Mense se afgode en die God van die Bybel

True God and idols

Is dit moontlik dat ‘n nuwe Christen in China versoek kan word om voor ‘n afgodsbeeld te buig, hulp te vra, en dan later berou te hê? Nee? Wat van Christene in die weste wat versoek word om ‘n afgod te maak van geld, plesier, gemak, kos, ens.? Paulus praat in Kol. 3:5 van “gierigheid, wat afgodediens is”.

Paul Tripp vertel van ‘n ervaring wat hy in Indië gehad het. Hy het gesien hoe mense voor ‘n groot afgodsbeeld buig. Dit het hom ontstel. Hy het na sy kar toe gehardloop en vir die Here dankie gesê dat hy nie so is nie. Die oomblik toe hy dit sê, toe tref dit hom: ‘Jy is presies so.’ Hy het besef dat sy gode nie in die vorm van ‘n klip beeld is nie, maar dat hy ook versoek raak om afgode te maak.

Ek sê nie dat ons vir afgode lewe nie, maar die ou sondige natuur neig daarheen. Jes. 44:6-20 wys hoe dom afgode is, en leer ons om die ware God te aanbid.

1. Die enigste God (v.6-8)
Monoteïste [mono beteken een en theos God] glo dat daar een God is. Politeïste [polu beteken baie] glo dat daar baie gode is. Die Romeine was politeïste en het bv. geglo dat Neptunus die god van die see is, Mars die god van oorlog, Venus die godin van liefde en Jupiter die oppergod. In ons tyd is Hindoes politeïste en Christene monoteïste wat die ware God aanbid. Wie is hierdie God?

[a] Hy is die soewereine Here van die hemelse weermag, die Koning van Israel (v.6, 43:15). Volgens die Nuwe Testament is Jesus die Koning van Israel (Matt. 27:11, 42, Luk. 1:32, Joh. 1:50, Fil. 2:11). Hy is m.a.w. die God van Jes. 44:6.

Wat is die implikasie hiervan? Mense wat die Vader sonder die Seun aanbid, aanbid ‘n afgod (1Joh. 2:23, 5:20-21, Joh. 14:6). Dus aanbid die Jode, die Moslems en die Jehova’s Getuies ‘n afgod.

[b] Hy is die Verlosser van Israel (v.6, 43:1, 14). Hy het sy volk uit Egipte en Babilon verlos. Hy het ook as Verlosser na die wêreld toe gekom om sy volk en die nasies te verlos (Matt. 1:21, Luk. 2:11).

As Hy ons Verlosser is, moet ons nie dink dat Hy aan die kruis maar net ons redding moontlik gemaak het, en gehoop het iemand glo nie. Nee, Hy is ‘n Verlosser wat regtig verlos. Deur sy dood het Hy sy skape en kerk se redding suksesvol gekoop en bewerk (Joh. 10:11, Hand. 20:28). Ken jy ‘n ander god wat so kan verlos?

John Blanchard het ‘n storie in hierdie verband vertel. Een Goeie Vrydag het hy na ‘n ander dorp toe gery om te preek. Oppad het hy ‘n paar jong manne in hulle sokker klere opgelaai. Die gesprek het gou na geestelike dinge toe gedraai.

‘Weet julle watse dag dit is?’ het hy gevra. ‘Ja, dit is Goeie Vrydag,’ het hulle geantwoord.

Blanchard: Weet julle wat op Goeie Vrydag gebeur het?
Seuns: Ja, Jesus het aan die kruis gesterf.
Blanchard: Weet julle hoekom Hy aan die kruis gesterf het?
Seuns: Hy het gesterf sodat ons vry kan wees van ons sonde.
Blanchard: En… is julle?
Seuns: Stilte.

‘n Jaar later het Blanchard op Goeie Vrydag by dieselfde kerk gaan preek. Na die diens toe kom daar ‘n jong man na hom toe. ‘Onthou jy my?’ het hy gevra. Blanchard kon hom nie plaas nie. ‘Ek is een van die jong manne wat jy verlede jaar op Goeie Vrydag opgelaai het. Jou woorde het my gepla, en ek het kort daarna tot bekering gekom.’

Is Jesus jóú Verlosser; is jý van jou sonde verlos?

[c] Hy is God, die Eerste en die Laaste. Hy is die Eerste uit wie alles ontstaan het, en die Laaste vir wie alles bestaan (v.6, 41:4, 48:12, Rom. 11:36). Volgens Kol. 1:16, Op. 1:17, 2:8, 22:13 is Jesus die Eerste en die Laaste deur wie alles ontstaan het, en vir wie dit bestaan.

Jesus is m.a.w. die God van Jes. 44:6. Merk dit in jou Bybel, sodat jy nie verward raak wanneer die Jehova’s Getuies weer vir jou sê dat Jesus nie God is nie. Moenie aan Jesus se Godheid twyfel nie, maar aanbid Hom met vrymoedigheid.

[d] Daar is geen god buiten Hom nie (v.6, 8, 43:10b, 1Kor. 8:4-6). Ons glo in Een God en nie in drie gode soos wat die Moslems sê nie (v.6, 8). En tog glo ons nie soos Oneness Pentecostalism dat God net een Persoon is nie.

Volgens Matt. 3:16-17, 28:19 is God drie Persone: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. God is m.a.w. Een, maar ook Enig [Deut. 6:4, Heb. ‘echâd]. Die Vader is God (Ef. 4:6). Die Seun is God (Joh. 1:1, Rom. 9:5, Kol. 2:9, Heb. 1:8). Die Heilige Gees is God (Hand. 5:3-4, 1Kor. 2:10-11). En tog is daar net een God (v.6, 8).

Michael Reeves sê dat God voor die skepping eensaam sou wees as Hy net een Persoon was. Hy sou niemand gehad het om lief te hê voor die skepping nie. As Hy net een Persoon was, dan het Hy die wêreld geskep omdat Hy ons en die skepping nodig het, en omdat Hy liefde soek.

Maar as God nog altyd drie Persone was het Hy voor die skepping volmaakte liefde in die Drie-Eenheid geniet. Hy het vervulling in Homself beleef voordat Hy die wêreld gemaak het. Die liefde en lewe tussen die Vader, die Seun, en die Heilige Gees het oorgeloop toe God die wêreld maak. Hy het ons nie geskep, omdat Hy ons nodig gehad het of eensaam was nie, maar vir sy eie plesier en tot sy eer (Op. 4:11, King James Version).

Ons geniet die voordele van ‘n God wat nie die lewe uit jou suig nie, maar wat oorvloedig en uit liefde gee. In sy groot liefde gee Hy sonskyn, reën, familie, vriende, die huwelik, kos, werk, vakansie, speel, warm klere, diere, die see, sy Seun, die Heilige Gees, die Bybel, die kerk, ens.

Die Drie-Eenheid is dus nie net ‘n teorie wat niks verander nie. Dit verander alles. Die Heilige Gees kommunikeer die Vader en die Seun se liefde en lewe aan jou hart. Jy ontvang dit deur die geloof, en geniet dit deur die Woord, die gemeenskap van gelowiges en gebed (Joh. 14:23, 17:3, Rom. 5:5, Ef. 2:18, 3:16-19, 4:4-6, 2Pet. 1:4, 1Joh. 1:3).

[e] Niemand is soos die Here nie: Hy is uniek, heilig en een-van-’n-soort (v.7, 40:18, 25). Kan enige van die gode soos Hy ‘n volk van ouds af kies en red (v.7)? Kan hulle die toekoms voorspel (v.7, 41:22-23)? Laat hulle dit asb. wys (v.7). Israel kon getuig dat Jahwe dinge uit die ou dae voorspel en vervul het: Hy is die ware God (v.8, 43:10-12).

Omdat Hy die toekoms beheer hoef ons nie daaroor te stres nie (v.8, 46:10, Ps. 139:16, Matt. 6:34). God is ewig en buite tyd – jy nie. Jy kan nie in môre lewe en dit verander nie. Die Here kan, omdat Hy die toekoms beheer en bepaal. Glo en vertrou Hom dan vir die dag van môre.

God sal aan jou die krag gee om regte situasies in die hede te hanteer. Maar Hy sal jou nie die krag gee vir dinge wat jy in jou verbeelding oor die toekoms opmaak nie. Glo dus dat die Here vir jou genoeg krag sal gee vir vandag, en moenie in die toekoms lewe nie.

[f] Hy is die Enigste Rots (v.8, Deut. 32:4, 1Sam. 2:2, Ps. 18:3, 19:15, 62:3, 7-8). Hy is nie onbetroubaar soos die afgode nie, maar vaster as Ayers Rock in Australië wat 3.6 km x 2.4 km x 348 m is.

Jesus is hierdie Rots (8:14, 1Kor. 10:4, 1Pet. 2:8). Bou op Hom deurdat jy sy Woord gehoorsaam (Matt. 7:24). As jy dit doen sal dit jou help in ‘n land vol onsekerheid. Die ekonomie is onseker, asook die politieke situasie, jou werk, jou kinders se tersiêre opleiding, boere se plase, reën, ens. Maar die Here is ‘n hoë Rots wat jou uit die modderslyk red en jou voete op Hom plaas (Ps. 40:3, 61:3).

2. Mense se afgode (v.9-20)
Ek het eenkeer met ‘n man oor sy drank probleem gepraat. Hy het gesien hoe dit sy huwelik, kinders, familie en lewe opmors, maar het daarmee aangehou. Hy het besef dat dit ‘n probleem is, maar het gou bygevoeg: ‘Darem is ek nie verslaaf nie; ek is nie ‘n alkoholis nie.’

Sy afgod het hom mislei. So gebeur dit met enigiets waarvan ons ‘n afgod maak: jy wil dit beheer om jóú te dien, maar op die einde beheer dit jou. Dit is die punt van v.9-20: afgode kan jou nie red soos wat die Here kan nie, maar dit maak van jou ‘n slaaf.

Afgode en dié wat hulle maak is niks (v.9). Mense kan nie getuig van enige hulp of voordeel wat afgode vir hulle bring nie (v.9). Hulle is stom en staan beskaamd as jy hulle hieroor vra (v.9, 11). Die afgode is goed vir niks en in tye van nood laat hulle mense in die steek (v.10-11).

Dit kan nie anders nie, want die ambagsman wat hierdie god maak is net ‘n mens (v.11). Hy is ‘n ystersmid wat yster in die kole sit, met ‘n hamer en sy sterk arm op die aambeeld slaan en die god vorm (v.12). Hy raak moeg, honger, dors, flou, uitgeput, en sloof hom af om die god te maak (v.12, sien 40:28, 31!).

Die timmerman span ‘n lyn, merk met ‘n potlood, meet met ‘n passer, vorm die god en skaaf dit (v.13). Hy vorm ‘n god wat soos ‘n mens lyk en maak tot ‘n huisie vir hom (v.13, kontr. Deut. 4:12, 15-16, 2Kron. 2:6, Joh. 4:24, Hand. 17:28-29).

Hy plant ‘n seder, eik of sipres, en soek reën vir sy boom by die god wat hy wil maak (v.14)! Hy kap die boom af, gebruik ‘n stuk daarvan om ‘n lekker kaggel vuur te maak (Ah!), brood te bak en vleis te braai (v.15-17).

Hy vat die res om ‘n god te maak, buig voor dit, en vra dat die god hom moet red (v.15-17)! Afgodery maak ‘n mens blind en dom, sodat jy nie besef dat jy die gruwelike beeld se ‘tweeling’ tot as verbrand om kos te maak en hitte te kry nie (v.18-20)!

Afgodery bedrieg en mislei mense, sodat hulle nie kan sien dat die beeld in hulle regterhande hulle nie kan red nie, maar dat dit ‘n leuen is (v.20, 17, Jer. 17:9). Afgodery is m.a.w. baie subtiel en vang selfs Christene. Jy dink dat geld, pornografie, drank, pille, baie likes op Facebook, status, applous, kos, ens. jou gelukkig sal maak en dat jy dit kan beheer.

Maar op die einde bring dit hartseer en beheer dit jou. Vat bv. man wat vroue verafgod. Hy kyk pornografie vir sy eie plesier. Om te verhoed dat hy uitgevang word, kyk hy dit wanneer sy vrou slaap. Omdat hy laat wakker bly, is hy moeg by die werk en raak sy werk agter.

Hy voel ook skuldig en depressief, en drink dan anti-depressante om beter te voel. Hy kyk nog pornografie. Maar om dit net te sien is nie genoeg nie. Hy soek meer en flirt by die werk. Daarna soek hy meer. Uiteindelik raak hy betrokke in ‘n immorele verhouding.

Hy is bang dat sy vrou sal uitvind en lieg oor hoekom hy laat uitbly. Hy is bang sy sal uitvind hy lieg. Die stres maak dat hy fisies siek word. Hy verloor geld en tyd, omdat hy dokter toe moet gaan. Dit gebeur gereeld. Sy baas raak ongelukkig, omdat hy nie by die werk is nie.

Sy werk kom in die gedrang. Hy werk op ‘n kommissie basis, en verloor geld omdat hy gedurig a.g.v. siekte nie by die werk is nie. Hy vat geld uit die kleinkas en dink dat hy dit later sal terugsit. Sy baas vang hom uit en dank hom af. Hy lieg vir sy vrou oor wat by die werk gebeur het. Na ‘n paar maande kom die hele lelike storie uit. Sy lewe, huwelik en gesin val uitmekaar.

Afgode maak ‘n mens moeg en tap jou krag (v.12). Dit vang jou in ‘n strik waaruit die afgod jou nie kan red nie (v.20, 17, Spr. 5:22, Joh. 8:34). Die Here sal jou aan hierdie afgode oorgee as jy hulle bo Hom kies (v.18, 6:9-10, 2Tess. 2:11). Hy het jou lief en wil hê jy moet besef dat die afgod hartseer veroorsaak en jou nie kan help nie (Jer. 2:19). Sy doel is dat jy die afgod moet los en na Hom toe moet terugkeer.

Moenie soos ‘n man wees wat ek geken het nie. Toe hy uitgevang word is sy trots gewond en het hy sy lewe geneem. Vra eerder vir Jesus om jou van die eintlike probleem te red, nl. jouself. Dit is die senter van afgodery. As jy die ware God aanbid fokus jy op Hom, maar as jy afgode aanbid fokus jy op jouself.

Die wêreld hits dit aan en sê vir jou dat jý die belangrikste is (2Tim. 3:2). Vergeet jouself en volg vir Jesus (Luk. 9:23, 14:26). Net Hy kan jou oë oopmaak om deur die afgod se leë beloftes en leuens te sien; net Hy kan jou vrymaak (v.18, 20, 42:7, Joh. 8:32, 36, 2Kor. 4:4-6).

Maar wat van ‘n ongelowige wat dit regkry om ‘n afgod soos dwelms sonder Jesus se hulp te los? Ek ken ‘n ongelowige wat aan drank verslaaf was en opgehou het. Wat van sulke mense?

Hulle is nie vry van hulleself nie, maar het bloot die afgod verskuif. Dink bv. aan iemand wat dwelms los, en dan ‘n afgod van oefening en ‘n mooi liggaam maak. Net Jesus (deur sy kruisdood en opstanding) kan iemand vrymaak. Kom na Hom toe, erken met berou dat jy gesondig het, en roep uit dat Hy jou sal help. Dan sal ander mense ook sien dat jy jou soos die Tessalonisense “van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1Tess. 1:9).

Hoekom Jesus beter is as die ander gode

Jesus among other gods

My tema impliseer dat daar ander gode is, maar dit is nie wat ek bedoel nie.  Volgens die Bybel is daar net een God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Deut. 6:4, Matt. 3:16-17, 28:19, Joh. 1:1, Ef. 4:4-6, 1Kor. 8:4-6, Jak. 2:19).  Buiten Hom is daar geen ander God nie (Jes. 45:5-6, 14, 18, 21-22).  Derhalwe kan Hy ook doen wat geen ander god kan nie, en is Hy beter as hulle.  Jes. 41 wys vir ons hoe die Here se dade groter is as die ander gode s’n.

 

  1. Hy beheer die nasies (v.1-7)

Die ANC glo dat die voorvaders ons land se toekoms beheer, maar volgens die Bybel beheer God die nasies en beveel Hy hulle in v.1 om stil te wees in sy hof (Ps. 46:11, Hab. 2:20, Sag. 2:13).

 

Die Here het sy volk versterk (40:29, 31), maar die nasies moet hulleself versterk voordat hulle in sy hof verskyn (v.1).  Laat hulle nader kom, praat, hulle saak voor die Here stel, en vir hulleself oordeel of Hy die ware God is (v.1).

 

Toe die nasies hulle saak gestel het toe kom hulle onder kruisverhoor (v.2).  Hier is wat die Here hulle gevra het:

 

  • Wie het koning Kores van Persië uit die ooste opgewek (v.2, 44:28)?
  • Wie het hom gestuur om te oorwin met elke tree wat hy gee (v.2)?
  • Wie het die nasies voor hom platgevee en in sy hand oorgegee (v.2)?
  • Wie het konings onder sy voete vertrap (v.2, Jos. 10:24, 1Kon. 5:3)?
  • Wie het hom gehelp om die nasies en haar konings soos stof te maak met sy swaard, soos wind-verwaaide stoppels met sy boog (v.2, 40:24)?
  • Wie het gemaak dat hy veilig is terwyl hy sy vyande verjaag (v.3)?
  • Wie het gemaak dat hy so vinnig oor die aarde beweeg dat sy voete nie grondvat nie (v.3, vgl. Dan. 8:5)?[1]
  • Wie het al hierdie dinge gedoen (v.4)?
  • Wie het van die begin af die geslagte of nasies van die aarde in die lewe geroep (v.1, Hand. 17:26)?

 

‘Ek, Ek, Ek, Ek…’ sê die Here dwarsdeur die hoofstuk.  “Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (v.4).  Israel en die nasies moet weet dat Hy en nie die afgode nie, die ware God is wat nasies en konings beheer (v.2-4, 40:15, 17, 23).

 

Hy is die Eerste wat voor die begin bestaan het (Gen. 1:1), en wat tot op die laaste dieselfde sal bly (v.4).  Hy is die Eerste uit wie alles ontstaan het, die Laaste tot wie se eer dit bestaan (v.4, 44:6, 48:12, Joh. 1:2-3, Kol. 1:16, Op. 1:8, 17, 2:8, 22:13).  “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 11:36).

 

Hoe het die nasies en eilande hierop gereageer?  Hulle was bang en het gebewe (v.5).  Maar in plaas daarvan dat hulle na die Here toe draai (v.1), het hulle mekaar moed ingepraat om gode te maak wat hulle kamtig teen die koning van Persië sou beskerm (v.5-7).  Maar watse soort god is dit wat deur mense hande gemaak word en dan nog deur hulle versterk moet word (v.7, Jer. 10:4)?

 

Ek vertrou eerder op die Here wat konings en nasies beheer.  Hy het die presidente van ons land aangestel en weer uit die amp verwyder (Dan. 2:21, Rom. 13:1).  Hy lei hulle om goed te doen en laat toe dat hulle kwaad doen (Esra 1:1, 6:22, 7:27, Spr. 21:1, Joh. 19:10-11).

 

Die Here veroorsaak nie sonde nie, maar is soewerein oor presidente en konings se sondige keuses (Hand. 4:27-28).  Dit geld o.a. vir absurde wette wat sonde goedpraat, bv. gay huwelike in Australië, grondgrype sonder vergoeding in Suid-Afrika, geslagsverwarring in Kanada, ens.

 

God is in beheer selfs wanneer ‘n baba ontvoer word, ‘n leeu sy eienaar byt, of as demone mense met vals lering vang (Gen. 45:5, 8, 50:20, Ps. 105:17, 2Kon. 17:25, 1Kon. 22:20-23, 2Tess. 2:11).

 

Dit beteken nie dat die Here sonde goedkeur nie.  Inteendeel, Hy haat dit.  Maar Hy is in beheer daarvan.  En as jy aan hierdie God behoort en Hom liefhet sal Hy maak dat die grootste tragedie tot jou voordeel uitwerk (Rom. 8:28).  Is dit nie wat deur Jesus se kruisdood gebeur het toe Hy vir ons lewe en verlossing gebring het nie?

 

  1. Hy red sondaars (v.8-20)

Mense in kultusse en ander godsdienste moet hulleself red.  Hulle god is nie sterk genoeg om dit te doen nie.  Hulle moet sekere reëls nakom en rituele beoefen.  En selfs as hulle dit gedoen het is dit waarskynlik nie genoeg nie; die ‘god’ sal besluit of dit voldoende is of nie.

 

Met die Here werk dit anders.  Hy red sondaars wat niks kan doen om hulleself te red nie; alles moet van Hom af kom.  Dit is wat Hy met Israel gedoen het.  Hy het sy vriend Abraham en dié se nageslag gekies om aan Hom te behoort (v.8, 2Kron. 20:7, Jak. 2:23, Deut. 7:7-8).

 

Hy het hulle aan die eindes van die aarde gaan haal: Mesopotamië, Egipte en Babilon (v.9, 43:5-6, Jos. 24:2-3, Hand. 7:2).  Hy het hulle nie geheel en al verwerp nie, en sal hulle daarom weer in die toekoms na Hom toe bring (v.9, Rom. 11:28-29).

 

Israel het nie rede gehad om bang te wees en angstig rond te kyk vir ander gode se hulp nie (v.10, 5).  Die Here sou hulle met sy kragtige regterhand red, help, versterk en ondersteun (v.10, 40:29, 31, Ps. 46:2).

 

Die vyande wat kwaad was en teen hulle baklei het sou misluk en in die skande kom (v.11-12).  Die Here sou hulle van die aardbol af verwyder en maak dat hulle niks is nie (v.11-12, 40:17, 23, Ps. 37:10, 36).  Dit was onnodig vir God se volk om bang te wees, aangesien die Verlosser en Heilige van Israel soos ‘n Vader langs die klein ‘wurmpie’ gestaan het om sy hand vas te hou en hom te help (v.13-14).

 

In Christus geld die bg. beloftes ook vir ons (2Kor. 1:20): ons is die Here se diensknegte (v.8, 1Pet. 2:16).  Hy het ons uitverkies (v.8, Ef. 1:4-5, 2Tess. 2:13).  Ons is die nageslag van Abraham (v.8, Gal. 3:7, 29).  Ons is sy vriende (v.8, Joh. 15:13-15).  Hy het ons by die eindes van die aarde kom roep (v.9, Hand. 1:8).  Hy sal ons nooit verwerp nie (Joh. 6:37, 10:27-28).

 

Moet dan nie bang wees nie… moenie bang wees nie… moenie bang wees nie (v.10, 13, 14).  Hoekom nie?  Nie omdat God die beproewing kan wegvat of keer dat jy daardeur gaan nie, maar omdat Hy met jou is en jou nie sal verlaat nie (v.10, 13, 14, 43:2, Ps. 23:4, Matt. 1:23, 28:20, Heb. 13:5).

 

Jy hoef nie angstig rond te kyk vir ander hulp nie (v.10, 5-7).  Sonder die Here kan geen politieke party, berader, geld of enigiets anders jou help nie.  Kyk daarom deur geloof, die Woord en gebed na die Here toe (v.10, 5-7).

 

As jy by die Here skuil kan niemand jou seermaak nie (v.11-12, Sag. 2:8, Rom. 8:31).  Die Here sal sy kinders se vyande vernietig.  Waar is die Babiloniërs, Amalekiete, Filistyne en ander nasies wat teen die Here se kinders baklei het?  Waar is die Romeinse Ryk wat hulle vervolg het?

 

Net soos wat die Here van Griekse mitologie ontslae geraak het, sal Hy Islam, evolusie en die res van die kerk se vyande onder sy voete vertrap (Ps. 110:1, 1Kor. 15:25).  “Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie” (v.12).

 

Vir iemand om God se kinders seer te maak is soos vir ‘n boelie om jou te klap terwyl jy langs jou pa staan en sy hand vashou (v.13).  Eintlik is dit erger, omdat ons Verlosser die Heilige van Israel is (v.14).

 

Dalk voel jy so klein en hulpeloos soos ‘n wurm.  Onthou asb. dat dit vir die Here maklik is om ‘n wurm in ‘n skerp, nuwe dorsslee met baie tande te verander.

 

Hy het dit met Israel gedoen en deur hulle die nasies soos berge en heuwels afgemaai, fyngemaal, uitgewan, en in die stormwind van sy toorn verstrooi (v.14-16, 2, 2:14, 40:4, 12, 24, Ps. 1:4, Jer. 51:2, Miga 4:13, Sag. 4:7).  Hieroor het Israel hulle in die Here verbly, en nie in die nasies se gode geroem nie (v.16).

 

Jesaja wissel nou ratte, maar eintlik wys hy nog steeds hoe die Here sy volk verlos.  Hy gebruik simboliese taal om die nuwe verbond en Israel se toekoms mee uit te beeld.  Die belofte is vir dié wat arm van gees is (v.17, Matt. 5:3).  Hulle besef dat hulle niks het om God se verlossing te koop nie, maar dat alles van Hom van kom.

 

Hulle het ‘n dors na die vars water van Christus en sy verlossing (v.17, Ps. 42:2, 63:2, Matt. 5:6, Joh. 4:14, 7:37-39).  Die Here verhoor hulle en gee dit in oorvloed (v.17-18).  Deur die Gees wat Hy op hulle uitstort verander Hy sy volk se dor lewe in ‘n water paradys vol koeltebome (v.18-19, 12:3, 32:15, 35:6-7, 44:3, 55:13, 60:21, 61:3, Ps. 92:13-15, 1:3, vgl. Eks. 15:27, 17:1-7).

 

Wanneer die nasies hierdie nuwe skepping sien sal hulle weet dat die Here God is, omdat net Hy die transformasie van ‘n veranderde en nuwe lewe kan meebring (v.20, 2Kor. 5:17).  Die nasies se gode kan dit nie doen nie.  Wys vir my die ongelowige wat nie net uiterlik goed lyk nie, maar totaal en al van binne af getransformeer is.

 

Drie maande gelede het ‘n jong man vir my gevra of die Here iemand hel toe sal stuur as hy reg lewe maar nie in Jesus glo nie.  My antwoord was tweeledig.  Eerstens oortree so iemand die grootste gebod wat sê dat jy die Here met jou hele wese moet liefhê.  Tweedens is dit nie moontlik om reg te lewe as jy nie in Jesus glo nie, omdat Hy jou deur die Heilige Gees in staat moet stel om reg te lewe.

 

Juis om hierdie rede is mense wat ander gode aanbid geldgierig, oneerlik, hoogmoedig, immoreel, losbandig, skelm, bitter, vreesagtig, kwaad, ens.  As jou hart so leweloos soos ‘n woestyn is en jou lewe nie anders as die wêreld s’n lyk nie, is dit omdat jy nie weergebore is nie (al sê jy ook dat jy die Here ken).

 

Vra die Here om die dor woestyn van jou lewe in ‘n paradys te verander.  Vertrou dat Jesus jou deur sy Gees sal nuut maak as jy in Hom en sy kruisdood vir sondaars glo.  Sien die liefde van Een wat:

 

  • Angs beleef het sodat jy kan bly wees,
  • Uitgewerp is sodat Hy jou kan inbring,
  • As ‘n vyand vertrap is sodat jy as ‘n vriend verwelkom kan word,
  • Aan die hel oorgelewer is sodat jy die hemel kan erf,
  • Naak was sodat jy geklee kan word,
  • Gewond is sodat jy genees kan word,
  • Dors was sodat jy kan drink,
  • Gepynig is sodat jy getroos kan word,
  • Tot skande gemaak is sodat jy sy heerlikheid in besit kan neem,
  • In duisternis gehang het sodat jy God se lig kan sien,
  • Getreur het sodat jou trane afgevee kan word,
  • Gekreun het sodat jy vir ewig mag sing,
  • Pyn verduur het sodat jy gesondheid kan geniet,
  • ‘n Doringkroon gedra het sodat jy ‘n heerlike kroon kan hê,
  • Sy hoof laat hang het sodat jy joune kan oplig,
  • Sy oë in die dood gesluit het sodat jy joune in die hemel kan open,
  • Sy asem uitgeblaas het sodat jy vir ewig kan lewe.[2]

 

  1. Hy beheer die geskiedenis (v.21-29)

Het jy al gehoor hoe mense dit in Engels sê: ‘History is His Story’?  Dit is waar, omdat God in die geskiedenis besig is om sy planne uit te werk.  Dit is waaroor Hy die gode in v.21-29 aanvat.  Na aanleiding van v.1-20 daag die Koning van Israel die nasies voor sy hof om aan Hom te bewys dat hulle gode gode is (v.20, 1).

 

‘Laat julle gode vir ons sê wat in die toekoms gaan gebeur,’ het Hy gesê (v.22).  ‘Kom klip-gesig, voorspel asb. die toekoms (v.22).  Of dalk wil jy ons van die verlede vertel, sodat mense daaruit kan leer en nie in die toekoms dieselfde foute sal maak nie (v.22)?  Wat lê vir ons voor: wil jy ons nie asb. van môre vertel nie (v.23)?  As jy die toekoms kan voorspel sal almal weet dat jy die God is wat dit beheer (v.23, 48:5-8).

 

‘Hoekom doen jy nie iets goed soos om mense te verlos, of skade soos om ‘n nasie te oordeel nie (v.23, 45:7)?  Wys asb. jou mag, sodat almal vreesbevange kan wees (v.23).  Verbaas ons; almal wil tog sien dat jy ‘n god is (v.23).

 

‘Nes Ek gedink het: jy en jou makkers is niks!  Julle werk bestaan ook nie en is minder as niks (v.24).  Die een wat besluit om julle te aanbid is afskuwelik; afgodery is haatlik (v.24)!’

 

God is anders as die gode.  Hy voorspel nie net die toekoms nie; Hy beheer dit (46:10, Ef. 1:11).  In 539 v.C. het koning Kores van Persië se weermag van die noorde en ooste af op die Babiloniërs afgekom en hulle soos klei vertrap (v.25).

 

In dieselfde jaar het Kores volgens Jesaja se voorspelling die Here se Naam aangeroep (v.25).  Hy het in Jahwe se Naam die Jode vrygelaat en hulle na Jerusalem toe terugstuur (Esra 1:1-4).  God het hierdie dinge meer as 150 jaar vroeër deur Jesaja voorspel.

 

Kan enige van die gode dit doen?  Laat hulle dit wys sodat ons kan weet dat hulle gode is (v.26, 47:13).  Ons wag… geen antwoord nie… stilte… (v.26, 28).  Die gode bestaan nie en is ‘n illusie (v.29).  Soos Willards se Cheese Curls is hulle so leeg soos wind (v.29).  Maar die Here bestaan en het vooraf die goeie nuus van Kores se koms deur Jesaja voorspel (v.27).

 

Hy het honderde ander gebeure voorspel wat tot op die letter vervul is.  Ek wil op die Messiaanse voorspellings fokus (iets wat een van my dosente op Sem ontken het).  Die Ou Testament het o.a. voorspel:

 

  • Die Messias sal in Betlehem, uit ‘n maagd, uit die stam van Juda en uit die geslag van Dawid gebore word (Miga 5:1, Jes. 7:14, Gen. 49:10, Ps. 132:11).
  • Hy sal in die Galilea-streek preek (Jes. 8:23-9:1).
  • Hy sal op ‘n donkie in Jerusalem inry (Sag. 9:9).
  • Een van sy vriende sal Hom verraai (Ps. 41:10).
  • Hy sal onskuldig wees en stilbly by sy verhoor (Jes. 53:7-9).
  • Hy sal gegesel word (Jes. 50:6, 53:5).
  • Hy sal tussen misdadigers gekruisig word en vir sy vyande bid (Ps. 22:17, Jes. 53:12).
  • Hy sal sê: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Ps. 22:2). Sy vyande sal sê: ‘Laat die Here Hom red as Hy ‘n behae in Hom het!’ (Ps. 22:8-9).
  • Hy sal dors word aan die kruis (Ps. 22:16, 69:4). Sy vyande sal vir Hom asyn gee om te drink (Ps. 69:22).  Hulle sal sy klere verdeel, lootjies trek vir sy kleed en ‘n spies in sy sy steek (Ps. 22:19, Sag. 12:10).
  • Hy sal in ryk man se graf begrawe word (Jes. 53:9).
  • Hy sal uit die dood uit opstaan (Jes. 53:10).

 

Die Nuwe Testament wys vir ons dat hierdie dinge so gebeur het.  God beheer die geskiedenis.  Hy doen dit nie net op ‘n groot skaal nie, maar stel belang in die detail van jou persoonlike lewe en geskiedenis:

 

“U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al… in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Ps. 139:2-4, 16).

 

In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia moes Shasta ‘n gevaarlike reis deur die woestyn aanpak om betyds by ‘n sekere koning Lune uit te kom.  Gedurende die reis het hy vir ‘n nag tussen die grafte geslaap, was hy bang vir jakkalse en het ‘n leeu hom gejaag.  As baba het iemand hom in ‘n boot naby die water se kant gekry.

 

Toe Aslan die leeu vir Shasta ontmoet, toe sê hy vir hom: ‘Ek was die kat wat jou rustig laat voel het tussen die grafte.  Ek was die leeu wat die jakkalse verdryf het sodat jy rustig kon slaap.  Ek was die leeu wat jou gejaag het en die perd bang gemaak het, sodat hy vinniger kon hardloop en jy betyds by koning Lune kon uitkom.  En ek was die leeu wat die boot gestoot het toe jy as kind byna gesterf het, sodat ‘n man wat teen middernag buite gesit het jou kon ontvang.’[3]

 

Wanneer jy eendag in die hemel is sal Jesus vir jou soortgelyke dinge sê, en sal jy weet dat Hy jou nooit verlaat het nie.  Dan sal dit weereens vir jou duidelik word dat Hy beter is as die ander gode.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester: England, Inter-Varsity Press, 1993), 310

[2] Vry vertaal en aangepas uit Arthur Bennett, The Valley of Vision: A Collection of Puritan Prayers & Devotions (Edinburgh: Scotland, The Banner of Truth Trust, 1975), 42

[3] Vry vertaal uit C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and His Boy (New York: NY, HarperCollins Publishers, 1954), 281

Hoekom het ons die evangelie nodig?

Club

Soms laat medisyne jou slegter voel voordat dit jou beter maak.  Net so moet jy die slegte nuus van God se toorn oor sonde verstaan (Rom. 1:18-32), voordat die goeie nuus van die evangelie vir jou sin maak (Rom. 1:16-17).  Die evangelie van Christus in v.17 skitter soos ‘n sterrehemel as jy dit teen die donker agtergrond van v.18-32 sien.

 

  1. Die rede vir God se toorn (v.18-23)

Het jy al ooit gedink dat ‘n regter onregverdig is om ‘n moordenaar of verkragter vir die res van sy lewe toe te sluit?  Hoekom dink mense dan dat die Here onregverdig is om hulle te straf?  Is dit nie omdat hulle hulle sonde miskyk en dink dit is nie so ernstig nie?

 

Volgens Paulus is ons sonde so ernstig dat God sy vurige toorn vanuit die hemel openbaar (v.18).  Dit beteken nie dat Hy sy humeur verloor nie.  Sy woede is rasioneel en regverdig oor dié wat sy heilige wet minag (4:15).

 

Alhoewel dit in die toekoms soos ‘n atoombom oor die wêreld sal ontplof (2:5, 8, 9:22, 1Tess. 1:10, Op. 14:10-11), val dit alreeds soos haelstene op die goddelose (v.18, Joh. 3:36, Ef. 5:6, 1Tess. 2:16).  Hoekom?

 

God het Homself in die skepping aan ons bekend gemaak.  Alhoewel die plesier van ‘n koelteboom of kraakvars appel jou nie kan red nie, kan jy daardeur weet dat die Here bestaan (v.19, Ps. 19:2-7, Hand. 14:15, 17).

 

Die ontsaglike heelal verkondig sy onsigbare krag, terwyl komplekse plantselle en menslike DNA sy Goddelike natuur onderstreep (v.19-20).  Ons kan dus nie onskuld en onkunde pleit wanneer ons eendag voor die Here staan nie.  Niemand kan sê: ‘Ek het nie geweet nie’ (v.19-20).

 

Jy hét geweet, maar die waarheid in jou gewete onderdruk (v.18, 21).  Jy het van die Here geweet, maar Hom nie gevrees en gedank toe Knysna afbrand en Johannesburg reën kry nie (v.21).  Ons denke is verwronge en ons donker harte dwaas (v.21-22, Gen. 3:6, Jer. 10:14).

 

In ons dwaasheid kyk ons na ‘n skildery en sê ons dat daar nie ‘n Skilder is nie (v.22, Ps. 14:1).  Ons mis die onsterflike God se heerlikheid in ‘n reënboog, en kies om die beeld van ‘n sterflike mens, voël of dier te aanbid (v.23, Ps. 106:20, Jer. 2:11).

 

Ons is nou wel nie Indiane of Hindoes wat voor beelde buig nie, maar in die weste aanbid mense ook maar die skepping: ons eie liggame, seks, kos, drank, geld, menslike intellek en meer.

 

Om ons sonde te regverdig sê ons dat daar nie so iets soos absolute waarheid is nie (Joh. 18:38): ‘Wat vir jóú waar is, is nie noodwendig vir mý waar nie; elkeen moet vir homself besluit wat reg is.’

 

So verwerp ons die waarheid van God se bestaan (v.18).  Volgens baie mense wys sy onsigbaarheid (v.20, 1Tim. 1:17) dat Hy nie bestaan nie.  Maar op daardie gronde moet ons gedagtes en logika ook nie bestaan nie, aangesien ons dit nie met een van ons vyf sintuie kan waarneem nie.

 

Om so te redeneer is onsin.  Diep in elke mense hart weet hy dat daar ‘n onsigbare God is (v.20).  Hy weet dat God ewig is en materie nie (v.20, Pred. 3:11, ESV).  Hy weet dat die orde van die planete of ‘n byekorf nie uit die wanorde van die ‘Big Bang’ ontstaan het nie, maar uit die ordelike God wat dit gemaak het.

 

Hou dit in gedagte wanneer jy die evangelie met ateïste deel.  Moenie met hulle oor God se bestaan stry nie.  Neem aan dat hulle van God se bestaan weet, en gebruik die Tien Gebooie om by hulle gewetens uit te kom (2:14-15).

 

‘Maar wat van die mense wat nog nooit van die Here gehoor het nie?’ wil iemand weet.  ‘Is dit nie onregverdig dat Hy hulle straf nie?’  Nee, want volgens v.18-23 hét hulle van Hom gehoor (al was dit sonder woorde), maar die skepping aanbid.

 

As hulle hel toe gaan is dit nie omdat hulle nie ‘n Bybel gehad het nie, maar omdat hulle van God geweet het en nog steeds besluit het om teen Hom te rebelleer.  As hulle die Here erken sal Hy iemand stuur om die evangelie met hulle te deel (Hand. 10, 17:27).

 

  1. Die effek van God se toorn (v.24-32)

Mense wat sê dat die wêreld nog nooit so erg was soos nou nie en dat dit ‘n bewys van die einde is, wys dat hulle onkundig is oor die geskiedenis.  Die eerste eeu waarin Paulus geleef het was net so erg, indien nie erger nie.[1]

 

Gedurende Paulus se leeftyd was die booshede van v.24-32 aan die orde van die dag.  Ons kan sy argument in hierdie verse onder die volgende hoofde opsom:

 

[a] Waar mense die skepping-Skepper orde omruil, gee God hulle oor aan seksuele immoraliteit (v.23-25)

Alle sonde begin by afgodery (v.23, 24-32).  Dit is mos logies dat ‘n lewe sonder God goddeloos sal wees.  Moet dus nie dink dat die Here mense se sonde veroorsaak nie.  Hy gee hulle eenvoudig oor aan die onrein luste wat alreeds in hulle harte is (v.24).  Gevolglik het hulle geen skaamte of respek vir hulle eie en ander mense se liggame nie, en onteer hulle seks en die huwelik (v.24, Heb. 13:4).

 

[b] Waar mense die waarheid van God se bestaan vir die duiwel se leuen verruil, gee Hy hulle oor aan homoseksualiteit (v.25-27)

Die meeste mense sal op ‘n Sondag die Vaalrivier se vis of hulle fikse liggame op ‘n bergfiets aanbid, voordat hulle die lofwaardige Skepper in ‘n kerkgebou sal prys (v.25).

 

Omdat hulle die skepping-Skepper orde omruil (v.23, 25), vat dit nie lank voordat hulle die man-vrou orde omruil nie (v.26-27).  Die Here reageer deur hulle aan hulle skandelike begeertes oor te gee (v.26).

 

Vroue verruil hulle natuurlike seksuele begeerte vir mans (Matt. 19:5-6) vir ‘n onnatuurlike begeerte om met ander vroue te slaap (v.26).  Mans laat vaar die natuurlike begeerte vir vroue en brand met wellus vir mekaar (v.27).

 

In ‘n poging om hulle of hulle kinders se sonde te regverdig, sal sommige mense sê dat v.26-27 nie na gays verwys nie: ‘Paulus praat van mense wat heteroseksueel gebore is en teen hulle natuur ingaan om dan gay te wil wees.’

 

Maar dit impliseer dat gay mense so gebore is en dat daar ‘n gay geen is.  Maar waar is die bewyse?  As iemand se gene hom gay máák, moet ons vra hoekom homoseksuele Jerry se lewe verander het, en hoekom Dirk nie gay is soos sy tweeling broer Chris nie?

 

Gay mense sal sê dat hulle nie kan onthou dat hulle gekies het om so te wees nie.  Maar ek kan ook nie onthou dat ek gekies het om selfsugtig of hoogmoedig te wees nie.  Lisa se ‘ingebore’ drang vir vroue verskoon haar nie, net soos wat Gerrie se ‘ingebore’ neiging om sy vrou te slaan dit nie reg maak nie.

 

Buitendien kyk niemand per ongeluk gay pornografie nie, en val hulle nie per ongeluk in die bed saam met iemand van dieselfde geslag nie.  Hulle kies om dit te doen.

 

Die punt wat ek wil maak is dat homoseksualiteit onnatuurlik is, en dat niemand so gebore is nie (v.26-27).  Dit is nie hoe die Here dit in Gen. 1-2 bedoel het nie: Hy het ‘n man en vrou vir mekaar gemaak en nie twee mense van dieselfde geslag nie.  Biologies pas twee mans of vroue se liggame nie bymekaar nie.  Die feit dat dit biologies onmoontlik is dat hulle kinders kry bevestig dit (Gen. 1:28).

 

‘Maar wat as iemand homoseksuele neigings het, maar dit nie beoefen nie?’ wil iemand weet.  Paulus verdoem nie net homoseksuele dade nie, maar ook die begeerte (v.26-27).  Die wellus-beginsel wat Jesus in Matt. 5:27-28 neerlê, geld ook vir homoseksuele drange.

 

Iemand sal sê dat v.27 oor homoseksuele molestering of verkragting gaan, en nie oor ‘n liefdevolle gay verhouding nie.  Maar hulle is verkeerd, omdat die mense in hierdie vers met wellus teenoor mekaar ontbrand (v.27).  As hulle die begeerte nie meer kan inhou nie, lei dit tot vieslike dade wat in geen mens se woordeskat of gedagtes hoort nie (v.27, Ef. 5:3, 12).

 

Dit is a.g.v. súlke dade wat hierdie mense in hulleself die verdiende straf vir hulle dwaling ontvang (v.27).  In gewone Afrikaans kan ons sê dat hulle seksueel oordraagbare siektes soos VIGS kry (v.27).  Maar dit is nie die ergste nie, want uiteindelik beland hulle in die hel (1Kor. 6:9-10, Heb. 13:4, Jud. 7, vgl. Gen. 19, Lev. 20:13).[2]

 

[c] Waar mense die man-vrou orde omruil en dit nie die moeite werd ag om die Here te erken nie, gee Hy hulle oor aan verdraaide opvattings en ‘n slegte gesindheid (v.26-32)

Omdat mense God uit hulle gedagtes skuif, vul sonde die leemte en dink hulle onderstebo (v.28).  Hulle verkeerde denke lei tot baie ander sondes (v.29-31).

 

  • Hulle doen dit nie een keer nie, maar is vol daarvan (v.29).
  • Die verskeidenheid van sondes is groot (v.29).
  • Hulle doen sonde in die algemeen: “ongeregtigheid…boosheid, hebsug [of gierigheid], ondeug [of verdorwenheid]” (v.29).
  • Hulle is seksueel losbandig: “hoerery” (v.29, vgl. v.24, 26-27).
  • Hulle sondig in hulle mense-verhoudings: “nydigheid [of jaloesie], moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid…ongehoorsaam aan die ouers” (v.29-30).
  • Hulle sondig met hulle tonge: “nuusdraers, kwaadsprekers” (v.30).
  • Alles draai om hulle en nie om die Here nie: “haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters” (v.30).
  • Hulle dink nuwe sondes uit (v.30).
  • Hulle laat na om te doen wat reg is: “onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig” (v.31).

 

Omdat mense ‘n mini-hof in hulle gewetens het, besef hulle dat die Here hulle vir die bg. dinge gaan oordeel (v.32, 2:14-15).  Hulle weet dat Hy hulle met die tweede dood van die hel gaan straf (v.32, 6:23, Op. 21:8).

 

Maar dit skrik hulle nie af nie.  Hulle volhard in hulle sonde en moedig ander aan om dieselfde te doen (v.32).  Duidelik sondig hulle nie per ongeluk soos hulle partykeer wil voorgee nie.

 

Niks het verander van Paulus se tyd af nie; dinge is nog net dieselfde.  Omdat mense hulle sonde wil doen (v.24-32), sê hulle dat die Here nie bestaan nie (v.18-23).  Ander vervang die God van die Bybel met ‘n god van hulle eie verbeelding en sê: ‘Die god wat ék aanbid sal nie mense hel toe stuur nie.’

 

Omdat hulle die Here verwerp draai Hy die brieke los.  Hy gee vir hulle wat hulle wil hê, en maak dat die gevolge daarvan soos ‘n vrag bakstene op hulle afkom.

 

Hulle raak vasgevang in die net van Hollywood en internet pornografie (v.24).  Dit lei daartoe dat hulle voor die huwelik saam slaap, gedurig oor seks baklei, egbreuk pleeg, skei en hulle kinders se lewens verwoes (v.24).

 

Ander ontwikkel ‘n lus vir mense van dieselfde geslag (v.26-27).  In hulle wellus vernietig hulle hulleself, die mense met wie hulle seks het, die familie-struktuur soos God dit bedoel het, hulle ‘aangenome’ kinders en die samelewing (v.27).

 

Dit is erg dat regering homoseksualiteit, prostitusie en pornografie goedkeur (v.32, 24, 26-27), maar dit is erger dat die kerk mense aanmoedig om voor die huwelik saam te slaap en gay te wees.  Hoe kan ‘n samelewing staande bly as mense goed sleg noem en sleg goed (v.28, Jes. 5:20)?

 

Mense is blind vir hulle sonde en sal sê dat dit nie so erg is nie, maar volgens Paulus is hulle vol daarvan: dit beheer hulle gedagtes en lewens (v.29).  Dit affekteer hulle verhoudings (v.29-30).  Hulle verskoon hulle sonde deur te sê dat dit niemand seermaak nie, maar hulle lieg.

 

Benadeel Hannes nie vir Ria as hy haar seksuele reinheid steel nie?  En benadeel hy nie vir Gert wat eendag met haar gaan trou nie?  Is dit nie tot Hennie se nadeel as Zack hom met ‘n vuil siekte besmet nie?

 

Kry Karen nie seer as sy met ‘n man trou wat aan pornografie verslaaf is nie?  Voel Retha se ouers nie die pyn as sy vir hulle sê sy is ‘n lesbian nie?  En bedroef al hierdie sondes nie die Here nie?

 

Vergeet asb. van die mite wat sê dat sekere sondes ‘okay’ is, omdat dit niemand seermaak nie.  Moet ook nie luister as die wêreld vir jou sê dat hulle nie bedoel het om mense seer te maak nie.

 

Volgens v.32 sondig hulle opsetlik en geniet hulle dit dat ander hulle voorbeeld volg.  Hulle gebruik middele soos musiek, TV en die internet om mense aan te hits.  Omdat mense se harte en gedagtes verdraaid is (v.21-22, 28), weet hulle hulle sal suksesvol wees.

 

Duidelik is die probleem dieper as net ons dade, en daarom moet die oplossing ook dieper wees.  Die Heilige Gees moet ons van binne af nuut maak, sodat ons anders as v.18-32 lewe.

 

Maar wat moet ons met die sondeskuld van die verlede doen: wie gaan dít betaal?  En wat van die sonde wat ons nog gáán doen?  Omdat ons nie naastenby ‘n regverdige rekord het nie (v.18-32), het God besluit sy eie volmaakte geregtigheid te gee aan dié wat in sy Seun glo (v.17, Fil. 3:9).

 

Dit is wat die evangelie goeie nuus maak: ons hoef niks te doen om gered te word nie, omdat Jesus in sy lewe, kruisdood en opstanding alles vir ons gedoen het.  Ons hoef bloot te erken dat v.18-32 ons lewens opsom, dat onsself nie kan verander nie, en dat Jesus al Een is wat ons kan red.

 

Toe Hy in ons plek aan die kruis hang, het v.18 en 2:8 se toorn Hóm versmoor (v.18).  Hy het die Vader se toorn geabsorbeer, sodat dié wat hulle bekeer en in Hom glo nie ‘n druppel daarvan sal drink nie (3:25, 1Joh. 2:2).  Die storm van God se toorn het hom op Jesus uitgewoed, sodat geen gelowige vir sy eie sonde hoef te sterf nie (v.32).

 

Omdat God ons so genadig is, moet ons nie neersien op dié wat nog afgode dien, rondslaap, gay is, of die sondes van v.29-32 doen nie.  Ons moet hulle liefhê en onthou dat ons self so was (Tit. 3:3).  Ons moet die Here dank dat Hy ons gered het, en nie maak of ons dit verdien het nie.

 

Alhoewel die mense van v.18-32 gered moet word alvorens hulle by die gemeente kan aansluit, moet ons hulle kerk toe nooi en die evangelie met hulle deel.  Ons moet onthou dat Jesus vir sulke mense gesterf het (5:8), en dat sy arms oop is om hulle te ontvang as hulle met berouvolle geloof na Hom toe kom.

 

Dalk staan jy self skuldig aan die dinge wat jy vandag gehoor het.  As jy jou bekeer en die evangelie glo is die Here nie meer kwaad vir jou nie.  Hy gaan jou nie straf omdat jy jouself nie kan vergewe nie.  Wat saak maak is dat Hý jou vergewe.  Die vraag is of jy dit aanvaar en bereid is om te erken dat jy dodelik siek is, maar dat Jesus jou kan genees.

 

[1] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004

[2] Vir meer oor homoseksualiteit kan jy die volgende artikels op my blog lees:

[a] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/10/15/n-reaksie-op-gay-huwelike-in-die-ng-kerk/

[b] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2013/11/01/se-die-bybel-regtig-homoseksualiteit-is-sonde/

[c] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2013/11/16/n-oplossing-vir-homoseksualeit/

Hoe groot is jou God?

Universe 3

Soos gr. 1 seuntjies wat oor hulle pa’s stry, dink elke mens dink dat sy of haar god die beste is.  Dit is maklik om jou god te dien wanneer dit met jou goed gaan.

 

Maar hoe help hy jou wanneer jou 3-jarige verdrink, of as jy met terminale kanker gediagnoseer word?  Waar is hy as jy skielik jou werk verloor, as jou man jou verneuk, as jou tiener vir jou sê dat hy gay is, of as jou huis tot op die grond afbrand?

 

Wat ek eintlik vir jou vra is hoe groot jou god is?  In Jes. 36-37 het die God van die Bybel gewys dat die gode van die nasies dood is, en dat Hy groter en sterker is as hulle.

 

Alhoewel Hy hulle in die eerste rondte kon uitklop, het Hy hulle vir ‘n paar rondtes in die kryt gehou om hulle te verneder.  Hy het kat en muis met hulle gespeel, en in die derde rondte sy mag gewys toe Hy hulle met een hou teen die grond slaan.

 

  1. Die eerste rondte (36:1-37:7)

Dit is ‘n wel bekende feit dat Usain Bolt die vinnigste man op aarde is.  Dit blyk ook dat hy vol van homself is.  Dus was dit seker nie ‘n slegte ding dat hy in sy laaste wedloop derde gekom het nie.

 

Iets soortgelyk het met die koning van Assirië gebeur.  Hy was gewoond daaraan om te wen, maar op die einde was hy soos haas in die haas en skilpad storie, en het hy laaste gekom.  Wat het gebeur?

 

[a] Sanherib se lastering (36:1-22)

In Jesaja se tyd was Assirië die supermag ter wêreld.  Hulle het een land na die ander verower.  Die lande wat besluit het om oor te gee moes belasting betaal, terwyl dié wat geweier het om die wit vlag te waai, gevange geneem of doodgemaak is.

 

Toe Hiskia in Jerusalem regeer het, het Assirië Samaria vir hulleself gegryp (2Kon. 17:3-6, 18:9-11).  Soos Samaria het Jerusalem belasting ontduik (2Kon. 18:7).  Gevolglik het koning Sanherib Hiskia in sy 14de regeringsjaar aangeval (36:1, 2Kon. 18:14).

 

Sanherib het by Lagis – ‘n stad omtrent 40 km suid-wes van Jerusalem – begin (2Kron. 32:9).  Toe Hiskia dit hoor het hy gesê hy sal belasting betaal (2Kon. 18:14).  Sanherib het 10 ton silwer en ‘n ton goud geëis (2Kon. 18:14).  Hiskia het dit gegee (2Kon. 18:15-16), maar in tipies ongelowige-styl het Sanherib in elk geval ‘n weermag van Lagis af Jerusalem toe gestuur (36:2).

 

Die Assiriese rabsake – ‘n militêre offisier – het by die watervoor van die Boonste Dam gaan staan (36:2).  Hy wou seker Jerusalem se watertoevoer afsny, maar Hiskia het dit reeds gedoen sodat die Assiriërs nie drinkwater kon kry nie (2Kron. 32:2-4).

 

Hiskia het drie hoë amptenare gestuur om met Assirië se drie offisiere te praat (36:3, 2Kon. 18:17-18, vgl. 22:15-25).  Die rabsake het ‘n boodskap namens die ‘groot koning’ van Assirië vir Hiskia gehad (36:4, kontr. Ps. 47:3).

 

‘Waarop vertrou jy noudat jy teen my gerebelleer het (36:4-5)?  Het jy regtig gedink dat jou grootpratery my weermag kon stuit (36:5)?  Jy het jou vertroue in Farao en Egipte gestel, maar hulle is soos ‘n riet kiere wat in ‘n krom ou man se hand breek en hom seermaak (36:6, 30:1-7).

 

‘Jou vertroue in die Here is nie veel beter nie.  Hoe verwag jy dat Hy jou moet help as jy sy altare op die hoogtes verwyder, en vir die volk sê dat hulle net in Jerusalem offers moet bring (36:7, 2Kon. 18:4)?’

 

Duidelik het Sanherib nie Israel se godsdiens verstaan nie, en het hy dit deur sy opgewasemde heidense bril beskou.

 

‘Kom ek gaan jou ‘n weddenskap aan: ek sal vir jou 2000 perde gee as jy genoeg ruiters het om daarop te ry,’ het hy aangehou (36:8).  ‘Mmm, nes ek gedink het: jy kan nie eers teen die swakste offisiere in my weermag staan nie – veral nie as jy op Egipte se perde en strydwaens vertrou nie (36:9, 31:1).  Dit help ook nie dat jy op die Here vertrou nie, aangesien Hý my gestuur het om die land te verwoes (36:10).’

 

Die Here het hom inderdaad gestuur om sy regverdige oordele teen Jerusalem uit te voer, maar Sanherib het bose intensies gehad sodat die Here besluit het om hom ook te straf (10:5-19).

 

‘Praat asb. Aramees,’ het Hiskia se amptenare gesê.  ‘Die mense wat op die stadsmure sit verstaan Hebreeus en sal moed verloor indien hulle Sanherib se dreigende woorde hoor’ (36:11).

 

‘Ha!’ het die rabsake gereageer.  ‘Sanherib het my gestuur om hierdie boodskap met die hele stad te deel en nie net met julle nie; die lot van julle sal sy eie urine drink en sy uitskeiding eet (36:12).’

 

Die rabsake het in Hebreeus uitgeroep, sodat almal kon verstaan:

 

‘Hoor die woorde van die groot koning van Assirië: Hiskia en die Here kan julle nie red nie (36:13-15)!  As julle julleself aan Sanherib oorgee sal julle nie menslike uitskeiding eet en drink nie, maar soet vrugte en skoon water (36:16).  Sanherib sal julle na ‘n goeie land toe wegvoer waar julle voorspoedig sal wees (36:17).

 

‘Hiskia bedrieg julle om te sê die Here sal julle verlos (36:18).  Nie een van die ander nasies se gode kon hulle uit Assirië se hand verlos nie (36:18-19).  En wat laat julle dink die Here kan Jerusalem uit my hand verlos (36:20)?’

 

Op Hiskia se bevel het Jerusalem se inwoners tjoepstil gebly en hom nie ‘n woord geantwoord nie (36:21).  Die amptenare het met geskeurde klere na die stad toe teruggekeer en die koning van Assirië se dreigende woorde met Hiskia gedeel (36:22, 4-12).

 

[b] Hiskia se gebed (37:1-4)

Hiskia het sy koninklike kleed uitgetrek, rouklere aangetrek en tempel toe gegaan om sy hart voor die Here uit te stort (37:1).  Hy het besef dat dit sonde was om Egipte se hulp bo die Here s’n te kies (30:1-7, 31:1, 3).

 

Hy het die amptenare en owerpriesters met rouklere en ‘n dringende boodskap na Jesaja toe gestuur: ‘Ek is doodbang; Sanherib het hom voorgeneem om Jerusalem te straf.  Ons is soos ‘n vrou in kraam wat nie die krag het om geboorte te gee nie: ons kan niks doen om onsself te red nie’ (37:2-3).

 

“Miskien sal die HERE u God die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het; hef dan ‘n gebed op vir die oorblyfsel wat nog [in Jerusalem] aanwesig is.” (37:4).

 

[c] Jesaja se antwoord (37:5-7)

Jesaja het die amptenare met ‘n boodskap na Hiskia toe teruggestuur (37:5).  ‘Moenie die Assiriërs se lastering vrees nie,’ het hy gesê (37:6).  ‘Ek sal ‘n gees stuur om vir hom te sê dat dinge in sy land verkeerd loop; daar sal Ek hom met die swaard doodmaak’ (37:7).

 

‘The Lord of history knows when a whispered word is enough…’[1]  “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spr. 21:1).

 

  1. 2. Die tweede rondte (37:8-35)

Wat het ‘n bokser soos Mike Tyson so gevaarlik gemaak?  Hy was sterk, baie vinnig, het goeie voetwerk gehad, en was ‘n uitstekende verdediger.  Hierdie kombinasie was as’t ware sy geheime wapen.

 

Hiskia het ook ‘n geheime en baie kragtige wapen gehad om die Assiriërs te oorwin: gebed.  Dit is waaroor die volgende verse handel.

 

[a] Sanherib se lastering (37:8-13)

Toe Sanherib hoor dat koning Tirhaka van Etiopië teen hom oppad was, het hy Lagis verlaat en 16 km noord getrek om teen Libna te veg (37:8-9).  Hy wou nie teen Tirhaka baklei nie, en het dus ook vir die rabsake gesê om sy troepe uit Jerusalem te onttrek (37:8).

 

‘Moenie te gemaklik raak of toelaat dat die Here jou mislei nie,’ het hy vir Hiskia gesê: ‘Ek sal terugkom en Jerusalem verower (37:10).  Net soos wat die nasies se gode hulle nie uit my voorvaders se hande kon red nie, kan die Here jou nie uit my hand red nie (37:11-13).’

 

[b] Hiskia se gebed (37:14-20)

Hiskia het die dreigbrief ontvang, dit gelees, dit na die tempel toe gevat, voor die Here oopgesprei, en tot Hom gebid (37:14-15).

 

‘Here van die hemelse weermag, God van Israel wat bo die gerubs op die ark troon,’ het hy begin (37:16).  ‘U is die enigste God, die Here oor al die Koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak – en kan U nie u volk help nie (37:16)? 

 

‘Sien en hoor hoe Sanherib u heilige Naam laster (37:17).  Dit ís so dat die konings van Assirië die nasies, hulle lande en hulle gode oorwin het, maar is dit enige wonder as hulle gode handgemaakte beelde van hout en klip was (37:18-19)?

 

‘U is nie soos hulle nie: U is die lewende God (37:20).  Red ons asb. uit Sanherib se hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U alleen die Here is (37:20).’

 

[c] Jesaja se antwoord (37:21-35)

Die Here het onmiddellik Hiskia se gebed beantwoord (37:21).  Hier is wat Hy vir Sanherib gesê het:

 

‘Jerusalem skud haar kop en lag vir jou (37:22).  Duidelik weet jy nie met wie jy te doen het nie, Sanherib (37:23).  Jy en jou offisiere het die Heilige van Israel belaster (37:23-24).

 

‘Jy het gesê: “Ek het duisende strydwaens; ek het die Libanon woud kaalgestroop; ek grawe my eie waterputte en kan die Nylrivier in Egipte met my voet laat opdam” (37:24-25).

 

‘Ooh! arrogante vabond.  Het jy nie gehoor dat dit Ék is wat jou oorwinnings bepaal het nie?  Jy is maar net ‘n marionet in my hande.  Ék het beplan dat jy vestingstede in bou rommel verander, en dat jou vyande verskrik voor jou staan, sodat hulle soos grasspruitjies op ‘n huis se dak vrek’ (37:26-27).

 

‘Ek weet presies wanneer jy sit, en is in beheer van elke oorlog waarin jy uitmarsjeer of in oorwinning terugkeer (37:28).  Moenie dink Ek het nie gesien hoe jy teen my uitvaar nie; Ek weet alles en sal jou groot mond toestop (37:28-29).  Soos ‘n bul met ‘n hak in sy neus of ‘n perd met ‘n stang in sy bek, sal Ek jou teruglei op die pad waarmee jy gekom het (37:29, 34).’

 

Om die profesie te bevestig het die Here ‘n teken gegee: vir twee jaar sou die volk nie plant of oes nie, maar die gewasse eet wat vanself groei (37:30).  Eers in die derde jaar sou dit nodig wees om te saai, te plant en te oes (37:30).  Die oorblyfsel in Jerusalem sou soos hierdie plante wortelskiet en vrugte dra; die Here se ywer vir sy volk het dit verseker (37:31-32).

 

Hy sou ook keer dat Sanherib in die stad inkom of daarteen veg (37:33).  ‘Vir my eie eer sal Ek julle red en verdedig,’ het Hy gesê (37:35).  ‘Ek sal ook my belofte aan Dawid onthou, nl. dat die Messias uit sy nageslag moet kom (37:35).

 

  1. 3. Die laaste rondte (37:36-38)

My oupa het daarvan gehou om boks te kyk.  Hy het eenkeer my ouma na ‘n boksgeveg in Johannesburg toe geneem.  Toe hulle inkom het my ouma gaan sit.  Toe sy opkyk was die geveg verby: die kampioen het sy opponent uitgeslaan.

 

Net so het die Here met min moeite van die Assiriërs ontslae geraak.  Om te wys hoe maklik dit was, spandeer Jesaja net drie verse hieraan.

 

Vers 36: Die Engel van die Here (die Here self volgens Eks. 3:2-6) het in die nag uitgegaan en 185 000 van hulle doodgemaak (2Kon. 19:35).  Toe die oorlewendes in die oggend wakker word was daar net lyke om hulle.

 

Vers 37: Sanherib het stert-tussen-die-bene na sy huis in Nineve toe teruggekeer.  Volgens die geskiedenis het hy nog 20 jaar geleef.

 

Vers 38: Terwyl hy eendag in die god Nisrog se tempel aanbid het, het sy seuns Adramméleg en Saréser hom met die swaard doodgemaak.  Sanherib se eie god kon hom nie red nie!

 

Sy seuns het na Ararat op die grens van Turkye, Iran en Armenië toe gevlug (Gen. 8:4).  Sanherib se ander seun Esar-Haddon het hom opgevolg.

 

Hoe moet ons Jes. 36-37 toepas?

 

[a] Moenie mense se dreigemente vrees nie: sonder God se toestemming kan hulle nie ‘n vinger verroer nie (Joh. 19:10-11).  Jy hoef dus nie die boelies by die skool en die werk te vrees nie.  Vrees eerder die Here wat jou liggaam en siel in die hel kan verwoes (Matt. 10:28).

 

Ondersoek jouself dus om te sien of jy gered is, of jou sonde vergewe is en of jy ‘n rein gewete het.  Het jy jou al van jou sonde bekeer?  Het jou lewe verander?  Of is jy maar nog net dieselfde as altyd?  Dit is immers al wat jy moet doen om hel toe te gaan: bly soos jy is.

 

Het jy al erken dat jy so verlore soos iemand se Jack Russel is, dat jou hart so swart soos ‘n bewolkte nag in die Namib is, en dat jy die hel verdien?

 

Het jy al besef dat jy geestelik dood is en nie jou hart vir die Here kán gee nie?  Al kon jy ook is jou hart so vuil soos ‘n rioolplaas, en sal Hy dit buitendien nie aanneem nie.  Het jy al agtergekom dat daar vir jou geen hoop is, tensy Gód iets doen om jou te red nie?

 

Glo jy dat Hy sy Seun gestuur het om die boeie van sonde in jou lewe te breek, en dat Jesus aan die kruis gesterf het om jou van God se oordeel te red?  Glo jy dat Jesus nie meer dood is nie maar lewe, sodat jý vir ewig kan lewe?

 

Hierdie is die God wat jy moet vrees: wees lief vir Hom en vertrou op Hom.  Dan sal jy nie mense vrees nie (Spr. 29:25).

 

[b] Dalk is jy swak (36:8), maar die Here is sterker as mense en hulle hopelose afgode (36:18-20, 37:11-13, 18-20, 36-38, 2Kon. 6:16, Rom. 8:31, 1Joh. 4:4).

 

Moet dan nie geïntimideer voel omdat die persoon wat jou dreig sterk taal gebruik (36:12), die Here se Naam laster (37:17), belangrik en populêr is, of omdat hy ‘n afgod van sy rykdom, invloed en liggaam (hetsy deur skoonheid of fisiese krag) maak nie.

 

[c] M.b.t. jou probleme help dit nie dat jy daaroor dagdroom of in jou bed lê en bekommer nie.  Dit gaan nie die situasie verander nie, en is ook ‘n simptoom van hoogmoed: ‘Ek kan self my krisis oplos, en hoef dit nie vir die Here te gee nie.’

 

Bring eerder jou nood in gebed na die Here toe.  Doen dit meer as een keer indien nodig (37:1-4, 14-20).  Deel jou vrese met die Here en sê vir Hom wat jy op die hart het (Ps. 55:23, 62:9, 1Pet. 5:7).  Hy weet alreeds (Matt. 6:8), maar wil hê dat jy vir Hom moet sê.

 

Begin deur oor sy grootheid te dink: loof en aanbid Hom (37:16).  Dink daaraan dat niks vir die Here onmoontlik is nie (Jer. 32:17, 27, Matt. 19:26, Luk. 1:37, Ef. 3:20).  Onthou dat Hy Heilig is (37:23).  Prys die Here dat Hy jou krisis bepaal het en alles daaromtrent weet (37:26, 28, Ps. 139:2-3).

 

Onthou ook Jak. 5:16, dat die gebed van ‘n regverdige groot krag het.  Wat rykdom en brute krag nie kon regkry nie (36:9, 30:1-2, 1Kon. 18:13-14), het die Here in antwoord op Hiskia se gebede vermag (37:21)!

 

Herinner jouself ook daaraan dat die Here sy ewige raadsplanne deur jou en my gebede vervul (37:26, 14-20)!  As jy só na die Here toe kom sal dit jou probleme in perspektief plaas, en jou help om te sien dat die Here groter as die ‘onmoontlike’ situasie is.

 

Bid ook vir die Here se eer (37:20).  Erken m.a.w. dat jy nie die Here se hulp verdien nie, maar dat sy heerlike Naam dit verdien.  Wat sal die mense van God se Woord, karakter en beloftes sê as Hy nié sy kinders se gebede beantwoord nie?

 

As jy op die Here vertrou sal Hy jou deur die krisis sien en gee wat jy nodig het (37:30-32).  Dit is vir Hom kinderspeletjies om jou te red en te beskerm (37:33-38).  Dit is vir Hom so maklik soos wat dit vir ‘n PhD letterkunde student is om die alfabet op te sê.  Eintlik is dit vir Hom nóg makliker.

 

Dít is hoe groot my God is.  Hoe groot is joune?

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 280

‘n Oop brief aan wêreldse kerke

Fish swimming upstream

My suster en swaer was vir hulle wittebrood in Amerika. Gedurende die twee weke het hulle ‘n Baptistekerk in Seatle besoek.  Dit was die kerk se 100-jarige viering.  Voor hulle het daar twee vroue gesit.  Na ‘n rukkie het hulle gesien dat die een ‘n man is.  Hy het lang hare gehad en ‘n rok gedra.  Die vroue-predikant het in haar toespraak gesê dat dit die mense is wat gemaak het dat die kerk so suksesvol is.  In haar hele ‘preek’ het sy nie ‘n enkele woord oor die Here gesê nie.  Hierdie gemeente, soos die een in Op.2:12-17, is ‘n goeie voorbeeld van ‘n wêreldsgesinde kerk.

 

Die aanhef (v.12)

Pergamus was 80 km noord van Smirna en 25 km van die weskus van Turkye af. Vir meer as 250 jaar was dit die hoofstad van die Turkse provinsie Asië.  Dit was ook dié godsdienstige sentrum in die Ryk.  Daar was afgodstempels vir Zeus, Atena, Apollo, Asklepios, Dionisus en Aphrodite, asook vir die keisers van Rome.  Die moderne dorp Bergama is gebou oor dele van die antieke stad.

 

Jesus het hierdie brief aan die boodskapper [Gk. aggelos] of leraar van die gemeente in Pergamus gerig (v.12).  Jesus beskryf Homself as die Een wat die skerp swaard met twee snykante het (v.12).  Dit is so dat die Romeine oortreders met die swaard doodgemaak het (v.13, Rm.13:4).  Jesus sê egter dat Hy meer mag het as enige aardse owerheid, en dat Hý die ware swaard in sy skede het (v.12, 1:16).

 

Uit die res van die Skrif leer ons dat hierdie swaard die Woord is waarmee Hy die nasies sal oordeel (19:15, Jes.49:2, Ef.6:17, Heb.4:12). Sy swaard is nie maar net ‘n ornament wat mooi lyk teen iemand se sitkamer muur nie, maar een wat Hy gaan gebruik (v.16).  Wanneer Jesus sy woorde van oordeel uitspreek is dit nie leë dreigemente nie – Hy het die mag om dit uit te voer.

 

Die komplement (v.13)

Van al die gode in Pergamus was Asklepios die een wat uitgestaan het. Volgens hulle was hy die god van genesing.[1]  Sy teken was ‘n slang – die teken wat vandag nog op ambulanse gesien kan word.  Oral uit Asië het mense na hierdie tempel toe gekom om genees te word.  Hulle het gesê dat die god d.m.v. drome vir die priesters en dokters gewys het watse mense genees moet word.[2]

 

Saam met die medisyne het hulle besweringe en tower spreekwoorde gebruik.[3]  Een voorskrif het vereis dat die siek persoon op die tempel se vloer moes slaap, sodat slange oor sy liggaam kon seil en hulle genesende krag in hom kon vrylaat.[4]  Dit mag wees dat Jesus dít in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Pergamus die troon van Satan is (v.13), omdat Satan self in 12:9 ‘die ou slang’ genoem word.

 

In Pergamus was daar ook ‘n altaar wat soos ‘n troon gelyk het. Die 13 meter hoë altaar was opgerig vir Zeus, en was een van die wonders van die antieke wêreld.  Dit mag ook wees dat Jesus hieraan gedink het toe Hy Pergamus die troon van Satan genoem het (v.13).

 

Onthou ook dat die mense van Pergamus die keiser aanbid het.[5]  Volgens Jesus is dit Satan wat deur die keiser regeer het.  Daarom het Hy die stad ‘n troon van Satan genoem (v.13).  Om v.13 te verstaan, sal dit help as ons hierdie agtergrond in ons gedagtes het.

 

Jesus het geweet dat sy kinders in ‘n stad woon waar die duiwel oor mense se harte regeer, en hulle soos zombies agter hom aanloop (v.13, Joh.12:31, 14:30, 2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19). Tog het die gelowiges nie toegegee aan die druk om ander gode te aanbid nie (v.13).  Selfs toe die getroue Antipas daar doodgemaak is, het hulle aan hulle geloof in die Here vasgehou, en Hom nie verloën nie (v.13).  Antipas het rotsvas gestaan en geweier om die keiser en die afgode te aanbid.  Volgens oorlewering is Antipas in ‘n smeltende koper bul gegooi.[6]  As gevolg van sy manmoedige voorbeeld, het die res van die gelowiges vasgestaan (v.13).

 

Die vermaning (v.14-17a)

‘n Sportman wat altyd dieselfde taktiek volg, word in sy eie net gevang. As ‘n tennisspeler bv. altyd ‘n sekere hou speel, gaan sy of haar opponent dit agterkom.  In v.13 het die duiwel gesien dat sy vervolgingstaktiek om die gemeente van balans af te bring, nie gewerk het nie.  Hy het toe ‘n ander kaart gespeel.  In v.14-15 sien ons hoe hy dinge van binne af probeer versuur.

 

Alhoewel die gelowiges getrou gebly het in vervolging (v.13), was daar dinge wat nie reg was in die gemeente nie (v.14). Soos party van hulle aan die Naam van Jesus vasgehou het, het ander aan verkeerde lering vasgehou (v.14-15).  Soos die vals leraars in 2 Pt.2:15 het hulle Bileam se lering aangehang (v.14).

 

Koning Balak van Moab het vir Bileam gehuur om die Israeliete te vervloek. Die Here het nie vir Bileam toegelaat om dit te doen nie, en het die vloek in ‘n seën verander (Nm.22-24).  Sy lus vir koning Balak se omkoopgeld het gemaak dat hy ‘n ander plan uitgedink het om die Israeliete te laat val (v.14, Jud.11).  Hy het vir die Midianitiese vroue gesê om die Israelitiese mans seksueel te verlei.  Hulle het ‘n fees gehou vir Baäl van Peor en dit dáár gedoen (v.14, Nm.25, 31:8, 15-16).  Die Here het ‘n plaag gestuur waarin Hy 24 000 Israeliete doodgemaak het.

 

Soos die Israeliete in die woestyn, het sommige van die gelowiges in Pergamus afgodspraktyke beoefen: hulle het vleis geëet wat aan die afgode geoffer is, en met die tempel prostitute geslaap (v.14).  Hulle redenasie het seker so iets geklink:  ‘Dit is nie asof ons die keiser of enige van die ander gode aanbid nie.  Ons woon nou wel die afgodsfeeste by, maar as ons mense vir die Here wil wen, moet ons wees waar húlle is.  Ons weet mos dat ‘n afgod niks is nie, en dus is dit nie verkeerd as ons vleis eet wat aan hulle geoffer is nie.’

 

Op dié manier het hulle die Here se Naam deur die modder gesleep, en vir die ongelowiges gemengde boodskappe deurgestuur: ‘Dit is nie reg om ander gode te aanbid nie (v.13), maar dit is ook nie verkeerd om dinge te doen wat daarmee geassosieer word nie (v.14).’

 

Paulus het in 1 Kor.8, 10 gesê dat hulle hierdie vleis in die slaghuis kan koop en by hulle huise kan eet.  Hulle moes egter nie die feeste bygewoon het en daardeur die nuwe bekeerlinge se gewetens beskadig het nie.  Hulle moes ook nie ‘n slegte getuienis vir die wêreld gewees het nie, en dus moes hulle seksuele losbandigheid soos die pes vermy het (Hd.15:29).

 

Die gelowiges in Efese het die lering van die Nikolaïete gehaat (v.6), terwyl dié in Pergamus daarmee gespeel het (v.15). Dit lyk of die leer van Bileam en die leer van die Nikolaïete min of meer dieselfde was (v.14-15).  Die soortgelyke betekenis van Bileam en Nikolaus se name laat dit so lyk.

 

Jesus het vir die skuldiges gesê om hulle te bekeer (v.16). Hulle moes opgehou het om die feeste by te woon.  As hulle dit nie gedoen het nie, sou Jesus gou na hulle toe gekom het om hulle te oordeel (v.16, 1:1, 3, 22:7, 12).  Hulle het nie baie tyd gehad om hulle te bekeer nie, en moes dit gou doen (v.16).  Indien nie, sou Jesus gekom het om met die swaard van sy mond oorlog te maak teen hulle (v.16).  Voordat Hy teen die nasies oorlog voer (19:15), sou Hy dit teen sy kerk gevoer het (v.16)!  Die oordeel moet begin by die huis van God (1 Pt.4:17).

 

Soos wat Hy vir Bileam met die swaard getref het (Jos.13:22, Nm.31:8, 22:23, 31-33), sou Hy die gelowiges in Pergamus met die swaard getref het (v.16). Hy sou nie net woorde van oordeel teen hulle gepraat het nie, maar sy oordeel uitgevoer het om hulle dood te maak.  Dié wie se geestelike ore oop was, moes die Gees se waarskuwing ter harte geneem het (v.17).

 

Die belofte (v.17b)

Die idee van ‘n Olimpiese Spele kom van die Grieke af. Die Romeine het in hulle voetspore gevolg.  Pergamum het ook ‘n spele gehad.  Die oorwinnaar in elke item het ‘n wit klippie gekry.  Die klippie was ‘n ‘toegangskaartjie’ om die oorwinnaarsfees by te woon.

 

In die Romeinse hofsisteem het dié wat skuldig bevind is ‘n swart klippie gekry, terwyl dié wat onskuldig was ‘n wit klippie gekry het. Dit is nie onmoontlik dat dít in Jesus se gedagtes was toe Hy in v.17 ‘n wit klippie aan die oorwinnaars belowe het nie.

 

Dié wat nie oorwin het nie sou geoordeel word (v.16), terwyl dié wat oorwin het beloon sou word (v.17). Hulle moes oorwin het oor die vals lering van Bileam en die Nikolaïete, asook oor die wêreld se druk om afgode te aanbid (v.17).  Die oorwinnaars sou nie net ‘n wit klippie nie, maar ook die verborge manna gekry het (v.17).

 

Toe Israel deur die woestyn getrek het, moes hulle 2.2 liter manna in ‘n goue kruik in die ark gebêre het (Eks.16:32-36, Heb.9:4). Volgens die Jode sou die Messias by sy koms vir hulle van hierdie manna gegee het.[7]  In v.17 belowe die Here hierdie manna aan sy getroue volgelinge (v.17, 13).  Hy self is die verborge manna wat uit die hemel uit neergedaal het om ons siele te versadig (Jh.6:32-35).

 

Deur ‘n wit klippie te belowe sê Jesus dat Hy vir die oorwinnaars ‘n ‘toegangskaartjie’ sal gee om die ware oorwinnaarsfees in die hemel by te woon. Hy sê ook dat die Romeinse howe hulle skuldig bevind het omdat hulle geweier het om die keiser te aanbid, maar dat Hy hulle onskuldig bevind.  Daarom gee Hy aan hulle ‘n wit klippie.

 

Op elke gelowige se klippie sou daar ‘n geheime en nuwe naam gewees het (v.17). Dit blyk dat hierdie naam Jesus se nuwe naam was (3:12, 19:12-13, 16).  Soos wat ‘n vrou haar man se naam aanneem, sal ons ons Bruidegom se nuwe Naam aanneem (Jes.62:2, 4-5).  ‘n Nuwe naam wys ook dat ons nuwe mense met ‘n nuwe karakter is (Abram word Abraham, Jakob word Israel, Simon word Petrus).

 

Moenie die Pergamus-gemeente se slegte voorbeeld volg om soos die wêreld te wees nie. Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God (v.16, Jk.4:4).  Iemand wat die wêreld liefhet, kan nie intieme gemeenskap met Jesus geniet nie (2 Kor.6:14-18).  Moet dan nie jou aandag en liefde tussen God en die wêreld verdeel nie.  Sal jy ‘n wêreld liefhê wat jou Here haat (Jh.7:7)?  Sal jy ewige dinge prysgee vir iets wat eendag vernietig gaan word (1 Jh.2:17)?

 

Om wêreldsgesindheid teë te staan, moet ons eers weet wat dit beteken. In ‘n wêreldsgesinde kerk kan almal leef soos hulle wil – daar sal nie tug toegepas word nie (v.16, 1 Kor.5:1-13).  Volgens hulle is dit liefdeloos om mense te dissiplineer (ek wonder of hulle dink dat dit vir die oortreder liefdeloos was om sy vrou te slaan, of om iemand anders se vrou by hom af te vat?).

 

In ‘n wêreldsgesinde kerk baklei mense met mekaar en is hulle verdeeld. Hulle praat nie hulle verskille uit nie, maar daag mekaar voor die hof (1 Kor.3:3-4, 6:1-8).  In sulke kerke is daar gedurig probleme met lidmate wat immoreel is (v.14, 1 Kor.6:12-20).  Soos die wêreld sê hulle:  ‘Dit is my liggaam, en ek kan daarmee doen wat ek wil.’  Hulle dink nie daaraan dat Jesus ons liggame geskep en verlos het nie, en dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Hom (Rm.12:1, 1 Kor.6:19-20).  Mense wat dít vergeet gee nie om dat hulle te veel drink, of dat hulle ongetroud is en in ‘n seksuele verhouding saam met iemand bly nie.  Selfs die leiers sien dit oor, want ‘hulle is mos nie meer kinders nie.’

 

Wêreldsgesinde kerke se lidmate leef om geld te maak. Hulle is materialisties.  Die lidmate ry duur karre en bly in luukse huise, maar die kerk sukkel om kop bo water te hou.  Die probleem is nie dat hierdie mense baie geld het nie, maar dat hulle niks of bittermin daarvan vir die Here gee.  Hulle gebruik dit om hulle lewens lekkerder te maak.  Hulle dink glad nie aan die hemel nie, en leef asof hulle vir altyd hier gaan wees.

 

Soos die wêreld, dink wêreldsgesinde kerke dat hulle wyser is as die Bybel. Die kultuur en nie die Bybel nie, bepaal hoe hulle lewe (v.14-15, Kol.2:8).  ‘Die wetenskap en sielkunde het vir ons dinge kom leer wat mense in die Bybelse tyd nie geweet het nie.  Ons kan nie meer sê dat die man die hoof is van sy huis nie.  Dit was ‘n chauvinistiese onderdrukking wat in Paulus se tyd gegeld het.  Ons kan ook nie saam met 1 Tm.2:12 sê dat vroue nie predikante mag wees nie – tye het verander.  Ons weet ook dat gay mense so gebore is, en dat Moses en Paulus verkeerd was om te sê dit is sonde.  Ons kan ook nie meer Gn.1-3 as geskiedenis aanvaar nie, omdat evolusie vir ons gewys het dat dinge anders gebeur het.  Sielkunde het vir ons geleer dat ‘n pakslae kinders se selfbeeld krenk.  Daar is beter maniere om kinders op te voed.’

 

Wêreldsgesinde kerke roem oor hulleself (1 Jh.2:16). ‘n Man het eenkeer by ons huis vir my vriend gevra:  ‘Hoeveel studente het julle teologiese kollege?’  My vriend het gesê:  ‘Vyf.’  Die man het gelag en gesê:  ‘Ons het 400!’  ‘n Predikant het vir wyle dr. Martin Holdt gevra:  ‘Hoeveel lidmate het julle?’  Volgens dr. Martin was hulle 300 lidmate.  ‘Net 300?  Ons is 2000,’ het die predikant met trots gesê.  ‘n Predikant het my kom sien met die doel om ons kerkgebou te huur.  Hy het my oor ons weeklikse ‘aktiwiteite’ gevra.  Ek het gesê dat ons twee eredienste, twee Bybelstudies en twee bidure het.  Hy het begin roem oor hoeveel ‘aktiwiteite’ húlle in die week het.

 

Hoe kan jy hierdie wêreldsgesindheid oorkom?

 

[1] Wees soos salms wat teen die stroom op swem. Moenie toelaat dat die wêreld jou soos deeg of loot in hulle gietvorm druk nie, maar vul jou gedagtes met die Bybel sodat jy anders as hulle dink (v.13, Rm.12:2).  Lees die koerant en luister na die nuus deur die filter van die Bybel.  Pasop dat hulle nie jou Bybelse wêreldbeskouing met hulle filosofieë inkleur nie.

 

[2] As die kruis van Jesus ‘n sentrale plek in jou lewe en gedagtes inneem, sal jy vir die wêreld sterf en hulle vir jou (Gal.6:14). In jou eie krag kan jy nie vir die wêreld ‘nee’ kan sê nie.  As jy egter in geloof na die Here kyk om jou te help, sal jy die wêreld oorwin.  Johannes het mos gesê:  “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Jh.5:4-5).

 

[3] Ons moet ons dadelik van verkeerde lering en praktyke bekeer (v.16, 14-15). Moenie uitstel nie, maar doen dit gou (v.16, Ps.119:60, 2 Kor.6:2, Heb.3:13, 15).  Wie weet of dit nie miskien jou laaste kans is nie?  Dalk gaan die Here ná vandag vir jou die streep trek en gou kom om jou te oordeel (v.16)?  Moet asseblief nie dink die Here speel nie:  ‘I will come’ (v.16, ESV).

 

[4] Die feit dat jy sekere dinge reg doen (v.13) verskoon nie die dinge wat verkeerd is nie (v.14-15).  Bekeer jou van die dinge wat verkeerd is.  Kry weer ‘n liefde vir Jesus, die evangelie van sy kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, en ‘n heilige lewe van toewyding en gehoorsaamheid.

 

[5] Is jy in ‘n wêreldsgesinde kerk of omgewing waar jy nie kan uit nie? Bly getrou aan die Here – Hy weet dat jy in so ‘n situasie is (v.14).  Hy sal jou help en beloon; byt net vas (v.17).

 

[6] Dink aan die beloning (v.17). Op die laaste Dag sal jy nie spyt wees dat jy getrou gebly het, en nie toegelaat het dat die wêreld jou besmet nie (Jk.1:27).

 

Verlede jaar se se besluit oor gay huwelike in die NG-Kerk was maar net die kersie op die koek, die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Voor hierdie besluit het die NG-Kerk stelselmatig haar deure vir die wêreld begin oopmaak.  Omdat die wêreld jare gelede ‘n voet in die deur gekry het, was dit maklik om die deur oop te forseer en dit uiteindelik van sy skaniere af te haal.

 

Om te verhoed dat dieselfde met ons gebeur, moet ons seker maak dat ons die deur nie eers ‘n skrefie oopmaak nie. Dit beteken nie dat ons die wêreld moet ignoreer nie.  Volgens die Bybel moet ons soos ligte in die wêreld skyn, sodat ons mense vir die Here kan wen.  Maar ons gaan dit nie regkry as ons soos die wêreld is nie.

 

[1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Pergamos

[2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Pergamos

[3] Fausset, Ibid

[4] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, verduidelikende nota op Op.2:13

[5] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.420

[6] MacArthur, Ibid, Op.2:13 en Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.67

[7] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.446

’n Afspraak met die Messias

Woman at the well

Toe ek op hoërskool was het my ma vir my geleer om God save the Queen op die klavier te speel.  Toe ons eenkeer by my ouma-hulle gaan kuier het, het ek voor die klavier gaan sit om die Britse volkslied te speel.  My oupa was onsteld en het vir my gesê:  ‘Daardie mense het ons voorvaders doodgemaak – hoe kan jy hulle volkslied speel?’  Ek het nie verstaan hoekom dit hom so ontstel het nie… totdat ek in Desember ‘n boek oor die Anglo-Boere oorlog gelees het, en vroeër vanjaar ‘n dokumentêr daaroor gekyk het.  Op dieselfde manier moet jy in die annale van die geskiedenis gaan delf om die haat tussen die Jode en die Samaritane te verstaan.

 

Kort nadat Salomo dood is, het Israel in twee geskeur (1 Kon.11-12). Jerusalem was die hoofstad van die suidelike ryk, terwyl Samaria die hoofstad van die noordelike ryk geword het.  In 722 v.C. is Samaria verwoes, en het die Assiriërs die mense van die noordelike ryk gevange geneem en in hulle stede laat woon (2 Kon.17:6, Es.4:9-10).  Die armste mense het in die land agtergebly (2 Kron.30:5, 10-11, 18, 34:6).

 

Die koning van Assirië het toe mense uit verskillende wêreldstede gebring om in die stede van Samaria te woon (2 Kon.17:24). Omdat hulle afgode aanbid het, het die Here leeus gestuur om hulle dood te maak.  Die koning van Assirië het toe ‘n Israelitiese priester na Samaria toe teruggestuur om vir die mense te leer hoe hulle die Here moet vrees.  Hulle het hulle afgodery met Jahwe-aanbidding vermeng, en dit so vir die volgende geslagte geleer (2 Kon.17:25-41).  Uiteindelik het hulle van hulle afgode ontslae geraak, maar hulle aanbidding was nie suiwer nie.

 

In 586 v.C. het koning Nebukadnessar van Babilon Jerusalem en die tempel verwoes. Hy het die Jode na sy land toe weggevoer.  In 538 v.C. het koning Kores van Persië hulle vrygelaat en toestemming gegee dat hulle die tempel in Jerusalem kon herbou (2 Kron.36).  Toe hulle besig was met die werk, het die Samaritane gekom en aangebied om te help, maar die Jode wou nie hulle hulp aanvaar het nie (Es.4:1-3).  Die Samaritane het toe probeer om te keer dat hulle die tempel herbou (Es.4:1-6, Neh.4:1-2).

 

In 409 v.C. is ‘n sekere Manasse (die hoëpriester se broer) deur Nehemia weggejaag omdat hy met Sanballat – die goewerneur van Samaria – se dogter getrou het (Neh.13:28). Manasse het na die Samaritane toe gegaan en met Darius Nothus se toestemming op berg Gerisim ‘n tempel vir hulle gebou.[1]  Manasse het toe die hoëpriester van hierdie tempel geword.  In 128 v.C. het Johannes Hirkanus – ‘n Jood – die Samaritane se tempel verwoes.  Êrens tussen 6-9 n.C. het die Samaritane die Jerusalemse tempel ontheilig deur menslike beendere daarin te strooi.[2]

 

Toe Jesus dus sy bediening begin het, was daar ‘n diep-gesetelde haat tussen hierdie twee groepe (Jh.8:48, Lk.9:52-53). En as ons dít verstaan, kry Jh.4:1-42 vir ons nuwe betekenis.  Vir ‘n Joodse Messias om die Samaritane te verlos, was waarlik ‘n groot ding.

 

Martyn Lloyd-Jones vertel die storie van ‘n sekere man in Wallis wat uit ‘n lewe van sonde gered is, en ‘n toegewyde Christen geword het. As gevolg van verskeie redes het hy ná sy bekering van sy gesin af weggeloop en egbreuk gepleeg.  Buiten vir sy seksuele sonde, het hy ook die huis onder sy vrou uit verkoop en die geld gemors.  Toe sy geld klaar was het die ander vrou hom gelos.  Hy was so misrabel dat hy besluit het om selfmoord te pleeg.  Toe hy oppad was om in die river te spring, het hy gehoor hoe Big Ben 18:30 slaan.  Skielik het daar ‘n gedagte deur sy kop gegaan:  ‘Lloyd-Jones gaan seker nou in die kansel instap.’

 

Hy het besluit om nog een keer na Lloyd-Jones te gaan luister. ‘Daarna sal ek myself doodmaak,’ het hy gedink.  Toe hy by Westminster Chapel inloop, was Lloyd-Jones besig om te bid.  Die eerste woorde wat hy gehoor het was:  ‘God have mercy upon the backslider.’  Sy verhouding met die Here is daar en dan herstel.  In die jare wat gevolg het, het hy ‘n ouderling geword.  Tot en met sy dood het hy die Here getrou gedien.[3]  Soos wat die Here daardie dag ‘n afspraak met hom gehad het, het hy in Jh.4:1-42 ‘n afspraak gehad met ‘n sekere Samaritaanse vrou en met die inwoners van Sigar.  En miskien het Hy vandag ‘n afspraak met jou.

 

Die Samaritaanse vrou (v.1-26)

 

[1] Die Lewende Water

Ek ken ‘n man wat hom voor sy bekering na allerhande godsdienste toe gewend het. Maar dit was eers toe hy die Here Jesus ontmoet het, wat sy hart rus gevind het.  ‘n Ander man het gehoop dat geld die leemte in sy hart sou vul.  Hy het op ‘n tyd sewe ingevoerde karre besit.  Onder hulle het hy ‘n Rolls Royce, ‘n Ford Mustang, en ‘n Cadillac gehad.  ‘Ek weet hoe dit voel om my voet op ‘n Ferrari en ‘n Lamborghini se pedaal neer te sit,’ het hy gesê.  Maar ten spyte van al sy rykdom was hy leeg.

 

Noudat hy tot bekering gekom het, het die Here sy siel versadig. Hy ry ‘n ou Toyota bakkie met 900 000 km op die klok.  Iemand het vir hom gesê dat Toyata vir hom ‘n nuwe bakkie sal gee as hy 1 miljoen km slaan, maar hy stel nie belang nie.  ‘As ek ‘n nuwe bakkie kry sal dit my aandag van die Here aftrek,’ het hy gesê.

 

Augustinus het in die vierde eeu geleef. Voor sy bekering was hy seksueel losbandig.  Hy het vir jare gesukkel om sy verslawing te oorkom, maar toe die Here sy sielsdors geles het, het hy vrygeraak.  Verlede Vrydag het ons by die beradingklas na ‘n CD oor dwelms geluister.  ‘n Jong man het vertel hoe hy verskillende soorte dwelms gebruik het om geluk te probeer vind.  ‘Ek het leeg gebly,’ het hy gesê.  Iemand wat een keer die lewende water gesmaak het, wil nie meer uit die wêreld se vuil toiletbak drink nie.  En dit is presies wat met die Samaritaanse vrou gebeur het.

 

Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels gedoop het as Johannes (v.1). Maar hulle het nie heeltemal reg gehoor nie, omdat Jesus nie self die mense gedoop het nie – sy dissipels het (v.2).  Hy wou nie gehad het mense moes sê:  ‘Ek is deur Jesus gedoop, terwyl jy maar net deur Andreas gedoop is’ nie.  Jesus het dadelik uit Judea vertrek om terug te gaan Galilea toe (v.3, 2:12-13, 3:22).  Dit was die Vader se wil dat Hy op ‘n sekere tyd, plek, en manier moes sterf, en as Hy langer in Judea gebly het sou die Jode Hom gestenig het (8:59).

 

Oppad Galilea toe moes Hy deur Samaria gaan, soos wat ‘n mens oppad Zimbabwe toe deur Limpopo moet reis (v.4). Jesus moes egter ook deur Samaria gereis het, omdat Hy ‘n Goddelike afspraak gehad het met ‘n sekere Samaritaanse vrou.  Sigar was die naam van die dorpie waar Hy stilgehou het (v.5).  Dit was naby die stuk grond wat Jakob vir sy geliefde en gunsteling seun Josef gegee het (v.5, Gn.33:19, 48:22, Jos.24:32).  In die Ou Testament was die plek se naam Sigem (Rgt.9:7).

 

Buite die dorp was daar ‘n put waaruit Jakob, sy gesin en sy vee gedrink het (v.6). Twee duisend jaar ná hom, het die Samaritane nogsteeds die put se vars vloeiende water gedrink.  Die put bestaan vandag nog.  Jesus het die 40+ km afgelê en was moeg, honger, en dors toe Hy teen 18:00 in Sigar aangeland het (v.6-8, Gn.24:11).  Dit dui vir ons aan dat Hy volkome mens was (19:28, Mt.8:24, 4:2, 21:18, Hb.4:15).

 

‘n Sekere Samaritaanse vrou het na die put toe gekom om water te skep (v.7). Die dissipels het dorp toe gegaan om kos te koop (v.8), en kon daarom nie volgens die gebruik vir hulle Rabbi water geskep het nie.  Gevolglik het Jesus die vrou vir ‘n bietjie water gevra (v.7).  Sy was verbaas, omdat geen Rabbi in die openbaar met ‘n vrou sou praat nie, en omdat Jode en Samaritane mekaar gehaat het (v.9).  Soos wat blankes in die verlede vir hulle bediendes blik borde gegee het om uit te eet, sou die Jode en Samaritane nie hulle breekware met mekaar gedeel het nie (v.9, vgl. Mk.7:3-4).

 

Jesus het in effek vir die vrou gesê: ‘As jy geweet het watse groot geskenk God vir jou wil gee, en dat dit die Messias is wat vir jou water vra, sou jy vir Hóm gevra het om die lewende water vir jou te gee.’ (v.10, 7:37-39, Jes.12:3).  Die vrou het glad nie geestelike dinge verstaan nie.  ‘Jy het nie eers ‘n emmer of ‘n tou nie, en die put is meer as 40 meter diep – waar sal jy hierdie lewende water kry?’ het sy gevra (v.11).  ‘Jy is tog nie belangriker as Jakob wat die put vir ons gegee het en self ook daaruit gedrink het nie, is jy?’ (v.12, 1:52, 8:53).

 

Jesus het in geen onduidelike terme vir haar gesê dat Hy wél groter is as Jakob nie. Dié wat uit Jakob se put gedrink het, sou weer dors geword het (v.13).  Dié wat egter van Jesus se lewende water gedrink het, sou nooit weer dors gekry het nie (v.14, 6:35).  Christus se lewende water sou soos ‘n fontein in sy siel opborrel (v.14, 10:10).

 

Die vrou wou graag van hierdie water gehad het, maar het nogsteeds nie Jesus se aanbod verstaan nie (v.15). Sy het nie aan haar siel gedink nie, maar aan die ongerief daarvan om elke dag 800 meter te loop om water te skep.  As Jesus haar die moeite kon spaar sou dit gaaf gewees het (v.15).  Vir haar was Jesus en sy lewende water nie ‘n noodsaaklikheid nie, maar ‘n kruk om die lewe geriefliker te maak – soos die Engelse sê, ‘a nice to have’.

 

Jesus wou ‘n lewende voorbeeld gegee het van wat Hy bedoel, en het vir haar gesê sy moet haar man gaan roep (v.16). Hy wou die dors in haar aanwakker, en het vir haar gewys dat sy tot nou toe sonder sukses die leemte in haar hart met mans probeer vul het.  Sy moes besef het dat sy verlore was, en dat sy ‘n Verlosser nodig het.  Maar sy het nie saamgespeel nie en het probeer om die onderwerp dood te praat.  ‘Ek het nie ‘n man nie,’ het sy gesê (v.17).  Jesus het geweet dat sy ‘n halwe waarheid praat, en het vir haar gesê:  ‘Ja, ek weet jy het nie ‘n man nie.  Jy het al vyf gehad, en bly nou saam met ‘n sesde een.  En om saam te bly is nie dieselfde as om getroud te wees nie.’ (v.17-18).

 

Die les vir ons is duidelik: drink uit die fontein van lewende water.  As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig dors wees in die hel (Lk.16:24).  Elke mens (selfs die ateïs) probeer om die leemte in sy siel met iets te vul.  In ‘n poging om sy dors te les, gryp hy na iets wat hy kan aanbid.  Paulus sê dat alle vorme van gierigheid afgodery is (Kol.3:5).  Sommige mense aanbid geld (Mt.6:24), terwyl ander kos aanbid (Fil.3:20).  Ander aanbid hulleself, hulle liggame, plesier, nuwe goed, helde, slaap, ontspanning, sport, TV, Facebook, YouTube, tegnologie, kennis, die natuur, stokperdjies, mense se goedkeuring, pille, drank, sjokolade, werk, musiek, enigiets – die lys is oneindig.  Ons probeer ons dors met hierdie dinge te les, en hoop dat die afgode ons begeerte sal vervul.

 

Maar dan gebeur die teenoorgestelde: jy word ‘n slaaf van die dinge wat jy aanbid, sodat jy uiteindelik nie meer ‘nee’ kan sê nie.  Jy kom agter dat die afgod ‘n harde meester is wat baie vereis en nooit iets teruggee nie.  Die dwelms wat jy gebruik, die nuwe goed wat jy koop, en die plesiertjies wat jy geniet versadig jou nie finaal nie.  Dit wat vir jou lekker gelyk het trek jou kaal uit en los jou met niks.  Dit vernietig jou gesondheid, jou verhoudings, jou finansies, en uiteindelik ook jou ewige siel.  Maar jy besef dit nie, totdat dit te laat is.

 

En wanneer jy met jou hande in jou hare sit, dan fluister die afgod met sy stink asem in jou oor: ‘Ek weet jy het tot nou toe nie sukses gehad nie, maar dalk moet jy nog net één keer probeer.  Ek is seker jy sal hiérdie keer gelukkig wees.  Een man is nie genoeg nie; vyf mans behoort die ding te doen (v.18).’  Die afgod fop jou, sodat jy weer in die strik trap.  Jy kom nie agter dat Pd.1:8 waar is nie:  “die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.”

 

Net Jesus kan die leemte in jou siel vul en jou dors les (v.14). Wanneer sal jy agterkom dat jou gunsteling sonde jou nie gelukkig kan maak nie?  Los die gekraakte drinkbakke van die wêreld – dit kan nie water hou nie (Jer.2:13).  Kom deur geloof en gebed na Jesus toe, en drink gratis uit Golgota se ewige fontein.  Moenie net jou lippe natmaak nie, maar hou aan drink totdat jou siel versadig is met Christus wat jou na die hemel se waterfonteine toe sal lei (Op.7:17).

 

Dalk hét jy al van hierdie water geproe. Jy het dit so geniet dat jy gedurig met die emmer van gebed kom skep het.  Maar intussen het jy van die Herder af weggedwaal om weer uit die stilstaande waterpoele van jou sonde te drink.  Dit het jou siek gemaak.  Dit is glad nie ‘n oordrywing om te sê dat jy maande of jare laas die soetheid van ‘n verhouding met die Here geniet het nie.  Jou dae van vrede en blydskap in Jesus is ‘n vae herinnering, sodat jy saam met Dawid bid om dit weer te ervaar (Ps.51:14).

 

Hoekom kom jy nie vandag terug na die Here toe nie? Hy sal jou met sy hele hart terug ontvang, en is meer as bereid om jou te vergewe.  “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader… Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jk.4:8, 10).  Kom was jou vermoeide siel in die fontein van sy bloed, en drink uit die koel vars strome van sy plesier; die helder waterstrome van Jesus en sy Woord (Ps.36:9).

 

There is a fountain filled with blood

 drawn from Emmanuel’s veins;

 and sinners plunged beneath that flood

 lose all their guilty stains.

The dying thief rejoiced to see

 that fountain in his day;

 and there may I, though vile as he,

 wash all my sins away.

E’er since, by faith, I saw the stream

 thy flowing wounds supply,

 redeeming love has been my theme,

 and shall be till I die.

–William Cowper–

 

[2] Ware aanbidding

Omtrent twee weke gelede het ‘n onbekende man by my vriende gehoor dat ek deel was van ‘n veldtog teen aborsie. Hy het my nommer gekry en vir my ‘n Whatsapp gestuur.  ‘Aborsie is gebou op die fondasie van evolusie,’ het hy gesê.  Na my mening is dit presies reg.  Iemand wat glo dat mense en lemoene uit dieselfde poel ontstaan het, behoort ook te glo dat aborsie heeltemal aanvaarbaar is.  Die manier waarop ‘n mens lewe is ‘n direkte uitvloeisel van wat hy glo.

 

Die Samaritaanse vrou se verkeerde idees oor God daartoe gelei dat sy ‘n afgod gemaak het van seks (v.22). Tog het sy probeer om haar sonde te verskoon.  Toe Jesus sy vinger op die rou senuwee van haar sonde gelê het, het sy die onderwerp verander en oor godsdiens gepraat.  Sy wou vir die ‘profeet’ gewys het dat sy nie só sleg was nie, en dat sy darem godsdienstig was (v.19-20).

 

‘Ons en ons voorvaders het die Here op hierdie berg aanbid,’ het sy gesê (v.20). ‘Berg Gerisim is die plek waar Abraham, Jakob, en die Israeliete vir God aanbid het (Gn.12:6-7, 33:18, 20, Dt.11:29, 27:12, Jos.8:33).  Maar volgens julle Jode is Jerusalem die plek wat God vir Homself uitgekies het (v.20, Dt.12:5, 11, 14, 18, 21, 26, 2 Kron.6:6, 7:12, Ps.132:13).  Wie is reg?’ het sy gevra.

 

Natuurlik het sy verwag dat Jesus ‘Jerusalem’ gaan sê. Maar Hy het nie.  ‘Dit is nie soseer die plek van aanbidding wat belangrik is nie.  Die vraag is eerder of jy die Here reg aanbid.  Die Samaritane aanbid verkeerd.  Julle glo nie die hele Ou Testament nie (hulle ‘Bybel’ het net uit die eerste vyf boeke bestaan), en daarom weet julle nie mooi wie of wat julle aanbid nie (v.22, 2 Kon.17:28-34).  Die Messias is ‘n Jood en daarom is verlossing uit die Jode (v.22, Mt.1:21, 2:4-5, Rm.9:5, 11:26, Jes.2:3).  Hy het egter gekom om mense uit alle nasies te verlos (v.42), sodat hulle die Vader in gees en in waarheid kan aanbid (v.23-24, Fil.3:3).  M.a.w. God wil nie hê dat mense Hom moet aanbid soos wat húlle wil nie, maar soos wat Hy in sy Woord voorskryf – in waarheid.  Hulle moet dit egter nie met ‘n koue hart doen wat net uiterlik by die reëls hou nie.  Hulle moet Hom met ‘n opregte hart aanbid – in gees.  God self is ‘n onsigbare en alomteenwoordige Gees, en daarom kan sy kinders op enige plek vergader om Hom te aanbid (v.24, 22, 1 Kor.3:16, Sef.2:11, Mal.1:11, 1 Tm.2:8).’  Die Jerusalemse tempel sou buitendien in 70 n.C. verwoes word.

 

Die vrou het nogsteeds nie toegegee nie en het gesê: ‘Ek weet dat die Messias kom.  Wanneer hy kom sal hy vir ons alles sê; hy sal besluit wie reg is tussen die Jode en die Samaritane’ (v.25).  Die Samaritane se onvolledige Ou Testament het gemaak dat hulle ‘n Messias verwag het wat niks meer was as ‘n leermeester nie, die Taheb, soos wat hulle hom genoem het (Dt.18:18).  Op grond van Nm.24:7 het hulle ook geglo dat daar water uit die Messias se emmers sou vloei.[4]  Êrens moes die vrou twee en twee bymekaar gesit het toe Jesus van Homself gepraat het as die lewende water (v.14).  In v.26 het Jesus dit reguit gesê:  ‘Die Messias van wie jy praat staan voor jou.’ (vgl. 9:35-37).  Hy was meer as net ‘n gewone leermeester; Hy was EK IS – die God van Eks.3:14 (v.26).

 

Aanbid die Here in gees en in waarheid. As jy dit nie doen nie, sal die afgode wat in die hoeke van jou hart wegkruip baie gou in jou lewe sigbaar word.  Om die Here reg te aanbid moet jy die hele Skrif in oënskou neem, en nie soos die Samaritane net aan jou gunsteling gedeeltes vashou nie.  Maak dan seker dat jy nie net die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke lees nie.  Hoe kan jy die Here reg aanbid as jy nie weet wat die hele Bybel oor Hom sê nie?

 

Sien daarom sy heiligheid in Levitikus en sy liefde in Hosea; sy voortreflikheid in Hebreërs en sy geregtigheid in Romeine. Wat leer Esegiël, Jona en Openbaring oor God?  Iemand wat die hele Skrif se lering oor God in ag neem, sal saam met die Westminster Kategisme moet bely:  ‘God is ‘n Gees – oneindig, ewig, en onveranderlik in sy wese, wysheid, almag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid.’

 

Om die Here reg te aanbid moet jy Hom nie net in waarheid aanbid nie, maar ook in gees.  Voordat jy lees moet jy bid dat die Here jou oë sal oopmaak (Ps.119:18).  Bely jou sonde, sodat dit nie in jou pad staan om Hom te ken nie (1 Pt.2:1-2).  Die Samaritaanse vrou kon nie die Here in gees en waarheid aanbid het, totdat sy nie eers haar sonde laat staan het nie.  Is daar ‘n sonde wat jy moet laat staan, sodat jy die Here opreg en in waarheid kan aanbid?

 

Die dissipels (v.27-38)

Van alle sendelinge wat in Suider-Afrika gewerk het, is David Livingstone seker die bekendste. In sy leeftyd en vir ‘n paar dekades daarna het geen sendeling vir soveel swart mense gepreek soos hy nie.[5]  En tog het hy nie regtig vrug op sy arbeid gesien nie.  Hy was egter oortuig dat die Here sy beloftes sou vervul, en dat Christenskap sal triomfeer.  “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  “En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps.72:19).  Vir my lyk Jesus in v.35-38 juis dít vir sy dissipels gesê het.

 

Die dissipels het van die dorp af teruggekom net toe Jesus vir die vrou gesê het Hy is die Messias (v.26-27). Hulle was verbaas dat Hy met ‘n vrou gepraat het, en tog het nie een van hulle gevra:  ‘Wat soek jy?’ of ‘Hoekom praat U met haar?’ nie (v.27).  Die vrou het omgedraai en haar waterkruik daar gelos sodat Jesus kon drink (v.28, 7).  Haar aksie het uitgebeeld dat Jesus haar dors geles het.

 

Toe sy in die dorp aangekom het, het sy vir die mense van Jesus vertel (v.29). Sy wat voorheen ‘n uitgeworpene was het nie omgegee wat die mense dink nie – sy kon dit nie meer inhou nie, en moes eenvoudig vir hulle vertel het van die man wat haar hart en lewe geken het (v.29).  ‘Kan hy dalk die Christus wees?’ het sy gevra (v.29).  ‘Iemand wat vir ons alles kan vertel móét mos die Messias wees, nie waar nie?’ (v.25, 1:48-51).  Die mense het na die put toe geloop (v.30).  As hierdie vrou nie bang was om openlik oor skandelike lewe te praat nie, moes daar iets in Jesus gewees het, en die Samaritane wou geweet het wat dit was.

 

Terwyl die dorpsmense die 800 meter afgelê het, het die dissipels daarop aangedring dat Jesus iets moet eet (v.31). Hy wou egter nie, en het gesê dat Hy kos het waarvan hulle nie weet nie (v.32, 14).  Net soos wat die vrou nie sy les oor geestelike water verstaan het nie (v.15), het die dissipels nie geweet dat Hy van geestelike kos praat nie – hulle het gedink dat iemand anders vir Hom kos gebring het (v.33).  Jesus het dit toe duidelik gemaak:  ‘Om my Vader se wil te doen is die kos wat My versadig’ (v.34, 6:38, 17:4, 19:30, Job 23:12).

 

En wat was die Vader se wil? Dat Hy mense van hulle sonde moes red en in die hemel moes inbring, net soos wat ‘n boer die oes in sy skure inbring (v.35).  Die boer weet dat daar ná die saaityd min of meer vier maande moet verloop voordat hy die oes kan inbring (v.35).  Maar die geestelike oes wat deur Johannes die Doper en die Ou Testament profete gesaai is, was alreeds ryp; die dissipels kon dit net afpluk en inbring (v.35, 37-38).

 

Die Samaritane die Messias se koms verwag (v.25) en was gereed om Hom te ontvang (v.30). Dit is nie net dat mense in die toekoms tot bekering sou kom nie, maar Jesus was alreeds besig om mense te red en vrug vir die ewige lewe in te samel (v.36).  Dié wat saai sowel as hulle wat oes, sou saam bly gewees het oor die mense tot bekering kom (v.36-37, 1 Kor.3:7).  In Am.9:3 staan daar:  “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.”

 

Wanneer gelowiges siek is, beproef word, of oud raak, wonder hulle soms hoekom hulle nog op die aarde is. Volgens die Bybel het die Here ons hier gelos om dissipels te maak (Mt.28:19-20).  ‘n Gelowige wat nie hiermee besig is nie, is ongehoorsaam.  Dit beteken nie dat elke gelowige sy werk moet bedank om ‘n sendeling, predikant of straatevangelis te word nie.  Dit beteken wel dat jy die evangelie moet leef en verkondig aan die mense met wie jy in aanraking kom.

 

Vertel dit vir jou kinders en kleinkinders; deel dit met jou gesin en familie; moenie skaam wees om vir jou vriende, kollegas en bure te vertel nie. Nooi hulle saam met jou kerk toe.  Moenie moed opgee as hulle ‘nee’ sê, of as hulle die evangelie verwerp nie.  Hou aan, “want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal.6:9).  Moenie dink dat die Here jou arbeid misgekyk het, of dat Hy van jou gebede vergeet het nie.  Die Here sal iemand stuur om te oes waar jy gesaai het, sodat julle saam bly kan wees (v.36-38).

 

Op die oomblik sien ons nie baie bekerings nie, maar ek glo dat die Here een van die dae iets gaan doen. Dalk is ons in die hemel wanneer dit gebeur, maar ek kan nie glo dat die Here ons sal stuur om te saai as daar nie ook ‘n oes sal wees nie.  Op grond van Jesus se eie woorde glo ek dat dit ‘n groot oes gaan wees.  Die Bybel sê vir my dat die Here se Koninkryk sal wees soos ‘n berg wat die hele aarde vul, en soos ‘n mosterd saadjie wat groei om die grootste plant in die tuin te wees (Dn.2:35, 44, Mt.13:31-32).  Christus se Koninkryk sal strek van see tot see (Ps.72:8, Sg.9:10).  Hy sal oor die hele aarde regeer.  Die Vader sal nasies as sy erfdeel gee, en hulle sal Hom aanbid (Ps.2:8, 72:11).

 

Die bekerings waarna ons nou smag sal in daardie dag soveel wees soos die sand van die see. Petrus het van hierdie tye geprofeteer (Hd.3:19).  Jode en heidene sal by die miljoene tot bekering kom (Rm.11:15, 25-27), sodat die grootste herlewings in die kerk se geskiedenis nie naastenby daarmee vergelyk kan word nie; dit sal wees soos ‘n skare op Loftus teen Indië se bevolking.  “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie!  Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie!  Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.” (Jes.54:1).

 

Die Samaritane (v.39-42)

Het jy al ooit ‘n gewone persoon ontmoet, om na ‘n paar maande agter te kom dat hy of sy welbekend is? Ek het eenkeer so iets ervaar.  Die persoon het vir my dood normaal gelyk.  Met die verloop van tyd het ek in internasionale Christelike tydskrifte van hom gelees.  Outeurs wie se boeke ek op my rak het, het van hom gepraat.  By ‘n predikante byeenkoms waar hy teenwoordig was, het sy selfoon gelui.  ‘Verskoon my broers,’ het hy gesê, ‘Dit is mnr. Mbeki.’  Ek weet tot vandag toe nie of hy ‘n grap gemaak het nie, maar vir my het hy ernstig gelyk.  Alhoewel Jesus volkome mens was, het die Samaritane agtergekom dat Hy nie maar net enigiemand is nie, maar die Verlosser van die wêreld (v.42).

 

In ooreenstemming met Jesus se opmerking oor die groot oes (v.35), het baie van die Samaritane in Hom geglo (v.39).  Dit het hulle verstom dat hierdie vreemdeling die losbandige vrou se geheime lewe geken het (v.39).  Hulle was nie soos die Jode wat maar net agter sy wonderwerke aangekom het nie, maar hulle het na Hom toe gekom en daarop aangedring [Gk., v.31] dat Hy by hulle moes bly (v.40, 30).  Hulle wou meer van Hom geweet het en by Hom geleer het.  Die feit dat hulle vir ‘n Jood gevra het om daar te bly wys dat hulle regtig geglo het Hy is die Een.  Jesus het vir twee dae daar gebly (v.40).  Gedurende hierdie tyd het baie van hulle geglo toe hulle sy Woord gehoor het (v.41, kontr. 3:11, 32, 1:11).  Hulle het geweet dat Hy inderdaad die Messias is van wie Moses gepraat het (v.25, Dt.18:15, 18).

 

Die vrou was reg om te sê dat Jesus alles weet. Nou het die Samaritane dit self uit sy mond uit gehoor (v.42).  Skielik het hulle besef dat Hy nie maar net ‘n gewone profeet of leermeester is nie (v.19, 25), maar dat Hy die Verlosser van die wêreld is (v.42).  Alhoewel Hy ‘n Jood was, het Hy nie net vir die Jode gekom nie (v.22).  Hy het ook gekom om die Samaritane te red (v.42, 3:16, 1 Jh.4:14).  Jesus het gekom om vername en godsdienstige Joodse mans te red (hfst.3), maar ook om lae klas en losbandige Samaritaanse vroue te red (hfst.4).

 

Maak seker dat jy persoonlik ervaar dat Jesus die Verlosser van die wêreld is. Dit sal tragies wees as jy dit uit die Bybel uit geweet het, maar verlore gaan omdat jy nie self daardie verlossing gesmaak het nie.  Die transformasie in ander mense harte en lewens behoort vir jou te wys dat Jesus regtig die Verlosser van die wêreld is (v.39, 42).  Vra dat Hy ook na jou hart toe sal kom (v.40).  Wees soos die Samaritane wat vir twee dae na sy Woord geluister het (v.40-41).  Sonder tyd af om die Bybel te lees (begin by Johannes); bid dat die Here jou oë sal oopmaak om te sien dat Jesus nie maar net die Verlosser van die wêreld is nie, maar dat Hy ook jóú Verlosser is.  Wanneer jy hierdie verlossing in jou siel ervaar het, sal jy besef dat Jesus in ‘n klas van sy eie is.  Hy alleen is die Verlosser van die wêreld en deel nie hierdie titel met Mohammed, Buddha of enigiemand anders nie.

 

Ons lewe in ‘n wêreld waar mense afsprake maak en kanseleer. Partykeer verhoed omstandige dat hulle die afspraak kan nakom.  As dit ‘n moeilike afspraak is, ignoreer of vermy mense jou oproepe.  Met Jesus is dit anders.  As Hy ‘n Goddelike afspraak met iemand gemaak het, kan hulle nie weghardloop of die afspraak kanseleer nie.  Hy sal sy raadsplan uitvoer en persoonlik met hulle ontmoet.

[1] Andrew Robert Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, ‘Samaria’ en James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, ‘Samaritans’

[2] A.B. du Toit, Handleiding by die Nuwe Testament II, p.511

[3] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.302-303

[4] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.439

[5] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.181-183

Vyf redes om bly te wees

Jumping for joy

‘n Paar weke gelede het ons boekies in die kerk uitgedeel. Ons het ons mense uitgedaag om voor Augustus ‘n duisend dinge neer te skryf waarvoor hulle dankbaar is.  Ek trek nou by 103 dinge.  In Ps.16 gee Dawid vir ons nog ‘n paar dinge waarvoor ons die Here kan dank; vyf redes om bly te wees.

 

Die Here beskerm jou (v.1)

Op 12 Junie 1944 het die Nazis hulle V1 vliegtuie Engeland toe gestuur. Elke vliegtuig het ‘n ton plofstof bevat.  Voordat die bomme geval het, het elke vliegtuig ‘n sirene laat afgegaan.  Op Sondag 18 Junie 1944 om 11:20, het Martyn Lloyd-Jones sy kanselgebed begin.  Skielik het die gemeente ‘n V1 se sirene gehoor.  Almal het op hulle voete gestaan.  Die bom het ‘n paar honderd meter weg ontplof.  Die skokgolwe het die voorportaal se venster uitgeblaas, die gebou se struktuur laat kraak, en stukkies van die plafon laat uitval.  Lloyd-Jones het eenvoudig aangehou bid asof niks gebeur het nie.  Na sy gebed het ‘n sekere mnr. Marsh die kansel afgestof, sodat Lloyd-Jones kon preek.  Duidelik het hy geglo dat sy lewe in die Here se hande is.[1]

 

Hierdie Psalm is ‘n gedig of lied van Dawid (v.1). Dawid het gebid dat die Here hom sal beskerm, en dat hy in Hom mag skuil soos in ‘n klip toring (v.1, Sp.18:10).  Hy wou beskut wees teen dié wat afgode gedien het (v.4), asook teen die slagtande van die dood (v.9-10).  Die Seun van Dawid het in hierdie selfde toring geskuil en veilig anderkant uitgekom (Lk.23:46, Hb.5:7).

 

Skuil by die Here. Enige ander skuiling is so onveilig soos ‘n kleuterskool kasteel wat lyk of dit van klip gemaak is, maar eintlik net ‘n sponsmuur is.  Ja, die feit dat jy ‘n Christen is waarborg nie dat jou selfoon nie gesteel sal word, jou kind nie sal kanker kry, of jy nie in ‘n ongeluk sal beland nie – al is daar ook ‘n plakker op jou kar se ruit wat sê:  ‘This car is protected by Psalm 91’.  Daar is egter ‘n waarborg dat geen ramp jou van God se liefde kan skei nie, en dat Hy alles vir jou voordeel sal uitwerk (Rm.8:38-39, 28).  Jou grootste vreugde lê nie daarin dat God jou teen diewe en droogte kan beskerm nie, maar dat jy deur geloof in Jesus beskut is teen sy verskriklike oordeel in die hel (Rm.8:1).

 

Die Here is jou God (v.2-4)

Op Facebook is daar ‘n prentjie wat wys hoe mense voor en na verslawing lyk. Aantreklike gesigte word lelik.  Die mense se tande is geel en swart, hulle gesigte is vol van sere, hulle het sakke onder hulle oë, en hulle lyk hartseer.  Op die laaste prentjie is daar ‘n jong seun met ‘n strak gesig.  In die volgende prentjie glimlag hy.  Onderaan staan daar:  ‘The Gospel – Before and After.’

 

Afgode kan nie jou siel se dors les nie; as jy húlle dien sal jy leeg en hartseer bly (v.4). Maar as die Here jou God is sal jy geseën word, en het jy rede om bly te wees (v.2-3).  “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.” (33:12).

 

Dawid het bely dat die Here, en nie die afgode nie, sy God is (v.2, 4). Dié wat afgode gedien het, het menigvuldige hartseer gehad (v.4); in die Here was  daar net goedheid (v.2, 73:25, 84:12, 119:68, Jk.1:17).  Dawid kon hierdie goedheid in God se heilige volk sien en tasbaar beleef, en dit het hom bly gemaak (v.3, Eks.19:6).  Maar met die afgodsdienaars en hulle beelde wou hy niks te doen hê nie (v.4).  Hy sou nie aan hulle offerfeeste deelneem of by hulle gode sweer nie (v.4, Eks.23:13, Jos.23:7, Hos.2:17).

 

Soos Dawid het sy groter Seun afgode soos die pes vermy, en die Here gedien (v.4, Mt.4:9-10). En soos Dawid sien Hy sy Vader se heilige beeld en goedheid in die kerk, en verbly Hy Hom daarin soos ‘n bruidegom wat sy bruid geniet (v.2-3, 149:4, Sp.8:31, Sef.3:17, Jes.62:5).

 

Wees bly dat die Here jou God is, want sonder Hom is jou lewe rigtingloos en sinneloos. Hoe kan jy weet dat Hy jóú God is?  Jy sal jou in sy kinders verbly en Hom saam met hulle wil prys (v.2-3).  Jy sal nie van die eredienste af wil wegbly nie, en as jy weens siekte of vir ‘n ander goeie rede nie daar kan wees nie, sal jy hartseer wees.  As jy op ‘n Sondag eerder met ‘n bier in jou hand by die ongelowige se braai wil wees, wys dit dat jy meer in die afgode belangstel as in die Here (v.4).

 

As jy wil hê dat die Here jóú God moet wees, moet jy jou sonde los en in sy Seun glo. As jy dít doen sal sy goedheid jou siel verbly soos Deense roomys wat in jou mond smelt (v.2-3).  Soos wat ‘n Yesteday-Today-and-Tomorrow se aroma die lentelug vul, sal God se goedheid jou hele lewe deurtrek (v.2).

 

Die Here is jou erfdeel (v.5-6)

Ek ken ‘n predikant wat meer as 30 jaar gelede ‘n seun aangeneem het. ‘n Paar maande gelede het die seun besluit om sy biologiese pa op te soek.  Hy het hom in Januarie vir die eerste keer ontmoet, en uitgevind dat sy pa ‘n multi-miljoenêr is.  Sy pa het vir hom gesê:  ‘Wat wil jy vir jou verjaarsdag hê?’  Hy het gesien dat sy seun skaam is om te vra.  ‘Ek het vir jou twee sussies elkeen ‘n BMW gekoop.  Ek wil graag vir jou ‘n motorfiets koop.  Maar jy wil seker nie alleen ry nie, en daarom sal ek vir jou vrou ook een koop.  En hoe gaan jy die motorfietse vervoer?  Ek sal vir jou ‘n sleepwa koop.  En dan sal jy ook ‘n voertuig nodig hê om die sleepwa mee te sleep.  Kom ek koop dan sommer ook vir jou ‘n Ford Ranger.’  Net so is dit met God:  as Hy jou erfdeel is, het jy meer as net geld en duur speelgoed.

 

In 1 Sm.26:19 het Dawid gesê hy wil die Here hê (v.5), en nie afgode nie (v.4). Om die Beloofde Land as erfdeel te hê was wonderlik, maar Hy wou die Here self hê (v.5-6, Nm.18:20).  Hy wou nie die bloed van offers vir die gode in sy beker hê nie (v.4), maar het gevra dat die Here sy beker met goeie wyn moet volmaak; die wyn van sy liefde en verlossing (v.5, 23:5, 116:13).  Vir Dawid was God die spys en drank om sy siel te versadig (v.5, Mt.5:6, Jh.6:55).  In God se hande was sy lewe veilig (v.5).  Die grense wat God vir sy lewe afgemeet het, was goed en lieflik (v.6).  Dawid se groter Seun het die nasies, ‘n ewige Koninkryk, en alle dinge as sy erfdeel verkry (2:8, 2:8, 22:29, Dn.7:14, Hb.1:2, Op.11:15).

 

Dank die Here vir jou erfdeel. As jy kerm en kla wys dit jy is ondankbaar.  John Newton het gesê:  ‘Gestel ‘n man is oppad New York toe om ‘n groot landgoed in besit te neem, en sy perdekar breek ‘n myl buite die stad.  Hy word gedwing om die res van die pad te loop.  Hoe dwaas sou dit nie wees as hy vir die res van die myl sy hande saamgevryf het, terwyl hy uitroep:  “My perdekar het gebreek!  My perdekar het gebreek!”’[2]

 

‘n Arm man wat die Here het, is ryker as die multi-miljoenêr wat die Here nie ken nie. As jy die Here het, het jy alles, “want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Kor.3:21-23).  “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rm.8:32).  ‘n Christen se erfdeel is beter as gesondheid of aardse rykdom.  As die Here jou erfdeel is, kry jy sy vergifnis, versoening, ‘n rein gewete, kindskap, die Heilige Gees, sy Woord, gebed, der duisende broers en susters, beproewing, die ewige lewe, die hemel met al sy skatte, en God self (Mk.10:30, Ef.1:3-14).

 

Die Here lei jou (v.7-8)

My vriend het eenkeer ‘n arm man in sy huis ingeneem. Na ‘n paar weke het die man spoorloos verdwyn.  Een van die gemeente se ouderlinge het in sy kar geklim en gebid dat die Here hom na die man toe sal lei.  Hy het van Durbanville af Somerset-wes toe gery.  Toe hy in Somerset-wes stop, het hy weer gebid.  Hy het skaars ‘amen’ gesê, toe die man agter die bosse uitgeloop kom.  Soos wat die Here ons soms deur voorsienigheid lei, lei Hy ons deur die Woord.  Om te keer dat die duiwel jou mislei, moet altyd sy subjektiewe leiding in voorsienigheid objektief aan die Bybel meet.

 

Die Here was Dawid se Raadgewer en het deur die Woord vir hom die regte pad aangewys (v.7, 119:105, 1 Sm.23:9-12, 2 Sm.5:18-19). As hy in die aand wakker gelê het, het hy die Woord oordink en gesing (v.7, 1:2, 119:54-55).  So was die Here altyd vooroë, en het Hy soos ‘n beste Vriend langs Dawid gestap (v.8, 119:30, 110:5, 121:5).  Daarom kon sy vyande en slegte omstandighede hom nie laat wankel nie (v.8).  Vir dieselfde rede was die Seun van Dawid kalm toe die stormwind op die see gewaai het, en toe sy vyande Hom wou doodmaak.

 

Wees bly dat die Here jou lei, want as jy op jou insigte moes staatmaak, sou jy op die pad van die dood beland het (Sp.16:25). As jy wil hê die Here moet jou lei, moet jy jou hart en gedagtes met God se Woord vul.  Oordink dit gedurig en praat met Hom in gebed.  As jy naby Hom lewe sal Hy jou lei.  Jy sal nie vir ‘n week hoef te vas om sy wil te ken nie, maar die Heilige Gees sal jou aan die verse herinner sodat jy kan weet wat om te doen (Rm.12:2).  Moet tog nie vergeet dat daar ander Christene is wat die Bybel en die Here ken nie; vra vir hulp (Sp.11:14, 15:22).

 

Die Here sal jou opwek (v.9-11)

Toe ek 10 was het my pa een aand 8 uur besluit ons ry na my ouma toe in Johannesburg. Omtrent 60 km buite Louis Trichardt het ek aan die slaap geraak.  Toe ek 5 ure later wakker word, was ons in Johannesburg.  En so is dit met die dood.  Dit is asof jy aan die slaap raak, en as jy weer jou oë oopmaak is jy by die Here (2 Kor.5:8).  So is dit ook met die opstanding van die liggaam:  jou liggaam slaap in die graf, en as Jesus weer kom sal Hy dit wakker maak.  Dit is waarna Dawid uitgesien het.

 

Met die Here in sy hart en lewe (v.8), kon Dawid nie anders as om bly te wees tot in die diepte van sy wese nie (v.9). Sy blymoedige hart het gemaak dat ook sy liggaam perdfris en gesond was (v.9, Sp.14:30, 3:7-8, 4:20-22, 16:24, 17:22).  Hy was nie bang dat die dood soos ‘n gewapende rower sy lewe sou wegsteel nie (v.10, 73:24).  Dawid se liggaam het wel in die graf vergaan, maar soos Job het hy geglo dat die Here hom eendag sou opwek (v.10-11, Job 19:26).

 

Dit is egter duidelik dat v.10 in die opstanding van Dawid se groter Seun vervul is (Hd.2:24-32, 13:35-37). Omdat Hy sy Vader bo alles gestel het en sonder sonde was, het die dood geen mag oor Hom gehad nie en is sy liggaam uit die graf uit opgewek (v.9-11).  Deur Christus se opstanding kon ook Dawid vir ewig in volkome blydskap lewe (v.11, 21:7).  In Christus wat aan die Vader se regterhand sit is daar strome van ewige plesier (v.11, 36:9).  Hy wat die Vader aan sy regterhand gehou het (v.8), sit nou verhewe aan die Vader se regterhand (v.11, Ps.110:1).

 

Wees bly oor die opstanding van jou liggaam (watse hoop het mense wat glo die dood is die einde, of mense wat in reïnkarnasie glo?). Natuurlik sal jy nie bly wees as jy nie weet wat die opstanding alles behels nie.  Wanneer Jesus kom sal jou liggaam met jou siel verenig word, en teen die spoed van wit lig nuutgemaak of verheerlik word.  Jou nuwe liggaam sal uniek wees, vir ewig jonk bly, beeldskoon wees, nooit siek of moeg word nie maar vol van lewenskrag en vitaliteit wees, nie pyn kan ervaar of hartseer wees nie, nie vergeetagtig of deurmekaar raak nie, altyd deur die Heilige Gees gelei word, en nooit kan doodgaan nie (1 Kor.15:38-44, Op.21:4).

 

As jy nóg wil weet kan jy gerus ‘n studie van Jesus se opstandingsliggaam maak, want volgens Fil.3:21 sal ons verheerlikte liggamr soos syne wees. Jesus se opstanding en joune moet vir jou hoop gee as jy siek is, oud word, pyn ervaar, verswak in jou gehoor of sig, nie meer goed kan onthou nie, ‘n liggaamlike gebrek het, moeg is en nie meer kans sien vir die lewe nie, versoek word, teen sonde stry, of op jou sterfbed lê.

 

Depressie het verskillende oorsake. Sommige Christene raak depressief, omdat hulle verkeerd dink.  Vir hulle is die glas half leeg en nie half vol nie.  Vir sulke Christene is Ps.16 ‘n Red Bull vir die siel.  Saam met die ou Halleluja lied moet hulle sê:

 

Tel jou seëninge, tel hul een vir een,

seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

[1] Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: vol.2, pp.113-115

[2] Vry vertaal uit John Piper, The Roots of Endurance, p.68