Hoe om iemand te beraad

Biblical Counseling

Daar is meer as een vorm van berading. Ek glo egter dat net één van hulle Bybels is, naamlik nouthetiese of Bybelse berading. Bybelse beraders glo dat die Here dokters gegee het om ons met ons liggaamlike probleme te help, terwyl die Bybel, die Heilige Gees en gebed voldoende is vir ons geestelike probleme.

Maar nie alle Christene dink so nie. Ek ken ‘n goeie predikant wat sê dat Bybelse berading die slegste en mees onsuksesvolle vorm van berading is. Maar eintlik kan ‘n mens dit nie aan sukses meet nie, want dan beteken die skaarste aan bekerings dat die evangelie onsuksesvol en onbetroubaar is.

En tog glo ek nie dat berading die eerste stap is wanneer mense probleme het nie. As ‘n persoon ongered is, benodig hy die evangelie en nie berading nie. Wat help berading as jy nie Jesus en die Heilige Gees het nie?

Indien die persoon gered is, is berading ook nie die eerste stap nie. As die persoon die gewone genademiddele van die kerk, die Bybel en gebed versaak, is berading ‘n mors van tyd. Raai daarom die gelowige wat berading soek aan om vir 3 maande getrou by sy gemeente in te skakel (mits die gemeente die Bybel preek en gehoorsaam). Hy moet ook self die Bybel lees, dit gehoorsaam en gereeld bid.

As hy daarna nog probleme het, kan jy hom beraad. Waar begin ‘n mens? Moenie vir die wêreld luister wat sê jy kan nie ander beraad nie, maar moet dit vir die professionele mense los. Was die kerk dan vir 1900 jaar in die donker, totdat sielkunde op die horison verskyn het? Verseker nie. Wat kan sielkunde doen wat die evangelie, die Bybel, die Heilige Gees, gebed en die kerk nié kan doen nie? God het ons voldoende toegerus om mense te help. Die Bybel sê:

“Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.” (Ps. 119:24).

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes. 9:5).

“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid… maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het… Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh. 14:16, 26, 16:13). ‘n Alternatiewe vertaling vir ‘Trooster’ is ‘Raadsman’. Sommige Engelse vertalings vertaal dit ook so (‘Counselor’).

“Maar ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan.” (Rom. 15:14).

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2Tim. 3:16-17).

“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” (2Pet. 1:3-4).

Om hierdie middele reg te gebruik moet jy self gered wees, heilig lewe, biddend wees, die Bybel ken en in die gemeente groei. Dit is skynheilig as jy ander help, maar self nie hierdie dinge doen nie (Matt. 23:2-3). Om ander mense te help, moet jy kan sê: “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit…” (Fil. 4:9).

 

  1. Voor jy begin

Ek het in die verlede muurbal gespeel. Dit is nie soos tennis waar jy dadelik die bal vir mekaar begin slaan nie. Jy moet eers die bal opwarm. Daar is ‘n tipe voorbereiding nodig. So is dit ook in berading. Jy kan nie net inspring nie. Jy moet voorberei. Hoe doen ‘n mens dit?

[a] Bid. Vra die Here vir wysheid. Bid ook vir die persoon wie jy beraad. ‘n Christen se gebed het groot krag (Jak. 5:16). Paulus het dit geweet en het daarom baie gebid dat God in die gemeentes sal werk. Volg sy goeie voorbeeld.

[b] Ken jou Bybel. Dit sal help as jy ‘n studie maak van die probleem wat jy moet aanspreek. Lees goeie boeke daaroor. Jy kan nie verkeerd gaan as jy Jay Adams, Wayne Mack, Paul Tripp, Edward Welch en David Powlison se boeke lees nie. Jy kan teksverwysings oor die spesifieke onderwerp voor in jou Bybel skryf. Hoe meer mense jy beraad, hoe beter sal jy die verse ken.

[c] Beplan. Besluit wat jy in die sessie wil bereik. Moet egter nie rigied wees nie. Wees buigsaam en verander van plan indien die persoon ‘n krisis het wat hy of sy wil bespreek.

[d] Moenie alleen ontmoet met iemand van die teenoorgestelde geslag nie (behalwe as die persoon oud genoeg is om jou oupa of ouma te wees). Sorg dat iemand anders teenwoordig is. Sit met die deur oop of in ‘n vertrek met glas deur. As jy alleen met iemand van die teenoorgestelde geslag is, kan mense maklik stories versprei. Wanneer mense jou valslik beskuldig moet jy nie sê: ‘Dit het nie gebeur nie,’ maar: ‘Dit kon nie gebeur het nie.’

Bg. reël beskerm jóú ook teen versoeking. Wanneer jy berading doen, kan jy en die ander persoon maklik op ‘n emosionele vlak aan mekaar geheg raak en uiteindelik in sonde val. Maar as jy hierdie maatreëls toepas, verminder dit die kanse dat jy sonde doen.

[e] Moenie die duiwel onderskat nie. Moenie dink jy gaan sommer gou die persoon se probleem oplos nie. Vertrou op die Here en nie op jouself, jou kennis of jou ervaring nie.

 

  1. Die sessie

‘n Laerskool meisie het eenkeer met my kom praat oor die nagmaal. Ek het haar oor haar redding gevra. Sy het begin huil. Sy het nog nooit in die dominee se studeerkamer gesit nie. Dit het vir haar gevoel of sy in die skoolhoof se kantoor is. Ek het haar gerus gestel dat ek nie die skoolhoof is nie en dat sy kan ontspan.

Sê vir die persoon wat jy beraad om te ontspan. Die persoon moet weet dat jy ‘n vriend is wat wil help en nie ‘n geheime agent wat ‘n terroris ondervra nie. Gesels daarom eers oor gewone sake om te wys jy stel belang. Sorg dat jou liggaamshouding nie intimiderend is nie. Dit sal ook help as jy die volgende dinge in gedagte hou.

[a] Jy werk met mense en nie met probleme nie. Jy sal dit waardeer as jy in die ander persoon se skoene was, en hy gewys het hy gee om. “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Matt. 7:12).

[b] Wees sagmoedig. Onthou dat jy in dieselfde sonde kan val. “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” (1Kor. 10:12). “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie… Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” (Gal. 6:1, 3).

[c] Wees geduldig. “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1Tess. 5:14). As jy versoek word om ongeduldig te wees, dink aan God se geduld met jou. Onthou gerus John Newton se woorde: ‘’n Christen groei nie so vinnig soos ‘n sampioen nie, maar so stadig soos ‘n eikeboom. Jy kan skaars die groei sien, maar later word die persoon ‘n boom met diep wortels.’

[d] Hou die persoon se sake privaat. Moet egter nie belowe om die gesprek absoluut konfidensieel te hou nie. Absolute konfidensialiteit is nie Bybels nie. Wat as die persoon ‘n kind gemolesteer het? Jy moet vir die polisie sê. Wat as die persoon nie sy sonde wil los nie, maar daarmee aanhou? In daardie geval moet jy dit uiteindelik vir die gemeente sê (Matt. 18:15-17).

[e] Moenie skrik vir sielkundige terme as die persoon voorheen by een was nie. Dalk sê die persoon vir jou dat hy ‘n skisofreen, OCD of bi-polêr is. Ignoreer hierdie terme. Diagnoseer die persoon se probleem volgens die Bybel.

[f] Vra vir die persoon hoekom hy hulp soek. Soek hy ‘n kits oplossing? Wil hy die probleem uit die weg ruim om die lewe vir homself makliker te maak? Wys vir die persoon dat sy hoofdoel moet wees om die Here te verheerlik. As hy enige ander doel het, is dit afgodery.

[g] Daar is geen hoop vir iemand wat nie wil erken dat hy verantwoordelik is vir sy sonde nie. As hy sê: ‘Ek kan die pornografie nie help nie; ek het ‘n demoon van wellus in my,’ is daar nie hoop nie. “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spr. 28:13).

[h] Versamel soveel inligtig as wat jy kan. In die eerste paar sessies moet die persoon baie praat en jy min. Vra baie vrae. Sorg dat jou vrae nie net ‘n ‘ja’ of ‘nee’ antwoord vereis nie. Jou vrae moet die persoon aanmoedig om uit te brei en meer te vertel. Moet bv. nie vra: ‘Is jy gereeld depressief?’ nie. Vra eerder: ‘Hoe lyk ‘n tipiese dag in jou lewe, vandat jy opstaan totdat jy gaan slaap?’

Eggo die persoon se antwoorde om seker te maak jy verstaan: ‘Bedoel jy…?’ As jy nie mooi verstaan nie, sal jy slegte raad gee. “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ‘n sotheid en ‘n skande wees.” (Spr. 18:13). Jy sal wees soos ‘n dokter wat die verkeerde pille voorskryf, omdat hy ‘n slegte diagnose gemaak het.

[i] Probeer om by die wortel van die probleem uit te kom. Jy wil immers nie net met simptome werk nie, maar met die oorsaak. Moenie soos iemand wees wat hoofpyn pille drink as dit sy swak sig is wat die hoofpyne veroorsaak en hy eintlik ‘n bril moet kry nie. Dit help bv. nie jy beraad iemand vir depressie as ‘n geheime sonde die skuldgevoelens en depressie veroorsaak nie.

Hoe kom jy by die wortel van probleem uit? Vra die volgende vrae:

  • Waaroor word jy die meeste keer kwaad, depressiefen angstig?
  • Waarop spandeer jy jou tyd en geld?
  • Waaroor dagdroomjy?
  • Voltooi die sin: ‘As ek net__kan hê, sal ek gelukkig wees.’
  • Na wie of wat draai jy eerste wanneer jy onder druk is?

Die persoon se antwoorde op bg. vrae sal vir jou wys wat sy afgod is. Dit sentreer altyd om homself. As hy homself verloën, dan kap hy aan die slegte wortels van sy hart en sal die vrot vrugte van sy woorde en dade vanself afval. Hoe kap ‘n mens aan die wortels?

[j] Moenie net die persoon help om sy beste te doen om hard teen die sonde te stry nie. Hy sal nêrens kom as hy op sy eie krag staatmaak nie. Hy moet eers sy sonde bely en vergewe word.

As hy klaar die vuil klere van sy sonde uitgetrek het, moet hy die skoon klere van gehoorsaamheid aantrek (Ef. 4:22, 24). Hy moet die Heilige Gees se krag vra om die teenoorgestelde van sy probleem te doen. As hy bv. diefstal wil oorkom, moet hy eerlik werk en mededeelsaam wees, eerder as om te steel. Hy moet hiermee aanhou totdat dit ‘n gewoonte raak. As hy die slegte gewoonte kon aanleer, kan hy dit afleer. Hoe help jy die persoon om dit reg te kry?

[k] Gee huiswerk. Dit sal hom help om die lering toe te pas, om met die hulp van die Heilige Gees sy probleem op te los en nie afhanklik te wees van jou nie. Watse huiswerk moet jy gee? Vir elke probleem sal die huiswerk anders wees.

Hoe kan jy weet watse huiswerk jy moet gee? Jy hoef nie die wiel te herontwerp nie. Wayne Mack se Homework Manual for Biblical Living dek die meeste van die probleme wat ons in hierdie lewe ervaar. Hy bied Bybelse oplossings en doen dit op ‘n praktiese manier. Vol. 1 en 3 behandel verskillende probleme, terwyl vol. 2 oor die huwelik gaan.

Gee ook vir die persoon gepaste Bybelverse om te memoriseer. Die Bybel is die swaard om hom teen sonde en versoeking te help (Matt. 4:4, 7, 10, Ef. 6:17).

[l] Die persoon moenie dink dat berading ‘n towerformule is nie. Dit is moontlik dat dinge kan skeefloop. Die versoeking sal weer kom. Dalk trap die persoon weer in die strik. Die geheim is dat hy nie moet opgee as hy geval het nie. Hy moet opstaan, die Here se hulp en vergifnis vra, Hom vir nuwe krag vertrou en weer probeer. “Want sewe maal val die regverdige en staan weer op” (Spr. 24:16). “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Fil. 2:13).

[m] As die persoon aanhou met sondig en nie wil verander nie, moet die gemeente die stappe van kerkdissipline in Matt. 18:15-17 volg. Indien die persoon nie in jou gemeente is nie, moet jy die berading stop. Jesus het immers gesê dat jy nie jou pêrels vir die varke moet gooi nie (Matt. 7:6).

Bg. beginsels gee vir jou ‘n goeie aanduiding van hoe jy iemand uit die Bybel kan help. En tog is dit maar net die teorie. As jy die teorie verstaan maar dit nie toepas nie, is jy soos iemand wat musieknote kan lees maar nie ‘n instrument kan speel nie. En wat help dit?

’n Tyd om fees te vier

Fireworks display

Wanneer laas het jy goeie nuus op die TV en radio gehoor, of dit in die koerant gelees? Daar is nie veel om oor hoopvol te wees as jy na Suid-Afrika en die wêreld kyk nie. Maar as burgers van die hemel het ons meer as genoeg rede om fees te vier. Dit is waaroor Jes. 52:1-12 gaan.

 

  1. Voorbereiding (v.1-2)

‘n Kind word ‘lekker’ wakker as sy pa hom 4 uur in die oggend wakker maak, met sy kombers kar toe dra, en sê: ‘Ons ry nou see toe en gaan 08:00 by ‘n restaurant stop om ontbyt te eet.’

Net so het Jerusalem ‘lekker’ wakker geword toe die Here hulle vir ‘n tweede keer wakker maak (vgl. 51:17) en sê: ‘Word wakker en trek julle pragtige priester-klere aan om die fees van verlossing te vier.’ (v.1, Eks. 28:2, 19:6, Op. 1:6).

Ons moet ook ons mooiste en beste klere aantrek vir die hemelse fees. Hoe moet jy hierdie klere aantrek? Word wakker; moenie geestelik slaap nie (v.1, Ef. 5:14). Laat Jesus jou deur die evangelie in die bad van sy bloed was (Ef. 5:26-27, Op. 7:14, 22:14). Trek Hom aan deur in Hom te glo en gedoop te word (Rom. 13:14, Gal. 3:26-27). Trek die vuil klere van jou sonde uit deur bekering; trek skoon klere aan deur gehoorsaam te wees (Ef. 4:22-24, Op. 19:8).

Net as jy op hierdie manier heilig is, in jou hart besny is en rein is, sal jy deel in die fees van die Nuwe Jerusalem (v.2). Dié wat onrein, onheilig en onbesnede van hart is, mag nie in die hemelse stad inkom nie (v.2, Matt. 5:8, Heb. 12:14, Op. 21:27, 22:15). Hoe sal dit wees as Satan, keiser Nero, Adolf Hitler, Saddam Hussein en ander bose mense daar is? En hoe sal dit wees as jy met die vuil klere van jou onheilige lewe daar is? God sal jou nie daar toelaat nie. Jy sal sy Naam swart smeer en sy kinders met jou sonde besmet, teister, besoedel, bedroef.

Is dit dan nie die belangrikste ding in die wêreld om jouself te ondersoek om te sien of jy Jesus liefhet en jou sonde haat nie? Moet jy jouself nie toets om te sien of jy regtig gered is nie? Moenie maar net aanneem jy is gered, omdat jy woorde en frases soos Jesus, geloof, bekering, kerk, kruisdood, opstanding en Joh. 3:16 ken nie

A.g.v. die vyand wat haar vertrap het, het Jesaja vir Jerusalem gesê om op te staan uit die stof (v.2, 51:23). God het die slawejuk van haar nek afgehaal en haar bevorder van die stof tot die troon (v.2). Net so sal daar vir ons groot vreugde wees wanneer Jesus op die laaste dag die stof van beproewing, versoeking, die oorblyfsels van sonde, vervolging, hartseer, ‘n swak liggaam vol siekte, pyn, swakheid en dood van jou afskud, en jou op die troon langs Hom laat sit (v.2, Op. 3:21).

Laat die gedagte hieraan jou help om te volhard wanneer jy in die stof lê en daar ‘n swaar juk op jou is. Eintlik sit jy reeds saam met Jesus op die troon (Ef. 2:6), maar eendag sal jy die volle omvang daarvan geniet en verstaan.

 

  1. Verlossing (v.3-6)

Die losprys-teorie sê dat Jesus in sy kruisdood die duiwel moes betaal om ons vry te koop. Dit is soos toe Aslan in The Chronicles of Narnia die heks met sy lewe betaal het om ‘n verraaier vry te koop. Maar hierdie teorie is nie Bybels nie. Jesus het die duiwel niks geskuld of betaal om ons los te koop nie.

Egipte, Assirië, Babilon, sonde en Satan het God se volk onderdruk. Hulle het die Here niks betaal om God se volk te koop nie, en daarom sou het Hy hulle vrygemaak sonder om die vyand te betaal (v.3-5, 45:13, 50:1).

Maar al het Hy nie die vyand betaal nie, het dit iets gekos en moes Hy Iemand betaal. Hy het die losprys aan die Vader betaal (Ef. 5:2). Ek en jy het teen God gesondig en moes met ons lewens betaal. Jesus is die ewige Seun van God. Sy lewe het ‘n onskatbare waarde, ‘n groter waarde as almal van ons s’n saamgetel. Daarom kon Hy miljoene mense se sondeskuld betaal. Hy het nie met goud of silwer betaal nie, maar met sy eie bloed (1Pet. 1:18-19).

As Hy dan ons sondeskuld betaal het, is verlossing gratis: kom haal dit net (55:1, Op. 21:6, 22:17). Moenie met agterdog en op ‘n afstand toekyk en dink dat daar ‘n vangplek is, net omdat dit gratis is nie.

Maar hoe kan die Here ons sy verlossing gee as ons sy straf verdien? Israel se leiers het geween toe die Here hulle straf, maar hulle dade het dit verdien (v.5). Hulle sonde het gemaak dat die vyand God se Naam laster (v.5, Ezek. 36:20-22, Rom. 2:24). God het dus nie sy volk verlos en hulle harte verander omdat hulle dit verdien nie, maar sodat die vyand nie meer sy Naam sou belaster nie (48:9, Ps. 79:9, Eseg. 36:23-32).

Dit is wonderlike nuus. As jy moes bid: ‘Vergewe en herstel my, omdat ek nou beter lewe; gee my asb. wat ek verdien,’ sou jy onmiddellik hel toe gaan. Wees dankbaar dat jy kan bid: ‘Vergewe my asb. vir die eer van U Naam… Laat U Naam geheilig word: moenie toelaat dat die kerk ‘n slegte getuienis is en U Naam belaster nie: herstel ons asb., O God!’

Natuurlik kan jy nie so bid as jy nie eers besef hoe groot en heilig die Here se Naam regtig is nie. Soos Israel moet jy sy Naam deur die Messias ken (v.6). Hy is immers die Naam en volle openbaring van wie en wat God is (Joh. 1:18). In Hom praat God direk met ons (‘Hier is Ek!’), en nie net deur ‘n menslike middelaar soos Moses nie (v.6)

Die Here praat nog steeds direk met ons. ‘n Prediker wat die Bybel preek herhaal nie net wat God deur Jesaja, Moses en Paulus gesê het nie, maar die Here sê dit weer!

Wat sê Hy vandag vir jou? ‘Hier is Ek!’ (v.6). Wonder jy hoe om gered te word? ‘Hier is Ek!’ Soek jy troos in beproewing? ‘Hier is Ek!’ Wil jy na die Vader toe terugkeer, maar jy weet nie waar om te begin nie? ‘Hier is Ek!’ Vra jy hulp teen die vyand? ‘Hier is Ek!’ Is jy verward? Kort jy wysheid? Wil jy jou sonde oorwin? Wil jy die Here beter leer ken? Het jy iets nodig? ‘Hier is Ek!’

 

  1. Oorwinning (v.7-10)

Toe ek 15 was het een van my arm klasmaats skielik ‘n uitblinker atleet geword. Hy het die 1500 meter ver gewen. Hoe het hy so fiks geword? Hy het op skooldae van buite die dorp af skool toe gehardloop.

Daar was ook baie fikse ‘atlete’ in Israel. Hulle het gehardloop om boodskappe af te lewer (bv. 2Sam. 18:19-32). In Jes. 52:7 het een van hierdie boodskappers oor die berge gehardloop. Hy het goeie nuus gebring. Daarom sê Jesaja dat sy voete lieflik is. Wat was die goeie nuus wat hy gebring het? God het die vyand oorwin; Hy het sy volk van hulle sondes verlos; Hy het vrede gebring tussen Hom en sy volk; Hy het oor sy volk en die nasies regeer (v.7, Ps. 103:19, Op. 19:16).

Die wagte het die boodskapper sien aankom en gejuig (v.8). Hulle blydskap het vermeerder toe hulle agter die boodskapper Iemand anders sien aankom: die Here wat teruggekeer het Jerusalem toe (v.8)! Hy het die stad wat in puin gelê het deur sy vertroosting en verlossing herleef (v.9). Hy het sy moue opgerol en die sterk arm van die Messias voor die nasies ontbloot om hulle te red (v.10, 53:1).

Hoe help hierdie verse ons vandag? Ek het hierdie week vir ‘n eiland genaamd Noord-Sentinel gebid. Dit is in die Andaman en Nicobar eiland groep. Dit lê tussen Tailand en Indië. Toegang tot hierdie eiland is verbode. Die mense dra nie klere nie en is primitief. Hulle het nog nooit die evangelie gehoor nie.

Bid vir lieflike voete om die goeie nuus na hulle en ander onbereikte stamme toe te vat (Rom. 10:13-15). Moenie so vasgevang raak in jou eie lewe dat jy van die wêreld vergeet nie. Wees ‘n wagter wat in gebed uitkyk vir God se verlossing in Suid-Afrika en die nasies, ‘n wagter wat sal bid vir herlewing en die wederkoms (v.8, 62:6-7, Ps. 130:5-6, Luk. 2:38).

Bid dat jou voete vir iemand anders lieflik sal wees, omdat jy die goeie nuus van God se vergifnis en vrede in Jesus met hulle deel (v.7, Ef. 2:17). Bid ook dat Jesus na sy volk toe sal terugkeer. Sien uit na die dag wat jy Hom vierkantig in die oë sal kyk (v.8, 33:17, 1Joh. 3:2, Op. 22:4). Dan sal jy fees vier en sing oor die mag waardeur Hy ons vertroos en herstel het, en waardeur Hy die eindes van aarde verlos het (v.9-10, Ps. 98:3-4, Matt. 28:19-20, Hand. 1:8). God het nie die gebreekte skepping weggegooi nie, maar deur sy Seun herstel (v.9, Kol. 1:20). Hoe kan jy nié fees vier en bly wees wanneer jy dit hoor nie?

 

  1. Reiniging (v.11-12)

As jy op kort kennisgewing hoor dat daar gaste oppad is, maak jy gou jou huis skoon. Israel het geweet dat die Messias oppad is (v.7-10) en moes hulleself daarom van hulle sonde reinig (v.11). Hulle moes ook rein wees om die heilige voorwerpe uit Babilon Jerusalem toe dra (v.11, Esra 1:5-11).

Net so moet ons onsself in die lig van die wederkoms reinig (1Joh. 3:2-3, 2Kor. 7:1). Moenie deel hê aan die wêreld se denke oor die huwelik, seks, geld, plesier, ens. nie, maar vlug daarvoor (v.11, Joh. 17:15, Ef. 5:11, Jak. 4:4, 1Joh. 2:15-17, Op. 18:4). As jy nie vlug nie en jou kop in die sand wil steek soos ‘n volstruis, sal jy daaraan gewoond raak, jou siel versondig en in jou liefde vir die Here verflou (Matt. 24:12, 2Pet. 2:7-8).

Los daarom enige vriende, boeke, films en gedagtes wat jou versoek om soos die wêreld te wees. Vra die Here se beskerming in die gierige en perverse omgewing waar jy werk. Moenie aan die versoeking toegee in ‘n werksfeer waar mense oneerlik is, van ander skinder, die baas teëgaan en lui is nie. As jy jouself reinig sal die Here jou verwelkom (2Kor. 6:17, Jak. 4:8).

Koning Kores van Persië het die volk bevry, sodat hulle rustig uit Babilon kon trek en nie haastig was soos toe hulle uit Egipte weg is nie (v.12, Eks. 12:33, 39). God het hulle oppad Jerusalem toe beskerm, net soos wat Hy hulle tydens die uittog uit Egipte deur die wolk- en vuurkolom van voor en agter gelei en beskerm het (v.12, Eks. 13:21-22, 14:19-20, Esra 8:21-23, 31).

Die Here sal jou ook op jou pad hemel toe beskerm en jou veilig daar aanbring (v.12, 58:8, Ps. 139:5, 2Tim. 4:18). Vrees jy dat die sonde, versoeking, die toekoms, die verlede, demone, mense, vervolging, die dood of iets anders jou sal kniehalter? Niks kan jou uit God se hand ruk of van sy liefde skei nie: jy is heeltemal veilig (Joh. 10:28-29, Rom. 8:38-39). Hieroor het jy meer rede om fees te vier en bly te wees as ‘n Arabier in Dubai wat op Nuwejaarsdag partytjie hou en klappers skiet.

Lewe voor Pinkster

Vatican Pope Doves

In Rom. 7:14-26 praat Paulus van ‘n man wat reg wíl doen, maar nie die vermoë het nie en aanhoudend misluk. Wie beskryf Paulus hier? Ek glo hy beskryf Ou Testament gelowiges wat geleef het voor Jesus die Gees uitgestort het op Pinkster, terwyl hy in Rom. 8 ‘n Nuwe Testament gelowige se lewe beskryf, noudat die Gees uitgestort is en permanent in ons woon.

Ek het nie Rom. 7 so verstaan voor ek dit hierdie week bestudeer het nie, maar van die sienings wat ek oorweeg het, maak dit nou vir my die meeste sin. Wat is die verskillende sienings? Daar is basies twee groepe.

[A] Rom. 7 beskryf ‘n gelowige wat teen die sonde stry. Geen ongelowige begeer gehoorsaamheid en haat die sonde nie (v.15, 18, 19). Hy is lief vir sy sonde en geniet dit. Geen ongelowige sê dat daar niks goed in hom is nie (v.18). Hy dink eerder dat hy nie so sleg is nie. Geen ongelowige kan sê dat hy God se wet in sy hart liefhet nie (v.22). Hy haat dit en wil dit nie doen nie (8:7-8). Geen ongelowige wil vry wees van die liggaam wat sonde doen nie (v.24). Hy sal sonde doen, al is dit sy laaste dag op aarde (Jes. 22:13). Geen ongelowige dank en prys God deur Jesus Christus nie (v.25). Hy roem in homself en dink hy het nie die Here nodig nie.

[B] Rom. 7 beskryf ‘n ongelowige wat nog vas is in sonde. Geen gelowige kan beskryf word as vleeslik of verkoop onder die sonde nie (v.14). Hy is vry en nie meer onder die sonde nie (6:14, 18, 22, 8:2). Geen gelowige is magteloos om reg te doen nie (v.18). Deur die Gees se krag kán hy reg lewe (8:4, 13). Geen gelowige hou aan met sonde nie (v.19, 1Joh. 3:6, 9). Geen gelowige is ‘n slaaf in die tronk van sy sonde nie (v.23, 26). Geen gelowige leef sonder die Heilige Gees soos die man in hierdie verse nie. Hy wandel eerder in die Gees (Gal. 5:16, 25).

Onder die bg. twee groepe is daar variasies. Hier is ‘n paar.

  • Die man in Rom. 7 is elke Christen wat tot in die graf teen sy sonde sal stry. Hy beleef ‘n spanning in sy hart. Hy is nie wie hy was nie, maar hy is ook nog nie wie hy wil wees nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n vleeslike Christen wat nog nie met die Gees gedoop is om in die oorwinning van Rom. 8 te lewe nie.
  • Die man in Rom. 7 is iemand onder sonde-oortuiging. Sy gewete is ontwaak, maar hy is nog nie weer gebore nie.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n nuwe Christen wat nog nie die lewe van oorwinning deur die Gees verstaan nie. Hy wil nog deur die wet geheilig word.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n ongelowige Jood. Hy wil deur die wet gered word, maar misluk a.g.v. die sonde in hom.
  • Die man in Rom. 7 is ‘n gelowige Jood voor Pinkster. Hy is lief vir die wet en wil dit doen, maar sy sonde keer hom. Na Jesus se kruisdood, opstanding, en die uitstorting van die Heilige Gees, lei die Gees hom om die wet gehoorsaam (8:1-4).

Soos reeds gesê glo ek nou dat die laaste siening Rom. 7 die beste opsom. Ek is oortuig dat Rom. 8 alle gelowiges na Pinkster beskryf.

 

  1. Onvermoë (v.14-20)

Sowat 10 jaar gelede het iemand my ‘n boek geleen met die titel, Let go and let God. Ek het die idee gekry van ‘n passiewe heiligmaking waarin jy net bid, wag en nie veel meer doen nie. As jy aktief optree doen jy dit immers ‘in die vlees’. Dit is Keswick-teologie waarin die Gees jou eensklaps verander en jy nie weer met hierdie of daardie spesifieke sonde sukkel nie.

Maar te veel tekste wys dat jy jou moet bekeer, die Here gehoorsaam, in goeie dade volhard, jouself moet dissiplineer, hard teen die sonde moet stry, en tree vir tree moet groei. Dit gebeur soms dat ‘n Christen sekere sondes in ‘n oogwink los. Dalk gebeur dit met die persoon se bekering of daarna. Maar dit is nie so vir almal of altyd so met elke sonde nie. Jy kan nie sê dat iemand wat hard teen ‘n sekere sonde stry ongered is, ‘n klas 2 Christen wat nie met die Gees gedoop is nie, ‘n Christen wat nog in Rom. 7 lewe i.p.v. in Rom. 8, of ‘n vleeslike Christen wat nog nie in oorwinning lewe nie. Dit mag wees dat die persoon wat teen sy sonde stry meer volwasse is as jy, want hoe nader ‘n gelowige aan die lig kom, hoe meer raak hy bewus van hoe vuil sy hart is, en hoe harder stry hy.

Maar aan die ander kant kan jy nooit jou sonde verskoon en sê: ‘Ek kan dit nie help nie en het nie die vermoë om reg te doen nie.’ Die onvermoë in v.14-20 is die onvermoë van ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, en nie van ‘n Nuwe Testament gelowige ná Pinkster nie. Dit beteken egter nie dat die wet is sleg nie. Dit is heilig, regverdig, goed, geestelik en van God af (v.12, 14, 16).

In die Ou Testament wou die vlees die wet breek en was mense as slawe verkoop onder die sonde (v.14, Gal. 3:22-23). In die Nuwe Testament is Christene nie onder die wet en die sonde nie, en gee die Gees aan ons die vermoë om reg te doen (v.14, 6:14, 7:4, 6, 8:4).

Onder die wet en voor Pinkster het Ou Testament gelowiges dieselfde begeerte gehad as ons om reg te doen, maar nie dieselfde vermoë nie (v.15, 18, 19). Dit is nie dat hulle boos was en die wet wou breek nie, maar die sonde in hulle harte het hulle verhinder (v.17, 20). Die Gees het nog nie permanent in hulle gewoon om hulle te help nie. Volgens Rom. 7-8 maak die Gees ‘n opmerklike verskil.

Jy kan nie onvermoë pleit soos die gelowiges in v.14-20 wat voor die kruis en Pinkster geleef het nie. Jy kan nie leef soos die dissipels in Hand. 19:1-7 wat nog nie die krag van die kruis en die Heilige Gees ervaar het nie. Ja, jy stry nog met die sonde, maar deur die Gees kán jy reg doen en dit oorwin (Gal. 5:16-26, kontra v.15, 19).

Jy is vry van slawerny aan sonde en die wet (v.14, 6:22). Nou het jy die vermoë om met die Gees se hulp sondige gewoontes soos ‘n kort humeur, ooreet, wellus en verslawing uit te gooi, soos wat Nehemia Tobia se meubels uit die tempel gesmyt het (v.18, 8:13). Die Gees verander jou hart in ‘n aanneemlike woning vir Jesus (Ef. 3:16-17). Met Jesus en die Gees in jou, het jy meer voorregte as gelowiges wat onder die wet en voor Pinkster geleef het. Dus kan jy met God wandel soos Henog en Noag, opreg wees soos Daniël en Job, lojaal soos Rut en Maria Magdalena, toegewyd soos Dawid, doelgerig soos Nehemia en vol van die Woord soos Esra. Jesus het gesê:

“Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” (Matt. 11:11).

Wat het Hy bedoel? Omdat hy Jesus se voorloper was, was Johannes die Doper die grootste van die Ou Testament profete (al is sy storie in die Nuwe Testament opgeteken). Maar ons leef na die kruis en Pinkster, en is dus meer bevoorreg as hy. Daarom kan jy wees soos ander gelowiges wat dieselfde Gees as jy het: Paulus vir wie Jesus alles was, Johannes wat Hom liefgehad het, Lidia wat ‘n oop hart gehad het, Stefanus wat vol was van geloof en die Heilige Gees, Timoteus wat ‘n goeie karakter gehad het.

Jy kan so biddend wees soos David Brainerd en Martin Holdt, so heilig soos Robert Murray M’Cheyne, so God-gesentreerd soos Jonathan Edwards en Martyn Lloyd-Jones, so lief vir verlorenes soos George Whitefield, Charles Spurgeon, Seth Meyers en Shaun Havenga. Jy kan so getrou wees soos oom Andries Rossouw, oom Malvin en tannie Ronell O’Donovan. Jy kan so vrolik wees soos tannie Gwen Bruwer, Heilet van den Berg, tannie Wilna Fourie, Ansi van der Westhuizen en Soné van der Westhuizen.

Jy kan so lief wees vir mense soos Jaco van Wyk, tannie Anna Engelbrecht, tannie Nellie Nel en Jannie Vosloo. Jy kan so ywerig wees om te leer soos oom Mike Fourie en Rex Jefferies. Jy kan so behulpsaam wees soos Van Zyl de Villiers en tannie Babs Grové. Jy kan so gasvry wees soos Koos en Gerdha van der Westhuizen. Jy kan so georden wees soos Jenna O’Donovan. Jy kan so wys wees soos Roelf Power, Deirdrè Jefferies, tannie Etrechia de Villiers en tannie Bessie van Rooyen. Ek kan aanhou, maar ek is seker jy kry die punt.

Met die Heilige Gees in jou sal jy op die einde soos Jesus wees (2Kor. 3:18, 1Joh. 3:2). Dit is tog waarvoor die Here jou gemaak het (Rom. 8:29).

 

  1. Oorlog (v.21-26)

Enige Christen wat sê dat hy nie in sy hart teen sonde stry nie lieg, of het laasweek tot bekering gekom. Tog glo ek nie dat dít die stryd is wat Paulus in Rom. 7 beskryf nie. Soos reeds gesê gaan dit hier oor iemand wat reg wíl doen, maar ‘n slaaf is onder die wet. Al persoon wat in hierdie kategorie val is ‘n gelowige wat voor die kruis en Pinkster geleef het. Hy is lief vir die wet en wíl reg doen, maar daar is ‘n beginsel in hom wat sê dat die sonde naby lê, dat dit sy liggaam gyselaar [Eng. hostage] hou en keer dat hy die heilige begeertes binne hom uitvoer (v.21-23, Ps. 1:2, 19:11, 112:1, 119:14, 16, 24, 35, 47-48, 70, 77, 97, 143, 174).

Dit frustreer hom: hy sien dat hy ‘n ellendige, verwronge en gebroke mens is (v.24). Hy wil vry wees van hierdie sterflike liggaam wat sonde doen (v.24). Wie kan hom vry maak? Volgens Paulus kan net Jesus hierdie frustrasie oplos (v.25). Deur sy kruisdood het Hy die sondige liggaam tot niet gemaak (6:6). Nou kan ons in ons liggame reg doen en die sonde oorwin (6:6, 13-14). Die Heilige Gees help ons om dit reg te kry (1Kor. 6:19-20).

Wanneer Jesus weer kom sal die Gees ook ons liggame opwek en dit nuut maak (8:11, 23). Hy sal vir ewig in ons woon, sodat ons nooit weer sonde doen nie. Dit is wat 1Kor. 15:44 met die ‘geestelike liggaam’ bedoel [Gk. pneumatikos, vgl. Gal. 6:1].

Ter opsomming sê Paulus in v.26 (v.25 in Engels): ‘Ou Testament gelowiges dien die wet in hulle gemoed, maar die sonde in hulle harte oortree dit.’ So eindig Rom. 7 dan sonder ‘n oplossing van hoe om die sonde te oorwin. Daar is ‘n flikkering van hoop in v.6 en 25, maar Paulus brei nie hierop uit nie. Sy punt in Rom. 7 is om te sê dat jy nie die sonde kan oorwin deur die wet te hou nie. Daar is iets (of eerder, Iemand) sterker as dit nodig: die Heilige Gees.

Maar daarvoor moet jy wag tot ons in hfst. 8 kom. Vir nou moet jy sorg dat jy nie lewe soos ‘n Ou Testament gelowige onder die wet, asof daar geen kruis, opstanding en Pinkster is nie. Jy kan nie leef asof die Gees nie uitgestort is, en asof die keuse tussen sonde en gehoorsaamheid ewe sterk is nie.

Nee! Daar is nuwe beginsel wat in jou werk. Jy is ‘n nuwe mens. Die ou dinge is verby (2Kor. 5:17). Vir die gelowige is sonde nie deel van wie jy is nie. Dit is nié meer normaal, menslik of iets wat jy nie kan help nie. Dit is abnormaal. Gehoorsaamheid is normaal. Jy het nie net die Woord in jou hart lief, sonder dat jy die vermoë het om te doen wat jy in die prediking of in jou stiltetyd leer nie (v.22-23). Deur die krag van die Heilige Gees kan jy doen wat die Here sê.

Ja, die stryd teen sonde is hard. Maar die Gees in jou is sterker en heeltemal bevoeg, sodat jy jou sonde kan oorwin (8:13). Moenie kerm en kla dat jy nie jou sonde kan wen nie. Vertrou op die Heilige Gees en veg! Gee jouself hart en siel aan Jesus Christus. Leef in konstante gemeenskap met Hom deur geloof in sy Woord, deur gebed en deur die kerk. Jy kan onmoontlik dieselfde bly na dit. Kan jy vol wees van die Heilige Gees en nié verander nie?

Voor Pinkster was Petrus so bang soos ‘n hoender. Maar toe Pinkster aanbreek en die Gees hom vul, was hy so dapper soos ‘n leeu. En kan die Heilige Gees jou nie help teen hierdie of daardie sonde wat jou al vir jare onderkry nie? Luister: sonde kan nie wen nie. Soms wond dit jou in ‘n veldslag, maar die uitkoms is alreeds bepaal deur Jesus wat dit deur sy kruisdood oorwin het.

Ons misverstaan die Christelike lewe as ons sê dat die Here jou uit Egiptiese slawerny verlos het, jou nou in die woestyn lei waar sonde nog die oorhand kry, jou deur die Jordaan van die dood lei, en dat jy vir die Beloofde Land moet wag. Eintlik werk dit anders. Die Here het jou uit Egipte en die woestyn gebring. Jy het reeds die ewige lewe. Jy is tans in die Beloofde Land waar die Heilige Gees jou help om die vyand te verdryf. Wanneer jy finaal oorwin het, sal jy die ewige rus van die Beloofde Land geniet.

Ja, jy is nog nie in die hemel nie. Maar jy nie leef ook nie soos die Ou Testament gelowiges voor Pinkster nie. Jy leef nie meer in Rom. 7 nie. In die volgende preek sal ek jou wys dat Rom. 8 nie vir super-geestelike Christene is nie, maar dat dit die normale Christelike lewe beskryf. Rom. 8 is nie die uitsondering nie, maar die reël.

Word wakker Here!

Big green alarm clock on dark blue background

My tema klink byna soos lastering, behalwe dat dit in die Bybel voorkom (ek sal later vir jou wys). Ons wil dit nie hardop sê nie, maar soms voel dit vir ons of die Here slaap. Hoekom doen Hy nie iets aan die onreg in die land nie: kinders word ontvoer, die regering het planne om plase te onteien sonder vergoeding, misdaad neem toe, korrupsie is aan die orde van die dag? Dit lyk of die Here anderkant toe kyk vir die gay wette in die weste. En hoekom is die kerk so klein, swak, en lyk dit of ons geen impak het op die samelewing nie? Jes. 51 wys dat die Here ons nie vergeet het nie, en dat Hy sy planne sal uitvoer. Hy is wakker en slaap nie soos ons partykeer dink nie.

 

  1. Voorspoed (v.1-3)

‘n Ouer predikant het vertel hoe hy platgeslaan voel wanneer hy by Prosperity kerke verby ry. ‘Hoekom het hulle so baie mense en ons so min?’ vra hy. Die min mense in die kerk en baie in die wêreld pla my ook. Israel het dieselfde gevoel. Na die ballingskap was hulle uitgedun. Hulle het mismoedig gevoel. Net ‘n paar van hulle het regverdig gelewe en die Here gesoek (v.1). God het hulle nuwe perspektief gegee en vir hulle gesê om te luister (v.1, 4, 7, 17, 21). Hy het hulle daaraan herinner dat Hy hulle uit die steengroef van Abraham en Sara gekap het toe hulle, wat vrugbaarheid betref, so dood was soos ‘n klip (v.1-2). Maar die Here het een man in ‘n menigte verander (v.2, Gen. 12:1-3, 15:5, 22:13).

Hy sou die herstelde stede vir hierdie menigte gee (v.3). Hy sou die stede transformeer om soos die tuin van Eden te lyk (v.3, hfst. 35, Op. 22:1-2). Dit was vir hulle ‘n troos wat sou lei tot vreugde, danksegging en lofgesange (v.3, 40:1, 52:9). Onthou dit wanneer jy voel dat die kerk klein, in die minderheid, hulpeloos en swak is. Kry perspektief. Die kerk het gegroei van ‘n paar honderd in Hand. 2, na meer as ‘n half biljoen evangeliese Christene wêreldwyd. Daar is Christene in elke land op aarde. Deur die eeue was daar miljoene Christene, en in die hemel sal daar ‘n ontelbare menigte wees (Op. 7:9).

Daar is nog mense wat geregtigheid najaag, die Here soek en vind (v.1, 5, 6, 7, 8, 55:6, Deut. 4:29, Jer. 29:13, Dan. 9:3, Matt. 5:6, 6:33, 7:7-8, Fil. 3:9). Jy is nie die enigste een nie en sal eendag in ‘n herstelde Paradys woon waar alles net heilig, vreugdevol en vol lof is (v.3, Op. 21:27, 22:3, 15).

 

  1. Verlossing (v.4-11)

Hoe het wêreld 1000, 2000, 3000 en 4000 jaar gelede gelyk? Baie erger as nou. Daar was nie net partykeer oorlog nie, maar vir baie eeue het die stede mure om gehad en het hulle wagte daarop geplaas. Wat het gemaak dat dit nie meer so is nie? Hoekom is lande soos die V.S.A., Engeland, Duitsland, Switserland, Australië en Nieu-Seeland so ver voor die res?

Dit is a.g.v. die evangelie en die Bybel. God se wet en Woord is die lig wat uit die verlede tot in ons tyd en wêreldwyd skyn (v.4-5, 2:3, Ps. 119:105). God se arm, die Messias, het hierdie voorspoed gebring (v.5, 2:4, 53:1). Hy vervul en versadig ons hoop (v.5).

Wil jy die volgende geslag beïnvloed? Leer hulle die evangelie en die Bybel (v.5-6). Moenie dink dat dit ‘n klein taak is as jy jou kinders opvoed of in die Sondagskool en jeug betrokke is nie. Die verlossing wat jy deel strek wyer en verder as wat jy besef.

Die hemel sal soos rook verdwyn, die aarde soos ‘n verslete kleed, en die mens soos ‘n muggie of muskiet (v.6, 8, Ps. 102:26-28, Matt. 24:35, 2Pet. 3:10-12, Op. 20:11, 21:1). Maar die verlossing wat jy met jou kinders en ander mense deel duur vir ewig (v.6, 8). Moet dus nie jou taak ligtelik opneem of dit afskeep nie. Maak erns daarmee. Skep weer moed en tel die gebreekte stukke op as jy verflou het.

Dalk vrees jy dat die EFF en ander vervolgers God se verlossing sal keer, sodat jou kinders dit mis. Moenie bang wees nie: as die wet in hulle harte is, kan niemand dit wegvat nie (v.7, Ps. 37:31, Jer. 31:33, 2Kor. 3:2-3, Heb. 8:10). God se verlossing is vir ewig, maar wurms sal die kerk se vyande opeet (v.8, 6, 50:9).

Met die vyand rondom jou wonder jy dalk of die Here slaap (v.9, Ps. 44:24, Luk. 8:24). Jy wonder waar God se sterk arm, die Messias, is. Waar is God se arm wat die dood oorwin het, Israel uit Egipte verlos het, Egipte soos ‘n draak in stukke gekap het en Israel deur die Rooi See gelei het (v.9-10, 30:7, Eseg. 29:3)?

Hy slaap nie. Hy het ons van die sonde bevry en lei ons na die Nuwe Jerusalem waar ons nie meer hartseer sal wees en sug nie, maar lofliede vol blydskap sal sing (v.11, 3, 35:10, Rom. 8:18-27, Op. 7:17, 21:4). Hy is die God wat baie mense gered het in Handelinge, die Reformasie en die herlewings in die kerk se geskiedenis (v.9). En kan sy sterk arm nie weer die Heilige Gees in herlewing stuur en groot getalle red nie? Het die slegte samelewing Hom nou gekeer dat Hy nie meer in staat is om te red nie? Is Suid-Afrika, die wêreld en die kerk te sleg, sodat Hy nie weer ‘n herlewing kan stuur nie? Jy is kleingelowig as jy so dink.

 

  1. Vertroosting (v.12-16)

Wat dink jy van verjaarsdag boodskappe wat deur ‘n bulk sms stelsel gestuur word? Ek ignoreer dit. Dit is onpersoonlik en koud. Die Here se troos is nie so nie. Hy is betrokke en troos jou persoonlik (v.12, 3, Joh. 14:16, 2Kor. 1:3). Sy teenwoordigheid beteken jy hoef nie die vyand en jou vervolgers te vrees nie: hulle sal so gou sterf soos gras (v.12, 6-8, 40:6-8).

Wie vrees jy dat jy die Here vergeet wat ‘n 13-biljoen-ligjaar-hemelruim (of groter) uitgestrek het, wat die aarde op niks hang en die see se magtige golwe teen die rotse laat slaan (v.13, 15, 40:12, Job 26:7)? Wie is die vyand wat jou verdruk? Wie is hierdie vyand teen die ewige en almagtige God (v.13, 14:4)? Eendag sal jy jou vyand soek en nie vind nie (41:12). Moet daarom nie mense vrees nie (Spr. 29:25). Die Here sal jou red van die vyand wat jou verdruk (v.14). Jy sal nie in die kuil van die doderyk afsak nie; die Here sal jou versorg (v.14, Eks. 16, Matt. 6:11).

Glo jy nie in die Here nie, sodat jy vrees? Is die Here nie jou God en jy sy kind nie (v.15-16)? Is Hy nie die soewereine Here van die hemelse weermag nie (v.15)? Sal Hy jou dan vergeet? Is jy biddeloos en versaak jy die Bybel, asof die Here dood is? Jy kort die medisyne wat Martin Luther se vrou vir hom gegee het. Luther was depressief. Sy vrou en kinders het swart klere aangetrek. Luther het gesê: ‘Ag nee! Wie is dood?’ Kate (sy vrou) het geantwoord: ‘Het jy nie gehoor dat God dood is nie? My man, Martin Luther, sou nooit so depressief gewees het as hy die lewende God gehad het om op te vertrou nie.’ [Vry vertaal uit Charles Spurgeon, Commentary on Isaiah (Titus Books, 2014), note on Isaiah 41:19].

God het sy woorde in die Messias se mond gesit (v.16, 50:4). Hy wil deur die Woord en gebed met jou praat. God het die Messias in die skaduwee van sy hand gehou, en Hom op die regte tyd geopenbaar (v.16). Hy het sy nuwe skepping in ons kom maak en ons deel gemaak van sy volk in die Nuwe Jerusalem (v.16, 49:2, 2Kor. 5:17). Ons kan nie lewe soos mense wat voor die kruis bestaan het, soos mense wat nog nie die daglig van sy verlossing gesien het nie.

Ek moes hierdie week vir die Here jammer sê dat ek in my beproewing kla en Hom nie dank soos Ef. 5:20, 1Tess. 5:18 sê nie. Wat van jou? Vergeet jy wie die Here is en wat Hy gedoen het om jou te verlos? Hoekom kla jy dan oor alles wat verkeerd is en dank jy Hom nie meer vir sy Seun, jou redding, sy seën, en alles wat reg is nie?

 

  1. Vergifnis (v.17-23)

Toe my jongste dogter klein was het sy altyd aan die slaap geraak wanneer die res van die gesin dinge geniet. Israel het gesê dat die Messias slaap, maar eintlik het sý geslaap terwyl die Here groot dinge doen (v.17, 9). Nou moes hulle wakker word, opstaan, en terugkeer na die Messias en Nuwe Jerusalem toe.

Die straf was verby; hulle het die beker van God se toorn leeg gedrink (v.17, Ps. 75:8, Jer. 25:15). Toe God Jerusalem in sy toorn straf, is die stad verwoes en het mense dood in die strate gelê soos ‘n bok in ‘n vangnet (v.18-20, Klaagl. 2:11-12, 19, 21). Daar was niemand oor om die volk te lei en te troos nie (v.18-19). Hulle het onder God se toorn gesteier soos iemand wat dronk is van wyn (v.21). Maar die Here het hulle gehelp, vergewe en vir hulle opgestaan (v.22). Hulle sou nie meer uit die beker van sy toorn drink nie (v.22, 7). Babilon sou nou daaruit drink (v.23, Jer. 25:17, 26, 28). Hulle het op Israel getrap soos wat ‘n mens op die grond en strate trap, maar nou sou die Here hulle straf (v.23).

In die Nuwe Testament het die Messias die bitter beker van God se toorn gedrink. Ons moes hierdie beker drink, maar Hy het dit gedoen sodat ons die beker van sy verlossing kan geniet (Ps. 116:13, Mark. 14:36, Joh. 18:11, Op. 14:10-11). Prys Hom daarvoor en onthou dit wanneer jy die nagmaal gebruik (Mark. 14:23-24).

Dalk verkies jy die kelkie omdat jy siek is, omdat een beker wat die rondte doen te lank vat, of vir higiëniese redes. Die beker herinner jou egter aan die beker van God se skrikwekkende toorn en sy lieflike verlossing. Drink uit die beker as jy kan, of sien dit ten minste op die tafel. Verbly jou in die Here wat die beker van verlossing en seën in jou lewe laat oorloop (Ps. 23:5).

Die feit dat jy in God se liefde en verlossing rus, beteken nie Hy slaap nie. Hy is wakkerder as ‘n uil in die nag, of ‘n man wat sopas tien double espresso’s gedrink het. Hy waak altyd oor jou: 24 uur ‘n dag, 7 dae ‘n week, 365 dae per jaar, vir altyd en ewig. “…jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” (Ps. 121:3-4).

Wat wettiesisme so gevaarlik maak

Will work for salvation

Wat is wettiesisme? Dit is nie wanneer iemand sê hy kyk nie lelike films nie, hou by die spoedgrens, of gebruik nie alkohol nie. Dit gaan eerder oor iemand wat dink dat hy die hemel verdien, omdat hy die wet na die beste van sy vermoeë gehoorsaam.

Dit is soos iemand wat eenkeer vir my gesê het: ‘Ek wil die Tien Gebooie op my muur plak en dit elke dag lees, sodat ek my sonde kan oorwin.’ Dit is soos die Hebrew Roots Movement wat glo dat geloof in Jesus nie genoeg is vir redding nie. Volgens hulle moet jy die Ou Testamentiese wet volg en God se Hebreeuse name sê.

Maar God het nie die wet gegee dat dit jou kan red nie. Die wet se effek op die sondige begeertes in jou hart, keer dat dit gebeur. Rom. 7:7-13 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

  1. Dit maak sonde wakker (v.7-9)

Het jy al ooit No Rules skaatsplanke of klere gesien? Die naam laat my aan rebelse jongmense dink. Dit laat my aan ‘n seun dink wat saam met my op skool was. Hy het eendag vir die onderwyser gesê: ‘Rules are there to be broken.’

Party mense wat Rom. 7 lees, dink so oor die wet: ‘Ons het vir die wet gesterf. Die wet maak sonde wakker en bring die dood. Die wet is sleg. Om ‘n Christen te wees gaan oor ‘n verhouding met Jesus en nie oor die wet nie. Ons moet wegdoen met die wet.’ (v.7).

‘Nee!’ sê Paulus (v.7). ‘Die wet is nie sonde nie, maar wys wat sonde is en maak dit wakker’ (v.7, 3:20). Vat die tiende gebod as ‘n voorbeeld. As die wet nie gesê het: ‘Jy mag nie begeer,’ sou Paulus dit nie persoonlik so sterk ervaar het nie (v.7, Eks. 20:17). Maar toe hy die gebod oordink en besef wat dit beteken, toe kom sy sondige begeertes daarteen in opstand (v.8). Skielik het hy allerhande begeertes beleef, selfs dinge wat hy nie voorheen oorweeg het nie. Dit sou dalk dinge insluit soos:

  • Ontevredenheid en ondankbaarheidmet wat die Here hom gee.
  • Jaloesie oor ‘n ander man se lewensmaat, huis, salarisen
  • Dagdromeryoor hoe hy in die kollig is en almal hom prys.
  • Die verheffing van homself en ander dinge bo God (Kol. 3:5).

Die fout lê nie by die wet nie, maar by die sondige begeertes in ons harte. En tog is dit die wet wat die sonde in ons wakker maak en dinge in ons uitwys wat ons nie voorheen gesien het nie. Het jy al ooit gesê: ‘Ek kan nie glo dat ek dit gedoen het nie; dit is net nie ek nie’? Die waarheid is dat daar begeertes in jou hart wegkruip, en dat dit sigbaar word en in opstand kom sodra die wet sê: ‘Jy mag nie!’

Sedert die sondeval wil ons die wet oortree. ‘n Tweejarige kind sien bv. nie die muurprop in sy ouma se huis nie. Sy ma sê: ‘Jy mag nie daaraan vat nie!’ Skielik wil hy daaraan vat. As ‘n pa vir sy tiener sê: ‘Jy moet teen 22:00 by die huis wees,’ daag hy sy pa uit, wil hy weet hoekom, en sê hy dat dit ‘n dom reël is. Hy is bang vir die gevolge en is 22:00 by die huis, maar in sy hart is hy opstandig.

Soos Adam en Eva begeer ons verbode vrugte. Ons wil dit hê net omdat ons dit mag hê nie. Vat Augustinus (354-430 n.C.) as ‘n voorbeeld. Toe hy 16 was, toe steel hy en sy vriende een aand die buurman se pere. Toe hulle die boom skud het hope pere afgeval. Die pere het nie lekker gelyk of geproe nie. Nie een van die seuns was arm of honger nie. Hulle het die pere gehap en vir die varke gegooi.

Hoekom het hulle dit dan gesteel? Augustinus sê: ‘I did not care to enjoy what I stole but took pleasure in the theft and in sin itself… this we liked to do only because it was disliked by others.’ Hulle het m.a.w. gesteel, omdat hulle nie mag nie. Die verbod het die begeerte vir diefstal in hulle wakker gemaak (v.8). Sonder die wet lê sonde doodstil in ons harte (v.8). Vir ander mense lyk jou lewe skoon en dalk kom jy self nie eers agter wat in jou hart skuil nie. Van buite af lyk jou lewe soos die dun lagie skoon water op ‘n stagnante poel. Sodra ‘n paar stuitige jong olifant bulle egter in die poel instorm, word die modder wat op die bodem lê sigbaar.

Die wet is so en laat die modder van sonde wat in jou hart is opwel (v.8, 5). Die oplossing om jou lewe te verander is nie om die wet noukeurig te probeer nakom nie. Die wet sal die einste sonde wat jy wil oorwin in jou wakker maak (v.8).

Beteken dit dat ons moet sê: ‘Ons moenie ons kinders teen seks buite die huwelik en dwelms waarsku nie, want anders plant dit idees in hulle koppe… Soos in Nederland moet ons dwelms wettig maak, want dan sal mense dit nie misbruik nie… As jy jou kinders te veel van die Bybel leer, sal hulle dit haat… Moenie reëls en dissipline vir jou kinders gee nie, want anders sal hulle rebels raak… Moenie oor sonde preek nie, want dit laat mense net skuldig voel en maak hulle opstandig’?

Nee. Om die wet te verwyder vat nie jou sonde weg nie, maar laat dit net op die bodem van jou hart gaan lê. Die probleem is nie die wet nie, maar die sonde wat soos ‘n dormante of rustende saad in jou hart lê. Sodra die wet naby kom, is dit soos water op die saad en word die sonde wakker. Om die sonde weg te kry moet jy nie die wet hou of dit wegvat nie, maar in Jesus glo en die Heilige Gees in jou hê (wag vir hfst. 8!).

Dalk sê jy: ‘Ek is nie so sleg nie en het nie Jesus of die Gees nodig nie. My omstandighede en ander mense beïnvloed my negatief. As my omstandighede verander en ek nie slegte mense om my het nie, is my lewe so onskuldig soos Adam s’n voor die verbod en die sondeval’ (v.9).

Jy mislei jouself en ken nie jou eie hart nie. Jy sê jy pleeg nie moord nie. Maar haat jy iemand of is jy bitter en kwaad? Wens jy die persoon dood of jy wil jy hom uit jou lewe hê? Jy sê jy pleeg nie egbreuk nie. Maar is jou oë en gedagtes rein? Is jy wellustig? Jy sê jy steel nie. Maar is jy materialisties en geldgierig? Is jy jaloers op ander? Wil jy iets op ‘n onwettige manier kry? Jy sê jy stel ander se belange bo jou eie. Maar voel jy seergemaak en bejammer jy jouself as niemand jou nie bedank nie? Of voel jy goed oor jouself as mense jou moeite raaksien en dankie sê? Wens jy dat hulle jou voor almal moet bedank? Wens jy in die geheim vir betaling, en as jy dit kry sê jy: ‘Nee, ek doen dit uit liefde!’?

Die wet sny jou hart oop, onbloot jou motiewe, wys dat jy skuldig is, en gee jou die doodstraf soos vir Adam (v.9). Dit prik jou gewete en laat jou skuldig voel. Maar al voel jy sleg vat dit nie die sonde in jou weg nie. Trouens, dit maak dit wakker. Waar die wet ‘n ongelowige aanspreek, wonder hy nie hoe hy sy sonde kan los nie. Hy voel eerder verleë dat sy sonde uitgekom het. Hy beplan op nuwe maniere om die wet te oortree sonder dat iemand sy sonde uitvang.

Wat moet jy met die skuldgevoelens doen? Moenie na die wet toe draai nie, want dit sal net wys hoe skuldig jy is en jou slegter laat voel. Maar jy moet ook nie die skuldgevoelens onderdruk nie. Dit help nie jy drink pille, misbruik drank of dwelms, slaap, verloor gewig, koop nuwe klere of kry ‘n haarsny om van jou sonde te vergeet en beter te voel nie.

Skuldgevoelens is net die simptoom en nie die oorsaak nie. Deel met die skuld self, sodat die skuldgevoelens outomaties saam met dit verdwyn. Hoe deel ‘n mens met die skuld? Jy kan nie en jy hoef ook nie. Jesus het dit klaar gedoen. Hy het aan die kruis gesterf asof Hý skuldig is, maar eintlik het Hy óns sondeskuld betaal (Kol. 2:14). As jy jou bekeer en in Hom glo, sal God die Vader sy dood in jou plek aanvaar. Hy sal jou skuld afskryf en jou van ‘n skuldige gewete reinig (Kol. 2:14, Heb. 9:14, 10:22).

 

  1. Dit maak jou dood (v.10-13)

Wettiesisme is soos die drank advertensie wat ek langs die pad gesien het. Langs die drankbottel staan daar: ‘This is living.’ Die drank belowe ‘n goeie lewe en plesier, maar op die einde maak dit jou dood. En die wet belowe in Lev. 18:5: “Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe.” Maar die wet lei tot die dood vir elkeen wat daardeur wil lewe (v.10). Lieg wet dan?

Nee. Dit belowe lewe vir dié wat dit gehoorsaam. As jy nié gehoorsaam is nie, straf dit jou met die dood (v.10, 6:23, Deut. 30:17-18). Eintlik is dit die sonde wat jou bedrieg en sê: ‘As jy jou beste doen kan jy die wet nakom en lewe’ (v.11). Maar sodra jy dit probeer doen, gryp die sonde sy kans om die wet te oortree (v.11, 8). Die wet wat lewe belowe, maak jou dood omdat jy dit oortree het (v.11).

Maar moet asb. nie foutiewelik aflei dat die wet sonde is nie (v.7). Die wet is heilig, regverdig en goed (v.12, Ps. 19:8-10, 119:137). Jy kan mos nie sê dat die wet sleg is, omdat dit die misdadiger in die tronk sit of hom aan die galg hang nie. Enige goeie wet sal die misdadiger straf. Die probleem lê nie by die wet wat die sondaar vonnis en hom die doodstraf toedien nie. Die probleem lê by die sondaar wat die wet oortree en die dood verdien (v.13).

Hoe kan ons sonde nié die dood verdien as dit die goeie wet misbruik om ons dood te maak nie (v.13)? Dit is soos ‘n man wat sy vrou doodmaak met die sterk pille wat sy vir hom koop om sy tandpyn weg te vat. Hy misbruik iets wat goed is om haar dood te maak. Die probleem is nie die pille nie, maar die man se verdraaide hart wat dit misbruik om sy vrou dood te maak.

Dit is ook die geval met die wet en sonde: die probleem lê nie by die wet nie, maar by die sonde (v.13). Dan is oplossing nie om te sê: ‘Die wet is sonde; laat ons daarvan ontslae raak’ nie (v.7). Die oplossing is ook nie om wetties te wees en harder te probeer om die wet na te kom nie. Jy kan dit nie regkry nie, omdat die sonde jou keer.

Die oplossing is Jesus en die Heilige Gees. Jesus het die wet perfek namens ons onderhou en ons sonde weggevat aan die kruis. Deur die geloof ontvang jy sy wetsgehoorsame rekord en die Heilige Gees wat jou in staat stel om wet te gehoorsaam (hfst. 8).

Maar selfs met die Heilige Gees in jou, sal jou vlees jou versoek om te dink die Here aanvaar jou omdat jy die wet hou. As jy reg doen sal jy versoek word om in jouself te roem. As jy verkeerd doen sal jy versoek raak om hopeloos te voel. Jy voel bv. goed, geniet jou Bybelstudie, bid lekker en is opgewonde oor die kerk, omdat jy in die week die wet gehou het. Maar jy vermy die kerk, vergeet van jou Bybel en bid nie, omdat jy in die week die wet oortree het.

Dit is so dat ons sonde die Here bedroef, maar dit is verkeerd om te dink jy moet eers vir ‘n dag of twee die wet gehoorsaam voor jy weer voor Hom kan kom. Dit is verkeerd as jy dink: ‘Ek moet myself eers vir ‘n week kasty, boete doen en die Here se guns terugwen voor ek kan bid, my Bybel kan lees, kerk toe kan kom en die nagmaal kan gebruik.’

Die regte ding is om in gebed na jou Vader toe te kom. Erken dat jy niks kan doen om sy guns te wen nie. Bely dat Jesus en sy kruisdood jou enigste hoop is om vergewe en herstel te word. Vra dat die Heilige Gees jou sal help om die wet uit te voer. Vra dat Hy jou sal help om suiwer motiewe sal hê, naamlik om God te verheerlik en nie bloot om goed te voel oor jouself nie.

 Niks maak wettiesisme dood soos die evangelie van genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen nie. Die evangelie is vir wettiesisme wat suurlemoen, heuning, appelasyn en rooipeper is vir verkoue: dit verdryf dit heeltemal.

Christene en die wet

Law and gospel

Mense glo verskillend oor die Ou Testament wet.

[a] Die Hebrew Roots Movement (HRM) glo dat ons weer Joods moet word en die wet van Moses noukeurig moet nakom. Volgens hulle moet ons die Sewendedag Sabbat, die Ou Testament Feeste en die voedselwette nakom. Ek het onlangs met iemand gepraat wat dit so wil hê, en wat ook glo dat mense weer besny moet word.

Mense wat so glo verstaan nie die evangelie nie. Paulus sê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal. 5:4). ‘n Vriend van my moes onlangs paaie skei van iemand wat wil terugkeer na die wet toe.

[b] Die Sewendedag Adventiste glo in sommige opsigte dieselfde as HRM, maar fokus op die Saterdag-Sabbat. Volgens hulle geloofsbelydenis kan jy nie in die hemel kom as jy die Here op ‘n Sondag aanbid nie. Met verwysing na die Sabbat het ‘n Adventis op my blog gesê: ‘Ek hoop jou oë gaan oop voor dit te laat is.’

Dit mag wees dat daar ware Christene onder die Adventiste is (soos onder die Katolieke). Maar in haar geheel is die Adventiste ‘n kultus wat die wet by die evangelie wil voeg. Paulus het hierdie dwaling in sy brief aan die Galasiërs aangespreek.

[c] Libertyne glo dat ons onder die genade is, en dat ons daarom kan lewe soos ons wil. Calvyn het met die Libertyne gesukkel. Hierdie mense is nie Christene nie (Rom. 6:1-2). Die drie groepe wat volg is Christene.

[d] Een van die predikante na wie ek opkyk glo in theonomy. Volgens hierdie mense moet elke samelewing die Ou Testamentiese wette volg. Ons hoef nie die wette te volg wat deur Jesus vervul is nie (bv. die Ou Testament Feeste).

[e] Die New Covenant siening van die wet glo dat ons glad nie meer onder die Ou Testament wet is nie. Nie eers die Tien Gebooie geld vir ons nie. Ons is onder ‘n strenger wet, naamlik die wet van Christus in die Nuwe Tsetament (bv. Matt. 5-7, 1Kor. 9:19-21). Jesus se wet is ‘n wet van liefde (Matt. 22:37-39). Twee van my kollegas het eenkeer hieroor koppe gestamp.

[f] Laastens is daar die Gereformeerde siening van die wet. Hierdie mense verdeel die wet in drie dele: die seremoniële wet (die offers), die siviele wet (die wette waardeur Israel se leiers die land regeer het) en die morele wet (die Tien Gebooie). Volgens Gereformeerde Christene geld net die lg. deel van die wet vir vandag (die morele wet), aangesien Jesus die eerste twee dele vervul het.

‘Maar wat van die Sabbat?’ mag jy miskien wonder. ‘Dit is tog deel van die Tien Gebooie. Hoekom hou ons dit op ‘n Sondag en nie meer op die sewende dag nie?’ Gereformeerdes sal sê dat die Sabbat in die rus van verlossing vervul is (Matt. 11:28, Heb. 4:8-10, Op. 14:13). Ons vier die rus van verlossing op die dag van Jesus se opstanding, nl. die Sondag.

Ek gaan nie hierdie sienings in detail bespreek nie, maar sal uiteindelik tot ‘n slotsom kom oor die Christen se verhouding tot die wet. Rom. 7:1-6 sal ons help om dit te doen. In die weke wat kom sal ek die res van die hoofstuk bespreek en ‘n finale gevolgtrekking bereik.

 

  1. Die illustrasie (v.1-3)

Enigiemand weet dat die wet nie dooie mense vervolg nie. Die wet is slegs bindend as jy lewe (v.1). Gestel bv. dat die polisie iemand jaag wat 240 km/h oor ‘n spoedlokval ry. Die polisie is kwaad en is van plan om die man toe te sluit. Hy ry egter in ‘n boom vas en sterf. Hulle kan hom nie straf nie.

Paulus illustreer dit in v.2-3. So lank as wat sy lewe is Karla deur die huwelikswet aan Gert verbind: ‘Until death do us part’ (v.2). God het dit so bepaal (Matt. 19:5-6). Gert se dood bevry Karla van die huwelikswet wat haar aan hom verbind: sy is vry om weer te trou (v.2, 1Kor. 7:39, 1Tim. 5:14). Maar as sy by Jan intrek of met hom trou terwyl Gert nog lewe, pleeg sy egbreuk (v.3, Matt. 5:32, Luk. 16:18). As Gert doodgaan kan sy met Jan trou en pleeg sy nie egbreuk nie (v.3).

 

  1. Die toepassing (v.4-6)

Ons was getroud met die wet wat, a.g.v. ons sonde, vereis het dat ons moet sterf (v.8:2). Ons het gesterf toe Jesus se liggaam aan die kruis die gesterf het (v.4). Nou is ons vry van die wet (v.4). Die wet kan ons nie meer vir ons sonde straf nie: Jesus het die straf aan die kruis gedra (Kol. 2:14).

Ons het saam met Jesus opgestaan en kan nooit weer sterf nie, maar lewe vir altyd in ‘n nuwe huwelik met Hom (v.4, 6:9). Ons is vrugbaar in hierdie nuwe huwelik: ons dra die vrug van die Gees en van bekering (v.4, Matt. 3:8, Gal. 5:22, Ef. 5:9). Ons dra vrug vir God en tot sy eer (v.4, Joh. 15:8, Fil. 1:11). Onder wet kon jy nie goeie vrugte dra nie, omdat die wet vrot vrugte in jou lewe uitgewys het. Wat bedoel ek? ‘n Illustrasie sal help.

Wat sal gebeur as ek vra dat jy vir die res van die erediens nie na die orrel in die hoek moet kyk nie? Onmiddellik wil jy vir die orrel kyk. Voor ek dit gesê het, het jy geen begeerte gehad om vir die orrel te kyk nie. Maar toe ek dit sê, toe wil jy kyk.

Sonde is so: sodra daar ‘n wet is wil jy dit ootree (v.5). Dit is wat Paulus in 1Kor. 15:56 bedoel as hy sê dat sonde sy krag uit die wet kry. Wat ‘n vonk vir biskruit is, is die wet vir jou sondige begeertes (v.5). Jou sondige begeertes lê in jou hart soos stof op die vloer: jou lewe lyk skoon totdat die wet met sy besem in jou hart vee. Die wet maak die sondige begeertes wat rustig slaap, wakker (v.5, 7-13). Jou begeertes vind uiting in jou liggaam en dra die vrot vrugte van sonde (v.5, 6:13). Soos die giftige appel in Sneeuwitjie lei hierdie vrot vrugte tot die dood (v.5, 6:23).

Moet daarom nie ‘n klomp reëls wil volg om jou sondige begeertes dood te maak nie; dit sal nie werk nie. Kom ek gebruik diëte as ‘n voorbeeld. In die meeste mense se geval werk dit nie. Jy besluit: ‘Ek moet minder eet.’ Skielik is dit al wat jy wil doen. Jy eet skelm. Jy eet selfs dinge wat jy nie gewoonlik sou eet nie. Jy sal enigiets eet. En selfs as jy een van die rare soort mense is wat die dieet regkry, verskuif jy net jou obsessie: jy het nie meer ‘n obsessie met kos nie, maar met jou maer liggaam.

Die oplossing vir ooreet en enige ander sonde is nie om meer wette te maak nie. Reëls kan nie die vlees keer nie (Kol. 2:21, 23). Iets sterker is nodig. Ek sal in hfst. 8 hierop uitbrei, maar wil solank jou aptyt wek (‘pun intended!’).

Eerstens moet jy vir die wet sterf, sodat dit nie meer die mag het om jou in die tronk te hou en met die dood te straf nie (v.4, Gal. 3:22-23). Sterf vir die wet deur bekering en geloof in die kruisdood van Jesus waar Hy namens jou vir die wet gesterf het (v.4). Lewe as ‘n nuwe mens op ‘n nuwe manier deur die Gees, en nie op die ou manier deur die letter van die wet wat op kliptafels geskryf is nie (v.6).

A.g.v. jou sondige begeertes kan jy nie in jou eie krag die wet wat op kliptafels geskryf is nakom, of dit met die regte motiewe doen nie. Jy doen dit vir jouself, sodat jy beter kan voel en lyk. Maar deur die Gees se krag kan jy jouself beheer en nuut lewe vir God (v.6, Gal. 5:22). Deur Hom kan jy ook die regte fokus hê wanneer jy gehoorsaam is, nl. om Jesus te behaag en te verheerlik.

Prakties is die oplossing nie om meer reëls maak nie, maar om baie te bid oor die probleem en die Gees se hulp vra om tekste oor jou spesifieke probleem te memoriseer en te gehoorsaam. As jy gestruikel het kan jy jou sonde bely en weer die Gees se hulp vra.

As jy jou probleem deur wet wil oplos, sal jy hopeloos misluk. Jy sal die hele tyd dink die Here is kwaad vir jou. Jy sal angstig wees, omdat jy dit nie regkry om die wet te hou nie. Jy sal bang wees dat jy die hemel gaan mis. Jy sal onseker wees oor jou redding. Jy sal in ‘n gat van depressie beland as jy faal. Jy sal hoogmoedig wees, omdat jy beter vaar as ander. Soos die skynheilige Fariseërs sal jy reg lewe voor ander, maar in die geheim sonde doen.

Die wet wat op kliptafels geskryf is maak dood; die Gees maak lewend (2Kor. 3:6). Deur die Gees kan jy in vryheid lewe en sal jou hart vol blydskap en vrede wees. Jy sal reg doen uit ‘n gewillige hart van liefde (Joh. 14:15). Jy sal seker wees van God se liefde en van ‘n plek in die hemel deur Jesus se kruisdood. Jy sal dankbaar wees. Jy sal nederig wees. Jy weet immers dat jy niks verdien nie, en dat jy alles uit genade ontvang het.

Moet daarom nie op die wet fokus nie, maar word gevul met die Heilige Gees deurdat jy baie bid en gehoorsaam is aan die Skrif wat deur Hom geïnspireer is (Luk. 11:13, Ef. 5:18, Kol. 3:16).

‘Maar gooi ons dan nie die wet weg nie?’ ‘n Vrou het so gedink toe sy uitvind dat ons nie elke Sondag die wet voorlees soos in haar kerk nie. Maar ons gooi nie die wet weg nie. Die Heilige Gees lei ons immers nie teen die wet te lewe nie, maar in ooreenstemming daarmee (8:4, Gal. 5:23). Hy doen wat die wet a.g.v. ons sondige begeertes nie kon doen nie: Hy gee nuwe lewe, maak ons heilig en gee ons die krag om sonde te oorwin (v.6, 8:13, Gal. 5:18, 1Kor. 6:11, Joh. 3:3, 5, Tit. 3:5).

Run, John, run, the law commands

But gives him neither feet nor hands,

Far better news the gospel brings:

It bids him fly and gives him wings

Maak dan staat op die Gees om reg te lewe, en nie op die wet nie. Die wet kan jou nie regverdig maak of heilig maak nie; net die Gees kan. Die implikasie is nie dat die wet sleg is nie (v.12), maar eerder dat ons sondige begeertes ons keer om die wet uit te voer. Jesus het met ons sondige begeertes afgereken, sodat ons nou deur die Heilige Gees reg kan lewe.

Beteken dit dat Hy ons terugneem na die wet toe? Jesus vat ons nie terug na die skadubeelde van die Saterdag-Sabbat, die besnydenis, die offers, die voedselwette of die feeste toe nie (Kol. 2:16-17, Heb. 10, ens.). In die Nuwe Testament wys Hy vir ons watse Ou Testament wette hulle volheid in Hom vind, en watse wette ons deur die krag van die Heilige Gees moet uitvoer. Ons offer bv. nie meer diere nie, maar is nog steeds lief vir ons naaste deurdat ons sy lewe, besittings, reinheid en reputasie respekteer (13:9-10).

Dit is hoe ek die wet verstaan. Ek het nog baie om te leer, maar weet vir ‘n feit dat die wet nie ons harte kan verander nie en dat dit geensins bydra tot ons redding nie. Jesus is genoeg. As jy die wet wil byvoeg is jy soos Christen in John Bunyan se Pilgrim’s Progress.

Oppad na die smal hek wat na die hemelse stad toe lei, het ene mnr. Wêreldwys hom voorgekeer en gesê hy ken ‘n kortpad. Hy het hom na ‘n dorp genaamd Wetties agter berg Sinaï toe gestuur. Toe Christen by die berg kom was daar ‘n aardbewing, weerlig, donderweer, vuur en rook. Hy was bang hy gaan dood. Evangelis het hom voorgekeer, berispe en na die smal hek toe gestuur. Toe hy uiteindelik by die kruis kom het sy sondelas afgeval.

Hoekom wil jy by Sinaï vashak as God jou by ‘n kruis op ‘n heuwel buite Jerusalem kan vergewe?

Christene in beproewing

Boat on stormy sea

Oor die afgelope vier maande het ek met verskeie Christene gepraat wat deur moeilike beproewings gaan. In ons eie gemeente is daar sonde. Ek het ook binne ses weke drie roudienste gehou (daar is maar net 70 mense in ons gemeente).

Ek ken meer as een predikant wat op die oomblik teenkanting van die gemeente kry, en weet ook van gemeentes waarin die mense links en regs bedank. Ek weet van sendelinge wat baie sukkel om visums te kry, en wat ook ernstige konflik beleef het met ander Christene.

‘n Skelm besigheidsman het R10 000 by een van my familielede gesteel en spoorloos verdwyn. ‘n Skoolkind het my swaer (wat ‘n onderwyser is) met ‘n yster geslaan. Volgens die Departement van Onderwys mag hulle die kind nie skors nie. Vandag het kinders by dieselfde skool ‘n juffrou met ‘pepper spray’ gespuit. Daar is nie gevolge vir hulle optrede nie. Suid-Afrika is ‘n drukpot wat wag om te ontplof: boere word op hulle plase vermoor, die regering wil grond gryp sonder vergoeding, ens.

Die punt is dat ons beproewing nie kan keer nie, maar dat ons dit moet verwag. Die vraag is wat jy met die beproewing gaan doen? Sal jy ongehoorsaam reageer soos Israel? Of sal jy gehoorsaam wees soos die Messias? Jes. 50 leer ons om beproewing reg te hanteer.

 

  1. Twee voorbeelde van beproewing (v.1-9)

 [A] Israel (v.1-3)

‘n Geskeide man het vir my gesê: ‘Egskeiding is die ergste ding wat ek nog ooit deurgemaak het.’ ‘n Ander een het vir my gesê: ‘As jy skei, voel dit of iemand doodgaan.’

Toe Israel in Babilon was het dit vir haar gevoel of God haar skei. Maar sy was verkeerd. Sy het nie ‘n skeibrief gehad om dit te bewys nie (v.1, Deut. 24:1). Dit het vir haar gevoel of die Here haar verkoop soos ‘n pa wat sy kinders verkoop om die skuldeiser te betaal. Maar niemand het van buite af druk op Hom geplaas toe Hy die volk verkoop nie (v.1). Hoekom het die Here haar dan Babilon toe gestuur? Hy het die volk vir haar sonde as ‘n slaaf verkoop (v.1). Hy was van plan om haar terug te koop (hfst. 53, 1Pet. 1:18-19). Hy het haar nie geskei nie, maar tydelik weggestuur a.g.v. haar egbreuk (v.1, Hosea). Alles was dus nie verlore en onherstelbaar soos sy gedink het nie.

Moenie soos Israel in jou beproewing dink dat die Here jou vergeet het nie. Die beproewing is tydelik (Job 7:7, Ps. 77:8-10). Dit sal nie altyd donker bly nie; die son sal weer opkom (Ps. 30:6, 42:6, 12, 103:9).

Israel het die Here vir haar lyding blameer, maar eintlik het die skuld by haar eie deur gelê. Toe die Here mooi na haar geroep het, het sy Hom geïgnoreer (v.2, 2Kron. 36:15-16, Spr. 1:24). Hoekom het sy so gereageer? Was dit omdat die Here se hand te swak en te kort was om haar te help (v.2, 59:1)? Verseker nie. Hy het haar dan uit Egipte gered: Hy het die Rooi See oopgekloof, die Jordaanrivier laat opdroog, die visse in die Nylrivier laat vrek, en Egipteland donker laat word (v.2-3).

Ons is soos Israel. Ons luister nie wanneer die Here mooi praat nie. Ons onthou nie sy krag nie en vra nie gereeld sy hulp nie. Soms moet dit eers moeilik gaan voor ons ore oopgaan en ons Hom deur gebed aanroep.

Kon die God wat Israel uit Egipte gered het haar nie uit Babilon red nie? En kan Hy jou nie van jou sonde red of ‘n sondige gewoonte van baie jare breek nie? Kan Hy jou nie uit die beproewing red nie? Kan Hy ons land nie van oorlog red nie? Kan Hy jou geliefdes nie red en hulle verander nie? Die vraag is nie of Hy dit kan doen nie, maar of jy jou sal bekeer, Hom sal vertrou en sonder ophou daarvoor sal bid?

[B] Die Messias (v.4-9)

Beproewing toets ons gehoorsaamheid soos wat vuur goud toets. Toe God die Messias deur lyding toets, was Hy nie ongehoorsaam soos Israel nie (v.1-2), maar ten volle gehoorsaam (v.4-9). Dalk sê jy: ‘Maar vir Hom was dit maklik, omdat Hy God is.’ Dit is nie waar nie. Alhoewel Jesus God is, het Hy ook ten volle mens geword soos ek en jy. Hy moes die Bybel leer soos ons. Hy het nie sonde gedoen nie, maar moes gehoorsaamheid leer (Heb. 5:8). Hy het nie uit sy Goddelike natuur ‘getap’ om dinge vir Homself makliker te maak nie, maar het op sy Vader gewag (sien bv. Matt. 4:3-4).

Die Vader het Hom daagliks deur die Woord en gebed geleer (v.4). Hy het geleer soos iemand wat die beste opleiding ontvang het (v.4). Hy het nie net geleer om dit beter te ken nie, maar sodat Hy dit met groot effek kon gebruik om ander te bemoedig (v.4, Matt. 11:28, Luk. 24:27, Joh. 4).

Die Vader het Hom geleer om die presiese woorde te sê wat elke mens benodig (v.4, Joh. 12:49-50). Die Vader het Hom in die oggend wakker gemaak vir sy stiltetyd (v.4, Mark. 1:35). Dit was o.a. sy daaglikse gemeenskap met God wat aan Hom die krag gegee het om sy lyding te verduur.

En as Jesus ‘n stiltetyd nodig gehad het, hoeveel te meer het ons dit nie nodig nie? Laat ons sy voorbeeld volg (1Joh. 2:6). Jou stiltetyd is een van die middele wat die Here jou gee om deur beproewing te kom. Waar moet jy begin?

Vra vir vergifnis as jy verslap het. Jy het elke dag nuwe krag en genade nodig (v.4, Klaagl. 3:23, 2Kor. 4:16). Bid vir selfdissipline en neem ook stappe om te verander.

[a] Kies vir jou ‘n tyd. Party mense verkies die aand, maar dit is goed as jy die dag met God begin (v.4, Ps. 5:3). In die oggend is jy vars, terwyl jy na ‘n dag se werk moeg is. Dit is ook goed as jy stil raak met die Here, voordat jy ander mense en die las van die dag se werk in die gesig staar.

In the morning deep calls to deep

In the morning, you quietly speak.

In the morning, you find those who seek,

In the morning.

In the morning, I bring my request.

In the morning, each care is confessed.

In the morning, you quiet unrest

In the morning.

In the morning, I listen and wait.

In the morning, faith anticipates.

In the morning, you make my way straight,

In the morning.

-Steve Green-

[b] Kry genoeg slaap. Probeer om elke aand dieselfde te tyd te gaan slaap. Vra die Here om jou te help om op te staan wanneer jou wekker afgaan (v.4). Moenie bly lê wanneer jy wakker word nie, want anders sal jy dalk weer aan die slaap raak. Staan op en was jou gesig of stort as dit jou help om wakkerder te voel. Stap en bid hardop as dit jou help.

[c] Begin dalk met ‘n kort oordenking. Charles Spurgeon se Morning by Morning is gratis beskikbaar op die internet. Dit sal jou aan die gang kry en jou hart warm laat voel.

[d] Bid kortliks dat die Here jou oë sal oopmaak om te verstaan wat jy in die Bybel lees (Ps. 119:18).

[e] Kies ‘n gedeelte. Moenie rond en bont lees nie. Werk deur ‘n boek of onderwerp in die Bybel.

[f] Lees die gedeelte. Soek kruisverwysings op. Dink na oor die vers of verse wat vir jou uitstaan. Kies ‘n metode wat vir jou werk. Na ‘n jaar of twee kan jy dalk jou metode verander. Maak notas indien dit jou help. Moenie die Bybel koud en akademies lees nie. Vra dat die Here jou ore sal oopmaak om te hoor wat Hy vir jou wil sê (v.4).

[g] Bid wat jy uit die Skrif geleer het. Bid ook volgens die Onse Vader. Moet dit nie as ‘n rympie bid nie, maar gebruik dit as ‘n patroon. Kom na God toe soos ‘n kind wat na sy pa toe kom. Kom om met respek, omdat Hy die Koning van die hemel is. Bid soos volg:

Laat U Naam geheilig word: Prys en dank die Here vir alles waaraan jy kan dink. Bid ‘n Psalm. Sing lofliede. Gebruik ‘n CD as jy wil: Steve Green, Keith & Kristyn Getty, Stuart Townend, Isaac Watts en Charles Wesley se liede het goeie Bybelse inhoud.

Laat U Koninkryk kom: Bid vir God se werk in jou gemeente. Bid vir jou leraar, evangeliste, sendelinge en herlewing. Bid spesifiek. Bid vir jou geliefdes, kollegas, bure en vyande wat nie die Here ken nie.

Laat U wil geskied: Bid vir insig om die Bybel beter te ken en te gehoorsaam.

Gee ons vandag ons daaglikse brood: Bid vir jou eie behoeftes en arm gelowiges. Bid vir geleenthede om met ander te deel.

Vergewe ons ons skulde soos ons ons skuldenaars vergewe: Bely jou sonde so spesifiek as moontlik. Vergewe ander teen wie jy iets het.

Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose: Vra dat die Here jou teen die vyand se versoeking sal beskerm.

Maar om net die Bybel te lees en te bid is nie genoeg nie. Die Messias se ore was oop om God se wil te doen (v.5, Ps. 40:7, 9). Hy was gehoorsaam tot aan die einde, en nie rebels soos Israel nie (v.5, 1, Fil. 2:8). Soos die Messias moet jy nie net die Bybel oordink om dit beter te ken nie, maar omdat jy gemeenskap met God wil hê en omdat jy Hom wil gehoorsaam (v.4-5). Moenie rebels wees nie, maar maak jou ore oop (v.5). Dit sal nie die beproewing wegvat nie, maar dit sal help dat jy deur dit kom.

‘n Liefde vir die Vader en ‘n verhouding met Hom het die Messias gehelp om nie rebels te wees en terug te draai nie, maar om deur die lyding van die kruis te kom (v.5). Hy het sy rug gegee dat sy vervolgers Hom gesel, sy wange dat hulle sy baard uitpluk, sy gesig dat hulle Hom slaan en spoeg, eerder as om sy rug op die Vader se wil te draai (v.6, Matt. 26:67-68, 27:26, 30, Joh. 19:1). Om gehoorsaam te wees was vir Hom belangriker as om die pyn vry te spring.

Wees soos Jesus. Moenie ‘n slaaf wees van drank, dwelms of pille, omdat jy die pyn wil vryspring nie. Moenie op onwettige maniere jou sake doen, omdat die regering dinge vir jou moeilik maak en jou nie wil help nie. Bo alles moet jy God se wil doen, al veroorsaak dit ongemak en pyn (Op. 12:11).

Die Vader het die Messias gehelp om die pyn te verduur (v.7). A.g.v. hierdie hulp het Hy vasberade en gefokus kruis toe gegaan (v.7, Luk. 9:51). Sy wenkbroue het gefrons en sy oë het stip vorentoe gekyk, sodat sy gesig so hard gelyk het soos ‘n grys keisteen (v.7). Hy het geweet dat mense Hom sal verneder (v.6), maar op die einde sou die Vader Hom verhoog en sou Hy nie in die skande kom nie (v.7, Fil. 2:9-11, Heb. 12:2).

Wees vasberade soos Hy: doen God se wil in beproewing, al is dit moeilik (Hand. 20:24). Op die einde sal God jou daarvoor beloon en sal jy nie skaam kry nie (v.7).

Die Vader was by die Seun en het sy onskuld bewys toe Hy Hom uit die dood uit opwek (v.8, Hand. 2:24, Rom. 1:4, 4:25). Jesus het geen sonde gehad nie en tydens sy verhoor het die Vader Hom gehelp, sodat sy vyande Hom nie kon vastrek nie (v.8-9, Matt. 26:59-60, Joh. 8:46, 2Kor. 5:21, Heb. 4:15, 1Pet. 2:22). Hy het die straf vir ons sonde gedra (53:4-6).

Ons kan nie onskuld pleit soos Hy nie (Rom. 3:10-12, 23). Daarom sal ons verslyt soos klere wat iemand baie dra en was; soos klere wat vol gate is a.g.v. die vismotte (v.9). Tog sal Jesus sy regverdige rekord vir jou gee as jy berouvol glo. As jy glo sal die Vader sy dood in jou plek aanvaar en jou skuld afskryf (Rom. 3:28, 5:1, 2Kor. 5:21, Kol. 2:14). God sal by jou wees om jou te verdedig, sodat niemand ‘n klagte teen jou kan inbring nie (v.8-9, Rom. 8:33-34, Fil. 3:9, 1Joh. 2:1). En as God vir jou is, is enige beproewing draaglik.

 

  1. Twee reaksies op beproewing (v.10-11)

 [A] Geloof (v.10)

‘n Man het blykbaar vir Spurgeon gesê dat hy perfek is. Spurgeon het hard op sy toon getrap om sy reaksie te toets. Pyn het ‘n manier om te wys wat in jou hart is: murmurering, bitterheid, kwaad, vrees, ongeduld, ongeloof, arrogantheid, nederigheid, ‘n sagte hart, geduld, eerbied vir Here, liefde, iets anders?

Hoe reageer jy in beproewing? Vrees jy die Here, sodat jy jou bekeer en onder sy swaar hand neerbuig (v.10, 1Pet. 5:6)? Gehoorsaam jy God se Seun en Kneg (v.10); is jy gehoorsaam soos wat Hy was (v.4-5)? Vra jy na God se wil, omdat jy gehoorsaam wil wees? Volg jy die Here in voorspoed en in teëspoed (v.10, 4-6)?

Vertrou op die Here as dit donker is en jy geen lig sien nie (v.10, Miga 7:8). Hy was self daar en weet hoe om uit te kom (v.6, 42:16, Matt. 27:45-46). Vertrou dat God wys, goed en kragtig is in jou beproewing. Hy weet wat Hy doen en sal jou help. Vertrou sy karakter en weet dat sy lig vir jou die pad sal wys (v.10, Joh. 8:12).

[B] Ongeloof (v.11)

Ek ken ‘n vrou wat gesien het dat sy word oud en nie gaan trou nie. Om haarself uit te help het sy met ‘n man geslaap en ‘n kind gekry. Luister: as jy die Messias se bevele ignoreer, die donker beproewing omseil en jou eie vuur aansteek, sal jy sleg daarvan afkom (v.11). Loop gerus in die lig van jou eie fakkel, maar op die einde sal jy in die donker struikel en val (v.11). God sal jou in die hel straf. Dit is immers waar die pad wat jy vir jouself gekies het eindig (v.11).

Dit help nie jy kies die kortpad om jou lyding te omseil nie, want op die einde sal jy vir ewig in die hel ly (v.11). Volg die regte pad, al is dit nie noodwendig die maklike pad nie. As jy dit kies sal die Here jou help. Maar as jy dit nie kies nie, is jy op jou eie.

Moenie so bang wees vir beproewing nie. Dit is ‘n tipe winter wat nodig is, sodat die lentebloeisels en somervrugte kan uitkom. John Bunyan het gesê: ‘It is said that in some countries trees will grow, but will bear no fruit, because there is no winter there.’ [Aangehaal in https://www.desiringgod.org/messages/to-live-upon-god-that-is-invisible%5D.

Bunyan kry sy idee in die Bybel. In Heb. 12:11 lees ons: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”