Drie besware teen Paulus se evangelie van GELOOF ALLEEN

Sola Fide

Regverdigmaking deur die geloof is ‘n groot term. Hoe verduidelik jy dit vir ‘n 6-jarige?

Toe John Piper se dogter 6 was het hy dit soos volg verduidelik. Iemand beroof ‘n bank. Die polisie vang twee verdagtes. Toe hulle in die hof verskyn, toe sê die publiek dat die eerste man nie skuldig is nie. ‘Ons het gesien dat hy nie die bank beroof het nie,’ het hulle gesê. Die regter verklaar dat hy onskuldig en regverdig is.

Oor die tweede man sê die publiek dat hulle gesien het hoe hy die bank beroof. ‘Hy is skuldig,’ sê hulle. Die regter verklaar die tweede man onskuldig en sê dat hy al die vryheid en voorregte geniet van iemand wat die landswette gehoorsaam [John Piper, Counted Righteous in Christ (Wheaton: Crossway Books, 2002), 28-30].

Hoe kan die regter dit doen? Is dit nie onreg nie. Die bank is syne. Hy het die tweede man se skade betaal en so die straf vir sy oortreding gedra. Hy het ook sy goeie en gehoorsame rekord aan die misdadiger toegereken.

Jesus is so en het ons straf aan die kruis gedra. Hy het ook sy goeie rekord vir ons gegee. Ons ontvang dit deur die geloof. Party mense wil nie hoor dat hulle geen aandeel het in hulle redding nie, en maak dus beswaar teen Paulus se evangelie van regverdigmaking deur die geloof alleen. Dit is die punt wat hy aanspreek in Rom. 3:27-31.

1. Dit impliseer dat ons goeie werke niks beteken nie (v.27-28)
Menno Simons (1496-1561) was ‘n Anabaptis tydens die Reformasie of Hervorming. Hy was sterk gekant teen Martin Luther se lering van regverdigmaking deur die geloof alleen. Hy het gesê dat dit sonde aanmoedig:

‘The Lutherans believe that faith alone saves, without any contribution from works. They emphasize this doctrine so much, it looks as if works were totally unnecessary… They start up a psalm, “The chain is broken, now we are free, praise the Lord!” while the beer and wine come running out of their drunken mouths and noses. Anyone who can simply recite this off by heart, no matter how sinfully he lives, is regarded as a good evangelical man and a brother!’ [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 2004), 282-283].

Na Simons se mening het mense meer sonde gedoen a.g.v. hierdie lering. Mense dink nog steeds so. ‘As ‘n mens hoor dat hy niks hoef te doen om reg te wees met God nie, sal hy sonde doen soos hy wil,’ is hoe hulle redeneer.

Ander dink weer dat genoeg goeie werke hulle sonde neutraliseer. Ek het eenkeer met so iemand gepraat. ‘Ek weet ek drink te veel,’ het hy gesê, ‘maar wat van al die goeie dinge wat ek vir mense doen wanneer ek nié dronk is nie.’

Ek het vir hom gesê dat sy goeie werke nie sy sonde uitkanseleer nie, net soos wat ‘n regter nie die moordenaar vrylaat omdat hy baie goeie dinge gedoen het nie. ‘n Honderd goeie dade kan nie die moordenaar se misdaad uitvee nie.

Goeie werke kan nie iemand se redding verdien nie. Verlossing kom deur Jesus wat die wet in ons plek gehou het, en ons straf aan die kruis gedra het (v.27, 2Kor. 5:21). Ons moet dit deur die geloof ontvang (v.28).

Party mense aanvaar dat redding deur geloof kom, maar wil hulle goeie dade byvoeg: die besnydenis, ‘n streng navolging van die Ou Testament feeste en voedselwette, die doop, die onderhouding van die Sewendedag Sabbat, tiendes, getroue kerkbywoning, boetedoening, ens.

Paulus sê egter dat redding deur die geloof alleen is sonder die werke van die wet (v.28). Hoekom wil mense buitendien hulle werke byvoeg as redding deur die geloof alleen is en niks kos nie?

Hulle is trots. Hulle wil nie erken dat hulle niks tot hulle redding kan bydra nie. Hulle wil hulle werke byvoeg en in hulleself roem. Maar by God kan jy nie roem nie (v.27, Ef. 2:8-9). Jy kan net in Jesus en sy kruisdood roem (1Kor. 1:31, 2:2, Gal. 6:14).

Jy kan nie eers in jou geloof roem asof dit jóú werk of bydrae is nie, want selfs dít kom van God af (Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Iemand wat in sy geloof roem, is soos ‘n persoon wat in sy nuwe tuinslang roem en sê dat dit sy blomme laat groei het. Geloof is die tuinslang en nie die water nie. Roem daarom in Jesus en nie in jou geloof nie.

Moet ook nie geloof herdefinieer en sê dat dit net ‘n kopkennis van Jesus en die evangelie is nie. Die duiwels glo ook (Jak. 2:19). Geloof is meer as net ‘n kopkennis. Om te glo beteken dat jy die feite van die evangelie glo, die belofte van God se vergifnis glo, berou het oor jou sonde, jou daarvan bekeer, op Jesus vertrou en na Hom toe kom (Joh. 6:35). Geloof sluit nie goeie werke in nie, maar dit lei daartoe (v.28, Ef. 2:10, Jak. 2:14-26).

Enige ander ‘evangelie’ is vals en eindig in die hel (Gal. 1:8-9, 5:4). Soek daarom geloof, want as jy geloof het kry jy Jesus. In Hom kry jy die hemel en kan jy reg wees met God. Bid vir geloof en bekering, sodat jy Jesus se meriete en God se vergifnis kan kry. Saam met God se vergifnis kom ‘n skoon gewete, vrede, blydskap en rus. Moenie langer jou rus soek in bakleiery met ander, vlug vir jou probleme, slaap, drank, mense se applous, die wet, ens. nie.

Vind jou rus in Jesus: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:28-30).

2. Dit beteken dat die Jode nie spesiaal is nie (v.29-30)
Toe die land begin verander kon swart mense na die dorp swembad toe kom, en het hulle na ons skool toe gekom. Ons was arrogant en het gemaak of dit ons swembad en skool is.

Die Jode was so oor God en het gesê dat Hy net húlle s’n is (v.29). Paulus het egter gesê dat God die Jode en heidene gemaak het (v.29). Net soos wat Hy die Jode uit Egipte gered het, het Hy die heidene voor hulle gered: al die gelowiges van Adam af tot by Abraham, Rut, Ragab, ens. Is daar ‘n ander God as die heidene nie dieselfde Een het as die Jode nie? Nee. Daar is net een God (v.30, Deut. 6:4, Jes. 44:6).

Om reg te wees met God moet die Jode in Hom glo (v.30). Hulle kan nie reg wees met Hom deur die verbond, die wet of die besnydenis nie (v.30). Net so moet ook die heidene reg wees met God deur die geloof, al is hulle nie besny nie (v.30). “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.” (Gal. 6:15).

Stuart Olyott sê: ‘In God’s eyes you are no longer a Jew or a Gentile. You are either a saved sinner, or a lost one.’ [Stuart Olyott, The Gospel As It Really Is (Darlington: Evangelical Press, 1979), 34]. Die vraag wat jy jouself dan moet afvra, is of jy ‘n geredde of ‘n verlore sondaar is. Dit gaan nie daaroor of jy Afrikaans, konserwatief, in een van die susterskerke,  van kleins af ‘n Baptis, of jy gedoop is en of jy in tale praat nie.

Dit gaan nie eers daaroor of jy ‘n geestelike ervaring gehad het nie. Wat help jou ervaring jou as jy nie in Jesus alleen glo nie, as jy nog nie jou sonde gelos het nie, as jy nie reg is met God nie, as jy nie vergewe is nie, en as jy nie ‘n rein gewete het nie?

Die bg. redenasie geld ook vir die doop (of jy nou as grootmens of baba gedoop is). Jy is nie outomaties reg met God omdat jy gedoop is nie. Die evangelie van geloof alleen beteken dat die doop nie kan bydra tot jou redding nie.

‘n Vriend van my het met iemand gepraat wat glo dat jy gedoop moet wees om hemel toe te gaan. Hy het m.a.w. nie geglo in regverdigmaking deur die geloof alleen nie.

Kontrasteer dit met ‘n tannie in ons gemeente. ‘n Paar maande gelede het sy vir my gesê: ‘Hoe wéét jy jy is gered? Die enigste antwoord wat ons kan gee is dat Jesus vir ons gesterf het. Alles gaan net oor Jesus; dit is al.’

Dan is die bordjie wat ek by iemand se huis gesien het verkeerd: ‘Enter heaven by sanctification, not by justification.’ In Afrikaans: ‘Kom in die hemel deur heiligmaking en nie deur regverdigmaking nie.’

Heiligmaking volg op en vloei uit regverdigmaking. Maar niemand sal op die oordeelsdag regverdig verklaar word a.g.v. sy heiligmaking nie. In gewone Afrikaans: jy sal nie die oordeelsdag slaag omdat jy heilig genoeg was nie. Die redding wat jy hier en op die oordeelsdag geniet is uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen. Heiligmaking is die gevolg daarvan en nie die oorsaak nie.

Dadelik is daar ‘n beswaar…

3. Dit beteken dat die wet onnodig is (v.31)
Deur die geskiedenis het die kerk vergaderings oor verskillende leerstellings gehou. In 325 n.C. was daar ‘n baie belangrike vergadering in Nicea, en in 451 n.C. was daar nog ‘n belangrike een in Chalcedon. Daar was baie ander wat die geskiedenis verander het.

Tydens hierdie vergaderings het die gelowiges nie nuwe leerstellings uitgedink nie, maar bevestig wat ons nog altyd glo. Hulle het o.a. met kwessies soos Jesus se Godheid, die aard van sy menslike natuur, die Heilige Gees as God, ens. gestoei.

Die heel eerste van hierdie vergaderings is in Jerusalem gehou (Hand. 15). Daar het dit oor die evangelie gegaan. ‘Hoe kan ‘n mens reg wees met God?’ is die vraag wat hulle wou beantwoord. Red die Here ons deur die geloof alleen, of deur die geloof plus ons goeie werke? Die vergadering se slotsom was dat God ons deur die geloof alleen red sonder die werke van die wet. Dit is presies wat Paulus in boeke soos Romeine en Galasiërs leer.

Maar raak ons nie daardeur van die wet ontslae nie? Glad nie. Inteendeel, ons verhef en bevestig die wet (v.31). As God ons deur die wet red beteken dit dat Hy tevrede is met ons halwe en onvolmaakte pogings van gehoorsaamheid, en dan gooi Hy ook ‘n blinde oog vir ons oortreding van die wet.

Maar as Hy ons deur die geloof red, dan verhef Hy die wet (Jes. 42:21). Hoekom sê ek so? God vereis dat ons die wet 100% moet nakom, en vereis ook dat dié wat die wet oortree gestraf moet word (Gal. 3:10).

Jesus het die wet volmaak onderhou en die straf vir ons oortreding gedra. As jy in Jesus glo aanvaar God sý gehoorsaamheid en straf in jou plek. Op hierdie manier hou God die wet hoog, en maak Hy dit nie goedkoop soos die boodskap van redding deur goeie werke nie (v.31, 7:12).

Het die wet dan nog enige rol in die Nuwe Testament? Ja.

[a] Dit is ‘n spieël waarin jy jou vuil hart en lewe sien. Gebruik daarom die wet wanneer jy met mense oor Jesus praat. Solank as wat iemand glo dat hy skoon is, sal hy nie sy nood sien vir Jesus wat sy sonde moet wegwas nie.

[b] Dit is ‘n snoet of muilband [Eng. muzzle] wat mense se sonde terughou. Vat bv. ‘n land waarin die moordsyfer afneem wanneer die regering die doodstraf reg toepas.

[c] Dit is ‘n padkaart in die Christen se hart. Die Heilige Gees gebruik dit om te wys hoe jy God en jou naaste moet liefhê (8:4, 13:9-10, Matt. 22:37-40).

[d] Dit is ‘n teleskoop waardeur jy God se karakter sien. ‘Jy mag nie moord pleeg nie’ wys dat God lewe gee. ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie’ wys dat Hy rein is. ‘Eer jou ouers’ wys dat Hy ons Vader is. ‘Jy mag geen vals getuienis aflê nie’ wys dat Hy waarheid is.

Wat moet jy in die lig hiervan met die wet doen? Meet jouself daaraan. As jy afgode dien, God se Naam en dag minag, jou ouers nie eer nie, moord pleeg (selfs in jou hart), egbreuk pleeg, steel, leuens vertel en gierig is, is God se wet nie in jou nie (8:4). Jy is m.a.w. nie weergebore nie (Eseg. 36:25-27).

Wat moet jy hieraan doen? Moenie dink jy kan jou hart vir Jesus gee nie. Vra eerder dat Hy vir jou ‘n nuwe hart sal gee. Glo in Jesus en sy kruisdood vir sondaars. Bekeer jou, bely jou sonde en ontvang God se vergifnis.

As jy gered is moet jy die wet en Bybelse opdragte oordink om God beter te ken en jouself in die spieël te sien. Lees die wet, sodat jy kan weet wat die Here tevrede stel. Bid dat die Heilige Gees jou sal help om dit te doen. Doen wat die wet sê, omdat jy die Here wil verheerlik en nie omdat jy jouself wil regverdig nie.

Wys vandag se preek miskien dat jy nie gered is nie, dat jy in Jesus moet glo en dat jy jou moet bekeer? Wys dit dat jy afgedwaal het en na die Here toe moet terugkeer? Wys dit ‘n sonde uit wat jy moet bely? Wys dit dat jy jouself opnuut aan die Here moet toewy? Wys dit vir jou iets wat jy vir jouself of iemand anders moet bid? Wys dit iets waarvoor jy die Here moet dank en prys? Doen wat die Here vir jou wys.

Om net te dink jy moet beter doen is nie genoeg nie. Dit is selfs nie genoeg as jy probeer om te verander nie. As jy dit doen werk jy in jou eie krag, en sal dit vir een of twee weke hou en dan ophou. Maak eerder seker dat jy met die Here praat oor wat jy vandag gehoor het. As jy dit doen het ek my doel bereik.

‘The purpose of every sermon is to get the people in front of you to pray.’ (Stuart Olyott).

Die belangrikste paragraaf in die Bybel

Romans 3:21-26

Toe ek in die laerskool was, was daar ‘n Vita-C advertensie van ‘n ou man en ‘n seuntjie wat op ‘n park bankie sit. Die ou man het ‘n lemoen gehad en die seuntjie ‘n Vita-C lekkertjie.

Die ou man wou baie graag ‘n lekkertjie hê en het vir die seuntjie gesê dat hy sy lemoen vir ‘n Vita-C sal ruil. Die seuntjie wou nie, omdat een lekkertjie meer vitamien C as ‘n lemoen bevat.

Rom. 3:21-26 is so: dit is redelik kort, maar elke woord is vol betekenis. ‘n Australiese teoloog genaamd Leon Morris sê oor hierdie verse: ‘This is possibly the most important single paragraph ever written.’ [Aangehaal in John Stott, The Bible Speaks Today: Romans (Notthingham: Inter-Varsity Press, 1994), 109]. In hierdie verse antwoord Paulus Job se vraag: “hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?” (Job 9:2). Kom ons bestudeer die frases een vir een.

1. God openbaar sy geregtigheid sonder die wet (v.21a)
Die Puriteine het die rare vermoë gehad om ‘n hele boek te skryf oor een vers of oor ‘n deel daarvan. Martyn Lloyd-Jones het lank na hulle geleef, maar was tot ‘n mate so. Hy het bv. ‘n hele preek oor die woorde, ‘Maar God’ in Ef. 2:4 gepreek. In hierdie woorde wys Paulus die kontras tussen ons sonde en God se liefde.

Die woorde, ‘Maar nou’ in Rom. 3:21 is byna dieselfde en is volgens party mense twee van die mooiste woorde in die hele Bybel. Paulus stel hier ‘n kontras tussen mense wat die wet breek (1:18-3:20) en God wat sonder die wet sy geregtigheid aan ons voorsien, sodat ons voor Hom kan staan (v.21).

Sulke liefde moet jou hart smelt om die Here te prys, te dien, lief te hê, te gehoorsaam en jouself aan Hom te gee (Ef. 1:3-14, Rom. 12:1, 1Joh. 4:19). Dit is ondankbaar om die God te ignoreer wat aan jou asem gee. Maar dit is erger as jy die Een wat alles gedoen het om sondaars te red ignoreer. In daardie geval is jy so ongevoelig soos vet en het jy ‘n hart van klip (2:5, Ps. 119:70).

Om net ‘n kennis van die Bybel te hê, kerk by te woon, te bid, ens., sonder dat jy ‘n hart van liefde vir God het, is nie Bybelse Christenskap nie (Luk. 10:27). Dit is ‘n bose namaaksel.

Maar dit help ook nie dat jy hierdie emosies kunsmatig probeer opwek nie. Om hierdie emosies reg te voel moet jy die volgende doen:

  • Bid dat die Heilige Gees jou hart en verstand sal open om evangelie te verstaan.
  • Oordink die evangelie en bid vir nog begrip.
  • Glo die evangelie.
  • ‘n Gevoel van berou, liefde, blydskap, dank, vrede, ens. sal volg.
  • Toon ‘n gepaste reaksie op die bg. emosies. Voel jy berou? Bely jou sonde en bekeer jou. Voel jy blydskap en danksegging? Bid en sing. Voel jy liefde? Prys en gehoorsaam die Here. Voel jy vrede? Sê dankie en rus in God se vrede.

Die punte wat ek hierbo genoem het geld nie net vir ongelowiges nie, maar vir gelowiges wat koud en hard geraak het (Ps. 51:14, 2 Tim. 1:6, Op. 2:4). As jy nie na die Here toe terugkeer nie, sal jy ongelukkig bly en sal Hy jou aktief teenstaan (Op. 2:5).

2. Die wet en die profete getuig daarvan (v.21b)
Die son se invloed is oral in die skepping. Dit laat groen plante groei en maak so dat mense en diere kos het. Dit bak die aarde warm en laat die warm lug opstyg. Die warm lugstrome laat die wind waai. Die son laat die see verdamp, die wolke vorm en die reën val. Die son hou die maan en planete in hulle wentelbane.

Jesus is so en hou die Ou- en Nuwe Testamente bymekaar. Hy is oral in die Skrif. Die wet en die profete getuig van die geregtigheid van God wat ons deur Hom ontvang (v.21b, Eks. 12, Ps. 22, Jes. 53). As God dan die evangelie eeue voor Christus reeds aangekondig het, wys dit dat Hy al lankal beplan het om ons te red. Hy het dit voor die skepping beplan (Ef. 1:4-5) en direk na die sondeval in Gen. 3:15 aangekondig.

As God dit dan lankal in die wet en profete aankondig het, wys dit dat Hy gewillig is om ons te red. Verlossing is sý inisiatief en plan. Moet daarom nie dink dat Hy onwillig is om jou of ander sondaars te red nie. Herinner Hom aan sy gewilligheid om te red, en bid vir jouself en jou geliefdes.

3. Ons ontvang dit deur die geloof (v.22-23, 25)
Hoekom kan ons nie deur die wet reg wees met God nie? Want almal het gesondig en God se wet gebreek (v.22-23, 10-12, 1:18-3:20). Ons leef vir onsself en ons sonde, en nie volgens ons skeppingsdoel tot God se eer nie (v.23, Jes. 43:7, 21, 1Kor. 10:31).

Party mense is beter as ander, maar almal skiet ver kort (v.23). Dit is soos ‘n klomp mense wat op die strand staan: party spring verder as ander, maar niemand kan oor die see spring nie. Handley Moule sê: ‘The harlot, the liar, the murderer, are short of it [God’s glory]; but so are you. Perhaps they stand at the bottom of a mine, and you are on the crest of an Alp; but you are as little able to touch the stars as they.’ [Ibid.].

Hoe verklaar God ons dan regverdig? Deur geloof in Jesus Christus (v.22, 25). As jy in Jesus glo gee God sý regverdige rekord vir jou en aanvaar Hy sy kruisdood asof jy self die prys vir jou sonde betaal het (v.22, 25, Fil. 3:9).

Doen daarom alles moontlik om hierdie geloof te kry. Dit is immers die sleutel wat God se skatkis oopmaak en aan jou die res van sy gawes gee. Geloof is die hand wat Jesus uit die hemel na jou hart toe bring. En as jy Jesus het, het jy alles uit die bodemlose put van sy genade. Jesus is die Erfgenaam van alles en ons saam met Hom (Rom. 8:17, Ef. 1:3, Heb. 1:2).

Hoe kan jy hierdie geloof kry wat Jesus afbring na jou hart toe? Vra Hom daarvoor (Mark. 9:24, Luk. 17:5, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Moenie in jouself kyk of jy dit het nie. Vergeet van jouself en kyk na Jesus in die Woord. Bid dat Hy Homself aan jou bekend sal maak.

4. God gee dit gratis (v.24a)
Mense raak agterdogtig as jy ‘n duur item gratis weggee. Hulle is al genoeg gevang met sms’e en oproepe wat geld en gratis vakansies belowe. Hulle beskou daarom ook God se gratis verlossing met agterdog.

En tog is dit nie verdag nie: die geregtigheid wat jy nodig het om voor God te staan is regtig gratis (v.24a, 6:23). Sal God sy geliefde en unieke Seun vir jou gee en die gratis geregtigheid wat jy nodig het om in die hemel te kom terughou (Rom. 8:32)?

Los jou agterdog en ontvang God se gratis geregtigheid deur die geloof (v.22, 24a). Los ook jou trots wat nie wil erken dat jy te sleg is om God se verlossing te verdien nie. Dit verheerlik die Here as jy niks bring en vir sy genade vra. Dit is ‘n klap in sy gesig as jy sê dat Jesus se kruisdood nie voldoende is nie, maar dat jy iets wil bydra.

5. Jesus koop dit vir ons (v.24b)
Gestel ‘n ryk man gee vir jou ‘n Rolls Royce. Beteken die gratis kar dat dit goedkoop is? Nee. Dit kos hom ‘n goeie R20-30 miljoen. Net so beteken God se gratis geregtigheid nie dat dit goedkoop is nie. Dit kos Jesus se lewe (1Pet. 1:18-19). Hy het ons van sonde en Satan vrygekoop (v.24b).

Die gepaste reaksie is nie om die Bybel te lees, te bid, geld te gee, kerk by te woon en goeie werke te doen asof jy Hom kan vergeld nie. Doen eerder hierdie dinge uit liefde met die wete dat jy Hom nie kan terugbetaal nie. Sê net dankie, prys Hom en vra vir nog genade.

Om vir nog genade te vra verheerlik Hom net soveel soos danksegging, omdat jy daardeur erken dat Hy ryk is en jy arm. Sodoende erken jy ook dat alles wat jy het van Hom af kom (1Kron. 29:14, Joh. 3:27, 1Kor. 4:7, Jak. 1:17).

Wat ek is is net genade,
wat ek het is net geleen

-Koos du Plessis-

6. Jesus het dit bevredig (v.25-26)
Omdat ons God se wet gebreek het, vereis sy geregtigheid dat ons gestraf moet word. Maar in sy liefde het Hy mens geword om die wet namens ons te onderhou en ons straf te dra asof Hý dit oortree het. Op hierdie manier het Jesus die Vader se toorn afgewend en dit bedaar. Dit is wat die Griekse woord vir versoening [hilastērion] in v.25 beteken.

Liberale teoloë haat dit dat God se toorn op sy Seun uitwoed en noem dit Cosmic Child Abuse (John Dominic Crossan). Ander mense wil liede soos In Christ Alone sing maar die woorde verander. Een groep wou bv. nie die woorde hê wat sê:

’Til on that cross as Jesus died,
the wrath of God was satisfied.

Maar hulle haat vir God se toorn op Golgota wys dat hulle dink die mens is nie so sleg nie en God nie so heilig nie. Hulle beskou v.25 verkeerd en dink dat Jesus ons wil red, maar die Vader nie. Hulle dink dat Jesus aan die kruis gesterf het om ‘n kwaai God te keer.

Maar die Vader self het ons lief en het die inisiatief geneem om ons te red (v.25, Joh. 3:16, 16:27, 1Joh. 4:10). Die evangelie is nie ‘n heidense godsdiens waarin die aanbidder iets moet offer om ‘n wispelturige god se toorn te bedaar nie. God het Homself in Christus gegee om sy toorn af te wend (v.25). Jesus se bloed het uitgeloop. Hy het die beker van God se toorn gedrink sodat ons nie hoef nie (Joh. 18:11, Op. 14:10).

Ons wil die lering oor God se toorn vermy en nie daaroor dink nie. Maar soms moet ons daaroor dink om te besef waarvan Hy ons gered het, asook wat dit Jesus gekos het om ons te red. As ons dit besef sal ons die Vader en die Seun meer liefhê, en sonde meer haat.

As jy dink dat sonde nie so erg is nie, sal jy sê dat die hel onregverdig is, en dat die kruis nie só nodig is vir ons redding nie. Jy sal dink dat ons ook deur ander godsdienste gered kan word. Jy sal dink dat God ‘n R150 boete afgeskryf het, en Hom nie so liefhê soos iemand wat besef dat Hy eintlik ‘n $900 triljoen boete afbetaal het nie (Luk. 7:41-43, 47).

Nou en dan sê een of ander liberale teoloog dat die God van die Ou Testament kwaai is en net wil straf, terwyl die God van die Nuwe Testament liefdevol en genadig is. Hulle maak asof daar twee Gode is, en verkies die God van die Nuwe Testament.

Maar dit is niks anders as die antieke dwaling wat gnostisisme genoem word nie. Hierdie lering is onwaar, aangesien die God van die Ou Tesament baie liefdevol en geduldig is. Vir 4000 jaar het Hy juis nié die mens uitgewis soos wat hy verdien nie. Hy het bv. nié vir Adam en Dawid hel toe gestuur nie, maar hulle sonde oorgesien.

Beteken dit dat Hy ‘n korrupte Regter is wat die onreg laat seëvier? Nee. Hy het hulle sonde oorgesien, omdat Hy self in die toekoms die straf vir hulle sonde sou dra aan die kruis (v.25). Jesus het m.a.w. nie net aan die kruis gesterf om ons sonde weg te vat nie, maar om te wys dat God regverdig is en die sonde nie oorsien nie (v.25). Op grond hiervan het John MacArthur in ‘n preek gesê: ‘Who did Jesus die for? He died for God, to show his righteousness.’

God wys ook sy geregtigheid wanneer Hy deur Jesus se kruisdood die vuil klere van jou sonde uittrek en vir jou die skoon klere van Christus se geregtigheid aantrek (v.26, Sag. 3:3-5, 2Kor. 5:21). As God ons sonder die kruis vergewe en regverdig verklaar het, was Hy soos ‘n korrupte regter in Suid-Afrika wat die misdadiger vrylaat. As Hy ons aan die ander kant gegee het wat ons verdien, was ons almal in die hel.

Jesus se kruisdoood is die oplossing: God is regverdig en straf ons sonde in Christus. Hy verklaar ons ook regverdig deur ons geloof in Christus (v.26). Die kruis wys God se geregtigheid en genade: “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” (Ps. 85:11).

As God dan soveel moeite gedoen het om sy geregtigheid te wys, moet ons Hom nie van ongeregtigheid beskuldig nie.

  • Hy is nie onregverdig as Hy mense wat in hulle sonde volhard hel toe stuur nie.
  • Hy is nie onregverdig as Hy vir Jakob kies en nie vir Esau nie (9:14, 21, Matt. 20:15).
  • Hy is nie onregverdig as Hy die heidene wat nog nooit van Jesus gehoor het vir hulle sonde straf nie (1:19-21, 2:14-15).
  • Hy is nie onregverdig as Hy mense aan hulle harde harte oorgee, sodat hulle nie kán glo nie (9:18).
  • Hy is nie onregverdig as Hy geduldig is met Julius Malema en Hom nie dadelik vir sy sonde straf nie.
  • Hy is nie onregverdig as Hy sg. ‘onskuldige’ mense doodmaak nie (5:12).
  • Hy is nie onregverdig as Hy beproewing oor jou pad stuur nie.

Sê eerder dat God reg is, al verstaan jy nie alles nie. Hy is die definisie van wat reg en verkeerd is. Buig voor wat Hy sê reg is.

Maar prys Hom die meeste dat Hy jou deur die kruis so regverdig soos Jesus beskou. Deur Christus se geregtigheid is jy in status so regverdig soos die gelowiges in die hemel. Vir ‘n vrou in Oos-Londen was dit die beste nuus ooit. Toe sy hoor hoe wyle dr. Martin Holdt daaroor preek, wou sy niks anders hoor nie. En as jy dit eers snap sal jy dieselfde voel, omdat dit die beste nuus in die wêreld is.

Die soort gebed wat beantwoord word

Praying hands on Bible

Hoe moet dit wees om ‘n knievervanging te kry omdat jy so baie gebid het, en nie a.g.v. ou ‘n rugby besering of ‘slytasie’ nie?  John Welch het so baie gebid dat sy knieë so hard soos ‘n bees se horings was.[1]  Op Martin Holdt se begrafnis het sy dogter gesê dat daar eelte op haar pa se elmboë en knieë was omdat hy so baie gebid het.

 

Volgens oorlewering het Jakobus so baie gebid dat sy knieë so hard soos ‘n kameel s’n was.[2]  In hierdie kort brief maak hy drie keer melding van gebed (1:5-8, 4:2-3, 5:13-20).  Vandag wil ek op Jak. 5:13-16a fokus en in die volgende preek op v.16b-20.

 

  1. As jy ly (v.13a)

As ek reg onthou het Joel Beeke die volgende storie vertel.  ‘n Eeu of wat gelede het ‘n klomp predikante van hulle goeie vroue gepraat.  Een van hulle het ‘n slegte vrou gehad en kon nie saam praat nie, maar het gesê dat dit hom dryf om sewe keer ‘n dag te bid.

 

As jy ly moet jy nie oor jou omstandighede kla nie, maar bid (v.13).  Sê vir die Here as iemand jou sleg behandel, as jou baas jou nie betaal nie, of as jy deur ‘n ander beproewing gaan (1:1-2, 2:5-6, 5:1-11).  Hy weet al klaar (Matt. 6:8), maar wil hê dat jy vir Hom moet sê.

 

Prys die Here in jou beproewing (1:2, Hand. 16:25); dank Hom dat dit nie langer sal duur as wat Hy beskik het nie en dat Hy dit vir jou voordeel sal uitwerk (Job 23:14, Rom. 8:28, 1Tess. 5:18).  Bid vir wysheid om jou lyding reg te hanteer (1:5), bely alle sonde wat die Here vir jou uitwys (v.16a), bid vir krag om staande te bly, en vra die Here om jou uit te help.

 

  1. As jy bly is (v.13b)

Dit klink voor die hand liggend dat mense die Here sal prys as dinge met hulle goed gaan en hulle bly is, maar dit is nie altyd so nie.  Party mense bid as hulle ly (v.13a), maar prys hulleself, hulle geld, die dokter, Donald Trump, die DA, of iemand anders as dit met hulle goed gaan.

 

Dit is nie hoe die Here dit wil hê nie: “Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.” (v.13b).  Erken dat die goeie dinge in jou lewe van God af kom (1:17, 1Kor. 4:7).  Laat daar ‘n lied in jou hart wees, en maak seker dat dit nie Hansie Slim of een van Kurt Darren se liedjies is nie.  Prys die Here as Hy vir jou werk gee, jou rug beter maak of jou kind red.

 

  1. As jy siek is (v.14-15a)

Ons het al ‘n paar keer hierdie verse in ons gemeente toegepas; ek het ook al gesien hoe ander gemeentes dit doen.  Dit het egter net in twee gevalle gewerk.  Hoekom?

 

Ons en die ander gemeentes het die verse verkeerd verstaan en toegepas.  Hoe so?  Ons het dit op siek ongelowiges toegepas en op enige siek gelowige.  Die ander gemeentes het die siek mense tydens die erediens vorentoe geroep, hulle met olie gesalf en vir hulle gebid.

 

Natuurlik kan ‘n mens vir siek ongelowiges en enige siek gelowige bid.  Dit is ook nie verkeerd om tydens die erediens vir siek mense te bid nie.  Maar dit is nie wat Jakobus bedoel nie.  Hier gaan dit spesifiek oor ‘n gelowige wat siek is, en nie oor ongelowiges wat die kerk besoek nie: “Is daar iemand siek onder julle?” (v.14).

 

Verder gaan dit nie oor enige siek gelowige nie.  Die Griekse woorde in v.14-15 [astheneō en kamnō] praat van iemand wat fisies en emosioneel uitgeput is.  Die persoon kan nie kerk toe kom nie, en vra daarom dat die ouderlinge na hom toe kom (v.14).  Hy vra húlle om te bid, omdat hy nie eers die krag het om dít te doen nie (v.14).  Die feit dat hulle oor hom bid (v.14) en die Here hom oprig (v.15), impliseer dat hy plat op sy rug lê en nie kan opstaan nie.  Jak. 5:14-15 geld dus nie vir ‘n siek gelowige wat self sy inkopies kan doen en kerk toe kom nie, maar vir een wat bedlêend is.

 

Hy moet die ouderlinge laat roep en nie net die predikant nie (v.14).  ‘n Diaken kan vir die siek persoon medisyne of kos vat (Hand. 6:1-7), maar die ouderlinge is herders wat sy na siel moet omsien en vir hom moet bid (v.14, Eseg. 34:4, 1Pet. 5:1-3).

 

Die siek persoon se behoefte om die ouderlinge te sien moet van sy kant af kom (v.14).  Dit wys dat hy God se Woord glo en gesond wil word.  As die ouderlinge by die sieke se huis of hospitaal bed aankom, moet hulle vir hom bid en hom met olie salf (v.14).  Wat is die doel van die olie?

 

Omdat olyfolie in die Bybel se tyd as medisyne gebruik is (Jes. 1:6, Luk. 10:34), dink party mense Jakobus bedoel die siek persoon moet sy pille drink.  Medisyne is God se geskenk aan ons en werk nie teen gebed nie, maar saam met dit (2Kon. 20:1-7).

 

Moet dan nie dink dat dokters, hospitale en medisyne ongeestelik is nie.  Maar aan die ander kant moet jy nie van een dokter na die volgende toe spring en elke liewe medisyne onder die son probeer terwyl jy v.14-15 ignoreer nie.  Sonder Jesus is jou huisdokter, snydokter en medisyne ‘n nul op ‘n kontrak; dit beteken niks (2Kron. 16:12, Luk. 8:43).

 

En tog is ek nie oortuig dat die olyfolie in v.14 van medisyne praat nie, aangesien Jakobus geweet het dat dit nie vir elke siekte werk nie.  Wat my betref het die olie ‘n simboliese betekenis soos in Mark. 6:13 toe die apostels mense met olie gesalf en hulle genees het.

 

Die olie wys dat God die sieke vir spesiale genade, gebed en guns afsonder.  Ons glo nie dat die krag in die olie lê nie, net soos wat ons nie glo dat die modder of spoeg in Joh. 9:6 die blinde man laat sien het nie.  Die krag lê in die Here wat ons gebede verhoor.

 

Dit is hoekom die ouderlinge nie net die sieke salf nie, maar dit in die Naam van die Here (as sy verteenwoordigers) doen (v.14).  Dit is asof Hy self by die persoon se bed is om hom te genees (Hy is inderdaad!).

 

Die ouderlinge moet glo dat Hy die sieke sal, kan en wil genees.  As hulle aan sy getrouheid, gewilligheid en krag twyfel, moet hulle nie iets verwag nie (1:6-7).  Maar as hulle die gebed van geloof bid sal die Here die sieke genees (v.15).

 

Wat is die gebed van geloof?  Dit gaan nie oor hoe groot jou geloof is nie, maar oor hoe groot die God is in wie jy glo.  Glo jy dat Hy groot, almagtig, goed en getrou is?  Glo jy dat Hy jou gebede kan en sal beantwoord?

 

Om met geloof te bid beteken dat jy sonder twyfel weet die Here gaan jou beantwoord.  Jy weet m.a.w. vooraf dat Hy jou gebed verhoor het en dat jy sal ontvang waarvoor jy vra: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mark. 11:24).  Dit is wat dit beteken om volgens God se wil en in sy Naam te bid: jy vra omdat Hy iets belowe het (Joh. 14:13-14, 15:7, 16, 16:23-24, 1Joh. 5:14-15).

 

Jy kan uit die Bybel weet as die Here iets belowe het, maar hoe weet jy of Hy vir jou iets gaan gee wat nie in die Bybel staan nie?  Hy belowe tog nie dat Jan gesond gaan word nie?  In Stuart Olyott se boek Something Must Be Known and Felt, wys hy hoe ‘n mens God se wil in sulke gevalle kan ken.

 

[Verskoon asb. dat ek illustrasies uit my persoonlike ervaring gebruik, maar as ek gelykenisse vertel sal party mense dink dat hierdie dinge nie regtig gebeur nie.  Ek is ‘n streep teoloog of ‘cessationist’ wat glo dat gawes soos profesie na die tyd van die apostels uitgesterf het.

 

En tog het ou skool streep teoloë soos Charles Spurgeon nie soos vandag s’n geglo dat die Heilige Gees ons nooit op subjektiewe maniere lei nie (sien b-e hieronder).[3]  Waar die Heilige Gees ons egter subjektief lei moet ons dit aan die objektiewe waarheid van die Woord meet.  As die ‘gees’ wat ons lei met die Bybel bots, is dit nie die Heilige Gees nie maar ‘n vals gees.  Die subjektiewe leiding van die Gees kan nooit die Bybel vervang nie].

 

[a] Die Heilige Gees herinner jou aan Bybelse beloftes waarvan jy skoon vergeet het.  Bring hierdie beloftes in gebed na die Here toe: “Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy…” (Jes. 62:6-7).  Vra die Heilige Gees om jou aan die Woord te herinner wanneer jy bid, en strek deur gebed die hand geloof uit om aan God se getrouheid, gewilligheid en krag vas te hou.

 

[b] Soms sal die Here ‘n persoon, behoefte of saak op jou hart lê.  Dit sal so swaar op jou weeg dat jy nie anders kan as om daarvoor te bid nie.  Ek het ‘n berading-kursus geloop en R1000 nodig gehad vir boeke.  Ek het vir niemand gesê nie, maar die saak voor die Here gelê.

 

‘n Ruk later toe kom daar ‘n vreemdeling by die kerk aan (dit was ‘n weeksdag).  Dit was iemand wat my by ‘n begrafnis hoor preek het.  ‘Ek glo die Here wil hê ek moet hierdie koevert vir jou gee,’ het sy gesê.  Daar was R1000 in.  As dit nie die Here was wat dit op haar hart gelê het nie, wie was dit?

 

[c] Die Here bring nuwe gedagtes na jou toe.  Ek was eendag besig om te bid toe ek skielik aan ‘n tannie in ons gemeente gedink.  Ek het vir haar gebid.  ‘n Dag of wat later toe bel sy my.  Toe ek vir haar gebid het, het sy ‘n krisis beleef.  Die Here het dit opgelos.

 

[d] God se voorsienigheid (wat die wêreld ‘geluk’ noem) bevestig soms dat jy vir iets of iemand moet bid.  Op een of ander manier kom jy by Kallie uit toe jy vir Hannes bel.  Jy het drie jaar laas met hom gepraat en vind uit dat hy jóú wou bel, maar nie jou nommer gehad het nie.  Hy vertel jou van sy situasie.  Jy bid vir hom en hoor later dat die Here sy krisis opgelos het.

 

[e] Partykeer gebeur iets buitengewoon waarvoor jy nie gesoek het nie.  Op Saterdagnag 12 April 1856 het Spurgeon erg met sy preek gesukkel.  Hy het die Here vir lig gevra, maar niks het gebeur nie.

 

Sy vrou het voorgestel dat hy gaan slaap en baie vroeg opstaan.  Hy het haar gevra om hom wakker te maak.  Êrens na middernag het hy in sy slaap gepraat.  Mev. Spurgeon het wakker geword en gehoor dat haar man sy teks in sy slaap preek.  Sy kon dit nie neerskryf nie, en het die belangrike punte oor en oor vir haarself gesê.  Toe hy wakker word het sy hom vertel wat gebeur het.  Hulle het die Here saam gedank.[4]

 

Die Here gee nie nuwe openbarings nie (Op. 22:18-19), maar dit is ‘n feit dat Hy soms op buitengewone maniere ons gebede beantwoord en selfs in ons slaap (of op ander vreemde maniere) vir ons wys waarvoor ons moet bid.

 

Iemand in ons gemeente het onlangs so iets met my gedeel.  Ek het my verstom oor hoe die Here ons in ons slaap troos, bemoedig, waarsku en leer.  Die Woord van God kom inderdaad in die dag en in die nag na ons toe (Ps. 16:7, Spr. 6:21-22).

 

Ons moet egter nie die buitengewone najaag nie, en dit altyd aan God se Woord en volwasse gelowiges toets (Spr. 11:14, Hand. 16:9-10, 2Pet. 1:18-19).  As jy weet dat dit die Here se wil is, kan jy met vrymoedigheid daarvoor bid.  As jy onseker is kan jy Hom vra om sy wil vir jou te wys, sodat jy daarvolgens kan bid en seker kan wees van ‘n antwoord.

 

Dít is die gebed van geloof waarvan Jakobus in v.15 praat.  Waarvoor het jy geloof?  Glo jy dat die Here vir jou die nodige R500 sal gee?  Bid dan daarvoor.  Glo jy dat Hy iemand sal stuur om jou ou tent vir hierdie bedrag te koop?  Bid daarvoor.  Om volgens jou geloof te bid en ‘n antwoord te verwag is heeltemal Bybels (Matt. 9:28-29, 20:32-34).  In die ou dae het mense soos John Welsh, George Müller en Hudson Taylor het dit persoonlik ervaar.[5]

 

Jy moet egter eers reddende geloof hê voordat jy die gebed van geloof kan bid (Heb. 11:6).  Hoe kry jy dit?  Jy moet besef dat jy verlore is.  Jou luiheid, selfliefde, ondankbaarheid, murmurering, selfbejammering, kort humeur, oneerlikheid, onbetroubaarheid, ongeduld, hoogmoed en ander sondes staan die Here nie aan nie; Hy haat dit.

 

Eers as jy reddende geloof het kan jy in ‘n regte verhouding met Hom staan.  Vra Hom daarvoor; Hy sal dit vir jou gee (Ef. 2:8, Fil. 1:29).  Jy sal weet as jy dit het: jy sal glo dat Hy sy Seun gestuur het om jou te red, jy sal glo dat Jesus die ware God is wat mens geword het, dat Hy ten volle God en mens is, dat Hy aan die kruis die straf vir ons sonde gedra het, dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Jy sal in Hom glo om jou van jou sonde en God se oordeel te red, en jouself aan Hom toevertrou.

 

Om die gebed van geloof te bid moet jy jou hart met die Bybel vul en dit glo.  Hoe meer jy die Skrif ken, hoe meer beloftes het jy om aan vas te hou en hoe meer waarhede is daar waaraan die Heilige Gees jou kan herinner.  Om jou geloof te versterk moet jy ook baie bid.  ‘n Christen wat baie bid sal meer antwoorde sien as iemand wat gebed afskeep (4:2).  En as jy gereeld antwoorde sien sal die Here jou geloof versterk sodat jy nog méér bid.

 

Waar die ouderlinge só bid sal die Here die sieke genees (v.15).  Hy sal hom red van die siekbed waaraan hy ‘vasgeketting’ is; Hy sal hom laat opstaan sodat hy vrylik kan rondloop (v.15).  Moenie kleingelowig en biddeloos wees soos die dissipels nie (Matt. 17:20-21), maar glo dit.

 

  1. As jy gesondig het (v.15b-16a)

Charismatiese predikers sê te maklik vir siek mense dat hulle gesondig het.  Maar die meeste konserwatiewe predikers sê dit nooit.  Die Bybel sê nie dat siekte altyd deur sonde veroorsaak word nie (Job 2:3, 7, 10, Joh. 9:1-3), maar soms is dit die oorsaak (Ps. 38:4, Joh. 5:14, 1Kor. 11:30).

 

In sulke gevalle moet God die persoon vergewe voordat hy genees kan word (v.15b, Mark. 2:1-12).  Om genees te word moet die sieke sy sonde bely (v.16a).  Hy moet dit nie aan die gemeente of ouderlinge bely nie (ons is nie Katolieke nie), maar aan die Here en die persoon teen wie hy oortree het.

 

Om te bely [Gk. exomologeō] beteken letterlik om saam te stem met wat die Here sê.  Moenie jou kort humeur versag en sê dat jy ongelukkig is nie.  Moenie sê dat jou verslawing ‘n siekte is nie.  Moet jou bitterheid regverdig nie.  Moenie jou omstandighede of ander mense vir jou woede blameer nie.  Moenie maak of jou onreinheid nie so erg is nie: ‘Dis nie asof ek…’  Moenie van jou leuens sê: ‘Jammer, ek het dit nie bedoel nie.’  Moenie jou geskinder wegpraat en sê: ‘AS ek iets gedoen het om jou seer te maak is ek jammer’ nie.

 

Bybelse belydenis sê nie ‘ek is jammer’ en loop weg nie.  Dit vra vir vergifnis en wag vir ‘n reaksie.  As jy vir vergifnis vra plaas jy die skuld op jouself en fokus jy nie op die ander persoon se sonde nie.  Dus moet jy ook spesifiek wees: sê wat jy gedoen het en waarvoor jy jammer is.  Erken dat jou sonde die persoon seergemaak het.  Wees gereed om te verander en die negatiewe gevolge van jou sonde te dra (dit wys dat jy regtig berou het).

 

As jy klaar met die persoon reggemaak het, moet jy dinge met die Here regmaak (Matt. 5:23-24).  Opregte belydenis is een van die gebede wat beantwoord word; die Here sal jou vergewe (v.15-16a, 1Joh. 1:9).  As jy die slagoffer van iemand se sonde is, moet jy die Here vra om die persoon te vergewe (v.16a, Gen. 20:7, Job 42:8, 10, Hand. 7:60, 2Tim. 4:16).

 

Dalk moet jy dit vandag doen?  Of miskien moet jy vir iemand vergifnis vra?  Moenie uitstel nie, maar vra die Here om jou te help.  As jy dit gedoen het sal jy die vryheid ervaar van iemand wat vir 8 km in die berge gaan stap het en sy rugsak neersit.  Jy sal weet dat beantwoorde gebed nie maar net ‘n teorie nie, maar ‘n werklikheid.

 

[1] John Howie, The Scots Worthies, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1995 (1870), p. 138

[2] John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, Whitaker House, New Kensington: PA, 1981, p. 10

[3] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1973, pp. 59-60.  Wayne Grudem (Ed.), Are Miraculous Gifts for Today? – Four Views, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1996, pp. 201-203

[4] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1962, pp. 419-420

[5] Bestel gerus hulle biografieë by Good Neighbours in Randburg of Augustine Bookroom in Pretoria.  Ek lees op die oomblik The Autobiography of George Müller (Whitaker House, New Kensington: PA, 1985) en put baie seën daaruit.

Hoe kan ’n mens reg wees met God?

Cour gravel

Dit is wat John Cennick in die vroeë tot mid-1700’s wou weet.  ‘Hoe kan ek wéét dat die Here my eendag sal aanvaar?’ het hy gewonder.  Hy het alles in sy vermoë gedoen om vrede met God te hê.  Hy het gevas, gehuil, gebid, die Bybel gelees, sy sondes bely, akkers, blare, krappe en gras geëet.

 

Maar niks het gewerk nie.  Hy moes eers aan die einde van homself kom en besef dat Jesus sy verlossing aan die kruis gekoop het.  Daarna het hy hom nie meer op sy onskuld, pogings of werke beroem nie, maar bely dat Jesus se bloed en lyding sy enigste hoop is.

 

Sy sondelas en vrees vir die hel het verdwyn.  Hy het geweet dat Jesus hom liefhet en vir hom gesterf het.  God se vrede het soos ‘n lig in sy hart ingeskyn en hom met ‘n onbeskryflike vrede gevul.[1]

 

Cennick se belewenis is nie uniek nie.  Meer as 4000 jaar gelede het een van Job se vriende gevra: “Hoe sou dan ‘n mens regverdig wees by God?” (Job 25:4).  Dít is die vraag wat Paulus in Rom. 1:17 beantwoord.

 

  1. Die geregtigheid van God

Voor Martin Luther se bekering het hy gedink Rom. 1:17 verwys na die regverdige oordele van God waardeur Hy ons oordeel.  ‘Ek het die geregtigheid van God gehaat…en was kwaad vir die Here,’ het hy gesê.

 

Na ‘n intense stryd het hy Paulus se woorde verstaan: God gee sy eie geregtigheid as ‘n gratis geskenk aan dié wat in sy Seun glo.  Luther was oorstelp van vreugde: ‘Dit het gevoel of ek geheel en al weergebore is en deur die oop hekke van die paradys ingegaan het.’[2]

 

Kom ons kyk of ons kan sien wat Luther gesien het.  Paulus begin die vers met ‘want’ om te wys hoekom hy in v.16 gesê het dat die evangelie die krag van God tot redding is van elkeen wat glo: dit is omdat God daarin die geregtigheid voorsien wat ons nodig het om voor Hom te staan (v.17).

 

In onsself is ons nie goed genoeg om in sy heilige teenwoordigheid in te kom nie.  Volgens Paulus in Fil. 3:8 is ons geregtigheid soos jou baba se vuil doek of jou hond se mis wat op die gras lê.  Ons beste pogings is so smerig soos ‘n ‘mechanic’ se olie lap of vingernaels, en kan ons nie aanneemlik maak voor God nie (Jes. 64:6).

 

Dit sal dus heeltemal regverdig wees as die Here besluit om ons op die ashoop van die hel te gooi.  Tog het Hy in sy genade gekies om mens te word en onder sy eie wet te staan (Gal. 4:4).  Hy het die wet volmaak gehoorsaam en toe soos ‘n geharde misdadiger gesterf asof Hy dit oortree het (2Kor. 5:21, Gal. 3:13).

 

Dit het Hy vir óns gedoen.  Hoekom was dit nodig?  Ons het die Koning ‘n oneindige bedrag geskuld.  Hy het gesien dat ons dit nie kan betaal nie en ons innig jammer gekry.  Uit sy groot liefde het Hy self die skuld betaal en dit afgeskryf (Matt. 18:23-27, Kol. 2:14).

 

Die rekening het op R0 gestaan.  Ons het nie meer skuld gehad nie, maar was nog steeds brandarm.  Om aan ons die hemel se rykdom te gee, het God die oneindige bedrag van Christus se geregtigheid vir ons inbetaal.  Nou is die hemelse Boekhouer en Bankbestuurder tevrede.

 

Om op te som kan ons sê dat Jesus se kruisdood ons skuld betaal het, en dat sy lewe van geregtigheid ons so ver in die krediet plaas, dat ons dit nie sal kan uitput nie.  Die genade wat Hy vir ons inbetaal het kan nie opraak nie.  Ons is inderdaad skatryk (2Kor. 8:9)!

 

Hoe moet ons die bg. waarhede toepas?

 

[a] Die self-regverdige persoon

Geen mens is regverdig nie (3:10), en daarom help dit nie dat jy deur jou goeie werke of godsdienstige pogings probeer om God se guns te wen nie (10:3).  Jy kan net sowel $900 triljoen se skuld met 5-sente probeer afbetaal.

 

Dalk dink jy dat jy nie só sleg is nie, en dat jy deur jou goeie lewe die Here se aandag kan trek.  Maar of jy nou R1 of R100 het, jy kan nog steeds nie ‘n eersteklas kaartjie na die Bahamas toe bekostig nie.  God se standaard is volmaaktheid; geen mens kan dit bereik nie.  Christus alleen het dit bereik, en daarom het ons sý geregtigheid nodig.

 

[b] Die hopelose ongelowige

Dalk dink jy dat jy te erg teen die Here gesondig het, en dat Hy jou nie kan vergewe nie.  Maar as jy met ‘n berouvolle hart bid dat die Vader Jesus se perfekte lewe en kruisdood in jou plek aanvaar, sal Hy jou nie wegwys nie.

 

Hy sal jou deur die kristalhelder lense van Jesus se lewe en kruisdood bekyk.  Al kom jy met die vuilste hart na Hom toe, sal Hy jou onmiddellik met die skoon klere van Christus se geregtigheid bedek (Sag. 3:3-5).

 

Voortaan sal Hy jou so heilig en regverdig soos Christus self beskou.  Hy sal nooit vir jou sê dat jy nié na Hom toe kan kom nie; die deur is altyd oop.

 

[c] Die onkundige Christen

Het jy ‘n beter kans om deur die Here aanvaar te word omdat jy vandag jou Bybel gelees het, of omdat jy op ‘n geestelike bergtop is?  Is die kans dat die Here jou aanvaar kleiner omdat jy gister gesondig het, of omdat jy vir twee dae nie gebid het nie?

 

Partykeer dink ons dat ons eers ‘n spul goeie werke moet doen en onsself genoeg moet slaan, voordat die Here ons sal aanvaar.  Ons rus gans te maklik op ons goeie werke, stiltetyd en gebede, en nie in Christus alleen nie.

 

Thomas Brooks het gesê: ‘It is not your [quiet time], but…Christ that must save you.  If a man has no share in Christ, he may perish with “Our Father” in his mouth.’[3]

 

Die Here aanvaar jou op grond van Jesus se lewe en kruisdood, en nie op grond van iets wat jy doen of nié doen nie.  Sê dan vir jou goeie werke, stiltetyd en gebede: ‘I will rest no more in you, but now I will rest only in the bosom of Christ, the love of Christ, the righteousness of Christ.’[4]

 

[d] Die persoon wat afgedwaal het

As Christus jou geregtigheid is, is Hy ook jou heiligmaking (1Kor. 1:30).  Iemand by wie die vrug van heiligmaking afwesig is, moet wonder of hy die wortels van regverdigmaking het.  God het ons tog nie geregverdig om onheilig te wees nie, het Hy (Gal. 1:4, Tit. 2:14)?

 

[e] Die beproefde gelowige

Wonder jy hoekom die Here jou straf?  Dit mag wees dat Hy jou tugtig, maar omdat Hy sy Seun in jou plek gestraf en sy geregtigheid aan jou toegereken het, is jou beproewing nie ‘n veroordeling nie (8:1).  Dit is tot jou voordeel (5:1-5, 8:28, Heb. 12:10-11).

 

  1. 2. Uit geloof tot geloof

As jy skaap tjops met groente en gebakte aartappels eet is dit nie jou keel wat jou versadig nie, maar die kos.  En tog het jy ‘n keel nodig om die kos in jou maag te kry, sodat dit jou kan versadig.

 

Net so is dit nie geloof wat jou red nie, maar God se genade.  En tog het jy die keel van geloof nodig om die smullekker kos van God se genade in te neem en te ontvang.  Wat beteken dit om te glo?

 

  • Jy móét glo dat God sy Seun gestuur het om ons te red.
  • Jy móét glo dat Jesus volkome God is, en dat Hy volkome mens geword het.
  • Jy móét glo dat Jesus die Vader volmaak gehoorsaam het.
  • Jy móét glo dat Hy op Golgota die straf ontvang het wat ons moes kry.
  • Jy móét glo dat Hy begrawe is en op die derde dag liggaamlik opgestaan het uit die dood.

 

Geloof is nie ‘n sprong in die donker, asof jy dinge blindelings aanvaar, ‘n kans vat, jou oë toeknyp en hoop vir die beste nie.  Nee, geloof is gebaseer op iets wat in die geskiedenis gebeur het.  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb. 11:1).

 

Geloof is niks minder as om die historiese feite van Christus se Persoon, lewe, kruisdood, begrafnis en opstanding te aanvaar nie.  Maar dit is meer as dit.

 

Om in Jesus te glo beteken dat jy op Hom vertrou, net soos wat jy op die grond vertrou om jou gewig te dra.  Iemand wat op Christus vertrou sal sy sonde na Hom toe bring om vergewe te word.

 

En as Hy jou gered het sal jy deur die geloof lewe: “uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (v.17).  Wat beteken dit?  Daar is vier moontlikhede.

 

[a] In 2017 wou Gavin niks van die Here weet nie.  Vandag glo hy in die Here.  Hoe het dit gebeur?  Volgens Ef. 2:8 en Fil. 1:29 het God hom in staat gestel om te glo.  Die geloof het uit God tot Gavin se hart gekom: ‘uit geloof tot geloof’.

 

[b] Toe Nick die evangelie met Phillip deel en hy tot bekering kom, het hy as’t ware sy geloof met hom gedeel: ‘uit geloof tot geloof’.

 

[c] Rentia is nou al vir 10 jaar ‘n Christen.  Haar geloof het van een vlak na die volgende toe gegroei: ‘uit geloof tot geloof’ (vgl. (2Kor. 3:18).

 

[d] Tannie Martie het in 1942 ‘n Christen geword toe sy in Jesus glo.  Sy het deur die jare in Hom geglo, en noudat sy op haar sterfbed lê glo sy nog steeds in Hom.  Van begin tot einde was haar Christelike lewe een van geloof (2Kor. 5:7, Kol. 1:23): ‘uit geloof tot geloof’.

 

Al vier moontlikhede is waar, maar uit die konteks lyk dit of Paulus die laaste een bedoel.  Sy aanhaling van Hab. 2:4 bevestig dit: “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (v.17).  Wat beteken dit?

 

Net soos Maria Magdalena en Timoteus in die Nuwe Testament, is Ou Testament gelowiges deur die geloof geregverdig (4:22-25, Gal. 3:6-7).  Hulle het geglo in die Messias wat sou kom.  Hab. 2:4 illustreer dit.

 

God het vir die profeet gesê dat die Babiloniërs teen Jerusalem sou kom om dit te verwoes.  Daarna sou die Here húlle platvee en die regverdige Jode wat in Hom glo laat lewe.

 

Omdat Jesus 600 jaar later vir hulle sou lewe en sterwe, het Hy hulle onskuldig en regverdig verklaar.  Maar hulle geloof was nie ‘n eenmalige aksie nie: hulle het aangehou glo.

 

Net so word ons deur die geloof geregverdig (hfst. 1-5, Gal. 3:11), maar glo ons voortdurend dat God aan ons die krag sal gee om heilig te lewe (hfst. 6-8, Heb. 10:38).  Ons benodig geloof vir regverdigmaking sowel as vir heiligmaking.  Wat is die verskil?

 

Regverdigmaking is die hof se verklaring oor die misdadiger wat in Jesus glo: ‘Jesus het sy volmaakte rekord met joune geruil en jou skuld betaal.’  Jy is skuldig en verdien om gestraf te word, maar deur Jesus verklaar die Vader jou onskuldig en regverdig.

 

In regverdigmaking doen God nie iets in jou nie, maar aan jou: Hy maak ‘n verklaring oor jou.  Een kommentator sê: ‘…in justification God does not change us but accepts us as we are.’[5]

 

Heiligmaking is die proses waarin God iets in ons doen, waarin Hy ons regverdig maak.  Dit sal aanhou totdat jy jou asem uitblaas en in die hemel is.  Dáár sal jy in realiteit word wat jy nou in status is: onskuldig en regverdig.

 

Mense is geneig om die orde van regverdigmaking en heiligmaking om te keer.  ‘As ek goed genoeg lewe sal die Here sê dat ek regverdig is en my in die hemel toelaat,’ is hoe hulle redeneer.  Dit het een van twee dinge tot gevolg.

 

Aan die een kant is mense self-regverdig en hoogmoedig, omdat hulle dink hulle is goed genoeg om in God se teenwoordigheid in te kom.  Hulle sien neer op dié wat (in hulle oë) nie so goed is soos hulle nie.

 

Aan die ander kant raak mense mismoedig en leef hulle in onsekerheid.  Hulle weet nooit of hulle genoeg gedoen het om God se guns te wen nie.  Later beskou hulle Hom as ‘n harde Regter wat hulle nie wíl red nie.

 

Maar dit is omdat hulle die kar van heiligmaking voor die perde van regverdigmaking span.  Hulle is gewoonlik die tipe mense wat hulleself eers wil verander voordat hulle na die Here toe kom.

 

Maar as hulle regverdigmaking en heiligmaking in die regte volgorde gesit het, sou hulle eerste met ‘n berouvolle hart na die Here toe kom en die evangelie glo.  Hulle sou hulle sonde gebring het en vir die Here gevra het om hulle te verander.

 

Heiligmaking sou die gevolg van hulle regverdigmaking wees, en nie die oorsaak nie.  Ons doen nie goeie werke om gered te word nie, maar omdat ons gered is (Ef. 2:8-10).

 

Goeie werke is die toets van ware geloof (Jak. 2:14-26).  Indien jy dus onheilig lewe moet jy nie roem en sê dat die Here jou regverdig verklaar het nie (selfs al glo jy dat Jesus vir jou aan die kruis gesterf het).

 

Die hervormers het Paulus se leer oor regverdigmaking deur die geloof soos volg saamgevat: ‘It is faith alone which justifies, but the faith which justifies is not alone.’[6]  Regverdigmaking lei altyd tot heiligmaking.

 

Die implikasie hiervan is dat jy nie in jou biduur by die werk saam met iemand kan bid wat hierdie lering verwerp nie.  Iemand wat sê dat ons nie deur geloof alleen gered word nie, verkondig ‘n ander evangelie en is nie ‘n Christen nie (Gal. 1:8-9).

 

Nog ‘n implikasie is dat jy nie gemeenskap moet hê met mense wat sê dat hulle die evangelie glo, terwyl hulle onheilige lewens wys dat hulle nie deur die geloof geregverdig is nie.  Met so iemand moet jy nie eers saam eet nie (1Kor. 5:11).

 

Dit beteken nie dat iemand eers goed genoeg moet wees voordat die Here hom aanneem nie.  Te veel kerkmense trap in hierdie strik.  Tannie Sarie sal bv. soos volg oor haar oulike kleinseun spog: ‘Ooo, dis ‘n goeie kind daai.  Ek is seker dat hy reguit hemel toe gaan!’

 

Dalk het jy by oom Frik se begrafnis gehoor hoe iemand sê: ‘Hy was ‘n fantastiese mens.  Hy het so goed gelewe.  As hý nie in die hemel is nie, weet ek nie wie is nie.’

 

Sulke gesprekke laat dit klink of God sy geregtigheid aan goeie mense gee wat dit verdien.  Maar v.17 en die res van die Nuwe Testament (3:22, 28, 4:3, 5, 22-24, 5:17, 9:30, Fil. 3:9) sê dat God dit gratis gee aan slegte mense wat in sy Seun glo.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970, pp. 299-302

[2] Vry vertaal uit Michael Reeves, The Unquenchable Flame, B&H Academic, Nashville: Tennessee, 2009, pp. 47-48

[3] Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2006 (1665), p. 196

[4] Thomas Brooks, Precious Remedies Against Satan’s Devices, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1984 (1652), p. 141

[5] Douglas Moo, The NIV Application Commentary: Romans, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2000, p. 57

[6] John Piper, Future Grace, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1995, p. 21

Onbeskaamd evangelies

Unashamed of the Gospel

My vrou se Amerikaanse vriendin het haar dogtertjie aangespreek, omdat sy met die landsvlag wou speel.  ‘You must never disgrace the flag!’ het sy gesê.

 

Ek hou van ons land, maar voel nie patrioties daaroor nie.  Ek het van die ou volkslied gehou, maar stem nie saam met die reëltjie wat sê: ‘Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika’ nie.  Ek voel verseker nie so sterk oor my land dat ek daarvoor sal sterf nie.

 

Ek voel ook nie so oor enige politieke party nie, en sal nie vir my taal sterf nie.  Nie eers my denominasie is vir my so belangrik nie, en dus steur ek my nie aan mense wat sê: ‘Ek is gebore Baptis!’ nie.  Ek wil weet of jy ‘n wedergebore Baptis is?  Is jy onbeskaamd evangelies?

 

Met evangelies verwys ek nie na alles en almal wat Jesus en die kerk se naam daaraan gekoppel het nie.  Ek verwys na mense wat die evangelie glo soos wat Paulus dit gepreek het.  Is dit jou lewe, sodat jy bereid is om daarvoor te sterf?  In Rom. 1:16 gee Paulus vier redes hoekom hy hom nie vir hiérdie evangelie skaam nie.

 

  1. Dit is die KRAG van God

Omtrent ‘n jaar gelede het Ford ‘n slegte naam gekry toe hulle Kuga-modelle aan die brand slaan.  Gestel jy het Kuga’s verkoop.  Sou jy jou kliënte in die oë kon kyk en aan hulle ‘n probleem-vrye rit verseker?  Soos Enterprise sou jy jou kop in skaamte moes sak.

 

Maar met die evangelie is dit nie so nie.  Omdat dit betroubaar en kragtig is om mense te red, hoef jy jou nie daarvoor te skaam nie (v.16).  Niemand het nog ooit kop onderstebo na die Here toe terugkeer en gesê: ‘Ek het die evangelie geglo en dit het nie gewerk nie’ (9:33).

 

Die evangelie is nie ‘n stukkende muurprop nie, maar die krag van God waardeur Hy mense wat geestelik dood is lewend maak (v.16, 1Kor. 1:18).

 

Wys vir my iets of iemand anders wat dit kan doen?  Wys vir my hoe jy deur slim redenasies, dreigemente, skuldgevoelens, beloftes van rykdom en plesier of selfs wonderwerke iemand se bose natuur verander (Luk. 16:31, Hand. 4:16-17, 1Kor. 1:22).

 

Die sondaar kan homself nie eers deur sy wil verander nie.  As jy wat ‘n Christen is dit nie eers sonder sweet en gebed kan regkry nie, hoe moet ‘n ongelowige sy hart verander?

 

Net soos ‘n luiperd nie sy kolle kan verander of ‘n Etiopiër sy vel nie, kan geen mens homself wederbaar en in ‘n Christen verander nie (Jer. 13:23).  Hy het God se krag in die evangelie nodig, omdat net Hý die mens kan nuut maak, wederbaar, en aan hom ‘n nuwe hart kan gee (v.16, Eseg. 36:25-27, Joh. 3:3, 2Kor. 5:17, Tit. 3:5).

 

Was dit nie so met Paulus nie?  Of het hy op ‘n dag besluit om sy hart vir die Here te gee en nie meer Christene dood te maak nie (Hand. 9)?  En wat van Paulus se prediking: is dit nie so dat die Here Lidia se hart geopen het om Paulus se evangelie te verstaan nie (Hand. 16:14)?

 

My Bybel sê vir my dat dit die Here is wat mense wederbaar en hulle in staat stel om hulle te bekeer en die evangelie te glo (Joh. 1:13, 3:6, 8, Hand. 5:31, 11:18, Ef. 2:1, 5, 8-9, Fil. 1:29, 2Tim. 2:25, 1Pet. 1:3).

 

Kan iemand na Jesus toe kom as die Vader hom nie trek nie (Joh. 6:44, 65)?  Kan hy die Vader ken as Jesus nie sy blinde oë oopmaak nie (Luk. 10:21-22)?

 

Die dag voordat Derek Thomas tot bekering gekom het, het hy nie geglo daar is nie ‘n God nie.  ‘n Ateïs in die 1700’s het probeer om mense van sy siening te oortuig, maar toe George Whitefield die evangelie preek het hy kragdadig tot bekering gekom.[1]

 

Het hierdie mense deur hulle vrye wil tot bekering gekom?  Of het God die ewige lewe in hulle harte ingeblaas?  Wat van jou bekering: het jy op ‘n dag besluit om jouself te wederbaar?  Of is jy soos die res van ons uit God gebore (Joh. 1:13)?

 

Volgens v.16 is die evangelie die krag van God tot redding.  Dit is nie die krag van God plus die vasberadenheid van die sondaar nie.  God se krag in die evangelie is sterk genoeg.  Dit is so sterk dat Hy die slegste sondaar in ‘n goeie mens kan verander.

 

Glo jy dat sy krag in die evangelie jóú kan verander?  Glo jy dat dit sterk genoeg is om jou slegte vriend, familielid, kollega, kind in jou klas of boelie by die skool te verander?  Of het jy nie veel hoop vir hulle nie?  In daardie geval wil ek jou aanraai om weer oor v.16 te dink.

 

Omdat die evangelie die krag van God is vir elkeen wat glo, het Paulus hom nie daarvoor geskaam nie (v.16).  Ek moet eerlik sê dat ek my vir die evangelie sou skaam as ek soos party Christene glo jy kan jou redding verloor.

 

Sal jy nie skaam wees om vir iemand te sê: ‘Die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo’ (v.16), terwyl jy in jou agterkop dink: ‘Ongelukkig kan dit nie jou finale redding verseker nie, want as jy êrens langs die pad droogmaak kan jy jou redding verloor’ nie?

 

Ek sal my doodskaam vir ‘n evangelie wat van mense se flou en feilbare pogings afhang.  Paulus se evangelie is die krag van God om sondaars veilig in die hemel te bring (Fil. 1:6, Heb. 7:25, 1Pet. 1:5).  God maak nie beloftes van ‘n ewige lewe vir dié wat in sy Seun glo (Tit. 1:2, 1Joh. 2:25), terwyl Hy nie eintlik die krag het om dit te vervul nie (v.16).

 

Die Here is nie soos Allah nie.  Sura 3:54 en 8:30 in die Koran noem hom die groot bedrieër [Arab. makr].  Toe Mohammed sy opvolger (Abu Bakr) van ‘n plek in die paradys verseker, het hy gesê: ‘Ву Allah! I would not rest assured and feel safe from the deception [Arab. makr] of Allah, еvеn if I had onе foot in Paradise.’[2]

 

As die Here so onbetroubaar soos Allah was, sou dit heeltemal rasioneel gewees het om jou vir die evangelie te skaam.  Maar Hy is nie so nie.  God se belofte in v.16 is waar: die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.

 

Jy kan dit dus met oortuiging deel en vir mense sê dat dit werk.  Moet jou nie daarvoor skaam nie, maar wees onbeskaamd evangelies (v.16, Mark. 8:38, 2Tim. 1:8).

 

Dit help nie om maar net die evangelie in jou kop te ken nie.  Die duiwel ken dit ook.  Die vraag is of jy al hierdie verlossingskrag in die evangelie ervaar het (v.16)?  Of jy net dat jy ‘n Christen is, terwyl jy nog nooit die krag gehad het om jou sondige begeertes en gewoontes af te lê nie (v.16, 2Tim. 3:5)?

 

In daardie geval is jy soos ‘n ou tannie in Kanada.  Sy was baie vrygewig en voorbeeldig, en het gereeld kerk toe gegaan.  Almal het gedink sy is ‘n Christen, maar na baie jare het sy besef dat sy nog nooit God se krag in die evangelie ervaar het nie; sy was nie weergebore nie![3]

 

Voor ek vir jou sê hoe jy God se krag in die evangelie kan ervaar, gaan ek jou vertel wat dit doen.

 

  1. 2. Dit is krag van God tot REDDING

Toe John Bunyan jonk was het hy vreeslike gevloek.  Om aan sy woorde gesag te gee, het hy ‘n vloekwoord voor en na elke gewone woord gesê.[4]  Iets het gebeur sodat hy sy vuil taal gelos het.  Maar hy het nog nie tot bekering gekom nie.

 

Dit is dus heeltemal moontlik om sekere sondes te los sonder dat jy tot bekering kom.  Dink maar aan ‘n ongelowige dronkaard wat deur die AA gerehabiliteer word, maar nie tot bekering kom nie.

 

Hoekom sê Paulus dan dat die evangelie die krag van God tot redding is, as ander godsdienste en morele programme ons ook van afbrekende en sondige gewoontes kan red?

 

Menslike pogings kan jou help om jou morele sokkies op te trek.  Dit kan jou help om een of twee sondes te los.  Maar dit kan nie maak dat jy heeltemal anders is nie.  Dit kan jou nie van selfsugtige begeertes bevry nie.  Dit kan nie selfregverdige, geldgierige, hoogmoedige, wellustige en bitter gedagtes wegvat nie.

 

Die evangelie kan, en is dus meer as net ‘n sentimentele boodskap op iemand se yskas.  Dit is die goeie nuus waardeur God mense se lewens van binne af verander.  Die evangelie red ons van sewe dinge (v.16).

 

[a] Die duiwel

Toe die duiwel ons versoek om sy wil te doen, het ons soos zombies agter hom aangeloop (Ef. 2:2, 1Joh. 5:19).  Maar deur Jesus se kruisdood het Hy die duiwel se mag oor ons gebreek (16:20, 2Kor. 4:4, 6, 1Joh. 3:8).  Nou is ons nie meer sy slawe nie, maar behoort ons aan Jesus.

 

[b] Die wêreld

Jou lewe het soos die res van die mense by jou skool en werk s’n gelyk.  Jy het dieselfde belange en doelstellings gehad, en in jou taalgebruik, verhoudings en vermaak was jy soos hulle (1Joh. 2:16).

 

Al was jy nie deel van die populêre groep nie, het jy vir jouself en jou plesiere gelewe.  Niemand was vir jou belangriker as jý nie.  Jou dagdromery, selfbejammering en obsessie met jouself het dit gewys.

 

Maar Jesus het jou daarvan bevry.  Jy haat dit dat jy so baie aan jouself dink, en sug omdat jy die Here en ander mense eerste wil stel.

 

[c] Die dood

Voorheen het jy die dood gevrees maar deur sy kruisdood en opstanding het Jesus dit oorwin.  Nou is ons nie meer bang vir die dood nie (Ps. 23:4, 1Kor. 15:55, Heb. 2:14-15).  Dit is maar net die geroeste traliehek waardeur ons in God se heerlike teenwoordigheid inkom (2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23).

 

Wanneer Jesus weer kom sal Hy ook jou liggaam uit die dood uit opwek (1Kor. 15).  Die Here red dus nie net jou siel nie, maar ook jou liggaam (8:23).  Die evangelie is goeie nuus vir Christene wat kanker het, asook vir dié wat langs ‘n medegelowige se graf staan.

 

[d] Die straf van sonde

Ons het op allerhande lelike maniere teen die Here gesondig en verdien om vir ewig in die hel gestraf te word (Op. 21:8).

 

Maar op Golgota het die Vader se toorn soos ‘n verterende vuur op sy Seun geval (Jes. 53:4, 10).  Jesus het gewilliglik die straf in ons plek gedra, sodat ons nie in die vuur van God se toorn hoef te ly nie (Jes. 53:5-6, Gal. 3:13).

 

[e] Die mag van sonde

Soos ‘n vlieg in ‘n spinnerak was ons in die net van ons sonde vasgevang.  Ons kon nie loskom nie en wou ook nie (8:7-8).  Ons het dit geniet om dronk te word, te skinder, selfsugtig te wees, seksueel losbandig te wees, te steel sonder dat iemand ons uitgevang, en ander sondes te doen.

 

Die Heilige Gees het ons oë geopen om ons onsself in die spieël van God se wet te sien.  Ons het probeer om te verander maar kon nie.  Jesus het soos ‘n held gekom en die ysterboeie van ons sonde gebreek (Joh. 8:34, 36).  Nou is sonde nie meer ons baas nie (Rom. 6).

 

[f] Die plesier van sonde

Voorheen was dit lekker om sonde te doen, net soos wat dit vir ‘n baba lekker is om grond te eet.  Maar noudat ons die roomys en biltong van die evangelie geproe het, is dit nie meer lekker om die grond van sonde te eet nie (6:21, 7:19, Luk. 22:62).

 

[g] Die teenwoordigheid van sonde

Sonde is soos ‘n dodelik virus wat jy nie kan afskud nie.  A.g.v. Jesus se kruisdood kan dit jou nie doodmaak nie, en met die Gees se hulp kan jy dit domineer.  Maar partykeer maak dit jou nog siek (Gal. 5:17).

 

As jy eendag by die Here is, sal jy nie meer die virus hê nie.  In die hemel en op die nuwe aarde sal sonde nie teenwoordig wees om ons siek te maak nie.

 

Met dít in gedagte kan jy sê dat jy gered is (Ef. 2:8), dat die Here besig is om jou te red (1Kor. 15:2), en dat Hy jou sal red (Heb. 9:28).  In teologie noem ons dit regverdigmaking, heiligmaking en verheerliking.  Om só gered te word moet jy die evangelie glo.

 

  1. 3. Dit is krag van God tot redding vir elkeen wat GLO

Ek onthou hoe iemand eenkeer gevra het ons moet bid dat hy geloof sal verstaan.  Dit is nie ‘n dom vraag nie, aangesien die duiwels in God glo maar ongered is (Jak. 2:19).  Wat beteken dit dan om in Jesus te glo?

 

Ek sal in die volgende preek hierop uitbrei, maar wil ten minste die volgende sê.  Die Grieks vir geloof [Gk. pisteuō] staan in ‘n voortdurende tydsvorm.  Dit is dus nie genoeg om te sê dat jy in 1992 die evangelie geglo het nie.  Die vraag is of jy nóú die evangelie glo?

 

As jy waarlik gered is sal jy, volgens Matt. 10:22 en Kol. 1:23, in die geloof volhard.  As jy jou rug op die Here draai en nie meer in Hom glo nie, was jy nooit waarlik gered nie (1Joh. 2:19).

 

  1. 4. Dit is krag van God tot redding vir ELKEEN wat glo

‘n Paar jaar gelede wou ‘n man my oor sy probleme sien.  Ek het hom by sy huis gaan sien en die evangelie met hom gedeel.  Toe ek hom kerk toe nooi het hy gevra of daar swart mense in ons kerk is.

 

Ek het vir hom gesê dat Jesus vir alle mense gesterf het, dat daar al swart mense in ons dienste was, en dat ons dit verwelkom.  Hy het in geen onduidelike terme vir my gesê dat hy nie na ons kerk toe sal kom nie.

 

In George Whitefield se tyd het mense geglo dat slawe bo diere is, maar onder mense.  Hulle het geglo dat slawe nie met die evangelie bereik kan word nie.  Die slawe het gewonder of hulle gered kan word, en het vir Whitefield gevra: ‘Het ek ‘n siel?’[5]

 

Volgens v.16 is niemand buite die evangelie se bereik nie, en is dit vir almal.  Dit is eerste vir die Jood, omdat God hulle in die Ou Testament gekies het om sy volk te wees.  Jesus was ‘n Jood en het die evangelie eerste aan hulle verkondig (3:2, 9:4-5, Matt. 10:5-6, 15:24, Joh. 4:22).

 

Maar toe hulle dit verwerp, het Hy na die heidene toe gedraai (Matt. 21:41, Hand. 13:45-48, 18:5-6, 28:28).  Daarom is die evangelie ook vir nie-Jode of Grieke (v.16).

 

Laat ons dan nie in ons evangelisasie sekere individue of groepe uitsluit, asof hulle nie gered kan word nie.  Laat ons nie ons land, kultuur, taal, denominasie, persoonlike gemak of iets anders meer liefhê as die Here, die evangelie en ander mense se siele nie.

 

Ons moet soos Spurgeon wees.  Met die opening van hulle nuwe kerkgebou het hy gesê: ‘…the subject of the ministry in this house, as long as this platform shall stand, and as long as this house shall be frequented by worshippers, shall be the person of Jesus Christ.

 

‘I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, “It is Jesus Christ.”’[6]

 

Ek voel dieselfde en is onbeskaamd evangelies.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970, pp. 569-570

[2] Khalid Muhammad Khalid, The Successors of the Messenger [translated by Muhammad Mahdi AI-Sharif], Dar Al-Kotob Al-Imiyah, Beirut-Lebanon, p. 99

[3] Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1982, p. 270

[4] John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners, Whitaker House, Springdale: PA, 1993, p. 16

[5] Dallimore., pp. 498-499

[6] Arnold Dallimore, Spurgeon – A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1985, p. 99

Leer uit ander mense se foute

Learn from mistakes of others 1

Ek het eenkeer vir ‘n ouer Christen gevra hoekom hy so baie in geskiedenis belangstel.  ‘Dit help o.a. dat ek nie die foute herhaal wat ander mense gemaak het nie,’ het hy gesê.  Hy het m.a.w. uit ander mense se foute geleer.

 

Volgens Rom. 15:4, 1Kor. 10:11 is dit ‘n Bybelse beginsel.  Paulus sê: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe… Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons…”

 

Vandag wil ek hierdie beginsel gebruik om uit koning Hiskia se foute te leer.  Maak asb. jou Bybel oop by Jes. 38-39.

 

  1. Hiskia se siekte (38:1-8, 21-22)

‘n Oom wat ek geken het, het eenkeer in die hospitaal beland.  Terwyl hy daar gelê het, het hy van koning Hiskia se siekte gelees: “In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.” (38:1).

 

Op grond hiervan het hy gedink hy gaan nie gesond word nie.  Toe hy dit vir sy vrou sê was sy glad nie beïndruk nie.  Hiskia was ook nie bly toe Jesaja die nuus met hom deel nie.  Hoe sal jý voel as iemand vir jou sê om jou familie bymekaar te roep, en vir hulle opdrag te gee oor wat hulle met jou geld en besittings moet doen as jy weg is?

 

Toe Hiskia die slegte nuus hoor het hy sy gesig na die muur toe gedraai en gebid (38:2).  Hy het bitterlik gehuil en by die Here gepleit om sy lewe te spaar (38:3).  Ons sal later sien hoekom hy bang was en nie soos Paulus uitgesien het om by die Here te wees nie.

 

Hiskia het die Here aan sy opregte lewe herinner (38:3).  Hy het inderdaad reg gelewe (2Kon 18:3, 5-6, 2Kron. 31:20-21), maar het ook ernstige foute begaan soos om Egipte se hulp bo die Here s’n te kies (Jes. 30-31).

 

Hiskia was dus verkeerd om te dink dat die Here hom op grond van sy goeie lewe moet verhoor.  Nogtans het die Here sy trane gesien en sy gebed verhoor.  Jesaja was nog nie behoorlik deur die voorhof van die paleis nie, toe die Here hom met hierdie woorde na Hiskia toe terugstuur (38:4, 2Kon. 20:4):

 

“Gaan sê vir Hiskía: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg” (38:5).  Hiskia was bly toe die Here sy lewe spaar, maar dit het nadelige gevolge gehad.  Sy seun Manasse is kort hierna gebore, en was die slegste koning wat Jerusalem ooit gehad het (2Kron. 32:33-33:1).

 

Die Here het verder belowe om vir Hiskia en Jerusalem uit Assirië se hand te red (38:6).  Saam met 38:1 (“in dié dae”) dui hierdie vers aan dat Hiskia se siekte vóór Assirië se aanval op Jerusalem gebeur het.  Dit is asof Jesaja Assirië se aanval in hfst. 36-37 beskryf, en dan in hfst. 38-39 sê: ‘Kom ek wys vir jou hoekom dit gebeur het.’  Ek sal later hierop uitbrei.

 

Hiskia wou nie ongelowig wees soos sy pa Agas nie, en het daarom vir ‘n teken gevra (vgl. 7:10-14).  ‘Wat is die teken dat die Here my sal genees en dat ek Hom op die derde dag in die tempel sal aanbid?’ het hy gevra (38:22, 2Kon. 20:5, 8).

 

‘Moet die Here die skaduwee op jou pa se sonhorlosie tien trappies vorentoe, of tien trappies agtertoe beweeg?’ het Jesaja gevra (2Kon. 20:9).  ‘Agtertoe asb.,’ het Hiskia gesê (2Kon. 20:10).    Toe Jesaja die Here aanroep het dit so gebeur (37:8, 2Kon. 20:11).

 

Het die aarde agtertoe gedraai, of het die Here die lig gemanipuleer en die skaduwee terug geskuif?  Die teks sê nie vir ons nie.  Hiskia het wel besef dat die Here wat die son beheer (Jos. 10:12-13), hom van sy siekte kon genees.

 

God het hom nie deur ‘n wonderwerk genees nie, maar het deur Jesaja gesê hulle moet medisyne gebruik (38:21).  Hulle het ‘n vyekoek op sy sweer gesit.  Die sweer het waarskynlik ‘n dodelike infeksie veroorsaak.  Gedroogte vye is baie goed om swere te behandel, en help vir meer as 40 ander siektes (kyk gerus op die internet).

 

  1. Hiskia se psalm (38:9-20)

Partykeer raak Christene teleurgesteld, omdat die Bybel nie met die realiteit strook nie.  As jy só voel, moet jy een van twee dinge doen.

 

[1] Lees Prediker.  Salomo het met dieselfde vrae as jy gesukkel.  Jy sal gou agterkom dat die Bybel nie lugkastele bou nie, maar dat dit met die harde realiteit te doen het.

 

[2] Onthou dat die Bybel-skrywers soms hulle persoonlike omstandighede beskryf.  Dit beteken nie noodwendig dat jy dinge soos hulle gaan ervaar nie.  As Dawid bv. in Ps. 103:3 sê dat die Here al sy siektes genees het, bedoel hy nie dat die Here alle gelowige se siektes gaan genees nie (sien bv. 2Kon. 13:14, 20).

 

Hou dit asb. in gedagte wanneer jy Hiskia se psalm lees.  Hy probeer nie om ‘n teologie van lewe na die dood te formuleer nie, maar beskryf sy persoonlike omstandighede (38:9).  Hy het gedink dat die Here hom in die middel van sy lewensjare vir die doderyk bestem het (38:10).

 

‘Ek sal nie meer die Here, sy werk en ander mense in die land van die lewendes sien nie,’ het hy gesê (38:11).  ‘Soos ‘n herder sy tent afslaan, sal die Here my lewe afslaan; soos ‘n wewer sy materiaal afsny en oprol, sal Hy my lewe kortknip en oprol (38:12, Job 7:6).  So gou soos wat die dag in nag verander, sal die Here my lewe beëindig (38:12-13).

 

‘Ek het probeer om in die nag kalm te bly, maar dit het nie gehelp nie.  Die Here was soos ‘n leeu wat my bene breek (38:13).  Daar was nie ‘n kans dat ek hierdie siekte sou oorleef nie.  Ek kon skaars praat en het nie eers die krag gehad om op te kyk nie (38:14).  Ek het soos ‘n swaeltjie of kraanvoël getjirp, en soos ‘n duif gekerm (38:14).  “Kan die Here nie my genesing waarborg nie?” het ek gewonder (38:14, 7-8).

 

‘Hy het!  Hy het!  Die Here het my van my bitter siekte genees.  Voortaan sal ek versigtig lewe en nie weer sonde doen, sodat die Here my daarvoor moet tugtig nie (38:15, 17).  Ek het my les geleer, en glo dat ander ook daaruit sal leer om nie die weg van sonde te kies nie (38:16).

 

‘Diep in my hart weet ek dat die Here hierdie bitter siekte gestuur het om my te bevoordeel (38:17).  In sy groot liefde het Hy my van die graf of kuil van verwoesting gered (38:17).  Hy het die sonde wat sy tugtiging oor my gebring het agter Hom gesit (38:17, Ps. 103:12, Miga 7:19).

 

‘As ek gesterf het sonder dat my sonde vergewe is (38:17), sou ek hel toe gaan waar die dooies nie die Here prys of dank nie, en waar daar vir hulle geen hoop is om uit te kom nie (38:18).  Die Here het my sonde vergewe en my laat lewe, en daarom prys ek Hom saam met die lewendes (38:19)!

 

‘Ek sal God se getrouheid aan die volgende geslag verkondig (38:19, Gen. 18:19, Deut. 6:7, Ps. 78:1-8).  As ons die Here met snarespel in die tempel prys, sal almal weet dat Hy my genees en van die dood gered het (38:20).

 

  1. Hiskia se sonde (39:1-8)

‘n Bietjie agtergrond sal ons help om Jes. 39 beter te verstaan.  Soos ek in die vorige preke gewys het, was Assirië die wêreld se supermag.  Babilon wou egter die titel oorneem, en daarom het koning Merodag Baladan teen die Assiriërs gerebelleer.

 

In 721 v.C. het hy homself die koning van Babilon gemaak.  In 709 v.C. het koning Sargon van Assirië hom gevange geneem.  Toe Sargon in 705 v.C. oorlede is, het Merodag Baladan weer teen Assirië gerebelleer en sy koningskap opgeneem.

 

In 703 v.C. het hy ‘n veldslag teen die Assiriërs gewen.  Met ‘n paar helpers kon hy die Assiriërs finaal van die tafel afvee.  Terwyl hy sy planne gemaak het, het hy gehoor dat Hiskia siek was, gesond geword het, en dat die skaduwee op die sonhorlosie tien trappies agtertoe beweeg het (39:1, 38:8, 2Kron. 32:31).

 

Dit was die kans waarvoor hy gewag het.  Hy het afgevaardigdes met geskenke Jerusalem toe gestuur (39:1).  Hy het ook briewe geskryf waarin hy vir Hiskia gevra het om saam met hom teen die Assiriërs te veg (39:1).[1]

 

Die Here dit gebruik om te wys hoeveel hoogmoed daar in Hiskia se hart is (2Kron. 32:25, 31).  Hiskia was bly dat iemand hom teen die Assiriërs kon help (39:2).  Hy het met sy rykdom en voorraad gespog, so asof hy gesê het: ‘Ek is heeltemal daartoe in staat om jou teen die Assiriërs te help’ (39:2, 2Kron. 32:27-30).

 

Hiskia het nie erken dat die Here was wat Hom ryk gemaak het nie (2Kor. 32:29).  Hy het nie vertel hoe die Here hom genees het nie.  Hy het nie gesê dat die Here daartoe in staat is om tyd terug te draai nie.

 

Hiskia het nie in die Here geroem nie, maar in homself.  Jesaja het hom hieroor uitgevra.  Hy het met trots vertel hoe hy al sy rykdom vir die Babiloniërs gewys het (39:3-4).

 

‘Jou rykdom beteken niks nie Hiskia!’ het Jesaja hom bestraf.  ‘Eendag sal die Babiloniërs jou skatte na hulle eie land toe wegvoer.  Hulle sal jou nageslag wegvoer en hulle amptenare in die koning van Babilon se paleis maak’ (39:5-7, 2Kon. 24:12-13, 25:6-7, 13-17, Dan. 1:2-3, 7).

 

Dit het nie eers vir Hiskia gepla nie.  Hy was net dankbaar dat dit in die toekoms gelê het, en dat daar in sy tyd vrede sou wees (39:8).

 

Wat leer hierdie twee hoofstukke vir ons?

 

[1] Soos met Hiskia is die dag van jou dood en die res van jou lewe in God se raadsplan (38:5, 46:10, Job 14:5, Ps. 139:16, Spr. 16:1, 9, 19:21, 20:24, Pred. 3:1-8, Jer. 10:23, Ef. 1:11, Jak. 4:13-15).

 

Beteken dit jy moenie bid nie, omdat die Here buitendien sy planne in jou lewe gaan vervul?  Nee.  Die Here bepaal nie net die einddoel nie, maar ook die middele.  Hy het besluit om sy planne deur gebed in jou lewe te vervul.

 

Toe Daniël bv. in Jer. 29 lees dat Juda vir 70 jaar in Babilon sou wees, het hy nie gesê: ‘Die Here het dit bepaal, en daarom hoef ek nie te bid nie.’  Hy het eerder gesê:  ‘Omdat die Here dit bepaal het, gaan ek bid en vra dat Hy sy planne volbring’ (sien Dan. 9).

 

Dít is hoe jy moet redeneer.  God se soewereiniteit moet jou nie minder laat bid nie, maar meer.  As jy nié bid nie, skiet jy jouself in die voet: “julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4:2).

 

[2] Hiskia het gedink dat die Here hom op grond van sy goeie lewe sal verhoor (38:3).  Maar t.s.v. sy verkeerde idee het die Here hom verhoor (38:4-6).  Die Here word nie beperk omdat jy verkeerd bid nie (38:3).  Hy antwoord jou tog nie op grond van jou elegante woorde nie, maar op grond van Jesus wat vir jou gesterf het, sy getrouheid aan Homself en sy beloftes, en sy goedheid aan dié wat in Hom glo.

 

[3] Nog voordat Assirië in hfst. 36-37 teen Jerusalem geveg het, het die Here belowe om die stad te beskerm (38:6).  Maar ten spyte daarvan was Hiskia benoud (37:1, 3).

 

Is ons nie ook so nie?  Die Here belowe om in jou behoeftes te voorsien, en sê vir jou om nie angstig te wees nie (Matt. 6:25-34).  Jy werk hard en mors nie jou geld nie, maar sodra daar ‘n nood ontstaan wat jy nie voorsien het nie raak jy angstig.  Moenie so wees nie, maar glo die Here se beloftes en herinner Hom daaraan (Jes. 62:6-7).

 

[4] As die Here wil, kan Hy ons op buitengewone maniere help.  Ons moet egter nie verwag dat dit altyd so moet gebeur nie.  As ons alewig ‘n wonderwerk soek, sal ons nalaat om die Here te dank as Hy besluit om ons op gewone maniere te help.

 

Ons sal bv. vir almal vertel dat die beste dokter in die land aan ons gewerk het, en dat dít die rede is hoekom ons lewe om die storie te vertel.  Maar sonder die Here kon die dokter jou nie help nie (2Kron. 16:12, Luk. 8:43).

 

Gód is immers die een wat sekere middels in die skepping gegee het, sodat ons daardeur genees kan word (38:21).  Hý gee aan mense die wysheid om medisyne in die regte mates en kombinasies af te meet en te meng.  Laat ons dus baie versigtig wees om vir Hóm die krediet te gee as ons gesond word, of as Hy ander krisisse in ons lewens oplos.

 

Omdat dit God is wat ons genees, moet ons nie aan medisyne verslaaf raak of daarby sweer nie.  Aan die ander kant moet ons onthou dat medisyne God se gawe aan ons is.  Ons moet dus nie soos sommige mense weier om dit te gebruik, omdat ons kamtig op die Here vertrou om ons te genees nie.  Dit is nie meer geestelik om sonder medisyne genees te word, as om ‘n pil vir jou rugpyn te drink nie.

 

[5] As jy ‘n gelowige is, is elke beproewing tot jou voordeel (38:17).  Jy sien dit nie nou raak nie, maar later sal die Here vir jou wys dat Hy besig was om jou meer soos Jesus te maak (Ps. 119:67, 71, 75, Rom. 8:28-29, Heb. 12:10-11).  ‘The providence of God is like a Hebrew word – it can only be read backwards.’ (John Flavel).[2]

 

[6] Hiskia het geglo dat sy siekte die direkte gevolg van ‘n persoonlike sonde is (38:17).  Maar dit beteken nie dat almal a.g.v. ‘n persoonlike sonde siek is (Job 1-31, Joh. 9:1-3), of dat almal wat gesond is reg lewe nie.

 

Dit is nie verkeerd om te wonder of jy a.g.v. ‘n persoonlike sonde siek is nie (1Kor. 11:30).  Maar jy moet jouself ook nie kasty om die sonde te vind wat jou siekte veroorsaak het nie.  Rus eenvoudig in die Here se algenoegsame genade (2Kor. 12:7-10).

 

[7] As jy die Here ken en jou sonde vergewe is, hoef jy nie die dood te vrees nie (38:18, Joh. 11:25-26, 1Kor. 15:55, Fil. 1:21, Heb. 2:14-15).  Soos met Paulus, Lasarus en die dief aan die kruis, is die dood die swart perd voor die goue koets wat jou na Jesus toe vat (Luk. 16:22, 23:43, 46, 2Kor. 5:8, Fil. 1:23).  Wanneer Jesus weer kom sal Hy jou liggaam uit die dood uit opwek (1Kor. 15:35-58, 1Tess. 4:13-18).

 

[8] Hiskia het in homself geroem (39:2).  Dit was ook die rede hoekom God die Assiriërs teen hom gestuur het (2Kron. 32:25).  Toe hy en die volk hulle voor die Here verneder, het dinge vir hulle reg geloop (37:1, 14-20, 2Kron. 32:26).

 

Roem dus in die Here en nie in jouself nie (Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:31, 2Kor. 10:17).  As jy hoogmoedig is, is jy soos die duiwel en sal die Here jou aktief teenstaan; as jy nederig is, is jy soos Jesus en sal God jou genadig wees (Jak. 4:6).

 

Onthou ook dat alles wat ek en jy het van die Here af kom, en dat ons nie in onsself kan roem nie (1Kor. 4:7).  ‘n Jong predikant het eenkeer vir Martyn Lloyd-Jones gevra om te bid dat hy nie hoogmoedig word nie.  ‘Wat het jy om oor hoogmoedig te wees?’ het Lloyd-Jones hom geantwoord.

 

[9] My vrou het ‘n gawe.  Sy kan kyk hoe iemand teëls lê of iets mooi van draad maak, en dit dan self regkry.  Net so moet ons Jes. 38-39 fyn dophou en uit Hiskia se foute leer.

 

[1] [1] Falvius Jospehus, The Antiquities of the Jews, Book 10, ch. 2, par. 2.  [2] D. Guthrie & J.A. Motyer, New Bible Commentary: Third Edition, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1970, p. 364.  [3] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, pp. 291, 296

[2] Ek is nie presies seker waar hierdie aanhaling vandaan kom nie, maar reken dat dit uit Flavel se boek, The Mystery of Providence (Banner of Truth) uit kom.

Die Prosperity Gospel in Ultra HD

Tv with gold bars

Het jy al ooit ‘n lae gehalte foto gesien wat lyk of dit uit ‘n klomp blokkies bestaan?  Jy kry jy die geheelbeeld – veral as jy die foto ver van jou gesig af hou – maar mis die fyner besonderhede.  Maar as die foto uit 10 of 12 megapixels bestaan (1 megapixel is rofweg 1 miljoen pixels of kolletjies), is die detail uitstekend.  ‘n Ultra HD (hoë definisie) rekenaarskerm of TV het baie megapixels, wat ‘n top visuele gehalte verseker.

 

In Jud. 12-13 beskryf Judas die vals leraars in Ultra HD.  Hy gebruik ses illustrasies om hulle te beskryf.  Soos in die vorige drie preke sal ek my toepassings tot die Prosperity Gospel beperk.

 

  1. Hulle is skandvlekke (v.12)

By my matriekafskeid het die boelies my vriend met ‘n vleispastei gegooi.  Dit het ‘n bruin blerts op sy nuwe wit hemp gelos.  Die vals leraars was so: skandvlekke in die gelowiges se liefdemaaltye (v.12).  Wat beteken dit?

 

Sowat 100 jaar na Judas sy brief geskryf het, het Tertullianus van Noord-Afrika hierdie liefdemaaltye beskryf.  Die kerk het dit o.a. gehou om die armes te versorg.  Hulle het dit as ‘n aanbiddingsdaad beskou en dus nie toegelaat dat iemand te veel eet of drink nie.  Voor hulle na die tafel toe gekom het, het hulle saam gebid.  As hulle klaar hulle hande gewas het, is lampe ingebring.  Elke persoon moes ‘n gesang of skrifberyming vir die Here sing.  Na die ete het hulle weer gebid en in vrede verdaag.

 

Hierdie maaltye is aanvanklik saam met die nagmaal gehou (Hand. 2:42, 46, 1Kor. 11:20-22, 33-34), maar is teen die middel van die 2de eeu daarvan geskei.[1]  Dit het egter tot in die 5de eeu n.C. ‘n normale deel van die kerk se lewe en aanbidding gebly.  Dit het stadig begin kwyn en tussen die 6de en 8ste eeu n.C. verdwyn.[2]

 

Hierdie is blykbaar die liefdemaaltyd [Gk. agapē] waarvan Judas in v.12 praat.  Die vals leraars het hulleself tydens hierdie feeste ooreet, dronk geword en losbandig opgetree (v.12, 1Kor. 11:21, 2Pet. 2:13).  Volgens v.12 het hulle nie gevrees dat die Here hulle hiervoor sou oordeel, soos Hy in 1Kor. 11:29-32 met die Korintiërs gedoen het nie.  Dit het hulle nie gepla dat hulle hulle pense verafgod en die armes se kos verorber nie (vgl. Rom. 16:18, Fil. 3:19).

 

Vandag se Prosperity predikers doen dieselfde en gee nie om as hulle ‘n arm weduwee se laaste twee muntstukke vir hulleself vat nie (Mark. 12:40, 42, 44).  Het jy al op TV gehoor hoe hulle vir mense sê om hulle geld te stuur, en dat die Here dit honderdvoudig vir hulle sal teruggee?  Hulle sien dollar-tekens, vryf hulle hande saam en lek hulle lippe af in die hoop dat ‘n weduwee haar man se pensioengeld vir hulle sal stuur.

 

Hulle gulsige optrede is ‘n moerbeivlek op die rein kleed van Jesus se goeie naam (v.12, Rom. 2:24).  Vir talle ongelowiges is TBN se Prosperity Gospel die idee wat hulle van Jesus, die evangelie, Christenskap en die kerk het.  Gevolglik stel hulle nie daarin belang nie.

 

Die Grieks vir ‘skandvlekke’ [spilas] kan ook met ‘rif’ of ‘rots’ vertaal word.  Dit verwys na ‘n rif in die see.  Omdat seevaarders dit nie sien nie, ly hulle skipbreuk.  So is dit met hedendaagse Prosperity predikers: hulle dwaling is so subtiel dat duisende mense se geloof op die versteekte rif van hulle leuens verpletter word.  Hulle is van Jesus afgesit, omdat Hy nie die gesondheid en rykdom kon gee wat prediker so-en-so belowe het nie.

 

  1. Hulle is herders wat hulleself voed (v.12)

Mense wat na Prosperity predikers luister is soos Pinocchio.  Hy en ‘n klomp ander seuns is na ‘n eiland van plesier toe gelok, maar eintlik was dit ‘n strik.  Hulle het in donkies verander wat op die soutmyne moes werk.

 

Prosperity predikers belowe plesier: ‘As jy positiewe woorde spreek, sal jy ryk en gesond wees.’  Ongelowiges stroom na hulle kerke toe om die regte formule te leer, sodat hulle voorspoedig kan wees.  Die geestelike guru op die verhoog sê dat hulle hulle geld moet gee as hulle plesier uit die geestelike ‘vending’ masjien wil kry.

 

Hulle besef nie dat die ‘man van God’ besig is om hulle geld te steel nie.  Hy is nie ‘n herder se vuil toonnaels werd nie, maar is ‘n bokwagter wat mense se geld vat om homself te voed (v.12, Eseg. 34:2, 8).  In stede daarvan dat hy God se skape met die groen weiding van die Woord voed, vermaak hy die bokke (Jer. 3:15, Joh. 21:15-17, 1Pet. 5:2).  Vir hom maak dit nie saak dat mense geestelik skipbreuk ly nie – solank hy sy geld kry.

 

Hoekom wil enigiemand dan onder hierdie ketters se lering sit?  Al rede wat ek kan sien, is dat die vals leraars se dissipels óók vir hulleself lewe.  Hulle gebruik die vals leraar as ‘n trappie om by die koekieblik van gesondheid en rykdom uit te kom, maar uiteindelik is dit húlle wat op die vloer lê terwyl hy die koekies alleen opeet.

 

  1. Hulle is wolke sonder water (v.12)

In 2004 was ek vir ‘n vergadering Hectorspruit tussen Komatipoort en Malelane.  Dit was oor die 40°C.  Die man wie se plaas dit was het gesê dat hulle dringend reën nodig het.

 

Teen 15:00 het donker wolke opgekom en het die wind vreeslik gewaai.  Almal het in hulle karre geklim en terug gery Nelspruit toe.  Die volgende dag by die kerk was ek gretig om te hoor hoe baie dit gereën het.  ‘Niks,’ het die oom teleurgesteld gesê.  ‘Die wolke het oorgewaai.’

 

Net so is die vals leraars “waterlose wolke deur winde rondgedrywe” (v.12).  Hulle maak leë beloftes en stel mense teleur.  “‘n Man wat hom beroem op ‘n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie.” (Spr. 25:14).

 

Indien jy hierdie mense se beloftes bevraagteken of sê dat dit in jou geval nie gewerk het nie, blameer hulle jóú en sê hulle dat jy nie genoeg geloof het nie.  Hulle doen dit om die skuld van hulleself af te skuif.  So maak hulle dat mense dink die Here is onbetroubaar.

 

Hulle verstaan ook nie die verband tussen gebed en geloof nie.  Volgens hulle sal jy ‘n BMW X5 en goeie gesondheid kry as jy genoeg geloof het.  Maar dit is nie wat gebed óf geloof beteken nie.  Gebed beteken dat jy in Jesus se Naam jou lofprysing, danksegging, belydenis, voorbidding en versoeke na God toe bring (Joh. 14:13-14).

 

Om in Jesus se Naam te bid beteken ‘n paar dinge.  Maar wat dit nié beteken nie, is dat jy sy Naam as ‘n towerformule aan die einde van jou gebede gebruik: ‘In Jesus Naam!’  Om in sy Naam te bid beteken o.a. dat jy dinge volgens sy wil vra (1Joh. 5:14).  Jy bid m.a.w. volgens sy woorde soos ons dit in die Bybel het (Joh. 15:7).

 

Dit impliseer outomaties dat jy nie in Jesus Naam vir ‘n BMW X5 kan bid nie.  Jy kan wel vir genesing bid, maar omdat die Bybel nie elke mens se genesing waarborg nie, moet jy jou aan die Vader se wil onderwerp en saam met Jesus sê: “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39).

 

Wat geloof betref gaan dit nie oor hoe groot jou geloof is nie, maar oor hoe groot die Een is in Wie jy glo.  Jy moet m.a.w. nie in jou geloof glo nie, maar in die Here.  Jy moet glo dat Hy goed is, en dat Hy sy kinders wíl help.  Jy moet glo dat Hy Almagtig is, en dat Hy jou kán help.  Jy moet glo dat Hy getrou is, en dat Hy jou sál help.  Dít is wat dit beteken om in geloof te bid: jy vertrou 100% op die Here, en glad nie op hoe sterk jou geloof is nie.

 

Maar wat van die tekste waarin Jesus mense volgens hulle geloof genees het (Matt. 8:13, 9:29, 15:28, Mark. 10:52)?  Hierdie tekste gaan nie daaroor dat die mense genoeg geloof in hulleself opgebou het nie.  Dit gaan eerder daaroor dat hulle juis nié op hulleself vertrou het nie, maar geglo het dat Jesus die Seun van God is wat hulle kan genees.

 

Hulle geloof het Hom egter nie beperk nie, aangesien Hy by verskeie geleenthede mense genees het wat nié in Hom geglo het nie.  Die lam man in Joh. 5 het nie geweet dat Jesus hom gaan genees nie, en het ook nie geglo dat Hy die Seun van God is nie.  Die blinde man in Joh. 9 het eers ná sy genesing geglo dat Jesus die Messias is.  Lasarus en ander dooie mense het nie eers die vermoë gehad om in Jesus te glo toe Hy hulle uit die dood uit opwek nie.

 

Dalk wonder jy oor verse soos Mark. 6:5-6: “[Toe Jesus in Nasaret was] kon [Hy] daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.  En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof…”

 

Die mense van Jesus se tuisdorp (Nasaret) het Hom nie as ‘n Profeet en die Seun van God erken het nie.  Gevolglik het hulle nie hulle siekes vir genesing na Hom toe gebring nie, en daarom kon Hy hulle nie genees nie.  Dit het niks met die hoeveelheid van hulle geloof te doen gehad nie.

 

As jy selfs net ‘n milligram geloof het is dit meer as voldoende (Luk. 17:5-6).  Geloof per definisie gaan immers oor die Persoon in wie jy glo, en nie oor jouself nie.  Die vraag is dus nie of jy genoeg geloof het nie, maar in wie jy jou geloof plaas?

 

  1. Hulle is bome sonder vrugte (v.12)

Ek het ‘n pruimboom wat glad nie pruime dra nie.  As jy gelukkig is sal daar ‘n verdroogde rooi pruim aan die boom hang.  Twee seisoene gelede was die takke so droog soos Namibiese doringhout, sodat ‘n 12-jarige dit tot op die grond kon afbreek.

 

Volgens Judas is die vals leraars soos bome sonder vrugte (v.12).  Hulle preek vir ander, maar dra self nie die vrug van bekering nie (Matt. 21:19).  Soos ons laas week gesien het, kenmerk die vrot vrugte van hoogmoed, lastering, geldgierigheid, losbandigheid, ontevredenheid, ens. hulle lewens (v.8-11, 16).

 

Hulle vrugtelose lewens wys dat hulle twee maal gestorwe of morsdood is (v.12).  Hiervoor sal die Here hulle heeltemal ontwortel en in die vuur van sy oordeel verteer (v.12, Ps. 52:7, Jer. 1:10, Matt. 3:10, 7:19, 15:13, Luk. 13:6-9).

 

Indien jy hierdie mense se boeke lees en na hulle preke luister, sal jy net so vrugteloos wees soos hulle.  Vals lering kan immers nie goeie vrugte produseer nie.  Kan ‘n boodskap van geldgierigheid maak dat jy:

 

  • Die Here en jou naaste meer liefhet en nie geld aanbid nie?
  • Ander se belange op die hart dra en nie net aan jouself dink nie?
  • Jou blydskap in die Here vind en nie in die wêreld nie?
  • Tevrede is met wat jy het en nie gulsig is nie; vrygewig en nie suinig nie; mededeelsaam en nie jaloers nie?
  • Hard werk, jou geld goed bestuur, en geduldig wag dat die Here in jou behoeftes voorsien?

 

As wurms die vrugte van jou lewe kenmerk, sal God die boom van jou lewe afkap en jou saam met die vals leraars in die vuur gooi (Joh. 15:2, 6).  Dra daarom vrugte wat by die bekering pas (Matt. 3:8).

 

Ek bedoel nie dat die Here jou sal red as jy genoeg goeie vrugte dra nie.  Niemand gaan hemel toe omdat hy of sy probeer om Gal. 5:22 se vrug van die Gees in hulle lewens toe te pas nie: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

 

As jy die vrug van bekering wil dra, moet jy aan die lewegewende wortels verbind wees (Joh. 15:1-8).  Hoe gebeur dit?  Jy moet in Jesus glo om jou van jou sonde te red, en nie net om vir jou werk te voorsien nie.  Jy moet jou van jou selfgeregtigheid bekeer, want solank as wat jy dink jy kan iets doen om gered te word, sal jy nie op Jesus vertrou wat alreeds alles vir jou gedoen het nie.

 

Glo dat sy kruisdood voldoende is om jou van God se toorn en jou sonde te red, en dat jy niks hoef by te voeg om sy guns te wen nie.  As jy jou só bekeer, sal die Here jou vergewe en in jou hart kom woon.  En met die Heilige Gees wat in jou woon, sal jy nie anders kan as om die vrug van bekering te dra nie (Fil. 1:11, Gal. 5:22).

 

  1. Hulle is woeste golwe (v.13)

Prosperity predikers is soos die vuil bruin seeskuim wat ek laasjaar in die Oos-Kaap gesien het.  Blykbaar word die bruin skuim deur dooie alge, rioolwater of olie veroorsaak.

 

Volgens Judas is die vals leraars soos golwe wat allerhande vuilheid van die seebodem af optel en dit uitspoel (v.13).  Die morele slyk wat op die bodem van hulle harte lê sal een of ander tyd soos bruin skuim op die golwe van hulle losbandige lewens ronddryf en deur die media op die strand van die samelewing uitgespoel word.

 

Hulle kan m.a.w. nie wegsteek dat hulle goddelose vals leraars is nie:  “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.” (Jes.57:20).

 

Wanneer dit gebeur moet jy asb. nie sê wat iemand eenkeer vir my gesê het nie: ‘Ek weet dat Prosperity prediker so-en-so moreel geval het, maar ek glo nog steeds dat hy ‘n man van God is’ nie.  Liefde glo die beste, maar is nie blind nie.  Geen hoeveelheid kan sjarme [Eng. charm] kan die Prosperity predikers se geldgierige en losbandige leefstyle uitkanselleer nie.

 

  1. Hulle is dwaalsterre (v.13)

Toe ek 9 of 10 was het ek ‘n ‘survival kit knife’ gekry.  Op die handvatsel was daar ‘n kompas.  Vir mense in Judas se tyd sou so iets handig te pas kom, veral as hulle op die oop see moes vaar.  In sy tyd het hulle nie kompasse gehad nie, maar van die sterre gebruik gemaak om rigting te kry.

 

Die sterre het o.a. gehelp omdat hulle elke aand op dieselfde plek was.  ‘n Dwaalster of verskietende ster sou vir ‘n paar sekondes indrukwekkend lyk, maar kon nie vir hulle rigting gee nie.

 

Net so is die vals leraars dwaalsterre wat niks beteken nie (v.13).  Jy kan nie op hulle staatmaak om vir jou die pad na die hemelse stad toe te wys nie.  Hulle lyk indrukwekkend, omdat hulle groot gemeentes, baie geld en gladde monde het.  Maar op die einde word hierdie ‘sterre’ in die eindelose swart ruimte van die hel ingesluk (v.13, 6-7, 2Pet. 2:17, Jes. 14:12-15).

 

Wees daarom baie versigtig dat hierdie verskietende sterre jou nie verlei soos wat kerslig ‘n mot aantrek en uiteindelik doodbrand nie.  Moet hulle nie met piering oë en ‘n oop mond bewonder nie.  Hulle lyk mooi, maar is gevaarlik.  Soos verskietende sterre belowe hulle dat hulle jou wense van rykdom en gesondheid kan bewaarheid, maar hulle lieg.

 

Jud. 12-13 wys vir jou wie hierdie vals leraars regtig is.  ‘Hulle is so gevaarlik soos versteekte rotse, so selfsugtig soos verdraaide herders, so nutteloos soos wolke sonder water, so dood soos verdorde bome, so vuil soos skuimende golwe, en so verdoem soos die gevalle engele.’[3]

 

Moet hulle dus nie glo nie, maar plaas jouself onder die voedsame lering van iemand soos Charles Spurgeon, Martyn Lloyd-Jones of Steve Lawson.  Sorg dat jy die Bybel in jou stiltetyd en gemeente bestudeer.  Maak seker dat jou predikant sy vinger op die teks het, sodat jy nie iets anders as die suiwer melk van God se Woord inneem nie.

 

Die Prosperity Gospel en elke ander vals lering moet vir jou soos sneeu op ‘n ou TV skerm wees – dit moet jou dadelik afsit.  Jy moet die ware evangelie in Ultra HD sien.  Eintlik moet dit nóg beter wees, en moet jy dit in lewende lywe sien.  Dit moet jou so aantrek dat jy dit nie wil los nie, maar vir ewig in jou hart wil bêre.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, 1915, 1939, Public Domain, http://www.e-sword.net

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997, pp. 74-75

[3] Vry vertaal uit Michael Green, Tyndale New Testament Commentaries: 2Peter and Jude, Inter-Varsity Press, Leceister: England, 1968, p. 177