Ou Testamentiese Christenskap

Abraham-and-the-stars

‘n Man in Nelspruit het vir my gesê dat my 2000 jaar oue Christenskap ‘n baba is teen sy Hindoeïsme wat 3500 jaar oud is. Maar hy was verkeerd, want volgens Paulus het God selfs gelowiges in die Ou Testament regverdig verklaar deur geloof in die Messias wat sou kom.

Abraham en ander Ou Testamentiese gelowiges se godsdiens was dus nie Judaïsme nie, maar Christenskap. Die evangelie van Christenskap is so oud soos die sondeval (Gen. 3:15). Die wet en die profete het dit voorspel en daarvan getuig (Rom. 1:2, 3:21). Ons het dus ‘n baie ryk erfenis.

‘Maar wat maak dit saak of die evangelie oud is?’ wonder iemand. Dit maak baie saak. Dit beskerm ons o.a. teen die dwaling wat sê dat die Jode gered kan word sonder geloof in Jesus, omdat God hulle kamtig in die Ou Testament deur die Tien Gebooie gered het. Per implikasie hoef jy dan nie die evangelie met die Jode te deel nie.

‘n Ou evangelie beskerm ons verder teen die dwaling wat sê ons moet terugkeer na die sg. Ou Testamentiese godsdiens van redding deur geloof plus die onderhouding van die Sewendedag Sabbat, die Ou Testament Feeste, die voedselwette, ens.

Maar Rom. 4:1-8 wys dat God selfs Ou Testament gelowiges gered het deur geloof sonder werke (vgl. 3:28). Ons sien dit o.a. in die lewe van twee karakters uit die Ou Testament.

1. Abraham (v.1-5)
As jy in ‘n debat jou opponent se sterkste argument kan afskiet, sal die res van sy argumente soos dominoes val. Paulus het die Jode se sterkste argument teen hulle gebruik en sodoende gemaak dat die res van hulle argumente platval. Hy het gewys dat Abraham uit wie hulle afstam, gered is deur geloof sonder werke (v.1-5). As Abraham deur sy werke reg was voor God kon hy roem en homself op die skouer klop (v.2).

Maar God sal dit nie toelaat nie (3:27, Ef. 2:9). Volgens die Skrif het Hy Abraham deur die geloof geregverdig (v.3, Gen. 15:6). In die konteks van Gen. 15 het God ‘n nageslag soveel soos die sterre aan Abraham belowe. Al was hy te oud om kinders te hê het hy God geglo. God het sy geloof tot geregtigheid gereken (v.3). Wat beteken dit?

Dit beteken nie dat geloof Abraham se bydrae was waardeur hy die hemel verdien het nie, want anders is daar geen verskil tussen geloof en werke nie (kontra v.4). Dit beteken ook geloof die regverdige daad was waarvolgens die Here Abraham gered het nie. In v.5 sê Paulus immers dat God die goddelose regverdig.

Dit beteken eerder dat God die voordele van die komende Messias se lewe en kruisdood in Abraham se rekening inbetaal het. Geloof was die strooitjie waardeur hy die lewende water gedrink het, die drip waardeur hy die medisyne van verlossing ontvang het. Geloof was m.a.w. die kanaal waardeur Abraham God se geregtigheid ontvang het (vgl. Fil. 3:9).

Prakties beteken dit jy moenie kyk hoe groot jou geloof is nie. Om in jouself te kyk vir die oplossing is ‘n kenmerk van elke vals godsdiens op aarde. Ware godsdiens kyk weg van hom- of haarself na Christus. Kyk daarom deur geloof na Hom. Ontvang Hom en sy geregtigheid deur die geloof. Glo dat sy kruisdood voldoende is om jou van God se toorn te red en jou sonde weg te was.

Abraham was so. As God hom deur sy werke gered het, dan is verlossing nie ‘n geskenk nie maar ‘n salaris (v.4, 11:6). Dan het Abraham die hemel verdien en is dit iets wat God hom skuld (v.4). Verlossing is dan ook nie iets wat God doen nie, maar iets wat jy vir jouself doen.

Nee, verlossing is ‘n geskenk wat God gee as jy besef dat jy goddeloos is en Jesus se lewe en kruisdood nodig het om reg te wees met Hom (v.5, 5:6). Eers dán sal God jou geloof tot geregtigheid reken en Jesus se lewe en kruisdood aanvaar asof jý perfek gelewe het en vir jou eie sonde betaal het (v.5).

Die meeste mense aanvaar dit nie, maar wil in hulleself roem en sê dat húlle iets bygedra het tot hulle redding (v.2). Die Bybel noem dit selfregverdigheid. Jesus haat dit en spreek Hom harder daarteen uit as teen prostitusie. Let gerus op hoe Hy die Fariseërs aangevat het, maar genadig was met prostitute en tollenaars.

As jy dus soos die Fariseërs op jou werke en godsdienstige pogings steun, sal God jou dubbel vergeld (Matt. 23). Jy het immers geweet wat reg is, maar jou halfgebakte geregtigheid bo God se volmaakte geregtigheid in Christus verkies (Luk. 12:47-48, 18:9-12).

Maar as jy jou sonde bely, in Jesus glo en erken dat jy goddeloos is, sal God jou met onmiddellike effek vergewe en Jesus se lewe en kruisdood in jou plek aanvaar (v.5, 2Kor. 5:19, 21). Soos met Abraham sal Hy jou geloof tot geregtigheid reken (v.5).

2. Dawid (v.6-8)
Jy het egbreuk gepleeg. Niemand weet daarvan nie. Jy probeer dit al vir ‘n jaar wegsteek. Dit eet jou op – jou gewete pla jou. Jy is bang mense sal uitvind. Jy soek vrede en doen nóg sonde om van jou egbreuk te vergeet, maar dit help nie. Dit maak net dinge erger. Jy weet wat jy móét doen, maar is bang.

Jy weet seker wie ek sopas beskryf het? Dawid. Dit was eers toe hy sy sonde openlik bely wat God hom geseën het en hy weer blydskap en vrede ervaar het. Hy het besef dat hy nie deur sy werke God se guns kan wen nie, en dat dit ook nie sy sonde kan uitbalanseer nie. Toe hy besef dat sy geregtigheid nie voor God tel nie, het hy die geregtigheid van God gesoek. Hy het die seën daarvan sonder sy goeie werke deur die geloof ontvang (v.6).

Blydskap oor hierdie seën is duidelik sigbaar by nuwe bekeerlinge wie se sonde vergewe is en wie se gewete skoon is (Hand. 8:39, 1Joh. 2:12). Dit voel vir hulle of ‘n berg van hulle skouers af is.

Dit is wat John Bunyan wou illustreer toe hy in Pilgrim’s Progress vertel hoe Christen se sondelas by die kruis van sy skouers afgeval het. Dit is ook wat my swaer vir my gesê het toe hy tot bekering kom. En dit is die punt as Paulus Dawid (Ps. 32:1-2) in v.7-8 aanhaal. Toe Dawid sy sonde wegsteek, het hy geen vrede en seën gehad nie. Hy het dit eers gekry toe hy sy sonde bely en God hom vergewe (v.7).

Dit geld ook vir ons. As jy jou sonde wegsteek sal God jou nie vergewe nie (Spr. 28:13, 1Joh. 1:8-10). Eers as Hy jou sonde vergewe en nie toereken nie, sal jy sy vreugde en seën geniet (v.8). Dit geld nie net vir ongelowiges wat hulle bekeer nie, maar vir gelowiges wat soos Dawid afdwaal en terugkeer. God sal jou herstel en met blydskap vul (Ps. 51:10, 14).

God sal jou sondige hart en rekord skoon was. A.g.v. die kruis sal Hy die sonde nie teen jou hou nie, maar jou vergewe. Dit maak nie saak hoe groot jou sonde is nie: as jy in Jesus glo sal God dit bedek (1Kor. 6:11, 9-10).

The deepest sin can’t rise above
Calvary’s love.
-Steve Green-

His blood can make
the foulest clean.
-Charles Wesley-

The vilest offender who truly believes,
that moment from Jesus a pardon receives.
-Fanny Crosby-

Dink bv. aan die dief wat langs Jesus aan die kruis was: Jesus het hom onmiddellik vergewe. Dit is ook waar van Paulus toe hy op die Damaskuspad tot bekering kom. Ek dink ook aan George Müller wat voor sy bekering geld gesteel het, ‘n dronkaard was, losbandig gelewe het, leuens vertel het, bedrog gepleeg het en mense gekul het [The Autobiography of George Müller (Whitaker House: New Kensington, 1985), 10-21]. Net so kan die Here jou in ‘n oomblik red, vergewe en nuut maak.

Bring daarom die sonde wat jou gewete pla en jou lewe misrabel maak na Hom toe: die bitterheid, navolgling van vals lering, biddeloosheid, dronkenskap, pornografie, seksuele immoraliteit, angs, vrees, egskeiding, woede, jaloesie, hoogmoed, oneerlikheid, diefstal, leuens, disrespek vir jou ouers, onbetrokkenheid in jou kinders se lewens, versaking van jou lewensmaat, verslawing, luiheid, murmurering, ens.

Kom vandag na Jesus toe. Hy sal al jou sonde bedek en jou skoon was met sy bloed (v.7, Jes. 1:18, 1Joh. 1:7). Dit geld vir die diepste sonde in jou verlede, jou hart, jou begeertes, jou natuur, jou denke, ens. Jy sal nie meer in die rooi wees nie – God sal jou skuld geheel en al afskryf. Daar is geen fynskrif of ander voorwaardes nie. Ontvang eenvoudig God se vergifnis en geregtigheid as ‘n gratis geskenk van sy genade.

As jy dit doen sal jy besef dat Ou Testamentiese Christenskap nie ‘n fossiel van die ou tyd is nie. Dit is nie iets wat saam met die dinosourusse uitgesterf het nie. Dit is ook nie iets wat net in die hemel leef waar Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Moses, Elia, ens. by Jesus is nie (Matt. 8:11, 17:3, 22:32, Luk. 16:23). Dit is vandag nog so lewend soos wat dit in hulle tyd was.

Dit is soos die coelacanth. Mense glo dat hierdie vis 70 miljoen jaar gelede uitgesterf het (nie dat ek in miljoene jare glo nie). Maar in 1938 het hulle ‘n lewende coelacanth teen die kus van Suid-Afrika naby Oos-London gevind.

Soos die coelacanth is Christenskap (wat al van Genesis af kom) ‘alive and well’. Christene is egter nie soos hierdie vis waarvan daar net ‘n paar honderd oor is nie. Trouens, dit is stadig maar seker besig om uit te brei. Voor die wederkoms sal die godsdiens van Abraham die wêreld oorneem: “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes. 11:9).

Wat doen die Here vir jou en wat moet jy vir Hom doen?

God has not forgotten you

Nick is 4 jaar oud. Sy pa is $50 biljoen sterk. Hy is bly dat sy pa so goed vir hom sorg. Om dankie te sê breek hy sy spaarvarkie oop, en gee hy al sy geld – $150 – vir sy pa.

Om die Here te dank vir alles wat hy vir jou doen is so. Wat sal jy vir Hom gee: geld? Dit kom in elk geval van Hom af (1Kron. 29:14). Wat van geskenke? Hy het dit vir jou gegee (Jak. 1:17). Dalk jou diens? Dit is uit Hom (1Kor. 4:7). Wat van jou lewe? Hy het dit vir jou gegee (Hand. 17:25). Sê eerder net dankie, prys Hom en geniet Hom. Dit sal Hom verheerlik. Dit is wat Jes. 44:21-28 vir ons leer.

1. Wat moet jy vir die Here doen? (v.21-23)

[a] Onthou Hom (v.21)
Het jy al ooit jou kinders getugtig en gevra: ‘Hoekom het jy dit gedoen?’ Wat antwoord hulle? ‘Ek het vergeet.’ Maar jy het twee dae gelede vir hulle gesê om dit nie te doen nie.

Ons is soos kinders en vergeet maklik (Ps. 106:4, 13, 21, 45, 2Pet. 1:12-15). Daarom moes die Here sy volk herinner dat afgodery dwaas is, en dat Hy die ware God is (v.6-20, 21). Hy het hulle uit Egipte gered om sy kneg te wees (v.21). Die mens vorm afgode (v.12-13), maar die Here het sy volk gevorm (v.21).

God vergeet nie soos ons nie, maar sal sy volk nog in die toekoms onthou (v.21, 49:15, Ps. 105:8, Rom. 11:28-29). Dit geld vir elkeen wat glo. Sal die Here ‘n mossie onthou en van jou vergeet (Luk. 12:6-7)?

Hy onthou jou gebede. Hy onthou jou wanneer jy bang is. Hy onthou as jy deur beproewings gaan. Hy vergeet jou nie wanneer jy sonde doen nie, maar tugtig jou sodat jy na Hom toe sal terugkeer. Hy sal jou ook op jou sterfbed onthou (Luk. 23:42-43).

Soos wat die Here jou onthou moet jy Hom onthou en gehoorsaam. As jy Hom vrees sal Hy jou naam in die boek van herinnering skryf (v.21, Mal. 3:16). Hy sal jou m.a.w. onthou.

Onthou ook die Here wanneer jy die nagmaal gebruik: ‘doen dit tot my gedagtenis’ (1Kor. 11:24-25). As jy vir geen rede van die nagmaal af wegbly nie, sal jy die Here vergeet. Doen eerder goed, dien die Here, en vra Hom om jou te onthou (Neh. 13:14, 31, Heb. 6:10).

[b] Keer terug na Hom toe (v.22)
Het jy jouself al ooit geflous deur warm aan te trek as jy ‘n miswolk in die oggend sien? Teen 10:00 vrek jy as die miswolk in die son se hitte verdamp. So het God Israel se sonde uitgewis: soos ‘n wolk of miswolk voor die son (v.22). Jesaja het God se verlossing en gewillige vergifnis as motivering vir die afvallige volk gebruik om hulle te bekeer (v.22).

Sal die Here jou terugneem en vergewe? Jesus het gesterf om jou sonde onder sy voete te vertrap, in die diepste see te gooi, en van jou af weg te vat so ver soos die ooste en die weste van mekaar verwyder is (Miga 7:19, Ps. 103:12). Die Here onthou ons, maar Hy onthou nie ons sonde teen ons nie (v.21-22, 43:25).

God het die inisiatief geneem om ons te vergewe. Hy het ons lief. Hy het sy lewe vir ons gegee. Hierdie dinge wys dat Hy meer as bereid is om jou te vergewe (v.22, Rom. 5:8). God sal jou vergewe as jy na Hom toe terugkeer (Luk. 24:47, 1Joh. 1:9). En tog baseer Hy nie sy vergifnis op jou bekering nie, maar op Jesus se kruisdood (v.22, Ef. 1:7, 1Joh. 1:7).

Geen god kan verlos en vergewe soos Hy nie (v.22, 17, 20). Jy hoef nie te vrees of skaam te voel om terug te keer nie. Kom vrymoedig en bely jou sonde, al is dit ook hoe groot. As God die moord op sy Seun kan vergewe, kan Hy enige sonde vergewe (Luk. 23:34, 1Tim. 1:15).

Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n afvallige man wat so vergewe is. Hy was ‘n toegewyde Christen, maar het met ‘n slegte vrou deurmekaar geraak. Hy het sy vrou gelos, die huis onder haar uitverkoop, en die geld gemors. Toe die geld op is, toe die los die slegte vrou hom.

Hy was baie depressief en het geglo dat selfmoord die enigste uitweg is. Hy het na Westminster brug toe geloop en besluit om in die Teemsrivier te spring. Toe hy by die brug kom toe slaan Big Ben 18:30. ‘Martyn Lloyd-Jones will now be just entering his pulpit for his evening service,’ het hy vir homself gesê. Hy het besluit om nog een keer na hom te luister voordat hy sy lewe beëindig.

Hy was binne 6 minute by Westminster Chapel. Toe hy by die kerk instap toe hoor hy hoe Lloyd-Jones hierdie woorde bid: ‘God have mercy upon the backslider.’ Die Here het die man onmiddellik herstel en vergewe. Hy het later ‘n ouderling in ‘n gemeente in Londen geword, en vir ‘n aantal jare getrou gedien. Daarna het hy in oorwinning gesterf en is hy hemel toe [Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers (Grand Rapids: Zondervan Publishing House, 1971), 302-303].

God is bekend vir sy genade aan afvalliges: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” (42:3).

[c] Sing tot Hom (v.23)
‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê dat dit ‘n probleem is as mense na die kerk toe kom maar nie sing nie. Volgens hom is dít erger as iemand wat ‘n minder belangrike leerstelling verkeerd glo. ‘Dit is ‘n geestelike probleem,’ het hy gesê.

Ek is geneig om saam met hom te stem. Die hele skepping (bome ook, vgl. v.13-14!) sing omdat God dit gedoen het: Hy het sy volk verlos (v.23, Ps. 22:32, 148:1-14, Joh. 19:30, Op. 5:9-14). En kan die verlostes dan stilbly en Hom nié prys nie (v.23, Ef. 1:6, 12, 14)?

Moet asb. nie prewel wanneer jy die Here prys nie. Moenie stilbly as ons sing nie. Vra ook die Here se hulp dat jy nie dagdroom as ons sing nie. Sing uit jou hart en met blydskap tot die Here (Ps. 95:1-2). Gebruik alles wat jy het om Hom te prys (Ps. 150).

Pasop ook vir ‘n verkeerde gesindheid wat sê: ‘Ek sing nie saam as dit Engels is nie… Ek sing nie as dit ‘n ou lied is nie… Ek sing nie as ons nuwe liede sing nie… ens.’ Sing asb. saam as die lied Bybels is en die wysie nie afbreek doen aan die woorde nie. God juig en sing oor jou (Sef. 3:17). En sal jy dit nie oor Hom doen nie (Sef. 3:14)?

2. Wat doen die Here vir jou? (v.24-28)

[a] Hy het jou en alles geskep (v.24)
Ek verpes ‘n sentimentele, mens-gesentreerde, oppervlakkige, Facebook Christenskap waarin die mens die belangrikste is. God het alles tot sý eer en vir sý plesier geskep (Ps. 19:2, Op. 4:11). En tog vergeet Hy ons nie, maar het Hy alles geskep sodat ons dit kan geniet. “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” (Ps. 115:16).

Hy het Israel in die moederskoot gevorm (v.24, kontra v.12-13). Hy het ook die hemel, die aarde en alles in die skepping gevorm (v.24, 42:5, 40:22). Hy het voor Gen. 1:1 bestaan en dus sonder die hulp van ‘n engel, afgod of mens geskep (v.24).

Soos die Here Israel geskep het (v.24), het Hy jou in die moederskoot gevorm (Ps. 139:13). Hy het jou vir Homself geskep, maar a.g.v. jou en my sonde leef ons vir onsself en nie tot sy eer nie (Rom. 3:23). As Hy wou kon Hy ons afskryf. Hy het egter ‘n plan gemaak om ons te red. Deur sy lewe en kruisdood het Hy die straf gevat wat ons verdien, en die rekord voorsien wat ons kort (2Kor. 5:21).

Hy wederbaar ons, stel ons instaat om te glo en ons te bekeer, verklaar ons onskuldig en regverdig, vergewe ons, neem ons aan, maak ons heilig, en kry die hemel vir ons gereed. Jy behoort dus twee keer aan die Here: deur skepping en verlossing. Kan jy dan nog vir jou sonde en jouself lewe?

Nog ‘n woord van toepassing: sal jy vir ‘n polieke party stem wat geen respek toon vir die lewe wat God in die moederskoot vorm nie, maar dit deur aborsie beëindig? Op grond van die Skrif wil ek jou aanmoedig om nie vir sulke partye te stem nie. “[Moenie] met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” (1Tim. 5:22).

[b] Hy verkleineer waarsêers (v.25)
Toe ek ‘n student was het ‘n charismaat geprofeteer dat ons gemeente binne twee jaar sou verdubbel. Twee jaar later het die kerk geskeur. God verneder sulke mense deurdat hulle voorspellings nie uitkom nie (v.25). Die Here wil wys dat Hy en nie hulle nie, die toekoms beheer (43:22-23). Hy wys dat hierdie sg. wyse manne se kennis niks is nie (v.25, 1Kor. 1:19-20).

Moet dan nie wysheid oor die toekoms by ‘n ongelowige berader, palmleser, jou sterretekens, ens. soek nie. Soek eerder wysheid in gebed en die Woord. Alle kennis en wysheid is immers verborge in God en sy Seun (8:19-20, Spr. 2:6, 1Kor. 1:24, 30, Kol. 2:3).

[c] Hy vervul sy Woord (v.26-28)
Die amptelike webblad van die Ahmadiyya Moslem gemeenskap glo dat die Koran akkuraat profesieë bevat. Maar wanneer jy dit lees is beide die profesieë en sg. vervullings vaag.

Die webtuiste haal bv. Sura 41:21 aan en sê dat dit vingerafdrukke voorspel: ‘Their skins will bear witness against them as to what they have been doing’. Hulle sê ook uit Sura 51:8 (eintlik 51:7) dat die Koran vliegtuie voorspel: ‘And by the heaven full of tracks’ [https://www.alislam.org/library/articles/fulfilled-prophecies-of-holy-quran/].

Die Bybel is nie vaag nie, maar voorspel en vervul dinge tot op die letter (v.26). Jesaja het bv. voorspel dat Israel ná die ballingskap weer in Jerusalem sou bly, asook dat die verwoeste stede van Juda herbou sal word (v.26).

Net soos wat God die Rooi See en Jordaan rivier opgedroog het toe Hy sy volk uit Egipte verlos en in die Beloofde Land inlei, sou Hy koning Kores van Persië stuur om Israel uit Babilon te bevry (v.27-28). God het Kores se naam en missie 150 jaar voor hy gebore is voorspel (v.28, vgl. 1Kon. 13:2)!

Kores was God se herder wat Israel uit Babilon bevry het, net soos wat Moses en Aäron die volk soos skape uit Egipte gelei het (v.28, Ps. 77:21). Volgens Jesaja sou Jerusalem en die tempelfondasie onder die bevel van Kores herbou word (v.28). Dit is 150 jaar na Jesaja in Esra en Nehemia se tyd vervul.

Sover ek kan sien is daar in hierdie verse drie lesse wat uitstaan:

  • Die Bybel is akkuraat en betroubaar (v.26, 28). God lieg nie, maar doen wat Hy belowe (Num. 23:19). Lees daarom jou Bybel sonder om te twyfel.
  • God beheer konings (v.28). “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spr. 21:1, vgl. Esra 1:1, 6:22, 7:27). Moenie vir Julius Malema vrees nie.
  • God beheer die geskiedenis om sy volk te bevoordeel, al lyk dit nie altyd so nie (v.28). Rom. 8:28 (‘Alles werk ten goede mee…’) geld nie net vir individuele gelowiges nie, maar vir die kerk in haar geheel.

Jesaja en die res van die Bybel fokus nie op wat jy vir die Here kan doen nie. Jy moet eers leer wat Hy vir jou gedoen het voordat jy daarop kan reageer. Dit is bv. wat Paulus in Romeine doen. Vir 11 hoofstukke wys hy wat God vir ons gedoen het. Eers in Rom. 12:1 sê hy hoe jy daarop moet reageer:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”

Die krag van gebed

The Power of Prayer

In 2013 het ek in ‘n preek gesê dat beantwoorde God se bestaan bewys.  ‘n Ateïs het op die preek gereageer en gesê dat gebed nie beantwoord word nie.  ‘Die feit dat jý dit nog nie ervaar het nie, beteken nie dat dit nie gebeur nie,’ het ek teruggeskryf.

 

Ek en elke ander gelowige kan persoonlike en spesifieke voorbeelde van beantwoorde gebed gee.  My dogter het verlede Sondag in die biduur gevra dat die Here nuwe mense na die aanddiens toe moet stuur: ‘Here, sal U asb. gee dat hulle tuis voel en deel word van die gemeente, al was hulle dalk al by ander gemeentes waar hulle nie tuis gevoel het nie,’ het sy gebid.

 

‘n Gesin wat al ‘n paar keer gekom het was daar.  Hulle het na die diens met my gepraat.  ‘Ons voel tuis by julle gemeente en wil graag deel word; ons was al by ander gemeentes, maar het nie tuis gevoel nie,’ het hulle gesê.  Die Here het my dogter se gebed spesifiek beantwoord.

 

Net soos wat die Here klein gebede beantwoord, beantwoord Hy grotes.  Ons aanbid ‘n God “wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Ef. 3:20).  Jak. 5:16b-20 is een van vele tekste wat hierdie waarheid onderstreep.

 

  1. Die gebed van die regverdige (v.16b)

‘n Skatryk Christen sakeman in Pretoria se besigheid was besig om te vou.  Hy het vir Martin Holdt gebel.  Nadat hulle Josafat se gebed in 2Kron. 20 bespreek het, het Martin voorgestel dat hulle oor die saak vas.  Die sakeman het sy Christen werknemers gevra om saam te vas.

 

Die dag nadat hulle gevas het toe bel die sakeman vir Martin.  ‘My besigheid het gratis publisiteit op ‘n internasionale nuuskanaal gehad!’ het hy gesê.  ‘Die fone hou nie op lui nie; ons kan nie voor bly met al die werk nie!’

 

Gebed is kragtiger as wat ons besef: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” (v.16b).  Die Grieks kan ook beteken: ‘Die gebed van die regverdige het groot krag as dit in werking tree.’  Jakobus sê m.a.w. dat gebed nie kragtig is wanneer ons boeke daaroor lees luister nie, maar as ons dit doen (1:22).

 

En tog werk dit nie vir selfregverdige en onregverdige mense nie (Spr. 15:8, 29, 28:9, Jes. 1:15, 59:2, Sag. 7:13, Matt. 6:5, 1Pet. 3:12), maar vir regverdiges (v.16b, 1Pet. 3:12).  Wie is regverdig?  As jy jou van jou sonde bekeer en in Jesus glo, verklaar God jou regverdig (Rom. 3:28, 4:5, 2Kor. 5:21, Fil. 3:9).  Die Heilige Gees stel jou ook in staat om regverdig te lewe (Rom. 8:4).

 

Dit is m.a.w. Christene wie se gebede beantwoord word.  As die Here jou nie antwoord nie is dit omdat jy selfregverdig of onregverdig is.  Lees Romeine en Johannes en vra die Here om vir jou te wys wie jy is.  Lees dit weer ‘n keer en vra Hom om vir jou te wys wie Hy is.  Bekeer jou van wie jy is en glo in wie Hy is.

 

As jy dit gedoen het sal uit persoonlike ervaring kan getuig dat die gebed van die regverdige groot krag het (v.16b).  In antwoord op gebed help die Here mense wat ly (v.13), genees Hy siekes (v.14-15) en vergewe Hy sondaars (v.16a).

 

Maar eintlik is dit nie die inhoud van ons gebede of die aksie daarvan wat krag het nie, maar die Een tot wie ons bid.  Die rede hoekom niks onmoontlik is vir die mens wat in geloof bid nie (Matt. 17:20, 21:21-22, Mark. 9:23-24, 11:22-24, Luk. 17:5-6), is omdat niks onmoontlik is vir die God tot wie ons bid nie (Jer. 32:17, 27, Matt. 19:26, Luk. 1:37).

 

Dit beteken dat die moontlikhede oneindig is, ver bo wat ons kan bid of dink.  Wat is jou behoefte?  Sê dit vir die Here.  Maak egter eers seker van die volgende:

 

  • Bely jou sonde en bekeer jou daarvan. “As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.” (Ps. 66:18).
  • Probeer om gebroke verhoudings te herstel en vergewe dié wat teen jou gesondig het (Matt. 5:23-24, Mark. 11:25-26, 1Pet. 3:7).
  • Kry ‘n belofte om aan vas te hou en herinner die Here daaraan (Jes. 62:6-7). Bid m.a.w. volgens sy wil (1Joh. 5:14-15).
  • Glo dat God sy beloftes hou en dat Hy jou sal help (Jak. 1:6-7).
  • Volhard (Luk. 18:1, 7).

 

As jy die bg. dinge in plek het geld Jesus se beloftes in Joh. 15:7, 16:23: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry… alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.”

 

  1. Elia se gebed (v.17-18)

Die Jode het Elia as ‘n soort supermens beskou.  Op sy woord het God die reën vir 31/2 jaar teruggehou en dit daarna weer op die aarde laat val (v.17-18, 1Kon. 17:1, 18:1, 42, Luk. 4:25).

 

Op sy woord het die weduwee se meel en olie nie opgeraak nie, is ‘n dooie opgewek, het vuur uit die hemel die offer en later die koning se soldate verteer, en is hy nie dood nie maar met ‘n strydwa van vuur in die hemel opgeneem (1Kon. 17-18, 2Kon. 1-2).  Verder het die Jode hom voor die groot dag van die Here verwag (Mal. 4:5).

 

Maar volgens Jakobus het God hom nie verhoor omdat hy uniek was nie.  Hy was ‘n mens met swakhede en gebreke soos ons (v.17, 1Kon. 19, vgl. Hand. 10:26, 14:15).  Hoekom het die Here hom dan verhoor?

 

Hy het ernstig gebid (v.17, Hos. 12:4, Kol. 4:12).  Hy was soos ‘n sekere ds. André Erasmus van wie Martin Holdt ons vertel het.  Martin het ‘n reeks dienste by ds. Erasmus se kerk gaan hou.  Die gemeente was verdeeld.  ‘Sal jy asb. saam met my hiervoor bid?’ het ds. Erasmus hom gevra.

 

‘Ek het vir omtrent 5 minute gebid en toe opgehou,’ het Martin gesê.  Ds. Erasmus het begin.  ‘n Halfuur later het hy nog steeds gebid.  ‘My knieë het seer geraak,’ het Martin vertel.  ‘‘n Uur het verbygegaan en toe ‘n uur en ‘n half.  Hy was steeds besig om die poorte van die hemel te bestorm.’

 

Na twee ure het ds. Erasmus se vrou aan die studeerkamer se deur kom klop.  ‘André, daar is telefoon,’ het sy gesê.  Dit was 23:00.  Die ander groep het gebel en bely dat hulle verkeerd was.  ‘Vergewe ons,’ het hulle gevra.  Die Here het ds. Erasmus se gebed verhoor.  Maar dit het nie maklik gekom nie.  Soos Elia moes hy ernstig bid (v.17).

 

Elia kon ernstig bid, omdat hy geweet het die Here sal hom verhoor.  Hy het op tekste soos Deut. 28:15, 23-24 gesteun: “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal… jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.  Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.”

 

So het een man se gebed die land se weerpatrone, ekonomie, landbou, veeboerdery, ens. beïnvloed.  Presies 31/2 jaar later toe sê die Here vir Elia dat Hy reën gaan stuur (v.17-18, Kon. 18:1).  Hy het God se Woord geglo en daarvoor gebid (1Kon. 18:42).  Toe die Here reën gee het die grond sy plante, vrugte en gewasse voortgebring (v.18, 1Kon. 18:45).

 

Maar weereens het dit nie dadelik gekom nie.  Hy moes ernstig in gebed volhard.  Volgens 1Kon. 18:41-45 het hy sewe keer gebid.  Die Here se belofte in 1Kon. 18:1 het gemaak dat hy nie na die eerste keer ophou nie, maar volhard.

 

Toe die antwoord kom het almal geweet dat dit nie Baäl is nie, maar die Here (1Kon. 18).  Net die ware God kan reën gee: “Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o HERE onse God? En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” (Jer. 14:22).

 

Dus het die Kaap nie onlangs reën gekry a.g.v. die gewone reën-droogte siklus nie.  Dit was nie die Illuminati met hulle sg. basis in Alaska wat die weer beheer nie.  Dit is ook nie Kenneth Copeland of die res van die Word of Faith ‘clan’ wat lewe spreek en die weer beheer nie.

 

God beheer die weer; dit is Hý wat reën stuur (Ps. 104:13, 147:8, Job 5:9, 36:27-37:13).  Hoe doen Hy dit?  As 25 mm reën op 260 hektaar of 2.6 km2 val, is dit 66 miljoen liter water.  Waar kom die water vandaan?  Dit moet uit die see verdamp en deur kondensasie om stof partikels wat 0.00001 cm wyd is saampak.

 

Dit is hoe wolke vorm.  Die wolke beweeg vir ‘n paar 100 km van die see af binneland toe.  Deur ‘n magnetiese en elektriese proses pak die klein waterdruppels saam en vorm dit groter druppels.  Die druppels moet swaar genoeg wees om tot op die aarde te val, maar nie so swaar dat dit die plante stukkend slaan nie.[1]

 

Hoe groot is die God wat hierdie dinge doen, en hoe kragtig die gebede waarop Hy gunstig reageer?  Omtrent 200 jaar gelede was daar ‘n kwaai droogte in Amerika.  ‘n Baptiste leraar genaamd Stephen Gano het die Here gesmeek om die droogte te breek.  Toe ‘n paar jong mense sy gebed hoor, het hulle gesê: ‘We must hasten home; for after such a prayer, the rain will overtake us.’  Binne ‘n uur het die reën in emmers neergesak.[2]

 

Laat my asb. toe om enkele voorbeelde uit my eie ervaring te deel, sodat niemand dink sulke dinge gebeur nie vandag nie.  Mense in ons gemeente het ‘n wildsplaas op Thabazimbi.  Tydens die droogte in 2015 het die vrou my gevra om ernstig saam te bid dat dit op die plaas sal reën.  Daar was nie ‘n kans vir reën nie.

 

Ek het die Here gesmeek en Hom aan Matt. 5:45 herinner: “[God] laat reën op regverdiges en onregverdiges.”  Die volgende oggend toe stuur die vrou vir my ‘n boodskap: ‘Dit het gereën!  Dit het gereën!’

 

In Nov. 2016 het weerkenners gesê dat die land se damme 5 jaar sal vat om vol te word.  Ek het vir ‘n ongelowige vriend gesê dat ek oor die droogte gaan preek.  Drie dae later het ‘n storm uitgebreek en het ons binne een uur 90 mm gehad.  My vriend het vir my ‘n boodskap gestuur: ‘Waaroor het jy Sondag gepreek!?’  Drie maande later het die Vaaldam oorgeloop.

 

‘n Man in ons gemeente vertel hoe sy skoonpa in Zimbabwe op die plaas vir sy werker gesê het: ‘Die tabak op hierdie land is besig om te vrek; ons moet vir reën bid.’  Hulle het gebid.  Die wolke het opgebou en net op daardie stuk land geval.

 

Terwyl ek in die week besig was om my preek voor te berei, het ek vir die Wes-Kaap gebid.  Die volgende oggend toe stuur ‘n kollega ‘n foto van sy reënmeter wat 60 mm opgevang het.  ‘Die hele wêreld hier by ons is onder water.  Ons harte loop oor van dankbaarheid,’ het hy gesê.  Nóg ‘n leraar uit die Kaap het op die groep gesê: ‘Lekker baie by ons in Belville gereën… 5 ure gestortreën… Baie dankbaar.’

 

Sulke stories wys vir my dat v.17-18 nog steeds gebeur.  Dit spoor my ook aan om verder vir die Wes-Kaap te bid: “Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.” (Sag. 10:1).

 

Glo jy dat die Here jou sal verhoor en dat jou gebede so effektief soos Elia of ander sg. ‘super geestelike’ Christene s’n is?  Bewys jou geloof en bid.  ‘Real faith is manifested by prayer’ (George Müller).[3]  Glo dat die Here sy beloftes vervul.

 

Moenie soos baie mense dink dat ons gebede ‘n onwillige God se arm beweeg nie.  Die heidene bid so: hulle dink dat langer gebede of meer mense wat saam bid die kans op ‘n antwoord verbeter (1Kon. 18:26-29).  Maar om so te bid verheerlik nie die Here nie.  Ons moet eerder Jesus se woorde in Matt. 6:7-8 onthou:

 

“En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.”

 

God is gewillig om ons te antwoord.  Eintlik begin alles by Hom.  As Hy beplan om iets uit te voer lê Hy dit op ons harte en lei Hy ons om daarvoor te bid (Rom. 8:26-27, 34).  En as ons daarvoor bid kan ons ‘n antwoord verwag (1Joh. 5:14-15).

 

In 1Kon. 18:1, 41-45, 2Sam. 7:27, Eseg. 36:37, Dan. 9:2-3, Sag. 12:10 het ons voorbeelde van hoe die Here beplan om iets te doen en mense opwek om daarvoor te bid.  Wees daarom sensitief vir Bybelse beloftes en laste wat die Here op jou hart lê.  Moet dit nie ignoreer nie, maar bid daarvoor.  ‘Where God leads you to pray He means you to receive.’

 

  1. ‘n Gebed vir sondaars (v.19-20)

Ernest Reisinger (1919-2004) was ‘n Amerikaanse Baptis.  Nadat sy seun die Here getrou gedien het, het hy vir byna 20 jaar van die Here af weggedwaal!  Ernest het met sy seun gepraat en aangehou om vir hom te bid.  Sy seun het na die Here toe teruggekeer.[4]

 

William Carey (1761-1834) se seun Felix het die Here leer ken en Hom getrou gedien.  Maar toe sy vrou en kind sterf het hy homself oorgegee aan drank.  Sy pa het briewe vir hom geskryf en na drie jaar het hy na die Goeie Herder toe teruggekeer.[5]

 

Dit is waarvan Jakobus in hierdie verse praat.  Bid vir die skaap ‘onder julle’ (v.19, 13-14) wat sy rug op die waarheid gedraai het en nie meer daarvolgens lewe nie (v.16a, Luk. 22:32).  Doen ook moeite om Hom na die Herder, waarheid en gemeente toe terug te bring (v.19-20).

 

Dit is elke gelowige se plig, en nie net die predikant s’n nie (v.19-20).  Die Here kan selfs ‘n kind gebruik om dit te doen.  Charles Spurgeon se oupa was ‘n predikant.  Een van sy lidmate – ‘n sekere mnr. Roads – het gedurig in die kroeg gaan drink.  Dit het die ou mnr. Spurgeon se hart gebreek.

 

Jong Charles (wat toe nog maar ‘n kind was) het gesien dat dit sy oupa bedroef.  Hy het in die kroeg ingestap en vir Roads gesê: ‘What doest thou here, Elijah? sitting with the ungodly; and you a member of a church, and breaking your pastor’s heart.  I’m ashamed of you!  I wouldn’t break my pastor’s heart, I’m sure.’

 

Spurgeon se woorde het die man tot sy sinne gebring, sodat hy sy sonde aan die Here en sy predikant bely het.  Daarna het mnr. Roads tot aan die einde van sy lewe die Here gedien.[6]

 

Om die afgedwaalde na die Here toe terug te bring moet jy die proses in Matt. 18:15-17 of 1Kor. 5 volg.  Bid ook dat die Heilige Gees die persoon se oë sal oopmaak (Matt. 18:19, 1Joh. 5:16a).  Wees sagmoedig, vol van liefde en nederig as jy dit doen (Gal. 6:1-2).

 

As jy die persoon van sy dwaalweg af terugbring sal jy sy siel van die ewige dood red, en sal Jesus se bloed sy menigte sondes bedek (v.20, Ps. 32:1-2, 1Joh. 1:7, 9).  Bid daarom vir jou rebelse kinders en kleinkinders; bid ook vir ongehoorsame lidmate wat weggedwaal het.

 

Sommige dink dat v.19 van gelowiges praat, terwyl v.20 van Luk. 15-tipe verlorenes praat.  In daardie geval moet ons bid dat die Here hulle sal red en hulle sal vergewe.  George Müller vertel van ‘n vrou wat vir 38 jaar vir man se bekering gebid het: die Here het hom gered.[7]  Müller self het vir 52 jaar vir iemand se bekering gebid: God het die persoon gered.[8]

 

‘n Tannie in ons gemeente het iemand ontmoet wat gered is nadat sy vriend vir 40 jaar vir hom gebid het.  ‘n Evangelis genaamd D.L. Moody (1837-1899) het ‘n ateïs ontmoet en vir sy bekering gebid.  Die man het vir hom gelag.  ‘n Jaar later toe sien Moody hom.  ‘Het die Here al my gebed verhoor?’ het hy gevra.  ‘Daar is geen God nie,’ het die man gesê.  Moody het aangehou om vir hom te bid.  ‘n Tyd later toe hoor hy dat die man tot bekering gekom het, en dat 17 ateïste sy voorbeeld gevolg het.[9]

 

Vir wie se bekering bid jy?  Herinner die Here aan tekste soos Eseg. 18:32, Joh. 3:17, 1Tim. 2:4, 2Pet. 3:9, 1Joh. 5:14-16.  Sorg net dat jy die Here se eer voor oë hou.

 

Martin Holdt het ons van ‘n pa en ma vertel wat vir hulle dogter se bekering gebid het.  Niks het gebeur nie.  Om uit te vind wat fout is het hulle gevas.  ‘Julle bid uitsluitlik vir julle dogter se redding omdat julle nie wil hê sy moet hel toe gaan nie,’ het die Here dit aan hulle duidelik gemaak.  ‘Julle bid nie omdat julle Mý wil verheerlik nie.’  Toe die ouers hulle fokus verander het hulle dogter binne ‘n maand tot bekering gekom.

 

God se heerlikheid moet die fokus van al jou gebede wees.  Is dit nie miskien hoekom sommige van ons gebede nog nie beantwoord is nie: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jak. 4:3)?  Bid eerder volgens Jesus se fokus in Joh. 14:13: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.”

 

[1] John Piper, Taste and See, Multnomah Publishers, Sisters: Oregon, 1995, pp. 24-26

[2] Iain Murray, Revival and Revivalism, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1994, p. 304

[3] The Autobiography of George Müller, Whitaker House, New Kensington: PA, 1985, p. 92

[4] Geoffrey Thomas, Ernest C. Reisinger: A Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2002

[5] S. Pearce Carey, William Carey, The Wakeman Trust, London: England, 1993 (1923), pp. 320-323

[6] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1962 (1897-1900), pp. 11-13

[7] Müller, p. 93

[8] Andrew Murray, The Prayer Life, Whitaker House, Springdale: PA, 1981, p. 123

[9] E.M. Bounds, Purpose in Prayer, Baker Book House, Grand Rapids: Michigan, 1991, pp. 98-99

‘n Waarskuwing aan Edomiete en Afrikaners

Groot kerk

‘n Groot groep mans, vroue en kinders wil deur Suid-Jordanië reis.  ‘Kan julle asb. vir ons ‘n bietjie water gee?’ vra hulle: ‘ons sal daarvoor betaal.’  Die mense weier en dreig hulle met die dood (Num. 20:14-21).  Die groep het omgedraai en verder gereis.

 

Toe hulle by hulle bestemming kom, het die mense van Suid-Jordanië alewig dinge vir hulle moeilik gemaak (1Sam. 14:47, 2Sam. 8:14, 1Kon. 11:14, 2Kon. 8:20, 14:7, Amos 1:11).  Toe ‘n ander sterk weermag die groep aanval, was die mense van Suid-Jordanië bly (Ps. 137:7, Obad. 10-12).  Hulle het gehelp om die groep se kamp te plunder, vlugtelinge vermoor, en oorlewendes aan die weermag oorhandig (Obad. 13-14).

 

Die groep se Leier het besluit om wraak te neem.  Hy het die mense van Suid-Jordanië uitgewis, sodat wilde diere die land oorgeneem het (Jes. 34).  Wat dink daarvan?

 

Wat as ek vir jou sê dat die groep Israel is, die mense van Suid-Jordanië Edom, die weermag Babilon, en die Leier wat vir Edom uitgewis het God?  Aan die een kant verbly ons ons oor geregtigheid.  Ons is bly as rebelse skoliere geskors word, kapers doodgeskiet word, of ‘n terroriste basis opgeblaas word.

 

Maar sodra die Here dit doen, sê ons dat Hy wreed en onregverdig is: ‘Hoe kan ‘n God van liefde onskuldige mense hel toe stuur?’  Maar dit is presies waar ons die fout maak, omdat geen mens onskuldig is nie, en omdat God se liefde nie sy heiligheid en geregtigheid uitskakel nie.

 

Wat die Here in Jes. 34 met Edom gedoen het, sal Hy met ongehoorsame Afrikaners doen.  Jy sal net-nou sien wat ek bedoel.

 

  1. Dagvaardiging en slagting (v.1-7)

Ek het eenkeer ‘n dagvaardiging in die pos gekry.  Ek het my yskoud geskrik en nie geweet waaroor dit gaan nie.  Ek was verlig toe ek sien dat dit by die verkeerde adres afgelewer is.

 

Die dagvaardiging in v.1 is nie by die verkeerde adres afgelewer nie.  God het die nasies gedagvaar en voor sy hof gedaag.  Hy was kwaad en het besluit om hulle met die banvloek te tref, om hulle uit te wis sodat daar van hulle niks oorbly nie (v.2, Jos. 6:21).  Hulle lyke is nie begrawe nie, maar het op die berge ontbind (v.3).  Dit wys dat die Here hulle vervloek het (1Kon. 14:11-13, 2Kon. 9:34-37).

 

Die hemel het vergaan en is soos ‘n boekrol opgerol; die sterre het soos ‘n wingerd of vyeboom se blare geval (v.4).  Volgens v.11-15 sal daar nog diere wees as dit klaar gebeur het, wat beteken dat Jesaja simboliese taal gebruik.  Sy punt is dat die nasies soos sterre en blare sal val, en dat die Here hulle soos ‘n opgerolde boekrol sal neersit (v.4).  Dit is asof Hy die boek van haar geskiedenis deurgelees en tot ‘n einde gebring het.

 

Hy het hemel en aarde met sy swaard getref (v.5).  Hy het besluit om vir Edom uit te wis (v.5).  “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” (Rom. 9:13).  Soos die Here offerdiere met sy swaard geslag het, het Hy die sterk manne van Edom – buffels, stiere en sterk bulle (vgl. Ps. 22:13) – in Bosra geslag (v.6-7, 63:1-6).  God het die offers gebring wat hulle móés bring, maar nie het nie.

 

  1. Vergelding en verwoesting (v.8-17)

‘n Paar jaar gelede het een van ons kinders gevra hoekom die Here mense mag doodmaak, maar ons nie.  ‘Is dit nie moord nie?’ het sy gesê.  Nee dit is nie.  Vir die Here om dood te maak is soos vir ‘n regering om die doodstraf toe te pas, of soos vir die polisie om ‘n misdadiger dood te skiet.

 

Vir Hom was dit heeltemal reg om die Edomiete met die dood te vergeld (v.8).  Ek het in die inleiding gewys dat Hy dit vir sy volk se onthalwe gedoen het (v.8).  Hy het Edom se strome in pik verander, en die grond in swael (v.9).  Soos Sodom en Gomorra was Edom ‘n voorskou van die hel (v.10, 66:24, Jer. 49:17-18, Jud. 7, Op. 14:11, 21:8).

 

Alhoewel Edom vandag as die suidelike deel van Jordanië bekend staan, is daar geen Edomiete meer nie (v.10, Mal. 1:3-4).  Het jy al ooit een ontmoet?  Teen die einde van die Ou Testament was Edom ‘n woestyn vol dorings en distels, onrein diere en demone: ystervarke, uile, kraaie, pelikane, krimpvarkies, jakkalse, volstruise, hiënas, wildehonde, valke wat ander voëls se neste beroof (kuikendiewe), naggeeste en veldduiwels (v.11, 13-15).[1]

 

Volgens v.11 het die Here die land met sy skietlood of waterpas gemeet en dit verwoes.  Hy het dit so vormloos soos voor die skepping gemaak (v.11, Gen. 1:2, Jer. 4:23).  Daar was nie meer prinse, edeles of eers ‘n koninkryk oor nie (v.12).

 

Dié wat Jesaja se profesie betwyfel het kon die res van sy boek deursoek: wat die Here aangaande Edom bepaal het sou gebeur (v.16).  God se Gees sou verseker dat onrein diere die land volgens Jesaja se profesie oorneem (v.16).  Soos God die Beloofde Land vir Israel afgemeet het (Num. 33:54), sou Hy Edom vir die wilde diere afmeet en hulle vir altyd daar laat woon (v.17).

 

Ek glo dat ons Jes. 34 op verskeie maniere kan toepas, maar ek wil op een aspek fokus, nl. versoening.  Hoe vind versoening plaas, en hoe kan die mens reg wees met God?  Hoe kan jy ‘n skoon gewete hê?  Hoe kan jy maak dat die Here nie meer vir jou kwaad is nie?  Hoe kan jy weet dat Hy jou sonde vergewe het?  Hoe kan jy in vrede sterf?

 

Hierdie is vrae waarmee elke mens worstel.  Hoe ons dit egter beantwoord is waar die probleem lê.  Die meeste mense op aarde dink dat jy iets moet doen om reg te wees met God: ‘As jy genoeg goeie werke doen, sal die Here jou vergewe en kan jy in vrede sterf.’

 

Anders as die res glo Christene dat jy niks kan doen om jouself te red nie, maar dat alles genade is.  Verlossing is m.a.w. ‘n gratis geskenk wat die Here vir jou gee – jy kan dit nie koop of verdien nie.

 

Mense het nog altyd op een van die bg. maniere oor verlossing gedink.  Die oomblik toe sonde in die wêreld inkom het die mens self probeer om sy sonde, skuldige gewete en skande te bedek (Gen. 3:7).  Dit het nie gehelp nie, en daarom het Adam en Eva tussen die bome van die tuin vir die Here weggekruip (Gen. 3:8).  Hý moes die offer voorsien sodat hulle sonde bedek en vergewe kon word (Gen. 3:21).

 

Soos sy ouers het Kain self ‘n poging aangewend om God se guns te wen.  Die Here het dit nie aanvaar nie (Gen. 4:3, 5).  Abel was ‘n profeet en het deur direkte openbaring geleer dat hy ‘n offer moes bring (Luk. 11:50-51, Heb. 11:4).  Die Here het hom en sy offer aanvaar (Gen. 4:4).

 

Soos Abel het Noag, Abraham, Isak, Jakob en sy nasate altare vir die Here gebou (Gen. 9:20, 22:13, 26:25, 35:7, Eks. 5:3).  Die Here het vir hulle geleer dat hulle sonde die dood verdien, maar dat Hy ‘n dier sal gee om in hulle plek te sterf: “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.” (Heb. 9:22).

 

Al hierdie offers het heengewys na die Finale Offer waardeur God sy volk se sonde sou wegneem: “jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos… Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Matt. 1:21, Joh. 1:29).

 

Jesus is die Plaasvervanger wat in ons plek sterf (53:4-6).  God se swaard het Hom getref, sodat dit jou nie hoef te tref nie (v.5-7).  As jy erken dat jy teen God gesondig het, dat jy sy straf verdien, dat jy niks kan doen om sy guns te wen nie, en dat Jesus jou enigste hoop is, sal God sy offer in jou plek aanvaar.

 

Maar as jy sy offer eenkant toe skuif en deur godsdienstige dade of goeie werke probeer om sy guns te wen, sal Hy jou streng bestraf.  Jy het Jesus se offer verwerp en in jouself probeer om reg te wees met God.  Jy het gedink dat jou sonde nie so erg is nie, en dat jy Hom met jou goeie werke kan omkoop.  Jy het gehoop dat jou kerkbywoning, tiendes en ander godsdienstige werke sy toorn kan afwend.  Jy wou nie erken dat jy geestelik brandarm is nie, en het gedink dat jy ryk genoeg is om sy vergifnis te koop.

 

En sal die Here jou nie hiervoor straf nie?  Sal Hy jou nie oordeel as jy die offer van sy liefde verwerp, en dink jý kan beter doen nie (v.6)?  Dit bekommer my dat die gemiddelde Afrikaner soos Edom die Here se offer verwerp.  Ek praat nie hier van rou ongelowiges nie, maar van mense wat al vir jare in evangeliese kerke sit.

 

Ek het oor die afgelope paar jaar met meer as 30 kerkmense gepraat wat nie vir my die evangelie kon sê nie.  Die kern van ons geloof (wie Jesus Christus is en wat Hy gedoen het) was nie eers op hulle geestelike radar nie.  Toe ek hulle oor hulle redding vra het hulle nie ‘n woord oor Jesus se kruisdood en opstanding gesê nie.  Hulle hoop vir die hemel is so te sê uitsluitlik op hulle goeie werke gebaseer.

 

‘n Vriend van my het dieselfde ervaar.  Maar in sy geval was dit erger.  Hy het die predikante in sy dorp besoek.  ‘Wat is die evangelie?’ het hy hulle gevra.  Twee van hulle kon vir hom ‘n duidelike antwoord gee.  Vir die res was Jesus se kruisdood nie deel van die evangelie nie; dit het oor goeie werke gegaan.

 

Ek verstaan dat mense soms geïntimideer voel of senuweeagtig is.  In party gevalle praat mense van bekering en genade, maar nie van Jesus se kruisdood nie.  In sulke gevalle dink ek dat hulle dalk die Here ken, maar nie goeie lering ontvang het nie.

 

Maar in my ervaring is dit die uitsondering en die reël nie.  In die meeste gevalle ken hierdie mense nie die Here nie.  Omdat Jesus se offer nie vir hulle belangrik is nie, sal die Here hulle soos offerdiere slag (v.6-7).  Kan jy Hom hiervoor kwalik neem as Hy alles gedoen het om sondaars te red, en hulle sy offer verag?  Dit is asof hulle sê: ‘Die Here het nie genoeg gedoen om sondaars te red nie; ons moet iets byvoeg.’

 

Sal die Here ons onkunde verskoon as ons duisende kerke, die Bybel in ons eie taal, en baie ander evangelie-voorregte het?  Hiervoor sal die Here sy swaard ekstra skerp maak en ons met ‘n dubbele oordeel vergeld.

 

Dié wat gereeld die evangelie hoor maar nie ter harte neem nie, sal nóg strenger geoordeel word.  Ek praat van mense soos ek en jy.  “En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” (Luk. 12:48).

 

Die strengste oordeel wag egter vir dié wat in die Here se diens staan, maar nie die evangelie verkondig nie: “wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1Kor. 9:16).  “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.” (Jak. 3:1).

 

In die lig hiervan wil ek vir jou sê om nie gerus te wees omdat jy in ‘n gemeente betrokke is, of omdat jou familie darem in ‘n kerk kom nie.  Glo jy die evangelie?  Hoor en glo jou familie dit?  Hoe verstaan hulle verlossing: vertrou hulle op hulle werke, of rus hulle in niks anders as in Jesus Christus en sy kruisdood vir sondaars nie?

 

As ek aan hierdie dinge dink, heg ek nie veel waarde aan mense wat sê dat ons ‘n ‘Christelike volk’ is nie.  Ek dink nie eers dat ons dit in die verlede was nie.  Vir my lyk dit of Afrikaners Christelike waardes gehad het, maar nie geweet het wat dit beteken om weergebore te wees nie.

 

Ek wonder partykeer of ‘n sekere jong predikant in Johannesburg reg is: ‘South Africa is a pre-Christian country.’  Ons neem m.a.w. aan dat mense gered is omdat hulle kerk toe gaan, maar eintlik het ons die evangelie dringend nodig.

 

Ek is seker dat Afrikaners dit vir die eerste twee of drie geslagte geglo het.  Maar daarna het ons van die bus af geval.  Talle Afrikaners het geglo dat hulle op grond van hulle Afrikanerdom, die uitverkiesingsleer, die verbond, die doop, hulle aanneming en voorstelling, hulle ouers se geloof of iets anders gered is.

 

In sommige hoofstroom kerke was dit ongehoord om die evangelie met sg. ‘verbondskinders’ te deel.  Die kerk en kinders se ouers het aangeneem dat die volgende geslag gered is, en nie die evangelie met hulle gedeel nie.  So het hulle ‘n heidense geslag grootgemaak – kerkgangers wat nie die eerste dinge van die evangelie verstaan nie.

 

Toe hierdie geslag groot word, het hulle kinders gesien dat hulle op ‘n Sondag vroom in die kerk sit, maar in die week soos die wêreld lewe.  Nou, 35 en 40 jaar later is hierdie kinders groot.  Baie van hulle voel ‘n veer vir die kerk.  Hulle sal baie eerder op ‘n Sondag fietsry of by ‘n braai wees as om in die kerk te sit.

 

Die ergste van alles is dat hulle nog steeds dink hulle is ‘okay’ met die Here.  Hulle het immers ‘n Christelike agtergrond, is gedoop, en is nog êrens lidmaat by ‘n gemeente.  Wat D.A. Carson se kollega van die Amish gemeenskap in Amerika gesê het, is tot ‘n mate waar van ons eie volk:

 

‘Die eerste geslag het die evangelie geglo en die uitvloeisel daarvan in hulle lewens gehad.  Die tweede geslag het aanvaar dat hulle die evangelie ken, en op die uitvloeisels gefokus.  Die derde geslag het die evangelie verwerp, en al wat hulle oor gehad het was die uitvloeisels.’

 

Vandag het ons skaars die uitvloeisels oor.  Die gevolge van ‘n sterk evangelie-invloed is vinnig besig om te verdwyn.  Soos die res van die tale in ons land, het Afrikaners die evangelie nodig.  Wie sal dit vir hulle bring?  Sal ons te skaam wees om dit met ons eie mense te deel?

 

Paulus wou hê dat sy stamgenote gered moet word (Rom. 9:3).  En sal jy nie soos hy wees nie?  Wat John Knox van Skotland gesê het, moet ek en jy van ons mede-Afrikaners en die res van ons landgenote sê: ‘Give me Scotland or I die!’  Give me South Africa or I die!

 

[1] Vertalers kan nie die identiteit van elke dier vasstel nie.

Die Drie-Enige God en jou huwelik

Trinity symbol

A.W. Tozer het gesê:  ‘What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.’[1]  Gen. 1:26a lê die fondasie vir hoe ons reg oor die Here moet dink.  As jy dit doen, sal dit jou huwelik vir die goeie beïnvloed.  Hoe kan ons weet dat die Here ‘n Drie-Enige God is en hoe help dit ons huwelike?

 

Mense kon dit nie uitdink nie

‘n Maand gelede het ‘n Jehova’s Getuie by my hek gestaan.  Volgens hom het mense die Drie-Eenheid uitgedink.  ‘Kan jy die Drie-Eenheid verstaan?’ het hy gevra.  ‘Kan jy God se ewigheid verstaan, die feit dat Hy nooit ‘n begin gehad het nie?’ het ek geantwoord.

 

Die feit dat ons die Drie-Eenheid nie kan verstaan nie, beteken nie dat dit nie waar is nie.  As jy God se wese heeltemal kan verstaan, is jy so groot soos Hy.  En as jy so groot soos die Here is, is dit nie die moeite werd om Hom te dien nie.

 

Bloot die feit dat ons die Drie-Eenheid nie kan verstaan nie, wys dat dit nie deur ‘n mens uitgedink is nie en dat dit die waarheid is.  Wie kon ‘n leerstelling uitdink wat sê dat daar net een God is, maar dat Hy in drie Persone bestaan?

shield_trinity

  • Die Vader is God, die Seun is God, die Heilige Gees is God.
  • Die Vader is nie die Seun of die Heilige Gees nie; die Seun is nie die Vader of die Heilige Gees nie; die Heilige Gees is nie die Vader of die Seun nie.
  • Daar is net een God, nie drie nie.
  • God is altyd al drie Persone gelyk, en nie partykeer die Vader, op ander kere die Seun, en by tye die Heilige Gees nie.

 

Die eerste vers in die Bybel leer dit

Ken jy Gen. 1:1 uit jou kop uit?  Baie mense wat die vers ken, het nog nooit diep daaroor gedink nie.  Die vers sê:  “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”  Die Hebreeuse woord vir God is ‘Ĕlôhîym en staan in ‘n meervoud.  Dit dui op God se menigvuldige krag, maar impliseer ook dat Hy in meer as een Persoon bestaan.

 

In Gen. 1:2 lees ons van God se Gees, en in v.3 van sy Woord (‘God het gesê’).  Volgens die res van die Bybel is God se Woord en sy Gees unieke Persone.  Joh. 1:1-3 sê dat die Woord God is, maar dat Hy ‘n aparte Persoon is wat alles geskep het.  Volgens Hand. 5:3-4 is die Heilige Gees God, maar uit Joh. 15:26 weet ons dat Hy nie die Vader of die Seun is nie.  Gen. 1:2, Job 33:4, Ps. 33:6, 104:30 leer vir ons dat Hy lewe en orde in die skepping gebring het.

 

Die res van die Bybel bevestig dit

Meer as 40 persone uit alle vlakke van die samelewing het die Bybel oor ‘n tydperk van 1600 jaar neergeskryf.  As almal van hulle die punte en diagram hierbo bevestig, kan ons met sekerheid weet dat ons nie per ongeluk ‘n vers of twee verkeerd geïnterpreteer het nie.  Waar bevestig die Bybel dit?

 

In Gen.1:26a lees ons:  “En God het gesê:  Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”.  Die Joodse rabbi’s het gesê dat God in v.26a met engele praat.  Maar dit kan nie wees nie, omdat die engele ons nie gemaak het nie, omdat ons nie na hulle beeld gemaak is nie, en omdat God nie hulle raad gevra het toe Hy ons geskep het nie (Jes. 40:14).

 

Ander dink dat God in v.26a ‘n koninklike meervoud gebruik.  ‘n Koning sal bv. sê:  ‘Dit is vir ons ‘n voorreg om jou in ons midde te hê.’  Ons lees egter nie in die Hebreeuse taal van konings wat só na hulleself verwys nie.[2]

 

Die Skrif leer baie duidelik dat daar net een God is, maar dat Hy in drie Persone bestaan.

 

[1] Daar is net een God

Gen. 1:1, Deut. 6:4, 4:35, 39, 32:39, Jes. 44:6, 8, 45:5-6, 21-22, Joh. 10:30, 1Kor. 8:4-6, 1Tim. 2:5.

 

[2] God bestaan in drie Persone

Gen. 1:26, 3:22, 11:7, Ps. 2:2, 6-7, 45:7-8, 110:1, Jes. 6:8, 48:16, Matt. 3:16-17, 28:19, Joh. 1:1, 14:16, 23, Hand. 2:33, 1Kor. 12:4-6, 2Kor. 13:13, Ef. 2:18, 4:4-6, Heb. 1:1-3, 1Pet. 1:2.

 

God se liefde wys dit

In 2013 het ek Ps. 136 gepreek.  In die ESV sê al 26 verse:  ‘his steadfast love endures forever.’  Op daardie stadium het ek oor God se liefde probeer dink, en kon ek dit nie verstaan nie.  Ek het vir my vrou gevra:  ‘Wat is liefde – ek kan dit nie verstaan nie?’  ‘God is liefde,’ het sy geantwoord.

 

Wat beteken dit dat God liefde is (1Joh. 4:8)?  Dit beteken o.a. dat God in sy diepste wese liefde is.  Hy definieer wat liefde is.  Dit beteken ook dat God in meer as een Persoon bestaan.[3]  Hoe weet jy dit?  As God nog altyd liefde was, moes daar iemand gewees het om lief te hê.  Volgens Joh. 17:24 het die Vader die Seun van ewigheid af liefgehad.  Die Heilige Gees het ook in die liefde tussen die Vader en die Seun gedeel, net soos wat Hy God se liefde aan óns harte kommunikeer (Rom. 5:5).

 

Omdat die Drie-Enige God nog altyd in perfekte liefde en gemeenskap met Homself gelewe het; het Hy ons nie gemaak omdat Hy eensaam of verveeld was, of omdat Hy ons nodig gehad het nie.

 

Die huwelik wys dit

Die maan bewys dat die son bestaan, omdat die lig wat dit afgee ‘n weerkaatsing van die son is.  ‘n Spieël bewys dat die objek wat daarin gereflekteer word bestaan.  Alhoewel dit onvolmaak is, wys die huwelik dat God in meer as een Persoon bestaan:  Adam en Eva was twee persone, maar in die huwelik was hulle een (Gen. 1:27, 2:23-24).

 

As jy aan die Here behoort is jy nie net fisies een in die huwelik nie, maar ook geestelik een (Mal. 2:15).  As jy een is met die Here, is jy immers een met almal wat met Hom verenig is, nie waar nie?  As jy die eenheid in jou huwelik wil versterk, moet jy seker maak dat jy en jou lewensmaat een is met die Here.  Hoe gebeur dit?

 

Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons in Christus gekies om sy kinders te wees (Ef. 1:4-5, 2Tim. 1:9).  Deur Jesus se kruisdood het Hy sy plan in werking gestel en ons in Christus verlos en vergewe (Ef. 1:7).  As jy jou bekeer en in Christus glo, sal die Heilige Gees in jou woon en sal jy hierdie wonderlike eenheid ervaar (1Kor. 6:17, Ef. 1:13).  Jy sal een wees met die Drie-Enige God en Hy met jou (Joh. 14:23, 17:21, Gal. 2:20, 1Joh. 2:24, 4:13).  Dit beteken nie dat jy God word nie, maar eerder dat sy lewe in jou is (Joh. 15:4-5, 17:3, 2Pet. 1:4).

 

Jy moet hierdie eenheid bely deur in die Naam van die Drie-Enige God gedoop te word (Matt. 28:19).  Ek het reeds gewys dat jy deur jou eenheid met die Here ook een word met sy liggaam, die kerk (1Kor. 12:12-14).  Hy het ook die Woord en gebed as middele gegee, sodat jy in Hom kan bly en in gemeenskap met Hom kan lewe (Joh. 8:31, 15:7).  Jy moenie net die Woord hoor nie maar dit doen, sodat jy in Hom en sy liefde kan bly (Joh. 15:9-10).

 

As jy en jou lewensmaat só een is met die Here, is daar geen rede om verdeeld te wees nie.  Soos die Vader, die Seun en die Heilige Gees een is en julle een is met Hom, kan julle ook een wees met mekaar (Ef. 4:4-6).  Om hierdie eenheid te bewaar moet jy met die Gees se hulp nederig, vredevol, sagmoedig, geduldig, liefdevol, verdraagsaam en vergewensgesind wees (Ef. 4:1-3, Fil. 2:1-5, Kol. 3:12-15).  As jy selfsugtig is, sal daar verdeeldheid wees (Jak. 4:1-2).

 

Dalk het jy en jou lewensmaat nie dieselfde persoonlikheid, talente of belangstellings nie.  Dit is nie ‘n rede om verdeeld te wees nie.  Die dinge wat julle saambind is baie hegter as julle belangstellings (Ef. 4:4-6).  Buitendien kan julle die verskille gebruik om mekaar aan te vul, net soos wat ‘n klavier verskillende note moet hê om ‘n melodie te maak.  Moet dan nie soos die wêreld skei omdat julle nie ‘compatible’ is nie.  As beide van julle in Christus glo is julle ‘compatible’.

 

As jy met ‘n ongelowige getroud is sal julle tot ‘n sekere mate verdeeld wees, omdat jý een is met die Here en jou maat nie (Matt. 10:34-36).  As jou ongelowige lewensmaat getroud wil bly moet jy nie skei nie, maar eerder Christus se liefde uitleef en verkondig sodat hy of sy gered kan word (1Kor. 7:12-14, 1Pet. 3:1-6).

 

Hoe kan jy prakties in jou huwelik wys dat jy in die Drie-Enige God glo en dat jy aan Hom behoort?  Die Vader, die Seun en die Heilige Gees was nog nooit jaloers op mekaar nie; elkeen dink aan die ander se heerlikheid.  Die Vader en die Seun verheerlik mekaar (Joh. 8:54, 17:1, 5).  Die Heilige Gees verheerlik die Seun (Joh. 16:14).  So moet ‘n man en vrou mekaar in die huwelik eerste stel; elke moenie net aan sy of haar eie belange dink nie (Fil. 2:3-4).

 

Ons moet ook onthou dat ons na God se beeld gemaak is (Gen. 1:26-27).  As jy verdeeld is in jou huwelik straal jy ‘n verkeerde beeld uit.  Jy sê in effek dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees verdeeld is.  Jou lewe is ‘n slegte advertensie vir die evangelie.  Jy reflekteer nie die beeld van God soos jy moet nie.

 

Omdat ons soos die Here een is, kan ons nie met ons lewensmaats of ander gelowiges baklei sonder om onsself te beskadig nie.  Paulus sê:  “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame.  Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” (Ef. 5:28-29).  Wat in 1Kor. 12:26, Ef. 4:25 vir die liggaam van Christus geld, geld ook vir die huwelik:  “En as een lid ly, ly al die lede saam … Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.”

 

Kommunikeer jy sleg in jou huwelik?  Kyk hoe die Vader, die Seun en die Heilige Gees met mekaar kommunikeer (v.26, Joh. 15:15, 16:13-15).  As jy aanhoudend deur die Woord en gebed met die Drie-Enige God kommunikeer (Ef. 2:18, 1Joh. 1:3), sal jy leer om met jou lewensmaat te kommunikeer.  Spreuke, Ef. 4:25-32 en Jak. 1:19 sal jou help om reg te praat en te luister.  Vra die Here om jou te help om hierdie gedeeltes toe te pas.

 

Maak tyd en doen moeite om te kommunikeer.  Moenie so besig raak dat jy vergeet om te gesels nie.  As jy ‘n film saam kyk kan jy voor die TV eet, maar moenie ‘n gewoonte daarvan maak nie.  As jy voor die TV sit kyk almal voor hulle en gesels niemand nie.  Pasop ook vir Facebook, Whatsapp en YouTube:  dit steel maklik die tyd wat jy kon gebruik het om te gesels.

 

Lees eerder ‘n boek saam, gesels oor wat in jou dag gebeur het, beplan saam om die huis of die tuin mooi te maak, bid saam, eet saam, drink saam koffie, lees saam uit God se Woord en gaan saam kerk toe.

 

Om jou huwelik te help moet jy in die Drie-Enige God glo.  Sonder Hom is jy soos iemand wat ‘n huis sonder ‘n fondasie bou.  Maar dit is nie genoeg dat jy die Bybelse waarheid oor die Drie-Eenheid ken nie:  jy moet dit toepas en deur Jesus Christus in ‘n persoonlike verhouding met hierdie God lewe.  As jy dit nie doen nie, is jy soos iemand wat ‘n swak fondasie lê en buitendien niks daarop bou nie.

 

[1] A.W. Tozer, The Knowledge of the Holy, HarperCollins, New York, 1961, p. 1

[2] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1994, 2007, p.227

[3] C.S. Lewis, Mere Christianity: Fiftieth Anniversary Edition, HarperCollinsPublishers, London, 1942, 2002, pp. 174-176.  Jonathan Edwards, Essay on the Trinity aangehaal in John Piper, The Pleasures of God, Mentor: Christian Focus Publications, Ross-shire: Great Britain, 2001, pp. 44-45, n. 24

‘n Boodskap oor vermetelheid en dronkenskap

Drinking

Tydens een aanddiens het ‘n dronk vrou aanhoudend die preek onderbreek.  ‘Amen!  Ja, is pastoor!  Amen!’ het sy gesê.  By drie ander geleenthede het mense wat vol van dwelms was my straat prediking geopponeer.  Een man het my gevloek, ‘n ander een met my sleggesê, en die ander een het uitgeroep dat ons nie van God af is nie.

 

So het die dronk mense in Jes. 28:1-13 vir Jesaja geopponeer.  Die Here het hom met ‘n boodskap teen hulle gestuur.  Dit was hoofsaaklik ‘n boodskap oor hulle vermetelheid en dronkenskap.

 

Samaria se gemak (v.1-6)

Holland is ‘n streek aan die weskus van Nederland, maar die naam word ook gebruik om na die land in sy geheel te verwys.  Dieselfde was waar van Efraim:  dit was een van die twaalf stamme, maar is later gebruik om na die hele noordelike ryk van Israel te verwys (bv. in Hosea).

 

Toe Salomo dood is, het Israel in twee geskeur.  Samaria was die hoofstad van die noordelike ryk, terwyl Jerusalem die hoofstad van die suidelike ryk was.  In v.1-6 het Jesaja God se weë of oordele oor die noordelike ryk uitgespreek.

 

Samaria was op ‘n heuwel gebou (1Kon. 16:24).  Die stadsmure het soos ‘n kroon op iemand se kop gelyk (v.1).  ‘n Groen vallei van wingerde het Samaria omring; die stad het soos ‘n pragtige blom uitgestaan (v.1).  Samaria se inwoners was trots op hulle ‘kroon’ (v.1).  As God se volk het hulle vas geglo dat hulle veilig is.  Gevolglik het hulle ‘n gemaklike lewe van dronk partytjies gelei (v.1, Amos 2:8, 4:1, 6:6).

 

Hulle het nie opgemerk dat die blom besig is om te verlep nie (v.1, 40:6-8).  In 722 v.C. het die Here Assirië soos ‘n verwoestende haelstorm teen Samaria gestuur en haar in die vloed van sy oordele verdrink (v.2, 8:7).  Hy het die stad op die grond gegooi, die kroon en die pragtige blom onder sy voete vertrap (v.2-4a).  Deur Assirië het Hy Samaria soos die eerste ryp na-vy van die seisoen gepluk en ingesluk (v.4b).

 

Deur die Messias se Koninkryk sal God self ‘n kroon van heerlike skoonheid vir die oorblyfsel van sy volk sal wees, en sal Hy die ongeregtigheid uit Israel en die res van die aarde verwyder; Hy sal ‘n gees van geregtigheid in Israel en die wêreld se regsisteme gee (v.5-6, 11:2).  Hy sal ook sy kinders versterk om die vyand van die stadspoorte af weg te hou (v.6).  Hy sal m.a.w. sy volk beskerm.

 

Hoe moet ons v.1-6 op onsself toepas?  Soos Samaria is die mens van nature hoogmoedig en dink hy dat God se oordele hom nie sal tref nie (v.1).  Hy dink dat hy die hemel verdien, en dat dit nie dieselfde sal wees sonder hom nie.[1]

 

Jonathan Edwards het gesê:  ‘Byna elke ongelowige wat van die hel hoor, vlei homself dat hy dit sal ontvlug.  Hy maak op homself staat vir sy eie veiligheid.  Hy vlei homself op grond van wat hy gedoen het, wat hy nou doen, en wat hy beplan om te doen.  Hy dink hoe hy God se verdoemenis kan vermy, en vlei homself dat hy ‘n goeie plan uitgedink het, en dat sy planne nie sal misluk nie.  Hy hoor dat min mense gered is, en dat die meeste van hulle gesterf het en hel toe is.  Maar hy verbeel hom dat hy beter as ander mense vir sy ontvlugting beplan het.’[2]

 

Dit gebeur veral met dié wat sê dat hulle God se kinders is, maar dit nie is nie (soos Samaria).  Hulle dink dat hulle doop, kerklidmaatskap, tiendes, getuienis van redding of ouderlingskap hulle teen God se oordele sal beskerm, en dat hulle dus in hulle sonde kan voortleef.  Hulle sit snoesig en veilig in die kerkbanke, en dink dat God se toorn hulle nie daar kan bereik nie (Jer. 7:4, Amos 6:1, Matt. 22:11-13).

 

Hulle glo vas dat hulle ‘n blom in Jesus se tuin is, en dat Hy hulle eendag as ‘n pêrel vir sy kroon gaan kom haal.  Hulle herinner hulleself aan God se liefde, en sê vir hulleself dat Hy nie so sterk oor hulle sonde voel soos oor die moordenaar en verkragter s’n nie.  ‘Eens gered, altyd gered!’ is die skuilplek wat hulle oprig om hulle teen God se toorn te beskerm.  Dit is so dat geen gelowige sy redding kan verloor nie, maar hierdie mense gebruik dit as ‘n lisensie om hulle sonde te doen (v.1, Rom. 6:1).

 

So seker as wat die Here leef, Hy sal hulle onder sy voete vertrap, die trotste kroon van hulle koppe afruk en hulle in die hel gooi (v.3-4).  Hy sal hulle in die vloed van sy oordele verdrink (v.2).  Die hel maak sy mond wyd oop om hulle in te sluk (v.4).  Al wat hulle terughou is die genade van God.

 

As jy jou sonde haat en jou daarvan bekeer het, is jy nie die persoon van wie ek sopas gepraat het nie.  Jy hoef daarom nie vanaand wakker te lê nie.  Die persoon wat ek hierbo beskryf het, gebruik God se genade as ‘n dekmantel om sy sonde te regverdig.  Hy weet dat die Here hom vir sy sonde gaan oordeel, maar doen dit in elk geval omdat hy dink dat hy altyd weer vergifnis kan vra.  Hy besef nie dat sy lewe van sonde besig is om hom hard te maak, sodat hy later nie meer ‘n begeerte sal hê om na die Here toe te draai nie.

 

Hy verdedig sy sonde deur te sê dat hy darem nog kerk toe gaan, die Bybel lees en bid.  Hy dink dat sy ‘goeie stiltetye’ ‘n aanduiding is dat sy dronkenskap of egbreuk nie verkeerd is nie, en dat die Here met hom tevrede is.  Hy is al so ver heen, dat sy gewete hom nie meer pla nie.  Hy is soos Jona wat in die storm slaap, en soos Samaria wat rustig sit en drink terwyl die storm van God se oordeel oor hulle broei.

 

Hy is soos die los vrou in Spr. 7:14 wat gedink het dat haar godsdienstige aksies haar sonde uitbalanseer, en dat die Here dit daarom nie ernstig opneem nie.  Ander mense kan sien dat hy op die verkeerde pad is, maar hy ontken dit.  Soos Israel van ouds raak hy kwaad as God se boodskappers sy sonde uitwys (2Kron. 16:10).

 

Hy lees daarom net die verse oor God se genade en liefde, omdat dit hom lekker laat voel (2Tim. 4:3-4).  Hy het geleer om die dele uit te blok wat oor God se heilige karakter, sy oordele en sy haat vir sonde gaan.  Hy het sy eie goedkoop teologie van genade en van Jesus se kruisdood geformuleer.  In sy oë beteken Jesus se kruisdood dat sy sonde vergewe is, en dat hy daarmee kan aanhou.  Wat God se genade betref dink hy dat dit oneindig is, en dat God se geduld nooit opraak nie.

 

Maar waar het die Here ooit gesê dat sy genade geen perke het nie?  Wys tekste soos Heb. 6:4-6 nie duidelik dat sommige mense die grens van God se genade oorskry, en dat hulle daarna nie weer kan terugkeer nie?  En het Jesus nie self gesê dat daar so iets soos die onvergeeflike sonde is nie?

 

As jy jouself dan ‘n Christen noem en met sonde besig is, moet jy jou ore spits.

 

Jerusalem se feesviering (v.7-13)

Paul Kruger het drank gehaat en net melk gedrink.  En tog het hy geglo dat dit nie sonde is as iemand drank gebruik nie.  ‘Drank is ‘n gawe van God aan die mens, en as dit in matigheid gebruik word is dit nie sonde nie,’ het hy gesê.  Hy het verstaan dat dit verfrissend kan wees na ‘n dag se harde werk.  Wat hy gehaat het was dronkenskap.[3]  En dit is presies die punt in v.7-13.

 

Samaria het hulleself dronk gedrink en onder God se oordeel beland.  En het die leiers van Jerusalem regtig gedink dat húlle daarmee gaan wegkom?  Die priesters en profete moes God se Woord vir die volk bring en vir hulle wys hoe om dit in hulle lewens toe te pas.  Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat hulle dronk was (v.7, 5:11, 22).  Hulle was so dronk dat die tafels vol van opgooi was (v.8).

 

Hoekom was hulle dronk?  Hulle het fees gevier, omdat Egipte belowe het om hulle teen Assirië te help (v.15, 30:1-7).  Soos met baie ongelowiges, het hulle die goeie tyding met drank gevier.  Hulle het die wyn ingesluk, maar op die einde het dit hulle ingesluk (v.7).  Die drank het hulle verwar en gemaak dat hulle nie goeie leiding kon neem nie (v.7).  Hulle visioene het nie van die Here af gekom nie, maar die alkohol het gemaak dat hulle snaakse dinge sien (v.7).  Hulle kon nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie; die drank het gemaak dat hulle die reg verdraai en verkeerde dinge sê (v.7).  Dié wat hulle geraadpleeg het kon net sowel ‘n dronk predikant vir berading gevra het, of vir ‘n dronk prokureur gevra het om hulle saak te beveg.

 

Terwyl die geestelike leiers dronk om die tafel gesit het, het Jesaja ingestap.  ‘Vir wie wil jy kennis leer en God se boodskap verduidelik – vir babas wat nog melkies drink?’ het hulle gesê (v.9).  ‘Jy gee mos melk vir die volk, asof hulle kinders is:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie.’ (v.10).

 

Maar Jesaja het juis so gepreek, omdat die volk a.g.v. sulke leiers geestelike babas was, en nie die vleis en aartappels van God se Woord kon verteer nie – hulle het melk nodig gehad.  Hy het dus eenvoudig gepreek, sodat almal dit kon verstaan, en sodat hulle nie ‘n verskoning gehad het vir waarom hulle hulle nie bekeer het nie.  Jesaja het die volle waarheid van God vir die volk gegee; Hy het niks uitgelos of oorgeslaan nie (v.10).  Maar Jerusalem en haar leiers het sy prediking geïgnoreer (2Kron. 36:15-16).

 

Gevolglik sou die Here hulle deur mense van ‘n vreemde taal getugtig het (v.11).  In die Ou Testament was Assirië en Babilon die vreemde nasies deur wie Hy sy volk getugtig het (v.11, Deut. 28:49, Jer. 5:15).  In die Nuwe Testament was ander lande se tale die teken dat die Here sy volk deur die Romeine – ‘n volk wat ‘n ander taal gepraat het – sou tugtig, en dat Hy die evangelie van die Jode af sou wegneem om dit na alle tale toe te versprei (Hand. 2:4-13, 14-23, 36).

 

God het die evangelie by sy volk weggevat, omdat hulle die eenvoudige verkondiging daarvan in hulle eie taal verwerp het (v.9-10).  Hulle wou nie die rus van sy verlossing gehad het nie, maar het dit van die hand gewys (v.12, 30:15, Matt. 11:28-30).  Hulle het eerder in Egipte en hulle eie planne gerus as in die Here (v.12, 15-16).

 

Israel het God se volledige Woord in hulle eie taal verwerp, en daarom het Hy sy oordele in ‘n taal aangekondig wat hulle nie verstaan nie (v.11, 13).  Het Jesus nie in gelykenisse gepreek wat die volk nie verstaan het nie (Matt. 13:10-17)?  Dit is byna of Hy gesê het:  ‘Toe dit verstaanbaar was, wou julle nie luister nie.  Nou sal Ek dit so eenvoudig maak, dat wyse en geleerde mense dit nie kan uitwerk nie, maar dat net geestelike kinders dit kan verstaan’ (Matt. 11:25).

 

Omdat die Jode se geestelike leiers die boodskap nie verstaan het nie, het hulle hulle nie bekeer nie.  En omdat hulle hulle nie bekeer het nie, het hulle in die vyand se vangnet beland en is hulle weggevoer (8:15).

 

So was dit ook in die Nuwe Testament.  Die volk en haar geestelike leiers het die Woord nie verstaan nie.  Gevolglik het hulle hulle nie tot die Messias bekeer nie, maar Hom gekruisig.  In 70 n.C. het die Here hulle hiervoor geoordeel.  Hy het sy Woord vir die Jode weggesteek en dit na die heidene toe gestuur (6:9-10, Amos 8:11, Hand. 28:25-28).  Dit is wat gebeur wanneer mense elke geleentheid in die wêreld het om die Woord eenvoudig te hoor (gesonde kerke, goeie preke op die internet, goeie Christelike boeke, ens.), maar nie daarop ag gee nie.

 

Wat het v.7-13 vir ons te sê?

 

[1] Persoonlik verkies ek dit om glad nie te drink nie.  Ek wil nie aspris iets voor iemand drink as dit hom in die versoeking gaan bring, of as dit sy gewete gaan pla nie (Rom. 14:21, 1Kor. 8:13).

 

En tog sê die Bybel nie dat dit sonde is as iemand ‘n glas wyn of ‘n bier drink nie.  In Deut. 14:26 het die Here vir Israel gesê dat hulle wyn of sterk drank by hulle feeste mag drink.  Ps. 104:15 sê dat wyn ‘n gawe van God is om die mens ontspanne en gelukkig te maak.  In 1Tim. 5:23 het Paulus vir sy jong vriend gesê om nie net water te drink nie maar ook wyn, sodat die alkohol die kieme in sy maag kan doodmaak.

 

Ons weet ook dat Jesus wyn gedrink het (Matt. 11:19).  Party mense dink dat die wyn in Jesus se tyd met water verdun is, en dat daar skaars alkohol in was.  Maar dit was nie altyd die geval nie.  Jesus het bv. die water in wyn verander, en nie die goeie ‘ou’ wyn met water verdun nie.  Ons weet ook dat daar genoeg alkohol in die wyn was om ‘n mens dronk te maak (v.7, 1Kor. 11:21).

 

En dít is juis waar die probleem lê:  ons moenie so baie drink dat ons dronk word nie (v.1, 7-8).  Ongelowiges gebruik elke geleentheid om dronk te word:  restaurante, motorfiets klubs, sosiale geleenthede, sport byeenkomste, partytjies, jaareindfunksies, jag, visvang, Kersfees, ens.  Wanneer ongelowiges rustig en gemaklik voel, drink hulle.  Wanneer hulle bly is, drink hulle.  Wanneer hulle depressief is, drink hulle.  Wanneer hulle bekommerd is, drink hulle.  Wanneer hulle probleme het, drink hulle.  Wanneer hulle verward en verlore voel, drink hulle.

 

Drank is hulle baas, omdat Jesus nie is nie (v.12, 7).  As hulle net na Jesus toe wil kom sal Hy hulle vry maak en die leemte in hulle siele vul (Joh. 4:14, 8:36).  Sy Persoon, kruisdood, opstanding en die Heilige Gees is meer as bekwaam om met hulle drank probleem af te reken.  Jesus kan hulle dors beter les as wat die drank kan, maar hulle glo dit nie, en daarom bly hulle vasgevang in die net van hulle sonde.

 

[2] ‘n Ongelowige wat jare gelede ons dienste bygewoon het, het by ‘n ander gemeente se kerkkamp vir die leraar gevra of sy en haar kêrel ‘n kamer kan deel.  Hy het nee gesê.  ‘Maar ons is mos nie meer kinders nie,’ was die vrou se reaksie.  Soos die vals profete in v.9-10 het sy gemaak of die Bybel se verbod teen seks buite die huwelik kinderagtig is.

 

Mense soek allerhande verskonings om nie dit-en-dat in die Bybel te aanvaar nie.  Soms sê hulle dat dit nie duidelik genoeg is nie.  Ek dink bv. aan God se lering oor homoseksualiteit en seks voor die huwelik.  Mense sê dat dit nie duidelik genoeg is nie, terwyl die waarheid is dat ‘n kind dit kan verstaan (v.9-10).  Maar die rede hoekom dit volgens hulle nie ‘duidelik’ is nie, is omdat hulle nie hulle sonde wil los nie.

 

[3] Ons moet die volle raad van God verkondig:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie (v.10, Hand. 20:27).  Om hierdie rede glo ek dat Skrif verklarende- of eksposerende prediking die beste is (Neh. 8:9).  Jy preek nie net die tekste waarvan jy hou nie, maar ook die dele wat moeilik is om te sluk.  As ‘n mens vers vir vers deur boeke van die Bybel preek, kan niemand sê:  ‘Jy het aspris daardie teks gekies om my aan te spreek’ nie.  Nee, ek het nie.  Ek het net die volgende gedeelte gepreek.

 

Eksposerende prediking gee vir die skape ‘n gesonde, gebalanseerde dieet van die Woord.  God het die Bybel in boeke, verse en hoofstukke geskryf, en daarom moet ons dit ook so preek.  Hy het elke detail daarvan geïnspireer, en daarom moet ons elke detail daarvan preek (2Tim. 3:16-4:2).

 

[4] In 1Kor. 14:21 haal Paulus Jes. 28:11 aan om te wys dat gemeentes wat in tale praat sonder dat dit uitgelê word, onder God se oordeel is (vgl. Gen. 11:1-9, 1Kor. 14:22).  Wees dan versigtig vir charismate wat in tale praat, sonder dat daar ‘n uitleg is.

 

Rowland Hill was ‘n Engelse prediker in die 18de en 19de eeu.  ‘n Dronk man het eenkeer na hom toe gekom en vir hom gesê.  ‘I am one of your converts, Mr. Hill.’  ‘I dare say you are, but you are none of the Lord’s, or you would not be drunk,’ het die wyse mnr. Hill geantwoord.[4]

 

Behoort jy aan die Here?  Moet dan nie soos Samaria en Jerusalem toelaat dat alkohol of enige iets anders jou beheer nie, maar word vervul met die Heilige Gees (Ef. 5:18).

 

[1] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p.150

[2] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, Works: Vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, 1976, p.8

[3] Martin Meredith, Diamonds, Gold and War, PublicAffairs, New York, 2007, 2008, p.170

[4] Aangehaal in C.H. Spurgeon, The Soul Winner, Whitaker House, New Kensington: PA, 1995, p.32

Die gat in ons opvoeding

Family Worship

Daar is ‘n predikant in Johannesburg vir wie ek die wêreld se respek het.  En tog het hy voete van klei soos die res van ons.  Oor huisgodsdiens het hy vir my gesê:  ‘It is a cultural monkey we need to get off our backs.’  Ps. 78:1-8 stem nie met hom saam nie, maar dink dat huisgodsdiens baie belangrik is.

 

Hoe moet jy jou kinders leer? (v.1-5)

M.b.t. huisgodsdiens en die huwelik, het ‘n vriend van my in Limpopo my baie beïnvloed.  Van die dinge wat ons oor die jare in ons huisgodsdiens gedoen het, het ek by hom geleer.  A.g.v. hulle ouerskap en huisgodsdiens, vra hulle vyfjarige uit die bloute vir kuiergaste:  ‘Can I get you something?’  Volgens Ps. 78 is die invloed wat ‘n ouer op sy of haar kinders het, veel groter as wat ons besef.

 

Asaf het hierdie Psalm en elf ander geskryf (v.1, Pss. 50, 73-83).  Hy was ‘n musikant wat in Dawid se tyd die koor gelei het (1Kron. 15:16-17, 19, 16:4-5, 7).  Hy het hierdie Psalm geskryf om vir sy lesers lesse uit Israel se geskiedenis te leer (v.1).  Hy het musiek gebruik [Heb. maskîyl], sodat hulle dit makliker kon onthou (v.1).

 

Omdat die mens nog steeds so leer, is dit belangrik dat jy God se Woord vir jou kinders sing.  Leer vir hulle Bybelverse in sang.  Vermy maar die meeste kinderliede, omdat dit oppervlakkig is en nie ‘n hoë siening van God kweek nie.  Leer eerder vir hulle liede wat diep waarhede bevat, en sê vir hulle wat die woorde beteken.

 

Israel moes hulle ore vir Asaf se onderrig gespits het (v.1, kontra Hand. 7:51).  Ons moet dit ook doen, sodat ons ons kinders reg kan leer.  Ons moet ‘n hoë siening van die Bybel hê en glo dat dit nie die opinies van mense is nie, maar die Woord van God (v.1, 1Tess. 2:13, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).  Ons moet dit gereeld inneem en toepas.  Ons ore moet oop wees vir die Woord, en ons kinders s’n ook.  Hoe kan jy dit regkry?

 

  • Moenie toelaat dat jou kinders gereeld huisgodsdiens mis, omdat hulle moet leer, by vriende is, uitgaan of skool aktiwiteite het nie.
  • Sorg ook dat jý dit nie mis, omdat jy altyd by die werk is nie.
  • Moet dit nie te laat in die aand doen wanneer almal moeg is nie.
  • Moenie toelaat dat jou kinders lê of speel terwyl jy met die Bybel besig is nie. Hulle moet regop sit en nie die res se aandag aftrek nie.
  • Vat jou kinders gereeld kerk toe. Moet hulle nie alleen stuur, omdat jy op Sondae jou eie ding doen nie.  Onthou dat dit die Here se dag is.  Doen jou werk, inkopies, sport, partytjies, wasgoed, ens. in die week of op ‘n Saterdag.  Moenie toelaat dat hierdie dinge jou van die Woord af weghou nie.
  • Probeer om die Woord in te neem wanneer jy dit op ‘n Sondag hoor. Rus genoeg op Saterdae, sodat jy nie op Sondae tydens die diens slaap nie.
  • Maak vooraf jou hart stil, sodat jy nie gedurende die preek aan die week se probleme dink nie. Pasop vir die duiwel wat jou aandag wil aftrek.
  • Bely en laat staan jou sonde, sodat dit jou nie doof maak vir die Woord nie.
  • Dissiplineer jouself om stil te sit en te luister. Moenie rondloop tydens die preek nie.

 

Die bg. dinge help nie as jy ongered is nie (1Kor. 2:14).  Jy moet eers deur geloof deel van God se volk wees (v.1, 1Pet. 2:9-10).  Die Heilige Gees moet jou dowe ore oopmaak om te verstaan dat jy a.g.v. jou selfsug en sonde ‘n terroris in God se Koninkryk is.  Ek hoef nie vir jou te sê wat God met terroriste doen nie.

 

En tog is jou toestand nie hopeloos nie.  God kan jou uit die straf kamp van jou sonde bevry.  Gebruik die sleutels van geloof en bekering om uit te kom.  Wees dankbaar dat Jesus namens jou in die straf kamp gesterf het.  Wees ook dankbaar dat Hy uit die dood uit opgestaan het, en dat jy saam met Hom in sy Koninkryk van liefde kan lewe en met oop ore die pragtige musiek van die Woord kan geniet.

 

As jy gered is, moet jy hierdie evangelie met die volgende geslag deel.  Hoe moet jy dit doen?  Gebruik gelykenisse, stories, beelde en illustrasies, sodat hulle as’t ware die waarheid in hulle verbeeldings kan sien (v.2, Matt. 13:34-35).  Jy hoef nie eers illustrasies uit te dink nie; die Bybel is vol daarvan.

 

As jy bv. geloof wil verduidelik, kan jy vir hulle vertel hoe ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke wegsteek, sodat die valk hulle nie kan vang nie.  As ons in Jesus glo, is ons veilig onder sy vlerke, en kan die valk van sy toorn ons nie vang nie.  Jesus het reeds aan die kruis die straf gedra wat ons verdien.

 

Om God se verlossing verder te verduidelik, kan jy vir hulle vertel dat ons soos stoute kinders is wat van die huis af wegloop en ons ouers se geld mors.  Bekering is soos ‘n rebelse kind wat alles verloor, tussen die varke beland, tot sy sinne kom, berou het oor wat hy gedoen het, en na sy huis toe terugkeer.  Vergifnis is soos ‘n pa wat na hierdie rebelse kind toe hardloop, hom omhels en soen, vir hom geskenke gee en ‘n groot partytjie hou.

 

Maar om net illustrasies te gebruik is nie genoeg nie.  Sonder die Heilige Gees bly die evangelie ‘n raaisel uit die verlede, en kan mense dit nie verstaan nie (v.2, Matt. 13:9-17).  Moet dan nie net die Bybel vir jou kinders uitlê nie, maar bid dat die Here hulle harte sal oopmaak, sodat hulle die ou ou tyding kan verstaan (v.2, Jer. 6:16, Hand. 16:14).

 

Herhaling is belangrik.  Israel was nie onbekend met die dinge wat Asaf in hierdie Psalm geskryf het nie.  Hulle het die stories by hulle ouers gehoor en goed geken (v.3, 44:2).  En tog het Asaf hulle daaraan herinner.  Doen dieselfde met jou kinders.  Leer hulle aanhoudend, sodat hulle die Woord kan onthou (2Pet. 1:12-15).

 

Verder moet jy ook die lesse in mense se lewens gebruik om jou kinders te leer (Rom. 15:4, 1Kor. 10:11).  Die lewe van Josef wys bv. hoe God mense se sonde gebruik om sy goeie planne uit te werk.  Maar dit beteken nie dat jy opsetlik moet sondig nie.  Die geskiedenis van Adam en Eva wys dat sonde ernstige gevolge het.  Die storie van Rut wys dat God elke tree van die pad beplan het, al voel dit partykeer of Hy jou verlaat het.  Jesus wat die storm stil maak wys vir ons dat Hy God is, en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

 

Onthou asb. dat God die hoofkarakter in elke storie is, en dat die les altyd oor Hom moet gaan.  As jy jou kinders bv. van Dawid en Goliat vertel, is die punt nie dat God groot potensiaal in onbelangrike mense sien nie, maar dat Hy so sterk is dat Hy ‘n seuntjie met ‘n slingervel kan gebruik om ‘n gewapende reus dood te maak.

 

As jy jou kinders só leer, sal hulle die Here vrees, liefhê en bewonder.  As jy egter ‘n Kinderbybel of VeggieTales DVD met snaakse prentjies in gebruik, sal hulle Hom nie ernstig opneem nie.  Dit sal wees soos ‘n preek wat ek 2012 gehoor het.  Dit het oor die erns van sonde gegaan.  Die prediker se uitleg van Agan se sonde in Jos. 7 was goed, maar hy het soveel humor gebruik dat ‘n mens die idee gekry het sonde is glad nie ernstig nie.  Let op wát jy vir jou kinders leer, maar ook op die manier wat jy dit doen.

 

Asaf sê verder dat ons nie die Woord vir ons kinders moet wegsteek nie, maar dat ons hulle van sy heerlike en kragtige dade moet vertel (v.4).  Daar is ouers wat hierdie dinge vir hulle kinders wegsteek, omdat hulle nie tyd maak vir huisgodsdiens nie, omdat hulle hulle ongereeld kerk toe bring, omdat hulle nie van ‘n persoonlike verhouding met die Here getuig nie (hulle kinders sien nie dat hulle die Bybel lees en bid nie), en omdat hulle onheilige lewens die waarheid verbloem.  Moenie so wees nie, maar bely jou sonde.  Vra die Here se hulp om te doen wat reg is.

 

Om die Bybel vir jou kinders te leer is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag (v.5).  Jy móét dit doen.  Die Bybel is nie net vir jou persoonlike stiltetyd bedoel nie, maar sodat jy jou kinders van die Here kan leer (v.5).  Dit help nie jy deel die evangelie met die nasies, terwyl jou eie kinders oppad hel toe is nie.  Om jou kinders effektief te leer, moet jy die volgende dinge doen:

 

[1] Voor jy jou kinders leer moet jý die Here vrees, glo dat Hy die enigste God is, Hom met alles in jou liefhê, die Bybel ken, in jou hart bêre en gehoorsaam wees (Deut. 6:1-9).  As jy sê maar nie doen nie, sal hulle jou, die Here, of beide verag.

 

[2] Huisgodsdiens gebeur nie vanself nie; jy moet daarvoor beplan.  Hoe laat gaan jy dit hou en wanneer gaan jy begin?  As jy nie beplan nie, sal jou besige program huisgodsdiens eenkant toe skuif sodat dit nie gebeur nie.

 

[3] Leer jou kinders om die Here in die gemeente te dien (1Kor. 16:15).  In die begin kan hulle klein dinge doen, soos om iets vir ou mense aan te dra.  Sorg ook dat jy gereeld ander gelowiges in jou huis het (Heb. 13:2).  Gasvryheid is ‘n goeie manier om diensbaarheid vir jou kinders te leer.

 

[4] Skerp die Woord by hulle in (Deut. 6:7).  Leer hulle elke dag.  Hou dit kort en eenvoudig as die kinders klein is.  ‘n Puritein genaamd Samuel Lee het gesê:  ‘A young plant may be quickly overloaded with manure and rotted with too much watering.’[1]  As jy dus vir ‘n tweejarige die skeppingsverhaal vertel, moet jy nie die hele hoofstuk lees nie.  Sê eerder:  ‘God het alles gemaak:  die son, die maan, die vissies, die voëltjies, die diere.  Heel laaste het hy mense gemaak.  God is baie sterk en goed.’  As jou kinders ouer is, kan jy ‘n paar verse lees en dit uitlê soos wat jy aangaan.

 

Jy kan ook Bybel Vrae en Antwoorde by Augustine Bookroom in Pretoria bestel.  Dit leer hulle op ‘n vraag en antwoord basis oor God, die skepping, die sondeval, verlossing, Jesus, die Tien Gebooie, die doop en die nagmaal, gebed, die dood, die hemel, die hel en meer.

 

Begin as jou kinders ‘n paar maande oud is – jy sal verbaas wees hoe gou hulle leer.  Vra ‘n vraag tot hulle dit ken (‘Wie het jou gemaak? God’), en beweeg dan na die volgende vraag toe.  Hersien die vrae wat hulle ken.  As hulle ouer is, kan jy die antwoorde bespreek:  ‘Is jy deur toeval of evolusie hier?  Nee, God het my oor ‘n tydperk van 9 maande in die baarmoeder gevorm.’

 

Spreuke werk ook vir ouer kinders, aangesien dit geskryf is om vir hulle basiese lewenswysheid te leer (Spr. 1:4, 8, 2:1, 3:1, 4:1, 5:1, 6:1, 7:1, ens.).  Dit sal hulle leer om hard te werk en nie lui te wees nie, die regte vriende te kies, goed te werk met geld, te veel drank te vermy, hulle emosies en hormone te verstaan en te beheer, ens.

 

Karaktertrekke werk ook goed.  Leer bv. vir hulle ‘n maklike definisie van volharding (‘moenie gou opgee nie’), en memoriseer ‘n gepaste Bybelvers:  “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal. 6:9).  As hulle die karaktertrekke goed ken, kan jy dit handig gebruik:  ‘Ek weet jy wil graag in die eerste span wees, maar moenie so gou opgee nie; hou aan om hard te oefen.’

 

Saam met al hierdie dinge moet jy die evangelie met jou kinders deel.  Dit is nie genoeg om hulle van die tien plae of Daniël in die leeukuil te vertel nie.  Te veel ouers neem aan dat hulle kinders gered is, omdat hulle in ‘n Christelike huis grootword, of omdat hulle as babas gedoop is.

 

Jy móét vir jou kinders sê dat hulle nie a.g.v. jóú geloof gered is nie.  Hulle is met ‘n sondige natuur gebore en sondig van kleins af (Ps. 51:7, 58:4).  Omdat die Here heilig is, gaan Hy hulle hiervoor oordeel (Op. 20:12, ‘klein en groot’).  Maar as hulle jammer is oor hulle sonde, dit haat, en in geloof na die Here toe draai, sal Hy hulle red, vergewe en as sy kinders aanneem.

 

[5] Bid saam met jou kinders.  Hou dit kort as hulle klein is.  Jy kan bv. vir ‘n eenjarige sê om agter jou aan te bid:  ‘Sê:  Dankie… Jesus… Amen.’  Jou kinders sal ook uit jóú gebede leer.  Bid daarom met eerbied en respek, sodat hulle kan leer dat die Here groot en heilig is.  Wees vars in jou gebede; moenie elke dag dieselfde ding bid nie (bv. rympies).  Om vars te bly, moet jy self ‘n gebedslewe hê.

 

Waarvoor moet jy bid?  Bid heel eerste vir mekaar en vir die redding van jou kinders se siele.  Moenie die impak van jou gebede onderskat nie.  As jy gereeld en getrou vir jou kinders bid, sal jy ‘n invloed in hulle lewens hê.  Bid ook vir die leraar en die ouderlinge, bekerings, mense in die kerk, sendelinge en siek mense.  Leer hulle om nie vaag te bid nie, maar spesifiek.  ‘Here, help asb. vir Arrie om werk te kry…’ is beter as:  ‘Here, help asb. al die mense in die hospitale en langs die strate…’

 

Gee vir elkeen ‘n beurt om te bid.  Moenie jou kinders se gees demp as hulle gebede onvolmaak is nie.  Jy self bid nie perfek nie.  Wanneer jy jou kinders help om Bybels te bid, moet jy dit in ‘n gees van sagmoedigheid en liefde doen.

 

Bid spesiaal voor die nagmaal.  Gee vir elkeen ‘n kans om sy of haar sonde te bely.  Dalk wil jy nie jou sonde voor jou kinders bely nie, maar eintlik sal dit hulle help om gereeld te hoor dat jy, soos hulle, ‘n sondaar is, en dat jy ook die Here se genade nodig het.

 

[6] Bring jou kinders na die eredienste en Bybelstudies toe (Jos. 8:34-35, Hand. 10:24-33).  Wees opgewonde oor Sondae.  Sê vir hulle:  ‘Dis die Here se Dag!  Ons gaan God se kinders sien, Hom prys en sy Woord hoor!’  Praat na die erediens oor God se Woord en die mense.  ‘Dit was lekker om weer vir tannie Hannie te sien; sy was lank in die hospitaal.’  As jou kinders ouer is, kan jy die preek bespreek.  Moenie van individue, die kerk of die leraar skinder nie.  Jy sal jou kinders negatief maak teen die Here, sy Woord en sy liggaam.

 

[7] Leer jou kinders op ‘n informele vlak.  Met kleintjies werk gelykenisse goed:  ‘God sorg vir die mossies en nog meer vir sy kinders; mense is belangriker as voëltjies.’  Met ouer kinders kan jy in die kar praat oor wat by die skool gebeur het (Deut. 6:7).  Gee vir hulle Bybelse antwoorde oor boelies, kinders wat gespot word, rassisme, kinders wat vloek, rook, drank, seks, watse rol uiterlike voorkoms speel, respek vir onderwysers, huiswerk, evolusie in die handboek, ‘n goeie sportmangees, karakter, ens.  Werk hard om vir hulle ‘n Bybelse wêreldbeskouing te gee.

 

As jy by ‘n advertensie bord verby ry, kan jy hulle leer wat God van uiterlike voorkoms en rykdom dink.  Leer hulle oor ware liefde as hulle in Frozen of Tangled sien hoe ‘n man en vrou mekaar ontmoet, en binne 24 uur verloof raak.  Sê vir hulle dat egskeiding, homoseksualiteit, saambly en aborsie nie God se goedkeuring wegdra nie.

 

[8] Dissiplineer jou kinders (Spr. 22:15, 29:15, Ef. 6:4).  So leer jy hulle die Bybel en help jy hulle om te verstaan dat sonde pynlike gevolge het (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).  Moet hulle nie oordissiplineer nie.  Jy kan nie ‘n kind op medisyne grootmaak nie.  Moet hulle ook nie onderdissiplineer nie.  As jy nalaat om hulle pak te gee, beskadig jy hulle siele en pluk jy vir jouself ‘n lat (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17).  ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[2]

 

Dalk vrees jy dat al hierdie ‘toewyding’ jou kinders opstandig sal maak en vir hulle ‘n weersin in God, die Bybel en die kerk sal gee.  Dit sal nie.  Hulle sal net opstandig raak as jy skynheilig is, as jy nie dieselfde persoon by die kerk is as by die huis nie.  Hulle sal opstandig raak as jy altyd by die kerk moet wees, maar te besig is om húlle aktiwiteite by te woon.  Hulle sal die Bybel verag as jy dit net gebruik wanneer hulle verkeerd doen:  ‘Die Bybel sê…!’

 

Wie se plig is dit om jou kinders van die Here te leer?  Dit is nie die skool, Sondagskool, jeugleier, sielkundige, bediende, TV of iemand anders se plig nie.  As hoof van die huis is die pa hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik (v.3, 5, Gen. 18:19, Ef. 6:4, 1Tim. 3:4-5, 12).  As die pa die Here liefhet en vir sy gesin die Bybel leer, gebeur dit gewoonlik dat hulle sy voorbeeld volg (Jos. 24:15, Spr. 22:6, Joh. 4:53, Hand. 1:14, 16:31-34, 18:8, Rom. 16:10-11, 1Kor. 7:14).

 

Saam met die pa is die ma mede-verantwoordelik.  Sy moet ook die kinders leer (Spr. 1:8).  As sy pligsgetrou is, kan sy ‘n groot invloed op haar kinders se lewens, en sodoende op die samelewing hê (Spr. 31:1, 2-9, 1Tim. 2:15).

 

Wat as ‘n kind se pa, ma of beide nie die Here dien nie?  In sulke gevalle moet gelowige oupas, oumas, ooms en tannies help (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:15).  Praat met hulle oor die Here as jy die geleentheid het.  Stel vir hulle ‘n goeie voorbeeld, skryf briewe, bel hulle, stuur vir hulle ‘n Whatsapp, nooi hulle saam kerk toe, bid vir hulle.  Dit is nie genoeg om te hoop die Here red hulle nie – doen iets.

 

Die kerk moet ook betrokke raak by die kinders van wie een of beide ouers nie die Here ken nie.  Omdat Timoteus se pa nie ‘n gelowige was nie, het Paulus hom as sy seun in die geloof aangeneem (Hand. 16:1, 1Tim. 1:2, 2Tim. 1:2).  Hy het dieselfde met Titus gedoen (Tit. 1:4).  Wyle dr. Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen.  Onder sy invloed het hulle tot bekering gekom.  Is daar ‘n kind wat jý vir die Here kan beïnvloed?

 

Hoekom moet jy jou kinders leer? (v.6-8)

Sammy leer haar kinders, sodat hulle goeie maniere kan hê en mense haar geluk kan wens.  Oliver leer sy kinders, sodat hulle reg sal doen en hom nie in die verleentheid stel nie.  Cornelia leer haar kinders, sodat hulle top atlete, studente en leiers kan wees.  Kenny leer sy kinders, sodat hulle ‘n goeie karakter kan ontwikkel en suksesvol kan wees in die toekoms.  Sonja leer haar kinders, sodat hulle goeie vriendskappe kan bou en eendag gelukkig getroud kan wees.

 

Maar nie een van hierdie redes is goed genoeg nie.  Hoekom móét jy jou kinders leer?  In v.6-8 gee Asaf vir ons die rede:  leer jou kinders, sodat hulle God en sy Woord kan ken en vir húlle kinders kan leer.  As jy dit goed doen, is dit nie net jou kinders wat die Here sal dien nie, maar die geslagte wat kom.

 

‘n Man in ons gemeente het my vertel dat sy vrou se oupa die Here getrou gedien het.  Op sy begrafnis het hulle besef hoe baie van sy kinders en kleinkinders deur sý voorbeeld tot bekering gekom het.  Moenie bang wees dat jou kinders die evangelie sal verwerp nie.  Bid vir hulle, leer die Bybel vir hulle, stel ‘n goeie voorbeeld en los die res vir die Here.

 

As jy nalaat om dit te doen benadeel jy nie net jou kinders nie, maar die geslagte wat kom (v.6-8).  As jý nie hulle gedagtes met die waarheid vul nie, sal die wêreld en haar vals godsdienste dit vul.  Jou kinders sal op hulleself en die wêreld hoop, en nie op die Here nie (v.7).  Hulle sal sy groot werke vergeet en sy Woord ignoreer (v.7).  Hulle sal rebels, hardkoppig en ontrou wees (v.8, Rigt. 2:10-12).

 

Asaf sê vir ons hoekom baie kinders die kerk verlaat wanneer hulle universiteit toe gaan.  Hulle het hulle ouers se lewens dopgehou en gesien dat hulle skynheilige kerkmense is (v.8).  Op ‘n Sondag sing hulle Psalms, maar op ‘n Maandag vloek hulle hulle werkers, veg hulle soos honde in die huis, drink hulle te veel en kyk hulle vuil programme op TV.  In hulle harte het hierdie kinders al die kerk verlaat toe hulle in die laerskool was; dit het eers sigbaar geword toe hulle 18 is.

 

Wil jy hê jou kinders moet hulle hoop in die Here stel, in Hom glo, Hom dien, op Hom vertrou, Hom prys, standvastig en gehoorsaam wees, getrou wees in hulle harte (v.5-8)?  Sorg dan dat jy dit eerste doen en vir hulle die Bybel leer.  Bekeer jou, glo in Jesus Christus en bid dat hulle dieselfde sal doen.  So sal die slegte voorbeeld van party van ons Afrikaanse voorvaders nie na hulle toe deursyfer nie (v.8, 1Pet. 1:18).

 

Moet asb. nie jou kinders aan die duiwel, die wêreld of hulleself oorlaat nie; help hulle.  Wees soos John Paton se pa.  In sy hele lewe het hy nie eenkeer nagelaat om oggend en aand huisgodsdiens te hou nie.  Volgens Paton het nie een van die elf kinders opstandig geraak hieroor nie.  Inteendeel, dit het hulle lewens verander.[3]  Jare later het ‘n hele eiland onder Paton se prediking tot bekering gekom.  Waar het dit begin?  Om ‘n kombuistafel met ‘n oop Bybel.

 

[1] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p. 138

[2] Ibid., p.139

[3] John Paton: Missionary to the New Hebrides, pp.14-17