‘n Boodskap oor vermetelheid en dronkenskap

Drinking

Tydens een aanddiens het ‘n dronk vrou aanhoudend die preek onderbreek.  ‘Amen!  Ja, is pastoor!  Amen!’ het sy gesê.  By drie ander geleenthede het mense wat vol van dwelms was my straat prediking geopponeer.  Een man het my gevloek, ‘n ander een met my sleggesê, en die ander een het uitgeroep dat ons nie van God af is nie.

 

So het die dronk mense in Jes. 28:1-13 vir Jesaja geopponeer.  Die Here het hom met ‘n boodskap teen hulle gestuur.  Dit was hoofsaaklik ‘n boodskap oor hulle vermetelheid en dronkenskap.

 

Samaria se gemak (v.1-6)

Holland is ‘n streek aan die weskus van Nederland, maar die naam word ook gebruik om na die land in sy geheel te verwys.  Dieselfde was waar van Efraim:  dit was een van die twaalf stamme, maar is later gebruik om na die hele noordelike ryk van Israel te verwys (bv. in Hosea).

 

Toe Salomo dood is, het Israel in twee geskeur.  Samaria was die hoofstad van die noordelike ryk, terwyl Jerusalem die hoofstad van die suidelike ryk was.  In v.1-6 het Jesaja God se weë of oordele oor die noordelike ryk uitgespreek.

 

Samaria was op ‘n heuwel gebou (1Kon. 16:24).  Die stadsmure het soos ‘n kroon op iemand se kop gelyk (v.1).  ‘n Groen vallei van wingerde het Samaria omring; die stad het soos ‘n pragtige blom uitgestaan (v.1).  Samaria se inwoners was trots op hulle ‘kroon’ (v.1).  As God se volk het hulle vas geglo dat hulle veilig is.  Gevolglik het hulle ‘n gemaklike lewe van dronk partytjies gelei (v.1, Amos 2:8, 4:1, 6:6).

 

Hulle het nie opgemerk dat die blom besig is om te verlep nie (v.1, 40:6-8).  In 722 v.C. het die Here Assirië soos ‘n verwoestende haelstorm teen Samaria gestuur en haar in die vloed van sy oordele verdrink (v.2, 8:7).  Hy het die stad op die grond gegooi, die kroon en die pragtige blom onder sy voete vertrap (v.2-4a).  Deur Assirië het Hy Samaria soos die eerste ryp na-vy van die seisoen gepluk en ingesluk (v.4b).

 

Deur die Messias se Koninkryk sal God self ‘n kroon van heerlike skoonheid vir die oorblyfsel van sy volk sal wees, en sal Hy die ongeregtigheid uit Israel en die res van die aarde verwyder; Hy sal ‘n gees van geregtigheid in Israel en die wêreld se regsisteme gee (v.5-6, 11:2).  Hy sal ook sy kinders versterk om die vyand van die stadspoorte af weg te hou (v.6).  Hy sal m.a.w. sy volk beskerm.

 

Hoe moet ons v.1-6 op onsself toepas?  Soos Samaria is die mens van nature hoogmoedig en dink hy dat God se oordele hom nie sal tref nie (v.1).  Hy dink dat hy die hemel verdien, en dat dit nie dieselfde sal wees sonder hom nie.[1]

 

Jonathan Edwards het gesê:  ‘Byna elke ongelowige wat van die hel hoor, vlei homself dat hy dit sal ontvlug.  Hy maak op homself staat vir sy eie veiligheid.  Hy vlei homself op grond van wat hy gedoen het, wat hy nou doen, en wat hy beplan om te doen.  Hy dink hoe hy God se verdoemenis kan vermy, en vlei homself dat hy ‘n goeie plan uitgedink het, en dat sy planne nie sal misluk nie.  Hy hoor dat min mense gered is, en dat die meeste van hulle gesterf het en hel toe is.  Maar hy verbeel hom dat hy beter as ander mense vir sy ontvlugting beplan het.’[2]

 

Dit gebeur veral met dié wat sê dat hulle God se kinders is, maar dit nie is nie (soos Samaria).  Hulle dink dat hulle doop, kerklidmaatskap, tiendes, getuienis van redding of ouderlingskap hulle teen God se oordele sal beskerm, en dat hulle dus in hulle sonde kan voortleef.  Hulle sit snoesig en veilig in die kerkbanke, en dink dat God se toorn hulle nie daar kan bereik nie (Jer. 7:4, Amos 6:1, Matt. 22:11-13).

 

Hulle glo vas dat hulle ‘n blom in Jesus se tuin is, en dat Hy hulle eendag as ‘n pêrel vir sy kroon gaan kom haal.  Hulle herinner hulleself aan God se liefde, en sê vir hulleself dat Hy nie so sterk oor hulle sonde voel soos oor die moordenaar en verkragter s’n nie.  ‘Eens gered, altyd gered!’ is die skuilplek wat hulle oprig om hulle teen God se toorn te beskerm.  Dit is so dat geen gelowige sy redding kan verloor nie, maar hierdie mense gebruik dit as ‘n lisensie om hulle sonde te doen (v.1, Rom. 6:1).

 

So seker as wat die Here leef, Hy sal hulle onder sy voete vertrap, die trotste kroon van hulle koppe afruk en hulle in die hel gooi (v.3-4).  Hy sal hulle in die vloed van sy oordele verdrink (v.2).  Die hel maak sy mond wyd oop om hulle in te sluk (v.4).  Al wat hulle terughou is die genade van God.

 

As jy jou sonde haat en jou daarvan bekeer het, is jy nie die persoon van wie ek sopas gepraat het nie.  Jy hoef daarom nie vanaand wakker te lê nie.  Die persoon wat ek hierbo beskryf het, gebruik God se genade as ‘n dekmantel om sy sonde te regverdig.  Hy weet dat die Here hom vir sy sonde gaan oordeel, maar doen dit in elk geval omdat hy dink dat hy altyd weer vergifnis kan vra.  Hy besef nie dat sy lewe van sonde besig is om hom hard te maak, sodat hy later nie meer ‘n begeerte sal hê om na die Here toe te draai nie.

 

Hy verdedig sy sonde deur te sê dat hy darem nog kerk toe gaan, die Bybel lees en bid.  Hy dink dat sy ‘goeie stiltetye’ ‘n aanduiding is dat sy dronkenskap of egbreuk nie verkeerd is nie, en dat die Here met hom tevrede is.  Hy is al so ver heen, dat sy gewete hom nie meer pla nie.  Hy is soos Jona wat in die storm slaap, en soos Samaria wat rustig sit en drink terwyl die storm van God se oordeel oor hulle broei.

 

Hy is soos die los vrou in Spr. 7:14 wat gedink het dat haar godsdienstige aksies haar sonde uitbalanseer, en dat die Here dit daarom nie ernstig opneem nie.  Ander mense kan sien dat hy op die verkeerde pad is, maar hy ontken dit.  Soos Israel van ouds raak hy kwaad as God se boodskappers sy sonde uitwys (2Kron. 16:10).

 

Hy lees daarom net die verse oor God se genade en liefde, omdat dit hom lekker laat voel (2Tim. 4:3-4).  Hy het geleer om die dele uit te blok wat oor God se heilige karakter, sy oordele en sy haat vir sonde gaan.  Hy het sy eie goedkoop teologie van genade en van Jesus se kruisdood geformuleer.  In sy oë beteken Jesus se kruisdood dat sy sonde vergewe is, en dat hy daarmee kan aanhou.  Wat God se genade betref dink hy dat dit oneindig is, en dat God se geduld nooit opraak nie.

 

Maar waar het die Here ooit gesê dat sy genade geen perke het nie?  Wys tekste soos Heb. 6:4-6 nie duidelik dat sommige mense die grens van God se genade oorskry, en dat hulle daarna nie weer kan terugkeer nie?  En het Jesus nie self gesê dat daar so iets soos die onvergeeflike sonde is nie?

 

As jy jouself dan ‘n Christen noem en met sonde besig is, moet jy jou ore spits.

 

Jerusalem se feesviering (v.7-13)

Paul Kruger het drank gehaat en net melk gedrink.  En tog het hy geglo dat dit nie sonde is as iemand drank gebruik nie.  ‘Drank is ‘n gawe van God aan die mens, en as dit in matigheid gebruik word is dit nie sonde nie,’ het hy gesê.  Hy het verstaan dat dit verfrissend kan wees na ‘n dag se harde werk.  Wat hy gehaat het was dronkenskap.[3]  En dit is presies die punt in v.7-13.

 

Samaria het hulleself dronk gedrink en onder God se oordeel beland.  En het die leiers van Jerusalem regtig gedink dat húlle daarmee gaan wegkom?  Die priesters en profete moes God se Woord vir die volk bring en vir hulle wys hoe om dit in hulle lewens toe te pas.  Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat hulle dronk was (v.7, 5:11, 22).  Hulle was so dronk dat die tafels vol van opgooi was (v.8).

 

Hoekom was hulle dronk?  Hulle het fees gevier, omdat Egipte belowe het om hulle teen Assirië te help (v.15, 30:1-7).  Soos met baie ongelowiges, het hulle die goeie tyding met drank gevier.  Hulle het die wyn ingesluk, maar op die einde het dit hulle ingesluk (v.7).  Die drank het hulle verwar en gemaak dat hulle nie goeie leiding kon neem nie (v.7).  Hulle visioene het nie van die Here af gekom nie, maar die alkohol het gemaak dat hulle snaakse dinge sien (v.7).  Hulle kon nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie; die drank het gemaak dat hulle die reg verdraai en verkeerde dinge sê (v.7).  Dié wat hulle geraadpleeg het kon net sowel ‘n dronk predikant vir berading gevra het, of vir ‘n dronk prokureur gevra het om hulle saak te beveg.

 

Terwyl die geestelike leiers dronk om die tafel gesit het, het Jesaja ingestap.  ‘Vir wie wil jy kennis leer en God se boodskap verduidelik – vir babas wat nog melkies drink?’ het hulle gesê (v.9).  ‘Jy gee mos melk vir die volk, asof hulle kinders is:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie.’ (v.10).

 

Maar Jesaja het juis so gepreek, omdat die volk a.g.v. sulke leiers geestelike babas was, en nie die vleis en aartappels van God se Woord kon verteer nie – hulle het melk nodig gehad.  Hy het dus eenvoudig gepreek, sodat almal dit kon verstaan, en sodat hulle nie ‘n verskoning gehad het vir waarom hulle hulle nie bekeer het nie.  Jesaja het die volle waarheid van God vir die volk gegee; Hy het niks uitgelos of oorgeslaan nie (v.10).  Maar Jerusalem en haar leiers het sy prediking geïgnoreer (2Kron. 36:15-16).

 

Gevolglik sou die Here hulle deur mense van ‘n vreemde taal getugtig het (v.11).  In die Ou Testament was Assirië en Babilon die vreemde nasies deur wie Hy sy volk getugtig het (v.11, Deut. 28:49, Jer. 5:15).  In die Nuwe Testament was ander lande se tale die teken dat die Here sy volk deur die Romeine – ‘n volk wat ‘n ander taal gepraat het – sou tugtig, en dat Hy die evangelie van die Jode af sou wegneem om dit na alle tale toe te versprei (Hand. 2:4-13, 14-23, 36).

 

God het die evangelie by sy volk weggevat, omdat hulle die eenvoudige verkondiging daarvan in hulle eie taal verwerp het (v.9-10).  Hulle wou nie die rus van sy verlossing gehad het nie, maar het dit van die hand gewys (v.12, 30:15, Matt. 11:28-30).  Hulle het eerder in Egipte en hulle eie planne gerus as in die Here (v.12, 15-16).

 

Israel het God se volledige Woord in hulle eie taal verwerp, en daarom het Hy sy oordele in ‘n taal aangekondig wat hulle nie verstaan nie (v.11, 13).  Het Jesus nie in gelykenisse gepreek wat die volk nie verstaan het nie (Matt. 13:10-17)?  Dit is byna of Hy gesê het:  ‘Toe dit verstaanbaar was, wou julle nie luister nie.  Nou sal Ek dit so eenvoudig maak, dat wyse en geleerde mense dit nie kan uitwerk nie, maar dat net geestelike kinders dit kan verstaan’ (Matt. 11:25).

 

Omdat die Jode se geestelike leiers die boodskap nie verstaan het nie, het hulle hulle nie bekeer nie.  En omdat hulle hulle nie bekeer het nie, het hulle in die vyand se vangnet beland en is hulle weggevoer (8:15).

 

So was dit ook in die Nuwe Testament.  Die volk en haar geestelike leiers het die Woord nie verstaan nie.  Gevolglik het hulle hulle nie tot die Messias bekeer nie, maar Hom gekruisig.  In 70 n.C. het die Here hulle hiervoor geoordeel.  Hy het sy Woord vir die Jode weggesteek en dit na die heidene toe gestuur (6:9-10, Amos 8:11, Hand. 28:25-28).  Dit is wat gebeur wanneer mense elke geleentheid in die wêreld het om die Woord eenvoudig te hoor (gesonde kerke, goeie preke op die internet, goeie Christelike boeke, ens.), maar nie daarop ag gee nie.

 

Wat het v.7-13 vir ons te sê?

 

[1] Persoonlik verkies ek dit om glad nie te drink nie.  Ek wil nie aspris iets voor iemand drink as dit hom in die versoeking gaan bring, of as dit sy gewete gaan pla nie (Rom. 14:21, 1Kor. 8:13).

 

En tog sê die Bybel nie dat dit sonde is as iemand ‘n glas wyn of ‘n bier drink nie.  In Deut. 14:26 het die Here vir Israel gesê dat hulle wyn of sterk drank by hulle feeste mag drink.  Ps. 104:15 sê dat wyn ‘n gawe van God is om die mens ontspanne en gelukkig te maak.  In 1Tim. 5:23 het Paulus vir sy jong vriend gesê om nie net water te drink nie maar ook wyn, sodat die alkohol die kieme in sy maag kan doodmaak.

 

Ons weet ook dat Jesus wyn gedrink het (Matt. 11:19).  Party mense dink dat die wyn in Jesus se tyd met water verdun is, en dat daar skaars alkohol in was.  Maar dit was nie altyd die geval nie.  Jesus het bv. die water in wyn verander, en nie die goeie ‘ou’ wyn met water verdun nie.  Ons weet ook dat daar genoeg alkohol in die wyn was om ‘n mens dronk te maak (v.7, 1Kor. 11:21).

 

En dít is juis waar die probleem lê:  ons moenie so baie drink dat ons dronk word nie (v.1, 7-8).  Ongelowiges gebruik elke geleentheid om dronk te word:  restaurante, motorfiets klubs, sosiale geleenthede, sport byeenkomste, partytjies, jaareindfunksies, jag, visvang, Kersfees, ens.  Wanneer ongelowiges rustig en gemaklik voel, drink hulle.  Wanneer hulle bly is, drink hulle.  Wanneer hulle depressief is, drink hulle.  Wanneer hulle bekommerd is, drink hulle.  Wanneer hulle probleme het, drink hulle.  Wanneer hulle verward en verlore voel, drink hulle.

 

Drank is hulle baas, omdat Jesus nie is nie (v.12, 7).  As hulle net na Jesus toe wil kom sal Hy hulle vry maak en die leemte in hulle siele vul (Joh. 4:14, 8:36).  Sy Persoon, kruisdood, opstanding en die Heilige Gees is meer as bekwaam om met hulle drank probleem af te reken.  Jesus kan hulle dors beter les as wat die drank kan, maar hulle glo dit nie, en daarom bly hulle vasgevang in die net van hulle sonde.

 

[2] ‘n Ongelowige wat jare gelede ons dienste bygewoon het, het by ‘n ander gemeente se kerkkamp vir die leraar gevra of sy en haar kêrel ‘n kamer kan deel.  Hy het nee gesê.  ‘Maar ons is mos nie meer kinders nie,’ was die vrou se reaksie.  Soos die vals profete in v.9-10 het sy gemaak of die Bybel se verbod teen seks buite die huwelik kinderagtig is.

 

Mense soek allerhande verskonings om nie dit-en-dat in die Bybel te aanvaar nie.  Soms sê hulle dat dit nie duidelik genoeg is nie.  Ek dink bv. aan God se lering oor homoseksualiteit en seks voor die huwelik.  Mense sê dat dit nie duidelik genoeg is nie, terwyl die waarheid is dat ‘n kind dit kan verstaan (v.9-10).  Maar die rede hoekom dit volgens hulle nie ‘duidelik’ is nie, is omdat hulle nie hulle sonde wil los nie.

 

[3] Ons moet die volle raad van God verkondig:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie (v.10, Hand. 20:27).  Om hierdie rede glo ek dat Skrif verklarende- of eksposerende prediking die beste is (Neh. 8:9).  Jy preek nie net die tekste waarvan jy hou nie, maar ook die dele wat moeilik is om te sluk.  As ‘n mens vers vir vers deur boeke van die Bybel preek, kan niemand sê:  ‘Jy het aspris daardie teks gekies om my aan te spreek’ nie.  Nee, ek het nie.  Ek het net die volgende gedeelte gepreek.

 

Eksposerende prediking gee vir die skape ‘n gesonde, gebalanseerde dieet van die Woord.  God het die Bybel in boeke, verse en hoofstukke geskryf, en daarom moet ons dit ook so preek.  Hy het elke detail daarvan geïnspireer, en daarom moet ons elke detail daarvan preek (2Tim. 3:16-4:2).

 

[4] In 1Kor. 14:21 haal Paulus Jes. 28:11 aan om te wys dat gemeentes wat in tale praat sonder dat dit uitgelê word, onder God se oordeel is (vgl. Gen. 11:1-9, 1Kor. 14:22).  Wees dan versigtig vir charismate wat in tale praat, sonder dat daar ‘n uitleg is.

 

Rowland Hill was ‘n Engelse prediker in die 18de en 19de eeu.  ‘n Dronk man het eenkeer na hom toe gekom en vir hom gesê.  ‘I am one of your converts, Mr. Hill.’  ‘I dare say you are, but you are none of the Lord’s, or you would not be drunk,’ het die wyse mnr. Hill geantwoord.[4]

 

Behoort jy aan die Here?  Moet dan nie soos Samaria en Jerusalem toelaat dat alkohol of enige iets anders jou beheer nie, maar word vervul met die Heilige Gees (Ef. 5:18).

 

[1] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p.150

[2] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, Works: Vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, 1976, p.8

[3] Martin Meredith, Diamonds, Gold and War, PublicAffairs, New York, 2007, 2008, p.170

[4] Aangehaal in C.H. Spurgeon, The Soul Winner, Whitaker House, New Kensington: PA, 1995, p.32

Orde in die erediens

Reformed worship

‘n Paar jaar gelede moes ek iemand oplaai by Parkstasie in Johannesburg. By die kruising waar ek regs moes draai het mense wetteloos oor die rooi lig gery. Die verkeer het soos ‘n koeksister gevleg geraak in die middel van die kruising. Een man het teen my kar geslaan, omdat ek nie soos die res die rooi lig geïgnoreer het en saam wetteloos was nie. As daar choas is op die pad, help dit as ‘n verkeersman die karre reguleer sodat dit ordelik vloei. So is dit in die erediens: God soek orde. In 1 Korintiërs 14:26-40 wys Paulus vir ons hoe dit in die praktyk lyk.

 

Reëls vir tale (v.27-28)

‘n Kollega het my vertel van ‘n chaotiese erediens wat hy bygewoon het. Party het in tale gesing, ander het met ‘n vlag op die verhoog rondgehardloop, ander mense het gewag dat die pastoor vir hulle ‘n profesie moes gee, ander het ‘in die gees’ geval, ander het gebid, ens.

 

Paulus praat daarteen en beveel dat daar orde moet wees. In v.27-28 gee hy reëls vir spreek in tale:

 

[1] Net twee of drie mag praat (v.27).

 

[2] Hulle moet een na die ander praat (v.27).

 

[3] Daar moet ‘n uitleg wees (v.27).

 

[4] As die persoon met die gawe van uitleg afwesig is, moet dié wat die gawe van tale het stilbly (v.28). Hulle moet saggies met hulleself praat (dit is letterlik wat oordenking of bepeinsing beteken). Hulle moet ook saggies tot God bid – seker vir die vermoë om die taal uit te lê (v.13). Die teks sê nié dat hulle by die huis in tale moet praat nie. Die konteks hier gaan oor die erediens (v.28, 26). Die feit dat die persoon kan stilbly wys dat tale nie ‘n onbeheerde ekstase is nie.

 

Reëls vir profesie (v.29-36)

Die meeste moderne ‘profete’ wil nie in die lig van v.29-36 geëvalueer word nie. Sodra jy dit wil doen, sê hulle jy probeer die Heilige Gees inperk en in ‘n boks sit. Maar die waarheid is dat die Heilige Gees self die ‘boks’ gebou het: Hy self het die reëls daargestel en geïnspireer (v.37-38).

 

Toe mense vir Benny Hinn teen die Skrif wou meet (v.29), het hy gesê: ‘Those who put us down are a bunch of morons… You know, I’ve looked for one verse in the Bible, I just can’t seem to find it. One verse that says, ‘If you don’t like ’em, kill ’em.’ I really wish I could find it… Sometimes I wish God would give me a Holy Ghost machine gun – I’ll blow your head off!’[1]

 

God het reëls waarvolgens ons moet aanbid – ons kan nie doen soos wat óns wil nie. In v.29-36 gee Paulus reëls vir profesie.

 

[1] Net twee of drie mag profeteer.

 

[2] Mense met die gawe van onderskeiding (12:10) moet weeg of die profesie balanseer in die skaal van die apostels se lering, en of dit vals is en te lig weeg (v.29). Ander verse in die Nuwe Testament sê:

 

  • “Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie.” (1 Tessalonisense 5:20-21).
  • Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.” (1 Johannes 4:6).
  • “En hulle het volhard in die leer van die apostels” (Handelinge 2:42).
  • “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie” (1 Timoteus 6:2).
  • “sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.” (2 Petrus 3:2).
  • “gebou op die fondament van die apostels en profete” (Efesiërs 2:20).

[3] As ‘n ander profeet ‘n openbaring kry, moet die eerste een stilbly (v.30). Hoekom? Die Heilige Gees wys dat die eerste profeet vals profeteer. Óf Hy wil keer dat een profeet die vloer oorneem, en wil sorg dat ander ‘n beurt kry (v.31).

 

[4] Die profete moet een vir een praat, sodat elkeen – soos wat die weke aanstap – ‘n beurt kan kry om die kerk te leer en te bemoedig (v.31, 3, 27).

 

Orde en stilte wys dat ‘n profeet nie buite homself raak nie: hy kan sy gees beheer (v.32). Orde in die kerk weerkaats dat God ‘n God van orde en vrede is (v.33a). Chaos in die kerk vertel ‘n leuen oor God en sê Hy is wanordelik (v.33a, 23). Hierdie reëls geld vir alle kerke, en nie net vir die Korintiërs nie (v.33b, vgl. 4:17, 7:17, 11:16, 16:1).

 

[5] Vroue moet stil en onderdanig wees in die kerk (v.34-35, vgl. stilte in 28, 30). Die konteks bepaal nie absolute stilte nie, maar stilte met betrekking tot die evaluasie van profete en dus ook lering (v.34, 1 Timoteus 2:11-12). Die konteks bepaal ook dat ‘n vrou aan haar eie man onderdanig moet wees (v.35).

 

Om sy punt te staaf, verwys Paulus terug na die Ou Testament wat sê dat ‘n man sy vrou moet lei (v.34, Genesis 1:26-27, 5:1-2, 2:18, 23, 3:20, 9, 11, 1 Korintiërs 11:3, 8-9, 1 Timoteus 2:13). Mans moenie passiewe papbroeke wees soos Adam nie, maar moet hulle vroue lei, leer en beskerm (v.35). Dit is lelik as ‘n vrou oor haar man baasspeel soos wat Eva oor Adam gedoen het (v.35, Genesis 3:6, 16).

 

Moenie soos die Korintiërs arrogant wees en dink die Skrif is onder jou, of dat die reëls vir orde vir ander geld, maar nie vir jou nie (v.36, 33b).

 

Reëls vir die gawes (v.26, 37-40)

In 2001 het Peter Wagner homself as ‘n moderne apostel aangestel. Hy het ‘n hele nuwe orde van apostels gestig, en gesê dat mense vir slegs $69 per maand ‘n apostel kan wees. Toe mense uit Handelinge 1:21-22, 24, 2 Korintiërs 12:12 vir Wagner wys dat daar vandag nie meer apostels is nie, het hy die Skrif eenkant toe geskuif.[2]

 

Paulus het gesê dat alle gawes en die ordelike gebruik daarvan teen die Skrif moet opmeet (v.37). Indien dit nie opmeet nie, moet die persoon nie erken word nie (v.38). Vers 26 begin met: ‘Wat dan broers?’ Paulus som op na 12:1-14:25. Met die woord ‘broers’ (v.26) wys Paulus, te midde van ‘n somber toon, dat hy die Korintiërs liefhet.

 

As hulle saamkom het elkeen ‘n psalm (Kolossense 3:16), ‘n lering (didache, 1 Timoteus 4:13, 2 Timoteus 4:2), ‘n openbaring (v.30, 2 Petrus 1:20-21), ‘n taal, ‘n uitleg (v.26, 12:10). Die probleem is nie dat die Korintiërs hulle gawes gebruik het nie, maar dat hulle dit nie gebruik om ander op te bou nie (v.26, bv. tale wat nie uitgelê word nie).

 

Die profete, die ‘geestelikes’ wat in tale praat, en elke ander gawe moet opmeet teen die apostels se lering – teen die Skrif (v.37, Gk. graphe, 1 Johannes 4:6). Die een wat dít nie erken nie, verwerp God en is ‘n vals profeet – God, Paulus, en die kerk sal so iemand ook nie erken nie (v.38). Paulus is nie teen gawes soos tale en profesie nie, maar moedig dit aan (v.39). Hy is eerder teen profesie wat met die Skrif bots, teen tale wat nie uitgelê word nie, teen wanorde (v.37-38, 13, 40).

 

Die toepassing van v.26-40 is maklik: wees ordelik in die erediens. Moenie val vir kerke en TV-dienste waar mense chaoties aanbid, en sê dis die Heilige Gees se werk nie (v.33a). As mense gelyk in tale praat en niemand dit uitlê nie (v.27-28), of in die ‘gees’ val, ruk, lag, blaf, skreeu, kruip, en hop, is dit nie die Heilige Gees se werk nie. Dit is ‘n vals gees, die vlees, of beide se werk (v.23):

 

“Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” (Jakobus 3:14-16).

 

As jy hierdie mense se tale en ervarings bevraagteken, skiet hulle gewoonlik terug met v.39: “moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.” Maar dit is ‘n onwettige beswaar. Paulus self het gekeer dat almal nie gelyk in tale praat, of in tale praat sonder ‘n uitleg nie. As moderne tale nie aan die vereistes van die Skrif voldoen nie, dan móét ons dit afskryf.

 

  • Waar is die moderne tale wat nie ‘n brabbeltaal is nie, maar ander lande se tale soos in v.10-11, 21, Handelinge 2:5-11?
  • Waar is die moderne tale wat uitgelê word om kerk te stig, en nie selfsugtig in die binnekamer gebruik word nie (v.13-19)?
  • Waar is die ordelike tale volgens v.27-28: net twee of drie, een na die ander, ‘n uitleg, en onmiddellike stilte as daar nie ‘n uitleg is nie?
  • Waar is die profete wat oop is vir evaluasie (v.29)?

 

Orde in die erediens beteken ook ‘n vrou mag nie onderrig gee of leiding neem nie (v.34-35, 1 Timoteus 2:12). Paulus is nie seksisties of téén vroue nie. Hy ontken nie dat vroue goed kan praat of die Skrif ken nie. Hy wil eerder hê dat mans nie passief moet rondstaan soos Adam nie, maar dat hulle hul vroue moet beskerm. Daarom moet mans:

 

  • Die kritiek vat
  • Vals lering beveg
  • Die duiwel teëstaan
  • Die kerk met sterk vleis voer
  • Die Koning se boodskap uitroep
  • Sonde tug
  • Dapper wees
  • Vroue in hulle dienswerk aanmoedig
  • Die vrou se hoë roeping om kinders op te voed, koester en beskerm

Dit is nie dat vroue onbevoeg is nie. Dis eerder dat mans nie passief moet wees, en soos sissies en papbroeke toekyk hoe vroue die bogenoemde dinge doen nie (dis soos ‘n pa wat TV kyk en bier drink, terwyl sy vrou die balhorige kinders moet tugtig).

 

Voel jy selfregverdig omdat ons ordelik aanbid, rustig is en nie chaoties nie? Begraafplase is ook rustig. Jesus waarsku: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” (Openbaring 3:1). Pasop dat jý nie so is en geen probleme het nie, omdat jy jouself eenkant hou en nie jou gawe gebruik om betrokke te raak by mense nie. Dien in die erediens.

 

Dalk het jy uiterlik orde, maar die sonde in jou siel lyk soos ‘n houthuisie nadat ‘n tornado dit getref het. As dít die geval is, beteken orde in die erediens niks. Soos God in Genesis 1:2 orde uit chaos gebring het, doen Hy dit in die nuwe skepping van jou hart (2 Korintiërs 5:17). Erken dat daar chaos in jou hart is. Vra dat Jesus jou sonde wegvat en jou hart rein was met die bloed van sy kruis. Bekeer jou deur krag en aanbid Hom dán ordelik.

 

Brahm, Marthiens, Riaan, en Ferdi is ‘n sesjarige vierling. Jy sidder as hulle ouers by jou huis kom kuier. Die vierling spring op jou banke, stoei naby die kristalbak op jou koffietafel, treiter jou hond, staan op jou kombuistafel, trek die plante uit jou tuin uit, pluk die groen perskes af, gooi grond in die swembad, eet soos varke met hulle hande, krap in jou slaapkamer se laaie, rol die toiletpapier af, en gooi tantrums. Die wanordelike kinders spreek volumes oor hulle ouers en gee vir hulle ‘n slegte naam.

 

Laat ons nie soos die vierling wanordelik wees en Jesus se Naam swartsmeer nie (v.33a), maar laat alles deeglik en ordelik by ons geskied (v.40).

[1] John MacArthur, Strange Fire, p.7

[2] Ibid, pp.93, 85-89

Die gawe van tale in Korinte en vandag

Speaking in tongues

Iemand wat die gawe van tale gebruik om af te wys, is soos iemand wat ‘n Rolls Royce kry om sy baas rond te ry, maar dit misbruik om meisies te beïndruk. In 1 Korintiërs 14:1-25 sê Paulus dat tale wat nie uitgelê word nie, niemand help nie.

 

Tale, profesie en stigting (v.1-5)

Ek ken ‘n vrou wat in haar stiltetyd in tale praat en sê sy bou haarself op. In die gemiddelde charismatiese kerk praat mense in tale sonder dat daar ‘n uitleg is. In ‘n YouTube video maak Kenneth Copeland en ‘n ander prediker grappe in tale, en is daar geen uitleg nie.[1] Paulus het gesê dat tale sonder ‘n uitleg nie die kerk opbou nie, maar liefdeloos en selfsugtig is (v.1-5).

 

Paulus wou hê die Korintiërs moes die liefde najaag, sodat hulle ander kon opbou (v.1-5, hfst.13). Juis daarom moes hulle eerder profesie soek as tale wat nie uitgelê word nie (v.1, 5). In 12:28 noem hy profesie die tweede belangrikste gawe. Iemand wat in ‘n taal spreek praat met God en nie met mense nie (v.2, vgl. Handelinge 2:11, 10:46). As iemand nie die taal uitlê nie, verstaan die res dit nie (v.2, 5). Deur die Heilige Gees se krag praat die persoon ‘n geheimenis (v.2). In die Skrif is ‘n geheimenis iets wat bedek was, maar nou deur die Heilige Gees geopenbaar is (sien 4:1, 15:51, Romeine 16:25, Kolossense 1:26, Efesiërs 3:9, Openbaring 1:20). Paulus wil dus nie hê dat die geheimenis in ‘n vreemde taal weggesteek moet word nie: dit moet uitgelê word (v.2).

 

Iemand wat profeteer bou die kerk op, bemoedig mense, en vertroos hulle (v.3). Iemand wat sonder ‘n uitleg in tale praat wys nie liefde nie, maar soek sy eie belang (v.4, vgl. 13:5, 10:33). So iemand wil sy eie ego streel of dink dat spreek in tale ‘n status-simbool is. Dié persoon bou nie ander op soos die persoon wat profeteer nie (v.4, 1). Paulus is nie teen die gawe van tale nie. As dit kon (12:30 sê dit kan nie), wens hy almal kon in tale praat (v.5, vgl. Numeri 11:29). Profesie is dan beter as tale, tensy iemand die tale uitlê, sodat die kerk gestig word (v.5). Die beste gawe is dan die een wat ander opbou (v.5).

 

Tale, uitleg en begrip (v.6-19)

In 2007 het ek Taiwan besoek. Baie min mense in Taiwan kan Engels praat. Selfs die tye op winkel vensters en pryse op spyskaarte is in Chinese karakters. Ek het die frustrasie gevoel toe ek vir ‘n publieke badkamer gevra het. Ek het gesê: ‘Where is the bathroom?… Where is the toilet?’ Ek het selfs ‘n mannetjie en vroutjie geteken. Niemand het verstaan wat ek bedoel nie. Eers na ‘n minuut of so kon iemand my help. As begrip belangrik is vir ‘n alledaagse gesprek, hoeveel te meer nie in die kerk van die lewende God nie (v.6-19)?

 

Paulus raas met die Korintiërs. Om sy stemtoon te versag en liefde te wys, noem hy hulle ‘broers’ (v.6, 20). Hoe sou dit wees as hý Korinte toe kom en in tale praat sonder ‘n openbaring, profesie, kennis, of lering in hulle eie taal (v.6)? Selfs ‘n lewelose fluit of harp moet duidelike note gee as jy die wysie wil ken (v.7). Indien nie, is dit soos ‘n vals sanger wat vir jou sê: ‘Ken jy daardie liedjie?’ en dan op een noot ‘Da-da-da-da-da-da’ sing. Jy kan net die wysie geniet as die note duidelik is. En as die basuin nie spesifieke note blaas nie, sal die soldate nie weet of hulle kamp moet breek, en of hulle moet gereed maak vir oorlog nie (v.8).

 

So is dit met tale as niemand dit uitlê nie: jy praat in die lug en tref nie die teiken nie. Dit help niemand nie, bou hulle nie op nie, troos hulle nie, leer hulle nie, bemoedig hulle nie, vermaan hulle nie (v.9). Daar is baie soorte tale in die wêreld. Elkeen se spesifieke klank het ‘n betekenis (v.10). As jy dit nie verstaan nie, klink dit vir jou so: bar-bar-bar-bar-bar. Dit is letterlik wat ‘vreemdeling’ in v.11 beteken. Die Griekse woord is barbaros. Vir die Korintiërs was dit baie erg om dít te hoor. Paulus sê in effek vir hulle: tale sonder ‘n uitleg maak julle niks beter as barbare nie.

 

Dit laat my dink aan 1989. My sussie was vyf en haar maatjie vier. Haar maatjie het gehoor hoe ons met my pa Engels praat. Eendag sit sy en my sussie agter in ons Passat. Skielik begin sy babbel: ‘Hlal-lal-lalo-lale…’ My sussie kyk verbaas na haar en vra: ‘Wat doen jy?’ ‘Ek praat Engels,’ kom die antwoord.

 

Om nie ‘n taal te verstaan nie is frustrerend (v.11, Genesis 11). Dis asof jy in ‘n Shangaan kerk sit terwyl iemand preek (ek het al), of luister hoe ‘n Katolieke priester die Bybel in Latyn lees. ‘Nee!’ sê Paulus. ‘Lê die taal uit en bou die kerk op’ (v.12). Beywer jouself om die kerk op te bou meer as om sekere gawes te hê (v.12, 1).

 

‘n Vrou het vir my gesê dat tale ‘n hoër vorm van gebed is. ‘Dis gees tot Gees soos 1 Korintiërs 14:14 sê,’ was haar redenasie. Sy glo ook dat Efesiërs 6:18, Judas 20 se ‘bid in die Gees’ na tale verwys. In Romeine 8:26-27 sê Paulus dat die Gees vir ons intree met onuitspreeklike sugtinge. Sy glo dit verwys na tale.

 

Maar hierdie tekste sê dat alle gelowiges in die Gees moet bid, en dat die Gees vir alle gelowiges in hulle swakheid bid. In 12:30 egter sê Paulus dat nie almal in tale praat nie. Ek het haar toe gevra oor Johannes 4:23-24 wat sê dat God mense soek wat Hom in Gees en waarheid moet aanbid. Sy het gesê dit verwys na mense wat in hulle stiltetyd in tale bid. Maar v.13-19 sê dat gebed in die gees sonder die verstand (tale sonder uitleg) nie goed is nie.

 

Om die kerk op te bou (v.12) moes die Korintiërs bid vir ‘n uitleg (v.13, 27). Die apostels sê dat iemand wat in ‘n taal bid of sing dit doen deur die Heilige Gees wat sy of haar gees bekragtig (v.14, 2, vgl. Efesiërs 5:18-19). Sonder ‘n uitleg en begrip, is jou verstand soos grond wat onvrugbaar is en nie goeie vrug lewer vir die res om te geniet nie (v.13-14). Weereens: om in jou gees te bid en te sing, terwyl jou verstand onaktief is, is nie goed nie. Tale sonder ‘n uitleg is nie goed nie (v.15).

 

Vir alle praktiese doeleindes is iemand wat tale sonder ‘n uitleg hoor niks beter as ‘n vreemdeling nie. Hy of sy kan nie ‘Amen’ of ‘Laat dit so wees’ op die persoon se dankgebed sê nie (v.16, Nehemia 8:7). Die dankgebed is mooi, maar dit help niemand nie en is liefdeloos (v.17, 1).

 

Paulus is nie teen die gawe van tale nie – hy praat dit meer as hulle almal (v.18). Hy is teen tale sonder ‘n uitleg (v.19). Om ander op te bou sal hy eerder vyf woorde in ‘n verstaanbare taal praat, as tienduisend woorde in ‘n taal wat ander nie verstaan nie (v.19). Om dít te doen sal niemand help nie.

 

 

Tale, profesie en ongelowiges (v.20-25)

Verbeel jou jy stap by ‘n kerk in, en almal praat gelyk verskillende dinge in Afrikaans, Engels, Zulu, Chinees, Spaans, Swahili, Arabies, Frans, Grieks, Deens, Thai, en daar is geen tolk nie. Sal jy nie dink die mense is mal nie? Wat as jy by ‘n kerk instap en almal sê gelyk: ‘Shal-ba-ba-bah-shlabalika… ilia skiridan tola do skantama… patara rama na savarah dahara dafarasala fasa carara’? Dis tragies dat die kerk dit verdra, en dat ongelowiges moet wys dat dit vals en chaoties is. Die Skeptic’s Dictionary sê:

 

‘When spoken by schizophrenics, glossolalia [Afr. tale] is recognized as gibberish. In charismatic Christian communties glossolalia is sacred and referred to as “speaking in tongues” or having “the gift of tongues”.’[2] Tale sonder ‘n uitleg is sleg genoeg. Wat nog van vandag se nagemaakte tale sonder ‘n uitleg?

 

Paulus wou nie hê die Korintiërs moes onvolwasse wees in hulle denke nie (v.20, 14, 13:11, vgl. Efesiërs 4:14, Hebreërs 5:12-13). Daarom moes hulle die tale uitlê sodat die res dit kon verstaan, opgebou word, en groei (v.20). Hulle moes onkundige kinders wees wanneer dit by sonde kom (v.20, Romeine 16:20), maar volwasse in geestelike denke (v.20, 13:10-11, 2:6, Gk. teleios).

 

Die Ou Testament het gesê as Israel rebels was, sou God vyande stuur wat ‘n ander taal praat. Israel wou nie die profete hoor wat in hulle eie taal gepraat het nie. Nou sou ander nasies God se oordeel in ‘n vreemde taal aankondig, maar Israel sou hulle nie bekeer nie, omdat hulle die taal nie verstaan het nie (v.21, Jesaja 28:11-12, Deuteronomium 28:49, Jeremia 5:15). Vir ongelowige Israel was vreemde tale ‘n teken van oordeel (v.21-22). Net so is tale sonder ‘n uitleg nie ‘n bewys van geestelikheid of seën nie, maar van God se oordeel oor ‘n ongelowige kerk (v.22)!

 

As die Korintiërs die tale uitgelê het, sou dit, soos profesie, die kerk opgebou het (v.22). As die Korintiërs sonder ‘n uitleg in tale gepraat het, sou besoekers instap en sê: ‘Christene is mal; hulle is nie regdenkend nie’ (v.23, 27). As hulle egter in ‘n verstaanbare taal geprofeteer het, sou God die ongelowige se hart ontbloot het en sy sonde uitgewys het (Johannes 16:8, Hebreërs 4:12-13, Jeremia 17:10). Hy sou gevrees het, Jesus as die ware God bely, voor Hom gebuig en Hom aanbid het (v.24-25, vgl. Sagaria 8:23).

 

Hoe help hierdie hoofstuk ons vandag? Ons moet die lering daarvan verstaan en die moderne gawe van tale aan die Skrif meet.

 

[1] Die tale in 1 Korintiërs 14 is nie brabbeltale soos wat charismate praat nie, maar is die bonatuurlike vermoë om sonder taalklasse ‘n ander land se taal te praat. In v.10-11 praat Paulus van verskillende lande se tale. Die Griekse woord genos is dieselfde woord as in 12:10: “allerhande [genos] tale”. In v.21 haal die apostel Jesaja 28:11-12 aan wat duidelik van ander lande se tale praat. Ook in Handelinge 2:5-11 is dit duidelik dat dié gawe nie ‘n brabbeltaal is nie, maar ander lande se tale. Die gawe van uitleg is die bonatuurlike vermoë om sonder taallesse hierdie tale uit te lê of te vertaal (v.13, vgl. Daniël 5).

 

Hoekom praat mense in brabbeltale as dit nie eg is nie? Party mense maak dit op (soos ‘n AGS Pastoor wat vir ons vertel het dat hy dit vir 15 jaar ‘gefake’ het). Party mense smag na ‘n emosionele ervaring en mislei hulleself. By ander is dit demone wat die tale na-aap. Die duiwel kan homself voordoen as ‘n engel van die lig, en vals wonders en tekens doen (2 Korintiërs 11:14, Matteus 24:24). Mense in dieKundalini kultus (Hindoeïsme) en Oosterse Misterie Kultusse praat in brabbeltale. ‘n Man uit die Pinkster beweging vra: ‘If the possessed voodoo priest says: “shiri-bo-bo-bo-boh” in a staccato stammer over his black whisk he holds, and the possessed born-again Christian rattles: “shla-ba-ba-bah-shlabalika” over his Bible, then what can be the difference?”’[3]

 

[2] Iemand wat in tale praat, praat met God en nie met mense nie (v.2). Hy wat dan die taal uitlê en sê: ‘So sê die Here…’ jok.

 

[3] Tale is nie vir jou stiltetyd gegee nie. Die feit dat iemand wat in tale spreek met God praat en nie met mense nie, beteken nie dis vir die binnekamer nie. Die woord ‘binnekamer’ kom nie eers in hfst.14 voor nie. Handelinge 2:11, 10:46 wys hoe mense in die openbaar met God praat in ander tale. Party mense dink v.4a is positief: “Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself”. Hulle lei hieruit af dat jy tale moet gebruik om jouself in jou binnekamer op te bou. Maar die konteks wys anders. Die Heilige Gees het die gawes gegee, sodat jy ander kan opbou (v.5, 6, 12, 17, 13-19, 26, 12:7, 25, Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:7, 11-13, 16, 1 Petrus 4:10).

 

Party mense dink dis geestelik om in die gees te bid, terwyl jy jou verstand afskakel en jou brein in neutraal sit (v.14). Paulus sê dis nie goed nie (v.15, Romeine 12:2, Efesiërs 4:23). Om in tale te praat sonder dat daar ‘n uitleg is (in jou kamer of in die erediens), is nie goed nie maar sleg (v.13-19).

 

Beswaar: ‘Maar Paulus self sê hy praat in tale, en sal in die kerk liewer vyf woorde in ‘n verstaanbare taal praat, as tienduisend woorde in ‘n taal. Impliseer dit nie dat hy in sy binnekamer in tale gepraat het nie?’

 

Antwoord: Paulus sal nie teen sy eie raad gaan nie. Die konteks van v.13-19 en die hele hfst.14 sê dat tale gegee is om die gemeente op te bou. Die feit dat iemand ‘Amen’ kan sê op die gebed in ‘n ander taal, wys vir jou dit geskied in die kerk en nie in die binnekamer nie (v.16). Dalk het Paulus tale op die sendingveld gebruik, sodat die evangelie makliker kon versprei (Handelinge 2:5-11). Dit is immers ‘n teken vir ongelowiges (v.22). Op die sendingveld sou ‘n uitleg nie nodig gewees het nie, omdat almal dit kon verstaan.

 

Wat ons vandag in charismatiese kerke sien meet nie op teen die Skrif nie, en is dus nie die Bybelse gawe van tale nie (v.26-40 sal die punt verder bewys). Meer as een persoon het al vir my vertel van sendelinge wat die Bybelse gawe van tale het. Maar gewoonlik is dit ‘n vriend se vriend se nefie se kind, en hulle weet nie presies waar en wanneer dit gebeur het nie.

 

As jy op dié gebied onderskeid wil toepas, sal mense sê jy blus die Heilige Gees. Die waarheid is dat mense wat nie teen Skrif die opmeet nie, die Heilige Gees blus en sy Woord minag.

 

Ons misbruik nou wel nie die gawe van tale nie, maar hfst.14 het ook ‘n paar waarskuwings vir óns.

 

  • Is jy ‘n bangbroek wat nie foute in die kerk wil uitwys nie, maar eerder sal stilbly? Leer by Paulus om reguit te praat (v.20, 23).
  • Is jy te hard in jou kritiek? Is jy alewig negatief? Wys die verkeerde uit, maar doen dit in ‘n gees van sagmoedigheid (v.6, 20, 26, 2 Timoteus 2:25). Moenie net sê wat mense nie moet doen nie, maar ook wat hulle moet doen (v.1, 12, 20).
  • As ‘n kind stout is, wys dit hy lewe. ‘n Kind wat niks doen nie is siek of dood. ‘n Kerk soos Korinte wat lewe en foute maak, is beter as ‘n kerk wat geen probleme het nie, omdat dit dood is.
  • Ja, die Korintiërs se roem in tale is lelik. Maar roem ons nie soms omdat ons ‘n suiwer leer verkondig nie? Die Korintiërs was opgeblase oor hulle tale, terwyl hulle dit eerder moes gebruik om die kerk op te bou. Maar gebruik jy enigsins jou gawe? Of het jy dit op die rak gesit, sodat dit stof vergader? Het jy dit onlangs afgestof om ander te dien? Of sal jy by die wederkoms jou gawe uit die grond moet grawe, en vir Jesus hoor sê: ‘Jou slegte en lui dienskneg!’? Moenie net ‘n nommer wees wat ‘n kerkbank warm hou nie. Gebruik jou gawe om ander op te bou (v.12). As jy dit nié doen nie, dan beteken jy niks, is jy niks, en sal jy geen beloning kry nie (13:1-3).

 

Een van my gunsteling teoloë handhaaf ‘n ander siening as ek oor tale. Hy probeer dit soos volg regverdig. Gestel jy vat ‘n vers in die Psalms en haal die vokale uit. In plaas van: ‘Praise the Lord, for his mercy endures forever,’ het jy: ‘Prs th Lrd fr hs mrc ndrs frvr.’ Daarna gebruik hy net elke derde letter, sodat die letters nou so lyk: ‘Ptrrmnsvrhdhrdfrslfscrr.’ Volgende sit hy ‘n ‘a’ tussen elke konsonant en breek dit op in kort woorde. Nou het jy: ‘Patara rama na savarah dahara dafarasala fasa carara.’ Hy sê dat jy hierdie tale kan verstaan as jy die ‘kode’ ken. Volgens hom is tale nie menslike tale, maar ‘n taal in dieselfde sin as wat ‘n rekenaar program ‘n ‘kode taal’ het – al is dit ‘n taal wat niemand praat nie.[4]

 

Ek hoop jy kan uit 1 Korintiërs 14 sien dat dít nie ‘n Bybelse verduideliking van tale is nie, en dat jy weet wat die Skrif regtig oor die kwessie sê.

[1] https://www.youtube.com/watch?v=vA92BLngNVU

[2] John MacArthur, Strange Fire, p.135

[3] Ibid, p.4

[4] Ibid, pp.235-236

Die heel belangrikste ding in die kerk

Love God and others

Wyle Martin Holdt het vertel van ‘n predikant in Klerksdorp wat nie baie goed kon preek nie. Ten spyte van sy oppervlakkig inhoud was die kerk elke Sondag stampvol. Hoekom? Hy was lief vir mense. Hy het in die middel van die nag in sy Kombi deur die strate gery. As hy ‘n huis gesien het waar daar ligte brand, het hy gestop en gevra of alles reg is. Die mense was mal oor hom en wou deel wees van só ‘n gemeente.

Natuurlik is die waarheid baie belangrik, maar wat help Bybelse prediking sonder liefde? Sê die Skrif nie ons moet die waarheid in liefde praat nie (Efesiërs 4:15)? Jy kan baie begaafd wees sonder dat jy God en mense liefhet. Maar as jy ware liefde het, sal dit uitloop op baie ander goeie dinge. En dis juis om dié rede wat Paulus in 1 Korintiërs 13 sê dat die liefde belangriker is as enigiets anders.

Die afwesigheid van liefde (v.1-3)

Jerry Bridges illustreer die afwesigheid van liefde soos volg. Hy sê dit is soos ‘n papier vol van nulle – dit beteken niks. Maar sit nou ‘n nr.1 voor die eerste nul en skielik is jy oneindig ryk. Paulus gooi nie die gawes weg nie, maar wys hoe min dit werd is sonder liefde. Hy wil hê dat “alles by julle in liefde geskied.” (16:14).

Die gawes van die Gees sonder die vrug van die Gees help niks. Dit geld ook vir die Korintiërs se gunsteling gawe: tale (v.1).[1] ‘n Taal wat nie uitgelê word nie, raas soos ‘n ghong en is soos iemand wat op ‘n simbaal slaan en almal irriteer (v.1). Om dit te doen is liefdeloos en bou niemand op nie (v.1).

Die gawes van profesie, insig in alle geheimenisse (15:51, 14:2) kennis, en geloof sodat jy deur jou gebede groot struikelblokke kan versit (Markus 11:23-24), help niks as jy nie liefhet nie (v.2). Ongelowiges kan ook sê: “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?” (Matteus 7:22). Sonder liefde is dit nie net jou gawes nie, maar jy self wat niks is (v.2). Dis nie jou groot gawes wat jou kenmerk nie, maar jou liefde.

Jy sal geen voordeel of beloning kry as jy al jou besittings vir die armes gee, of jouself aan ‘n martelaardood op ‘n brandstapel oorgee, maar nie liefhet nie (v.3, Matteus 19:21, 6:2, Daniël 3:28). Ja, dit is so dat liefde opoffer (1 Johannes 3:16-18, Efesiërs 5:25, Galasiërs 2:20, Romeine 5:6-8). Maar nie alle opoffering is liefde nie: kamikaze vlieëniers gee nie hulle lewens prys omdat hulle God of ander liefhet nie (v.3).

 

Die eienskappe van liefde (v.4-7)

Ek was eenkeer in ‘n vergadering met ‘n predikant wat sy vrou gelos het. ‘Wat is die finale rede waarom jy skei?’ het die vergadering gevra. Sy antwoord was: ‘Ek is nie meer lief vir my vrou nie.’ ‘n Ou predikant het kwaad geword en vir hom gesê: ‘Jy maak die huwelik goedkoop! Jy verstaan nie wat liefde is nie!’

Die wêreld sê: ‘Jy kan nie liefde soos ‘n lig aan- of af sit nie.’ Maar God beveel dat jy Hom en jou naaste moet liefhê (Lukas 10:27). Kan jy kies om God en jou naaste lief te hê of nie? Kan jy kies om geduldig, vriendelik, en goed gemanierd te wees of nie (v.4-7)? Liefde is nie ‘n warm gevoel nie, maar word sigbaar in praktiese dade (v.4-7).

Die vyftien kwaliteite in v.4-7 IS nie liefde nie, maar dit vloei wel daaruit. Die liefde bind baie ander kwaliteite saam (Kolossense 3:14). Paulus het hierdie lys mooi gekies om die Korintiërs te bestraf. Hulle het die teenoorgestelde gedoen van wat hierdie lys sê:

Hulle was ongeduldig, onvriendelik, jaloers, het in hulleself geroem, was arrogant, ongemanierd, het hulle eie voordeel gesoek, was bitter, het boek van die kwaad gehou, was bly oor sonde en nie oor die waarheid nie, het nie ander se sonde teen hulle verdra nie, het slegte dinge oor ander geglo, en het mekaar afgeskryf.

Ware liefde:

[1] Is geduldig soos wat God met sondaars is (Romeine 2:4, 1 Timoteus 1:16).

[2] Is vriendelik en gaaf soos wat God met ons is (Lukas 6:35, Efesiërs 4:32).

[3] Is nie jaloers soos wat die Korintiërs op mekaar was nie (3:3). Robert Murray M’Cheyene was ‘n predikant in Dundee in Skotland. Toe ‘n herlewing in sy afwesigheid onder William Burns uitbreek, was hy nie jaloers nie, maar het hy gejuig asof dit onder sy eie bediening gekom het.

[4] Roem nie in homself nie. Nick Needham skryf oor ‘n sekere Michael Psellus wat in die 11de eeu geleef het: ‘He was a true marvel of learning. Philosophy, theology, music, rhetoric, mathematics, astronomy, medicine, military strategy: nothing seemed to escape Psellus’s masterful mind – with the possible exception of humility, as he never lost any opportunity of telling everyone how great his knowledge and achievements were.’[2]

Mohammed Ali het gereeld oor sy boks vernuf geroem. Deesdae wys atlete met beide wysvingers na hulself as hulle wen. Kontrasteer dit met ‘n predikant in Europa wat altyd eers vir 10 of 20 minute oor jóú praat, voordat hy enigiets oor homself sê.

[5] Is nie – soos die Korintiërs – arrogant of opgeblase nie (4:6, 18, 19, 5:2, 8:1).

[6] Is nie ongemanierd nie. In 7:36 het hierdie selfde Griekse woord seksuele konnotasies. Iemand wat liefhet sal nie vuil dinge doen wat nie by ‘n Christen pas nie.

[7] Soek nie sy eie belang nie. In 10:24, 33 het Paulus gesê: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander… net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.”

Só het Paulus Timoteus met die vals leraars gekontrasteer: “Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie; want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie.” (Filippense 2:20-21). Jesus is die grootste voorbeeld van Iemand wat ander se belange bo sy eie gesoek het.

[8] Is nie bitter, kort van draad, of geïrriteerd nie, maar vergewe ander. Iemand wat liefhet is bereid om skade te ly (6:7).

[9] Hou nie boek van die kwaad nie. Iemand wat liefhet is soos God wat ander se sondes afskryf en dit nie teen hulle hou nie (Hebreërs 10:18, 2 Korintiërs 5:19).

[10] Is nie bly oor sonde nie. Paulus praat van ongelowiges wat “behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:12). Ongelowiges hou daarvan as ander mense sonde doen (Romeine 1:32). Ongelowiges omsingel ‘n vyand en sê vir hulle vriende: ‘Slaan hom! Slaan hom!’ Christene treur oor ander se sonde (Matteus 5:4, Psalm 119:136, Jeremia 9:1, Lukas 19:41, Romeine 9:2).

[11] Is bly oor die waarheid soos Jesus wat Hom in Lukas 10:21 verheug het in die Gees.

[12, 15] Bedek en verdra alles. Paulus sou armoede verdra om nie die Korintiërs en ander gelowiges te belas nie (9:12). Jesus het die skande van die kruis verdra (Hebreërs 12:2). Paulus sou enige lyding deurmaak, sodat die uitverkorenes die evangelie kon hoor en gered word (2 Timoteus 2:10). God het ons sonde bedek en dit nie teen ons gehou nie (Romeine 3:25). Iemand wat liefhet volg hierdie voorbeeld en sien ander se sondes oor (Spreuke 10:12).

[13] Glo alles. Dit beteken nie liefde is naïef nie, maar dit glo die beste van ander en verwelkom nie skindernuus nie.

[14] Hoop alles. Iemand wat liefhet skryf nie maklik mense af nie, en sien hulle nie sommer as ‘n ‘hopeless case’ nie.

Die ewigheid van liefde (v.8-13)

Het jy al ooit vir jou kinders gevra: ‘As jy enigiets kon wens, wat sou jy wens?’ Wat antwoord hulle? Hulle sê so iets: ‘Ek wens vir ‘n beursie waarvan die geld nooit op raak nie … Ek wens vir ‘n boom met sjokolade aan, en as jy dit pluk groei daar net nuwe sjokolade – dit raak nooit op nie… Ek wens al my wense word waar… ens.’ Liefde duur vir ewig en is daarom beter as bonatuurlike gawes wat tydelik is (v.8-13).

Die liefde val, faal, en eindig nooit nie. Gawes soos tale, profesie, en kennis deur nuwe openbarings eindig wel (v.8). Paulus sê dat hierdie gawes sal eindig as die volmaakte gekom het (v.8, 10). Wat is die volmaakte? Party dink dit verwys na die hemel, terwyl ander sê dit verwys na die voltooiing van die Skrif. Die Nuwe Testament was nog nie klaar geskryf toe Paulus 1 Korintiërs 13 geskryf het nie. Ek glo ‘die volmaakte’ verwys na die voltooiing van die Nuwe Testament. Kom ek verduidelik hoekom ek so sê.

Die Griekse woord vir volmaakte in v.10 [teleion] beteken ook ‘volwasse’ soos in Efesiërs 4:13, Kolossense 1:28, Hebreërs 5:14. In v.11 bevestig Paulus dat dit die betekenis is, en dat hy self reeds volwasse is: “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.” (v.11). In dié vers sê hy vir die Korintiërs om nie soos kinders te praat, te dink, te redeneer nie [Gk. logizomai is dieselfde woord as in v.5 waar hulle soos onvolwasse Christene boekgehou het van die kwaad]. Hulle moet volwasse word (v.11). In 14:20 sê Paulus: “Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes [teleion] in die verstand.”

Hulle moet, soos Paulus, die dinge van ‘n kind aflê (v.11). Die Grieks vir ‘aflê’ (v.11) is katargeo. Dit is dieselfde woord wat in v.10, 8 gebruik word van kennis en profesie wat ‘tot niet sal gaan’ wanneer die volmaakte of volwasse staat gekom het.

Die ‘ten dele’ gawes soos kennis en profesie gee nie vir ons ‘n helder openbaring nie, maar ‘n vae openbaring soos iemand wat sy gesig in ‘n antieke brons spieël sien (v.12, 9, vgl. Eksodus 38:8). Profesieë wat deur drome en visioene kom is vaag. Maar noudat God direk deur sy Seun in die Skrif gepraat het, sien ons van aangesig tot aangesig soos toe Hy direk met Moses of met die volk van die berg af gepraat het (v.12):

  • “Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE.” (Numeri 12:6-8).
  • “Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek.” (Eksodus 33:11).
  • “En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie” (Deuteronomium 34:10).
  • “Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle gespreek” (Deuteronomium 5:4).
  • “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).

Kennis wat deur drome en visioene kom is vaag en onvolledig. Kennis wat deur ‘n volmaakte Skrif kom is volledig (v.12b). Party dink v.12b beteken dat ons op aarde ten dele ken, maar in die hemel die Here ten volle sal ken net soos Hy ons ten volle ken. Maar die teks sê nie dat ons God ten volle sal ken nie. Buitendien kán ons Hom nooit ten volle ken nie, omdat Hy oneindig is.  Verse 12a en 12b korrespondeer met mekaar, sodat ken en sien in die twee dele van die vers dieselfde is.

A Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel,

B maar eendag van aangesig tot aangesig.

A Nou ken ek ten dele,

B maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Terwyl ons gawes soos kennis en profesie het, sien en ken ons nie volkome nie. Die gawe van nuwe openbaringskennis is ‘ten dele’. As die volmaakte of volwasse staat gekom het, sal ons van aangesig tot aangesig sien en ten volle ken soos ons ten volle geken is.

Volledige kennis kom as ons God se volle openbaring in die Skrif het. Volwasse kennis kom as ons dié Woord gehoorsaam, omdat ons God en ons naaste liefhet (soos wat die konteks van hfst.13 ook aandui): “As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie. Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.” (8:2-3). Deuteronomium 34:10 praat van “Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het”. Noudat ons die volle openbaring van die Skrif het, het ons kennis volwasse geword, en sien ons van aangesig tot aangesig.

Geloof, hoop, en liefde vergaan nie soos die gawes nie (v.13, 8). By Jesus se wederkoms verander geloof in aanskoue en word ons hoop vervul. Die liefde bly egter vir ewig, want God IS liefde (v.13, 1 Johannes 4:8). Geen wonder dat Paulus kan sê: “die grootste hiervan is die liefde” (v.13) nie.

1 Korintiërs 13 se toepassing vir ons is duidelik: jaag die liefde na (14:1). Hoe doen jy dit? God moet eers sy liefde deur die Gees in jou hart uitstort (Romeine 5:5, Galasiërs 5:22). Jy moet liefde verstaan voordat jy dit vir ander kan gee (1 Johannes 3:16, 4:10-11, 19). As jy dít verstaan en ervaar het, moet jy hard bid en stry vir die vyftien kwaliteite wat Paulus in v.4-7 noem.

Wees geduldig as jy ly (Romeine 12:12) of met mense werk wat depressief is, stadig groei, en gedurig dieselfde sondes doen (1 Tessalonisense 5:14). Wees geduldig met jou huweliksmaat en kinders. Wees vriendelik. Moenie bekend staan as ‘n nors persoon nie. Moenie jaloers wees op ander nie, maar bid dat dit goed sal gaan met hulle huwelike, gesinne, omstandighede en finansies.

Moenie grootpraat nie (Spreuke 27:2), maar wees nederig soos Jesus (Filippense 2:3-8). Praat eerder groot van ander en van Jesus. Moenie opgeblase wees nie. Mense wys soms hoogmoed deur hulle duur klere, die manier wat hulle loop, en hulle neuse wat in die lug is (Jesaja 3:16-23). Moenie dink die wêreld moet voor jou buig nie. Moenie dink almal moet vir jou padgee as jy op die snelweg is, of kits diens gee as jy by die winkel of restaurant instap nie.

Moenie ongeskik wees nie, maar bewys goeie maniere teenoor vroue, ou mense, jou huweliksmaat, ander gelowiges, mense op die pad, kliënte, op die telefoon, en in e-posse. Moenie jou eie belang soek nie, maar doen wat ánder mense wil; soek ánder se voordeel (Filippense 2:4).

Moenie boekhou van die kwaad nie. Moenie mense se lelike smse en e-posse hou nie. Moenie die slegte dinge wat hulle teen jou gedoen het neerskryf nie. Moenie hierdie dinge in jou geheue bêre, sodat jy later weer die ou koeie kan opgrawe nie. Vergewe eerder, praat dinge uit, skryf dit af, moet dit nie ophaal nie. ‘As jy ‘n hond begrawe moet sy stert nie uitsteek nie.’ (Charles Spurgeon).

Moenie bly wees oor die kwaad nie. Moenie soos die media wees wat graag beroemdes se sondes uitblaker nie. Moenie ander se sonde geniet wat hulle in films, programme, en pornografie voor jou oë wil vertoon nie. Wees bly oor die waarheid. Wees bly as die evangelie die heidene bereik of as Christene geestelik groei en reg doen (2 Johannes 4, 3 Johannes 3-4).

Bedek ander se foute en verdra alles. Sien ander se sonde oor en los dit aan die Here om te vergeld. Verdra ook moeilike mense en situasies (2 Timoteus 2:24). Glo mooi dinge van ander mense, totdat die teendeel bewys word. Moenie te maklik mense se motiewe bevraagteken, of agterdogtig en skepties wees as iemand aan jou goed doen nie. Hoop alles. Het jy iemand afgeskryf omdat jy dink hulle sal nooit verander nie? ‘n Predikant het vertel van iemand wie se naam hy van sy gebedslys verwyder het. Die tippex was nog nie droog nie, toe oortuig die Heilige Gees hom om die naam terug te sit. Wat sou gebeur het as God jou afgeskryf het?

Hoe lyk jou liefde? Ek bely dat ek ver kort skiet.

[1] As hierdie preek jou pla is dit goed. Moet egter nie dat die preek jou nóú pla, maar later weer daarvan vergeet nie. Sorg dat jy haastig is om dinge reg te stel (Jakobus 1:22, Psalm 119:60).

[2] As jy trots is op jou eie liefde, is jy opgeblase en gaan dit slegter as wat jy dink (v.4). Bekeer jou en vra dat die Here jou sal help.

[3] Sê jy dat jy regtig lief is vir A of B, maar jy oortree v.4-7 in jou verhouding met hulle? Jy verstaan nie wat liefde is nie. Glo die evangelie, bid en lees oor die kruis, word gevul met die Heilige Gees, en oordink v.4-7.

[4] Weet jy dat jy kortkom in liefde, maar dit pla jou nie? Jou hart is so hard soos klip. Jy oortree die grootste gebod (Lukas 10:27). Bid dat God jou genadig sal wees en jou hart van klip sal smelt (Esegiël 36:26). Sê dankie dat Hy jou nie liefhet soos jy ander liefhet nie (Romeine 5:8). As jy jou nie bekeer nie sal jy hel toe gaan waar daar geen liefde is nie.

Hoekom moet jy liefde najaag? Sonder liefde beteken jou geestelike gawes, jou finansiële bydraes, en jy self niks. Alles op die aarde is tydelik; liefde is ewig.

Die Van Dyk gesin bly in ‘n huis met een kamer. Die ouers werk hard, maar is brandarm. Die kinders het nie speelgoed nie, maar speel met stokke en modder. Elkeen het ‘n stukkende paar skoene en twee stelle ou klere. Hulle eet gereeld droë brood, gekookte patats, en een keer in ses weke sopbene met min vleis aan. Hulle besit nie ‘n kar of ‘n fiets nie, en was nog nooit in hulle lewe met vakansie nie. Maar hulle is baie lief vir mekaar, groet mekaar vriendelik, en deel alles wat hulle kry. Die ouers speel met hulle kinders, bid saam met hulle, leer vir hulle die Bybel, vertel vir hulle stories, lag en huil saam met hulle.

Die Owen gesin is skatryk. Hulle bly in ‘n ryk buurt in ‘n 1300 m² huis. Hulle kinders kry alles wat hulle harte begeer: van vierwiel motorfietse tot hulle eie perde tot ‘n groot skerm TV in elkeen se kamer. Hul eet soos konings en het butlers en bediendes wat vir hulle werk. Die ouers besit ‘n Rolls Royce, super karre, en 4×4’s. Hulle dra die duurste klere en geniet oorsese vakansies.

Maar die ouers is so besig by die werk dat hulle nie hulle kinders sien nie. Selfs as hulle met ‘n oorsese vakansie is, is dit vir besigheid, en gee hulle vir die kinders honderde duisende rande om hulleself besig te hou. Die pa en ma woon in dieselfde huis, maar leef verby mekaar. Die atmosfeer is koud; liefde ontbreek.

Watter een van die twee gesinne sal jy wil wees? Hoekom? Want diep in jou hart weet jy: nie geld of enigiets anders is belangriker as liefde nie.

[1] Die tale van engele in v.1 verwys nie na ‘n charismatiese gebrabble nie. Paulus praat van die tale van mense en engele, asof dit dieselfde taal is. Handelinge 2:5-11 bevestig dat die gawe van tale ander lande se tale is.

[2] 2000 Years of Christ’s Power, vol.2, p.340

Hoe gesond is Jesus se liggaam?

Da Vinci human body

Ons samelewing is behelp met die mens se liggaam. Mense sal enigiets doen om mooi te lyk: ‘n sekere dieët volg, draf, gym, duur klere koop, hulle naels laat doen, R800 betaal vir ‘n haarsny, sonbed.

 

Hoeveel te meer moet ons nie aandag gee aan Jesus se liggaam nie? Laat ons alles in ons vermoeë doen, sodat die wêreld sy skone beeld kan sien. Ons wil tog nie ‘n siek liggaam wees dat Hy Hom vir ons moet skaam nie? Paulus wys in 1 Korintiërs 12:12-31 hoe ons ‘n gesonde liggaam kan wees.

 

Eenheid en inlywing (v.12-13)

Die menslike liggaam het baie lede: arms, hande, voete, bene, tone, vingers, ‘n skelet, ingewande, ‘n vel, ‘n hart, longe, senuwees, bloed, oë, ‘n neus, ore, ‘n mond, ‘n tong, ‘n nek en baie meer. Tog werk al die lede saam as een liggaam (v.12).

 

So is dit met Christus en sy liggaam (v.12): ons is almal verskillend, maar tog is ons een. Jesus het ons almal in dieselfde Gees en liggaam in gedoop; Hy het vir ons almal dieselfde Gees gegee om ons geestelike dors te les (v.13, Matteus 3:11, Handelinge 1:5, Johannes 7:37-39). Al verskil ons op ‘n sosiale of etniese vlak – innerlik is ons een: “of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne” (v.13). “waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11).

 

Bewaar die eenheid wat die Gees daarstel (Efesiërs 4:3). Deur die evangelie deel ons in een Vader, Here, Gees, geloof, doop, liggaam, en hoop (Efesiërs 4:4-6). Bekeer jou, glo die evangelie van Jesus se kruisdood vir sondaars en opstanding uit die dood, beeld die innerlike doping met die Gees uit in die uiterlike doop met water, word lidmaat van ‘n goeie Bybelse kerk (Handelinge 10:47, 11:16, 2:41).

 

Moenie soos die charismate en tweede genadewerk predikers sê dat net party gelowiges met die Gees gedoop is nie. As dit waar is dan het net party gelowiges deel aan die liggaam, het net party gelowiges ‘n geestelike gawe, mag net party gelowiges met water gedoop word (v.13).

 

Hoekom moet ons die eenheid bewaar? Het jy opgelet dat Christus sinoniem is vir die kerk (v.12)? Paulus se punt is dat die kerk Jesus se liggaam (hande, oë, hart, ens.) is op aarde. Die wêreld kyk na ons om vir Jesus te sien. Daarom moet ons seker maak dat ons Hom akkuraat weerspieël. ‘n Kerk wat verdeeld is sê indirek dat Jesus siek en gebreklik is (Johannes 17:21, 23, 13:34-35).

 

Betrokkenheid en samewerking (v.14-26)

Het jy al jou duim verstuit of middeloor ontsteking gehad? Jy besef nie hoe nodig jy jou binne-oor of duim het, totdat jy die gebruik daarvan verloor nie. Net so is elkeen se bydrae en gawe nodig as ons effektief en gesond wil wees.

 

Die liggaam bestaan uit baie lede (v.14). Dus moes die Korintiërs nie een gawe (tale) bo die res verhef het nie. Elkeen se gawe en betrokkenheid is nodig. Die voet kan nie sê: ‘Ek is nie die bruikbare hand nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie.’ (v.15). Die oor kan nie sê: ‘Ek is nie so belangrik soos die mooi en ingewikkelde oog nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie.’ (v.16).

 

Dit is eenvoudig onwaar. Die voet en oor het hulle eie belangrike funksies. Hoe sal jy loop as jou voet ‘n hand was? Jy sal jou naels skeur, jou duime breek, en jou kneukels sal bloei. Wat as jou oor ‘n oog was? Jy kan tog nie mooi musiek, die wind, ‘n voëltjie se gesing, of jou geliefdes se woorde sien nie (v.17)? As die hele liggaam ‘n oor was, het jy nie ‘n neus gehad nie. Kan jy braaivleis, gebraaide uie, malva poeding, rose, lentebloeisels, ‘n nat aarde ná die reën, gesnyde gras, nuwe leer sitplekke, die see en parfuum met jou ore ruik (v.17)?

 

God is wyser as dit. Hy het die liggaam noukeurig saamgestel. Hy besluit die hoe, waar, en wat met betrekking tot elkeen se funksie (v.18). Niemand is onnodig of uit plek uit nie. As almal dieselfde was sou daar nie ‘n liggaam gewees het nie (v.19). Wat beteken ‘n groot nr.24 voet buitendien op sy eie (v.19)? Die liggaam het baie verskillende lede, maar is een (v.20). ‘n Hand wat eenkant op ‘n operasietafel lê is nie jy nie; tog is elke lid saam die liggaam (v.20).

 

Die oog en die kop kan nie van bo af op die hande en voete neerkyk en sê: ‘Ek het jou nie nodig nie.’ (v.21). Dit is nie net arrogant nie; dis ‘n leuen. Die oog kan ‘n mooi blom sien, maar kan dit nie pluk nie. Die kop kan dink aan ‘n beursie vol geld wat in die kamer lê, maar kan nie loop om dit te kry nie.

 

Ons benodig die pankreas, gewrigte, lippe, en ander lede wat swak en onnodig lyk (v.22). ‘n Professionele sanger is niks sonder die klank operateur, beligting span, organiseerder, administratiewe persoon nie. Die prominente gawes beteken niks sonder die gawes van dié wat agter die skerms werk nie (die man wat preek beteken niks sonder die getroue ou tannies wat bid nie).

 

Die ledemate wat oneerbaar lyk pas ons mooier op (v.23). Die liggaam vou dubbel en keer met die hande as iemand die onaantreklike hart, longe, of maag met ‘n mes wil steek (v.23). Ons doen moeite met ons ledemate wat nie so mooi vertoon nie (v.23): jy hou jou toonhare kort, skuur jou hakke, knip jou toonnaels en verf dit rooi, was jou ore, sit silwer oorbelle in dat mense vir jou oorbelle kyk en nie jou ore bestudeer nie.

 

Ons mooier ledemate kort nie soveel aandag nie. Jy gee vir jou voete ‘n pedicure, maar mors nie ure om die iris van jou oog (die gekleurde deel) mooi te maak nie (v.24). God het die liggaam so saamgestel dat ons nie vergeet van die mense wat agter die skerms werk nie. Ons hou baie van helder rooi, geel, blou, groen, en pienk. Maar as jy skilder gebruik jy bruin, grys, swart, en wit meer as die helder kleure (v.24). Ons het die mense wat agter die skerms werk nodig. Laat ons dan ons tyd aan hulle wy, net soos wat jy meer tyd aan die kar se lelike enjin wy as aan die aantreklike bakwerk (v.25).

 

As jou tand pyn lê die hele liggaam wakker; as ‘n lidmaat skei of ‘n kind aan die dood afstaan, voel almal die pyn (v.26a). As kanker suksesvol uit die liggaam gesny word, voel die hele liggaam beter; as ‘n lidmaat na tien maande werk kry of as iemand swanger is, is almal bly (v.26b).

 

Wees betrokke en werk saam. Moet jouself nie aan ander meet, jouself bejammer, en dink jy is onnodig omdat jy nie iemand anders se gawe het nie (v.14-20). Moet ook nie hoogmoedig wees en dink jy benodig nie ander se hulp en gawes nie. Moenie dink jy kan alleen die werk doen nie (v.21-26).

 

Mense bedank te maklik uit kerke uit. Hulle skuif te maklik na ‘n ander kerk toe. God het jou baie spesifiek en met ‘n doel geplaas waar jy is (v.18). As jy skuif verloor ons ‘n oog en kry ‘n ander kerk ‘n derde oog. Die liggaam het nie drie oë nodig nie. Moet ook nie te maklik van die kerk af wegbly en by die huis sit nie. As jy alleen is, is jy nutteloos (v.19).

 

Ons het almal nodig – ook die mense wat agter die skerms die rekenaar se knoppies druk, die liede in Power Point tik, ou mense oplaai vir kerk, die geld tel, die nagmaaltafel dek (v.22). ‘n Kerk is oneffektief en nutteloos as mense verwag dat die dominee of leiers alleen vir die skape moet sorg en omgee, alleen die siekes moet besoek en mense moet beraad (v.19). Almal moet mekaar dien en vir mekaar sorg (v.25). Onbetrokke ledemate word baie gou ‘n siek liggaam.

 

Gawes en liefde (v.27-31)

In die afgelope maand het ek drie keer gehoor dat mense wat van die kerk afvallig word, so iets sê: ‘Ek is sonder die kerk, maar ek hou nog my stiltetyd en is nie sonder die Here nie.’ Die liggaam en die Hoof is een. Hoe kan jy sonder die liggaam wees en nie ook sonder die Hoof nie? Aanbid jy ‘n Jesus wat nie ‘n liggaam het nie? Iemand wat van die kerk afvallig is, is afvallig van Jesus (v.27, Kolossense 1:18). Jy het nie ‘n private verhouding met Jesus nie, maar ‘n korporatiewe verhouding (v.27, 13).

 

Om die eenheid te bou het God gawes vir die liggaam gegee (v.28):

 

[1] Bo aan die lys is apostels. ‘n Apostel is ‘n ambassadeur en gestuurde van Jesus. ‘n Apostel is deur Jesus gekies, vir drie jaar deur Hom geleer, en is ‘n ooggetuie van sy liggaamlike opstanding (Handelinge 1:21-22, 24, Romeine 1:1, 1 Korintiërs 9:1, Galasiërs 1:11-12, 18).

 

[2] Tweede belangrikste is profete (v.10).[1] Saam met die apostels is hulle die fondasie van die kerk (Efesiërs 2:20).

 

[3] Derde belangrikste is leraars. Dit verwys na mense wat die Skrifte kan uitlê en toepas. Ouderlinge moet lering kan gee (1 Timoteus 3:2, 5;17, Titus 1:9), maar ander mense kan ook die gawe hê om te preek, of ‘n Sondagskool- of Bybelklas aan te bied. ‘n Vrou wat die gawe het mag individue, vroue of kinders leer, maar mag nie in die gemeente preek nie (1 Timoteus 2:11-12).

 

[4] Kragtige werke en gawes van genesings (v.9-10).

 

[5] Helpers. ‘n Helper is wat die appy vir die ambagsman is, die ontvangsdame of sekretaresse vir die dokter is, die diaken vir die ouderling is (Handelinge 6).

 

[6] Regeringe. Die Griekse woord verwys na iemand wat ‘n skip stuur (sien Handelinge 27:11, Openbaring 18:17). Ouderlinge moet die skip van die kerk stuur; hulle moet reg oor die kerk regeer (1 Timoteus 3:5, 5:17, Hebreërs 13:17).

 

[7] Tale (v.10).

 

Paulus noem nóg gawes in Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:11:

 

[8] Diensbaarheid. Die Griekse woord is diakonia. Matteus 25:44 praat onder andere van diakoneo (die werkwoord vorm van diakonia) as besoeke aan siekes, gasvryheid, en die versorging van armes.

 

[9] Vermaning. Die Griekse woord is parakaleo. Johannes 14:16 praat van die Heilige Gees as die parakletos. Dit beteken letterlik om langs iemand te staan om hom reg te help, te bemoedig, aan te spoor, te vertroos.

 

[10] Uitdeel. Hierdie persoon is iemand wat graag en met groot vrygewigheid sy geld en besittings uitdeel (Efesiërs 4:28).

 

[11] Leierskap. Dit verwys onder andere na ouderlinge, maar nie nét na hulle nie. Hierdie mense is dié wat goed kan organiseer en delegeer.

 

[12] Barmhartigheid. Saam met die diensbare mens gee die barmhartige mens om vir siekes, weeskinders, weduwees, armes, ou mense, en ander wat swaar trek.

 

[13] Evangelis. Almal moet die evangelie deel (Matteus 28:19), maar hierdie persoon vind die hoogste plesier en sukses in hierdie taak.

 

[14] Herder-leraar. Vandag ken ons dit as dominees. Hulle taak is nie om die kerk te verf en die geld te bank nie, maar om God se skape met die Woord te voed en te versorg (1 Petrus 5:2-3, Handelinge 20:28, Jeremia 3:15, Johannes 21:15-17).

 

Almal het nie dieselfde of elke gawe nie (v.29-30), en daarom het ons mekaar nodig. Die Korintiërs het die ‘beter’ gawes begeer (v.31).[2] In die konteks van die hoofstuk sê Paulus hulle moenie die ‘beter’ gawes soek nie, maar eerder die liefde najaag (v.31, hfst.13).

 

Gebruik jou gawe om die liggaam op te bou. Heel eerste moet jy weet wat jou gawe of vaardigheid is. Wat doen jy goed? Wat doen jy wat ander help? Wat geniet jy?

 

  • Lering? Ken jy die Skrif goed en glo jy die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis? Ons het iemand nodig om Sondagskool te gee vir kleintjies. Dalk kan jy iemand dissipeleer?
  • Helper? Wil jy dalk die bulletin doen, die nagmaaltafel dek, kelkies ná ‘n nagmaal diens opneem, die offergawe opneem, tafels uitpak en wegpak ná tee, aanbied om die liede in Power Point te tik, ‘n webtuiste vir die kerk ontwerp, ‘n instrument speel, in die koor sing, die saal mooi maak of kook vir gemeente etes, eetgoed maak vir begrafnisse, die kerk se tuin mooi maak, kyk dat daar toiletpapier in die badkamers is, herstelwerk doen as ons ‘n werksdag het, aanbied om mense se kinders te baby sit, blomme in die kerk sit, tee skink na die diens?
  • Regeerder? Kan jy goed organiseer?
  • Leier? Wil jy graag ‘n ouderling wees (1 Timoteus 3:1)? Kwalifiseer jy moreel (1 Timoteus 3:2-7)?
  • Diensbaarheid, barmhartigheid? Sal jy die siekes besoek, jou huis oopstel vir ‘n Bybelstudie, ou mense vervoer, en help met armsorg?
  • Vermaning, bemoediging? 1 Tessalonisense 5:14 som jou taak op: “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” Werk met mense wat depressief is, in sonde val, nie meer kerk toe kom nie.
  • Uitdeel? Wil jy geld gee vir die armes of sendelinge?
  • Evangelis? Hou kontak met sendelinge. Kom evangeliseer saam op Vrydae om 14:00. Nooi mense kerk toe. Berei voor uit Operation World dat ons op Sondae vir verskillende wêreldlande kan bid.
  • Herder-leraar? Is jy dalk geroep vir die evangelie-bediening?
  • Geloof? Skakel in by ‘n gebedsgroep (Sondae en Woensdae). Begin ‘n sms-gebedsketting.
  • Kennis? Skryf goeie Christelike literatuur, deel goeie Christelike boeke uit, begin ‘n boektafel.
  • Wysheid? Praat met wysheid in gemeentevergaderings.
  • Onderskeiding van geeste? Waarsku mense teen vals lering.

 

Hoekom moet jy jou gawe gebruik? As jy dit doen sal jy beloon word (3:14). As jy dit nié doen nie, sal jy jou beloning verloor (3:15).

 

‘n Tannie in my ouma se Tehuis het 100 geword. Haar brein het niks makeer nie, maar haar liggaam het ingegee. God wil nie hê die kerk moet so wees nie: die Hoof (Jesus) makeer niks nie, maar die liggaam is siek en verdeeld; die ledemate werk nie meer nie en moet geamputeer word.

 

My vriend Jannie Vosloo het een jaar by ‘n Paaskamp gepreek oor die liggaam wat die Hoof akkuraat moet weerspieël en by Hom moet pas. Ons sal dit net regkry as elke lid dien en betrokke is.

[1] Sien my preek oor 1 Korintiërs 12:1-11 (Verwarring oor die gawes) vir ‘n verduideliking van die gawes van profesie, tale, uitleg van tale, genesing, kragtige werke, geloof, onderskeiding van geeste, ‘n woord van kennis, en ‘n woord van wysheid.

[2] In die Grieks kan hierdie vers as ‘n opdrag of ‘n stelling gelees word.

Verwarring oor die gawes

Man and question marks

Elke jong pianis wil die teorie oorslaan om gouer by die praktyk uit te kom. Net so wou die Korintiërs die gawes toepas sonder dat hulle die teorie reg verstaan het (1 Korintiërs 12:1-11). Dit verheerlik nie die Here as ons hierdie onderwerp ignoreer omdat dit te moeilik is, of omdat Christene hieroor verskil nie. Ons moet probeer om dit te verstaan, sodat ons dit reg kan toepas.

 

Die Gees en die geeste (v.1-3)

Party roem dat tale, ekstase, en val in die gees ‘n bewys is dat die Heilige Gees werksaam is. Die Kundalini kultus in Hinduïsme ervaar dieselfde as baie in die charismatiese beweging.[1] Oosterse misterie kultusse in die eerste eeu het ook hierdie ervarings gehad.[2] Hoe kan jy die Heilige Gees se werk uitken? Dit is die les in v.1-3.

 

Paulus het die Korintiërs se vrae oor die gawes beantwoord (v.1, 7:1). Die Grieks vir gawes [pneumatikos] beteken eenvoudig ‘die geestelikes’ en kan na geestelike gawes óf persone verwys. Soos baie charismate het die tale-sprekers in Korinte geglo dat hulle meer geestelik is [pneumatikos]. Paulus wou hulle teorie regstel, sodat die praktyk ook kon regkom: “En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.” (v.1).

 

Toe die Korintiërs nog heidene was het demone hulle verblind, sodat hulle agter stom gode aangehardloop het (v.2, 10:20, 2 Korintiërs 4:4, Habakkuk 2:18-19, Psalm 115:5). Dié wat Judaïste was kon onthou hoe demone hulle beïnvloed het sodat hulle in die sinagoge vir Jesus vervloek het (v.3).[3] Hulle het nie verstaan dat Hy vir óns sonde vervloek is nie (Galasiërs 3:13).

 

Demone kan ekstatiese ervarings na-aap. ‘n Egte ervaring van die Gees word nie aan ekstase gemeet nie, maar aan wat die persoon van Jesus sê (v.3). Die Heilige Gees sal nie vir Jesus vloek nie; Hy verheerlik Hom en getuig van Hom (Johannes 16:14, 15:26). Iemand wat in die Gees praat bely dat Jesus, nie die keiser nie, Jahwe of Here is. Dié belydenis beteken nie dat jy die woorde soos ‘n pappegaai kan opsê nie (Matteus 7:21-22, Lukas 6:46). Dit beteken eerder dat jy ‘n hartlike, persoonlike, en opregte belydenis maak dat Jesus die Here is (Romeine 10:9). Dit is dan nie die tale-sprekers wat geestelik is nie, maar almal wat Jesus as Here bely (v.2-3).

 

Dit is belangrik dat jy die Heilige Gees se werk kan uitken. Hoe doen jy dit? Die Gees is soos iemand wat agter jou staan en die kollig op Jesus skyn. Pasop as ‘n prediker baie van die Gees praat, en niks van Jesus nie. Dit is ‘n vals gees. Die Heilige Gees verhef Jesus in die liede, die preke, die nagmaal, gesprekke, getuienisse. Só onthou Spurgeon se vrou een van sy preke toe hy 20 was:

 

‘I remember, with strange vividness at this long distance of time, the Sunday evening when he preached from the text, ‘His Name shall endure forever.’ It was a subject in which he revelled, it was his chief delight to exalt his glorious Saviour and he seemed in that discourse to be pouring out his very soul and life in homage and adoration before his gracious King. But I really thought he would have died there, in face of all those people!

 

At the end of the sermon, he made a mighty effort to recover his voice; but utterance well-nigh failed, and only in broken accents could the pathetic peroration be heard, – ‘Let my name perish, but let Christ’s Name last for ever! Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all! you will not hear me say anything else. These are my last words in Exeter Hall for this time. Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all!’ and then he fell back almost fainting in the chair behind him.’[4]

 

Moenie val net omdat ‘n kerk Jesus se Naam noem nie: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 7:21). Vra eerder: eer hulle Jesus as die heerlike Seun van God, gelyk met die Vader, die opgestane Here, die gekruisigde Verlosser, die God-mens?

 

Die Gewer en die gawes (v.4-11)

Elke sleutel van ‘n klavier verskil, en tog maak dit een melodie. So is dit met die liggaam. Daar is een Gees, een Here Jesus, en een God die Vader (die Drie-Eenheid) wat die krag is agter die geestelike gawes, dienste, en werkinge (v.4-6). ‘Drie Persone maar een God’ is ons bloudruk vir baie lede maar een liggaam (Efesiërs 4:4-7).

 

Elkeen het ‘n gawe gekry om die liggaam op te bou en die onsigbare Gees te openbaar (v.7). In ons teks lê die klem op die Gewer en nie op die gawes nie. Die Gees word nege keer genoem, en die Vader en die Seun vyf keer.

 

Wat is die geestelike gawes? Verskillende gawes word in v.8-10, 28, Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:11 gelys. Die Gees gee gawes volgens elke kerk se behoefte. Die lys is basies en nie noodwendig volledig nie.

 

Gebruik jou gawe. Moet jouself nie bejammer en sê jy het nie ‘n gawe nie (v.7, Romeine 12:3). Ontdek jou gawe so:

 

  • Wat geniet jy om te doen?
  • Watter van jou dade bou die kerk op?
  • Waarvan sê ander: ‘Jy doen dit goed – dit help ons’?

 

Gebruik jou gawe om die kerk op te bou. Moenie selfsugtig wees soos mense wat hulle gawe vir hulleself hou en in hulle kamer in tale bid nie. Gebruik jy regtig jou gawe of is jy maar net ‘n toeskouer? As jy nie jou gawe gebruik nie, sal dit roes. God sal van jou rekenskap eis en vra of jy jou gawe gebruik het.

 

Charles Spurgeon het by verskeie geleenthede na iemand in die gehoor gewys so iets gesê:[5] ‘Daar sit ‘n man wat ‘n skoenmaker is. Hy hou sy winkel oop op Sondae. Hy het laas Sondag sy winkel oop gehad en nege pennies gemaak, waarvan 4 pennies wins was. Hy is verbaas dat ek hom so akkuraat beskryf het. Hy sal sy winkel sluit en op Sondae kerk toe kom.’ Dit was presies soos wat Spurgeon gesê het. Die persoon het begin kerk toe kom en is gered. Oor sulke ondervindings skryf Spurgeon:

 

‘I could tell as many as a dozen similar cases in which I pointed at somebody in the hall without having the slightest knowledge of the person, or any idea that what I said was right, except that I believed I was moved by the Spirit to say it; and so striking has been my description, that the persons have gone away, and said to their friends, “Come, see a man who told me all things that ever I did, beyond a doubt, he must have been sent of God to my soul, or else he could not have described me so exactly.”’

 

Is dit profesie? Ek glo nie so. Ek dink eerder dat dit die gawe van kennis is.

 

[1] ‘n Woord van wysheid (v.8, 2:13). Hier gaan wysheid oor meer as net grys hare of lewenservaring, maar dit is ‘n bonatuurlike kennis (Jakobus 1:5, 3:13-17, Psalm 119:98-100). So iemand se wyse woorde help ‘n rigtinglose vergadering. Die persoon voorsien hindernisse en gevolge. Hy of sy gee wyse raad wat die res gemis het.

 

[2] ‘n Woord van kennis (v.8). Hierdie persoon kan gou ‘n register van die Skrif se lering gee oor enige onderwerp: gebed, ouerskap, verslawing, die skepping, vergifnis, ens. Dit is die tipe persoon wat goeie boeke skryf om die kerk te help (Romeine 15:14).

 

Hierdie gawe kan dalk verwys na iemand wat feite ken wat niemand vir hom of haar gesê het nie (Handelinge 5:3). Dit gebeur, sodat mense kan glo dat God waar is. Dit gebeur soms in preke, sodat jy dink die ds. ken jou omstandighede of gedagtes (14:24-25, Hebreërs 4:12-13).

 

Het jy die gawe van wysheid of kennis? Bou die kerk op daarmee. Maak jou mond oop in vergaderings. Gee raad, waarsku, skryf goeie materiaal. Moenie dink jy het hierdie gawe om mense seer te maak nie. Party mense dink hulle het ‘n sesde sintuig, of maak staat op hulle intuïsie. Hulle verdink ander mense en maak hulle seer. Ek ken ‘n vrou wat so is. Sy het voor ander mense vir my kollega gesê: ‘Jy lieg! Jy lieg!’ Sy was verkeerd. Die gawe van kennis beteken nie ons glo in nuwe openbaring nie. Ons mag nie by die Skrif byvoeg of wegvat nie (Deuteronomium 12:32).

 

Ons moenie van hierdie twee gawes vergeet nie. Ons het dikwels ‘n begeerte om die Gees se krag te sien, maar vergeet van sy kennis en wysheid.

 

George Müller het nie ‘n salaris ontvang nie, en het vertrou dat die Here vir Hom sal sorg. Ek ken ‘n Afrikaanse predikant wat so is. Ek dink dat hierdie mense die gawe van geloof het. Ek onthou twee kere wat God vir my hierdie gawe gegee het. Iemand het gevra ek moet ernstig saam bid vir reën in ‘n droë en baie warm Limpopo. Na my gebed het ek bo alle vertwyfeling geweet dat God my gebed gaan antwoord. Na ‘n lang droogte het dit dieselfde aand nog gereën.

 

‘n Ander keer was daar ‘n tyd van geestelike droogte in ons kerk. Ek het Matteus 7:7 gebid: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Na omtrent 20 minute van intense gebed het God se versekering skielik soos ‘n lig in my hart geskyn. Ek het met vaste sekerheid geweet dat God iets in die kerk gaan doen, en Hy het. Vir 3 maande het ons ‘n tyd van wonderlike voorspoed en seën geniet.

 

[3] Geloof (v.9). Geloof praat nie van die reddende geloof wat elke Christen het nie. Die gawe van geloof is ‘n absolute oortuiging dat God sy Woord in onmoontlike omstandighede sal vervul. Jakobus 5:15 praat van die gebed van geloof. Jesus het gesê: “Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” (Matteus 21:21-22). God gebruik mense met hierdie gawe om twyfelaars te help.

 

Het jy die gawe van geloof? Gebruik dit om ander op te bou. Die gawe van geloof is nie om te glo jy gaan ‘n nuwe BMW kry nie; dis nie die vals geloof van Word of Faith predikers nie. Nee. Bid met geloof en vertroue oor die beloftes in God se Woord. Spoor twyfelaars aan. God se antwoorde op jou gebede sal almal se geloof versterk. Hoekom moet jy geloof hê? Want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Hebreërs 11:6).

 

Sam Storms vertel hoe hulle ouderlinge eenkeer vir ‘n siek baba met ernstige lewer probleme gebid het. Hy het sonder twyfel geweet het dat God die kind gaan genees. Die volgende dag het hy gehoor dat die seuntjie volkome genees is.[6] Storms glo dat dit die gawe van genesing was. Ek verskil en dink dit neig meer na die gawe van geloof.

 

[4] Gawes van genesinge (v.9). Die Grieks gebruik twee meervoude. Ek dink dit wys dalk dat God ‘n unieke gawe vir verskeie siektes gee. In die Skrif het God mense op verskillende maniere genees: ‘n woord, ‘n gebed, handoplegging, modder op die persoon se oë, ‘n skaduwee wat op mense val, sakdoeke wat mense aanraak, ‘n liggaam wat in water gewas word, en soms geen genesing nie (1 Timoteus 5:23, Filippense 2:27, 2 Timoteus 4:20).

 

[5] Kragtige werke (v.10). God gee dié gawe sodat ongelowiges hulle ore spits vir die evangelie, en sodat gelowiges God prys vir sy hulp in onmoontlike situasies. Kragtige werke verwys na demone wat uitgedryf word, mense wat met blindheid geslaan word, dooie wat opgewek word, water wat in wyn verander, brode en visse wat vermeerder word, ens.

 

‘n Wonderwerk is wanneer God bo en buite die wette van die natuur werk. Dit is nie so dat elke werk van God ‘n wonderwerk is nie, want dan is geen werk spesiaal of uniek nie. Wonderwerke word dikwels ook tekens genoem. Wonderwerke is ‘n teken wat Jesus se krag, heerlikheid, en Messiaskap wys (Johannes 2:11, 3:2, Matteus 11:3-5). Die apostels se wonderwerke het dieselfde gewys.

 

Verstaan die gawe van genesing en kragtige werke reg. Die gawe van genesing is nie as iemand met medisyne gesond word, oor ‘n tydperk van ‘n paar weke verbeter, minder pyn ervaar as voorheen, gesond word maar weer na ‘n tyd verswak nie. Die gawe van genesing is ook nie God se antwoord op die gebed van die ouderlinge in Jakobus 5 nie.

 

Baie mense dink hulle het die gawe van genesing. Hulle slaan tente op, vat mense se geld, genees mense se hoofpyne en rugpyne, genees nie organiese en sigbare kwale soos blindheid en kreupelheid nie. As hierdie mense regtig die siekes kan genees, hoekom gaan doen hulle dit nie in hospitale nie?

 

Party siektes word veroorsaak deur stres, angs, depressie, sonde, en demone (Lukas 13:16, 9:39, Matteus 15:22, Job 2:7, Spreuke 17:22, Psalm 38:4). Daarom gebeur dit soms dat mense genees word wanneer hulle die evangelie glo en gered word. Martyn Lloyd-Jones vertel só ‘n storie.

 

Drie dogters se ouers is op een slag dood. Die tragedie het hulle gebreek. Twee van die susters het Lloyd-Jones se kerk begin bywoon. Die derde sussie het tuis gebly. Vir baie jare was sy bedlêend en het sy nie beter geword nie. Die ander twee susters het vir Lloyd-Jones gevra om haar te besoek. Toe hy haar sien het dit gelyk of die duiwel deur haar oë kyk. Hy het haar ondersoek (hy was voorheen ‘n mediese dokter) en het gesê dat daar niks fout was nie. Hy het haar aangeraai om geleidelik te begin opstaan. Sy het sy raad gevolg. Sy het later kerk toe gekom. Voor lank het sy tot bekering gekom en is sy heeltemal genees.[7]

 

God genees nogsteeds bonatuurlik in antwoord op gebed (ek kan talle voorbeelde gee). Hy doen ook nogsteeds wonderwerke. Ek ken ‘n sendeling wat vir meer as ‘n jaar elke dag op dieselfde gasbottel gekook het. Die gas het eenvoudig nie opgeraak nie.

 

Maar doen God nog genesings en wonders deur mense wat die gawe het? Ek glo nie so nie. Hierdie gawes was spesifiek gee om te bevestig dat die apostels eg was, en dat hulle die ware evangelie verkondig het (sien 2 Korintiërs 12:12, Hebreërs 2:3-4). Baie mense sê dat so-en-so hierdie gawes het, en dat hulle dit op die sendingveld gebruik. Ek sal graag die bewyse wil hê.

 

Hoekom moet ons die gawe van genesing en kragtige werke reg verstaan? As jy dit nie reg verstaan nie, sal die duiwel jou uitvang. Demone kan hierdie dinge na-aap. Hulle kan ook wonders doen om mense te mislei (Matteus 7:22, 24:24, 2 Tessalonisense 2:9, Openbaring 13:13-14). Dink maar aan Simon die Towenaar wat baie mense mislei het (sien Handelinge 8). Dink ook aan towernaars wat nie maar net met oë verblindery besig is nie, maar wat met die hulp van bose geeste toertjies doen.

 

In 1315 het Jan Hus op die brandstapel gesê: ‘You may roast this goose [Hus is Tsjeggies vir ‘gans’], but a hundred years from now a swan will arise whose singing you will not be able to silence.’ ‘n Honderd jaar later het Martin Luther regverdigmaking deur die geloof alleen herontdek. Hy het geglo dat hy die swan was van wie Hus gepraat het.[8]

 

In die 1500’s het John Welch ‘n ryk man gewaarsku om op te hou om God se dag te ontheilig. Welch het gesê dat God hom sou uitwerp en sy rykdom wegneem indien hy nie wou ophou nie. Dit het presies so gebeur.[9]

 

Hierdie tipe dinge gebeur. Ek glo egter nie dat dit geïnspireerde profesie is nie. Dit is byna soos iemand wat vir ‘n dronkaard sê: ‘Jy gaan nog ‘n ongeluk maak en verlam word.’ As dit so gebeur sou ons nie sê dat dit geïnspireerde profesie is nie, maar die natuurlike gevolge van sy sondige optrede.

 

[6] Profesie (v.10). Profesie is om geïnspireerde woorde van te spreek, en nie net toekomsvoorspelling soos in Handelinge 11 nie. Omdat die Skrif voltooi is, is hierdie gawe nie meer nodig nie (Efesiërs 2:20, Hebreërs 1:1). Indien daar wel nog geïnspireerde profesieë is, is ons besig om by die Woord van God by te voeg (Openbaring 22:18-19).

 

Vandag is daar mense wat glo dat Nuwe Testament profesie anders is Ou Testament profesie, en dat dit detail foute bevat. Die Skrif onderskei egter nie tussen Ou- en Nuwe Testament profete nie.

 

Om teleurstelling te voorkoms, moet jy versigtig wees vir moderne profete. Die Skrif is God se finale profesie. Profesie met detail foute is gevaarlik. Op die manier het mense al hulle eiendom verkoop, werke gelos, getrek, en alles verloor. Kan Christene nie self met gebed, die Skrif, en die raad van volwasse gelowiges besluite neem nie? Is dit sonde as jy nie jou werk los, oppak en trek nie? Op wie se gesag moet jy hierdie dinge doen? Hoe weet jy of die profesie waar of vals is as jy dit nie aan die Skrif kan meet nie? Hoe weet jy dit is regtig Gód wat hierdie dinge sê?

 

Ek sê nie dat die Heilige Gees ons nie lei nie. Maar wees versigtig om te sê: ‘Die Here het vir my gesê,’ asof jy ‘n nuwe woord buite die Skrif gekry het. Mense wat verkeerde voorspellings maak is mislei of hulle is vals profete (ek sal meer oor profesie sê as ek hfst.14 preek).

 

In CUM kan jy ‘n boek van Benny Hinn koop langs ‘n boek van Spurgeon of John MacArthur. Dit is ‘n illustrasie van die moderne kerk: mense het nie die vermoë om te onderskei nie. Daarom is dit nodig vir die onderskeiding van geeste.

 

[7] Onderskeiding van geeste (v.10). Dit is die gawe om te onderskei tussen die ware en valse Jesus, die ware en valse evangelie, die ware Gees en vals geeste (Galasiërs 1:6, 2 Korintiërs 11:4). Iemand met hierdie gawe weeg wat die profete sê (14:29, 1 Tessalonisense 5:20-22). Hierdie gawe was nodig voordat die Nuwe Testament voltooi is, en daar is nogsteeds ‘n groot mate waarin ons dit vandag nodig het.

 

As jy hierdie gawe het moet jy die kerk daarmee help. Meet aan die Skrif of mense die ware Jesus verkondig (1 Johannes 4:1-3), en of hulle die leer van die apostels volg (1 Johannes 4:5-6). Ek is nie beïndruk met mense wat alewig nuwe interpretasies vind nie; mense wat die eeue-oue interpretasie weggooi nie. Die profeet sê: “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jeremia 6:16).

 

Party mense onderskei beter as ander en moet die res help. Ek dink MacArthur is iemand wat die ‘issues’ duideliker raaksien as ander. Dit is baie nodig dat ons moet onderskei. Die duiwel doen homself immers voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14).

 

In die tweede eeu het Montanus, Priscilla, Maximilla, en hulle volgelinge (die Montaniste) op ‘n wanordelike manier in wilde ekstase brabbel-tale gepraat. Die kerk het gesê hulle het ‘n vals gees en het hulle ge-ekskommunikeer.[10]

 

[8, 9] Allerhande tale, Uitleg van tale (v.10). Paulus lys hierdie gawes laaste omdat dit die minste belangrik was, en omdat die Korintiërs dit verhef het (v.28, 30). Die Grieks vir ‘allerhande’ is genos en praat van verskillende lande se tale (14:10-11, 21, Handelinge 2:5-11). Dit verwys nie na ‘n gebrabbel nie. Die NAV se ‘tale of klanke’ is misleidend en staan nie in die Grieks nie. Die gawe van tale bou net die kerk op as iemand dit vertaal en almal dit verstaan (hfst.14). Die vertaler self ken nie die taal nie, maar kry ‘n bonatuurlike gawe en vermoë om dit te vertaal.

 

Meet moderne tale-sprekers aan die Skrif:

 

  • Het party of almal in dié kerk hierdie gawe (v.10)?
  • Is daar ‘n uitleg (v.10, 14:27-28)?
  • Geskied dit ordelik (14:27, 40)?
  • Word die kerk opgebou, of gebruik hulle dit as ‘n private gebedstaal (v.7)?
  • Is dit ‘n gebrabbel of ander lande se tale (Handelinge 2:5-11)?

 

Ek glo dat die moderne gawe van tale onsin is. Ek sal meer hieroor sê as ek hfst.13 en 14 preek. As jy nie tale aan die Skrif meet nie, sal jy (soos hulle) emosie najaag eerder as om ander op te bou.

 

‘n Eks-charismatiese pastoor het vroeër vanjaar vir ons vertel dat hy vir 15 jaar die gawe van tale vir ander geleer het, en dit self ‘gefake’ het. Gawes is nie natuurlike talente nie, maar ‘n bonatuurlike bekragtiging van die Heilige Gees (v.11). Hy gee die gawes soos wat wil (v.11). Jy mag dit begeer en daarvoor vra (14:1), maar jy kan dit nie kunsmatig aanleer nie.

 

Erken dat die Gees soewerein is oor die gawes. Dank Hom vir jou en ander se gawes. Gebruik dit om die gemeente op te bou. As jy dink die gawe is uit jouself en jy die Gees nie erken nie, sal jy jaloers wees op ander se ‘beter’ gawes, of jy sal jouself verhef omdat jy ‘n ‘beter’ gawe het (soos wat die Korintiërs met die gawe van tale gedoen het).

 

Vroeër vanjaar het ek ‘n boek gelees oor die geestelike gawes. Verskillende outeurs het vier sienings oor die gawes bespreek. Elke skrywer het sterk punte gehad. Ek glo nie dat my siening (soos hierbo genoem, asook in die preke wat kom) al die antwoorde het nie. Daar is steeds dinge waaroor ek wonder. Maar sover ek dit verstaan, is hierdie siening die getrouste aan die Skrif.

[1] Sien Andrew Strorm se dokumentêr op YouTube.

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power, Part 1, p.29

[3] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.571

[4] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, p.41

[5] Sam Storms in Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.83, 201-203, 83. Ek ondersteun nie Storms se siening oor die gawes nie.

[6] In Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.213-214.

[7] Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (vol.1), p.263

[8] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, pp.31-32

[9] John Howie, The Scots Worthies, p.123 (sien pp.130-131 vir ‘n soortgelyke storie).

[10] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.105, 115

Jesus en vandag se profete

Sheep howling like wolf

In die moderne kerk val mense vir vals lering soos visse val vir ‘n wurm op ‘n hoek.  Ek het by geleentheid vir mense blatante valsheid in boeke en preke uitgewys.  Hulle het dit weggepraat en gemaak asof die boek of preek reg is en die Bybel verkeerd.  Deuteronomium 18:15-22 sê ons moet God se Woord bo mense s’n stel.

 

Jesus die ware Profeet (v.15-19)

Het jy al die klein swart boks op jou laptop se kabel gesien?  Waarvoor is dit?  Dié boksie verander die 220V wat uit jou muurprop kom, na die 18V wat jou rekenaar nodig het om te werk.  Dit verander die wisselstroom van jou huis se krag na die direkte stroom van batterykrag.  As jy 220V uit die muurprop na jou rekenaar toe gelei met ‘n kabel sonder dié boks, sal jy jou rekenaar blaas.

 

So is dit met God.  As Hy direk met jou praat sal jy sterf (Eksodus 20:19).  Daarom het Hy profete gestuur.  Uiteindelik het Hy self as Profeet aarde toe gekom.  Jesus is die Middelaar wat tussen ons en die Vader staan om God se Woord na ons toe te bring.

 

God wou nie hê sy volk moes na towenaars, hekse, toordokters, palmlesers, en afgode toe draai om sy wil te ken nie (v.9-14, 1 Samuel 28).  Daarom het God vir hulle profete soos Moses gestuur.  Uiteindelik sou Hy die groot Profeet, die Messias, stuur (v.15).  Let op hoe die Nuwe Testament van Jesus as ‘n profeet praat, en soms as dié Profeet (verwysend na Deuteronomium 18):

 

  • “En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.” (Matteus 16:13-14).
  • “En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa.” (Matteus 21:11).
  • “En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het.” (Matteus 21:46).
  • “En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ‘n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.” (Lukas 7:16).
  • “En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ‘n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;” (Lukas 24:19).
  • “Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is… Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!” (Johannes 4:19, 25-26).
  • “Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret… Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.” (Johannes 1:46, 5:46). Dié verse verwys terug na Deuteronomium 18.
  • “Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.” (Johannes 6:14, vgl. 1:21, 25).
  • “Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet.” (Johannes 7:40).
  • “Weer sê hulle vir die blinde man: Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is ‘n profeet.” (Johannes 9:17).
  • Petrus én Stefanus verwys na Jesus as die Profeet van wie Moses gepraat het: “Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word… Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.” (Handelinge 3:22-23, 7:37).

 

In watse opsig sou die Profeet soos Moses wees (v.15)?  Volgens Eksodus 20:19 het Moses as Middelaar tussen God en die volk gestaan.  Die Profeet sou ook as Middelaar staan om God se Woord aan die volk te bring (1 Timoteus 2:5).  Moses het gesê dat dié Profeet een van hulle volksgenote of broers sou wees (v.15).  Dit is dus duidelik dat die Profeet ‘n Jood en ook volkome mens sou wees (Romeine 9:5, Johannes 4:22).  Omdat God die Profeet sou stuur, moes die volk na Hom luister (v.15).  In die Nuwe Testament het God van Hom gesê:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  Luister na Hom!” (Matteus 17:5).

 

Toe God die wet by Horeb gegee het, het die volk gebewe.  Die aarbewing, vuur, en donderslae was vir hulle te erg (v.16).  So beskryf Moses dit:

 

“En toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe aangekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes, en gesê:  Kyk, die HERE onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.  Maar waarom moet ons nou sterwe?  Want hierdie groot vuur sal ons verteer.  As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.  Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?  Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen.  En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het.  Toe sê die HERE vir my:  Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het.” (5:23-28).

 

God het ‘n profeet gegee soos hulle gevra het.  Moses was die eerste, maar later sou God ook die groot Profeet stuur (v.17-18a).  Dié Profeet sou in God se Naam – met God se gesag – praat (v.18).  Weereens wys die Nuwe Testament hoe Jesus Gód se woorde spreek:

 

  • “uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.” (Johannes 8:28).
  • “Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.” (Johannes 12:49-50).
  • “alles wat Ek van my Vader gehoor het, [het Ek] aan julle bekend gemaak” (Johannes 15:15).
  • In Johannes 17:8 bid Jesus: “Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee”.
  • Paulus praat van die Woord van God (die Bybel) en die evangelie as ‘die Woord van Christus’ (Kolossense 3:16, Romeine 10:17).

 

Wie dan aan Jesus ongehoorsaam is, is ongehoorsaam aan God.  God sal hom straf.  “En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.” (v.19).  “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.” (Hebreërs 12:25).

 

Dit is reg om op Jesus se Priesterlike amp te fokus; om Hom te erken as jou Verlosser.  Maar moet dit nie ten koste van sy Profetiese amp doen nie.  As Profeet is Hy groter as Moses (Hebreërs 3:3-6).  Moses moes sê:  ‘So spreek die Here’ (Eksodus 4:22).  Jesus kan sê:  ‘Ek sê vir julle’ (Matteus 5:28).  Jesus is die presiese afdruksel van God se wese, die afskynsel van sy heerlikheid (Hebreërs 1:3).  Hy spreek nie net God se Woord nie, maar is die Woord van God (Johannes 1:1, 14).  Hy openbaar die Vader aan ons (Johannes 1:18).  Wie Hom gesien het, het die Vader gesien (Johannes 14:9).  Moet dan nie dink die Vader is kwaai en Jesus gaaf nie.

 

Wanneer die Bybel van Jesus as ‘n Profeet praat, moet jy nie soos die liberale teoloë, Moslems, Buddhiste, en Samaritane (Johannes 4:25) dink Hy is net ‘n leermeester nie.  Hinduïsme kan voortbestaan sonder Krishna, Buddhisme sonder Buddha, en Islam sonder Mohammed.  Christenskap, egter, kan nie bestaan sonder Jesus as Profeet nie.  Hy is die openbaring van God; Hy is God.  In die tuin van Eden en dwarsdeur die Ou Testament het Jesus God aan die mens geopenbaar.  Selfs in die hemel sal dit Hý wees wat die Vader openbaar.

 

Gehoorsaam Hom (v.15).  Wie kan dit sonder die evangelie regkry (Romeine 8:7, Handelinge 28:26-28, 1 Korintiërs 2:14, Johannes 10:16, 1 Johannes 4:6)?  Jy moet jou van jou sonde bekeer en glo dat Hy die enigste Verlosser is; dat Hy vir sondaars gesterf het en weer uit die dood opgewek is.  Moenie staatmaak op jou pogings, opregtigheid, of goeie werke nie.  Vertrou op Hom alleen.

 

Is jy gered?  Die Gees leer vir ons Jesus se woorde in die Bybel (Johannes 17:26, 16:13-15).  Lees daarom jou Bybel en vra dat die Heilige Gees jou sal help om te verstaan.  As jy die Bybel minag, dan minag jy die Profeet wat hierdie woorde gespreek het.  Laat ons eerder die woorde van God se Profeet eer deurdat ons dit lees, hoor, gehoorsaam en verkondig.  As jy nie na dié Profeet luister nie sal God jou oordeel (v.19).  “hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Johannes 3:36).

 

Vandag se vals profete (v.20-22)

Van 1982 tot 1990 het André Esterhuizen hom by die Kempton hospitaal voorgedoen as ‘n pediater.  Onder sy diagnose het ‘n hele paar babas skade gely en selfs gesterf.  In Mei 1992 het hy 18 jaar tronkstraf gekry.  Anders as vals pediaters word vals profete nie net vir 18 jaar gestraf nie.  Hulle verdien die ewige hel.  As jy hulle lering volg mag jy dalk saam met hulle gestraf word.  Daarom is dit baie belangrik dat jy hulle moet uitken.

 

Vandag is daar duisende selfaangestelde profete wat op hulle eie gesag sê:  ‘So spreek die Here’ (v.20, Jeremia 14:14, 23:25-32).  Om die volk teen valsheid te spaar, straf God hierdie vals profete met die dood (v.20, Jeremia 28:15-17).  Hoe sal jy die ware Profeet uitken as daar soveel vals profete is (v.21)?  ‘n Vals profeet se woorde word nie waar nie – hy verbeel hom dat God met hom gepraat het (v.22, 1 Konings 22:28).  Jy hoef nie sy profesieë te vrees nie, maar vrees die ware Profeet se Woord.

 

Hoe kan jy vals profete uitken?  Meet hulle aan die Bybel.  As jy dít doen sal daar mense wees wat sê jy blus die Heilige Gees.  Moet jou nie aan hulle steur nie.  Hier is ‘n paar kenmerke van vals profete:

 

[1] Hulle woord kom nie in detail uit nie (v.22).  Die man wat gesê het Jesus kom op 21 Mei 2011 was ‘n vals profeet.  Volgens die Mayan kalender moes die wêreld in Desember 2012 geeïndig het – nóg ‘n vals profesie.  Party mense hang Nostradamus se profesieë aan, maar hy was so vaag dat baie gebeure sy voorspellings kon ‘vervul’.  ‘n Vrou het eenkeer vir my vriend gesê dat die vier perde van Openbaring dié betrokke naweek in Pretoria se strate sou wees om die swart mense dood te maak.  Sy was ‘n vals profeet.  Benny Hinn het voorspel dat ‘n vuur die homoseksuele gemeenskap tussen 1994 en 1995 sou doodbrand.[1]  Sy woorde het nie waar geword nie.  Hy is ‘n vals profeet.  Die Sewendedag Adventistekerk se vals profetes, Ellen G. White, het gesê dat Jesus in 1850 sou terugkeer.[2]

 

[2] Soms bewerk die Here dit so dat die vals profeet se voorspelling waar word.  Baie mense volg dan die vals profeet.  Die Here doen dit om te toets of sy kinders getrou sal bly (13:1-5).  Hy wil nie hê ons moet agter die vals gode aanhardloop nie.  Talle mense word mislei, omdat iemand wonders doen of akkurate voorspellings maak.  Die vraag is:  lei hulle jou om die ware God se Woord te volg, of hardloop hulle agter demone aan (v.9-14)?  “En as hulle vir julle sê:  Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?  Tot die wet en tot die getuienis!  As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.” (Jesaja 8:19-20).

 

‘n Paar jaar terug het Jonathan Edward (nie Edwards nie) ‘n TV program aangebied waarin hy met die dooies gepraat het.  Voor sy bekering was Arthur Pink by spiritisme betrokke.  Hy sê dat hulle tafels in die lug laat sweef het en akkurate dinge oor jou familie en omstandighede kon sê.[3]  Pink sê:  ‘Many of the spirit-communicated messages were real, but they came not from the dead but from demons impersonating the departed.’[4]  Natuurlik weet die demone wat jy vir ontbyt gehad het en waar jou broer werk.  Maar die feit dat dié mense jou lei om vals gode te volg, wys dat hulle vals profete is.

 

‘n Man in Boksburg het in die kerk geprofeteer.  Later het dit uitgekom dat hy ‘n astroloog (‘n sterrewiggelaar) is.  Moenie val vir okkultiese speletjies of jou sterretekens in die Huisgenoot, net omdat dit redelik akkuraat is nie.  Benny Hinn het gesê dat hy sy salwing gekry het toe hy Kathryn Kuhlman en Aimee McPherson (twee dooie ‘profetesse’) se grafte besoek het.[5]  Deesdae kan radio Jacranda jou toekoms vir jou voorspel.  Pasop!

 

[3] Vals profete is geldgierig en seksueel losbandig (2 Petrus 2:14).  Dit is tragies dat baie Christene nie deur TBN se prosperity predikers kan sien nie.

 

[4] Vals profete verkondig ‘n vals Jesus (1 Johannes 4:2-3).  As hulle nie saam met die Jehova’s Getuies sy Godheid ontken nie, sê hulle saam met Joyce Meyer en Kenneth Copeland dat hy weergebore is, Satan se natuur aangeneem het aan die kruis, of vir ons sondes betaal het in die hel.[6]

 

Jesus is die groot Profeet.  Sy woorde is in die Bybel opgeteken; die fondasie is gelê (Efesiërs 2:20).  God het met ons kom praat deur sy Seun – ons het nie nog profete nodig nie (Hebreërs 1:1-2).  Die Skrif is genoegsaam (2 Petrus 1:3).  Die ‘profete’ wat sê dat God vandag nog geïnspireerde en nuwe openbarings gee, minag God se groot Profeet.  Hulle is besig om by die Bybel by te voeg.  God sal hulle oordeel (4:2, Spreuke 30:6, Openbaring 22:18-19).

 

John MacArthur het in ‘n preek gesê:  ‘Mense vra soms wat die grootste probleem in die kerk is.  Die antwoord maklik:  die onvermoeë om waarheid van valsheid te onderskei.’  Mense in die kerk word soos golwe van een vals lering na die volgende geslinger (Efesiërs 4:14).  Ons sal veilig wees as ons die woorde van God se Profeet glo, soos dit in die Bybel opgeteken is.

[1] Orlando Christian Center, 31 Desember 1989

[2] http://www.exadventist.com/Home/Prophet/tabid/55/Default.aspx

[3] Iain Murray, The Life of Arhur W. Pink, p.8

[4] Ibid, p.13

[5] Benny Hinn, Double Portion Anointing, Part #3, Orlando Christian Center, Orlando, Fla., April 7, 1991. From the series, Holy Ghost Invasion. TV#309, tape on file.

[6] Kenneth Copeland, What Happened from the Cross to the Throne, 1990, audiotape #02-0017, side 2 en Joyce Meyer, The most important decision you’ll ever make, pp.35-37