vir ewig verlore gewees het, ten spyte van al my goeie werke.  Christus is my hoop, my verlossing en my ewige blydskap.’[8]

 

[1] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, pp.47-48

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.70

[3] Reeves, Ibid, p.38 en Arnold Dallimore, George Whitefield, pp.73-76

[4] Iain Murray, Heroes, p.55

[5] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.220 (eie beklemtoning).

[6] Wayne Grudem, Systematic Theology, p.709

[7] John Piper, Future Grace, p.21

[8] Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.99

Sout en lig vir Suid-Afrika

Salt and light

In Suid-Afrika is gay huwelike wettig. Amerika het dit onlangs aanvaar.  Ateïste sê Christenskap het ‘n negatiewe effek op die wêreld.  ‘Ons sal beter wees daarsonder,’ sê hulle.  In die afgelope 20 jaar – vandat ons ‘vryheid’ verkry het – het die moraliteit in Suid-Afrika drasties verval.  Ons is nie net meer immoreel nie, maar sterk oppad om a-moreel (geen moraliteit nie) te word.  Vandat aborsie wettig is, het die westerse samelewing meer mense vermoor as Hitler en Stalin.

 

Die Suid-Afrikaanse regering het vir hulself ‘n tiener grootgemaak wat nou groter en sterker is as hulle; ‘n tiener wat hulle nie kan beheer nie. Die tragedie is dat hulle aanhou om vir die rebelse tiener wapens in die hand te stop, deurdat hulle sonde wettig maak.  Erger as dit is dat een van ons land se grootste kerke ingekoop het deur gay huwelike te aanvaar.

 

Matteus 5:13-16 is Jesus se beroep op ware gelowiges om nie deur die wêreld beïnvloed te word nie, maar om die wêreld te beïnvloed. Ons kan nie ons boodskap en waardes versag, omdat ons die wêreld wil wen nie.  Die manier om die wêreld te wen is nie om soos hulle te word nie, maar om sout en lig te wees.

 

Sout (v.13)

Ons het onlangs Trompie op YouTube ontdek. Dit verskil opmerklik van moderne TV-programme.  In moderne stories praat kinders terug met hulle ouers, is die pa ‘n slap idioot, is die pa en ma geskei, is die ma ‘n professionele vrou vir wie geld belangriker is as haar kinders, spring tieners saam in die bed.

 

In Trompie is dit anders. Trompie het respek vir sy pa en praat nie terug nie.  Sy pa is die leier in hulle huis, sy ma sorg vir haar gesin, en Trompie en sy maats doen onskuldige kattekwaad.  Hierdie vergelyking weerspieël die verskil tussen ‘n sameweling met Christelike waardes en een daarsonder.

 

Die wêreld sal ‘n effek hê op Christene (v.10-12), maar ‘n Christen wat v.3-9 doen sal ook ‘n effek hê op die wêreld (v.13). Sout gee smaak (Job 6:6), is ‘n anti-septiese middel (Esegiël 16:4, vandag nog gorrel mense met lou soutwater), en het gedien as ‘n perseveermiddel in ‘n leefwêreld sonder vrieskaste.  Die wêreld is sleg, maar sou slegter gewees het sonder die kerk se invloed.  Let op die verskil tussen kulture waar die kerk ‘n sterk invloed het en kulture daarsonder.[1]

 

  • In die eerste soort werk mense hard; hulle is nie lui nie.
  • Mense is eerlik en nie skelm nie.
  • Die samelewing is basies moreel en nie a-moreel nie.
  • Mense is hiegiënies, nie sieklik nie.
  • Woonbuurte en strate is skoon en nie vol rommel nie.
  • Mense het maniere en is nie barbaars nie.
  • Mense is geletterd en het ‘n algemene kennis.
  • Die land is ekonomies sterk en het ‘n lae werkloosheidsyfer.
  • Die owerhede en landsburgers hou goed in stand en breek dit nie af nie.
  • Mense neem inisiatief en dink verder sonder dat hulle in detail instruksies moet kry.
  • Mense is stiptelik en lewer goeie diens.
  • Mense neem ander in ag en daar is wet en orde op die pad.
  • Die land bevorder navorsing.
  • Die regering beskerm babas en die huwelik. Die samelewing is teen gay huwelike, aborsies, en egskeiding.
  • Die misdaadsyfer is laag. Die doodstraf word toegepas. Misdadigers is bang vir die gereg.
  • Daar is goeie sorg vir siekes in hospitale.
  • Daar is dissipline in huise en skole.
  • Jong mense is ordentlik en goed-gemanierd.

 

In die 1980’s het Peter Hammond ‘n brief geskryf oor die gevare wat hy in Suid-Afrika sien. Die brief se titel was ‘Wake up, South Africans’.  Daarin het hy verwys na die res van die wêreld wat van Suid-Afrika praat as Puriteins, outyds, en Victoriaans, omdat homoseksualiteit ‘n misdaad is, ons nie pornografiese films en sekere musiek toelaat nie, ons teen aborsie is, en drankwinkels en flieks toe is op Sondae.

 

Hammond het gewaarsku dat gebed uit die parlement sal wegval, eksplisiete Christen-wette geskrap sal word, die Bybel en gebed uit weermag-parades en skole sal wegval, jóú belastinggeld vir aborsies sal betaal, pornografie in winkels verkoop sal word, evolusie en ateïsme die opvoedingsisteem sal domineer, tegniese punte in die wet die misdadiger sal beskerm, terwyl wetsgehoorsame burgers wat hulleself verdedig gestraf sal word, en die geskiedenis herskryf sal word uit ‘n Marxistiese oogpunt.[2]

 

Hierdie dinge het presies so gebeur. Hoekom?  Want die kerk het haar invloed in die samelewing verloor.  Die sout het laf geword (v.13).  Pure sout kan nie laf word nie, maar die sout by die Dooie See raak besmet met gips [Eng. gypsum] en ander minerale.  Dit smaak laf en is oneffektief om verrotting te keer.  Die Dooie See se sout help nie eers vir die mishoop of jou tuin nie (Lukas 14:34-35), want dit maak die plante dood (Deuteronomium 29:23, Jeremia 17:6).  Dit help net vir die voetpaadjie waar mense loop, sodat die gras en bossies nie daar kan groei nie (v.13).

 

‘n Samelewing waar die kerk só is, sal Bybelse waardes versaak en binne ‘n paar geslagte soos ongesoute biltong verrot. Kyk maar hoe vervalle is lande waar Moslems, ateïste (kommuniste), en Hindus regeer.

 

Lig (v.14-16)

Toe ek in graad 7 was het ons ‘n veldskool gehad in Amsterdam. Op die eerste aand was ek laat vir die opening.  Ek het na die groep toe gehardloop en nie die pale met kabels tussen-in gesien nie – dit was te donker.  Ek het oor die kabels geval en my skene stukkend geskaaf.  As daar genoeg lig was sou ek die kabels gesien het, en nie so seergekry het nie.  Christene is lig vir die wêreld om hoop, rigting, en verligting te bring (v.14-16).

 

Iemand wat v.3-9 doen, sal ‘n lig skyn in die donker wêreld (v.14, Efesiërs 5:8). Net soos jy nie ‘n stad op ‘n berg kan wegsteek nie, kan ‘n ware Christen nie sy getuienis wegsteek nie – almal kan sien hy is anders (v.14).  Lig is gegee om op ‘n staander te wees, sodat die hele huis lig het (onthou dat huise in die eerste eeu maar klein was, sodat ‘n enkele lamp die hele huis kon verlig).  ‘n Mens is nie veronderstel om ‘n lig onder ‘n mandjie weg te steek nie (v.15).

 

Moet dan nie skaam wees dat jy ‘n Christen is, sodat jy stilbly nie. Laat die lig van jou goeie werke skyn, sodat mense daardeur getrek word en vrae vra (v.16, 1 Petrus 3:15).  Moenie net heilig lewe, sonder om met jou mond van die Here te getuig nie.  Moet ook nie met jou mond getuig, maar dit met jou dade weerspreek nie.  Doen beide.

 

Moenie die lig van jou goeie werke skyn in ‘n klooster of in jou huis agter tralies nie. Skyn jou goeie werke voor mense (v.16).  So sal hulle sien dat jy ‘n goeie Vader het, en hulle sal Hom verheerlik (v.16, 1 Petrus 2:12).  Selfs as hulle nie Christene is nie, sal hulle deur ons lewens móét erken dat Jesus en sy volgelinge die ware Jakob is.

 

Hoe kan ons prakties hierdie bose samelewing beïnvloed? Jy hoef nie uit jou pad uit te gaan om dit te doen nie.  Jy hoef nie betrokke te raak in georganiseerde projekte om kos en komberse vir armes te gee voordat jy sout en lig kan wees nie.  Wees net heilig en gehoorsaam die Skrif, en jy sal ‘n invloed hê.  Dit kan nie anders nie.  Martyn Lloyd-Jones het gesê:  ‘Christians, by being Christian, influence society almost automatically.’[3]

 

Jy sal ‘n effek hê as jy:

 

  • Die Skrif volg en hard werk.
  • Uitstekende en flink diens lewer.
  • Billik is met jou pryse en nie mense uitbuit nie.
  • Jou baas of onderwyser respekteer.
  • Gaaf is met jou werkers.
  • Nie saam met die res lag vir vuil grappe nie.
  • Jou tong in toom hou en mooi praat (Kolossense 4:6).
  • Nie dronk word by die werksbraai nie.
  • Nie flirt op kantoor nie.
  • Geduldig en vriendelik is by binnelandse sake.
  • Hulpvaardig is met kliënte op ‘n Vrydag.
  • Ander bo jouself stel op die pad.
  • Nie oor die regering kla nie, maar praat oor die voorregte wat God vir ons gee (Filippense 2:14-15).
  • Goed doen aan jou vyande (Romeine 12:20).
  • Nie geïrriteerd is met jou kinders nie, maar met hulle speel.
  • Onderdanig is aan jou man (1 Petrus 3:1-2, Titus 2:5).
  • Mooi praat van jou vrou en haar liefhet.
  • Dadelik luister vir jou ouers.
  • Heilig is.
  • Die evangelie deel.

 

Selfs net ‘n bietjie sout kan ‘n groot verskil maak, hetsy vir smaak, ‘n anti-septiese middel, of persevering. Net so kan ‘n individu of ‘n klein groep Christene ‘n groot invloed hê (Handelinge 17:6).  Moet daarom nie moed verloor omdat ons ‘n klein kerk is, of omdat jy die enigste Christen is in jou gesin, familie, woonbuurt, klas, of werkplek nie.

 

Wil jy jou lig skyn en die samelewing beïnvloed? Jy is soos die maan wat die son se lig weerkaats.  Jesus is soos die son, die bron van alle lig (Johannes 8:12).  Leef naby Hom, sodat jy sý lig weerkaats.  As jy soos die wêreld in sonde leef, sal jou getuienis geen effek hê nie.  Ons kan dan nie saam met die NG-Kerk gay huwelike goedkeur nie.  Anders sal jy wees soos sout wat nie ‘n invloed het nie, maar deur gips en ander minerale beïnvloed en besmet word (v.13).  Jy probeer die onmoontlike regkry:  jy wil donker uitdryf met donker.  Die Skrif sê:  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed.” (Romeine 12:2).

 

Skyn die lig van Jesus op ‘n donker wêreld. Verwag dat mense gered sal word, maar verwag ook dat hulle die lig sal haat en dit wil uitdoof (v.10-12, Johannes 3:19-21).  Duisternis kan egter nie die lig uitdoof nie.  In 1555 het Bloody Mary vir Hugh Latimer en Nicholas Ridley rug aan rug vasgebind om hulle te verbrand.  Die 80-jarige Latimer het deur die vlamme na Ridley geroep:  ‘Be of good comfort, Master Ridley, and play the man; we shall this day light such a candle, by God’s grace, in England, as I trust shall never be put out.’[4]

 

Hoekom moet jy die samelewing met sout en lig beïnvloed? As jy nie anders lyk as die wêreld nie, is jy deel van hulle.  ‘n Kerk wat soos die wêreld lyk beteken niks vir God, sy Koninkryk, en verlore sondaars nie.  Jy kan net sowel deel wees van ‘n kerk wat in die geheim vergader in ‘n grot.  En wat is dit anders as om jou lig weg te steek onder ‘n maatemmer (v.15)?

 

In die mid-1500’s het Johannes Calvyn in Geneve, Switserland gepreek. Hy het geen politieke posisie beklee nie, maar het bloot die evangelie gepreek.  Sy prediking het Geneve op sy kop gekeer.  Mettertyd het die stadsraad wette ingebring teen egbreuk, dans, prostitusie, pornografie, dronkenskap, dobbel, lastertaal, ongehoorsaamheid aan jou ouers, ens.

 

Na drie jaar in Geneve het die Skotse hervormer, John Knox gesê hy het nog nooit so iets in sy lewe gesien nie. In 1610 (46 jaar na Calvyn se dood) het ‘n Duitse Lutheraanse pastor genaamd Valentine Andreae, die stad besoek.  Volgens Andreae se getuienis het Geneve die pefekte regering en ‘n pragtige moraliteit gehad.  Die stad het kleiner oortredings soos twis en leuens gestraf.  Groter oortredings het skaars voorgekom.  Die huis waar Andreae gebly het, is gekenmerk deur daaglikse huisgodsdiens, ‘n vrees vir God in woord en daad, en matigheid in kos, drank, en kleredrag.[5]

 

Calvyn se invloed het nie net sy eie stad, land, en era beïnvloed nie. Amerika, Engeland, Suid-Afrika, en baie ander lande is deur hom beïnvloed.  Soveel so, dat TIME Magazine in 2009 gesê het Calvinisme is onder die top 10 mees invloedryke ‘idees’ in Amerika.[6]  Sal ons nie dieselfde beteken vir Suid-Afrika, die wêreld, en die geslagte wat kom, as ons Matteus 5:13-16 ernstig opneem nie?

[1] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World

[2] The Battle for South Africa, Reformation Society, pp.4-5

[3] The Sermon on the Mount: vol.1, p.156

[4] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, p.138

[5] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, pp.221-224

[6] content.time.com/time/specials/pacages/article/0,28804,1884779_1884782_1884760,00.html