Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 February 2013

Bid met sukses

Prayer list

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.  Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matteus 7:7-11).

 

Gemiddelde Gawie bid net as hy in die moeilikheid is en het jare laas 'n ordentlike stiltetyd gehad.  Na agt jaar van Christenskap het hy nog nooit vir 'n halfuur gebid nie.  Hy is te besig by die werk.  Hy gaan vroeg werk toe en is oormoeg as hy by die huis kom.  Bertha is al vir twintig jaar 'n Christen, maar haar gebedslewe is baie flou.  Sy is betrokke by die kerk en vir almal lyk dit of sy geestelik is, maar haar eerste liefde het verkoel.  Haar sondes van ooreet en leeglê keer dat sy geestelik waaksaam is.  Ruben weet nie of alles in die Bybel waar is nie.  Hy betwyfel God se beloftes.  Christene in sy kerk het hom seergemaak.  Hy is teleurgesteld en het ses maande laas gebid.  Ons bid te min – veral in die westerse kerk.  D.A. Carson sê:  “...many of us in our praying are like nasty little boys who ring front door bells and run away before anyone answers.” (A Call to Spiritual Reformation, Baker Academic, GRAND RAPIDS, 1992, p.37).

 

Een boemelaar het gereeld buite my huis kom staan en roep:  “Dominee!  Dominee!  Dominee!”  So kon hy vir meer as 'n halfuur aanhou.  En dit het op 'n tyd weekliks gebeur.  Al drie werkwoorde in v.7 is in voortdurende aktiewe bevelsvorm.  Met ander woorde hou aan vra, soek, en klop.  Die beeld is van 'n man wat aanhou om rigting te vra totdat iemand hom help.  Daarna volg hy die aanwysings en soek hy die huis tot hy dit kry.  Wanneer hy by die huis kom hou hy aan klop totdat iemand die deur oopmaak.  In 'n sin is ‘vra, soek, en klop’ trappe van vergelyking.  Ons gebede word dus meer en meer intens.  Om te soek is om te vra en te doen.  Jy vra nie net vir persoonlike groei nie, maar doen iets daaraan (jy lees en gehoorsaam jou Bybel).  Jy vra nie net dat God jou geliefdes red nie, maar jy deel die evangelie met hulle.  Om te klop is om te soek en daarin te volhard.  Jy bly konstant in gebed en bid sonder ophou (Romeine 12:12, 1 Tessalonisense 5:17).  As jy só bid belowe God om jou te antwoord (v.7-8).

 

Dalk was jy in die laaste paar maande versoek om op te gee in gebed.  Moenie.  Dalk is die antwoord net 2 weke of 10 meter weg.  Die storie van Florence Chadwick illustreer die punt.  Carson skryf:  “In 1952, a young woman by the name of Florence Chadwick stepped off the beach at Catalina Island and into the water, determined to swim to the shore of mainland California.  She was already and experienced long-distance swimmer:  she was the first woman to swim the English Channel both ways.  The weather was foggy and chilly on the day she set out; she could scarcely see the boats that would accompany her.  For fifteen hours she swam.  She begged to be taken out, but her trainer urged persistence, telling her again and again that she could make it, that the shore was not far away.  Physically and emotionally exhausted, she finally just stopped swimming, and she was pulled out.  The boats made for the shore, and she discovered it was a mere half-mile away.” (Ibid, p.61-62).

 

Moenie ophou bid nie.  God sal antwoord.  Hier is 13 voorbeelde om volharding in gebed aan te spoor.  Rebekka kon nie kinders kry nie.  Isak het vir haar gebid en sy het swanger geword (Genesis 25:21).  God wou die Israeliete uitwis.  Moses het vir hulle gebid en God het hulle gespaar (Eksodus 31:11-14).  Hiskia was siek.  Hy het gebid en God het hom van 'n dodelike siekte genees (2 Konings 20:1-7).  Koning Josafat het nie 'n kans gestaan teen sy vyande nie.  Hy het gebid en God het die vyand verslaan (2 Kronieke 20).  God se belofte aan Jeremia was:  “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.” (Jeremia 33:3).  Jesus het geweet Petrus gaan Hom verloën, maar het gebid dat Petrus hom sal bekeer (Lukas 22:31-32).  Die Bybel sê hy het.  Jesus het gebid dat God sy vyande sal vergewe.  Dadelik het God die dief aan die kruis gered (Lukas 23:34).  Later het God ook baie van die moordenaars gered.  Jesus het vir jou gebid (Johannes 17:20) en God het sy gebed verhoor en jou gered.  Jesus het gevra dat al sy kinders eendag by Hom sal wees (Johannes 17:24).  Baie van hulle is reeds daar en die res sal later aansluit.  Stefanus het gebid dat God sy moordenaars sou vergewe (Handelinge 7:60).  God het gehoor en vir Paulus gered.  Die Here het vir Ananias gesê:  “...Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid” (Handelinge 9:11).  Die rede hoekom Ananias moet gaan is omdat Paulus bid.  Dit blyk dat Paulus gevra het God moet iemand stuur.  God het hom verhoor.  Elia het gebid dat God droogte moet stuur en toe weer dat God reën moes stuur (Jakobus 5:17-18).  Dit het gebeur soos hy gevra het.

 

William Tyndale is vervolg omdat hy die Bybel in Engels vertaal het.  Die koning het toegesien dat hy verbrand is.  Net voordat hy gesterf het, het hy gebid:  “Here, open die koning van Engeland se oë.”  Die Here het geantwoord.  'n Paar jaar later het die koning beveel dat daar 'n Engelse Bybel in elke kerk geplaas moes word.  Hy het ook toegesien dat die Bybel in Engels vertaal is.  Ongeveer 90% van hierdie vertaling (die King James Version) was Tyndale se werk.

 

Twyfel jy dat God gebed antwoord?  Ons teks sê:  “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (v.7-8).  Jakobus sê:  “...julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jakobus 4:2).  Glo jy dit is toevallig as die dinge waarvoor jy bid gebeur?  William Temple het gesê:  “As ek bid gebeur toeval.  As ek nie bid nie gebeur dit nie.”  Miskien sal dit help as jy 'n gebedsjoernaal hou.  Sodoende sal jy sien hoe God jou gebede beantwoord.  Om jou te help is dit ook belangrik dat jy nie vaag en algemeen bid nie.  Moenie sê:  “Here, help asseblief my kinders, wees met my familie, help die mense langs die pad.”  Geen wonder jy sien nie antwoorde op gebed nie, want jy het nie vir iets spesifiek gevra nie.  Bid eerder dat die Here jou buurman Jerry sal red, R600 sal voorsien vir skoolfondse, en vir afvallige Sunél weer kerk toe sal bring.  Wanneer jy sien hoe God jou gebede antwoord sal jy aangespoor en versterk word.  Dis Jesus se punt in v.8:  jy moet aanhoudend bid “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”  Vir die psalmis was beantwoorde gebed 'n aansporing om meer te bid:  “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel.”  Jesus sê:  “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie.  Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” Johannes 16:24, eie beklemtoning).  As jy steeds nie gemotiveer is om te bid nie, kyk na Jesus wat gekruisig is.  Onthou dat Hy onder andere vir die sonde van biddeloosheid gesterf het.  Bely jou sonde en beplan hoe, waar, en wanneer jy gaan begin bid.  Vra vir self-dissipline.  Bid eerder daagliks vir kort oomblikke as een keer per week vir 'n uur.

 

'n Moedelose jongman het eenkeer vir my gesê:  “Ek soek die Here maar dis asof Hy weggesteek is.”  Job het so gevoel.

 

“Maar Job het geantwoord en gesê:  Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug.  Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning!  Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul; ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê.  Sou Hy met oormag teen my stry?  Nee, maar Hy sou ag op my gee.   Dan sou daar ‘n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom.  Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie.  As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie.  Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.  Aan sy voetstap het my voet vasgehou; sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai.  Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet.  Maar Hy bly onveranderlik Een – wie sal Hom dan teëhou?  En wat sy siel begeer, dit doen Hy.  Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.  Daarom is ek verskrik voor sy aangesig; as ek daarop ag gee, vrees ek vir Hom.  En God het my hart week gemaak, en die Almagtige het my verskrik.  Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie.” (Job 23).

 

Sê jy:  “Ek gehoorsaam v.7-8 maar dit voel steeds of die hemel stil is – God antwoord my nie”?  Daar is baie redes hoekom dit so kan wees.  Hier is 'n paar.

 

  1. Jy het jou nie van jou sonde bekeer nie, jy is bitter, bid met selfsugtige begeertes, leef in onmin met jou huweliksmaat, of jy is ongered (Jesaja 59:1-2, Matteus 6:14-15, Jakobus 4:3, 1 Petrus 3:7, 12).
  2. Jy bid nie in Jesus se Naam, volgens sy wil, of in ooreenstemming met sy Woord nie.  Jy is kleingelowig en gehoorsaam nie sy Woord nie (Matteus 21:22, Johannes 14:14, 15:7, 1 Johannes 3:22, 5:14-15).  In die konteks van ons teks sê Jesus ons moet bid vir 'n regte gesindheid (7:1-6).  Net die Here kan vir ons die genade en krag gee om Matteus 5-7 uit te voer, en daarom beteken ons teks dat ons vir híérdie dinge moet vra.  Die belofte van beantwoorde gebed is ook net vir Jesus se dissipels (sien 5:1), want in v.11 praat Jesus van julle Vader.
  3. Jy het nodig om te volhard.  Onthou dat ons teks letterlik beteken dat jy moet aanhou vra, soek, en klop.  Jesus vertel twee gelykenisse om volharding in gebed te leer (sien Lukas 11:5-8, 18:1-8).  “En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13).  “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jesaja 55:6-7).  “Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.” (Psalm 105:4).  SOEK die Here deur geloof, gebed, vas, die Woord, bekering, en gehoorsaamheid (sien 1 Kronieke 28:9, 2 Kronieke 15:2, 12-13, 15, Daniël 9:3, Hebreërs 11:6).  KLOP met volharding, vurigheid, begeerte, erns. dringendheid, vas, herinnering aan God se beloftes, en 'n versoek dat ander saam met jou bid.  Onthou dat die Here baie vrygewig en gewillig is.  Hy is goed en magtig om te gee wat jy vra.
  4. Ons teks sê dat die Here sal antwoord as jy bid.  Iemand wat twyfel glo nie God is goed, sterk, en gewillig om hom te help nie.  Hy moenie iets van die Here verwag nie (Jakobus 1:6-7).
  5. Jou gesindheid is verkeerd.  Daar is gelowiges wat dink dis arrogant en ongeestelik om dinge van God te vra.  “Ons moet Hom net loof en dank” is wat hulle sê.  Hulle is verkeerd want iemand wat vra gehoorsaam v.7-8 en erken ook daardeur sy afhanklikheid van God.  Die Christen wat vra erken God se goedheid en krag en verheerlik Hom:  “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” (Johannes 14:13, eie beklemtoning).

 

My beste vriend het vertel hoe hy en sy broer as kinders sand in hopies laat staan het.  In een hopie het hulle 'n klip gesit.  Hulle het die hopies omgeskop en dan vir ‘n ander kind gesê:  “Kom skop saam met ons die hopies om.”  Die kind sou natuurlik die sandhoop met die klip in probeer omskop het.  Eina!

 

My broer was op 'n weermagkamp.  By een ete was die vleis baie taai.  Ná die ete het die offisier vir hulle die opgestopte blou aap gewys.  Yuk!

 

Jesus gee hierdie lering in Galilea (4:12-5:1).  Vir 'n Jood langs die see van Galilea was die brood en vis waarvan ons in v.9-10 lees stapelvoedsel (sien die vermeerdering van die brood en die vis in Matteus 14-15).  Dis seker nie moeilik om 'n klein kind uit te vang deur 'n plat woestynklip te gee as hy vir brood vra nie (hy sal sy tande seermaak as hy dit moet byt).  Hy sal nie gou weet jy gee vir hom 'n slang as hy vir 'n paling vra nie (dis veral erg as hy 'n giftinge slang vat).  Maar geen aardse pa sal dit doen nie – al is hulle ook sleg weens hulle sondige natuur en in vergelyking met die volmaakte hemelse Vader.

 

God is nie 'n moedswillige en ‘spiteful kill-joy’ wat uit die hemel lag as ons ons tande op 'n broodvormige klip breek nie.  God gee vir ons wat ons vra.  Dalk maak jy beswaar:  “Ek het vir iets gevra en God het vir my 'n klip gegee toe ek vir brood vra.”  Nee Hy het nie.  Jy het vir 'n klip en 'n slang gevra, maar Hy het vir jou brood en vis gegee.  Paulus se gebed illustreer dit:  “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.  Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk.  En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil.  Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Korintiërs 12:7-10).

 

Die duiwel belowe goeie dinge maar doen jou altyd in (soos vir Adam en Eva in Genesis 3).  Ons goeie God, daarenteen, gee net wat goed is.  Hy belowe die beste en gee dikwels vir ons meer.  Hy gee net goedheid en guns aan ons, hou geen goeie ding terug nie, ontferm Hom oor ons, sal ons nooit vergeet nie, bewys graag barmhartigheid aan ons, gee die Heilige Gees vir ons, skenk Jesus en alees saam met Hom, en gee elke goeie gawe uit die hemel  (Psalm 23:6, 84:12, 103:13, Jesaja 49:15, Miga 7:18, Lukas 11:13, Romeine 8:32, Jakobus 1:17).

 

Ek hoor nog 'n beswaar:  “Ek het vir goeie dinge gevra, maar die Here het my nie geantwoord nie.”  Ons moet goeie dinge definieer.  Prosperity predikers sal sê gesondheid, geld, en voorspoed is goeie dinge.  Maar selfs dinge wat sleg lyk kan voordelig wees vir ons.  'n Pakslae en bitter medisyne lyk sleg, maar is goed vir kinders.  Die kruis lyk donker, maar daar het goed daaruit voortgekom.  Dit is ook so dat dinge wat goed lyk soms tot ons nadeel kan wees.  Soek die volgende tekste op om te sien hoe geld en rykdom tot mense se nadeel was:  Deuteronomium 8, Spreuke 30:8-9, 1 Timoteus 6:10, Openbaring 3:16-17).

 

Die Here gee die goeie dinge vir die wat vra.  Hier is 'n paar goeie dinge wat die Here aan ons gegee het:  sy Seun, die Heilige Gees, die Woord, die hemel, gebed, die liggaam van Christus, geestelike gawes, vriende, kos, geld, 'n huis, vergifnis, aanneming, regverdigmaking, heiligmaking, kinders (Psalm 127:3), 'n huweliksmaat (Spreuke 18:22), verlossing, ouers, oupas en oumas, tegnologie, 'n geheue, lewe, paaie, karre, skole, polisie, mediese hulp, lyding (Jakobus 1:2-4), alles (Romeine 8:28). 

 

Deur Jesus se kruisdood en die Heilige Gees se werk in jou is God jou Vader.  Deur hierdie Vader-kind verhouding kan jy nou vra en ontvang.  Laat dit tog vir jou 'n aansporing wees om meer te bid.

Kategorieë