Wat beteken jou doop?

Baptism

Oor die jare het ek mense ontmoet wat vir vreemde redes gedoop wou word. Party wou gedoop word, omdat dit spesiaal sou wees as die hele familie saam gedoop word. Ander wou gedoop word, sodat hulle lidmate kon wees en ‘n gemeente kon hê om hulle te trou en eendag te begrawe.

Een vrou wou graag op haar verjaarsdag gedoop word, sodat haar geboorte dag meer spesiaal kon wees. Ander wou gedoop word om hulle sonde weg te was, of omdat hulle in die hemel wou kom.

Aan die ander kant is daar mense wat nié gedoop wil word nie, omdat hulle as babas gedoop is, omdat hulle eers wil ophou rook, omdat hulle skaam is vir mense, of omdat hulle bang is vir water. Maar hierdie dinge is verkeerde redes vir hoekom iemand gedoop moet word of nie. Mense wat dit glo verstaan nie wat die doop beteken nie. Maar wat beteken die doop dan? Rom. 6:1-5 wys vir ons.

 

  1. Die teks

‘n Paar weke gelede het ek ‘n man by ‘n begrafnis ontmoet. Hy het min of meer die volgende gesê: ‘Sonde is nie een of ander daad nie. Sonde is iets wat in die Ou Testament bestaan het. Maar toe Jesus sterf, toe red Hy ons van ‘n sondige natuur. Ons kan dus nie meer sondig nie.’

Dit het vir my geklink of hy God se genade wil misbruik om die mens se sonde te bedek en te verskoon. Dit is asof hy gesê het: ‘God se genade is groter as ons sonde, en daarom kan ons maar sonde doen. God is genadig en sal ons altyd weer vergewe.’ (v.1, 5:20).

Genade word m.a.w. ‘n dekmantel of rookskerm om die mens se sonde te verskoon (Gal. 5:13, 1Pet. 2:16, Jud. 4). Het jy al ooit so gedink? Het jy al ooit vir jouself gesê: ‘Ek gaan maar hierdie sonde doen en later vergifnis vra, bid en die nagmaal gebruik. God is mos genadig. Dit is sy werk om te vergewe’?

As jy so redeneer verstaan jy nie God se genade nie. Genade is nie ‘n lisensie vir sonde nie, maar gee eerder aan ons die krag om dit te oorwin. As jy in sonde lewe het jy nog nie God se genade gesmaak nie. Jy is soos iemand wat vrygelaat word uit die tronk en dan sê: ‘Ek is vry om terug te gaan tronk toe as ek wil.’ Maar in daardie geval is jy nie vry nie. Hoe kan jy dood wees vir sonde as jy nog daarin lewe (v.2)?

Dit is nie genoeg om te jy is ‘n Christen nie. Haat jy jou sonde, treur jy daaroor, veg en bid jy daarteen, gehoorsaam jy die Bybel? Moenie sê jy is ‘n Christen as jy dronk word, homoseksueel is in woord en daad, met jou meisie of kêrel slaap, egbreuk pleeg, ongehoorsaam is, ens. nie (1Kor. 6:9-10).

Christene doen sonde, maar geen Christen leef daarin nie (v.3). As jy anders dink, verstaan jy nie Christenskap nie: “Of weet julle nie…?” (v.3). Jy verstaan ook nie wat die doop beteken nie (v.3). Wat beteken dit? Die doop wys dat jy een is met Jesus, die Vader, en die Heilige Gees (v.3, Matt. 28:19). Wat waar is van Jesus, is ook waar van ons.

[a] Jesus het ‘n vuurdoop aan die kruis ondergaan (Luk. 12:50). Die vloed van God se toorn was op Hom vir ons sonde. Die ou mens van Rom. 5 het saam met Hom gesterf (Gal. 2:20a, 6:14). God het sy dood aanvaar, asof jy vir jou eie sonde gesterf het (v.3).

[b] Toe jy onder die doopwater ingaan is jy saam met Hom begrawe (v.3-4). Die feit dat jy begrawe is wys dat jy regtig gesterf het, en dat jy nie maar net geslaap het nie. Omdat jy dan regtig vir die sonde gesterf het, kan jy nie eers ‘n bietjie daarvoor leef nie (v.1). Jou hand of voet het nie uit die doopwater uitgesteek om nog ‘n bietjie sonde te doen nie. As jy nie gedoop is nie, sal jy makliker vergeet dat jy dood is vir die sonde (v.3-4, 1-2). Word dus gedoop, en moenie langer uitstel nie.

[c] As jy uit die water opkom, wys jy dat jy saam met Jesus opgestaan het deur God se heerlike krag wat Hom uit die dood uit opwek het (v.4, 2Kor. 13:4, Gal. 1:1, Ef. 1:19-20, Kol. 2:12). Nou kan jy elke dag as ‘n nuwe mens in Hom lewe (v.4, 2Kor. 5:17, Gal. 2:20b, 5:16, 25).

As jy jouself ‘n Christen noem en gedoop is, maar nie nuut lewe nie lieg jy. Jou doop beteken niks. Hoe kan jy vir Jesus lewe as jy nie ook vir die sonde gesterf het nie? Dit is onmoontlik (v.5, 1-2).

 

  1. Die toepassing

Het jy al ‘n ateïs of ander ongelowige ontmoet wat die Bybel goed ken, maar nie daarvolgens lewe nie? Ken jy ‘n kerkmens wat oor die Bybel praat, maar dit nie doen nie? So iemand mislei homself om te dink dat hy ‘n Christen is (Jak. 1:22). God het nie die Bybel gegee net sodat ons dit kan ken nie, maar sodat ons dit kan doen.

Dit geld ook vir die doop. Jy kan dit teologies goed verduidelik, maar as jy dit nie doen en verander word nie, verstaan jy dit nie. Die teendeel is ook waar: jy kan nie die doop reg toepas as jy dit nie eers verstaan het nie. Laat my toe om die Nuwe Testamentiese lering oor die doop te verduidelik en dit daarna toe te pas.

Die doop is net vir gelowiges (v.3-4, Matt. 28:19, Mark. 16:16, Hand. 2:38, 8:12, 35-38, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 31-34, 18:8, 22:16, Gal. 3:26-27, 1Pet. 3:21). Selfs waar gesinne gedoop is, het hulle die evangelie gehoor, hulle bekeer, geglo, en die Heilige Gees ontvang (Hand. 2:39, 10:2, 24, 44, 47-48, 11:14-17, 16:31-34, 18:8). Nêrens in die Bybel is daar enige rekord van ongelowiges wat gedoop is nie.

Maar wat van die Ou Testament waar babas besny is om te wys dat hulle deel van God se volk is? Dit is die ou verbond. In die nuwe verbond word jy nie deur geboorte deel van die verbondsvolk nie. Jy word eerder deel deur wedergeboorte (Heb. 8:8-12). Net soos wat die besnydenis in die Ou Testament op geboorte gevolg het, volg die besnydenis van die hart (waarin die Heilige Gees ons sonde wegsny) en die doop in Nuwe Testament op wedergeboorte (Kol. 2:11-12).

Soos wat daar vrugwater is by geboorte, wys die water in die doop dat daar ‘n geestelike geboorte plaasgevind het, asook dat die Heilige Gees die persoon se hart skoon gewas het (Eseg. 36:25-27, Joh. 3:5). Hoe moet ‘n mens gedoop word? Die Griekse woord baptizõ beteken om te onderdompel [James Strong, Strong’s Hebrew and Greek Dictionaries: G907 (www.e-sword.net, 1890, Public Domain). Sien ook Thayer’s Greek Definitions (www.e-sword.net, 1886, 1889, Public Domain)]. Soos reeds gesê wys dit dat die persoon saam met Jesus begrawe is en opgestaan het (v.3-4). Wat beteken die bg. lering oor die doop prakties?

[a] Waar ‘n baba besprinkel word is daar geen geloof nie. Sy of haar doop illustreer ook nie ‘n begrafnis en opstanding saam met Jesus nie, en is dus nie die Nuwe Testamentiese doop van v.3-4 nie. Indien jy as baba besprinkel is, moet jy gedoop word. As jy dit doen word jy nie weer gedoop nie, maar reg gedoop volgens die Bybel.

Charles Spurgeon vertel van een van sy ouderlinge wat vier keer gedoop is. As baba het sy ouers hom laat besprinkel, maar hy was so siek dat die predikant dit nie volgens die nasionale kerk se Gebedsboek kon afhandel nie. Toe hy beter word, toe vat sy ouers hom terug om die doop af te handel. Die predikant het vir hom ‘n dogtertjie se naam gegee. Hulle het hom toe weer laat doop en ‘n seuntjie se naam vir hom gegee.

Toe hy groot word het hy tot bekering gekom en is hy gedoop. Spurgeon sê: ‘I baptized him after the Scriptural order; but the Church of England had made three attempts to baptize him, and had failed every time!’ [C.H. Spurgeon, Autobiography: The Early Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1962), 152].

[b] Indien jy as volwassene gedoop is sonder geloof, beteken dit niks. Wat help dit jy dat jy die teken het dat God jou skoon gewas het en dat jy een is met Hom, as jy nie die realiteit daarvan in jou hart ervaar het nie? Word gedoop.

[c] Party kerke onderdompel drie keer om uit te beeld dat Jesus vir drie dae in die graf was, asook dat die Een God in drie Persone bestaan. Ons onderdompel een keer om te wys dat Jesus een keer begrawe is en opgestaan het, asook dat ons in die een Naam van die Vader, die Seun, en die Heilige Gees gedoop word (v.3-4, Matt. 28:19). Indien jy drie keer onderdompel is en in Jesus geglo het toe jy dit doen, vereis ons nie dat jy weer gedoop moet word nie.

[d] Wat as die persoon wat jou gedoop het later die pad byster raak? Dit is nie die doper wat belangrik is nie (1Kor. 1:13-14). Die vraag is eerder of jy in die Drie-Enige God glo in wie se Naam jy gedoop word (Matt. 28:19)? As jy deur ‘n kultus gedoop is tel dit nie, omdat hulle jou in ‘n vals god se naam gedoop het. Jy moet gedoop word in die Naam van die ware God, terwyl jy Hom in geloof aanroep.

[e] Die doop maak jou nie een met God nie. God het jou reeds voor die skepping in Christus verkies. God reken sy Seun se perfekte lewe, kruisdood, opstanding en hemelvaart as joune (Ef. 1:3-14, 2:6, Kol. 3:3). Jy kan die voordele daarvan geniet deur die geloof (Rom. 3-4). Die doop illustreer hierdie eenheid. Moet dan nie soos party mense praat asof jy die doop nodig het om hemel toe te gaan nie (Ef. 2:8-9).

‘Maar die Bybel praat so,’ sê iemand. ‘Nêrens sê die Bybel dat die doop net ‘n teken is nie, en daarom moet ons meer daarvan maak.’ Eerstens wil ek sê dat die Bybel ook nie die nagmaal ‘n teken noem nie. Maar tensy jy ‘n Katoliek is, glo jy dat die nagmaal ‘n teken is. Dit geld ook vir die doop. Ek sal later hierop uitbrei.

Tweedens moet ons die konteks van die Bybel onthou. In ons tyd doop ons mense soms jare na hulle bekering. In die Nuwe Testament is mense op die dag van hulle bekering gedoop (Hand. 2:41). Iemand sou jou dus soos volg oor jou bekering vra: ‘Wanneer is jy gedoop?’ Hiermee het die persoon nie bedoel dat die doop jou red nie. Hy het eerder geweet dat jou doop en bekering op dieselfde dag gebeur het.

Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy sê dat ons een is met Jesus deur die doop (v.3). Die doop wys uiterlik wat in ‘n persoon se hart gebeur het.

Derdens wil ek sê dat ons inderdaad meer moet maak van die doop. Die doop red nie, maar dit is ook nie opsioneel of onbelangrik nie. Dit is ‘n teken van ons eenheid met Jesus, maar dit is ook meer as dit. Net soos die nagmaal versterk dit jou geestelik as jy in die geloof daaraan deelneem. Dit doen iets vir jou siel. Die Bybel sê:

“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” (Hand. 2:38).

“Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” (Hand. 22:16).

In konteks van doop en bekering op dieselfde dag sê Petrus dat “die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus” (1Pet. 3:21).

Dit is nie die doop wat red nie, maar Jesus. En tog glo ek dat Douglas Moo reg is wanneer hy sê: ‘…I think if Paul had ever been asked about an “unbaptized believer”, he would have responded: “Well, yes, such a person is saved, but why in the world isn’t she baptized?”’ [Douglas Moo, The NIV Application Commentary: Romans (Grand Rapids: Zondervan, 2000), 206].

Anders as die evangelie is die doop nie die heel belangrikste nie (1Kor. 1:17). En tog veronderstel die Nuwe Testament dat elke gelowige sy eenheid met Jesus se kruisdood en opstanding sal uitbeeld in die doop (v.3-4). Waarom huiwer jy dan nog om gedoop te word?

Gebruik jy die verskoning dat die Heilige Gees jou eers daarvan moet oortuig? Het Hy dit dan nie duidelik genoeg uitgespel in die Skrif nie? As jy tot op hede nie die Bybelse lering oor die doop verstaan het nie, kan jy nie meer onkunde pleit nie. Jy moet op een van die volgende maniere reageer:

  • Glo die evangelie, bekeer jou en word gedoop.
  • Jy moet jou kinderdoop of sg. ‘groot doop’ sonder geloof as ongeldig verwerp en gedoop word volgens die riglyne van die Nuwe Testament.
  • Sê dankie dat jy die evangelie glo, gered is en gedoop is.

 ‘n Prediker in die buiteland was moedeloos oor die dronkenskap en seksuele losbandigheid in sy gemeente. In een jaar het hy 20 mans begrawe. Hy het voor die Here gehuil. Die volgende jaar toe doop hy 200. John MacArthur het in een aanddiens 90 mense gedoop. Die apostels het op een dag 3000 nuwe bekeerlinge gedoop (Hand. 2:41).

Ek verlang na die dag wanneer die Here baie mense sal red, en hulle volgens v.3-4 deur die doop sal bely dat hulle saam met Jesus gesterf het en saam opgestaan het in ‘n nuwe lewe.

Nominale Christenskap

Nominal Christianity

Nominale Christenskap beteken dat iemand ‘n Christen in naam is, maar dat sy of haar lewe nie anders is as die wereld s’n nie. Sulke mense beskou hulleself as Christene omdat hulle kerk toe gaan of êrens op ‘n kerk se lederol is.

Maar as dit ons definisie van Christenskap is, is 75% van ons land se bevolking Christene. Baie Afrikaners se definisie van wat dit beteken om ‘n Christen te wees is nie só wyd nie. In hulle gedagtes is ‘n Christen iemand wat kerk toe gaan en die basiese Christelike waarhede bely: die Drie-Eenheid, die Persoon en werk van Christus, die Bybel as die Woord van God, ens.

Ander sal byvoeg dat jy ‘n ervaring van God moet hê. Party sal sê jy moet ‘n dag en datum van bekering hê. Volgens party moet jy gedoop wees en voorgestel en aangeneem word. Maar selfs al reken ons dan net Protestante, Pinkster- en Charismatiese kerke in, is daar nog steeds ‘n goeie 50% of meer ‘Christene’ in ons land.

Ongelukkig is dit ‘n Utopiese droom. In die eerste plek sou Suid-Afrika se moraliteit nie so sleg gelyk het as 50-75% van ons land se mense Christene was nie. Ten tweede sou jy nie groot getalle mense op kerke se lederolle hê, met minder as die helfte van hulle in die kerk, by bidure en Bybelstudies nie. Na my mening is daar twee groot sondebokke vir hoekom daar so baie nominale Christene in ons land is.

 

[a] Charles Finney (1792-1875) se invloed op die kerk

Finney het geglo dat ‘n sondaar wat op ‘n uitnodiging reageer, berou toon en die sondaarsgebed opsê, gedoop moet word en gered is [Iain Murray, Revival and Revivalism, Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994]. Sy idees lê vandag nog wyd verspreid. Vat bv. die Southern Baptist Convention (SBC) in Amerika. Hulle het 16 miljoen lidmate, waarvan 10 miljoen nie op ‘n gegewe Sondag in die kerk is nie. Hoekom is dit so? Dit is grootliks a.g.v. wat hulle oor wedergeboorte en die kerk glo.

Ek ken ‘n afgetrede leraar wat by Southern Seminary in die V.S.A. studeer het. Hy het ons vertel van ‘n veldtog wat die SBC in 1953 geloots het. Die veldtog se naam was a million more by ’54. Die doel was om binne ‘n jaar ‘n miljoen mense by die SBC se Sondagskole te voeg.

Toe die jaar naby sy einde kom was daar nie die gewenste miljoen nie. Binne die laaste paar maande van 1953 het die SBC honderde duisende mense gedoop. Ek het nie die presiese feite nie, maar die beginsel is swak en het die SBC met nominale Christene gevul.

 

[b] Die kinderdoop

As die kerk ‘n baba doop word hy ‘n dooplidmaat en beskou hulle hom as deel van die verbond waarin die Here sy God is. Ek was eenkeer by ‘n kinderdoop waar die ds. vir die gemeente gesê het dat die kind se naam nou in die boek van die lewe is.

As ‘n kind op 17 sy katkisasie (Sondagskool) voltooi lê hy belydenis van geloof af, en word hy as belydende lidmaat van die gemeente voorgestel en aangeneem.

Die kinderdoop het reeds vroeg in die geskiedenis ontstaan en was teen die vierde eeu ‘n wydverspreide en algemene praktyk [N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, London: Grace Publications Trust, 1997]. In die eeue wat gevolg het, het die evangelie na heidense volke toe versprei. Konings het tot bekering gekom en hulle onderdane met geweld gedwing om Christene te word.

‘Word gedoop of sterf!’ het Noorweë se koning, Olaf Tryggvason (995-1000), bv. vir die mense in sy paleis gesê. Uit die aard van die saak het hulle die doop bo die swaard gekies en sodoende deel van die kerk geword. Hulle kinders is ook gedoop. Waar groot dele van die land by die kerk aangesluit het, het dit as ‘n Christelike bekend gestaan [Needham, Ibid., Part 2, 145. Sien ook Leonard Verduin se boek, The Reformers and their Stepchildren].

Omtrent 500 jaar later het die hervormers hierdie tradisie gevolg. Hulle doopteologie het die hele Europa beïnvloed, wat op sy beurt in die 17de eeu Suid-Afrika toe gekom het. Vandag nog hou mense aan hierdie tradisie vas, en neem hulle aan dat hulle gedoopte kinders hemel toe gaan. Baie van hierdie kerke en ouers deel nie die evangelie met hulle kinders nie, omdat hulle aanneem dat hulle kinders gered is.

Die Jode in Paulus se tyd was so. Hulle het gedink dat hulle en hulle kinders reg is met God, omdat hulle besny is. Dit is die kwessie wat Paulus in Rom. 4:9-12 aanspreek. Kom ons bekyk die verse van nader en pas dit dan toe op die nominale Christenskap in ons eie konteks.

 

  1. ‘n Oorsig oor die teks

Prof. Hennie Stander het vir ons Grieks gegee toe ek op Sem was. Hy het eendag vir ons gesê om Mark. 16:16 uit die Grieks vertaal. Ons het dit soos volg vertaal: ‘Hy wat glo en gedoop is, sal gered word. Maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.’

Ons vertaling het geïmpliseer dat ‘n mens tot geloof kan kom nadat hy gedoop is. Prof. Stander het gemaak of hy uit die klas uit hardloop om vir die rektor te sê dat sy Baptiste studente Mark. 16:16 soos kinderdopers vertaal.

Volgens kinderdopers wys Rom. 4:9-12 duidelik dat ‘n mens gedoop kan word voor of na hy tot geloof gekom het: ‘Waar ‘n rou heiden tot bekering kom moet hy gedoop word na hy tot geloof kom. Maar sy kinders moet gedoop word voor hulle tot geloof kom.’

Maar dit is nie waaroor die verse handel nie. Rom. 4 gaan eerder oor die besnede Jode wat nie outomaties reg is met God nie. Regverdigmaking is vir die onbesnede heidene en die besnede Jode wat glo (v.9-12). Dit is dus nie die besnydenis wat tel nie, maar wedergeboorte en geloof wat lei tot ‘n lewe van gehoorsaamheid. Dit is Paulus se punt (vgl. 1Kor. 7:19, Gal. 5:6, 6:15).

As die Jode deur die besnydenis reg is met God, maak Gen. 15:6 nie sin. Volgens hierdie vers het God Abraham regverdig verklaar deur die geloof. Dit het gebeur 14 jaar voordat hy in Gen. 17 besny is (v.9-11, Gen. 12:4, 15:6, 16:3, 16, 17:1). Die besnydenis was die teken dat God die sonde uit sy hart gesny het (v.11, Deut. 30:6). Dit was ook die seël dat God hom regverdig verklaar het, en dat hy aan die Here behoort het (v.11).

So het hy die vader geword van elkeen wat glo en nié besny is nie. Hy is m.a.w. die vader van die onbesnede heidene wat in Jesus glo (v.11, 2:25-29, Gal. 3:6-9, 16, 29). Maar hy is ook die vader van die besnede Jode wat glo (v.12). Die Jode is nou wel uit Abraham se bloedlyn (v.1), maar sy geestelike kinders is net dié mense wat in sy voetstappe van die geloof volg (v.12).

As ons sê dat iemand op grond van sy doop reg is met God (hetsy die kinderdoop of gelowige doop), dan vul ons die kerk met ongelowige lidmate en nominale Christene. Wat is die gevolg hiervan?

 

[a] Mense het vals sekerheid van redding

Dit is makliker om ‘n prostituut vir Jesus te wen as ‘n nominale, gedoopte lidmaat. Die prostituut weet darem sy is verlore. Maar die nominale lidmaat glo dat alles reg is tussen hom en die Here. Hy dink dat hy nie die evangelie nodig het nie.

 

[b] Die kerk word soos die wêreld en het ‘n slegte getuienis

Hoe sal ons die wêreld wen as ons soos hulle is: onheilig, skelm in ons besigheid, dronk, vuil monde, seksueel losbandig, gay, ens.?

 

[c] Ongelowiges word predikante en mislei mense

‘n Leraar wat nie weer gebore is nie, kan nie vir ander gee wat hy self nie het nie. Hy verstaan nie die Skrif nie (1Kor. 2:14). Hoe kan hy dan die evangelie van verlossing preek en ‘n voorbeeld wees van hoe verloste mense moet lewe?

 

[d] Ongelowiges word ouderlinge en diakens wat op vergaderings baklei

As jy ‘n verkeerde leierskap in die kerk het is dit nag – jy het jare se probleme.

 

[e] Mense dra nie by vir die kerk en vir sendingwerk nie

Sulke mense se harte is toe vir God se werk. Terwyl hulle uiteet, duur karre ry en in mooi huise bly, gee hulle R100 of R200 vir die kerk. Gevolglik moet die kerk ‘n basaar hou en vir hulle ‘n pannekoek in die hand stop om hulle geld te kry.

 

  1. ‘n Misverstaan van die teks

In ons gemeente sing ons ‘n lied wat uit die kinderdoop tradisie kom. Dit is ‘n mooi lied, maar ons moes ‘n reëltjie verander omdat dit onbybels is. Die lied sê: ‘My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort…’ Daarmee het ons nie ‘n probleem nie.

Die probleem kom in by die tweede vers: ‘Die doop is die seël dat die Heilige Gees my ‘n kind van God die Vader laat wees…’ Daarmee is alles verkeerd en moes ons ‘seël’ na ‘beeld’ verander.

Die Bybel sê nooit dat die doop ‘n seël van ons redding is nie. Die Heilige Gees is die seël om te wys dat ons aan God behoort (2Kor. 1:22, Ef. 1:13, 4:30). Die doop illustreer dit net.

Waar kry die mense wat hierdie lied geskryf het dan hulle idees vandaan? Hulle kry dit in Rom. 4:11 waar Paulus die besnydenis ‘n seël noem. Dit was egter nie ‘n seël vir elke Jood nie, maar die seël van Abraham se geregtigheid wat hy jare tevore reeds deur die geloof ontvang het.

Maar selfs al was dit ook die seël dat almal in Abraham se nageslag God se volk is, praat Paulus hier van die besnydenis en nie die doop nie. ‘Maar doop vervang dan die besnydenis,’ sê iemand. Waar leer Bybel dit? Daar is een teks wat dit so laat klink, maar as jy dit noukeurig lees sal jy sien dat dit juis nié oor die besnydenis van die liggaam gaan nie. Paulus koppel eerder die doop aan die besnydenis van die hart (Kol. 2:11-12).

Iemand wat die doop in Rom. 4 inlees, maak dat Paulus onsin praat. As Abraham die vader van die besnede Jode en onbesnede heidene is, moet ons sê dat dit nie saakmaak of jy as baba gedoop is en of jy glad nie gedoop is nie.

Maar dit bots met Matt. 28:19 waar die doop ‘n opdrag is en aan dissipels bedien moet word. Vir die meeste kerke is dit nie ‘n probleem nie, omdat hulle dadelik byvoeg dat ons ook gelowiges se kinders moet doop: ‘Hulle is immers kinders van Abraham en deel van die verbond.’

Maar waar los dit gedoopte kinders wat nooit tot bekering kom nie? Kan die ds. regtig by hierdie kind se doop sê dat hy of sy deel is van die verbond en ‘n kind van Abraham (soos ons in die lawwe Sondagskool liedjie gesing het)? Volgens Paulus in Rom. 4:9-12 is gelowiges kinders van Abraham.

‘Maar wat van die huishoudings wat in Handelinge gedoop is?’ wil iemand weet. Waar ‘n gesin in Handelinge gedoop is het dieselfde gesin ook in Jesus geglo en is hulle geroep, gered, en het hulle die Heilige Gees ontvang (Hand. 2:39, 10:2, 24, 44, 47-48, 11:14-17, 16:31-34, 18:8).

In die een geval waar die teks onduidelik is, sê die verse nie vir ons of daar babas was of nie (Hand. 16:14-15). Oral waar die Skrif van die doop praat is dit gelowiges wat gedoop word (Matt. 28:19, Mark. 16:16, Hand. 2:38, 8:12, 35-38, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 31-34, 18:8, 22:16, Rom. 6:3-4, Gal. 3:26-27, Kol. 2:11-12, 1Pet. 3:21).

Rom. 4 gaan nie oor die doop nie, maar mense pas dit so toe. Ek probeer eenvoudig om te wys dat die kinderdoop nie in die Nuwe Testament voorkom nie, dat dit onbybels is, en dat dit nominale Christenskap bevorder. Die doop van gelowiges is Bybels, maar is net so gevaarlik as jy dit met wedergeboorte verwar en dink dat jy daardeur reg is met God.

Ondersoek jouself eerder om te sien of jou hart besny is. Het God jou met sy Gees verseël? Is jy ‘n nuwe skepping? Of is jy ‘n nominale Christen wat vir jouself lewe? Dagdroom jy voortdurend oor jouself? Roem jy in jouself? Bejammer jy jouself as mense jou nie raaksien nie? Is jou Christenskap bloot uiterlik: jy is gedoop, gaan kerk toe, lees jou Bybel en bid? Of gaan dit vir jou daaroor dat jy die Here moet liefhê? Gaan dit oor ‘n verhouding met God, oor ‘n lewe wat van binne af nuut is, en oor uiterlike dade wat daarby pas?

Dink jy anders as die wêreld m.b.t. God, jou lewe, ander mense, sonde, kerk, die Bybel, media, vermaak, die huwelik, geld, musiek, ens.? Wys die manier waarop jy die lewe benader jy is anders? Was jou doop ‘n uiterlike aksie van iets wat in jou hart plaasgevind het? Het jy al die innerlike realiteit van wedergeboorte ervaar?

Verstaan jy wat Jesus se kruisdood beteken? Berus jy jouself en jou lewe op Hom en sy kruisdood alleen? Is Jesus en sy kruisdood vir jou kosbaar? Is dit die belangrikste ding in jou lewe?

Ek sal maklik hande vat met ‘n kinderdoper soos George Whitefield wat passievol was oor Jesus en sy kruisdood. Ek sal dit enige dag kies bo ‘n Baptis wat ‘n goedkoop evangelie preek waarin hy honderde mense doop en nominale Christene maak. My lojaliteit lê immers nie eerste by die Baptiste nie, maar by Jesus Christus en Hom as die gekruisigde (1Kor. 2:2).

Wat verwag die Here van jou?

Oor bekering, doop en kerklidmaatskap

baptism-and-membership

Dit is aaklig om nie te weet wat jou baas, afrigter, familielid of onderwyser van jou verwag nie. Dit voel alewig asof hulle kwaad is vir jou.  ‘Het ek dit reg gedoen?’ wonder jy.  Maar jy weet nie, omdat hulle nie vir jou sê nie.  Gelukkig is die Here nie so nie:  Hy sê presies wat Hy van jou verwag.  In Hd.2:37-41 sê o.a. wat Hy van jou verwag m.b.t. bekering, die doop en kerklidmaadskap.

 

Die Jode se vraag (v.37)

Het jy al ooit ‘n preek gehoor waarin dit vir jou gevoel het of die Here net met jou praat?  Was dit dalk ‘n preek waarin die Here jou hart blootgelê het, sodat dit vir jou gevoel het of iemand vooraf vir die prediker van jou situasie vertel het?  Ek het al so ‘n preek gehoor.

 

En in Hd.2 het Petrus se hoorders so ‘n preek gehoor. Sy woorde het soos ‘n mes in die Jode se harte ingesny (v.37).  ‘Julle het Hom gekruisig,’ het hy in v.23, 36 vir hulle gesê.  Die Gees wat in v.1-3 uitgestort is het hulle daarvan oortuig dat hulle die Here en langverwagte Messias gekruisig het (Jh.16:8, 1 Kor.2:8).  Nou wou hulle dinge reggemaak het, maar hulle het nie geweet hoe nie.  Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra:  ‘Wat moet ons doen, broers?’ (v.37).

 

Petrus se antwoord (v.38-39)

As ‘n sportspan baie goed is, is daar min mense wat ‘n neutrale gevoel teenoor hulle het: òf jy hou baie van hulle, òf jy haat hulle.  En hoeveel te meer is dit nie so m.b.t. Jesus nie?  Jy kan nie neutraal wees teenoor die ware Jesus van die Bybel nie:  as jy nie vir Hom is nie, is jy teen Hom (Mt.12:30).

 

Dít is wat Petrus in hierdie verse onder die Jode se aandag wou bring. Daar was net een manier vir hulle om reg te wees met God:  hulle moes hulle bekeer het – veral daarvan dat hulle die Messias verwerp en gekruisig het (v.38, 22-36).  Hulle moes geglo het dat Jesus se wonderwerke, kruisdood en opstanding bewys het dat Hy die Messias is (v.22, Ps.16, 22, 110, Jes.35, 53, 61).  As hulle hulle bekeer het, sou Hy hulle op grond van hierdie selfde kruisdood vergewe het (v.38, Lk.24:47).

 

Saam met die bekering en vergifnis het die doping met die Gees gegaan. Dié wat hulle bekeer het, sou ook onmiddellik die gawe van die Heilige Gees ontvang het (v.38, 1:5).  “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” (Rm.8:9).  Sonder die Heilige Gees kan ons nie Christus se nuwe lewe in ons hê nie (Tit.3:5-7).  Dit is ook deur Hom wat Christus ons in die gemeente inlyf (1 Kor.12:13).

 

Om hierdie bekering, vergifnis en doping met die Heilige Gees uit te beeld, moes die Jode in die Naam van Jesus Christus met water gedoop word (v.38, 10:47, 22:16). Dit is nie dat die doop iets tot hulle redding bygedra nie (Ef.2:8-9).  In die tyd van die Nuwe Testament is mense gedoop op die dag wat hulle tot bekering gekom het (v.41).  Daarom het Petrus bekering, die doop, vergifnis en doping met die Heilige Gees in een pakkie toegedraai (v.38).

 

Jesus se belofte van die Heilige Gees (Jh.14, 16) was nie net vir die Jode in Petrus se tyd nie, maar ook vir hulle kinders en vir die heidene wat in ver lande gebly het (v.39, 22:21, Jes.44:3, 59:19, Ef.2:11-13). Die Gees sou na dié toe gekom het wat die Here na Homself toe geroep het.  Hulle sou sy roepstem in hulle harte gehoor het:  ‘Staan op uit die graf van jou sonde; maak jou blinde oë oop om die waarheid van Jesus se kruisdood en opstanding te sien!’ (v.39, Joël 2:32).

 

Petrus se pleidooi (v.40)

Hiper-Calviniste glo dat ‘n mens nie vir ongelowiges mag sê om hulle te bekeer en in Jesus te glo nie, omdat hulle dit nie uit hulleself uit kan doen nie. Maar om so te redeneer is nie Bybels nie.

 

In v.39 het Petrus gesê dat God mense na Homself toe sal roep, en in v.40 het hy gesê dat die ongelowige Jode hulleself van die Here se oordeel moet red.  Daarmee het hy nie bedoel dat die krag om gered te word in onsself lê nie, maar eerder dat ons ‘n verantwoordelikheid het om na die Here toe te draai.

 

Petrus het van die opstanding en van Jesus se Messiaskap te getuig (v.40, v.32, 1:22, 3:15, 4:33, 9;22, 10:40-43, 18:28, 28:23). Hy het nie maar net die koue feite weergegee nie, maar het by die Jode aangedring om hulle te bekeer (v.39).  Die Here sou hulle in 70 n.C. geoordeel het (v.39, 19-20).  Om hulleself van hiervan te red, moes hulle van daardie bose geslag af weggedraai het (v.39, vgl. Dt.32:5, Fil.2:15) en die Naam van die Here Jesus aangeroep het (21, Joël 2:32, Rm.10:13).

 

Die Jode se reaksie (v.41)

Spurgeon het van ‘n sekere Mary Bailey vertel wat 50 jaar na haar bekering eers gedoop is. Spurgeon se reaksie hierop was soos volg:  ‘…it is to be hoped that none will imitate her by postponing the confession of their faith in Jesus for so long a time.  She lived half a century in disobedience to her Lord…’[1]  Die psalmis het gesê:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou” (Ps.119:160).

 

In v.41 sien ons hoe die Jode wat tot bekering gekom het, dadelik gedoop is en by die gemeente gevoeg is. Die Griekse passief wys dat hulle nie hulleself bygevoeg het nie – die Here het dit gedoen (v.41, 47).  Volgens Lukas is daar omtrent 3000 mense by die gemeente gevoeg (v.41).  Dit blyk dan dat hulle rekord gehou het van hoeveel lidmate daar was (vgl. 4:4).

 

Sommige dink dat daar nie genoeg tyd en water was om 3000 mense te doop nie, en dat Lukas oordryf het. Maar as al die apostels gehelp het, kon elkeen van hulle 250 mense gedoop het.  En as 1:15 se 120 dissipels gehelp het, kon elkeen van hulle 25 mense gedoop het.  Wat die hoeveelheid water betref sê John MacArthur dat argeoloë groot mikvahs of doopfonte in Jerusalem ontdek het.  Die Jode het dit in hulle reinigsrites gebruik.[2]

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Wat verwag die Here van jou?  Volgens v.41 lyk die volgorde só:  jy moet die evangelie glo en jou bekeer, gedoop word, en by die gemeente aansluit.  Jy kan nie volgorde omruil of een van die opdragte uitlos nie.  Jy kan nie gedoop word of ‘n lidmaat word, as jy nog nie gered is nie.  Jy kan nie die evangelie glo, en dan weier om jou te laat doop en by die gemeente aan te sluit nie.  Jy kan ook nie by die gemeente aansluit as jy nie gedoop is nie.  Watter een van hierdie dinge moet jy nog doen; watter een stel jy uit?

 

[1] Het jy nog nie die evangelie in jou hart ontvang en jou bekeer nie? Wat verhinder jou?  Erken dat jy teen die Here gesondig het, omdat jy vir jouself gelewe het en nie ‘n God oor jou wil hê wat vir jou sê hoe jy moet lewe nie.  Bely dat jy vir jouself ‘n god geskep het wat net liefde is, omdat jy nie van sy heilige oordele hou nie.  Bekeer jou van die dinge waaroor jou gewete jou pla, en selfs van die dinge wat jy al so baie gedoen het, dat dit jou nie meer pla nie.

 

Glo dat Jesus se kruisdood vir sondaars voldoende is om jou sonde weg te was. Glo dat Hy uit die dood uit opgestaan het en vertrou Hom om jou te red.  Glo dat sy liefde opreg is en dat Hy jou redding begeer.  Hoop geheel en al op Hom om jou te verlos, net soos wat jy op die grond onder jou voete vertrou om jou gewig te dra.  As jy hierdie liefdevolle Christus leer ken, sal jy nie anders kan as om Hom lief te hê en te doen wat Hy vir jou sê nie – jy sal wil.

 

[2] Het jy al tot bekering gekom, maar dit nog nie openlik in die doop bely nie? Die Here wil hê jy moet gedoop word; dit is nie opsioneel nie (v.38, 10:48, Mt.28:19).  “En wat noem julle My:  Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lk.6:46).  Wat beveel die Here aangaande die doop?

 

Gelowiges, en nie babas nie, moet gedoop word (v.38, 41, 8:12, 9:18, 10:47-48, 16:14-15, 30-33, 18:8, 19:1-6, 22:16, Mt.28:19, Mk.16:16, Rm.6:3-4, 1 Kor.1:2, 14-16, Gal.3:26-27, Ef.4:5, Kol.2:11-13, 1 Pt.3:21). Ek weet dat daar besware teen die Baptiste se siening van die doop is.  Laat my toe om hulle een vir een te beantwoord.

 

Beswaar #1: ‘Die verbond vereis dat gelowiges se kinders gedoop moet word.’

 

Antwoord: Mense wat dit sê verstaan nie die verbond nie.  In die Ou Testament het ‘n mens deur geboorte deel geword van God se uitverkore volk.  Om te wys dat ‘n kind deel gehad het aan God se verbond met Israel, is hy op 8 dae besny.

 

Om deel te hê aan God se nuwe verbond met die kerk moet ‘n mens geestelik gebore word en gedoop word as ‘n illustrasie daarvan. Soos wat besnydenis onder die ou verbond op fisiese geboorte gevolg het, moet die doop onder die nuwe verbond volg op wedergeboorte.

 

Beswaar #2: ‘Kol.2:11-13 sê dat die doop die besnydenis vervang, en omdat dit so is moet babas gedoop word.’

 

Antwoord: Paulus sê nie hier dat die doop die besnydenis vervang nie, maar hy praat van mense wie se harte besny is (m.a.w. hulle is weergebore).  Hulle was geestelik dood, maar deur hulle geloof in Jesus is hulle opgewek en lewe hulle nou saam met Hom.  Volgens Paulus is dit húlle wat gedoop moet word.

 

Beswaar #3: ‘Maar wat van die tekste wat praat van huisgesinne wat gedoop is:  kan ons nie hieruit aflei dat daar babas was nie?’

 

Antwoord: Nee, want die tekste sê dit nie.  Eintlik sê die meeste van hierdie tekste vir ons dat die gesinne wat gedoop is, nie babas in gehad het nie.  Cornelius en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die Here gevrees, die Gees ontvang en tot bekering gekom (10:2, 44, 47-48, 11:14-15).  Die tronkwag en sy huisgesin is gedoop, maar hulle het ook almal die evangelie gehoor, geglo en hulle daarin verbly (Hd.16:30-34).  Stefanas en sy huisgesin is gedoop, maar hulle was ook die eerste bekeerlinge in Achaje en het getrou in die kerk gedien (1 Kor.1:16, 16:15).

 

Beswaar #4: ‘Wat van 1 Kor.7:14 wat sê dat die kinders deur hulle gelowige ouers geheilig word?’

 

Antwoord: Die woord ‘heilig’ beteken om af te sonder.  Al wat die teks sê is dat gelowige se kinders deur die Here afgesonder word om in ‘n huis te bly waar hy of sy die evangelie kan hoor.  Die teks sê ook dat die ongelowige party in ‘n huwelik deur die gelowige party geheilig word.  En as die kinders gedoop moet word, moet die ongelowige huweliksmaat ook gedoop word.

 

Beswaar #5: ‘Maar het Jesus nie in Mt.19:14 gesê dat ons nie die kindertjies moet verhinder om na Hom toe te kom nie?’

 

Antwoord: Ja, maar Hy het nie gesê dat ons hulle moet doop nie.

 

Beswaar #6: ‘In v.39 sê Petrus dat die belofte vir die Jode en hulle kinders is.’

 

Antwoord: Volgens v.38 verwys die belofte nie na die doop nie, maar na die Heilige Gees.  En volgens die res van v.39 is die gawe van die Heilige Gees slegs vir dié wat die Here na Homself toe roep, vir dié wat tot bekering kom.  Die kinders in v.39 verwys dan nie na babas nie, maar na die Jode se nageslag wat in Christus glo (vgl. ‘seuns en dogters’ in v.17).

 

Die opdrag is dan duidelik: as jy jou bekeer het en in Jesus geglo het, moet jy gedoop word.  Dit geld nie net vir party mense nie, maar vir almal (v.38) – en jy is nie die uitsondering op die reël nie.

 

[3] Het jy al tot bekering gekom en jouself laat doop, maar nog nie by ‘n gemeente aangesluit nie? Volgens v.41 het die Here mense by die gemeente gevoeg.  Moet dan nie van die gemeente af wegbly as jy dit kan help nie.  Moet ook nie nalaat om by ‘n goeie gemeente aan te sluit en jouself so aan Jesus en sy liggaam te wy nie.

 

Let asseblief op dat die Here mense by die gemeente gevoeg het (v.41, 47).  Geen ‘kerkraad’ of gemeentevergadering mag aan sy vereistes peuter of verander nie.  Daarom kan ons nie van iemand ‘n lidmaat maak as hy of sy ongered of ongedoop is nie (v.41).

 

Joel Beeke is ‘n predikant in Amerika. Hy het eenkeer sy hart by sy ouer vriend uitgestort en vir hom gesê:  ‘Ek voel ontmoedig; die mense in die gemeente het my lief of hulle haat my – niemand staan neutraal nie.’  Sy vriend was in ekstase:  ‘Wonderlik!’ het hy gesê.  ‘Dit wys dat jy besig is om deur te dring!’

 

Ek wil mooi vra dat jy nie vandag neutraal sal staan nie, maar dat jy ‘n besluit sal neem. Bekeer jou, word gedoop en sluit by die gemeente aan.  Om neutraal te bly is om vir Here te sê:  ‘Ek gaan nie doen wat U van my vra nie.’

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.146

[2] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Acts 2:41

Vergete voorregte

Forgotten treasure

Gert sukkel om deur die maand te kom en weet nie waar hy die res van maand se kos, petrol- en huurgeld gaan kry nie.  Skielik onthou hy van sy e-bucks kaart wat al vir ‘n paar jaar opgeloop het.  Daar is R15 000 op die kaart.  Hy het skoon van dié voorreg vergeet.  So is dit met ons.  Ons vergeet dikwels watse voorregte ons in Jesus het, en laat na om dit te gebruik.  Daarom is dit nodig vir ‘n herinnering soos Hebreërs 10:19-25.

Omdat Jesus… (v.19-21)

Archie en Chris was boemelaars wat na ons kerk toe gekom het.  My vriend het beide van hulle gehelp om ‘n werk te kry.  Chris het selfs ‘n kar en ‘n woonstel gekry.  Na ‘n paar maande het hulle alles net so gelos, weer begin drink, en teruggegaan straat toe.  Baie gelowiges is so.  Jesus gee vir hulle nuwe lewe, vergifnis, die gemeenskap van gelowiges, en ‘n oop weg deur die Woord en gebed.  Tog minag en versaak hulle dié voorregte.

Jesus het ons sonde weggevat (v.1-18).  Daarom kan ons sonder vrees en met vrymoedigheid in die heiligdom ingaan (v.19, 4:16).  In die Ou Testament kon net hoëpriester een keer per jaar in die heiligdom ingaan (9:3, 7).  Toe Jesus dood is het sy Vader die tempelgordyn geskeur, en daarom het ons nou vrye toegang tot God (6:19, Matteus 27:51).  Ons kom nie meer op die ou weg van offers na God toe nie.  Deur sy bloed het Jesus ‘n nuwe weg vir ons oopgemaak.  Hy self is die weg wat na die lewe toe lei (v.19-20,  Johannes 10:9, 14:6).  Jesus is nie net die offer nie, maar ook die groot priester en Hoof oor die huis van God, die kerk (v.21, 4:14, Efesiërs 1:22, 1 Timoteus 3:15).

Laat ons… (v.22-25)

Henk is 34.  Hy is lojaal en werk hard, maar verdien R4000 per maand en het nie ‘n kar nie.  Sy pa is ‘n biljoenêr en is baie lief vir hom.  Hy sê:  ‘Henk, kry my Maandag by die bank en daarna by die Mercedes garage.  Ek wil vir jou ‘n bankrekening oopmaak en R100 000 per maand gee.  Ek sal ook vir jou ‘n C-Klas Mercedes koop.’  Henk voel skaam om sy pa se aanbod aan te neem.  Hy daag dus nie op by die bank of die Mercedes garage nie.  Sy pa herhaal gedurig die aanbod, maar Henk hou aan wegbly.

Is jy so met God?  Hy is jou Vader en bied aanhoudend alles vir jou aan in Jesus, maar jy gryp dit nie aan met beide hande nie?  Dis om dié rede wat ons mekaar gedurig moet herinner aan die drie opdragte in v.22-25.

Omdat ons ‘n soenoffer en Hoëpriester het (v.19-21), laat ons vrymoedig tot God nader (v.22), aanhou om dit te doen (v.23), en mekaar gereeld herinner om dit te doen (v.24-25).  Moenie bang wees, sodat jy op ‘n afstand bly staan nie (Eksodus 20:18).  Deur geloof in Jesus is elke gelowige ‘n priester en kan ons vrymoedig tot God nader (v.22, Efesiërs 2:13).

Kom met ‘n rein en opregte hart:  jou gewete met Jesus se bloed besprinkel en jou liggaam gewas met rein water (v.22).  Hierdie beeld kom uit die Ou Testament.  Toe Moses die priesters vir diens afgesonder het, het hy bloed op hulle gesprinkel en hulle met rein water gewas (Levitikus 8:6, 30).  Let ook op dat water en bloed uit Jesus se sy gevloei het toe Hy dood is (Johannes 19:34).  Die bloed waarmee Hy ons besprinkel, verwys na sy eie bloed (v.22, 19, vgl. 9:14, Petrus 1:2).  Die water verwys na die innerlike reiniging van die Gees deur weergeboorte.  Die Skrif sê:

  • “Jesus antwoord:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” (Johannes 3:5).
  • “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” (Esegiël 36:25-27).
  • “Hy [het] ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).
  • Efesiërs 5:26 sê dat Jesus die kerk “gereinig het met die waterbad deur die woord”.
  • “julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (1 Korintiërs 6:11).

Weergeboorte word uitgebeeld in die doop.  Daarom sê v.22 ons liggaam is gewas met rein water.  “En nou, waarom versuim jy?  Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”(Handelinge 22:16).  In die eerste eeu is Christene onmiddellik na hulle bekering gedoop, en nie jare daarna nie.  As ‘n Christen dus in die doopwater tot God geroep het, het God Hom geantwoord, sy sondes vergewe, sy gewete gereinig.  Daarom sê Petrus dat “die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus” (1 Petrus 3:21).

Hou vas aan die hoop van die hemel.  Moenie begin twyfel nie, maar glo dat God getrou is en sy beloftes sal hou (v.23, 4:14, Titus 1:2).  Spoor mekaar aan tot liefde en goeie dade (v.24, 3:13, Titus 3:8).  Moenie die samekomste van die gemeente misloop soos sommige die gewoonte het nie, want dit is juis dáár wat ons mekaar aanmoedig om nie op te gee nie (v.25).  Die vroeë Christene het hulleself aan dié samekomste toegewy (Handelinge 2:42).  Jesus self het dit ‘n gewoonte gemaak om weekliks in die sinagoge te wees (Lukas 4:16).  As ons gedurig aan die oordeelsdag dink, sal ons mekaar aanspoor om nie van die kerk af weg te bly nie, maar om te volhard (v.25).

Kom deur die oop gordyn.  Hoekom sal jy buite die hemel bly as die weg oop is?  Kom in deur geloof in Jesus en die evangelie.  Jesus is ‘n heilige God.  Jy is ‘n onheilige sondaar.  Hy sal jou nooit in sy teenwoordigheid toelaat nie.  Jou sonde moet eers vergewe word; jou hart moet skoongewas word.  Om dié rede het Jesus die perfekte lewe geleef wat jy nie kon nie, en die straf gekry wat jy verdien het.  Hy het uit die dood uit opgestaan.  Om ‘n opregte hart en skoon gewete te hê moet jy jou sondes bely, jou daarvan bekeer, en in Jesus glo.  Wys dan ook deur die ‘skoon water’ van die doop dat jou hart gereinig is.

Is jy ‘n ou gelowige wat geestelik verflou het?  Het jy vergeet van die voorreg van jou hemelse hoop, sodat jy nie meer baie aan die hemel dink nie?  Het jy vir geld en die plesier van hierdie wêreld begin lewe?  Het jy begin twyfel?  Hou vas aan die hoop, volhard tot die einde, en glo God se beloftes.  Moenie nóú uitsak en alles verloor nie.  “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.” (2 Johannes 8).

Elke Ou Testament gelowige en priester sou bly gewees het as hulle enige tyd in God se teenwoordigheid kon inkom.  Jy kán enige tyd na God toe kom, maar bly maklik weg deurdat jy biddeloos is, nie jou Bybel lees nie, en ontrou is om kerk toe te kom.  Moenie so lewe nie, maar bekeer jou.  Jesus begeer dat jy na Hom toe moet kom.  In Openbaring 3:20 het Hy vir Christene – vir ‘n kerk! – gesê:  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  Moenie vergeet dat dit ‘n voorreg is om deel te wees van ‘n gemeente; om deel te hê aan die Woord, die nagmaal, die doop, lofprysing, goeie werke, liefde, en nog meer nie.

Moenie in die slegte gewoonte verval om van die samekomste af weg te bly nie.  Dit wil ek veral vir die nuwe lidmate sê.  Vir die oues sê ek:  party van julle het in die gewoonte verval om weg te bly.  Breek met dié gewoonte en vernuwe jou toewyding aan Jesus, sy Woord en sy liggaam.  Dink jy Jesus sal tevrede op die oordeelsdag as jy min liefde gehad het vir die kerk waarvoor Hy sy bloed gestort het (Efesiërs 5:25, Handelinge 20:28)?

Hoekom moet jy deur die geskeurde tempelgordyn ingaan?  Om ‘n geskenk van jou vriend te weier is ondankbaar en ongeskik (sien Lukas 14:16-24).

Ted is ‘n semi-professionele tennisspeler in Amerika.  Reeds toe hy in sy mid-20’s was het hy $1 miljoen in die bank gehad.  Hy was suinig met sy geld en wou dit nie mors nie.  Hy het op die strand geslaap, ‘n ou fiets gekoop, en elke dag noodles en brood geëet.  Party ryk mense leef asof hulle arm is:  “another pretends to be poor, yet has great wealth.” (Spreuke 13:7b, ESV).  In Jesus is die rykdom van die hemel joune (Efesiërs 1:3, 1 Korintiërs 3:21-23).  Moenie die voorreg van geestelike rykdom vergeet en leef asof jy arm is nie.

Verdeeldheid in die kerk

Division in church

Jy ken seker dié ou grap.  As twee Jode bymekaar kom stig hulle ‘n besigheid.  As twee Duitsers bymekaar kom stig hulle ‘n ingeneursmaatskappy.  As twee Afrikaners bymekaar kom stig een af.  Dis erg genoeg dat Afrikaners hierdie reputasie het.  Dis erger dat die Korintiërs dit gehad het (1 Korintiërs 10:1-17).

 

Die oproep tot eenheid (v.10)

Het jy al gehoor van die Van der Twis gesin?  Jy sal hulle nooit sonder mekaar sien nie, maar hulle is altyd besig om te baklei.  Uiterlik is hulle een gesin, maar innerlik is daar nie eenheid nie.  So was dit met die Korintiërs.

 

Om te keer dat daar verdere verdeeldheid is het Paulus hulle nie beveel nie, maar langs hulle kom staan en hulle gesmeek.[1]  Paulus noem hulle broers om te wys dat hy nie beter is as hulle nie (v.12-13) – hy is een van hulle.  Paulus vermaan hulle nie in sy eie naam nie, maar in die Naam van die Here Jesus Christus.  So wys hy weereens dat hy niks is nie; dat Jesus alleen belangrik is (v.12-13).  Paulus het Matteus 5:9 ter harte geneem:  “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”  Paulus vra die Korintiërs om eensgesind en nie verdeeld te wees nie.  Hulle moet verenig wees in dieselfde gesindheid en mening.  Hulle moet innerlik en nie net uiterlik een wees nie.  Die Grieks vir verenig [katartizo] word in Markus 1:19 gebruik van vissers wat hulle geskeurde nette regmaak.  Die Korintiërs moet die skeuringe in die kerk regmaak.

 

In ons gemeentes moet ons dieselfde gesindheid en morele mening hê.  Hoe sal ons dit regkry?  Soldate wat teen ‘n gemeenskaplike vyand veg het nie tyd om onder mekaar te baklei nie.  Laat ons daarom “in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” (Filippense 1:27).  As God se kinders moet hulle dieselfde liefde hê (Filippense 2:2).  As almal lief is vir Jesus en sy Woord, bou dit die eenheid.  Om eensgesind te wees moet ons nederig wees.  Wys my ‘n kerk wat verdeeldheid is, en ek wys jou ‘n kerk waar mense hoogmoedig is.  Iemand kry nie wat hy wil hê nie en baklei daarom met ander (Jakobus 4:1-2).  As jy ander bo jouself stel sal daar nie verdeeldheid wees nie (Filippense 2:3-4).  Die leiers moet die voorbeeld hierin stel en ander in die gemeente dien.  Jesus het gesê:

 

“Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).  “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.  Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (Johannes 13:13-14).

 

Die nederige gesindheid van Christus moet in ons wees (Filippense 2:5).  In Efesiërs 4:2-3 sê Paulus:  “[wandel] met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”  God is een en daarom moet ons een wees:  “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Efesiërs 4:4-6).

 

As jy hoogmoedig is sal God jou weerstaan; as jy nederig is sal Hy aan jou genade gee (Jakobus 4:6).  Vra vergifnis vir jou hoogmoed.  Doen Bybelstudie en lees goeie boeke oor sonde en Jesus se kruisdood.  Dit sal jou nederig maak en vir jou wys dat jy niks is nie en God se oordeel verdien.  Alles wat jy het is genade.

 

When I survey the wondrous cross,

On which the Prince of Glory died,

My richest gain I count as loss,

And pour contempt on all my pride.

–Isaac Watts–

 

Iemand wat nederig is, is soos Jesus.  Hoogmoed maak jou soos die duiwel.

 

Die verbreking van eenheid (v.11-12)

My kinders het laas Vrydag ‘n spanbou liedjie by ‘n atletiek byeenkoms geleer:  ‘Sliding on a super tube… landing on cactus… we think your team needs more practice!… Sliding on a super tube… landing on daisy… we think your team is so lazy!’

 

Soos kinders by ‘n atletiek byeenkoms, was daar groepe in die Korintiër-kerk wat gedink het hulle is beter as die res.  Mense uit Chloë se huis het vir Paulus hiervan vertel.  Dit is skandelik dat die kerk se leiers nie vir hom gesê het nie, maar dit vir hom weggesteek het.  Jaloesie en partyskap het in die gemeente geheers (v.11, 3:3-4).  Die verskillende groepe het gesê:  “Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.” (v.12).  Dit terwyl Jesus vir sy dissipels gesê het:  “Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester:  Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester:  Christus.” (Matteus 23:8-10).

 

Die Paulus-groep het hom seker gevolg omdat hy heilig, nederig, intelligent was, en eenvoudig gepreek het.  Die Apollos-groep het geroem omdat hulle leier welsprekend en opgelei was, en die Bybel goed geken het (Handelinge 18:24-28).  ‘Petrus het vir Jesus gesien toe hy op aarde was, en is gekies om die leier van die twaalf te wees,’ het die Cefas-groep gesê.[2]  Die Christus-groep het gesê:  ‘Ons behoort aan die groep wat geen menslike leier het nie.  Ons is trots daarop dat ons groep die beste is.’  Ek het onlangs ‘n blog gesien wat soos die Christus-groep is:  mense wat daarin roem dat hulle aan geen menslike groep behoort nie.

 

Wat is Paulus se punt in hierdie verse?  Moenie die eenheid verbreek nie.  Hoe doen ‘n mens dit?  Moenie met ander Christene stry of die kerk verlaat oor leerstellings wat nie sentraal is tot die evangelie nie.  Ek praat van dinge soos detail verskille oor die eindtyd.  Moet ook nie die kerk verlaat net omdat jy lus is vir ‘n verandering nie.  Mense wat van die kerk of Bybelstudie af wegbly, omdat hulle gunsteling prediker of leier nie aan die woord is nie, versteur die eenheid.

 

Indien iemand soos ‘n ongelowige in sonde volhard, moet ons nie gemeenskap met hom of haar hê nie.  So ‘n persoon moet uit die gemeente gesit word (5:9-13).  As iemand valsheid verkondig moet jy hom aanspreek en van sy sonde probeer terugdraai (2 Timoteus 2:24-26).  As hy nie luister nie, maar aanhou om tweedrag te saai, moet jy hom vermy:

 

  • “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.” (Romeine 16:17).
  • “Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos. Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.” (Titus 3:9-11).
  • Wat rondreisende vals leraars betref sê 2 Johannes 9-11: “Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”

 

Moenie paaie skei met ‘n mede-gelowige oor klein verskille nie.  Maar as dit by leerstellings kom wat die evangelie direk raak is daar nie genade nie.  Ons praat hier van mense wat byvoorbeeld sê dat God nie ewig of Almagtig is nie, dat Jesus nie God is nie, dat Jesus nie vir ons sondes gesterf het nie, dat Jesus nie liggaamlik uit die dood uit opgestaan het nie, dat die Bybel nie die Woord van God is nie, dat heiligheid nie belangrik is nie, dat die hemel en die hel nie regtig bestaan nie, dat Jesus nie weer gaan terugkeer nie.  Indien die gemeente waaraan jy behoort aan hierdie leerstellings vashou, moet jy met die leiers praat.  Indien dit lyk of hulle nie gaan verander nie, moet jy die gemeente verlaat.  In so ‘n geval is jy nie besig om die eenheid van die liggaam te verbreek nie, maar skei jy jou af van ongelowiges.

 

Hoekom moet jy alles in jou vermoeë doen om nie die eenheid van die kerk te verbreek nie?  Paulus antwoord:  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.” (3:16-17).  Jesus het gesê:  “wie nie teen ons is nie, is vir ons.” (Lukas 9:50).  Iemand wat verdeeldheid bring tree op soos ‘n ongelowige (Galasiërs 5:20).

 

Die evangelie van eenheid (v.13-17)

‘n Paar jaar gelede het Iain Murray by ‘n konferensie gepreek.  Die gehoor het applous gegee toe hy na die kansel toe opstap.  Hy het die gehoor dadelik stil gemaak, omdat die eer Jesus alleen toekom.  So het Paulus gedoen in die verse wat volg.

 

Paulus het die Korintiërs herinner dat Christus nie verdeeld is nie.  Hulle was alreeds een in die Here.  Dit was nie nodig dat hulle die eenheid moes skep nie – hulle moes dit net bewaar (Efesiërs 4:3).  Jesus het hulle sonde op Homself geneem aan die kruis.  Hulle moes Hóm aanbid en nie vir Paulus nie.  Hulle is nie in Paulus se naam gedoop nie, maar in Jesus se Naam (Handelinge 2:38, Matteus 28:19).  Hulle was dus met Hom verenig en nie met Paulus nie.  Om dan ‘n menslike leier na te volg was sinneloos.  Toe Martin Luther hoor dat ‘n Protestantse groep na hom vernoem is, het hy gesê:  ‘What is Luther?  The teaching is not mine.  Nor was I crucified for anyone… How did I, poor stinking bag of maggots that I am, come to the point where people call the children of Christ by my evil name?’[3]

 

As Paulus sy eie kultus wou begin het, sou hy mense in sy naam gedoop het.  Maar hy het nie.  In sy bediening het hy minder as ‘n halfdosyn mense gedoop.  Onder hulle was Crispus, Gajus, en die huisgesin van Stefanas (16:15, 17, Handelinge 2:41, 18:7-8, 16:30-34, Romeine 16:23).  By ‘n vergadering het ek gesê dat ek na bekerings smag, maar niks sien nie.  Agter my het ‘n predikant opgestaan en geroem dat hy in een jaar 400 mense na die Here toe gelei het.  Paulus was nie so nie.  Hy het nie rekord gehou van hoeveel mense hy gedoop het, sodat hy daarin kon roem nie.  Sy fokus was nie om suksesvol te wees nie, maar getrou.

 

Ja, Jesus het vir die kerk gesê om dissipels te doop (Matteus 28:19).  Maar dit was nie Paulus se fokus nie.  My vriend is ‘n sendeling.  ‘n Sendeling wat in die omgewing werk het vir hom gesê dat die doop deel is van die evangelie, en dat iemand wat nie gedoop is nie, nie gered kan word nie.  Dis onsin.  Die doop is ‘n uitdrukking van die evangelie en nie ‘n deel daarvan nie.  Paulus sê so in v.17:  “Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig”.

 

Hoe het Paulus die evangelie verkondig?  “nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.” (v.17).  Paulus wou nie so fantasties preek, dat hy die aandag op homself gevestig het nie (2:1, 4, 13, 2 Korintiërs 10:10, 11:6).  Die aandag moes op die evangelie wees, omdat dít die krag van God is om sondaars te red.

 

Bevorder evangelie eenheid.  Alvorens jy dit kan doen moet jy weet wat dit is.  Evangelie eenheid is die eenheid wat ons in die evangelie het; die eenheid wat Jesus deur sy kruisdood bewerk het (Efesiërs 2:16-18, Johannes 17:21).  Is dit dan moontlik om een te wees met mense wat die evangelie verwerp?  Die Skrif sê:

 

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?  Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het:  Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” (2 Korintiërs 6:14-16).

 

Ons is nie broers met Moslems, Hindus, Jehova’s Getuies, en ander wat die Bybelse evangelie verwerp nie.  Ons moenie intergeloof samekomste of bidure hou soos wat hulle by Nelson Mandela se gedenkdiens gedoen het nie.  Laat ons eerder ons gawes gebruik om die eenheid in die liggaam van Christus te bevorder (Efesiërs 4:11-13).  In die kerk moet die evangelie en leerstellings wat daarmee verband hou die basis vir ons eenheid wees.  Wees ernstig oor ander leerstellings, maar moenie dat dit die basis vir ons eenheid vorm nie.  Ons moet byvoorbeeld nie net een wees met ander Baptiste nie.

 

Waarom is evangelie eenheid so belangrik?  Om mense van ander godsdienste as broers te omhels, skep verwarring oor die evangelie.  Ons eenheid moet met ander Christene wees.  Dan sal die wêreld weet ons is sy dissipels.  “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:34-35).

 

Iemand het ‘n tyd gelede vir my vertel van ‘n predikant wat ek ken:  ‘Hy vat dit baie swaar en huil as mense uit die gemeente bedank.’  Ek vind dit ook sleg as mense bedank, maar ek het nie verstaan hoekom dit vir hom só erg is nie.  Ek dink ek begin nou verstaan hoekom.

[1] Die Griekse word vir vermaan [parakaleo] beteken ‘om tot langs jou te roep’.

[2] Cefas is ‘n ander naam vir Petrus (sien Johannes 1:43).

[3] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.49

My kind vra oor die doop en die nagmaal (riglyne vir ouers en grootouers)

Child baptism

Elke ouer wil die beste vir sy kind hê.  Daarom kyk ons maklik hullefoute mis.  ’n Vrou in Nelspruit het vir my gesê:  ‘Ek weet my 13-jarige is nóú rebels, maar hy het sy hart vir die Here gegee toe hy 5 was.’  As dit jóú kind is, erken jy moeilik dat syne waarskynlik ’n vals bekering was.  Ons glo gou dat kinders wat die sondaarsgebed opsê of ‘hulle harte vir die Here gee’ (‘n frase wat nêrens in die Bybel voorkom nie) tot bekering gekom het.  Dit is reg om bly te wees as hulle ’n sondebesef het – dit is immers noodsaaklik vir ware bekering.

 

Maar sonde oortuiging op sy eie is nie genoeg nie.  Ongelowige Feliks het gesidder toe Paulus van God se oordeel gepraat het.[i]  Die demone self glo God is Een, en sidder.[ii]  Iain Murray is reg:  ‘to be awakened is not the same as to be saved.’[iii]  Eers as jou kind weergebore is, die evangelie glo, en weggedraai van sonde, is hy of sy reg om gedoop te word en die nagmaal te gebruik.  Oorweeg gerus die volgende riglyne om te sien of jou kind gereed is:

 

Jou kind hoef nie handboek antwoorde te gee nie, maar hy moet ’n basiese begrip van die evangelie hê.

 

  • Weet hy hy gaan nie hemel toe omdat hy ‘sy hart vir die Here gegee het’, in God glo, die Bybel lees, bid, kerk toe gaan, die Tien Gebooie gehoorsaam, of opreg is nie?
  • Weet hy ’n mens gaan hemel toe omdat Jesus aan die kruis gesterf het vir sondaars, begrawe is en opgestaan het uit die dood?
  • Weet hy hy ontvang vergifnis en verlossing deur dít te glo en op Jesus te vertrou?

 

Dit moet duidelik wees dat jou kind die vrug van bekering dra.

 

  • Is hy regtig jammer as hy gesondig het – jammer dat dit God bedroef en nie net omdat hy die gevolge wil vryspring of skuldgevoelens haat nie?
  • Bekeer hy hom van sy sonde?
  • Is hy lief vir die Bybel en verstaan hy as dit gelees en gepreek word?
  • Bid hy? Word sy gebede beantwoord?
  • Sien hy uit om kerk toe te kom om met maatjies te speel, of omdat hy die Here wil aanbid, die Woord wil hoor en ander Christene wil sien?
  • Sien ander mense die vrug van bekering in sy lewe?

 

Jou kind moet verstaan waaroor die doop en die nagmaal gaan.

 

  • Weet hy dat die doop en die nagmaal niks tot sy saligheid bydra nie?
  • Weet hy dat die doop die reiniging van sy sondes, asook sy begrafnis en opstanding saam met Jesus uitbeeld?
  • Weet hy dat die nagmaal ons aan Jesus se soendood herinner: die brood spreek van sy liggaam wat vir ons gebreek is en die druiwesap van sy bloed wat ons sondes weg was?
  • Weet hy dat die doop en die nagmaal, sonder geloof, geen waarde vir sy siel het nie?
  • Weet hy dat hy sy sonde moet haat en laat staan as hy na die nagmaaltafel toe wil kom?

 

Wat sal gebeur as jou kind nog nie gered is nie, maar gedoop word en die nagmaal gebruik?

 

  1. Hy sal vals sekerheid hê en dínk hy is gered, omdat hy gedoop is. Dalk word hy een van dié wat vir Jesus sê: ‘Here, Here!’, maar nie die koninkryk van God sal ingaan nie.[iv]
  2. Omdat sy getuienis en leefwyse nie ooreenstem nie, sal Hy die Here se Naam beskadig.
  3. Sy aksie in die doopbad en by die nagmaaltafel bely dat hy gered is, maar sy lewe lyk nie soos ‘n Christen s’n nie. Hy leer om skynheilig te wees en bring sodoende ‘n swaarder oordeel oor homself.
  4. In jare wat kom sal hy ‘n lidmaat van die kerk of dalk selfs ‘n ouderling word. As ongelowige sal hy eindelose probleme veroorsaak.
  5. As dinge sleg gaan sal hy ‘n weersin kry in die Here en die kerk: ‘Hoekom help die Here my nie – my doop bewys dan dat ek gered is?’
  6. Hy maak ‘n bespotting van die doop en die nagmaal, omdat hy deelneem aan heilige dinge, maar nie sy sonde wil los nie. God sal hom met siekte of selfs die dood straf.[v]
  7. Ander kinders sal sy slegte voorbeeld volg. Hulle sal vra om gedoop te word en die nagmaal te gebruik, terwyl hulle nog ongered is. Hulle sal die gevolge van hulle verkeerde keuses moet dra.
  8. Wanneer hy eendag groot is sal hy sý kinders in die kerk groot maak. Hulle sal sy dubbele lewe sien, dink dat dít Christenskap is, en die Here en sy kerk verafsku.
  9. In die toekoms sal hy toelaat dat sý ongeredde kinders gedoop word en die nagmaal gebruik. Hulle sal dieselfde bitter vrugte pluk as hy.Die Here beskou die doop en die nagmaal as ernstige sake. Ons moet ook, en ons kinders moet dit weet. As jy jou kinders reg leer en self die voorbeeld stel, glo ek dat die Here hulle sal red.[vi] As jy hulle dán doop en toelaat by die nagmaal tafel, sal jy én jou kinders julle in die Here verbly.

 

[i] Handelinge 24:25

[ii] Jakobus 2:19

[iii] Revival and Revivalism, p.209.

[iv] Matteus 7:21-23

[v] 1 Korintiërs 11:27-30

[vi] Genesis 18:19, Maleagi 2:15, 1 Korintiërs 7:14

Die evangelie is vir almal

Megaphone preacher

Hiper-Calviniste preek nie die evangelie vrylik nie.  Hulle deel dit net met mense wat onder sonde-oortuiging is.  In húlle denke is die evangelie nie vir almal nie.  Handelinge 8 dink anders.

 

Filippus en die Samaritane (v.1-25)

 

1 En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur.  En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels. 2 En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe. 3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer. 4 En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.

 

5 En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig. 6 En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. 7 Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met ‘n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. 8 En daar was groot blydskap in daardie stad. 9 En ‘n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was. 10 En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê:  Hy is die groot krag van God. 11 En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle ‘n geruime tyd deur sy towerye verbyster het. 12 Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. 13 En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.

 

14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. 15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. 17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. 18 En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied 19 en gesê:  Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. 20 Maar Petrus sê vir hom:  Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. 21 Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie. 22 Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. 23 Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is. 24 Maar Simon het geantwoord en gesê:  Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie. 25 Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.”

 

Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur (v.1).  Soos ‘n wilde dier het hy die kerk uitmekaar geskeur en vervolg (v.1, 3).  Hy het gelowiges in die tronk gestop en gesorg dat hulle die doodstraf kry (v.3, 26:10).  Die gelowiges het vir Stefanus begrawe (v.2).  Onder die vervolging het hulle uitmekaar gespat.  Die verstrooide kerk die evangelie in Judea en Samaria gepreek en só die volgende been van haar opdrag uitgevoer (v.1, 4, cf. 1:8).  Die apostels het in Jerusalem agtergebly om die Christene in die tronk te bemoedig (v.1).

 

Tot op hede het die Jode en Samaritane mekaar gehaat.  ‘n Hele geskiedenis van vyandskap het agter hulle gelê.  Alles het begin toe die Samaritane met ander nasies ondertrou het (2 Konings 17).  Hulle is as baster Jode beskou.  Die Jode wou geen gemeenskap met hulle hê nie (Johannes 4:9).  Nou het Filippus die evangelie in Samaria gepreek.  Die hele stad het aandag gegee en bly geraak toe God sy boodskap met kragtige wonders bevestig het (v.5-8).

 

Voorheen het Simon die towenaar die skare met sy toorkunste getrek.  Hy het gesê dat hy byna so belangrik soos God is.  Maar toe hulle Filippus se boodskap hoor was Simon se toorkunste ou nuus.  Hulle het die evangelie geglo en is gedoop.  Simon het ook geglo, hom laat doop en naby Filippus gebly (v.9-13).  Hy wou ook hierdie krag hê, sodat die mense weer aan sy lippe kon hang.  Simon se geloof was vals.  Johannes 2:23-25 beskryf sy soort geloof:  “En toe [Jesus] in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.  Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.”

 

Die apostels het gehoor van die Samaritane se bekering.  Hulle het vir Petrus en Johannes Samaria toe gestuur om te bid dat die Samaritaanse gelowiges die Gees kon ontvang (v.14-17).  Voorheen wou Johannes die Samaritane verwoes, maar nou was hy bly oor hulle redding (Lukas 9:52-54).  Hoekom het die Samaritane die Gees ná bekering, en deur die oplegging van die apostels se hande ontvang?  Dit het gebeur, omdat daar vyandskap tussen hulle en die Jode was.  Die leiers van die kerk moes teenwoordig wees, sodat die Jode kon sien dat die Samaritane nie tweede-klas burgers van die Koninkryk is nie, maar volkome lede van Christus se liggaam.

 

Simon het die krag van die Gees gesien (dalk het hulle in tale gepraat?).  Hy wou óók deur handoplegging die Gees vir mense gee en het aangebied om hierdie gawe by Petrus te koop (v.18-19).  Hy het geweet dat hy op hierdie manier skatryk kon word.  Petrus het hom bestraf:  ‘Mag jy en jou geld hel toe gaan.  Jy het geen aandeel in die Heilige Gees of die evangelie nie.  Jou hart is nie reg voor God nie.  Jy is ‘n vals bekeerling en jou belydenis in die doopwater was vals.  Jy is onbekeerd en boos.  Jou sondes is nie vergewe nie.  Jou hart en die vrug in jou lewe is bitter (cf. Deuteronomium 29:18-19).  Jy is ‘n slaaf van sonde’ (v.20-23).  Die waarheid van Petrus se woorde is gou bewys toe Simon alles wou doen om die straf vry te spring, maar nie self wou bid of wegdraai van sy sonde nie (v.24).  Toe die apostels weg is het hulle die evangelie verder in Samaritaanse dorpies verkondig (v.25).

 

Die evangelie kan enige hindernis oorkom:

 

  • Die bitter haat van vyande kan nie die evangelie weerstaan nie – Saulus het in die volgende hoofstuk tot bekering gekom.
  • ‘n Vreemde kultuur en ander godsdienstige oortuigings staan nie in die pad nie (v.5).
  • Ouderdom skep nie ‘n probleem nie: kinders, tieners, volwassenes en ou mense kan tot bekering kom.
  • God kan ryk en arm mense red.
  • Moenie sê dat mense wat ‘n lae IK het eenvoudig nie die vermoë het om die evangelie te kán begryp nie.

 

Toets jouself om te sien of jy in die geloof is.  Is jy gedoop, maar ‘n slaaf van sonde?  Het jy ‘n slegte hart vol bose gedagtes?  Is jy bang vir die hel maar draai nie weg van jou sonde nie?  Dra jy bitter vrugte?  Bekeer jou.  Glo in Jesus.  Glo dat Hy volkome God en volkome mens is.  Glo dat Hy heilig is en jou sonde haat.  Glo dat Hy die wet volmaak onderhou het namens ons.  Glo dat Hy in die plek van sondaars gestraf is aan die kruis.  Glo dat Hy gesterf het, begrawe is, en liggaamlik opgestaan het uit die dood.  Vertrou met jou hele hart op Hom.  Beeld jou nuwe lewe en rein hart uit deur gedoop te word.  Gehoorsaam sy Woord, die Bybel.

 

Filippus en die Etiopiër (v.26-40)

 

26 En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê:  Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa.  Dit is ‘n eensame pad. 27 Toe het hy opgestaan en gegaan.  En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. 28 En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. 29 Toe sê die Gees vir Filippus:  Gaan daarheen en bly by daardie wa. 30 En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê:  Verstaan u wel wat u lees? 31 En hy antwoord:  Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?  Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. 32 En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít:  Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. 33 In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe?  Want sy lewe word van die aarde weggeneem. 34 En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus:  Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?

 

35 En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. 36 En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom:  Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? 37 Toe sê Filippus:  As u glo met u hele hart, is dit geoorloof.  En hy antwoord en sê:  Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. 38 En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop. 39 En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. 40 Maar Filippus is in Asdod gevind.  En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.”

 

‘n Engel het vir Filippus gesê wat om te doen.  Hy was dadelik gehoorsaam.  Hy het die herlewing in Samaria gelos en suid gereis tot by die pad tussen Jerusalem en Gasa – vir een sondaar (v.26).  Die sondaar was ‘n ontmande Etiopiër, die minister van finansies vir die Kandace[i], die koningin-moeder wat namens haar seun regeer het (v.27).  Omdat hy ontman was kon die hofdienaar nie die tempel binnegaan nie (Deuteronomium 23:1).  Hy kon ook nie volwaardig deel word van die Joodse godsdiens nie (‘n proseliet).  Hy het dus nie-amptelik die Joodse geloof aangehang (‘n Godvresende).

 

Oppad huistoe het hy hardop uit Jesaja gelees (v.28).  Die Gees het vir Filippus beveel om na die wa toe te hardloop.  Hy het vir die Etiopiër verduidelik dat Jesaja 53 oor Jesus gaan:

 

  • Jesus het stilgebly by sy verhoor en is onskuldig gestraf.
  • Hy het ons sonde op Homself geneem en weer uit die graf opgestaan na sy dood.
  • Almal wat dit glo, op Hom vertrou en hulle bekeer, sal gered word (v.29-35).

 

Die Etiopiër het sy geloof in die doopwater bely (v.36-38).  Nadat hy die Etiopiër gedoop het is Filippus, soos Esegiël, deur die Gees weggevoer (v.39, cf. Esegiël 3:14).  Hy het homself naby die suidkus van Isarel in Asdod bevind.  Vandaar het hy teen die kus op gereis en die evangelie gepreek.  Hy het in Cesarea gestop en hom daar gevestig (v.40, 21:8).  Die Etiopiër het sy reis met blydskap voortgesit (v.39, cf. Psalm 68:32).  Hy het die boodskap van vrede saamgebring Afrika toe.

 

Die Etiopiër het geen toekoms gehad nie.  Hy was kinderloos.  So is daar in ons tyd mense wat geen hoop vir die toekoms het nie:  boemelaars, drank- en dwelmslawe, mense wat hulle werk, gesin en alles verloor het.  In Jesus is daar ‘n toekoms vir die ontmande hofdienaar:  “En laat die uitlander wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê:  Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê:  Kyk, ek is ‘n droë boom nie.  Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond:  Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ‘n gedenkteken en ‘n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.” (Jesaja 56:3-5).  In Jesus is daar hoop en ‘n toekoms vir jou.

 

Christen:  deel jy gereeld die evangelie met ander?  Nee?  Hoekom nie?  Is jy bang?  Die Here is met jou en sy Gees in jou is sterker as die vyand (Matteus 28:20, 1 Johannes 4:4). Weet jy nie hóé om die evangelie te deel nie?  Die evangelie-boodskap klink só:

 

[1] Jesus het vir ons sondes gesterf aan die kruis.  Die Skrif het dit voorspel nog voordat dit gebeur het.

 

[2] Hy is begrawe en het op die derde dag liggaamlik opgestaan uit die dood soos wat die Skrif voorspel het (1 Korintiërs 15:3-4).

 

[3] Bekeer jou van jou sonde, glo die evangelie en vertrou met jou hele hart op Jesus (Markus 1:15).

 

Is jy ongehoorsaam?  Evangelisasie is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag (Matteus 28:19).  As jy die Here liefhet sal jy Hom gehoorsaam (Johannes 14:15).  Kom jy gereeld kerk toe en lees jou Bybel, maar jy is ongered want jy verstaan nie wat jy lees nie (v.30-31)?  Ek is bereid om jou te help.  Kom sien my ná Sondag se erediens of stuur vir my ‘n e-pos (i4@absamail.co.za).

 

Is jy gered maar nog nie gedoop nie?  Wat keer dat jy gedoop word (v.36)?  Wat sê die Bybel oor die doop?  Doop volg ná geloof; slegs dissipels moet gedoop word (v.35-38, 2:37-38, Matteus 28:19).  Doop moet geskied deur onderdompeling.  Die doop beeld immers ons begrafnis en opstanding saam met Jesus uit (Romeine 6:3-4).  As besprinkeling die Bybelse metode van doop was, kon Filippus sy watersak gebruik het, of hy kon water uit die poel gaan skep het.  Maar hy het nie.  Hy het saam met die Etiopiër in die water ingeloop en hom onderdompel (v.38).  Dit is tog wat die Griekse woord vir doop beteken [Gk. baptizo, Strong’s G907].

 

In ‘n preek het Charles Kingsley gesê:  ‘The Black People of Australia, exactly the same race as the African Negro, cannot take in the Gospel… All attempts to bring them to a knowledge of the true God have as yet failed utterly… Poor brutes in human shape… they must perish off the face of the earth like brute beasts.’ (John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, pp.263-264).  John Paton het vir Kingsley verkeed bewys.  Vandag is daar mense wat glo dat geen swart mens gered kan word nie.  Handelinge 8 wys hulle is verkeerd.  Enigiemand kan gered word.  Die evangelie is vir almal.

 

 

[i] Kandace is nie ‘n naam nie, maar ‘n titel soos Caesar of Farao