Jou uitnodiging na die Koning se troue toe

Royal wedding scroll

Prins Harry en Meghan Markle het verlede naweek getrou.  Daar was ‘n paar honderd gaste by die troue en miljoene kykers op TV.  Hulle troue is egter klein in vergelyking met die een in Matt. 22:1-14.

 

  1. Die verwerpte uitnodiging (v.1-7)

Soos jy weet was Meghan Markle se pa siek en kon hy nie by die troue wees nie.  Siekte sal jou verskoon om by ‘n aardse prins en sy bruid se troue te wees, maar dit sal jou nie van die Messias s’n verskoon nie.

 

In hierdie gelykenis (v.1) het die Koning ‘n bruilofsfees vir sy Seun (die mede-Koning volgens 1Tim. 1:17, Op. 19:16) gehou (v.2).  In die Bybelse tyd sou ‘n pa sy seun se troue reël en o.a. die bruidsprys of lobola betaal (Gen. 34:4, 6, 8-12, Rigt. 14:3, 10).  In ons teks was die Vader se bruidsprys die bloed van sy eie Seun (Hand. 20:28, Ef. 5:25, 1Pet. 1:18-19).

 

Die Koning het sy slawe gestuur om die gaste te roep (v.3, 21:34).  Die slawe verwys na die Ou Testament profete wat Israel na die Messias toe geroep het (Jes. 55).  Israel wou egter nie kom nie, maar het haar sonde en afgode bo die Messias gekies (v.3).

 

Die Koning het nog slawe gestuur om sy volk te oorreed (v.4, 21:36).  Hierdie keer was die slawe sy apostels.  Die feit dat die Koning nog slawe gestuur het wys dat Hy geduldig, genadig en barmhartig was met Israel (2Kron. 36:15-16, Jer. 7:25-26).

 

Die slawe het vir die volk gesê dat die Koning ‘n smullekker ete voorberei het: smaaklike beesvleis en sagte kalfsvleis (v.4).  Alles was gereed, die volk moes net kom (v.4, Spr. 9:1-6).  Die troue het hulle ook niks gekos nie, maar was gratis.  Die Koning het dus alles gedoen om die gaste te oorreed om na sy Seun se troue toe te kom.

 

Hulle het egter ‘n traak-my-nie-agtige houding gehad en gesê dat hulle nie daar sal wees nie (v.5).  Een van die genooides het vir hom ‘n nuwe plaas gekoop (v.5).  ‘n Ander was verslaaf aan sy werk, besigheid en geld (v.5).  Volgens Luk. 14:18-19 het ‘n ander een getrou, en ‘n ander vyf pare osse gekoop waarmee hy wou ploeg.

 

Het jý ‘n verskoning om na die troue toe te kom?  Het jy ‘n verskoning vir waarom jy nie op ‘n Sondag die Here saam met sy kinders kan aanbid nie?  Het jy ‘n verskoning vir waarom jy nie na Jesus toe kom nie?

 

  • Ek wil eers my lewe geniet.
  • My kinders doen sport en huiswerk op ‘n Sondag.
  • Ek is moeg na ‘n harde werksweek en wil op ‘n Sondag my eie ding doen.
  • Ek kort ekstra geld en moet elke Sondag werk.
  • Sondag is ons familiedag.
  • My lewensmaat wil nie kerk toe kom nie.
  • As ek die Here dien sal ek my vriende verloor.

 

Ons kies die mall, braai, laat slaap, ens. bo Jesus.  Hy staan agter in die ry; ons gee aan Hom die tyd wat oor is.  Ons vergeet dat Hý vir ons die bg. dinge gee, die einste dinge wat ons van Hom af weghou.

 

Dit is dus nie altyd gruwelike sondes wat ons van die Here af weghou nie.  Partykeer is dit gewone dinge wat vir ons belangriker word as die Here.  Die Bybel noem dit afgodery.  Wat hou jou weg van Jesus?  Los dit en kom na Hom toe (16:24-26, 18:8-9, Luk. 14:26, 33).

 

Party mense is nie maar net onverskillig nie, maar openlik aggressief (v.6).  Hulle is agterdogtig oor die Koning.  Hulle dink Hy wil hulle sy slawe maak en ‘n klomp reëls neerlê.  Hulle glo nie dat Hy hulle beswil, voordeel en blydskap soek nie.

 

Gevolglik haat, gryp, mishandel en vermoor hulle sy slawe (v.6, 21:37-39, 23:34-35, Hand. 7:52, 58).  Hulle wil die Koning van sy troon af kry en soek die Koninkryk vir hulleself (21:38).  Jy moet dus verwag dat sommige mense aggressief sal wees as jy die evangelie met hulle deel.  Hulle sal jou vloek, wegjaag en verwerp.

 

Dit het al twee keer gebeur dat iemand my vir die Here se onthalwe wegjaag, vloek en ‘voetsek!’ sê.  In beide gevalle het ek nog nie eers ‘n kans gehad om die evangelie met hulle te deel nie.  Soos jy goed weet word Christene in sommige lande vir hulle geloof doodgemaak.

 

Dit is hartseer, omdat jy eintlik die sondaar wil help.  Jy wil ‘n boodskap van liefde, vergifnis en verlossing met hom deel, en nie ‘n boodskap van oordeel en straf nie: “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Joh. 3:17).

 

Die Koning was kwaad toe Israel sy Seun verwerp en sy slawe vermoor (v.7).  Hy het nie sy humeur verloor nie, maar vir hulle meer as ‘n duisend jaar kans gegee.  Toe Hy dus kwaad word was sy toorn 100% regverdig.

 

Hy het sy troepe gestuur om die moordenaars te straf en hulle stad af te brand (v.7, 21:41, 44).  Dit het gebeur toe die Generaal Titus en sy Romeinse weermag Jerusalem in 70 n.C. verbrand.  As jy die Koning se liefde ignoreer, sy moeite verag, en op sy Seun se kruisdood trap, sal iets erger met jou gebeur: jy sal in die hel brand (Heb. 2:3).

 

  1. Die aanvaarde uitnodiging (v.8-10)

Ek het vir my vriend ‘n foto gestuur van ‘n ander vriend wat langs John MacArthur staan.  Sy reaksie was: ‘Wie is die ou man wat langs Paul staan?’  So asof my vriend Paul die bekende persoon is, en nie John MacArthur nie.

 

Die Koning nooi ons nie na sy Seun se troue toe omdat ons belangrik is nie, maar omdat sy Seun spesiaal is.  Ons is bevoorreg.  Die Koning het die heidene genooi toe die onwaardige Jode die Messias en die evangelie verwerp (v.8, 21:41, 43, Rom. 11).  Die Koning het nog slawe gestuur nadat Hy die tempel in 70 n.C. verwoes het (v.7-8).  Die derde groep slawe is die predikante, evangeliste, sendelinge en Christene wat die evangelie met mense deel (28:19, Hand. 1:8).

 

Hulle moes langs die hoofpaaie gaan staan om die mense uit te nooi (v.9, Spr. 1:20-21).  Dit is slim, omdat die meeste verkeer daar is.  Hulle moes soveel as moontlik na die troue toe nooi (v.9, Luk. 14:21-23, Hand. 17:17).  Dit was ‘n vrye uitnodiging vir almal om te kom (Op. 22:17).

 

Hiper-Calviniste is dus verkeerd om net die evangelie met sg. ‘ontwaaktes’ te deel.  Volgens Jesus het die Koning se slawe almal genooi: dié wat goed en sleg is in die wêreld se oë (v.9-10, 13:47).  Moet asb. nie dink dat morele ongelowiges ‘okay’ is en hulle los nie: nooi hulle.  Moet ook nie vuil, immorele ongelowiges ignoreer nie, maar nooi die dronk boemelaars, die prostitute, die dwelmverslaafdes, ens.  Beide groepe het die Here nodig (1Kor. 6:9-11, Fil. 3:5).

 

God soek ‘n vol huis en saal.  Hy soek nie leë plekke nie (v.10, 8:11, Luk. 14:22-23).  Daar is baie plek in die hemel (Joh. 14:2), en daarom moet ons voortdurend mense na die Koning se troue toe nooi.  Deel die evangelie met hulle en nooi hulle kerk toe.  Bid dat die Here hulle sal red.  Talle kerke is leeg.  Daar is ook nog baie plek in ons gebou.  Moenie net mense na spesiale geleenthede toe nooi nie, maar wees voortdurend besig om mense na die Here toe te nooi.

 

  1. Die vervalste uitnodiging (v.11-14)

Wat gebeur in Suid-Afrika as jy iets vervals?  As jy genoeg geld gee kan jy wegkom.  Wat sal gebeur as jy ‘n uitnodiging na die Koning se troue toe vervals?  Jy sal nie daarmee wegkom nie.

 

Toe die Koning in die saal inkom en kyk of die gaste gelukkig is, toe sien Hy met sy alsiende oë ‘n man sonder ‘n bruilofskleed (v.11, 1Sam. 16:7).  Die kleed verwys na Christus se perfekte geregtigheid, asook na jou regverdige lewe (Sag. 3:3-5, Rom. 13:14, Gal. 3:26-27, Fil. 3:9, Op. 3:4-5, 7:14, 19:8).  Die kleed is jou paspoort na die hemel toe (Joh. 3:36, Heb. 12:14).

 

Die man het nie belanggestel in die kleed wat die Koning vir hom gestuur het nie, maar het gedink dat die kleed van sy onvolmaakte geregtigheid voldoende is.  Sy hart was nie skoon deur die bloed van die Lam nie.  Hy het ook ‘n onheilige lewe gelei.

 

Daar is baie sulke mense.  Hulle sit in die kerk, maar is ongered.  Hulle soek m.a.w. die voordele van Christenskap, maar stel nie belang in Jesus en ‘n regverdige lewe nie.  Hulle is seker die moeilikste mense om te bereik, omdat hulle dink alles is reg.  Is jý miskien een van hulle?

 

Die Koning het vir die man gevra hoe hy by die bruilofsaal ingekom het (v.12).  Die man was m.a.w. skynheilig en het almal geflous.  Maar Hy het nie die Here geflous nie.  Hy was sonder verskoning en stomgeslaan toe die Here hom oor die vuil kleed van sy sondige lewe vra (v.12, Rom. 3:19).

 

Die Koning het vir sy dienaars – die engele volgens 13:41-42, 49-50 – gesê: ‘Bind hierdie man se hande en voete vas, en gooi hom in die buitenste duisternis’ (v.13).

 

Beteken dit dat God ons eendag uit die hemel sal skop soos Hy met Satan gedoen het?  Nee.  “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie.” (Op. 3:12).  Die vers beteken eerder dat die Here op die oordeelsdag kerkmense sal straf wat uiterlik goed gelyk het, maar in hulle harte en lewens ongered was.

 

Hulle sal na die donker en eensame hel toe gaan, weg van God se lig en guns af (v.13, 25:30).  Die hel is dus nie ‘n partytjie soos party mense dink nie.  Dit is juis die plek weg van die partytjie af (v.13).  Dit is ‘n plek van hartseer; ‘n plek waar mense a.g.v. die woede, haat en pyn op hulle tande kners (v.13, 13:42, 50, 24:51, 25:30, Op. 16:10-11, vgl. Ps. 112:10, Hand. 7:54).  Moet asb. nie na hierdie plek toe gaan nie, maar vlug na Jesus toe!

 

Wie se skuld is dit as jy hel toe gaan?  Jou eie.  Jy het die Here se roepstem in die evangelie gehoor, maar dit verwerp (v.14a, Hand. 13:46-47).  Wie kry die eer as jy hemel toe gaan?  Die Here.  Hy het jou gekies, tot nuwe lewe geroep, en jou na sy Seun toe getrek (v.14b, Joh. 6:44, Hand. 13:48, Rom. 8:29-30, 9:11-13, Ef. 1:4-5, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:1-2).

 

Dalk sê jy dat die uitverkiesing onregverdig is (Rom. 9:14-23).  Maar kan jy kies wie jy na jou troue toe wil nooi?  Kan jy jou eie bruid kies?  Hoekom mag die Koning dit dan nie doen nie?  “Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie?” (20:15).  Wil jy hê die Here moet regverdig wees?  Dan moet almal hel toe gaan.

 

Sê eerder dankie dat Hy jou uitnooi.  Moenie teen die uitverkiesing vaskyk nie, maar bekeer jou en glo die evangelie.  God se uitverkiesing is nie ‘n heining om ongelowiges uit te hou nie, maar ‘n troos dat God sy kinders tot die einde toe vashou (Rom. 8:29-30, 33, 38-39).  God se uitverkiesing is nie jou vyand nie, maar jou vriend.  Dit is ‘n voorreg.

 

Deur Jesus, die apostels en die profete het die Here baie Jode geroep, maar min uitverkies (v.14).  Maar volgens v.9-10, Op. 7:9 het Hy baie heidene geroep en uitverkies (v.9-10, Op. 7:9).  Is jy een van hulle?  Is jy een van die Here se skape?  As jy is, sal jy nie net my stem hoor nie, maar in jou hart hoor hoe die Herder jou naam en van roep (Joh. 10:3-4, 16, 27).

 

Jy sal ‘n aangename verrassing kry as jy op sy roepstem reageer en die uitnodiging aanvaar.  Dit sal wees soos wanneer ‘n vriend jou na ‘n partytjie toe nooi.  Jy is opgewonde, sien uit, koop ‘n geskenk en gaan.  Wanneer jy daar aankom, roep almal uit: ‘Surprise!’  Jy het nie geweet dat dit jou partytjie is nie.

 

Dieselfde is waar as jy gereed kry vir die Koning se troue.  As jy daar aankom sal jy sien dat jy nie net ‘n gas is nie, maar die eregas:  is die bruid!  Dit was toe nie net ‘n uitnodiging na die Koning se troue toe nie, maar na jou eie.

Tekens van die einde

The end is near

Ek het ‘n DVD gekyk waarin die prediker foto’s van hedendaagse oorloë, hongersnode, aardbewings, pessiektes, ens. wys en vir die mense sê dat dit Matt. 24:4-14 vervul.  Maar is dit wat Jesus in hierdie verse bedoel het?  Kom ons bekyk die teks, konteks en historiese agtergrond van nader.

 

  1. Vals messiase en profete (v.4-5, 11)

Alhoewel daar vandag nog vals messiase en profete is, het Jesus hier van die eerste eeu gepraat.  Hoe weet ons dit?  Volgens Luk. 21:6-7 was hierdie dinge voorlopers van die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 70 n.C.

 

Verder het Jesus in v.34 gesê: “hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”  Hy het ook in v.4, 6, 9 vir die dissipels gesê dat húlle hierdie dinge sou deurmaak.

 

Baie tekste in die Nuwe Testament bevestig v.4-5, 11, en wys dat daar in die eerste eeu vals messiase en profete was (Hand. 13:6, 20:29-30, 2Kor. 11:13, Gal. 2:4, 1Tim. 4:1-2, 2Pet. 2:1-2, 1Joh. 2:18, 4:1, Op. 2:2).  Josefus (37-100 n.C.) beaam dat daar baie vals profete in hierdie tyd aktief was.[1]

 

Jesus gaan so ver as om te sê dat die vals messiase hulleself die God van Eks. 3:14 (EK IS) sou noem: ‘Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek!’ (Mark. 13:6, Gk. egō eimi beteken ‘EK IS’].

 

Dit het inderdaad gebeur.  In Hand. 8:9-11 praat Lukas van Simon die towenaar wat mense mislei het.  Baie van die vroeë kerkvaders het gesê dat hy homself as God, die Messias, die Woord van God, die Trooster, die Almagtige, die Seun van God en die skepper van die engele beskou het.[2]

 

Daar was ook ‘n sekere Dositheus wat gesê het dat hy die Messias en Profeet van Deut. 18:18 is.[3]  Blykbaar was hy Simon die Towenaar se leermeester.[4]

 

  1. Oorloë (v.6-7)

Daar was nog altyd oorloë in die geskiedenis.  Maar persoonlik dink ek nie dat die twee Wêreld Oorloë van die 20ste eeu ‘n vervulling van Matt. 24:6-7 is nie.  Die oorloë in hierdie verse sou voor die verwoesting van die Jerusalem-tempel in 70 n.C. plaasvind (v.2-3).  Kom ek skets vir jou die agtergrond.

 

Tussen 17 v.C. en die middel van die eerste eeu n.C., het die Romeinse Ryk ‘n tyd van vrede beleef.  Hulle het dit die Pax Romana genoem.[5]  Maar in 68-69 n.C. was daar groot onstuimighede.

 

Binne ‘n jaar was daar vier Romeinse keisers.[6]  Dinge het so erg geraak dat die Ryk amper tot ‘n val gekom het.[7]  Die Romeinse geskiedkundige Tacitus (55-117 n.C.) sê dat verskeie provinsies in opstand was en van die Ryk probeer wegbreek het.[8]

 

Dwarsoor die Ryk was daar oorloë waarin koninkryke en nasies teen mekaar geveg het: Germanië (Duitsland), Thracië (op die grens van Bulgarye, Griekeland en Turkye), Noord-Afrika, Gallië (Frankryk), Brittanje, Armenië, Judea en meer (v.6-7).[9]

 

Volgens God se soewereine raadsplan móés hierdie dinge gebeur, maar dit was nog nie die einde van die tempel met sy priesters en offersisteem nie (v.6).  Die dissipels moes hulle dus nie hieroor ontstel nie (v.6).

 

  1. Hongersnode en pessiektes (v.7)

Net soos wat iemand se skaduwee hom volg, volg hongersnood op oorloë, en pessiektes op hongersnood (v.7, Luk. 21:11).  Tydens Claudius (41-54 n.C.) se heerskappy was daar ‘n wêreldwye hongersnood (Hand. 11:28).

 

Verskeie antieke skrywers beskryf sulke hongersnode.[10]  In Jerusalem het mense bv. van die honger gesterf.[11]  Tydens die Joodse oorlog is mense oopgesny en het hulle hulle arms in mekaar se kele afgedruk om kos te kry; ma’s het hulle eie kinders geëet.[12]  So is die vervloeking van Deut. 28:52-61 vervul.

 

Maar dit was nie net die Jode wat van die honger en pessiektes gesterf het nie.  Volgens Suetonius (70-160 n.C.) het 30 000 mense gedurende een herfsseisoen a.g.v. ‘n pessiekte in Rome gesterf.[13]  Tacitus vertel hoe die bevolking byna uitgesterf het: ‘The houses were full of corpses, and the streets of funerals.’[14]

 

  1. Aardbewings (v.7-8)

Die aardbewings gedurende hierdie tyd was so erg, wyd-verspreid en aanhoudend, dat Charles John Ellicott in die 1800’s gesê het: ‘Daar was seker nog nooit ‘n periode in die wêreld se geskiedenis wat so deur aardbewings gekenmerk is, soos die tyd tussen Jesus se kruisdood en die verwoesting van Jerusalem nie.’[15]

 

Antieke skrywers praat van aardbewings in Kreta, Rome, Apamea, Frigië, Smirna, Milete, Chios, Samos, Laodisea, Hiërapolis, Kolosse, Campanië, Rome, Judea, Pompeii, Asië (Wes-Turkye), Agaje, Sirië en Macedonië.[16]  Daar was ook geweldige skuddings tydens die heerskappye van keisers Caligula (37-41 n.C.) en Claudius (41-54 n.C.).[17]

 

Maar volgens v.8 was hierdie dinge nie die eintlike tekens van die einde nie, maar die geboorte pyne wat op beter dinge sou uitloop.  Met die verwoesting van die tempel sou die baba (die kerk) van die ma (Israel) geskei word.

 

Die Christelike geloof sou nie meer met Judaïsme verwar word nie.  Met die verwoesting van die Jerusalemse tempel het die ou verbond finaal tot ‘n einde gekom, en sou die nuwe verbond en tempel soos ‘n paal bo water uitstaan (Heb. 8:13, 10:9).  Ek sal hierop uitbrei as ek by die toepassing kom.

 

  1. Vervolging (v.9-10)

Tussen 64 en 68 n.C. het keiser Nero die Christene vervolg.[18]  Hy het gesê dat hulle die mensdom haat.  Hy het sommige van hulle laat kruisig, terwyl hy ander in dierevelle toegewerk en vir die honde gegooi het.  Hy het party van hulle met pik gesmeer en aan die brand gesteek om sy gaste te vermaak.[19]

 

Jesus het dit voorspel: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.” (v.9).

 

In 10:18 en Mark. 13:9 sê Jesus dat hulle in die sinagoges geslaan sal word.  Dit impliseer dat hulle nie net deur die Romeine vervolg sou word nie, maar ook deur die Jode.

 

Baie tekste in die Nuwe Testament wys dat die Jode en heidene God se kinders vervolg het (23:34, Hand. 4:3, 5:40, 7:54-8:3, 9:1, 12:1-2, 14:5, 19, 16:22-24, 21:30-31, 1Tess. 2:14-16, 2Tim. 2:9, Op. 1:9, 2:9-10, 3:13, ens.).  Sommige belydende Christene het onder die druk toegegee en vir Jesus verloën (v.10, Hand. 20:29-30, 2Tim. 1:15).  Party van hulle het hulle familie en vriende aan die vervolgers oorgelewer (v.10, 10:21, Mark. 13:12, Luk. 21:16-17).  Tacitus sê: ‘Nero het belydende Christene gearresteer, en deur húlle inligting baie ander veroordeel.’[20]

 

  1. Afvalligheid (v.12-13)

Josefus vertel hoe die Jode barbaars geraak het.  Hulle het hulleself aan rowery, moorde, homoseksuele dade, wetteloosheid, wanorde, en die ergste denkbare booshede oorgegee.

 

Hulle het mense se huise geplunder, hulle met die swaard deurboor, vroue verkrag, en hulleself met vroulike grimering en klere versier.[21]  Sulke booshede het ook in die res van die wêreld plaasgevind.[22]

 

Die toenemende goddeloosheid het gemaak dat belydende Christene daaraan gewoond raak, en in hulle liefde vir die Here verkoel (v.12, 2Tim. 3:1-9, Op. 2:4).  Hulle vrees vir vervolging sou ook daartoe lei dat hulle nie meer so vurig vir die Here getuig het nie, maar Hom verloën het (v.10, 12).

 

Dié wat dit gedoen het, het gewys dat hulle nie aan Jesus behoort het nie (Heb. 3:14, 1Joh. 2:19).  “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (v.13, vgl. 10:22, Luk. 21:19).

 

  1. Die evangelie aan die nasies (v.14)

In 2005 het ‘n ouer leraar vir my gesê dat v.14 in die eerste eeu vervul is.  Ek het met hom gestry, maar het intussen besef dat hy reg was.  Die vers sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” (v.14).

 

Die Griekse woord vir wêreld [oikoumenē] verwys soms na die Romeinse Ryk, en nie na die hele planeet nie.  Die volgende verse wys dit.  “En in daardie dae het daar ‘n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld [Gk. oikoumenē] ingeskryf moes word.” (Luk. 2:1).

 

“Agabus het…deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld [Gk. oikoumenē] sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.” (Hand. 11:18).

 

“ons het gevind dat hierdie man [Paulus] ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld [Gk. oikoumenē] en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners” (Hand. 24:5).

 

Volgens Jesus moes die nasies wat in v.9 die dissipels gehaat het, die evangelie hoor [v.14, Gk. ethnos].  In die konteks verwys die nasies nie na Paraguay en Japan nie, maar na al die nasies van die Romeinse Ryk.

 

  • “En daar het in Jerusalem Jode gewoon…uit elke nasie wat onder die hemel is.” (Hand. 2:5).
  • Ek dank my God “dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.” (Rom. 1:8).
  • “Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.” (Rom. 10:18).
  • 16:26 sê dat die evangelie “bekend gemaak is onder al die heidene [Gk. ethnos]…”
  • 1:5-6 sê dat “die evangelie…die hele wêreld bereik het”. Paulus sê ook dat “die evangelie…verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel” (Kol. 1:23).

 

‘As die evangelie die nasies van die antieke wêreld bereik het sal die einde kom,’ is wat Jesus in v.14 bedoel het.  Die einde verwys na die einde van die tempel of die Ou Testamentiese era.  Dit gaan nie hier oor die einde van die wêreld nie.

 

Hoe moet ons Matt. 24:4-14 op onsself toepas?

 

[a] Moenie bang wees as jy van vals messiase, oorloë, pessiektes, ens. hoor nie.  Volgens Jesus is hierdie dinge nie tekens van die einde nie – wat jou siening van die einde ook al is – maar van die begin (v.8).

 

[b] Ek het hierbo gesê dat v.4-14 die geboortepyne is, en dat dit op beter dinge sou uitloop.  Hoe het dit gebeur?  Toe die Jode die evangelie verwerp, het die heidene dit ontvang en tot bekering gekom (Luk. 20:16, Hand. 13:46-49, 18:5-8, 28:28).

 

“[Deur die Jode se] val het die saligheid tot die heidene gekom” (Rom. 11:11).  Paulus het die bal aan die rol gesit, en reeds in die 2de eeu n.C. kon Justinus die Martelaar (100-165 n.C.) vir ‘n Jood sê: ‘there is not one single race of men, whether barbarians, or Greeks, or whatever they may be called…among whom prayers and giving of thanks are not offered through the name of the crucified Jesus.’[23]

 

‘n Paar dekades na hom het die kerkvader Tertullianus (c. 160-225 n.C.) vir die heidene gesê: ‘We are but of yesterday, and yet we already fill your cities, islands, camps, your palace, senate and forum; we have left to you only your temples’.[24]

 

Teen die einde van die 2de eeu en die middel van die 3de eeu n.C. was die kerk gevestig in Noord-Afrika, die suide van Spanje, Italië, Frankryk, Brittanje, Persië (Irak en Iran), Armenië en Indië.  In 325 n.C. het die helfte van die mense in Wes-Turkye, Armenië en Thracië die Christelike geloof bely.

 

In Sirië, Egipte, Griekeland, die sentrale deel van Noord-Afrika, Spanje, Rome en die suide van Italië, het Christenskap die dominante godsdiens geword.  Tussen die 4de en 6de eeu het Patrick en Columba die evangelie aan die Iere en Skotte verkondig.

 

Na ‘n tyd van geestelike duisternis, het die hervormers die suiwer evangelie in Europa verkondig.  Baie mense het tot bekering gekom.[25]  In die 15de en 16de eeu het die kerk vervolging beleef, maar het die Puriteine mense met die evangelie beïnvloed.

 

Die 1700’s en 1800’s was ‘n tyd van herlewings.  Met enkele onderbrekings het dit vir omtrent 100 jaar aangehou.[26]  A.g.v. die herlewings het die moderne sending beweging in die laat 1700’s onder William Carey ontstaan.  Baie sendelinge het gevolg, sodat die evangelie vandag in die meeste lande op aarde verkondig word.

 

En dan praat ek nie eers van die ooste nie.  Ek weet so te niks van die Here se werk in ‘n land soos China nie.  Ek is seker dat daar wonderlike stories oor die verspreiding van die evangelie is.

 

Maar die taak is nog nie voltooi nie.  Die nasies in Paulus se tyd het nou wel die evangelie gehoor (v.14), maar in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag moet ons dit aan die res van die wêreld verkondig (28:19).

 

[c] Soos die mense in v.12 kan ons maklik aan die samelewing se sonde gewoond raak: moord, aborsie, oneerlikheid, korrupsie, disrespek vir gesag, seks voor die huwelik, homoseksualiteit, ens.  Moenie toelaat dat die wêreld jou infiltreer, sodat jy dit bo Jesus kies nie (v.12, Rom. 12:2, 2Tim. 4:10, Jak. 4:4, 1Joh. 2:15).  Vermy en bestraf dit liewer (Ef. 5:11).

 

[d] Dit is maklik om te sê dat jy ‘n Christen is as dinge met jou goed gaan.  Maar sal jy die evangelie glo as die regering ‘n geweer teen jou kop druk en sê jy moet die Here verloën (v.10)?

 

Sal jy in Jesus glo totdat jy jou asem uitblaas (v.13)?  Jy kan dit nie bekostig om terug te sit omdat v.4-14 al gebeur het nie.  Is jy gereed om die Here te ontmoet (24:42-51, 25:13)?

 

Sal jy by Hom wees as jy hierdie week geskiet word of ‘n hartaanval kry?  Sal jy die oordeelsdag slaag as Hy kom en die nasies voor sy hof daag (25:31-46)?

 

Dit is tog wat saak maak.  Die Here gaan nie vir jou vra of jy John MacArthur, R.C. Sproul of William Hendriksen se siening van Matt. 24 gevolg het nie.  ‘Het jy jou van jou sonde bekeer en in my Seun geglo?’ is die vraag wat Hy aan jou gaan stel.

 

[1] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book 6, ch. 5, par. 2-3; Book 2, ch. 13, par. 5.  Sien ook The Antiquities of the Jews, Book 20, ch. 8, par. 6. deur dieselfde outeur.

[2] Justin Martyr (100-165 n.C.), First Apology, 26.  Hippolytus (170-235 n.C.), On the End of the World, 9.  Jerome (347-420 n.C.), aangehaal in Marcellus Kik, An Eschatology of Victory, P&R Publishing, Phillipsburg: New Jersey, 1971, p. 92.  Ireneus (130-202 n.C.), aangehaal in Kik, Ibid.

[3] Kenneth Gentry, Perilous Times, Covenant Media Press, Texarkana: AR, 1999, p. 47

[4] Ibid., p. 47 n. 36

[5] Ibid., p. 48

[6] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Sctoland, 1973, p. 852

[7] Gentry, p. 48

[8] Ibid., p. 49 n. 44

[9] Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope, P&R Publishing, Phillipsburg: New Jersey, 1999, p. 112

[10] Gentry, pp. 49-50

[11] Antiquities, Book 20, ch. 2, par. 5

[12] Wars, Book 5, ch. 10, par. 2-5

[13] Gentry, p. 50

[14] Annals of Tacitus, ch. 16, par. 13, aangehaal in Ibid.

[15] Aangehaal en vry vertaal uit Gentry, Ibid.

[16] Mathison, Ibid.; Gentry, Ibid.; Wars, Book 4, ch. 4, par. 5

[17] Gentry, Ibid.

[18] Gentry, p. 52

[19] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, Thomas Nelson, Nashville, 1997, 2013, pp. 344, 346

[20] Vry vertaal uit Gentry, p. 53

[21] Wars, Book 4, ch. 3, par. 2; ch. 6, par. 3; ch. 9, par. 10

[22] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004

[23] Tertullian, Diologue with Trypho, ch. 117

[24] John Jefferson Davis, Christ’s Victorious Kingdom: Postmillennialism Reconsidered, Audubon Press, Laurel: MS, 2006 (1986, Baker Book House Company), p. 68

[25] Ibid., pp. 67-69, 72, 76-79

[26] [a] Iain Murray, Revival & Revivalism, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1994.  [b] Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971.  [c] Iain Murray, Jonathan Edwards, A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1987.  [d] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970.

Onbeskaamd evangelies

Unashamed of the Gospel

My vrou se Amerikaanse vriendin het haar dogtertjie aangespreek, omdat sy met die landsvlag wou speel.  ‘You must never disgrace the flag!’ het sy gesê.

 

Ek hou van ons land, maar voel nie patrioties daaroor nie.  Ek het van die ou volkslied gehou, maar stem nie saam met die reëltjie wat sê: ‘Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika’ nie.  Ek voel verseker nie so sterk oor my land dat ek daarvoor sal sterf nie.

 

Ek voel ook nie so oor enige politieke party nie, en sal nie vir my taal sterf nie.  Nie eers my denominasie is vir my so belangrik nie, en dus steur ek my nie aan mense wat sê: ‘Ek is gebore Baptis!’ nie.  Ek wil weet of jy ‘n wedergebore Baptis is?  Is jy onbeskaamd evangelies?

 

Met evangelies verwys ek nie na alles en almal wat Jesus en die kerk se naam daaraan gekoppel het nie.  Ek verwys na mense wat die evangelie glo soos wat Paulus dit gepreek het.  Is dit jou lewe, sodat jy bereid is om daarvoor te sterf?  In Rom. 1:16 gee Paulus vier redes hoekom hy hom nie vir hiérdie evangelie skaam nie.

 

  1. Dit is die KRAG van God

Omtrent ‘n jaar gelede het Ford ‘n slegte naam gekry toe hulle Kuga-modelle aan die brand slaan.  Gestel jy het Kuga’s verkoop.  Sou jy jou kliënte in die oë kon kyk en aan hulle ‘n probleem-vrye rit verseker?  Soos Enterprise sou jy jou kop in skaamte moes sak.

 

Maar met die evangelie is dit nie so nie.  Omdat dit betroubaar en kragtig is om mense te red, hoef jy jou nie daarvoor te skaam nie (v.16).  Niemand het nog ooit kop onderstebo na die Here toe terugkeer en gesê: ‘Ek het die evangelie geglo en dit het nie gewerk nie’ (9:33).

 

Die evangelie is nie ‘n stukkende muurprop nie, maar die krag van God waardeur Hy mense wat geestelik dood is lewend maak (v.16, 1Kor. 1:18).

 

Wys vir my iets of iemand anders wat dit kan doen?  Wys vir my hoe jy deur slim redenasies, dreigemente, skuldgevoelens, beloftes van rykdom en plesier of selfs wonderwerke iemand se bose natuur verander (Luk. 16:31, Hand. 4:16-17, 1Kor. 1:22).

 

Die sondaar kan homself nie eers deur sy wil verander nie.  As jy wat ‘n Christen is dit nie eers sonder sweet en gebed kan regkry nie, hoe moet ‘n ongelowige sy hart verander?

 

Net soos ‘n luiperd nie sy kolle kan verander of ‘n Etiopiër sy vel nie, kan geen mens homself wederbaar en in ‘n Christen verander nie (Jer. 13:23).  Hy het God se krag in die evangelie nodig, omdat net Hý die mens kan nuut maak, wederbaar, en aan hom ‘n nuwe hart kan gee (v.16, Eseg. 36:25-27, Joh. 3:3, 2Kor. 5:17, Tit. 3:5).

 

Was dit nie so met Paulus nie?  Of het hy op ‘n dag besluit om sy hart vir die Here te gee en nie meer Christene dood te maak nie (Hand. 9)?  En wat van Paulus se prediking: is dit nie so dat die Here Lidia se hart geopen het om Paulus se evangelie te verstaan nie (Hand. 16:14)?

 

My Bybel sê vir my dat dit die Here is wat mense wederbaar en hulle in staat stel om hulle te bekeer en die evangelie te glo (Joh. 1:13, 3:6, 8, Hand. 5:31, 11:18, Ef. 2:1, 5, 8-9, Fil. 1:29, 2Tim. 2:25, 1Pet. 1:3).

 

Kan iemand na Jesus toe kom as die Vader hom nie trek nie (Joh. 6:44, 65)?  Kan hy die Vader ken as Jesus nie sy blinde oë oopmaak nie (Luk. 10:21-22)?

 

Die dag voordat Derek Thomas tot bekering gekom het, het hy nie geglo daar is nie ‘n God nie.  ‘n Ateïs in die 1700’s het probeer om mense van sy siening te oortuig, maar toe George Whitefield die evangelie preek het hy kragdadig tot bekering gekom.[1]

 

Het hierdie mense deur hulle vrye wil tot bekering gekom?  Of het God die ewige lewe in hulle harte ingeblaas?  Wat van jou bekering: het jy op ‘n dag besluit om jouself te wederbaar?  Of is jy soos die res van ons uit God gebore (Joh. 1:13)?

 

Volgens v.16 is die evangelie die krag van God tot redding.  Dit is nie die krag van God plus die vasberadenheid van die sondaar nie.  God se krag in die evangelie is sterk genoeg.  Dit is so sterk dat Hy die slegste sondaar in ‘n goeie mens kan verander.

 

Glo jy dat sy krag in die evangelie jóú kan verander?  Glo jy dat dit sterk genoeg is om jou slegte vriend, familielid, kollega, kind in jou klas of boelie by die skool te verander?  Of het jy nie veel hoop vir hulle nie?  In daardie geval wil ek jou aanraai om weer oor v.16 te dink.

 

Omdat die evangelie die krag van God is vir elkeen wat glo, het Paulus hom nie daarvoor geskaam nie (v.16).  Ek moet eerlik sê dat ek my vir die evangelie sou skaam as ek soos party Christene glo jy kan jou redding verloor.

 

Sal jy nie skaam wees om vir iemand te sê: ‘Die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo’ (v.16), terwyl jy in jou agterkop dink: ‘Ongelukkig kan dit nie jou finale redding verseker nie, want as jy êrens langs die pad droogmaak kan jy jou redding verloor’ nie?

 

Ek sal my doodskaam vir ‘n evangelie wat van mense se flou en feilbare pogings afhang.  Paulus se evangelie is die krag van God om sondaars veilig in die hemel te bring (Fil. 1:6, Heb. 7:25, 1Pet. 1:5).  God maak nie beloftes van ‘n ewige lewe vir dié wat in sy Seun glo (Tit. 1:2, 1Joh. 2:25), terwyl Hy nie eintlik die krag het om dit te vervul nie (v.16).

 

Die Here is nie soos Allah nie.  Sura 3:54 en 8:30 in die Koran noem hom die groot bedrieër [Arab. makr].  Toe Mohammed sy opvolger (Abu Bakr) van ‘n plek in die paradys verseker, het hy gesê: ‘Ву Allah! I would not rest assured and feel safe from the deception [Arab. makr] of Allah, еvеn if I had onе foot in Paradise.’[2]

 

As die Here so onbetroubaar soos Allah was, sou dit heeltemal rasioneel gewees het om jou vir die evangelie te skaam.  Maar Hy is nie so nie.  God se belofte in v.16 is waar: die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.

 

Jy kan dit dus met oortuiging deel en vir mense sê dat dit werk.  Moet jou nie daarvoor skaam nie, maar wees onbeskaamd evangelies (v.16, Mark. 8:38, 2Tim. 1:8).

 

Dit help nie om maar net die evangelie in jou kop te ken nie.  Die duiwel ken dit ook.  Die vraag is of jy al hierdie verlossingskrag in die evangelie ervaar het (v.16)?  Of jy net dat jy ‘n Christen is, terwyl jy nog nooit die krag gehad het om jou sondige begeertes en gewoontes af te lê nie (v.16, 2Tim. 3:5)?

 

In daardie geval is jy soos ‘n ou tannie in Kanada.  Sy was baie vrygewig en voorbeeldig, en het gereeld kerk toe gegaan.  Almal het gedink sy is ‘n Christen, maar na baie jare het sy besef dat sy nog nooit God se krag in die evangelie ervaar het nie; sy was nie weergebore nie![3]

 

Voor ek vir jou sê hoe jy God se krag in die evangelie kan ervaar, gaan ek jou vertel wat dit doen.

 

  1. 2. Dit is krag van God tot REDDING

Toe John Bunyan jonk was het hy vreeslike gevloek.  Om aan sy woorde gesag te gee, het hy ‘n vloekwoord voor en na elke gewone woord gesê.[4]  Iets het gebeur sodat hy sy vuil taal gelos het.  Maar hy het nog nie tot bekering gekom nie.

 

Dit is dus heeltemal moontlik om sekere sondes te los sonder dat jy tot bekering kom.  Dink maar aan ‘n ongelowige dronkaard wat deur die AA gerehabiliteer word, maar nie tot bekering kom nie.

 

Hoekom sê Paulus dan dat die evangelie die krag van God tot redding is, as ander godsdienste en morele programme ons ook van afbrekende en sondige gewoontes kan red?

 

Menslike pogings kan jou help om jou morele sokkies op te trek.  Dit kan jou help om een of twee sondes te los.  Maar dit kan nie maak dat jy heeltemal anders is nie.  Dit kan jou nie van selfsugtige begeertes bevry nie.  Dit kan nie selfregverdige, geldgierige, hoogmoedige, wellustige en bitter gedagtes wegvat nie.

 

Die evangelie kan, en is dus meer as net ‘n sentimentele boodskap op iemand se yskas.  Dit is die goeie nuus waardeur God mense se lewens van binne af verander.  Die evangelie red ons van sewe dinge (v.16).

 

[a] Die duiwel

Toe die duiwel ons versoek om sy wil te doen, het ons soos zombies agter hom aangeloop (Ef. 2:2, 1Joh. 5:19).  Maar deur Jesus se kruisdood het Hy die duiwel se mag oor ons gebreek (16:20, 2Kor. 4:4, 6, 1Joh. 3:8).  Nou is ons nie meer sy slawe nie, maar behoort ons aan Jesus.

 

[b] Die wêreld

Jou lewe het soos die res van die mense by jou skool en werk s’n gelyk.  Jy het dieselfde belange en doelstellings gehad, en in jou taalgebruik, verhoudings en vermaak was jy soos hulle (1Joh. 2:16).

 

Al was jy nie deel van die populêre groep nie, het jy vir jouself en jou plesiere gelewe.  Niemand was vir jou belangriker as jý nie.  Jou dagdromery, selfbejammering en obsessie met jouself het dit gewys.

 

Maar Jesus het jou daarvan bevry.  Jy haat dit dat jy so baie aan jouself dink, en sug omdat jy die Here en ander mense eerste wil stel.

 

[c] Die dood

Voorheen het jy die dood gevrees maar deur sy kruisdood en opstanding het Jesus dit oorwin.  Nou is ons nie meer bang vir die dood nie (Ps. 23:4, 1Kor. 15:55, Heb. 2:14-15).  Dit is maar net die geroeste traliehek waardeur ons in God se heerlike teenwoordigheid inkom (2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23).

 

Wanneer Jesus weer kom sal Hy ook jou liggaam uit die dood uit opwek (1Kor. 15).  Die Here red dus nie net jou siel nie, maar ook jou liggaam (8:23).  Die evangelie is goeie nuus vir Christene wat kanker het, asook vir dié wat langs ‘n medegelowige se graf staan.

 

[d] Die straf van sonde

Ons het op allerhande lelike maniere teen die Here gesondig en verdien om vir ewig in die hel gestraf te word (Op. 21:8).

 

Maar op Golgota het die Vader se toorn soos ‘n verterende vuur op sy Seun geval (Jes. 53:4, 10).  Jesus het gewilliglik die straf in ons plek gedra, sodat ons nie in die vuur van God se toorn hoef te ly nie (Jes. 53:5-6, Gal. 3:13).

 

[e] Die mag van sonde

Soos ‘n vlieg in ‘n spinnerak was ons in die net van ons sonde vasgevang.  Ons kon nie loskom nie en wou ook nie (8:7-8).  Ons het dit geniet om dronk te word, te skinder, selfsugtig te wees, seksueel losbandig te wees, te steel sonder dat iemand ons uitgevang, en ander sondes te doen.

 

Die Heilige Gees het ons oë geopen om ons onsself in die spieël van God se wet te sien.  Ons het probeer om te verander maar kon nie.  Jesus het soos ‘n held gekom en die ysterboeie van ons sonde gebreek (Joh. 8:34, 36).  Nou is sonde nie meer ons baas nie (Rom. 6).

 

[f] Die plesier van sonde

Voorheen was dit lekker om sonde te doen, net soos wat dit vir ‘n baba lekker is om grond te eet.  Maar noudat ons die roomys en biltong van die evangelie geproe het, is dit nie meer lekker om die grond van sonde te eet nie (6:21, 7:19, Luk. 22:62).

 

[g] Die teenwoordigheid van sonde

Sonde is soos ‘n dodelik virus wat jy nie kan afskud nie.  A.g.v. Jesus se kruisdood kan dit jou nie doodmaak nie, en met die Gees se hulp kan jy dit domineer.  Maar partykeer maak dit jou nog siek (Gal. 5:17).

 

As jy eendag by die Here is, sal jy nie meer die virus hê nie.  In die hemel en op die nuwe aarde sal sonde nie teenwoordig wees om ons siek te maak nie.

 

Met dít in gedagte kan jy sê dat jy gered is (Ef. 2:8), dat die Here besig is om jou te red (1Kor. 15:2), en dat Hy jou sal red (Heb. 9:28).  In teologie noem ons dit regverdigmaking, heiligmaking en verheerliking.  Om só gered te word moet jy die evangelie glo.

 

  1. 3. Dit is krag van God tot redding vir elkeen wat GLO

Ek onthou hoe iemand eenkeer gevra het ons moet bid dat hy geloof sal verstaan.  Dit is nie ‘n dom vraag nie, aangesien die duiwels in God glo maar ongered is (Jak. 2:19).  Wat beteken dit dan om in Jesus te glo?

 

Ek sal in die volgende preek hierop uitbrei, maar wil ten minste die volgende sê.  Die Grieks vir geloof [Gk. pisteuō] staan in ‘n voortdurende tydsvorm.  Dit is dus nie genoeg om te sê dat jy in 1992 die evangelie geglo het nie.  Die vraag is of jy nóú die evangelie glo?

 

As jy waarlik gered is sal jy, volgens Matt. 10:22 en Kol. 1:23, in die geloof volhard.  As jy jou rug op die Here draai en nie meer in Hom glo nie, was jy nooit waarlik gered nie (1Joh. 2:19).

 

  1. 4. Dit is krag van God tot redding vir ELKEEN wat glo

‘n Paar jaar gelede wou ‘n man my oor sy probleme sien.  Ek het hom by sy huis gaan sien en die evangelie met hom gedeel.  Toe ek hom kerk toe nooi het hy gevra of daar swart mense in ons kerk is.

 

Ek het vir hom gesê dat Jesus vir alle mense gesterf het, dat daar al swart mense in ons dienste was, en dat ons dit verwelkom.  Hy het in geen onduidelike terme vir my gesê dat hy nie na ons kerk toe sal kom nie.

 

In George Whitefield se tyd het mense geglo dat slawe bo diere is, maar onder mense.  Hulle het geglo dat slawe nie met die evangelie bereik kan word nie.  Die slawe het gewonder of hulle gered kan word, en het vir Whitefield gevra: ‘Het ek ‘n siel?’[5]

 

Volgens v.16 is niemand buite die evangelie se bereik nie, en is dit vir almal.  Dit is eerste vir die Jood, omdat God hulle in die Ou Testament gekies het om sy volk te wees.  Jesus was ‘n Jood en het die evangelie eerste aan hulle verkondig (3:2, 9:4-5, Matt. 10:5-6, 15:24, Joh. 4:22).

 

Maar toe hulle dit verwerp, het Hy na die heidene toe gedraai (Matt. 21:41, Hand. 13:45-48, 18:5-6, 28:28).  Daarom is die evangelie ook vir nie-Jode of Grieke (v.16).

 

Laat ons dan nie in ons evangelisasie sekere individue of groepe uitsluit, asof hulle nie gered kan word nie.  Laat ons nie ons land, kultuur, taal, denominasie, persoonlike gemak of iets anders meer liefhê as die Here, die evangelie en ander mense se siele nie.

 

Ons moet soos Spurgeon wees.  Met die opening van hulle nuwe kerkgebou het hy gesê: ‘…the subject of the ministry in this house, as long as this platform shall stand, and as long as this house shall be frequented by worshippers, shall be the person of Jesus Christ.

 

‘I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, “It is Jesus Christ.”’[6]

 

Ek voel dieselfde en is onbeskaamd evangelies.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970, pp. 569-570

[2] Khalid Muhammad Khalid, The Successors of the Messenger [translated by Muhammad Mahdi AI-Sharif], Dar Al-Kotob Al-Imiyah, Beirut-Lebanon, p. 99

[3] Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1982, p. 270

[4] John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners, Whitaker House, Springdale: PA, 1993, p. 16

[5] Dallimore., pp. 498-499

[6] Arnold Dallimore, Spurgeon – A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1985, p. 99

Christelike prioriteite

Christian priorities

Het jy ‘n Christelike held, iemand wie se lewe vir jou ‘n voorbeeld is?  Pasop.  Moet hulle nie verafgod asof hulle onfeilbaar is nie.  Ek ken iemand wat die kinderdoop so verdedig.  ‘Jonathan Edwards het dit geglo, en hy kan tog nie verkeerd wees nie,’ het die persoon gesê.  Hy het gemaak asof Jonathan Edwards die Bybel is.

 

Dalk roem jy daarin dat jy geen helde het nie.  In daardie geval mag dit wees dat jy jouself verafgod, so asof jy nie iets by ander kan leer nie.  Ek ken mense wat dink dat hulle nie Christelike leraars of boeke nodig het nie: ‘Ek het nie menslike wysheid nodig nie, maar kry my lering direk uit die Bybel.’

 

Ek het nie ‘n probleem as die Heilige Gees hierdie mense in die waarheid van die Bybel lei nie.  Waarmee ek ‘n probleem het is die volgende: ‘It seems odd, that certain men who talk much of what the Holy Spirit reveals to themselves, should think so little of what he has revealed to others’ (Charles Spurgeon).[1]

 

As Christene moet ons ‘n balans handhaaf.  Leer by ander gelowiges en volg hulle voorbeeld.  Maar doen dit in soverre hulle die Here volg en by die Bybel bly.

 

  • “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1Kor. 11:1).
  • “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.” (Fil. 3:17).
  • “En julle het navolgers van ons geword en van die Here” (1Tess. 1:6).
  • “Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolginge, lyding” (2Tim. 3:10-11).
  • “[wees] navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.” (Heb. 6:12).
  • “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” (Heb. 13:7).

 

Vandag wil ek jou uit Rom. 1:8-15 uit aanspoor om Paulus se prioriteite jóúne te maak.  Wat was sy prioriteite?

 

  1. Gebed (v.8-10)

Oor die afgelope 16 jaar het wyle dr. Martin Holdt se voorbeeld vir my geleer dat gebed ‘n baie belangrike deel van die Christelike lewe is.  Ek het by verskeie van sy vriende gehoor dat hy soggens tussen 02:30 en 03:00 opgestaan het om te bid.

 

By ‘n manne byeenkoms het hy gesê dat ‘n predikant elke dag vir al sy lidmate en besoekers by naam moet bid.  ‘Maar jý doen dit seker nie,’ het iemand gereageer.  ‘Jy het meer as 500!’  ‘My gewoonte is om 7 uit 7 dae vir hulle te bid,’ het hy gesê.  ‘Dit is hoekom ek so vroeg moet opstaan.’

 

Dit lyk of dit dieselfde vir Paulus was.  As ons v.8-10 van nader bekyk sal ons sien hoe hy gebid het.

 

‘n Prioriteit

Paulus sê dat hy in die ‘eerste plek’ vir die Romeine gebid het (v.8).  Dit was nie bloot die ‘eerste ding’ i.t.v. volgorde nie, maar i.t.v. prioriteit.  Niks was m.a.w. vir hom belangriker nie (vgl. 1Tim. 2:1).  Is dit enige wonder dat feitlik elkeen van sy briewe met gebed begin?

 

Hoe belangrik is gebed in jou lewe?  Gee jy 3 minute uit jou dag vir die Here?  Bid jy net as jy die Here nodig het?  Of is gebed ‘n sentrale deel van jou Christelike lewe?

 

Hoe belangrik is dit in ons gemeente?  Op ‘n Sondagoggend is daar 3 mense wat saam bid.  Voor die aanddiens is ons omtrent 7 of 8 mense.  Op Woensdae bid die vroue saam.  Tydens die aanddiens verdeel ons in groepies om saam te bid.

 

Ek dink egter dat elke gemeente en individu beter kan doen.  Gebruik die Onse Vader in Matt. 6:9-13 as riglyn.  Moet dit nie slaafs opsê nie, maar gebruik dit as die patroon waarvolgens jy bid.  Neem jou voor om ten minste een van die gemeente se bidure by te woon.

 

Danksegging

Paulus begin sy gebed met danksegging (v.8).  Hy was dankbaar dat die Romeine se geloof in die wêreld verkondig is (v.8).  Almal het gehoor dat dat die evangelie die hoofstad bereik het (16:19, 29, Kol. 1:6, 23).

 

Paulus begin die meeste van sy briewe met danksegging (1Kor. 1:4, Ef. 1:16, Fil. 1:3, Kol. 1:3, 1Tess. 1:2, 2Tess. 1:3, 2:13, 2Tim. 1:3, Filem. 4).  Syne is ‘n goeie voorbeeld om te volg.  Dank die Here vir soveel dinge as moontlik (Ef. 5:20, Kol. 3:17, 1Tess. 5:18).  Dink aan wat Hy gister vir jou gedoen het, en moenie gewone dinge soos warm water en elektrisiteit vanselfsprekend neem nie.

 

‘n Verhouding

Gebed was nie vir Paulus ‘n moeitevolle plig nie, maar ‘n verhouding.  Daarom praat hy van ‘my God’ (v.8).  As jy nie gered is nie sal gebed vir jou ‘n straf wees.  Jy sal nie op jou eie of saam met ander mense wíl bid nie.

 

Maar as die Here jou gered het sal gebed ‘n belangrike deel van jou verhouding met Hom wees.  Ja dit sal harde werk wees, maar jy sal ook tye van wonderlike gemeenskap geniet.

 

Die Middelaar

Niemand kan uit homself na die heilige God toe kom nie (Jer. 30:21b).  Jy het ‘n Middelaar nodig.  Om jou na God toe te bring moet die Middelaar God wees.  En om God se verlossing op ‘grondvlak’ na jou toe te bring moet Hy mens wees.

 

Jesus is die enigste Een wat kwalifiseer (1Tim. 2:5): daarom het Paulus deur Hóm gebid (v.8).  Daar is nie ‘n ander manier om na God toe te kom nie (Joh. 14:6).  Dit is hoekom die Here nie ongelowiges se gebede verhoor nie: hulle dink dat Jesus se kruisdood nie nodig is nie, en dat hulle op hulle eie meriete na God toe kan kom.

 

Dit is ook hoekom Hy gelowiges se gebede verhoor: Jesus het die prys vir hulle sonde betaal en bid gedurig vir hulle.  Die Vader sal nooit sy Seun se gebede en offer weier nie.

 

As jy in Jesus glo kan jy met groot vrymoedigheid bid en weet dat die Vader jou sal verhoor (Heb. 4:16, 10:22).  Hy verhoor jou op grond van Jesus en nie op grond van hoe goed jy bid nie.  Prakties beteken dit dat Paulus en die predikant nie ‘n beter kans as jy het om verhoor te word nie.

 

Voorbidding

Paulus sê vir die gelowiges in Rome dat hy vir hulle dank (v.8).  Dit is belangrik dat ons vir ander Christene moet bid (Ef. 6:18, 1Tim. 2:1).  Moenie dwaas wees en dink dat jy alleen kan staan nie.  Moet ook nie so hoogmoedig wees dat jy nalaat om vir hulp te vra nie.

 

Vra ander mense om vir jou te bid, en maak ook seker dat jy hulle in jou gebede onthou.  ‘n Puritein genaamd Thomas Brooks het gesê: ‘let not others suffer by your neglect of private prayer!’[2]  Kom in die gewoonte om elke dag ‘n bladsy of twee in die gemeenteboekie deur te bid.

 

Getrouheid

Paulus het nie soos party mense gesê: ‘Ek bid vir julle,’ en dit nie gedoen nie.  Hy roep die Here tot getuie dat hy regtig vir die Romeine bid (v.9).  Deur die Heilige Gees wat in sý gees werk, het hy die Here gedien en homself daaraan gewy om die evangelie van Jesus Christus met mense te deel (v.9).  Dit is waarvoor hy gelewe het.

 

Hoekom sou hy dan in so ‘n groot taak getrou wees, maar nie getrou vir die Romeine bid nie?  “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou” (Luk. 16:10).

 

Is jy getrou in gebed?  Nee?  Bely jou biddeloosheid en sonder daagliks vir jouself ‘n tyd af waarin jy met die Here praat.  Indien jy wel getrou is, wil ek jou uitdaag om meer tyd in gebed deur te bring.  Dalk wil jy jou gebedstyd verleng óf ‘n ekstra geleentheid afsonder om met die Here te praat.

 

Volharding

Al het Paulus nie die Romeine ontmoet nie (v.13), het hy hulle name gedurig in gebed voor die Here gebring (v.9-10).  Hy het dit ook vir ander gelowiges gedoen (Ef. 1:16, Fil. 1:4, Kol. 1:9, 1Tess. 1:2, 2Tim. 1:3).

 

Dalk het jy moedeloos geword en staan jy op die punt om op te hou bid.  Moenie (v.9-10, 12:12, Ef. 6:18, Kol. 4:2, 1Tess. 5:17).  Jesus het gesê “dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie” (Luk. 18:1).

 

God se wil

Paulus wou graag Rome toe gaan, maar dit sou slegs gebeur as dit die Here se wil was (v.10, Jak. 4:15).  Sommige mense dink dat dit sonde is om so te bid.  Benny Hinn sê bv.: ‘Never, ever, ever go to the Lord and say: “If it be thy will…” Don’t allow such faith-destroying words to be spoken from your mouth.’[3]

 

Natuurlik hoef jy nie so te bid as jy God aan sy beloftes herinner nie (Jes. 62:6-7).  Jy hoef bv. nie te bid om meer soos Jesus te wees as dit die Here se wil is nie.  Dit ís sy wil (Rom. 8:29).

 

Maar as iets nie in die Bybel staan nie, is dit heeltemal reg om soos Jesus in Getsemane te bid: “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39).

 

As jy dit vergeet sal jy arrogant bid en dink dat jy vir die Here eise kan stel.  Jy sal soos sommige politieke partye wees: ‘We demand…!’

 

Die inhoud

Paulus wou graag die Romeine sien om hulle geestelik op te bou, die evangelie te preek en dissipels te maak (v.10-15).  Sy gebede was dus nie op materiële dinge gefokus nie, maar op geestelike dinge.

 

Bid jy so, of fokus jy hoofsaaklik op jou werk, geld, gesondheid en jou kinders se skoolwerk?  Dit is nie verkeerd om hiervoor te bid nie, maar leer by Paulus om vir dinge te bid wat ewigheidswaarde het.  Ek wil voorstel dat jy elke dag een van Paulus se gebede bid.  Jy sal dit aan die begin van sy briewe kry.

 

  1. 2. Gemeenskap (v.11-12)

Ek het laasjaar ‘n preek van John MacArthur geluister waarin hy sê: ‘The church is my life, has been my life, will be my life forever, because we’re all going to be together in glory.’[4]

 

Ek voel dieselfde.  Ek is nie net deel van die kerk omdat ek die ds. is nie.  Ek wíl hier wees en sal elke geleentheid gebruik om die Here saam met ander gelowiges te aanbid, sy Woord te hoor, te bid en Jesus se dood in die nagmaal te herdenk.

 

Dit is hoe dit vir Paulus was.  Hy wou graag by die Romeine wees en het sy gawe gebruik om hulle siele te versterk (v.11-12).  Hy wou ook hê dat hulle sý geloof moes opbou (v.12).  Hy was nie ‘n hoogmoedige apostel wat gedink het hy het hulle nie nodig nie, maar het geweet dat hulle geloof en gawes hom kan opbou (v.12, 12:3-8).

 

Elke predikant en lidmaat moet hierna luister.  Predikante moet erken dat hulle die gemeente se geestelike opbouing nodig het, terwyl lidmate nie onder die illusie moet verkeer dat die ds. ‘n super mens is wat nie ander mense se bediening nodig het nie.

 

Die plek waar hy hierdie opbouing moet kry is primêr in die gemeente en nie by predikante konferensies nie.  Jou leraar het net soveel bediening nodig soos jy.  Almal van ons het die gemeenskap van gelowiges nodig.  Ons moet gereeld vergader en mekaar in die geloof opbou (Hand. 2:42, Heb. 10:24-25).

 

  1. 3. Evangelisasie (v.13-15)

George Whitefield was een van die grootste evangeliste in die geskiedenis.  Hy het sommige weke meer gepreek as wat hy geslaap het.[5]  Paulus was ‘n groter evangelis as hy.  Deur die Gees se werk in hom het hy binne 30 jaar die Romeinse Ryk op sy kop gekeer.

 

Hy wou bitter graag die hoofstad besoek, maar is verhinder (v.13, 15:22-23).  Wat het gebeur?  Dalk is hy verhinder toe keiser Claudius die Jode uit Rome verban het (Hand. 18:2)?  Hoe dit ook al sy, die Here het ‘n stok in die speke gesteek sodat hy Romeine kon skryf!

 

Hoekom wou Paulus so graag die Romeine besoek?  Ek het reeds gesê dat Hy hulle geestelik wou versterk (v.11-12).  Maar hy wou ook die evangelie in Rome preek en ‘n oes van bekeerlinge inbring (v.13, Matt. 9:37-38, Joh. 4:35-38).

 

Van daar af wou hy die evangelie op plekke verkondig waar die Naam van Jesus nog nie gehoor is nie (15:20-21).  Hy het o.a. beplan om Spanje te besoek (15:24, 28).

 

Hy was die apostel na die heidene (v.5, 11:13), en is daarom deur Jesus verplig om die evangelie aan Grieke en barbare, wyse en ongeleerde mense te verkondig (v.14, Hand. 9:15, 22:21, 26:16-18).

 

Omdat Grieks die Ryk se amptelike taal was, het enige ander taal vir hulle so geklink: bar-bar-bar-bar-bar.  Gevolglik het die Grieke enige nie-Griekse heiden ‘n barbaar genoem (bv. Hand. 28:2, 1Kor. 14:11).  Hulle het nie bedoel dat alle nie-Grieke half-geklee en onbeskaafd is nie.  Hulle het wel mense wat nie in die Griekse kultuur geskool is nie as onwys beskou (v.14).

 

Maar volgens Paulus was die evangelie nie tot ‘n sekere groep beperk nie.  Dit was vir Grieke sowel as nie-Grieke, vir dié wat Griekse wysheid geleer het sowel as vir hulle wat dit nie geken het nie (v.14).  Volgens v.16 was dit ook vir Jode.  Kortom kan ons sê dat dit vir almal was.

 

Vandag is dit nóg so, en daarom moet jy die evangelie deel met die man wat in jou tuin werk, maar ook met die ingenieur wat saam met jou werk.  Moenie bang wees vir iemand ryk of geleerd is nie (v.14): hulle het ook die Here nodig.

 

Deel die goeie nuus met Indiërs, Afrikaners en Zoeloes.  Sê vir hulle dat God heilig is, dat hulle gesondig het en sy straf verdien.  Sê vir hulle dat Jesus God is, en dat Hy mens geword het om die straf vir ons sonde te dra.

 

Sê vir hulle dat Hy begrawe is en dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Sê vir hulle dat hulle hulle sonde moet los en op Jesus moet vertrou om hulle van God se oordeel te red.  Sê vir hulle dat sy vergifnis en verlossing vry is.

 

Almal moet die evangelie hoor.  Die soewereine Here van hemel en aarde beveel jou om dit te doen (Matt. 28:19-20).  Soos Paulus het jy nie ‘n keuse in die saak nie: jy is onder verpligting (v.14, 1Kor. 9:16).  Dalk roep die Here jou selfs om jou werk te los en ‘n sendeling of evangelis te word.

 

Dalk is dit nie jou gawe nie, maar jy is gereed om een tot een of in ‘n klein groepie met nuwe bekeerlinge – mans, vroue of kinders – te werk.  Jy is gereed om die basiese waarhede van die Christelike geloof met hulle te deel.

 

Dit is wat Paulus in v.15 bedoel het: hy wou ongelowiges tot ‘n kennis van die waarheid bring (v.13-14), maar hy wou ook vir gelowiges sê om Jesus se bevele uit te voer (v.15, Matt. 28:19).

 

Mense sê gewoonlik dat hulle nie die tyd het om die bg. dinge te doen nie.  Maar toe jy sonde wou doen het jy die tyd gehad.  En as jy met vakansie wil gaan kan jy vroeg opstaan.  As Paulus se prioriteite joune is sal jy die tyd maak om die dinge te doen waarvan ek hierbo gepraat het.

 

[1] Aangehaal in Michael Haykin, Rediscovering the Church Fathers, Crossway, Wheaton: Illinois, 2011, p. 14

[2] Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2006 (1665), p. 186

[3] Aangehaal in Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson, Nashville: Tennessee, 2009, p. 275

[4] https://www.gty.org/library/sermons-library/81-8/your-responsibility-to-the-church-part-1

[5] https://www.desiringgod.org/messages/i-will-not-be-a-velvet-mouthed-preacher

Hoe om die duiwel te ontwyk

Blocking flaming arrows

Twee jaar gelede het ek my rifrug hondeskool toe gevat.  In sy eksamen moes hy o.a. ‘n speelding vir my bring.  Hy het daarmee weggehardloop.  Van daar af was dit vir hom ‘n speletjie.

 

Hy bring nie ‘n tennisbal terug nie, maar dink dat hy daarmee moet weghardloop en dat ons hom moet vang.  Hy is so rats soos ‘n Springbok senter wat sy opponente ontduik: ons kan hom nie gevang kry nie.

 

Gelowiges moet so wees en die duiwel se strikke deur vals leraars ontduik.  Jud. 17-25 sê vir ons hoe.

 

  1. Onthou die voorspellings (v.17-19)

Waldo is ‘n mediese student in die Kaap.  Voor sy finale eksamen sê die dosent dat hy baie vrae oor die mens se senuweestelsel gaan vra.  Toe die dosent dit sê het Waldo nie geluister nie, maar aan sy meisie gedink.  Die vraestel het hom omkant gevang, sodat hy die jaar moes oordoen.

 

Moenie dat die duiwel jou omkant vang nie.  Jesus en die apostels het hierdie ketters se dwaling voorspel (v.17, Matt. 7:15-20, 24:24, Hand. 20:29-30, 2Tess. 2:9-12, 1Tim. 4:1-3, 2Tim. 4:3-4, 2Pet. 2:1-3:7, 1Joh. 2:18).  Hulle is so glad soos ‘n paling en so skelm soos ‘n jakkals: hulle wen mense se guns en maak vriende met almal.

 

Wat hulle sê klink in die begin vreemd, maar as hulle dit genoeg sê en ‘n paar Bybeltekste aanhaal, val dit sag op die oor.  Hulle oortuig eers een persoon, dan nog een, en dan ‘n hele gesin.  Hulle hou aan totdat hulle ‘n klomp gesinne oorgehaal het.  Hulle doen dit om ryk te word (v.11, 16).

 

Hulle leef wellustig en goddeloos (v.18, 4, 7-8, 15-16), maar spot as jy met hulle oor die hel praat (v.18).  Hulle beklemtoon God se liefde en praat asof Hy hulle nie sal oordeel nie (2Pet. 3:2-4).

 

Hierdie goddelose vals leraars was in Judas se tyd al aktief.  Judas beskryf dit as ‘die laaste tyd’.  Dit verwys na die tydperk voor die verwoesting van die tempel in 70 n.C. (Hand. 2:17, 1Kor. 10:11, 2Tim. 3:1-5, Heb. 1:1, 9:26, Jak. 5:3, 1Pet. 1:20, 1Joh. 2:18).[1]

 

Soos in Judas se tyd is daar vandag nog baie vals leraars.  “Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.” (v.19).  Vals leraars roem daarin dat hulle die Gees het, maar hulle wêreldse lewens en die verdeeldheid wat hulle veroorsaak wys dat hulle ongered en sonder die Gees is (v.19, Rom. 8:9, Gal. 5:19-21, 1Joh. 2:15-19).

 

Moet dan nie dink dat iemand met die Gees gevul is omdat hy dinamies en emosioneel is, omdat jy hoendervleis kry wanneer hy preek, of omdat hy sê die Here praat met hom in drome nie (v.8).  Kyk eerder na die vrug van sy lewe (v.19, Gal. 5:22).

 

  1. 2. Bly in God se liefde (v.20-21)

Wanneer die see verdamp vorm dit wolke wat na die binneland toe waai.  Daar word dit soos reuse gieters uitgegooi.  Dit loop na die riviere toe en beland weer in die see.  God is soos ‘n oseaan van liefde.  Deur Jesus en die Heilige Gees vul Hy ons met sy liefde (Rom. 5:5, Ef. 3:16-19).  Die strome van jou liefde wat na Hom toe vloei is ‘n reaksie op sy liefde vir jou (1Joh. 4:19).

 

Volgens Judas is ons God se geliefdes en moet ons in sy liefde bly (v.1, 3, 17, 20-21).  Hy sal ons daarin bewaar (v.1, 24), maar ons moet self ook daarin bly (v.21a).  Hy maak ons gewillig en bekwaam, maar ons moet gehoorsaam wees (Fil. 2:12-13).  Wat beteken dit om jouself in die liefde van God te bewaar?

 

Dit beteken eerstens om bewus te wees van God se liefde.  Verder beteken dit dat jy sal aanhou om die Here lief te hê.  Om in sy liefde te bly moet jy Hom gehoorsaam (Joh. 14:15, 21, 15:9-10).  Om dit verder op te breek kan ons v.20-21 soos volg opsom:

 

Hoofwerkwoord: Bewaar jouself in God se liefde (v.21).  Doen dit…

 

[a] Terwyl jy jouself in die geloof opbou (v.20a)

Hoe doen ‘n mens dit?  Ten eerste moet jy aan die Christelike geloof vashou (v.3).  Jy moet glo dat die Bybel die Woord van God is (2Tim. 3:16).  Jy moet in die Drie-Enige God glo: die Vader, die Seun en die Heilige Gees is drie Persone, maar dieselfde God (Matt. 28:19).

 

Jy moet glo dat Jesus volkome God is, en dat Hy mens geword het (Joh. 1:1, 14).  Jy moet glo dat Jesus sondeloos is, dat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars, en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood (2Kor. 5:21, Jes. 53:4-6, 1Kor. 15:1-19).  Jy moet glo dat Jesus weer sal kom om die wêreld te oordeel (1Tess. 4:13-18, Op. 20:11-15).

 

Jy moet glo dat jy nie deur jou goeie werke gered kan word nie, maar dat God die enigste Een is wat jou kan red (Ef. 2:8-9).  Om sy verlossing te ontvang moet jy jou bekeer en op Jesus alleen vertrou om jou te red (Mark. 1:15).

 

As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig in die hel wees (Matt. 13:41-42, Joh. 3:16, 36).  Maar as jy in Hom glo, sal jy vir ewig in sy lieflike teenwoordigheid lewe (Matt. 13:43, 25:34).

 

Dít is die geloof waarin jy jouself moet opbou (v.20a, 3).  Daarvoor het jy die gemeente nodig: die gereelde prediking van God se Woord, ander se geestelike gawes en gebede, die nagmaal (Hand. 2:42, 20:32, 1Kor. 14;12, 26, Ef. 4:11-12).

 

Baie mense dink dat hulle die Here op hulle eie kan aanbid, en dat hulle nie die gemeente nodig het nie.  Ek wonder wat hulle in die vroeë kerk sou doen as daar net een gemeente in die dorp was en niemand sy eie Bybel gehad het nie?

 

Die ‘Jesus’ wat hierdie mense aanbid is nie die Jesus van die Bybel nie, aangesien die Jesus van die Bybel ‘n liggaam het.  Iemand wat ontrou is aan die liggaam is ontrou aan die Hoof.  Geen gelowige kan sonder die gemeente groei soos hy moet nie.

 

Hy stel homself ook in gevaar, en is soos ‘n jong olifant wat op sy eie ronddwaal.  Sonder die liggaam is Hy meer kwesbaar vir vals lering (Ef. 4:14, 11-13).

 

[b] Terwyl jy in die Heilige Gees bid (v.20b)

Wat beteken dit?  Wanneer God se Gees jou wederbaar woon Hy in jou (kontr. v.19), en help hy jou om te bid (v.20b).  Hy gee aan jou die begeerte om te bid (Ef. 2:18).  Hy leer jou om volgens God se wil te bid (Rom. 8:26-27).  Hy help jou om die Gees-geïnspireerde woorde van die Bybel in jou hart te bêre en daarvolgens te bid (Ef. 6:17-18).

 

Om jouself in God se liefde te bewaar (v.21) móét jy in die Heilige Gees bid (v.20b).  Die punt is dus dat ware gelowiges ‘n gesonde gebedslewe handhaaf.  Ek het lank terug in ‘n preek gehoor hoe John Piper sê: ‘If you do not love prayer, you do not love God.’

 

Ongelowiges is soos die Fariseërs wat elegant voor ander kan bid, maar nie ‘n persoonlike gebedslewe het nie.  Ander ongelowiges bid by hulle huise, maar doen dit uit vrees.  Hulle hoop dat dit hulle kanse om hemel toe te gaan sal verbeter.

 

Net ware gelowiges het ‘n lewende verhouding met die Here.  Gebed is deel van hulle normale lewens (Hand. 9:11, Ef. 1:16, 3:14, Fil. 1:3-4, Kol. 1:3, 9, ens.).

 

[c] Terwyl jy Jesus se barmhartigheid verwag (v.21b)

As jy weet dat daar spoedkameras en padblokkades op die N3 is, ry jy versigtiger.  En as jy weet dat Jesus oppad is, leef jy versigtiger (v.21b, Tit. 2:12-13, 2Pet. 3:10-14, 1Joh. 3:2-3).

 

Toe God jou gered het, het jy barmhartigheid ontvang (1Tim. 1:13, 16, 1Pet. 2:10).  Daarna ontvang jy dit elke dag (v.2, Klaagl. 3:22-23).  Maar dit sal spesiaal aan jou geopenbaar word wanneer Jesus weer kom (v.21b).  Dan sal jy nie net die kraan oopmaak om dit te drink nie, maar in die kristalhelder rivier swem.

 

Om dan die duiwel en sy valsheid te ontwyk, moet jy aanhou om God lief te hê (v.21a).  Om dit reg te kry moet jy saam met ander gelowiges in die Woord groei (v.20a), in gebed volhard (v.20b), en in die lig van Jesus se wederkoms lewe (v.21b).

 

  1. Wees barmhartig (v.22-23)

‘n Vriend van my vra dikwels vir mense: ‘Are you born again?’  ‘n Ander gelowige het hom onlangs hieroor aangespreek.  ‘Stop asking people that question; it is offensive,’ het hy gesê.

 

Maar om kos en komberse vir die armes te gee is nie die enigste manier om barmhartig te wees nie.  Volgens Jud. 22-23 is dit barmhartig om gelowiges te dissiplineer en die evangelie met ongelowiges te deel.  Soos wat die Here barmhartig is (v.21b), moet ons met ander wees (v.22-23).

 

[a] Wees barmhartig met dié wat deur vals lering verwar is en twyfel (v.22)

Doen wat ‘n vriend eenkeer vir my gesê het.  Ek was ongeduldig omdat mnr. en mev. X ‘n sekere waarheid nie kon insien nie.  ‘Jy moet onthou dat daar ‘n tyd was toe jy dit óók nie ingesien het nie, Ivor.  Wees geduldig met ander soos wat die Here met jóú is.’

 

[b] Wees barmhartig met dié wat in vals lering vasgevang is (v.23a)

Ek ken meer as een persoon wat na Prosperity Crusades toe gaan om mense teen hierdie vals ‘evangelie’ te waarsku.  Een van my vriende het al ‘n paar mense so vir die Here gewen.  Hy vrees nie om die vuuroond se deur oop te maak en mense uit die vlamme te red nie (v.23a, Gen. 19, Amos 4:11, Sag. 3:2, 1Kor. 3:15).

 

Volgens Calvyn help dit nie om jou vinger te wys wanneer jy mense teen vals lering waarsku nie – jy moet jou hand uitstrek en hulle uit die vuur ruk.[2]  Moenie bang wees om vir mense die waarheid te wys en hulle kerk toe te nooi nie.

 

As jy vals lering by die naam noem sal sommige sê dat jy liefdeloos is, maar volgens Judas is dit liefdevol en barmhartig.  ‘n Ou Skotse prediker het gesê: ‘They do not love you that do not warn you, poor hell-deserving sinners.  O! remember that love warns.’[3]

 

[c] Wees barmhartig met dié wat deur die vals leraars se sonde besmet is (v.23b)

Mense het eenkeer vir my gesê om nie kerktug toe te pas nie, omdat dit liefdeloos is.  Volgens Judas is dit barmhartig.  ‘As jy genoeg vir ander mense omgee sal jy dit doen,’ is in effek wat hy in v.23b sê.  Wees lief vir die sondaar en haat sy sonde.

 

Wees bang wanneer jy ingaan om hierdie mense te red.  Herinner hom daaraan dat die Here sondaars sal oordeel, en sê vir hom hoe erg die hel sal wees (v.23, 2Kor. 5:11).

 

Wees ook versigtig vir die vieslike dinge wat jy sal sien en hoor wanneer jy ingaan om die persoon te help (v.23).  Jy is soos iemand wat ‘n siek persoon se beddegoed vol dodelike en aansteeklike kieme moet was.  Vra die Here se beskerming voor jy dit doen.

 

  1. 4. Rus in God se bewaring (v.24-25)

Toe John Bunyan se Pilgrim na die hemelse stad toe reis, het hy deur die Vallei van Vernedering geloop.  Daar het hy vir Apollion (die draak) ontmoet.  In sy eie krag kon hy nie teen hom veg nie – hy het die Here se hulp en wapenrusting nodig gehad.

 

Net so het jy die Here se bewaring nodig om die duiwel te ontwyk en ander mense uit sy strik te bevry (v.24-25).  Jy kan dit nie in jou eie krag doen nie.  Maar as jy op die Here vertrou, sal Hy jou tot die einde toe bewaar sodat die duiwel jou nie kan wegsteel nie (Joh. 10:28-29, 17:12, Rom. 8:38-39, 2Tim. 4:17-18).

 

Die Here sal seker maak dat jy eendag sonder skuld voor Hom staan (v.24, Rom. 8:1, Ef. 5:27, Kol. 1:22, 28, Op. 14:5).  Alhoewel jy vir ‘n tyd lank deur dwaling mislei kan word, sal die Here sy kinders daaruit red en nie toelaat hulle finaal wegval nie (v.24, Matt. 24:24, Fil. 1:6).

 

Wanneer jy op die laaste dag voor die Here staan, sal dit nie soos die goddelose met vrees en bewing wees nie, maar met oorvloedige blydskap (v.24).  Deur die Here Jesus Christus sal jy die enigste God en Verlosser met jou oë sien (v.25).

 

Jy sal sy die heerlike glans, koninklike majesteit, soewereine heerskappy, en Goddelike mag sien (v.25).  Sodra dit gebeur sal jy weet dat dit nog altyd aan Hom behoort het, en dat dit vir ewig syne sal wees: Amen (v.25).

 

‘n Groot en akkurate siening van God is die fondasie waarop elke ander Bybelse waarheid gebou is.  As jy op hierdie punt reg is sal geen ketter jou uitvang nie, en sal jy die duiwel ontwyk.  Wie is die ware God?

 

  • Hy is ‘n volmaakte, onsigbare en oneindige Gees wat oral in sy volle wese teenwoordig is (Ps. 139:7-8, Jer. 23:24, Joh. 4:24, 1Tim. 1:17).
  • Hy is een God wat in drie Persone bestaan (Deut. 6:4, Matt. 3:16-17, 28:19, 1Kor. 8:4, 6).
  • Hy is onafhanklik en het nie die skepping nodig nie (Hand. 17:25).
  • Hy is onveranderlik en betroubaar (Mal. 3:6, 1Kor. 1:9). Sy Woord en karakter bly konstant.  As Hy iets gesê het sal Hy dit doen (Num. 23:19).
  • Hy is ewig en het geen begin of einde nie (Eks. 3:14, Ps. 90:2).
  • Hy weet alles gelyktydig en hoef nooit iets oor die verlede, hede, of toekoms te leer nie (Job 37:16, Ps. 139:1-4, Matt. 6:8, 1Joh. 3:20).
  • Hy is alwys en raak nooit gefrustreerd omdat Hy nie weet wat om te doen nie (Ps. 104:24, Rom. 11:33, 1Tim. 1:17).
  • Hy is liefdevol, goed, barmhartig, geduldig en genadig – dit is deel van wie Hy is (Eks. 34:6-7, Ps. 119:68, 1Joh. 4:8-10).
  • Hy is almagtig: niks is vir Hom onmoontlik of eers moeilik nie (Jer. 32:17, 27, Matt. 19:26, Luk. 1:37).
  • Hy is heilig, uniek, gans-anders, en ver verhewe bo die skepping (Jes. 6:3).
  • Hy is soewerein. Hy regeer oor alles en doen wat Hy wil (Ps. 103:19, 135:6).
  • Hy is regverdig en doen net wat reg is (Deut. 32:4). Hy is die definisie van wat reg en verkeerd is.
  • Hy is toornig, wat beteken dat Hy alle sonde haat (Rom. 1:18).
  • Hy is salig of vreugdevol in die hoogste sin van die woord (1Tim. 6:15).
  • Hy is pragtig en begeerlik, mooier as enigiets in die skepping (Ps. 27:4, Jes. 33:17).

 

Vir hierdie God om jou teen die duiwel te beskerm en veilig in die hemel te bring, is makliker as vir ‘n 60-voet beton muur om jou teen ‘n enkele waterdruppel te beskerm.

 

[1] Dit impliseer o.a. dat 1Johannes voor 70 n.C. geskryf is.  Die algemene siening is dat dit tussen 85 en 95 n.C. geskryf is, maar daar is genoegsame bewyse dat Johannes dit voor die verwoesting van die tempel geskryf het.  Sien bv. http://www.datingthenewtestament.com/John.htm EN John A.T. Robinson, Redating the New Testament, Wipf and Stock Publishers, Eugene: Oregon, 1976 [SCM Press], 2000, hfst. 9.  Robinson se boek is by die volgende skakel beskikbaar: http://web.archive.org/web/20071120235525/http:/www.preteristarchive.com/Books/1976_robinson_redating-testament.html

[2] Aangehaal in Michael Green, Tyndale New Testament Commentaries: 2Peter & Jude, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1968, p. 187

[3] Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne, The Banner of Truth Trust, London: England, 1961, p. 168

Die goedheid en strengheid van God

Goodness and severity

Goedheid en strengheid is so teenoorgestelde soos satyn en graniet. En tog vind ons dit in perfekte proporsie in die Persoon en karakter van Jesus Christus; Hy is die Leeu en die Lam.  In Op.14:14-20 het ons ‘n voorbeeld hiervan.

 

‘n Oes van verlossing (v.14-16)

Op.14 praat van twee oeste. ‘n Man op ‘n wolk het die eerste oes ingesamel (v.14-16), terwyl ‘n engel die tweede oes ingesamel het (v.17-20).  Die eerste oes is nie in ‘n parskuip gegooi nie, terwyl die tweede oes daarin uitgetrap is (v.19-20).  Dit is dan duidelik dat ons hier met meer as een oes te doen het.

 

Die Man op die wit wolk het soos die Seun van die Mens gelyk (v.14). Hy het ‘n goue kroon op sy kop gehad en ‘n skerp sekel in sy hand (v.14).  Wat beteken dit?  Die Seun van die Mens in v.14 verwys na Jesus wat nogsteeds ‘n mens is (1:13, Hd.7:56, 17:31, 1 Tm.2:5).  Dit is ook ‘n Goddelike titel wat in Dn.7:13-14 van Hom gebruik word.  Volgens dié teks en Hd.1:9, het Hy met ‘n wolk na die Oue van Dae toe opgevaar om die ewige Koninkryk te ontvang.

 

Die wit wolk en die kroon van oorwinning [Gk. stephanos] verwys dan na sy Koningskap in die hemel, en nie na sy wederkoms nie:  Hy het op die wolk gesit en nie daarop teruggekeer soos wat Hy eendag in die toekoms sal doen nie (v.14, vgl. Hd.1:11).  Jesus het ‘n skerp sekel in sy hand gehad (v.14).  Hiermee het Hy die eerstevrug van die gelowiges uit die Jode geoes, en sodoende ‘n verdere oes onder die heidene gewaarborg (v.4, Jer.2:2-3, Mt.3:12a, Mk.4:29, Rm.1:13, 11:16, Jk.1:1, 18).

 

‘n Engel het uit die hemelse tempel uitgekom, en met ‘n harde stem vir Jesus gesê om sy sekel in die oes in te steek (v.15, vgl. v.17, 11:19). ‘Die tyd het aangebreek, omdat die oes van die land [Gk. ] ryp is,’ het hy gesê (v.15).

 

Moet asb. nie hieruit aflei dat Jesus onder die bevel van ‘n engel gestaan het nie. Die punt is eerder dat Hy die gelowiges se gebede uit die hand van die engel ontvang het (8:3-4).  Dit was húlle wat met dringende erns vir die Here gevra het om ‘n groot oes in te samel (Mt.9:37-38).[1]  Hy het hulle gebede verhoor en sy sekel oor die Beloofde Land [Gk. ] geswaai (v.16, Hd.2:41, 47, 4:4, 5:14, 6:1, 7, 9:31).

 

Soos die Jode in die eerste eeu n.C., moet ons bid dat die Here deur ons getuienis ‘n groot oes sal insamel. Ons moet bid dat baie mense tot bekering sal kom.  Ons moet bid dat die Here ‘n nuwe werk van herlewing in die kerk, asook in ons land en wêreld sal doen.

 

As jou siening van die eindtyd nie plek maak hiervoor nie, moet jy jou siening verander. Die Here self het immers ‘n groot oes belowe (7:9, Ps.126, Mt.9:37-38, Jh.4:35-36).  Volgens Paulus in Rm.11:12, 15, 25-26 sal daar in die toekoms baie Jode en heidene tot bekering kom.  Die mosterdsaadjie van God se Koninkryk het klein begin, maar uiteindelik sal dit die grootste plant in die tuin van die wêreld word (Mt.13:31-32); die rots van sy Koninkryk sal ‘n reusagtige berg word wat die hele aarde vul (Dn.2:35).

 

Die Groot Opdrag van Mt.28 sê dat die nasies, en nie net individue uit die nasies nie, Jesus se dissipels moet word.  Uiteindelik moet al die nasies van die aarde in erkenning voor Koning Jesus buig en Hom aanbid (Ps.2:8).  ‘Maar dit is onmoontlik,’ sê iemand.  Nee dit is nie.  Luister gerus na die volgende statistiek.

 

As een persoon elke dag ‘n duisend mense na die Here toe lei, sal dit 15 000 jaar neem vir die hele wêreld om tot bekering te kom (dit is nou as hy die enigste een is wat die evangelie deel).

 

Maar kom ons gestel dat een persoon vir ‘n jaar lank ‘n ander een dissipeleer. In die tweede jaar vat hy en die nuwe dissipel elkeen iemand om te dissipeleer.  In die derde jaar dissipeleer die vier van hulle elkeen iemand anders.  Indien hulle so aanhou, sal hulle binne 37 jaar die hele wêreld bereik het.[2]

 

Moenie die krag van die Heilige Gees hierin onderskat nie. As Hy op een dag 3000 mense tot bekering kan bring (Hd.2:41), kan Hy maklik binne ‘n paar jare of maande die hele wêreld tot bekering bring (as Hy wil).

 

Maar ons kan nie met gevoude arms sit en dink Hý moet al die werk doen nie. Ons moet daarvoor bid en die evangelie met mense deel (Esg.36:37, Rm.10:13-15).  Bid asof alles van die Here afhang, en deel dan die evangelie asof alles van jou afhang.  Getuig met jou lewe en met jou lippe.  Nooi mense na Sondag 7 Mei se Kruisie-veldtog toe.  Vat traktaatjies in die portaal en gee dit uit wanneer jy petrol ingooi of by die tolhek stop.

 

Ek onthou hoe ‘n oom vir ons gesê het om nooit die waarde van ‘n traktaatjie te onderskat nie. Ek het hierdie week ‘n getuienis gehoor wat dit illustreer.  ‘n Ou oomie met wit hare het vir baie jare in Georgestraat in Sydney, Australië traktaatjies uitgedeel.  Vir veertig jaar het hy byna elke dag vir 10 mense ‘n traktaatjie gegee en gevra:  ‘Excuse me, are you saved?  If you die tonight, are you going to heaven?’

 

‘n Predikant in die suide van Londen het oor die bestek van drie jaar die getuienisse gehoor van mense wat deur hierdie man se ‘traktaatjie werk’ tot bekering gekom het: ‘n besoeker in sy gemeente, ‘n vrou in Adelaide, ‘n ouderling in Perth, vier predikante in Engeland, drie sendelinge in die Karibiese eilande, ‘n vloot kapelaan in Engeland, en ‘n eks-Hindoe in Indië.

 

Toe die Londense predikant by geleentheid in Sydney was, het hy die ou oomie opgespoor. Sy naam was mnr. Genor.  Hy het vir hom vertel van die mense wat deur sy getroue ‘traktaatjie werk’ tot bekering gekom het.  Die man het gehuil en gesê:  ‘In veertig jaar het ek nog nooit gehoor van ‘n enkele persoon wat deur my werk tot bekering gekom het nie.’  Twee weke later is die oomie hemel toe.[3]

 

Jy hoef nie noodwendig die oom se metode te volg nie, maar doen wat jy kan om mense vir die Here te wen (1 Kor.9:19-22). Vra jou ongelowige familie, vriende en kollegas om op laaste Woensdag van elke maand Bybelstudie toe te kom.  Ek beplan om Bybelse lering te gee oor lewenskwessies soos selfmoord, verslawings, rebelse tieners, depressie, aborsie, ens.  Die idee is om dit met ‘n evangeliese inslag aan te bied, sodat ongelowiges tot bekering kan kom.  Ek sal dit ook op Facebook adverteer.  Bid asseblief dat die Here hierdie poging sal seën.

 

Wanneer dit by die kerk van Jesus Christus kom, is ons nie geroep om klein te droom nie. Ons moet vir die nasies bid, asook vir mense wat 150 jaar van nou af gebore sal word (Ps.78:1-8, Lk.13:29, Jh.17:20).  Al sien ons nie nou baie bekerings nie, moet ons die bg. beloftes ter harte neem.  Dit sal ons help om met groter ywer te bid en die evangelie met mense te deel.  Dit sal ons help om te volhard as ons vir baie maande en jare nie bekerings sien nie.  Dit mag ook wees dat ons agterkleinkinders eendag die oes sal inbring wat ons gesaai het (Jh.4:37-38, 1 Kor.3:6-7).

 

‘n Oes van oordeel (v.17-20)

‘n Vriend van my het tydens sy studente jare by ‘n Christelike Boekwinkel gewerk. Een Vrydag toe sê ‘n vrou vir hom dat Op.14:17-20 daardie naweek in Pretoria vervul sou word.  ‘Die swart mense se bloed gaan môre in Pretoria se strate vloei, so hoog soos die perde se tooms,’ het sy gesê.

 

My vriend het haar weer die Maandag gesien en vir haar gesê dat sy ‘n vals profeet is. Sy het eenvoudig gesê dat dit geestelik gebeur het, en dat mense dit nie kon sien nie.  Sy het nie eintlik ‘n idee gehad van wat hierdie verse in Op.14 beteken nie.  Om die teks reg te verstaan, moet ons dit met die res van die Skrif vergelyk.

 

Nóg ‘n engel het uit die hemelse tempel gekom (v.17). Soos Jesus in v.14, het hierdie engel ook ‘n skerp sekel gehad (v.17).  Volgens Mt.13:39-42, 49-50 sal die Seun van die Mens sy engele uitstuur om die goddelose te versamel en hulle in die helse vuur te gooi (vgl. v.10).  Dit sal vir ‘n laaste keer aan die einde van die wêreld gebeur, maar dit gebeur ook nou al wanneer ongelowiges doodgaan (Lk.16:22-24).

 

‘n Derde engel het van die hemelse altaar af gekom (v.18). Hy het gesag oor die vuur van die altaar gehad (v.18).  Wat beteken dit?  Die martelare het van die altaar af uitgeroep dat God hulle vyande sou oordeel (6:9-10).  God het vir die engel gesê om in reaksie op hulle gebede die vuur van sy oordeel op dié te gooi wat hulle vermoor het (v.10, 8:3-5, 16:8-9, Mt.13:41-42, Lk.11:47-51, 1 Ts.2:14-16).

 

Die derde engel het met ‘n harde stem vir die tweede een gesê om sy sekel in die wingerd te steek (v.18). Omdat die land [Gk. ] se druiwe ryp was vir God se oordeel in die parskuip, moes hy dit geoes het (v.18, Joël 3:13).  Hy het sy sekel oor die land [Gk. ] geswaai en die druiwe-oes ingesamel om dit in die groot parskuip van God se toorn te gooi (v.19).  Die parskuip was groot, omdat God baie mense geoordeel het, en omdat sy toorn groot was.  ‘n Verduideliking van hoe antieke parskuipe gelyk het, sal ons help om Johannes se beeld beter te verstaan.

 

‘n Parskuip het byna gelyk soos ‘n sement plaasdam met ‘n lae muurtjie. In die kant van die muur was daar gate met pype in.  As die plaaswerkers klaar die druiwe in die parskuip gegooi het, het hulle met hulle kaalvoete ingeklim en dit uitgetrap.  Die sap het deur die pype in vate ingeloop.  Van daar af het hulle dit gegis om wyn te maak.

 

Johannes het hierdie beeld gebruik om God se toorn oor afvallige Israel te beskryf. Israel was die Here se wingerd (Jes.5:7a, Ps.80).  Hy het alles vir haar gedoen, sodat sy goeie druiwe kon voortbring (Jes.5:1-2).  Sy het egter nie die goeie vrug van bekering voortgebring nie, maar die suur druiwe van bloedvergieting en ongeregtigheid (Jes.5:3-4, 7b, Jer.2:21, Mt.21:33-39, Jh.15:2, 6).

 

Daarom het die Here besluit om sy wingerd te oordeel (Jes.5:5-6, Esg.15, Mt.21:40-46, Jh.15:2, 6). Hy het dit in die parskuip gegooi en buite die stad (Jerusalem) uitgetrap (v.20).  Hy het dit buite die stad gedoen, omdat hulle Hóm uitgewerp het en buite die stad gekruisig het (Jh.19:17, Heb.13:12, Gn.3:23-24, Nm.5:1-4, 15:35-36, Mt.21:39).  Net soos wat hulle Hom nie as deel van die aardse Jerusalem beskou het nie, het Hy hulle nie as deel van die hemelse Jerusalem beskou nie (22:14-15, Lk.13:28).

 

Hy het sy klere en voete in hulle bloed gewas, soos wat Hy dit in die geskiedenis met Edom, Babilon, Juda en die nasies gedoen het (v.20, 19:13, 15, Ps.58:11-12, Jes.63:1-7, Jer.51:33, Klg.1:15, Joël 3:13). In 70 n.C. het die Jode se bloed uit die parskuip van God se toorn gevloei.  In die oorlog was die Romeine se perde tot aan hulle tooms met die Jode se bloed besmeer (v.20).  Die bloed het vir omtrent 300 km [Gk. 1600 stadia] gevloei, die lengte van die Beloofde Land (v.20).  Die punt is dan dat God die hele land geoordeel het.  Die ‘wyn’ van hulle bloed is in v.10 in die beker van God se toorn geskink, en sou in hfst.16 in die bakke van sy oordeel gegooi word.

 

So goed soos wat die Here is wanneer dit by die redding van sondaars kom (v.14-16), so streng is Hy oor dié wat weier om hulle te bekeer (v.17-20). “Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God” (Rm.11:22).  Moet asb. nie vir ‘n oomblik dink dat die God van die Ou Testament strenger is as die Jesus van die Nuwe Testament nie.

 

Aan die ander kant moet ons nie dink Jesus is ‘n sadis wat daarvan hou om streng te wees nie. Volgens Thomas Watson is Hy soos ‘n by wat van nature heuning gee, en jou net sal steek as jy Hom kwaad maak.[4]  Dit is deel van sy karakter om sondaars te red.  “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Jh.3:17).

 

Hy het alles moontlik gedoen dat mense van hulle sonde gered kan word. Waar Israel as God se wingerd gefaal het, was Jesus die Ware Wingerd wat goeie en aanneemlike vrugte vir Hom voortgebring het (Jh.15:1).  In sy lewe en dood het Hy die Vader behaag.  Uit liefde vir die Vader het Hy gewilliglik sy lewe gegee, sodat ons nie in die parskuip van God se toorn hoef te beland nie.

 

Met diep droefheid en liefde vir sy Seun en vir sondaars, het die Vader vir Jesus in die parskuip van Golgota verbrysel: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel” (Jes.53:10).  Aan die kruis het die Vader Hom getrap totdat Hy een bloed massa was.

 

O, mag die Vader en die Seun se liefde ons harte smelt. Mag dit by ons aandring om in Hom te glo.  Mag dit ons help om deur geloof in die Ware Wingerd te bly, sodat ons die gesonde druiwe van gehoorsaamheid en bekering sal dra (Jh.15:2-8).  Mag dit ons gewetens wond om nie aan te hou met die sonde wat Hom so diep en dodelike gewond het aan die kruis nie:  ons hoogmoed, selfsug, jaloesie, bitterheid, wellus, kleingeloof, twyfel, vuil taal, leuens, diefstal, egbreuk, opstandigheid, geestelike luiheid, ontrouheid, ongehoorsaamheid, geskinder, materialisme en baie ander sondes.

 

Iemand wat aanhou om die saad van sy of haar sondige gedagtes, woorde en dade te saai, sal die Here se oordeel oes:

 

  • “Wie onreg saai, sal onheil maai” (Sp.22:8).
  • “Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai” (Hos.8:7).
  • “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie [‘moenie dink jy gaan daarmee wegkom nie’]; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” (Gal.6:7-8).

 

Uiteindelik sal jy deel van die bloedbad word (v.20). Maar dit hoef nie so te wees nie.  “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jes.55:6-7).

 

Moenie die Here se goedheid misbruik nie. Hy is nie goed en geduldig, sodat ons met ons sonde kan aanhou nie.  Tot nou toe het Hy Suid-Afrika en die res van die wêreld se sonde verdra, omdat Hy mense tot bekering wil lei (Rm.2:4, 2 Pt.3:9).  Moenie dom wees en die strengheid van Jesus Christus kies, as Hy met beide hande sy goedheid na jou toe uitstrek nie.

 

[1] Ons moenie die implikasie hiervan te ver voer, sodat ons dink gelowiges moet deur of tot engele bid nie. Om so te dink sou tekste soos 19:10, 22:8-9 en Kol.2:18 weerspreek.

[2] https://www.youtube.com/watch?v=Ums9X9xJrZA

[3] Die volledige getuienis is beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=r8jsUiTuPIA.  Ek sal enigiemand aanspoor om daarna te luister – dit is aangrypend.

[4] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.93

Wat verwag die Here van jou?

Oor bekering, doop en kerklidmaatskap

baptism-and-membership

Dit is aaklig om nie te weet wat jou baas, afrigter, familielid of onderwyser van jou verwag nie. Dit voel alewig asof hulle kwaad is vir jou.  ‘Het ek dit reg gedoen?’ wonder jy.  Maar jy weet nie, omdat hulle nie vir jou sê nie.  Gelukkig is die Here nie so nie:  Hy sê presies wat Hy van jou verwag.  In Hd.2:37-41 sê o.a. wat Hy van jou verwag m.b.t. bekering, die doop en kerklidmaadskap.

 

Die Jode se vraag (v.37)

Het jy al ooit ‘n preek gehoor waarin dit vir jou gevoel het of die Here net met jou praat?  Was dit dalk ‘n preek waarin die Here jou hart blootgelê het, sodat dit vir jou gevoel het of iemand vooraf vir die prediker van jou situasie vertel het?  Ek het al so ‘n preek gehoor.

 

En in Hd.2 het Petrus se hoorders so ‘n preek gehoor. Sy woorde het soos ‘n mes in die Jode se harte ingesny (v.37).  ‘Julle het Hom gekruisig,’ het hy in v.23, 36 vir hulle gesê.  Die Gees wat in v.1-3 uitgestort is het hulle daarvan oortuig dat hulle die Here en langverwagte Messias gekruisig het (Jh.16:8, 1 Kor.2:8).  Nou wou hulle dinge reggemaak het, maar hulle het nie geweet hoe nie.  Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra:  ‘Wat moet ons doen, broers?’ (v.37).

 

Petrus se antwoord (v.38-39)

As ‘n sportspan baie goed is, is daar min mense wat ‘n neutrale gevoel teenoor hulle het: òf jy hou baie van hulle, òf jy haat hulle.  En hoeveel te meer is dit nie so m.b.t. Jesus nie?  Jy kan nie neutraal wees teenoor die ware Jesus van die Bybel nie:  as jy nie vir Hom is nie, is jy teen Hom (Mt.12:30).

 

Dít is wat Petrus in hierdie verse onder die Jode se aandag wou bring. Daar was net een manier vir hulle om reg te wees met God:  hulle moes hulle bekeer het – veral daarvan dat hulle die Messias verwerp en gekruisig het (v.38, 22-36).  Hulle moes geglo het dat Jesus se wonderwerke, kruisdood en opstanding bewys het dat Hy die Messias is (v.22, Ps.16, 22, 110, Jes.35, 53, 61).  As hulle hulle bekeer het, sou Hy hulle op grond van hierdie selfde kruisdood vergewe het (v.38, Lk.24:47).

 

Saam met die bekering en vergifnis het die doping met die Gees gegaan. Dié wat hulle bekeer het, sou ook onmiddellik die gawe van die Heilige Gees ontvang het (v.38, 1:5).  “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” (Rm.8:9).  Sonder die Heilige Gees kan ons nie Christus se nuwe lewe in ons hê nie (Tit.3:5-7).  Dit is ook deur Hom wat Christus ons in die gemeente inlyf (1 Kor.12:13).

 

Om hierdie bekering, vergifnis en doping met die Heilige Gees uit te beeld, moes die Jode in die Naam van Jesus Christus met water gedoop word (v.38, 10:47, 22:16). Dit is nie dat die doop iets tot hulle redding bygedra nie (Ef.2:8-9).  In die tyd van die Nuwe Testament is mense gedoop op die dag wat hulle tot bekering gekom het (v.41).  Daarom het Petrus bekering, die doop, vergifnis en doping met die Heilige Gees in een pakkie toegedraai (v.38).

 

Jesus se belofte van die Heilige Gees (Jh.14, 16) was nie net vir die Jode in Petrus se tyd nie, maar ook vir hulle kinders en vir die heidene wat in ver lande gebly het (v.39, 22:21, Jes.44:3, 59:19, Ef.2:11-13). Die Gees sou na dié toe gekom het wat die Here na Homself toe geroep het.  Hulle sou sy roepstem in hulle harte gehoor het:  ‘Staan op uit die graf van jou sonde; maak jou blinde oë oop om die waarheid van Jesus se kruisdood en opstanding te sien!’ (v.39, Joël 2:32).

 

Petrus se pleidooi (v.40)

Hiper-Calviniste glo dat ‘n mens nie vir ongelowiges mag sê om hulle te bekeer en in Jesus te glo nie, omdat hulle dit nie uit hulleself uit kan doen nie. Maar om so te redeneer is nie Bybels nie.

 

In v.39 het Petrus gesê dat God mense na Homself toe sal roep, en in v.40 het hy gesê dat die ongelowige Jode hulleself van die Here se oordeel moet red.  Daarmee het hy nie bedoel dat die krag om gered te word in onsself lê nie, maar eerder dat ons ‘n verantwoordelikheid het om na die Here toe te draai.

 

Petrus het van die opstanding en van Jesus se Messiaskap te getuig (v.40, v.32, 1:22, 3:15, 4:33, 9;22, 10:40-43, 18:28, 28:23). Hy het nie maar net die koue feite weergegee nie, maar het by die Jode aangedring om hulle te bekeer (v.39).  Die Here sou hulle in 70 n.C. geoordeel het (v.39, 19-20).  Om hulleself van hiervan te red, moes hulle van daardie bose geslag af weggedraai het (v.39, vgl. Dt.32:5, Fil.2:15) en die Naam van die Here Jesus aangeroep het (21, Joël 2:32, Rm.10:13).

 

Die Jode se reaksie (v.41)

Spurgeon het van ‘n sekere Mary Bailey vertel wat 50 jaar na haar bekering eers gedoop is. Spurgeon se reaksie hierop was soos volg:  ‘…it is to be hoped that none will imitate her by postponing the confession of their faith in Jesus for so long a time.  She lived half a century in disobedience to her Lord…’[1]  Die psalmis het gesê:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou” (Ps.119:160).

 

In v.41 sien ons hoe die Jode wat tot bekering gekom het, dadelik gedoop is en by die gemeente gevoeg is. Die Griekse passief wys dat hulle nie hulleself bygevoeg het nie – die Here het dit gedoen (v.41, 47).  Volgens Lukas is daar omtrent 3000 mense by die gemeente gevoeg (v.41).  Dit blyk dan dat hulle rekord gehou het van hoeveel lidmate daar was (vgl. 4:4).

 

Sommige dink dat daar nie genoeg tyd en water was om 3000 mense te doop nie, en dat Lukas oordryf het. Maar as al die apostels gehelp het, kon elkeen van hulle 250 mense gedoop het.  En as 1:15 se 120 dissipels gehelp het, kon elkeen van hulle 25 mense gedoop het.  Wat die hoeveelheid water betref sê John MacArthur dat argeoloë groot mikvahs of doopfonte in Jerusalem ontdek het.  Die Jode het dit in hulle reinigsrites gebruik.[2]

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Wat verwag die Here van jou?  Volgens v.41 lyk die volgorde só:  jy moet die evangelie glo en jou bekeer, gedoop word, en by die gemeente aansluit.  Jy kan nie volgorde omruil of een van die opdragte uitlos nie.  Jy kan nie gedoop word of ‘n lidmaat word, as jy nog nie gered is nie.  Jy kan nie die evangelie glo, en dan weier om jou te laat doop en by die gemeente aan te sluit nie.  Jy kan ook nie by die gemeente aansluit as jy nie gedoop is nie.  Watter een van hierdie dinge moet jy nog doen; watter een stel jy uit?

 

[1] Het jy nog nie die evangelie in jou hart ontvang en jou bekeer nie? Wat verhinder jou?  Erken dat jy teen die Here gesondig het, omdat jy vir jouself gelewe het en nie ‘n God oor jou wil hê wat vir jou sê hoe jy moet lewe nie.  Bely dat jy vir jouself ‘n god geskep het wat net liefde is, omdat jy nie van sy heilige oordele hou nie.  Bekeer jou van die dinge waaroor jou gewete jou pla, en selfs van die dinge wat jy al so baie gedoen het, dat dit jou nie meer pla nie.

 

Glo dat Jesus se kruisdood vir sondaars voldoende is om jou sonde weg te was. Glo dat Hy uit die dood uit opgestaan het en vertrou Hom om jou te red.  Glo dat sy liefde opreg is en dat Hy jou redding begeer.  Hoop geheel en al op Hom om jou te verlos, net soos wat jy op die grond onder jou voete vertrou om jou gewig te dra.  As jy hierdie liefdevolle Christus leer ken, sal jy nie anders kan as om Hom lief te hê en te doen wat Hy vir jou sê nie – jy sal wil.

 

[2] Het jy al tot bekering gekom, maar dit nog nie openlik in die doop bely nie? Die Here wil hê jy moet gedoop word; dit is nie opsioneel nie (v.38, 10:48, Mt.28:19).  “En wat noem julle My:  Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lk.6:46).  Wat beveel die Here aangaande die doop?

 

Gelowiges, en nie babas nie, moet gedoop word (v.38, 41, 8:12, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 30-33, 18:8, 19:1-6, 22:16, Mt.28:19, Mk.16:16, Rm.6:3-4, 1 Kor.1:2, 14-16, Gal.3:26-27, Ef.4:5, Kol.2:11-13, 1 Pt.3:21). Ek weet dat daar besware teen die Baptiste se siening van die doop is.  Laat my toe om hulle een vir een te beantwoord.

 

Beswaar #1: ‘Die verbond vereis dat gelowiges se kinders gedoop moet word.’

 

Antwoord: Mense wat dit sê verstaan nie die verbond nie.  In die Ou Testament het ‘n mens deur geboorte deel geword van God se uitverkore volk.  Om te wys dat ‘n kind deel gehad het aan God se verbond met Israel, is hy op 8 dae besny.

 

Om deel te hê aan God se nuwe verbond met die kerk moet ‘n mens geestelik gebore word en gedoop word as ‘n illustrasie daarvan. Soos wat besnydenis onder die ou verbond op fisiese geboorte gevolg het, moet die doop onder die nuwe verbond volg op wedergeboorte.

 

Beswaar #2: ‘Kol.2:11-13 sê dat die doop die besnydenis vervang, en omdat dit so is moet babas gedoop word.’

 

Antwoord: Paulus sê nie hier dat die doop die besnydenis vervang nie, maar hy praat van mense wie se harte besny is (m.a.w. hulle is weergebore).  Hulle was geestelik dood, maar deur hulle geloof in Jesus is hulle opgewek en lewe hulle nou saam met Hom.  Volgens Paulus is dit húlle wat gedoop moet word.

 

Beswaar #3: ‘Maar wat van die tekste wat praat van huisgesinne wat gedoop is:  kan ons nie hieruit aflei dat daar babas was nie?’

 

Antwoord: Nee, want die tekste sê dit nie.  Eintlik sê die meeste van hierdie tekste vir ons dat die gesinne wat gedoop is, nie babas in gehad het nie.  Cornelius en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die Here gevrees, die Gees ontvang en tot bekering gekom (10:2, 44, 47-48, 11:14-15).  Die tronkwag en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die evangelie gehoor, geglo en hulle daarin verbly (Hd.16:30-34).  Stefanas en sy huisgesin is gedoop, maar hulle was ook die eerste bekeerlinge in Achaje en het getrou in die kerk gedien (1 Kor.1:16, 16:15).

 

Beswaar #4: ‘Wat van 1 Kor.7:14 wat sê dat die kinders deur hulle gelowige ouers geheilig word?’

 

Antwoord: Die woord ‘heilig’ beteken om af te sonder.  Al wat die teks sê is dat gelowige se kinders deur die Here afgesonder word om in ‘n huis te bly waar hy of sy die evangelie kan hoor.  Die teks sê ook dat die ongelowige party in ‘n huwelik deur die gelowige party geheilig word.  En as die kinders gedoop moet word, moet die ongelowige huweliksmaat ook gedoop word.

 

Beswaar #5: ‘Maar het Jesus nie in Mt.19:14 gesê dat ons nie die kindertjies moet verhinder om na Hom toe te kom nie?’

 

Antwoord: Ja, maar Hy het nie gesê dat ons hulle moet doop nie.

 

Beswaar #6: ‘In v.39 sê Petrus dat die belofte vir die Jode en hulle kinders is.’

 

Antwoord: Volgens v.38 verwys die belofte nie na die doop nie, maar na die Heilige Gees.  En volgens die res van v.39 is die gawe van die Heilige Gees slegs vir dié wat die Here na Homself toe roep, vir dié wat tot bekering kom.  Die kinders in v.39 verwys dan nie na babas nie, maar na die Jode se nageslag wat in Christus glo (vgl. ‘seuns en dogters’ in v.17).

 

Die opdrag is dan duidelik: as jy jou bekeer het en in Jesus geglo het, moet jy gedoop word.  Dit geld nie net vir party mense nie, maar vir almal (v.38) – en jy is nie die uitsondering op die reël nie.

 

[3] Het jy al tot bekering gekom en jouself laat doop, maar nog nie by ‘n gemeente aangesluit nie? Volgens v.41 het die Here mense by die gemeente gevoeg.  Moet dan nie van die gemeente af wegbly as jy dit kan help nie.  Moet ook nie nalaat om by ‘n goeie gemeente aan te sluit en jouself so aan Jesus en sy liggaam te wy nie.

 

Let asseblief op dat die Here mense by die gemeente gevoeg het (v.41, 47).  Geen ‘kerkraad’ of gemeentevergadering mag aan sy vereistes peuter of verander nie.  Daarom kan ons nie van iemand ‘n lidmaat maak as hy of sy ongered of ongedoop is nie (v.41).

 

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika. Hy het eenkeer sy hart by sy ouer vriend uitgestort en vir hom gesê:  ‘Ek voel ontmoedig; die mense in die gemeente het my lief of hulle haat my – niemand staan neutraal nie.’  Sy vriend was in ekstase:  ‘Wonderlik!’ het hy gesê.  ‘Dit wys dat jy besig is om deur te dring!’

 

Ek wil mooi vra dat jy nie vandag neutraal sal staan nie, maar dat jy ‘n besluit sal neem. Bekeer jou, word gedoop en sluit by die gemeente aan.  Om neutraal te bly is om vir Here te sê:  ‘Ek gaan nie doen wat U van my vra nie.’

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.146

[2] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Acts 2:41