Mense se afgode en die God van die Bybel

True God and idols

Is dit moontlik dat ‘n nuwe Christen in China versoek kan word om voor ‘n afgodsbeeld te buig, hulp te vra, en dan later berou te hê? Nee? Wat van Christene in die weste wat versoek word om ‘n afgod te maak van geld, plesier, gemak, kos, ens.? Paulus praat in Kol. 3:5 van “gierigheid, wat afgodediens is”.

Paul Tripp vertel van ‘n ervaring wat hy in Indië gehad het. Hy het gesien hoe mense voor ‘n groot afgodsbeeld buig. Dit het hom ontstel. Hy het na sy kar toe gehardloop en vir die Here dankie gesê dat hy nie so is nie. Die oomblik toe hy dit sê, toe tref dit hom: ‘Jy is presies so.’ Hy het besef dat sy gode nie in die vorm van ‘n klip beeld is nie, maar dat hy ook versoek raak om afgode te maak.

Ek sê nie dat ons vir afgode lewe nie, maar die ou sondige natuur neig daarheen. Jes. 44:6-20 wys hoe dom afgode is, en leer ons om die ware God te aanbid.

1. Die enigste God (v.6-8)
Monoteïste [mono beteken een en theos God] glo dat daar een God is. Politeïste [polu beteken baie] glo dat daar baie gode is. Die Romeine was politeïste en het bv. geglo dat Neptunus die god van die see is, Mars die god van oorlog, Venus die godin van liefde en Jupiter die oppergod. In ons tyd is Hindoes politeïste en Christene monoteïste wat die ware God aanbid. Wie is hierdie God?

[a] Hy is die soewereine Here van die hemelse weermag, die Koning van Israel (v.6, 43:15). Volgens die Nuwe Testament is Jesus die Koning van Israel (Matt. 27:11, 42, Luk. 1:32, Joh. 1:50, Fil. 2:11). Hy is m.a.w. die God van Jes. 44:6.

Wat is die implikasie hiervan? Mense wat die Vader sonder die Seun aanbid, aanbid ‘n afgod (1Joh. 2:23, 5:20-21, Joh. 14:6). Dus aanbid die Jode, die Moslems en die Jehova’s Getuies ‘n afgod.

[b] Hy is die Verlosser van Israel (v.6, 43:1, 14). Hy het sy volk uit Egipte en Babilon verlos. Hy het ook as Verlosser na die wêreld toe gekom om sy volk en die nasies te verlos (Matt. 1:21, Luk. 2:11).

As Hy ons Verlosser is, moet ons nie dink dat Hy aan die kruis maar net ons redding moontlik gemaak het, en gehoop het iemand glo nie. Nee, Hy is ‘n Verlosser wat regtig verlos. Deur sy dood het Hy sy skape en kerk se redding suksesvol gekoop en bewerk (Joh. 10:11, Hand. 20:28). Ken jy ‘n ander god wat so kan verlos?

John Blanchard het ‘n storie in hierdie verband vertel. Een Goeie Vrydag het hy na ‘n ander dorp toe gery om te preek. Oppad het hy ‘n paar jong manne in hulle sokker klere opgelaai. Die gesprek het gou na geestelike dinge toe gedraai.

‘Weet julle watse dag dit is?’ het hy gevra. ‘Ja, dit is Goeie Vrydag,’ het hulle geantwoord.

Blanchard: Weet julle wat op Goeie Vrydag gebeur het?
Seuns: Ja, Jesus het aan die kruis gesterf.
Blanchard: Weet julle hoekom Hy aan die kruis gesterf het?
Seuns: Hy het gesterf sodat ons vry kan wees van ons sonde.
Blanchard: En… is julle?
Seuns: Stilte.

‘n Jaar later het Blanchard op Goeie Vrydag by dieselfde kerk gaan preek. Na die diens toe kom daar ‘n jong man na hom toe. ‘Onthou jy my?’ het hy gevra. Blanchard kon hom nie plaas nie. ‘Ek is een van die jong manne wat jy verlede jaar op Goeie Vrydag opgelaai het. Jou woorde het my gepla, en ek het kort daarna tot bekering gekom.’

Is Jesus jóú Verlosser; is jý van jou sonde verlos?

[c] Hy is God, die Eerste en die Laaste. Hy is die Eerste uit wie alles ontstaan het, en die Laaste vir wie alles bestaan (v.6, 41:4, 48:12, Rom. 11:36). Volgens Kol. 1:16, Op. 1:17, 2:8, 22:13 is Jesus die Eerste en die Laaste deur wie alles ontstaan het, en vir wie dit bestaan.

Jesus is m.a.w. die God van Jes. 44:6. Merk dit in jou Bybel, sodat jy nie verward raak wanneer die Jehova’s Getuies weer vir jou sê dat Jesus nie God is nie. Moenie aan Jesus se Godheid twyfel nie, maar aanbid Hom met vrymoedigheid.

[d] Daar is geen god buiten Hom nie (v.6, 8, 43:10b, 1Kor. 8:4-6). Ons glo in Een God en nie in drie gode soos wat die Moslems sê nie (v.6, 8). En tog glo ons nie soos Oneness Pentecostalism dat God net een Persoon is nie.

Volgens Matt. 3:16-17, 28:19 is God drie Persone: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. God is m.a.w. Een, maar ook Enig [Deut. 6:4, Heb. ‘echâd]. Die Vader is God (Ef. 4:6). Die Seun is God (Joh. 1:1, Rom. 9:5, Kol. 2:9, Heb. 1:8). Die Heilige Gees is God (Hand. 5:3-4, 1Kor. 2:10-11). En tog is daar net een God (v.6, 8).

Michael Reeves sê dat God voor die skepping eensaam sou wees as Hy net een Persoon was. Hy sou niemand gehad het om lief te hê voor die skepping nie. As Hy net een Persoon was, dan het Hy die wêreld geskep omdat Hy ons en die skepping nodig het, en omdat Hy liefde soek.

Maar as God nog altyd drie Persone was het Hy voor die skepping volmaakte liefde in die Drie-Eenheid geniet. Hy het vervulling in Homself beleef voordat Hy die wêreld gemaak het. Die liefde en lewe tussen die Vader, die Seun, en die Heilige Gees het oorgeloop toe God die wêreld maak. Hy het ons nie geskep, omdat Hy ons nodig gehad het of eensaam was nie, maar vir sy eie plesier en tot sy eer (Op. 4:11, King James Version).

Ons geniet die voordele van ‘n God wat nie die lewe uit jou suig nie, maar wat oorvloedig en uit liefde gee. In sy groot liefde gee Hy sonskyn, reën, familie, vriende, die huwelik, kos, werk, vakansie, speel, warm klere, diere, die see, sy Seun, die Heilige Gees, die Bybel, die kerk, ens.

Die Drie-Eenheid is dus nie net ‘n teorie wat niks verander nie. Dit verander alles. Die Heilige Gees kommunikeer die Vader en die Seun se liefde en lewe aan jou hart. Jy ontvang dit deur die geloof, en geniet dit deur die Woord, die gemeenskap van gelowiges en gebed (Joh. 14:23, 17:3, Rom. 5:5, Ef. 2:18, 3:16-19, 4:4-6, 2Pet. 1:4, 1Joh. 1:3).

[e] Niemand is soos die Here nie: Hy is uniek, heilig en een-van-’n-soort (v.7, 40:18, 25). Kan enige van die gode soos Hy ‘n volk van ouds af kies en red (v.7)? Kan hulle die toekoms voorspel (v.7, 41:22-23)? Laat hulle dit asb. wys (v.7). Israel kon getuig dat Jahwe dinge uit die ou dae voorspel en vervul het: Hy is die ware God (v.8, 43:10-12).

Omdat Hy die toekoms beheer hoef ons nie daaroor te stres nie (v.8, 46:10, Ps. 139:16, Matt. 6:34). God is ewig en buite tyd – jy nie. Jy kan nie in môre lewe en dit verander nie. Die Here kan, omdat Hy die toekoms beheer en bepaal. Glo en vertrou Hom dan vir die dag van môre.

God sal aan jou die krag gee om regte situasies in die hede te hanteer. Maar Hy sal jou nie die krag gee vir dinge wat jy in jou verbeelding oor die toekoms opmaak nie. Glo dus dat die Here vir jou genoeg krag sal gee vir vandag, en moenie in die toekoms lewe nie.

[f] Hy is die Enigste Rots (v.8, Deut. 32:4, 1Sam. 2:2, Ps. 18:3, 19:15, 62:3, 7-8). Hy is nie onbetroubaar soos die afgode nie, maar vaster as Ayers Rock in Australië wat 3.6 km x 2.4 km x 348 m is.

Jesus is hierdie Rots (8:14, 1Kor. 10:4, 1Pet. 2:8). Bou op Hom deurdat jy sy Woord gehoorsaam (Matt. 7:24). As jy dit doen sal dit jou help in ‘n land vol onsekerheid. Die ekonomie is onseker, asook die politieke situasie, jou werk, jou kinders se tersiêre opleiding, boere se plase, reën, ens. Maar die Here is ‘n hoë Rots wat jou uit die modderslyk red en jou voete op Hom plaas (Ps. 40:3, 61:3).

2. Mense se afgode (v.9-20)
Ek het eenkeer met ‘n man oor sy drank probleem gepraat. Hy het gesien hoe dit sy huwelik, kinders, familie en lewe opmors, maar het daarmee aangehou. Hy het besef dat dit ‘n probleem is, maar het gou bygevoeg: ‘Darem is ek nie verslaaf nie; ek is nie ‘n alkoholis nie.’

Sy afgod het hom mislei. So gebeur dit met enigiets waarvan ons ‘n afgod maak: jy wil dit beheer om jóú te dien, maar op die einde beheer dit jou. Dit is die punt van v.9-20: afgode kan jou nie red soos wat die Here kan nie, maar dit maak van jou ‘n slaaf.

Afgode en dié wat hulle maak is niks (v.9). Mense kan nie getuig van enige hulp of voordeel wat afgode vir hulle bring nie (v.9). Hulle is stom en staan beskaamd as jy hulle hieroor vra (v.9, 11). Die afgode is goed vir niks en in tye van nood laat hulle mense in die steek (v.10-11).

Dit kan nie anders nie, want die ambagsman wat hierdie god maak is net ‘n mens (v.11). Hy is ‘n ystersmid wat yster in die kole sit, met ‘n hamer en sy sterk arm op die aambeeld slaan en die god vorm (v.12). Hy raak moeg, honger, dors, flou, uitgeput, en sloof hom af om die god te maak (v.12, sien 40:28, 31!).

Die timmerman span ‘n lyn, merk met ‘n potlood, meet met ‘n passer, vorm die god en skaaf dit (v.13). Hy vorm ‘n god wat soos ‘n mens lyk en maak tot ‘n huisie vir hom (v.13, kontr. Deut. 4:12, 15-16, 2Kron. 2:6, Joh. 4:24, Hand. 17:28-29).

Hy plant ‘n seder, eik of sipres, en soek reën vir sy boom by die god wat hy wil maak (v.14)! Hy kap die boom af, gebruik ‘n stuk daarvan om ‘n lekker kaggel vuur te maak (Ah!), brood te bak en vleis te braai (v.15-17).

Hy vat die res om ‘n god te maak, buig voor dit, en vra dat die god hom moet red (v.15-17)! Afgodery maak ‘n mens blind en dom, sodat jy nie besef dat jy die gruwelike beeld se ‘tweeling’ tot as verbrand om kos te maak en hitte te kry nie (v.18-20)!

Afgodery bedrieg en mislei mense, sodat hulle nie kan sien dat die beeld in hulle regterhande hulle nie kan red nie, maar dat dit ‘n leuen is (v.20, 17, Jer. 17:9). Afgodery is m.a.w. baie subtiel en vang selfs Christene. Jy dink dat geld, pornografie, drank, pille, baie likes op Facebook, status, applous, kos, ens. jou gelukkig sal maak en dat jy dit kan beheer.

Maar op die einde bring dit hartseer en beheer dit jou. Vat bv. man wat vroue verafgod. Hy kyk pornografie vir sy eie plesier. Om te verhoed dat hy uitgevang word, kyk hy dit wanneer sy vrou slaap. Omdat hy laat wakker bly, is hy moeg by die werk en raak sy werk agter.

Hy voel ook skuldig en depressief, en drink dan anti-depressante om beter te voel. Hy kyk nog pornografie. Maar om dit net te sien is nie genoeg nie. Hy soek meer en flirt by die werk. Daarna soek hy meer. Uiteindelik raak hy betrokke in ‘n immorele verhouding.

Hy is bang dat sy vrou sal uitvind en lieg oor hoekom hy laat uitbly. Hy is bang sy sal uitvind hy lieg. Die stres maak dat hy fisies siek word. Hy verloor geld en tyd, omdat hy dokter toe moet gaan. Dit gebeur gereeld. Sy baas raak ongelukkig, omdat hy nie by die werk is nie.

Sy werk kom in die gedrang. Hy werk op ‘n kommissie basis, en verloor geld omdat hy gedurig a.g.v. siekte nie by die werk is nie. Hy vat geld uit die kleinkas en dink dat hy dit later sal terugsit. Sy baas vang hom uit en dank hom af. Hy lieg vir sy vrou oor wat by die werk gebeur het. Na ‘n paar maande kom die hele lelike storie uit. Sy lewe, huwelik en gesin val uitmekaar.

Afgode maak ‘n mens moeg en tap jou krag (v.12). Dit vang jou in ‘n strik waaruit die afgod jou nie kan red nie (v.20, 17, Spr. 5:22, Joh. 8:34). Die Here sal jou aan hierdie afgode oorgee as jy hulle bo Hom kies (v.18, 6:9-10, 2Tess. 2:11). Hy het jou lief en wil hê jy moet besef dat die afgod hartseer veroorsaak en jou nie kan help nie (Jer. 2:19). Sy doel is dat jy die afgod moet los en na Hom toe moet terugkeer.

Moenie soos ‘n man wees wat ek geken het nie. Toe hy uitgevang word is sy trots gewond en het hy sy lewe geneem. Vra eerder vir Jesus om jou van die eintlike probleem te red, nl. jouself. Dit is die senter van afgodery. As jy die ware God aanbid fokus jy op Hom, maar as jy afgode aanbid fokus jy op jouself.

Die wêreld hits dit aan en sê vir jou dat jý die belangrikste is (2Tim. 3:2). Vergeet jouself en volg vir Jesus (Luk. 9:23, 14:26). Net Hy kan jou oë oopmaak om deur die afgod se leë beloftes en leuens te sien; net Hy kan jou vrymaak (v.18, 20, 42:7, Joh. 8:32, 36, 2Kor. 4:4-6).

Maar wat van ‘n ongelowige wat dit regkry om ‘n afgod soos dwelms sonder Jesus se hulp te los? Ek ken ‘n ongelowige wat aan drank verslaaf was en opgehou het. Wat van sulke mense?

Hulle is nie vry van hulleself nie, maar het bloot die afgod verskuif. Dink bv. aan iemand wat dwelms los, en dan ‘n afgod van oefening en ‘n mooi liggaam maak. Net Jesus (deur sy kruisdood en opstanding) kan iemand vrymaak. Kom na Hom toe, erken met berou dat jy gesondig het, en roep uit dat Hy jou sal help. Dan sal ander mense ook sien dat jy jou soos die Tessalonisense “van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1Tess. 1:9).

Die belangrikste paragraaf in die Bybel

Romans 3:21-26

Toe ek in die laerskool was, was daar ‘n Vita-C advertensie van ‘n ou man en ‘n seuntjie wat op ‘n park bankie sit. Die ou man het ‘n lemoen gehad en die seuntjie ‘n Vita-C lekkertjie.

Die ou man wou baie graag ‘n lekkertjie hê en het vir die seuntjie gesê dat hy sy lemoen vir ‘n Vita-C sal ruil. Die seuntjie wou nie, omdat een lekkertjie meer vitamien C as ‘n lemoen bevat.

Rom. 3:21-26 is so: dit is redelik kort, maar elke woord is vol betekenis. ‘n Australiese teoloog genaamd Leon Morris sê oor hierdie verse: ‘This is possibly the most important single paragraph ever written.’ [Aangehaal in John Stott, The Bible Speaks Today: Romans (Notthingham: Inter-Varsity Press, 1994), 109]. In hierdie verse antwoord Paulus Job se vraag: “hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?” (Job 9:2). Kom ons bestudeer die frases een vir een.

1. God openbaar sy geregtigheid sonder die wet (v.21a)
Die Puriteine het die rare vermoë gehad om ‘n hele boek te skryf oor een vers of oor ‘n deel daarvan. Martyn Lloyd-Jones het lank na hulle geleef, maar was tot ‘n mate so. Hy het bv. ‘n hele preek oor die woorde, ‘Maar God’ in Ef. 2:4 gepreek. In hierdie woorde wys Paulus die kontras tussen ons sonde en God se liefde.

Die woorde, ‘Maar nou’ in Rom. 3:21 is byna dieselfde en is volgens party mense twee van die mooiste woorde in die hele Bybel. Paulus stel hier ‘n kontras tussen mense wat die wet breek (1:18-3:20) en God wat sonder die wet sy geregtigheid aan ons voorsien, sodat ons voor Hom kan staan (v.21).

Sulke liefde moet jou hart smelt om die Here te prys, te dien, lief te hê, te gehoorsaam en jouself aan Hom te gee (Ef. 1:3-14, Rom. 12:1, 1Joh. 4:19). Dit is ondankbaar om die God te ignoreer wat aan jou asem gee. Maar dit is erger as jy die Een wat alles gedoen het om sondaars te red ignoreer. In daardie geval is jy so ongevoelig soos vet en het jy ‘n hart van klip (2:5, Ps. 119:70).

Om net ‘n kennis van die Bybel te hê, kerk by te woon, te bid, ens., sonder dat jy ‘n hart van liefde vir God het, is nie Bybelse Christenskap nie (Luk. 10:27). Dit is ‘n bose namaaksel.

Maar dit help ook nie dat jy hierdie emosies kunsmatig probeer opwek nie. Om hierdie emosies reg te voel moet jy die volgende doen:

  • Bid dat die Heilige Gees jou hart en verstand sal open om evangelie te verstaan.
  • Oordink die evangelie en bid vir nog begrip.
  • Glo die evangelie.
  • ‘n Gevoel van berou, liefde, blydskap, dank, vrede, ens. sal volg.
  • Toon ‘n gepaste reaksie op die bg. emosies. Voel jy berou? Bely jou sonde en bekeer jou. Voel jy blydskap en danksegging? Bid en sing. Voel jy liefde? Prys en gehoorsaam die Here. Voel jy vrede? Sê dankie en rus in God se vrede.

Die punte wat ek hierbo genoem het geld nie net vir ongelowiges nie, maar vir gelowiges wat koud en hard geraak het (Ps. 51:14, 2 Tim. 1:6, Op. 2:4). As jy nie na die Here toe terugkeer nie, sal jy ongelukkig bly en sal Hy jou aktief teenstaan (Op. 2:5).

2. Die wet en die profete getuig daarvan (v.21b)
Die son se invloed is oral in die skepping. Dit laat groen plante groei en maak so dat mense en diere kos het. Dit bak die aarde warm en laat die warm lug opstyg. Die warm lugstrome laat die wind waai. Die son laat die see verdamp, die wolke vorm en die reën val. Die son hou die maan en planete in hulle wentelbane.

Jesus is so en hou die Ou- en Nuwe Testamente bymekaar. Hy is oral in die Skrif. Die wet en die profete getuig van die geregtigheid van God wat ons deur Hom ontvang (v.21b, Eks. 12, Ps. 22, Jes. 53). As God dan die evangelie eeue voor Christus reeds aangekondig het, wys dit dat Hy al lankal beplan het om ons te red. Hy het dit voor die skepping beplan (Ef. 1:4-5) en direk na die sondeval in Gen. 3:15 aangekondig.

As God dit dan lankal in die wet en profete aankondig het, wys dit dat Hy gewillig is om ons te red. Verlossing is sý inisiatief en plan. Moet daarom nie dink dat Hy onwillig is om jou of ander sondaars te red nie. Herinner Hom aan sy gewilligheid om te red, en bid vir jouself en jou geliefdes.

3. Ons ontvang dit deur die geloof (v.22-23, 25)
Hoekom kan ons nie deur die wet reg wees met God nie? Want almal het gesondig en God se wet gebreek (v.22-23, 10-12, 1:18-3:20). Ons leef vir onsself en ons sonde, en nie volgens ons skeppingsdoel tot God se eer nie (v.23, Jes. 43:7, 21, 1Kor. 10:31).

Party mense is beter as ander, maar almal skiet ver kort (v.23). Dit is soos ‘n klomp mense wat op die strand staan: party spring verder as ander, maar niemand kan oor die see spring nie. Handley Moule sê: ‘The harlot, the liar, the murderer, are short of it [God’s glory]; but so are you. Perhaps they stand at the bottom of a mine, and you are on the crest of an Alp; but you are as little able to touch the stars as they.’ [Ibid.].

Hoe verklaar God ons dan regverdig? Deur geloof in Jesus Christus (v.22, 25). As jy in Jesus glo gee God sý regverdige rekord vir jou en aanvaar Hy sy kruisdood asof jy self die prys vir jou sonde betaal het (v.22, 25, Fil. 3:9).

Doen daarom alles moontlik om hierdie geloof te kry. Dit is immers die sleutel wat God se skatkis oopmaak en aan jou die res van sy gawes gee. Geloof is die hand wat Jesus uit die hemel na jou hart toe bring. En as jy Jesus het, het jy alles uit die bodemlose put van sy genade. Jesus is die Erfgenaam van alles en ons saam met Hom (Rom. 8:17, Ef. 1:3, Heb. 1:2).

Hoe kan jy hierdie geloof kry wat Jesus afbring na jou hart toe? Vra Hom daarvoor (Mark. 9:24, Luk. 17:5, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29). Moenie in jouself kyk of jy dit het nie. Vergeet van jouself en kyk na Jesus in die Woord. Bid dat Hy Homself aan jou bekend sal maak.

4. God gee dit gratis (v.24a)
Mense raak agterdogtig as jy ‘n duur item gratis weggee. Hulle is al genoeg gevang met sms’e en oproepe wat geld en gratis vakansies belowe. Hulle beskou daarom ook God se gratis verlossing met agterdog.

En tog is dit nie verdag nie: die geregtigheid wat jy nodig het om voor God te staan is regtig gratis (v.24a, 6:23). Sal God sy geliefde en unieke Seun vir jou gee en die gratis geregtigheid wat jy nodig het om in die hemel te kom terughou (Rom. 8:32)?

Los jou agterdog en ontvang God se gratis geregtigheid deur die geloof (v.22, 24a). Los ook jou trots wat nie wil erken dat jy te sleg is om God se verlossing te verdien nie. Dit verheerlik die Here as jy niks bring en vir sy genade vra. Dit is ‘n klap in sy gesig as jy sê dat Jesus se kruisdood nie voldoende is nie, maar dat jy iets wil bydra.

5. Jesus koop dit vir ons (v.24b)
Gestel ‘n ryk man gee vir jou ‘n Rolls Royce. Beteken die gratis kar dat dit goedkoop is? Nee. Dit kos hom ‘n goeie R20-30 miljoen. Net so beteken God se gratis geregtigheid nie dat dit goedkoop is nie. Dit kos Jesus se lewe (1Pet. 1:18-19). Hy het ons van sonde en Satan vrygekoop (v.24b).

Die gepaste reaksie is nie om die Bybel te lees, te bid, geld te gee, kerk by te woon en goeie werke te doen asof jy Hom kan vergeld nie. Doen eerder hierdie dinge uit liefde met die wete dat jy Hom nie kan terugbetaal nie. Sê net dankie, prys Hom en vra vir nog genade.

Om vir nog genade te vra verheerlik Hom net soveel soos danksegging, omdat jy daardeur erken dat Hy ryk is en jy arm. Sodoende erken jy ook dat alles wat jy het van Hom af kom (1Kron. 29:14, Joh. 3:27, 1Kor. 4:7, Jak. 1:17).

Wat ek is is net genade,
wat ek het is net geleen

-Koos du Plessis-

6. Jesus het dit bevredig (v.25-26)
Omdat ons God se wet gebreek het, vereis sy geregtigheid dat ons gestraf moet word. Maar in sy liefde het Hy mens geword om die wet namens ons te onderhou en ons straf te dra asof Hý dit oortree het. Op hierdie manier het Jesus die Vader se toorn afgewend en dit bedaar. Dit is wat die Griekse woord vir versoening [hilastērion] in v.25 beteken.

Liberale teoloë haat dit dat God se toorn op sy Seun uitwoed en noem dit Cosmic Child Abuse (John Dominic Crossan). Ander mense wil liede soos In Christ Alone sing maar die woorde verander. Een groep wou bv. nie die woorde hê wat sê:

’Til on that cross as Jesus died,
the wrath of God was satisfied.

Maar hulle haat vir God se toorn op Golgota wys dat hulle dink die mens is nie so sleg nie en God nie so heilig nie. Hulle beskou v.25 verkeerd en dink dat Jesus ons wil red, maar die Vader nie. Hulle dink dat Jesus aan die kruis gesterf het om ‘n kwaai God te keer.

Maar die Vader self het ons lief en het die inisiatief geneem om ons te red (v.25, Joh. 3:16, 16:27, 1Joh. 4:10). Die evangelie is nie ‘n heidense godsdiens waarin die aanbidder iets moet offer om ‘n wispelturige god se toorn te bedaar nie. God het Homself in Christus gegee om sy toorn af te wend (v.25). Jesus se bloed het uitgeloop. Hy het die beker van God se toorn gedrink sodat ons nie hoef nie (Joh. 18:11, Op. 14:10).

Ons wil die lering oor God se toorn vermy en nie daaroor dink nie. Maar soms moet ons daaroor dink om te besef waarvan Hy ons gered het, asook wat dit Jesus gekos het om ons te red. As ons dit besef sal ons die Vader en die Seun meer liefhê, en sonde meer haat.

As jy dink dat sonde nie so erg is nie, sal jy sê dat die hel onregverdig is, en dat die kruis nie só nodig is vir ons redding nie. Jy sal dink dat ons ook deur ander godsdienste gered kan word. Jy sal dink dat God ‘n R150 boete afgeskryf het, en Hom nie so liefhê soos iemand wat besef dat Hy eintlik ‘n $900 triljoen boete afbetaal het nie (Luk. 7:41-43, 47).

Nou en dan sê een of ander liberale teoloog dat die God van die Ou Testament kwaai is en net wil straf, terwyl die God van die Nuwe Testament liefdevol en genadig is. Hulle maak asof daar twee Gode is, en verkies die God van die Nuwe Testament.

Maar dit is niks anders as die antieke dwaling wat gnostisisme genoem word nie. Hierdie lering is onwaar, aangesien die God van die Ou Tesament baie liefdevol en geduldig is. Vir 4000 jaar het Hy juis nié die mens uitgewis soos wat hy verdien nie. Hy het bv. nié vir Adam en Dawid hel toe gestuur nie, maar hulle sonde oorgesien.

Beteken dit dat Hy ‘n korrupte Regter is wat die onreg laat seëvier? Nee. Hy het hulle sonde oorgesien, omdat Hy self in die toekoms die straf vir hulle sonde sou dra aan die kruis (v.25). Jesus het m.a.w. nie net aan die kruis gesterf om ons sonde weg te vat nie, maar om te wys dat God regverdig is en die sonde nie oorsien nie (v.25). Op grond hiervan het John MacArthur in ‘n preek gesê: ‘Who did Jesus die for? He died for God, to show his righteousness.’

God wys ook sy geregtigheid wanneer Hy deur Jesus se kruisdood die vuil klere van jou sonde uittrek en vir jou die skoon klere van Christus se geregtigheid aantrek (v.26, Sag. 3:3-5, 2Kor. 5:21). As God ons sonder die kruis vergewe en regverdig verklaar het, was Hy soos ‘n korrupte regter in Suid-Afrika wat die misdadiger vrylaat. As Hy ons aan die ander kant gegee het wat ons verdien, was ons almal in die hel.

Jesus se kruisdoood is die oplossing: God is regverdig en straf ons sonde in Christus. Hy verklaar ons ook regverdig deur ons geloof in Christus (v.26). Die kruis wys God se geregtigheid en genade: “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” (Ps. 85:11).

As God dan soveel moeite gedoen het om sy geregtigheid te wys, moet ons Hom nie van ongeregtigheid beskuldig nie.

  • Hy is nie onregverdig as Hy mense wat in hulle sonde volhard hel toe stuur nie.
  • Hy is nie onregverdig as Hy vir Jakob kies en nie vir Esau nie (9:14, 21, Matt. 20:15).
  • Hy is nie onregverdig as Hy die heidene wat nog nooit van Jesus gehoor het vir hulle sonde straf nie (1:19-21, 2:14-15).
  • Hy is nie onregverdig as Hy mense aan hulle harde harte oorgee, sodat hulle nie kán glo nie (9:18).
  • Hy is nie onregverdig as Hy geduldig is met Julius Malema en Hom nie dadelik vir sy sonde straf nie.
  • Hy is nie onregverdig as Hy sg. ‘onskuldige’ mense doodmaak nie (5:12).
  • Hy is nie onregverdig as Hy beproewing oor jou pad stuur nie.

Sê eerder dat God reg is, al verstaan jy nie alles nie. Hy is die definisie van wat reg en verkeerd is. Buig voor wat Hy sê reg is.

Maar prys Hom die meeste dat Hy jou deur die kruis so regverdig soos Jesus beskou. Deur Christus se geregtigheid is jy in status so regverdig soos die gelowiges in die hemel. Vir ‘n vrou in Oos-Londen was dit die beste nuus ooit. Toe sy hoor hoe wyle dr. Martin Holdt daaroor preek, wou sy niks anders hoor nie. En as jy dit eers snap sal jy dieselfde voel, omdat dit die beste nuus in die wêreld is.

God se oplossing vir die wêreld se probleme

Suffering-Servant

My vrou moes my al terughou en vir my sê dat ek nie die wêreld se probleme kan oplos nie.  Sy is reg.  Maar die Messias kan.  As armoede die wêreld se grootste probleem was kon ons vir Jeff Bezos, Bill Gates en Mark Zuckerberg vra om dit op te los.  Maar daar is groter probleme as dit, en daarom het ons Jes. 42:1-17 se Messias nodig.  Wie is Hy?  Jesaja beskryf Hom as…

 

  1. Die begeerlike Messias (v.1a)

Wat maak jou die blyste en begeer jy die meeste?  Vir God is dit die Messias (v.1a, Spr. 8:30, Matt. 3:17, 17:5).  Soos die bruidegom in Hoogl. 5:10, 16 is Hy “uitnemender as tien duisend… geheel en al die lieflikheid self.”  Hy is die Messias van Ps. 45:3 wat veel skoner is as die mensekinders.

 

Sy lieflikheid word daarin gesien dat Hy ‘n nederige dienskneg is wat Hom vir 33 jaar aan die Vader onderwerp het en sy lewe vir ons gegee het (Fil. 2:6-8, Joh. 10:17-18).  Dit is ook hoekom die Vader Hom gekies het (v.1a).

 

In ons geval het Hy ons nie gekies omdat Hy iets in ons gesien het nie (Rom. 9:11, 1Kor. 1:26-29).  Maar in die Messias se geval het die Vader Hom gekies omdat Hy so begeerlik is (v.1a).  En sal ons nie begeer “om die lieflikheid van die HERE te aanskou” nie (Ps. 27:4)?

 

As jy Christus begeer sal jy jou wellus vir die wêreld oorkom en sal dit vir jou soos flou Ricoffy wees, nadat jy die ryk aroma van ‘n duursame filter koffie geniet het.  Om Christus te begeer moet jy in Hom glo en oor Hom nadink (2Kor. 4:6).  Peins bv. oor Jes. 33:17: “Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou”.

 

Dink daaraan dat Christus mooier is as ‘n diamant wat in die son glinster, as ‘n reënboog voor stormwolke, as ‘n sonsondergang in die berge, as gekleurde voëls, visse, skoenlappers en blomme.

 

  1. Die gesalfde Messias (v.1b)

‘n Pleonasme is as iemand bv. van ‘n ronde sirkel praat.  Dit is verkeerd om so te praat, omdat die woord sirkel ‘n ronde objek veronderstel.  ‘n Mens kry tog nie ‘n vierkantige sirkel nie.

 

‘Gesalfde Messias’ is ‘n pleonasme.  Messias beteken immers ‘gesalfde’.  Ek gebruik dit egter so om by die ritme van my hoofpunte in te pas.  Toe Jesus gedoop is het sy Vader die Heilige Gees op Hom gelê en Hom as die Messias of Christus gesalf (v.1b, 11:2, 61:1, Matt. 3:16, Heb. 1:9).

 

Die Gees het Hom vir sy taak as die gesalfde Priester, Profeet en Koning bekragtig (Hand. 10:38).  As Priester het Hy Homself vir ons geoffer, as Profeet het Hy God se wil aan ons bekend gemaak, en as Koning vertrap Hy ons vyande.

 

Kan Hy die wêreld se probleme oplos?  Kan Hy jou sonde vergewe en jou help om dit te oorkom?  Kan Hy jou met jou persoonlike probleme help?  Kan Hy jou gebede verhoor?  Kan Hy die Vader se wil aan jou openbaar m.b.t. die kwessie wat jou verwar?  Kan Hy die duiwel verdryf?

 

  1. Die regverdige Messias (v.1c)

Ons regering, land en wêreld is vol ongeregtigheid: korrupsie, diefstal, oneerlikheid, onderdrukking, moord.  Ons benodig ‘n Messias wat reg en geregtigheid vir die nasies sal bring (v.1c, 2:4).  As jy in sonde lewe soos die wêreld sal sy geregtigheid jou benadeel en sal jy hel toe gaan.  En vir Hom om so te doen is reg.

 

Maar as jy op Hom en sy kruisdood vir sondaars vertrou en jou bekeer, sal sy geregtigheid jou bevoordeel en sal jy vir ewig op die nuwe aarde lewe “waarin geregtigheid woon.” (2Pet. 3:13).  Wat kies jy?

 

  1. Die sagmoedige Messias (v.2-3a)

Mense sal enigiets gebruik om hulleself voorop te stel.  In die verkeer sal hulle op ander se sterte ry om hulle te domineer.  Op Facebook sal hulle hulleself adverteer en vir almal sê dat hulle hier is.

 

Die Messias is nie so nie.  Toe Hy op aarde was het Hy nie geskreeu om mense te domineer of hard uitgeroep om aandag te trek nie (v.2).  Hy het saggies gewerk om stukkende en gewonde sondaars te help, te vergewe en te herstel (v.3, Matt. 11:28-30, 12:18-21).

 

Dit is wat Hy met ons gedoen het.  En dan raak ons ongeduldig met ons lewensmaats, kinders en ander mense as hulle nie dadelik verander nie.  “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1Tess. 5:14, vgl. Kol. 3:12-13).

 

  1. Die getroue Messias (v.3c)

Het jy al belowe om iets te doen, êrens te wees, vir iemand te bid, of gesê jy sal terugkom na iemand toe, en dit dan nie gedoen nie?  Die Messias is nie so nie, maar is betroubaar.  In getrouheid aan die Vader, sy volk en sy verbond sal Hy sorg dat geregtigheid geskied en sal Hy die mense wat sy kinders seermaak soos ‘n kers uitdoof (v.3, 43:17).

 

Ek was al dikwels ontrou aan die Messias; Hy was nog nooit ontrou aan my nie.  Selfs toe ek ontrou was, was Hy daar om my te help en terug te bring na die Vader toe: “u trou is groot.” (Klaagl. 3:23).

 

  1. Die volhardende Messias (v.4)

Ek ken ‘n Christen wie se man haar gelos het.  Sy is kwaad vir die Here en het opgehou kerk toe gaan.  Gelukkig gee die Here nie op nie.  As ons soos ‘n geknakte riet en smeulende kerspit is (v.3), is die Messias nie so nie (v.4).  In sy poging om geregtigheid op die aarde te vestig raak Hy nie moeg of uitgeput nie (v.4).  Hy is immers nie net ‘n mens nie, maar God (40:28, 30).

 

Op die oomblik lyk dit nie of geregtigheid seëvier nie, maar die Messias “moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.” (1Kor. 15:25).  As sy Woord na die eilande of eindes van die aarde toe versprei en hulle leer om dit te doen, sal geregtigheid seëvier (v.4, 2:3, 11:9-11, 60:9, Matt. 28:19-20).  So het die Puriteine geglo: ‘the isles of the sea would one day be Christ’s!’[1]

 

Laat dit jou aanspoor om vir sending en herlewing te bid.  Dit is tog hoe Jesus ons geleer het: “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10).  Namate die Koninkryk deur die evangelie versprei sal mense God se wil op die aarde doen soos die engele dit in die hemel doen.  Geregtigheid sal m.a.w. seëvier (v.4).

 

  1. Die geroepe Messias (v.5-6b)

Baie teologiese kolleges het ‘n hoë uitval syfer.  Van die mans wat saam met my studeer het, het ‘n goeie 40 of 50% hulle studies gelos, nooit in die bediening ingegaan nie, of binne die eerste tien jaar uitgeval.

 

Die Messias het nie uitgeval nie, maar is geroep deur die God wat alles gemaak het, dit onderhou en aan ons lewe gee (v.5, Gen. 2:7, Hand. 17:25).  Hy is die Here wat die Messias vir hierdie taak geroep het (v.6a), en sou daarom sy hand vat en Hom bewaar (v.6b).

 

In Christus het Hy jou ook geroep, vat Hy jou hand en bewaar Hy jou (41:8, 13, Joh. 10:28-29, Rom. 8:29-30).  Hy beskerm jou teen gevare waarvan jy nie eers bewus is nie.  Dit sal Hy doen totdat jy veilig in die hemel is (2Tim. 4:18).

 

  1. Die reddende Messias (v.6c-7)

‘n Verbond is sterker as ‘n belofte.  Dit word met bloed verseël om te sê: ‘As Ek my Woord nie hou nie sal Ek sterf.’  God het die Messias as ‘n verbond aan sy volk gegee (49:8), maar ook aan die nasies (v.6, Matt. 1:21, Joh. 11:50-52).  Hy het sy bloed gestort om die verbond te verseël (Luk. 22:20).  In die verbond belowe Hy om sy uitverkorenes te red.  Hy sal suksesvol wees.

 

Hy is God se lig om die nasies deur die evangelie uit die duisternis van hulle geestelike blindheid en onkunde te bevry (v.6-7, 49:6, Luk. 2:32, Joh. 8:12, 9:39-41, Hand. 13:47, 26:18, Ef. 4:18).  Hy red mense wat geboei in die donker tronksel van hulle sonde en die dood sit (v.7, 61:1, Luk. 1:79, 4:18-19, Kol. 1:12-13).

 

Is jy nog in die bande van sonde?  Vra vir Christus om jou te red.  Hy is sterk genoeg om die tralies oop te buig, die boeie te breek en jou te bevry:  “Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek…Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.” (Ps. 107:14, 16).  “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36).

 

  1. Die heerlike Messias (v.8)

Toe my kinders klein was het hulle vir my gevra: ‘Wat is God se Naam?’  ‘EK IS wat EK IS’ het ek geantwoord.  Dit is hoe Hy Homself in Eks. 3:14-15 aan Moses geopenbaar het.  Sy Naam staan vir alles wat Hy is.

 

Hy deel nie sy lof en heerlike karakter of Naam met ander gode nie (v.8, 48:11).  Hy deel dit net met die Messias, omdat hulle een is (Joh. 5:23, 10:30, 17:1, 5, Heb. 1:3).

 

As ons dit net kan onthou en besef dat ons niks is nie, sal 95% van ons verhoudingsprobleme vanself regkom (Jak. 4:1-2).  “[Christus] moet meer word, maar ek minder.” (Joh. 3:30).  Ek het onlangs ‘n aanhaling gelees wat sê: ‘Nederigheid is nie om minder aan of van onsself te dink nie, maar om meer aan Christus en ander te dink.’

 

  1. Die beloofde Messias (v.9)

Palmlesers kan vir jou sê hoeveel broers en susters jy het, waar hulle bly, en wat hulle name is.  Hoe weet hulle dit?  Demone sê vir hulle.  Dit is nie indrukwekkend nie.

 

God is indrukwekkend.  Die dinge wat Hy oor koning Kores voorspel het, het gebeur (v.9).  Die dinge wat Hy oor die Messias voorspel het, het ook gebeur (v.9).  Sy akkurate voorspellings wys dat Hy die ware God is (v.9, 41:22-24, Joh. 13:19).

 

Daar is nog profesieë wat vervul moet word.  Die feit dat die wederkoms bv. lank vat beteken nie dit gaan nie gebeur nie.  God het die Messias se eerste koms 4000 vroeër belowe (Gen. 3:15).  Dit het lank gevat, maar is vervul (v.9).  Ons wag nou al 2000 jaar vir Jesus se wederkoms.  Ek weet nie hoe lank dit nog gaan vat nie, maar die Here sal dit vervul.

 

  1. Die lofwaardige Messias (v.10-12)

Die appel val nie ver van die boom af nie: dit beteken dat Jannie baie na sy pa aard of lyk.  In die Messias se geval is Hy presies soos die Vader (Joh. 14:9).  Wie dus die Vader prys, prys ook die Seun (Op. 5:11-14).

 

Ons moet Hom vir sy skepping prys (v.5).  Maar ons moet Hom ook met ‘n nuwe lied vir sy nuwe skepping of verlossing prys (v.9-10, 2Kor. 5:17, Op. 5:9).  Hy het die eindes van die aarde verlos: die mense teen die kus, op die eilande, in die woestyn (v.10-12, 4).

 

Hy het mense in die dorpies van Kedar verlos (v.11).  Kedar is Ismael se tweede oudste seun uit wie die Arabiere afstam (Gen. 25:13).  Ja, baie Moslems sal tot bekering kom (v.11, 60:7)!

 

Sela, ‘n rotsgebied in Edom (16:1) sal die Here prys en sy lof van ‘n berg af roep sodat almal dit kan hoor (v.11, 40:9).  Oral sal mense Hom verheerlik en sy lof besing (v.10-12): “Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!” (Ps. 113:3, vgl. Mal. 1:11).

 

Jes. 42:10-12 is reeds besig om vervul te word.  Daar is Christene in Siberië, Nieu-Seeland, Indonesië, Indië, Madagaskar, Israel, Turkye, Namibië, Noorweë, Nigerië, Spanje, Ierland, Ysland, Amerika, Peru, en so te sê elke land op aarde.

 

“laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps. 72:19).  “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Hab. 2:14).  Moenie net vir jou en jou geliefdes bid nie.  Bid dat hele nasies (ook ons s’n!) die Messias sal prys (v.10-12).

 

  1. Die verwoestende Messias (v.13-15)

‘n Leeu wyfie kan haar kleintjies saggies in haar bek dra.  Maar sy kan ook jou nek breek.  Net so praat en werk die Messias saggies met die geknakte riet (v.2-3), maar skreeu en storm Hy soos ‘n sterk en dapper krygsman teen sy vyande (v.13, 59:17, Eks. 15:3, Jos. 5:13-15, Ps. 2:2, 9, 45:3-5, 78:65, 110:1-2, 5-6, Op. 19:11-16).

 

Hy het hulle vir duisende jare kans gegee om hulle te bekeer (v.14, Eks. 34:6, Hand. 14:16, 17:30, Rom. 3:25).  En moet Hy ‘n blinde oog gooi as hulle ná die Messias se koms nog met hulle sonde aanhou?  Nee.  Hy sal soos ‘n swanger vrou teen hulle hyg en uitroep (v.14).  Hy sal hulle soos berge platvee en soos water in die woestyn opdroog (v.15, 41:15, 40:4, 2:14, 17).

 

En “ hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Heb. 2:3)?  “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:29).

 

Sal jy wegkom as jy die evangelie geken en nogtans met jou sonde aangehou het?  Verseker nie.  Die Messias sal jou nek breek en jou verwoes.  ‘n Puritein het gesê: ‘sinners bring judgment in thinking sins are small, or that God is not angry with them.’[2]  Bekeer jou, sodat die Messias jou kan vergewe en saggies met jou kan werk (v.4).

 

  1. Die leidende Messias (v.16)

Ly met ‘n lang ‘y’ beteken om swaar te kry.  Lei met ‘n ‘e-i’ beteken om voor te loop en die pad aan te dui.  Jesaja verwys hier na lei met ‘n ‘e-i’.

 

Soos iemand wat ‘n blinde aan die arm lei, skyn die Messias sy lig, laat Hy dié wat geestelik blind is sien, en lei Hy hulle op die nuwe weg van verlossing (v.16, 6-7, 35:5, 8).  Hy maak die ongelyke paaie gelyk (v.16, 40:4).

 

Maar selfs nadat die Messias hierdie dinge gedoen het verlaat Hy ons nie, en lei Hy ons nog steeds (v.16).  Hy is ons Messias en Herder, en nie ‘n hulpelose afgod nie (v.16).  As jy Hom vra sal Hy jou na ‘n plek van blydskap, vrede, ‘n stil gewete, genade, liefde, aanvaarding en vervulling toe lei.

 

As jy soek wat die Messias jou kan gee sal jy dit nie kry nie.  Maar as jy Hóm soek sal jy sy geskenke en veel meer kry, want as jy Jesus het het jy alles (Luk. 11:9-13, Ef. 1:3, 3:20).

 

  1. Die betroubare Messias (v.17)

Ek het al by tye nie my tuin natgemaak nie, omdat dit gelyk het of dit gaan reën.  Die weervoorspelling het selfs gesê dit gaan reën, maar dan gebeur dit nie.  Net so sal dié wat op yster beelde vertrou en sê dat hulle gode is, beskaamd staan (v.17).

 

Afgode kan jou nie help nie.  Net die Messias kan, omdat net Hý 100% betroubaar is (Spr. 20:6).  Dit is dus onchristelik om jou volle vertroue op iets of iemand anders te stel, hetsy die ds., dokter, berader, medisyne, geld, ‘n familielid, vriend, kollega, die party vir wie jy stem, Amerika, jou intellek, opleiding, krag, ervaring, ‘n boek, of wat ook al.

 

Net die Messias is waardig van jou volle toewyding en vertroue.  Gee dit vir Hom en glo dat Hy nie net jou persoonlike probleme kan oplos nie, maar die wêreld s’n.  Hy kan dit nie speel-speel oplos soos Superman of ‘n verliefde man wat belowe om berge vir sy meisie te versit nie; Hy kan dit regtig doen.

 

[1] Iain Murray, The Puritan Hope (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1971), 180

[2] Arthur Bennett, The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1975), 69

Hoekom Jesus beter is as die ander gode

Jesus among other gods

My tema impliseer dat daar ander gode is, maar dit is nie wat ek bedoel nie.  Volgens die Bybel is daar net een God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Deut. 6:4, Matt. 3:16-17, 28:19, Joh. 1:1, Ef. 4:4-6, 1Kor. 8:4-6, Jak. 2:19).  Buiten Hom is daar geen ander God nie (Jes. 45:5-6, 14, 18, 21-22).  Derhalwe kan Hy ook doen wat geen ander god kan nie, en is Hy beter as hulle.  Jes. 41 wys vir ons hoe die Here se dade groter is as die ander gode s’n.

 

  1. Hy beheer die nasies (v.1-7)

Die ANC glo dat die voorvaders ons land se toekoms beheer, maar volgens die Bybel beheer God die nasies en beveel Hy hulle in v.1 om stil te wees in sy hof (Ps. 46:11, Hab. 2:20, Sag. 2:13).

 

Die Here het sy volk versterk (40:29, 31), maar die nasies moet hulleself versterk voordat hulle in sy hof verskyn (v.1).  Laat hulle nader kom, praat, hulle saak voor die Here stel, en vir hulleself oordeel of Hy die ware God is (v.1).

 

Toe die nasies hulle saak gestel het toe kom hulle onder kruisverhoor (v.2).  Hier is wat die Here hulle gevra het:

 

  • Wie het koning Kores van Persië uit die ooste opgewek (v.2, 44:28)?
  • Wie het hom gestuur om te oorwin met elke tree wat hy gee (v.2)?
  • Wie het die nasies voor hom platgevee en in sy hand oorgegee (v.2)?
  • Wie het konings onder sy voete vertrap (v.2, Jos. 10:24, 1Kon. 5:3)?
  • Wie het hom gehelp om die nasies en haar konings soos stof te maak met sy swaard, soos wind-verwaaide stoppels met sy boog (v.2, 40:24)?
  • Wie het gemaak dat hy veilig is terwyl hy sy vyande verjaag (v.3)?
  • Wie het gemaak dat hy so vinnig oor die aarde beweeg dat sy voete nie grondvat nie (v.3, vgl. Dan. 8:5)?[1]
  • Wie het al hierdie dinge gedoen (v.4)?
  • Wie het van die begin af die geslagte of nasies van die aarde in die lewe geroep (v.1, Hand. 17:26)?

 

‘Ek, Ek, Ek, Ek…’ sê die Here dwarsdeur die hoofstuk.  “Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (v.4).  Israel en die nasies moet weet dat Hy en nie die afgode nie, die ware God is wat nasies en konings beheer (v.2-4, 40:15, 17, 23).

 

Hy is die Eerste wat voor die begin bestaan het (Gen. 1:1), en wat tot op die laaste dieselfde sal bly (v.4).  Hy is die Eerste uit wie alles ontstaan het, die Laaste tot wie se eer dit bestaan (v.4, 44:6, 48:12, Joh. 1:2-3, Kol. 1:16, Op. 1:8, 17, 2:8, 22:13).  “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 11:36).

 

Hoe het die nasies en eilande hierop gereageer?  Hulle was bang en het gebewe (v.5).  Maar in plaas daarvan dat hulle na die Here toe draai (v.1), het hulle mekaar moed ingepraat om gode te maak wat hulle kamtig teen die koning van Persië sou beskerm (v.5-7).  Maar watse soort god is dit wat deur mense hande gemaak word en dan nog deur hulle versterk moet word (v.7, Jer. 10:4)?

 

Ek vertrou eerder op die Here wat konings en nasies beheer.  Hy het die presidente van ons land aangestel en weer uit die amp verwyder (Dan. 2:21, Rom. 13:1).  Hy lei hulle om goed te doen en laat toe dat hulle kwaad doen (Esra 1:1, 6:22, 7:27, Spr. 21:1, Joh. 19:10-11).

 

Die Here veroorsaak nie sonde nie, maar is soewerein oor presidente en konings se sondige keuses (Hand. 4:27-28).  Dit geld o.a. vir absurde wette wat sonde goedpraat, bv. gay huwelike in Australië, grondgrype sonder vergoeding in Suid-Afrika, geslagsverwarring in Kanada, ens.

 

God is in beheer selfs wanneer ‘n baba ontvoer word, ‘n leeu sy eienaar byt, of as demone mense met vals lering vang (Gen. 45:5, 8, 50:20, Ps. 105:17, 2Kon. 17:25, 1Kon. 22:20-23, 2Tess. 2:11).

 

Dit beteken nie dat die Here sonde goedkeur nie.  Inteendeel, Hy haat dit.  Maar Hy is in beheer daarvan.  En as jy aan hierdie God behoort en Hom liefhet sal Hy maak dat die grootste tragedie tot jou voordeel uitwerk (Rom. 8:28).  Is dit nie wat deur Jesus se kruisdood gebeur het toe Hy vir ons lewe en verlossing gebring het nie?

 

  1. Hy red sondaars (v.8-20)

Mense in kultusse en ander godsdienste moet hulleself red.  Hulle god is nie sterk genoeg om dit te doen nie.  Hulle moet sekere reëls nakom en rituele beoefen.  En selfs as hulle dit gedoen het is dit waarskynlik nie genoeg nie; die ‘god’ sal besluit of dit voldoende is of nie.

 

Met die Here werk dit anders.  Hy red sondaars wat niks kan doen om hulleself te red nie; alles moet van Hom af kom.  Dit is wat Hy met Israel gedoen het.  Hy het sy vriend Abraham en dié se nageslag gekies om aan Hom te behoort (v.8, 2Kron. 20:7, Jak. 2:23, Deut. 7:7-8).

 

Hy het hulle aan die eindes van die aarde gaan haal: Mesopotamië, Egipte en Babilon (v.9, 43:5-6, Jos. 24:2-3, Hand. 7:2).  Hy het hulle nie geheel en al verwerp nie, en sal hulle daarom weer in die toekoms na Hom toe bring (v.9, Rom. 11:28-29).

 

Israel het nie rede gehad om bang te wees en angstig rond te kyk vir ander gode se hulp nie (v.10, 5).  Die Here sou hulle met sy kragtige regterhand red, help, versterk en ondersteun (v.10, 40:29, 31, Ps. 46:2).

 

Die vyande wat kwaad was en teen hulle baklei het sou misluk en in die skande kom (v.11-12).  Die Here sou hulle van die aardbol af verwyder en maak dat hulle niks is nie (v.11-12, 40:17, 23, Ps. 37:10, 36).  Dit was onnodig vir God se volk om bang te wees, aangesien die Verlosser en Heilige van Israel soos ‘n Vader langs die klein ‘wurmpie’ gestaan het om sy hand vas te hou en hom te help (v.13-14).

 

In Christus geld die bg. beloftes ook vir ons (2Kor. 1:20): ons is die Here se diensknegte (v.8, 1Pet. 2:16).  Hy het ons uitverkies (v.8, Ef. 1:4-5, 2Tess. 2:13).  Ons is die nageslag van Abraham (v.8, Gal. 3:7, 29).  Ons is sy vriende (v.8, Joh. 15:13-15).  Hy het ons by die eindes van die aarde kom roep (v.9, Hand. 1:8).  Hy sal ons nooit verwerp nie (Joh. 6:37, 10:27-28).

 

Moet dan nie bang wees nie… moenie bang wees nie… moenie bang wees nie (v.10, 13, 14).  Hoekom nie?  Nie omdat God die beproewing kan wegvat of keer dat jy daardeur gaan nie, maar omdat Hy met jou is en jou nie sal verlaat nie (v.10, 13, 14, 43:2, Ps. 23:4, Matt. 1:23, 28:20, Heb. 13:5).

 

Jy hoef nie angstig rond te kyk vir ander hulp nie (v.10, 5-7).  Sonder die Here kan geen politieke party, berader, geld of enigiets anders jou help nie.  Kyk daarom deur geloof, die Woord en gebed na die Here toe (v.10, 5-7).

 

As jy by die Here skuil kan niemand jou seermaak nie (v.11-12, Sag. 2:8, Rom. 8:31).  Die Here sal sy kinders se vyande vernietig.  Waar is die Babiloniërs, Amalekiete, Filistyne en ander nasies wat teen die Here se kinders baklei het?  Waar is die Romeinse Ryk wat hulle vervolg het?

 

Net soos wat die Here van Griekse mitologie ontslae geraak het, sal Hy Islam, evolusie en die res van die kerk se vyande onder sy voete vertrap (Ps. 110:1, 1Kor. 15:25).  “Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie” (v.12).

 

Vir iemand om God se kinders seer te maak is soos vir ‘n boelie om jou te klap terwyl jy langs jou pa staan en sy hand vashou (v.13).  Eintlik is dit erger, omdat ons Verlosser die Heilige van Israel is (v.14).

 

Dalk voel jy so klein en hulpeloos soos ‘n wurm.  Onthou asb. dat dit vir die Here maklik is om ‘n wurm in ‘n skerp, nuwe dorsslee met baie tande te verander.

 

Hy het dit met Israel gedoen en deur hulle die nasies soos berge en heuwels afgemaai, fyngemaal, uitgewan, en in die stormwind van sy toorn verstrooi (v.14-16, 2, 2:14, 40:4, 12, 24, Ps. 1:4, Jer. 51:2, Miga 4:13, Sag. 4:7).  Hieroor het Israel hulle in die Here verbly, en nie in die nasies se gode geroem nie (v.16).

 

Jesaja wissel nou ratte, maar eintlik wys hy nog steeds hoe die Here sy volk verlos.  Hy gebruik simboliese taal om die nuwe verbond en Israel se toekoms mee uit te beeld.  Die belofte is vir dié wat arm van gees is (v.17, Matt. 5:3).  Hulle besef dat hulle niks het om God se verlossing te koop nie, maar dat alles van Hom van kom.

 

Hulle het ‘n dors na die vars water van Christus en sy verlossing (v.17, Ps. 42:2, 63:2, Matt. 5:6, Joh. 4:14, 7:37-39).  Die Here verhoor hulle en gee dit in oorvloed (v.17-18).  Deur die Gees wat Hy op hulle uitstort verander Hy sy volk se dor lewe in ‘n water paradys vol koeltebome (v.18-19, 12:3, 32:15, 35:6-7, 44:3, 55:13, 60:21, 61:3, Ps. 92:13-15, 1:3, vgl. Eks. 15:27, 17:1-7).

 

Wanneer die nasies hierdie nuwe skepping sien sal hulle weet dat die Here God is, omdat net Hy die transformasie van ‘n veranderde en nuwe lewe kan meebring (v.20, 2Kor. 5:17).  Die nasies se gode kan dit nie doen nie.  Wys vir my die ongelowige wat nie net uiterlik goed lyk nie, maar totaal en al van binne af getransformeer is.

 

Drie maande gelede het ‘n jong man vir my gevra of die Here iemand hel toe sal stuur as hy reg lewe maar nie in Jesus glo nie.  My antwoord was tweeledig.  Eerstens oortree so iemand die grootste gebod wat sê dat jy die Here met jou hele wese moet liefhê.  Tweedens is dit nie moontlik om reg te lewe as jy nie in Jesus glo nie, omdat Hy jou deur die Heilige Gees in staat moet stel om reg te lewe.

 

Juis om hierdie rede is mense wat ander gode aanbid geldgierig, oneerlik, hoogmoedig, immoreel, losbandig, skelm, bitter, vreesagtig, kwaad, ens.  As jou hart so leweloos soos ‘n woestyn is en jou lewe nie anders as die wêreld s’n lyk nie, is dit omdat jy nie weergebore is nie (al sê jy ook dat jy die Here ken).

 

Vra die Here om die dor woestyn van jou lewe in ‘n paradys te verander.  Vertrou dat Jesus jou deur sy Gees sal nuut maak as jy in Hom en sy kruisdood vir sondaars glo.  Sien die liefde van Een wat:

 

  • Angs beleef het sodat jy kan bly wees,
  • Uitgewerp is sodat Hy jou kan inbring,
  • As ‘n vyand vertrap is sodat jy as ‘n vriend verwelkom kan word,
  • Aan die hel oorgelewer is sodat jy die hemel kan erf,
  • Naak was sodat jy geklee kan word,
  • Gewond is sodat jy genees kan word,
  • Dors was sodat jy kan drink,
  • Gepynig is sodat jy getroos kan word,
  • Tot skande gemaak is sodat jy sy heerlikheid in besit kan neem,
  • In duisternis gehang het sodat jy God se lig kan sien,
  • Getreur het sodat jou trane afgevee kan word,
  • Gekreun het sodat jy vir ewig mag sing,
  • Pyn verduur het sodat jy gesondheid kan geniet,
  • ‘n Doringkroon gedra het sodat jy ‘n heerlike kroon kan hê,
  • Sy hoof laat hang het sodat jy joune kan oplig,
  • Sy oë in die dood gesluit het sodat jy joune in die hemel kan open,
  • Sy asem uitgeblaas het sodat jy vir ewig kan lewe.[2]

 

  1. Hy beheer die geskiedenis (v.21-29)

Het jy al gehoor hoe mense dit in Engels sê: ‘History is His Story’?  Dit is waar, omdat God in die geskiedenis besig is om sy planne uit te werk.  Dit is waaroor Hy die gode in v.21-29 aanvat.  Na aanleiding van v.1-20 daag die Koning van Israel die nasies voor sy hof om aan Hom te bewys dat hulle gode gode is (v.20, 1).

 

‘Laat julle gode vir ons sê wat in die toekoms gaan gebeur,’ het Hy gesê (v.22).  ‘Kom klip-gesig, voorspel asb. die toekoms (v.22).  Of dalk wil jy ons van die verlede vertel, sodat mense daaruit kan leer en nie in die toekoms dieselfde foute sal maak nie (v.22)?  Wat lê vir ons voor: wil jy ons nie asb. van môre vertel nie (v.23)?  As jy die toekoms kan voorspel sal almal weet dat jy die God is wat dit beheer (v.23, 48:5-8).

 

‘Hoekom doen jy nie iets goed soos om mense te verlos, of skade soos om ‘n nasie te oordeel nie (v.23, 45:7)?  Wys asb. jou mag, sodat almal vreesbevange kan wees (v.23).  Verbaas ons; almal wil tog sien dat jy ‘n god is (v.23).

 

‘Nes Ek gedink het: jy en jou makkers is niks!  Julle werk bestaan ook nie en is minder as niks (v.24).  Die een wat besluit om julle te aanbid is afskuwelik; afgodery is haatlik (v.24)!’

 

God is anders as die gode.  Hy voorspel nie net die toekoms nie; Hy beheer dit (46:10, Ef. 1:11).  In 539 v.C. het koning Kores van Persië se weermag van die noorde en ooste af op die Babiloniërs afgekom en hulle soos klei vertrap (v.25).

 

In dieselfde jaar het Kores volgens Jesaja se voorspelling die Here se Naam aangeroep (v.25).  Hy het in Jahwe se Naam die Jode vrygelaat en hulle na Jerusalem toe terugstuur (Esra 1:1-4).  God het hierdie dinge meer as 150 jaar vroeër deur Jesaja voorspel.

 

Kan enige van die gode dit doen?  Laat hulle dit wys sodat ons kan weet dat hulle gode is (v.26, 47:13).  Ons wag… geen antwoord nie… stilte… (v.26, 28).  Die gode bestaan nie en is ‘n illusie (v.29).  Soos Willards se Cheese Curls is hulle so leeg soos wind (v.29).  Maar die Here bestaan en het vooraf die goeie nuus van Kores se koms deur Jesaja voorspel (v.27).

 

Hy het honderde ander gebeure voorspel wat tot op die letter vervul is.  Ek wil op die Messiaanse voorspellings fokus (iets wat een van my dosente op Sem ontken het).  Die Ou Testament het o.a. voorspel:

 

  • Die Messias sal in Betlehem, uit ‘n maagd, uit die stam van Juda en uit die geslag van Dawid gebore word (Miga 5:1, Jes. 7:14, Gen. 49:10, Ps. 132:11).
  • Hy sal in die Galilea-streek preek (Jes. 8:23-9:1).
  • Hy sal op ‘n donkie in Jerusalem inry (Sag. 9:9).
  • Een van sy vriende sal Hom verraai (Ps. 41:10).
  • Hy sal onskuldig wees en stilbly by sy verhoor (Jes. 53:7-9).
  • Hy sal gegesel word (Jes. 50:6, 53:5).
  • Hy sal tussen misdadigers gekruisig word en vir sy vyande bid (Ps. 22:17, Jes. 53:12).
  • Hy sal sê: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Ps. 22:2). Sy vyande sal sê: ‘Laat die Here Hom red as Hy ‘n behae in Hom het!’ (Ps. 22:8-9).
  • Hy sal dors word aan die kruis (Ps. 22:16, 69:4). Sy vyande sal vir Hom asyn gee om te drink (Ps. 69:22).  Hulle sal sy klere verdeel, lootjies trek vir sy kleed en ‘n spies in sy sy steek (Ps. 22:19, Sag. 12:10).
  • Hy sal in ryk man se graf begrawe word (Jes. 53:9).
  • Hy sal uit die dood uit opstaan (Jes. 53:10).

 

Die Nuwe Testament wys vir ons dat hierdie dinge so gebeur het.  God beheer die geskiedenis.  Hy doen dit nie net op ‘n groot skaal nie, maar stel belang in die detail van jou persoonlike lewe en geskiedenis:

 

“U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al… in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Ps. 139:2-4, 16).

 

In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia moes Shasta ‘n gevaarlike reis deur die woestyn aanpak om betyds by ‘n sekere koning Lune uit te kom.  Gedurende die reis het hy vir ‘n nag tussen die grafte geslaap, was hy bang vir jakkalse en het ‘n leeu hom gejaag.  As baba het iemand hom in ‘n boot naby die water se kant gekry.

 

Toe Aslan die leeu vir Shasta ontmoet, toe sê hy vir hom: ‘Ek was die kat wat jou rustig laat voel het tussen die grafte.  Ek was die leeu wat die jakkalse verdryf het sodat jy rustig kon slaap.  Ek was die leeu wat jou gejaag het en die perd bang gemaak het, sodat hy vinniger kon hardloop en jy betyds by koning Lune kon uitkom.  En ek was die leeu wat die boot gestoot het toe jy as kind byna gesterf het, sodat ‘n man wat teen middernag buite gesit het jou kon ontvang.’[3]

 

Wanneer jy eendag in die hemel is sal Jesus vir jou soortgelyke dinge sê, en sal jy weet dat Hy jou nooit verlaat het nie.  Dan sal dit weereens vir jou duidelik word dat Hy beter is as die ander gode.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester: England, Inter-Varsity Press, 1993), 310

[2] Vry vertaal en aangepas uit Arthur Bennett, The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1975), 42

[3] Vry vertaal uit C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and His Boy (New York: NY, HarperCollins Publishers, 1954), 281

Die beste troos in beproewing

Eagle Soaring

Waaroor gaan die top-verkoper boeke in Christelike boekwinkels?  Nie oor God nie, maar oor hoe jý ‘n beter mens kan wees.  Martyn Lloyd-Jones het dit reg gehad: ‘Our thoughts revovle around ourselves.  We think we are the centre of the universe.  But we are not, my friends.’[1]

 

Jesaja se benadering om ons in beproewing te troos is heeltemal anders as moderne Christenskap s’n.  Jes. 40 begin nie by mense nie, maar by God.

 

  1. God se vergifnis (v.1-2)

Soms praat mense van koffie as boeretroos.  Maar as jy sonde in jou lewe het sal die beste koffie jou nie troos nie.  Net die Here kan.  Sy troos is so goed dat Hy dit ‘n eeu voor 39:5-7 se beproewing voorspel het: “Troos, troos my volk, sê julle God.” (v.1).

 

Jesaja se herhaling van die woord ‘troos’ wys dat die Here ‘n God van vertroosting is (v.1, Joh. 14:16, 2Kor. 1:3).  Ons het God se troos in die Messias en sy vergifnis leer ken (v.1-3, Luk. 2:25).

 

Jerusalem het teen die Here gesondig, maar Hy het saggies tot haar hart gespreek (v.2, Hos. 2:13).  Dit is hoe die Here sondaars na Hom toe trek.  ‘n Puritein genaamd William Gurnall (1617-1679) het gesê: ‘Sondaars word nie met die klippe van harde en uitdagende woorde in Christus in gesmyt nie, maar met sagte vermanings wat die hart smelt word hulle na Hom toe getrek.’[2]

 

Wat het die Here vir sy volk gesê?  Juda se stryd met Babilon was verby, maar haar stryd met die Here ook (v.2).  Met die koms van die Messias sou die Here met haar versoen raak en haar sonde vergewe.  Sy het uit die Here se hand dubbel ontvang vir al haar sondes (v.2).  Dit beteken nie dat Hy haar dubbel sou straf nie.

 

Die Hebreeuse woord [kephel] beteken ‘duplikaat’ of ‘om dubbel te vou’.[3]  Jesus se kruisdood was m.a.w. genoeg om sy volk se sonde te vergewe.  Daar is nie ‘n sonde wat Hy nie kan vergewe nie.  ‘The deepest sin can’t rise above Calvary’s love.’ (Steve Green).  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20).  Vat dan die sonde wat jou so pla na Jesus toe dat Hy dit kan vergewe.

 

  1. God se heerlikheid (v.3-5)

Richard Wurmbrand (1909-2001) was ‘n Roemeense Christen wat vir sy geloof vervolg is.  Hy was vir 14 jaar in die tronk.  Hy vertel hoe hy God se heerlikheid in die tronk beleef het.  ‘Ek het nog nie iets mooier in my lewe gesien nie,’ het hy gesê.[4]

 

Dít is die heerlikheid waarmee Jesaja die volk bemoedig het.  Johannes die Doper het in die woestyn gepreek dat mense hulle moet bekeer en vir die Messias se koms moet voorberei (Matt. 3:1-6).  Hy was as’t ware die boodskapper wat voor die Koning uithardloop om slaggate op te vul en hindernisse uit die pad te verwyder (v.3-4).

 

Johannes het aangekondig dat Jesus die Here en God van Jes. 40:3 is!  In sy Persoon, lering, wonderwerke, kruisdood, opstanding, hemelvaart en wederkoms sou mense God se heerlikheid sien (v.5, Ps. 24:7-10, Hab. 2:14, Matt. 17:2, 25:31, Luk. 9:32, Joh. 1:14, 2:11, 11:40, 17:1, 2Kor. 3:18, 4:4-6, Heb. 1:3, Op. 1:12-17).

 

As ons die Here vra sal Hy sy belofte vervul en hierdie heerlikheid vir ons wys (v.5).  Dit sal miskien nie dadelik jou beproewing wegvat nie, maar dit sal jou help om dit beter te hanteer.  Wat my betref hardloop ons te gou na beraders toe.  Ek is nie teen berading nie, maar glo dat ons eers die Here moet vra om sy heerlikheid vir ons te wys.  As dit gebeur sal jou beproewing nie vir jou soos ‘n berg lyk nie (v.4), en sal ons ook met die regte ingesteldheid na die berader toe kom.

 

  1. God se Woord (v.6-8)

Omtrent ‘n maand gelede toe staan ek en die buurman op die sypaadjie en gesels.  Ek het gister gehoor dat hy oorlede is.  Ons heerlikheid is nie soos die Messias s’n nie, maar is soos gras en veldblomme wat verdor en verlep (v.6-7).  As God se asem oor ons gaan sterf ons (v.7, 24).

 

God se Woord daarenteen bly vir ewig (v.8, Matt. 5:18).  Sy belofte om sy volk te vergewe kan nie faal nie (v.2).  As jy hierdie ewige Woord glo sal jy ook vir ewig lewe (1Pet. 1:23-25).  Leef vir dit wat ewig is en nie vir tydelike rykdom en plesiere nie (Matt. 6:19-20, 1Kor. 7:31, 1Joh. 2:17, Jak. 1:10-11).  ‘Only one life, it will soon be past; only what’s done for Christ will last’ (C.T. Studd).

 

  1. God se arm (v.9-11)

As jong seuns het ons arm gedruk om te kyk wie die sterkste is.  Maar hoe sterk is die Here se arm?  “Het jy dan ‘n arm soos God?” (Job 40:4).  Hy is die onoorwonne kampioen van die heelal; niemand kan Hom wen nie.  En Hy is ons God.

 

Jerusalem of Sion moes van ‘n berg af vir die ander stede in Juda skreeu dat hierdie God hulle sou herstel (v.9).  Sy moes ook die goeie nuus van die Messias se vergifnis aankondig (v.9, 2).  Die goeie nuus of evangelie het inderdaad van Jerusalem af na die res van die land en wêreld toe versprei (2:3, Luk. 24:47, Hand. 1:8).

 

Juda se magtige God sou met sy sterk arm oor haar vyande triomfeer (v.10).  Die magtige Messias of arm van die Here (9:5, 52:10, 53:1) sal kom om sy kinders te beloon en sy vyande te vergeld (v.10, Rom. 2:6-11).

 

Hierdie selfde magtige arm laat God se skape wei, tel die lammers op, en lei dié wat swak is (v.11).  Wat ‘n troos is dit nie in beproewing nie?  Ek is nie verbaas dat Ps. 23 baie mense se gunsteling hoofstuk in die Bybel is nie (veral op grafstene en begrafnisse).  As die Herder van v.11, Ps. 23 en Joh. 10 jóú Herder is, het jy niks om te vrees nie.

 

  1. God se grootheid (v.12-26)

In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia vra die heks vir Aslan die leeu hoe sy met sekerheid kan weet hy sal sy belofte hou.  Ewe skielik brul hy sodat sy op haar agterstewe beland.

 

Hoe kon Juda weet dat God die beloftes van v.1-11 sou hou?  Want Hy is die God van v.12-26.  Hy het die oseane, riviere, damme, mere en ondergrondse water in die holte van sy hand afgemeet (v.12).  Hy het die ‘oneindige’ hemelruim met sy handbreedte afgemeet (v.12).

 

Hy het die sand van die woestyne, strande en seebodem in ‘n skaal gemeet (v.12).  Hy het die magtige Himalayas, Rotsgebergtes, Andes, en ander berge saam met die heuwels in ‘n skaal geweeg (v.12).  En wat is nou weer die beproewing waaroor jy stres?

 

God is ‘n oneindige Gees (Ps. 139:7-8, Jer. 23:23-24, Joh. 4:24) en kan nie soos die skepping gemeet word nie (v.13, Heb. tâkan).  Hy is oral in sy volheid teenwoordig.  Hy het nie afmetings nie.  ‘n Puritein uit die 1600’s het gesê: ‘God se senter is orals en sy omtrek nêrens.’[5]

 

Ons kan Hom ook nie raad gee nie (v.13).  Die Babiloniërs se skepper god Marduk kon nie sonder Ea se raad skep nie.[6]  Die ware God is nie so nie en het geskep sonder iemand se insette (v.13-14).  Sy kennis is oneindig en perfek; niemand kan Hom iets leer of vir Hom insig gee nie (v.14, Ps. 139:17-18, 147:5).

 

John Piper sê van sy kennis: ‘[it] makes the Library of Congress look like a matchbox, and all the information on the Internet look like a little 1940’s farmers’ almanac, and quantum physics – and everything Stephen Hawking ever dreamed – seem like a first grade reader’.[7]

 

En dan wil ons vir die Here sê hoe Hy ons probleme moet oplos.  In ons era van wetenskap, tegnologie, filosofie, Google, ens. dink ons ons weet baie, maar eintlik weet ons niks.  Ons verstand is klein en beperk.

 

Daarom is dit ook dom om die Here te probeer uitwerk.  Ek ken twee baie intelligente mense (‘n dokter en ‘n ingenieur) wat alewig besig is om die Here te probeer uitwerk: sy alomteenwoordigheid, ewigheid, almag, ens.  Maar is dit nie beter om saam met Dawid te sê: “O Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.” (Ps. 131:1)?

 

Laat vaar jou trots.  Jy ken nie eers 1% van die kennis wat bestaan nie.  Wat weet jy van die wêreld se tale en grammatika, die visse van die see, al die insekte, voëls en diere, die geskiedenis, die menslike liggaam, DNA, kulture, wetenskap, biologie, die sterre, engele, demone, die Bybel, die getal van mense se hare, die sand, die sterre, en God se gedagtes?

 

Almal van ons se kennis saam is soos ‘n enkele sonstraal s’n teen die triljoen x triljoen x triljoen… sonne van God se oneindige kennis.  Ons roem gans te maklik oor ons sandkorrel-grootte kennis wat buitendien van Hom af kom (Spr. 2:6, 1Kor. 4:7).  Berus jou eerder daarby dat God alles weet en dat Hy sal doen wat reg is (v.14).

 

‘Maar wat van my beproewing?’ wou Juda weet.  ‘Wat van die nasies wat teen my is?’  Wat daarvan?  Die nasies is ‘n druppel in die emmer, stof wat die skaal nie eers ‘n millimeter laat roer nie, niks en minder as niks (v.15, 17).  En wat kan ‘n druppel doen aan die God wat die oseane in sy hand afmeet; kan ‘n stoffie Hom seermaak wat die eilande soos stof tussen sy twee vingers optel (v.15, 12)?

 

En as die nasies niks teen die Here kan doen nie, wat van die individu by jou skool of werk wat dinge vir jou moeilik maak?  Moet jou nie verder daaroor bekommer nie, maar gee dit vir die Here (1Pet. 5:7).

 

Laat God se grootheid jou ook help om van jouself te vergeet: jou sg. goeie selfbeeld, jou selfbejammering, jou begeerte om erken te word, jou obsessie met jouself op Facebook, ens.

 

Jy is niks voor die Here nie en kan ook nie genoeg offers bring om sy guns te wen nie (v.16, Job 35:7, Hand. 17:25).  Slegs Hy kon die offer van oneindige waarde voorsien om ons met Homself te versoen (Jes. 53).  Sonder Jesus se kruisdood is daar vir ons geen hoop nie.  Wat jy het en is, is alles a.g.v. Hom.

 

Moet Hom dan nie met ander gode vergelyk nie (v.18).  Hy is een van ‘n soort, heilig en uniek (v.18, 25).  Hy is in ‘n klas van sy eie; daar is nie ‘n ander God soos Hy nie.  Logika sê vir jou dat daar nie twee oneindige en ewige gode kan wees nie.  Om die waarheid te sê kan daar glad nie ‘n ander god wees nie: “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie” (45:5).

 

Moet dan nie TBN se onsin glo wanneer hulle sê dat ons klein gode is nie.  Moet ook nie vir Allah, Vishnu, Krishna, of ander sg. gode in dieselfde asem as Jesus Christus noem nie.

 

Juda het van die Here af weggedraai om afgode te aanbid.  Maar hoe is ‘n houtbeeld wat iemand gemaak en met goud en silwer oordek het, jou skepper (v.19-20)?  En hoekom het mense in ons tyd die idee dat geld jou maak wie jy is?  Die begeerte na rykdom is niks anders as antieke afgodery nie (Matt. 6:24).

 

Van die begin af is dit duidelik dat die Here alles gemaak het (v.21, Rom. 1:19-21).  Hy sit as Koning bo die sfeer van die aarde om daaroor te heers en dit in stand te hou (v.22).  Hy strek die hemelruim uit soos ‘n gordyn of ‘n tent (v.22).  Vanuit sy verhewe posisie lyk die bewoners van die aarde soos sprinkane op ‘n grasperk (v.22).

 

Voor die Koning van die hemel is aardse regeerders soos Jacob Zuma en Robert Mugabe niks (v.23, 17, Joh. 19:10-11).  Hulle is soos plantjies wat sopas gesaai is en skaars wortel geskiet het: hulle vrek as die Here op hulle blaas en is soos stoppels wat in ‘n stormwind wegwaai (v.24, 6-8, Ps. 1:4, 35:5).  Moet Juda dan die koning van Babilon vrees, of sal ons paniekerig raak as Julius Malema in die Here se ore raas?

 

Vrees Hom wat die sterre met sy asem en vingers gemaak het, wat hulle getal bepaal, wat aan elke ster sy naam gee, en wat hulle in die lug hou dat hulle nie koers verloor nie (v.26, Ps. 8:4, 33:6, 147:4-5, Heb. 1:3).

 

Kyk minder op jou selfoon, staan onder ‘n uitgestrekte hemel koepel en besef dat God groter is as wat jy gedink het en jy kleiner.  Moet egter nie soos Juda en Babilon die sterre aanbid nie (47:13, Deut. 4:19); moenie in die Huisgenoot kyk wat die sterre oor die toekoms sê nie, maar aanbid die Een wat die sterre gemaak het (v.26).

 

  1. God se mag (v.27-31)

James se pa is ‘n biljoenêr.  Toe die atletiek seisoen aanbreek toe sê die afrigter dat elke kind die volgende dag R5 skool toe moet bring.  James was bang dat hy nie die geld sou hê nie.

 

Grap jy?  Nee, want dit is presies wat ons met die Here doen.  Al is Hy die God wat ek hierbo beskryf het, dink ons soos Juda dat Hy ons vergeet het (v.27, 49:14).  Maar sal Hy wat die sterre se name onthou sy kinders s’n vergeet?  Het Hy van Juda in Babilon vergeet?  Of vergeet Hy van jou soos ‘n vrou haar kos op die stoof vergeet?

 

Eintlik is daar nie ‘n goeie rede om kleingelowig en depressief te wees nie.  As die Here sterflik en veranderlik was het jy ‘n verskoning gehad, maar Hy is nie.  Hy is nie soos veldblomme en gras nie (v.6-8), maar is ewig (v.28, Eks. 3:14, Ps. 90:2, 102:28).

 

Volgens v.28 het Hy die eindes van die aarde geskep (ook Babilon).  Sy krag kan nie opraak nie; Hy is onveranderlik (v.28, Mal. 3:6, Heb. 13:8).  Selfs wanneer Hy vir ons krag gee het Hy nie minder krag nie (v.28-31).  Ons kan nie die dieptes van sy verstand peil nie (v.28, Rom. 11:33).

 

Benodig jy krag in jou beproewing; voel jy fisies, geestelik en emosioneel uitgeput (v.29-30)?  Vra die Here om jou krag te vermeerder (v.29, 31).  Wag deur gebed op sy beloftes en glo dat Hy vir jou bonatuurlike krag sal gee, sodat jy soos ‘n arend is wat met min moeite bo die aarde sweef (v.31, Ps. 27:14, 103:5, 130:5-6).

 

Met die Here se krag kan jy aanhou, selfs as die stryd so hard soos ‘n maraton is, of so aanhoudend soos iemand wat ver moet loop (v.31): “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fil. 4:13).

 

Moenie vergeet dat Jesus die God van Jes. 40 is nie.  Die Herder wat jou in sy arms dra is die God wat die skepping afgemeet het in sentimeters en gramme.  Die Messias met spyker merke in sy hande is die God wie se hande die heelal en oseane afgemeet het.  Dit is ook hierdie hande wat jou deur jou beproewing lei, sodat jy in die toekoms sal getuig van “die goeie hand van my God oor my” (Neh. 2:8).

 

[1] Martyn Lloyd-Jones, The All-Sufficient God, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2005, p. 83

[2] Vry vertaal uit Iain Murray, Pentecost – Today?, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1998, p. 102 n. 1

[3] James Strong, Strong’s Hebrew and Greek Dictionaries, 1890, Public Domain, H3718; Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 299

[4] Richard and Sabina Wurmbrand: The Underground Pastor and his Wife (DVD)

[5] Vry vertaal uit Thomas Watson, A Body of Divinity, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1958, 1965 (1692), p. 46

[6] Motyer, Ibid., p. 303

[7] John Piper & Justin Taylor (Ed.), Sex and the Supremacy of Christ, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2005, p. 39

Wat is erger as die groot verdrukking?

Peckham, Oklahoma

Op grond van Matt. 24:21 sou ‘n mens dink dat daar nie iets erger kan wees as die groot verdrukking nie: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”

 

Maar daar is: Jesus Christus die Groot Verdrukker, wat die dinge van v.1-28 oor die Jode en tempel sou bring.  Ons hou nie daarvan om so oor Hom te dink nie.  Ons soek ‘n Jesus van die Kinderbybel wat altyd glimlag en nie ‘n vlieg sal seermaak nie, ‘n Hollywood-Jesus met sagte hande, blou oë en sjampoe-skoon hare wat in die wind waai.

 

Ons soek ‘n Jesus wat nie omgee dat mense gay is nie, ‘n Jesus wat nie mense hel toe sal stuur nie (ons is immers nie só sleg nie!).  ‘n Prediker genaamd Voddie Baucham noem dit ‘the modern church’s sissified Jesus’.

 

In 2003 het ek ‘n preek geluister waarin D.A. Carson vertel hoe ‘n klomp studente by Cambridge Universiteit hom hieroor aangevat het.  Hier is wat hulle gesê het:

 

‘Die God van die Ou Testament is sonder genade en het mense voor die voet dood doodgemaak; Hy is bloeddorstig en wreed.  In Jesus Christus het ons die God van die Nuwe Testament leer ken: vol van liefde, deernis, ontferming, goedheid, barmhartigheid en genade.  Hoe kan Christene dan sê dat dit dieselfde God is?’

 

Aan die einde van die preek het Carson gewys dat hierdie studente die verkeerde Jesus beet het, ‘n Jesus van hulle eie verbeelding.  Hy het Op. 14:20 met 19:15 vergelyk en gewys hoe Jesus mense onder sy voete vertrap, sodat hulle bloed vir 296 km so hoog soos die perde se tooms vloei.  ‘Sê nóú vir my dat die God van die Nuwe Testament nie dieselfde Een is as in die Ou Testament nie,’ het hy gesê.

 

Matt. 24:29-31 wys vir ons wie die ware Jesus is.  Hou egter in gedagte dat hierdie verse nie sy hele karakter beskryf nie, maar enkele aspekte daarvan.[1]

 

  1. Sy toorn (v.29)

Alhoewel ek nie John Piper se siening oor eindtyd deel nie, onthou ek twee van sy aanhalings uit Openbaring wat my baie diep getref het.  In die eerste preek het hy uit Op. 19:11-16 van Jesus se vlammende oë, swaard, en wit perd gelees.  Hy het dit met die nederige Jesus wat op ‘n donkie ry gekontrasteer, en by sy gehoor gepleit om vandag dinge met Hom reg te maak.

 

In die tweede preek het hy na Op. 6:16-17 verwys en gesê dat mense vir die rotse uitroep om hulle breins te verpletter, sodat hulle nie voor die toorn van die Lam hoef te staan nie.

 

En dit is met hierdie ingesteldheid wat ons v.29 moet lees: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.”

 

Ek glo dat ons die vers simbolies moet verstaan, en dat Jesus kosmiese terme gebruik om die absolute verwoesting van die tempel in 70 n.C. te beskryf.  Die Ou Testament profete het dieselfde terme gebruik om God se oordele oor Israel, Juda en die ander nasies aan te kondig (Jes. 13:10, Jer. 4:23, Eseg. 32:7-8, Joël 2:2, 10, 2:31, 3:15, Amos 8:9, Sef. 1:15).

 

Hoe weet ons dat v.29 in die eerste eeu vervul is en dat dit nie na die wederkoms verwys nie?  In my preek oor v.15-28 het ek gewys dat die groot verdrukking in die eerste eeu vervul is,[2] en volgens Jesus sal v.29 direk daarna plaasvind.

 

Verder sê Jesus self dat alles wat voor v.34 plaasvind in die eerste eeu gebeur het: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”

 

Laastens moet ons oplet dat daar ‘n duidelike kontras tussen v.15-31 en v.36-42 is.  Voor die koms in v.15-31 is daar tekens, terwyl die koms in v.36-42 heeltemal onverwags is.  Voor die koms in v.15-31 gaan dinge baie sleg, terwyl die omstandighede voor Jesus se wederkoms in v.36-42 rustig en normaal is.

 

Maar of v.29 nou in 70 n.C. gebeur het en of dit in die toekoms lê, die punt is dat die toorn van Jesus erger is as die groot verdrukking, en dat dit iets is waarmee ons moet reken.  “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee” (Joh. 5:22).  Jesus Christus gaan jou oordeel.  As jy jou met sonde ophou, gaan jy op die laaste dag in sy vlammende oë moet kyk.

 

Dit is ook Hý wat jou met sy almagtige regterarm in die hel sal pynig.  Volgens Paulus sal Hy “wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.  Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte” (2Tess. 1:8-9).

 

Volgens Johannes sal die goddelose mens “drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie” (Op. 14:10-11).

 

Hy sal in jou “sy toorn bewys en sy mag bekend maak” (Rom. 9:22).  Ek wil jou smeek om nie met sonde te speel nie.  Keer terug as jy afvallig geraak het.  Bekeer jou van jou geestelike louheid, koue toewyding en sub-standaard liefde vir Jesus.  Hou op om te sê jy sal dit môre doen.  Moenie vanaand gaan slaap as dinge tussen jou en die Here nie reg is nie.

 

Moet ook nie dink ek praat net met ‘ongekerkte’ heidene nie.  Ek praat met jou wat in die kerk sit.  As Israel se tempel haar nie teen Jesus se toorn kon beskerm nie (Jer. 7:4), moet jy nie dink dat jy in ‘n kerkbank, doopbad of Christelike ouerhuis vir Hom kan wegkruip nie.  Hy weet wat in jou hart en lewe aan die gang is.  In die Naam van die soewereine Jesus wat alles gemaak het, beveel ek jou om jou te bekeer.

 

Al manier om vir sy toorn te vlug is om na Hom toe te vlug, “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1Tess. 1:10).  Toe Jesus soos ‘n misdadiger aan die kruis gehang het, het Hy die toorn wat vir ons bedoel was geabsorbeer (Rom. 3:25).

 

As jy met volle vertroue op sy lieflike Persoon, lewe en kruisdood rus, is Rom. 5:9 vir jou bedoel: “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”

 

  1. Sy heerlikheid (v.30)

Iemand het onlangs op Facebook gesê dat Moses die eerste man was wat data uit ‘n ‘cloud’ op ‘n ‘tablet’ gelaai het.  Ek was nie beïndruk nie.  As Christene moet ons nie grappe maak oor God se heerlikheid en ander gewigtige sake in die Bybel nie.

 

God se heerlikheid is nie ‘n eienskap van sy karakter nie, maar die volle spektrum van sy volkomenhede.  Dit is die beeldskone glans van sy openbaring, van wie en wat Hy in Homself is.  Jesus is hierdie heerlikheid (Heb. 1:3).

 

Toe Hy op die aarde was het Petrus, Johannes en Jakobus dit vir ‘n wyle op die berg van verheerliking gesien (Matt. 17:1-8).  Dit is asof Hy die gordyn oopgetrek het.

 

Natuurlik het Hy nog altyd hierdie heerlikheid gehad (Joh. 17:5), maar dit was as’t ware onder sy menslike vlees bedek.  Na sy opstanding en hemelvaart het die heerlikheid sigbaar geword.  Paulus het dit op die Damaskus-pad gesien en Johannes op die eiland Patmos (Hand. 9:3-9, Op. 1:9-20).  Ons sal dit in die hemel sien (Joh. 17:24).

 

Sover ek v.30 verstaan beskryf dit die heerlikheid wat Jesus tans in die hemel het, en gaan dit nie oor sy heerlikheid by die wederkoms nie.  Hoekom sê ek so?

 

Volgens v.30 sou die teken van die Seun van die Mens in die hemel verskyn.  Die Jode het nie geglo dat Jesus die Messias is nie, maar die verwoesting van die tempel in 70 n.C. was die teken dat Hy as Messias in die hemel sit (v.30, Ps. 110:1).

 

Dit was die teken dat Hy Dan. 7:13-14 se Seun van die Mens is, dat Hy met die wolke van die hemel na die Oue van Dae toe opgevaar het om die titel-akte van die Koninkryk te ontvang (Ps. 2:8, Matt. 28:18, Hand. 1:9, Op. 5:7), en dat Hy tans deur die evangelie besig is om die nuwe tempel te bou (Matt. 16:18, 28:19-20, Ef. 2:19-22, 1Pet. 2:5).

 

Toe Hy die tempel verwoes het, het die stamme van die aarde rou bedryf (v.30).  Die Griekse woord vir aarde [] beteken ook land.  Dit blyk dat die stamme van die land in v.30 getreur het toe die Messias die tempel verwoes.  Die Jode in die res van die Ryk het ook hieroor getreur (v.30).

 

Hoe weet ons dat Jesus hier van die Jode praat?  Sy aanhaling kom uit Sag. 12:10-14, en daar gaan dit oor Jerusalem wat treur nadat sy haar Messias gekruisig het.  Sommige het berou gehad oor hulle sonde (Luk. 23:48, Hand. 2:36-37), terwyl ander spyt was oor die bitter gevolge, nl. oor die verwoeste tempel (v.30).

 

Hoekom sê Jesus dat die stamme Hom in sy heerlike krag op die wolke van die hemel sou sien kom (v.30)?  Verwys dit nie na die wederkoms nie?  Hand. 1:9-11 sê vir ons dat Jesus eendag weer op die wolke sal kom, maar ek dink nie dat Hy hier van die wederkoms praat nie.  Hy het immers vir die hoëpriester gesê: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matt. 26:64).

 

Die hoëpriester het lank voor die wederkoms gesterf, maar hy hét Jesus se heerlike krag gesien toe die tempel verwoes is en die stad in swart rookwolke na die hemel toe opstyg.  Hy het Jesus se woorde onthou en besef dat Hy die Seun van die Mens is.  Volgens Ps. 18:12-13, Jes. 19:1, Eseg. 30:3, 18 het die Here op ‘n wolk teen Egipte en Dawid se vyande gekom.  Net so het Hy in 70 n.C. op ‘n wolk teen Jerusalem gekom.

 

Die Jode het nie meer gedink dat Hy ‘n swak en hulpelose Messias is nie, het hulle?  Hulle het sy “groot krag en heerlikheid” gesien (v.30).  En wanneer Jesus weer kom sal ons dit ook sien: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit” (Matt. 25:31).

 

Ateïste en sentimentele kerkmense sal nie dink dat Hy die ‘Ag shame!’ Jesus van moderne Christenskap is nie.  Hulle sal weet dat Hy die sterk en roemryke Seun van God is.

 

Maar jy hoef nie te wag tot dan nie.  Deur die geloof kan ons, “al sien [ons] Hom nou nie, tog glo en [ons] verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1Pet. 1:8).  Het jy dit al ervaar?  Of is dit iets wat glad nie in jou teologiese raamwerk pas nie?

 

Is jy tevrede met ‘n vervelige stiltetyd waarin jy nie eers kan onthou wat jy gelees het nie, waarin jy nie die Bybel verstaan nie, waarin jou hart koud voel en jou emosies dood is wanneer jy bid, sing en die nagmaal gebruik, waarin jou gedagtes dwaal of afskakel tydens die prediking, en waarin dit jou irriteer as die diens vir meer as ‘n uur aanhou?

 

Jy het hulp nodig.  Stuart Olyott sê: ‘clinical, unfeeling Christianity is not authentic Christianity and is a great evil’.[3]  Om dinge reg te stel moet jy heel eerste na die Here toe kom.  Sê vir Hom dat jy nie ‘n aptyt het vir geestelike dinge nie.  Bely dat jy soos die Laodisense lou geword het, en dat jy soos die Efesiërs jou eerste liefde verlaat het.

 

Bid dat Hy die smeulende kole in jou hart deur sy Gees sal aanblaas (2Tim. 1:6).  Bely en laat staan alle sonde, omdat dit die Heilige Gees bedroef en sy vuur uitblus (Ef. 4:30, 1Tess. 5:19).  Sonde verhoed dat jy Christus se heerlikheid sien en beleef (Rom. 3:23).

 

Die duiwel sal alles in sy vermoë doen om jou vir God se heerlikheid in Jesus Christus te verblind (2Kor. 4:4).  Glo, bid en fokus op Jesus, sy kruisdood en die evangelie.  Bid dat die Gees jou oë sal open om Christus se heerlikheid te sien (2Kor. 4:5-6).  Dit is tog hoekom die Heilige Gees gekom het: om Jesus te verheerlik (Joh. 16:14).

 

Dink diep na oor Jesus en heerlikheid, totdat dit soos ‘n vuur in jou hart brand (Luk. 24:32).  Hou aan dink totdat dit in gebed verander en jy die seën van Christus se heerlike teenwoordigheid ervaar: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën… En Hy het hom daar geseën.” (Gen. 32:26, 29).

 

Die meeste Christene het dit nog nooit ervaar nie, en het ook nie ‘n idee waarvan ek praat nie.  En tog is dit heeltemal Bybels.  Sê vir die Here dat jy nog nie hierdie dinge ervaar het nie, en dat Hy asb. “aan [jou] die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee” (Ef. 1:17).

 

As jy in geloof en uit ‘n opregte bid, sal Hy jou gebed verhoor: “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Luk. 11:13).  En as jy dit eers gesmaak het sal nie iets anders soek nie: ‘Those who have had life-changing encouters in the secret place do not stay away from that place for very long.’ (Stuart Olyott).[4]

 

  1. Sy blydskap (v.31)

Het jy al ooit daaraan gedink dat Jesus baie bly is?  John Piper sê: ‘He is an unshakably happy God.’[5]  Luk. 10:21 praat van sy blydskap, en die vrug van die Gees is blydskap (Gal. 5:22).

 

Dit is ook blydskap wat Hom gedryf het om v.31 te voorspel en uit te voer: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

 

Wat beteken hierdie vers?  Weereens leer v.34 vir ons dat v.31 nie van Jesus se wederkoms praat nie, maar dat dit in die eerste eeu vervul is.  Ek wil die vers soos volg verduidelik:

 

[a] Die Griekse woord vir engel [aggelos] beteken boodskapper en verwys soms na menslike boodskappers of predikers (bv. Matt. 11:10, Fil. 2:25, Op. 2:1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14).

 

In v.36 praat Jesus van die engele van die hemel, terwyl Hy in v.31 bloot van die engele praat.  Die engele in v.31 is heel waarskynlik menslike boodskappers wat d.m.v. evangelisasie die uitverkorenes na Jesus toe bring.  Hulle gaan na die nasies toe om die evangelie te preek, sodat die uitverkorenes gered kan word (v.31, Luk. 13:29, Hand. 1:8, 2Tim. 2:10).

 

Jesus het die nuwe tempel effektief gebou toe Hy die ou een verwoes het; Hy het die heidene met die rykdom van sy verlossing geseën toe Hy die Jode verwerp het (v.29-31, Rom. 11:12).

 

[b] Volgens 1Kor. 15:52 en 1Tess. 4:16 sal ons ‘n trompet hoor wanneer Jesus weer kom.  Maar in Lev. 25:8-22 lees ons van ‘n trompet wat elke 50 jaar in Israel geblaas is.  Dit het die jubeljaar aangekondig waarin mense van hulle finansiële laste bevry is.

 

Toe Jesus ons van ons sonde bevry, het Hy die jubeljaar vervul (Luk. 4:18-19).  Die trompet van v.31 het die jubeljaar aangekondig en vir die nasies gesê dat hulle van hulle sonde bevry is.  As Christene het ons dus elke rede onder die son om bly te wees (sien Jes. 61:1-3):

 

  • Jesus is ons Messias en Verlosser.
  • Die rykdom van die hemel is ons s’n.
  • Hy het ons gebroke harte verbind.
  • Ons is nie meer slawe van sonde nie, maar Hy het ons uit die boeie van Satan bevry.
  • Die Vader glimlag oor ons en is nie kwaad vir ons nie.
  • Jesus sal die duiwel en al ons vyande onder sy voete vertrap.
  • Daar is twee Persone wat ons troos: Jesus en die Heilige Gees.
  • Jesus het ons met die skoon klere van sy geregtigheid beklee, sodat ons aanneemlik is vir die Vader.
  • Die Heilige Gees woon in ons en vul ons met sy vreugde.
  • Hy het die klaaglied weggevat en ons monde met lofprysing gevul.
  • Hy leer ons om regverdig te lewe.
  • Hy verheerlik sy Naam in ons harte en lewens.

 

Daar is nog baie redes om bly te wees, maar die tyd het my ingehaal.

 

Die feit dat Jesus nie ‘n sagte sissie is nie, beteken nie dat Hy emosieloos en hard is nie.  Hy is liefdevol en genadig, maar ook heilig en regverdig.  Hy is die Leeu en die Lam (Op. 5:5-6).  Hy is die Groot Verdrukker wat erger is as die groot verdrukking, maar ook die Groot Verlosser van elke mens wat in Hom glo.

 

[1] Streng gesproke kan ons dit nie die ‘aspekte’ van sy karakter noem nie, aangesien sy karakter nie verdeeld is nie.  Christus is in sy hele wese liefdevol, heerlik, heilig, ens.  Maar weens die gebrek aan ‘n beter term het ek besluit om van die ‘aspekte’ van sy karakter te praat.

[2] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2018/03/24/christene-en-die-groot-verdrukking/

[3] Stuart Olyott, Something Must Be Known & Felt, Bryntirion Press, Bridgend, 2014, p. 25

[4] Stuart Olyott, Ministering Like the Master, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2003, p. 82

[5] John Piper, Desiring God, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1986, p. 50

God se wiskunde in Daniël 9

Mathematics

Ek het onlangs ‘n dokumentêr oor die piramides gekyk.  Dit is verstommend hoe wiskundige verhoudings, getalle en formules gebruik is om die piramides te bou.

 

Maar dit vergelyk nie met God se wiskunde in Dan. 9:24-27 nie.  In hierdie verse het God die tydsberekening van sy Seun se kruisdood en die inhuldiging van die nuwe verbond of testament tot op die letter bepaal en vervul.

 

  1. 70 sewetalle (v.24)

Oor die afgelope paar jaar het Christelike boekwinkels Jer. 29:11 op penne, koffie bekers, yskas magnete, dagboeke, ens. laat druk: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

 

Maar wat beteken die vers?  Dit gaan oor God wat sy volk vir 70 jaar Babilon toe gestuur het (Jer. 29:10).  In sy goedheid het Hy beplan om hulle weer na hulle land toe terug te bring (Jer. 29:11).  Maar dan moes hulle Hom soek en tot Hom bid (Jer. 29:12-13).

 

Dit is presies wat Daniël in Dan. 9 gedoen het.  Hy het Jer. 29 in sy stiltetyd gelees, die voorspelling gesien, sy wiskunde gedoen en besef dat Juda al vir 70 jaar in Babilon is.  ‘Dit is die jaar wat ons bevry sal word!’ het hy gedink.  Hy het die Here gesoek, Juda se sonde bely en gevra dat Jer. 29:10-13 vervul sal word.

 

God sou inderdaad die verwoeste stad en tempel herstel, maar dit in die toekoms weer vernietig.  Dit is wat die engel Gabriël vir Daniël kom sê het.  Maar voordat God die ou verbond of testament finaal tot ‘n einde gebring het, moes Hy ‘n nuwe een inhuldig.  Dit is waaroor v.24 gaan.

 

Die vervulling hiervan sou oor ‘n tydperk van 70 sewetalle of 490 jaar plaasvind (v.24).  Die profesie het spesifiek betrekking gehad op Daniël se volk Israel en die heilige stad Jerusalem (v.24).  Wat het God bepaal?

 

[a] Hy sou sy volk se goddeloosheid voleindig.  Die vorige verse wys hoe hulle teen Hom oortree het.  Maar deur sy kruisdood sou Jesus hulle daarvan verlos en met God versoen (Matt. 1:21).

 

[b] Israel moes die maat van hulle sondes vol maak.  Dit het gebeur toe hulle die Messias kruisig.  Dit was die kersie op die koek en die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.  Hiervoor het God die meeste van hulle in 67-70 n.C. deur die Romeine geoordeel.

 

[c] God sou ‘n ewige geregtigheid tot stand bring.  Israel kon dit nie deur die wet regkry nie (Rom. 9:31, 10:3), maar Jesus het dit deur sy wetsgehoorsame lewe en kruisdood bewerk (2Kor. 5:21, Gal. 4:4).  God gee sy geregtigheid gratis aan elkeen wat hom van sy self-regverdige lewe en sonde bekeer om in Jesus te glo (Rom. 1:17).

 

[d] God sou die visioen en profeet beseël.  Dan. 9 en ander profetiese visioene is in Jesus vervul (Luk. 18:31).  God het Hom as die Messias en Profeet van Deut. 18:15, 18 beseël: “Hom het God, die Vader, verseël.” (Joh. 6:27).

 

[e] God sou dit wat hoogheilig is salf.  Beteken dit dat God die tempel gesalf het?  Ek dink nie so nie, maar glo dat dit na die Messias of Gesalfde verwys.  Hy is die hoogheilige (Mark. 1:24, Luk. 1:35, Hand. 2:27, 1Joh. 2:20, Op. 3:7) wat by sy doop met die Heilige Gees gesalf is (Matt. 3:16, Luk. 4:18, Hand. 4:27-28, 10:38, Heb. 1:9).

 

Die toepassing van v.24 is interessant.  Onthou asb. dat hierdie vers ‘n profesie oor God se uitverkore volk is.  Die les is dat godsdienstige mense God se verlossing net so nodig het soos onopgevoede heidene.

 

Die feit dat jy elke Sondag in die kerk sit, jou Bybel lees en bid, beteken nie jy is gered nie.  Jy is nie outomaties deel van God se ‘volk’ omdat jy Afrikaans praat of omdat jy as baba gedoop is nie.  Om deel van God se volk te wees moet jou sonde vergewe wees; jy moet op die gekruisigde Christus vertrou om jou daarvan te red (Joh. 11:51-52, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).

 

Moet asb. nie tevrede voel omdat jy ‘okay’ lewe nie.  Kom eerder tot die besef dat jou sg. geregtigheid vir die Here soos ‘n ashoop ruik, en maak seker dat jy Christus se geregtigheid deur die geloof ontvang (Fil. 3:4-9).

 

As jy nie jou nood vir Jesus se perfekte lewe en kruisdood sien nie, beteken dit dat jy dit nog nie verstaan nie.  Jy is nog in jou sonde, al dink almal rondom jou dat jy ‘n goeie mens is.

 

Nog ‘n woord van toepassing is dat God die geskiedenis van volke, mense, stede, ens. tot in die fynste besonderhede bepaal (Jes. 46:9-10, Hand. 17:26, Ef. 1:11).

 

Prakties beteken dit dat ons nie soos ongelowiges in rep en roer moet wees oor wat in ons land aangaan nie.  Ons moet eerder rustig wees en die wanorde in gebed na die Here toe bring.  Dit spyt my dat Christene soos die res van die samelewing angstig is en nie oor hierdie dinge bid nie.

 

  1. 69 sewetalle (v.25)

Toe ek ‘n student was het ek saam met ‘n vriend gaan fliek.  Ek wou weet hoeveel stoele daar in die teater is.  Ek het getel hoeveel stoele in die lengte is, en dit met die hoeveelheid stoele in die breedte gemaal.

 

Omdat die getalle groot was, het ek ‘n sekere formule gebruik.  Toe my formule nie werk nie het my vriend gelag en geïmpliseer dat ek wiskunde vir die professionele mense moet los.

 

My wiskunde is nie goed nie, maar darem weet ek dat v.25 se 7 sewetalle (49 jaar) + 62 sewetalle (434 jaar) op 69 sewetalle of 483 jaar uitkom.  Hierdie getalle is belangrik as jy v.25 wil verstaan.  Maar daar is nog iets anders wat belangrik is.

 

Die 7 + 62 sewetalle (483 jaar) begin vandat die opdrag uitgaan om Jerusalem te herstel, en strek totdat die Gesalfde Prins kom.  Wat beteken dit?

 

Jerusalem is in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes (v.2, 17-18).  In 538 v.C. het koning Kores van Persië gesê dat die tempel herbou moet word (2Kron. 36:22-23, Esra 1:1-4).  Die stad is egter nie herstel nie.

 

Vir baie jare was Jerusalem sonder mure, pleine, strate en slote om dit teen die vyand te beskerm (Neh. 1:3).  Die stad met sy pleine of strate [Heb. rechôb] en slote [Heb. chârûts] is eers ‘n paar dekades later herbou.  Dit is waarvan Daniël in v.25 praat.

 

In 455 v.C. het koning Artasasta I van Persië beveel dat Jerusalem onder Nehemia herbou moet word (Neh. 2).[1]  Sommige reken dat die proses 49 jaar of 7 sewetalle geneem het.  Volgens Daniël se voorspelling sou die stad in tye van benoudheid herbou word, soos wat Neh. 4, 6 wys.

 

434 jaar of 62 sewetalle nadat Jerusalem herstel is, het die Gesalfde Prins in 27 n.C. gekom (v.25, 24, Jes. 9:5).[2]  Hierdie vers praat nie van sy geboorte nie, maar van sy doop toe Hy met die Gees gesalf en openlik as die Messias aangekondig is (v.24-25).

 

Om v.25 toe te pas wil ek drie dinge uitlig.  Eerstens moet ons besef dat die Bybel baie akkuraat en betroubaar is.  Dit voorspel Jesus se koms tot op die presiese tyd van sy bediening.  Moet daarom nie wonder of die Bybel waar is nie.

 

Tweedens moet jy nie hierdie verse met die wederkoms verwar nie.  God het die tyd van sy Seun se eerste koms voorspel, maar nie die tyd van sy tweede koms nie: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Matt. 24:36).  Moet dan nie val vir mense wat sê dat Jesus op so-en-so ‘n datum gaan terugkeer nie.

 

Laastens moet jy nie ingewikkelde tekste soos Dan. 9:24-27 en die boek Openbaring vermy nie.  Volgens v.25 wil die Here hê jy moet hierdie dinge verstaan.  As dit nie so was nie sou dit nie in die Bybel wees nie (Deut. 29:29).

 

Die feit dat dit in die Woord is, beteken dat jy dit nodig het om geestelik te groei (2Tim. 3:16).  Mense wat sekere dele van die Bybel vermy en hulle nie daaraan steur nie, bedroef die Heilige Gees wat dit geïnspireer het.

 

  1. Die 70ste sewetal (v.26)

As ek vir jou sê dat my vriend Jannie Vosloo 1999 teologie begin studeer het, bedoel ek nie dat hy ín 1999 begin het nie.  Ek bedoel dat hy in die jaar 2000 begin het.

 

Dit is ook wat Daniël bedoel as hy sê dat die Gesalfde of Messias se lewe die 69ste sewetal afgesny is (v.26, Jes. 53:8).  Dit beteken nie dat Jesus ín die 69ste sewetal afgesny is nie, maar daarná, naamlik in die 70ste sewetal.

 

Dit is belangrik, omdat party mense ‘n gaping van ten minste 2000 jaar tussen die 69ste en 70ste sewetal probeer indruk.  Maar dit is onnodig, omdat Daniël se getalle heeltemal uitwerk as Jesus in die middel van die 70ste week in omtrent 30 n.C. gekruisig is.[3]  Indien die 70ste week wel uitgestel is soos party mense sê, dan het die Messias nog nie gesterf nie en is ons nog in ons sonde.

 

Nee, maar Hy is afgesny.  Toe Hy dood is het Hy niks gehad nie, nie eers die klere aan sy lyf nie (v.26).  Hy het Homself leeg gemaak, sodat ons deur sy armoede ryk kan word (2Kor. 8:9, Fil. 2:7).

 

Omdat die Jode hulle Koning gekruisig het, sou Hy die Romeine as sy volk of weermag stuur om hulle stad en tempel te verwoes (v.26, Matt. 22:7).  Die Vors of Prins van v.26 is dieselfde Prins as in v.25.  Daniël praat van Jesus en nie van die Antichris wat sy weermag teen die Jode opsweep nie.

 

Die verwoesting van Jerusalem en die tempel (v.26b) is die direkte gevolg van Jesus se kruisdood (v.26a).  Omdat Jesus ‘n nuwe tempel tot stand gebring het, was dit nie meer nodig vir die ou een nie (Joh. 2:19-22, Ef. 2:19-22).

 

Daniël het verder gesê dat Jerusalem en die tempel deur ‘n oorstroming tot ‘n einde sou kom (v.26).  Dit het gebeur toe die Romeine die stad en tempel soos ‘n vloed oorweldig en vernietig het (vgl. 11:10, Jes. 8:7-8).

 

Volgens die profeet se voorspelling het die Romeine se oorlog teen die Jode aangehou totdat hulle Jerusalem en die tempel vernietig het: “tot die einde toe sal dit oorlog wees” (v.26).  Soos God die verwoesting van Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs bepaal het, het Hy die stad se verwoesting in 70 n.C. deur die Romeine bepaal.  Dit is wat Hy met ‘vasbeslote verwoestings’ bedoel (v.26).

 

‘Maar die verwoesting van Jerusalem en die tempel het nie tydens Jesus se bediening in die 70ste sewetal (28-35 n.C.) plaasgevind nie.’  Ek weet.  Maar Hy het dit tydens sy bediening vas besluit en aangekondig.  Dit is tog waaroor Matt. 23:38 en ‘n groot gedeelte van Matt. 24 gaan.

 

Wat het Dan. 9:26 dan met ons te doen as dit in die eerste eeu vervul is?  Ek wil op een les fokus.  God se nuwe tempel, die kerk, sal nie vernietig word soos die Ou Testamentiese tempel nie.

 

Wanneer Jesus sy kerk bou sal al die duiwels van die hel Hom nie keer nie; Hy sál suksesvol wees (Matt. 16:18).  Wat my betref is dit loutere onsin om te sê dat die kerk of nuwe tempel voor Jesus se wederkoms in die ‘ICU’ op asemhalingsmasjiene sal lê.  As dit so was is daar nie eintlik ‘n verskil tussen die ou klip tempel en die nuwe geestelike tempel van die kerk nie.  Ek is nie seker dat hierdie siening die Here verheerlik nie.  Dit moedig ons verseker nie aan om vir herlewing en die uitbreiding van God se werk op die sendingveld te bid nie.

 

  1. Die 31/2 jaar (v.27)

Ek het ‘n DVD gekyk waarin die prediker Dan. 9:27 soos volg verduidelik: ‘Sodra die Antichris die verbond met Israel onderteken, sal die Jode die tempel herbou.  Maar na 31/2 jaar sal hy sy verbond met hulle verbreek en hulle vervolg.’

 

Só het hy die 70ste sewetal verstaan.  Maar ek het reeds gewys dat die 70ste sewetal in die eerste eeu plaasvind.  As die 70ste sewetal vir 7 jaar duur is die helfte daarvan 31/2 jaar.

 

Daniël verwys hier na die 31/2 jaar van Jesus se bediening (vgl. Luk. 13:6-9).  In hierdie tyd het Hy – die Gesalfde Prins van v.26 – ‘n sterk verbond gesluit met baie (v.27).  Daniël praat nie hier van een of ander verbond tussen die Antichris en die Jode nie, maar van die Messias se verbond met sy uitverkorenes.  Dit is wat die verbond in die res van Daniël beteken (v.4, 11:22, 28, 30, 32).

 

Hy het die verbond gemaak toe Hy die 69ste sewetal ín die 70ste sewetal vir baie aan die kruis gesterf het (v.26a, 27a, Matt. 20:28, Heb. 7:22).  Daniël noem dit ‘n sterk verbond, omdat die nuwe verbond nie gebreek sal word soos die ou verbond nie (Heb. 8:7-13).

 

In die helfte van die 70ste sewetal of 31/2 jaar sou die Gesalfde Prins slagoffers en spysoffers laat ophou (v.27).  Dit het gebeur toe Jesus die finale offer van sy lewe bring.  Die tempel se voorhangsel het geskeur, sodat alle sondeoffers na Jesus se kruisdood oneffektief of onnodig is (Heb. 10).

 

Uiteindelik sou daar op die vleuel van gruwels ‘n verwoester wees (v.27).  Rome is die verwoester, terwyl die afgodsbeeld van hulle arend-embleem die vleuel van gruwels is (Matt. 24:15).[4]  Hierdie dinge het volgens God se bepaling gebeur (v.27).  Hy sou sy toorn oor die verwoeste stad en tempel uitstort (v.27).

 

Wat beteken v.27 vir ons lewens?  My studie van hierdie vers lei my nie om die Antichris te vrees nie, maar om met ‘n dankbare hart Jesus se dood in die nagmaal te herdenk.  Toe Hy die beker vir sy dissipels gee het Hy gesê: “Drink almal daaruit.  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Matt. 26:27-28).

 

Dít is die sterk verbond waarvan ons in v.27 lees.  Omdat dit sterk is staan jou redding vaster as die Himalayas – jy kan dit nie verloor nie.  Niemand kan jou uit God se hand ruk nie (Joh. 10:28-29).  Dalk voel dit partykeer vir jou of jou hand gly, maar God se verbond en greep is sterk; Hy sal jou nie los nie.

 

Laat dit jou vertroos as dit vir jou voel of die lewe teen jou is: God is vír jou.  ‘n Klein kind dink dat niemand teen hom kan wees as sy pa by hom is nie.  Ons weet egter dat dit nie so is nie.  Maar met God is dit anders: “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31).  Net soos wat sy wiskunde Hom nie kan faal nie, sal Hy nooit die mense faal wat in sy Seun glo nie.

 

[1] Kenneth Gentry, Perilous Times, Covenant Media Press, Texarkana: AR, 1999, p. 16

[2] Daar is nie ‘n jaar 0 tussen 1 v.C. en 1 n.C. nie.

[3] Onthou dat Jesus nie in die jaar 0 gebore is nie, maar êrens voor April van die jaar 4 v.C. toe koning Herodes die Grote dood is (sien Matt. 2).

[4] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2018/03/24/christene-en-die-groot-verdrukking/