Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 October 2013

Bewyse dat God bestaan

god

Niemand kan God se bestaan wetenskaplik bewys nie.  Ons kan Hom nie met ons vyf sintuie bewys nie.  Wetenskaplikes het onlangs die Higgs partikel ‘ontdek’.  Hulle kon dit nog nie sien nie, en kan dit verseker nie hoor, proe, voel of ruik nie.  En tog is hulle oortuig dit bestaan.  Hoekom wil mense dan nie dieselfde doen wanneer dit by God kom nie?  Hoe weet ons Hy bestaan regtig?  Hier is 'n dosyn plus een bewyse:

[1] Die mens se gewete, “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.” (Romeine 1:19).  “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:14-15).  Hoe weet iemand wat nog nooit van Jesus, die Tien Gebooie of die Bybel gehoor het nie, dis verkeerd om te steel?  So iemand se gewete sal hom pla.  Waar kom die ingeboude sin van moraliteit vandaan?  Ateïste ontken absolute moraliteit.  ‘Vir jóú is aborsie verkeerd, maar vir mý is dit nie verkeerd nie’.  Hulle sal redeneer dat diefstal nie altyd verkeerd is nie.  Maar hierdie selfde mense sal kla, want hoe kan 'n goeie God onreg in die wêreld toelaat?  Let op hoe hulle 'n absolute maatstaf het om te sê daar is ‘onreg’ in die wêreld.  Hoe kan daar onreg wees as daar geen absolute waarheid is nie?  Die feit dat selfs húlle absolute morele waardes erken sê iets.  Elke mens weet God bestaan en dat Hy die oorsprong van moraliteit is.

[2] Die profesieë van die Bybel.  God se voorspellings is nie vaag nie, maar baie gedetaileerd.  As die honderde dinge wat Hy voorspel het tot op die letter waar geword het, kan ons weet Hy bestaan regtig.

[3] Beantwoorde gebed.  Hoe anders verduidelik jy dat ek al dikwels net vir die Here gesê het:  ‘Here, ek het R100 nodig vir petrol...Sal U asseblief vir my R800 voorsien om my kar te diens,’ en die presiese bedrag ontvang het?  Miljoene Christene kan vir jou dieselfde stories vertel.

[4] Weergeboorte.  Hoe verander 'n moordenaar binne 'n dag na 'n vredeliewende mens wat ander wil help?  Net God kan so iets in 'n mens se lewe bewerk.  Ja, iemand kan dalk sy sokkies optrek en sy dade verander, maar niemand kan uit homself sy vyande opreg liefhê of sondige begeertes vir heilige begeertes verruil nie.  Dit moet die werk van God wees.

[5] Die bonatuurlike.  Daar is meer as genoeg bewyse vir ware wonderwerke (nie die nonsens wat jy op TBN sien nie).  Jesus se opstanding kan feitlik bewys word (sien gerus my artikel, ‘Tien bewyse vir Jesus se opstanding’).  Selfs mense wat God haat (soos Sataniste) kan vir jou sê dat daar regtig iets soos demone bestaan.  Die bestaan van geeste is genoeg om te bewys dat God bestaan.  God self is immers Gees.

[6] Lewe.  Niemand kan lewe skep behalwe die Bron van lewe nie.  Lewe kan nie uit ‘nie-lewe’ (as daar so 'n woord is) onstaan nie.

[7] Oorsake en gevolge.  Alles in die heelal word deur iets veroorsaak.  As jy ver genoeg terugwerk sal jy besef dat daar 'n heel eerste oorsaak van alles was.  Mense sê:  ‘Maar as jy sê God is die oorsaak van alles, moet dit wees dat iets God veroorsaak het’.  Hoekom?  Mense wat in die Big Bang glo kan nie vir jou sê wat voor die spikkel bestaan het nie.  So, óf materie is ewig óf God is ewig.  En ek weet dis nie materie nie.

[8] Die mens se siel.  Ateïste glo die mens het nie 'n siel nie.  Psigiaters flous baie mense om te glo dat depressie 'n fout in die mens se brein is.  Maar dit is nog nooit medies bewys dat daar 'n chemiese wanbalans in die brein is, 'n tekort aan litium is of probleme is met die serotinien-vlakke in brein nie.  Dit is alles spekulasie en teorie (sien Robert Smith, M.D. se hoofstuk oor depressie in sy boek, The Christian Counselors Medical Desk Reference).  Depressie is 'n geestelike en emosionele probleem.  Trek bloed, neem x-strale, doen bloeddruk toetse of 'n EKG – doen wat jy wil; jy sal nie die depressie opsoor nie.  As die mens 'n siel het, vra ek:  ‘Hoekom kan daar nie 'n Ander nie-materiële wese bestaan nie?’

[9] Alles is geskep met 'n doel.  Ek bedoel nie net dat bye bestaan om heuning te maak of om stuifmeel te versprei nie.  Kyk maar na hoe mense betekenis in die lewe soek.  As jy eerlik is met jouself weet jy dat die lewe en die heelal nie doelloos is nie.  Indien jy glo dit is, sal ek nie verbaas wees as jy roekeloos lewe, depressief raak of selfmoord pleeg nie.

[10] Godsdiens.  Alle mense aanbid iets.  Dit bewys mos vir ons dat daar iets groter as die mens is.  Selfs ateïste glo in evolusie (hulle het geen bewyse nie):  evolusionistiese ‘wetenskap’ (nie dat dit 'n wetenskap is nie) is die god wat hulle aanbid.

[11] Ateïste.  Daar bestaan nie iets soos nat sonder droog, lig sonder donker of ateïste sonder God nie.  Ateïste is alewig besig om oor God te stry en om Hom sleg te sê.  Dit bewys hulle weet Hy bestaan.  Moenie dink ek bedoel:  ‘Christene sê Zeus bestaan nie, en daarom bestaan hy’ nie.  Om so te redeneer is dom, want ‘Christen’ en ‘Zeus’ is in geen opsig teenoorgesteldes, sodat die een die ander veronderstel nie.  My bedoeling is eerder dit:  anti-apartheid veronderstel daar bestaan iets soos apartheid.  Daar kan nie 'n Antichris wees as Christus nie bestaan nie.  Daar bestaan nie iets soos ‘immortal’ of ‘infinite’ sonder ‘mortal’ en ‘finite’ nie.  En dis in dié opsig dat a-teïs nie sin maak as daar nie 'n Theos (God) is nie.  Daarom dat ek sê ateïsme veronderstel dat daar 'n God is.

[12] Informasie in die DNA.  Hoe op aarde kan die inligting vir blou oë, blonde hare en 'n miljoen ander dinge self bestaan.  DNA kan inligting verloor, maar nie byvoeg nie.  Dit is aardig dat mense dink 'n eensellige amoeba kon inligting vir arms, bene, oë, 'n brein, en baie ander dinge by kry, sodat dit vandag 'n mens is.  Die informasie in die DNA moes duidelik van 'n Intelligente Wese af gekom het.  Ek wonder wie kan dit wees?

[13] Die skepping.  Niemand weet presies wie die Egiptiese piramides of Stonehenge gebou het nie.  Tog weet ons die bouers het bestaan, was intelligent en sterk.  Net so wys die detail en ontwerp in die skepping dat Iemand (God) dit gemaak het, “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:19-20).  “Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.  Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?” (Job 12:7-9).

“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.  Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:  daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem.  Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin ‘n tent gemaak; en dié is soos ‘n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ‘n held om die pad te loop.  Sy uitgang is van die einde van die hemel af, en sy omloop tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir sy hitte nie.” (Psalm 19:2-7).

Uit dinge soos vrugtebome, die son en reën weet ons God is goed (cf. Handelinge 14:17).  Dinge soos donderstorms en onstuimige golwe sê vir ons God is sterk.  Spinnerakke, intelligente mense en baie ander dinge in die natuur sê vir ons God is alwys.  Die skoonheid van die natuur sê iets van God se skoonheid.  Die ryke verskeidenheid in die see, woestyne, woude roep uit dat God alwetend is.  Die orde van dinge in die skepping wys dat God ordelik is.

Wat is die gevolgtrekking van al hierdie bewyse?  Niemand is onskuldig deur onkunde nie (Romeine 1:20).  Jy weet God bestaan.  En die mense wat nog nooit 'n Bybel gesien het of van Jesus gehoor het nie, weet God bestaan.  Indien iemand graag die God van die skepping wil ken, sal God 'n prediker stuur om die evangelie met daardie persoon te deel (Handelinge 10).  Om gered te word moet jy glo God bestaan.  Die Skrif sê immers:  “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom sok.” (Hebreërs 11:6).  John Baillie het gesê dat 'n ateïs wat in sy gedagtes ontken dat God bestaan, tog diep in sy hart in God glo.  Martyn Lloyd-Jones se reaksie hierop was:  ‘If a man can go to heaven who does not even believe in God...Why should we have a Christian church at all?’ (Iain Murray; D. Martyn Lloyd-Jones – The Fight of Faith; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1990; pp.428, 438).  Dit is onsin om te sê daar sal ateïste in die hemel wees.

Die bewyse vir God se bestaan is nie genoeg om iemand van sy sonde te oortuig nie.  Voltaire het gesê as 'n wonderwerk voor sy oë en 'n duisend ander getuies s'n sou plaasvind, sal hy eerder sy sintuie betwyfel as wat hy die wonderwerk glo.  Jesus het gesê:  “As hulle na Moses en die Profete [die Skrif] nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31).  Iets groter is nodig om die mens se blinde oë oop te maak.  Iets bonatuurlik.  Is dit nie juis hoekom God die kragtige evangelie vir ons gegee het nie (v.16-17):  sodat mense kan glo God bestaan, nuwe harte kan ontvang, vergewe kan word, veranderd kan lewe en God kan aanbid?

Kategorieë