Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 June 2013

Berg Everest van die Psalms

Everest

1 ‘n Loflied van Dawid.  Alef.  o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. 2 Bet.  Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.  3 Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik. 4 Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade. 5 He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade.  6 Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel.  7 Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.  8 Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.  9 Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke. 10 Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U.  11 Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, 12 Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.  13 Mem. U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.  14 Samek. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.  15 Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd.  16 Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.  17 Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke.  18 Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.  19 Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.  20 Sjin. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.  21 Tau. My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.” (Psalm 145).

 

Loof God vir sy grootheid (v.1-3)

In 1986 het ek Haley se komeet gesien.  My pa se verkyker het dit nader gebring en meer laat lyk soos wat dit werklik is.  Dit is hoe Dawid vir God wil verhoog in hierdie Psalm:  nie deur Hom groter te maak as wat Hy is nie (God is klaar volmaak en niemand kan Hom groter maak nie), maar deur Hom meer te wys vir wie Hy werklik is.  Daar is seker geen Psalm wat God se grootheid en Persoon meer verhef as hierdie een nie – dit is die berg Everest van die Psalms.  Elke reël begin met 'n verskillende letter van die Hebreeuse alfabet.  Ons kan byna sê dat hierdie Psalm die ABC van lof aan die Here is.

 

God is verhewe in die hemel, maar hy is ook my God (v.1).  Dawid weet dat hý nie die regte Koning is nie:  God is (v.1).  Daarom sal hy Hom vir ewig, maar ook elke dag loof (v.1-2).  Ons gebruik kilogram om gewig te meet, kilometer vir afstand, km/h vir spoed, m3 vir volume, decibels vir klank, liter vir vloeistof, die Richterskaal vir aardbewings, ensovoorts.  Maar God se grootheid is onmeetbaar:  “Die Here is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.” (v.3).  Job 11:7 sê:  “Kan jy die dieptes van God peil?  Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?”  Daarom sal ons 'n ewigheid nodig hê om sy lof te besing (v.1-3).

 

Dawid sê dat God baie lofwaardig is (v.3).  Die Hebreeus sê letterlik dat ons God in die hoogste graad moet loof.  Met ander woorde, ons moet Hom loof in ooreenstemming met sy onpeilbare grootheid.  Psalm 150:2 stel dit so:  “loof Hom na die volheid van sy grootheid!”  Ons moet groot lof bring vir 'n groot God.  Wie 'n hoë siening van God het sal Hom só loof; wie 'n lae siening handhaaf sal Hom oppervlakkig loof.  Hier is 'n paar aspekte van lofsang wat ooreenstem met ons groot God:

 

  • Die inhoud is solied en vertel van sy groot Wese en werke.
  • Die taal is beskrywend en nie oppervlakkig nie.
  • Die waarhede wat ons sing wek gepaste emosies op en laat jou nie koud nie.
  • Die wysie pas by die woorde.  As die woorde erns vereis, het die wysie 'n ernstige toon.  As die woorde opgeruimd is, dan is die wysie opgeruimd.
  • Jou liggaamshouding toon respek.  Jy is nie slordig of so ontspanne soos iemand wat strand toe gaan nie.
  • Jy is met die Heilige Gees vervul en dus vloei jou lofgesange spontaan uit jou hart en oor jou lippe (Efesiërs 5:18-19, Johannes 4:24).
  • Jy verstaan dat vyftig of vyfhonderd mense se lofsang baie meer ere aan God kan bring as een persoon s'n.  Daarom mis jy nie die samekoms van gelowiges nie.
  • Jy prys God vir sy grootste werk, naamlik verlossing (Openbaring 5:9).

 

Loof God vir sy werke (v.4-7)

Hoe loof ons die Here vir sy werke?

 

  1. Vertel vir jou kinders daarvan (v.4).  “‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.  Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.” (22:31-32).  God se werke is inderdaad van geslag tot geslag vertel.  Psalm 145 en ook die evangelie het ons bereik!  Onthou hoe die Israeliete tydens die Pasga vir hulle kinders vertel het dat God hulle uit Egiptiese slawerny verlos het (sien Eksodus 12-13).  Ons lees herhaaldelik in die Ou Testament van God se werke by die Rooi See, in die woestyn en deur die tien plae (sien byvoorbeeld Psalm 78, 105-107).  Ons moet ook vir ons kinders van God se groot werke vertel:  die skeppingsverhaal, God se wonderwerke in die Ou- en Nuwe Testament, Jesus se kruisdood en opstanding, die vordering van die evangelie soos opgeteken in Handelinge, herlewings in die geskiedenis, jou eie bekering, God se voorsienigheid in jou lewe, antwoorde op gebed.  Gebruik ook die nagmaal en die doop as geleenthede om te vertel van God se groot verlossingswerk.

 

  1. Oordink God se werke; die glans en heerlike majesteit daarvan (v.5).  Dink oor Jesus Christus se glansryke majesteit (Hebreërs 1).  Ek is seker jy het al by kere so diep gedink oor 'n saak dat dit emosie by jou laat opwel het.  Praat só met jouself oor God en sy werk:  die skepping, voorsienigheid, Jesus se Persoon en sy kruiswerk.

 

  1. Vertel vir ander (v.6).  As jy met jouself hieroor praat sal jy binnekort met ander daaroor praat.  Die werke self vertel van God se grootheid (v.6a, Psalm 19:1-7):  blitse en donderslae, die magtige oseaan, reuse diere, aardbewings, die sterre, die son, God se wonderwerke, die kruisdood en opstanding van Jesus.  Voeg jou stem by die skepping s'n en vertel van God se werke (v.6b).  Doen dit veral deur evangelisasie.

 

  1. Sing daarvan (v.7).  God se werke is so vol van sy goedheid dat dit uitbreek in lofsang (v.7).  Sien God se goedheid in die sonskyn, die reën, groen gras, vrugte bome, families, God se voorsiening, verlossing en baie meer (sien Genesis 1:31).  Niemand kan God se goedheid ontken nie.  God se werke sing, jubel en roep dit uit:  die see, die voëls, die wind, die son, die visse van die see, die diere van die aarde, klein kinders en gelowiges (v.7b, Romeine 1:19-20).  Alles in die heelal wys vir ons dat God net goed en reg doen (v.7).  Dit is veral in die kruis wat hierdie goedheid en regverdigheid die helderste skyn.

 

Loof God vir sy genade (v.8-9)

'n Stoute kind wat die pakslae van sy lewe verdien, maar dit nie kry nie ondervind barmhartigheid.  Dieselfde kind wat nie die grootste roomys en partytjie ooit verdien nie, maar dit wel ontvang, ondervind genade.  God is geduldig en gee nie die straf wat ons verdien nie (barmhartigheid).  In plaas van die straf gee Hy aan ons die goeie wat ons nie verdien nie (genade).  “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (v.8).  Weereens is dit in die kruis van Jesus wat ons hierdie genade, liefde, goedheid en barmhartigheid die duidelikste sien.

 

In v.8 (die woorde van Eksodus 34:6 waarmee God Homself aan Moses geopenbaar het) bekryf Dawid God se besondere genade.  Hierdie genade is spesifiek bedoel vir God se uitverkore volk Israel.  Maar Hy bewys ook hierdie genade aan heidene en aan die hele skepping (v.9, Jona 4:2, 11).  Die Skrif leer dat God sy son laat skyn oor slegte mense en sy reën laat val op onregverdige mense (Matteus 5:45, Handelinge 14:17).  God se goedheid is inderdaad oor alles wat Hy gemaak het.  Dit kan maklik gebeur dat jy God se goedheid bevraagteken as jy na 'n wêreld vol van boosheid en lyding kyk.  Maar ons moet onthou dat dinge veel erger sou gewees het as God sy goedheid moes terugtrek.  Loof die Here vir suurstof, sonskyn en die evangelie.

 

Loof God vir sy Koninkryk (v.10-13)

Die Westminster Kategisme leer dat God ons gemaak het om Hom te verheerlik en vir ewig te geniet; dat Hy alle dinge geskep het tot sy eer.  Dit is presies wat Dawid in v.10 wys:  “Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U.”  Omdat God oor alles heers, sal alles in die skepping Hom loof (Psalm 148, 103:22).  Die goddelose weier om God te loof, maar die regverdige loof Hom vir sy guns (v.10b, 8).  Ons kan hieruit aflei dat iemand wat nie die Here loof nie ongered is.

 

Kan iemand 'n oase ontdek en nie vir ander sterwendes daarvan sê nie?  Kan iemand die paradys vind en nie vir hulle wat in die riool lewe vertel nie?  Jy het die verantwoordelikheid om vir die heidene van God se heerlike, sterke en ewige Koninkryk te vertel:  “Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.  U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.” (v.11-13).  Die Japanese, Chinese, Bulgaarse en Britse dinastie het vir eeue voortgeduur.  Maar alle ryke kom tot 'n einde.  Dawid se eie koningskap het geïndig.  Christus se Koninkryk, egter, sal vir ewig duur (v.13a).  “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” (45:6).  2 Petrus 1:11 praat van “die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”  God het aan Dawid gewys dat die Messias 'n ewige Koninkryk sou hê (2:6, 2 Samuel 7).  God het dit nog duideliker geopenbaar aan dié wat ná Dawid gekom het.  Jesaja praat gereeld van hierdie heerlike Koninkryk van vrede, en die Nuwe Testament beskryf die roemryke glans daarvan in geen onduidelike terme nie (Jesaja 11, 65, Openbaring 21-22).

 

Vers 13b kom wel nie in die Ou Vertalng voor nie, maar dit verskyn in die oudste Hebreeuse manuskripte en in die eerste vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta of LXX).  Uit hierdie vers moet ons leer om vir ander te vertel van ons getroue en goeie God:  “The LORD is faithful in all his words and kind in all his works.” (v.13b, English Standard Version).  Hoekom moet ons vir ander vertel?  Sodat hulle sy groot werke kan ken en Hom kan loof (v.11-12).  Ons doel met die verspreiding van God se boodskap is dat mense God moet loof (Openbaring 5:9), en daarom moet sending en evangelisasie nooit 'n doel in hulself wees nie.

 

Loof God vir sy hulp (v.14-20)

Willam Cowper (hy het geleef in die 1700’s en 1800’s) het sy lewe lank gesukkel met depressie in die ergste graad.  Hy het ook baie getwyfel oor sy redding.  Op 'n dag het hy op die inrigting se grasperk geloop.  Skielik het Romeine 3:25 soos 'n lig in sy siel geskyn en het dit vir hom duidelik geword dat God hom geweldig liefhet.  Vir 'n oomblik het hy onbeskryflike vreugde ervaar.  [i] Cowper se ondervinding leer vir ons dat God die nederige ondersteun (v.14).  God help dié wat neerbuig is in bekering, berou, depressie, lyding en hartseer.  “‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.” (Matteus 12:20).  “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.” (1 Petrus 5:6).  God tel die neergeboë op deur sy Woord (in jou stiltetyd en deur prediking), jou en ander se gebede, lofsang en danksegging, die skoonheid van die skepping, buitengewone voorsienigheid, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal en die doop, Christelike biografieë (veral van mense wat ook deur moeilike tye moes gaan) en God se algemene genade.

 

[ii] God voorsien vir die skepping (v.15-17, Psalm 104, Matteus 6:26).  God gee vir elke skepsel sy voedsel op die regte tyd (v.15b).  Wanneer die wildebeeste in Kenia se Serengeti migreer, gebeur dit tydig sodat die leeus kos het en herbivore sappige weiding.  Deur die seisoenale massatrek van die sardyne voorsien God op die regte tyd kos vir dolfyne, haaie, robbe, walvisse, seevoëls en ander diere.  Soos 'n hond se oë op sy baas se hande gefokus is (wanneer hy kos aandra), is die oë van alle skepsels op die hand van God gerig in vertroue dat Hy hulle sal versorg (v.15a).  As Hy sy hand oopmaak word hulle versadig:  die plante met reën, die mens en diere met kos (v.16).  Dit wys net weer vir ons dat God alles goed en reg doen in sy skepping (v.17).

 

[iii] God hoor en help die Godvresende (v.18-19).  God is verhewe (v.3, 5), maar Hy is ook naby die wat tot Hom roep:  “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.” (v.18).  “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?” (Deuteronomium 4:7).  Daar is kere wat dit vir jou sal voel of die Here nie naby is nie.  In sulke tye moet jy v.18 glo:  Hy is naby jou.  God sien die diep begeertes van jou hart en sal dit vervul (v.19, 37:4).  Ongelowige:  God sal hoor as jy in vrees en geloof roep vir redding (v.18-19, Romeine 10:13).

 

[iv] God bewaar sy kinders (v.20).  R.C. Chapman was 'n baie liefdevolle en heilige man in die 19de eeu.  Eenkeer was hy op 'n weghol trein.  Toe die mense bang geraak het, het iemand gesê:  “Julle moenie bekommer nie.  Niks sal met ons gebeur nie.  Mnr. Chapman is op die trein en daarom sal God ons bewaar.”  God bewaar die wat Hom liefhet (v.20, Romeine 8:28).  Hy bewaar hulle ook in die dood, sodat hulle nie hel toe gaan nie.  God gebruik sekere middele om sy kinders te bewaar.  Hy bewaar ons deurdat ons aanhou glo en ons voortdurend bekeer.  Hy bewaar ons deur sy Woord, gebed, tugtiging, gelowige gemeenskap, geestelike gawes, die nagmaal en die doop.  Hierdie middele self het nie krag om ons te red nie, maar word deur God gebruik om ons te laat volhard tot die einde toe.  Die nagmaal herinner ons byvoorbeeld aan Christus se kruisdood vir ons, en deur geloof word ons versterk wanneer ons dit gebruik (dieselfde kan gesê word van die doop).

 

Die goddelose persoon kry sy asem en lewe by God.  Hy skuld God alles, maar tog het hy Hom nie lief nie (v.20).  God kan dus kies om die goddelose te vernietig in die hel.  Dit is immers sy skepsel en daarom kan Hy daarmee doen wat Hy wil:  “Hy verdelg al die goddelose.” (v.20b).  “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?  Die maaksel kan tog nie vir die maker sê:  Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het” (Romeine 9:20-22).  As jy goddeloos is en nog nie gered is van die hel nie, wil ek vir jou sê hoe jy gered kan word:

 

God is heilig en haat jou sonde voor sy aangesig.  Erken en besef dat jy sy straf verdien.  God is ook liefdevol en genadig.  Die eindste straf wat jý verdien, het Hy besluit om op sy eie skouers te neem.  In Christus het Hy volkome mens geword.  Jesus het nooit gesondig nie maar God se heilige wet volmaak onderhou.  Aan die kruis het Hy die straf gedra wat ons verdien.  Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan uit die dood.  Hy lewe en sal die ewige lewe gee vir almal wat op Hom vertrou en hulle bekeer van hulle sondes.

 

'n Oproep om God te loof (v.21)

Die hele skepping loof die Here:  van kinders tot by klippe.  Die Skrif sê:  “En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê:  Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig en sê vir Hom:  Hoor U wat hulle daar sê?  En Jesus antwoord hulle:  Ja, het julle nooit gelees:  Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” (Matteus 21:15-16).  “En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ‘n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê:  Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!  En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom:  Meester, bestraf u dissipels!  En Hy antwoord en sê vir hulle:  Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.” (Lukas 19:37-40).

 

Die Psalm het begin met lofprysing en eindig daarmee (v.21, 1-2).  Alle dinge in die skepping (ook die mens) moet God vir ewig loof:  “My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.” (v.21).  “Laat alles wat asem het, die HERE loof!  Halleluja!” (Psalm 150:6).  “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Openbaring 4:11).  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.  Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; en met ‘n groot stem het hulle gesê:  Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.  En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê:  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!  En die vier lewende wesens het gesê:  Amen!  En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.” (Openbaring 5:9-14).

 

Wanneer een van ons traag raak moet ons mekaar oproep en aanspoor tot lof.  Sien hoe die skepping die Here loof (v.21b) en laat dit jou aanspoor tot aanbidding (v.21a).  Hier is my beryming van Psalm 145 op die wysie van O Danny Boy.

 

I will extol my God and King forever

His praises be forever on my lips:

“Great is the Lord, unsearchable His greatness!”

Commend His works, declare His mighty acts.

Dwell on the glorious splendour of His majesty;

Declare His greatness, awesome deeds, and might:

“Your wondrous works show forth abundant goodness,

And sing aloud that all Your ways, O Lord, are right!”

 

The Lord is gracious, merciful, and patient,

His steadfast love is over all His own.

“Your works shall thank You; Lord, Your saints will bless You,

Make known Your mighty deeds, Your glorious throne!”

His kingdom is an everlasting kingdom,

From age to age our God will wear the crown.

The Lord is faithful, kind in all His works and ways

Upholds the falling, raises those who are bowed down.

 

With open hand the Lord sustains His creatures,

The Righteous Lord is near to all who call;

On those who call in Truth, on those who fear Him,

To hear their cry, to save from Adam’s Fall.

The Lord will guard and keep all those who love Him,

But all the wicked He will put to shame,

My mouth will speak the praises of my Lord and King,

Forever will creation bless His Holy Name!

Kategorieë